Gelowige gebed


SKRIFLESING: Jakobus 5: 13 – 20

As ‘n outydse waterpomp gereeld gebruik word, is min inspanning nodig om water te pomp; die water stort met die eerste probeerslag uit, want die watervlak is hoog. Maar as die pomp vir ‘n lang tyd nie gebruik is nie, word die watervlak laag, en as jy dan water wil hê, moet jy ‘n lang tyd pomp, en dan kom dit eers na groot inspanning. Dit is so met gebed ook; as ons ’n gereelde gebedslewe het, dan maak elke klein omstandigheid die ingesteldheid om te bid wakker, en ons begeertes en ons woorde is altyd gereed. Maar as ons ons gebedslewe verwaarloos, is dit vir ons moeilik om te bid, want die water in die put raak laag.

Baie van ons se gebedslewe is ook soos ’n waterput waaruit lanklaas gepomp is. Gebed kom nie so maklik as jy nie gereeld bid nie.

Soms bid ons net vir dínge.

Die verhaal word vertel van ‘n predikant wat na Johnnie se huis gekom het, en tydens die gesprek het hy hom gevra: “Bid jy elke aand, my seuntjie?” “Nee,” antwoord Johnnie, “sommige aande wil ek niks hê nie.” Sommige mense deel hierdie selfsugtige siening van gebed. Gebed is nie net vir persoonlike versoeke nie – dit is vir belydenis, lof, danksegging, aanbidding en voorbidding vir ander. Gebed is ‘n bediening van smeking vir ander en aanbidding van God, sowel as versoeke vir myself.

Vanoggend gaan ons stilstaan by die belangrikste geestelike aspek van ons lewe, naamlik gebed. Jakobus begin sy brief met ’n oproep om te bid (1:5) en hy eindig dit weer met die tema van gebed in hoofstuk 5. Dwarsdeur die brief maak Jakobus gedurig melding van gebed.

Daar is drie aspekte van gebed in ons gelese gedeelte ter sprake.

Drie geleenthede waartydens gebid moet word, is: (i) tydens swaarkry (v 13), (ii) tydens blydskap (lofliedere is ook ’n vorm van gebed: v 13) en (iii) tydens siekte (v 14).

Jakobus bedoel eintlik dat ’n persoon of gemeente sonder gebed, soos ‘n huis sonder dak is – dit is blootgestel aan winde wat waai, aan reën en elke storm wat woed.

In gebed is dit beter om ‘n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ‘n hart. Daarom soek God by ons ’n opregte hart as ons bid. Koning Dawid se gebed in Psalm 51 is ’n mooi voorbeeld van ’n opregte gebed en berou voor God. Dawid verlang om in ’n rein verhouding met God te lewe. Die sonde moenie skeiding maak tussen hom en God nie.

Een van die groot geheime van effektiewe gebed is dat die gesindheid van die hart reg is teenoor God.

In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Gelowiges moet vir mekaar bid. Wanneer iemand siek is, moet die ouderling ontbied word om vir die sieke te bid. Verder sê Jakobus in hoofstuk 5:16 die volgende: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Met hierdie “gesond” word bedoel die stukkendheid in die gemeenskap moet gesond word. In Jakobus se tyd was daar in die vroeë kerk baie spanning rondom klasverskil, kultuurverskil, ryk en arm, die veragting van die weerloses en die misbruik van die tong. Dan moedig Jakobus die gelowiges aan om te bid, dat die spanning en verskeurdheid tussen die gelowiges gesond sal word.

Daarom gaan die gebed om gesondmaking nie net oor siekes nie, maar oor die heelmaking van die gemeenskap. So moet ons nie maar net bid vir die siekes alleen nie. Ons moet bid vir die verskeurdheid van die Suid-Afrikaanse samelewing, waarin daar soveel ellende, werkloosheid, korrupsie, misdaad, maatskaplike nood en misbruik van gesag is. Ons moet bid vir die heelmaking van die gemeenskap.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ‘n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en in die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou gebid dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat vir God aanneemlik is.

Ek hoef nie soos ’n Concorde-vliegtuig, grasieus en voortreflik, te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Gebed verander sake, maar dit verander veral ook die bidder.

As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ’n enkeling rimpels veroorsaak vir ’n heel nuwe toekoms. Natuurlik is daar plek vir massa-gebedsbyeenkomste, maar daar is ook beslis plek vir die gebed van ’n enkeling. Gebed is altyd verootmoediging. Dit suiwer jou hart, gedagtes en lewenswandel. Dit skep orde in jou gedagtegang oor die goed waaroor jy met die Here wil praat.

Een evangelis het gesê: “Moenie begin om die wêreld te verander nie. Klim self in die sirkel en begin by jou.” Ons moet ’n lewe van gebed beoefen. Ons moet nie maar net ’n geleentheidsbidder wees nie. Gebed moet die stuurwiel van jou lewe wees en nie die noodwiel nie.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord, let your Kingdom COME,” moet ons daarmee saambid: “Lord, let my kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike “commitment” en toewyding.

Ons moenie vaskyk in die massa-histerie van ’n massa-gebedsbyeenkoms en in die proses die persoonlike intieme gebede van ’n enkeling miskyk, wat die toekoms van die land kan verander nie.

Swaarkry wys op die innerlike stryd as gevolg van uiterlike beproewings. Dan moet die gelowige nie minder bid of ophou bid nie, maar juis met geduld aanhou bid. Om geduldig te bid, is baie belangrik. Gebed werk nie soos kitskos nie; gebed vra toewyding, geduld en ’n ernstige wag op God se uitkoms. Die verwysing na Elia in vers 17 en 18 dien as ’n aansporingsvoorbeeld. Daar staan: “Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.” Wanneer laas het ons vurig en ernstig gebed?

Wie arm aan gebed is, is arm aan God. As jy arm aan God word, dan tree jy later op soos die mense van die wêreld.

Te midde van ‘n menigte aktiwiteite, moet ons nie toelaat dat enigiets ons gebedstyd indring nie. Die duiwel sal ons so besig hou, dat hy ons net nie biddend  kry nie. Hy weet dat hy geen wapen teen gebed het nie. Hou u gebedstyd met alle ywer, soos Daniël, wat drie keer per dag tot die Here gebid het.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar