SKRIFLESING: 1 Samuel 18: 6 – 16 en Psalm 16: 5 – 6
Wanneer ’n mens jouself begin vergelyk met ander mense, kan ’n mens maklik jaloers raak. ’n Mens raak jaloers as iemand anders vir jou ’n bedreiging raak. Ander se voorspoed of suksesse is vir jou ’n bedreiging. Ander boere het meer reën as ek gekry. My kind het nie sulke goeie matriekuitslae soos ’n ander een nie. My skool het nie soveel A-leerlinge gehad in die matriek-eindeksamen soos die ander skool nie. ’n Ander een het bevordering gekry en ek is oor die hoof gesien. Ek sukkel so in die lewe en ’n ander een word so ryklik geseën.
Wanneer ander mense vir jou ’n bedreiging raak, flikker die gevaarligte van jaloesie. Dit was presies so met Saul. Hy het ook in Dawid ’n bedreiging gesien.
Saul was die eerste koning van Israel en het regeer van 1047 vC tot 1007 vC. Eers was hy ’n geliefde dienaar van God en die Here het hom ryklik geseën. Hy was aan die Here gehoorsaam. Hy het veral bekendheid verwerf in sy talle aanslae om die Filistyne te verslaan. Later het hy begin ophou om na die Here te luister en het gierig begin raak. Geleidelik het hy van die Here verwyderd geraak. Die profeet Samuel het Saul kom meedeel dat God nie meer met hom is nie.
Dawid was die nuwe opkomende leier in Israel en het begin gewildheid verwerf toe hy as jong seun die kragtige en reusagtige Goliat verslaan het. Dit het tot gevolg gehad dat Saul jaloers op Dawid begin raak het. Saul wou met alle mening van Dawid ontslae raak om sy koningskap te beveilig.
Dawid en sy manskappe het meer Filistyne doodgemaak as Saul se offisiere en manskappe. Dit het Saul nog meer jaloers gemaak, want die volk Israel het Saul en Dawid met mekaar vergelyk. In 1 Samuel 18: 6 – 10 staan daar: “Die dansende vroue het gesing en gesê: ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.’ Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: ‘Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry.” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het ’n bose gees van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis.
In 1 Samuel 18:17–27 sien ons dat Saul van Dawid probeer ontslae raak het deur hom opdrag te gee om 100 Filistyne dood te maak in ruil vir sy dogter. Hy het gehoop Dawid sterf, maar hy was onoorwonne en het die 100 Filistyne alleen verslaan en hulle voorhuide voor Saul gegooi. Dawid kon toe met Saul se dogter Migal trou. So het Dawid en Jonatan (seun van Saul) ook boesemvriende geword.

Maar daar staan in dié gedeelte ’n bose gees van jaloesie het oor Saul toegesak en hy het geleenthede probeer vind om Dawid dood te maak. In vers 10 en 11 van ons gelese gedeelte, het Saul terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies en Dawid musiek gemaak het op die lier, die vegspies na Dawid gegooi om hom teen die muur vas te pen. Saul het twee keer die spies gegooi, maar Dawid het egter elke keer weggeruk en die spies is in die muur vasgegooi. In 1 Samuel 19: 9 – 10 het Saul weer probeer om die vegspies na Dawid te gooi, maar Dawid het toe padgegee en gevlug. Sy vrou Migal het hom deur ’n venster laat afsak en hy het gaan skuiling soek.
Later was die hele weermag van Saul en Saul self op soek om Dawid dood te maak. As daar daardie tyd pamflette en foto’s was, sou daar beslis op elke boom gestaan het: “David wanted, dead or alive.” In al die dorpe en valleie en berge was daar ’n soektog om Dawid dood te maak. Met die genade van die Here, wat oor Dawid gewaak het, is hy nooit gevang of doodgemaak nie. Dawid het selfs in die grot waar Saul geslaap het, die mantel van sy kleed afgesny, om aan te toon dat hy Saul kon doodmaak, maar omdat hy vir die koningskap respek gehad het, het hy Saul laat lewe.
Saul se jaloesie en agterdog het van hom ’n monster gemaak. Die Here se Gees het hom verlaat en hy was alleen. Saul het toe sy toevlug geneem by die waarsêer in En-Dot. In plaas van die Here te raadpleeg, gaan Saul na ’n waarsêer. Só ver het Saul se jaloesie hom van die Here af laat wegdwaal.

Die verhaal eindig waar die Filistyne vir Saul en sy seuns vasgepen het en ’n groot oorwinning oor die Israeliete behaal het. Drie van Saul se seuns is doodgemaak naamlik Jonatan, Abinadab en Malkisua. Saul het ook in sy eie swaard geval en selfmoord gepleeg, voordat die Filistyne op hom afkom en hom martel.
So eindig die lewe van koning Saul. Afguns en jaloesie het gemaak dat hy van die Here weggedwaal het en later ’n monster geword het.
Jaloesie en naywer bring verwydering tussen jou en ander mense. D. L. Moody het vertel van twee winkeliers tussen wie daar groot naywer, jaloesie en bitterheid was. Een van hulle het tot bekering gekom.

Hy het na sy predikant gegaan en gesê: “Ek is nog steeds jaloers op daardie man, en ek weet nie hoe om dit te oorkom nie.” “Wel,” sê die predikant, “as ’n man in jou winkel kom om goedere te koop, en jy kan hom nie voorsien nie, stuur hom net na die ander winkelier.” Hy het gesê hy sal nie daarvan hou om dit te doen nie. “Wel,” sê die predikant, “jy doen dit en jy sal jaloesie doodmaak.” Hy het toe begin om kliënte oor te stuur na sy mededinger vir goedere wat hy self nie kon verskaf nie en mettertyd het die mededinger begin om kliënte oor te stuur na hierdie man se winkel, en die breuk, jaloesie en bitterheid is genees.
“Byekenners sê vir ons wanneer ’n heuningby sy doringsteek in vlees dryf, raak dit so stewig ingebed dat die enigste manier waarop die by kan ontsnap, is om die angel agter te laat. Dit sou sekerlik die dood van die by veroorsaak. Dit laat so ’n ernstige wond dat dit onmoontlik kan herstel. So is dit ook met ons. Soms laat ons nie net die angel in diegene wat toevallig beter as ons is nie, maar die daad bring geestelike skade aan onsself teweeg.” [Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)]
Ek het drie honde. Die grote se naam is Optel, die tweede is Chico en die derde Amiga. Hulle sal al drie heerlik in vrede saamspeel. Maar as ek op die stoep sit en aan een aandag gee, is hulle skielik vyande van mekaar. Al drie wil my aandag hê. Hulle sal letterlik baklei vir aandag. Hulle is dan jaloers en naywerig op mekaar. Dieselfde gedrag vind ’n mens ook tussen mense wat onvolwasse en ongeestelik is. Mense baklei letterlik as hulle jaloers of naywerig is.

Die werklikheid is dat almal nie ewe slim of geleerd is nie. Almal het nie ewe veel geld of geleenthede nie. Almal het nie dieselfde talente en belangstellings nie. Almal kan nie ewe goed beskuit bak of kos maak nie. Maar so het God vir ons verskillende gawes en talente gegee. Ek het weer talente wat ’n ander persoon nie het nie. Ek moet net leer om tevrede te wees met die deel wat God vir my gegee het en die beste daarvan maak. Ek moet daarom nie naywerig of jaloers wees nie.
Hoor hoe pragtig stel Dawid dit in Psalm 16: 5 – 6 as volg: “ Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”
Mag ons ook tevrede wees met ons erfdeel en ons meetsnoere wat ons ontvang het. Die teenoorgestelde van jaloesie is TEVREDENHEID. Wie tevrede is met sy deel, sal nie naywerig of jaloers op ’n ander een se goed, prestasies of rykdom wees nie.
Dan kan ek opreg bly wees oor ander se prestasies, rykdom en geleenthede, want ek het tevredenheid gevind in my eie erfdeel wat vir my afgemeet is.
Die sleutel is TEVREDENHEID.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Bible Society of South Africa; Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)