Verlang jy om God se blydskap te deel?


SKRIFLESING: Luk 15: 1 – 32

Gaan ons hart nog uit na arm mense, weeskinders, uitgestotenes, misdadigers en hulpbehoewende mense? Nie sommer nie. Want sulke mense skuif ons gewoonlik eenkant. Hulle is nie welkom nie. Hulle neem ons tyd, geld en energie in beslag. Hulle is mos self vir hulle toestand verantwoordelik.

Maar dan wil ek u vertel van die Vaderhart van God. God se Vaderhart staan so wyd oop soos die blou hemel daarbo. God raak bly en opgewonde as Hy ‘n swakke, ‘n sieke, ‘n bejaarde, ‘n arme, ‘n weeskind of ‘n verstoteling raaksien. God het swakkelinge en goddeloses lief. God meet en weeg mense nie volgens aardse maatstawwe nie, maar God verlang na en het ‘n blye hart vir goddeloses en verlorenes.

In ons gelese gedeelte word God se blydskap vergelyk met die blydskap van:

  • ‘n Herder wat sy een verlore skaap gevind het, sodat sy kudde weer volledig sal wees.
  • ‘n Vrou wat die verlore muntstuk van haar halssnoer gevind het, sodat haar halssnoer weer volledig is.
  • Die Vader wat sy verlore seun teruggekry het, nadat sy huisgesin, sy kinders weer voltallig is.

In die laaste gelykenis lees ons hoedat die vader sy werksmense roep en hulle beveel om die beste klere vir sy seun aan te trek, vir hom skoene te bring en ‘n ring aan sy vinger te sit en die vetgemaakte kalf te slag. Sy seun kry nie eers kans om sy voorbereide skuldbelydenis uit te spreek nie, nee, hy word oorweldig met liefde en aanvaarding.

So is God! God is lief vir sondaars, vir goddeloses, vir armes, vir siekes, vir hongeres, vir bejaardes, vir werkloses en vir mense wat siek is.

Daarom het Jesus in sy tyd op aarde geëet saam met die tollenaars en prostitute, die tollenaars en uitgestotenes van sy tyd. Om in daardie tyd saam met iemand te eet, was ‘n teken van aanvaarding. Jesus het mense aanvaar, ja, selfs oor hulle bly geword. Daarom is Jesus dikwels uitgekryt as ‘n wynsuiper en vraat, maar daaraan het Hy hom min gesteur. Die openbare opinie het nie veel vir Jesus Christus getel nie. Om die wil van Sy hemelse Vader te doen was vir Hom veel belangriker.

Moenie probeer om God te verander nie. SO IS GOD! God is nou eenmaal so, Hy het sondaars lief. Hy het ‘n hart vir ander mense.

Tog lees ons ook van die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun. Dan herken ons onsself nogal in die gestalte van die oudste broer.  Die oudste broer het dit teen sy vader se sendingliefde, teen sy vader se barmhartigheidsliefde.

Die redding van sondaars moet die hemele en die kerk bly maak, maar helaas is dikwels net die hemele bly.

Oor hierdie aanstoot wat mense neem, lees ons veral in die groot sendingboek van die Ou Testament, naamlik Jona. Jona vlug eerder weg, as om vir die mense van Ninevé te vertel dat God vir hulle lief is. In Jona 4: 2 verklaar Jona dan ook, getuig Jona dan ook, dat hy geweet het dat God ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en vol liefde …. en dat hy die wete nie kan verdra of kan vát nie.

Dieselfde het in die Nuwe Testament gebeur; eers was die apostels ‘n verskrikte groepie mense ná die Here se hemelvaart. Die Gees het hulle egter in verskillende tale laat praat om sy Woord oor die wêreld te versprei. Ja, die Gees moes die weerstande afbreek in Petrus, in die ander apostels, by die gelowiges uit Jerusalem en selfs by Paulus.

Dikwels is ons nie teen sending of teen barmhartigheid nie. Nee. Ons neem eerder ‘n houding van traak-my-nie-agtigheid in. Ons bly onbetrokke en onentoesiasties. Sending en barmhartigheid het met ander mense te make, dit hou geen direkte voordeel in nie, daarom staan ons liewer op die kantlyn.

