Om te sondig is menslik, om te vergeef is Goddelik.


SKRIFLESING: Mat 18: 21 – 35 en Ef 4: 31 – 32

Siektes soos Vigs en Covid-19 en tering is gedurig in die nuus. Ons is bekommerd oor die siektes wat ons liggaam kan doodmaak. Maar ons moet eerder versigtig wees vir die siektes wat ons geestelike lewe doodmaak. Daar is ’n siekte wat ons “wanverhoudinge” noem, naamlik ’n wanverhouding met God en met jou medemens. Die siekte het alreeds daar in Genesis begin toe Adam en Eva gesondig het. Hulle sonde het ’n wanverhouding met God en met mekaar veroorsaak. Van daardie dag af het die siekte aansteeklik geword en elke mens aangetas en alle vlakke van die menslike lewe besmet. Die simptome is rusie, konflik, ontrou, huweliksverbrokkeling, gesinsverbrokkeling, arbeidsverhoudinge wat suur geword het, oorlog, ensovoorts.

God, die Vader, het as die groot wetenskaplike ’n wonderkuur geskep naamlik “vergifnis”, waardeur Hy sy wêreld wil heel. Maar vir die wonderkuur moes Hy ’n entstof gebruik. Toe gebruik Hy sy eie Seun as die entstof om die wêreld te heel. Christus se sterwe is die entstof waardeur ons vergewe word. Deur Christus het daar vir ons vergifnis gekom, sodat ons nou in ’n nuwe gesonde verhouding met God, met onsself en met ons medemens kan leef.

 As jy ’n wolk oor die suiwer blou van die hemel sien dryf en dit dan opbreek, verdwyn dit vir ewig. Jy sal die wolk nooit weer sien nie. So vee Hy ons oortredinge uit net soos Hy die wolk vir altyd voor ons oë wegvee. Die Bybel is vol van hierdie versekeringe dat die straf van sonde heeltemal van die kind van God  verwyder word.

Alexander Pope het die onvergeetlike woorde gesê:  “Om te sondig is menslik, om te vergeef is goddelik.” Vergifnis maak verhoudinge reg. Vergifnis werk genesend en helend. God se vergifnis vir ons, maak ons verhouding met God reg en waar ons bereid is om ander te vergeef, kom mense-verhoudinge ook weer reg.

In die Bybel en in die kerk is die begrip “vergifnis” ’n sentrale tema. Die rede waarom die Here Jesus Christus gebore is as mens, aan die kruis gesterf het en op die derde dag opgestaan het, was om vergifnis vir ons te bewerk. Elke Sondagoggend hoor ons die vergifnis van die Here aan. Elke dag as ons bid, bid ons dat die Here ons mag vergeef.

Vergifnis is nie te koop nie. Ons kan nie maak soos die Middeleeuse Rooms Katolieke kerk, wat sondes vergewe het op grond van goeie werk of die betaal van afkoopboetes nie. Dit laat my aan die volgende verhaal dink: Op ‘n dag waag ‘n arm meisie dit om in die tuin van die koningin se paleis in te gaan en die tuinier te nader en te vertel dat haar ma baie siek lê en dat sy verlang om ’n blom te koop, soos sy in die tuine van die koningin gesien het. Die kind het ‘n paar sent gespaar en wou ‘n roos vir haar siek ma koop. Dit was winter, en die blomme was in daardie seisoen skaarser. Die tuinier het boonop geen gesag gehad om die blomme van die koningin weg te gee nie, en hy sê toe sy aanbied om te betaal: “Die koningin het geen blomme te koop nie,” en het die arme kind weggestuur. Maar die koningin self was toevallig in die tuin en het die gesprek tussen die tuinier en sy klein kliënt ongemerk aangehoor. Terwyl die kind bedroef en teleurgesteld wegdraai, stap die koningin egter nader en begin ’n gesprek met die kind en sê: “Die tuinier was heeltemal reg, my kind, hy het nie die gesag om vir jou die blomme te gee wat jy wil hê nie, en die koningin kweek nie blomme te koop nie, maar die koningin het blomme om weg te gee”; en sy voeg die daad by die woord en lig uit die mandjie waarin sy die blomme gesny het, ‘n handvol seldsame rose en gee dit vir die kind en sê: “Neem dit met liefde vir jou moeder en vertel haar dat die koningin hulle gestuur het. Ek is die koningin.” Daarom: God het geen vergifnis te koop nie; jy kan dit nie koop met jou arme boete van trane, gebede of berou nie; God het vergifnis om te gee, en jy kan dit net deur geloof aanneem, maar nie in ruil vir enigiets wat jy doen nie.

