Bedelaars voor God

BEDELAARS VOOR GOD.

Teks: Luk 18: 9 – 14

Die resep tot sukses is om te presteer. Op alle gebiede van die lewe word van die mens prestasie gevra. Reeds op skool word van kinders verwag om met goeie rapporte by die huis te kom. Iemand kan alleen ‘n sokkerheld word as hy goed presteer op die sokkerveld. Net so word slegs die werkers bevorder wat hard werk. Geliefdes, daarmee is daar natuurlik niks mee verkeerd nie. God wil hê dat ons, ons talente ten beste moet gebruik.

Bedelaar

Die gevaar is egter as ons dink ons moet ook presteer om in die hemel te kom. Sommige mense dink hulle moet godsdienstig presteer, deur mooi te lewe sodat hulle ook eendag hemel toe kan gaan. Dit bring ons by die boodskap: BEDELAARSHARTE WORD GERED, MAAR GODSDIENSTIGE PRESTEERDERS GAAN VERLORE.

Gemeente, in ons gelese gedeelte kry ‘n mens ‘n tipiese beeld van die Fariseër van destyds. Hulle was godsdienstige presteerders by uitstek. ‘n Mens kan sê, op godsdienstige gebied het hulle vol punte behaal. Hulle was goeie mense, ordentlik, fatsoenlik, eerlik, getrou in die huwelik en godsdienstig meelewend.

Met ander woorde gemeente, hulle was kerkmense, wat godsdienstig meelewend was en na buite ‘n beeld van ordentlikheid voorgehou het. Hulle het ‘n mooi lewe probeer lei, sodat hulle eendag darem hemel toe kan gaan.

Gemeente, heel dikwels is dit van ons lewe ook waar. Ons dink ons sal in die hemel kom deur gereeld kerk toe te gaan, ons tiendes vir die Here te gee, deur nie te drink of my vrou te slaan nie, deur op die Kerkraad of die Sustersbond te dien.

Ons dink ons is darem nie te sleg nie. Miskien nie die grootste Christen nie, maar beslis darem ook nie die slegste nie. Ek het darem ‘n kans om in die hemel te kom.

Weet u wat sê Jesus van sulke mense in vers 14. Hy sê hulle is hoogmoedig. Hulle sal nooit die hemel op so ‘n manier beërwe nie. Maar dan lees ons van die tollenaar wat na die tempel toe gaan. Die tollenaar het nie soos die Fariseër voor God kom spog met sy goeie werke nie. Nee, hy het voor God neergeval en genade van God kom afbedel. Die tollenaar het geweet dat sy goeie hoedanighede en sy goeie werke hom nie kan red nie. Net die genade van God kan hom red. Ja, soos ‘n bedelaar het hy na die Here gekom. Niks kan vir my die hemel oopsluit nie, nie my goeie werke, my mooi lewe of die geld wat ek vir die kerk gee nie. Net Jesus Christus kan vir my die hemel oopsluit. Ek word dus uit loutere genade gered. Ja, ek kan alleen maar met leë hande, met bedelaarshande alles van hom ontvang.

Orals in die lewe word daar van die mens prestasies gevra, behalwe in die kerk. Na die kerk toe kan ek maar kom soos ek is, ‘n sondaar voor God.

U sien dus mense wat soos die Fariseër spog oor sy goeie werke en mooi lewe sal die hemel nooit beërwe nie. Alleen mense wat soos die tollenaar genade kom afsmeek by die Here, sal die hemel beërwe. U sal vra: Maar waarom moet ‘n Christen dan ‘n mooi lewe lei? ‘n Christen gaan kerk toe, gee sy geld vir die kerk en lewe mooi om vir die Here dankie te sê, dat Hy ons verlos het van ons sonde. My mooi lewe kan my dus nie red nie. Net Christus Jesus kan. Ek lewe mooi om vir die Here dankie te sê dat Hy my verlos het.

Gaan op jou knieë en bid ook soos die tollenaar: “O God, wees my, sondaar genadig.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

HOE LYK JOU STILTETYD?

HOE LYK JOU STILTETYD?

Mark 1: 32 – 38 en Dan 6: 4 – 11

Wat sal gebeur as twee vriende nie meer met mekaar praat nie. Ja, die vriendskap sal tot niet gaan. Net so sal my verhouding met die Here skade lei as ek nie meer met Hom praat nie.

Die Here wil hê ons moet elke dag met Hom praat deur gebed en Hy wil weer met ons praat deur Sy Woord. Hierdie tyd wat ons elke dag moet maak Om met die Here te gesels, noem ons, ons stiltetyd met die Here. Ons moet die stilte opsoek om met die Here te praat. Baiekeer beleef ons so min van die lewende Jesus in ons lewe, omdat ons so min met Hom praat. Ons is eenvoudig net te lui om tyd te maak om met Hom te praat. Ja, ons lees ons Bybel, maar net so nou en dan. Verder stel ons altyd uit om te bid. Nee, so moet dit nie wees nie.

acl20160302-163625-685Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper in beitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte gewees om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ‘n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig wat maar gewone mense is nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is. Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 -34 hoe Hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het Hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

‘n Gelowige moet dus baie gereeld wees in sy stiltetyd. Soos ‘n atleet en ‘n sokkerspeler gereeld moet oefen om fiks te bly, so moet ‘n gelowige ook gereeld sy stiltetyd hou sodat hy geestelik fiks kan bly. Ek het eenmaal die Bybel gesien van ‘n sekere Christenvrou wat in verskeie oorsese lande sendingwerk gedoen het. Sy was maar drie jaar lank ‘n Christen maar sy het in daardie drie jaar haar Bybel stukkend gelees. Baie kere lyk ons Bybels nog soos nuwe Bybels.

Ek sluit af met die volgende: “Gebed verander sake, maar dit verander my ook.” Ja, as ons bid en ons gebed val binne die wil van God dan sal God sake verander. Maar gebed verander my ook. As ek van my knieë opstaan nadat ek gebid het, dan moet ek mos anders opstaan. My bekommernis moet plek maak vir vertroue. My twyfel verander in geloof. My jaloesie en haat verander in liefde. Wil jy baie naby aan die Here leef? Dan moet jy gereeld elke dag met Hom praat. God wil graag weet hoe dit met jou gaan. Hy wil ook graag vir jou die regte pad aanwys uit sy Woord.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Wie is my naaste?

WIE IS MY NAASTE?

Teks: Lukas 10: 25 – 37 en Mattheus 25: 35 – 46

Die kerk is dood! Die kerk se hart het gaan staan. Die kerk het nie meer ‘n hart vir sy medemens nie. Kerklidmate gee nie meer om vir hulle medemens nie. Daarom die boodskap vandag uit Lukas 10: ‘n WARE CHRISTEN GEE OM VIR SY MEDEMENS.

In Lukas 10 lees ek vanoggend van ‘n man wat in ‘n groot nood is. Hy is beroof daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo. Maar elke dag is daar ook mense wat in die nood is op jou en my lewenspad. Miskien die eensame bejaarde, of die weduwee in haar diep smart, of weeskinders of die mens in ‘n groot krisis.

Maar gelukkig, gemeente!  Kyk wie kom aangestap? Sowaar ‘n priester en Leviet, sowaar twee kerkmense. Wat ‘n verligting! Want kerkmense is mos veronderstel om hulp te verleen aan diegene wat in nood verkeer. Ja, van kerkmense verwag ‘n mens hulp… Hulle sê mos….. Hulle bely mos so pragtig…… “Ek het die Here lief met my hele hart en my medemense soos myself.” Die kerkmense sing sulke pragtige Gesange! U moet met my saamstem, die arme man daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo was gelukkig. Juis in sy grootste krisis, juis toe stap daar twee kerkmense verby. Daar word baie van die kerk verwag. Maar toe gebeur daar ‘n groot teleurstelling: Die priester en Leviet stap verby. Die kerk stap verby. Die kerk is afwesig in die nood van die wêreld. Die Christen is afwesig in die nood van sy medemens. Sien u vandag, waarom die kerk sterf. Die kerk se hart het gaan staan vir sy medemens. Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.

barmhartige-samaritaan-schilderij-2Gelukkig verskyn daar ‘n Samaritaan op dit toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ‘n Jood en die man ‘n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ‘n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ‘n 20 c in ‘n hoed nie. Baie keer gee ons so ‘n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak.

Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ‘n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar Gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ‘n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel die en in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ‘n kerkhof in Europa staan ‘n besondere Christusbeeld. ‘n Christusbeeld sonder arms. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus; God vra nie: “Hoe lief het jy my nie?” God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.

Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ‘n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ‘n Christen word nie.” ‘n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ‘n wonderlike Christus. Die Samaritaan met hoofletters het toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gee en ontvang

GEE EN ONTVANG

Teks: Handelinge: 4 :32 – 37; 11: 27 – 30 en 20:33 – 35

In Israel is daar twee groot mere, naamlik die See van Galilea en die Dooie See. Die See van Galilea is ‘n pragtige meer met helder blou water en ‘n ryk vislewe. Die landskap rondom die see is pragtig groen en die voëltjies maak nes in die bome daar rondom. Die See van Galilea lewe omdat dit water ontvang van die Palestynse hoogland en die water dan ook dadelik weer weggee. Die water wat die meer instroom, vloei ook weer uit. Die water wat die meer ontvang, gee hy ook weer weg.

kaart BybelDie Dooie See is soos sy naam ook sê, ‘n dooie meer. Die water is sout en dood. Daar leef niks in die water en ook nie rondom die meer nie. Daar is geen bome, plante, voëls of visse nie. Alles is dood. Die rede hiervoor is dat die Dooie See net water ontvang, maar niks weggee nie. Die Dooie See ontvang water van die See van Galle, maar daar is geen uitloop nie. Die Dooie See hou alles net selfsugtig vir homself.

In vandag se preek gaan dit om GEE en ONTVANG.

Iemand wat bereid is om dit wat hy ontvang het, ook te Gee aan ander, sal wees soos die See van Galilea. Iemand wat egter alles net selfsugtig vir homself hou, sal ook doodgaan soos die Dooie See. Hierdie waarheid sien ons ook vandag in ons gelese gedeeltes raak. Kom ons kyk eers na die agtergrond van die vroeë Christene in Handelinge: Hulle het baie swaar gekry. Daar was baie armes onder hulle. Verder is hulle vervolg deur keiser Nero en Domitianus. Nero en Domitianus het hulle vir die leeus gegooi of hulle met pik besmeer en dan aan die brand gesteek. Verder was daar ook ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld wat deur Agabus voorspel is. Die vroeë Christene het dus baie swaar gekry. ‘n Mens sal wonder hoe die eerste Christene in sulke omstandighede opgetree het teenoor hulle mede-gelowiges wat in nood was.

In Handelinge 4: 32 – 37 lees ons hoedat hulle alles met mekaar gedeel het. Hulle het voorsien in die boer of suster van hulle se nood. Hulle het gegee aan die wat in nood was. In Handelinge 11: 27 – 30 lees ons hoedat die eerste Christene geld gegee het vir ‘n noodfonds om diegene wat getref was deur die hongersnood en droogte in Judea by te staan. Hulle het as’t ware hulle harte en beursies oopgemaak vir hulle medegelowiges. In Handelinge 20: 33 – 35 lees ons hoedat Paulus sê dat hy sy medegelowiges gedien het, deur met sy twee hande te werk. Dan haal Paulus so pragtig vir Jesus aan in vers 35: “Om te gee vir ander maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Ons sien dus dat die eerste Christene soos die See van Galilea was. Alles wat hulle ontvang het, het hulle ook weer gegee aan ander. Daarom was hulle ‘n lewendige kerk gewees. Die Here wil hê dat ons ons hande, tyd, geld, dienste, hulp, ons alles tot beskikking van ons medemens moet stel. Ons moet eerder geld gee, as om te wil ontvang. Ons moet eerder troos, as om vertroos te wil word. Ons moet eerder dien, as om bedien te wil word. Ons moet eerder hulp gee, as dat hulp aan ons gegee word. Ons moet eerder gee, as om te wil ontvang. Onthou die woorde van die Here Jesus : “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Stilstaande water word vrot en ondrinkbaar. Dit ontvang net water, maar gee nie water weg nie. Dit is soos die Dooie See. So is mense wat net wil ontvang maar niks wil gee vir ander nie. Vloeiende water is helder, dit lewe en is drinkbaar. Dit ontvang water, maar gee ook water weg. Dit is soos die See van Galilea. So is mense wat eerder gee as om te ontvang. Daarom mag ons ook nooit die genade en die Evangelie wat ons ontvang het, net vir onsself hou nie. Ons moet dit ook GEE na ander. Is jy soos die See van Galilea wat eerder gee as om te ontvang, of soos die Dooie See wat net wil ontvang en niks wil gee nie. Mag jy soos die See van Galilea wees.

Onthou die woorde van die Here Jesus: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Vernuwe na die beeld van ons Skepper

Vernuwe na die beeld van ons Skepper

Kol 3: 9b-10

Mense praat dikwels van “vernuwing”. Mense soek vernuwing. Ons kerk hou Pinksterbidure vir vernuwing. Ander woorde in die kerklike tradisie is transformasie, metamorfose, bekering, lewensveranderende boetedoening, hervorming of reformasie.

Baie mense soek dat vernuwing moet plaasvind deur charismatiese predikers, opwekkende musiek en sang en dat die buitengewone gawes van die Gees uitgestort moet word in dramiese gebeurtenisse tydens eredienste. Manipulering van emosies speel ‘n groot rol in hierdie vernuwingsdienste. Omdat dit slegs op emosies reageer, vind geen lewensveranderende gedrag plaas nie.

Paulus praat in Kolossense 3: 9b – 10 dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper en tot volle kennis van God. Ons is gemaak na die beeld van die Skepper, maar deur die sondeval het die beeld verwronge geword. Vir Paulus beteken vernuwing om vernuwe te word na die beeld van ons Skepper. Om as’t ware weer ons skeppingsdoel te ontdek en daarvoor te leef. Ons moet weer terugkeer na die beeld van ons Skepper, deur lewensveranderend te lewe. Die wonder van die skepping is dat dit nie vanself gebeur het nie. Die Skepper wou die skepping maak tot sy genot en hy wou die mense maak om hulle lief te hê. Daarom het die Skepper hulle gemaak na Sy beeld. God het met ander woorde die mens geskep uit liefde. Soos wat ‘n man en vrou ‘n kind uit liefde verwek, so skep God sy skepping uit liefde.

God se skeppingskrag word verwoord in Sy “agape”-liefde. Dit is ‘n liefde wat gee, sonder voorwaardes. Dit is ‘n daarom -liefde, nie ‘n sodat-liefde nie. Die ander twee Griekse woorde vir liefde is “eros” en “fileia”.

Eros -liefde is seksuele aangetrokkenheid tussen man en vrou. Fileia -liefde is die liefde tussen vriende en broers, wat gebasser is op vriendelikheid, aantreklikheid, geselligheid, aangenaam of pragtig. Met ander word daar is ‘n voorwaarde aan gekoppel.

Agape-designstyle-love-heart-mMaar die Skepper het ‘n agape-liefde. ‘n Liefde sonder voorwaardes. Daarom het die Skepper ook in die Nuwe Testament deur Sy Seun die mense sonder enige voorwaarde uitverkies om in hom te glo. Daarom het Jesus, die beeld van die Skepper aan die kruis gesterf, om vir die grootste sondaar, sonder enige voorwaardes of vereistes lief te hê.  Om vernuwe te word na die Skepper, moet ons hierdie agape-liefde aanleer. Om lief te sonder voorwaardes, is vernuwing.

Wanneer jy ver van jou Skepper leef, draai die lewe om geld, geld, geld en geld. Wanneer jy vernuwe is na die beeld van die Skepper draai die lewe rondom liefde, liefde, liefde en liefde.  God se skeppingsdoel was liefde, daarom moet ons lewensdoel ook liefde wees.

Paulus beskryf in die boek Kolossense op verskeie plekke hoe die agape-liefde moet lyk. Hy praat van gasvryheid, onderlinge vriendelikheid en troos en groete en bymekaarkom en mekaar onthou. Ons moet oor mekaar bekommerd wees en omgee en sorg dra vir mekaar. Ons moet bid vir mekaar en onderdanig aan mekaar wees. Ons moet dit nie vir ander mense bitter maak of moedeloos maak nie.

Die Skepper  is kreatief in Sy liefde. Ons moet on sook as beeld van die Skepper  kreatief met die liefde omgaan. Ons moet soek om liefde uit te deel.

Die Skepper het gemeenskap gesoek. Daarom is die Drie Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees in mekaar een en in volle harmonie. Daarom het die Skepper ook die mens gemaak na Sy beeld, om met die mens gemeenskap te hê en sodat die mense ondermekaar in ‘n liefdesgemeenskap met Hom moet leef.  Daarom bely ons die een heilige algemene Christelike kerk.

Die moderne mens het verleer om om in gemeenskap met ander te lewe. Ons lewe word gekenmerk, deur indiwidualisme.  Waar ons saam moet eet as gemeenskap, neem elkeen deesdae sy eie “Take aways” om alleen sonder die ander te eet. Die liefdesgemeenskap van die Skepper is ‘n tafelgemeenskap, nie ‘n “Take aways” nie. In ‘n “Take aways” godsdiens kom haal jy net in godsdiens wat jyself nodig het, maar wil nie, jouself gee vir God se liefdesgemeenskap nie. Daarom is jy onbetrokke in ander se lewe.

Vernuwing is nie die goedvoel, van emosionele godsdienstige opwekking nie. Ware vernuwing is om vernuwe te word na die beeld van die Skepper. Die vra lewensveranderde gedrag.

Bronnelys: Smit, Dirkie. 2018. Ons glo in. Wellington:Bybelmedia

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die swart kol

DIE SWART KOL

Op ‘n dag het ‘n dosent vir sy studente ‘n swart kol op ‘n groot wit bord geteken. Hy vra toe vir sy studente, wat hulle sien. Elke student het ‘n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grote en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe vir hulle dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ‘n swart kol op die bord nie. Daar is ‘n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die  swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte mis gekyk het.

the-black-dot-experiment-945x544So  kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle, kan wees persoonlike probleme, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer so daarop, dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ‘n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ‘n Halleluja – lied : “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

Wat maak of breek ‘n huisgesin, ‘n maatskappy of ‘n gemeente.? Mense met ‘n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord, vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Wat laat huwelike kwyn? Wanneer ek gedurig net my maat se foute, die paar swart kolletjies op die witbord raaksien. Ek konsentreer so op die negatiewe, dat ek nie eers meer die positiewe raaksien nie. Die paar swart kolletjies word so oorheersend, dat my lewensmaat uit fokus raak en ek onvergenoegd met my huwelik raak.

Ons kan ons kinders so bombardeer met die negatiewe, dat hulle later ook negatiewe grootmense word, wat oor alles negatief is. Ons kan so negatief oor ons kinders praat, dat hulle dit later begin glo en lei aan ‘n negatiewe selfbeeld.

Boere kan op hulle plaas, heeldag kla en negatief wees dat hulle hul vreugde om te boer verloor. Mense kan in hul werksituasies, so dikwels swart kolletjies tel, dat hulle vergeet van die groot wit bord waarop hulle kan skryf en kreatief kan lewe en werk.  

Dan bestaan ‘n mens net. Dan leef jy nie. Jy oorleef miskien, maar jy leef nie. Dit terwyl die Here juis vir ons ‘n lewe van oorwinning wil gee. Die Here wil hê dat ons vreugdevolle huwelike en gesinne moet koester. Die Here wil hê dat ons positiewe kinders met ‘n gesonde selfbeeld moet grootmaak. Die Here wil hê dat ons, ons werk met vreugde moet doen. Die Here wil hê dat ons as sy beelddraers elke dag skeppend en kreatief dié lewe moet skep. Net positiewe mense kan skep.

Ja, ons moet vreugdevolle huwelike en gesinne skep, deur positiewe denke en gedrag. Ons moet ons werk elke dag vreugdevol doen, deur skeppende positiewe kreatiwiteit. Net positiewe mense kan skep.

Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, en liefde en al die ander gawes van die Gees.

Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik, wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4 – 9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ‘n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ‘n mens wat eerder wil gee as om te ontvang.

Onthou die volgende aanhaling: “ Dankie Here, vir alles wat U vir my gegee het; vir alles wat U van my weggeneem het; vir alles wat U vir my laat staan het.”

Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar wat jy oorhou. Werk en woeker daarmee, totdat jy jouself uit jou onvergenoegdheid bevry het. Wees dankbaar en positief, selfs oor die “bietjies” in jou lewe en jy sal bevrydend en oorwinnend kan lewe.

Mag God se Gees gee, dat ons ons denke sal bekeer, tot skeppende kreatiewe positiewe mense, wat deur ons positiewe gedrag die wêreld positief beïnvloed.

‘n Voorspoedige 2019 word u toegewens.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

Wie is die belangrikste?

WIE IS DIE BELANGRIKSTE?

Teks: Johannes 13: 1 – 17 en Johannes 13: 34 – 35

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra, wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir sy dissipels ‘n les in Johannes 13. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ‘n maaltyd.

jesus-washing-the-feet-calvin-carterHierdie maaltyd is dan ook die geleentheid gewees, waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer oor die naderende kruisdood van Jesus, is hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is? Wie bedien sal word en wie sal dien? So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ‘n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die selfgesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ‘n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe hy sy bokleed uittrek, op sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ‘n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ‘n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ‘n slaaf kom doen. Hierdie voetewassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid gewees om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het sy alles, tot sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle bedien het, moet julle mekaar dien.

Wie so ‘n dissipel van die Here is, is geloofwaardig. Met ander woorde, die egtheid van ons geloof word getoets aan die mate waarop ons diens heenwys na Christus. Christus het jou BEDIEN aan die kruis, daarom moet ons mekaar DIEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die maal die Here se eiendom.

DRIE MAAL DIE HERE SE EIENDOM.

Teks:  Genesis 1: 26 – 31; Romeine 8: 31 – 39 en Mattheus 10: 29 – 31.

Die Here het ons drie keer Syne gemaak.  Ons almal hou van stories.  Seker een van die beste maniere om ‘n boodskap tuis te bring is deur ‘n storie.

maxresdefaultEenmaal wat daar ‘n seuntjie wat vir hom self die pragtigste draadkar gemaak het.  Met sy eie hande het hy die draadkar  gemaak. Toe hy egter eendag met die draadkar in die veld speel, het die draadkar weggeraak in ‘n diep donga.  Hy het baie gehuil oor sy kar. Die volgende week gaan besoek hy saam met sy ouers die winkel op die dorp.  Daar in die winkel-venster sien hy toe sy eie draadkar staan.  Hy sê toe vir die winkelier:  “Oom, daardie draadkar in die venster is my draadkar. Ek het homself gemaak.  Mag ek hom asseblief terug kry?” Die winkelier sê toe: “Nee ou seun, dit is nou my kar.  As jy die kar wil terughê moet jy vir hom betaal.”  Die seun is toe weg huis toe om sy geld te gaan haal.  Hy het al sy geld gaan haal.  Toe hy terug is by die winkel het hy al sy geld vir die winkelier gegee.  Die winkelier gee toe die draadkar vir die seun.  Toe die seun uitstap by die winkel se deur, druk hy die draadkar teen sy bors en sê:  “Draadkar, jy is nou tweemaal myne.  Ek het jou gemaak en toe jy weggeraak het, het ek jou teruggekoop.  Ek het jou dus baie lief.”  Toe hy by die huis kom vind hy uit dat die draadkar darem baie verniel is.  Hy buig die drade toe weer reg en nadat hy die draadkar reggemaak het, sê hy:  “Draadkar, jy is nou drie keer myne.  Ek het jou GEMAAK, GEKOOP en HEELGEMAAK.  Ek het jou baie lief. Dit is ‘n baie mooi storie.  Maar weet julle ons is ook drie keer die Here s’n.

  • Die Vader het ons gemaak.
  • Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed.
  • Die Heilige Gees wil ons heelmaak.

Ons kyk na al drie hierdie sake:

  1. DIE VADER HET ONS GEMAAK:

In Genesis 1: 26 – 31 lees ons hoe God die mens gemaak het.  God het die mens goed en mooi gemaak.  Ons is gemaak na die beeld van God.  Dit beteken ons vertoon sommige eienskappe van God.  Die mens kan byvoorbeeld dink, liefhê, en onderskei tussen goed en kwaad.  Verder het God die een mens verskillend van die ander een gemaak. God  wat ons gemaak het, staan ook Pa vir ons.  Hy is ons Vader.  God is nie soos sommige aardse pa’s nie.  Sommige aardse vaders maak kinders maar loop dan weg.  Nee, God het die mens gemaak en in Mattheus 10: 29 – 31 lees ons hoedat God Vader oor ons lewe is.  Hy versorg en beskerm ons.  Hy lei vir ons. Soos die seuntjie sy eie draadkar gemaak het, het God dus die mens self gemaak. Maar soos die draadkar verlore geraak het in ‘n diep donga, so het die mens weggeloop van God.  Die mens het sonde gedoen.  So het die mens verlore geraak.  Wie sal tog die mens verlos en terug koop uit die sonde?

Dit bring ons by die tweede saak:

  1. DIE SEUN, JESUS CHRISTUS HET ONS GEKOOP MET SY KOSBARE BLOED:

Toe die draadkar wegraak moes die seuntjie daarvoor betaal in die winkel.  Hy moes met al sy geld betaal. Toe ons weggeraak het in ons eie sonde en ons eie pad geloop het, moet God ‘n duur prys betaal om ons terug te kry.  Hy het betaal met sy Seun, Jesus Christus.  Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy kruisdood. Dit was ‘n duur prys, sodat ons losgekoop kan word vanuit die sonde en doodsbestaan.

