Nie reëls nie, maar verhoudings.

SKRIFLESING: Eksodus 20 en Mat 23: 23

Wanneer het ’n mens ontsag vir God en Sy wil? In die ou dae het mense geglo dat jy niks op die Bybel mag sit nie. Die Bybel moet altyd bo lê. Daar is geglo jy moet elke Sondag met ’n pak klere of met ’n hoed na die erediens toe gaan. Jy moet Sondag stil deurbring en nie lawaai maak nie. Jy mag nie swem op ’n Sondag nie. Jy mag nie brei of met ’n naald op ’n Sondag werk nie, anders steek jy dit in die oë van die Here. Ontsag vir God in die ou dae het beteken om sekere dinge nie te doen nie.

Wanneer die Bybel praat oor ontsag, praat die Bybel oor verhoudinge.

Daar word vertel van Petrov die getroue kerkganger. Hy was ’n brandarm houtkapper, ’n godvresende mens wat gereeld in die kerk op die dorp was. Skielik het hy opgehou om kerk toe te gaan. Hy het baie katte gehad. Die mense het begin skinder oor  die katte wat hy in die woud ingeneem het. En dat die katte nie weer terugkom nie. Hulle het geglo hy is met satansdinge besig. Die kerkraad het ’n waarskuwingsbrief geskryf, hom onder sensuur geplaas en hom later afgesny. Hy het in afsondering gesterf. Na sy dood het dit geblyk dat hy in werklikheid melaatses versorg het en vir hulle katte geneem het sodat die melaatses iets het om te streel en dit het vir hulle vreugde gebring. Hy het ook vir die melaatses huisvesting gebou. Na sy dood het die brief by die predikant uitgekom via die prokureur. Dit het onder andere gelui dat hy vergifnis vra vir sy gedrag, want hy wou nie die ander mense aansteek met melaatsheid nie. Dit is ontsag vir God, naamlik om vir die melaatses te sorg ten spyte van die gevolge.

Die Tien Gebooie gaan oor om ontsag vir God en jou medemens te hê. Dit begin met ’n bevrydingswoord in Eksodus 20 : 2 – “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het.” Eers die bevryding en dan verwag die Here van ons om in die regte verhouding met God en ons naaste te leef.

Die eerste gebod gaan daaroor dat jy net met die enigste God ’n verhouding moet hê. Daar mag geen verhouding met ’n ander god wees nie. Die tweede gebod beveel ’n persoonlike intieme verhouding en nie die buiging voor afbeeldings van die Here nie.  Die derde gebod is dat jou verhouding met die Here so moet wees dat jy ontsag vir sy Naam het en dit nie moet misbruik nie, maar eerder uitbrei. Die vierde gebod beveel dat jy jou verhouding met die Here moet versterk deur die bywoning van eredienste op die Sabbat (nou, die Sondag). Op Sondag moet jy tyd maak vir ander mense. Op Sondag moet jy kuier met ander mense. Die vyfde gebod sê dat jy ’n goeie verhouding met jou ouers moet hê en dat hulle raad gewig moet dra in jou lewe.    Die sesde gebod is dat jou verhoudinge  so moet wees dat jy nie ander mense met daad of met woorde mag vermoor nie. Die sewende gebod sê dat jou verhouding met jou lewensmaat van diepte en getrouheid moet getuig. Die agste gebod beveel dat jou verhouding met ander mense so moet wees dat jy nie hulle goed sal vat nie. Die negende gebod beveel dat jy jou verhouding met ander mense sal eer deur nie valse dinge van hulle te versprei nie. Die tiende gebod beveel dat jou verhouding met ander mense so sal wees dat jy nie hulle goed of prestasies sal begeer nie.

Mat 23: 23, die ander opsomming van die wet, handel ook oor verhoudings. Dit lees as volg: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.” Weereens beklemtoon die Here Jesus dat nie die dinge wat jy doen die Here eer nie, maar eerder die dinge in die verhoudings van reg, barmhartigheid en trou.

Die bergpredikasie gaan ook oor die regte verhoudinge, soos sagmoedigheid, barmhartigheid, regverdigheid en so meer. Eers dan het jy ontsag vir God.

’n Ware verhaal in die Tweede Wêreldoorlog handel oor ’n kerk wat in die oorlog geannekseer is as ’n mediese hospitaal. Die pasiënte het op die kerkbanke gelê en daarom het die kerkbanke gedien as beddens. Verskeie Bybels is toegedraai met linne en as kopkussings gebruik. Die Nagmaalstafel het gedien as operasietafel en met die Nagmaalsbeker is urine en bloed opgevang. Die Nagmaalsborde het gedien as borde om die chirurgiese instrumente  op te plaas. Die konsistorie was die lykshuis.

Is die kerk onteer? Nee, beslis nie. Godsdiens gaan nie oor dinge en reëls nie, maar oor verhoudinge. Dit is waarom die Here Jesus na die wêreld toe gekom het. Hy het gekom om te dien en om verhoudinge te skep. Daarom het Hy ook die kerk gestig, sodat daar verhoudinge kan wees met mekaar en met God.

Godsdiens gaan nie oor dinge en sinlose reëls en wette nie. Jesus Christus het gekom en die Ou Testamentiese reëls kom vervul. Jesus Christus het op ’n Sondag siekes gesond gemaak, tot die argwaan van die Farisieërs en skrifgeleerdes. Hy het op ’n Sondag koring gepluk op die lande.

Daarom kan jy saam met jou kinders swem op ’n Sondagmiddag, want daardeur bou jy verhoudinge met jou kinders.  Jy eer die Here, as jy verhoudinge bou.

Moenie reëls en wette verafgod nie. Die nuwe Testament leer vir ons dat verhoudinge meer belangrik is as die hou van reëls en wette.

Mense onthou nie noodwendig wat jy vir hulle gedoen het nie, maar hulle onthou hoe jy hulle laat voel het.  

Die hele Christelike lewe gaan oor verhoudinge.                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Om in jou element te wees, beteken om ’n opofferende lewe te leef .

SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 31

Het u al gesien hoe ’n hond ’n rob jaag op die seestrand? Dit is te potsierlik. Iemand het dit so mooi as volg beskryf.

Die pogings van die rob om weg te hardloop van die hond was potsierlik, bespotlik en lagwekkend. Met patetiese inspanning het hy die water probeer haal. Elke maal as die hond naderkom, het dit vir ’n oomblik gelyk asof hy weer na die sandduine toe wou uitwyk, om dan maar weer te besluit dat dit veiliger is water toe! Met flappende voorvoete wat dreig om onder hom dubbeld te vou, het hy die vlak water bereik. Die geringste klammigheid het ’n verbasende metamorfose veroorsaak, sy sanderige robvel het skielik skitterend geblink en ’n ongelooflike soepelheid het oor sy liggaam gekom. Weg was die potsierlike lompheid. Toe hy die diep water bereik, was die gedaanteverwisseling volkome. Met grasieuse hale het hy die water deurklief en ’n satynswart streep deur die water gevorm, diepsee toe!

Toe was die hond weer verleë en potsierlik. Hy ploeter in die vlak water rond en hardloop vir elke brander weg, want hy is ontuis daarin. Die rob, egter, het die water in beweeg, baldadig en behendig soos ’n saamgeperste bondel energie wat skielik ontplof het. ’n Swemmende rob is ’n sonderlinge gesig. Dis byna asof ek ’n juigkreet vanuit die water kon hoor – die rob was weer in sy element!

Robbe is nie gemaak vir sandduine en skoorsoekende honde nie. Robbe is gemaak vir die water. Dit is die omgewing waarin hulle tuis voel en die beste aard. Daar kom hulle ongelooflike swemvermoë ten volle na vore. Daar bestaan hulle nie maar net nie – daar leef hulle.

Die parallel kan ’n mens deurtrek na die verlore seun. By sy vader was hy “in die water, in sy element.” Toe hy egter wegloop, sy vader verlaat, was hy te bespotlik en potsierlik. Hy het by ’n varkplaas beland waar hy gewens het hy kon van die varke se kos eet. Varke is inderdaad vir die Jode onrein en so het hierdie verlore seun in der waarheid onrein geword.

Eers nadat hy teruggekeer het na sy vader, was hy weer in die water, in sy “element”.

Buite Christus om, is ons soos ’n rob wat dit op die seestrand waag – te potsierlik en bespotlik. Ons is buite ons element. Ons ontdek telkens weer dat daar in die ver land van sonde vir ons net vodde en varkkos wag.

Dan ervaar ons die skrynende verlange om terug te keer na die Here, waar daar lewe, lig en vreugde is. Daarom bely Augustinus: “Ons is vir God geskape en ons vind nêrens in die groot heelal rus, voordat ons rus gevind het in Hom nie.”

By Hom word ons “nuwe mense”. Daarom sê Christus in Johannes 15: 4 – 5 die volgende: Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.  Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”

In Christus is ons in ons “element”.

Waar wil u wees in 2022? Wil u soos die rob buite u element wees of wil u die rob wees binne u element? Wil u grasieus lewe in 2022? Dan moet u en ek in Christus wees.

Wat beteken dit om “in Christus” te wees?” Dit is om ’n opofferende lewe te lewe.

Twee ploegskare is van dieselfde ru-yster gemaak. Een is aan ’n boer verkoop wat dit voortdurend gebruik het. Die ander een het op die rak van die hardewarewinkel gebly, onverkoop totdat dit met roes bedek was. Die boer het sy ou ploegskaar saamgebring om nog een soos dit te kry. Die gebruikte ploegskaar het soos ’n silwer spieël geblink, terwyl die ongebruikte een heeltemal opgeroes was.   “Hoe is dit,” vra die geroeste een, “dat jy so blink geword het en ek so lelik geword het, ten spyte van my maklike lewe hier op die winkelrak? Eens was ons eenders.” Die blink ploegskaar sê: “Maar ek het my lewe opgeoffer in die landerye.”

Is u “in Christus?” As u “in Christus” is, dan moet u en ek ’n opofferende lewe leef. Ek moet soos die blink ploegskaar wees, wat myself offer vir die Here.

Offer ek myself in my binnekamer? Offer ek myself deur kerk toe te gaan? Offer ek myself deur die wyksbyeenkomste by te woon?  Offer ek myself deur my dankoffer gereeld te gee? Offer ek myself deur  die armes te help? Offer ek myself deur ’n voorbeeldige lewe te leef?

Is ek vanoggend ’n silwer blink ploegskaar of is ek ’n geroeste ploegskaar?

Die verlore seun het homself nie geoffer nie. Hy wou nie vir sy vader werk nie. Hy wou sy lewe verkwis deur ’n maklike lewe te leef in ’n ver land sonder enige opofferings vir sy vader.  Daarom het hy geroes van die los lewe wat hy geleef het.

Daar is ’n verskil tussen ’n bydrae en totale toewyding. ’n Hoender en ’n vark het eendag verby ’n kerkgebou gestap toe hulle die Sondagoggend-preek op die buite-bulletinbord opgemerk het, “Help die Armes.” Hulle het aangestap met die pad toe die hoender skielik met ’n voorstel gekom het. “Sê my, broer vark, hoekom gee ons nie vir al die arm mense ’n lekker ontbyt van ham en eiers nie?” Die vark het ’n oomblik gedink en geantwoord: “Dit is reg vir jou om te sê, want vir jou is dit net ’n bydrae, maar vir my is dit totale toewyding!”

Jesus het in Sy sending geslaag omdat Hy totaal toegewyd was aan die taak voor Hom. Hy was bereid om alles prys te gee, selfs Sy lewe. Niemand slaag regtig in die lewe totdat hy die punt bereik waar hy bereid is om sy lewe af te lê nie. Jesus het gesê: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen.”

Almal kla so oor die kerk wat leeg is en kyk na die ander op ’n beskuldigende wyse. Die arme predikant voel later as’t ware skuldig. Gypsy Smith is eenkeer gevra hoe om ’n herlewing te begin. Hy het geantwoord: “Gaan huis toe, sluit jouself toe in jou kamer en kniel in die middel van jou vloer. Trek ’n krytmerk reg rondom jouself en vra God om die herlewing binne daardie krytmerk te begin. Wanneer hy jou gebed verhoor het, sal die herlewing daar wees”.

Die verlore seun het opgeroes as gevolg van sy sonde in die vreemde land weg van sy vader af. Wie weg van Christus lewe, sal roes. Wees eerder in Christus. Dan sal jy soos ’n rob in die see wees. Dit vra egter van jou ’n opofferende lewe.

Is jy bereid om in 2022 jou lewe te offer aan Christus?            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die dood is ’n metamorfose in iemand nuuts.

SKRIFLESING: 1 Kor 15: 35 – 58

Dr. Donald Gray Barnhouse was ’n bekende predikant in Philadelphia en sy eerste vrou is aan kanker oorlede terwyl sy nog in haar dertigs was. Al drie sy kinders was jonger as twaalf. Dr. Barnhouse het die moed gehad om self die begrafnispreek te lewer. Op pad na die begrafnis het ’n groot vragmotor verby hulle gery. Die vragmotor het ’n skaduwee oor hul motor gegooi. Hy het vir een van sy kinders gevra: “Wil jy liewer deur daardie trok of sy skaduwee omgery word?” “Deur die skaduwee, natuurlik!” antwoord die twaalfjarige dogter. ’n Skaduwee kan jou nie seermaak nie.” Met daardie antwoord het dr. Barnhouse aan sy drie moederlose kinders gesê: “Julle ma is nie deur die dood oorval nie, maar deur die doodskaduwee.” By die begrafnis het hy oor Psalm 23:4 gepraat: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Afrikaanse 1953 vertaling)

Die dood gooi net ’n skaduwee oor ons, want die dood is nie in staat om ons finaal te verslaan nie. Ons glo in die ewige lewe na die dood. Daarom skryf Paulus in 1 Korinthiërs 15: 55 die volgende: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Louena Engelbrecht leef by die Here. Louena Engelbrecht was die dogter van Hendrik en Lena Engelbrecht. Sy is gebore op 26 Junie 1944 en sy het op Tamboekiesfontein grootgeword. Later het hulle na Weltevrede getrek. Sy was in Adelaide op skool. In Standerd 6 het sy na Grens Hoërskool in Oos-London gegaan en daar haar matriek verkry. Sy is daarna na die landboukollege op Grootfontein waar sy ’n landboudiploma verwerf het. Sy het ook haar Springbokkop gekry om wol en bokhaar te klas. Sy het daarna vir omtrent ’n jaar in die destydse Suidwes-Afrika gaan werk. Sy het teruggekom om haar ma by te staan en het begin met haar eie boerdery. Sy het vir baie jare vele boere gehelp met die skeer van skape en bokke. Sy was ook lank lid van die Post Retief Boerevereniging en het ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel. Sy het vir lank vir Post Retief Buiteklub tennis gespeel en later vir die Winterbergklub. Sy was passievol oor die boerdery en baie lief vir diere. Sy kon dit nooit oor haar hart kry om haar vee op die vendusies verkoop te kry nie! Dus het sy altyd iemand anders gevra om haar vee namens haar te verkoop. Sy het ’n besondere liefde gehad vir Dexter-beeste.

Later was sy vir baie jare die kurator by Adelaide se museum en het seker gemaak die geskiedenis word bewaar. Sy was besonder bekwaam om die familiegeskiedenis van die families in die Winterberg-distrik uit te lê. Sy was ’n goeie mens en het dikwels mense gehelp sonder dat ander daarvan weet. Haar humorsin was uitstekend en jy kon haar terg en met haar ’n grappie maak en sy kon dit vat. Baie lief vir gesels was sy. Sy was nooit getroud nie, maar sy het haar eie alleenheid ook geniet. Saam met haar swetterjoel katte was sy baie gelukkig op haar eie. Sy het die afgelope tyd egter begin siek word en al hoe swakker geword, sodat sy nie meer kon loop nie. Sy is toe opgeneem in Huis Corrie Dreyer. Die afgelope meer as twee maande was sy in hospitale in Port Elizabeth en het afgesterf op laat Sondagmiddag, 9 Januarie 2022.

Die skaduwee van die dood het oor haar geval, maar die dood het haar nie oorval nie. Die angel van die dood het haar nie gesteek nie. Die Here Jesus het met Sy dood en opstanding die angel uit die dood kom haal.

Louena is deur die dood bevry van haar siekte en meegaande aardse sorge en bekommernisse. Volgens ons skrifgedeelte is die dood die metamorfose, wat Louena nuut maak en vir haar ’n geestelike onsterflike liggaam gee, vry van enige pyn en bekommernis.  Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond plant? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd ’n welige oes sal oplewer. ’n Menslike begrafnis is ’n heel ander saak. Dit wek veel dieper emosies vanweë ons gehegtheid aan die liggaam wat in die graf gelê is. Maar vir Christene word hierdie hartseer getemper deur die wete dat die wat in die Here sterf veilig by Hom is, en dat ons eendag met hulle herenig sal word, nie net in ons gees nie, maar ook in nuwe en verheerlikte liggame.

Hierdie metamorfose in iemand nuuts word uitgedruk in ons skrifgedeelte in 1 Kor 15: 42 – 44 wat so lees: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies:Wat gesaai word in verganklikheid,  word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word,  is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ’n geestelike liggaam.” Ons word totaal omskep in iemand nuuts.

Die volgende paar beelde of metafore het ek raakgelees oor die metamorfose wat die dood teweegbring, sodat jy ’n nuwe geestelike wese word:   

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat DL Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewendig wees as nou.”

’n Dogtertjie wie se bababoetie pas dood is, het haar ma gevra waarheen haar boetie gegaan het. “Om by Jesus te wees,” antwoord haar ma. ’n Paar dae later, terwyl sy met ’n vriendin gepraat het, het die ma gesê: “Ek is so hartseer dat ek my baba verloor het.” Die dogtertjie het haar gehoor, en onthou wat haar ma vir haar gesê het, opgekyk en gevra: “Ma, is iets verlore as jy weet waar dit is?” “Nee, natuurlik nie.” “Wel, hoe kan boetie dan verlore gaan as hy by Jesus is?” Haar ma het dit nooit vergeet nie. Dit was die waarheid.

Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte doppe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke opgetel en weggevlieg.” So is dit met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke opgeneem en weggevlieg het.

Arthur Brisbane het eenkeer in ’n tekening ’n “skare” bedroefde ruspes voorgestel wat die lyk van ’n kokon na sy laaste rusplek dra. Die arme benoude ruspes, geklee in swart, het gehuil, en die hele tyd het die pragtige skoenlapper vrolik bo die aarde gefladder, vir ewig bevry van sy aardse dop. Nodeloos om te sê, Brisbane het die gemiddelde ortodokse begrafnis in gedagte gehad en probeer om die idee oor te dra dat wanneer ons geliefdes sterf, dit dwaas is om net die kokon te onthou en ons aandag op die oorblyfsels te konsentreer, terwyl ons die helder skoenlapper vergeet. Die dood is slegs ’n metamorfose.

Die dood is nie so verskriklik nie. Ons ervaar net die doodskaduwee, maar nie die dood nie, want Christus het die dood klaar oorwin. Die dood is ’n verlossende metamorfose in iemand nuuts.                                                     AMEN

[Beelde is direk vertaal uit Bible Illustrations (AMG International Inc)]

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

God omring my van alle kante.

SKRIFLESING: Psalm 139: 1 – 24

Verbeel jou dat jy al vyf dae ronddobber op die oop see in ’n rubberbootjie.

Daar is water oral rondom jou. Sovêr jy kan sien is dit net see. Boonop is daar digte miswolke rondom jou en jy kan omtrent nie sien nie. Alles is nat. Die water omsluit jou van alle kante.

Daar is baie dinge wat jou kan omsluit en omring:

Jou program kan ’n gejaagde program wees, waar jy altyd in ’n haas is om dinge af te handel. Dit omsluit en omring jou. Jy sukkel om kop bo water te hou van al die verantwoordelikhede. Jy voel kompleet of jou liggaam jou siel êrens langs die pad verloor het. Jy voel soos ’n siellose liggaam.

Jou eensaamheid kan jou omring. Dink aan die bejaardes wat dikwels hulle dae in eensaamheid deurbring in hulle ouetehuiskamer. Jy word omring deur niks, deur leë dae.

Jou onsekerheid kan jou omring in hierdie “nuwe” Suid-Afrika. Alles in ons land is op ’n breekpunt en het onseker geword. Ons is onseker van die ekonomie, die politiek en die maatskaplike verval van ons land.  Dit lê soos ’n swaar klip op my. Daarom verlaat baie mense die land, omdat hulle nie meer met die onsekerhede kan saamleef nie.

Dalk word jy omring deur siekte, wat jou soos ’n donker wolk omsluit. Dit vul jou gedagtes en lewe. Jy sien as’t ware hoe die einde van jou lewe naderkom en jy is bevrees vir die onbekende.

Watter donker dinge storm op jou af in 2022? Watter dinge omsluit jou van alle kante?

Psalm 139 vertel van ’n man wat van alle kante omsluit was. Maar hy was nie omsluit van dinge nie, maar deur Iemand. Hierdie Iemand is die Here.

Eers was hy bang. Die Here weet van alles. Die Here ken selfs ons gedagtes en Hy ken ons hart en niere (gewete). Jy kan nêrens vir die Here wegkruip nie, selfs nie eers onder ’n skulpie nie.

’n Mens is soos ’n vis in ’n ronde glas visbak. Die vis kan nêrens wegkruip nie. So kan ons ook nie vir God wegkruip nie. Soos ’n X-straalfoto kan die Here al jou bangheid, afgode, vrees en twyfel raaksien. God ken jou vingerafdrukke en die iris van jou oog. Selfs jou bankrekening is vir God geopenbaar. Ek kan nie vir God wegkruip nie.

Nog voor ek by ’n plek kom, is God alreeds daar. Ek kan nie vir God weghardloop nie. Waar ek nog moet kom, daar is God alreeds. Daarom is God se alomteenwoordigheid vir my ’n troos in my onsekerhede.

Ek hoef nie bang te wees nie! Is ’n vis bang vir water? Nee, dit is lewegewend.

Iemand het eendag die verhaal vertel van ‘n klein baba-vissie wat in ‘n toestand is, en op en af en heen en weer swem, gespanne en bekommerd. Hy is desperaat. ‘n Groter vis kom verby en vra hom wat aangaan, en hoekom hy so te kere gaan. Die baba-vissie sê: “Ek het gehoor ons het water nodig om te lewe. Ek weet nie waar om water te kry nie! Help! Ek sal doodgaan, as ek nie dringend by die water uitkom nie!” Toe antwoord die groter vis: “Maar jy IS in die water! Jy het die hele oseaan tot jou beskikking! Ontspan… laat gaan …”.  

Ons het nodig om deur die Here omring te word, net soos dit vir ’n vis nodig is om deur lewegewende water omring te word. Ek kan nie een enkele oomblik sonder God wees nie. Dan is ek soos ’n vis op droë grond wat na sy asem smag.

Waar is die Here? Hy is in die hemel, op die plafon, agter die deur, in die kamer, by die skool, in die skaapkraal, op die hoogste berg en tot aan die uithoeke van die wêreld. 

Luther het gesê: God is nader aan jou as wat jou klere aan jou lyf is. Hy is binne ons.

Daarom is die Vader – Alomteenwoordig.

Daarom is die Seun – Immanuel by ons.

Daarom is die Heilige Gees – die Trooster wat met almal is op alle plekke.

Die skrifgedeelte sê ook dat God my geken het toe ek nog in my moeder se skoot was. God het ’n duidelike sonar van my gehad. Soos die baarmoedervloeistof die baba omring, word ek van voor my geboorte deur God omring.

Al ons lewensdae is opgeskryf in God se boek.

Christene van die vierde eeu na Christus het mekaar met die volgende seëngroet herinner aan die teenwoordigheid van die Here:

“Die Here is voor jou …..

Om die weg gelyk te maak.

Die Here is langs jou …..

Om jou in Sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou ….

Om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou …..

Om jou te dra as jy mag val.

Die Here is rondom jou ….

Om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou ….

Om jou te seën.

Die Here is binne jou …..

Om jou te inspireer en te lei.

Van nou af tot in ewigheid.”

Die boodskap van Psalm 139 is dat God ons ken van binne en buite. Hy ken selfs ons niere, wat beteken Hy ken ons gewete. Ons is geregistreer op God se databasis. God weet van ons in 2022. God is met ons in 2022.

Hierdie Psalm 139 beskryf baie mooi die alomteenwoordigheid van God. Wat beteken dit dat ons bely dat God alomteenwoordig is? Die voorvoegsel “alom” is afgelei van die Latynse betekenis “alles”. Daarom beteken God se alomteenwoordig dat God oral en in alles teenwoordig is. Daarom is God ook teenwoordig in alles van jou lewe, soos jou swaarkry, siekte en bekommernis, alleenheid en jou persoonlike menslike lyding.

’n Mens kan God se alomteenwoordigheid wel nie sien nie, maar dit is daar. Oral rondom jou is daar geluide, seine en radiogolwe. Jy kan dit nie sien nie, maar as jy ’n instrument soos ’n radio of selfoon aanskakel, dan kan jy dit skielik sien en hoor. So is God se alomteenwoordigheid ’n werklikheid, wat ons nie kan sien nie. Maar Geesvervulde gelowiges kan God se alomteenwoordigheid op ’n besondere manier beleef en ervaar. So het koning Dawid wat die Psalm geskryf het, God se alomteenwoordigheid ook op ’n besondere wyse beleef en sy ervaring in Psalm 139 uitgedruk.

Psalm 139 word met ’n gebed afgesluit in verse 23 en 24, naamlik: Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.” Koning Dawid onderwerp hom aan die Here wat alles sien en weet in Sy alomteenwoordigheid, en vra as’t ware vir God om hom te help om hom op die regte pad te hou, deur hom te weerhou van afgode.

Mag ons ook in 2022 beleef dat God alomteenwoordig is, ook in ons menslike lyding. Mag ons in 2022 die regte pad loop, wetende dat die almagtige God alsiende is in alles wat ons doen, sê en dink.

Moenie in 2022 deur dinge omring wees nie. Nee, beleef eerder dat God jou van alle kante omring. Daarom kan jy God se geborgenheid beleef.                AMEN

(Preek is gedeeltelik afkomstig van ‘n preekskets wat ek eenmaal gelees het. Dit is verwerk en bygevoeg.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Leer ons om ons lewensdae reg te tel.

SKRIFLESING: Psalm 90: 1 – 17

Elke jaar met Oujaar, wens mense vir mekaar ’n voorspoedige en geseënde Nuwejaar toe. Die verwagting is dat die nuwe jaar beter as die ou jaar sal wees. Nou weet ons uit ervaring dat dit net wensdenkery is. Elke jaar het hoogtepunte, maar veral ook laagtepunte. Psalm 90 kom onderstreep in vers 15 die voorspoed én die teenspoed van die lewe. Daarom moet ons nie met valse verwagtinge die nuwe jaar binnegaan nie. Ons hoef nie die jaar met vrees in te gaan nie, maar ons moet dit gelowig binnegaan.

