STINK AFRIKANERS …..


STINK AFRIKANERS …….

Afrikaners is pragtige geharde blomme. Met hulle helder oranjekleur kan hulle enige tuin verfraai. Maar Afrikanerblomme stink. Hulle ruik nie lekker nie.

dscf4778Paulus sê as’t ware in 2 Kor 2: 14 – 17 dat ‘n mens uitwendig mooi kan lyk, maar dat jou siel stink. Jou siel stink as jy in onvrede, bitterheid, kwaadwilligheid, onvergewenshesindheid en in sonde lewe. Die agtergrond van ons gelese gedeelte gaan oor die vraag of jy sonde in jou lewe oorwin het. In die voorafgaande verse word melding gemaak van liefde en vergifnis vir die oortreder. Daarom moedig Paulus ons aan om sonde in ons lewe te oorkom. Dan is ons op ‘n triomftog en versprei ons ‘n aangename geur. Die konteks van die gedeelte gaan oor die Romeinse gebruik om na ‘n oorwinning deur die stad te marsjeer met groot vertoon. Gewoonlik word die vyand met minagting deur die strate aan gejaag. Of die vyand word slawe of hulle word doodgemaak in die openbaar. Met so ‘n triomftog word gewoonlik oor wierook gebrand. Vir die oorwinnaars is dit ‘n aangename reuk. Maar vir die vyand wat verslaan is, is dit ‘n doodsreuk. Hulle verwag die ergste, naamlik die dood. Net so, as die gelowige die sonde in sy of haar lewe oorwin, word ‘n aangename geur versprei vir almal om te ruik. Maar as jy in die sonde volhard, versprei jy ‘n doodsreuk, ‘n stinkende slegte reuk.

In vers 17 word in die heel nuutste Afrikaanse vertaling gepraat van mense wat met die Woord “smous”. Dit beteken om die Evangelie af te water. Dit is soos ‘n mes of swaard wat stomp geword het. Gelowiges kan dikwels die skerp kante van die Evangelie stomp maak. Dit beteken dat die tweesnydende Woord van die Here sy skerp kante verloor en as’t ware nutteloos word. So kan die mens die Woord van die Here so afstomp en verwater. Hoor wat sê Eugene Peterson in The Message: “No–but at least we don’t take God’s Word, water it down, and then take it to the streets to sell it cheap. We stand in Christ’s presence when we speak; God looks us in the face. We get what we say straight from God and say it as honestly as we can.” Dit is die probleem van die post-moderne mens, ons maak die Woord stomp, omdat ons die Evangelie afwater. Dan versprei ons ‘n stinkende onaangename reuk. Alles word as reg en aanvaarbaar voorgehou. Die Evangelie word afgewater as ‘n “ou boek” wat niks meer vandag sê nie. Aborsies word as reg voorgehou. Sondagontheiliging is algemeen. Buitehuwelikse seks is algemeen. Om te steel word regstellende aksie. Kinders mag nie meer pak kry nie. Die doodstraf is afgeskap. Mense se etiese waardes het verwater. Die Here se naam word misbruik as ‘n vloekwoord. Godsdienstige waardes word as outyds voorgehou.Uitwendig is ons soos pragtige Afrikanerblomme, maar inwendig kan ons siele stink van ‘n afgewaterde Evangelie, wat al sy skerpte verloor het.

Eenmaal het die Here Jesus Christus in Joh 13, die stinkende voete van die dissipels gewas. Hy het van stinkende voet na stinkende voet beweeg en elke voet gewas, om die Joodse reinigingswet te onderhou. Eintlik, was dit die simbool dat Jesus aan die kruis ons stinkende harte en lewens sal skoonwas, sodat ons weer welriekend kan ruik.

Ek het êrens gelees dat die gebruik van ‘n bruidsruiker sy ontstaan in die Romeinse Ryk gehad het, maar dat dit in die Middeleeue die gebruik gehad het dat die bruid kan lekker ruik, omdat daar in daardie tyd nie seep en parfuum was nie. So kon die bruid lekker geruik het vir haar bruidegom op hul groot dag. Nie Old Spice of Jóvan se Black Musk, kan ons siele laat lekker ruik nie. Geen bruidsruiker kan ons stink lewe verdryf nie. Die teksgedeelte sê uitdruklik Christus neem ons op ‘n triomftog. Hy verlos ons. Hy laat ons weer welriekend ruik. Wanneer ons die sonde in ons lewe oorwin, dan versprei ons ‘n welriekende geur. Daarom mag ons nie gemaklik in ons eie sonde voortploeter nie. Christus neem ons mee op Sy triomftog. Sommige vetplante se blomme ruik baie sleg, om brommers aan te trek om hulle te bevrug. ‘n Slegte reuk, trek brommer en vlieë vriende, nie egte ware vriende nie. Blomme wat aangenaam ruik, trek skoenlappers aan, wat ware en goeie vriende is. Vers 17, sê ons moet in opregtheid praat en leef, asof dit vanuit God kom. Dit beteken om geen kompromieë te maak nie.

Watse reuk versprei jy? Ruik jy lekker vir jou man of vrou? Ruik jy lekker vir jou gesin of vir jou ouers? Ruik jy lekker vir jou werksmense of kollegas? Versprei jy ‘n aangename geur in Adelaide gemeenskap? Old Spice, Lux of Jóvan se Black Musk gaan jou nie red nie. Dit gaan jou siel, woorde, dade en optrede nie laat lekker ruik nie. Net Christus kan jou vernuwe om totaal nuut en vars te ruik. In Christus is jy ‘n nuwe mens, wat anders en welriekend leef.

By my ouerhuis van jare gelede het daar ‘n katjiepiering struik gestaan, by die voordeur. Op somersnagte het dit die heerlikse geur versprei. Jy kon dit meters van die struik al ruik. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring. So moet ons ook katjiepieringstruike wees wat ‘n welriekende geur versprei, wat op ‘n afstand geruik kan word deur almal rondom jou.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s