Is jou hart nederig voor God en medemens?

SKRIFLESING: Johannes 13: 1 – 17 en 28 – 30

Nederigheid is een van die vernaamste deugde van die Christelike kerk en die gelowiges. ‘n Mens moet begeer om nederig te wees.

Die rede waarom daar vandag so baie twis en tweespalt is, is omdat daar te veel belangrike mense is. Daar is te veel base. Kyk maar na die wêreld. Die Afrika-state word gereeld geteister deur staatsgrepe. Oorlog, haat, naywer, afguns en jaloesie …. volk teen volk, ras teen ras, mens teen mens, werknemer teen werknemer, broer teen broer, man teen vrou, kind teenoor ouer. Almal wil belangrik wees! Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Gaan lees maar van die verskriklike Protestant-Katolieke godsdienstige oorloë.

Maar ook in die plaaslike gemeente in Handelinge woed die stryd om status voort. Gaan lees maar in Handelinge van die stryd in die eerste Jerusalem-gemeente. Dis die verskriklike: die kerk van vrede het geword ‘n kerk van oorlog en rusie. Ook alreeds daar by die eerste dissipel-kerk, ook alreeds daar by die eerste Nagmaalstafel, lees ons van twis en naywer. Luk 22 beskryf vir ons die treurige gebeurtenis. Die dissipels was bymekaar daar in die bokamer rondom die eerste Nagmaalstafel dié nag voordat Hy verraai sou word. In plaas daarvan dat die dissipels hul bekommer het oor die komende Koninkryk en die naderende kruisdood, het hulle hul bekommer oor wie van hulle nou tog die belangrikste is.

Daar was twee vrae in hulle gemoed:

1.) Wie sal tog die naaste aan die regterkant van die Here sit? Wie sal tog die ereplek langs die Meester inneem?

2.) Wie sal hom moet neerbuig en homself verneder deur die voete van die ander te was?

Dit was twee groot probleemvrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? So gaan dit mos tussen broers en tussen volkere: wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? Dit terwyl die Here sê: “Soek allereers die Koninkryk van God……”. Dit skreeu  ten hemele. Die selfgesentreerde dissipels teenoor die self-opofferende Messias. Die twaalf  “ekke” wat met hulle twaalf “selwe” besig is. ‘n Kontras, wat die ganse Evangelieboodskap weerspreek. Ja, so weerspreek die kerk homself en die heilige Evangelie, elke keer as hy vra: Wie is die waardigste? Wie is die onwaardigste?

Jesus sê in vers 25 dat konings met ‘n ysterhand regeer en as hulle ‘n bietjie goed gedoen het, laat hulle hul noem weldoeners oor die swakkes en ellendiges. My regterhand moet maar alte goed weet van my linkerhand. Ons verruil binnekamers vir die straathoeke. Dit verhoog my status, my aansien! Here, wie is tog die belangrikste? Is dit nie ironies nie; die dissipels, die kerkmense, vra ‘n rang in die hemel, maar die uitvaagsel, die moordenaar aan die kruis, vra slegs: “Dink asseblief aan my?” En dan beloof Christus aan Hom ‘n plek in die paradys!U sien dus: belangrike mense, wat posisies opsoek in die hemel, word beskaam.

Slegs nederige mense wat weet hul hoort eintlik nie daar nie, word verhef tot koningskinders. Die ergste is natuurlik as mense begin om ook God uit te rangeer uit die hemel. Die mens van ons tyd het te belangrik vir God geword. God het die klei geword en ons die pottebakker. In plaas daarvan om die onse Vader te bid, bid ons eerder die volgende aangehaalde gebed:

Onse milde God van alles wat soet en mooi is,

laat ons republiek tog nou reeds kom,

laat ander hul wil verskiet – Gee skiet Gee skiet!

Sodat ons ook ‘n sê mag hê.

Gee dat ons vandag ons daaglikse brood mag verdien,

en die botter, die konfyt, die wyn, die stilte, die stilte van wyn

en lei ons in versoeking van velerlei aard.

Sodat die liefde van lyf na lyf kan spring.

Maar laat ons ons verlos van die bose,

want aan ons behoort die menseryk, die krag en die heerlikheid,

van nou af tot in alle ewigheid net so ewig.

Aa mens! Aa mens!

Klink dit nie vir u bekend nie? Die aarde is nie God s’n nie, die aarde is nie van die duiwel nie, want die aarde behoort aan die mens. Om nou sommer reguit te wees. Die mens van ons tyd het te groot vir sy skoene geraak. Die mense wil onder mekaar belangriker wees. Maar ook belangriker as God. Klein skepselmensies wil oor mekaar heers. Nog erger: hul wil Heer oor die ganse kosmos speel.

Maar gemeente, so het u Christus nie leer ken nie. Al was Christus die Hemelkoning, het Hy die voete van sy dissipels gewas, siekes genees, mense gevoed, gebid vir tollenaars, geëet saam met sondaars, die bedelaars gehelp en Homself geoffer.

ln vers 26 sê Christus eintlik maar dat die belangrikste onder ons, juis die nederigste moet wees. Dit beteken: hoe hoër my status styg, hoe laer moet ek my neerbuig. Elke posisie op, een posisie af. U sien dus hoe hoër ek styg, hoe laer moet ek buig. Dit, gemeente, kos integriteit, maar meer nog, nederigheid. Dit sê Christus is ware grootheid. Grootheid is nie in magsvertoon nie, maar in selfontleding. Christus kon ’n skaar van engele ontbied om Hom van die kruis af te haal, maar nogtans verneder Hy homself nakend aan die kruis.

Gemeente, ons kan miskien nog hierdie aarde of  ‘n gedeelte van hierdie aarde met magsvertoon oorweldig soos Alexander die Grote of soos Adolf Hitler. U kan miskien nog in hierdie lewe u merk maak in die lewe as ‘n belangrike mens. Maar u kan nie die hemel oorweldig met ‘n magsvertoon nie. In die hemel kan u geen merk maak nie. In die hemel is net mense wat daar gekom het sonder dat hul eintlik daar hoort. Hulle is nie deur die magsvertoon van hulself of van Christus gered nie. Nie deur ‘n septer is ons verlos nie, maar deur ‘n kruis. Ons is nie deur ‘n ysterhand oorweldig nie, maar deur die sagte deurboorde en uitnodigende hande van die grootste en nederigste Dienskneg van alle tye.

Vergeet om u merk in die hemel te maak. Kyk alleen maar na die merke op Christus se deurboorde hande. Die merke van liefde en nederigheid. U sien: belangrike, hooghartige en selfgesentreerde mense kan nie in die hemel kom nie. Want as julle die Koninkryk van God nie soos ‘n kind ontvang nie, sal julle nooit daar kan ingaan nie. By die nederige Christus-koning, groot Dienskneg van die wêreld, pas alleen maar klein afhanklike diensknegte en diensmaagde. Wat alleen maar wil uitroep: aan God al die EER.

Ja, die wonderlike van vers 28 – 30 is die volgende. Diensknegte word koninkryksburgers. Ja, want Christus was maar altyd bewus dat Hy die Seun van die lewende God is. Hy het geweet dat die Koninkryk van God deur Sy Vader aan hom bemaak is. En nou maak Hy sy dissipels en ook sy volgelinge van alle tye die burgers van Sy Koninkryk. Net soos die moordenaar aan die kruis as ‘n stukkende en leë mens kom vra dat Christus aan Hom sal dink, en dan skenk God aan hom die Koninkryk.

Wanneer ‘n koning ministers aanstel om oor sy land te help regeer soos wat ons lees in vers 30, dan bly die koning nog steeds die belangrikste. Ja, die ministers regeer ter wille van die eer van die koning. Net so, liewe gelowiges, as Christus aan jou sy Koninkryk bemaak, as Christus aan jou die hemel en die verlossing beloof, mag jy nooit dink dat jy nou skielik die sentrum geword het van die hemel, asof jy die belangrikste is, nie. Want God het jou nie gered alleen maar om jou lewe te spaar nie. Nee, jy is gered om God en jou medemens te dien, OM DIE EER VAN GOD. Ek is gered nie vir myself nie, maar vir die EER VAN GOD.

Weet u wat is die definisie van ‘n sinlose lewe?

“Ek is die belangrikste”

Weet u wat is die definisie vir ‘n sinvolle lewe?

“God is die belangrikste… Ek jaag die eer van Christus na en die voordeel van my medemens.” Daarom moet ek nederig word.

Ware godsdiens vra nooit na die ek nie. Ware Godsdiens is altyd Godgerig en medemensgerig, maar nooit my-gerig of ek-gerig nie. God sal vir die “ek ” sorg.

Bekommer jou liewer oor die Koninkryk van God. Ons hedendaagse samelewing is baie ingestel op die “ek”. Baie jare gelede het mense geleef met ‘n “ons”-houding. Vir mense het dit gegaan oor wat vir die samelewing belangrik is en nie oor die “ek” nie. Hoogmoedigheid veroorsaak dat die “ek” faktor floreer. Daarom moet ons weer nederig word en eerste vra wat vir die samelewing, vir die “ons”, belangrik is.

Nederigheid is ‘n mooi eienskap. Dit weerkaats iets van Jesus Christus. Daarom moet ons onsself beywer om ‘n lewe van nederigheid te lewe.

Mag u en ek elke dag nederig lewe. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Kyk op na die kruis van Jesus Christus en raak ontslae van al die gal en gif wat jou lewe verwoes.

SKRIFLESING: Num 21: 4 – 9 en Joh 3: 14 – 18

Slange is een van die gediertes waarvoor ek die bangste is.  Die meeste normale mense het ’n vrees vir slange.  Dink net hoe angswekkend dit nie moet wees om in ’n kuil vol dodelike slange gegooi te word nie.