Nou vir die derde saak:

  1. DIE HEILIGE GEES WIL ONS HEELMAAK

Nadat die seuntjie sy draadkar weer gekoop het, het hy dit heelgemaak.  In Galasiërs 5 lees ons hoedat die Heilige Gees ons lewe weer wil heelmaak.  In Galasiërs 5: 19 – 21 lees ons hoe die sonde ons lewe verniel het.  Dit het haat, naywer, jaloesie, dronkenskap en verdeeldheid gebring. Die Heilige Gees wil egter weer ons lewe heelmaak, sodat daar vrede, liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe kan wees (Galasiërs 5: 22 – 26). God wil vir jou vasdruk teen Hom en vir jou sê:

My kind ek het jou baie lief!  Jy is drie keer myne.

  • Ek het jou gemaak.
  • Ek het jou gekoop.
  • Ek is besig om jou heel te maak.

Ons het dus gesien: Die Vader het ons gemaak.  Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed. Die Heilige Gees wil ons heelmaak. Voorwaar, die Here het ons baie lief.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om God af te skeep. (Maleagi 1: 6 – 14)

OM GOD AF TE SKEEP

Daar bestaan altyd die gevaar dat as daar nie aan ‘n huwelik of vrienskap gewerk word nie, so ‘n huwelik sy vuur kan verloor. Die sprankel kan uit so ‘n huweliksverhouding verdwyn en dit kan iets alledaags word. Wanneer ‘n jongman en ‘n jongmeisie mekaar die hof maak, dan gee hulle die beste gedeelte van hulle tyd, energie en kragte vir mekaar of vir die vriendskap. Hulle is bereid om groot opofferings vir mekaar te maak. Niks onder die son is vir hulle moeite nie, solank hulle alleen maar vir mekaar gelukkig maak. Hulle maak voorts ook die mooiste beloftes aan mekaar.

Nou gebeur dit dikwels dat so ‘n verhouding met verloop van tyd alledaags word. Dit verloor sy opwinding en sprankel. Al minder aandag word aan mekaar gegee – die swakste deeltjie van die dag. In plaas van opofferings begin hulle mekaar nou te manipuleer om elkeen sy eie sin te kry. Alles word moeite en die eens mooie troubeloftes vervaag in vergetelheid. Ja, so ‘n huwelik word alledaags en gewoon. Ja, jou huweliksmaat word alledaags.

Die gevaar is nou net dat ons God ook alledaags kan maak. Die volk Israel het in die 5 de eeu voor Christus, God ook alledaags gemaak. Hulle het nie meer eerbied en respek vir Hom gehad nie. God het vir hulle gewoon en alledaags geword.

Het die gemeente Adelaide, nog eerbied en respek vir God? Het God nie miskien ook alledaags en gewoon hier op Adelaide geword nie? Is ons nie ook besig om God af te skeep nie?

In die boek Maleagi het God gevoel dat Hy afgeskeep word. God voel dat Hy gewoon en alledaags behandel word. Daarom Het God in die persoon van Maleagi kom huisbesoek doen by die pastorie en die gemeente van Jerusalem. Ja, Hy het die priesters en die volk gaan besoek daar in Jerusalem.

Die eerste vraag wat Maleagi tydens huisbesoek gevra het, lees ons in Maleagi 1: 6 ‘n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar, As Ek dan Vader is, waar is die eer wat my toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir my dan?”

U sien God is ontevrede oor Hy gewoon en alledaags behandel word. God word nie met die nodige respek en eer behandel nie. In vers 8 vra God of ons ook so sonder respek en eer sal optree teenoor ‘n belangrike persoon wat ons dorp sou besoek. O nee, dan word daar weke vooruit ‘n ontvangs gereël en net die beste aangebied. Tot in die fynste detail word alles beplan. Maar as aangekondig word dat God sy volk, Sy gemeente gaan ontmoet in Welshstraat, daar waar die kerkgebou staan, dan berei niemand hom voor nie.

Die volk Israel het in die volgende vier opsigte God gewoon en alledaags gemaak.

In die eerste plek het hulle God afgeskeep. Hulle het verontreinigde spyse, halwe offers, gebreklike diere vir offers gebring. Hulle het die houding, dit maak nie saak wat ons vir die Here gee nie. Dit maak nie saak hoe min tyd ons aan die Here afstaan nie. Dit maak nie saak as ons nie ons deel vir die Here doen nie.

Maak ons, onsself nie maar ook hieraan skuldig nie. Die Here word ‘n bysaak in my lewe. Ek het nie werklik die tyd en die energie om die Here te dien nie. Hy moet maar kry, wat ek Hom kan bied. Hy moet die oorskiet tyd, geld en energie kry. Die Here maak nie regtig saak nie. Ons sê: Iets is beter as niks nie. Maar God sê: Alles of niks. Met jou hele hart of glad nie.

In die tweede plek het die volk Israel God probeer manipuleer. Die volk Israel, maar ook ons het dikwels die vermetelheid om te dink ons kan God manipuleer of omkoop met die tyd, geld en energie wat ons aan God se saak bestee. In vers 9 lees ons hoedat die volk God se goedgesindheid wou koop met hulle offers. God het vir hulle so gewoon en alledaags geword, dat hulle Hom wou omkoop. God het vir hulle ‘n onder een dak inkopiesentrum geword, wat al hulle behoeftes moes bevredig.

In die derde plek het hulle godsdiensbeoefening vir hulle moeite geword. Lees ‘n bietjie vers 13: “En julle sê” Kyk wat ‘n moeite.” ‘n Mens kry daar niks uit nie. Die godsdiens bring geen profyt nie. Ek kan nie beter leef daarvan nie. God is moeite. Ja, godsdiens word vir ons moeite. Snaaks hoe baie R20 is as jy dit kerk toe neem en tog so min as jy supermark toe gaan. Snaaks hoe lank ‘n uur is, as jy die Here dien en hoe kort 60 minute is, as jy ontspan. Snaaks, hoe moeilik dit is om ‘n hele hoofstuk van die Bybel op een slag te lees en hoe maklik dit is om ‘n hele roman deur te lees. Snaaks hoe ons nie weet wat om te sê as ons bid nie – en tog kan ons ure lank oor nietighede gesels. Snaaks, hoe ‘n mens te moeg is na die week om biduur toe te gaan, maar hoe verfris jy voel as daar partytjie gehou word. Snaaks, hoe daar nie tyd is om die Here te dien nie, maar hoe ‘n mens ure lank TV kan kyk. Snaaks hoe verveel mens kan wees wanneer die dominee 15 minute lank preek, maar ‘n hoe interessant ‘n vollengte rolprent kan wees. Snaaks hoe onbekwaam ‘n mens is om vir die Here te werk, maar hoe op hoogte van sake jy kan wees oor die politiek van die dag. Snaaks hoe moeilik ‘n mens 30 km op ‘n Sondag kerk toe ry, maar sommer gou-gou ‘n funksie op ‘n Saterdagaand bywoon.

Dit is alles simptone dat ‘n mens godsdiens as moeite sien, dat ‘n mens jou neus daarvoor optrek sê Maleagi.

In die vierde plek het hulle hul geloftes en beloftes nagelaat. Ja, hulle het ook by hulle voorstelling geloftes en beloftes aan God gedoen, dat ons wil U needrig wy ons lewe.

tab brandofferMaar dan besluit ons tog om nie die geloftes voluit te betaal nie. Daarom bring hulle in plaas van ‘n manlike, dit wil sê volmaakte dier, liewer nou maar die verminktes. Bring daardie ou ooi met die afbeen, dié gaan saam tempel toe. Ek het ‘n gelofte om te betaal, maar dit is geen duur gelofte nie.

Het ons lidmaatskapbeloftes, doopbeloftes en ampsbeloftes nie maar ook gewoon en alledaags geword nie. Ons het eenmaal belowe om aktief aan die kerk se werksaamhede deel te neem, maar dit was sommer ‘n lieg. Die Here het vir my so onbelangrik geword dat ek Hom selde of nooit in die kerk besoek nie. Daardeur sê ons eintlik: Wie is u nou eintlik, Here? Kerkbywoning word vir ons ‘n las, nie ‘n vreugde nie.

Maak ons God nie goedkoop en alledaags nie? As ons lidmaatskapbeloftes vir ons so min beteken, hoe seer maak ons God nie.

Wanneer ons God en godsdiens so gewoon, goedkoop en alledaags maak, dan moet ons maar liewer die kerk sluit. God wil alles of niks hê nie. Niks tussen-in nie. En daarom skrei dit in God se stem in vers 10 as Hy moet sê: “ Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, dat julle nie verniet vuur op my altaar kan aansteek nie!” Wat ‘n verskriklike ding vir God om te sê: Ag, as iemand onder julle, as die koster tog maar liewer die kerkdeure wou toemaak, as die kerkklokke dan maar liewer nie op ‘n Sondag gelui het nie. As die orrelis dan maar liewer nie die introïtus gespeel het nie, as die dominee dan maar liewer voor die kanseltrappies omgedraai het en as die kerkraad maar liewer in die konsistorie agtergebly het. Dat die gemeente maar eerder voor dooiemansdeur gekom het. Kan ‘n mens jou dit ooit indink wat dit God gekos het om so vér te gaan. Hy wat met Sy liefdesaanbod voor die wêreld staan, word so beledig. Wat is dit dan wat God so ver bring?

God wil nie gewoon en alledaags behandel word nie. God sê in vers 14b dat Hy die Grootkoning is vir wie die nasies ontsag het. Dit was ‘n gelade woord in die Ou Nabye Ooste. Dit was ‘n eretitel by uitstrek.

aanbidder21Die Grootkoning. Die Heer. Die Heer van onderdane. Die Koning wat ‘n verbond, ‘n ooreenkoms, met sy volk het. Onthou tog dit, wil God met die titel aan hulle sê: Ons het ‘n ooreenkoms. En die ooreenkoms lui dat Ek julle uit Egipte uit gelei het en dat julle daarom die gebooie van God noet nakom. Julle hoef God nie met julle offers te manipuleer of om te koop nie. Julle offers is nie daar dat sodat God julle kan seën nie, maar omdat Hy julle geseën het. Omdat Hy julle eerste liefgehad het. Julle offers moet liefdesoffers wees. Uit julle offers moet dit duidelik word hoe lief julle God het en hoe belangrik Hy vir julle is. Julle offers is ‘n blyk van dankbaarheid: Here, die beste wat ek het vir die beste wat U my gegee het: U Seun.

En watter offers is daar nie alles waarmee ‘n mens jou liefde teenoor God kan bewys nie! Jou offers sal aantoon hoe belangrik God vir jou is. Daar is die reukwerk, die lofoffer, die dankoffer en die brandoffer.

Hogepriester_reukofferaltaar

In die eerste plek is ons die reukwerk. Soos die priesters van Jerusalem reukwerk voor Jahweh gebrand het, so noem Paulus ons die reukwerk van God. My lewe moet ‘n erediens wees. My liggaan ‘n wandelende tempel. Ons is reukwerk van God, ons is God se parfuum op aarde.

In die tweede plek is ons ‘n lofoffer. Met ons gebede en ons sang loof ons God. Ons loof Hom oor al sy weldade aan ons.

Derdens is daar die dankoffer, naamlik om goed te doen aan ons naaste, om ons naaste lief te hê.

Vierdens is daar ook die brandoffer, om mededeelsaam te wees. Want daarvoor is die brandoffer gebrand, sodat ek self nie meer tel nie. En so kan ek kom tot mededeelsaamheid. Maar voordat die brandoffer nie uitgebrand is nie, kan die geur nie versprei word nie. Jesus Christus, was die brandoffer wat Homself op Golgota uitgebrand het, sodat Hy ‘n lieflike geur vir die hele wêreld versprei.

Wie so erns maak met sy reukoffer, lofoffer, dankoffer en brandoffer aan God, sal aan God ‘n ereplek gee. Hy erken dat God die Grootkoning is.

(Die preek is gebaseer op preek wat ek eenmaal gelees het. Die skrywer het ek vergeet.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gebed kan die geskiedenis verander.

 

GEBED KAN DIE GESKIEDENIS VERANDER

In 1 Samuel 1 lees ons van ‘n man met die naam Elkana, wat twee vrouens gehad het. Die een was Pennina en die ander was Hanna. Penninna het kinders gehad en Hanna geen kinders nie. Dit was vir Hanna ‘n baie swaar las om te dra. In Bybelse tyd was dit ‘n skande as ‘n vrou nie kinders gehad het nie. Penninna het dan ook gereeld vir Hanna gespot oor haar kinderloosheid. Veral seuns was belangrik gewees, want die Joodse mammas het gehoop dat die Messias uit hulle sou voortkom.

download (1)Elka jaar het Elkana en sy twee vroue en Pennina se kinders van Rama waar hulle gebly het gereis na Silo om by die tenttabernakel te gaan offer. As die offervleis uitgedeel is het almal ruim gekry, maar Hanna moes tevrede wees met haar enkelporsie, omdat sy kinderloos was. Dan het Penninna vir Hanna gespot. So het dit gegaan jaar na jaar. Een jaar kon Hanna dit net nie meer hou nie. Sy het biddend die tempel ingevlug en saggies, prewelend en huilend gebid dat die Here tog vir haar ‘n seun moet gee. Sy het ‘n gelofte afgelê, dat sou die Here vir haar ‘n seun gee, die kind aan die Here gewys sal wees. Die hoëpriester Eli het eers gedink Hanna is dronk en het haar streng berispe. Hanna het egter haar hart uitgestort voor die priester. Eli bevestig toe aan haar dat die Here haar gebed sal verhoor. Sy het toe gemeenskap gehad met Elkana en toe is die seuntjie Samuel gebore.

Fulfilling-her-vow-Hannah-hands-her-son-Samuel-to-Eli-the-High-Priest

Toe Samuel opgeskote was het Hanna haar gelofte nagekom en hom oorgegee aan die hoëpriester Eli, om hom op te lei as ‘n priester. Samuel was die punt van God se hart, want die seun Samuel het die Here geken. Dit teenoor Eli se twee priesterseuns, Hofni en Pinehas wat onsedelikheid en oneerlikheid bedryf het. Samuel was die uitverkorene wat gekies is om vir Eli eendag op te volg. Tydens Samuel se bedieningstyd sou daar ‘n einde gekom het aan die Rigtertydperk van 500 jaar en sou die tydperk van konings in Israel se geskiedenis begin. Samuel sou beide Saul en Dawid as konings inseën. So het die geskiedenis van Israel onherroeplik verander.

Somtyds dink ons net groot massa gebedsgeleenthede soos die van Oom Angus Buchan of van bekende charismatiese  geestelikes het die krag om sake te verander. Tog vergeet ons dat Hanna ‘n eenvoudige vrou was, wat stammelend en sukkelend gebid het. Tog het die Here haar eenvoudige gebed gebruik om die geskiedenis van Israel onherroeplik te verander.

Jy hoef nie grasieus soos ‘n vegvliegtuig te bid nie, Jy kan maar sukkelend bid soos ‘n twee motorige klein vliegtuigie wat sukkel om van die grond te kom. In Openbaring word gesê dat die Here die swakke gebede van sy kinders verander in wierook wat vir die Here aanneemlik is.

As ons geen toekoms sien vir ons land se toekoms nie, kan die gebed van ‘n enkeling rimpels veroorsaak vir ‘n nuwe toekoms. Daar is plek vir massa – gebedsgeleenthede, maar daar is ook verseker plek vir die gebed van ‘n enkele mens wat sukkelend bid.  Daarom  moet elke indiwidule gelowige ‘n bidder wees. Nie ‘n geleentheidsbidder nie. Gebed is ‘n stuurwiel, nie ‘n noodwiel nie.

Daarom moet ons versigtig wees om die feit mis te kyk, dat God ook deur jou persoonlike intieme gebede, die toekoms van die land en jou lewe kan verander.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)