Tussen die steengroewe werk God.


SKRIFLESING: Eks 1: 1 – 2:10

Vir die Israeliete begin die verhaal van Eksodus op ’n slegte noot ……. op ’n slegte plek. Dit begin by die steengroewe van Egipte. Hulle moes stene maak vir die bou van Farao se voorraadstede, Pitom en Ramses.

In die begin het die Israeliete dit nie te moeilik gehad in Egipte nie, want hulle vader Josef was ’n gerespekteerde en gewaardeerde man. Hy het immers Egipte van hongersnood gered. Maar toe daar mettertyd ’n ander Farao aan bewind kom, wat nie meer van Josef geweet het nie, het die Israeliete begin swaar kry. Hulle groeiende getalle het volgens Farao ’n al groter bedreiging vir Egipte geword.  Daar is baie aspekte van die verskriklike lewe in so ’n steengroef wat ons as bevoorregte mense nouliks sal kan begryp. Kom ons kyk ’n bietjie na die toestande in so ’n steengroef. Daar moet daagliks ’n hoë produksiekwota van stene gelewer word. Daar was ’n vaste tydskedule, met min tyd vir ontspanning. Dit was ’n plek van onderdrukking en profyt. Dit is ’n plek van ongelukkigheid en arbeidsonrus. Inderdaad ’n plek van lyding en wanhoop.

Miskien voel u dat u ook vasgevang is in u eie steengroef. Nie een van ons leef ver verwyderd van die realiteit van so ’n steengroef nie. Dit is op die ou end ’n beeld wat ons almal verstaan. Iewers is ons almal se lewens en siele gebind aan ’n sisteem. Dit kan werksdruk wees, of spanning by die werk, of boerdery bekommernis. Daar word hoë eise aan ons kinders gestel op skool en dan is daar die alewige finansiële bekommernis.

Miskien het u werk, u boerdery, die skool, u huis, gesin of huwelik vir u ’n steengroef geword. Alles word net een te veel. Almal ken daardie gevoel.

Die Israeliete was 400 jaar lank vasgevang in hulle steengroef. ’n Mens kan dus verstaan dat hulle sal begin vrae vra oor hulle lot:

  • Gee God om?
  • Hoor God as ons roep?
  • Is God regtig daar?
  • Is Hy regtig werklik ’n lewende God?

Vasgeval in die steengroef weerklink die Godsvraag: Gee God om?

Die Israeliete het hierdie vraag gevra, miskien vra u dit ook. Maar Eks 1: 1 – 2:10 gee self vir ons die antwoord op hierdie vraag. Die skrywer gee vir ons drie bewyse dat God omgee.

  1. God werk agter die skerms.
  2. Die mens wik, maar God beskik.
  3. Lyding het ’n plus-kant. 

Kom ons staan eers stil by die eerste bewys dat God omgee.

  1. God werk agter die skerms.

Ons maak te maklik en te gou afleidings. God het die manier om die meeste van Sy werk agter die skerms te doen. Kenners wat hierdie verlossingsverhaal van Israel vergelyk met die buite-Bybelse verlossings- en roepingsverhale van ander volke sê dat die opvallendste verskille juis op hierdie vlak lê. In die ander volke se verhale is die god of gode heeltyd op die voorgrond – hulle is die hoofspelers. Maar as Israel se verhaal vertel word, sien ons mense op die verhoog, net mense! Sodat ’n mens op ’n stadium kan begin wonder: Waar is God dan? Die geheim is om te weet dat hy nie die hoofspeler is nie, maar die regisseur – meer nog, ook die draaiboekskrywer. As u dan vra waar God is, weet dan, Hy werk agter die skerms.

Dit bring ons by die tweede saak:

  • Die mens wik, maar God beskik.

Die Jode van later geslagte, het seker heerlik gelag oor hoe Farao se gesinsbeplanningsprogram misluk het. God belowe ’n groot nageslag. Farao probeer dit verydel met sy gesinsbeplanningsprogram. Hy beraam plan op plan. Waar is God? Farao wik, maar God beskik. Farao se planne misluk keer op keer.

Hierdie magtige Farao wat ’n wêreldheerser was, se plan word telkens deur sosiaal onmagtige vroue buite aksie gestel. (So gebruik die Here vroue.) In vers 15 gebruik die Here twee eenvoudige Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua, wat die Farao uitoorlê en nie die Joodse baba-seuntjies doodmaak nie. Toe die Farao opdrag gee dat die Hebreeuse seuntjies doodgemaak word, gebruik die Here die Hebreeuse dogter Miriam om die magtige Farao se dekreet te omseil. Dan is dit ook die einste Farao se dogter wat Moses red en aanneem as haar seun en so die Farao se plan laat misluk.

Kan u die humor raaksien? Die Farao wik en weeg, maar God beskik ’n uitweg.  So dikwels kan ons vir onsself die mooiste planne optrek, maar dan kom beskik God op ’n heel eenvoudige wyse. In Eksodus 1 reeds, maar veral in Eks 2, sien ons hoe God sonder dat mense dit agterkom, die geskiedenis beheer. En hoe wonderlik, hoe asemrowend en hoe stylvol doen hy dit nie!

En tog tragies genoeg, gebeur dit alles sonder dat die volk besef wat regtig aan die gang is. Hulle sien glad nie God se beskikking raak nie. Eks 1 sê vir ons dat dit meer kere gebeur dat mense, selfs God se eie volk, Hom en Sy handewerk in die geskiedenis nie herken nie. ’n Mens kry koue rillings as jy besef dat dít natuurlik ook is wat gebeur het met Jesus. Israel het honderde jare gewag vir die Messias, maar toe Hy kom, herken hulle Hom nie. Kan dit ook met ons gebeur? Kan dit wees dat ons ook dalk in so ’n tyd leef, in Suid-Afrika en in ons eie lewe, waar ons nie die beskikking van God raaksien nie?

Dit bring ons by die derde punt:

  • Lyding het ’n plus-kant

As God die geskiedenis beheer en ’n goeie plan het, waarom was ’n pynlike ompad vol lyding en baie trane vir Israel nodig? In die eerste plek het die Here die ompad gebruik om die volk in Josef se tyd van hongersnood te red en in Egipte aan die lewe te hou. Tweedens het die Here ook sy belofte van ’n groot nageslag vir Abraham juis in Egipte begin waar maak. Toe hulle in Egipte aankom, was hulle maar 70. Nou na 400 jaar was hulle so baie dat die Farao begin bang word het. Derdens wou God ook gehad het dat hierdie volk vir mekaar omgee. Die Here het geweet dat as ’n mens nie self swaarkry, lyding of nood ervaar nie, jy gewoonlik nie gereed is of lus het om ander mense in nood te help nie. (Vergelyk Eks 20 en die Levitiese wette.)

Dus as daar ook vir ons swaarkry is, laat ons nie te gou wees om allerhande vreemde afleidings te maak nie. Dalk is die Here maar net besig om op Sy manier ook vir ons voor te berei vir iets besonders.

Daarom, om saam te vat. As u vasgevang voel in u steengroef – weet dan God gee om, want:

  • Die Here werk agter die skerms.
  • Die mens wik, maar God beskik.
  • Lyding het ’n plus-kant.

Ja, God gee werklik om.                          AMEN   

(Die drie hooftrekke van die preek het ek by ‘n prediker raakgelees, wie se naam ek vergeet het.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Lewer kommentaar