SKRIFLESING: Luk 2: 1 – 7
“Stille nag, heilige nag” is seker die mees geliefde Kersgesang, die een waarvan die meeste mense die meeste hou. Dit maak Kersfees sprokiesmooi en idillies. Jy kan weggevoer word na wonderskone Kersfeestonele.
Maar Betlehem was op Kersnag alles behalwe “stil”. Betlehem was oorvol mense, wat gekom het vir die sensus, wat deur keiser Augustus uitgevaardig is. Almal het na Bethlehem gestroom om getel en opgeskryf te word. Een van die doelwitte van die sensus was onder andere om te bereken wie almal deur die Romeinse owerheid belas moes word. Natuurlik was daar ook Romeinse soldate om die orde te handhaaf. Die dorp Betlehem was so vol dat daar nie plek was waar Josef en Maria kon oornag nie. Hulle was aangewese op ’n stal wat iemand aangebied het as skuiling.
Betlehem was daardie nag waarskynlik rumoerig vanweë al die mense en diere wat daar oornag het. Die mense het vir seker tot laatnag gekuier, want baie mense het hulle families weer ontmoet, want families het gegaan om opgeskryf te word. Op die dak van elke huis het die mense gekuier en, soos ons weet, klank trek baie ver.
Waarskynlik het die mans politiek gepraat en mekaar opgesweep oor die sensus en die belasting wat hulle aan die Romeinse owerheid moes betaal. Die vrouens het lekker saamgekuier en die kinders het die strate op horings geneem. Betlehem was besig en oorvol mense.
Dit was beslis geen “stille nag” nie. Die kontras is dat Kersfees afspeel in die harde werklikhede van die lewe. Dit speel af in die tyd van keiser Augustus van die Romeinse Ryk, wat die Jode erg verdruk het. Christus se geboorte speel direk af midde-in die politiek van die dag.
Jesus se geboorte is geen sprokie of stuk romantiek nie. Dit is eerder goeie nuus vir ’n stukkende wêreld.
Deesdae is Kersfees ook nie juis ’n stil tyd van die jaar nie. Winkelsentrums loop oor van mense. Mense verdring mekaar by die strande en vakansieoorde. Almal jaag om nog iets te reël of te koop vir Kersdag. Die paaie is baie besig, soos mense jaag na hulle Kersfeesbestemmings. Maar dit is juis vir ’n rumoerige tyd soos hierdie, waarvoor Christus gebore is.
Al is die lewe lawaaierig en gejaagd, bring Kersfees vreugde en vrede vir ons gemoed. “Stille nag, heilige nag” verwys nie na letterlike stilte nie, dit is eerder ’n geestelike, emosionele stilte en vrede wat alle verstand ten bowe gaan. Ons kan inderdaad “Stille nag, heilige nag” sing, want Christus se geboorte gee vir ons stilte van gemoed en vrede.

Die adventskrans wat ons so vrolik ophang in die weke voor Kersfees, sou spoedig ’n doringkrans word. Die geboorte loop uit op die kruis. As ons Kersfees vier, moet ons ook die kruis wat kom, onthou. Die adventskrans moes spoedig verwelk om plek te maak vir die doringkrans.
Die Betlehemster moes later plek maak vir die drie ure duisternis. Ons kan nie Kersfees vier sonder om ook die kruis in die oog te hê nie. Kersfees word vervul in die kruisiging en die opstanding van ons Heiland en Heer. Met ons een hand vat ons aan Kersdag en met ons ander hand vat ons aan Paasnaweek. Die een kan die ander een nie los nie.
Die Here Jesus is die groot Smous van Jerusalem, wat al ons sonde, trane, swaarkry en probleme vir ons verruil het vir sondevergifnis, genade, genesing en gebedsverhoring wanneer ons probleme ervaar.
Walter Wangerin (Jnr) vertel hierdie baie besondere storie. Hy noem die storie Ragman. Ds. Attie Nel van die NG Kerk Waverley het dit mooi vertaal en ek haal hom bykans letterlik aan. (In Engels beteken Ragman “a person who gathers or deals in rags”. Dit gaan oor die Lapsmous). Ek gaan die storie wat hy vertel, vertel soos hy dit vertel. Asof dit met my gebeur het.
“Een Vrydagoggend, voor dagbreek, het ek ʼn jong man gewaar wat in die strate in ons stad rondgeloop het. Die jong man was aantreklik en sterk. Hy het ʼn ou trollie met nuwe klere agter hom aangetrek. In ʼn duidelike en helder stem het hy geroep: “Lappe, lappe! Gee my jou verslete, vuil en ou lap en ek sal vir jou ʼn nuwe een gee. Lappe! Lappe!”
Hierdie was vir my ʼn wonderlike ding. Hierdie jong man was ʼn rapsie oor die twee meter lank met fris, gespierde arms en intelligente oë. Kan hy geen ander werk kry as om Lapsmous in die middestad te wees nie?
Ek kon nie anders nie, ek moes hom volg. Ek was net te nuuskierig. Op ʼn veilige afstand het ek al agter hom aangestap.

Nie lank nie, toe sien die Lapsmous ʼn vrou op haar stoep sit. Met ʼn sakdoek voor haar gesig het sy gesit en bitterlik gehuil. Die hartseer van duisend trane. Die oomblik toe hy haar sien, het die Lapsmous sy trollie gestop. In stilte het hy nader gestap na die vrou toe.
“Gee vir my jou lap,” sê hy met besondere teerheid vir haar, “ek sal vir jou ʼn ander een gee.”
Saggies het hy die sakdoek weggetrek van haar oë af. Sy het opgekyk, en hy het in haar hand ʼn ander stukkie lap neergesit. Helder skoon en nuut. Haar oë het beweeg tussen geskenk en gewer.
En toe, toe die Lapsmous weer begin om sy trollie te trek, het die vreemdste ding gebeur. Hy het die trane-gevlekte-sakdoek na sy eie gesig toe gebring; en toe begin hy huil. Hy huil met dieselfde hartseer as wat die vrou gehuil het by wie hy die sakdoek gevat het. Sy skouers het geruk. Ek het na haar gekyk. Haar gesig was skoon. Geen teken van hartseer nie. Geen traan meer in haar oë nie.
“Hierdie is ʼn wonderlike ding,” het ek vir myself gesê. Ek het die snikkende Lapsmous gevolg soos ʼn kind wat nie kan wegdraai of wegkyk van die grootste misterie wat hy nog ooit gesien het nie.
“Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!”
Nie lank hierna nie, toe die dag begin breek, het die Lapsmous by ʼn jong meisie gekom wie se kop met ʼn verband verbind was. Haar oë was leeg. Bloed het deur die verband om haar kop gesyfer. ʼn Enkele straaltjie bloed het teen haar wang afgeloop.
Die Lapsmous het met besondere deernis na die jong meisie gekyk. Hy het die mooiste geel hoedjie uit sy trollie uitgehaal.
“Gee vir my jou lap,” het hy vir haar gesê, “en ek sal vir jou myne gee.”
Die jong meisie kon net na hom kyk terwyl hy die verband losmaak, dit afhaal, en dit om sy eie kop vasmaak. Die vrolike geel hoedjie het hy op haar kop gesit. Ek kon nie glo wat gebeur nie. Saam met die verband het ook die wond gegaan! Die wond was nou op sy kop. Die vlek op die verband was helderder. Dit was sy eie bloed wat deur die verband gesyfer het.
“Lappe! Lappe! Ek vat jou ou lappe!” het die man geroep.
Die son het al hoog gesit en het warm op my gebak. Die Lapsmous het al hoe haastiger geraak.
“Gaan jy werk toe?” het hy vir ʼn man gevra wat teen ʼn lamppaal gelê het. Die man het sy kop geskud.
“Is jy gek?” het die man gevra. Hy het weggestaan van die paal af. Die regtermou van sy baadjie was leeg. Hy het nie ʼn arm nie.
“So,” sê die Lapsmous, “gee vir my jou baadjie, dan gee ek vir jou myne.” Sagte, dog duidelike, gesag in sy stem.
Die man met die een arm het sy baadjie uitgetrek. So ook die Lapsmous – ek het gebewe toe ek sien wat gebeur. Die Lapsmous se arm het in sy mou gebly. Toe die ander man sy baadjie aantrek, het hy twee gesonde arms. Maar die Lapsmous het net een.
“Gaan werk toe,” het hy vir die man gesê.
Hierna kom hy by die plaaslike dronkie wat langs die bottelstoor sy roes lê en afslaap. Hy het vir hom skoon, nuwe klere gelos. Daarna ʼn ou man wat krom getrek is deur die siekte, wat onder ʼn kombers sit. Hy het die ou man ʼn nuwe kombers gegee en die ou man se kombers om homself gevou. Skielik het hy soos ʼn siek man gelyk.
Hierna moes ek byna hardloop om by die Lapsmous te bly. Alhoewel hy onbeheersd gehuil het, en sy kop vryelik gebloei het terwyl hy sy trollie met net een arm trek en aanstrompel in sy dronkenskap, terwyl hy weer en weer neerval, het hy uitgeput, oud en siek dog steeds teen ʼn besondere spoed beweeg. Op maer bene het hy voortgestrompel tot hy by die buitewyke van die stad gekom het.
Ek het gehuil oor die verandering wat ek in die man gesien het. Ek het seergekry om sy hartseer te beleef. Tog moes ek te alle koste sien waarheen hy teen so ʼn spoed op pad was. Dalk wou ek weet wat dit was wat hom so voortgedryf het.
Die klein ou Lapsmousmannetjie het by die plaaslike vullishoop gekom. Ek wou hom help met wat hy doen, maar ek het myself ingehou. Ek het weggekruip. Hy het teen ʼn opdraande uitgeklim. Met erge moeite het hy ʼn plekkie skoon gemaak. Toe het hy gesug. Hy het gaan lê. Met die sakdoek en die baadjie het hy vir homself ʼn kussing gemaak. Hy het sy bene met ʼn ou kombers toegemaak. En so het hy gesterf.
Hoe het ek nie gehuil toe ek hom sien sterf nie. Alles binne-in my het in daardie oomblik so leeg gevoel. Stilte, doodse stilte. Ek het in ʼn ou verslete kar daar op die vullishoop skuiling gevind en gehuil soos iemand sonder enige hoop. Want ek het die Lapsmous liefgekry. Elke ander gesig het verdof wanneer ek aan die Lapsmous gedink het. Ek het myself aan die slaap gehuil.
Sonder dat ek dit besef het, het ek dwarsdeur daardie Vrydag en die Vrydagnag en die Saterdag en die Saterdagnag geslaap. Maar Sondagoggend was daar skielik ʼn geweldige gebeurtenis wat my wakker gemaak het.
Lig, spierwit, helder lig het op my gesig geskyn. Ek het my oë geknip en gekyk en ek het die eerste en laaste en grootste wonder van alles gesien. Daar was die Lapsmous. Hy het die kombers baie versigtig opgevou. Op sy voorkop was daar ʼn litteken. Maar hy het gelewe. Hy het nie net gelewe nie, hy was ook gesond. Daar was geen teken van hartseer, ouderdom en pyn nie. Al die lappe wat hy so bymekaar gemaak het, was helder skoon.
Toe het ek my kop laat sak. Al bewend na alles wat ek gesien en beleef het, het ek nader gestap na die Lapsmous toe. Met skaamte het ek my naam vir hom gesê. In vergelyking met hom was ek ʼn bejammerenswaardige figuurtjie. Toe het ek net daar al my klere uitgetrek en met groot verlange in my stem vir hom gesê: “Trek my aan!”
En Lapsmous het my aangetrek. Hy het vir my spierwit nuwe klere aangetrek. En nou is ek ʼn wonder langs Hom. Die Lapsmous! Die Lapsmous! Die Christus, die Seun van God. My Here en my God.
En in die stilte diep binne-in my het ek die stem gehoor wat ek so graag wou hoor: “Jy is gereinig. Jy is nou myne.”
Die Lapsmous is op Kersfees in Betlehem gebore om die sonde van die wêreld weg te neem. Hy sou nuwe lappe smous vir die ou lappe van sonde, gebrokenheid en die hartseer van die wêreld.
Daarin lê ons diepste stilte van gemoed en vrede.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS
Walter Wangerin (Jnr). Ragman.
Attie Nel. Die Lapman.