WIE IS MY NAASTE?
Teks: Lukas 10: 25 – 37 en Mattheus 25: 35 – 46
Die kerk is dood! Die kerk se hart het gaan staan. Die kerk het nie meer ‘n hart vir sy medemens nie. Kerklidmate gee nie meer om vir hulle medemens nie. Daarom die boodskap vandag uit Lukas 10: ‘n WARE CHRISTEN GEE OM VIR SY MEDEMENS.
In Lukas 10 lees ek vanoggend van ‘n man wat in ‘n groot nood is. Hy is beroof daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo. Maar elke dag is daar ook mense wat in die nood is op jou en my lewenspad. Miskien die eensame bejaarde, of die weduwee in haar diep smart, of weeskinders of die mens in ‘n groot krisis.
Maar gelukkig, gemeente! Kyk wie kom aangestap? Sowaar ‘n priester en Leviet, sowaar twee kerkmense. Wat ‘n verligting! Want kerkmense is mos veronderstel om hulp te verleen aan diegene wat in nood verkeer. Ja, van kerkmense verwag ‘n mens hulp… Hulle sê mos….. Hulle bely mos so pragtig…… “Ek het die Here lief met my hele hart en my medemense soos myself.” Die kerkmense sing sulke pragtige Gesange! U moet met my saamstem, die arme man daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo was gelukkig. Juis in sy grootste krisis, juis toe stap daar twee kerkmense verby. Daar word baie van die kerk verwag. Maar toe gebeur daar ‘n groot teleurstelling: Die priester en Leviet stap verby. Die kerk stap verby. Die kerk is afwesig in die nood van die wêreld. Die Christen is afwesig in die nood van sy medemens. Sien u vandag, waarom die kerk sterf. Die kerk se hart het gaan staan vir sy medemens. Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.
Gelukkig verskyn daar ‘n Samaritaan op dit toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ‘n Jood en die man ‘n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ‘n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ‘n 20 c in ‘n hoed nie. Baie keer gee ons so ‘n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak.
Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ‘n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar Gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ‘n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.
In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel die en in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ‘n kerkhof in Europa staan ‘n besondere Christusbeeld. ‘n Christusbeeld sonder arms. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus; God vra nie: “Hoe lief het jy my nie?” God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.
Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ‘n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ‘n Christen word nie.” ‘n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ‘n wonderlike Christus. Die Samaritaan met hoofletters het toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)