Jesus Christus het gekom om lewensvreugde te bring.


SKRIFLESING: Joh 2: 1 – 12

Ons almal wil graag gelukkig wees en ware lewensvreugde ervaar. Baie keer vind ons ons vreugde in nuwe dinge wat toegevoeg word tot ons lewe. Die vreugde van ’n kind oor ’n nuwe speelding. Die vreugde oor ’n nuwe huis, ’n nuwe motor, ’n nuwe lewensmaat of ’n nuwe baba, ’n nuwe werk of ’n nuwe stokperdjie. Christus Jesus wil nie nuwe dinge toevoeg tot ons lewe nie. Nee, Hy wil ons – met ons gewone lewe en die gewone dinge in ons lewe – aanraak en kom verander. In die alledaagse wil Hy nuwe lewe en sprankeling kom gee. Juis in hierdie verandering wat Jesus wil bring, vind ons die eintlike ware vreugde. Dit is ’n tipe metamorfose wat Jesus wil bring. Soos ’n wurm wat ’n vlinder word. Of die lelike eendjie wat verander in die pragtigste swaan.

Daarom is die skopus van die preek: 

Jesus Christus het gekom om lewensvreugde te bring.

Met die verandering van water in wyn, het Jesus aan Sy dissipels kom demonstreer dat die doel van Sy koms is om verlossing, verandering en vreugde te bring.

’n Bruilof het in die antieke Bybelse tyd oor ’n paar dae verloop. Hoe ryker die familie, hoe langer het die bruilof aangehou. As die wyn op was, was die vreugde weg en dan het almal huis toe gegaan. Die feit dat Jesus die water in wyn verander het, beteken dat Jesus die vreugde laat voortgaan. Inteendeel, die nuwe wyn was beter as die oorspronklike wyn.

Die simbool van die ses klipkanne water was soos die Joodse reinigingswater, simbool van die verstarde Joodse wette, waarin mense hulle hoop plaas. Dit was simbool van die ou en uitgediende Ou Testamentiese wette. Wette is koud en onpersoonlik. (Daar word hierna verwys as formalisme). Wette maak jou dood en beroof jou van ware geluk en lewensvreugde. Jesus kom sê as’t ware deur hierdie wonderwerk dat die Ou Testamentiese wette die verkeerde manier van verlossing is.

Deur die water in wyn te verander, kondig Christus Sy manier van verlossing aan, naamlik om VERANDER te word deur Christus Jesus. Jesus het gekom om ware verlossing en vreugde te bring, daarom het Hy die water in wyn verander. Nie meer is die Joodse wette nodig om ons te red nie. Nou is dit Jesus se bloed (Sy wyn) wat ons red.

Hierdie verandering is God se werk, nie mensewerk nie. Die kelners het slegs hulle pligte uitgevoer. “Duties are ours. Events are God’s work. It is ours to fill the waterpots. It is Christ’s work to make the water wine.”

Die vraag is egter of ons verander wíl word deur die Here Jesus. Ons kan van Jesus en sy leerstellinge hou, sonder om te wil verander. Ons kan kerk toe gaan en sê dit was ’n mooi boodskap, sonder dat die boodskap ons verander.

Ons kan baie keer so tevrede wees met die water, die “oue”, dat ons nie verlang na die wyn, die “nuwe” wat Christus vir ons laat aanbreek het nie.  Dikwels is ons tevrede met ons eie manier van verlossing. Ons staan by ons ou lewe, ou waardes en ons eie koers. Ons kan baie keer tevrede wees om ’n lelike eendjie te bly, of om ’n wurm te bly.

Christus Jesus het gekom om te verander. Wie nie verander wil word nie, mis Jesus Christus en het nie deel aan die ewige bruilof nie.

Wie nie bereid is om daagliks deur Christus Jesus verander te word nie, mag nie die Nagmaal gebruik nie. Christus Jesus is die nuwe wyn. Jy kry alleen deel aan hierdie wyn, as jy bereid is om verander te word.

Deur Jesus se ingrype gaan die bruilof voort. Die vreugde verdiep. Net so is die ewige bruilof ’n fees van vreugde.

Wie hom of haar deur Jesus laat verander, het deel aan die ewige bruilof wat nooit ophou nie.

In die wonderverhaal het Jesus voorsien in dit wat die bruidegom en sy familie moes voorsien. Jesus het as’t ware die taak van die bruidegom op Hom geneem, naamlik die voorsiening van die wyn. So het Hy dan die groot Bruidegom geword wat self wyn geword het, sodat ons deel kan hê aan die ewige saligheid.

Ware vreugde lê nie in die toevoeging van nuwe dinge tot my lewe nie. Nee, ware vreugde en lewensvervulling lê in die verandering wat Jesus wil bring. Hy wil my vry maak van wette, van moets en moenies. Reiniging van sondes lê nie in wette nie, maar in wat Jesus vir my gedoen het. My vreugde is Jesus wat die verandering gebring het.

Jesus het ook die skande van die bruidegom, oor daar te min wyn is, verander in ’n seën. Skielik was daar meer wyn en die wyn was beter as die vorige. So wil Jesus ook ons skandes verander in ’n seën vir ons. Sy bloed (Sy wyn) verander ons skandes in ’n seën. Sy bloed (Sy wyn) bring vir ons vreugde. Daarom is die Nagmaal ’n vreugdevolle geleentheid.

Jesus het vreugde gebring. Hy het verlossingsvreugde kom bring.  Jesus nooi ons na Sy fees toe.                                               

AMEN    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar