Wanneer die driewiel van geloof, hoop en liefde, sy wiele verloor.

Wanneer die driewiel van geloof, hoop en liefde, sy wiele verloor.

In 1 Kor 13: 13, sê Paulus dat jy geloof, hoop en liefde nodig het. Wat as jy net geloof en liefde het, maar nie hoop nie?

15166693714_753cd34466_bDaar is so baie goeie gelowige en liefdevolle mense, maar baie van hulle het die hoop op hierdie lewe verloor. Ek het een so ‘n vrou geken. Sy was van die VG Kerk Strydenburg met die naam van Sabien Goeiman. Sy was ‘n goeie godvresende vrou gewees. Haar lewe was kenmerkend van ‘n lewende geloof en ‘n diep egte liefde. Maar haar oë was leeg, sonder enige hoop – dit is nog voordat sy blind geword het. Ek onthou ek het altyd my ou brille vir haar gegee, omdat sy swaksiende was. Sy het min rede gehad om enige hoop in hierdie lewe te hê. Met haar karige staatspensioen het sy moeilik deurgekom, want sy moes nog sorg vir kleinkinders. Sy het geen hoop gehad dat dit môre of volgende maand sal beter gaan nie. Dan onthou ek vir Oom Willem Brouwers ook van die VG Kerk Strydenburg. Altyd op pensioendag, was sy enigste bederf gewees vir die maand om vir hom ‘n stukkie gaar vis by die kafee te koop. Hy het eenmaal vir my gesê, dat hy altyd skuldig voel as hy die gaar stukkie vis koop, want dit is nie genoeg vir sy huismense nie. Daar is net genoeg om te oorleef. Ouma Sabien en Oom Willem het ten spyte van swaar, egter altyd die geloof en die liefde behou, al was die hoop dikwels min. Ek het groot respek vir hulle gehad.

Baie ander mense se situasies is so hooploos, dat hulle hul oorgee aan drank en dwelms, om net vir ‘n kort tydjie te kan vergeet van hulle hopelose situasie. Waarom sal ‘n arm mens hom bekommer oor ‘n kondoom, vir Vigs wat hom eers oor 10 jaar kan doodmaak, maar hy het vandag nie eers brood het om aan die lewe te bly nie.

Die ergste is natuurlik as dit jou aan hoop ontbreek en jy later ook jou geloof en liefde verloor. Dan het jy niks.

193dc690-9300-4588-a5b5-4129047aaee9_120508-0_541Dit is soos ‘n driewiel- fietsie wat sy een wiel verloor. Die hele driewiel knars tot stilstand. Sonder liefde heers gesinsgeweld. Sonder geloof vergeet jy van God en die kerk. Dit is die verhaal van bendegeweld in die Wes-Kaap en die karretjie-mense in die Bo-Karoo. Dit is die verhaal van die Transskei en duisende wat gaan hoop soek in die Wes-Kaap.

Die tragedie van ons land, is dat daar nie geloof, nie hoop en ook nie liefde is nie. Daarom is ons land in so ‘n morele verval. Ons land is in chaos. Somtyds vernietig mense hulle eie hoop, maar meer dikwels is mense uitgelewer aan situasies waaroor hulle geen beheer het nie.

Prof Daniël Louw vertel van die dag toe hy saam met ‘n taxi op pad was in Nieu – Delhi in Indië. Daar is totale chaos op die paaie. Die taxibestuurder het toe vir hom gesê: “In India, everything possible. You only need good brake, good horn and good luck.” Hy het toe ook bygevoeg dat jy nooit in jou truspieël moet kyk nie. Die persoon agter jou moet kyk wat voor hom gebeur. As jy kyk na jou truspieël, is jy gedoem, want dan is jou oog nie op die baie gevare voor jou nie. Jy moet net hoetende vorentoe beur.

Mense dink dikwels dat hoop net die toekoms in gedagte het. Dat jy nie ‘n truspieël van die verlede en wat agter jou lê nodig het nie. Dit sou egter verkeerd wees. Heb 11 hou juis aan ons ‘n heldegalery voor van geloofshelde, wat geglo het, omdat hulle gehoop het op die dinge wat hulle nie sien nie. Die geloofshelde van Heb 11 is vir ons ‘n inspirasie, ‘n truspieëltjie, wat ons geloof en hoop versterk. Ons moet terugkyk in die truspieël van die Bybel se geloofshelde en daaruit hoop kry vir ons eie geloofspad met God. Die God van die verlede, van die geskiedenis, kan weer en weer en groter en groter, Homself oor en oor bewys, as die troue Verbondsgod van geslagte en weleer.

Geloof, hoop en liefde is soos die skakels van ‘n ketting. Heb 11: 1 sê duidelik dat geloof is om seker te wees wat ons hoop. Hierdie hoop kan ons nie nou alreeds sien nie, dit is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. Wanneer jy hoopvol glo en glo in die hoop, dan kan jy liefde ook bemeester in die lewe. Maar liefde begin by die geloof en die hoop. Liefde, wat die grootste is, sal vanuit die geloof en hoop totstand kom.

Daarom moet mense in Suid-Afrika weer opnuut geloof en hoop bemeester. Dit is wat ons land die meeste nodig het. As die twee agterwiele geloof en hoop in plek is, sal die voorste groot wiel, naamlik die liefde ook gestalte kry.

Beide geloof en hoop in Heb 11: 1 het te doen met dit wat ons nie kan sien nie. Geloof en hoop het te doen met die onsienlike. Daarom moet ons nie ons geloof en hoop aan sienlike dinge vasmaak nie. Die duiwel wil ons oorred deur die sienlike dinge vir ons aantreklik te maak. Mense hoop op die sienlike goed, Sienlike dinge word dikwels afgode en dit lei tot liefdeloosheid. Onsienlike dinge, is geestelike werklikhede, wat mense geestelik bou en lei tot moraliteit en tot liefde. Geloof is om te belê in die onsienlike.

bridge-450

Dit is soos ‘n brug in mistige weer. Jy kan nie sien of die brug anderkant weer grond raak nie. Maar jou vorige ervarings en die beweging van die verkeer (medegelowiges) gee vir jou genoeg vertrou om oor die brug te ry, na die onsienlike anderkant.

Daarom moedig die Hebreër skrywer ons aan, om al word ons armer in fisiese dinge, ons ryker moet word in geestelike dinge. Liggaam en Gees, daaruit bestaan die mens. Die liggaam kwyn met ouderdom, maar die geestelike groei soos ons ouer word. Wie geestelik groei, groei in sy/haar geloof. Juis daarom moet ons klem lê op die geestelike onsienlike, aldus die Hebreër skrywer. Liefde word dan sigbaar. Arm aan sigbare goed en sekuriteite maar ryk aan onsigbare geestelike rykdom en wysheid. Daarom kan hulle liefhê.

Belê in die onsienlike met geloof en hoop, dan sal die liefde outomaties sigbaar word in jou lewe. Het jou driewiel, van geloof, hoop en liefde, nog al drie sy wiele?                              Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

STINK AFRIKANERS …..

STINK AFRIKANERS …….

Afrikaners is pragtige geharde blomme. Met hulle helder oranjekleur kan hulle enige tuin verfraai. Maar Afrikanerblomme stink. Hulle ruik nie lekker nie.

dscf4778Paulus sê as’t ware in 2 Kor 2: 14 – 17 dat ‘n mens uitwendig mooi kan lyk, maar dat jou siel stink. Jou siel stink as jy in onvrede, bitterheid, kwaadwilligheid, onvergewenshesindheid en in sonde lewe. Die agtergrond van ons gelese gedeelte gaan oor die vraag of jy sonde in jou lewe oorwin het. In die voorafgaande verse word melding gemaak van liefde en vergifnis vir die oortreder. Daarom moedig Paulus ons aan om sonde in ons lewe te oorkom. Dan is ons op ‘n triomftog en versprei ons ‘n aangename geur. Die konteks van die gedeelte gaan oor die Romeinse gebruik om na ‘n oorwinning deur die stad te marsjeer met groot vertoon. Gewoonlik word die vyand met minagting deur die strate aan gejaag. Of die vyand word slawe of hulle word doodgemaak in die openbaar. Met so ‘n triomftog word gewoonlik oor wierook gebrand. Vir die oorwinnaars is dit ‘n aangename reuk. Maar vir die vyand wat verslaan is, is dit ‘n doodsreuk. Hulle verwag die ergste, naamlik die dood. Net so, as die gelowige die sonde in sy of haar lewe oorwin, word ‘n aangename geur versprei vir almal om te ruik. Maar as jy in die sonde volhard, versprei jy ‘n doodsreuk, ‘n stinkende slegte reuk.

In vers 17 word in die heel nuutste Afrikaanse vertaling gepraat van mense wat met die Woord “smous”. Dit beteken om die Evangelie af te water. Dit is soos ‘n mes of swaard wat stomp geword het. Gelowiges kan dikwels die skerp kante van die Evangelie stomp maak. Dit beteken dat die tweesnydende Woord van die Here sy skerp kante verloor en as’t ware nutteloos word. So kan die mens die Woord van die Here so afstomp en verwater. Hoor wat sê Eugene Peterson in The Message: “No–but at least we don’t take God’s Word, water it down, and then take it to the streets to sell it cheap. We stand in Christ’s presence when we speak; God looks us in the face. We get what we say straight from God and say it as honestly as we can.” Dit is die probleem van die post-moderne mens, ons maak die Woord stomp, omdat ons die Evangelie afwater. Dan versprei ons ‘n stinkende onaangename reuk. Alles word as reg en aanvaarbaar voorgehou. Die Evangelie word afgewater as ‘n “ou boek” wat niks meer vandag sê nie. Aborsies word as reg voorgehou. Sondagontheiliging is algemeen. Buitehuwelikse seks is algemeen. Om te steel word regstellende aksie. Kinders mag nie meer pak kry nie. Die doodstraf is afgeskap. Mense se etiese waardes het verwater. Die Here se naam word misbruik as ‘n vloekwoord. Godsdienstige waardes word as outyds voorgehou.Uitwendig is ons soos pragtige Afrikanerblomme, maar inwendig kan ons siele stink van ‘n afgewaterde Evangelie, wat al sy skerpte verloor het.

Eenmaal het die Here Jesus Christus in Joh 13, die stinkende voete van die dissipels gewas. Hy het van stinkende voet na stinkende voet beweeg en elke voet gewas, om die Joodse reinigingswet te onderhou. Eintlik, was dit die simbool dat Jesus aan die kruis ons stinkende harte en lewens sal skoonwas, sodat ons weer welriekend kan ruik.

Ek het êrens gelees dat die gebruik van ‘n bruidsruiker sy ontstaan in die Romeinse Ryk gehad het, maar dat dit in die Middeleeue die gebruik gehad het dat die bruid kan lekker ruik, omdat daar in daardie tyd nie seep en parfuum was nie. So kon die bruid lekker geruik het vir haar bruidegom op hul groot dag. Nie Old Spice of Jóvan se Black Musk, kan ons siele laat lekker ruik nie. Geen bruidsruiker kan ons stink lewe verdryf nie. Die teksgedeelte sê uitdruklik Christus neem ons op ‘n triomftog. Hy verlos ons. Hy laat ons weer welriekend ruik. Wanneer ons die sonde in ons lewe oorwin, dan versprei ons ‘n welriekende geur. Daarom mag ons nie gemaklik in ons eie sonde voortploeter nie. Christus neem ons mee op Sy triomftog. Sommige vetplante se blomme ruik baie sleg, om brommers aan te trek om hulle te bevrug. ‘n Slegte reuk, trek brommer en vlieë vriende, nie egte ware vriende nie. Blomme wat aangenaam ruik, trek skoenlappers aan, wat ware en goeie vriende is. Vers 17, sê ons moet in opregtheid praat en leef, asof dit vanuit God kom. Dit beteken om geen kompromieë te maak nie.

Watse reuk versprei jy? Ruik jy lekker vir jou man of vrou? Ruik jy lekker vir jou gesin of vir jou ouers? Ruik jy lekker vir jou werksmense of kollegas? Versprei jy ‘n aangename geur in Adelaide gemeenskap? Old Spice, Lux of Jóvan se Black Musk gaan jou nie red nie. Dit gaan jou siel, woorde, dade en optrede nie laat lekker ruik nie. Net Christus kan jou vernuwe om totaal nuut en vars te ruik. In Christus is jy ‘n nuwe mens, wat anders en welriekend leef.

By my ouerhuis van jare gelede het daar ‘n katjiepiering struik gestaan, by die voordeur. Op somersnagte het dit die heerlikse geur versprei. Jy kon dit meters van die struik al ruik. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring. So moet ons ook katjiepieringstruike wees wat ‘n welriekende geur versprei, wat op ‘n afstand geruik kan word deur almal rondom jou.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die drie gode van ons tyd ….

Die drie gode van ons tyd …

Richard Foster het ‘n boek geskryf met die titel: “Sex, money and power”. In die baie populêre boek word seks, geld en mag uitgesonder as die drie grootste gode van ons tyd.

downloadDit is die goed  wat mense dryf en waarvoor mense leef. Natuurlik is nie een van die drie verkeerd nie. Inteendeel as dit gedryf word deur liefde en verantwoordelikheid is dit opsigself drie wonderlike dinge waardeur God se Koninkryk kan kom. Maar ongelukkig leer die geskiedenis dat die mens hom telkens vergryp hieraan. ‘n Mens kan maar net die koerante deurblaai. In elke negatiewe beriggewing sal jy ten minste een van die moderne gode raaklees. Of mense vergryp hulself aan seksuele sonde, of aan geld of aan magmisbruik.

Dit laat my dink aan die raad hoe om ‘n aap te vang. Plaas net vrugte of iets lekkers in ‘n nou nek bottel. Wanneer die aap sy hand in die pot steek en die lekkerny wil uittrek sit sy hand was. In plaas daarvan om sy hand oop te maak, bly hy vasklou aan die lekkerny – en siedaar jy het aap se kind gevang. So vang die bose die mensdom – omdat ons die duiwel na aap in ons gierigheid na seks, geld en mag.

Die koerante is vol van seksuele misgrype – wat eindelose pyn en emosionele seer veroorsaak – omdat mense die wonderskone gawe van seksualiteit misbruik tot persoonlike bevrediging van eie drange, wat nie gemik is daarop om jou lewensmaat se vrouwees en manwees te dien nie. Dit word verontmenslik tot bare dierlike instinkte (waar daar van skoonheid nie veel oorbly nie). Mense word ontrou, omdat die gras altyd groener aan die ander kant lyk.

Van finansiële vergrype lees ons elke dag. Diefstal, salarisse wat buite verhouding is, uitbuiting van werknemers, omkopery, onredelike winsgrense, loansharks en selfverryking is aan die orde van die dag. Iets van die “fat cat” en die soustrein – sindroom eet ons ekonomie op en neem die brood uit die armes se mond.

Van magmisbruik hoor ons elke dag in die politiek, sakewêreld, in die polisie en sommer ook in die “daaglikse politiek” tussen mense en in organisasies. Baantjies vir boeties, krap my rug – dan krap ek jou rug, tot  die blou lig bendes. Die blou lig bendes is die ergste. Sommige minister van ‘n provinsiale departement jaag met ‘n konvooi van voertuie, met blou ligte en sirenes van een funksie na die volgende partytjie – in die waan dat hy / sy vreeslik belangrik is. Klein godjies wat tog asseblief raakgesien moet word ! Die duurste voertuie en ontwerpersklere moet die beeld van belangrik poets tot sinlose ydelheid. Van eenvoud en nederigheid is daar geen sprake. Blink voertuie in plakkerskamp – woonbuurte skreeu ten hemel vir hul wat smag na ‘n deel van die ekonomiese koek, om net te oorleef van vandag se honger en uitsigloosheid. “Power corrupts; absolute power corrupts absolutely” het John Emerich Edward Dalberg Acton, first Baron Acton(1834–1902) opgemerk. Abraham Lincoln het gesê: “You may fool all the people some of the time; you can even fool some of the people all the time; but you can’t fool all of the people all the time.” Uiteindelik haal die waarheid ook die politici in.

Wanneer seks, geld en mag misbruik word –  word mense van hul menslikheid beroof. Wanneer jy verontmenslik is, dan word die lewe sinloos en leeg en sonder enige betekenis. Wanneer mense beroof word van menslikheid vervaag alle HOOP.

Daarom word Christene opgeroep om seks, geld en mag in ‘n ander lig te sien. Die seksuele geskapenheid van die mens, die finansiële seëninge van die Here en die verantwoordelikheid van mag – moet gerig en gefokus wees om DIENSBAAR te wees. Dit moet nie gerig wees op die “self” nie, maar op die “ander”. Seks, geld en mag – gaan altyd gepaard met uiterste VERANTWOORDELIKHEID. Dan kom daar sin en betekenis en tonne seën in jou lewe. Dan word jou lewe ‘n seën vir ander.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Keuses op kruispaaie

KEUSES OP KRUISPAAIE

Rooikappie en die wolf het mekaar oppad by ‘n kruising ontmoet. So is daar ook elke dag kruisings in die lewe, waar die duiwel ons wil uitdaag om die verkeerde keuses te neem. Die duiwel wil altyd vir ons die kortste en die mooiste pad wys. Dit terwyl die pad na die Here lank, kronkelend, smal en uitdagend is. Nie verniet het die oumense ‘n prent gehad van die smal en die breë pad, wat in hulle voorkamers gehang het nie. Op die breë pad is baie mense wat verkeerde sondige keuses neem en op die smal pad is min mense.

maxresdefaultDie wolf, dit is nou die duiwel het ‘n leuen aan Rooikappie vertel. So beskryf Joh 8:44 die duiwel as die vader van die leuen. Hy het alreeds heel in die begin vir Eva verlei met die leuen, dat as sy van die vrug sou eet, sy soos God sou wees. As gevolg van die leuen het die hele mensdom in sonde geval. So verlei die duiwel ons om altyd die kortste pad te neem. Richard Foster praat van die drie groot verleidinge, naamlik: “Sex, money and power.” Op die seksuele gebied wil die duiwel ons verlei met ‘n kort pad. Jy hoef nie te wag vir die huwelik nie. Nee, voorhuwelikse seks is in orde. Prostitusie, pornografie en owerspelige verhoudinge is ‘n kort pad na seksuele bevryding, sonder enige verantwoordelikheid. Daarteenoor leer die Here ons dat die huwelik die lang en die regte pad is vir seksuele verhoudinge.

Geld en materiële besitting is ook ‘n groot versoeking om die kort pad te neem. Mense wil vinnig ryk word. Jongmense wil begin, daar waar hul ouers vandag materieël is. Mense verval in die skuldspiraal, om te koop wat hulle nie kan bekostig nie. Die spreukwoord: “Besigheid is mos besigheid.” is die slagspreuk van die sakewêreld.” Korrupsie, diefstal, gewapende roof en transito rooftogte is aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Hebsug en geldgierigheid vreet soos kanker aan ons samelewing. Mense wil die kort pad neem om ryk te word. Die enigste pad na voorspoed is die lang pad van harde werk. Die duiwel wil altyd die kort pad wys.

Mag en aansien is ook ‘n versoeking wat mense die kort pad laat kies. Mense trap op mekaar om die hoogste posisie te beklee. Mense beskinder en smeer ander swart om te kan vorder in die lewe. Ons praat sommer kortweg daarvan as binnepolitiek of kantoorpolitiek. Die lewe is vol politiek tussen mense. In politiek eet hond, hond. Daar is geen genade vir mekaar nie. Die kortste pad is om jou mededinger in ‘n slegte lig te stel. Daarom praat ons ook van jaloesie, wat een van die doodsondes was, van die vroeë kerk.

Die Bybel is deurspek van die wolwe se liegstories. Herodus het noukeurig uitgevra na die Kind Jesus se geboorte en wou gehad het dat hulle vir hom moet kom vertel van die pad na die Jesus Kind, sodat hy Hom kan doodmaak. God het egter die sterrekykers, met ‘n lang pad, ‘n ompad laat terugkeer na hulle land. Die wolf se leuens is gewoonlik ‘n kortpad met blomme besaai. Baie aanloklik word dit voorgestel.

Die houtkapper het die ouma en vir Rooikappie bevry. So het Christus ons bevry en vrygemaak.

Elke dag staan ons voor kruispaaie  om keuses te maak, tussen die lang pad en die kort pad. Pasop die week sal jy staan voor kruispaaie. Die wolf wag vir jou. Die wolf is baie oortuigend. Mag die Heilige Gees vir jou die onderskeidingsvermoë gee om te onderskei tussen die kort pad en die lang pad.     [Met erkenning aan Daniël Louw vir sy oorspronklike gedagtes uit die boek WOW GOD. Deur my verwerk in ‘n oordenking]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

God se mosterdsaad-Koninkryk

GOD SE MOSTERDSAAD – KONINKRYK

Elke era se koninkryke spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge of dit hulle kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke tot die moderne koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ‘n grootheidswaan. So spog mense ook met hulle eie koninkrykies. Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon.

mustard-seedDaarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk. (Mat 13: 31 – 33) ‘n Mosterdaad is skaars 1 – 2 mm in deersnee, maar dit kan ‘n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien het die bood gerys.

So werk God deur die eeue.  God werk in die klein onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treëtjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ‘n Pampoen groei ‘n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ‘n Eikeboom of olyfboom groei stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewenspan van die boom. Daarom moet ons geduldig met God wees, as Hy nie vining genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ‘n pampoenkoninkryk nie, maar ‘n mosterdsaad-Koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ‘n groot boom. Elke jaarring vertel van die “journey” saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om te “engaged” met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk instand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak. Die kerk moet die wêreld in domino. Die kerk moet nie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik, die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ‘n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ‘n beter plek maak.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk is die voertuig wat  nuwe drome en visie   kontekstualiseer, waarin armoede, onreg ensovoorts aangespreek word. Daarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus.

Almal van ons het ‘n begeerte om ‘n verskil te maak en van die wêreld ‘n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.” Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treëtjies te gee, kan ek ‘n verskil in die lewe maak. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant  in die grond en ek moet die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ‘n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in my lewe.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ‘n verskil te bring in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een person uitreik, het ek in ‘n jaar ‘n verskil aan 365 lewens gedoen. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rassioneel beoefen nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

GOD “RECYCLE” …….

GOD “RECYCLE” …….

Ons lewe in ‘n wêreld, waar alles wat nie werk weggegooi word. Alles wat oud, opgebruik en nutteloos geword het gaan ashoop toe. In die antieke tyd, maarselfs nog vandag is onwelkome babas op ashope weggegooi vir die jakkalse om te eet. Daarom het Jesus Christus eenmaal op die ashoop buite Jerusalem , saam met die ongewenstes gesterf. Hy het gesterf vir almal wie se kleipot – bestaan in duie gestort het. 

May_06_recycle1

Daarom is God altyd in die herwinningsbedryf. Hy“recycle” alles wat plat geval het en maak van hulle nuwe voorwerpe van Sy ontferming. Daarom al is ons kleipotte wat maklik breek, dra ons die seël van ons Maker, die groot Pottebakker van alle tye. Dit is goed dat ons maklik kan breek, want daardeur ken ons ons afhanklikheid van God.

In ‘n wêreld waar mensedikwels onwelkom voel, is jy altyd welkom in God se vaderhuis. Sy deur staan altydoop. Hy verwag altyd dat sy verlore seun moet terugkom.Wanneer ons op ons weerlooste is, soos die verlore seun, vind ons ‘n genadige Vader. Maar onsweerbarstigheid moet eers omgesit word in weerloosheid. Wanneer ons nie verder kan nie, dan kan God werk. In jou mees weerlose tye is jy juis diebruikbaarste klei vir die Here. Wat hard is, moet eers sag word. Daarom is krisistye, die tye wat ons weer sag word, weer ontvanklik word vir die sagte werke en sagte hande van die Potterbakkers – Gees.

McLeod sê die volgende oor die kerk: “I simply argue that the cross should be raised in the centre of the marketplace as well as on the steeple of the church. I am recovering the claim that Jesus was not crucified in a cathedral between two candles, but on a cross between two thieves; on the town’s garbage heap., at the crossroad so cosmopolitan that they had to write His title in Hebrew and Latin and Greek …. At the kind of place where cynics talk smut, and thieves curse, and soldiers gamble. Because that is where He died. And that is what He died for. And that is what he died about. And that is where churchmen ought to be and what churchmen ought to be about.”  

Daarom is die taak van die kerk, om soos God op die ashope van die wêreld siele te soek en te red vir die Here. Op ‘n ashoop het Hy gesterf vir ashoop – mense. Hy “recycle” en maak nuut. Die nuwe moontlikhede vir die sondaar is legio. God se kinders kan nooit in ‘n doodloopstraat beland nie. God breek elke doodloopstraat oop en vul dit met nuwe moontlikhede.

 (Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Jesus skep vir Hom ‘n familie aan die kruis. (Joh 19: 26 – 27)

JESUS SKEP VIR HOM ‘N FAMILIE AAN DIE KRUIS.

In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk, dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien, hoe familielede wat jarelaas met mekaar gepraat het, by die sterfbed, weer die ou familiebande optel en weer versoen. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.

love_one_another_

Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag, lees ons ook hoedat Jesus ‘n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ‘n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling dissipel, Johannes het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord, tussen 09h00 en 12h00.

Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Jesus en Maria in ‘n nuwe moeder en seun verhouding.

Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ‘n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ‘n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ‘n geestelike familie.

Jare gelede, was dit gebruik gewees dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hul elkeen hulself met ‘n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het, as teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers” vandaan.

hqdefault

Aan die kruis was dit nie nodig, dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ‘n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Daar staan verder in Johannes 19: 27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ‘n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in in hulle midde as broers en susters van mekaar.

Die hartseer van die Christelike kerk, is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ‘n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie.

body-of-christ

Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ‘n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid, sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ‘n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees. (1 Kor 12) Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ‘n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ‘n los steen, wat buite die gebou nutteloos rondlê.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID, myself afsonder op ‘n eiland. Dan is ek doodeenvoudig nie ‘n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

jesus-family

Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos gee of ‘n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.

Netso kan kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle medekerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ‘n plek van sondaars is. Die kerk is ‘n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter, as ek nie my medekerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

images (1)

Die kruis van Christus, is soos ‘n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ‘n magneet na mekaar toe, om ‘n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan.

Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede gelowige toe trek.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Slawekind word kind van God. (Rom 8: 12 – 17)

SLAWEKIND WORD KIND VAN GOD.

Ek het iewers die volgende moderne gelykenis gelees:

Lank gelede in die tyd van slaweny het ‘n slawegesin op die plaas van ‘n edelman gewoon. Hulle was natuurlik die eienaar se eiendom.

criollo 123Die slaweseun, Klaas het mettertyd ‘n maatjie van die eienaar se seun, Chris geword. Hulle het werklik groot maats geword en so lief vir mekaar dat Chris by sy ouers daarop begin aandring het, dat Klaas by hulle in die huis moet kom woon. Na baie worsteling, het die edelman en sy vrou, omdat hulle slegs die een seun gehad het, besluit om aan Chris se versoek te voldoen. Maar hulle het met die slawegesin ooreengekom dat Klaas nie net by hulle kom woon nie, maar dat hulle hom ook wettiglik aanneem. Dit was ‘n geweldige stap om te neem omdat hulle reeds deur die bure en die hele gemeenskap verwerp is as gevolg van die “onbehoorlike” vriendskap tussen hulle seun en die slaweseun.

Die aand nadat hulle die outjie se paar karige besittinkies na die plaashuis oorgedra en hy ingetrek het, sit die “nuwe” gesin aan die tafel. Na ete maak die pa keelskoon en sê toe ‘n paar dinge wat Klaas se lewe ingrypend sou raak:

  • Klaas, van nou af moet jy my nie meer “baas” noem nie, maar “pappa”, net soos wat Chris my noem. Want jy is nou wetttiglik my seun. Ek het jou aangeneem.

  • Chris was tot nou my enigste erfgenaam. Hy sou alles erf, my plaas en al my besittings. Ek het vandag my testament laat verander, alles word nou tussen julle verdeel. Elkeen kry eweveel.

  • Jy word nou deel van ons familie. Jou nageslag sal ons van dra. Dit is ‘n aristokratiese van en daarom sal jy nog in die toekoms as edelman geëer word.

  • Maar voor dit gebeur, lê daar baie swaar tye vir jou voor. Chris word reeds verwerp deur sy maats. By die skool wil hulle nie meer met hom speel nie. Jy sal oral saam met hom gaan en hulle sal ook nie met jou wil praat nie. Jy sal saam ly, dit is deel van jou erfporsie.

Toe het die man gevra:”Klaas, sien jy kans daarvoor?” Klaas het sy kop op sy arms laat sak en lank stilgebly. Toe het hy opgestaan, om die tafel gestap, die man in die oë gekyk en gesê:”Pappa!” Sy pa het hom toe op sy skoot getel en gesê:” Van nou af gaan ons jou ook nie meer “Klaas” noem nie. Omdat jy nou my seun is en Chris se vroer, noem ons jou “Christen.” Maar onthou: Al gaan jy saam met hom erf en eendag saam met hom geëer word, sal jy intussen ook saam met hom moet ly.

Verstaan u die simboliek in die moderne gelykenis:

  • Die pa, die edel maan is God.

  • Chris is Christus.

  • Klaas is die slawekind, ek en jy.

  • Spottende maats is die wêreld.

Daarom is die tema van die preek:

SKOPUS: Slawekind word kind van God.

Kom ons kyk na die vier gedeeltes van die preek:

PARS 1: Ek het jou aangeneem.

Besef ons watter wonderwerk is dit dat God ons aangeneem het. Besef ons dat daar vir God nie onderskeid is tussen ons en Jesus Christus, Sy eie Seun nie.

Soos die volgende storie: Twee boeties sit in die skool in dieselfde klas. Juffrou skryf die name en geboortedatums op. Jannie is sewe, hy verjaar die 1 ste Mei. Pieter is ook sewe, hy verjaar die die 1 ste Augustus. Juffrou kry vreemd op. Twee boeties wat ewe oud is, wat net drie maande na mekaar verjaar? Ja, juffrou sê Pieter effens onseker. Dit is so, want een van ons is ‘n aangenome kind, maar juffrou, ongelukkig weet ek nie watter een nie. Ons ouers behandel ons dieselfde.

God het ons aangeneem as sy eie seuns en dogters, ja, soos sy eie. Wat ‘n voorreg!

Ons is nie meer slawe van die sonde nie. Ons is nie meer in kettings nie. Ons is vry van die sonde en sondeskuld. God het ons aangeneem.

Die wonder is natuurlik dat God ons aangeneem het en nie omgekeerd nie. ‘n Weeskind kan mos nie sy pa aanneem nie, nee dis die ouers wat die weeskind aanneem. God is nie “wees” nie, ons is “wees”. Ons was die slawe, maar nou nie meer!

Wanneer God ons aanneem doen hy dit onvoorwaardelik! Wonderlike Evangelie! Soos Chris by sy pa gepleit het om Klaas aan te neem, so het Christus vir ons gepleit, dat God ons moet aanneem.

Daarom leer God ons bid: “Ons Vader wat in die hemel is.”

PARS 2: Ek laat jou erf.

God laat ons erf uit die rykdom van Sy skatkamers: Nie alleen die ewige lewe en die nuwe Jerusalem nie, maar ook ‘n nuwe lewe. Hy skenk vir ons die wedergeboorte, die bekering, die regverdigmaking, die heiligmaking en volharding.

Hy beklee ons met geestelike gawes sodat ons lewens kan getuig dat ons onder die slawerny van die sonde uit is en werklik nuwe mense kan wees. Wat ‘n erfporsie? Oms soos konings te kan lewe eendag, maar ook nou alreeds.

PARS 3: Ek verander jou naam.

God kan mense verander. Hy het al talle mense, duisende der duisende verander.

Hy het Abram verander na Abraham. Hy het Saulus verander na Paulus. Hy het Simon verander ma Petrus. Selfs bome verander Hy: Doringbome word sipresse en dissels word mirtebome. Daarom verander God slawekinders onder die sonde, na Christenne, kinders van God. Motte word die mooiste vlinders.

Jou naam is CHRISTEN, afgelei van jou oudste broer Christus. Moet dit nooit vergeet nie.

PARS 4: Jy sal saam ly, dis deel van jou erfporsie.

Omdat Chris met Klaas gespeel het, het sy maats hom gespot en uitgeskuif. Omdat Christus in mense soos ek en jy belang gestel het, het mense Hom ook gespot en uitgeskuif na Golgota en hom verwyder uit die samelewing.

Omdat Klaas, broer van Chris geword het, het hy ook begin om lyding te verduur. Wie broer en suster van Christus geword het, sal ook bereid moet wees om spot en lyding te verduur.

Maar eendag sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid.

Ten slotte:

Julle is nie meer slawekinders nie! Julle is kinders van God!

Ons het gesien:

  • Ons is aangeneem …. ons mag God as ons Vader, ons Pappa aanspreek.

  • Ons word erfgename

  • Ons kry ‘n aristokratiese van …. ‘n nuwe naam: CHRISTEN.

  • Lyding is deel van ons erfporsie

Kinders, van God en sien die krone op julle koppe blink. Julle is prinse en prinsesse in die Here se Ryk. Julle het “regtig” die kinders van God geword.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om jou kruis te dra … is ‘n verrykende ervaring. (Luk 23: 26)

OM JOU KRUIS TE DRA ….. IS ‘N VERRYKENDE ERVARING

Soms gebeur dit dat iemand op pad vakansie toe is, maar dan gebeur daar iets onvoorsiens en ‘n mens se vakansieplanne is lelik deurmekaar. Of iemand is die oggend op pad werk toe, maar daar gebeur ‘n ongeluk en in plaas van by die werk, bevind so iemand hom in die hospitaal.

Dit is presies wat ook gebeur het met Simon van Sirene. Simon van Sirene was ‘n man uit Noord-Afrika, wat heelwaarskynlik ‘n swartman was. Hy was of met ‘n besoek of met werksverpligtinge in Jerusalem gewees. Heelwaarskynlik het hy buite Jerusalem kamp opgeslaan en elke oggend ingegaan stad toe, Jerusalem toe.

‘n Sekere Vrydagoggend was hy weereens besig om in te gaan stad toe, Jerusalem toe. Sy dag se planne het toe heeltemal verander. Terwyl hy op pad was, loop hy verby ‘n peleton Romeinse soldate wat drie gevangenisse begelei na Golgota, die plek van teregstelling. Simon het gesien een van die gevangenisse kry swaar onder die kruis. Wat hy egter nie geweet het nie, is dat die man Jesus van Nasaret is wat die hele wêreld se sonde gedra het. Niemand wou vir Jesus help met Sy kruis nie. Dit was vir ‘n Jood totale vernedering om ‘n kruis, ‘n vloekhout vir iemand anders te help dra.

Die Romeinse soldate sien toe vir Simon van Sirene raak, wat nie ‘n Jood was nie. Hulle gryp toe hierdie Afrikaan om vir Jesus te help om Sy kruis te dra. En so verander Simon van Sirene se planne vir daardie Vrydagmôre.

bear_the_crossIn plaas van Jerusalem se rigting te loop, moes hy loop in die rigting van Golgota en dit nogal met ‘n swaar kruis op sy skouer van iemand wat hy kwalik ken. Het hy maar 15 minute vroeër daar verby gekom of 20 minute later daar verby gekom. Heel waarskynlik het hy homself verwyt. Waarom moet ek nou juis hierdie kruis dra?

Daardie Vrydagmôre het Simon se planne sleg verkeerd geloop. Maar dit was nie ‘n toevalligheid nie. As gelowige weet ons dat niks toevallig in ons lewe gebeur nie. Nee, die feit dat ‘n bepaalde persoon, by die naam van God bekend, Simon van Sirene, juis toe in Jerusalem was, juis toe op pad uit die veld terug na die stad was, dit alles was die beskikking van God.

God het op daardie oomblik iemand nodig gehad en Hy gebruik ruwe soldatehande om iemand vir hom te gryp. Uit sy eie sou Simon van Sirene nie eers daarvan droom om uit sy eie vir Jesus met sy kruis te help nie. Daarom gryp God in. As Hy dit nie gedoen het nie, sou Simon van Sirene seker nooit vir Jesus van Nasaret leer ken het nie. Simon van Sirene se planne het daardie Vrydagoggend lelik deurmekaar geloop. Hy is opgesaal met ‘n kruis, waarvoor hy nie gevra het nie. Maar God laat alles ten goede meewerk. Daardie deurmekaar Vrydag, word toe sy Goeie Vrydag en daardie kruis, die kruis van sy verlossing.

Ons het alle rede om te aanvaar dat Simon deur hierdie kruisdra – episode tot bekering gekom het. As Markus vir ons hierdie selfde verhaal vertel in sy Evangelie, sê hy dat Simon die vader was van Alexander en Rufus. En as Paulus aan die Romeine skryf, laat hy groete weet aan Rufus en sy moeder. Hieruit kan ons aflei, saam met baie skrifverklaarders dat Simon en sy huis, sy vrou en sy seuns, almal volgelinge van Jesus Christus geword het. Sy kruisdra het vir hom groot voordeel gebring. Simon is langs die pad voorgekeur deur ‘n soldaat. Nee, meneer, nie na Jerusalem nie, maar na Golgota. En tog sou die pad hom na die nuwe Jerusalem lei.

dra-mekaar-se-laste

Wonder u ook partykeer oor u eie kruis? Wonder u ook waarom moet dit juis u wees wat hierdie kruis moet dra? Simon het ook gewonder waarom juis hy daardie kruis moet dra. Geen groter voordeel kon hom getref het as die kruis wat God op daardie dag op hom gelê het nie. En nie net vir hom nie, maar ook vir sy hele gesin.

Paulus kla nie oor die doring in sy vlees nie, nee, hy roem eerder oor die doring in sy vlees. Sy doring, sy kruis (ons weet nie, wat dit was nie) het hom vry gemaak van hoogmoed, hom eerder swak gemaak sodat hy sterk vir die Here kon wees. Sy kruis het hom die grootste apostel gemaak.

Miskien is jou kruis dat jy senuweeagtig is tussen baie mense. Maar juis hierdie kruis maak dat jy sensitief is vir ander mense se gevoelens.

Miskien is jou kruis siekte. Maar juis hierdie kruis maak dat jy nie oppervlakkig die lewe beleef nie, maar juis ‘n diepte-ervarings van die lewe het. Jy kan soveel vir ander mense beteken en vir hulle bemoedig.

Miskien is jou kruis dat jy sukkel om finansieel deur te kom. Maar hierdie kruis maak jou meer waarderend teenoor dit wat na jou kant toe kom.

So kan ‘n liefdesteleurstelling of die dood van ‘n geliefde jou ‘n dieper ervaring van die lewe gee.

Miskien is jou kruis jou diepe besef van sondeskuld wat vir jou te groot geword het. Jy verwyt jouself elke dag. Hierdie kruis kan jou lewe verander sodat jy die Here Jesus leer ken as jou Verlosser.

Nee, God straf ons nie as Hy ‘n kruis op ons lê nie. Net een maal het Hy iemand waarlik gestraf met ‘n kruis; toe sy eie Seun wat met ‘n kruis op sy skouer by die stadspoort van Jerusalem uitgestrompel het. Sodat die kruis wat ons soms moet dra vir ons ten goede kan kom, vir elkeen wat in Hom glo.

Ook jou kruis is nie ‘n toevalligheid nie. Dit het ‘n doel in jou lewe. Aanvaar ook jou kruis as ‘n verrykende ervaring.

pic2

Jou kruis is nie jou verleentheid nie, maar jou geleentheid. Gaan sit en gaan soek die pluspunte wat jou kruis vir jou bring. So kan jou kruis vir jou ‘n verrykende ervaring word. Jou kruis kan vir jou ‘n geloofservaring word soos dit vir Simon van Sirene was.

[Die hooftrekke van die preek, kom uit aantekeninge van ‘n preek wat ek iewers gelees het. Die skrywer het ek vergeet.]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

God sorg vir die sagmoediges. (Mat 5: 5 en Gen 13: 1 – 18)

GOD SORG VIR DIE SAGMOEDIGES

Sagmoedigheid is nie juis ‘n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ‘n persoon as ‘n “sagmoedige Neelsie” gepraat.

Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, pap en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want “nice guys come second.” Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie, wat as volg bekend is, naamlik: “hond eet hond.” Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.”

lam (1)Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ‘n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ‘n leeu is, as ‘n 100 jaar ‘n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.

Daarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5, wat lees: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”

Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê.

Eers as ‘n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ‘n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ‘n Ander woord kan miskien wees, sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ‘n diep egte onselfsugtigheid.

‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land, sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, Maar Abraham was tevrede met sy gedeelte.

Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ‘n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.

Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Ps 51: 19 getuig dat sagmoedigheid opkom uit ‘n gebroke en verslae hart.”

Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ‘n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte; net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ‘n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.

Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower.

Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.

imagesSagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ‘n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen op jou lewenspad.

Christus Jesus is natuurlik die voorbeeld by uitstrek van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra.

Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)