Hoe lyk God se hande?

SKRIFLESING:  Psalm 31

Karl Barth het by geleentheid vir ’n aantal melaatses gepreek. Melaatses se hande word dikwels vervorm om eerder soos kloue te lyk.

Karl Barth begin toe sy preek met die vraag of God hande het. Dan antwoord Barth dat God wel hande het en wel ook gans anders, veel beter en behendiger, sterker hande as hierdie kloue van ons.

Ons is nou wel nie melaats nie, tog verander die sonde ons hande dikwels in kloue. Met ons kloue baklei ons, en met ons kloue gryp ons. Met ons kloue klou ons aan ons aardse goed vas. Ons kloue is nie oop om te deel nie.

Hoe vang ’n mens ’n aap? Jy plaas ’n ysterpot met ’n smal opening buite. Jy prop ’n klomp vrugte en lekkernye binne die pot. Dan wag jy. Die ape sal naderkom. Totdat een sy hand insteek in die pot. Hy gryp dan na die kos, maar omdat sy hand nou in ’n klou gevorm is, kan hy nie sy hand uitkry nie. Hy is so gierig, hy los nie die kos nie. Al klouende aan sy kos met sy klou, kan jy nou die aap vang. So vang die sonde ons ook. Sonde maak van ons hande kloue.

God se hande is die hande van ons Heiland Jesus Christus wat gesê het: “ Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”. Die Here het kindertjies geseën met Sy hande. Die Here het siekes aangeraak met Sy hande en hulle genees. Hy het die brood en vis geneem met Sy hande en dit vermeerder. Sy hande is vermink aan die kruis vir ons sondes.

Die Here se hande is soos vaderhande, wat sterk is. Die Here se hande is soos moederhande, was sag, teer en moederlik is. Die Here se hande is soos vriendehande, altyd getrou en behulpsaam.

Die Here het gesê dat niemand ons sal uitruk uit Sy hand nie. Luister wat skryf Rom 8: 38 – 39 in die volgende woorde: “Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” So veilig is ons in die hande van die Here.

In hierdie Godshande is ek geborge, opgetel en is ek gered.

Die vraag is egter: Leef ek in God se hande of probeer ek met my kloue vir my ’n paadjie oopbaklei in die lewe? Miskien is ons grootste probleem dat ons nie in oorgawe in God se hande leef nie.

Die Psalmdigter Dawid het in Psalm 31 baie bedreigd gevoel. Waarskynlik druk hy sy emosies hier uit op die tydstip toe koning Saul hom agtervolg het met sy hele weermag om hom dood te maak. Dit het hom emosioneel en fisiek afgetakel. Hy beskryf in die Psalm dat hy in die nood is, dat sy oë swak geword het, hy is vol verdriet en kommer. Hy kry swaar en sy kragte is geknak. Sy liggaam teer uit en hy het die spot van sy teenstaanders en bure geword. Dawid beskryf dat hy so goed as dood is en mense span saam om sy lewe te neem.

Dawid skryf in vers 6 dat hy die uitkoms van sy lewe in God se hande plaas: In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God.”

Dawid beleef moeilike tye, swaar tye, maar hy gee hierdie tye oor in God se hande. In vers 15 – 16 (a) staan daar: “Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God, my tye is in u hand’.”

Die tye van 2022 met die nadraai van Covid, asook die Russiese inval van Ukraïne het die hele wêreld op hol. Die aanval op ’n kernaanleg in Ukraïne, laat ons almal vrees vir ’n kernoorlog. Blykbaar stop niks vir Vladimir Putin nie. As China en Noord-Korea toetree tot die oorlog, het ons ’n volskaalse wêreldoorlog. Suid-Afrika se neutrale posisie is ook kommerwekkend, sou ons Rusland ondersteun. Ons kan hierdie uiters kommerwekkende wêreldsituasie net in God se hande plaas.

Die bitter en die soet van 2022 kan ons maar net in God se hande plaas. Is 2022 in jou kloue of is dit in God se hande?

Ortodokse Joodse gesinne bid elke dag: “In U hande gee ek my lewe oor.” Daar is opgeteken dat van die bekendste gelowiges deur die loop van eeue se laaste woorde was: “In U hande gee ek my lewe oor.” Policarpus, Johannes Huss, Melanchton en Martin Luther onder andere het so gebid, terwyl hulle besig was om te sterf.

Wil u nie ook elke dag u tye, u lewe in die hand van die Here plaas nie? Wat is saliger as om eendag op jou sterfbed te bid: “Here in u hande gee ek my lewe oor.”

Wanneer jy in 2022 bang is, dink daaraan: Dieselfde hand wat oneindige miljoene melkwegstelsels gemaak het en vashou, hou jou vas. Die hand wat ons planeet in ons melkwegstelsel geplaas het as ’n spikkeltjie tussen miljoene sterre, hou jou vas. Dieselfde hande wat die ragfyn vlerkies van ’n vlieg en die helderkleurige voëls gemaak het, hou jou vas.

Luther het ’n soortgelyke getuienis gelewer toe hy gesê het: “Ek het baie dinge in my hande gehou, en ek het dit alles verloor; maar alles wat ek in God se hande gegee het, dit besit ek nog.”1

Ons paar uurtjies hier op die aarde is in God se hande!

Ek kan maar aan God vashou, want God hou aan my vas.

Kinders soek die versorgende hande, die vertroostende hande van hulle ouers. Hande wat optel, vertroos, speel, koester en omgee. Netso word ons vasgehou deur Vaderhande wat ons optel, vertroos, koester en vir ons omgee. In bitter en soet tye.

Vader, my tye is in U hande! In U hande gee ek my lewe oor. In U hande gee ek ook 2022 oor.                                   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VERWYSING

  1. Anoniem. Die beste preekillustrasies: Meer as 2000 stories in een (bl. 998). AAA SMARTWORLD. Kindle uitgawe.

Woestynervarings is verrykende ervarings.

SKRIFLESING:  Eks 16: 1 – 18

Die woord “woestyn” wek by die meeste mense ’n negatiewe konnotasie op. Dit word geassosieer met sand, min water, min kos, sonsteek, verdwaling, lugspieëlings en uiteindelik die dood.

Ons lees hoe die volk Israel hier in Eksodus 16 letterlik deur ’n woestyn gaan, met al die gepaardgaande ontberings.

Figuurlik gesproke gaan ons elkeen van tyd tot tyd deur ’n “woestyn” – die woestyn van persoonlike krisisse. ’n Woestyn kan wees: ’n siekbed, dood van ’n geliefde, bekommernis oor ’n kind, droogte, finansiële probleme, werkloosheid of emosionele probleme. Hierdie dinge kan vir ’n mens soos ’n “woestyn” voel.

Die gevaar is nou natuurlik dat ’n mens net negatiewe konnotasies aan ’n woestyn toedig. In Eksodus word die woestyntyd van Israel as ’n baie besondere tyd, trouens ’n ideale tyd in die geskiedenis van Israel beskou. By terugskoue sou dit altyd blyk dat daar min tye in die geskiedenis van Israel was dat dit, geestelik beskou, so goed gegaan het met die volk as juis tydens die jare in die woestyn. Waarskynlik was dit, meer as enige ander tyd, die stadium waarin die Here en sy volk werklik na aan mekaar was.

Gelowiges wat deur diep krisisse gegaan het, stem gewoonlik saam dat hulle “woestyne” besondere tye was in hulle verhouding met God.

Baie gelowiges in die Bybel het hulle letterlik in ’n woestyn bevind. Dink aan Elia en Johannes die Doper. En dan natuurlik ook die Here Jesus Christus met Sy versoekinge in die woestyn vir 40 dae. So het “woestyne” met verloop van tyd simbool geword vir die moeilike tye in die lewens van gelowiges.

Eksodus 16 wil vir ons leer: Woestyntye is verrykende ervarings.

Die Sinai-woestyn het Israel letterlik van alles gestroop. Hulle is gestroop van hul huise, hul wingerde, hul tuine, hul veetroppe en hul geliefdes (’n hele geslag het in die woestyn omgekom.) Hulle het nomadies geword – hulle het net-net oorleef.

Elke krisis stroop ’n mens ook van selfvertroue, of besittings, van sekuriteit en soms ook van geliefdes. In ’n krisis het jy minder van iets oor as voor die krisis.

Maar ’n woestyn maak jou ook broos, afhanklik en naak. In die woestyn is jou sekerhede en waarborge tot die absolute minimum beperk. Alles word onseker. In ’n woestynsituasie sien ’n mens jou weerloosheid, menslike swakheid en verganklikheid helder voor die oë.

Jou maskers en jou bravade val heeltemal weg. Jou uiterlike beeld waaroor ’n mens tog so bekommerd is, val weg, sodat net die egte mens na vore kom. ’n Mens kan dus sê ’n woestyn stroop ’n mens van jou “image” en maskers. In ’n woestynsituasie word ’n mens rondgeslinger tussen hoop en wanhoop – ’n regte wipplank van emosies.  Dit maak jou huilerig, bekommerd, angstig en depressief. ’n Mens kan dus sê dat ’n woestynsituasie jou stroop van lewensgeluk.

’n Woestynsituasie stroop jou van alles wat jy besit, van jou maskers en van jou lewensgeluk. Dit laat my dink aan die herfs in die natuur. In die herfs word die bome gestroop van hulle groen blaredos – sodat uiteindelik net die kaal takke oorbly.

Moet ons nie ook bid:

Soos ’n boom in die winterkoue gestroop word van sy blare, wil u my nie ook stroop van my valse ydelheid, my hoogmoed, my “image” en my maskers, nie, sodat ek net nakend, broos en afhanklik kan oorbly, soos die takke van ’n boom in die winterkoue.

’n Mens leer die heel beste deur ervarings. Israel het ook deur ervaring daar in die woestyn geleer om met ’n nuwe toewyding aan God te leef.

Hulle het God se versorging ervaar in die bitter water wat soet geword het, in die daaglikse kwartels en manna en in die wolk- en vuurkolom.  Hulle het God se stem ook ervaar.

Ons kan so rondjaag in die gewoel van hierdie wêreld, dat ons niks meer kan hoor nie. Ons het bang geraak vir stiltes. Ons skakel liewer die radio of televisie aan. Maar die woestyn is net ’n plek van stilte – sodat ’n mens gedwing word om ’n slag weer na die stem van God te luister.

Die woestyn kan ’n harde plek wees, maar ook ’n wonderlike plek van ongelooflike eenvoud en skoonheid en stilte. Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer.

Maar die heel beste van die woestyn – so het Israel ontdek – was God. Dit was die heel grootste verrassing. In die woestyn het Israel nie net hulleself beter leer ken nie, dit was die plek waar hulle ook die Here op ’n nuwe manier leer ken het. Daar het hulle ervaar dat God veral ook in die woestyn by hulle is. Daar het hulle ontdek dat God nie net ’n God is wat beweer dat Hy die onmoontlike kan doen nie.  In die woestyn het die volk Hom dit síén doen. In die woestyn het Israel die Here op ’n nuwe, dieper manier leer ken.

Wonderlik bevrydend is dit as ’n mens God in jou lyding leer ken.

Deur die eeue het Christene gevra of woestyne regtig nodig is? Hoekom moet daar woestyne wees? Is dit nodig dat ons deur al hierdie swaarkry iets moet leer? Sou ons nie ook daarsonder iets kon leer nie?

Ons het reeds gesê dat ’n mens eers in die woestyn jou dieper, werklike self leer ken – in jou swakheid, jou broosheid en afhanklikheid. Dit is sekerlik nie maklik om jouself so te leer ken nie, maar dit is nog altyd twintig keer beter as die verskriklike moontlikheid om oud te word en dood te gaan, sonder om jouself te leer ken soos jy werklik is.

Maar veel belangriker is die feit dat ’n mens ook vir God in die woestyn op ’n nuwe manier leer ken. Die waarheid is dat daar kante van God is wat ’n mens net in die woestyn kan leer ken. Dat Hy regtig kan troos, regtig kan sorg, regtig liefhet en kan voed en verkwik – dit leer ’n mens net as jy nood ken en dit regtig gesien het.

Ons sou kon sê dat die Here vir Israel in die woestyn eintlik ’n tweede keer vrygemaak het. Na die vlug uit Egipte en die wonderbaarlike verlossing by die Rietsee, was Israel vry van die gevare wat van buite gedreig het. Maar dit was in die woestyn waar die Here begin het om hulle ook van binne vry te maak: vry van hulleself, vry om regtig in God te glo en Hom te vertrou met hulle lewens.

Mag ons in ons “woestyne” van ons krisisse gestroop word, sodat ons God kan ontdek en vir Hom kan begin leef.

God gebruik “woestyne” in die lewens van Sy kinders. In Hosea 2 lees ons hoedat God sy volk in die woestyn die hof maak, en mooi dinge vir hulle sê, omdat God hulle liefhet.

Leer iets daaruit! Haal iets positiefs daaruit.

Ons het dus gesien dat die woestyn twee pluspunte het: Dit is ’n plek van stroping en ’n oefenskool vir nuwe toewyding aan God.

Mag dit ook u ervaring wees.                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Maak vrede met die bure.

SKRIFLESING:  1 Kor 13

Dr Johan Pienaar skryf die volgende.

Hy vertel dat net buite die ingang van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park daar in die veld ’n klein en baie ou begraafplaas is. Hy het die begraafplaas besoek en op twee interessante grafstene langs mekaar afgekom. Een is van ’n Johan (gebore 1911) en langs hom lê Valerie (gebore 1910). Lees ’n mens verder, staan op albei grafstene: “Deur ’n weerligstraal gedood op Mount Aux Sources op 18 Desember 1932”. Beide was in hulle twintigs en is deur dieselfde weerligstraal doodgeslaan.

Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet …. so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.

Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke – of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.

So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer.  Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.

Daar word vertel van die man wat geantwoord het op ’n vraag of hy en sy vrou soms baklei: “Soms sê ek ’n woord waarvan my vrou nie hou nie, of my vrou sê  of doen iets waarvan ek nie hou nie; maar as ons begin stry, skud ons hande, maak die deur toe en gaan bid. So word vrede weer herstel.” Dit is kosbare raad om te volg.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente.  Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was.   Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b  “ …. maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.

Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Ons elkeen het ’n boekie van die kwaad waarin ons alles in ons geheue neerskryf wat ander mense teen ons doen. Die Here begin elke dag met ’n skoon bladsy vir ons. Maar ons boekie van die kwaad vir ander mense word elke dag dikker.

1 Kor 13:7 lees: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” Die liefde bedek alles. Jy gooi die sondes van ander mense toe, soos wat jy ’n doekie gooi oor vuil skottelgoed wat jy eers later wil was. Die liefde het geloof in ander mense se potensiaal om te verbeter. Jy skryf nie mense af nie. Die liefde het hoop dat mense kan verbeter. Die liefde verduur alles, met ander woorde is verdraagsaam met ander se foute, wetende dat jyself ook baie foute het.

Slegte verhoudinge met bure, familie of ander mense tap jou energie. Jy kan nie jou potensiaal bereik as daar ’n klomp negatiewe energie in jou sit nie. Jy tob dan oor die negatiewe, in plaas van die positiewe te bedink. Slegte verhoudinge bring spanning in jou lewe en is swak vir jou gesondheid. Slegte verhoudinge versuur jou lewe en geluk.

Daarom is verGIFnis so belangrik in die liefde. As jy nie ’n lewe van verGIFnis kan lewe nie, gaan die gif jou doodmaak. Dit is so goed jy bind ’n lyk aan jou vas (die mens wat jy nie kan vergewe nie), en sterf later van lyksiektes.

In verse 8 – 9 word beskryf dat alles sal verbygaan, maar die liefde sal ewig staan. Profesieë, tale en kennis sal verbygaan. Dit is verganklik. Die liefde staan vir ewig.

In vers 11 beskryf Paulus dat toe hy ’n kind was, hy nog op ’n kinderagtige manier met mense omgegaan het. Ons almal weet hoe wreed kinders kan wees op die speelgrond. Maar nou is Paulus volwasse. Hy is klaar met dié dinge, die kinderagtigheid van liefdeloosheid.  Hy is nou volwasse in die liefde. Die vraag vanmôre is: is ons nog kinderagtig in die liefde of openbaar ons volwassenheid in die liefde?

Vers 12 sê ons staar nog in ’n “geheimenisvolle beeld, soos in ’n spieël”. Antieke spieëls was van gepoleerde metaal, maar die spieëlbeeld wat hulle gereflekteer het, was nooit heeltemal helder nie.1 Ons verstaan nie die lewe met al die goed wat konflik gee nie. Somtyds weet ons ook nie of ons of die ander party reg is nie. Maar eendag sal ons weet. Daarom moet ons nou vrede najaag, want ons ken nie ten volle nie. Ons ken nie die volle storie nie. Ons verstaan nie die ander party ten volle nie. Daarom is liefde die enigste oplossing om konflik op te los.

1 Kor 13: 13 sluit af met: “En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie –  maar die grootste hiervan is die liefde.” Al is jy ’n geloofsreus, wat elke Sondag in die kerk sit … of al is jy die mees positiewe, hoopvolle mens wat ander inspireer … , maar jy het nie liefde nie, is jy NIKS. Die liefde is die belangrikste.

Die vraag vanmôre met die Nagmaal is, met watter buurman, of familielid of mens in die gemeenskap moet jy dinge gaan regmaak?

Onthou die twee grafte by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park. Moenie dat dit te laat word nie.                                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VERWYSINGS

  1.  Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3843). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Van pitte na springmielies.

SKRIFLESING:  2 Kor 5: 11 – 21

’n Jakkals verander van hare, maar nie van snare nie. Mense laat staan nie sommer hulle sondige gewoontes nie. Mense verander nie maklik nie. Hulle leer nie maklik verkeerde gewoontes af nie. Vir kinders moet ’n mens tot vervelens toe sê om die regte ding te doen en die verkeerde te laat staan en dan doen hulle nog steeds die verkeerde.

Die Bybel en die Gereformeerde Leer sê dat die mens so verdorwe is, dat daar nie eers in die mens die moontlikheid bestaan om ten goede te verander nie. Daar bestaan nie eers ’n vonkie in die mens om te verander nie. Net Christus Jesus kan my verander. Ja, die Heilige Gees werk deur die Woord om mense se lewens te verander.

Kom ek verduidelik dit vir julle aan die hand van springmielies. Neem ’n bietjie ’n mieliepit in jou hand. Ons kan so ’n bietjie met die kêreltjie gesels. Sê vir die mieliepit dat hy moet verander en sagter en eetbaar word. Byt ’n bietjie die mieliepit. Hoe smaak hy? Vir my smaak hy nie juis na iets nie. Hy is maar redelik hard en oneetbaar. ’n Mens kan moontlik selfs jou tande op hom breek. Soos hierdie mieliepit, so is die mens in wie se lewe die Here Jesus nog nie is nie. Die Bybel sê so ’n mens is ’n ou mens. Sy lewe is smaakloos en hard soos hierdie pit. So ’n mens hou daarvan om sonde te doen. So ’n mens baklei nog, is ongehoorsaam aan die Here en doen allerhande lelike dinge.

Maar wat gebeur as ek nou vir hierdie mieliepit hitte gee? Ja, hy spring en word ’n springmielie. Nou is hy wit, sag en eetbaar. Die mieliepit het van gedaante verander. Net so werk die Heilige Gees deur die Woord om ook ons lewe te verander en nuwe mense te word. Ons word ook nuut en sag en aangenaam vir die wêreld. Ja, mielies word springmielies, as gevolg van die hitte. Ja, ou sondige mense word nuwe mense deur die liefde van die Here Jesus Christus. Luister wat staan in 2 Kor 5: 17 – “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.” Met ander woorde soos mieliepitte “pop” en springmielies word, so word ons deur die Gees in Jesus Christus nuut gemaak.

Sonder die hitte kan die mielies nie verander nie. Net so kan die mens nie verander sonder die kragtige werking van die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees werk deur die Woord om ons lewens te verander.

Somtyds bly daar aangebrande pitte in die pot agter. Hoe smaak daardie pitte? Ja, hulle is nog steeds hard en smaak baie bitter. So kan daar ook in die kerk onbekeerde mense wees wat elke Sondag onder die geklank van die Here se Woord sit, maar nooit verander nie. Hoekom verander hulle nie? Omdat God nog nie in hulle hart gewerk het nie. Daarom moet ons bid dat die Here ons almal se harte sal verander om aan hom gehoorsaam te wees.

Ons kan nie ons eie lewe verander nie, ook kan ons nie ’n ander een se lewe verander nie. Maar ons kan bid dat die Here dit sal doen deur die werking van Sy Gees en Sy woord.

Is jy vandag nog ’n klipharde pit, dalk al selfs aangebrand, bid dat die Heilige Gees jou lewe mag verander deur Sy Woord. Daar was in die vroeër eeue ’n man met die naam Augustinus. Hy het ’n wilde en roekelose lewe gelei. Hy was soos ’n klipharde mieliepit. Maar sy moeder Monica het gereeld vir haar seun Augustinus gebid. Toe op ’n dag, “spring” Augustinus deur die genade van die Here en hy verander in ’n springmielie, in ’n Christen. Hy en sy buite-egtelike seun word op dieselfde dag gedoop. Hy word een van die grootste kerkvaders van alle tye.

Kom ons bid vir mekaar, soos Monica vir haar seun Augustinus gebid het. Ons bid gedurig vir goed wat God vir ons moet gee of moet doen. Die belangrikste is om te bid dat die Here ons harte mag aanraak en ons harte mag sag maak soos springmielies. Dat ons so sal verander in ons gedrag dat ons aangenaam vir mekaar sal smaak.

As u vanoggend daardie oortuiging het dat die Heilige Gees u alreeds laat “spring” het, dank God daarvoor. Dit beteken die Here het die bekering en die wedergeboorte in jou hart laat plaasvind. Dit is God wat jou gekies het uit genade om ’n nuwe mens te word. Jy is ’n voorwerp van die Here se ontferming.

’n Mieliepit kan nie sonder hitte spring nie. ’n Mens kan ook nie uit homself verander nie. Die Dordtse Leerreëls sê dit is vir die mens onmoontlik om uit homself te verander. Ek verander alleen maar na ’n nuwe mens danksy die genadige verkiesing van die Here. Omdat die Here my in Sy genade kom aanraak het, kan ek verander en ’n nuwe mens word. Marelize, net die Here kan jou verander. Jouself kan jy nie verander nie. ’n Mens kan jouself verbeter, maar net die Here kan jou verander. Wat ’n wonderlike wete is dit nie.

Is jy ’n aangebrande mieliepit of ’n springmielie?

Is jy ’n ou mens of ’n nuwe mens?

As jy ’n aangebrande ou mens is, bid dat die Here jou sal verander! As jy reeds ’n nuwe mens is, dank God dat Hy jou laat “spring” het na Hom toe. Jy is ’n nuwe mens omdat God jou verander het. 

Marelize, jy verklaar vanoggend dat jy nie maar net ’n mieliepit is nie, maar een wat “gespring” het. Jy bely vanoggend dat die Here Jesus in jou gewerk het om  van jou ’n nuwe mens te maak. Jy verklaar dat jy antwoord op die Here se doopbelofte jare gelede toe jy ’n babatjie was. Deur die jare het pa Eli en ma Melissa en jou grootouers jou van die Here geleer. Toe jy gedoop is, het jy ’n lidmaat van die kerk geword. Nou, 17 jaar later, aanvaar jy verantwoordelikheid om ’n getroue lidmaat van die kerk te wees.

’n Persoon wat “in Christus geheilig” is, is soos die waterspinnekop, wat ’n baie eienaardige insek is. Die waterspinnekop woon op die bodem van modderige poele en het die kenmerkende krag om na die oppervlak van die poel op te klim en homself daar met ’n klein borreltjie lug te omring.

So omhul deur lug, sak dit af na die slyk en modder en oorlewe daar totdat die lug opgebruik is. Dan styg dit weer na die oppervlak en die proses word herhaal. Diegene wat “geheilig is in Christus” vind dus geestelike verjonging in daaglikse Bybellees en Christelike gemeenskap, onbesmet en ongebonde deur die vyandige omgewing rondom hulle.

Marelize, mag jy ook elke dag geestelike verjonging ervaar in jou Bybelstudie, Bybel lees en bid. Ons word ouer in ons liggame. Die enigste plek waar ons kan verjong is in ons geestelike lewe. Iemand wat in Christus is, is geestelik jonk en veerkragtig. Versorg elke dag jou geestelike lewe.

Net soos jy gedissiplineerd is met jou perdry, net so moet jy getrou wees in jou daaglikse wandel met die Here.

Marelize, mag die Here vir jou die pad gelyk maak. Mag jy die seën van die Here ervaar op jou lewenspad. AMEN

(Die beeld van die springmielies het ek by iemand raak gelees.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

In ’n chaotiese wêreld roep die Here ons om te volhard.

SKRIFLESING:  Mat 24: 1 – 14

Wie is in beheer van hierdie wêreld – God of Satan? Dit lyk so dikwels of God beheer verloor het oor Sy skepping – so asof God ’n afwesige God geword het.

Ja, asof hierdie skepping van God soos ’n wekker besig is om af te wen. Eens op ’n tyd het God die skepping goed en mooi gemaak, as’t ware die skepping opgewen. Maar nou ….. nou is die skepping besig om af te wen, soos ’n wekker (volgens die Leer van Deïsme).

Want Gemeente, hoe later, hoe kwater. Tereg vergelyk die kerkvader Augustinus dan ook die menslike wil met ’n perd, wat reageer op die ruiter wat hom stuur. Dan vra Augustinus, is God die ruiter van hierdie wêreld of is Satan die ruiter?

Maar meer persoonlik, is God in beheer van u lewe, is Hy die ruiter van u lewe? Of is Satan in beheer van u lewe, is hy die ruiter van u lewe? Wanneer God die ruiter van u lewe is, dan stuur Hy u op die regte pad. Maar wanneer Satan die ruiter is, dan stuur hy u altyd waar daar geen pad is nie. Hy dwing ’n mens in die klowe in, daar waar geen pad is nie. Ja, hy spoor u aan tot koppigheid en strydlustigheid.

Voel u vandag bevrees in 2022? Dit lyk asof Satan die ruiter is van hierdie wêreld se geskiedenis. Dan is die boodskap: IN ’N CHAOTIESE WêRELD ROEP DIE HERE ONS OM TE VOLHARD.

Ons gaan vanmôre na drie sake kyk:

  • Chaos rondom die kerk
  • Chaos teen die kerk
  • Chaos in die kerk

Kom ons kyk na die eerste saak, naamlik chaos rondom die kerk. Ons lees daarvan in verse 6 en 7. Vandag lewe ons in ’n samelewing van geweld, seksuele losbandigheid, materialisme, en magsmisbruik. Verder tref siektes en finansiële asook ekologiese rampe die mensdom. Ons lees elke dag op NETWERK24 van transito-rooftogte, moorde op boere, moorde in die samelewing, bendegeweld, korrupsie, gewapende rooftogte en diefstal, verkragtings, droogtes, oorstromings, inflasie en soveel meer. Hier op ons dorp het ons in die onlangse verlede ’n poskantoor-roof en ’n OTM-rooftog gehad. Covid-19 het die hele wêreld in ’n ramptoestand gedompel.

In verse 9 en 10 is geskryf van die chaos wat teen die kerk, teen die etiek van die kerk, geloods word. Mense word so selfstandig, dat hulle God nie meer nodig het nie. Daarom word die kerk afgemaak as outyds en verkramp as die kerk sy stem dik maak oor sake soos aborsie, pornografie, prostitusie, dobbelary en ander etiese sake. Christene en kerke word al meer op die kantlyn geplaas.

In verse 4 en 5 staan daar dat daar baie dwaalleraars chaos binne-in die kerk sal skep. En Gemeente, chaos in die kerk is wanneer die suiwer Evangelie verduister word deur allerhande slim praatjies van mense. Wanneer die suiwer Evangelie verlaat word, ter wille  van dwalings. Vandag is daar die dwaling dat Jesus Christus nie ’n maagdelike geboorte gehad het nie. Daar is die dwaling dat Jesus nie regtig uit die dood opgestaan het nie. Daar is die dwaling wat die Bybel as die Woord van God ontken. Dwaallering kan ook wees wanneer die algenoegsame verdienste van Jesus Christus verloën word en daar verkondig word dat die mens ook ’n aandeel in sy verlossing het. Hierdie dwaalleraars skep verwarring en ’n gees van twyfel onder gelowiges. So word die ware Evangelie verkrag – so word die chaos binne-in die kerk ingedra.

Maar nou kan u vra, ons praat so van chaos rondom die kerk en chaos teen die kerk en van chaos in die kerk. Maar wat is nou die troosboodskap? Wat kan vrede in my gemoed bring?

Dan staan daar in vers 8: “Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne.” Op Golgota het Christus die Satan, die slang, nek omgedraai. Het u al gesien wat gebeur as ’n slang onthoof word? Die oomblik wat hy onthoof word, is hy onmiddellik dood, maar tog gaan die laaste doodsroggeling voort. Heen en weer swaai die lyf en eers na ’n lang ruk kom die hele lyf tot stilstand. Geliefdes, dit is presies wat met Satan gebeur het. Op Golgota is Satan onthoof, ja, gedood. Hierdie laaste tye voor die Wederkoms, is Satan in sy laaste doodsroggeling. Terwyl hy heen en weer beweeg in sy doodsroggeling, skep Satan chaos in hierdie wêreld. Maar gemeente, die groot vreugde is natuurlik dat Satan klaar oorwin is, hy is klaar dood. Dit is net die laaste doodsnikke, wat hy met sy stert uitvoer. Satan is soos ’n afkop-hoender wat rondhardloop. Jy sien net vere en bloed.

Gemeente, alle pyn voorspel die dood, behalwe geboortepyn wat die enigste pyn is wat nuwe lewe voorspel. Die baie seer van die lewe is soos geboortepyne. Dit wil sê: Satan is oorwin, Christus het gesterf, maar het opgestaan en Hy kom weer om alles nuut te maak.

Daarom moet ons volhard tot die einde.

’n Treinbrug is altyd fassinerend. ’n Treinbrug staan vir baie jare; elke dag kom swaar lokomotiewe, met hul swaar-gelaaide waens en beweeg oor die brug. Elke dag hou die brug, dit hou, dit hou, keer op keer. Dit, Geliefdes, is volharding. Wanneer die aanslae van die lewe kom, die pyn, die seer van die chaos in hierdie wêreld, maar ook in my persoonlike lewe, dan moet ons volhard in geloof, liefde en hoop.

Wat beteken dit om te volhard in die geloof? Ek gaan ’n beeld gebruik: ’n Man is besig om oor ’n vasgeysde meer  te kruip. Soos wat hy kruip, tok-tok hy met sy kierie. Te bang die ys gaan hom nie ondersteun nie. Skielik hoor hy ’n vreeslike geraas. Toe hy omkyk, sien hy ’n span van twaalf perde met ’n wa in volle galop oor die ysmeer aangegalop kom. Die man hou die perde in toe hy by die kruipende figuurtjie verbykom. Die kruipende man vra: “Is jy nie bang nie?” “Nee, wat – ek weet uit ervaring van baie winters hierdie ys sal my dra.” Geliefdes, om te volhard in die geloof is om te spring en te weet jou hemelse Vader sal jou vang.

Om te volhard in liefde is om altyd die “eie ek” te kruisig. Om altyd die minste te wees. Liefde wil altyd orde in chaos skep. Dit roep ons op om 1 Kor 13 uit te leef.

Om te volhard in die hoop is om te weet die Wederkoms is op hande. Kyk, die vyeboom se takke begin sag word, die somer is hier – die wederkoms is op hande. Vir die Here is een dag soos ’n duisend jaar. Satan is soos ’n afkop-hoender, hy is klaar oorwin. Die chaos van hierdie lewe is maar net die doodsroggeling van Satan. Dit is soos die geboortepyne vir ’n vrou – ’n pyn tot die lewe.

Daarom moet ons volhard in geloof, liefde en hoop. Genadiglik skenk God ons deur Sy Gees die genade om te volhard tot die einde.

Daar is iets hartseers in die verhaal van die skip Francis, van New Bedford, Massachusetts, wat aan die New Jersey-kus gesink het. Die skip het ’n  goeie voorspoedige reis van vier maande gehad, en die kaptein en bemanning was hoopvol om die aangename reis binne ’n dag of twee af te sluit. Die skip het toe skielik, binne sig van die land, en amper in sig van die hawe,  aan die brand geslaan as gevolg van ’n menslike nalatigheid en beide die skip en die vrag is vernietig. Die bemanning het slegs met hul lewens ontsnap. Dit is hartseer om te sink in die sig van die hawe. Daar is baie sulke wrakke van die morele en geestelike soort – manne en vroue wat eerbare loopbane gevolg het, maar wat hulle getuigskrif van ’n goeie karakter verbeur deur een of ander hartseer verval in sonde wanneer hulle amper in die sig van die hawe van “ouderdom” is. Die middeljariges en die oues, sowel as die jonges, moet waaksaam wees. Dit is die een wat volhard tot die einde toe wat beloon sal word.

God is die ruiter in die saal. God is in beheer – Hy is geen afwesige God nie. Wanneer u bevrees is vir die chaotiese kragte wat u lewe bedreig, weet dan God is in die saal. In Sy hand is ’n oorwinnaarskroon. Christus het klaar oorwin, daarom kan ons maar ontspanne volhard tot die einde.               AMEN   

(Sommige van die preek se verdelings het ek gekry by Dr Tienie Strydom wat ‘n groot mentor in my lewe gewees het.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Elke mens het ’n roeping en lewensdoel.

SKRIFLESING:  Jeremia 1: 4 – 10

Elke mens is geskape met ’n lewensdoel. Ongelukkig ontdek die meeste mense nooit in hulle lewe hul lewensdoel nie. Mense ontken, soos Moses en Jeremia,  die vermoëns waarmee God hulle geskape het. Hulle soek verskonings om nie hulle roeping en lewensdoel uit te leef nie. Moses se verskoning toe die Here hom geroep het, was dat hy hakkel. Jeremia se verskoning toe die Here hom geroep het, was dat hy te jonk is om saam met die oudstes by die stadspoort te sit en dat hy nie kan praat nie. Maar voor ons geboorte, toe ons nog in die baarmoeder was, het God vir ons al elkeen ’n unieke genetiese samestelling, vermoëns en talente gegee. Dit alles het die Here vir ons gegee om ons lewensdoel en roeping te kan uitleef.

So het die Here ook met die profeet Jeremia gedoen. In Jeremia 1:  4 – 5 staan daar: “Die woord van die Here het tot my gekom: ‘Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het  uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.”Die Here het vir Jeremia ses elemente gegee om te profeteer oor Israel, naamlik die elemente van breek, uitroei, vernietig, platslaan, bou en vestig.

Die boek Jeremia handel oor God se worsteling met die ongehoorsaamheid van die volk en van Jerusalem. Jeremia profeteer daar sal ’n tyd wees van breek, uitroei, vernietig en platslaan. Daar sal ook ’n tyd van herstel en genade wees, daarom word geprofeteer: bou en vestig. Dit is min of meer die opsomming van Jeremia se roeping wat hy toe wel met oorgawe en passie uitgeleef het. Jeremia word daarom ook beskryf as een van die  groot profete van die Ou Testament.

Dit was nie vir Jeremia maklik om die oordeel oor die volk te profeteer nie. Daarom was sy verskoning dat hy te jonk is en nie kan praat nie. Hy moes dapperheid aan die dag lê om die werk as profeet aan te pak. Dit is soos in die tyd van die ontdekkingsreise as ’n skip die veilige hawe verlaat en die ontdekkingsreisiger op ’n vreemde, nuwe roete gaan en nie weet waarnatoe dit gaan lei nie.

Almal het nie noodwendig ’n geestelike roeping nie. Daar is ook die mens gerigte roepings soos dié van dokter, onderwyser, maatskaplike werker of verpleegster.  Dit kan waarskynlik ook in jou geval ’n sekulêre roeping wees soos dié van ’n sakeman, ’n boer, ’n  kunstenaar, ’n klerk of sekretaresse.  Onthou: alles onder die son, wat binne Sy wil is, behoort aan die Here. Daarom is al bogenoemde en ander beroepe ’n spesifieke roeping vir mense met spesifieke talente en vaardighede wat die Here al van moederskoot in hulle gevorm het.

Ek het die geestelike roeping van die Here ontvang om predikant te word. Hierdie roeping het ek al van Sub B (Graad 2) gehad. Deur die jare het dit al sterker geword, en uitgeloop op ’n sewejarige opleiding in die teologie. Nou, na 30 jaar in die bediening, is my roeping nog sterker as toe ek begin het as predikant. Maar so het ’n boer ook ’n roeping om met die veld, die diere of die besproeiingsgrond te werk. Sy roeping is nie minderwaardig teenoor dié van die predikant nie.

Geestelike en sekulêre beroepe  is alles heilig voor God. Die Here gebruik alle beroepe om Sy Koninkryk te bou. Daarom is jou roeping heilig.

Ons is dikwels soos Jeremia in ’n gemaksone, met ’n klomp verskonings waarom ons nie ons roeping en lewensdoel uitleef nie. Ons elkeen is van ons moederskoot bestem om in ’n rigting te ontwikkel waar ons lewensin en betekenis kan vind.

Jy kan ook deur ’n stokperdjie of gemeenskapsbetrokkenheid ’n roeping uitleef. Daar is so baie dinge wat vir mense vreugde gee. Onthou iets wat vreugde bring, is ’n roeping. As dit nie vir jou vreugde bring nie, moet jy dit los. Wat vreugde bring, bring lewensin.

Iemand het geskryf: “The meaning of life is to give life meaning.” Daarom moet ons die dinge aanpak wat vir ons vreugde gee in die lewe. Dit is ons roeping.

Dalk het jy ’n liefhebbery of stokperdjie, soos skilder, krale ryg, tapisseries maak of houtsneewerk, wat vir jou ’n vreugde is. Dalk het jy ’n sterk gemeenskapsbetrokkenheid, waar jy die roeping het om die geluk van die gemeenskap te bevorder. Dalk is jou vreugde om te dien op die ACVV, dalk help jy met die ouetehuis, of dien jy op die kerkraad of boerevereniging. Dalk dien jy op ’n munisipale raad of is jy betrokke by die dierebeskerming-organisasie. Dalk het jy die roeping om die dorp skoon te maak en te verfraai. Dalk is jou roeping om meer bome te plant. Doen wat vreugde vir jou verskaf, want die Here het dit al in jou moederskoot vir jou vasgelê, sê ons teks.

Daar is iemand wat al my preke en ook ons KLOKTORING proeflees. Sy gebruik haar talente tot voordeel van die gemeente en tot eer van God. Dít is haar roeping in ons gemeente. So help sy God se Koninkryk bevorder.

’n Roeping maak altyd ’n verskil in die wêreld. Net so het Jeremia se roeping ’n verskil gemaak in die geloofslewe van Israel.

Selfs in die moeilikste omstandighede kan jy jou roeping uitleef. In die Auschwitz konsentrasiekamp, beskryf Victor Frankl, het sekere gevangenes gedroom van ’n lewensdoel vir wanneer die oorlog verby is en hulle vrygelaat gaan word. Feitlik almal van hulle het oorleef. Die wat hulself oorgegee het aan sinloosheid en hooploosheid het feitlik almal in die konsentrasiekamp gesterf. Jou roeping of jou lewensdoel moet jou dryf, selfs wanneer dit met jou swaar gaan.

Die gevoel dat jou lewe betekenisvol vir jou gesin, familie en vir ander mense is, verskaf die grootste vreugde.  Daarom moet jou roeping en lewensdoel altyd wees om ander mense te dien. Of jy winkelrakke pak, of ’n skoonmaker is, of ’n onderwyser of ’n dokter is, jy dien ander mense. Dít is lewensvreugde.

Jeremia het betekenisvol geprofeteer en met sy roeping Israel se geskiedenis bepaal. Hy het ook troos gebring. Mag ons ook ons roeping en lewensdoel uitleef soos Jeremia. Dan kan ons tot seën wees vir baie.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

My familie-lewe moet ’n tuin wees.

SKRIFLESING:  Spreuke 15: 17, Spreuke 21: 9 en Hooglied 4: 12 – 5:1

Die Here het, om die eensaamheid van die mens weg te neem, die mens in verhoudinge geplaas. Heel eerste het Hy die huwelik tussen man en vrou georden. Hy het vir hulle kinders gegee en so is die huwelik, gesin en familie geskep. Dit is dan ook jou mees primêre verhoudings. Maar vir verhoudinge om te slaag, moet daaraan tyd spandeer word. Daarom is tydsbestuur van jou lewe en verhoudinge so belangrik. 

Tydsbestuur bly die meeste van ons se probleem. Daar word vertel van die dosent wat op ’n dag vir sy klas studente ’n demonstrasie wou gee oor tydsbestuur. Hy het ’n groot glasfles geneem en dit eers vol groot klippe gepak. Hy vra toe vir die klas of die fles versadig is. Tot hulle verbasing, gooi hy daarna ’n klomp gruis in en skud die fles. Daarna gooi hy nog fyn sand by en skud die fles en laastens gooi hy ook nog water in. Alles pas mooi in die fles.

Toe hy dieselfde inhoud van klippe, gruis, sand en water gebruik en die eksperiment omkeer en eers die water, toe die sand, toe die gruis en laastens die klippe inpak, toe pas amper die helfte van dieselfde inhoud nie in die fles nie. Net so, verklaar die dosent, moet ’n mens altyd in jou lewe begin met die groot klippe, die belangrikste prioriteite in jou lewe, en dan sal daar nog plek wees vir die alledaagse nietighede. Hierdie illustrasie wil vir ons kom sê dat ons huwelike, ons gesinne, ons familie die eerste en hoogste prioriteit in ons lewe moet wees. As ons huwelikslewe en ons gesinne en families gelukkig is, sal ons die vreugde ervaar om met oorgawe ook al ons ander pligte en verantwoordelikhede na te kom.

Maar wie sy lewe verspil op nietighede, mis die groot belangrike prioriteite in sy lewe. As ’n mens die Bybel goed bestudeer, kom ’n mens agter dat verhoudinge vir die Here baie belangrik is. Jou verhoudinge met God, met jou lewensmaat, kinders, jou familie, jou vriende en met die mense op jou pad, is vir God van kardinale belang. (In hierdie volgorde.)

Mense wat ’n vol, vervulde huweliks- en gesinslewe gelewe het, sterf baie makliker en mooier as mense wat hulself nog op hulle sterfbed kwalik neem omdat hulle hul lewensdae gemors het op nietighede. Daarom leer die Here Jesus vir ons om na die lewe te kyk vanuit die perspektief van die dood. Eers as jy jou verganklikheid besef en erken, kan jy leer om vreugdevol en sinvol verhoudings te bou. ’n Vervulde lewe is ’n lewe van goeie verhoudinge, van gesonde huwelike, gesinne en families.

Die huwelik, gesin en familie behoort altyd die veilige hawe en tuiste te wees, waar ’n persoon kan voel hy of sy is geborge en veilig.

Die duiwel is altyd daarop uit om verdeeldheid te skep in huwelike, gesinne, families en tussen vriende. Daarom is daar soveel gebrokenheid in hierdie wêreld. Die duiwel loop soos ’n brullende leeu rond om verhoudings te verskeur.

Daarom moet ’n mens na die Here toe vlug met jou huwelik, gesin en familie. Die Here wil die Beskermheer wees van jou huweliks- en gesinslewe. Maar dan moet ons binne die wil en wet van die Here leef.

Spreuke 15: 17 lees dat ’n mens nie rykdom moet najaag nie, maar eerder goeie verhoudinge: “ ’n Porsie groente met liefde daarby is beter as ’n vetgevoerde beesmet haat daarby”. Die najaag van rykdom waarborg nie goeie verhoudinge nie.

In verhoudinge moet jy die gawes van die Gees beoefen, onder andere die gees van sagmoedigheid en vredeliewendheid, want hoor wat sê koning Salomo in Spreuke 21: 9 – “Om op die hoek van ’n dak te woon,is beter as om ’n huis te deel met ’n bakleierige vrou.”

Die heiligheid van die huwelik word beskryf in Hooglied 4: 12, naamlik: “My beminde bruid is ’n tuin wat toegemaak is, ’n tuin met ’n muur om, ’n fontein wat afgekamp is.” (Afrikaanse 1983-vertaling) Salomo bedoel daarmee dat die huwelik heilig is en toegesluit is sodat geen derde party kan inmeng in die huweliksverhouding nie. Die huwelik het ’n muur om en ’n hek wat gesluit is. Die huwelik is sakraal. In die Rooms Katolieke kerk is die huweliksluiting ook ’n sakrament wat voor die Here gesluit word. Ons lewensmaat is net aan ons geleen. Omdat ons nie weet hoe lank hierdie tyd is nie, moet ’n mens die mooiste daarvan probeer maak. “Geniet jou vrou …” sê Prediker. Waar huwelike en gesinne verbrokkel, verbrokkel die samelewing.

Binne hierdie geslote tuin, is daar die ruimte om kinders groot te maak, waar hulle veilig en geborge kan voel. Daarom, in die veiligheid van die huwelik word kinders groot met die sekuriteit dat hulle ouers vir mekaar lief is. Dit is die veilige ruimte. Daarom is gesinne die boustene van God se Koninkryk.  Daarom praat ons van verbondsgesinne, wat in die verbondsgemeente saamleef. Gesonde gesinne is die boustene van die Christelike samelewing. Daarom moet ons in hierdie post-moderne samelewing weer nuwe respek kry vir die huwelik as ’n instelling van God; en die gesin as die ruimte waarbinne kinders leer om in verhoudinge te leef, om eendag as volwasse mense in goeie verhoudinge te staan met ander.

Johannes Calvyn het gesê, kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die kindertjies grootmaak in God se geborgenheid en sekuriteit. Die kindertjies moet die liefde van God beleef om geborgenheid te ervaar. Die kindertjies moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  

Salomo praat van die huwelik as ’n tuin. Daarom is die gesin ook ’n tuin. ’n Tuin kort voortdurende werk. Die gras moet gesny word. Die bome moet gesnoei word. Grond moet omgespit word. Die tuin moet water kry. Net so moet daar aan die verhoudinge in die huwelik en in die gesin gewerk word. Verhoudinge kom nie vanself nie. Hoe meer jy energie insit in ’n verhouding, hoe nader beweeg jy na jou lewensmaat of kind.

’n Tuin kan ’n oase, ’n lushof word. Die gesin en familie kan alleen ’n oase word, as almal aan die verhoudinge binne die gesin en familie werk. Al is jy ongetroud,  het jy ’n familie en ’n vriendekring. Dan hoef niemand meer eensaam te wees nie. Dit was tog God se oorspronklike bedoeling, dat ons nie eensaam moet wees nie.

Kom ons werk in 2022 daaraan om van ons huwelike, gesinne, families en vriendekringe ’n oase en ’n lushof te maak.                                                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die skietlood van sosiale geregtigheid.

SKRIFLESING:  Amos 4: 1 – 5, Amos 5: 4 – 6 en Amos 5: 18 – 24

Watse pretbederwer is Amos tog nie! Hoor wat sê hy:  “As jy wil sonde doen, moet jy kerk toe gaan. En as jy miskien nog meer sonde wil doen, gaan na die Nagmaal.”

Sondig en sondig lustig voort in die kerk, want so hou julle mos daarvan. Dit was die gevolgtrekking wat Amos gemaak het oor die toestand van die geloofslewe van Israel. Amos sê eintlik maar: Israel, julle is geestelik bankrot, al is julle sulke getroue kerkgangers.

God wil deur die profeet Amos die skietlood, die waterpas, aanlê teen die geloofslewe van hierdie gemeente, en teen die geloofslewe van elke gelowige afsonderlik.

Wil u die preek onthou – onthou dan die beeld van ’n muntstuk. ’n Muntstuk bestaan uit twee kante, naamlik ’n kopkant en ’n stertkant. Egte godsdiens het twee kante: Liefde tot God en liefde tot my medemens. Ja, ons het ons Here lief, maar ai, dis so moeilik om my naaste lief te hê.

Kom ek vertel eers vir u die agtergrond van die gelese gedeelte. ’n Groot godsdienstige fees was aan die gang daar in Israel toe Amos hom op die preekstoel waag. Dan lees ons hoe Amos in die eerste drie hoofstukke van sy preek, al Israel se buurvolke aanval. Ja Amos verkondig God se oordeel teen die Noorde, die Ooste, die Suide en die Weste. Dan trek Amos die net nouer. Ook Edom, die broedervolk van Israel en Juda, die noordelike stam, loop deur. Net Israel nie. In hulle feesgeroes het Israel seker hande saamgeslaan en uitgeroep: Alle volke word veroordeel, behalwe ons. Hoe anders dan: Ons is dan so godsdienstig… Ons het ons heiligdomme by Bet-el, Gilgal en Berseba. Ons bring ons offers in die môre en ons tiendes elke derde dag en dit terwyl daar dié is wat sê ons hoef dit al om die derde maand te bring. Ons gee selfs vrywillige offers. Ons hou ons feestye gereeld. Ons bring vetgemaakte kalwers en ons sing ons liedere voor God. Met ons harpmusiek plesier ons God. Voorwaar, Israel kon sê: “Ons het God lief met ons hele hart, verstand en wil.”

En natuurlik, geliefdes, het ek en u ook die Here lief. Ons kan net soos Israel sê, ons het die Here lief met ons hart, siel en verstand.

Daarom kom ons mos kerk toe, gee ons dankoffers, dien die Here op die kerkraad en onderhou ’n mooi kerkgebou vir die Here se eer. Ja, ons het die Here lief.

Dan preek Amos die tweede gedeelte van sy preek. Die feesrumoer word al stiller tot jy ’n speld kan hoor val, want hoor wat sê Amos: “ Daar kom dae oor hierdie godsdienstige volk dat hulle met hakke opgetel sal word en met dorings van agter aangejaag sal word”. Waarom klink Amos so kwaai? Israel het God lief – maar nie hul naaste nie.

Ons het God lief, maar die doen van reg aan die naaste, ontbreek. U sien dus, die rooi flikkerligte daar in die gemeente van Israel was ’n gebrek aan naasteliefde. Israel het sy mede-broeder in die grond vertrap, soos wat ’n mens ’n gogga vertrap in die grond.

En gemeente ek praat nie nou van politieke of maatskaplike onreg nie, ook nie van die Joodse vervolging onder Nazi-Duitsland nie. Nee, ek praat van alledaagse onreg wat ek en jy teen ons mede-broer en -suster pleeg, terwyl ons kerkmense is.

Ons het God lief, maar ons laat dit na om in liefde reg te laat geskied aan ander. Adrio König sê, as Amos op hierdie preekstoel van Adelaide sou geklim het, sou dit so iets klink: “Kom na die kerk, as julle wil sonde doen, na die Nagmaalstafel as julle nog meer sonde wil doen. Bring julle kollekte vroegmôre, julle maandelikse dankoffer elke derde dag. Gee julle Tiendemaand-dankoffer en deel basaarlyste uit en laat mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, gemeente van Adelaide,” sê die Here my God.   

Maar wat sê God van sulke valse godsdiens – ’n godsdiens wat net vir God liefhet, maar nie my naaste nie. Kom ons lees weer Amos 5: 21: “Ek haat, Ek verafsku julle Kersfees en Paasfees en ek het niks aan julle Nagmaalsfeeste nie. Al bring julle vir my maandelikse dankoffers en tiendemaanddankoffers, dit is nie vir my aanneemlik nie. En ek kyk nie eers na julle basaar se baie tafels nie. Gee pad voor my met die rumoer van julle liedere. En julle orrelmusiek wil ek nie hoor nie”.

Verskriklike woorde, gemeente!

U sien dus, dit gaan om die muntstuk. Hierdie muntstuk is eers eg as die kopkant en die stertkant bymekaar pas. So nie, is dit vals.

Godsdiens is eers eg as die kopkant bestaan uit liefde tot God en die stertkant bestaan uit die doen van reg aan jou naaste. Om jou naaste lief te hê beteken inderdaad om reg te laat geskied aan jou naaste. So nie, is ons godsdiens vals.

Maar luister wat sê God in Amos 5:4 – “Vra na my wil, dan sal julle lewe.”

Moenie in die kerk gaan raad soek nie, moenie na die Nagmaal gaan of verbygaan na die verootmoedigingsdiens nie. Want sê God: Bet-el, wat beteken die huis van God, sal word die huis van niks. En Gilgal sal in ballingskap gaan. In die Hebreeuse taal klink dit amper so iets: “God sal met Gilgal se gal werk.”

