Beproewinge kweek karakter


SKRIFLESING: Jakobus 1: 2 – 11

Dit gaan in Jak 1: 2 – 11 oor ysterklippe en veldblomme.

Jakobus gebruik die veldblom om die ryk mens te beskryf. Daarmee bedoel hy die mens wat net voorspoed in sy lewe ken.  Mense wil graag soos veldblomme wees omdat hulle graag deur ander mense aanvaar en bewonder wil word. Hulle wil jonk en mooi bly en deur voorspoed verveel word. Hulle wil altyd gesond bly en sonder moeite kitssukses in alles behaal.

Ja, ons sal graag soos veldblomme wil wees. Kyk net hoe ’n ophef maak mense elke September van die Namakwalandse veldblomme. Ons wil ook so fraai en mooi en bewonderenswaardig wees. Om ryk, om gesond, om mooi, om atleties, om bekend en voorspoedig te wees, is vandag in. Net mense wat soos veldblomme is, haal die voorblaaie van die tydskrifte.

Ag, was ek maar soos ’n veldblom! Maar nou is ek nie ’n veldblom nie, want beproewinge en swaar lê soos duwweltjies oor my pad gesaai. Om elke draai kry ek ’n “puncture”, soos my dogter Unine elke tweede dag gekla het toe sy klein was: “Pa, my fiets se band is pap, ek het alweer oor ’n duwweltjie gery.” Dan moet Roelfie, die tuinman, weer die lekplek regmaak.

Ons kla dikwels ook dat ons pad met duwweltjies, met beproewinge, gesaai is. Daar is die droogte. Ek sukkel om met my geld uit te kom. Ek sukkel om my stukkende huwelik te red. Ek sukkel met my skoolwerk. Ek sukkel met my gesondheid of ek sukkel met ’n familie-probleem.

Maar hoor ’n bietjie wat sê Jakobus 1: 2 – 4: “Beskou dit as ’n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.  Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.”

Jakobus sê dat ons ons daarin moet verheug as ons somtyds ’n bietjie swaar in die lewe kry. Somtyds is dit goed vir my geestelike lewe om deur ’n droogte te gaan, om te sukkel om met my geld deur te kom, om te worstel met ’n siekte of met ’n probleem. Want sodoende word ek gelouter soos ysterklippe deur slae, en deur hitte getemper tot vlekvrye staal.

Die gelowiges wat gelouter word deur beproewinge en swaar is soos die ysterklip. Hoe meer dit geslaan word, hoe meer dit verpoeier word, hoe meer dit aan helse hoë temperature blootgestel word, hoe beter word dit. Die onsuiwerheid kom af. Die slae en hitte gee karakter. Dit word sterker en suiwerder. Uiteindelik word uit die ysterklip vlekvrye staal vervaardig, waarmee byvoorbeeld chirurgiese instrumente vervaardig word om mense se lewens in die teater te red.

Beproewinge en die slae van die lewe maak ons suiwerder, dit breek die onsuiwerhede in ons lewe af, soos in die woorde van Jakobus: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.”

Droogtes, siektes, probleme, finansiële bekommernisse, terugslae, ensovoorts is die aanslae en die hitte wat ons temper en die onsuiwerhede in ons lewe afbreek. Die aanslae en die hitte van die lewe is waardevol as dit my kan leer om van onsuiwerhede, soos ’n haastige mond, ’n vinnige humeur, of geen simpatie met ’n medemens nie, ontslae te raak. Die hitte en die aanslae van die lewe maak my suiwerder, dit leer my om lief te hê, begrip vir ’n ander te hê, sagmoedig en barmhartig te wees.  

Maar hoe moet ek op swaarkry reageer? Jakobus noem twee dinge in die teksgedeelte:

  • Bid
  • Hou aan om die goeie te doen

Ja, ons bid te min. Gebed verander sake, maar gebed verander my ook. Ons bid tog so dikwels verkeerd. Ons bid net dat die Here sake moet verander, maar ons bid nooit dat die Here my moet verander nie. Ons bid ook so twyfelagtig. Ons bid dat die Here vir die arm mense sal kos gee, maar dan wil ons nie ’n verskil maak nie. Ons bid dat die Here ons sondes sal vergewe, maar dan is ons nie bereid om ’n ander sy sondes te vergewe nie. Ons bid vir die Here se Koninkryk, maar dan is ons so teen sending. Ons bid vir reën, maar kan so jaloers wees as ’n ander een reën kry. Ons noem dit “jaloersbuie”! Wie so bid, sê Jakobus, bid twyfelagtig. So een moet nie dink dat die Here sy of haar gebed sal verhoor nie.

Jakobus sê ons moet vir wysheid bid. Bid dat jy in jou beproewinge die dinge sal vra wat werklik tel in die lewe. Bid eerder dat die Here vir jou liewers karakter as rykdom sal gee, want sien, karakter hou langer as rykdom.

Bid dat die Here die aanslae en die hitte in jou lewe sal gebruik om jou suiwerder te maak. Ja, dat die hitte en die aanslae die onsuiwerhede in jou lewe sal afbreek.

Jakobus sê ons moet ook nie onbestendig in ons doen en late wees nie. Daarmee bedoel hy dat ons moet aanhou om die goeie te doen, selfs al word ons getemper deur die hitte en die aanslae van die lewe.

In die boek We’re Going On A Bear Hunt word beskryf hoe die kinderkarakters op ’n avontuur vertrek. Dit is die werklikheid van die lewe, maar dit is soms skrikwekkend waar. Die karakters moet deur lang gras, ’n diep rivier, modder, ’n donker woud, tot in ’n diep grot gaan. Elke keer sê Poppy net:

“Ons kan nie daaroor gaan nie.

Ons kan nie daaronder gaan nie

O NEE!

Ons moet daardeur gaan…”

So lei die Here ons nie óm probleme nie, maar déúr probleme. Die volk Israel is  nie om die woestyn gelei nie, maar eerder deur die woestyn gelei, sodat hulle kan leer dat God die enigste God is en dat hulle in hulle geloofskarakter gevorm kan word.

As jy aanhou perdry, word jy ’n goeie perderuiter. As jy aanhou probeer, sal jy dit regkry. As jy dan ’n stuk vlekvrye staal wil word, moet jy aanhou om goeie dinge te doen. Hou uit as dit brand. Al word jy geslaan, hou jou spiere sterk. Verander jou minusse in plusse. Verander jou tekortkominge tot jou voordeel.

Nee, gebruik eerder die slae en die hitte van die lewe om jou karakter te vorm, om jou suiwerder te maak. Dit het blywende waarde.

Honde-afrigters sal vir jou sê dat hulle nooit vir hulle honde te veel kos gee wanneer hulle opgelei word nie. Die hond moet effens honger wees. U sal dink dis wreed. Maar dit is nie. ’n Effens honger hond doen beter as ’n uitgevrete hond. ’n Effens honger hond vang beter jakkalse en is ’n beter waghond en hardloop vinniger. Hoekom? Want hy het ’n uitdaging!

Beethoven was doof. Tog het hy die mooiste musiek vir ons nagelaat. Helen Keller was doofstom en blind en het tog van die mooiste gedigte geskryf. Arthur Rubenstein was een van die wêreld se grootste klavierspelers. Sy musiekonderwyser het op ’n slag vir hom gesê hy kan vergeet om klavier te speel, sy vingers is te kort.

Jesus Christus is in ’n stal gebore, het in die Nasaret-agterbuurte grootgeword, is verwerp, geslaan, gespoeg en gekruisig. Tog het God Hom uit die dood opgewek, sodat ons ook ystermanne en ystervroue kan wees.

Veldblomme en ysterklippe verskil. Veldblomme het dit maklik en ysterklippe het dit swaar. Tog duur die skoonheid van veldblomme nie lank nie. Skoonheid, geld, voorspoed, status en gesondheid is soos ’n veldblom. Die blomme val af en die prag is daarmee heen. Hollywood-glorie duur nie vir ewig nie. Voorbladpersoonlikhede vervaag gou. Sportsterre verskiet gou.

Is dit nie so dat mense wat alles te maklik in die lewe kry, dikwels maklik uitvaagsels word nie? Hulle ken nie die hitte en die aanslae van die lewe nie.

Daarom moet ons nie kla as daar allerlei beproewinge oor ons kom nie. Ons word gelouter deur die aanslae en hitte van die lewe om suiwer en onberispelik tot volle geestelike rypheid te kom. So kry ons karakter.

In ons beproewinge moet ons bid vir wysheid om die regte dinge te vra en dan ook te bid sonder om te twyfel. Hou aan om die goeie te doen.

Veldblomme is seisoengebonde, maar ysterklippe word vir ewig gelouter.

Dank God vir elke beproewing! Merk op hoe God jou geestelik laat groei tot geestelike rypheid.

Amen  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Delaney, Anthony. Tests Into Treasure.

Wolmarans, Hansie. Ysterklippe en Veldblomme. Departement Grieks. RAU

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s