SKRIFLESING: 1 Konings 21 en Mat 23: 23b
Was u al ’n slagoffer van misdaad? Ek kan waarskynlik met 100% sekerheid sê u was al. Misdaad vreet soos kanker in ons gemeenskap en ons land.

Dit vreet alles op. Die Zondo-kommissie se ondersoeke toon ’n droewige beeld: dat feitlik elke persoon wat in ’n regeringsposisie sit, hom of haar direk of indirek aan korrupsie skuldig gemaak het. Dit het veral momentum gekry sedert Jacob Zuma president van Suid-Afrika geword het. Die hele kartondoos appels in die regering is vrot.
Buiten die nasionale regering is plaaslike munisipaliteite en ander staatsidentiteite ook bankrot gesteel, sodat dienslewering nie kan plaasvind nie.
Op voetsoolvlak in dorpe en gemeenskappe, floreer misdaad op elke hoek en om elke draai. Smhart-sekuriteitsdienste is lankal nie meer ’n weelde nie, maar ’n noodsaaklikheid vir elke huis, besigheid en plaas.
Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld vind ons voorbeelde van goeie regerings en dan seën God die land. Maar meestal is dit swak, korrupte regerings wat hulle lande afdruk in chaos en wanorde, soos dit nou met Suid-Afrika ook die geval is.
Daar is ’n spreekwoord wat sê die vis vrot altyd van sy kop af. Ook dit is die geval met Suid-Afrika.
In ons gelese gedeelte lees ons van Nabot, ’n man van Jisreël, wat ’n wingerd gehad het in Jisreël langs die paleis van Agab, die koning van Samaria. Agab was ’n korrupte koning en sy vrou Isébel was nog meer korrup.

Agab het vir Nabot ’n beter wingerd aangebied of die stuk grond waarop sy wingerd staan, vir silwer. Nabot het egter geweier, want dit was erfgrond wat al lank in sy familie se besit was. Daarom, omdat Nabot die wingerd van sy vaders geërf het, en geen Israeliet sy erfgoed wettiglik mag verkoop nie (Levitikus 25:23; Numeri 36:7; Esegiël 46:18), het Nabot net op die wet van God gestaan.
Agab gaan toe tekere oor hy nie sy sin kon kry nie en gaan lê op sy bed, baie droefgeestig.

Isébel sê toe vir haar man dat hy tog die koning is en kan maak soos hy wil. Hy moet dit aan haar oorlaat. “Sy skryf toe briewe in die naam van Agab, verseël dit met sy rolseël en stuur die briewe aan die oudstes en hoëlui wat in sy dorp was, wat saam met Nabot gewoon het. In die briewe het sy geskryf: Roep ’n vasdag uit, en laat Nabot voor tussen die mense sit. Laat twee manne, booswigte, teenoor hom sit en teen hom getuig: “Jy het God en die koning gevloek!” (1 Konings 21: 8 – 10) So het hulle Nabot onregverdig verhoor en hom en sy seuns buite die dorp gestenig, tot hulle dood is (2 Konings 9: 26). Nou het die wingerd van Nabot die groentetuin van koning Agab geword.
So het magshebbers die bietjie van die onderdane gesteel. Dit is presies wat in vandag se politieke arena plaasvind. Regeerders verryk hulself onder andere met kontrakte om skatryk mense te word, wat niks omgee vir die mense wat arm is nie. Dit noem ons staatskaping. Dit is wat die Zondo-kommissie na vore gebring het.
So herhaal die geskiedenis hom telkens.

Dr Chris van Wyk maak ’n interessante opmerking. Hy sê dat “wingerd” gereeld in die Bybel gebruik word as simbool vir Israel. Maar Agab wil wingerd vervang met ’n groentetuin. Die woord “groentetuin” word net een ander keer in die Ou Testament gebruik en wel in Deut. 11:10, waar dit na Egipte verwys. So word die beloofde land met Egipte gekontrasteer. Agab wil die wingerd – die simbool van die vryheid wat God gee, vervang met groentetuin – wat ’n simbool is van slawerny in Egipte.

Vir die Here was dit ’n gruwel wat gebeur het. Elia is toe gestuur om die oordeel oor koning Agab en Isébel uit te spreek. Daar staan in 1 Konings 21: 19 die volgende oordeelsaankondiging: “ Sê dan vir hom, ‘So sê die Here: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?”’ Sê verder vir hom, ‘So sê die Here: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” Die oordeelsaankondiging was so heftig dat Agab rouklere aangetrek het en tot bekering gekom het. God het toe Sy oordeel versag en deur die profeet Elia gesê die oordeel sal eers in die tyd van sy seun plaasvind.
Wat moet die eienskappe van ’n goeie leier wees? In Mat 23:23b gee die Here raad vir die Fariseërs en skrifgeleerdes. Jesus sê: “…. maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid …..” (1983 Afrikaanse Bybel)
Dit is die drie dinge waarteen ’n mens ’n goeie politieke, ekonomiese of geestelike leier meet. Dit is die drie dinge wat elke sakeman en persoon in ’n professionele beroep moet doen. Die drie eienskappe is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.
’n Politieke leier is regverdig en sorg nie vir homself of haarself nie, is barmhartig teenoor die armes en steel nie hulle geld nie en is betroubaar in die beloftes wat hy of sy voor die verkiesing gemaak het.
Wat ons land nodig het, is morele leiers wat ’n hoë etiese en morele kode het. Sulke leiers kweek jy al in die ouerhuis en op skool. Morele leiers het ’n gewete, ’n vlymskerp gewete, en is altyd op soek na die verskil tussen reg en verkeerd.
Agab en Isébel het geen gewete gehad nie. Hulle het die onskuldige Nabot en sy seuns buite die dorp met klippe doodgegooi, net om ’n stukke grond in te palm vir eie gewin.

Ons is nog ’n Afrika-staat wat gefaal het. Die regering het die kiesers vervreem. Dit alles omdat daar nie moraliteit in die regering is nie. Almal maak soos almal maak, naamlik leef net vir eie gewin.
Waar tog sal ons ’n morele leier vind in hierdie wye en droewige land? Die Here het telkens na ’n ballingskap vir Israel ook goeie leiers gegee. Mag die Here in Sy genade ook vir ons seën met nuwe goeie leiers, wat weet van regverdigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.
Kom ons bid vir nuwe leiers op alle vlakke van ons land se regering. Kom ons self wees ook in ons eie kring goeie leiers, wat hoë morele standaarde uitleef.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.