Eintlik sê God: Moenie die kerk se drumpel deurloop en moenie die Nagmaal bywoon as jy nie eers jou naaste leer liefkry het nie. Soek my wil, en my wil is dat jy jou naaste sal liefhê sodat jy kan lewe. Maar gemeente, dit is nou maar eenmaal so dat ek en jy nie op ons eie in staat is om ons wil na Sy wil te verander nie.  Nee, daarvoor moet ons bid vir die werk van die Heilige Gees in ons lewe.

Dit is vreeslik, gemeente, as God in Sy toorn losbrand. Want God kan dit nie verdra dat ons die reg van mense in die grond vertrap nie. God sê dit is vir Hom ’n bitter saak in vers 7 van hoofstuk 5.

Hoe vertrap ek die regte van ander mense? Tieners en jongmense kan dalk met hul opstandigheid hulle ouers nie eer nie. Ons  kan met ons tonge mense beskinder en beswadder. Ons het elkeen ’n begraafplaas, waar ons mense begrawe wat deur ons beskinder is. Ons ontneem mense geleenthede deur hulle nie in hul nood by te staan nie. Ons ontneem hulle die reg om te lewe. Dikwels vertrap ons ons lewensmaat se emosionele behoeftes deur hom of haar nie te waardeer nie. Om jou werkgewer se tyd te steel of jou werknemer nie te betaal wat hom toekom nie, vertrap jy die ander mens. Wanneer ’n mens onregverdige wins maak of onbillike rente vra, is dit ’n gruwel in die oë van die Here. Jy steel as jy nie sorg vir ordentlike huisvesting en geriewe vir jou werkers op die plaas nie. Jy vertrap regte as jy valse getuienisse in bring om jou kollega in ’n slegte lig te stel. Amos sê ons pleeg onreg as ons altyd die verkeerde begeerte het om voor in die koor te sing en nie ruimte maak vir ander mense nie. Subtiel vertrap ons die reg van ander mense deur hulle te gebruik en te hanteer soos wat ’n mens ’n kitsbank hanteer. Ons kan inderdaad praat van jou kitsbankwerknemers, kitsbankouers, kitsbankkassier of kitsbank lewensmaat.

Ons is te bang om in die oë van die armes en verontregtes te kyk, omdat ons bang is om ’n mens met behoeftes raak te sien. Ja, die grootste behoefte van die randfiguurmense, naamlik om raakgesien en respekteer te word, kyk ons mis. Om van mense kitsbanke te maak, wat net vir jou nut daar is, is sosiale onreg. Dit is om op die reg van elke mens om as mens behandel te word, te trap. Christus Jesus het mense nie as kitsbanke behandel nie. Christus het in die oë van hierdie wêreld gekyk en die nood raakgesien. Christus is in beroering gebring deur die nood van ander. As hemelkoning het Christus hom nie verhewe teruggetrek in die kerk of op die berge nie.

Nee, as Christus by die sinagoge uitgestap het, het Hy Sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mat 25: 35 – 40). As iemand dors het, of iemand is honger of naak of behoeftig, dan sê Christus: Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.

Christus in die oë van die bedelaar, die kassier wat jou help of jou bediende. In daardie oë van die mens wat stink en vuil is, moet jy dieper kyk – behandel hom soos jy Christus sou behandel het.

Dan die triomfantelike vers 24 van hoofstuk 5: “… maar laat die reg en geregtigheid aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom.” Die beelde wat Amos hier gebruik kom uit sy ervaring as boer. Watergolwe wat skielik in ’n droë loop afkom na ’n stortbui, spoel al die gemors wat daarin opgegaar is gedurende die droë maande, weg.

So moet die reg ook wees. Dit moet alle vooroordeel en verkeerde gesindhede en haat wegspoel. Ook in ons landsopset. Dit is nie die taak van die kerk om politieke stelsels uit te werk nie. Dáár moet die geregtigheid wees wat uit wedergebore kinders van God se hart vloei om die gemors van rassevooroordeel, seksisme, minagting en verkeerde gesindhede weg te spoel. Maar Amos sê, die reg moet nie net soos ’n watergolf kom en verdwyn nie. Dit moet soos ’n  standhoudende stroom water aanhoudend vloei. Dit moet oorgaan in hande-uitreiking.

Christus sê: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense. Jy moet ’n verskil maak in hierdie wêreld”. U sien dus: God vra nie hoe lief het jy my nie? God sal sien hoe lief jy Hom het in die manier waarop jy jou naaste behandel.

Moenie kerk toe kom, moenie Nagmaal toe kom, moenie jou dankoffer gee nie, moenie tot my bid nie. Gaan maak eers reg met jou medemens. Kom dan kerk toe, kom dan Nagmaal toe en bring dan jou dankoffers. Dan kan jy eers werklik bid.

Weer eens die les van die muntstuk. Die muntstuk is eers eg as die muntstuk bestaan uit ’n egte kopkant en ’n egte stertkant. Egte godsdiens is liefde tot God en liefde tot jou medemens. Kom gerus kerk toe en sondig nie meer nie. Kom gerus Nagmaal toe, maar as jy by die kerkdeur uitstap, omhels hierdie stukkende wêreld in God se liefde. Die Christusbeeld sonder arms daar in ’n Europese oorlogsbegraafplaas sê vir ons: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Deur jou wil ek die wêreld, hierdie stukkende wêreld, in my liefde heel.”                   AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Goeie nuus vir die Here se twyfelaars.

SKRIFLESING:  Gen 17: 1 – 11 en Gen 17: 15 – 27

’n Paar dekades gelede was daar ’n besoekende Engelse minister,  Macmillan,  wat ’n toespraak in Suid-Afrika gemaak het wat destyds absoluut opslae gemaak het. Hy het naamlik gepraat van “the winds of change”, wat volgens hom oor Suid-Afrika gewaai het. En vandag is “change” ook juis ’n tipiese eienskap van die kerk. Alles verander. Niks bly dieselfde nie. ’n Mens kan vandag van niks meer seker wees nie. Politiek verander, politieke stelsels kom en gaan, regerings kom aan bewind en  kom weer tot ’n val. Bekende name van bekende bakens en plekke verander, modes verander, die vorm van karre verander, kommunikasiestelsels verander, gewoontes en kulture van mense verander, ons as mense verander, ja, alles verander. Selfs die gebruike in die kerk verander. Ons leef in ’n snel-veranderende wêreld, en juis dit maak ons dikwels baie onseker.

Tog is daar een onveranderlike, naamlik die beloftes van God. Dit is die een absolute waarheid, wat vasstaan bo alles.

Ja, God se beloftes loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis. Daar is bykans 7 000 van God se beloftes in die Bybel. Op een of ander manier is hulle almal aan mekaar verbind. Christus is natuurlik nie net die sentrum van God se beloftes nie, maar alles kom ook in Hom bymekaar.

Een so ’n belofte is natuurlik God se belofte in Genesis 17. Aan ’n stokoue man Abram wat 99 jaar oud is, wie se 90-jarige vrou Sarai haar lewe lank onvrugbaar was, word ’n kind van hul eie beloof. Ja, God maak ’n belofte dat Hy aan Abram ’n groot nageslag sal skenk. Natuurlik het God die belofte van ’n groot nageslag al heelwat vroeër ook aan Abram gemaak.    

Daarom het Abram op 86 al ’n plan gemaak om God te help met sy belofte deur vir hom ’n nageslag te verwek, deur ’n kind by een van Sarai se slavinne, naamlik Hagar, te verwek. Die kind se naam is Ismael.

Toe God aan Abram verskyn en aan hom ’n kind op 99-jarige ouderdom beloof, kon Abraham nie anders as om ’n laggie van twyfel te gee nie. Hy is bykans 100 en sy vrou 90 en sy was nog nooit vrugbaar nie. Abram het sekerlik gedink God weerspreek Homself. God bedoel seker dat Ismael vir hom ’n groot nageslag sal verseker. In plaas van aan God se beloftes vas te hou, hou hy aan Ismael vas. Maar dan verseker God vir hom dat Hy vir Abram ’n kind wil gee by Sarai.

Abram twyfel, Abram wil al laggende probeer om God te aanbid. Maar wat God belowe het, het God belowe. Om Abram te help, gee God selfs ’n verbondsteken, naamlik die besnydenis. As Abraham en sy manlike nageslag na hulle liggame kyk, herinner dit hulle aan God se beloftes. God wil hul twyfel in sekerheid verander. God gee aan hulle ’n nuwe identiteit: Abram word nou Abraham en Sarai word nou Sara.

Uit Abraham en Sara is Isak gebore, wat beteken “hy lag”. In Isak het die onmoontlike gebeur.

Maar hierdie belofte het soos ’n goue draad deur die geskiedenis geloop en is vervul in Christus Jesus. In Christus het ons deel gekry aan hierdie verbond en het ons die doop ontvang as teken van die nuwe verbond, naamlik dat ons in Christus gered en verlos is.

Hierdie verbond wil vir ons sê dat in die verlossingsplan God die aktiewe is en ons mense die passiewe:

  • By die verbondsluiting in Gen 15: 12 was Abraham die slapende en het God alleen in die gedaante van ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand tussen die stukke vleis deurbeweeg.
  • Abraham was kinderloos. God het vir hom ’n kind gegee op ’n hoë ouderdom.
  • Die besnydenis is as teken gegee vir seuntjies van agt dae oud. Wat weet hulle dan en wat verstaan hulle hiervan?

God is die handelende een. God red en ons is passiewe toeskouers. Ons ontvang net die genade. God kom verbind Hom aan ons. Hy neem ons aan.

Tog maak ons dieselfde fout as Abraham wat na Ismael gekyk het in plaas van na God se beloftes. Ons wil “the winds of change” aanbring, en die Here help, soos Abraham ook vir God wou help.

Ons wil onsself aan God verbind deur ’n handjie by te sit.

  • Ons roem oor ons groot geloof.
  • Ons roem daarin dat ons die Here aangeneem het.
  • Ons roem in ons bekeerdatum.
  • Ons roem in ons goeie werke.
  • Mense wil weer gedoop word as bevestiging van hulle aandeel aan hulle eie verlossing.

Maar al bogenoemde goed is alles gawes van die Here aan ons. Hy skenk vir ons die geloof, die Here neem vir ons aan, die Here wek die bekering in ons harte. Dit is nie die mense se trou nie, maar God se trou, wat vasstaan.

As ons somtyds wil twyfel aan ons kindskap van die Here, is dit omdat ons ons sekerheid soek in ons eie goeie kwaliteite. Nee, ons sekerheid lê buite onsself in wat God vir ons gedoen het.

Wanneer ’n mens op ’n boot is en die boot skud gevaarlik rond in die stormwind, dan moet jy die anker uitgooi. Maar jy gooi nie die anker op die boot se dek nie, jy gooi dit buite die boot in die dieptes van die see. Dit is geanker buite die skip. Netso, moet ek my saligheid nie in myself soek nie, maar buite myself in wat Jesus Christus vir my gedoen het. Nie my emosies is my anker nie, maar Jesus Christus is my anker.

Johannes 3: 16 lees as volg: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Die vetgedrukte gedeelte verduidelik dat nie die onderwerp van die sinsnede my red nie. Nee, die objek van die sinsnede is my redding. Die woordjie “in” is in die Grieks in die instrumentele datief geskryf wat beteken: Christus is die instrument waardeur ek gered is.

Daarom hoef ek nooit te twyfel in my geloof, of bekering of aanneming van die Here nie, want dit is nie ek wat dit doen nie, maar God self wat dit bewerk in ons lewens.

Daarom moet ons versigtig wees vir ons emosies, aangesien ons emosies so wisselvallig kan wees. Wanneer ons sekerheid soek, moet ons dit soek in die beloftes van God se Woord wat vasstaan. Somtyds gaan ’n mens deur twyfel in jou lewe. Dan wonder ’n mens byvoorbeeld of God ’n mens se gebed verhoor het, of jy wonder waarom jy so swaar moet kry.

In sulke tye moet ons vashou aan God se ewige beloftes. Ek moet aan die teksverse van die Bybel vashou, soos wat ’n mens aan ’n reddingstou vashou. Ek voel nie elke dag dieselfde nie, maar God is elke dag dieselfde.

Daarom hou ek, deur my twyfel, aan Jesus Christus vas!      AMEN

(Erkenning word gegee aan Dr Andries Cilliers vir gedeeltelike gebruik van sy preekskets. Die res is my persoonlike inspirasie en werk)

[Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide]

Ons moet God se geure en kleure wees.

SKRIFLESING: Mat 5: 13 – 16

Eugene Peterson in The Message, vertaal Mat 5: 13 – 16 as volg: “Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage. Here’s another way to put it: You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world.

God is not a secret to be kept. We’re going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don’t think I’m going to hide you under a bucket, do you? I’m putting you on a light stand. Now that I’ve put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you’ll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.”.

Dr. Chris van Wyk lig twee sake uit. Die sout-metafoor word vertaal met “God-flavors” en die lig-metafoor word vertaal met “God-colors”. Ons moet met ander woorde God se geure en kleure wees in hierdie wêreld. Ons moet geur en kleur gee aan hierdie wêreld.

 Ons roeping in die lewe kom daarop neer dat:

  • mense God moet kan proe in hoe ons lewe en hoe ons optree.
  • mense God moet kan sien in hoe ons optree.

Dit is twee van ons vernaamste sintuie, naamlik om te kan proe en te  kan sien.

  1. ) Die eerste oproep is, dat ons  “God-flavors” sal versprei:

Ons praat van “sout van die aarde mense”. Dan bedoel ons dit is goeie mense. Maar voordat ek dit kan word, moet ek eers “sout vir die aarde” word.

Sout is iets alledaags en baie goed bekend. In die antieke wêreld het sout selfs meer funksies as vandag gehad. Hier is ’n paar eienskappe van sout:

Sout gee smaak. Deur ’n bietjie sout by kos te gooi, kry die voedsel smaak. Net so bring gelowiges smaak in die wêreld.

Sout preserveer. Voordat vrieskaste beskikbaar was, is sout gebruik om vleis te bewaar. Biltong en snoek is ’n lekkerny, omdat dit gesout word! Sout preserveer. As gelowiges is ons soos sout wat die lewe preserveer. Die wêreld word ’n veiliger plek waar mense wat die dinge van die Here doen, hulle invloed uitoefen. Misdaad daal, respek vir lewe neem toe, en die waardes van integriteit, liefde, omgee en beskerming styg.

Sout genees bederf en verrotting. In die ou tyd is wonde met sout uitgewas om infeksie te verhoed. Na jou tand getrek is, kan jy jou mond gereeld met soutwater uitspoel.  Mense met sinusprobleme gebruik gereeld ’n bietjie soutwater. Ons gooi sout in ons skottelgoedwassers om dit skoon te maak. Sout se krag lê daarin dat dit ’n verskil maak in ’n wêreld waar bedorwenheid en verrotting so maklik plaasvind. Christene moet die agteruitgang van die samelewing keer en help stuit, deur hulle getuienis.

Sout offer sigself op. Sout werk net as dit uit die soutpot gegooi word. Sout kry sy bestaansreg net as dit gebruik word. Sout moet oplos voordat dit voordeel en smaak kan bring.

In die destydse Palestina was die kwaliteit van sout wisselvallig. Nie alle sout was ewe goed nie Die swak sout gaan af, en het geen krag nie. Dit word weggegooi en vertrap.

Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van die Fariseërs en Skrifgeleerdes te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ’n manier bedryf het wat sy krag verloor het, deur mensgemaakte, wettiese prosedures voorop te stel.

’n Mens kry tot vandag toe mense wat die dien van die Here verwar met tradisie. Ten diepste is dit ’n selfgesentreerde vorm van godsdiens eerder as die uitgiet van jou lewe in diens van ander.

2.) Die tweede oproep is dat ons “God-colors” sal versprei:

Lig is ’n basiese element van die lewe. Met die skepping het God lig geskep. Die duisternis was voor die lig. Maar God het lig in die duisternis geskep, sodat daar dag en nag kan wees. Christus het ook gekom as Lig vir die wêreld wat in sonde-duisternis verkeer.

Ferdinand Deist skryf treffend oor die ligmetafoor: “Waar Hy ook al gaan, bring Hy lig, bring Hy lewensruimte en lewensvreugde. Elkeen wat met Hom in kontak kom, se lewe kry nuwe sin en betekenis: Saggeus, Nikodemus, Maria, Magdalena, Petrus,  Thomas, almal. Oral is Jesus besig om God se skeppingslig aan te steek.” Daarom,  as ons die waardes van God se Koninkryk uitlewe, verdryf ons ook die duisternis uit ons huise en uit die wêreld uit.

Mense kom na lig toe. Soos ’n kers motte aantrek, trek lig ook mense nader. Lig skep gemeenskap tussen mense. Jesus Christus het ook bedoel dat Sy lig die nasies van die wêreld moet nadertrek.

Jesus se lig moet ook ons huise verlig. In die Bybelse tyd was daar net een-vertrek huise. Die lig het in die hele huis geskyn. Daar was nie donker plekkies in die huis nie. So moet Jesus se lig ook lig kom gee in ons huise, huwelike en gesinne. Natuurlik sê ons skrifgedeelte dat Jesus se lig bedoel is vir die hele wêreld. Dit is ’n verskriklike slegte advertensie vir die Christendom as Christene nie sigbaar in die wêreld is nie. Spurgeon het treffend opgemerk dat Christus in die woonvertrek moet skyn, eerder as die gastekamer. Daarmee bedoel hy dat Christus elke dag gelewe moet word en nie slegs by spesiale geleenthede om ons beter te laat vertoon nie. Ons is nie geheime diens-agente van die Here nie.

Gerard Hennig skryf dat ’n dissipel sy dissipelskap net so min kan wegsteek as wat ’n lig sy strale kan wegsteek. ’n Christen hoort in die middel van die wêreld soos ’n lamp in die middel van ’n vertrek. 

Mag ons soos Eugene Petersen skryf, “God-flavors” en “God-colors” op hierdie aarde en in die wêreld wees.                                                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)