Slawekind word kind van God. (Rom 8: 12 – 17)


SLAWEKIND WORD KIND VAN GOD.

Ek het iewers die volgende moderne gelykenis gelees:

Lank gelede in die tyd van slaweny het ‘n slawegesin op die plaas van ‘n edelman gewoon. Hulle was natuurlik die eienaar se eiendom.

criollo 123Die slaweseun, Klaas het mettertyd ‘n maatjie van die eienaar se seun, Chris geword. Hulle het werklik groot maats geword en so lief vir mekaar dat Chris by sy ouers daarop begin aandring het, dat Klaas by hulle in die huis moet kom woon. Na baie worsteling, het die edelman en sy vrou, omdat hulle slegs die een seun gehad het, besluit om aan Chris se versoek te voldoen. Maar hulle het met die slawegesin ooreengekom dat Klaas nie net by hulle kom woon nie, maar dat hulle hom ook wettiglik aanneem. Dit was ‘n geweldige stap om te neem omdat hulle reeds deur die bure en die hele gemeenskap verwerp is as gevolg van die “onbehoorlike” vriendskap tussen hulle seun en die slaweseun.

Die aand nadat hulle die outjie se paar karige besittinkies na die plaashuis oorgedra en hy ingetrek het, sit die “nuwe” gesin aan die tafel. Na ete maak die pa keelskoon en sê toe ‘n paar dinge wat Klaas se lewe ingrypend sou raak:

  • Klaas, van nou af moet jy my nie meer “baas” noem nie, maar “pappa”, net soos wat Chris my noem. Want jy is nou wetttiglik my seun. Ek het jou aangeneem.

  • Chris was tot nou my enigste erfgenaam. Hy sou alles erf, my plaas en al my besittings. Ek het vandag my testament laat verander, alles word nou tussen julle verdeel. Elkeen kry eweveel.

  • Jy word nou deel van ons familie. Jou nageslag sal ons van dra. Dit is ‘n aristokratiese van en daarom sal jy nog in die toekoms as edelman geëer word.

  • Maar voor dit gebeur, lê daar baie swaar tye vir jou voor. Chris word reeds verwerp deur sy maats. By die skool wil hulle nie meer met hom speel nie. Jy sal oral saam met hom gaan en hulle sal ook nie met jou wil praat nie. Jy sal saam ly, dit is deel van jou erfporsie.

Toe het die man gevra:”Klaas, sien jy kans daarvoor?” Klaas het sy kop op sy arms laat sak en lank stilgebly. Toe het hy opgestaan, om die tafel gestap, die man in die oë gekyk en gesê:”Pappa!” Sy pa het hom toe op sy skoot getel en gesê:” Van nou af gaan ons jou ook nie meer “Klaas” noem nie. Omdat jy nou my seun is en Chris se vroer, noem ons jou “Christen.” Maar onthou: Al gaan jy saam met hom erf en eendag saam met hom geëer word, sal jy intussen ook saam met hom moet ly.

Verstaan u die simboliek in die moderne gelykenis:

  • Die pa, die edel maan is God.

  • Chris is Christus.

  • Klaas is die slawekind, ek en jy.

  • Spottende maats is die wêreld.

Daarom is die tema van die preek:

SKOPUS: Slawekind word kind van God.

Kom ons kyk na die vier gedeeltes van die preek:

PARS 1: Ek het jou aangeneem.

Besef ons watter wonderwerk is dit dat God ons aangeneem het. Besef ons dat daar vir God nie onderskeid is tussen ons en Jesus Christus, Sy eie Seun nie.

Soos die volgende storie: Twee boeties sit in die skool in dieselfde klas. Juffrou skryf die name en geboortedatums op. Jannie is sewe, hy verjaar die 1 ste Mei. Pieter is ook sewe, hy verjaar die die 1 ste Augustus. Juffrou kry vreemd op. Twee boeties wat ewe oud is, wat net drie maande na mekaar verjaar? Ja, juffrou sê Pieter effens onseker. Dit is so, want een van ons is ‘n aangenome kind, maar juffrou, ongelukkig weet ek nie watter een nie. Ons ouers behandel ons dieselfde.

God het ons aangeneem as sy eie seuns en dogters, ja, soos sy eie. Wat ‘n voorreg!

Ons is nie meer slawe van die sonde nie. Ons is nie meer in kettings nie. Ons is vry van die sonde en sondeskuld. God het ons aangeneem.

Die wonder is natuurlik dat God ons aangeneem het en nie omgekeerd nie. ‘n Weeskind kan mos nie sy pa aanneem nie, nee dis die ouers wat die weeskind aanneem. God is nie “wees” nie, ons is “wees”. Ons was die slawe, maar nou nie meer!

Wanneer God ons aanneem doen hy dit onvoorwaardelik! Wonderlike Evangelie! Soos Chris by sy pa gepleit het om Klaas aan te neem, so het Christus vir ons gepleit, dat God ons moet aanneem.

Daarom leer God ons bid: “Ons Vader wat in die hemel is.”

PARS 2: Ek laat jou erf.

God laat ons erf uit die rykdom van Sy skatkamers: Nie alleen die ewige lewe en die nuwe Jerusalem nie, maar ook ‘n nuwe lewe. Hy skenk vir ons die wedergeboorte, die bekering, die regverdigmaking, die heiligmaking en volharding.

Hy beklee ons met geestelike gawes sodat ons lewens kan getuig dat ons onder die slawerny van die sonde uit is en werklik nuwe mense kan wees. Wat ‘n erfporsie? Oms soos konings te kan lewe eendag, maar ook nou alreeds.

PARS 3: Ek verander jou naam.

God kan mense verander. Hy het al talle mense, duisende der duisende verander.

Hy het Abram verander na Abraham. Hy het Saulus verander na Paulus. Hy het Simon verander ma Petrus. Selfs bome verander Hy: Doringbome word sipresse en dissels word mirtebome. Daarom verander God slawekinders onder die sonde, na Christenne, kinders van God. Motte word die mooiste vlinders.

Jou naam is CHRISTEN, afgelei van jou oudste broer Christus. Moet dit nooit vergeet nie.

PARS 4: Jy sal saam ly, dis deel van jou erfporsie.

Omdat Chris met Klaas gespeel het, het sy maats hom gespot en uitgeskuif. Omdat Christus in mense soos ek en jy belang gestel het, het mense Hom ook gespot en uitgeskuif na Golgota en hom verwyder uit die samelewing.

Omdat Klaas, broer van Chris geword het, het hy ook begin om lyding te verduur. Wie broer en suster van Christus geword het, sal ook bereid moet wees om spot en lyding te verduur.

Maar eendag sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid.

Ten slotte:

Julle is nie meer slawekinders nie! Julle is kinders van God!

Ons het gesien:

  • Ons is aangeneem …. ons mag God as ons Vader, ons Pappa aanspreek.

  • Ons word erfgename

  • Ons kry ‘n aristokratiese van …. ‘n nuwe naam: CHRISTEN.

  • Lyding is deel van ons erfporsie

Kinders, van God en sien die krone op julle koppe blink. Julle is prinse en prinsesse in die Here se Ryk. Julle het “regtig” die kinders van God geword.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s