Ja, ons verander selfs die visie en die missie van die kerk om eerder ‘n broeiplek te wees vir hulle wat ‘n “klub” geword het. ‘n Vergaderplek van eendersdenkendes wat mekaar geestelik versorg, maar vergeet het van die wêreld daarbuite.

Theodore Wedel het ‘n aangrypende verhaal vertel van ‘n klein reddingstasie langs ‘n gevaarlike kuslyn. Talle skepe het hier gesink en die reddingstasie met hul eenvoudige reddingsapparate het honderde mense tydens skeepsrampe gered.

Sommige lede wou graag die reddingstasie verbeter, netjieser maak en ook sommer daarvan ‘n klub maak waar die reddingswerkers elke Vrydagaand as ‘n klub bymekaar kon kom, om sommer ‘n biertjie te drink om die spangees te verbeter. Die gebou is vergroot; en beter meubels, beter vloere en beter toerusting het van die eenvoudige reddingstasie sommer ‘n spogplek, ‘n uithangplek gemaak. Die lewensredding-motief was steeds oorheersend in al hul versierings. Hulle het selfs ‘n pragtige liturgiese reddingsboot daar gehad.

Die klub was egter ‘n gewilde uithangplek. Die lede het mettertyd al minder begin belangstel om reddingswerk te doen. Dit was eerder ‘n vergaderplek van klublede. Net om die naam reddingstasie te behou, het hulle ‘n paar lede teen vergoeding aangestel om vir hulle reddingsoperasies uit te voer.

Op ‘n dag sink daar weer ‘n skip. Die betaalde reddingswerkers red die drenkelinge. Maar toe hulle die mense gered het, het hulle ‘n probleem. Hulle kan mos nie die sopnat uitgehongerde en siek matrose in hulle netjiese klubhuis versorg nie. Nee, hulle moet in ‘n aangrensende skuur versorg word en so spoedig moontlik op die eerste die beste skip teruggeneem word na hul land van herkoms.

Die eiendomskommissie het dadelik besluit om aparte stortgeriewe en lokale in te rig vir die drenkelinge op see.

Op die volgende klubvergadering was daar egter ‘n skeuring. Sommige het gevoel al die reddingsaktiwiteite lei net tot ‘n skeuring. Staak alle reddingsaktiwiteite. Ander het weer gevoel dat die reddingsaktiwiteite die primêre taak van die klub is en dat hulle moet voortgaan met reddingswerk. Daar is gestem. Die groep wat gevoel het die reddingswerk moet gestaak word, het gewen.

Die ander groep wat wou voortgaan het toe besluit om verder langs die kus af ‘n ander reddingstasie te bou, eenvoudiger, maar doeltreffend. Spoedig het die nuwe stasie weer doeltreffend geword.

Maar soos die jare aangestap het, het die geskiedenis van die eerste reddingstasie homself herhaal met die tweede een en moes hul later ‘n derde, ‘n vierde en so aan, bou. Skeepsrampe vind nog plaas, maar die meeste drenkelinge verdrink.

Eintlik is dit die verhaal van die kerk. Die kerk ontaard maklik in ‘n sosiale klub, ‘n vergaderplek in plaas van om God se reddingstasie te wees.

Dikwels gaan dit vir die kerk nie om die ander mense nie, maar om diéself, ‘n sosiale klub.

Ons is die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun, want ons kan ons nie verheug en bly wees oor die redding en die versorging van ‘n ander een nie.

Daarom is ons dikwels so ongelukkig en opstandig oor sendingpreke en barmhartigheidsaksies, want ons kan nie saam met God bly wees oor elke sondaar wat tuisgekom het in die huis van die Here nie.

Blydskap oor elke verlore mens! So is God. God kan nie anders wees nie.

Opstandigheid en vreugdeloosheid oor die eintlike taak van die kerk, maak van ons Christene wat buite staan en die vreugde in die bruilofsaal mis.

Daar is blydskap, ja, oorvloedige blydskap in die hemel oor elke sondaar wat tuisgekom het en oor elke hulpelose wat genade ontvang het. So is God! God kan nie anders wees nie. Hy is liefdevol en barmhartig.          

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar