KEUSES OP KRUISPAAIE
Rooikappie en die wolf het mekaar oppad by ‘n kruising ontmoet. So is daar ook elke dag kruisings in die lewe, waar die duiwel ons wil uitdaag om die verkeerde keuses te neem. Die duiwel wil altyd vir ons die kortste en die mooiste pad wys. Dit terwyl die pad na die Here lank, kronkelend, smal en uitdagend is. Nie verniet het die oumense ‘n prent gehad van die smal en die breë pad, wat in hulle voorkamers gehang het nie. Op die breë pad is baie mense wat verkeerde sondige keuses neem en op die smal pad is min mense.
Die wolf, dit is nou die duiwel het ‘n leuen aan Rooikappie vertel. So beskryf Joh 8:44 die duiwel as die vader van die leuen. Hy het alreeds heel in die begin vir Eva verlei met die leuen, dat as sy van die vrug sou eet, sy soos God sou wees. As gevolg van die leuen het die hele mensdom in sonde geval. So verlei die duiwel ons om altyd die kortste pad te neem. Richard Foster praat van die drie groot verleidinge, naamlik: “Sex, money and power.” Op die seksuele gebied wil die duiwel ons verlei met ‘n kort pad. Jy hoef nie te wag vir die huwelik nie. Nee, voorhuwelikse seks is in orde. Prostitusie, pornografie en owerspelige verhoudinge is ‘n kort pad na seksuele bevryding, sonder enige verantwoordelikheid. Daarteenoor leer die Here ons dat die huwelik die lang en die regte pad is vir seksuele verhoudinge.
Geld en materiële besitting is ook ‘n groot versoeking om die kort pad te neem. Mense wil vinnig ryk word. Jongmense wil begin, daar waar hul ouers vandag materieël is. Mense verval in die skuldspiraal, om te koop wat hulle nie kan bekostig nie. Die spreukwoord: “Besigheid is mos besigheid.” is die slagspreuk van die sakewêreld.” Korrupsie, diefstal, gewapende roof en transito rooftogte is aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Hebsug en geldgierigheid vreet soos kanker aan ons samelewing. Mense wil die kort pad neem om ryk te word. Die enigste pad na voorspoed is die lang pad van harde werk. Die duiwel wil altyd die kort pad wys.
Mag en aansien is ook ‘n versoeking wat mense die kort pad laat kies. Mense trap op mekaar om die hoogste posisie te beklee. Mense beskinder en smeer ander swart om te kan vorder in die lewe. Ons praat sommer kortweg daarvan as binnepolitiek of kantoorpolitiek. Die lewe is vol politiek tussen mense. In politiek eet hond, hond. Daar is geen genade vir mekaar nie. Die kortste pad is om jou mededinger in ‘n slegte lig te stel. Daarom praat ons ook van jaloesie, wat een van die doodsondes was, van die vroeë kerk.
Die Bybel is deurspek van die wolwe se liegstories. Herodus het noukeurig uitgevra na die Kind Jesus se geboorte en wou gehad het dat hulle vir hom moet kom vertel van die pad na die Jesus Kind, sodat hy Hom kan doodmaak. God het egter die sterrekykers, met ‘n lang pad, ‘n ompad laat terugkeer na hulle land. Die wolf se leuens is gewoonlik ‘n kortpad met blomme besaai. Baie aanloklik word dit voorgestel.
Die houtkapper het die ouma en vir Rooikappie bevry. So het Christus ons bevry en vrygemaak.
Elke dag staan ons voor kruispaaie om keuses te maak, tussen die lang pad en die kort pad. Pasop die week sal jy staan voor kruispaaie. Die wolf wag vir jou. Die wolf is baie oortuigend. Mag die Heilige Gees vir jou die onderskeidingsvermoë gee om te onderskei tussen die kort pad en die lang pad. [Met erkenning aan Daniël Louw vir sy oorspronklike gedagtes uit die boek WOW GOD. Deur my verwerk in ‘n oordenking]
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)
Skerp soos Ek die Godsman leerken het. ‘ n Baie goeie aanknopingspunt om dit met hierdie bekende storielyn te begin dat selfs kinders geboei sal sit en luister tot aan die einde.
LikeLiked by 1 person