Die dorp Daniëlskuil het sy naam te danke aan ‘n sekere sinkgat in die grond, wat deur ’n Griekwa-kaptein, met die naam Adam Kok, gebruik is om ongehoorsame onderdane te straf.  Die sinkgat was so diep dat ‘n mens nie op jou eie kon uitklouter nie.  Die Griekwa-kaptein het in dié gat dodelike slange gegooi.  Ongehoorsame onderdane is dan in die sinkgat vol dodelike slange gegooi om hulle te straf.  Selfs as die kaptein onseker was of hulle skuldig is, het hy hulle in die gat gegooi.  Lewe hulle die volgende oggend nog, is hulle onskuldig en is hulle opgetrek. Is die onderdane dood, dan was hulle skuldig en nou ja, dan het hulle sommer klaar hulle straf weg.

In Num 21:4-9 lees ek ook van slange.  Die laer van die volk Israel was vol dodelike slange.  Dit was vir die Israeliete ook ’n angswekkende ervaring.  Die slange was God se straf omdat hulle teen God en Moses opstandig was.  Hulle was ongeduldig met God en het vir Moses kwalik geneem omdat hy hulle uit Egipteland gelei het.  Hierdie woestyntog was vir die Israeliete niks lekker nie.  Hulle het ’n hoër lewenstandaard in Egipte gehad.  Nou moet hulle van die aalmoese van God lewe.  Hulle was van niks seker nie.  In Egipte het hulle alles gehad en was hulle verseker van môre en oormôre.  Hulle neem Moses kwalik en hulle kla elke dag net al hoe harder en murmureer oor alles en nog wat. 
Toe het God slange, krioelende slange, in die laer ingestuur.  Orals is mense gepik en orals is sterftes aangemeld.  Die slange is as’t ware ’n  simbool van die Israeliete se onvergenoegdheid.  Hulle onvergenoegdheid het hulle nou letterlik verteer.

Gou hardloop die volksleiers na Moses toe.  God is genadig en gebied dat ’n koperslang in die middel van die laer op ’n paal aangebring moet word.  Elkeen wat gepik is deur ’n slang, moes opkyk na die koperslang aan die paal.  Hy sou dan bly leef.  So het die koperslang aan die paal ’n simbool van liefde geword.

Die Here Jesus het in Mat 23:33 ook die mense van sy tyd met slange vergelyk.  Ons wêreld is vol gif en bitterheid.  Ons pik op mekaar; en hipnotiseer en manipuleer mekaar.  Soos luislange vreet ons mekaar heeltemal op.  Ons verwoes ons persoonlike lewens, huwelike, gesinne, en ons land met al die bitterheid en gal in ons lewe.  Jesus se woorde aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes in Mat 23: 33 lees so: “ Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug?”

Eenmaal op Goeie Vrydag het die mense ook soos slange na die Here Jesus Christus gepik.  Hulle het Hom verraai, verloën, van Hom af weggehardloop, Hom onskuldig veroordeel, gespot, geslaan, ontklee, verguis, gekruisig en vermoor.  Ja, die skare het gepik-pik: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!” en hulle het Hom doodgepik daar aan die kruis. U en my sondes het die Here Jesus daar aan die kruis doodgepik.  U en ek is die slange wat die Here Jesus doodgepik het.  Dit is oor ons sondegif dat Hy gesterf het.

Tog is die koperslang aan die paal ’n heenwysing na Jesus Christus aan die houtpaal op Golgota.  Soos die Israeliete wat gepik is en moes opkyk na die koperslang aan die paal, so moet ons opkyk na die kruis van die Here Jesus Christus vir redding.

U sien, Joh 3:16 moet saamgelees word met Num 21: 4 – 9, wat verwys na die koperslang op die paal.  Die kruis red, verlos en neutraliseer al die gif en gal in ons lewe. Jesus Christus het in ons plek gesterf, sodat ons ontslae kan raak van al die sondegif in ons lewe. Die Israeliete het ’n keuse gehad.  Òf hulle ignoreer die koperslang aan die paal en sterf, òf hulle kyk op na die koperslang aan die paal, en leef.

Ons kan ook twee dinge doen.  Ons kan wegdraai van die kruis af, anderpad kyk, en aanhou om gif op te gaar en so uiteindelik sterf.  Of ons kan na die kruis kyk en van die dodelike gif ontslae raak en begin lewe. Ja, die Here Jesus het in ons plek gesterf.  Hy het van ons gif gedrink.  Ons doodsbeker het Hy uit ons hand geneem en dit vir ons gedrink. Sy dood het ons brood geword.
(Dit laat ’n mens dink aan ’n handgranaatoefening wat eenkeer in een van Bloemfontein se militêre basisse plaasgevind het. Die troep moes vir die eerste keer die handgranaat oor die wal gooi. Hy het verbouereerd geraak en die handgranaat laat val tussen sy makkers. Die korporaal het toe op die handgranaat geval en is in die proses in flarde geskiet, maar hy het tien troepe se lewens gered. Tot vandag toe nog voel die troepe verantwoordelik om geldelike bydraes te gee vir die korporaal se vrou en kind.)

Christus Jesus se sterwe roep ons op om vir Christus te lewe.  Goeie Vrydag en die Nagmaal roep ons op om uit te gaan en vir Christus te lewe!  Daarom kan ons nooit passiewe Christene wees nie.  Nee, ons moet aktiewe Christene wees.

Die Israeliete het na die koperslang op die paal gekyk vir redding.  Ons kyk vanmôre na die kruis vir redding.  Die kruis neutraliseer al die sondegif in ons lewe, sodat ons kan lewe en lewe in oorvloed kan hê.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Verlang jy om God se blydskap te deel?

SKRIFLESING: Luk 15: 1 – 32

Gaan ons hart nog uit na arm mense, weeskinders, uitgestotenes, misdadigers en hulpbehoewende mense? Nie sommer nie. Want sulke mense skuif ons gewoonlik eenkant. Hulle is nie welkom nie. Hulle neem ons tyd, geld en energie in beslag. Hulle is mos self vir hulle toestand verantwoordelik.

Maar dan wil ek u vertel van die Vaderhart van God. God se Vaderhart staan so wyd oop soos die blou hemel daarbo. God raak bly en opgewonde as Hy ‘n swakke, ‘n sieke, ‘n bejaarde, ‘n arme, ‘n weeskind of ‘n verstoteling raaksien. God het swakkelinge en goddeloses lief. God meet en weeg mense nie volgens aardse maatstawwe nie, maar God verlang na en het ‘n blye hart vir goddeloses en verlorenes.

In ons gelese gedeelte word God se blydskap vergelyk met die blydskap van:

  • ‘n Herder wat sy een verlore skaap gevind het, sodat sy kudde weer volledig sal wees.
  • ‘n Vrou wat die verlore muntstuk van haar halssnoer gevind het, sodat haar halssnoer weer volledig is.
  • Die Vader wat sy verlore seun teruggekry het, nadat sy huisgesin, sy kinders weer voltallig is.

In die laaste gelykenis lees ons hoedat die vader sy werksmense roep en hulle beveel om die beste klere vir sy seun aan te trek, vir hom skoene te bring en ‘n ring aan sy vinger te sit en die vetgemaakte kalf te slag. Sy seun kry nie eers kans om sy voorbereide skuldbelydenis uit te spreek nie, nee, hy word oorweldig met liefde en aanvaarding.

So is God! God is lief vir sondaars, vir goddeloses, vir armes, vir siekes, vir hongeres, vir bejaardes, vir werkloses en vir mense wat siek is.

Daarom het Jesus in sy tyd op aarde geëet saam met die tollenaars en prostitute, die tollenaars en uitgestotenes van sy tyd. Om in daardie tyd saam met iemand te eet, was ‘n teken van aanvaarding. Jesus het mense aanvaar, ja, selfs oor hulle bly geword. Daarom is Jesus dikwels uitgekryt as ‘n wynsuiper en vraat, maar daaraan het Hy hom min gesteur. Die openbare opinie het nie veel vir Jesus Christus getel nie. Om die wil van Sy hemelse Vader te doen was vir Hom veel belangriker.

Moenie probeer om God te verander nie. SO IS GOD! God is nou eenmaal so, Hy het sondaars lief. Hy het ‘n hart vir ander mense.

Tog lees ons ook van die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun. Dan herken ons onsself nogal in die gestalte van die oudste broer.  Die oudste broer het dit teen sy vader se sendingliefde, teen sy vader se barmhartigheidsliefde.

Die redding van sondaars moet die hemele en die kerk bly maak, maar helaas is dikwels net die hemele bly.

Oor hierdie aanstoot wat mense neem, lees ons veral in die groot sendingboek van die Ou Testament, naamlik Jona. Jona vlug eerder weg, as om vir die mense van Ninevé te vertel dat God vir hulle lief is. In Jona 4: 2 verklaar Jona dan ook, getuig Jona dan ook, dat hy geweet het dat God ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en vol liefde …. en dat hy die wete nie kan verdra of kan vát nie.

Dieselfde het in die Nuwe Testament gebeur; eers was die apostels ‘n verskrikte groepie mense ná die Here se hemelvaart. Die Gees het hulle egter in verskillende tale laat praat om sy Woord oor die wêreld te versprei. Ja, die Gees moes die weerstande afbreek in Petrus, in die ander apostels, by die gelowiges uit Jerusalem en selfs by Paulus.

Dikwels is ons nie teen sending of teen barmhartigheid nie. Nee. Ons neem eerder ‘n houding van traak-my-nie-agtigheid in. Ons bly onbetrokke en onentoesiasties. Sending en barmhartigheid het met ander mense te make, dit hou geen direkte voordeel in nie, daarom staan ons liewer op die kantlyn.

Ja, ons verander selfs die visie en die missie van die kerk om eerder ‘n broeiplek te wees vir hulle wat ‘n “klub” geword het. ‘n Vergaderplek van eendersdenkendes wat mekaar geestelik versorg, maar vergeet het van die wêreld daarbuite.

Theodore Wedel het ‘n aangrypende verhaal vertel van ‘n klein reddingstasie langs ‘n gevaarlike kuslyn. Talle skepe het hier gesink en die reddingstasie met hul eenvoudige reddingsapparate het honderde mense tydens skeepsrampe gered.

Sommige lede wou graag die reddingstasie verbeter, netjieser maak en ook sommer daarvan ‘n klub maak waar die reddingswerkers elke Vrydagaand as ‘n klub bymekaar kon kom, om sommer ‘n biertjie te drink om die spangees te verbeter. Die gebou is vergroot; en beter meubels, beter vloere en beter toerusting het van die eenvoudige reddingstasie sommer ‘n spogplek, ‘n uithangplek gemaak. Die lewensredding-motief was steeds oorheersend in al hul versierings. Hulle het selfs ‘n pragtige liturgiese reddingsboot daar gehad.

Die klub was egter ‘n gewilde uithangplek. Die lede het mettertyd al minder begin belangstel om reddingswerk te doen. Dit was eerder ‘n vergaderplek van klublede. Net om die naam reddingstasie te behou, het hulle ‘n paar lede teen vergoeding aangestel om vir hulle reddingsoperasies uit te voer.

Op ‘n dag sink daar weer ‘n skip. Die betaalde reddingswerkers red die drenkelinge. Maar toe hulle die mense gered het, het hulle ‘n probleem. Hulle kan mos nie die sopnat uitgehongerde en siek matrose in hulle netjiese klubhuis versorg nie. Nee, hulle moet in ‘n aangrensende skuur versorg word en so spoedig moontlik op die eerste die beste skip teruggeneem word na hul land van herkoms.

Die eiendomskommissie het dadelik besluit om aparte stortgeriewe en lokale in te rig vir die drenkelinge op see.

Op die volgende klubvergadering was daar egter ‘n skeuring. Sommige het gevoel al die reddingsaktiwiteite lei net tot ‘n skeuring. Staak alle reddingsaktiwiteite. Ander het weer gevoel dat die reddingsaktiwiteite die primêre taak van die klub is en dat hulle moet voortgaan met reddingswerk. Daar is gestem. Die groep wat gevoel het die reddingswerk moet gestaak word, het gewen.

Die ander groep wat wou voortgaan het toe besluit om verder langs die kus af ‘n ander reddingstasie te bou, eenvoudiger, maar doeltreffend. Spoedig het die nuwe stasie weer doeltreffend geword.

Maar soos die jare aangestap het, het die geskiedenis van die eerste reddingstasie homself herhaal met die tweede een en moes hul later ‘n derde, ‘n vierde en so aan, bou. Skeepsrampe vind nog plaas, maar die meeste drenkelinge verdrink.

Eintlik is dit die verhaal van die kerk. Die kerk ontaard maklik in ‘n sosiale klub, ‘n vergaderplek in plaas van om God se reddingstasie te wees.

Dikwels gaan dit vir die kerk nie om die ander mense nie, maar om diéself, ‘n sosiale klub.

Ons is die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun, want ons kan ons nie verheug en bly wees oor die redding en die versorging van ‘n ander een nie.

Daarom is ons dikwels so ongelukkig en opstandig oor sendingpreke en barmhartigheidsaksies, want ons kan nie saam met God bly wees oor elke sondaar wat tuisgekom het in die huis van die Here nie.

Blydskap oor elke verlore mens! So is God. God kan nie anders wees nie.

Opstandigheid en vreugdeloosheid oor die eintlike taak van die kerk, maak van ons Christene wat buite staan en die vreugde in die bruilofsaal mis.

Daar is blydskap, ja, oorvloedige blydskap in die hemel oor elke sondaar wat tuisgekom het en oor elke hulpelose wat genade ontvang het. So is God! God kan nie anders wees nie. Hy is liefdevol en barmhartig.          

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerk hou. (Troosboodskap van wyle Helene Engelbrecht)

SKRIFLESING: Jesaja 66: 13

Professor William James van Harvard Universiteit het in sy welbekende boek “The varieties of religious experience” die volgende verhaal vertel. ‘n Onderwyser het vir ‘n leerder uitgevra oor deling. Hy het vir die seun gevra: “As jou moeder ‘n pastei bak en julle is sewe in die huis, naamlik julle vyf  kinders en pa en ma. Hoeveel dele sal jy ontvang?” Hy antwoord toe dat hy ‘n sesde deel sal ontvang. Die onderwyser wil met die seun baklei omdat hy nie verdeling verstaan nie. Die onderwyser sê toe: “Maar julle is mos sewe?” Die kind antwoord: “Juffrou, ek verstaan alles van verdeling, maar ek ken my ma ook. Sy sal sê sy wil nie van die pastei hê nie.”

So was Helene ook. Sy was ‘n moeder, ‘n ouma en ‘n oumagrootjie. Sy sou haarself tekort gedoen het, net om iets vir haar kinders en kleinkinders te beteken.

Sy was soos ‘n hen, wat haar vlerke oopgesprei het vir haar kuikens en dat hulle onder haar beskerming kan geniet. In Lukas 13: 34 sê die Here: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke” Helene was soos die Here, wat haar kinders en geliefdes, almal onder haar vlerk wou hou. Haar kinders en kleinkinders kon maar onder haar vlerk gaan wegkruip as daar bedreiging of gevaar woed.

Tania Bothma boer met mak tarentale. Die mak tarentale is nie sulke goeie moeders vir hulle kleintjies, soos die wilde tarentale nie. Hulle sal sommer in die aand opvlieg in die boom om te slaap en die kleintjies net so los. Daarom plaas Tania die eiers onder ‘n goeie hoenderhen. Die hoenderhen maak dan al die kuikens mooi groot. So was Helene Engelbrecht soos ‘n goeie hen wat na haar eie kuikens, maar ook na ander mense, omgesien het. Sy het ‘n wye vriendekring gehad en het na almal uitgereik, ook na die randfigure in die lewe.

In Jesaja 66: 12 – 13 staan daar: “Want so sê die Here: “Kyk, Ek gaan vrede na haar toe  afkeer soos ‘n rivier,  die luister van nasies soos ‘n spruit in vloed; en julle sal drink. Op die heup sal julle gedra word, en op knieë gewieg word. Soos iemand se moeder hom troos, so sal Ek self julle troos; in Jerusalem sal julle getroos word.

In bogenoemde gelese gedeelte word verduidelik dat God soos ‘n moeder vir die volk Israel is in moeilike tye. Maar omdat die mens geskape is na die beeld van God, vertoon die mens ook sekere eienskappe van God.

Helene het ook vrede afgekeer – soos ‘n rivier – na haar familie. Sy was soos gom wat die familie bymekaar gehou het in vrede. Haar familie en gemeenskap het almal gedrink van haar liefde. Sy het haar liefde oordadig uitgestort oor julle, soos ‘n rivier in vloed. Op haar heup het sy julle gedra van kleins af en julle op haar knieë gewieg. Sy het julle vertroos, selfs toe julle grootmense was.

Sy was ‘n moeder. Abraham Lincoln, die voormalige Amerikaanse president, het die volgende oor sy ma gesê: “ Al wat ek ooit hoop om te wees, is ek aan my engelmoeder verskuldig.” Helene Engelbrecht was en is vir julle familie die engelmoeder, wat julle gebring het waar julle vandag is. Haar liefde het julle gevorm.

Prinses Diana het gesê: “ ‘n Moeder se arms is meer bemoedigend as enigiemand anders.” So was Helene vir haar kinders en kleinkinders.

Die feit dat julle kinders en kleinkinders almal goed uitgedraai het in die lewe as goeie mense, het julle te danke aan die opvoedingsfilosofie wat sy gehad het.  Sy het ‘n oormaat liefde uitgedeel, maar sy was ook streng. Johannes Calvyn, die groot kerkhervormer, het ook geskryf in sy Institusie dat ‘n kind of kleinkind eintlik net twee dinge nodig het, naamlik ‘n oormaat liefde en baie strengheid. Liefde sorg vir geborgenheid en strengheid gee sekuriteit. Daarom ervaar julle kinders geborgenheid en sekuriteit, want sy het oormaat liefde gegee, maar was ook streng en het lyne getrek. 

Helene kon dikwels hardkoppig wees, maar dan altyd oor sy nie vir ander mense en vir haar kinders ‘n las of moeite wou wees nie. Sy wou onafhanklik wees. Sy wou haar eie ding doen. Sy wou ook nie veel van ‘n begrafnis hê nie. Sy wou nooit hê die lig moet op haar val nie. Sy het altyd die lig op ander laat val.

Wat is die belangrikste eienskap van Helene? Die belangrikste is dat sy die Here gedien het! Sy was ‘n deurleefde kind van die Here. Sy was ‘n weeklikse kerkganger en het deelgeneem aan al die kerk se aktiwiteite. Sy het ook vir baie jare as diaken en ouderling gedien. Sy het altyd van die Here gepraat en Hom liefgehad. Haar liefde vir die Here het oorgeloop in haar lewe. Daarmee het sy ook haar kinders beïnvloed, soos wat Timotheus beïnvloed is deur sy moeder en ouma. Paulus maak daarvan melding in 2 Timotheus 1: 5 “Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is.”

Liewe Adele, Hanlie, Nico en Hannes, die grootste geskenk wat julle as kinders vir julle ma kan gee, is om die Here te dien. Dan vereer julle haar. Sy was ‘n Godsvrou deur en deur en haar diepste wens was dat haar kinders die Here ken. Ook aan die kleinkinders, mag die geloof van julle ouma julle inspireer  om naby aan die Here te leef en ook julle kinders naby aan die Here groot te maak.

Ek dink aan die gasvryheid waarmee sy altyd die wyksbyeenkoms van die dorpswyke ontvang het. Sy het aangedring dat dit by haar huis moes wees. Sy was nooit bang om oor die Here te gesels nie. Sy was ‘n vrymoedige getuie van die Here se wonderlike werk in haar lewe.

Sy was ‘n wonderlike vriendin vir baie mense en het aan baie vriendekringe behoort. Sy was vir almal ‘n inspirasie. Daarom gaan Adelaide se gemeenskap haar ook baie mis.

Haar lewe is gekenmerk deur integriteit. Sy was soos die vrou in Spreuke 31:10 – 31. Hoor hoe waar is dit van Helene. Kom ons kyk na die volgende verse in Spreuke 31.

Vers 10  – “‘n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.”

Vers 20 –  “Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges.”

Vers 26 – “Haar mond maak sy oop  met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong.”

Vers 27 – “Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie.”

Vers 29 – “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.”

Vers 31-  “Gee aan haar ‘n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!”

Helene Engelbrecht is veilig by die Here. Sy het in die Here Jesus gesterf. Niks, nie lewe of dood, kan haar skei van die liefde van die Here nie. Sy het haar hemelse woning ingegaan en sy sit aan die tafel van die Here tot in ewigheid. Sy is bevry van aardse pyn en lyding. Haar lang siekbed het tot ‘n einde gekom. Haar lyding is verby. Ook in haar lyding was sy ‘n waardige vrou, wat aan die Here Jesus vasgehou het.

Geliefdes, ons onderskat die waarde van ’n vrou en van ’n moeder. Sy het so ‘n ontsaglike rol gespeel in haar kinders en kleinkinders se lewens. Sy was so ‘n wonderlike dienskneg en vriendin vir die gemeenskap.

Julle familie se verlies is ook my verlies. Ek sal onthou die baie kere wat ek by haar gekuier het en ons sommer oor die alledaagse en ook oor diep dinge gepraat het. Sy was soos ‘n moeder vir my ook en het my ook ondersteun as predikant. Predikante het ook liefde en ondersteuning nodig. Ek het dit in oormaat by haar gekry.

Ons eer die nagedagtenis van hierdie besondere vrou.

Ons is lief vir Helene Engelbrecht. 

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Ons dade volg ons in die hemel. (Troosboodskap van wyle Isak van Schalkwyk)

SKRIFLESING: Openbaring 1: 17 – 18 en Openbaring 14: 13

Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ‘n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ‘n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit was en die sleutel van die doodskiste gegee is vir die opsigter van die begraafplaas om te bewaar. Die man en die predikant het nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter  gegee het, alleen terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir die man: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”

Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: “Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.”

Die woord “Hades” word voorgestel as ‘n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “Doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ‘n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.

Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die dood oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.

Versprei deur die boek Johannes kry ons sewe saligsprekinge. Een van hulle is Openbaring 14:13: “Ek het toe ‘n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”

Heel eerste praat hierdie vers van gelukkig is dié wat in die Here sterwe. Vir Elize, Rolyn, Charl, Nelius en die res van die uitgebreide familie is dit seer, pynlik en verwondheid. Maar vir Isak is dit “gelukkig” want hy het in die Here gesterf. In ons laaste gesprekke het Isak ‘n rustigheid en ‘n aanvaarding gehad van die dood, wat net deur ‘n gelowige uitgespreek kan word. Isak was in die Here en hy het in die Here gesterf en daarom kan ons hom nou “gelukkig” noem.  Almal wat in die Here gesterf het, is inderdaad “gelukkig.”

Tweedens praat die vers ook van “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg.” Die woord “geswoeg” is die Griekse woord “kopos” wat ons eerder sou kon vertaal “met moeite” en dit verwys na ons hele menslike bestaan wat vir ‘n groot deel uit moeite, pyn en bekommernisse bestaan. Isak het nou geen moeite, angs, pyn en bekommernisse nie. Die Bybel maak baie gebruik van die woord “rus”. Daarom is die Sabbat die “rusdag” vir die mens. Isak het in sy Sabbatsrus ingegaan.

Hebreërs 4: 9-11 sê die volgende oor die rus: “Daar bly dus steeds ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.” Isak van Schalkwyk se arbeid op die aarde is voltooi. Hy kan nou rus.

Behalwe die “geswoeg” praat die teks ook van “dade”. Diegene wat in die Here sterwe, sal nie net rus van hulle geswoeg nie, maar hulle dade volg hulle.

Let op dat jou goeie dade nie voor jou uitloop om die hemel vir jou oop te maak nie. Net Jesus Christus kan die dood oopsluit met sy kosbare bloed. Jesus is die sleuteldraer, wat sonder verdienste oopsluit. Nee, die teks sê jou goeie dade volg jou. Is dit nie ‘n troos nie! Alles wat ons gedoen het wat goed was, volg ons. Die dood kan mos nie uitvee wat goed in jou lewe was nie. Die goeie bly altyd staan. Die goeie wat Isak gedoen het en die baie kere wat hy vir die Here getuig het, bly staan. Sy goeie dade as eggenoot, as vader, as gesinsman, as onderwyser, as gemeenskapsleier, as kerkleier en as skoolhoof bly staan. Dit volg hom die hemel in.

Die Joodse rabbi’s het geglo dat jou goeie werke jou vooruit gaan. Dat jou goeie werke soos ‘n stootskraper vir jou ‘n pad oopmaak na die hemel. Maar in die Nuwe Testament het die Here die orde omgegooi. Jesus gaan self vooruit om vir ons die pad na die hemel oop te maak. Ons goeie dade volg ons in die dood.  Daarom: die goeie dade van ons gaan ons nie vooruit nie, maar  volg ons die hemel in.

Die Here vee met ons dood nie die goeie dade uit nie. Iemand skryf so aangrypend: “Nee, wanneer die gelowige omkyk in die ewigheid, volg alles wat hy gedoen het op sy hakke. God vergeet nie. Ons sonde ja, die het Hy totaal vergeet (Hebr 10:17), maar nie ons werke in Sy Naam nie. “Ek kén jou werke en jou “kopos” sê Jesus in Open 2:2.”

 Want ons goeie dade verheerlik die Here Jesus, daarom word dit nie uitgevee nie. Ds. Johannes de Koning skryf tereg: “Ons goeie werke volg ons. Ons dade tel tot in alle ewigheid!” Ons slegte dade is uitgevee deur die bloed van die Here Jesus Christus.

Mag hierdie gedenkdiens van Isak van Schalkwyk weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) beklemtoon. Isak van Schalkwyk se lewe word gekenmerk deur karaktervastheid, lojaliteit en betroubaarheid. Sy woorde het altyd “gewig” gedra. Hy was ‘n waardige man. Hy is een van die groot bome wat geval het op Adelaide. Sy werk op Adelaide sal altyd onthou word. Hy is een van Adelaide se legendes.

Maar Isak van Schalkwyk het gelukkig gesterf, want hy het in die Here gesterf. Dit is wat ons teks sê. Ons is nie troosteloos nie, want Isak rus van sy geswoeg. Sy dade volg hom in die hemel. Daarom kan niks wat hy goed gedoen het, deur die dood ongedaan gemaak word nie. Sy goeie dade lewe voort tot in alle ewigheid, tot verheerliking van God.

Wat ‘n heerlike troos!                                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Dissipelskap vra toewyding en opoffering.

SKRIFLESING: Mark 8: 31 – 38 en Luk 14: 25 – 35

Die verhaal van John Griffith, operateur van die Spoorweë se valbrug oor die Mississippi rivier in die VSA, word vir die waarheid vertel.

Dit was die somervakansie van 1937 en John het dié dag sy agtjarige seun, Greg, saam met hom werk toe geneem.  Vir klein Greg was dit ‘n fassinerende ervaring om te sien hoe sy pa middae van 12h00 die meganisme aanskakel wat die valbrug waaroor ’n treinspoor geloop het, ophys sodat die skepe onder in die rivier kon deurvaar.  Die brug met die treinspoor kon in die middel oopmaak en na die kante opgelig word om die skepe onder deur te laat.  John en Greg is daarna na die observasie toring om dié skouspel dop te hou terwyl hulle middagete geniet.  So met die dophou van die skepe het die tyd verbygevlieg.

Skielik is John na sy werksituasie terug geruk toe hy ‘n trein veraf hoor fluit.  Hy het op sy horlosie gekyk – dit was 13h07.  Die Memphis-sneltrein met 400 passasiers het aangesnel gekom na die spoorwegbrug wat nog steeds opgehys was vir die skepe se deurtog.  Griffith is inderhaas weg na die beheertoring om betyds die brug te laat sak sodat die trein veilig die rivier kon oorsteek oor die treinspoor op die brug.

Net voor hy die hefboom trek om die brug weer in plek te plaas, kyk hy vir oulaas of daar geen skepe aankom nie.  Toe vang sy oog ’n beweging wat sy bloed laat stol.  Sy seun het blykbaar te  ver oorgeleun om na die skepe daar onder te kyk en oor die reling van die toring geval – reg in die massiewe ratte wat die brug laat werk.  Greg se linkerbeen is vasgevang en hy kon nie wegkom nie.  Sy pa kon hom nie betyds bereik nie.

Terwyl hy magteloos die trein sien nader snel, maak Griffeth die verskriklikste keuse van sy lewe.  Toe bedek hy sy oë met sy linkerarm en met die ander hand trek hy die beheerhefboom.  Die massiewe valbrug sal in plek sekondes voordat die Memphis-trein met sy honderde passasier die brug bereik.

Toe John Griffith sy kop optel, was sy gesig nat van sweet en trane.  Deur die vensters van die verbysnellende trein sien hy die passasiers sit – gesellig geselsend, besig om koerant te lees, na-ete koffie te drink, aan kaas en beskuitjies te peusel.  Niemand het eens in die rigting van die beheertoring gekyk nie.  Met pynverwronge stem het John Griffith geskreeu: “ Ek het my seun vir julle geoffer! En julle drink koffie!”

Sou God dit soms ook van ons ongeërgde dissipelskap sê?

DISSIPELSKAP BETEKEN NIE ’N GEMAKSONE NIE, MAAR OPOFFERING!  BEREKEN EERS DIE PRYS!

Ons dissipelskap is dikwels afgewater, omdat ons nie ons kan indink wat God vir ons opgeoffer het nie.  As dissipels van die Here weet ons nie meer wat opoffering beteken nie.

Ons verval in gemaksones.  Godsdiens word aangepas by mense se behoeftes en gemak.  Mense het verleer om volgens die eise van die Evangelie te lewe. As die Evangelie en die kerk hierdie gemaksones van die mens aanspreek, sal die Evangelie verkoop en die kerk groei, altans so glo die mens.

Die ooreiste mense van hierdie eeu soek ‘n godsdiens wat werk:

Godsdiens moet nie veeleisend wees nie …………… eeu van gemak.

Godsdiens moet vir my sekuriteit in hou ……………. dit moet vir my “’n alles in een polis” wees.

Godsdiens moet hoë rente verseker …………….. dit moet met my altyd goedgaan en natuurlik die belofte van die hemel.

Godsdiens moet lekker wees ………………………. emosioneel bevredig.

Die kerk is daar om my te dien. (gemaksugtigheid bevredig)

Vandag word kerke gebou met opgestopte stoele, liedere word gepubliseer wat die emosies van die mens bevredig en die Evangelieboodskap word afgewater sodat dit nie vir die mens aanstoot mag gee nie. Die probleem is dat mense geloof en godsdiens goedkoop maak en nie bereid is om iets daarvoor op te offer nie.

GODSDIENS MAG NOOIT ’N GEMAKSONE WEES NIE, DIT VRA ALGEHELE TOEWYDING EN OPOFFERING

Stefanus, is oor sy geloof met klippe gestenig. Petrus, het onderstebo aan ‘n kruis gesterf vir sy geloof in die Here Jesus Christus. Paulus, het vele ontberinge, vervolging en tronkstraf uitgedien, tydens sy verkondiging van die Evangelie. 

Ek wil ’n stukkie van die vroeë Europa se geskiedenis vir u vertel. Ek verwys na die jare 1522 tot 1573.

Die jare staan bekend as die Kontra – Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende die tyd het die Inkwisisie Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk.  Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kelders gedurende die middernagtelike ure.  Manne, vroue en jong meisies en seuns is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte.  Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek.  Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op brandstapels te laat sterf.

Volgens Crespin het daar in hierdie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf:  Parys 10468 en in die hele Frankryk 30 000.  Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante per nag per man uitgemoor kon word.  Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans, Tours en vele ander  het in vlamme opgegaan.

In Nederland het dit net so beroerd gegaan.  Op die helige Bartholomeus – nag is tienduisende Nederlandse Protestante doodgemaak.  Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke het met die Sein-rivier afgespoel en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed.  Die Heilige Bartholomeus – nag word beskou as die grootste misdaad in die moderne geskiedenis.  Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl hulle besig was met eredienste afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak.

Terwyl die Sein-rivier met bloedbevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf.  Die was die tyd van die groot Belydenisskrifte van die Protestantse kerke.  As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlammelig van die brandstapels.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy Eerste Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in dood?

En dan antwoord die Kategismus “My enigste troos in lewe en dood, is dat ek  met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.  Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie.  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.  Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed.  In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue vir die Protestante kerk.  Daarom het Luther dan  ook die Psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste brug ist unser Gott.”  In hier die Psalm word verklaar dat God die enigste TROOS is, die enigste BRUG is, die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is.  As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God is alles of Hy is niks in jou lewe, daar is nie ’n middeweg nie, daar mag nie meer kompromieë wees nie. Daarom beteken dissipelskap opoffering, kruisdra en ’n lewe van algehele toewyding. Godsdiens is ’n duur saak, waarvan jy eers die koste moet bereken voor jy sê: “ja, Here!”  Wanneer godsdiens ’n gemaksone is, is dit goedkoop, as dit alles van my vra word dit ’n duur saak.

Om te dink of te doen alles wat die mense wil hê is egter gevaarlik. In vers 33 sê die Here aan Petrus dat hy nie moet dink aan wat die mense wil hê nie.  Wanneer ’n predikant of ’n kerk of ’n gelowige slegs dit doen en sê wat die mense wil hê, speel hy/sy in die hand van die duiwel – staan hy/sy in die pad van God.

In vers 31 het die Here Jesus aan sy dissipels aangetoon dat Hy baie sal moet ly en uiteindelik doodgemaak sal word.  Dit was egter vir Petrus eens te veel. Hy berispe die Here Jesus hieroor in vers 32.  Volgens Petrus was die Here te gewild om doodgemaak te word.  Inteendeel die storie het rondgeloop dat die Here Jesus die Messias is wat hulle van die Romeinse juk sou bevry.  Hoe kan die Here Jesus dan nou praat van ly en van doodgemaak word.

Daarom was dit vir die Here Jesus nodig gewees om Petrus te tugtig.  Petrus jy dink aan wat die mense wil hê en nie wat God wil nie.  Daarom sê die Here vir Petrus:  “Moenie in my pad staan nie, Satan.”

Die mense in die tyd van Jesus Christus het bevryding en glorie en minder Romeinse belasting gesoek.  Daarom was dit vir hulle onaanvaarbaar dat Jesus kon ly en doodgemaak word.  So het wat die mense wou hê in die pad van God gestaan.  Ja, hierdie mense het eintlik in die hand van die duiwel gespeel.

Wanneer die kerk trap in die slagyster om vir mense te doen wat hulle wil hê (GEMAKSONE) staan die kerk in die pad van die duiwel.

Ons moet as’t ware vra maar wat wil God hê? God se wil vir sy Seun was nie om ’n Politieke Bevryder te wees of om glorie aan die Joodse volk te bring nie. God se wil vir sy Seun was dat Hy moes ly en doodgemaak word, sodat hy die wêreld kon red.  Christus Jesus moes homself verloën, sy kruis, die kruis van die wêreld dra en sy Vader in die hemel navolg.

God se wil vir ons is nie om gemaklik agteroor te sit en God te vertrou om ons koninkryke te beskerm en ons emosionele lewe te “boost” nie.

God se wil vir ons is dat ons onsself moet verloën, ons kruis moet dra en die Here moet volg sodat God deur ons die wêreld kan heel. (Sien vers 34)

Bonhoeffer het in sy boek “Nachfolge” gesê: “Wanneer Christus ’n mens roep, Hy jou roep om te kom sterf. Vir die gelowige moet dit nie gaan oor glorie, gemaksug, emosionele “boost”, en ’n godsdiens van sekuriteite nie.

Dit moet gaan oor selfverloëning, oor kruis dra en navolging.

Met selfverloëning word bedoel om my eie opinies en idees oor sake en mense te verander.  Om altyd die minste te wees.  Dit beteken om nie meer die gewilde vriend van die wêreld te wees nie.  Dit beteken dat ek nou die wil van God doen, en nie meer die wil van die mense nie.  Ek vrees God meer as die mense.  Ek steur my nie meer daaraan om aanvaarbaar en gewild te wees onder die mense nie.

Om nederig en diensbaar voor God en my medemens te leef.  Om nie meer vir myself en my eie koninkrykie te leef nie.  Nou is ek nie meer die “heer” of die “dame” nie – nee, nou is ek die slaaf van Christus.

Nou gee ek myself weg vir ander, stukkie vir stukkie: my tyd, talente, besittings ens.

Met kruis dra word nie bedoel om die daaglikse angs, nood en ongerief van my eie natuurlike lewe te verduur nie,  Nee, dit beteken om die angs, nood en ongerief van ander te verduur.  Die kruis van die arme word my kruis, die kruis van die beproefde word my kruis en die kruis van die sosiaal uitgestote word my kruis.  Met ander woorde, kruis dra beteken om die kruis van my naaste op te neem en myself daarmee te vereenselwig.

Pascal het gesê: “It is so difficult to believe because it is so difficult to suffer.”

Met navolging word bedoel om te stap in die voetspore van die Here.  Ek moet daar wees waar die Here Jesus ook sou wees.  Waar sou die Here Jesus wees?

Hy sou op ’n stil plek wees om te bid.  Hy sou daar op my plaas wees tussen my werkers om die Skrifte vir hul uit te lê, Hy sou by die bejaarde en sieke wees, Hy sou daar by die beproefdes wees, Hy sou daar by die Kinderhuis wees, Hy sou daar by die gevangenis wees, Hy sou daar in die Adelaide se hospitaal wees, Hy sou daar in die plakkerskamp wees om vir mense raad te gee en hul nood te verlig.  Wie Christus navolg, is daar waar Christus sou wees.

U sien dus, wat die mense wil hê is anders as dit wat God wil hê? Mense wil hê: gemak, sekuriteite en die “boost” van my eie emosionele lewe. Die Evangelie moet my genees en niks verder nie.

God wil hê: Deur selfverloëning, kruisdra en navolging wil God my gebruik om die wêreld te help heel.  Daar is nie plek vir glorie, gemaksug of die vertroeteling van my eie emosies nie. Daarom moet ons nie bang wees vir mense of ons skaam wees vir God nie. Ons moenie die dinge sê en doen wat mense graag wil hê nie, want dan verloën ons die Here Jesus Christus. Daarom sê die Here Jesus in vers 38 dat die een wat hom skaam vir die Here, vir hom sal die Here skaam wanneer die wederkoms aanbreek. Vrees God meer as vir die mens.

Moet ons onsself verloën, ons kruisdra en Christus navolg asof dit ’n las is.  Nee, ons moet dit met blydskap doen.  Navolging, kruis dra en selfverloëning moet ons nie negatief ervaar nie, maar met blydskap.  Wanneer Paulus in die tronk sit vir die Here Jesus sê hy: “Wees bly in die Here, ek herhaal wees bly!”

Met blydskap moet ons leer om voluit vir die Here te lewe, al kos dit wat, ja, selfs my lewe!

Want Hy het mos alles vir my opgeoffer!

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om met eenvoud te lewe, bring lewensvreugde.

SKRIFLESING: Prediker 3: 9 – 15

Koos du Plessis skryf die volgende woorde:

“Eenvoud is die vreugde van die lewe.

Dit gee en neem net wat daar is.

Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.”

Die Here het die mens eenvoudig gemaak. Ons maak die mens en die wêreld ingewikkeld. Ons het vir ons ‘n moderne welvaartskultuur geskep. Die tipiese simptome daarvan is spanning, depressie, klagtes oor gejaagde programme, gevoelens van minderwaardigheid, angs en so gaan die lys aan.

Alles moet vinniger, beter, en op groter skaal gedoen word. Alles word ‘n “rat race” op ‘n muismeuletjie. Ons jaag, maar ons jaag na niks.

Almal streef na ‘n hoër lewenstandaard. Ons wil nie afsteek by ander mense nie. Daarom koop ons die nuutste modes en wil die nuutste modelle van alles hê. Iemand het een maal gesê: “ We buy things we do not want, to impress people we do not like …..”

Verder put ons elke dag die aarde se lewensbronne al meer uit. ‘n Joernalis het een dag vir Gandhi gevra of Indië na hulle onafhanklikheid sal probeer om dieselfde gemiddelde lewenstandaard as Engeland te bereik. Ghandi se antwoord was dat vir Engeland die helfte van die planeet se bronne geverg het om hulle lewenstandaard te bereik, hoeveel planete sou nodig wees om dieselfde lewenstandaard vir alle mense in Indië te verseker? Ghandi sê daarom: “ Earth provides enough to satisfy every man’s need, but not for every mans’s greed.

‘n Mens kan jou inderdaad afvra hoe die wêreld sou lyk indien daar net soveel motors per persoon in China was as in die VSA. Of net soveel rommel per persoon in Afrika as in Europa. Hulle beweer dat ‘n ontwikkelde Westerling tot tien keer groter ekonomiese impak maak op die ekologie as die mense van Afrika.

Ons werk harder, speel harder, bestee harder ………. maar aan die einde van die dag is ons armer in ons gees. Die tragiese ironie is dat armes ook alte dikwels deur hierdie materiële begeertes in besit geneem word. Foster sê: “Those who have it the least, love it the most.”

Prediker skryf vanuit ‘n bevoorregte agtergrond. Hy het die persoonlike ervaring van iemand wat alles in die lewe het en wat niks kort kom nie. Hy is iemand wat hard kon werk en selfs baie studie agter sy rug het. Hy het selfs boeke geskryf. Tog lei Prediker aan depressie. Alles voel vir hom na ‘n gejaag na wind.

Dan lees ons hoedat Prediker vreugde vind in die gewone, eenvoudige huishoudelike dinge in die lewe – om te eet, te drink, om vrug op jou arbeid te sien, om vreugde in jou lewensmaat te vind, om jou kinders te geniet, om jou liggaam te versorg ensovoorts.

Luister hoe klink Prediker 9: 12 – 13 – “ Ek het besef dat daar tussen hulle  niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe ja, elke mens dat hy eet en drink en die goeie geniet by al sy inspanning.”

Prediker roep dis die mens op om eenvoudiger te lewe. Eenvoud is ‘n deug, nie ‘n straf nie. Om iets hiervan te verstaan moet ons, soos Prediker, weer leer hoe om die eenvoudige dingetjies te geniet, om die buitengewone in die gewone raak te sien, om die hand van God self daarin te bemerk.

Eintlik bedoel Prediker, dat die mens moet streef na minimalisme.

Minder is beter! Die duiwel hou van meer en beter. Daarom het hy ook vir Eva verlei in die paradys om groter en beter, soos God self te wees. Wanneer ‘n mens ‘n minimalis is, is jy tevrede met minder en kleiner. Dan kan jy eers werklik dankbaar wees, vir die erfporsie wat vir jou uitgesit is.

“Small is beautiful” sê Ernst Schumacher. Daarom moet ‘n mens weer opnuut leer om die “klein dingetjies” in die lewe raak te sien as God se voetspoor in die wêreld. ‘n Mens moet jou instel om vreugde te vind in die reuk van vars brood, in die glimlag van ‘n kind, in die varsheid van ‘n wandeling in die natuur en in die herfs se veelkleurigheid.

Foster gee in sy boek “Celebration of discipline” die volgende raad om ‘n eenvoudiger lewensstyl aan te kweek:

  • Koop dinge omdat hulle nuttig is nie oor hul status nie. Motors behoort byvoorbeeld vir hulle bruikbaarheid gekoop te word en nie vir hulle prestige waarde nie.
  • Moenie aan goed verslaaf raak nie.
  • Kweek die gewoonte aan om dinge weg te gee.
  • Leer om dinge te geniet, sonder om hulle te besit, byvoorbeeld geniet die veld, die natuur, die strand en openbare plekke. (Ons hoef nie alles te besit om dit te geniet nie.)
  •  Leer om met minder klaar te kom, byvoorbeeld minder skoene en minder klere.
  • Pas jou goed op om so lank as moontlik te hou. Gebruik dinge op.
  • Waardeer jou ou goed, moenie altyd nuwe dinge en nuwe modes najaag nie.
  • Maak die lewe so ongekompliseerd soos moontlik. Moenie die lewe ingewikkeld maak nie.
  • Leef dankbaar. Wees dankbaar vir elke stukkie “skewe broodkorsie” op jou tafel.

Geniet die lewe, waardeer die skepping, waardeer die seisoene, geniet mense, geniet jou lewensmaat en jou kinders. Geniet die lewe, sonder om alles te wil besit.

Wie so lewe sal dit eers regkry om die Koninkryk van God voor sy eie koninkryk te stel. Dan sal ek myself minder bekommerd oor dinge. Dan sal ek vry wees om die Here te dien.

Wanneer ek in die “Onse Vader bid: “Lord let your Kingdom come!”, moet ek terselfdertyd bid: “Lord let my kingdom go.”

Eenvoud is loutere vreugde.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die oplossing vir negatiwiteit!

SKRIFLESING: Num 13: 26 – 33

In Numeri 13: 26 – 33 word gepraat van die Israeliete wat ‘n koringkriekkompleks het.

‘n Mens kry mos baie soorte komplekse soos byvoorbeeld, ‘n minderwaardigheidskompleks, ‘n meerderwaardigheidskompleks, engtevrees, hoogtevrees ensovoorts.

Die volk Israel het hier in Numeri 13 aan die koringkriekkompleks gelei. ‘n Koringkriekkompleks is ‘n geneigdheid om alles in ‘n negatiewe lig te sien.

Twaalf spioene is gestuur om die land Kanaän te gaan bespied. Twee van hulle naamlik Josua en Kaleb was oppertuniste wat alles in ‘n positiewe lig gesien het. Hulle het ‘n minderheidsverslag ingebring wat aanbeveel het dat die land Kanaän wel ingeval kan word, omdat hulle weet dat die Here hulle sal help. Maar die ander tien verspieders het ‘n meerderheidsverslag opgestel; wat erg negatief was. Hulle was so negatief gewees, dat hul hulself vergelyk het met koringkrieke. Daar staan in Numeri 13: 33 die volgende: ”Daar het ons reuse gesien. Die Enakiete stam uit die reuse. “Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë.”

Die vyand het vir hulle soos reuse gelyk. Daarom het hulle aanbeveel dat die land Kanaän nie ingeval moet word nie. Negatiwiteit is mos aansteeklik en gou-gou was die hele volk Israel negatief. Hulle was so negatief dat hulle vir Josua en Kaleb met klippe wou doodgooi. Hulle wou eerder die slegte nuus as die goeie nuus hoor. Tipies mens, ‘n koerant wat die swartste prentjie skilder verkoop baie beter as ‘n koerant met ‘n positiewe inslag.

Ook ons as Suid Afrikaanse Christene is besmet met hierdie koringkriekvirus en muggievirus. Ons kla, mor en steun elke dag oor alles en nog wat. Ons sien baie dae die toekoms van hierdie land in die slegste moontlike lig. Ons is negatief oor die ekonomie, oor die regering se hantering van Covid, die ANC se planne vir grondhervorming, oor die onderwys , oor ons skool opvoedingstelsel en die verval in munisipaliteite en so gaan die lysie aan.

Hierdie koringkriekvirus maak jou lam, dit maak jou negatief, dit maak jou angstig, dit maak jou depressief. Jy verleer om te leef en gelukkig te leef.

Wat is die oorsaak van hierdie koringkriekkompleks? Die teks gee vir ons presies vier oorsake vir hierdie koringkriekkompleks, naamlik om alles in ‘n negatiewe lig te sien.

Die eerste oorsaak is om net die negatiewe van die verlede raak te sien. Hulle het moontlik net die bitter water by Mara onthou en vergeet van die soet water by die oase. Hulle onthou van die oorlog met die Amelekiete en hoedat drieduisend Israeliete doodgemaak is oor die goue kalf. Hulle vergeet van die water uit die rots, manna en kwartels uit die hemel. Ons vergeet ook dikwels van hoe die Here ons deur droogtes en siektes en deur die dood bygestaan en versterk het. Ons vergeet die talle kere in die verlede hoe die Here ons probleme in die mis laat verdwyn het.

Die tweede oorsaak van hulle negatiwiteit is dat hulle negatief is oor hulle toekoms. Hulle het vergeet dat die Here aan hulle die belofte van ‘n beloofte land gegee het. Hulle het vergeet dat die Here vir hulle ‘n visie en ‘n plan het. Vir hulle het die lewe maar net om oorlewing gegaan. Ons as Christene vergeet ook dat ons in hierdie donker Afrika-kontinent nog steeds ‘n taak en ‘n plek het. Ons moet die Evangelie versprei, ons moet vir Afrika kos gee, ons moet Suid Afrika help opbou. Die Here het ook vir die Suid Afrikaner met sy Westerse agtergrond ‘n baie duidelike doel in hierdie kontinent. Ons is onmisbaar. Ons is net te verlam deur die koringkriekvirus om hierdie heerlike doel wat God met ons lewens het raak te sien.

Die derde oorsaak van hulle negatiwiteit was dat hulle negatief oor hulself gedink het. Die tien verspieders vergelyk hulself met koringkrieke. Hulle is die koringkrieke en die vyand was die reuse. Hoe maklik kan ‘n reus nie ‘n koringkriek doodtrap nie. Hierdie verspieders het vergeet dat hulle verbondskinders is, dat hulle in die oë van God spesiaal is. Hulle het vergeet dat hulle besny is, dat hulle deur God afgesonder is. So maklik vergeet ons ook dat ons vir God spesiaal is, omdat ons God se gedoopte kinders is. Ons vergeet dat die Here vir ons aangeneem het as sy eie kinders. Ons vergeet van 2 Kor 12: 10, wat sê as ek swak is, is ek sterk. Ons vergeet dat die Here vir die jongeling Dawid gebruik het teen die reus Goliat, ons vergeet dat die Here vir die hakkelende Moses gebruik het, ons vergeet dat die Here vir Paulus met sy doring in die vlees gebruik het.

Die vierde oorsaak van die negatiwiteit is dat hulle ‘n skewe beeld van God gehad het. Hulle het eenvoudig gedink dat God te klein is om hulle te help. Die reuse van Kanaän het selfs hulle God verdwerg. Hulle het vergeet van die God wat die tien plae gestuur het. Hulle het vergeet van die God wat die Rooi See in twee verdeel het. Hulle het vergeet van die God wat ‘n vuurkolom en ‘n wolkkolom gestuur het. Hulle het vergeet van die God wat daagliks manna en kwartels gestuur het.

Hoe maklik vergeet ons nie ook wie GOD werklik is nie. Ons vergeet dat God almagtig, alwys, ewig, onveranderlik, goedertieren, barmhartig, mildelik, vriendelik, genadig, regverdig, alomteenwoordig ensovoorts is. Dikwels blaas ons ons probleme so op dat ons God verdwerg. Dit is doodeenvoudig …. ongeloof.

Ja, uit ‘n menslike oogpunt was die vyand soos reuse en die Israeliete soos koringkrieke. Die Kanaäniete het immers ysterwapens gehad, hulle het strydwaens gehad en in versterkte stede gebly en hulle was lank en fris gewees. Die Israeliete daarenteen het slegs houtwapens gehad, het geen strydwaens gehad nie en het in tente gebly. Verder is ‘n Jood nou nie juis fris en sterk gebou nie. Daarom het die meerderheidsverslag 10 teenoor 2 gewen. Die volk het ook hulle volmondige steun aan die meerderheidsverslag gegee.

Ja, die hele volk was besmet met die koringkriekvirus. Hulle het verkeerd terug gekyk na die verlede. Hulle het verkeerd gekyk na die toekoms, hulle het verkeerd gekyk na hulself gekyk en hulle het verkeerd na God gekyk.

Die volk Israel en ook ons vergeet egter so maklik van God.

Dit bring ons by die kuur van die virus. Die kuur is eenvoudig. Jy moet die oorsake uit die weg ruim.

Kyk terug na die verlede en dink aan die baie kere wat God jou gehelp het.

Kyk vorentoe en ontdek opnuut die plan wat God met jou lewe het.

Kyk na jouself as ‘n verbondsmens vir wie God baie lief het. Weet dat God jou wil gebruik met al jou foute en skete.

Die belangrikste is egter om te kyk na God. Kyk na die krag van die kruis en die opstandingsevangelie. Dan sal jy weet dat ons in die oë van God wel koringkrieke is, maar op God se skouer is ons reuse.  AMEN

(Die vierdeling van die preek het ek raakgelees by ‘n prediker, wie se naam ek vergeet het. Sommige aanhalings is ook die onbekende prediker se werk. Die begrip “koringkriekvirus” het ek ook by hom gekry.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moet ek ’n passasierskip of ’n handelskip wees?

SKRIFLESING: Luk 13: 6 – 9 en Mat 28: 16 – 20

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n passasierskip en ‘n handelskip. Hulle verskil hemelsbreed van mekaar want hulle take verskil. Die passasierskip is gemaak om passasiers te vervoer en die handelskip is gemaak om mee handel te dryf.

Omdat die passasierskip getaak is om passasiers te vervoer, is die skip dan ook gerieflik ingerig. Gewoonlik baie weelderig, met al die gemak wat passasiers oor ‘n lang seevaart verlang. ’n Handelskip is weer ongemaklik met min gerief, want die skip is nie gebou om te ontspan nie, maar om houers en vragte te vervoer.

Op ‘n passasierskip werk net die bemanning. Die honderde passasiers ontspan op die skip en word bedien. Op die handelskip is almal op die skip getaak met ‘n opdrag. Niemand word bedien nie.

Waarmee sal u die kerk vergelyk? Met ‘n passasierskip of ‘n handelskip?

Vir baie lidmate moet die kerk soos ‘n passasierskip wees. Die kerk moet gerieflik wees en deeglik na hul behoeftes omsien. Die dominee en die kerkraadslede moet soos die kelners op die passasierskip wees, wat rondhardloop om almal tevrede en versorg te hou. Dan is die kerk op haarself gerig. Dan leef die kerk bloot vir eiebelang en is na binne gerig.

Veel eerder moet die kerk soos ‘n handelskip wees. Die kerk is die Here se handelskip waarmee Hy die wêreld wil bereik. Die kerk as handelskip moet liefde, vriendelikheid, gasvryheid, liefdadigheid en al die gawes van die Gees vervoer en dit lewer aan die wêreld.  Daarom het die Here Jesus dan ook met sy hemelvaart vir die kerk sy visie, sy missie uitgespel, naamlik om dissipels te maak.

Daarom het die Here Jesus dan ook die gelykenis van die vyeboom vertel. Die Here Jesus kom by die vyeboom en vind ‘n pragtige blaredos, maar vind geen vrugte daaraan nie. Dit waarvoor die vyeboom aangeplant is, naamlik om vye te dra, daarin misluk die vyeboom. Die vyeboom is soos ‘n luukse passasierskip, met ‘n pragtige blaredos, waaronder die lidmate in die koelte sit. Maar die vrugte, die vye ontbreek. Daarom is die Here erg ontstel. Die vyeboom voldoen nie aan die doel waarom dit aangeplant is nie.

Die vyeboom  is bemes en nat gegooi en versorg, maar nog dra dit geen vrugte nie. So het die Here Jesus ook sy kerk geplant, bemes en natgegooi en versorg. Die Here het vir sy kerk die Woord, gegee en ampsdraers en gawes, maar nog steeds dra die Here se kerk nie vrug nie. In plaas van dissipels te maak, sit ons in die koelte van die vyeboom, sit ons op ‘n gemakstoel op die passasierskip.

Kyk die Here Jesus nie dalk ook vanoggend na sy vyeboom, sy kerk op Adelaide en wonder Hy of Hy nie maar die gemeente moet uitkap nie. Vir meer as 131 jaar het Hy al die vyeboom, die gemeente versorg en bemes en natgegooi, maar tog ontbreek die visie nog om dissipels te maak vir die Here. Ons is ingestel om almal binne die kerk gelukkig te hou, tevrede te hou, in die koelte te hou, dat ons vergeet het van ons oorspronklike visie, naamlik om dissipels vir die Here te maak.

Onderhou ons nie dalk vanoggend ‘n passasierskip in plaas van ‘n handelskip nie.

U sien in Mat 28: 19 gee die Here Jesus die volgende opdrag, naamlik: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” In die Grieks staan daar letterlik: “Maak dissipels al lopende en lerende.”

Die kerk is die enigste organisasie wat nie bestaan vir sy lede nie, maar vir sy nie-lede. Die kerk bestaan ter wille van die wêreld en die ongelowiges wat nog tot redding moet kom.

God se teiken is dus nie die kerk nie. Sy teiken is die wêreld: “ Gaan na die nasies toe.” Die kerk is die handelskip wat liefde verhandel aan die wêreld. Die kerk is die handelskip wat die liefde bring na die mense en die nasies. Die kerk is die draer van die liefde van Jesus Christus.

God werk in die wêreld. Wanneer die kerk in die wêreld werk, dan werk God in die kerk.

Johannes 3:16 sê nie: : “God het die kerk so lief gehad nie”, maar “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gestuur het.” Natuurlik beteken dit dat God vir jou en my ook lief het, maar dit beteken ook dat hy die ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook lief het, en dit is ons taak om van hulle dissipels te maak.

Ons moet nie vra: “ Hoe gaan dit met julle kerk nie.” Ons moet eerder vra: “Hoe gaan dit met die wêreld daar waar julle kerk is? Want God mik op die wêreld.

Is ons huwelike, ons gesinne, ons lewens, ons prioriteite, ons woorde, ons dade, ons geaardhede, ons persoonlikheid ‘n lewende getuie van Jesus Christus? Hierdie bose wêreld waarin ons lewe sal nie beter word deur dit net te kritiseer nie. Nee, ons moet dit eerder evangeliseer.

Dit help nie ek kla oor die arbeiders in my diens nie, ek moet hulle by die Woord uitbring. Het hulle ‘n Bybel? Herinner ek hulle aan eredienste in hulle taal. Gesels ek met hulle oor die Bybel? Hou ek in die oggende vir hulle godsdiens? Deur ons barmhartige dade maak ons ook dissipels vir die Here Jesus. Iemand se dade tel meer as sy woorde.

Leef ek elke dag korrek voor God, voor my huweliksmaat, voor my arbeiders en voor my medemens?

U sien ek moet self eers ‘n dissipel wees voor ek van ander dissipels kan maak.

Eintlik is dit nie so moeilik om dissipels van mense te maak nie. Ek moet net die saad saai, die regte voorbeeld stel, korrek lewe en bemoeienis maak met ander mense. God verander mense. God gebruik my lewe en getuienis om dissipels van mense te maak. Wat waar is, is dat ongelowige mense meer ons lewens lees as wat hulle die Bybel lees!

Is u en ek nog effektief? Maak ons nog dissipels?

Dra ons nog vye of gee ons net koelte vir die lidmate om onder te sit? ‘n Vyeboom word nie aangeplant vir sy koelte nie, maar vir sy vye. Die kerk is geplant nie om koelte te gee vir lidmate nie, maar om vye te dra, dissipels te maak.

Die kerk is nie ‘n passasierskip wat ons moet vervoer deur hierdie lewe na die hiernamaals nie. Nee, die kerk is die handelskip wat al God se Geestesgawes uitdeel aan die wêreld. Dit is om iets van die hemel nou alreeds waar te maak in hierdie wêreld.

Kom ons gemeente wees nie maar net vyebome wat koelte vir lidmate gee nie, maar eerder ‘n vyeboom wat vrugte dra, wat die opdragte van die Here uitvoer, en wat dissipels vir die Here maak. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

Die stofmannetjies en die stofvroutjies in die Here se kerk.

SKRIFLESING: 1 Tes 2: 1 – 12 en 1 Petrus 2: 9 – 10

Wanneer ‘n mens ernstig siek is, wil ‘n mens graag die mening van ‘n spesialis hê. ‘n Spesialis is ‘n kenner op daardie bepaalde liggaamsdeel wat siek is. Of as ’n mens ‘n nuwe kar het, neem jy dit gewoonlik na die agente, omdat hulle die beste weet. Ja, ons maak eerder van ‘n spesialis of ‘n kenner se hulp gebruik as ons sommer enigeen te vra.

Tog wanneer God sy werk op aarde gedoen wil hê, maak Hy nie van spesialiste, van engele gebruik nie. Nee, Hy gebruik mense, stofmannetjies en stofvroutjies om sy werk te doen. Die begrip “stofmannetjie” het ek in een van Prof Willie Jonker se preke gelees en daarom gebruik ek die uitdrukking ook in dié preek. Stofmannetjies beteken Hy gebruik doodgewone mense soos u en ek om sy werk te doen. Dit is eenvoudig wonderlik. God vertrou vir ons soveel, dat Hy sy kosbare werk aan mense opdra om dit vir Hom te doen. Daarom het die Here in die paradys vir Hom stofmannetjies en stofvroutjies gemaak en hulle na Sy beeld geskape. Hy het gesê dat hulle vir hom verteenwoordigers op hierdie aarde moet wees.

Ons moet God se stofmensie-verteenwoordigers wees in die landbou, die veeteelt, die ekonomie, die politiek, die regswese, die geneeskunde, die administrasie, die tegniese wetenskappe en elke ander terrein. Die Here gebruik stofmensies op skaapplase om hom te eer. Wat ‘n voorreg is dit nie om te weet dat God my elke dag in alles wil gebruik om oor sy skepping te heers. Daarom het ons elkeen verskillende talente en gawes, sodat God ons ten beste kan gebruik.

Maar die heel wonderlikste is dat God ook stofmannetjies en stofvroutjies gebruik in Sy kerk op aarde. Ewigheidswerk word deur stofwesentjies gedoen. Hy plaas hulle in die amp van leraar, ouderling, diaken en gelowige. Daarom bestaan God se kerk nie uit engele nie, maar uit stofmensies. God kommunikeer met die mens deur mense. Daarom het sy Seun mens kom word om vir die mensheid redding te bring. Daarom gebruik Hy mense om vir ander mense van Sy liefde te vertel.

Daarom het die kerk vandag so baie foute, omdat die kerk uit stofmensies en nie uit engele bestaan nie. Maak ‘n kerkleier ’n fout dan haal dit die hoofopskrifte van die Rapport. Daarom moet ons nie in die kerk sit en wonder wie is skynheilig nie, want sien die kerk is juis vir goddelose mense bedoel. Die kerk is nie van vlekvrye staal gemaak nie, maar van verganklike stof. Daarom moet ons nie aan die kerk bo-menslike eise stel nie. Die kerk is juis swak, sodat die Here sy kerk in swakheid kan gebruik.

Die wonder is egter dat die kerk met al sy foute en al nie doodloop nie. Hoekom? Omdat God sy kerk self instand hou deur sy Gees en sy Woord. Die krag van die kerk lê nie in die mensies in die kerk nie, maar in die God van die kerk. Ook ons gemeente bestaan al meer as 131 jaar en daar word al 159 jaar vanuit hierdie gebou kerk gehou vir Adelaide se gelowiges. Te midde van baie foute en gebreke bestaan hierdie gemeente omdat God self die kerk instand hou. Daarom mag ons nooit die Here se gemeente liefdeloos kritiseer of afmaak nie, want God se kerk en gemeentes het Hy met sy kosbare bloed gekoop.

Die Here gebruik stofmannetjies en stofvroutjies met al hul gebreke, byvoorbeeld die hakkelende Moses, die vlugtende Jona, die depressiewe Elia, die owerspelige Dawid, die humeurige Petrus, die ongelowige Thomas, Paulus met sy doring in die vlees en so kan die lysie aangaan. God bring deur hierdie stofmensies groot dinge tot stand. Stofmensies word sy boodskappers.

Ek het die voorreg om Adelaide se twaalfde predikant te wees. Vir 131 jaar lank al het God 12 swakke stofmannetjies gebruik om sy gemeente te bou. Hy gebruik die leraar om herder, priester en profeet vir sy gemeente te wees. Leraars moet soos ‘n pa en ‘n ma na God se gemeente omsien. Beide vaderlike en moederlike eienskappe moet hulle teenoor die gemeente openbaar.

Oor die afgelope 131 was daar honderde ouderlinge wat soos konings in die naam van die Here geregeer en gelei het.   Hulle moet soos ‘n pa bemoedig en aanspoor en die gelowiges op die hart druk om tot eer van God te leef. Daarom moet ‘n ouderling altyd vaderlik optree.

Die afgelope 131 jaar was daar honderde diakens wat getrou soos priesters gedien het. Hulle het gesorg dat die gemeente en die armes en siekes versorg is. Hulle het die offers versamel. Hulle moet soos ‘n moeder optree en seker maak dat almal in die gemeente genoeg kos het. Hulle het gesorg en gedien en seker gemaak dat die gemeente ook wat aardse middele betref oorleef.

Oor die afgelope 131 jaar was daar duisende lidmate wat in hierdie gemeente in die amp van gelowige gestaan het. Dit was hulle wat soos skape agter die Here se Woord aangeloop het. Dit was hulle wat hulle geloof elke dag prakties uitgeleef het in die gemeenskap. Baie dikwels het sommiges ook afgedwaal soos skape dikwels doen. Natuurlik groei die onkruid saam met die koring. Maar Goddank in die afgelope 131 jaar kon die onkruid nog nooit die koring toegroei nie.  Natuurlik is die gemeente soms bidloos en ontrou soos die dissipels in Getsemané. Natuurlik is die gemeente soms onwillig as dit kom by sending, ja dan hardloop ons weg soos Jona vir die Here weggehardloop het. Natuurlik is die gemeente soms nie gewillig om barmhartig te wees nie, soos wat die dissipels die 2 vissies en 5 brode vir hulself wil hou. Baie dikwels is ons soos die priester en Leviet wat verby die man stap wat langs die pad beroof en vir dood agtergelaat is.

Op die stukkie aarde (waar ons kerk staan) aanbid geslagte al vir 159 jaar. Eers het daar donkiekarre en perdekarre buite die kerkgebou gestaan. Toe kom die ou Fords wat jy met die slinger draai. Deesdae staan daar moderne voertuie in die kerkerf. Eers is daar uit die Hollandse Bybel gelees, toe die 1933 Afrikaanse vertaling, toe die 1953 Afrikaanse vertaling en toe die 1983 vertaling. Sedert verlede jaar gebruik ons die 2020 Afrikaanse vertaling. Vir soveel geslagte het duisende lofliedere vanuit die kerkruimte verrys. Soveel babatjies is gedoop. Soveel paartjies is in die huwelik bevestig. Soveel trane is hier met begrafnisse gestort, soveel duisende preke is vanaf Adelaide se kansel gelewer.

In die kerkkantoor se kluis is die vergeelde bladsye van die argiewe, wat vertel hoe God stofmannetjies en stofvroutjies gebruik het om die kerk te regeer. Die debatte het deur die jare verander. Daar was die kelkie stryd, die manelle, die vergroting van die kerk in 1951 en so kan ons nog talle debatte byvoeg, waarmee die kerkraad en gemeente moes geworstel het. Sommige was krisisjare. Tog het God sy kerk bewaar deur elke kerkraadsvergadering.

Daar was finansiële maer jare en finansiële beter jare vir die gemeente Adelaide. Tog het God nog deur alles heen sy kerk bewaar. God wil ook hê dat ons voortdurend moet planne maak sodat die kerkopbou en die kerkuitbou op Adelaide kan voortgaan. Ons moet Sy getuie wees. Ons moet missionêr en diakonaal betrokke wees in die wêreld rondom ons. Wat ‘n heerlike taak.

Die kerk is nie in die hande van stofmensies nie, maar in die hande van die lewende God.

Sias Reyneke het ‘n pragtige liedjie geskryf met die woorde: “ Ek wens jy kon jou deur my oë sien.” Ek wens u kon deur God se oë na hierdie gemeente kyk. Ek wens u kon in God se hart sien hoe lief hy hierdie stofmannetjies en stofvroutjies het. Dat Hy stofmannetjies en stofvroutjies gebruik, met al hul foute om te vertel van Sy groot dade.

Hy gebruik nie spesialiste, die engele nie. Nee, Hy gebruik stofmensies. Is daar ‘n groter wonder?

Die Here wil vir jou en my gebruik! Hy wil vir ons ook in sy gemeente op Adelaide gebruik. Dank God daarvoor.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)