Gee en ontvang


GEE EN ONTVANG

Teks: Handelinge: 4 :32 – 37; 11: 27 – 30 en 20:33 – 35

In Israel is daar twee groot mere, naamlik die See van Galilea en die Dooie See. Die See van Galilea is ‘n pragtige meer met helder blou water en ‘n ryk vislewe. Die landskap rondom die see is pragtig groen en die voëltjies maak nes in die bome daar rondom. Die See van Galilea lewe omdat dit water ontvang van die Palestynse hoogland en die water dan ook dadelik weer weggee. Die water wat die meer instroom, vloei ook weer uit. Die water wat die meer ontvang, gee hy ook weer weg.

kaart BybelDie Dooie See is soos sy naam ook sê, ‘n dooie meer. Die water is sout en dood. Daar leef niks in die water en ook nie rondom die meer nie. Daar is geen bome, plante, voëls of visse nie. Alles is dood. Die rede hiervoor is dat die Dooie See net water ontvang, maar niks weggee nie. Die Dooie See ontvang water van die See van Galle, maar daar is geen uitloop nie. Die Dooie See hou alles net selfsugtig vir homself.

In vandag se preek gaan dit om GEE en ONTVANG.

Iemand wat bereid is om dit wat hy ontvang het, ook te Gee aan ander, sal wees soos die See van Galilea. Iemand wat egter alles net selfsugtig vir homself hou, sal ook doodgaan soos die Dooie See. Hierdie waarheid sien ons ook vandag in ons gelese gedeeltes raak. Kom ons kyk eers na die agtergrond van die vroeë Christene in Handelinge: Hulle het baie swaar gekry. Daar was baie armes onder hulle. Verder is hulle vervolg deur keiser Nero en Domitianus. Nero en Domitianus het hulle vir die leeus gegooi of hulle met pik besmeer en dan aan die brand gesteek. Verder was daar ook ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld wat deur Agabus voorspel is. Die vroeë Christene het dus baie swaar gekry. ‘n Mens sal wonder hoe die eerste Christene in sulke omstandighede opgetree het teenoor hulle mede-gelowiges wat in nood was.

In Handelinge 4: 32 – 37 lees ons hoedat hulle alles met mekaar gedeel het. Hulle het voorsien in die boer of suster van hulle se nood. Hulle het gegee aan die wat in nood was. In Handelinge 11: 27 – 30 lees ons hoedat die eerste Christene geld gegee het vir ‘n noodfonds om diegene wat getref was deur die hongersnood en droogte in Judea by te staan. Hulle het as’t ware hulle harte en beursies oopgemaak vir hulle medegelowiges. In Handelinge 20: 33 – 35 lees ons hoedat Paulus sê dat hy sy medegelowiges gedien het, deur met sy twee hande te werk. Dan haal Paulus so pragtig vir Jesus aan in vers 35: “Om te gee vir ander maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Ons sien dus dat die eerste Christene soos die See van Galilea was. Alles wat hulle ontvang het, het hulle ook weer gegee aan ander. Daarom was hulle ‘n lewendige kerk gewees. Die Here wil hê dat ons ons hande, tyd, geld, dienste, hulp, ons alles tot beskikking van ons medemens moet stel. Ons moet eerder geld gee, as om te wil ontvang. Ons moet eerder troos, as om vertroos te wil word. Ons moet eerder dien, as om bedien te wil word. Ons moet eerder hulp gee, as dat hulp aan ons gegee word. Ons moet eerder gee, as om te wil ontvang. Onthou die woorde van die Here Jesus : “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Stilstaande water word vrot en ondrinkbaar. Dit ontvang net water, maar gee nie water weg nie. Dit is soos die Dooie See. So is mense wat net wil ontvang maar niks wil gee vir ander nie. Vloeiende water is helder, dit lewe en is drinkbaar. Dit ontvang water, maar gee ook water weg. Dit is soos die See van Galilea. So is mense wat eerder gee as om te ontvang. Daarom mag ons ook nooit die genade en die Evangelie wat ons ontvang het, net vir onsself hou nie. Ons moet dit ook GEE na ander. Is jy soos die See van Galilea wat eerder gee as om te ontvang, of soos die Dooie See wat net wil ontvang en niks wil gee nie. Mag jy soos die See van Galilea wees.

Onthou die woorde van die Here Jesus: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s