Moenie van God vergeet in 2023 nie


SKRIFLESING: Jeremia 2: 1 – 13

’n Mens vergeet tog so gou. ’n Mens vergeet name of jy vergeet iets wat jy moes doen of wat jy moes koop. Ons vergeet ook dikwels iemand se verjaarsdag. Daarom het ons dagboeke, om ons te herinner aan afsprake of take wat voltooi moet word.

Ds Danie Mouton vertel die volgende storie in Preekriglyne: “Wie onthou nog die verhaal van die drie susters? Een was 92, die tweede 94 en die derde 96 jaar oud. Hulle het saam in dieselfde huis gewoon.

Een aand tap die 96-jarige vir haarself ’n lekker bad stomende water. Sy sit een voet in die bad, en haak toe vas. ‘Was ek besig om in die bad te klim, of om uit te klim?’ roep sy uit.

Die 94-jarige suster antwoord: ‘Ek weet nie, ek sal kom kyk.’ Sy begin die trappe boontoe klim, maar steek vas: ‘Was ek besig om op te klim of af te klim?’

Die 92-jarige sit aan die kombuistafel, besig om tee te drink. Sy skud haar kop. ‘Ek hoop nie ek raak ooit so vergeetagtig nie!’ roep sy uit. Sy klop op die houttafel om haar punt te maak. Toe sê sy: ‘Ek kom nou om julle altwee te help, ek gaan net eers kyk wie klop so laat aan die deur.’

Vergeetagtigheid is ’n nare ding. Dit disoriënteer jou. Dit bring jou van koers en  van stryk. Jy weet later nie meer of jy kom of gaan nie.”

Wanneer dit met ’n mens goed gaan, kan jy ook so maklik van God vergeet. As jy van God vergeet, begin jy afgode en wêreldse goed najaag.

Die volk Israel het ook in Jeremia se tyd van God begin vergeet. In die eerste hoofstuk van Jeremia lees ons hoe ’n jong priesterseun, Jeremia, geroep word tot profeet van Israel.   Hy word geroep om die swaar oordeel van God aan Israel te verkondig, omdat die volk die Here vergeet het. Daarom het Jeremia eers die verskoning gehad dat hy te jonk is. Maar die Here het hom gerusgestel en beloof om by hom te wees.

Die volk Israel en Juda het die Here vergeet. Daarom verwyt die Here hulle in Jeremia 2:6a met die volgende woorde: “Hulle het nie gevra nie, ‘Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons in die woestyn gelei het …”

Die volk het as’t ware die verlede vergeet en daarmee saam ook al die goedheid wat die Here in die woestyn oor hulle uitgestort het. Hulle ly aan geheueverlies. Hulle het hul storie, hul waardes en hul God vergeet. Nog verder sê die Here in Jeremia 2:32 – “Sal ’n jong meisie haar juwele vergeet, of ’n bruid haar lyfserpe?  Tog het my volk My vergeet, ontelbare dae lank al.”

Die volk het in die beloofde land wat God aan hulle geskenk het, begin afdwaal van die pad. In plaas daarvan om God te aanbid, het hulle begin om die Baälgode aan te hang. Baäl het gestaan vir vrugbaarheid. Vrugbaarheid van veekuddes, vrugbaarheid van landerye en baie kinders. Eintlik het hulle ’n soort van welvaartsteologie aangehang. Baäl sou hulle ryk maak.

Vergete was die 40 jaar wat die Here die volk uit Egipte, en deur die woestyn, die beloofde land binne gelei het. Totale geheueverlies.

Maar om te sê dat die volk van God vergeet het, klink aanvanklik nie so erg nie, want alle mense vergeet dikwels. Maar wanneer ’n mens van God vergeet, skuif jy God in werklikheid op die agtergrond en vervang Hom met afgode.  Elizabeth Achtemeier skryf dat geen mens in ’n “aanbiddingsvakuum” kan leef nie. Vergeet jy van God, is dit nie lank voor jy Hom inruil vir ’n moderne afgod nie.

Daarom is vergeetagtigheid met betrekking tot God so ’n ernstige saak.  Robert Vosloo skryf dat die ergste is dat die volk nie eers ’n goeie ruil gemaak het nie. Die volk verruil die almagtige God vir nikswerd en dooie afgode. In Jeremia 10:5 spot die profeet met die afgode: “Die beelde is soos ’n palmboom van pletwerk. Hulle kan nie praat nie, hulle moet gedurig gedra word; want hulle kan nie ’n voet versit nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan nie skade aanrig nie; en om goed te doen bestaan ook nie by hulle nie.”

“Nie eens die heidense volke verruil hulle gode nie, maar Israel sien kans om dit te doen.” (Robert Vosloo)

Die beste beeld om die volk se vergeetagtigheid en hulle verruiling van God vir afgode te beskryf, vind ons in Jer 2:13 – “Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap –  gebarste opgaarputte wat nie water hou nie.”

In dorre landstreke is waterbakke met krake ’n katastrofe, want kosbare water word vermors. Om die God van Abraham, Isak en Jakob, die God wat deur die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf word as “die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” te verruil vir vreemde gode wat nie jou diepste dors kan les nie, is so erg soos water opgaar in klipbakke met krake.

Daarom kan ’n mens God se toorn verstaan teen sy volk. Maar ’n mens moet dit reg verstaan. God se oordeel staan nie lynreg teenoor Sy liefde nie, maar vorm juis deel daarvan. Die Duitse teoloog Jürgen Moltman beskryf God se toorn as gekweste liefde – ’n teleurgestelde liefde wat enigiets sal doen om die verhouding te herstel.

God se toorn is ten diepste ’n oproep om Hom nie te vergeet nie.

So kan ons in 2023 ook maklik van God vergeet. Walter Brueggemann stel dit so: “Welvaart lei tot geheueverlies!”

Hoe vergeet ’n mens van God? Robert Vosloo het vyf maniere gelys: Ons vertel vir mekaar ander stories – stories van geldmaakskemas en winskopies word belangriker as verhale van God se sorg en goedheid. Ons handhaaf ander waardes soos selfgerigtheid, teenoor diens aan die gemeenskap. Ons skaf ander helde aan, soos die rykes wat ander uitbuit om ryk te word. Ons kyk anders na mekaar – ons sien in mekaar ’n bedreiging. Verder begin ons ’n ander taal praat: nie verhale wat van God se deernis en sorg praat nie, maar verhale van vrees, slinksheid en wanhoop.

Daarom moet ons in 2023 leer om God te onthou. Laurika Rauch sing die liedjie: “Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou.” Mag dit ook van toepassing wees op ons geestelike lewe.

Chris van Wyk skryf: “Daarom moet ons die Here elke oomblik van elke dag voor oë hou.  Skep vir jouself ritmes en rituele om jouself aan die Here te herinner, en oor sy goedheid en nabyheid na te dink.  Daniël het drie keer ’n dag gebid as deel van ’n vaste patroon.  Jesus het telkens weer Homself onttrek om te gaan bid.  Die Here het ook die Sabbat ingestel om ons aan Hom te herinner. Ons het ons tye van “herinnering” nodig.  ’n Mens se stiltetyd is een só ’n tyd van herinnering, maar ons het ook gereelde tye van afskakeling en gefokusde aandag nodig, ’n rusdag, soms ’n “rusweek” (retraite) en soms selfs langer (sabbatsjaar), as dit moontlik is.”

Jou ervarings van God in die verlede moet vir jou moed gee vir die hede en toekoms. Ons almal het ervarings van hoe God ons in die verlede gehelp het. Ons moet dit gedurig in herinnering roep, dan sal dit met ons goed gaan. Dwaasheid is om van God te vergeet.

Maar dit is ook noodsaaklik om die verhale van God in herinnering te roep, want dit laat ons nooit onveranderd nie. Dit daag ons uit om in 2023 anders te dink en te leef. Herinneringe verander ons om die uitdagings van 2023 by die horings te pak.

Onthou om te onthou. Vergeet om te vergeet.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Van Wyk. Chris. Bybelskool

Mouton. Danie. Preekriglyne

Vosloo. Robert. 1999. Prente van ’n passie. Bloemfontein: CLF Drukkers

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s