Om jou kruis te dra … is ‘n verrykende ervaring. (Luk 23: 26)


OM JOU KRUIS TE DRA ….. IS ‘N VERRYKENDE ERVARING

Soms gebeur dit dat iemand op pad vakansie toe is, maar dan gebeur daar iets onvoorsiens en ‘n mens se vakansieplanne is lelik deurmekaar. Of iemand is die oggend op pad werk toe, maar daar gebeur ‘n ongeluk en in plaas van by die werk, bevind so iemand hom in die hospitaal.

Dit is presies wat ook gebeur het met Simon van Sirene. Simon van Sirene was ‘n man uit Noord-Afrika, wat heelwaarskynlik ‘n swartman was. Hy was of met ‘n besoek of met werksverpligtinge in Jerusalem gewees. Heelwaarskynlik het hy buite Jerusalem kamp opgeslaan en elke oggend ingegaan stad toe, Jerusalem toe.

‘n Sekere Vrydagoggend was hy weereens besig om in te gaan stad toe, Jerusalem toe. Sy dag se planne het toe heeltemal verander. Terwyl hy op pad was, loop hy verby ‘n peleton Romeinse soldate wat drie gevangenisse begelei na Golgota, die plek van teregstelling. Simon het gesien een van die gevangenisse kry swaar onder die kruis. Wat hy egter nie geweet het nie, is dat die man Jesus van Nasaret is wat die hele wêreld se sonde gedra het. Niemand wou vir Jesus help met Sy kruis nie. Dit was vir ‘n Jood totale vernedering om ‘n kruis, ‘n vloekhout vir iemand anders te help dra.

Die Romeinse soldate sien toe vir Simon van Sirene raak, wat nie ‘n Jood was nie. Hulle gryp toe hierdie Afrikaan om vir Jesus te help om Sy kruis te dra. En so verander Simon van Sirene se planne vir daardie Vrydagmôre.

bear_the_crossIn plaas van Jerusalem se rigting te loop, moes hy loop in die rigting van Golgota en dit nogal met ‘n swaar kruis op sy skouer van iemand wat hy kwalik ken. Het hy maar 15 minute vroeër daar verby gekom of 20 minute later daar verby gekom. Heel waarskynlik het hy homself verwyt. Waarom moet ek nou juis hierdie kruis dra?

Daardie Vrydagmôre het Simon se planne sleg verkeerd geloop. Maar dit was nie ‘n toevalligheid nie. As gelowige weet ons dat niks toevallig in ons lewe gebeur nie. Nee, die feit dat ‘n bepaalde persoon, by die naam van God bekend, Simon van Sirene, juis toe in Jerusalem was, juis toe op pad uit die veld terug na die stad was, dit alles was die beskikking van God.

God het op daardie oomblik iemand nodig gehad en Hy gebruik ruwe soldatehande om iemand vir hom te gryp. Uit sy eie sou Simon van Sirene nie eers daarvan droom om uit sy eie vir Jesus met sy kruis te help nie. Daarom gryp God in. As Hy dit nie gedoen het nie, sou Simon van Sirene seker nooit vir Jesus van Nasaret leer ken het nie. Simon van Sirene se planne het daardie Vrydagoggend lelik deurmekaar geloop. Hy is opgesaal met ‘n kruis, waarvoor hy nie gevra het nie. Maar God laat alles ten goede meewerk. Daardie deurmekaar Vrydag, word toe sy Goeie Vrydag en daardie kruis, die kruis van sy verlossing.

Ons het alle rede om te aanvaar dat Simon deur hierdie kruisdra – episode tot bekering gekom het. As Markus vir ons hierdie selfde verhaal vertel in sy Evangelie, sê hy dat Simon die vader was van Alexander en Rufus. En as Paulus aan die Romeine skryf, laat hy groete weet aan Rufus en sy moeder. Hieruit kan ons aflei, saam met baie skrifverklaarders dat Simon en sy huis, sy vrou en sy seuns, almal volgelinge van Jesus Christus geword het. Sy kruisdra het vir hom groot voordeel gebring. Simon is langs die pad voorgekeur deur ‘n soldaat. Nee, meneer, nie na Jerusalem nie, maar na Golgota. En tog sou die pad hom na die nuwe Jerusalem lei.

dra-mekaar-se-laste

Wonder u ook partykeer oor u eie kruis? Wonder u ook waarom moet dit juis u wees wat hierdie kruis moet dra? Simon het ook gewonder waarom juis hy daardie kruis moet dra. Geen groter voordeel kon hom getref het as die kruis wat God op daardie dag op hom gelê het nie. En nie net vir hom nie, maar ook vir sy hele gesin.

Paulus kla nie oor die doring in sy vlees nie, nee, hy roem eerder oor die doring in sy vlees. Sy doring, sy kruis (ons weet nie, wat dit was nie) het hom vry gemaak van hoogmoed, hom eerder swak gemaak sodat hy sterk vir die Here kon wees. Sy kruis het hom die grootste apostel gemaak.

Miskien is jou kruis dat jy senuweeagtig is tussen baie mense. Maar juis hierdie kruis maak dat jy sensitief is vir ander mense se gevoelens.

Miskien is jou kruis siekte. Maar juis hierdie kruis maak dat jy nie oppervlakkig die lewe beleef nie, maar juis ‘n diepte-ervarings van die lewe het. Jy kan soveel vir ander mense beteken en vir hulle bemoedig.

Miskien is jou kruis dat jy sukkel om finansieel deur te kom. Maar hierdie kruis maak jou meer waarderend teenoor dit wat na jou kant toe kom.

So kan ‘n liefdesteleurstelling of die dood van ‘n geliefde jou ‘n dieper ervaring van die lewe gee.

Miskien is jou kruis jou diepe besef van sondeskuld wat vir jou te groot geword het. Jy verwyt jouself elke dag. Hierdie kruis kan jou lewe verander sodat jy die Here Jesus leer ken as jou Verlosser.

Nee, God straf ons nie as Hy ‘n kruis op ons lê nie. Net een maal het Hy iemand waarlik gestraf met ‘n kruis; toe sy eie Seun wat met ‘n kruis op sy skouer by die stadspoort van Jerusalem uitgestrompel het. Sodat die kruis wat ons soms moet dra vir ons ten goede kan kom, vir elkeen wat in Hom glo.

Ook jou kruis is nie ‘n toevalligheid nie. Dit het ‘n doel in jou lewe. Aanvaar ook jou kruis as ‘n verrykende ervaring.

pic2

Jou kruis is nie jou verleentheid nie, maar jou geleentheid. Gaan sit en gaan soek die pluspunte wat jou kruis vir jou bring. So kan jou kruis vir jou ‘n verrykende ervaring word. Jou kruis kan vir jou ‘n geloofservaring word soos dit vir Simon van Sirene was.

[Die hooftrekke van die preek, kom uit aantekeninge van ‘n preek wat ek iewers gelees het. Die skrywer het ek vergeet.]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s