Is jou hart nederig voor God en medemens?


SKRIFLESING: Johannes 13: 1 – 17 en 28 – 30

Nederigheid is een van die vernaamste deugde van die Christelike kerk en die gelowiges. ‘n Mens moet begeer om nederig te wees.

Die rede waarom daar vandag so baie twis en tweespalt is, is omdat daar te veel belangrike mense is. Daar is te veel base. Kyk maar na die wêreld. Die Afrika-state word gereeld geteister deur staatsgrepe. Oorlog, haat, naywer, afguns en jaloesie …. volk teen volk, ras teen ras, mens teen mens, werknemer teen werknemer, broer teen broer, man teen vrou, kind teenoor ouer. Almal wil belangrik wees! Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Gaan lees maar van die verskriklike Protestant-Katolieke godsdienstige oorloë.

Maar ook in die plaaslike gemeente in Handelinge woed die stryd om status voort. Gaan lees maar in Handelinge van die stryd in die eerste Jerusalem-gemeente. Dis die verskriklike: die kerk van vrede het geword ‘n kerk van oorlog en rusie. Ook alreeds daar by die eerste dissipel-kerk, ook alreeds daar by die eerste Nagmaalstafel, lees ons van twis en naywer. Luk 22 beskryf vir ons die treurige gebeurtenis. Die dissipels was bymekaar daar in die bokamer rondom die eerste Nagmaalstafel dié nag voordat Hy verraai sou word. In plaas daarvan dat die dissipels hul bekommer het oor die komende Koninkryk en die naderende kruisdood, het hulle hul bekommer oor wie van hulle nou tog die belangrikste is.

Daar was twee vrae in hulle gemoed:

1.) Wie sal tog die naaste aan die regterkant van die Here sit? Wie sal tog die ereplek langs die Meester inneem?

2.) Wie sal hom moet neerbuig en homself verneder deur die voete van die ander te was?

Dit was twee groot probleemvrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? So gaan dit mos tussen broers en tussen volkere: wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? Dit terwyl die Here sê: “Soek allereers die Koninkryk van God……”. Dit skreeu  ten hemele. Die selfgesentreerde dissipels teenoor die self-opofferende Messias. Die twaalf  “ekke” wat met hulle twaalf “selwe” besig is. ‘n Kontras, wat die ganse Evangelieboodskap weerspreek. Ja, so weerspreek die kerk homself en die heilige Evangelie, elke keer as hy vra: Wie is die waardigste? Wie is die onwaardigste?

Jesus sê in vers 25 dat konings met ‘n ysterhand regeer en as hulle ‘n bietjie goed gedoen het, laat hulle hul noem weldoeners oor die swakkes en ellendiges. My regterhand moet maar alte goed weet van my linkerhand. Ons verruil binnekamers vir die straathoeke. Dit verhoog my status, my aansien! Here, wie is tog die belangrikste? Is dit nie ironies nie; die dissipels, die kerkmense, vra ‘n rang in die hemel, maar die uitvaagsel, die moordenaar aan die kruis, vra slegs: “Dink asseblief aan my?” En dan beloof Christus aan Hom ‘n plek in die paradys!U sien dus: belangrike mense, wat posisies opsoek in die hemel, word beskaam.

Slegs nederige mense wat weet hul hoort eintlik nie daar nie, word verhef tot koningskinders. Die ergste is natuurlik as mense begin om ook God uit te rangeer uit die hemel. Die mens van ons tyd het te belangrik vir God geword. God het die klei geword en ons die pottebakker. In plaas daarvan om die onse Vader te bid, bid ons eerder die volgende aangehaalde gebed:

Onse milde God van alles wat soet en mooi is,

laat ons republiek tog nou reeds kom,

laat ander hul wil verskiet – Gee skiet Gee skiet!

Sodat ons ook ‘n sê mag hê.

Gee dat ons vandag ons daaglikse brood mag verdien,

en die botter, die konfyt, die wyn, die stilte, die stilte van wyn

en lei ons in versoeking van velerlei aard.

Sodat die liefde van lyf na lyf kan spring.

Maar laat ons ons verlos van die bose,

want aan ons behoort die menseryk, die krag en die heerlikheid,

van nou af tot in alle ewigheid net so ewig.

Aa mens! Aa mens!

Klink dit nie vir u bekend nie? Die aarde is nie God s’n nie, die aarde is nie van die duiwel nie, want die aarde behoort aan die mens. Om nou sommer reguit te wees. Die mens van ons tyd het te groot vir sy skoene geraak. Die mense wil onder mekaar belangriker wees. Maar ook belangriker as God. Klein skepselmensies wil oor mekaar heers. Nog erger: hul wil Heer oor die ganse kosmos speel.

