HOE LYK JOU STILTETYD?
Mark 1: 32 – 38 en Dan 6: 4 – 11
Wat sal gebeur as twee vriende nie meer met mekaar praat nie. Ja, die vriendskap sal tot niet gaan. Net so sal my verhouding met die Here skade lei as ek nie meer met Hom praat nie.
Die Here wil hê ons moet elke dag met Hom praat deur gebed en Hy wil weer met ons praat deur Sy Woord. Hierdie tyd wat ons elke dag moet maak Om met die Here te gesels, noem ons, ons stiltetyd met die Here. Ons moet die stilte opsoek om met die Here te praat. Baiekeer beleef ons so min van die lewende Jesus in ons lewe, omdat ons so min met Hom praat. Ons is eenvoudig net te lui om tyd te maak om met Hom te praat. Ja, ons lees ons Bybel, maar net so nou en dan. Verder stel ons altyd uit om te bid. Nee, so moet dit nie wees nie.
Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper in beitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte gewees om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.
In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ‘n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig wat maar gewone mense is nie. Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is. Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 -34 hoe Hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het Hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.
‘n Gelowige moet dus baie gereeld wees in sy stiltetyd. Soos ‘n atleet en ‘n sokkerspeler gereeld moet oefen om fiks te bly, so moet ‘n gelowige ook gereeld sy stiltetyd hou sodat hy geestelik fiks kan bly. Ek het eenmaal die Bybel gesien van ‘n sekere Christenvrou wat in verskeie oorsese lande sendingwerk gedoen het. Sy was maar drie jaar lank ‘n Christen maar sy het in daardie drie jaar haar Bybel stukkend gelees. Baie kere lyk ons Bybels nog soos nuwe Bybels.
Ek sluit af met die volgende: “Gebed verander sake, maar dit verander my ook.” Ja, as ons bid en ons gebed val binne die wil van God dan sal God sake verander. Maar gebed verander my ook. As ek van my knieë opstaan nadat ek gebid het, dan moet ek mos anders opstaan. My bekommernis moet plek maak vir vertroue. My twyfel verander in geloof. My jaloesie en haat verander in liefde. Wil jy baie naby aan die Here leef? Dan moet jy gereeld elke dag met Hom praat. God wil graag weet hoe dit met jou gaan. Hy wil ook graag vir jou die regte pad aanwys uit sy Woord.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)