Psalm 90 is deur Moses geskryf. Dit is die enigste Psalm in die Psalmboek wat deur Moses geskryf is. Daarom is dit ook die oudste Psalm. Die konteks van die Psalm is dat Moses dit geskryf het aan die einde van die 40 jaar-trek deur die woestyn en dat die Exodus-generasie toe al in die woestyn uitgesterf het.

Dit was die voltrekking van die sonde wat die volk by Kades-Barnéa gepleeg het. Kades-Barnéa was op die grens in die beloofde land. Hier het Moses vroeër twaalf mans uitgestuur om die beloofde land te verken. Hulle was vir 40 dae weg om te gaan spioeneer. Met hulle terugkoms was daar verdeeldheid tussen die twaalf spioene. Al twaalf het erken dat dit ’n besondere land was en dat die vrug van die land groot was. Joshua en Kaleb was die enigste twee verkenners wat gesê het dat die land verseker ingeval kon word, met die hulp van die Here. Die ander tien verkenners het gesê dit was onmoontlik. Nie eens God kon hulle help om die land in te neem nie. Die manne het toe vir Joshua en Kaleb probeer doodgooi met klippe. Die Here was ontsteld en het die volk op ’n veertig jaar-tog deur die woestyn geplaas. Vir elke dag wat die verspieders in die beloofde land was, moes die volk ’n jaar deur die woestyn trek, wat dit 40 jaar maak (Numeri 14: 34). Gedurende daardie veertig jaar sou almal wat uit Egipte kom, sterf, behalwe die twee getroue verspieders, Joshua en Kaleb, en almal wat jonger as twintig jaar was.

As ’n mens na die bevolkingsgetalle kyk wat in Numeri verstrek word, het ’n aardige hoeveelheid mense uit Egipte getrek. In 38 jaar sou Moses die dood van 1 200 000 mense aanskou. Dit is die héle volwasse bevolking wat Egipte verlaat het, almal twintig jaar en ouer. Die woestyn het een groot begraafplaas geword. Dit beteken daar het elke jaar 31 580 mense gesterf. Daar sou gemiddeld 87 begrafnisse per dag gewees het. Dit alles as gevolg van die sonde wat by Kades-Barnéa gepleeg is.

Interessant van Kades-Barnéa was dat dit ’n vrugbare vallei was op die grens na die beloofde land. Volgens Deut. 1: 46 het die volk ’n baie lang tyd hier gebly. ’n Groot deel van die 40 jaar in die woestyn kon hulle in dié vrugbare vallei bly en daar het ook baie belangrike woestynverhale hier afgespeel.

’n Mens moet hierdie konteks verstaan om te begryp hoekom Moses in Psalm 90, aan die einde van die 40 jaar-woestyntog, so realisties oor die dood en die verganklikheid van die lewe skryf. In Psalm 90: 3 – 7 staan daar: “ereHere U laat sterflinge terugkeer tot stof; U sê net: ‘Keer terug, mensekinders!’ Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister wanneer dit verbygaan, ‘n wagbeurt in die nag. U vee hulle weg in die slaap. In die oggend is hulle soos gras wat opskiet, wat in die oggend bloei en uitspruit, en teen die aand verlep en verdroog. Ja, ons het vergaan onder u toorn, deur u woede word ons verskrik.”

Duidelik word in dié gedeelte die sterflikheid van die mens, asook die rede vir sy sterflikheid, naamlik die toorn van die Here oor die sonde van die mens. Psalm 90: 10 beskryf die verganklikheid so duidelik: “Die dae van ons lewensjare –  dit is maar sewentig jaar, en as die kragte daar is, tagtig jaar. En die beste daarvan is vol moeite en rampe;  ja, dit gaan gou verby, en ons vlieg weg.”

Dan vind Moses vertroue daarin dat, al is alle mense sterflik, God ewig is. God staan vas. Voor die geboorte van die berge was God al daar. In Psalm 90: 2 staan daar: “Voordat die berge gebore is en U die aarde en die bewoonbare wêreld voortgebring het, ja, van altyd af en vir ewig is U God.” Daarom sê vers 1 die Here is die woning van die sterflike mens.

Maar hoe bring jy dan jou lewensdae deur as dit so kort is? As jou lewensdae soos gras vergaan, hoe leef jy dan sinvol? Dit is die gevolgtrekking waartoe Moses kom in Psalm 90: 12, naamlik:  “Om ons lewensdae na waarde  te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ‘n hart vol wysheid  kan verwerf.” “Na waarde te skat” kan ook vertaal word met “reg te verdeel” of “reg te tel”. Die vertalings impliseer ons moet nie ons kortstondige lewe vermors met onsinnighede nie.

Ek het nou al 21 268 dae gelewe. Ek is 58 jaar oud. Die jare het deur my vingers geglip soos sand.  Sowat 80 % van my lewe is verby. Ek het nog enkele jare oor. Sou ek 70 word, het ek nog net ’n skrale 4 380 dae oor. Dit is min slapies. Hoe het ek my lewensdae deurgebring? Het ek dit reg verdeel, in die sake wat regtig belangrik is? Hoe wil ek my laaste jare deurbring? Dit is ’n vraag vir die Oujaar, wat nou gaan uitloop op die Nuwejaar. Almal kla die jare vlieg verby. Dit was  Moses se presiese ervaring in vers 10. Hy praat ook van die jare wat vlieg.

Daarom vertaal die Hollandse teks Psalm 90: 12 as volg: “ Leer ons zo onze dagen te tellen dat wijsheid ons hart vervult.”  Die Hollandse dominee, Ds Jos Douma, verklaar die gedeelte dat God ons wil help om in wysheid “ ’n lewenskunstenaar” te word. Bedoelende dat ek ’n kunstenaar moet wees wat my eie lewe skilder met wysheid, liefde en lewenservaring. Daarom moet ek kreatief met elke lewensdag omgaan en die beste daarvan maak. Jou lewensboek moet jy met wysheid skrywe. Die dwase skryf in sy lewensboek ’n klomp sotlikhede, wat later uitloop op spyt. 

Ons weet nie hoe dik ons lewensboek is nie. Sommige mense het ’n lang lewe en daarom ’n dik lewensboek. Sommiges se lewe is kort en daarom is hulle lewensboek nie dik nie. Dit is egter nie die dikte van jou lewensboek wat jou lewe bepaal nie, maar die kwaliteit waarmee jy kreatief met wysheid omgegaan het in jou lewe.

Ons weet nie wanneer ons by die slothoofstuk van ons lewe gaan uitkom nie, maar lewe elke dag “Carpe Diem”. Jy gryp elke dag en lewe met wysheid. Jy is die kunstenaar van jou lewe en van die nuwe jaar 2022.

Wanneer jy in wysheid lewe, sal die handewerk van jou lewe bly staan, selfs tot na jou dood. Dit is die gebed van Moses in vers 17b, dat die Here die handewerk van ons lewe in stand sal hou. Jou nalatenskap word bepaal deur die vraag of jy ’n lewenskunstenaar was wat jou lewe uitgekerf en geskilder het met wysheid.

Joshua en Kaleb, wat positief was oor die uitkoms wat God kon gee as die beloofde land binnegeval word, het dan ook die beloofde land gesien. Die ander verspieders en die geslag ouer as twintig jaar het almal uitgesterf in die woestyn, want hulle het nie geglo dat die Here die beloofde land vir hulle kon gee nie. Hulle was ongelowig by Kades-Barnéa. Laat ons nie dieselfde fout maak en die sonde pleeg van Kades-Barnéa nie.

Laat ons 2022 binneval, met die volle geloofsoortuiging dat die Here die oorwinning vir ons kan gee in 2022.                                Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die huis en etenstafel as kweekhuis.

SKRIFLESING: Ps 128: 1 – 6 en 1 Timotheus 1: 5

Christus Jesus is die sterk, gesonde wortelstok, waarin ons as gelowiges ingeënt word by ons doop. Met ons doop word ons deel van die geslag van Abraham,  die vader van die geloof.

Daarom word ons met ons doop almal kinders van Abraham. Ons word deel van die Christelike geloof. Daarom is die doop die teken van die inlywing by die Christelike kerk en deel kry aan al die beloftes wat God vir sy kinders in die Bybel opgeteken het. Dit is vanoggend ook waar van Ava Rose Dias.

Daarom neem God die inisiatief met die kinderdoop. Hy kom stel homself bekend aan kindertjies wat nog niks verstaan nie. God gee die eerste tree in die verbond. Daarom noem ons dit die genadeverbond.

Soos wat ‘n man ‘n meisie die hof maak en die inisiatief neem in die verhouding, is God ook die God wat die inisiatief neem in die doop. Later sal die kind bewus word van God se liefde vir haar of hom en God se liefde terug beantwoord.

Soos wat die naelstring afgebind word by die geboorte en daar ‘n biologiese skeiding plaasvind tussen moeder en baba, word daar met die doop ‘n NUWE NAELSTRING gevorm.  Dit is ‘n geestelike naelstring, waardeur die kind ingelyf word in die kerk van Jesus Christus.

As God deur die doop ‘n naelstring met die dopeling bind, dan is die gemeente die baarmoeder waarbinne die dopeling moet groei. Daarom moet die hele gemeente verantwoordelikheid neem om so te leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. Daarom moet die doopouers ook hulle kinders in die kerk en in die erediens grootmaak, want dit is God se baarmoeder. Hulle moet ‘n liefde vir die kerk ontwikkel, sodat hulle eendag aktiewe lidmate van die Here se kerk sal wees.

Daarom maak die doop jou ‘n lidmaat van die kerk, en nie belydenisaflegging nie. By die belydenisaflegging aanvaar die jongmens net die verantwoordelikheid van sy lidmaatskap wat hy met die doop ontvang het.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont gewoonlik by die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die doopplegtigheid plaasvind, gaan die priester na die doopvont by die ingangsportaal en doop die kindjie. Die priester dra dan die kindjie van die ingangsportaal vorentoe en stel hom of haar bekend aan die hele gemeente as nuwe lidmaat.

Dit is ook die wonder van die kinderdoop. God is ALLEEN aktief, terwyl die dopelinge nie eers bewus is wat nou met hulle gebeur nie.

Daarom moet ons huis en ons etenstafel aan die Here gewy wees.

Psalm 128:3 – “Jou vrou is soos ‘n vrugbare  wingerdstok  in die binnekamers   van jou huis.   Jou kinders is soos olyfboompies   om jou tafel.”

Eerstens moet my huis aan die Here gewys wees. My huis moet soos ’n kweekhuis wees waarbinne my kinders groot word. In ’n kweekhuis word bome gereeld gesnoei. ’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n boom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik, veral volgens die Spreukeboek van die Bybel.  Die huis is die kwekery waar geloofsoordrag plaasvind en waar integriteit gekweek word by kinders. In ‘n kwekery word bome gesnoei om ‘n mooi vorm aan te neem.  Dink aan Bonsai-boompies wat met groot sorg gekweek, gesnoei en versorg word. Die uiteinde is ‘n kunswerk.Daarom vra die doopbelofte ‘n stuk verantwoordelikheid van die doopouers. Die doopouers beloof in die doop om God se kindjie groot te maak in die vrese van die Here. Daar is navorsing gedoen, wat bevestig dat meer as 82 % van die geloofsoordrag plaasvind deur die ouers se opvoeding in die ouerhuis. Daarna kom vriende se invloed en dan eers die kerk. Daarom is ouers van sleutelbelang as dit kom by geloofsvorming en geloofskweking van dopelinge. Dit kos net een geslag wat afvallig word van die Here, om ‘n ongelowige te kweek. Daarom is die doopbelofte wat die ouers aflê baie belangrik. In 1 Timotheus 1: 5 maak Paulus daarvan melding dat Timotheus se geloof bewerk is deur God, wat sy ma Eunice en sy ouma Loïs gebruik het om die geloofsoordrag te laat plaasvind. Shaun en Anke Dias, moet hulle twee dogtertjies Emilia en Ava groot maak in die vrese van die Here.

My eerste ervaring van geloofsoordrag het plaasgevind toe ek ‘n klein seuntjie was en my moeder elke aand vir my uit die Kinderbybel geleer het en my geleer het om ‘n eenvoudige kindergebed op te sê. Daarom moet geloofsopvoeding so vroeg as moontlik begin.

Johannes Calvyn het gesê, kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ‘n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die dopelinge kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die dopeling moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die dopeling moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  Daarom moet dopelinge al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ‘n afspraak het.

Tweedens moet my etenstafel ook aan die Here gewys wees.

Die Boesmans se kombuistafel het die volgende behels: om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories te vertel, te eet, te kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider-Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwester. Hulle het televisies gekry, selfone gekry, oonde gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf, omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.

Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone en tegnologie  nie. Mense het nog rondom die kombuistafel gekuier. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie gekuier. Met die aanbreek van die selfoontegnologie-era is mense weer besig om teksboodskappe te stuur aan die etenstafel. So word die kombuistafel verwaarloos. 

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op stil gestel word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof Anna Fishel  van die Harvard Medical School skryf in “The Washington Post” as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is aan die feit dat daar daar nie ’n kombuistafel-kultuur tuis was nie.

Kersfees gaan ons ook rondom ’n heerlike kostafel sit. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Ons kinders en kleinkinders is vir ons ‘n sieraad. Daarom kan ons getroos wees dat ons kinders deur die doop met ‘n ewige naelstring aan God verbind is. Daarom moet ons ons huise en etenstafel gebruik as die kweekhuis waar ons ons kinders kan opvoed om eendag jongmanne en jongmeisies te wees wat God ken. Wie sy doopbelofte nakom, sal nie eendag wakker lê van bekommernis of my kind op die regte pad is nie. Mag die Here die doopouers en grootouers gebruik as ‘n kweekhuis vir hierdie boompies wat nog gevorm moet word met GEBORGENHEID en SEKURITEIT.   Mag die Here vir Ava Rose Dias seën haar lewe lank en mag sy in die huis van die Here woon tot in lengte van dae.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die volmaakte offer in die krip …

SKRIFLESING: Lukas 2: 8 – 12

Die volgende interpretasie van die geboorteverhaal van Jesus Christus, word lewend gehou deur Jode wat Christene geword het. Hulle het dan veral die Joodse gebruike baie goed geken en gee ’n unieke interpretasie van die krip in Bethlehem.  

Jesus is in Bethlehem in ’n stal, waarskynlik naby Migdal Eder gebore en is in ’n klipkrip (krip uitgekap uit klip) geplaas, wat slegs vir die geboorte van offerlammers gebruik word. God wou hê dat Sy Seun in ’n klipkrip op ’n baie spesiale plek gebore moet word: Migdal Eder, die Toring van die Kudde, as die Paaslam van God.

Ten tye van Jesus se geboorte het Bethlehem ’n bevolking van ongeveer driehonderd gehad en was dit die gebied waar Levitiese herders lammers grootgemaak het vir offers by die Tempel in Jerusalem. Hierdie spesiale herders is opgelei en het die verantwoordelikheid gehad om te onderskei watter lammers geskik is om te offer aangesien slegs ’n onbevlekte lam aanvaarbaar was.

Om die jong lammers veilig en skoon te hou, was nie ’n maklike taak in hierdie klipperige area nie, daarom is die gekose lammers beskerm deur hulle in repies lap wat bekend staan ​​as doeke, toe te draai. Die lappe of bande het die lam warm gehou. Enige defek van ’n skraap of besering sal vereis dat die lam afgekeur word en saam met die ander lammers en skape wat net gewone vee was, uitgestuur word. ’n Gedeelte in die Misjna bevestig ook die gevolgtrekking dat die troppe skape vir tempeloffers bestem was. Die Levitiese herders het dus offerlammers wat volmaak is, geteel en dan verkoop aan Jode wat op pad was na Jerusalem om te gaan offer.

Terwyl ons aan daardie nag dink meer as 2 000 jaar gelede, het Josef en Maria in die dorp Bethlehem aangekom toe Maria op die punt was om geboorte te skenk. Daar was geen hotelle of herberge soos ons vandag ken nie. Hulle enigste opsie was om ’n familielid te vind wat hulle dalk sou verwelkom het of om ’n vreemdeling te vind wat vir hulle ’n kamer teen ’n prys kon aangebied het. Maar ons weet dit het nie gebeur nie. Die oorbevolking in Bethlehem weens die sensus, was ’n groot probleem vir die jong egpaar. Boonop sou Maria binnekort geboorte  skenk, en dit het beteken dat daar bloeding sou wees, wat hul gasheer se huis seremonieel onrein sou maak volgens Joodse wette. Maria en Josef se opsie was om die enigste beskikbare verblyf te aanvaar: ’n stal of ’n grot van een of ander aard. Maar God het dit so beskik dat Jesus in ’n stal gebore moes word.

Migdal Eder, sowat 2 000 treë van Bethlehem geleë, was ’n toring op die pad tussen Bethlehem en Jerusalem en word in die Ou Testament genoem deur die profeet Miga wat voorspel het dat die Messias in Bethlehem gebore sou word, en Hy sou kom na “die toring van die kudde.”

Miga 4:8 “En jy, wagtoring van die kudde, vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy is op pad –  die koningskap vir die dogter van Jerusalem.

Jesus, die Messias, is as ’n offerlam gebore op dieselfde plek waar alle ander onbevlekte en onbeseerde lammers gebore is en dan ingewy is vir offer. Jesus sou in soortgelyke doeke toegedraai word as dié waarin die offerdiere toegedraai is. Daarom verklaar dit die skrifgedeelte, dat die engele net aan die herders openbaar het dat die Kind gebore is in ‘n krip. Die engele het nie vir hulle die ligging van die krip bekend gemaak nie, want hulle ken Migdal Eder, as die geboorteplek van die lammers. Daarom het hulle geweet waar om vir Jesus te soek.

Johannes die Doper het grootgeword met ’n kennis van die verhale en profesieë aangaande Jesus, sy neef. Toe hy Jesus sien, sê hy: “Daar is die Lam van God.”

Migdal Eder

Die Skriftuur, geskiedenis en omgewing pas alles perfek by die geboorteverhaal in. Jesus sou in Bethlehem, by Migdal Eder, gebore word en dan in die klipkrip geplaas word wat slegs vir die geboorte van offerlammers gebruik word. Die belang van Jesus se geboorte is dat die Seun presies gekom het soos, wanneer en waar die Vader lank terug belowe het. Die herders van die eerste tot vierde eeue het die ligging lewendig gehou in hul verhale en ’n Bisantynse klooster is in die vierde eeu oor Migdal Eder gebou.

Die wonder van die volmaakte offer in die krip was dat die Kind uit ’n maagd gebore is. Ons moet hierdie Kersfees ons ook hieraan verwonder. Dít was deel van die plan sodat die Jesuskind die perfekte Lam van God sou wees. Dit was ’n maagdelike geboorte, sonder die toedoen van ’n man. Daarom is Jesus Christus die perfekte offer in die krip, want Hy was sonder die letsels van sonde.

Jesus Christus was sondeloos.

Die wonder van die maagdelike geboorte is die hart van ons belydenis. Daarvan mag ons nie afwyk nie. Gewoonlik het Joodse meisies op 13 tot 15 jaar verloof geraak aan ’n man. Maria was aan Josef verloof. Voor hulle kon trou, word Maria maagdelik swanger en die engel troos Maria en Josef dat die geboorte bonatuurlik is en van God kom. Nogtans moes hulle trou, want God wou Sy Seun in die geborgenheid van ’n huwelik laat groot word, wat kom onderstreep hoe belangrik die huwelik vir God is, as die “opgroei” plek vir kinders.

Thomas Watson skryf as volg: “That man should be made in God’s image was a wonder, but that God should be made in man’s image is a greater wonder. That the Ancient of Days should be born, that he who thunders in the heavens should cry in the cradle… that he who rules the stars should suck the breast; that a virgin should conceive; that Christ should be made of a woman, and of that woman which [He] himself made; that the branch should bear the vine; that the mother should be younger than the child she bore, and the child in the womb bigger than the mother; that the human nature should not be God, yet one with God; this was not only mirum [Eng. surprise] but miraculum [Eng. miracle]. Christ taking flesh is a mystery we shall never fully understand till we come to heaven…

Verder skryf Thomas Watson die volgende: “[Christ] was born of a virgin, that we might be born of God. He took our flesh, that He might give us his Spirit. He lay in the manger that we might lie in paradise. He came down from heaven, that He might bring us to heaven.

Die maagdelike geboorte, wat Jesus die perfekte Lam sonder die letsels van sonde gemaak het, is te groot vir ons om te verstaan. Ons kan dit alleen maar kinderlik gelowig bely. Die Lam was perfek, sonder sonde, want dit was ’n maagdelike geboorte.

Die diere kom nie in die Kersevangelie voor nie, maar kom uit die Ou Testament. Soos die profeet Jesaja gesê het: “’n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” (Jesaja 1: 3)

Later word die diere ook genoem as simbole vir Judaïsme (die bees) en heidendom (die donkie). Omdat die os ook as ’n “skoon” dier gesien word, word dit gewoonlik aan die kant van Maria in die stal gesit en die donkie saam met Josef. Jesaja vermaan as’t ware vir  Israel oor hulle ontrou. Die bees en donkie ken hulle eienaar en die krip waaruit hulle eet, maar God se volk ken nie die krip nie. Die bees en donkie staan vir onnoselheid. Mag ons in ons wysheid reg kies, om te buig voor die krip waarin die volmaakte offer lê.

Vir eeue het die Jode op pad na Jerusalem vir hulle offerdiere by Migdal Eder in Bethlehem gekoop om te offer by die tempel in Jerusalem. Toe Jesus Christus in die krip van die offerdiere lê, het Hy die volmaakte Paaslam geword. In Hom en deur Hom, sou die bloed van offerdiere ophou vloei, want Hy het Sy bloed laat vloei op Golgota.

Van krip tot kruis was Jesus Christus die volmaakte Lam van God. Sy geboorte was maagdelik, sodat Hy sonder sonde en enige beletsel aanvaar sou word as die offer wat geslag is vir die sonde van die wêreld.

Kyk, in die krip van Bethlehem lê dié volmaakte offer. Die bees en die donkie ken die krip van hulle eienaar.

Ken jy die krip van dié Een wat vir jou lief is? Buig jy ook vandag by dié krip?

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

  1. Vertellings van die gids by Bethlehem in Israel met die naam van Lahdo L Shio. (Dit is soos die Joodse Christene dit verstaan.)
  2. Navorsing en artikel deur Donna Gawell
  3. Negev, A. (1990). In The Archaeological Encyclopedia of the Holy Land (3rd ed.). New York: Prentice Hall Press
  4. The Sign Given to the Shepherds (Dec 25, 2019) Bible.org 
  5. A Visual Guide to Bible Events (2009) Martin, Beck and Hansen, Baker Publishing
  6. Holy Land Lecture Series by Pastor Dan Travis, Blacklick, Ohio
  7. Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 198

Afrikaners moet nie té plesierig wees nie …

SKRIFLESING: Gen 12: 1 – 3

Geloftedag moenie as politieke feesdag vir die Afrikaner gevier word nie.

Geloftedag is ten diepste ’n viering van God se beskerming en antwoord op die noodgebed van mede-volksgenote. Ons moet Geloftedag so kan vier, dat selfs ’n Zoeloe-Christen tuis sal voel in die erediens. Afrikaners moenie te plesierig wees tydens Geloftedagvieringe nie, asof God aan hulle kant was of nog steeds is.

Almal wil God mos aan hulle kant hê. Mense dink as God aan ons kant is, sal alles goed gaan. Dink maar aan voorbeelde in die moderne geskiedenis, wat getuig hoe mense God aan hulle kant wil hê en as’t ware aan hulle kant wil plaas, byvoorbeeld soos in die Engelse volkslied: “God save the Queen”. Of die Duitse slagspreuk in die Tweede Wêreldoorlog: “For Gott, Volk und Vaterland”. In my ouma se eetkamer het daar ook ’n prent gehang van al die Boere-generaals met die woorde: “Vir God, volk en vaderland.”  In die bevrydingsteologie is God geplaas aan die kant van die armes. Dan kry ons natuurlik ook die swart volksteologie, wat Christus aan die kruis uitbeeld met ’n AK47-geweer. Of die wit volksteologie wat erg rassisties teenoor swart mense dink.

In die Anglo-Boereoorlog het beide die Engelse en die Boere in God geglo. Voor elke slag het elke kant gevra dat God vir hulle die oorwinning moet gee. In rugbywedstryde kan spelers maklik vra dat God asseblief hulle span sal laat wen. In die boerdery kan een boer bid vir reën en dan wil ’n ander boer, wat met iets anders boer, weer geen reën hê nie, want dit is sy oestyd.

Politieke partye probeer God aan hulle kant kry. So het die ANC ’n paar jaar gelede verklaar dat hulle sal regeer tot die wederkoms. Onlangs het Julius Malema in ’n openbare toespraak gesê (in reaksie op die ANC se uitspraak), dat die wederkoms reeds gekom het, want die EFF is die wederkoms. Dit is absoluut Godslasterlik as jy God wil gebruik vir jou politieke doeleindes en persoonlike voordeel. 

So maak ons van God ’n pion op ’n skaakbord wat ons kan rondstoot soos ons wil. Ons maak van die lewende God ’n afgod wat ons kan optel en aan ons kant kan plaas. Dan word God niks meer as ’n gelukbringer vir ons nie.

Maar God laat Hom nie rondstoot of rondplaas nie. Wie aanmatigend verklaar: “God is aan ons kant,” dink menslik en klein oor die lewende en almagtige God. Nee, God kies nie kant nie. God het nie swartskape en witbroodjies nie.

Die vraag moenie wees aan wie se kant God is nie, maar eerder: Is ek (ons) aan God se kant? Verstaan ek wat God se roeping vir my is?

In Genesis 12: 1 – 3 staan daar:  “Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys. Ek sal jou ‘n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak; sodat jy ‘n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën; maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die groot families van die aarde geseënd wees.”

Die Here het vir Abram geroep om tot seën te wees van die wêreld. Deur Abram sou God die wêreld seën. Daarom het God ook later ’n verbond  met Abram gesluit, sodat al die volke van die wêreld deel van die verbond sou word.

So is ons geroep om tot seën te wees. Ook die Afrikaners het as volk tot stand gekom uit baie volke om tot seën te wees in hierdie Suidland.

God het sy gelowiges uit elke volk gekies, nie om tot eie voordeel te leef nie, maar daar te wees tot die seën en voordeel van die nasies. Daarom moet ons ’n missionale kerk wees, wat glo ons is geplant om tot seën van die wêreld te wees.

Toe van Riebeeck aan wal gaan in Tafelbaai met die drie skepe en met sy werksaamhede alhier begin, begin hy dit met die volgende gebed uit Hollands in Afrikaans vertaal:

“Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur.

Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader, dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in watter mate ook al op eie voordeel of winsbejag

let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat  in die hemel is, … Amen”

Deur die loop van drie eeue sou die gebed van Jan van Riebeeck waar word. Die   NG Kerk sou op ’n merkwaardige wyse die landskap van Suid-Afrika verander, sodat daar vandag in elke stad en dorp gemeentes is wat afstam vanuit die sendingvisie van ons voorvaders. 

Decoligny Teologiese Skool

Ons voorouers het sendingkerke, sendingskole en sendinghospitale gebou dwarsdeur Suid-Afrika en die omliggende lande, tot sover as Malawi. Vrouens het aan die Sendingbond behoort en elkeen het ’n sendingbussie gehad waarmee daar geld vir die sending ingesamel is. Daar was selfs Sendingsondae en sendingkoeverte. Daar was ’n amp bekend as evangeliste, wat as “eerwaarde” aangespreek is. Voor 1994 was daar nog agtien sendingposte, net in die Oos-Kaap. Dit is ’n ongelooflike verhaal van omgee en die deel van die Evangelie.  Kerkrade en Sinodes het ’n Evangelisasie-kommissie en ’n Sendingkommissie gehad. ’n Evangelisasie-kommissie om afgedwaaldes terug te bring na die kerk en ’n Sendingkommissie om dié wat nog nooit van die Here gehoor het nie, ook te bereik. Die vrug op die destydse sendingbeleid van die NG Kerk het ’n wonderlike oes ingebring en ons Suid-Afrikaanse landskap verander. Daarom is ’n groot persentasie Suid-Afrikaners Christene.

So het God ons voorouers gebruik en wil Hy ons gebruik om tot seën te wees.

Ons voel dikwels bedreig in hierdie Suidland. Maar ons kan weet dat die God wat ons voorouers beskerm het tydens Bloedrivier, ook oor ons sal waak. Bloedrivier was een groot wonderwerk.  

Die afgelope week het die grondonteiening-wetsontwerp gesneuwel in die parlement deurdat die Konstitusie nie verander kon word nie. Daardeur is grondbesit en voedselsekerheid in Suid-Afrika verseker. Ons glo dat die Here op so ’n manier ook ons land beskerm het daarteen om ’n tweede Zimbabwe te word. Ons vertrou Hom ook vir die toekoms. 

Die historikus D.J. Kotzé beskryf dat die wonder van Bloedrivier drievoudig en totaal buite die beheer van die Voortrekkers was. Eerstens het die Zoeloes nie in die nag aangeval nie, tweedens het die mis wat die nag voor die geveg oor die laer gehang het, met dagbreek gelig en derdens het dit nie tydens die geveg gereën nie. Volgens Kotzé moet ’n mens aanvaar dat ’n Hoër Hand al drie hierdie dinge só beskik het.   Van die Zoeloes wat Bloedrivier oorleef het, vertel dat hulle nie in die nag aangeval het soos hulle gebruik was nie, want daar was wit gedaantes wat oor die kamp gehang het, as gevolg van die lanternlampe en die mis. Hulle het toe nie aangeval nie. Dit opsigself is ’n wonderwerk wat net deur die Here beskik kon gewees het.

Die Here het ons geroep om tot seën te wees in Suider-Afrika. Dieselfde God van Bloedrivier sal ons ook beskerm, sodat ons dit kan regkry om tot seën te wees van al Suid-Afrika se mense.

Daarom moet ons Geloftefees onthou en vier. Ons moet onthou dat God ons beskerm en dat ons ’n roeping het om tot seën van al die mense van Suid-Afrika te wees.                                                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VAN WANHOOP NA TROOS

SKRIFLESING: Jesaja 40: 1 – 11

Om Jesaja 40 te verstaan, is dit belangrik dat ons Jesaja 39 eers nadertrek. Tussen Jesaja 39 en Jesaja 40 is daar ’n verskil van 70 jaar. Jesaja 39 is die aankondiging van die Babiloniese ballingskap en Jesaja 40 is die aankondiging van die herstel en vrylating uit Babiloniese ballingskap. Die volk was tussen 586 vC en 516 vC in Babiloniese ballingskap. Jesaja 39 is ’n oordeel-aankondiging en Jesaja 40 is ’n genade-aankondiging.

Jesaja 39 speel af voor die Babiloniese ballingskap en ons lees dat Jesaja vir koning Hiskia van Juda die volgende boodskap bring in Jesaja 39: 6: ” ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê.”

Ballingskap is erg. Dit is ontworteling van alles wat vir jou bekend was. Jy verloor alles en moet met niks ’n nuwe begin maak. Jy word van selfstandigheid gestroop en jy word ’n kneg van ’n nuwe politieke orde. Dit is traumaties om van sekerhede te beweeg na totale onsekerheid. Vir Israel was dit erg. Vir dekades het hulle in ballingskap gelewe.

Eugene Peterson skryf die volgende oor ballingskap: “The essential meaning of exile is that we are where we don’t want to be.”

(Histoire Sainte -Paule Landron – Illustration Marie Odile de Laforcade-Droguet et Ardant-Limoges 1991)

Dit is presies die plek waar baie wit en bruin mense van Suid Afrika op die oomblik is en nie wil wees nie. In die vorige politieke bedeling van apartheid was die swart en bruin mense op ’n plek waar hulle nie wou wees nie. Die Afrikaner het ’n onreg gepleeg deur mense in ballingskap te plaas. Maar nou is die bordjies verhang en ervaar die wit en bruin mense ballingskap in hulle eie land. Daarom trek honderdduisende mense vandag oor na ander dele van die wêreld vir ’n heenkome en werk. As jy vandag wit of bruin is, is daar nie vir jou werk nie. Regstellende aksie laat ras swaarder weeg as bekwaamheid, kwalifikasies of talent. Die boeregemeenskap word geteiken om hulle grond af te vat. Boere word vermoor en plattelandse gemeenskappe lewe in vrees. Korrupsie vreet soos kanker aan ons land se ekonomie. In sport speel ras-kwotas ’n groter rol as meriete. Die infrastruktuur en munisipale dienslewering van ons land is slegs ’n skaduwee van wat dit eers was.

Ons is op ’n plek waar ons nie wil wees nie.

Daar is nog ’n plek waar ons nie wil wees nie. Dit is in ons sondeskuld. Sondeskuld is ook om in ballingskap te wees. Sonde maak van jou ’n kneg. Jy is in die kettings van bitterheid, haat, naywer, woede, rusie, verdeeldheid, onsedelikheid en ander verkeerde dade en gedagtes. Jy is nie vry nie, want jy is nog nie vrygespreek nie. Dit is die ergste vorm van ballingskap. Die hooftema van die Bybel is juis God se plan om ons uit die ballingskap van die sonde en dood te verlos.

Die Bybel skryf ook dat die kerk van die Here deur die eeue hierdie ervaring van ballingskap gehad het. 1 Petrus 2: 11 herinner ons: ” Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge …” Daarby herinner Hebreërs 13 ons dat ons in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek het nie, dat ons nog op soek is na die toekomstige. Bedoelende dat ons in hierdie lewe eintlik in ballingskap is en dat ons op pad na iets beters is.

Dan belowe Jesaja 40 vir die Israeliete uitkoms, verlossing, troos en bevryding. Dit kan ons ook op óns van toepassing maak. Jesaja 40: 10 beskryf die Here as ’n kryger. En Jesaja 40: 11 beskryf die Here as ’n herder. Die Here is die kryger wat die Babiloniese gode en heersers verslaan en sy volk uitlei terug na Jerusalem, hulle stad. Die Here is die herder, wat sy volk sagkens bystaan na hulle traumatiese jare in ballingskap. Hy bring as herder vertroosting, heling en beskerming.

Tydens Advent kom die Here Jesus Christus ook as kryger om die sonde te verslaan en as herder ons uit te lei uit die ballingskap van sonde.

Jesaja 40: 3 – 4 uiter ’n voorspelling wat later op Johannes die Doper van toepassing sou wees: “ ‘n Stem roep: Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Arabae ‘n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak.   Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet ‘n vallei word.”   Die voorspelling van Jesaja 40: 3 – 4 voorspel die koms van Johannes die Doper wat die voorloper sou wees van Jesus Christus en vir Christus die pad gelyk sal maak deur dit voor te berei.

Die Arabae (in Hebreeus) in boonste aanhaling verwys na die Jordaanvallei, wes van die rivier waardeur die Israeliete getrek het met die uittog uit Egipte en waardeur hulle sal trek ná die bevryding uit Babilonië. (Afrikaanse 2020 Bybel se verklaring in voetnote)

Dit bevestig Markus 1 vir ons – die woorde van Jesaja 40 kry eers sy ware betekenis met die geboorte van Christus. Daar staan in Mark 1: 2 – 3 geskryf: “Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit –  hy sal jou pad gereedmaak. ‘n Stem van iemand wat roep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’.”  Jesus se Naam is Immanuel – nie God-ver-van-ons nie, maar God-met-ons! (Ds. Jan Steyn)

Die ballingskap wat ons op politieke, kulturele of dalk in ons persoonlike lewe ervaar, kan God dikwels op verrassende maniere kom aanspreek en oplos. Daarom is ons altyd mense van  hoop. Natuurlik het ons ook die ewige hoop, naamlik om uit die ballingskap van hierdie sterflike wêreld verlos te word, na die ewige nuwe Jerusalem, as God se koningskinders.

As jy in jou persoonlike lewe ballingskap ervaar van siekte, werkloosheid, finansiële probleme, verhoudingsprobleme of wat ook al, kan jy die lewende troos hê dat God die trooster is. Hy is jou kryger en herder, wat jou daardeur sal dra.

In die kerklike liturgie word dikwels gebruik gemaak van vier Advent-kerse en een wit Christus-kers. Die vier Advent-kerse word een vir een op ’n Adventsondag aangesteek. Die vier kerse se betekenis is:

  • Hoop
  • Vrede
  • Vreugde
  • Liefde

Die groot wit kers word op Oukersaand aangesteek om Christus te simboliseer.

Jesaja 39 is ’n hoofstuk van wanhoop. En dan, dekades later, kom Jesaja 40 wat ’n hoofstuk van hoop is.  

Mag die eerste Advent-kers ons herinner aan die ewige hoop wat ons het.  Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

MY KEUSES IS MY DIEPSTE VRYHEID …

SKRIFLESING: Gen 39: 1 – 23

Die hele lewe gaan oor keuses. Elke dag, elke oomblik maak ons keuses. Elke keuse het ’n gevolg. Wanneer ek ’n verkeerde keuse maak, het dit altyd ’n negatiewe gevolg in my lewe. Elke regte keuse word beloon met voorspoed.

Josef is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat te alle tye die regte keuses in sy lewe gemaak het. Wanneer dit goed gegaan het, het hy regte keuses gemaak. Wanneer die lewe vir hom verkeerde kaarte gegee het, het hy ook die regte keuses uitgeoefen. Daarom het die Here altyd vir Josef geseën, in goeie en slegte tye.

Josef se verhaal begin waar hy drome gedroom het. Sy broers was jaloers op hom omdat hy as jongste voorgetrek is. Hulle gooi hom toe in put en verkoop hom later as slaaf aan die Ismaeliete. Die Ismaeliete verkoop hom toe aan Potifar, ’n vername man in Egipte. As slaaf in Potifar se huis, seën die Here hom in alles. Hy vind guns in die oë van Potifar en word aangestel as hoof van Potifar se huis. Met uitnemendheid verrig hy sy taak. Maar toe kom daar ’n kinkel in die kabel. Potifar se vrou vind vir Josef baie aantreklik en wil hom verlei om saam met haar te lê en die onbetaamlike te doen. Josef is net ’n man. Maar dan maak hy die regte keuse om nie aan haar versoek te voldoen nie. Hy vlug weg van die versoeking. Elke dag het sy hom probeer verlei en elke keer het hy die regte keuse gemaak om nie aan haar versoek te voldoen nie. Eendag toe sy en Josef alleen in die huis is, pak sy vir Josef aan sy kleed en dring daarop aan dat sy by hom moet kom lê. Josef vlug weg, maar Potifar se vrou het Josef se kleed in die hande gekry.

Die slinkse vrou van Potifar het toe vir Josef gaan verkla by die huiswerkers en by haar man Potifar. Sy het valslik die Hebreeuse man beskuldig deur te sê dat Josef by haar toenadering sou gesoek het om haar seksueel te vermaak. Josef se kleed het sy as bewysstuk voorgehou.

Potifar was so kwaad dat hy vir Josef in die tronk, waar die koning se gevangenes aangehou is, gegooi het. Josef was dus nie in die gewone gevangenis nie. (Die Here het dit so bewerk, want die tronk sou hom later kontakte gee na die Farao self.)

Omdat Josef die regte keuse gemaak het, het die Here hom ook in die tronk geseën. Weer het Josef hom opgewerk, sodat die hoof van die gevangenis vir Josef aangestel het oor al die gevangenes.

’n Tydperk later het hy die kelner en bakker se drome uitgelê. Hul drome het waar geword. Die kelner is vrygelaat en het weer sy posisie aan die hof van die Farao opgeneem. Toe die Farao drome droom, het die kelner vir Farao vertel van Josef in die tronk. So het dit gekom dat Josef ook die Farao se drome uitlê en aangestel word in die tweede hoogste posisie in die Egiptiese ryk.

Al Josef se regte keuses bring vir hom die seën van die Here oor sy lewe.

Toe die hongersnood uitbreek en Egipte se skure oorloop van graan, het Josef se broers Egipte toe gereis om graan en brood te soek. Josef het hulle herken, maar hulle het hom nie herken nie. Josef het toe die mag gehad om sy broers dood te maak, omdat hulle hom destyds verkoop het as ’n slaaf. Maar weer maak Josef die regte keuse. Hy laat sy broers lewe en laat hulle en sy pa na Egipte trek, waar daar oorgenoeg kos is. So red hy sy gesin. Hy kon gekies het om weerwraak te neem, maar nee, hy kies om te vergewe. Deur Josef se regte keuses, kon God se verbondsvolk gered word van hongersnood en uitwissing.

Die uitkoms van jou lewe word nie bepaal deur omstandighede nie, maar deur die keuses wat jy maak, selfs al is die omstandighede nie goed nie.

Josef het die verlies van ’n gesin ervaar toe hy verkoop is. Hy het, as slaaf, verlies aan vryheid ervaar. In die gevangenis het hy verlies aan vrye beweging ervaar. Hy het verlies aan menswaardigheid ervaar.

Verlies is nie maklik nie. In veral oorlogstye verloor mense baie goed in ’n kort tydjie. Victor Frankl het as Joodse psigiater in Auschwitzkamp ’n fyn waarneming gemaak van hoe mense reageer in tye van verlies. Die Jode het alles in die konsentrasiekampe verloor. Hulle het hul vryheid, geliefdes, vriende, gesondheid, besittings, beroepe, besighede, status in die samelewing, hul hoop, hul menswaardigheid en nog ’n klomp ander dinge verloor. Sommige het selfs hul geloof verloor. In sy boek “Search for meaning” beskryf Frankl hulle menslike reaksies.

Sommige het soos “varke” geword en was net ingestel op hul persoonlike behoeftes. Ander het weer soos “engele” geword en die swaarkry het ’n bonatuurlike goedheid in hul na vore laat kom. Hulle was inderdaad soos wandelende engele wat hul persoonlike behoeftes opsy gestoot het, vir die nood van ander. Hulle het gekies om die beste in hulself na vore te laat kom. Hulle het gekies om hul eie persoonlike behoeftes op te offer vir beginsels wat baie groter as hulself is. Hulle het gekies om engele te wees. Hulle het gekies om nie soos “varke” op te tree nie.

Frankl vertel in ’n persoonlike ervaring van hoe ’n Duitse SS-wag hom geterroriseer het. Op ’n stadium het die soldaat Frankl se brilletjies van sy kop afgeslaan en die bril knersend stukkend getrap  met sy soldaatstewels. Frankl wou woedend word. Toe besluit hy hy gaan nie vir die soldaat sy sin gee nie. Hy gaan nie vir hom kwaad word nie. Hy gaan wys hy is in beheer. Toe ontdek hy dat ’n mens se diepste vryheid daarin geleë is dat ’n mens die vryheid het om te kies hoe jy in ’n bepaalde situasie wil en gaan optree. Dit is jou diepste keuse en niemand kan hierdie VRYHEID van jou af wegneem nie.

Frankl skryf dat ook die Duitse wagte verskillend opgetree het. Party het ook soos “varke” opgetree en was vernederend teenoor die Jode. Sommige wagte het weer soos “engele” opgetree en geweldig baie gedoen vir die Joodse gevangenes. Sommige het selfs hul kos met die Jode gedeel. So was daar die “bad” en die “good” aan albei kante. Persoonlike keuses het bepaal of jy “good” of “bad” was.

Op die ou end ís en wórd mense hulle keuses. Jou keuses vertel watter tipe mens jy is en die tipe mens wat jy wil wees. Hierdie vryheid om te kies wie jy wil wees, kan niemand van jou af wegneem nie. Nie eens jou grootste vyand nie!

Josef het die regte keuses in sy lewe geneem en die Here het hom geseën. Wie verkeerde keuses in die lewe neem, moenie die Here of die lewe blameer nie. Elke keuse het ’n gevolg. Daarom moet ons ook die gevolge van ons keuses dra.

Somtyds kom swaarkry oor jou lewe, as gevolg van omstandighede buite jou beheer. Dikwels is dit die gevolge van ander mense se verkeerde keuses. Maar die meeste ellende wat ’n mens oorkom, bring jy oor jouself.

Daarom moet ons nie wanneer ons in slegte omstandighede is, gedurig die verlede blameer nie. Ek kan keuses maak om bo my slegte omstandighede uit te styg, soos wat Josef deur die regte keuses homself opgehef het, tot die tweede magtigste man van Egipte.

Jy is nooit die slagoffer van jou omstandighede nie. Wanneer jou omstandighede teen jou tel, moet dit die lanseerbasis wees waarvandaan jy jou na ’n beter lewe uit lanseer. Josef het dit reggekry.

Keuses maak die man. Keuses maak die vrou. Maak jou keuses reg soos wat Josef gedoen het en jy sal geseënd wees.                                                      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)