Die huis en etenstafel as kweekhuis.

SKRIFLESING: Ps 128: 1 – 6 en 1 Timotheus 1: 5

Christus Jesus is die sterk, gesonde wortelstok, waarin ons as gelowiges ingeënt word by ons doop. Met ons doop word ons deel van die geslag van Abraham,  die vader van die geloof.

Daarom word ons met ons doop almal kinders van Abraham. Ons word deel van die Christelike geloof. Daarom is die doop die teken van die inlywing by die Christelike kerk en deel kry aan al die beloftes wat God vir sy kinders in die Bybel opgeteken het. Dit is vanoggend ook waar van Ava Rose Dias.

Daarom neem God die inisiatief met die kinderdoop. Hy kom stel homself bekend aan kindertjies wat nog niks verstaan nie. God gee die eerste tree in die verbond. Daarom noem ons dit die genadeverbond.

Soos wat ‘n man ‘n meisie die hof maak en die inisiatief neem in die verhouding, is God ook die God wat die inisiatief neem in die doop. Later sal die kind bewus word van God se liefde vir haar of hom en God se liefde terug beantwoord.

Soos wat die naelstring afgebind word by die geboorte en daar ‘n biologiese skeiding plaasvind tussen moeder en baba, word daar met die doop ‘n NUWE NAELSTRING gevorm.  Dit is ‘n geestelike naelstring, waardeur die kind ingelyf word in die kerk van Jesus Christus.

As God deur die doop ‘n naelstring met die dopeling bind, dan is die gemeente die baarmoeder waarbinne die dopeling moet groei. Daarom moet die hele gemeente verantwoordelikheid neem om so te leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. Daarom moet die doopouers ook hulle kinders in die kerk en in die erediens grootmaak, want dit is God se baarmoeder. Hulle moet ‘n liefde vir die kerk ontwikkel, sodat hulle eendag aktiewe lidmate van die Here se kerk sal wees.

Daarom maak die doop jou ‘n lidmaat van die kerk, en nie belydenisaflegging nie. By die belydenisaflegging aanvaar die jongmens net die verantwoordelikheid van sy lidmaatskap wat hy met die doop ontvang het.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont gewoonlik by die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die doopplegtigheid plaasvind, gaan die priester na die doopvont by die ingangsportaal en doop die kindjie. Die priester dra dan die kindjie van die ingangsportaal vorentoe en stel hom of haar bekend aan die hele gemeente as nuwe lidmaat.

Dit is ook die wonder van die kinderdoop. God is ALLEEN aktief, terwyl die dopelinge nie eers bewus is wat nou met hulle gebeur nie.

Daarom moet ons huis en ons etenstafel aan die Here gewy wees.

Psalm 128:3 – “Jou vrou is soos ‘n vrugbare  wingerdstok  in die binnekamers   van jou huis.   Jou kinders is soos olyfboompies   om jou tafel.”

Eerstens moet my huis aan die Here gewys wees. My huis moet soos ’n kweekhuis wees waarbinne my kinders groot word. In ’n kweekhuis word bome gereeld gesnoei. ’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n boom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik, veral volgens die Spreukeboek van die Bybel.  Die huis is die kwekery waar geloofsoordrag plaasvind en waar integriteit gekweek word by kinders. In ‘n kwekery word bome gesnoei om ‘n mooi vorm aan te neem.  Dink aan Bonsai-boompies wat met groot sorg gekweek, gesnoei en versorg word. Die uiteinde is ‘n kunswerk.Daarom vra die doopbelofte ‘n stuk verantwoordelikheid van die doopouers. Die doopouers beloof in die doop om God se kindjie groot te maak in die vrese van die Here. Daar is navorsing gedoen, wat bevestig dat meer as 82 % van die geloofsoordrag plaasvind deur die ouers se opvoeding in die ouerhuis. Daarna kom vriende se invloed en dan eers die kerk. Daarom is ouers van sleutelbelang as dit kom by geloofsvorming en geloofskweking van dopelinge. Dit kos net een geslag wat afvallig word van die Here, om ‘n ongelowige te kweek. Daarom is die doopbelofte wat die ouers aflê baie belangrik. In 1 Timotheus 1: 5 maak Paulus daarvan melding dat Timotheus se geloof bewerk is deur God, wat sy ma Eunice en sy ouma Loïs gebruik het om die geloofsoordrag te laat plaasvind. Shaun en Anke Dias, moet hulle twee dogtertjies Emilia en Ava groot maak in die vrese van die Here.

My eerste ervaring van geloofsoordrag het plaasgevind toe ek ‘n klein seuntjie was en my moeder elke aand vir my uit die Kinderbybel geleer het en my geleer het om ‘n eenvoudige kindergebed op te sê. Daarom moet geloofsopvoeding so vroeg as moontlik begin.

Johannes Calvyn het gesê, kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ‘n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die dopelinge kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die dopeling moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die dopeling moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  Daarom moet dopelinge al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ‘n afspraak het.

Tweedens moet my etenstafel ook aan die Here gewys wees.

Die Boesmans se kombuistafel het die volgende behels: om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories te vertel, te eet, te kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider-Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwester. Hulle het televisies gekry, selfone gekry, oonde gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf, omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.

Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone en tegnologie  nie. Mense het nog rondom die kombuistafel gekuier. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie gekuier. Met die aanbreek van die selfoontegnologie-era is mense weer besig om teksboodskappe te stuur aan die etenstafel. So word die kombuistafel verwaarloos. 

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op stil gestel word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof Anna Fishel  van die Harvard Medical School skryf in “The Washington Post” as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is aan die feit dat daar daar nie ’n kombuistafel-kultuur tuis was nie.

Kersfees gaan ons ook rondom ’n heerlike kostafel sit. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Ons kinders en kleinkinders is vir ons ‘n sieraad. Daarom kan ons getroos wees dat ons kinders deur die doop met ‘n ewige naelstring aan God verbind is. Daarom moet ons ons huise en etenstafel gebruik as die kweekhuis waar ons ons kinders kan opvoed om eendag jongmanne en jongmeisies te wees wat God ken. Wie sy doopbelofte nakom, sal nie eendag wakker lê van bekommernis of my kind op die regte pad is nie. Mag die Here die doopouers en grootouers gebruik as ‘n kweekhuis vir hierdie boompies wat nog gevorm moet word met GEBORGENHEID en SEKURITEIT.   Mag die Here vir Ava Rose Dias seën haar lewe lank en mag sy in die huis van die Here woon tot in lengte van dae.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die volmaakte offer in die krip …

SKRIFLESING: Lukas 2: 8 – 12

Die volgende interpretasie van die geboorteverhaal van Jesus Christus, word lewend gehou deur Jode wat Christene geword het. Hulle het dan veral die Joodse gebruike baie goed geken en gee ’n unieke interpretasie van die krip in Bethlehem.  

Jesus is in Bethlehem in ’n stal, waarskynlik naby Migdal Eder gebore en is in ’n klipkrip (krip uitgekap uit klip) geplaas, wat slegs vir die geboorte van offerlammers gebruik word. God wou hê dat Sy Seun in ’n klipkrip op ’n baie spesiale plek gebore moet word: Migdal Eder, die Toring van die Kudde, as die Paaslam van God.

Ten tye van Jesus se geboorte het Bethlehem ’n bevolking van ongeveer driehonderd gehad en was dit die gebied waar Levitiese herders lammers grootgemaak het vir offers by die Tempel in Jerusalem. Hierdie spesiale herders is opgelei en het die verantwoordelikheid gehad om te onderskei watter lammers geskik is om te offer aangesien slegs ’n onbevlekte lam aanvaarbaar was.

Om die jong lammers veilig en skoon te hou, was nie ’n maklike taak in hierdie klipperige area nie, daarom is die gekose lammers beskerm deur hulle in repies lap wat bekend staan ​​as doeke, toe te draai. Die lappe of bande het die lam warm gehou. Enige defek van ’n skraap of besering sal vereis dat die lam afgekeur word en saam met die ander lammers en skape wat net gewone vee was, uitgestuur word. ’n Gedeelte in die Misjna bevestig ook die gevolgtrekking dat die troppe skape vir tempeloffers bestem was. Die Levitiese herders het dus offerlammers wat volmaak is, geteel en dan verkoop aan Jode wat op pad was na Jerusalem om te gaan offer.

Terwyl ons aan daardie nag dink meer as 2 000 jaar gelede, het Josef en Maria in die dorp Bethlehem aangekom toe Maria op die punt was om geboorte te skenk. Daar was geen hotelle of herberge soos ons vandag ken nie. Hulle enigste opsie was om ’n familielid te vind wat hulle dalk sou verwelkom het of om ’n vreemdeling te vind wat vir hulle ’n kamer teen ’n prys kon aangebied het. Maar ons weet dit het nie gebeur nie. Die oorbevolking in Bethlehem weens die sensus, was ’n groot probleem vir die jong egpaar. Boonop sou Maria binnekort geboorte  skenk, en dit het beteken dat daar bloeding sou wees, wat hul gasheer se huis seremonieel onrein sou maak volgens Joodse wette. Maria en Josef se opsie was om die enigste beskikbare verblyf te aanvaar: ’n stal of ’n grot van een of ander aard. Maar God het dit so beskik dat Jesus in ’n stal gebore moes word.

Migdal Eder, sowat 2 000 treë van Bethlehem geleë, was ’n toring op die pad tussen Bethlehem en Jerusalem en word in die Ou Testament genoem deur die profeet Miga wat voorspel het dat die Messias in Bethlehem gebore sou word, en Hy sou kom na “die toring van die kudde.”

Miga 4:8 “En jy, wagtoring van die kudde, vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy is op pad –  die koningskap vir die dogter van Jerusalem.”

Jesus, die Messias, is as ’n offerlam gebore op dieselfde plek waar alle ander onbevlekte en onbeseerde lammers gebore is en dan ingewy is vir offer. Jesus sou in soortgelyke doeke toegedraai word as dié waarin die offerdiere toegedraai is. Daarom verklaar dit die skrifgedeelte, dat die engele net aan die herders openbaar het dat die Kind gebore is in ‘n krip. Die engele het nie vir hulle die ligging van die krip bekend gemaak nie, want hulle ken Migdal Eder, as die geboorteplek van die lammers. Daarom het hulle geweet waar om vir Jesus te soek.

Johannes die Doper het grootgeword met ’n kennis van die verhale en profesieë aangaande Jesus, sy neef. Toe hy Jesus sien, sê hy: “Daar is die Lam van God.”

Migdal Eder

Die Skriftuur, geskiedenis en omgewing pas alles perfek by die geboorteverhaal in. Jesus sou in Bethlehem, by Migdal Eder, gebore word en dan in die klipkrip geplaas word wat slegs vir die geboorte van offerlammers gebruik word. Die belang van Jesus se geboorte is dat die Seun presies gekom het soos, wanneer en waar die Vader lank terug belowe het. Die herders van die eerste tot vierde eeue het die ligging lewendig gehou in hul verhale en ’n Bisantynse klooster is in die vierde eeu oor Migdal Eder gebou.

Die wonder van die volmaakte offer in die krip was dat die Kind uit ’n maagd gebore is. Ons moet hierdie Kersfees ons ook hieraan verwonder. Dít was deel van die plan sodat die Jesuskind die perfekte Lam van God sou wees. Dit was ’n maagdelike geboorte, sonder die toedoen van ’n man. Daarom is Jesus Christus die perfekte offer in die krip, want Hy was sonder die letsels van sonde.

Jesus Christus was sondeloos.

Die wonder van die maagdelike geboorte is die hart van ons belydenis. Daarvan mag ons nie afwyk nie. Gewoonlik het Joodse meisies op 13 tot 15 jaar verloof geraak aan ’n man. Maria was aan Josef verloof. Voor hulle kon trou, word Maria maagdelik swanger en die engel troos Maria en Josef dat die geboorte bonatuurlik is en van God kom. Nogtans moes hulle trou, want God wou Sy Seun in die geborgenheid van ’n huwelik laat groot word, wat kom onderstreep hoe belangrik die huwelik vir God is, as die “opgroei” plek vir kinders.

Thomas Watson skryf as volg: “That man should be made in God’s image was a wonder, but that God should be made in man’s image is a greater wonder. That the Ancient of Days should be born, that he who thunders in the heavens should cry in the cradle… that he who rules the stars should suck the breast; that a virgin should conceive; that Christ should be made of a woman, and of that woman which [He] himself made; that the branch should bear the vine; that the mother should be younger than the child she bore, and the child in the womb bigger than the mother; that the human nature should not be God, yet one with God; this was not only mirum [Eng. surprise] but miraculum [Eng. miracle]. Christ taking flesh is a mystery we shall never fully understand till we come to heaven…”

Verder skryf Thomas Watson die volgende: “[Christ] was born of a virgin, that we might be born of God. He took our flesh, that He might give us his Spirit. He lay in the manger that we might lie in paradise. He came down from heaven, that He might bring us to heaven.”

Die maagdelike geboorte, wat Jesus die perfekte Lam sonder die letsels van sonde gemaak het, is te groot vir ons om te verstaan. Ons kan dit alleen maar kinderlik gelowig bely. Die Lam was perfek, sonder sonde, want dit was ’n maagdelike geboorte.

Die diere kom nie in die Kersevangelie voor nie, maar kom uit die Ou Testament. Soos die profeet Jesaja gesê het: “’n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” (Jesaja 1: 3)

Later word die diere ook genoem as simbole vir Judaïsme (die bees) en heidendom (die donkie). Omdat die os ook as ’n “skoon” dier gesien word, word dit gewoonlik aan die kant van Maria in die stal gesit en die donkie saam met Josef. Jesaja vermaan as’t ware vir  Israel oor hulle ontrou. Die bees en donkie ken hulle eienaar en die krip waaruit hulle eet, maar God se volk ken nie die krip nie. Die bees en donkie staan vir onnoselheid. Mag ons in ons wysheid reg kies, om te buig voor die krip waarin die volmaakte offer lê.

Vir eeue het die Jode op pad na Jerusalem vir hulle offerdiere by Migdal Eder in Bethlehem gekoop om te offer by die tempel in Jerusalem. Toe Jesus Christus in die krip van die offerdiere lê, het Hy die volmaakte Paaslam geword. In Hom en deur Hom, sou die bloed van offerdiere ophou vloei, want Hy het Sy bloed laat vloei op Golgota.

Van krip tot kruis was Jesus Christus die volmaakte Lam van God. Sy geboorte was maagdelik, sodat Hy sonder sonde en enige beletsel aanvaar sou word as die offer wat geslag is vir die sonde van die wêreld.

Kyk, in die krip van Bethlehem lê dié volmaakte offer. Die bees en die donkie ken die krip van hulle eienaar.

Ken jy die krip van dié Een wat vir jou lief is? Buig jy ook vandag by dié krip?

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

  1. Vertellings van die gids by Bethlehem in Israel met die naam van Lahdo L Shio. (Dit is soos die Joodse Christene dit verstaan.)
  2. Navorsing en artikel deur Donna Gawell
  3. Negev, A. (1990). In The Archaeological Encyclopedia of the Holy Land (3rd ed.). New York: Prentice Hall Press
  4. The Sign Given to the Shepherds (Dec 25, 2019) Bible.org 
  5. A Visual Guide to Bible Events (2009) Martin, Beck and Hansen, Baker Publishing
  6. Holy Land Lecture Series by Pastor Dan Travis, Blacklick, Ohio
  7. Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 198

Afrikaners moet nie té plesierig wees nie …

SKRIFLESING: Gen 12: 1 – 3

Geloftedag moenie as politieke feesdag vir die Afrikaner gevier word nie.

Geloftedag is ten diepste ’n viering van God se beskerming en antwoord op die noodgebed van mede-volksgenote. Ons moet Geloftedag so kan vier, dat selfs ’n Zoeloe-Christen tuis sal voel in die erediens. Afrikaners moenie te plesierig wees tydens Geloftedagvieringe nie, asof God aan hulle kant was of nog steeds is.

Almal wil God mos aan hulle kant hê. Mense dink as God aan ons kant is, sal alles goed gaan. Dink maar aan voorbeelde in die moderne geskiedenis, wat getuig hoe mense God aan hulle kant wil hê en as’t ware aan hulle kant wil plaas, byvoorbeeld soos in die Engelse volkslied: “God save the Queen”. Of die Duitse slagspreuk in die Tweede Wêreldoorlog: “For Gott, Volk und Vaterland”. In my ouma se eetkamer het daar ook ’n prent gehang van al die Boere-generaals met die woorde: “Vir God, volk en vaderland.”  In die bevrydingsteologie is God geplaas aan die kant van die armes. Dan kry ons natuurlik ook die swart volksteologie, wat Christus aan die kruis uitbeeld met ’n AK47-geweer. Of die wit volksteologie wat erg rassisties teenoor swart mense dink.

In die Anglo-Boereoorlog het beide die Engelse en die Boere in God geglo. Voor elke slag het elke kant gevra dat God vir hulle die oorwinning moet gee. In rugbywedstryde kan spelers maklik vra dat God asseblief hulle span sal laat wen. In die boerdery kan een boer bid vir reën en dan wil ’n ander boer, wat met iets anders boer, weer geen reën hê nie, want dit is sy oestyd.

Politieke partye probeer God aan hulle kant kry. So het die ANC ’n paar jaar gelede verklaar dat hulle sal regeer tot die wederkoms. Onlangs het Julius Malema in ’n openbare toespraak gesê (in reaksie op die ANC se uitspraak), dat die wederkoms reeds gekom het, want die EFF is die wederkoms. Dit is absoluut Godslasterlik as jy God wil gebruik vir jou politieke doeleindes en persoonlike voordeel. 

So maak ons van God ’n pion op ’n skaakbord wat ons kan rondstoot soos ons wil. Ons maak van die lewende God ’n afgod wat ons kan optel en aan ons kant kan plaas. Dan word God niks meer as ’n gelukbringer vir ons nie.

Maar God laat Hom nie rondstoot of rondplaas nie. Wie aanmatigend verklaar: “God is aan ons kant,” dink menslik en klein oor die lewende en almagtige God. Nee, God kies nie kant nie. God het nie swartskape en witbroodjies nie.

Die vraag moenie wees aan wie se kant God is nie, maar eerder: Is ek (ons) aan God se kant? Verstaan ek wat God se roeping vir my is?

In Genesis 12: 1 – 3 staan daar:  “Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys. Ek sal jou ‘n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak; sodat jy ‘n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën; maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die groot families van die aarde geseënd wees.”

Die Here het vir Abram geroep om tot seën te wees van die wêreld. Deur Abram sou God die wêreld seën. Daarom het God ook later ’n verbond  met Abram gesluit, sodat al die volke van die wêreld deel van die verbond sou word.

So is ons geroep om tot seën te wees. Ook die Afrikaners het as volk tot stand gekom uit baie volke om tot seën te wees in hierdie Suidland.

God het sy gelowiges uit elke volk gekies, nie om tot eie voordeel te leef nie, maar daar te wees tot die seën en voordeel van die nasies. Daarom moet ons ’n missionale kerk wees, wat glo ons is geplant om tot seën van die wêreld te wees.

Toe van Riebeeck aan wal gaan in Tafelbaai met die drie skepe en met sy werksaamhede alhier begin, begin hy dit met die volgende gebed uit Hollands in Afrikaans vertaal:

“Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur.

Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader, dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in watter mate ook al op eie voordeel of winsbejag

let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat  in die hemel is, … Amen”

Deur die loop van drie eeue sou die gebed van Jan van Riebeeck waar word. Die   NG Kerk sou op ’n merkwaardige wyse die landskap van Suid-Afrika verander, sodat daar vandag in elke stad en dorp gemeentes is wat afstam vanuit die sendingvisie van ons voorvaders. 

Decoligny Teologiese Skool

Ons voorouers het sendingkerke, sendingskole en sendinghospitale gebou dwarsdeur Suid-Afrika en die omliggende lande, tot sover as Malawi. Vrouens het aan die Sendingbond behoort en elkeen het ’n sendingbussie gehad waarmee daar geld vir die sending ingesamel is. Daar was selfs Sendingsondae en sendingkoeverte. Daar was ’n amp bekend as evangeliste, wat as “eerwaarde” aangespreek is. Voor 1994 was daar nog agtien sendingposte, net in die Oos-Kaap. Dit is ’n ongelooflike verhaal van omgee en die deel van die Evangelie.  Kerkrade en Sinodes het ’n Evangelisasie-kommissie en ’n Sendingkommissie gehad. ’n Evangelisasie-kommissie om afgedwaaldes terug te bring na die kerk en ’n Sendingkommissie om dié wat nog nooit van die Here gehoor het nie, ook te bereik. Die vrug op die destydse sendingbeleid van die NG Kerk het ’n wonderlike oes ingebring en ons Suid-Afrikaanse landskap verander. Daarom is ’n groot persentasie Suid-Afrikaners Christene.

So het God ons voorouers gebruik en wil Hy ons gebruik om tot seën te wees.

Ons voel dikwels bedreig in hierdie Suidland. Maar ons kan weet dat die God wat ons voorouers beskerm het tydens Bloedrivier, ook oor ons sal waak. Bloedrivier was een groot wonderwerk.  

Die afgelope week het die grondonteiening-wetsontwerp gesneuwel in die parlement deurdat die Konstitusie nie verander kon word nie. Daardeur is grondbesit en voedselsekerheid in Suid-Afrika verseker. Ons glo dat die Here op so ’n manier ook ons land beskerm het daarteen om ’n tweede Zimbabwe te word. Ons vertrou Hom ook vir die toekoms. 

Die historikus D.J. Kotzé beskryf dat die wonder van Bloedrivier drievoudig en totaal buite die beheer van die Voortrekkers was. Eerstens het die Zoeloes nie in die nag aangeval nie, tweedens het die mis wat die nag voor die geveg oor die laer gehang het, met dagbreek gelig en derdens het dit nie tydens die geveg gereën nie. Volgens Kotzé moet ’n mens aanvaar dat ’n Hoër Hand al drie hierdie dinge só beskik het.   Van die Zoeloes wat Bloedrivier oorleef het, vertel dat hulle nie in die nag aangeval het soos hulle gebruik was nie, want daar was wit gedaantes wat oor die kamp gehang het, as gevolg van die lanternlampe en die mis. Hulle het toe nie aangeval nie. Dit opsigself is ’n wonderwerk wat net deur die Here beskik kon gewees het.

Die Here het ons geroep om tot seën te wees in Suider-Afrika. Dieselfde God van Bloedrivier sal ons ook beskerm, sodat ons dit kan regkry om tot seën te wees van al Suid-Afrika se mense.

Daarom moet ons Geloftefees onthou en vier. Ons moet onthou dat God ons beskerm en dat ons ’n roeping het om tot seën van al die mense van Suid-Afrika te wees.                                                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VAN WANHOOP NA TROOS

SKRIFLESING: Jesaja 40: 1 – 11

Om Jesaja 40 te verstaan, is dit belangrik dat ons Jesaja 39 eers nadertrek. Tussen Jesaja 39 en Jesaja 40 is daar ’n verskil van 70 jaar. Jesaja 39 is die aankondiging van die Babiloniese ballingskap en Jesaja 40 is die aankondiging van die herstel en vrylating uit Babiloniese ballingskap. Die volk was tussen 586 vC en 516 vC in Babiloniese ballingskap. Jesaja 39 is ’n oordeel-aankondiging en Jesaja 40 is ’n genade-aankondiging.

Jesaja 39 speel af voor die Babiloniese ballingskap en ons lees dat Jesaja vir koning Hiskia van Juda die volgende boodskap bring in Jesaja 39: 6: ” ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê.”

Ballingskap is erg. Dit is ontworteling van alles wat vir jou bekend was. Jy verloor alles en moet met niks ’n nuwe begin maak. Jy word van selfstandigheid gestroop en jy word ’n kneg van ’n nuwe politieke orde. Dit is traumaties om van sekerhede te beweeg na totale onsekerheid. Vir Israel was dit erg. Vir dekades het hulle in ballingskap gelewe.

Eugene Peterson skryf die volgende oor ballingskap: “The essential meaning of exile is that we are where we don’t want to be.”

(Histoire Sainte -Paule Landron – Illustration Marie Odile de Laforcade-Droguet et Ardant-Limoges 1991)

Dit is presies die plek waar baie wit en bruin mense van Suid Afrika op die oomblik is en nie wil wees nie. In die vorige politieke bedeling van apartheid was die swart en bruin mense op ’n plek waar hulle nie wou wees nie. Die Afrikaner het ’n onreg gepleeg deur mense in ballingskap te plaas. Maar nou is die bordjies verhang en ervaar die wit en bruin mense ballingskap in hulle eie land. Daarom trek honderdduisende mense vandag oor na ander dele van die wêreld vir ’n heenkome en werk. As jy vandag wit of bruin is, is daar nie vir jou werk nie. Regstellende aksie laat ras swaarder weeg as bekwaamheid, kwalifikasies of talent. Die boeregemeenskap word geteiken om hulle grond af te vat. Boere word vermoor en plattelandse gemeenskappe lewe in vrees. Korrupsie vreet soos kanker aan ons land se ekonomie. In sport speel ras-kwotas ’n groter rol as meriete. Die infrastruktuur en munisipale dienslewering van ons land is slegs ’n skaduwee van wat dit eers was.

Ons is op ’n plek waar ons nie wil wees nie.

Daar is nog ’n plek waar ons nie wil wees nie. Dit is in ons sondeskuld. Sondeskuld is ook om in ballingskap te wees. Sonde maak van jou ’n kneg. Jy is in die kettings van bitterheid, haat, naywer, woede, rusie, verdeeldheid, onsedelikheid en ander verkeerde dade en gedagtes. Jy is nie vry nie, want jy is nog nie vrygespreek nie. Dit is die ergste vorm van ballingskap. Die hooftema van die Bybel is juis God se plan om ons uit die ballingskap van die sonde en dood te verlos.

Die Bybel skryf ook dat die kerk van die Here deur die eeue hierdie ervaring van ballingskap gehad het. 1 Petrus 2: 11 herinner ons: ” Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge …” Daarby herinner Hebreërs 13 ons dat ons in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek het nie, dat ons nog op soek is na die toekomstige. Bedoelende dat ons in hierdie lewe eintlik in ballingskap is en dat ons op pad na iets beters is.

Dan belowe Jesaja 40 vir die Israeliete uitkoms, verlossing, troos en bevryding. Dit kan ons ook op óns van toepassing maak. Jesaja 40: 10 beskryf die Here as ’n kryger. En Jesaja 40: 11 beskryf die Here as ’n herder. Die Here is die kryger wat die Babiloniese gode en heersers verslaan en sy volk uitlei terug na Jerusalem, hulle stad. Die Here is die herder, wat sy volk sagkens bystaan na hulle traumatiese jare in ballingskap. Hy bring as herder vertroosting, heling en beskerming.

Tydens Advent kom die Here Jesus Christus ook as kryger om die sonde te verslaan en as herder ons uit te lei uit die ballingskap van sonde.

Jesaja 40: 3 – 4 uiter ’n voorspelling wat later op Johannes die Doper van toepassing sou wees: “ ‘n Stem roep: Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Arabae ‘n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak.   Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet ‘n vallei word.”   Die voorspelling van Jesaja 40: 3 – 4 voorspel die koms van Johannes die Doper wat die voorloper sou wees van Jesus Christus en vir Christus die pad gelyk sal maak deur dit voor te berei.

Die Arabae (in Hebreeus) in boonste aanhaling verwys na die Jordaanvallei, wes van die rivier waardeur die Israeliete getrek het met die uittog uit Egipte en waardeur hulle sal trek ná die bevryding uit Babilonië. (Afrikaanse 2020 Bybel se verklaring in voetnote)

Dit bevestig Markus 1 vir ons – die woorde van Jesaja 40 kry eers sy ware betekenis met die geboorte van Christus. Daar staan in Mark 1: 2 – 3 geskryf: “Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit –  hy sal jou pad gereedmaak. ‘n Stem van iemand wat roep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’.”  Jesus se Naam is Immanuel – nie God-ver-van-ons nie, maar God-met-ons! (Ds. Jan Steyn)

Die ballingskap wat ons op politieke, kulturele of dalk in ons persoonlike lewe ervaar, kan God dikwels op verrassende maniere kom aanspreek en oplos. Daarom is ons altyd mense van  hoop. Natuurlik het ons ook die ewige hoop, naamlik om uit die ballingskap van hierdie sterflike wêreld verlos te word, na die ewige nuwe Jerusalem, as God se koningskinders.

As jy in jou persoonlike lewe ballingskap ervaar van siekte, werkloosheid, finansiële probleme, verhoudingsprobleme of wat ook al, kan jy die lewende troos hê dat God die trooster is. Hy is jou kryger en herder, wat jou daardeur sal dra.

In die kerklike liturgie word dikwels gebruik gemaak van vier Advent-kerse en een wit Christus-kers. Die vier Advent-kerse word een vir een op ’n Adventsondag aangesteek. Die vier kerse se betekenis is:

  • Hoop
  • Vrede
  • Vreugde
  • Liefde

Die groot wit kers word op Oukersaand aangesteek om Christus te simboliseer.

Jesaja 39 is ’n hoofstuk van wanhoop. En dan, dekades later, kom Jesaja 40 wat ’n hoofstuk van hoop is.  

Mag die eerste Advent-kers ons herinner aan die ewige hoop wat ons het.  Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

MY KEUSES IS MY DIEPSTE VRYHEID …

SKRIFLESING: Gen 39: 1 – 23

Die hele lewe gaan oor keuses. Elke dag, elke oomblik maak ons keuses. Elke keuse het ’n gevolg. Wanneer ek ’n verkeerde keuse maak, het dit altyd ’n negatiewe gevolg in my lewe. Elke regte keuse word beloon met voorspoed.

Josef is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat te alle tye die regte keuses in sy lewe gemaak het. Wanneer dit goed gegaan het, het hy regte keuses gemaak. Wanneer die lewe vir hom verkeerde kaarte gegee het, het hy ook die regte keuses uitgeoefen. Daarom het die Here altyd vir Josef geseën, in goeie en slegte tye.

Josef se verhaal begin waar hy drome gedroom het. Sy broers was jaloers op hom omdat hy as jongste voorgetrek is. Hulle gooi hom toe in put en verkoop hom later as slaaf aan die Ismaeliete. Die Ismaeliete verkoop hom toe aan Potifar, ’n vername man in Egipte. As slaaf in Potifar se huis, seën die Here hom in alles. Hy vind guns in die oë van Potifar en word aangestel as hoof van Potifar se huis. Met uitnemendheid verrig hy sy taak. Maar toe kom daar ’n kinkel in die kabel. Potifar se vrou vind vir Josef baie aantreklik en wil hom verlei om saam met haar te lê en die onbetaamlike te doen. Josef is net ’n man. Maar dan maak hy die regte keuse om nie aan haar versoek te voldoen nie. Hy vlug weg van die versoeking. Elke dag het sy hom probeer verlei en elke keer het hy die regte keuse gemaak om nie aan haar versoek te voldoen nie. Eendag toe sy en Josef alleen in die huis is, pak sy vir Josef aan sy kleed en dring daarop aan dat sy by hom moet kom lê. Josef vlug weg, maar Potifar se vrou het Josef se kleed in die hande gekry.

Die slinkse vrou van Potifar het toe vir Josef gaan verkla by die huiswerkers en by haar man Potifar. Sy het valslik die Hebreeuse man beskuldig deur te sê dat Josef by haar toenadering sou gesoek het om haar seksueel te vermaak. Josef se kleed het sy as bewysstuk voorgehou.

Potifar was so kwaad dat hy vir Josef in die tronk, waar die koning se gevangenes aangehou is, gegooi het. Josef was dus nie in die gewone gevangenis nie. (Die Here het dit so bewerk, want die tronk sou hom later kontakte gee na die Farao self.)

Omdat Josef die regte keuse gemaak het, het die Here hom ook in die tronk geseën. Weer het Josef hom opgewerk, sodat die hoof van die gevangenis vir Josef aangestel het oor al die gevangenes.

’n Tydperk later het hy die kelner en bakker se drome uitgelê. Hul drome het waar geword. Die kelner is vrygelaat en het weer sy posisie aan die hof van die Farao opgeneem. Toe die Farao drome droom, het die kelner vir Farao vertel van Josef in die tronk. So het dit gekom dat Josef ook die Farao se drome uitlê en aangestel word in die tweede hoogste posisie in die Egiptiese ryk.

Al Josef se regte keuses bring vir hom die seën van die Here oor sy lewe.

Toe die hongersnood uitbreek en Egipte se skure oorloop van graan, het Josef se broers Egipte toe gereis om graan en brood te soek. Josef het hulle herken, maar hulle het hom nie herken nie. Josef het toe die mag gehad om sy broers dood te maak, omdat hulle hom destyds verkoop het as ’n slaaf. Maar weer maak Josef die regte keuse. Hy laat sy broers lewe en laat hulle en sy pa na Egipte trek, waar daar oorgenoeg kos is. So red hy sy gesin. Hy kon gekies het om weerwraak te neem, maar nee, hy kies om te vergewe. Deur Josef se regte keuses, kon God se verbondsvolk gered word van hongersnood en uitwissing.

Die uitkoms van jou lewe word nie bepaal deur omstandighede nie, maar deur die keuses wat jy maak, selfs al is die omstandighede nie goed nie.

Josef het die verlies van ’n gesin ervaar toe hy verkoop is. Hy het, as slaaf, verlies aan vryheid ervaar. In die gevangenis het hy verlies aan vrye beweging ervaar. Hy het verlies aan menswaardigheid ervaar.

Verlies is nie maklik nie. In veral oorlogstye verloor mense baie goed in ’n kort tydjie. Victor Frankl het as Joodse psigiater in Auschwitzkamp ’n fyn waarneming gemaak van hoe mense reageer in tye van verlies. Die Jode het alles in die konsentrasiekampe verloor. Hulle het hul vryheid, geliefdes, vriende, gesondheid, besittings, beroepe, besighede, status in die samelewing, hul hoop, hul menswaardigheid en nog ’n klomp ander dinge verloor. Sommige het selfs hul geloof verloor. In sy boek “Search for meaning” beskryf Frankl hulle menslike reaksies.

Sommige het soos “varke” geword en was net ingestel op hul persoonlike behoeftes. Ander het weer soos “engele” geword en die swaarkry het ’n bonatuurlike goedheid in hul na vore laat kom. Hulle was inderdaad soos wandelende engele wat hul persoonlike behoeftes opsy gestoot het, vir die nood van ander. Hulle het gekies om die beste in hulself na vore te laat kom. Hulle het gekies om hul eie persoonlike behoeftes op te offer vir beginsels wat baie groter as hulself is. Hulle het gekies om engele te wees. Hulle het gekies om nie soos “varke” op te tree nie.

Frankl vertel in ’n persoonlike ervaring van hoe ’n Duitse SS-wag hom geterroriseer het. Op ’n stadium het die soldaat Frankl se brilletjies van sy kop afgeslaan en die bril knersend stukkend getrap  met sy soldaatstewels. Frankl wou woedend word. Toe besluit hy hy gaan nie vir die soldaat sy sin gee nie. Hy gaan nie vir hom kwaad word nie. Hy gaan wys hy is in beheer. Toe ontdek hy dat ’n mens se diepste vryheid daarin geleë is dat ’n mens die vryheid het om te kies hoe jy in ’n bepaalde situasie wil en gaan optree. Dit is jou diepste keuse en niemand kan hierdie VRYHEID van jou af wegneem nie.

Frankl skryf dat ook die Duitse wagte verskillend opgetree het. Party het ook soos “varke” opgetree en was vernederend teenoor die Jode. Sommige wagte het weer soos “engele” opgetree en geweldig baie gedoen vir die Joodse gevangenes. Sommige het selfs hul kos met die Jode gedeel. So was daar die “bad” en die “good” aan albei kante. Persoonlike keuses het bepaal of jy “good” of “bad” was.

Op die ou end ís en wórd mense hulle keuses. Jou keuses vertel watter tipe mens jy is en die tipe mens wat jy wil wees. Hierdie vryheid om te kies wie jy wil wees, kan niemand van jou af wegneem nie. Nie eens jou grootste vyand nie!

Josef het die regte keuses in sy lewe geneem en die Here het hom geseën. Wie verkeerde keuses in die lewe neem, moenie die Here of die lewe blameer nie. Elke keuse het ’n gevolg. Daarom moet ons ook die gevolge van ons keuses dra.

Somtyds kom swaarkry oor jou lewe, as gevolg van omstandighede buite jou beheer. Dikwels is dit die gevolge van ander mense se verkeerde keuses. Maar die meeste ellende wat ’n mens oorkom, bring jy oor jouself.

Daarom moet ons nie wanneer ons in slegte omstandighede is, gedurig die verlede blameer nie. Ek kan keuses maak om bo my slegte omstandighede uit te styg, soos wat Josef deur die regte keuses homself opgehef het, tot die tweede magtigste man van Egipte.

Jy is nooit die slagoffer van jou omstandighede nie. Wanneer jou omstandighede teen jou tel, moet dit die lanseerbasis wees waarvandaan jy jou na ’n beter lewe uit lanseer. Josef het dit reggekry.

Keuses maak die man. Keuses maak die vrou. Maak jou keuses reg soos wat Josef gedoen het en jy sal geseënd wees.                                                      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Sonder hoop kan niemand leef nie.

SKRIFLESING: 1 Samuel 1:4-20

’n Mens kan veertig dae sonder kos lewe.

’n Mens kan drie dae sonder water lewe.

Maar ’n mens kan nie een dag sonder hoop lewe nie.

Elke mens het ’n dringende behoefte aan hoop. Daarom sê 1 Kor 13: 13 “En nou bly geloof, hoop en liefde,  hierdie drie –  maar die grootste hiervan is die liefde.” Hoop word geprioriseer as een van die drie belangrikste sake in die Christelike geloof.

In ons gelese gedeelte lees ons van ‘n vrou, Hanna wat aan die einde van haar hoop gekom het. Sy was getroud met Elkana, maar sy was kinderloos. Elkana se ander vrou Peninna, het egter kinders gehad. Vir Hanna was haar kinderloosheid vir haar ’n erge krisis. Boonop het Penninna vir Hanna gelag en geterg oor sy nie kinders kon kry nie. Elkana het vir Hanna baie lief gehad, maar nie eers die troos kon Hanna optel uit haar toestand van hopeloosheid nie.

Penninna was tipies soos baie wêreldse mense is. Jy lag en jy trap op die een wat op die grond lê. Mense spot met die hulpelose, die swakke en dié sonder hoop. Jy sien dit in die skole en speelparke waar kinders mekaar boelie. Maar jy sien dit ook elke dag gebeur tussen grootmense. In die werksplekke en samelewing trap mense op mekaar om bo uit te kom. Diegene wat dit nie gemaak het nie, word gespot. Dit vererger die emosies van hopeloosheid.

Hooploosheid, is die ergste toestand waarin jy jou kan bevind. Behalwe kinderloosheid, kan armoede, werkloosheid, ‘n liefdesteleurstelling, siekte, lewenskrisisse en vele ander teleurstellings jou laat hoop verloor. Dan verloor die lewe vir jou sin.

Daar staan in vers 6 dat haar “mededinger” haar so getreiter het om haar seer te maak. So het dit jaar na jaar gegaan as Hanna opgaan na die huis van die Here, het Pennina haar getreiter, omdat sy net  een deel van die offervleis gekry het. Hanna het so gehuil en wou nie eet nie. Dit was vir haar ‘n vernedering.

Hanna, was so sonder hoop dat sy in die tempel ingevlug het en met haar hooploosheid na God gegaan het. Sy was wys en verstandig. Die enigste plek waarnatoe jy kan vlug met jou hooploosheid is na God. Daar in die tempel alleen het sy gebid, dat net haar mondhoeke beweeg het. Sy het ‘n gelofte afgelê by die Here dat as die Here vir haar ‘n manlike nasaat sal gee, sal sy die kind aan die Here wy en geen skeermes sal oor sy kop kom nie.

Eli, die priester wat by die tempel se deuropening gesit het, het gedink sy is dronk. Eli het haar aangespreek en beveel om ontslae van die wyn te word. Toe verduidelik sy vir hom dat sy nie dronk is nie, maar dat haar hart ontsteld is. Toe sien Eli vir haar met nuwe oë raak en gee vir haar hoop in vers 17: “Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan.” Met hierdie nuwe hoop het sy uitgegaan, geëet en nie meer droewig gewees nie. Sy kon nou lewe uit die hoop wat priester Eli vir haar gegee het. So moet ons ook nie met eerste oogopslag mense oordeel nie. Kyk ‘n tweede keer, soos Eli en dan sal jy eers regtig die nood van ‘n ander raaksien.

Die vraag vanmôre is ons soos Pennina, wat mense se hopeloosheid groter maak, of is ons soos Eli wat vir ander mense hoop bring?

Die wêreld is in hopelose omstandighede. Mense het hoop dringend nodig. Daarom moet kerke eilande van hoop wees en ons as gelowiges moet die vlam van hoop bring, waar daar net die donkerte van wanhoop is.  

Met die groot droogte van 2019, wat sommiges beskryf as die grootste droogte in 300 jaar, wat oor 7 jaar gekom het, was die landbou nywerheid in ‘n erge krisis. Die hele Nood Kaap, Oos Kaap en dele van die Wes Kaap was in die wurggreep van ‘n ernstige droogte. Selfs op hede is die droogte nog steeds nie verby nie. In Namakwaland, Boesmanland en groot dele van die Karoo, het baie boere feitlik alles verloor. Hulle was nie eers instaat om hulle kinders se skoolgelde te betaal nie. Hulle kon nie eers nuwe bande aan hulle voertuie sit nie. Selfs om kos te koop was ‘n uitdaging. Dit het rampafmetings aangeneem.

As jy vandag vir die boere sou vra, hoe het julle daardeur gekom, kry jy deurgaans die antwoord daar was mense wat vir ons hoop gebring het. Al kon hulle nie die situasie  beredder nie, het hulle oral kruisies van hoop geplant. Van oor die hele land het boere lusern en veevoer ontvang. Daar was die skoendoos projek, waar elke boer se vrou ‘n kartondoos met geskenke ontvang het. Boere in die Vrystaat het gratis weiding gegee, vir boere wie sy weiding op is.  Die Sinode van die Noord Kaap, Oos Kaap en Wes Kaap, as ook ander het noodlenigingsfondse gestig, waaruit boere gehelp is om hulle kinders se skoolgelde te betaal.  Hoop het van oral ingestroom, en die boerdery gemeenskap het beleef ander mense gee vir hulle om. Hulle het hoop gekry. Hulle was nie eensaam in hulle ellende gelaat nie.

Op Adelaide het Kerksondermure vir ons gemeenskap 40 JoJo watertenks geskenk, om die gemeenskap met water te help. Tans gee Kerksondermure vir ons maandeliks ‘n groot bedrag geld, om die hongernood in Bezuidenhoudtville  en Lingelethu aan te spreek. Die Post Retief Boerevereniging het in die midde van Covid 19, elke maand ‘n groot bedrag gespandeer vir nood in die dorp. Round Tablers het verskeie projekte, waarmee hulle gereeld vir die behoeftiges en bejaardes hoop bring.  

Al bogenoemde aksies bring hoop. Wanneer jy ‘n sieke besoek, bring jy hoop. As jy ‘n werklose mens of ‘n arme help, dan bring jy hoop. As jy ‘n nodige telefoonoproep maak of ‘n WhatsApp van hoop vir iemand stuur maak jy ‘n verskil.

Ons moet draers van hoop wees.

Peninna, het die moedelose Hanna onderdruk, uitgelag en geteister. Sy het Hanna se wanhoop net groter gemaak.

Maar Eli het Hanna aangehoor en met ‘n belofte van hoop weggestuur. So is ons ook geroep om vir mense hoop te gee. Al kan ons nie al hulle probleme oplos nie, kan ons tekens van hoop vir hulle gee. Ons kan draers van hoop wees.

Toe Eli vir Hanna wegstuur met ‘n belofte van hoop, het niemand gedink dat die vrug van die belofte sou Samuel wees, wat die opvolger van Eli sou word. Samuel sou die volk Israel lei in wysheid.

Wanneer jy hoop uitdeel, sal jy ook somtyds verbaas staan oor die wonderlike uitkomste wat daar sal wees.

Die eerste keer toe Eli vir Hanna geoordeel het, het hy gedog sy is ‘n dronk vrou. Toe hy beter kyk, toe sien hy die nood en hooploosheid in Hanna raak. Hy het met nuwe oë na haar gekyk. Hy stuur haar toe weg met ‘n belofte van hoop. Somtyds oordeel ons ook mense met die eerste oog opslag verkeerd en wil hulle veroordeel. Daarom moet ons bid dat die Here vir ons nuwe oë sal gee om die nood raak te sien en in daardie omstandighede hoop te bring.

Daar sal altyd die Peninna’s wees wat mense afdruk in die lewe. Maar ons as Christene is ook priesters wat draers van hoop moet wees en ander mense moet optel.

Mag die Here ons gehoorsaam maak.                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tussen die steengroewe werk God.

SKRIFLESING: Eks 1: 1 – 2:10

Vir die Israeliete begin die verhaal van Eksodus op ’n slegte noot ……. op ’n slegte plek. Dit begin by die steengroewe van Egipte. Hulle moes stene maak vir die bou van Farao se voorraadstede, Pitom en Ramses.

In die begin het die Israeliete dit nie te moeilik gehad in Egipte nie, want hulle vader Josef was ’n gerespekteerde en gewaardeerde man. Hy het immers Egipte van hongersnood gered. Maar toe daar mettertyd ’n ander Farao aan bewind kom, wat nie meer van Josef geweet het nie, het die Israeliete begin swaar kry. Hulle groeiende getalle het volgens Farao ’n al groter bedreiging vir Egipte geword.  Daar is baie aspekte van die verskriklike lewe in so ’n steengroef wat ons as bevoorregte mense nouliks sal kan begryp. Kom ons kyk ’n bietjie na die toestande in so ’n steengroef. Daar moet daagliks ’n hoë produksiekwota van stene gelewer word. Daar was ’n vaste tydskedule, met min tyd vir ontspanning. Dit was ’n plek van onderdrukking en profyt. Dit is ’n plek van ongelukkigheid en arbeidsonrus. Inderdaad ’n plek van lyding en wanhoop.

Miskien voel u dat u ook vasgevang is in u eie steengroef. Nie een van ons leef ver verwyderd van die realiteit van so ’n steengroef nie. Dit is op die ou end ’n beeld wat ons almal verstaan. Iewers is ons almal se lewens en siele gebind aan ’n sisteem. Dit kan werksdruk wees, of spanning by die werk, of boerdery bekommernis. Daar word hoë eise aan ons kinders gestel op skool en dan is daar die alewige finansiële bekommernis.

Miskien het u werk, u boerdery, die skool, u huis, gesin of huwelik vir u ’n steengroef geword. Alles word net een te veel. Almal ken daardie gevoel.

Die Israeliete was 400 jaar lank vasgevang in hulle steengroef. ’n Mens kan dus verstaan dat hulle sal begin vrae vra oor hulle lot:

  • Gee God om?
  • Hoor God as ons roep?
  • Is God regtig daar?
  • Is Hy regtig werklik ’n lewende God?

Vasgeval in die steengroef weerklink die Godsvraag: Gee God om?

Die Israeliete het hierdie vraag gevra, miskien vra u dit ook. Maar Eks 1: 1 – 2:10 gee self vir ons die antwoord op hierdie vraag. Die skrywer gee vir ons drie bewyse dat God omgee.

  1. God werk agter die skerms.
  2. Die mens wik, maar God beskik.
  3. Lyding het ’n plus-kant. 

Kom ons staan eers stil by die eerste bewys dat God omgee.

  1. God werk agter die skerms.

Ons maak te maklik en te gou afleidings. God het die manier om die meeste van Sy werk agter die skerms te doen. Kenners wat hierdie verlossingsverhaal van Israel vergelyk met die buite-Bybelse verlossings- en roepingsverhale van ander volke sê dat die opvallendste verskille juis op hierdie vlak lê. In die ander volke se verhale is die god of gode heeltyd op die voorgrond – hulle is die hoofspelers. Maar as Israel se verhaal vertel word, sien ons mense op die verhoog, net mense! Sodat ’n mens op ’n stadium kan begin wonder: Waar is God dan? Die geheim is om te weet dat hy nie die hoofspeler is nie, maar die regisseur – meer nog, ook die draaiboekskrywer. As u dan vra waar God is, weet dan, Hy werk agter die skerms.

Dit bring ons by die tweede saak:

  • Die mens wik, maar God beskik.

Die Jode van later geslagte, het seker heerlik gelag oor hoe Farao se gesinsbeplanningsprogram misluk het. God belowe ’n groot nageslag. Farao probeer dit verydel met sy gesinsbeplanningsprogram. Hy beraam plan op plan. Waar is God? Farao wik, maar God beskik. Farao se planne misluk keer op keer.

Hierdie magtige Farao wat ’n wêreldheerser was, se plan word telkens deur sosiaal onmagtige vroue buite aksie gestel. (So gebruik die Here vroue.) In vers 15 gebruik die Here twee eenvoudige Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua, wat die Farao uitoorlê en nie die Joodse baba-seuntjies doodmaak nie. Toe die Farao opdrag gee dat die Hebreeuse seuntjies doodgemaak word, gebruik die Here die Hebreeuse dogter Miriam om die magtige Farao se dekreet te omseil. Dan is dit ook die einste Farao se dogter wat Moses red en aanneem as haar seun en so die Farao se plan laat misluk.

Kan u die humor raaksien? Die Farao wik en weeg, maar God beskik ’n uitweg.  So dikwels kan ons vir onsself die mooiste planne optrek, maar dan kom beskik God op ’n heel eenvoudige wyse. In Eksodus 1 reeds, maar veral in Eks 2, sien ons hoe God sonder dat mense dit agterkom, die geskiedenis beheer. En hoe wonderlik, hoe asemrowend en hoe stylvol doen hy dit nie!

En tog tragies genoeg, gebeur dit alles sonder dat die volk besef wat regtig aan die gang is. Hulle sien glad nie God se beskikking raak nie. Eks 1 sê vir ons dat dit meer kere gebeur dat mense, selfs God se eie volk, Hom en Sy handewerk in die geskiedenis nie herken nie. ’n Mens kry koue rillings as jy besef dat dít natuurlik ook is wat gebeur het met Jesus. Israel het honderde jare gewag vir die Messias, maar toe Hy kom, herken hulle Hom nie. Kan dit ook met ons gebeur? Kan dit wees dat ons ook dalk in so ’n tyd leef, in Suid-Afrika en in ons eie lewe, waar ons nie die beskikking van God raaksien nie?

Dit bring ons by die derde punt:

  • Lyding het ’n plus-kant

As God die geskiedenis beheer en ’n goeie plan het, waarom was ’n pynlike ompad vol lyding en baie trane vir Israel nodig? In die eerste plek het die Here die ompad gebruik om die volk in Josef se tyd van hongersnood te red en in Egipte aan die lewe te hou. Tweedens het die Here ook sy belofte van ’n groot nageslag vir Abraham juis in Egipte begin waar maak. Toe hulle in Egipte aankom, was hulle maar 70. Nou na 400 jaar was hulle so baie dat die Farao begin bang word het. Derdens wou God ook gehad het dat hierdie volk vir mekaar omgee. Die Here het geweet dat as ’n mens nie self swaarkry, lyding of nood ervaar nie, jy gewoonlik nie gereed is of lus het om ander mense in nood te help nie. (Vergelyk Eks 20 en die Levitiese wette.)

Dus as daar ook vir ons swaarkry is, laat ons nie te gou wees om allerhande vreemde afleidings te maak nie. Dalk is die Here maar net besig om op Sy manier ook vir ons voor te berei vir iets besonders.

Daarom, om saam te vat. As u vasgevang voel in u steengroef – weet dan God gee om, want:

  • Die Here werk agter die skerms.
  • Die mens wik, maar God beskik.
  • Lyding het ’n plus-kant.

Ja, God gee werklik om.                          AMEN   

(Die drie hooftrekke van die preek het ek by ‘n prediker raakgelees, wie se naam ek vergeet het.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Jesus Christus het gekom om lewensvreugde te bring.

SKRIFLESING: Joh 2: 1 – 12

Ons almal wil graag gelukkig wees en ware lewensvreugde ervaar. Baie keer vind ons ons vreugde in nuwe dinge wat toegevoeg word tot ons lewe. Die vreugde van ’n kind oor ’n nuwe speelding. Die vreugde oor ’n nuwe huis, ’n nuwe motor, ’n nuwe lewensmaat of ’n nuwe baba, ’n nuwe werk of ’n nuwe stokperdjie. Christus Jesus wil nie nuwe dinge toevoeg tot ons lewe nie. Nee, Hy wil ons – met ons gewone lewe en die gewone dinge in ons lewe – aanraak en kom verander. In die alledaagse wil Hy nuwe lewe en sprankeling kom gee. Juis in hierdie verandering wat Jesus wil bring, vind ons die eintlike ware vreugde. Dit is ’n tipe metamorfose wat Jesus wil bring. Soos ’n wurm wat ’n vlinder word. Of die lelike eendjie wat verander in die pragtigste swaan.

Daarom is die skopus van die preek: 

Jesus Christus het gekom om lewensvreugde te bring.

Met die verandering van water in wyn, het Jesus aan Sy dissipels kom demonstreer dat die doel van Sy koms is om verlossing, verandering en vreugde te bring.

’n Bruilof het in die antieke Bybelse tyd oor ’n paar dae verloop. Hoe ryker die familie, hoe langer het die bruilof aangehou. As die wyn op was, was die vreugde weg en dan het almal huis toe gegaan. Die feit dat Jesus die water in wyn verander het, beteken dat Jesus die vreugde laat voortgaan. Inteendeel, die nuwe wyn was beter as die oorspronklike wyn.

Die simbool van die ses klipkanne water was soos die Joodse reinigingswater, simbool van die verstarde Joodse wette, waarin mense hulle hoop plaas. Dit was simbool van die ou en uitgediende Ou Testamentiese wette. Wette is koud en onpersoonlik. (Daar word hierna verwys as formalisme). Wette maak jou dood en beroof jou van ware geluk en lewensvreugde. Jesus kom sê as’t ware deur hierdie wonderwerk dat die Ou Testamentiese wette die verkeerde manier van verlossing is.

Deur die water in wyn te verander, kondig Christus Sy manier van verlossing aan, naamlik om VERANDER te word deur Christus Jesus. Jesus het gekom om ware verlossing en vreugde te bring, daarom het Hy die water in wyn verander. Nie meer is die Joodse wette nodig om ons te red nie. Nou is dit Jesus se bloed (Sy wyn) wat ons red.

Hierdie verandering is God se werk, nie mensewerk nie. Die kelners het slegs hulle pligte uitgevoer. “Duties are ours. Events are God’s work. It is ours to fill the waterpots. It is Christ’s work to make the water wine.”

Die vraag is egter of ons verander wíl word deur die Here Jesus. Ons kan van Jesus en sy leerstellinge hou, sonder om te wil verander. Ons kan kerk toe gaan en sê dit was ’n mooi boodskap, sonder dat die boodskap ons verander.

Ons kan baie keer so tevrede wees met die water, die “oue”, dat ons nie verlang na die wyn, die “nuwe” wat Christus vir ons laat aanbreek het nie.  Dikwels is ons tevrede met ons eie manier van verlossing. Ons staan by ons ou lewe, ou waardes en ons eie koers. Ons kan baie keer tevrede wees om ’n lelike eendjie te bly, of om ’n wurm te bly.

Christus Jesus het gekom om te verander. Wie nie verander wil word nie, mis Jesus Christus en het nie deel aan die ewige bruilof nie.

Wie nie bereid is om daagliks deur Christus Jesus verander te word nie, mag nie die Nagmaal gebruik nie. Christus Jesus is die nuwe wyn. Jy kry alleen deel aan hierdie wyn, as jy bereid is om verander te word.

Deur Jesus se ingrype gaan die bruilof voort. Die vreugde verdiep. Net so is die ewige bruilof ’n fees van vreugde.

Wie hom of haar deur Jesus laat verander, het deel aan die ewige bruilof wat nooit ophou nie.

In die wonderverhaal het Jesus voorsien in dit wat die bruidegom en sy familie moes voorsien. Jesus het as’t ware die taak van die bruidegom op Hom geneem, naamlik die voorsiening van die wyn. So het Hy dan die groot Bruidegom geword wat self wyn geword het, sodat ons deel kan hê aan die ewige saligheid.

Ware vreugde lê nie in die toevoeging van nuwe dinge tot my lewe nie. Nee, ware vreugde en lewensvervulling lê in die verandering wat Jesus wil bring. Hy wil my vry maak van wette, van moets en moenies. Reiniging van sondes lê nie in wette nie, maar in wat Jesus vir my gedoen het. My vreugde is Jesus wat die verandering gebring het.

Jesus het ook die skande van die bruidegom, oor daar te min wyn is, verander in ’n seën. Skielik was daar meer wyn en die wyn was beter as die vorige. So wil Jesus ook ons skandes verander in ’n seën vir ons. Sy bloed (Sy wyn) verander ons skandes in ’n seën. Sy bloed (Sy wyn) bring vir ons vreugde. Daarom is die Nagmaal ’n vreugdevolle geleentheid.

Jesus het vreugde gebring. Hy het verlossingsvreugde kom bring.  Jesus nooi ons na Sy fees toe.                                               

AMEN    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om te sondig is menslik, om te vergeef is Goddelik.

SKRIFLESING: Mat 18: 21 – 35 en Ef 4: 31 – 32

Siektes soos Vigs en Covid-19 en tering is gedurig in die nuus. Ons is bekommerd oor die siektes wat ons liggaam kan doodmaak. Maar ons moet eerder versigtig wees vir die siektes wat ons geestelike lewe doodmaak. Daar is ’n siekte wat ons “wanverhoudinge” noem, naamlik ’n wanverhouding met God en met jou medemens. Die siekte het alreeds daar in Genesis begin toe Adam en Eva gesondig het. Hulle sonde het ’n wanverhouding met God en met mekaar veroorsaak. Van daardie dag af het die siekte aansteeklik geword en elke mens aangetas en alle vlakke van die menslike lewe besmet. Die simptome is rusie, konflik, ontrou, huweliksverbrokkeling, gesinsverbrokkeling, arbeidsverhoudinge wat suur geword het, oorlog, ensovoorts.

God, die Vader, het as die groot wetenskaplike ’n wonderkuur geskep naamlik “vergifnis”, waardeur Hy sy wêreld wil heel. Maar vir die wonderkuur moes Hy ’n entstof gebruik. Toe gebruik Hy sy eie Seun as die entstof om die wêreld te heel. Christus se sterwe is die entstof waardeur ons vergewe word. Deur Christus het daar vir ons vergifnis gekom, sodat ons nou in ’n nuwe gesonde verhouding met God, met onsself en met ons medemens kan leef.

 As jy ’n wolk oor die suiwer blou van die hemel sien dryf en dit dan opbreek, verdwyn dit vir ewig. Jy sal die wolk nooit weer sien nie. So vee Hy ons oortredinge uit net soos Hy die wolk vir altyd voor ons oë wegvee. Die Bybel is vol van hierdie versekeringe dat die straf van sonde heeltemal van die kind van God  verwyder word.

Alexander Pope het die onvergeetlike woorde gesê:  “Om te sondig is menslik, om te vergeef is goddelik.” Vergifnis maak verhoudinge reg. Vergifnis werk genesend en helend. God se vergifnis vir ons, maak ons verhouding met God reg en waar ons bereid is om ander te vergeef, kom mense-verhoudinge ook weer reg.

In die Bybel en in die kerk is die begrip “vergifnis” ’n sentrale tema. Die rede waarom die Here Jesus Christus gebore is as mens, aan die kruis gesterf het en op die derde dag opgestaan het, was om vergifnis vir ons te bewerk. Elke Sondagoggend hoor ons die vergifnis van die Here aan. Elke dag as ons bid, bid ons dat die Here ons mag vergeef.

Vergifnis is nie te koop nie. Ons kan nie maak soos die Middeleeuse Rooms Katolieke kerk, wat sondes vergewe het op grond van goeie werk of die betaal van afkoopboetes nie. Dit laat my aan die volgende verhaal dink: Op ‘n dag waag ‘n arm meisie dit om in die tuin van die koningin se paleis in te gaan en die tuinier te nader en te vertel dat haar ma baie siek lê en dat sy verlang om ’n blom te koop, soos sy in die tuine van die koningin gesien het. Die kind het ‘n paar sent gespaar en wou ‘n roos vir haar siek ma koop. Dit was winter, en die blomme was in daardie seisoen skaarser. Die tuinier het boonop geen gesag gehad om die blomme van die koningin weg te gee nie, en hy sê toe sy aanbied om te betaal: “Die koningin het geen blomme te koop nie,” en het die arme kind weggestuur. Maar die koningin self was toevallig in die tuin en het die gesprek tussen die tuinier en sy klein kliënt ongemerk aangehoor. Terwyl die kind bedroef en teleurgesteld wegdraai, stap die koningin egter nader en begin ’n gesprek met die kind en sê: “Die tuinier was heeltemal reg, my kind, hy het nie die gesag om vir jou die blomme te gee wat jy wil hê nie, en die koningin kweek nie blomme te koop nie, maar die koningin het blomme om weg te gee”; en sy voeg die daad by die woord en lig uit die mandjie waarin sy die blomme gesny het, ‘n handvol seldsame rose en gee dit vir die kind en sê: “Neem dit met liefde vir jou moeder en vertel haar dat die koningin hulle gestuur het. Ek is die koningin.” Daarom: God het geen vergifnis te koop nie; jy kan dit nie koop met jou arme boete van trane, gebede of berou nie; God het vergifnis om te gee, en jy kan dit net deur geloof aanneem, maar nie in ruil vir enigiets wat jy doen nie.

Hierdie wonderkuur, hierdie entstof, mag ons egter nie vir onsself hou nie. Daarom sê die Here vir ons dat soos Christus ons vergewe het, ons mekaar ook moet vergewe. Die Here Jesus het ons geleer om te bid: “ …. en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree ….” Die Here Jesus het ons geleer om mekaar te vergewe selfs “sewentig maal sewe keer”. Paulus sê in Ef 4: 31 – 32 die volgende: “Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie …… Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Ons maak egter baie keer soos daardie amptenaar wat deur die koning vergewe is en wie se skuld alles afgeskryf is, maar dan omdraai en nie eers sy mede-amptenaar se skuld vir hom kan vergeef nie. Ons wil die wonderkuur, die entstof, net vir onsself hou. Net soos die ryk lande die afgelope paar maande selfsugtig was met die Covid-19 entstof, wil ons vergifnis net vir onsself toeëien. Ons wil die vergifnis van die Here graag vir onsself ontvang, maar ons is nie bereid om daardie wonderkuur met ons medemens te deel nie. Ons is nie bereid om ander te vergeef nie.

Dan beland ons net soos daardie amptenaar in die tronk. Nie ’n tronk in die letterlike sin nie, maar in ’n sielkundige  tronk. Ons kan nie slaap nie, ons bly bitter en bestee ons lewensenergie aan wraakgedagtes, ons tob oor die verlede en ons vertroetel ons emosionele wonde. Ons ontwikkel selfs maagsere. Wie nie vergewe nie, bind as’t ware ’n lyk aan homself vas en sterf later as gevolg van lyksiektes, by wyse van spreke.

Wie egter geleer het om te vergewe, word vry van hierdie sielkundige tronk. Ons kan weer slaap. Ons kan pragtige verhoudinge ontwikkel en goeie tye beleef saam met dié wat ons vergewe het. Ons voel selfs fisiek beter en gesonder.

Wanneer jy iemand vergewe, dan kanselleer jy in ’n sekere sin, skuld. Die een wat vergewe, verwyder alle beperkings of hindernisse wat daar op die verhouding geplaas is. Die een wat vergewe en die een wat vergifnis ontvang, kan van nuuts af met mekaar ’n verhouding ontwikkel, want die stuk seer en pyn is bely en uitgepraat.

Een van president Abraham Lincoln se medewerkers het hom nogal ernstig uitgeskel omdat hy sag was op sy vyande. “Waarom dring u daarop aan om vriende van hulle te probeer maak?” het hy gesê. “U moet hulle eerder probeer vernietig.” Waarop Lincoln saggies geantwoord het: “Vernietig ek nie my vyande as ek hulle my vriende maak nie?” Na berig word oor diegene wat sy vyande was tydens die burgeroorlog, word gesê dat Lincoln gesê het: “Hoe kranksinnig dit ook al mag wees, ek hou die kwaad teenoor niemand van hulle nie. Ek het nie die tyd of die energie in hierdie lewe om wrokke te koester nie. ”

Vergifnis vind gewoonlik in drie fases plaas:

In fase 1 sien jy die ander persoon as waardevol en verstaan jy dat God vir jou en daardie persoon ewe lief het. In fase 2 hou jy op om daardie persoon te blameer, of om van die persoon ’n karikatuur te maak. Jy hou op om sy foute op te blaas en begin om daardie persoon se goeie punte raak te sien. In fase 3 besluit jy om na daardie persoon toe te gaan. Jy probeer om die saak op te los. Vergifnis is ’n doelbewuste handeling. Dit is iets wat jy bewustelik doen. Natuurlik gaan ons nie alleen nie. God wat altyd by ons is, gaan saam met ons om ons sterk te maak. Belangrik is dat ’n mens jou gevoelens uitpraat en besluit om daardie seerkry- gevoelens nie langer tussen julle te laat staan nie en dat daardie ou gevoelens nie langer die toekoms oorheers nie.

Jy moet iemand dalk vandag vergewe. Dalk is dit iemand wat saam met jou werk. ’n Buurman, ’n vriend of ’n lid van jou familie. Jy kan dinge laat gaan. Selfs as die ander persoon jou verstoot, kan jy nog steeds ontslae raak van die dinge wat tussen julle staan. God wil hê dat ons vry sal wees. Daarom help God ons om van harte te vergewe.

Corrie ten Boom vergelyk vergifnis met die loslaat van ‘n kloktou van die meeste plattelandse kerke. Jy sal weet dat jy die tou ‘n rukkie moet trek om die klok te laat lui. As dit eers begin lui, behou jy net die momentum. Solank jy aanhou trek, bly die klok lui. Juffrou Ten Boom het gesê dat vergifnis die tou loslaat. Dit is net so eenvoudig. Maar as jy dit doen, bly die klok lui. Momentum is nog steeds aan die werk. As jy egter jou hande van die tou af weghou, sal die klok al stadiger lui en uiteindelik stop.

Dit is so met vergifnis. As jy besluit het om te vergewe, kan die ou gevoelens van onvergewensgesindheid steeds hulself laat geld. Hulle het immers baie momentum. Maar as jy hou by jou besluit om te vergewe, sal die onvergewensgesinde gees begin bedaar en uiteindelik ophou. Vergifnis is nie iets wat jy voel nie, dit is iets wat jy doen. Dit laat die tou van vergelding los.

Die moeilikste is egter om jouself te vergewe. Dikwels loop mense rond met ’n klomp skuldgevoelens uit die verlede. Hulle kan hulself nie vergewe nie en daarom lewe hulle in die ewigdurende hel van spyt en boetedoening. Hulle straf as’t ware hulself. Hulle dink gedurig daaraan dat hulle skuld het om te betaal. Hulle lewe in die “ewigdurende boetedoening van spyt”. Daar word met die verstand bely dat Christus vergewe, maar dit word nie met die hart geglo nie. So kan ’n mens nooit die vreugde van ware verlossing beleef nie. Jy leef gedurig in ’n tronk, terwyl die skuldeisers hulle dodelike afbrekende werk doen. Jy laat as’t ware die duiwel toe om jou aan te kla, terwyl Christus Jesus jou reeds vergewe het.

Die duiwel gebruik skuldgevoelens, hierdie gevoel van “ek kan myself nie vergewe nie,” om my van die Here af weg te trek. Die duiwel sal alles in sy vermoë doen om my te laat voel dat ek nie vergewe is nie en sal maak dat ek vergeet dat ek in Christus ’n mede-oorwinnaar is. Die Heilige Gees sal my nooit aanhou aanklae oor sonde wat ek gedoen het, as ek om vergifnis gevra het nie. Wanneer God vergewe, vergewe Hy volmaak.

As iemand homself of haarself nie kan vergewe nie, sê ’n mens as’t ware twee dinge:

  • Die dood van Christus aan die kruis is nie genoeg vir my sonde nie. Dit kan tog nie.
  • Dat ék die persoon is wat op die ou einde sonde vergewe en oordeel en dit self wil doen. Dit kan tog ook nie, want dit is God se werk om my te vergewe en nie mý werk nie.

Wanneer Christus Jesus ons vergewe het, het Hy ons sondes in die diepste see weggewerp. Hy dink nie eers meer daaraan nie. Daar is ook ’n bord op met die woorde: “JY MAG NIE VISVANG NIE,” bedoelende jy mag nie weer jou ou sondes uitkatrol of uithaal nie. So bevry die Here ons van skuld en skuldgevoelens, sodat ons ons energie kan uitstort op dit wat positief en opbouend is.

Wanneer ons onsself en ander mense kan vergewe, word ons bevry en kry ons nuwe energie om met ware vreugde en blydskap te lewe.

Op ‘n dag toe Stan Mooneyham saam met ‘n paar vriende op ‘n roete in Oos -Afrika loop, het hy bewus geword van ‘n heerlike reuk wat die lug gevul het. Hy kyk op in die bome en om hom na die bosse in ‘n poging om te ontdek waar dit vandaan kom. Toe sê sy vriende vir hom om af te kyk na die blou blommetjie wat langs die pad groei. Elke keer as hulle die klein blommetjies onder hul voete vertrap het, word meer van sy soet parfuum in die lug vrygelaat. Toe sê sy vriende: “Ons noem dit die vergifnisblom.” Hierdie vergifnisblom wag nie totdat ons vergifnis vra nie.  Dit versprei ryklik sy geur. Wat ‘n aangrypende voorbeeld van verregaande vergifnis!

Om te sondig is menslik, om te vergeef is Goddelik.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gelowige gebed

SKRIFLESING: Jakobus 5: 13 – 20

As ‘n outydse waterpomp gereeld gebruik word, is min inspanning nodig om water te pomp; die water stort met die eerste probeerslag uit, want die watervlak is hoog. Maar as die pomp vir ‘n lang tyd nie gebruik is nie, word die watervlak laag, en as jy dan water wil hê, moet jy ‘n lang tyd pomp, en dan kom dit eers na groot inspanning. Dit is so met gebed ook; as ons ’n gereelde gebedslewe het, dan maak elke klein omstandigheid die ingesteldheid om te bid wakker, en ons begeertes en ons woorde is altyd gereed. Maar as ons ons gebedslewe verwaarloos, is dit vir ons moeilik om te bid, want die water in die put raak laag.

Baie van ons se gebedslewe is ook soos ’n waterput waaruit lanklaas gepomp is. Gebed kom nie so maklik as jy nie gereeld bid nie.

Soms bid ons net vir dínge.

Die verhaal word vertel van ‘n predikant wat na Johnnie se huis gekom het, en tydens die gesprek het hy hom gevra: “Bid jy elke aand, my seuntjie?” “Nee,” antwoord Johnnie, “sommige aande wil ek niks hê nie.” Sommige mense deel hierdie selfsugtige siening van gebed. Gebed is nie net vir persoonlike versoeke nie – dit is vir belydenis, lof, danksegging, aanbidding en voorbidding vir ander. Gebed is ‘n bediening van smeking vir ander en aanbidding van God, sowel as versoeke vir myself.

Vanoggend gaan ons stilstaan by die belangrikste geestelike aspek van ons lewe, naamlik gebed. Jakobus begin sy brief met ’n oproep om te bid (1:5) en hy eindig dit weer met die tema van gebed in hoofstuk 5. Dwarsdeur die brief maak Jakobus gedurig melding van gebed.

Daar is drie aspekte van gebed in ons gelese gedeelte ter sprake.

Drie geleenthede waartydens gebid moet word, is: (i) tydens swaarkry (v 13), (ii) tydens blydskap (lofliedere is ook ’n vorm van gebed: v 13) en (iii) tydens siekte (v 14).

Jakobus bedoel eintlik dat ’n persoon of gemeente sonder gebed, soos ‘n huis sonder dak is – dit is blootgestel aan winde wat waai, aan reën en elke storm wat woed.

In gebed is dit beter om ‘n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ‘n hart. Daarom soek God by ons ’n opregte hart as ons bid. Koning Dawid se gebed in Psalm 51 is ’n mooi voorbeeld van ’n opregte gebed en berou voor God. Dawid verlang om in ’n rein verhouding met God te lewe. Die sonde moenie skeiding maak tussen hom en God nie.

Een van die groot geheime van effektiewe gebed is dat die gesindheid van die hart reg is teenoor God.

In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Gelowiges moet vir mekaar bid. Wanneer iemand siek is, moet die ouderling ontbied word om vir die sieke te bid. Verder sê Jakobus in hoofstuk 5:16 die volgende: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Met hierdie “gesond” word bedoel die stukkendheid in die gemeenskap moet gesond word. In Jakobus se tyd was daar in die vroeë kerk baie spanning rondom klasverskil, kultuurverskil, ryk en arm, die veragting van die weerloses en die misbruik van die tong. Dan moedig Jakobus die gelowiges aan om te bid, dat die spanning en verskeurdheid tussen die gelowiges gesond sal word.

Daarom gaan die gebed om gesondmaking nie net oor siekes nie, maar oor die heelmaking van die gemeenskap. So moet ons nie maar net bid vir die siekes alleen nie. Ons moet bid vir die verskeurdheid van die Suid-Afrikaanse samelewing, waarin daar soveel ellende, werkloosheid, korrupsie, misdaad, maatskaplike nood en misbruik van gesag is. Ons moet bid vir die heelmaking van die gemeenskap.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ‘n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en in die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou gebid dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat vir God aanneemlik is.

Ek hoef nie soos ’n Concorde-vliegtuig, grasieus en voortreflik, te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Gebed verander sake, maar dit verander veral ook die bidder.

As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ’n enkeling rimpels veroorsaak vir ’n heel nuwe toekoms. Natuurlik is daar plek vir massa-gebedsbyeenkomste, maar daar is ook beslis plek vir die gebed van ’n enkeling. Gebed is altyd verootmoediging. Dit suiwer jou hart, gedagtes en lewenswandel. Dit skep orde in jou gedagtegang oor die goed waaroor jy met die Here wil praat.

Een evangelis het gesê: “Moenie begin om die wêreld te verander nie. Klim self in die sirkel en begin by jou.” Ons moet ’n lewe van gebed beoefen. Ons moet nie maar net ’n geleentheidsbidder wees nie. Gebed moet die stuurwiel van jou lewe wees en nie die noodwiel nie.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord, let your Kingdom COME,” moet ons daarmee saambid: “Lord, let my kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike “commitment” en toewyding.

Ons moenie vaskyk in die massa-histerie van ’n massa-gebedsbyeenkoms en in die proses die persoonlike intieme gebede van ’n enkeling miskyk, wat die toekoms van die land kan verander nie.

Swaarkry wys op die innerlike stryd as gevolg van uiterlike beproewings. Dan moet die gelowige nie minder bid of ophou bid nie, maar juis met geduld aanhou bid. Om geduldig te bid, is baie belangrik. Gebed werk nie soos kitskos nie; gebed vra toewyding, geduld en ’n ernstige wag op God se uitkoms. Die verwysing na Elia in vers 17 en 18 dien as ’n aansporingsvoorbeeld. Daar staan: “Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.” Wanneer laas het ons vurig en ernstig gebed?

Wie arm aan gebed is, is arm aan God. As jy arm aan God word, dan tree jy later op soos die mense van die wêreld.

Te midde van ‘n menigte aktiwiteite, moet ons nie toelaat dat enigiets ons gebedstyd indring nie. Die duiwel sal ons so besig hou, dat hy ons net nie biddend  kry nie. Hy weet dat hy geen wapen teen gebed het nie. Hou u gebedstyd met alle ywer, soos Daniël, wat drie keer per dag tot die Here gebid het.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)