Kyk op na die kruis van Jesus Christus en raak ontslae van al die gal en gif wat jou lewe verwoes.


SKRIFLESING: Num 21: 4 – 9 en Joh 3: 14 – 18

Slange is een van die gediertes waarvoor ek die bangste is.  Die meeste normale mense het ’n vrees vir slange.  Dink net hoe angswekkend dit nie moet wees om in ’n kuil vol dodelike slange gegooi te word nie.

Die dorp Daniëlskuil het sy naam te danke aan ‘n sekere sinkgat in die grond, wat deur ’n Griekwa-kaptein, met die naam Adam Kok, gebruik is om ongehoorsame onderdane te straf.  Die sinkgat was so diep dat ‘n mens nie op jou eie kon uitklouter nie.  Die Griekwa-kaptein het in dié gat dodelike slange gegooi.  Ongehoorsame onderdane is dan in die sinkgat vol dodelike slange gegooi om hulle te straf.  Selfs as die kaptein onseker was of hulle skuldig is, het hy hulle in die gat gegooi.  Lewe hulle die volgende oggend nog, is hulle onskuldig en is hulle opgetrek. Is die onderdane dood, dan was hulle skuldig en nou ja, dan het hulle sommer klaar hulle straf weg.

In Num 21:4-9 lees ek ook van slange.  Die laer van die volk Israel was vol dodelike slange.  Dit was vir die Israeliete ook ’n angswekkende ervaring.  Die slange was God se straf omdat hulle teen God en Moses opstandig was.  Hulle was ongeduldig met God en het vir Moses kwalik geneem omdat hy hulle uit Egipteland gelei het.  Hierdie woestyntog was vir die Israeliete niks lekker nie.  Hulle het ’n hoër lewenstandaard in Egipte gehad.  Nou moet hulle van die aalmoese van God lewe.  Hulle was van niks seker nie.  In Egipte het hulle alles gehad en was hulle verseker van môre en oormôre.  Hulle neem Moses kwalik en hulle kla elke dag net al hoe harder en murmureer oor alles en nog wat. 
Toe het God slange, krioelende slange, in die laer ingestuur.  Orals is mense gepik en orals is sterftes aangemeld.  Die slange is as’t ware ’n  simbool van die Israeliete se onvergenoegdheid.  Hulle onvergenoegdheid het hulle nou letterlik verteer.

Gou hardloop die volksleiers na Moses toe.  God is genadig en gebied dat ’n koperslang in die middel van die laer op ’n paal aangebring moet word.  Elkeen wat gepik is deur ’n slang, moes opkyk na die koperslang aan die paal.  Hy sou dan bly leef.  So het die koperslang aan die paal ’n simbool van liefde geword.

Die Here Jesus het in Mat 23:33 ook die mense van sy tyd met slange vergelyk.  Ons wêreld is vol gif en bitterheid.  Ons pik op mekaar; en hipnotiseer en manipuleer mekaar.  Soos luislange vreet ons mekaar heeltemal op.  Ons verwoes ons persoonlike lewens, huwelike, gesinne, en ons land met al die bitterheid en gal in ons lewe.  Jesus se woorde aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes in Mat 23: 33 lees so: “ Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug?”

Eenmaal op Goeie Vrydag het die mense ook soos slange na die Here Jesus Christus gepik.  Hulle het Hom verraai, verloën, van Hom af weggehardloop, Hom onskuldig veroordeel, gespot, geslaan, ontklee, verguis, gekruisig en vermoor.  Ja, die skare het gepik-pik: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!” en hulle het Hom doodgepik daar aan die kruis. U en my sondes het die Here Jesus daar aan die kruis doodgepik.  U en ek is die slange wat die Here Jesus doodgepik het.  Dit is oor ons sondegif dat Hy gesterf het.

Tog is die koperslang aan die paal ’n heenwysing na Jesus Christus aan die houtpaal op Golgota.  Soos die Israeliete wat gepik is en moes opkyk na die koperslang aan die paal, so moet ons opkyk na die kruis van die Here Jesus Christus vir redding.

U sien, Joh 3:16 moet saamgelees word met Num 21: 4 – 9, wat verwys na die koperslang op die paal.  Die kruis red, verlos en neutraliseer al die gif en gal in ons lewe. Jesus Christus het in ons plek gesterf, sodat ons ontslae kan raak van al die sondegif in ons lewe. Die Israeliete het ’n keuse gehad.  Òf hulle ignoreer die koperslang aan die paal en sterf, òf hulle kyk op na die koperslang aan die paal, en leef.

Ons kan ook twee dinge doen.  Ons kan wegdraai van die kruis af, anderpad kyk, en aanhou om gif op te gaar en so uiteindelik sterf.  Of ons kan na die kruis kyk en van die dodelike gif ontslae raak en begin lewe. Ja, die Here Jesus het in ons plek gesterf.  Hy het van ons gif gedrink.  Ons doodsbeker het Hy uit ons hand geneem en dit vir ons gedrink. Sy dood het ons brood geword.
(Dit laat ’n mens dink aan ’n handgranaatoefening wat eenkeer in een van Bloemfontein se militêre basisse plaasgevind het. Die troep moes vir die eerste keer die handgranaat oor die wal gooi. Hy het verbouereerd geraak en die handgranaat laat val tussen sy makkers. Die korporaal het toe op die handgranaat geval en is in die proses in flarde geskiet, maar hy het tien troepe se lewens gered. Tot vandag toe nog voel die troepe verantwoordelik om geldelike bydraes te gee vir die korporaal se vrou en kind.)

Christus Jesus se sterwe roep ons op om vir Christus te lewe.  Goeie Vrydag en die Nagmaal roep ons op om uit te gaan en vir Christus te lewe!  Daarom kan ons nooit passiewe Christene wees nie.  Nee, ons moet aktiewe Christene wees.

Die Israeliete het na die koperslang op die paal gekyk vir redding.  Ons kyk vanmôre na die kruis vir redding.  Die kruis neutraliseer al die sondegif in ons lewe, sodat ons kan lewe en lewe in oorvloed kan hê.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar