SKRIFLESING: Gen 41: 42
Seëls was klein gegraveerde voorwerpe, meestal in die vorm van ‘n ring om afdrukke in klei of was te maak. Seëlafdrukke wys dat die dokument eg is, of dat die dokument nog nie oopgemaak is nie. Op die seël was gewoonlik die eienaar se naam of kop, amp of familiewapen gegraveer.

‘n Seël kon aan ‘n persoon gegee word, om aan hom die mag te gee om die eienaar van die seël te verteenwoordig. So lees ons in Gen 41:42 dat koning Farao aan Josef, wat ‘n slaaf was in Egipte sy seëlring gee as teken dat hy nou die tweede hoogste is in die Egiptiese Ryk en dat hy met die Farao se seëlring namens die Farao kon regeer.
Die Bybel noem twee gevalle waar seëls gebruik is om ingange te verseël. Toe die profeet Daniël in die leeukuil gegooi is, staan daar in Dan 6:18: “Daar is ‘n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. ”
Toe Jesus Christus se liggaam in ‘n graf gesit is, het die Romeine ook Sy graf verseël, sodat die Jode nie kon sê dat Jesus se liggaam gesteel is nie.

Daarom het ‘n seëlring deur die geskiedenis van duisende jare altyd die rol vervul om iets te bevestig as outentiek, eg en oorspronklik. Wanneer ‘n dokument ‘n koninklike seël opgehad het, was dit altyd die finale opdrag van die koning en kan niks daaraan verander word nie.
Daarom het die opstellers van die Heidelbergse Kategismus ook die doop beskryf as ’n seël, dat die Drie Enige God die dopeling aanneem om Sy kind te wees. Jou verlossing word as’t ware verseël. Jesus Christus het werklik vir jou ook gesterf. Daar word verseël dat jy deel het aan al God se beloftes.
Prof Willie Jonker skryf dat dit in die kinderdoop gaan oor God se voorkomende genade wat die dopeling red. Jesus Christus het gesterf vir my erfsonde en ook alle sonde wat ek nog in my lewe sal doen. Dit is nie die dopeling se geloof en bekering wat die oorsaak of grond van die verlossing is nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief sy verlossingsplan met die doop aan die dopeling kom beseël het.

JF en Malan van Heerden word vandag, 8 November 2020 volledige lidmate van die Here se kerk op Adelaide. Hulle doop verseël hulle lidmaatskap. Hulle doop verseël hulle verlossing. JF en Malan, is nou alreeds kinders van God. Eendag op 16 jarige ouderdom sal hulle net die verantwoordelikheid van lidmaatskap aanvaar. Uit genade en slegs deur genade is hulle gered. Dit wil die heilige doop kom verseël.
Deur die doop word ons ook verseël as kinders van Abraham. Ons kry deel van die gemeente van Adelaide. Ons as gemeente ontvang die twee dopelinge as medebroers in die Here. Ons as gemeente het net soos hulle ouers en grootouers die verantwoordelikheid om vir die twee jongelinge die regte pad te wys.
Van die ouers vra God, dat Derick en Liezl die twee jong kleuters van kleins af vir die Here sal groot maak. Dit is ‘n heilige belofte wat hulle voor die Here aflê.
Malan en JF gaan groot word. Hulle gaan leer om te dans. Dan gaan hulle met hulle meisies en later vroue dans. Om te dans moet jy leer.

Verbondsopvoeding is om te leer om in ritme saam met die Drie Enige God te dans. In ritme met die Drie Enige God, beteken om volgens die wil van God te dans. In die doop wat plaasvind ”in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, dans die Drie Enige God met die doopplegtigheid. Die Griekse woord om saam met God te dans is “perichoresis”. Die jongeling moet net leer om soos hulle ouer word ook saam met die Drie Enige God te dans.

Daarom word ‘n lewe saam met Christus, so goed opgesom in die lied van: “The Lord of the dance.” Mag die ook waar wees in die lewe van Malan en JF. Die Drie Enige God gee die melodie en die ritme aan. Malan en JF moet net inval by God se dans.
Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding moet liefde en strengheid wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ‘n kind alles om ‘n suksesvolle grootmenslewe eendag te betree.
‘n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ‘n Kareeboom gelos word, word dit ‘n bos. Wanneer ‘n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ‘n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons, ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ‘n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik veral in die Spreukeboek van die Bybel.
Psalm 1 praat van ‘n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met tuiskategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe groot word. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome groot gemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Dat die jong kindertjies ingelyf word in die geloofsgemeenskap. Daarom moet pa Derick en ma Liezl en die grootouers, Stefaans, Nicolene, Eric en Annelie almal saam die verantwoordelikheid op hulle neem om die twee seuntjies in die weë van die Here groot te maak.
Die Drie Enige God gee die melodie en ritme aan. Leer vir JF en Malan om die melodie van God te hoor en dit ritme van God aan te voel. Dan sal hulle lewe, ‘n dans met God wees.
Dan sal hierdie twee babaseuns, eendag Godsmanne van integriteit en waarheid wees.
Amen.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)