Hierdie wonderkuur, hierdie entstof, mag ons egter nie vir onsself hou nie. Daarom sê die Here vir ons dat soos Christus ons vergewe het, ons mekaar ook moet vergewe. Die Here Jesus het ons geleer om te bid: “ …. en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree ….” Die Here Jesus het ons geleer om mekaar te vergewe selfs “sewentig maal sewe keer”. Paulus sê in Ef 4: 31 – 32 die volgende: “Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie …… Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Ons maak egter baie keer soos daardie amptenaar wat deur die koning vergewe is en wie se skuld alles afgeskryf is, maar dan omdraai en nie eers sy mede-amptenaar se skuld vir hom kan vergeef nie. Ons wil die wonderkuur, die entstof, net vir onsself hou. Net soos die ryk lande die afgelope paar maande selfsugtig was met die Covid-19 entstof, wil ons vergifnis net vir onsself toeëien. Ons wil die vergifnis van die Here graag vir onsself ontvang, maar ons is nie bereid om daardie wonderkuur met ons medemens te deel nie. Ons is nie bereid om ander te vergeef nie.

Dan beland ons net soos daardie amptenaar in die tronk. Nie ’n tronk in die letterlike sin nie, maar in ’n sielkundige  tronk. Ons kan nie slaap nie, ons bly bitter en bestee ons lewensenergie aan wraakgedagtes, ons tob oor die verlede en ons vertroetel ons emosionele wonde. Ons ontwikkel selfs maagsere. Wie nie vergewe nie, bind as’t ware ’n lyk aan homself vas en sterf later as gevolg van lyksiektes, by wyse van spreke.

Wie egter geleer het om te vergewe, word vry van hierdie sielkundige tronk. Ons kan weer slaap. Ons kan pragtige verhoudinge ontwikkel en goeie tye beleef saam met dié wat ons vergewe het. Ons voel selfs fisiek beter en gesonder.

Wanneer jy iemand vergewe, dan kanselleer jy in ’n sekere sin, skuld. Die een wat vergewe, verwyder alle beperkings of hindernisse wat daar op die verhouding geplaas is. Die een wat vergewe en die een wat vergifnis ontvang, kan van nuuts af met mekaar ’n verhouding ontwikkel, want die stuk seer en pyn is bely en uitgepraat.

Een van president Abraham Lincoln se medewerkers het hom nogal ernstig uitgeskel omdat hy sag was op sy vyande. “Waarom dring u daarop aan om vriende van hulle te probeer maak?” het hy gesê. “U moet hulle eerder probeer vernietig.” Waarop Lincoln saggies geantwoord het: “Vernietig ek nie my vyande as ek hulle my vriende maak nie?” Na berig word oor diegene wat sy vyande was tydens die burgeroorlog, word gesê dat Lincoln gesê het: “Hoe kranksinnig dit ook al mag wees, ek hou die kwaad teenoor niemand van hulle nie. Ek het nie die tyd of die energie in hierdie lewe om wrokke te koester nie. ”

Vergifnis vind gewoonlik in drie fases plaas:

In fase 1 sien jy die ander persoon as waardevol en verstaan jy dat God vir jou en daardie persoon ewe lief het. In fase 2 hou jy op om daardie persoon te blameer, of om van die persoon ’n karikatuur te maak. Jy hou op om sy foute op te blaas en begin om daardie persoon se goeie punte raak te sien. In fase 3 besluit jy om na daardie persoon toe te gaan. Jy probeer om die saak op te los. Vergifnis is ’n doelbewuste handeling. Dit is iets wat jy bewustelik doen. Natuurlik gaan ons nie alleen nie. God wat altyd by ons is, gaan saam met ons om ons sterk te maak. Belangrik is dat ’n mens jou gevoelens uitpraat en besluit om daardie seerkry- gevoelens nie langer tussen julle te laat staan nie en dat daardie ou gevoelens nie langer die toekoms oorheers nie.

Jy moet iemand dalk vandag vergewe. Dalk is dit iemand wat saam met jou werk. ’n Buurman, ’n vriend of ’n lid van jou familie. Jy kan dinge laat gaan. Selfs as die ander persoon jou verstoot, kan jy nog steeds ontslae raak van die dinge wat tussen julle staan. God wil hê dat ons vry sal wees. Daarom help God ons om van harte te vergewe.

Corrie ten Boom vergelyk vergifnis met die loslaat van ‘n kloktou van die meeste plattelandse kerke. Jy sal weet dat jy die tou ‘n rukkie moet trek om die klok te laat lui. As dit eers begin lui, behou jy net die momentum. Solank jy aanhou trek, bly die klok lui. Juffrou Ten Boom het gesê dat vergifnis die tou loslaat. Dit is net so eenvoudig. Maar as jy dit doen, bly die klok lui. Momentum is nog steeds aan die werk. As jy egter jou hande van die tou af weghou, sal die klok al stadiger lui en uiteindelik stop.

Dit is so met vergifnis. As jy besluit het om te vergewe, kan die ou gevoelens van onvergewensgesindheid steeds hulself laat geld. Hulle het immers baie momentum. Maar as jy hou by jou besluit om te vergewe, sal die onvergewensgesinde gees begin bedaar en uiteindelik ophou. Vergifnis is nie iets wat jy voel nie, dit is iets wat jy doen. Dit laat die tou van vergelding los.

Die moeilikste is egter om jouself te vergewe. Dikwels loop mense rond met ’n klomp skuldgevoelens uit die verlede. Hulle kan hulself nie vergewe nie en daarom lewe hulle in die ewigdurende hel van spyt en boetedoening. Hulle straf as’t ware hulself. Hulle dink gedurig daaraan dat hulle skuld het om te betaal. Hulle lewe in die “ewigdurende boetedoening van spyt”. Daar word met die verstand bely dat Christus vergewe, maar dit word nie met die hart geglo nie. So kan ’n mens nooit die vreugde van ware verlossing beleef nie. Jy leef gedurig in ’n tronk, terwyl die skuldeisers hulle dodelike afbrekende werk doen. Jy laat as’t ware die duiwel toe om jou aan te kla, terwyl Christus Jesus jou reeds vergewe het.

Die duiwel gebruik skuldgevoelens, hierdie gevoel van “ek kan myself nie vergewe nie,” om my van die Here af weg te trek. Die duiwel sal alles in sy vermoë doen om my te laat voel dat ek nie vergewe is nie en sal maak dat ek vergeet dat ek in Christus ’n mede-oorwinnaar is. Die Heilige Gees sal my nooit aanhou aanklae oor sonde wat ek gedoen het, as ek om vergifnis gevra het nie. Wanneer God vergewe, vergewe Hy volmaak.

As iemand homself of haarself nie kan vergewe nie, sê ’n mens as’t ware twee dinge:

  • Die dood van Christus aan die kruis is nie genoeg vir my sonde nie. Dit kan tog nie.
  • Dat ék die persoon is wat op die ou einde sonde vergewe en oordeel en dit self wil doen. Dit kan tog ook nie, want dit is God se werk om my te vergewe en nie mý werk nie.

Wanneer Christus Jesus ons vergewe het, het Hy ons sondes in die diepste see weggewerp. Hy dink nie eers meer daaraan nie. Daar is ook ’n bord op met die woorde: “JY MAG NIE VISVANG NIE,” bedoelende jy mag nie weer jou ou sondes uitkatrol of uithaal nie. So bevry die Here ons van skuld en skuldgevoelens, sodat ons ons energie kan uitstort op dit wat positief en opbouend is.

Wanneer ons onsself en ander mense kan vergewe, word ons bevry en kry ons nuwe energie om met ware vreugde en blydskap te lewe.

Op ‘n dag toe Stan Mooneyham saam met ‘n paar vriende op ‘n roete in Oos -Afrika loop, het hy bewus geword van ‘n heerlike reuk wat die lug gevul het. Hy kyk op in die bome en om hom na die bosse in ‘n poging om te ontdek waar dit vandaan kom. Toe sê sy vriende vir hom om af te kyk na die blou blommetjie wat langs die pad groei. Elke keer as hulle die klein blommetjies onder hul voete vertrap het, word meer van sy soet parfuum in die lug vrygelaat. Toe sê sy vriende: “Ons noem dit die vergifnisblom.” Hierdie vergifnisblom wag nie totdat ons vergifnis vra nie.  Dit versprei ryklik sy geur. Wat ‘n aangrypende voorbeeld van verregaande vergifnis!

Om te sondig is menslik, om te vergeef is Goddelik.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar