SKRIFLESING: Mat 6: 19 – 21 en Jak 1: 9 – 11
Lank, lank gelede in die tyd toe die Romeine nog geregeer het, was daar ‘n arm man met die naam Simonides. Simonides was ‘n slaaf wat baie swaar gekry het onder sy eienaar. Op ‘n dag besluit hy toe om weg te loop. Hy wou kyk of hy nie iewers anders ‘n beter werk kon kry nie. Hy het agtergekom dat geld nie volop beskikbaar was nie en begin toe om pragtige gedigte en verhale te skryf en dit dan te verkoop.
Met die geld wat hy verdien het, het hy deur die wêreld gereis op soek na nuwe ervaringe. Hy wou hierdie nuwe ervarings gebruik vir sy skryfwerk. Elke dag het hy almeer geleer van mense, van homself en die lewe. Mettertyd het Simonides bekend geraak vir sy skryfwerk.

Maar op ‘n dag besluit Simonides om terug te keer na sy geboorteland. Hy moes op ‘n skip klim om oor die Middellandse See te vaar na die eiland naby Griekeland waar hy grootgeword het. Daar het ook baie ander passasiers saam met hom op die skip geklim. Ook hulle wou huis toe gaan. Hulle het mooi meubels gehad en allerlei ander skatte wat in groot kiste gepak was. Terwyl hulle gereed maak om op die skip te klim, vra een van die ander mense vir Simonides: “Simonides, waar is jou besittings? Het jy dan niks wat jy gaan saamneem huis toe nie?” Simonides het geantwoord: “Alles wat ek besit, dra ek in myself. Ek het niks anders nie.”
Terwyl hulle oor die see vaar, bars ‘n groot storm los. Die golwe was so groot dat die skip omgeslaan en vergaan het. Baie mense het verdrink met hulle skatte en al. Ander weer het die eiland gehaal, terwyl hulle al hul skatte verloor het in die see.
Simonides het die eiland gehaal, so ryk soos altyd, want sien sy rykdom was “binne” hom. Simonides het gou bekend geraak by die inwoners van die eiland en die hoof van die eiland het vir hom gesorg, want hy het gehou van die wyshede van Simonides. Sy mededrenkelinge het toe besef wat Simonides bedoel het toe hy hesê het. Dat hy sy rykdom binne hom dra.
Die verhaal van Simonides herinner ons aan die woorde wat die Here Jesus Christus gesê het in Mat 6: 19 – 21 dat ons nie skatte moet bymekaar maak op die aarde nie, maar in die hemel.

Dit is nou eenmaal so dat mense vir hulle skatte bymekaar maak. Mense is nou eenmaal soos ‘n kraai, wat alles begeer wat blink. Hierdie goed blink so, dat ons blind raak vir God en ons medemens. Ons word kraaie wat alles in ons nes indra en dink dat dit ons vreugde sal verskaf in die lewe.
Natuurlik is dit nie verkeerd om goed te besit nie, want dit is gawes uit die hand van die Here. Wanneer dit my egter so blind maak dat ek God en my medemens nie meer raaksien nie, dan word dit ‘n “god” in my lewe. Mense steel, en moor en baklei en begeer soos seerowers net om meer skatte bymekaar te maak. Johannes Calvyn sê dat die mens se hart soos ‘n fabriek is wat gedurig afgode vervaardig.
Eerstens sê die Here dat mense wie skatte op aarde bymekaar maak se klere sal deur motte opgevreet word. Wanneer vreet motte aan klere? Wanneer dit nie gebruik word nie. Jesus sê eintlik as daar klere in jou kas is wat jy nie gebruik nie, is dit slimmer om dit vir die armes te gee as vir die motte.
Wat die Here vir jou gee, gebruik dit met vreugde. Wat jy nie gebruik nie, gee dit weg vir die armes sodat hulle vreugde daaruit kry. Waarom die verkwisting? Ook jy sal vreugde daaruit put!

Die tweede beeld wat Jesus gebruik is die van geld wat roes. In die tyd van die Bybel was daar nog nie banke nie en die muntstukke was van ‘n swak kwaliteit wat maklik geroes het. Wanneer Jesus die woord “bymekaarmaak” gebruik, beteken dit letterlik om die geld “plat neer te sit”. En wanneer iets plat neergesit word, beteken dit dat ons dit wegpak, dat ons dit nie gou weer wil gebruik nie. As ons iets regop in ‘n kas sit, beteken dit dat ons dit enige tyd weer gaan gebruik.
Geld is ook ‘n gawe uit die hand van die Here. Maar dit moet gebruik word om te lewe, om my oudag te verseker, om my kinders te laat leer, om die armes te help

Geld mag nooit ‘n status-simbool word nie. Geld is daar om gebruik te word. Ek kan spaar, maar dan spaar ek om my oudag te verseker of om my kinders te laat leer, nie om vir my status of sekuriteit of troos te skep nie.
Want sien my enigste ware rykdom is, om Christus in my hart te hê. Hy is my enigste troos en sekuriteit. Ek kan alles verloor dan is ek nog steeds skatryk, want ek het Christus in my hart.
Ware rykdom is die kuns om te kan weggee. Ware rykdom is om liefde, deernis, tyd en goed te kan deel met ander. Daarom sê die Here Jesus Christus, om te gee, maak my gelukkiger as om te ontvang.
Vir die kinders in die gemeente. Wanneer ek met my verjaarsdag twee van dieselfde speelgoed ontvang. Bêre ek die een ingeval die ander breek. Nee, ek gee dit vir iemand wat glad nie ‘n speelding het nie.

Waar jou skat is, sal ook jou hart wees. As my aardse skatte vir my kosbaar is, sal ek moeilik sterf, sal ek moeilik hierdie aarde kan verlaat. Maar as my aardse goed slegs gawes, gebruikersartikels is, sal ek maklik kan sterf, want ek kan my maklik van hierdie goed losmaak, want ek weet my eintlike skat is die Here Jesus Christus.
Dit is waar wat die spreukwoord sê: “’n Doodskleed het geen sakke nie.”
Alles wat ek ontvang, kom uit die hand van God. Gebruik dit, geniet dit, maar moenie ‘n slaaf daarvan word nie. Leer om weg te gee, want deur weg te gee, word jy ryk in jou karakter. Deur weg te gee, ervaar jy die vreugde van te gee.
Hoe vang ‘n mens ‘n aap of ’n bobbejaan? Jy plaas vrugte in ’n ysterhouer met ‘n nou opening. Die bobbejaan plaas sy hand in die houer om die vrug te vat. Wanneer sy hand die vrugte toevou, is sy hand te groot om uit te kom. Wanneer jy hom skrikmaak is hy te gierig om die vrugte te los en sit hy vas in die ysterhouer. So maak die duiwel van ons bobbejane. Ons val in die valstrik van materialisme.
Nee, maak jou hand oop, maak jou hart oop, ook vir ander mense en jy sal lewe.
Christus Jesus is my enigste ware skat. Ek sal alles prysgee, solank ek net sy troos, sy teenwoordigheid en sy vrede in my lewe kan ervaar. Dan is ek ook gereed om hierdie teenswoordige wêreld te verlaat.
Jesus Christus het gesê: “ Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Waar is jou hart?
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)