Maar gemeente, so het u Christus nie leer ken nie. Al was Christus die Hemelkoning, het Hy die voete van sy dissipels gewas, siekes genees, mense gevoed, gebid vir tollenaars, geëet saam met sondaars, die bedelaars gehelp en Homself geoffer.

ln vers 26 sê Christus eintlik maar dat die belangrikste onder ons, juis die nederigste moet wees. Dit beteken: hoe hoër my status styg, hoe laer moet ek my neerbuig. Elke posisie op, een posisie af. U sien dus hoe hoër ek styg, hoe laer moet ek buig. Dit, gemeente, kos integriteit, maar meer nog, nederigheid. Dit sê Christus is ware grootheid. Grootheid is nie in magsvertoon nie, maar in selfontleding. Christus kon ’n skaar van engele ontbied om Hom van die kruis af te haal, maar nogtans verneder Hy homself nakend aan die kruis.

Gemeente, ons kan miskien nog hierdie aarde of  ‘n gedeelte van hierdie aarde met magsvertoon oorweldig soos Alexander die Grote of soos Adolf Hitler. U kan miskien nog in hierdie lewe u merk maak in die lewe as ‘n belangrike mens. Maar u kan nie die hemel oorweldig met ‘n magsvertoon nie. In die hemel kan u geen merk maak nie. In die hemel is net mense wat daar gekom het sonder dat hul eintlik daar hoort. Hulle is nie deur die magsvertoon van hulself of van Christus gered nie. Nie deur ‘n septer is ons verlos nie, maar deur ‘n kruis. Ons is nie deur ‘n ysterhand oorweldig nie, maar deur die sagte deurboorde en uitnodigende hande van die grootste en nederigste Dienskneg van alle tye.

Vergeet om u merk in die hemel te maak. Kyk alleen maar na die merke op Christus se deurboorde hande. Die merke van liefde en nederigheid. U sien: belangrike, hooghartige en selfgesentreerde mense kan nie in die hemel kom nie. Want as julle die Koninkryk van God nie soos ‘n kind ontvang nie, sal julle nooit daar kan ingaan nie. By die nederige Christus-koning, groot Dienskneg van die wêreld, pas alleen maar klein afhanklike diensknegte en diensmaagde. Wat alleen maar wil uitroep: aan God al die EER.

Ja, die wonderlike van vers 28 – 30 is die volgende. Diensknegte word koninkryksburgers. Ja, want Christus was maar altyd bewus dat Hy die Seun van die lewende God is. Hy het geweet dat die Koninkryk van God deur Sy Vader aan hom bemaak is. En nou maak Hy sy dissipels en ook sy volgelinge van alle tye die burgers van Sy Koninkryk. Net soos die moordenaar aan die kruis as ‘n stukkende en leë mens kom vra dat Christus aan Hom sal dink, en dan skenk God aan hom die Koninkryk.

Wanneer ‘n koning ministers aanstel om oor sy land te help regeer soos wat ons lees in vers 30, dan bly die koning nog steeds die belangrikste. Ja, die ministers regeer ter wille van die eer van die koning. Net so, liewe gelowiges, as Christus aan jou sy Koninkryk bemaak, as Christus aan jou die hemel en die verlossing beloof, mag jy nooit dink dat jy nou skielik die sentrum geword het van die hemel, asof jy die belangrikste is, nie. Want God het jou nie gered alleen maar om jou lewe te spaar nie. Nee, jy is gered om God en jou medemens te dien, OM DIE EER VAN GOD. Ek is gered nie vir myself nie, maar vir die EER VAN GOD.

Weet u wat is die definisie van ‘n sinlose lewe?

“Ek is die belangrikste”

Weet u wat is die definisie vir ‘n sinvolle lewe?

“God is die belangrikste… Ek jaag die eer van Christus na en die voordeel van my medemens.” Daarom moet ek nederig word.

Ware godsdiens vra nooit na die ek nie. Ware Godsdiens is altyd Godgerig en medemensgerig, maar nooit my-gerig of ek-gerig nie. God sal vir die “ek ” sorg.

Bekommer jou liewer oor die Koninkryk van God. Ons hedendaagse samelewing is baie ingestel op die “ek”. Baie jare gelede het mense geleef met ‘n “ons”-houding. Vir mense het dit gegaan oor wat vir die samelewing belangrik is en nie oor die “ek” nie. Hoogmoedigheid veroorsaak dat die “ek” faktor floreer. Daarom moet ons weer nederig word en eerste vra wat vir die samelewing, vir die “ons”, belangrik is.

Nederigheid is ‘n mooi eienskap. Dit weerkaats iets van Jesus Christus. Daarom moet ons onsself beywer om ‘n lewe van nederigheid te lewe.

Mag u en ek elke dag nederig lewe. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar