Moenie God manipuleer nie

SKRIFLESING: Jeremia 14: 1 – 12 en 15: 1 – 4

Ons dink klein oor God. So klein, dat ons dikwels vir God ’n handvatsel gee, om te gebruik soos wat ons nodig ag. Dan spreek God in die skrifgedeelte, dat Hy moeg word om so gebruik en gemanipuleer te word.

In Jeremia 14 lees ons van ’n droogte, ’n verskriklike droogte. Die slawe word gestuur om water te gaan haal, maar die putte is droog. Die boere is moedeloos, omdat die grond niks oplewer nie. Die takbok lam in die veld, maar die lam word weggegooi omdat daar nie kos is nie. Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind terwyl hulle oë dof word, omdat daar nie gras is nie.

Wat doen ’n mens as daar ’n droogte op hande is? Jy roep ’n nasionale biddag vir reën uit. Almal groot en klein, oud en jonk gaan in afhanklikheid met die nodige eerbied na die tempel toe. Die mense vas, hulle bring offers en hulle bely hulle skuld.

Nou het die volk hulle kant gebring. Nou moet die Here weer sy kant bring. Hy moet vir hulle reën stuur, sodat die droogte gebreek kan word.

Maar God antwoord anders. God het besluit om nie vir hulle reën te stuur nie. Die droogte moet voortduur. Hoekom maak God dan so? God sê mos Hy verhoor gebede. Hoekom het God nie geluister tydens die Nasionale Biddag vir Reën nie?

Vir God was die Nasionale Biddag vir Reën ’n belediging. Sy volk roep hom net aan as daar probleme en moeilikheid is. Hulle maak van God ’n noodwiel. As alles goed gaan, kom hulle baie goed sonder God oor die weg. Maar as daar moeilikheid is, dan moet God help. So maak hulle God ondergeskik aan hulle agendas. Israel dink klein oor God. Hulle sit vir God ’n handvatsel aan.

Dit laat ’n mens dink aan die volgende storie: ’n Man het van sy boot afgespoel en was besig om te verdrink. Uit desperaatheid bid hy tot God om hulp en beloof selfs om ’n sendeling te word as die Here hom spaar. Nie lank daarna nie, kom ’n stuk dryfhout verbygespoel en die drenkeling gryp net betyds daaraan vas. Veilig op die dryfhout sê die man: “Here, U weet natuurlik dat ek nie ernstig was oor die sendelingstorie nie, nè?” Op daardie oomblik kom daar ’n fratsgolf en spoel hom weer van die dryfhout af. Waarop die man sê: “Lyk my ’n mens kan nie eens hier rond ’n grappie maak nie.”

Nood leer inderdaad bid. Sommige mense kom net kerk toe as hulle in die nood is of as daar ’n biddag vir reën is. Dan is ons baie veeleisend. As’t ware stel ons God voor ’n keuse: “Verhoor ons gebed of …” En as God ons gebede nie verhoor nie, dan vra ons baie maklik: “Waarom?” Of ons verwyt God of ons beskuldig God of ons verloor ons geloof in Hom. Of mense sê: “God is dood” of “Hy bestaan nie.”

So maak ons God “klein” in ons geloofslewe. Hy moet maak presies soos ons versoek, of anders …

Ja, somtyds verhoor God nie ons gebede nie, veral as ons probeer om hom te manipuleer. Gebed is nie ’n goedkoop saak nie. Net soos wat ’n ouer nie toelaat dat sy kind hom manipuleer nie, net so laat God ook nie toe dat ons Hom  manipuleer nie.

Die Woord van God is veeleisend. Dit verg ons aandag. God verdra dit nie dat ons ons gebede in telegramstyl aframmel nie of dat dit kortgeknip word soos ’n lastige besoeker vir wie ons die deur net ’n skrefie oopmaak om so vinnig moontlik van hom ontslae te raak nie.

Tony Campolo skryf oor rituele. Hy sê rituele werk vormend op ’n kind se emosionele  sekuriteit en lojaliteit aan gesinswaardes. Kinders wat met die regte gereelde rituele grootword, omhels die regte soort gedragspatrone. Hiermee word bedoel gesinsrituele, maar ook godsdienstige rituele. Godsdienstige rituele maak dat jou aanbidding van God eg is. Jy aanbid God in die goeie én slegte tye.

Maar as jy geen godsdienstige rituele het nie, gaan jy God net manipulerend aanroep in jou swaar tye of as jy in die nood is. Dan gebrúík jy slegs God. Dit word dan ’n verbruikersgodsdiens.

God laat Hom nie in ons agendas en selfsugtige plannetjies indwing nie. Anders sou dit beteken dat God slegs ’n middel word waardeur ek my doel kan bereik. God besluit egter vrymagtig.

Miskien is dit goed om ’n slag weer te besef dat God meer is as ons gedagtes oor Hom. Die Joodse geleerde Martin Buber het beklemtoon dat die stam van die Hebreeuse woord vir God eintlik ’n stotter-woord is. Ons kan net oor God stotter. Oor God mag ons nie, kan ons nooit te glad en te maklik praat nie. Ons moet waak om te familiêr met God te raak. Dan raak ons blind vir die misterie van God.

Die Nederlandse kultuurfilosoof C.A. van Peursen praat van God as die Verborge Aanwesige en skryf sy Naam as G_d, om mense te herinner dat ’n mens God nie kan vasvang in woorde nie.

Karl Barth skryf: “ Ons kan nie oor God praat nie – dit is ons verleentheid. Ons moet oor God praat – dit is ons opdrag.”

God is groter as ons denke oor Hom. Daarom moet ons tog nie dink dat ons gebede God gevange kan neem nie. God is vrymagtig om self Sy wil te laat geskied. As ons ’n biddag vir reën hou, moet ons God nie daarmee probeer manipuleer nie. Wanneer ons ’n biddag hou, moet dit in opregtheid wees en ons hele lewe moet daarvan getuig dat ons Hom opreg dien.

God wil nie net in tye van nood, ’n noodwiel wees nie. Hy wil die stuurwiel van my lewe wees. Sy huis is nie ’n brandweerstasie net vir tye van nood nie. God is nie slegs maar ’n middel waarmee ek my doel kan bereik nie.

Nee, my hele lewe in goeie en in slegte tye – moet aan God geoffer wees, soos die volgende verhaal getuig: Daar was eendag, tydens die vreeslike vervolging deur die Spaanse Inkwisisie, ’n Jood wat met sy vrou en kind ontsnap het deur in ’n klein bootjie oor die stormagtige see na ’n naby-geleë eiland te vaar. Terwyl hulle van die bloeddorstige verskrikking weggevaar het, het ’n storm opgekom en ’n bliksemstraal het sy vrou op die bootjie getref. Die volgende oomblik het ’n geweldige warrelwind die kindjie in die see geslinger. Alleen, verskrik, byna nakend en kaalvoet, het die man op ’n rotsagtige eiland uitgespoel, sy hande in die lug opgesteek en so met God gepraat: “ God van Israel, ek het na hierdie plek toe gevlug sodat ek U in vrede kan dien, sodat ek U gebooie kan gehoorsaam en U Naam kan verheerlik. U egter, doen alles om my van my geloof te beroof. Maar as U dink dat U deur enigeen van hierdie dinge vir my sover sal kry om U pad te verlaat, dan maak U ’n fout. U kan my beledig. U kan my straf. U kan dit wat vir my die dierbaarste is, van my wegneem. U kan my tot die dood laat martel – Ek sal altyd in U glo. Ek sal U altyd liefhê, selfs ten spyte van Uself.”

’n Mens wonder waar kom so ’n belydenis vandaan? Nie uit hierdie wêreld nie.  Dit kan alleen vanuit die hemel self aangesteek wees.

Die vreemde verse van Jeremia 14 herinner ons: Moenie probeer om net die seën en die voorspoed van God te soek nie. God laat Hom nie manipuleer nie. Die lewe in oorvloed is slegs te vinde in ’n verhouding met God self.

Dink groot oor God!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Preek is gebasser op ‘n preek wat ek gelees het. Skrywer nie bekend. Ek het heelwat bygevoeg en bygewerk.

Helmut Thielicke, Leadership, Vol. 2, no. 1.

Dan Meyer. People of the Table.

Die Here kan ’n leuen gebruik

SKRIFLESING: Josua 2: 1 – 19

Die verhaal van Ragab is die merkwaardige verhaal van die prostituut van Jerigo, wat deel word van die stamboek van die Here Jesus Christus.

Die verhaal begin so. Josua het twee verkenners na die stad Jerigo gestuur om die stad te gaan verken. Die koning van Jerigo ontvang toe informasie van die twee manne van Israel wat die stad binnegekom het en dat hulle ingegaan het by Ragab, die prostituut van Jerigo, se huis. Die koning eis toe onmiddellik dat Ragab die twee Israelitiese manne uitlewer aan hom.

Ragab versteek dadelik die twee verkenners. Dan vertel sy ’n leuen aan die boodskapper van die koning: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie.  Toe die stadspoort teen donker moes sluit, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want u kan hulle inhaal.” (Josua 2: 4 – 5) Ragab versteek toe die twee manne op die dak onder vlasstingels. Die koning het soldate gestuur om die Israeliete agterna te sit en hulle het die stadspoort gesluit.

Ragab het opgeklim na die dak en voor die verspieders gaan slaap, vir hulle gesê dat sy hulle God ken en dat God Sy volk beskerm. Sy het vertel van wat sy weet van die verlossing uit die Rietsee, deur die Israeliete droogvoets te laat deurtrek, en van die verlossing uit Egipte. Sy het vertel van Israel se oorwinnings oor ander konings en volke. Sy vertel van haar mense in Jerigo se vrees vir die Israeliete. Dan bely sy in vers 11: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” Dan vra sy vir die verspieders om te beloof dat hulle haar en haar familie sal red. Die verspieders beloof toe dat hulle sal sorg dat sy en haar familie nie sal omkom nie.

Sy het hulle daarna met ’n tou laat afsak deur die venster, want haar huis was binne die stadsmuur en die verspieders het vir drie dae gaan wegkruip in die bergland. Hulle het ook vir haar gesê dat sy ’n karmosynrooi gevlegte tou moet vasmaak aan die venster waardeur sy hulle vrygelaat het, wanneer Jerigo aangeval word. Sy en haar hele familie moes in haar huis wees. Dan sou haar en haar familie se lewens gespaar word.

Inderdaad het die verspieders woord gehou en met die inval van Jerigo is sy en haar familie gespaar van die dood en gevangenskap.

Sy het in Israel met Salmon getrou en uit die huwelik is Boas gebore. Boas was weer die vader van Obed by Rut en het so die oupagrootjie geword van Dawid. Uit die geslagslyn is Christus Jesus gebore. Ragab die prostituut van Jerigo (die laagste onder die heidene van Jerigo) is verhef tot die geslagslyn van Jesus Christus.

In die gedeelte is die volgende opvallend: die leuen wat Ragab vertel aan die boodskapper van die koning. Sy vertel ’n leuen deur te sê die twee manne van Israel was by haar, maar hulle het alreeds die stad verlaat. Sit hulle agterna. Tog veroordeel die skrifgedeelte nie haar leuen nie. Haar leuen speel as’t ware ’n rol in God se heilsweg.  

Een verklaarder meen “waarheid” is nie om noodwendig te spreek in “ooreenkoms met die werklike feite” nie. Maar waarheid moet in diens staan van ons “lojaliteite ten opsigte van die Here en ons naaste.” (B Holwerda)

Dit sou beteken dat om sekere feite van sekere mense te weerhou, juis in diens staan van die wet, naamlik liefde tot God en my naaste. Dink ook aan die vroedvroue wat God meer gehoorsaam was as die Farao en nie die babaseuntjies vermoor het nie, maar die leuen vertel het dat die Joodse mammas te sterk is en dat nog voor hulle by die kindjie kom, die kindjie al klaar gebore is.

Met ander woorde as rowers jou huis aanval, mag jy ’n leuen vertel en sê jou vrou en kinders is nie tuis nie. Die hoër doel is om hulle lewens te red. In oorlog mag jy vlugtelinge versteek en die leuen vertel dat jy hulle nie gesien het nie, want daardeur spaar jy mense se lewens.

Wanneer leuens staan in ’n hoër en edel doel, is dit toelaatbaar. Om dan nie die leuen te vertel nie, sou beteken dat God oneer word en my naaste benadeel word.

Maar wanneer ek leuens vertel in diens van die bose, soos om myself te bevoordeel of om ander se kriminele aktiwiteite te beskerm, sal dit ’n leuen van die bose wees. Dit het dan nie ’n hoër en edele doel nie.

’n Mens kan as’t ware onderskei tussen ’n heilige leuen en ’n bose leuen. Ongelukkig moet jy die onderskeid maak, want ons lewe nie in ’n swart-en-wit antwoord wêreld nie. Ons lewe in ’n grysgebied, waar daar ’n oorlog is tussen wat heilig en wat boos is.   

Ons lees van Ragab se sterk geloof in die God van Israel. Waarskynlik was sy die enigste gelowige in Jerigo. Sy het dalk as sy mark toe gaan of gaan om water te skep by die put, brokkies nuus gekry van die oorwinnings van die Israeliete en hoe God hulle help in nood. Dit alles het soos ’n legkaart inmekaar geval, dat sy in vers 11 kon bely: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” Juis daarom is sy gered. Deur haar geloof. Haar geloof het in dade oorgegaan  en daarom het sy die twee verspieders gered.

In Jakobus 2 word Abraham die vader van die geloof wat uit Ur van die Galdeërs weggetrek het, vergelyk met Ragab, die heiden wat uit Jerigo weggetrek het. Albei het  alles agtergelaat wat bekend was. Albei het hulle land, hulle stad, hulle huise, alles, verlaat en weggetrek net oor hulle geloof in God. So staan geskryf in Jakobus 2: 25 – “Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ’n ander pad weggestuur het nie?” Abraham het as Joodse gelowige alles agtergelaat en Ragab het as gelowige uit die heidendom alles agtergelaat en so smelt die twee strome saam in die verbond. 

Rooi is die kleur van verlossing in die Bybel. Met die uittog uit Egipte het die Here opdrag gegee dat die rooi bloed van lammers aan die deurkosyne van die Jode geverf moet word om hulle te vrywaar van die dood. In Ragab se verhaal is dit ’n rooi tou wat redding bring en in die Nuwe Testament is dit die kosbare rooi bloed van Jesus wat verlossing bring vir almal wat glo.

So het Ragab, die prostituut, deur ’n leuen deel van die verbondsvolk geword en deel van die stamboom van die Here Jesus Christus en boonop ’n geloofsheldin geword – omdat sy aksie by haar geloof gevoeg het.

Hoe nodig het ons dit nie vandag, dat gelowiges daad by hulle geloof voeg nie.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.

Pro Regno. 2016. Josua 2. Ragab se geloof getuig van die Here se oordeel én genade

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Kom uit jou gemaksone

SKRIFLESING: Jakobus 1: 22 – 26

Rekkies is baie handig. My gunsteling rekkie is die ou dik Poskantoorrekkies. ’n Mens gebruik ’n rekkie om dinge bymekaar te hou, omrede die rekker kan rek. Die rekker rek om die goed bymekaar te hou. Indien dit nie rek nie, het die rekker geen doel nie.

Is kinders van die Here nie ook soos rekkies nie? Ons bestaansdoel is om nie net hoorders van die Here se Woord te wees nie, maar ook daders. Daarom moet ons onsself rek uit ons gemaksones sodat ons effektief kan wees. Dit is egter vir die mens baie moeilik om uit sy / haar gemaksone te beweeg. Die Bybel leer ons nêrens dat ons hier op aarde geplaas is om in ons gemaksone ewe knus te lewe nie! Die Bybel daag ons uit. Die Here daag ons uit, om buite ons gemaksone die wil van die Here na te jaag. Die doen van die wil van God kom nie natuurlik nie. Jy moet jouself rek vanuit die verkeerde gemaksone van die sonde.

Min mense hou van verandering. Mark Twain het gesê dat die enigste een wat wel van verandering hou, ’n nat baba is wanneer die doek geruil word.

Die Bybel is vol Bybelkarakters wat voortdurend soos ’n rekker rek uit hulle gemaksone. Dink byvoorbeeld aan Abraham wat moes trek uit Ur van die Chaldeërs, weg van sy familie en die wonderlike verbondsplan wat in die Bybel ontvou, net omdat Abraham bereid is om die vreemde aan te pak. In Abraham kon al die nasies van die aarde geseën word.

Moses moes die volk uit Egipte, uit hulle gemaksone vir 40 jaar, lei na die beloofde land. Hulle moes alles in Egipte wat gemaklik is, agterlaat en die vreemde en die ongemaklike aandurf. Hulle rekker is tot die uiterste gerek. Hulle moes 40 jaar van manna en kwartels leef. Die wolkkolom het bedags vir hulle skaduwee gegee en die vuurkolom het snags vir hulle lig gegee. Hulle moes dikwels water uit ’n rots drink. Hulle het in tente gebly, in pleks van huise van steen soos in Egipte.

Petrus en Johannes moes die gemaksone van hulle skuite agterlaat en “vissers van mense” word. Dit was ’n totale omwenteling van hulle lewe. Van die bekende viswaters na die onbekende.

En gemak kan ’n gevaarlike ding wees. Die Here werk nie sommer in situasies van gemak nie. Want dit is in situasies van ongemak waar die Here meestal verandering teweegbring. In ongemaklike, uitdagende situasies bring die Here verandering in gedrag, verandering in verhoudings en ook verandering in denke. En dit is waar groei plaasvind! In jou gemakstoel groei ’n mens net in die breedte. Dit is wat die apostel Jakobus ook by ons wil tuisbring.

In ons gelese gedeelte skryf Jakobus in hoofstuk1: 22 as volg – “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.” ’n Mens kan ’n hoorder van die Woord wees, sonder om te verander. Jy bly in die veilige gemaksone om slegs te hoor, maar jy word nie ’n dader nie. Om te hoor is maklik, maar om uitgedaag te word om te verander, is ’n perd van ’n ander kleur. Oor doeners en daders het ek die volgende gelees.

Die Deense teoloog Søren Kierkegaard het dit so raak beskryf.

Stel jou voor as die ganse kon praat – dan sou hulle dit so gereël het dat hulle ook hul aanbidding gehad het.  Die ganse het elke Sondag, as die boer se gesin kerk toe gaan, ook in die skuur bymekaar gekom vir ’n preek. Dan het een van die ganse op ’n emmer gespring en sy lyf predikant gehou en al kwakende gepreek dat ganse vlerke het om te vlieg en dat hulle hulle vlerke moet oefen om na verre lande te vlieg. Die gemeente van ganse het al kwakende “Amen” gesê en vertel dit was ’n goeie preek. Daarna het hulle uitgestrompel en hulle na die mielies gehaas en skoon vergeet om deur die week hulle vlerke te oefen. Die volgende Sondag was hulle weer bymekaar in die skuur en die gans-dominee het weer op die emmer gespring en gepreek dat hulle hulle vlerke moet oefen om te kan wegvlieg na verre lande. Die gemeente van eende het weer al kwakende “Amen” gesê en vertel dit was ’n goeie preek. Daarna het hulle weer uitgestrompel en hulle gaan dik vreet aan die mielies, sonder om hulle vlerke te oefen. So het dit aangegaan, week vir week en maand vir maand. Kersfees het nader gekom en hulle het al dikker en vetter geword. Die vetstes van hulle het daardie Kersfees in die potte van die dorp se inwoners beland. Hulle het net gehoor, maar nie gedoen nie. Hulle was hoorders, maar nie daders nie. Hulle het maar net in hulle gemaksone gebly.

Jakobus sê as’t ware jy moet uit jou gemaksone klim van slegs ’n hoorder te wees en inderdaad ’n dader van die Woord word. Anders, sê Jakobus, is jy soos iemand wat in ’n spieël kyk hoe hy lyk en omdraai en vergeet hoe hy gelyk het (vers 23 – 25). Die Wet en die Woord is inderdaad vir ons soos ’n spieël. Jy kyk daarin en sien jou sonde raak. Jy word opgeroep om jou lewe te verander. Maar as jy vergeet hoe jy gelyk het, hoe kan jy jouself verander? Jakobus roep juis sy lesers op om hulle gedrag te verander, deur uit die gemaksone van die sonde te klim.

Sonde is altyd ’n gemaksone. Sonde is maklik. Om uit sonde te kom, vra inspanning. Dit vra die moeilike pad van verset teen sonde. Om te sondig is maklik. Maar om jou rug op sonde te draai, is die moeilike pad. Jy moet die gemaksone van die sonde verlaat en die rekker rek, buite die gemaksone.

Sonde is om luilekker met die verkeerde dinge besig te wees. Sonde vra geen inspanning nie. Goeie werke vra inspanning, omdat goeie werke teen ons sondige natuur is. Ons sondige natuur vat altyd die maklikste pad van geen verset. Jy moet gerek word uit jou sondige natuur. Dit is waartoe Jakobus sy lesers oproep.   

Dan word daar in vers 26 een voorbeeld genoem van ’n gemaksone-sonde, naamlik die verkeerde gebruik van die tong. Mense kan maklik skinder, sonder om eers agter te kom hulle skinder. Of mense se taal kan so vuil en slordig wees, dat hulle nie eers agterkom dat hulle onwelvoeglik praat nie. Mense vloek so maklik, dat hulle nie eers weet hulle vloek nie. Hulle is in die gemaksone van om die tong nie in bedwang te hou nie. Dit vra van hulle om gerek te word uit die maklike misbruik van die tong, sodat hulle tong in toom gehou kan word.

Ds. T.J. Cloete gebruik die volgende metafoor om gemaksones te verduidelik: “Die kreef se vyand is visse en seekatte, maar die kreef kan nie groei indien hy nie die besluit neem om sy dop af te gooi nie.

Die kreef gooi sy dop tot 25 keer af in die eerste jaar. Ja, die dop beskerm die kreef, maar om te groei moet hy dit afgooi. Indien die kreef dit nie afgooi nie, dan is hy sy eie gevangene – die dop word sy doodskis! Dit is ook so dat die dop die kreef beskerm en daarom kan dit vir die kreef aanloklik wees om dit te behou.  Ja, dit verg moed om dit af te gooi – ontbloot te wees vir die vyand – en te groei. Dit het tyd geword dat jy uit jou gemaksone wat jou so beskerm, moet kom. Jy moet die besluit neem: Bly in my gemaksone en sterf geestelik of gooi die ou dop af en groei geestelik.”

Carolyn Gregoire skryf so mooi: “Humans are creatures of comfort. Our comfort zone is our natural, neutral state – a place where stress and anxiety are minimal, where we know what’s coming next and we can plan accordingly.”

Wie nie bereid is om gerek te word nie, sal ook nie geestelik groei nie. Die Here Jesus wil ons uitdaag om gerek te word, sodat ons nuwe geestelike wesens kan word.

Jakobus wil sy lesers aanmoedig om hulle geloof in dade sigbaar te maak. Die Evangelie moet nie net gehoor word nie, dit moet gedoen word, dit moet geleef word.

Daarom wil die Evangelie jou rek, om buite jou gemaksone die goeie en die regte te doen. Mag u en ek gerek word uit ons sondige gemaksones, om tot nuwe geestelike lewe te kom.                                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die twee poorte

SKRIFLESING: Psalm 9: 14 – 15 en Hebreërs 12: 22

In Psalm 9: 14 – 15 lees ons van twee poorte. Die poort van die dood staan teenoor die Sionspoort. Volgens ou Joodse geskrifte verwys die Psalm waarskynlik na Dawid se oorwinning oor Goliat. Toe Dawid voor Goliat gestaan het, was hy letterlik voor die poort van die dood. Al het Dawid sy vertroue in God gestel, moes hy tog ook bang gewees het. Om dapper te wees, beteken nie om nie bang te wees nie.

’n Mens ervaar baie Goliatte  in jou lewe. Maar die laaste Goliat in jou lewe is die dood. Dit is die grootste Goliat. Almal is vir hierdie Goliat bang.

Tannie Rae was met reg ook bang vir die sterwensproses. Almal ervaar sterwensangs in die poort van die dood. ’n Mens weet nie hoe lank jy gaan staan voor hierdie laaste Goliat in jou lewe nie. Soms kan ’n mens jare leef onder die skaduwee van Goliat. Mense kan jare lank siek wees van kanker of een of ander ongeneeslike siekte. Soms is die sterwensproses kort, as die siekbed van korte duur was.  Die Here was Tannie Rae genadig en sy was nie lank in die poort van die dood nie.

Dawid het met een klip in sy slingervel vir Goliat, die reus, verslaan. Daarom besing Dawid in verse 14b en 15 die lof van die Here:  “U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood –  sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion. Ek wil juig oor die verlossing wat U bring.”

Die Here het as’t ware vir Dawid weggeruk uit die poort van die dood en hom geplaas in die poort van Sion. Dawid kon terugkeer na die stad Jerusalem en het in die tabernakel gejuig oor God se reddingsdade. Psalm 9 is Dawid se lofrede omdat die Here hom gered het van Goliat en die Filistyne. Die poort van Sion verwys daarna om binne-in die stad Jerusalem te wees. Jerusalem is die Godstad, waar Dawid die paleis gebou het en Salomo die tempel gebou het.

Waar Dawid eers in die poort van die dood gestaan het, staan hy nou in die poort van Sion, naamlik Jerusalem, waar hy regeer het as koning.

Soos die Bybel ontwikkel, het hierdie Sionstad later ’n al meer geestelike betekenis gekry.  Die Sionstad word nou die nuwe Jerusalem van Openbaring, waarheen al God se geredde kinders gaan. Sterwe beteken om deur die poorte van Sion, die poorte van die nuwe Jerusalem, in te gaan.

In Hebreërs 12: 22 staan daar: “ Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, ……”

Hebreërs 12: 22 word voorafgegaan deur ’n gedeelte waar die berg Sinaï vergelyk word met die Sionsberg. Die berg Sinaï, wat die wet simboliseer, word beskryf in die volgende terme: Brandende vuur, duisternis, donkerte, stormwind en selfs as ’n dier die berg aanraak, moet hy gestenig word. Selfs Moses was beangs. Sinaï staan vir redding deur die nakom van wette en rituele. Daarteenoor staan die Sionsberg, as simbool van redding deur genade. Die Here Jesus het verlossing gebring. Hy het die satan en die sonde wat soos ’n Goliat voor ons gestaan het, verslaan op Golgota. Daarom kan ons in die poorte van Sion sit.

Tannie Rae is nie meer in die poort van die dood nie, maar in die poort van Sion.

Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ’n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ’n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit is en die sleutel van die doodskiste gegee is vir die opsigter van die begraafplaas om te bewaar. Die man en die predikant het, nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter  gegee het, alleen terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir die man: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”

Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: “Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ’n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.”

Die woord “Hades” word voorgestel as ’n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ’n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.

Die Here Jesus het die sleutel wat vir ons die Sionspoorte oopsluit. Ons kan in Sion bly.

Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die dood oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.

Tannie Rae Meyer is ’n Sionsganger. Almal wat in Christus is, is ’n Sionsganger.

Laat ons almal met Sionsgesange opgaan na Sion.              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Beproewinge kweek karakter

SKRIFLESING: Jakobus 1: 2 – 11

Dit gaan in Jak 1: 2 – 11 oor ysterklippe en veldblomme.

Jakobus gebruik die veldblom om die ryk mens te beskryf. Daarmee bedoel hy die mens wat net voorspoed in sy lewe ken.  Mense wil graag soos veldblomme wees omdat hulle graag deur ander mense aanvaar en bewonder wil word. Hulle wil jonk en mooi bly en deur voorspoed verveel word. Hulle wil altyd gesond bly en sonder moeite kitssukses in alles behaal.

Ja, ons sal graag soos veldblomme wil wees. Kyk net hoe ’n ophef maak mense elke September van die Namakwalandse veldblomme. Ons wil ook so fraai en mooi en bewonderenswaardig wees. Om ryk, om gesond, om mooi, om atleties, om bekend en voorspoedig te wees, is vandag in. Net mense wat soos veldblomme is, haal die voorblaaie van die tydskrifte.

Ag, was ek maar soos ’n veldblom! Maar nou is ek nie ’n veldblom nie, want beproewinge en swaar lê soos duwweltjies oor my pad gesaai. Om elke draai kry ek ’n “puncture”, soos my dogter Unine elke tweede dag gekla het toe sy klein was: “Pa, my fiets se band is pap, ek het alweer oor ’n duwweltjie gery.” Dan moet Roelfie, die tuinman, weer die lekplek regmaak.

Ons kla dikwels ook dat ons pad met duwweltjies, met beproewinge, gesaai is. Daar is die droogte. Ek sukkel om met my geld uit te kom. Ek sukkel om my stukkende huwelik te red. Ek sukkel met my skoolwerk. Ek sukkel met my gesondheid of ek sukkel met ’n familie-probleem.

Maar hoor ’n bietjie wat sê Jakobus 1: 2 – 4: “Beskou dit as ’n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.  Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.”

Jakobus sê dat ons ons daarin moet verheug as ons somtyds ’n bietjie swaar in die lewe kry. Somtyds is dit goed vir my geestelike lewe om deur ’n droogte te gaan, om te sukkel om met my geld deur te kom, om te worstel met ’n siekte of met ’n probleem. Want sodoende word ek gelouter soos ysterklippe deur slae, en deur hitte getemper tot vlekvrye staal.

Die gelowiges wat gelouter word deur beproewinge en swaar is soos die ysterklip. Hoe meer dit geslaan word, hoe meer dit verpoeier word, hoe meer dit aan helse hoë temperature blootgestel word, hoe beter word dit. Die onsuiwerheid kom af. Die slae en hitte gee karakter. Dit word sterker en suiwerder. Uiteindelik word uit die ysterklip vlekvrye staal vervaardig, waarmee byvoorbeeld chirurgiese instrumente vervaardig word om mense se lewens in die teater te red.

Beproewinge en die slae van die lewe maak ons suiwerder, dit breek die onsuiwerhede in ons lewe af, soos in die woorde van Jakobus: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.”

Droogtes, siektes, probleme, finansiële bekommernisse, terugslae, ensovoorts is die aanslae en die hitte wat ons temper en die onsuiwerhede in ons lewe afbreek. Die aanslae en die hitte van die lewe is waardevol as dit my kan leer om van onsuiwerhede, soos ’n haastige mond, ’n vinnige humeur, of geen simpatie met ’n medemens nie, ontslae te raak. Die hitte en die aanslae van die lewe maak my suiwerder, dit leer my om lief te hê, begrip vir ’n ander te hê, sagmoedig en barmhartig te wees.  

Maar hoe moet ek op swaarkry reageer? Jakobus noem twee dinge in die teksgedeelte:

  • Bid
  • Hou aan om die goeie te doen

Ja, ons bid te min. Gebed verander sake, maar gebed verander my ook. Ons bid tog so dikwels verkeerd. Ons bid net dat die Here sake moet verander, maar ons bid nooit dat die Here my moet verander nie. Ons bid ook so twyfelagtig. Ons bid dat die Here vir die arm mense sal kos gee, maar dan wil ons nie ’n verskil maak nie. Ons bid dat die Here ons sondes sal vergewe, maar dan is ons nie bereid om ’n ander sy sondes te vergewe nie. Ons bid vir die Here se Koninkryk, maar dan is ons so teen sending. Ons bid vir reën, maar kan so jaloers wees as ’n ander een reën kry. Ons noem dit “jaloersbuie”! Wie so bid, sê Jakobus, bid twyfelagtig. So een moet nie dink dat die Here sy of haar gebed sal verhoor nie.

Jakobus sê ons moet vir wysheid bid. Bid dat jy in jou beproewinge die dinge sal vra wat werklik tel in die lewe. Bid eerder dat die Here vir jou liewers karakter as rykdom sal gee, want sien, karakter hou langer as rykdom.

Bid dat die Here die aanslae en die hitte in jou lewe sal gebruik om jou suiwerder te maak. Ja, dat die hitte en die aanslae die onsuiwerhede in jou lewe sal afbreek.

Jakobus sê ons moet ook nie onbestendig in ons doen en late wees nie. Daarmee bedoel hy dat ons moet aanhou om die goeie te doen, selfs al word ons getemper deur die hitte en die aanslae van die lewe.

In die boek We’re Going On A Bear Hunt word beskryf hoe die kinderkarakters op ’n avontuur vertrek. Dit is die werklikheid van die lewe, maar dit is soms skrikwekkend waar. Die karakters moet deur lang gras, ’n diep rivier, modder, ’n donker woud, tot in ’n diep grot gaan. Elke keer sê Poppy net:

“Ons kan nie daaroor gaan nie.

Ons kan nie daaronder gaan nie

O NEE!

Ons moet daardeur gaan…”

So lei die Here ons nie óm probleme nie, maar déúr probleme. Die volk Israel is  nie om die woestyn gelei nie, maar eerder deur die woestyn gelei, sodat hulle kan leer dat God die enigste God is en dat hulle in hulle geloofskarakter gevorm kan word.

As jy aanhou perdry, word jy ’n goeie perderuiter. As jy aanhou probeer, sal jy dit regkry. As jy dan ’n stuk vlekvrye staal wil word, moet jy aanhou om goeie dinge te doen. Hou uit as dit brand. Al word jy geslaan, hou jou spiere sterk. Verander jou minusse in plusse. Verander jou tekortkominge tot jou voordeel.

Nee, gebruik eerder die slae en die hitte van die lewe om jou karakter te vorm, om jou suiwerder te maak. Dit het blywende waarde.

Honde-afrigters sal vir jou sê dat hulle nooit vir hulle honde te veel kos gee wanneer hulle opgelei word nie. Die hond moet effens honger wees. U sal dink dis wreed. Maar dit is nie. ’n Effens honger hond doen beter as ’n uitgevrete hond. ’n Effens honger hond vang beter jakkalse en is ’n beter waghond en hardloop vinniger. Hoekom? Want hy het ’n uitdaging!

Beethoven was doof. Tog het hy die mooiste musiek vir ons nagelaat. Helen Keller was doofstom en blind en het tog van die mooiste gedigte geskryf. Arthur Rubenstein was een van die wêreld se grootste klavierspelers. Sy musiekonderwyser het op ’n slag vir hom gesê hy kan vergeet om klavier te speel, sy vingers is te kort.

Jesus Christus is in ’n stal gebore, het in die Nasaret-agterbuurte grootgeword, is verwerp, geslaan, gespoeg en gekruisig. Tog het God Hom uit die dood opgewek, sodat ons ook ystermanne en ystervroue kan wees.

Veldblomme en ysterklippe verskil. Veldblomme het dit maklik en ysterklippe het dit swaar. Tog duur die skoonheid van veldblomme nie lank nie. Skoonheid, geld, voorspoed, status en gesondheid is soos ’n veldblom. Die blomme val af en die prag is daarmee heen. Hollywood-glorie duur nie vir ewig nie. Voorbladpersoonlikhede vervaag gou. Sportsterre verskiet gou.

Is dit nie so dat mense wat alles te maklik in die lewe kry, dikwels maklik uitvaagsels word nie? Hulle ken nie die hitte en die aanslae van die lewe nie.

Daarom moet ons nie kla as daar allerlei beproewinge oor ons kom nie. Ons word gelouter deur die aanslae en hitte van die lewe om suiwer en onberispelik tot volle geestelike rypheid te kom. So kry ons karakter.

In ons beproewinge moet ons bid vir wysheid om die regte dinge te vra en dan ook te bid sonder om te twyfel. Hou aan om die goeie te doen.

Veldblomme is seisoengebonde, maar ysterklippe word vir ewig gelouter.

Dank God vir elke beproewing! Merk op hoe God jou geestelik laat groei tot geestelike rypheid.

Amen  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Delaney, Anthony. Tests Into Treasure.

Wolmarans, Hansie. Ysterklippe en Veldblomme. Departement Grieks. RAU

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Daar sal perde wees

SKRIFLESING: Openbaring 6, 7 en 8

Daar is ’n Afrikaanse spreekwoord wat sê: “Daar sal perde wees.” Dit beteken daar sal moeilikheid wees.

Ons kan die spreekwoord ook op die einde van hierdie wêreld toepas. Ja, aan die einde van hierdie wêreld sal daar perde wees, daar sal moeilikheid wees.

Openbaring 6: 1 -17 se tema kan maklik saamgevat word met die woorde: Aan die einde van dae sal daar perde wees.

Ons lees hier in Openbaring 6 oor die oopmaak van die sewe seëls, wat handel oor:

  • Die toestand van die wêreld (eerste vier seëls)
  • Die versugtinge van die kerk (vyfde seël)
  • Die naderende oordeel (sesde seël)
  • Die groot stilte (sewende seël)

Die eerste vier seëls handel oor die toestand waarin die wêreld sal verkeer in die eindtyd. Dan word vier perde met hulle ruiters uitgebeeld as metafore van wat die eindtyd sal inhou.

Die eerste metafoor (seël) is die wit perd en sy ruiter hou ’n boog vas, en ’n oorwinnaarskroon is aan die ruiter gegee. Dit stel die valse Christusse voor en die dwaalleringe wat  die wêreld verower. In ons eie kerk worstel ons met skrifgesag en baie predikante water die gesag van die Skrif af, om allerhande sondes goed te praat en te regverdig vanuit die Skrif. Ook kry ’n mens die welvaartteologie, wat glo dat welvaart gelyk loop met die kwaliteit van jou geloof. As jy reg glo, sal die Here jou baie seën en jou ryk maak. In die Amerikaanse kerke, maar veral ook in baie van die swart kerke in Suid-Afrika, kom dit algemeen voor. Die verlossingsleer kan ook afgewater word, deur te glo dat Christus alleen nie by magte is om my te verlos en die saligheid te bewerk nie – ek moet kies. My persoonlike keuse word dan die grond van my verlossing en nie meer Christus nie.

Hierdie wit perd en sy ruiter saai verwarring in die geestelike lewe van ’n gemeente en kan ook lei tot opstand, veral wanneer die Skrifgesag betwyfel word.

Die tweede metafoor (seël) is die vuurrooi perd en aan sy ruiter is ’n groot swaard gegee. Waarskynlik wat lyk soos die Romeinse kort steekswaard wat in rebellies gebruik is. Die rooi simboliseer bloed wat gestort word. Dit het die betekenis van geweld, oorlog en bloedvergieting. Ons land het een groot bloedbad geword met ’n syfer van ongeveer 58.4 mense per dag wat in Suid Afrika vermoor word. Geen Polisiemag in die wêreld sal soveel moorddossiere kan hanteer nie. Mense word op plase, in tavernes, in arm woonbuurte en ook in ryk woonbuurte vermoor. Dan is daar ook die moord op politieke figure in Suid-Afrika.

Natuurlik word oorloë hier ingesluit. Die wêreld was byna nog nooit, nie in ’n staat van oorlog nie. Die jongste oorlog van Rusland teen Oekraine gaan ook nie die laaste oorlog wees nie. Die eerste moord van Kain op Abel was die begin van die bloedspoor. Broedermoord het uitgekring na  oorlog tussen volkere. Die “Viking”-gene sit in die meeste volkere se genepoel. Ons is deur twee wêreldoorloë, met al die gepaardgaande wreedheid van mens tot mens.

So wil hierdie seël openbaar dat die mense mekaar sal uitmoor. Dit is die onheilspellende hoefgeklap na die einde toe.

Die derde metafoor (seël) is die swart perd, en sy ruiter het ’n skaal in die hand. So voorspel dit dat daar in die eindtyd skaarsheid en hongersnood sal wees en dat alles baie duur sal word. Alles sal afgeweeg word en die kos sal gedaan raak. Sedert die aanvang van die oorlog in Oekraine het petrol- en dieselpryse die hoogte ingeskiet. Dit het tot 40% duurder geword. Mense gebruik deesdae hulle kosgeld om brandstof te betaal om net by die werk te kom. Die meeste mense kry baie swaar. Daar vind ’n grootskaalse verarming van mense plaas. Die armes kry die meeste swaar. Die lang rye van honderde mense by die voedingskemas van Adelaide vertel sy eie verhaal. Honderde mense gaan slaap saans honger op Adelaide. Vers 6 van ons teksgedeelte handel oor die inflasie van die ekonomie. In talle plekke in Afrika is daar hongersnood en kosskaarste waar die Verenigde Nasies en kerke moet help.  

Die vierde metafoor (seël) is dié van die vaal perd, en sy ruiter se naam is die Dood. Die perd is op volle galop. Die vaal perd is mos die kleur van die dood. Miljoene sterf in hongersnood en oorloë. Duisende in politieke geweld. Miljoene aan siektes soos Covid, kanker en so kan ’n mens aangaan. Soveel duisende sterf in motorongelukke.

Daarom is daar in hierdie eindtyd ’n stryd tussen die Lig en die duisternis. ’n Stryd tussen Christus en die bose. Beland Christene ook onder die pote van die vier perde? Ongelukkig, ja. Ons professor in Nuwe Testament, Jan du Rand, het aan ons verduidelik dit is soos twee lande wat teen mekaar oorlog maak. Die twee lande se weermagte skiet op mekaar. Ongelukkig word burgerlikes ook getref in die kruisvuur. Daarom beland ons ook in die kruisvuur, onder die pote van die vier perde.

Dit bring ons by die vyfde seël. In Openbaring 6:9 staan daar: “Toe Hy die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het.” Die vyfde seël of bekendmaking, beteken die wat te midde van die galop van die vier perde aan die Here Jesus vashou en Hom in alles vertrou. Daarom moet ons in hierdie eindtye net aan die Here vashou en Hom getrou volg. Die aanvegtinge kan ons liggaam doodmaak, maar dit kan nie ons siel doodmaak nie. Offerdiere se bloed is aan die voet van die altaar opgevang. So is die Christene wat hulle lewe vir die Here opoffer, se bloed soos dié van die offerdiere aan die voet van die altaar – hulle het hulle hoogste prys betaal. Die Here sal hulle onthou.

Daarom, al leef ons onder tipiese sekulêre staatsomstandighede, moet ons nooit ons moed verloor nie, maar altyd aan ons geloof vasklou.

Die vraag kan gevra word waarom talm die Here so lank. Die antwoord is eenvoudig. Hy wag dat Sy volle getal uitverkorenes ingesamel word: die volmaakte getal, wat simbolies 144 000 is. Dit is die twaalf stamme van Israel (Ou Testament) x die twaalf apostels (Nuwe testament) x 1000 (die volmaakte) = 144 000. Dit is ’n volmaakte getal en beteken miljoene der miljoene is uitverkies. Die Here het vir jou en my ook gewag. As die Here Jesus 100 jaar gelede gekom het, was net Tannie Mabel Faure wat nou 104 jaar is, gered. Die Here het vir ons ook gewag om in die boek van die lewe opgeteken te word.

Onthou ook wat in 2 Petrus 3: 8 staan: “ Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag.”

Dan kom ons by die sesde seël – ’n groot aardbewing. Dit is moeilik in Suid-Afrika om ons in te dink in ’n aardbewing, want ons is nie gewoond daaraan nie. Maar dit is as al jou sekuriteite wegval. Konings word van hulle trone ontneem. Rykes word ontneem van hulle rykdom, magtiges verloor hulle mag en invloed en die gewone man en slaaf word beroof van die bietjie wat hy nog het. Selfs die Richter-skaal sal dit nie kan meet nie.

Dit is wanneer die sterre op die aarde val, soos navye op die grond.

Ons armlastiges wat so krampagtig aan ons goedjies, mag en drome vasklou. Ons hande wat soos kloue lyk – wat aan alles wil vasklou. Wanneer die groot aardbewing kom, sal ons dit alles verloor. Daarom moet ons nie neerslagtig wees oor die toekoms nie, maar eerder bly wees. Verwag liewer vir Jesus. Die eindtyd en die verwoestende vier perde met hulle ruiters moet ons laat verlang en dryf na Jesus Christus ons Here. In Christus is ons uiteindelik oorwinnaars. Daarom sug ons saam met die kerk: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser. Maranata, kom gou Here Jesus …. kom gou.”

Oor die sewende seël in Openbaring 8 lees ons hoedat die Lam die sewende seël oopgemaak het en daar het ’n halfuur van stilte gevolg. Die verklaring hiervoor is dat die heiliges se gebede kan opstyg na God soos wierook en dat al die gelowiges in afwagting is op wat nou gaan gebeur.

So moet ons ook in afwagting wees op die koms van Jesus Christus.    AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Du Rand, Jan 2007. Die A – Z van Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewers Maatskappy.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

Van niksnut tot nuttig

SKRIFLESING: Filemon 1

Die verhaal begin met Filemon, wat ’n welgestelde Christen was, wat aan die Christelike kerk in Kolosse behoort het. Hy het onder die bediening van Paulus in Efese tot bekering gekom en sy huis aangebied as ’n saamkomplek vir ’n huiskerk. Hy het ’n slaaf gehad met die naam Onesimus. Dit was algemene gebruik in Rome om slawe te besit. Daar word bereken dat daar in Rome ongeveer tienduisend welvarende mense was wat ongeveer 1 miljoen slawe besit het. ’n Slaaf was die laagste klas in die destydse samelewing.

Ongelukkig is baie van daardie slawe wreed behandel. Die Romeinse samelewing is in klasse opgedeel – Romeine, mans en vroue, slawe en vryes, Jode, Christene en heidene – en die grense mag nie oorgesteek word nie. Sou ’n slaaf sy meester nie tevrede stel nie of iets verkeerds doen, dan is hy op ’n barbaarse wyse gestraf. ’n Slaaf kon selfs met die dood gestraf word.

Dan lees ons hoedat Onesimus een of ander oortreding begaan het. Dit kon moontlik diefstal gewees het, na aanleiding van vers 18, waar gepraat word van “skuld berokken”. Dan vlug Onesimus weg van sy eienaar Filemon af, wat die ergste moontlike optrede van ’n slaaf was. Onesimus se naam beteken “voordelig” of “nuttig”. Hy was nou allesbehalwe nuttig vir sy eienaar. Hy was nou ’n “niksnut” wat vir niks gedeug het nie. Hy het duisende kilometer dwarsoor die Romeinse Ryk gevlug, sodat hy nie gevang kon word nie. Waarskynlik, volgens kerklike tradisie, moes hy in die groot stad Rome met sy baie mense gaan wegkruip het. Hy het moontlik gaan wegkruip in die Joodse woonbuurt in Rome, wat die agterste krotbuurt van die stad was. Paulus was ook in dié tyd (59 – 61nC) in Rome in huisarres oor sy geloof.  Dit het beteken Paulus mag nie sy huis verlaat het nie, maar hy kon besoekers ontvang het. By sy huis het hy gepreek vir die mense op straat en sy  boodskap was eenvoudig maar kragtig. Paulus het van die nuwe vryheid in Christus gepraat en gesê: “By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11). Dit was goeie nuus op die ore van ’n slaaf, soos Onesimus. Wat waarskynlik gebeur het, is dat Onesimus ontdek het die gras is nie groener anderkant die heining nie. Hy het geweet dat sy eienaar bevriend was met Paulus, die bekende apostel. Hy het ook geweet dat hulle tot dieselfde Christelike geloof behoort het. Miskien het sy gewete hom gepla, sodat hy na Paulus gegaan het om raad te kry. Paulus kon immers besoekers ontvang.

So het die paaie van Onesimus en Paulus gekruis. Paulus het met Onesimus begin werk, daar waar dit saak maak – naamlik jou geloof. Hy het die Christelike Evangelie met Onesimus gedeel en gaandeweg het Onesimus tot geloof in Christus gekom. In vers 10 word Onesimus se geloof so deur Paulus beskryf in vers 10: “Ek pleit by jou vir my geestelike kind, Onesimus, wat ek tydens my gevangenskap verwek het.” Paulus beskryf as’t ware Onesimus se bekering as ’n geboorte, ’n wedergeboorte.  Onesimus is verwek tot geloof. Paulus was as’t ware Onesimus se geestelike vader, wat hom onder die leiding van die Heilige Gees tot bekering gebring het.

“Die werklikheid van God se genade was duidelik in die karakter wat dit in Onesimus gewerk het na sy bekering. Dit blyk dat hy van daardie oomblik af uiters behulpsaam en nuttig moes gewees het, want Paulus was bereid om hom as ’n medewerker te hê. Onesimus was klaarblyklik vriendelik, teer en liefdevol. Paulus het hom dadelik broer genoem en sou hom graag daar in Rome wou hou.” (Wubbels, Lance)

Nou was Onesimus ’n nuwe mens. Sy gewete het hom begin pla oor die onreg wat hy sy eienaar aangedoen het. Wanneer die Evangelie jou tot bekering bring, moet jy altyd gaan regmaak met die verlede. Die regte ding as nuwe Christen, was om terug te gaan na sy meester. Maar hy het ook die straf gevrees wat vir hom wag as weggeloopte slaaf.

Maar dan skryf Paulus ’n brief aan sy Christenvriend Filemon in Kolosse. Paulus skryf onder andere in verse 11 – 12 die volgende in sy brief aan Filemon: “Hy het destyds vir jou geen voordeel (nuttigheid) ingehou nie, maar nou hou hy vir jou en vir my groot voordeel (nuttigheid) in. Ek het hom na jou teruggestuur, hy wat my eie hart is!”

Nou eers het Onesimus trou geword aan sy naam se betekenis, naamlik om “voordelig en nuttig te wees.”

Onesimus het verander van ’n niksnut na ’n nuttige mens. So verander die Evangelie mense wat eers niksnutte was na waardevolle nuttige mense vir die kerk en samelewing.

’n Eienskap van ’n Christen is juis dat hy of sy nuttig moet wees, soos wat die Credo van die kerk bely: “Ek glo in die gemeenskap van die gelowiges.” Binne die gemeenskap van gelowiges moet ek aktief deelneem aan my kerk en samelewing se aktiwiteite. Daardeur is ek nuttig vir my gesin, ander mense en vir die gemeenskap.

Die Evangelie maak ook van alle stande en klasse van die samelewing, een gemene deler, naamlik dat ons “broers en susters in Christus is.” Paulus verwys na Onesimus as ’n broer in die geloof – ’n gelyke. Hoor wat skryf Paulus aan Filemon in vers 15 – 16: “Dalk was hy juis om hierdie rede ’n rukkie lank van jou af weg, sodat jy hom vir altyd kan terugkry, nie langer as ’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf, as ’n geliefde broer – in die besonder vir my, hoeveel te meer dan vir jou – liggaamlik, sowel as in die Here.”

Samelewings regoor die wêreld is so behep met ras, klas, stand, kleur en posisie dat ons mekaar gedurig sorteer in ’n hokkie. Ons klassifiseer mekaar. Ons gee mekaar etikette. Dan sê Paulus by herhaling: “By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).  

As’t ware begin Paulus om die fondament te lê wat uiteindelik die grondslag vorm van die teologie wat slawerny, rassisme, en enige ander stelsel wat mense hiërargies klassifiseer, as sonde, en teen die wil van God, beskou. Daarom het ons slawerny grootliks oorwin, maar is die stryd teen rassisme nog lank nie verby nie.

Onesimus het aan die deur geklop en gewag. Wat het toe gebeur?

Uit die kerkgeskiedenis leer ons dat Onesimus later die biskop van Byzantium geword het. Filemon het sy slaaf vergewe en hom ’n tweede kans gegee op aanbeveling van Paulus. Daarom het Paulus ook vir Filemon ’n herinnering gegee van watter mens hy was voor hy ’n Christen geword het. So moet ons vir mekaar ook tweede kanse gee. Die Evangelie leer ons om so te maak. Iemand wat ’n “niksnut” is, kan deur jou bearbeiding en vergifnis baie “nuttig” word vir die samelewing.

“Victor Hugo se roman, ‘Les Miserables’, is ’n verhaal oor Jean Valjean, wat tot negentien jaar tronkstraf gevonnis is vir die steel van ’n brood. Tydens sy tronkstraf het Valjean verhard tot ’n taai veroordeelde. Niemand kon hom in ’n geveg klop nie. Niemand kon sy wil verbreek nie. Valjean het uiteindelik sy vrylating verdien, maar het gevind dat hy nêrens het om te gaan nie. Hy het deur die dorp gedwaal op soek na skuiling totdat ’n vrygewige biskop hom genadig was. Daardie aand, terwyl die biskop en sy suster aan die slaap geraak het, het Valjean uit sy bed opgestaan, deur die huis gevroetel en met die gesin se silwer in die donkerte ontvlug. Drie polisiemanne het die volgende oggend aan die biskop se deur geklop, met Valjean aan die hand. Hulle het hom met die gesteelde silwer gevang en was gereed om hom lewenslank tronk toe te stuur.

Maar die biskop het gereageer op ’n manier wat niemand verwag het nie: ‘So hier is jy!’ sê hy vir Valjean. ‘Ek is verheug om jou te sien! Het jy vergeet dat ek vir jou die kandelaars ook gegee het? Hulle is silwer soos die res, en ’n goeie 200 Frank werd. Het jy vergeet om dit te neem?’ Valjean skrik en staar na die ou man met ’n uitdrukking wat geen woorde kon oordra nie. Valjean was geen dief nie, het die biskop aan die polisiemanne gesê: ‘Hierdie silwer was my geskenk aan hom.’ Toe die polisiemanne weg is, het die biskop die kandelaars vir sy gas gegee, wat nou sprakeloos en bewend was. ‘Moenie vergeet nie, moenie ooit vergeet nie,’ het die biskop gesê. ‘Jy het belowe om die geld te gebruik om jouself ’n eerlike man te maak.’ Die krag van die biskop se daad, wat elke menslike instink vir wraak uitgedaag het, het Valjean se lewe vir altyd verander. ’n Naakte ontmoeting met vergifnis het die graniet-hardheid van sy siel gesmelt. Hy het die kandelaars as ’n kosbare aandenking van genade gehou en hom van toe af daaraan toegewy om ander in nood te help.” (Steve Aurell)

Onesimus het ook verander van ’n niksnut na ’n nuttige mens.     Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Müller, Jac.J. 1977. Die Brief aan die Filippense & Die brief aan Filemon. Kaapstad: NG Kerk -Uitgewers.

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.

Steve Aurell. Christianity Today. Pastor of recovery ministry at Central Peninsula Church in Foster City, California.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Moenie jou hart alleen vertrou nie

SKRIFLESING: Jeremia 17:9 en Markus 7: 21 – 23

Dikwels hoor ’n mens iemand sê: “Volg jou hart” of  “Doen wat jou hart vir jou sê.”  Steve Jobs was die geleentheidspreker by die gradeplegtigheid van die Stanford Universiteit op 12 Junie 2005. Dit was ’n diepsinnige en uitstekende toespraak, kort voor sy dood. Hy het onder andere aan die studente gesê: “ Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.”

Ongelukkig kan ’n mens nie heeltemal saamstem met die gedeelte “follow your heart” nie. Die hart is die mees bedrieglike gedeelte van die mens se lewe. Die woord hart is in Hebreeus “lebab” of “leb” en in Grieks is dit “kardia”. Dit word meer as 300 keer in die Bybel gelees en verstaan as die “gevoelens, begeertes en emosies” van die mens. Die drie betekenisse van hart in die Bybel is bedrieglik en veranderlik soos die see. Die see kan een oomblik kalm wees en die volgende oomblik kan daar groot branders wees of selfs dalk ’n storm. Die see is altyd gevaarlik en onvoorspelbaar. So wissel ’n mens se gevoelens, begeertes en emosies ook elke dag. Dit staan nooit vas nie. Dit is nie betroubaar nie.

Calvyn het gesê dat ’n mens se hart soos ’n afgodefabriek is, wat gedurig nuwe afgode uitdink en aanbid. Die hart kan bedrieglik en korrup wees, sonder dat jy dit eens self agterkom. 

Dit is soos tienerliefde of die liefde tussen jong mense. ’n Liefdesteleurstelling bring verwarrende emosies na vore, asof dit die einde van jou lewe is, net om later uit te vind die lewe gaan aan. Jy voel nie elke dag dieselfde nie. Jou gevoelens kan wissel soos die weer. Daarom kan jy nie jou hart vertrou of jou hart volg nie.  

Luister ’n bietjie wat sê die Bybel oor die hart. In Jeremia 17:9 staan daar: “Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan?”

Markus 7: 21 – 23 sê: “Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak ’n mens onrein.”

Aanvanklik was die mens se hart in die Paradys rein en skoon en betroubaar. Maar toe kom die satan in die gestalte van ’n slang en plaas in Eva die hartsbegeerte om die verbode vrug te eet, om ook soos God te kan wees. Hierdie hartsbegeerte van Eva en Adam het die hele mens se siel, gees, hart en liggaam vergiftig. Nou het die mens se hart onbetroubaar geword en die liggaam sal sterwe.

Dit is hoekom ons harte, in hul verlore toestand, vol is met bedrog en dwaasheid. Die hart kan nie vertrou word nie. Dit is nie ’n goeie leier nie. Ons kan dit nie volg nie. Dit is nie ’n liefdevolle herder wat ons na groener weivelde lei nie. Dit is ’n verlore en verwarde skaap wat leiding soek. (Pruitt, Shane)

In Esegiël 36: 26 belowe die Here vir Sy mense: “Ek sal vir julle ’n nuwe hart gee, ’n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ’n hart van vlees gee.”

Ons moenie ons harte volg nie. Ons harte moet die Here Jesus volg.

Ons harte en emosies is te wisselvallig om te volg. Maar die Here Jesus is elke dag dieselfde, Sy Woord staan vas en seker en God se Gees is betroubaar.

Ons het verskillende waterpasse (of skietlote) waarmee ons kan toets of ons hart se begeertes in lyn is met God se wil.

Heel eerste is daar die waterpas (skietlood) van die Woord. Ek moet al my hartsbegeertes en emosies laat ondersoek deur die Woord. Die Woord is objektief en waar en betroubaar. Die Woord is ’n betroubare lig op my pad om te volg. Nie my emosies nie, maar die Woord, moet vir my elke dag die pad aandui.

Tweedens is daar die waterpas (skietlood) van die Heilige Gees. Die Gees werk betroubaar en daarom moet ek my aan die Gees van God onderwerp. Die Gees skep vir my ’n nuwe hart wat die gawes van die Gees vertoon.

Derdens is daar die waterpas (skietlood) van die gemeenskap van gelowiges. Ek moet my hartsbegeertes deel met my medegelowiges en by hulle raad vra of ek op die regte pad is. Ek het eenmaal my raad gegee aan ’n sekere persoon, maar die persoon het nie my raad gevolg nie en dit het tot katastrofiese implikasies vir hom en vir honderde andere mense gelei.

Vierdens is daar die waterpas (skietlood) van gebed. Ek moet bid. Ek moet voortdurend bid. Ek moet saam met ander mense bid. Volhardende gebed word deur God beantwoord met die regte antwoorde op die regte tyd.

Vyfdens is daar die waterpas (skietlood) van die menslike denke, as deel van God se algemene openbaring. God het ook vir ons ’n verstand gegee om dinge self uit te redeneer, sonder om deur jou emosies op sleeptou geneem te word. Jou denke kan dalk vir jou iets heel anders sê as wat jou hart vir jou sê. Daarom kan ’n mens ook kundige raad by deskundiges kry en dit kan deel van God se plan met jou lewe wees. 

“ ‘As Jesus vir ons ’n nuwe hart gee, hoekom kan ons dan nie daardie hart volg nie?’ Die rede waarom ons steeds nie ons harte – gevoelens, emosies en begeertes – moet volg nie, is omdat hulle steeds deur sonde geraak word. Die oorblyfsel van die sondeval van die mensdom woon steeds in ons sterflike liggame. Dit is wat bekend staan as die vlees.” (Pruitt, Shane)

Elke dag moet ons besluite neem. Somtyds lewensveranderende besluite soos loopbaanrigtings, verhoudings en ander belangrike keuses. Maar ons neem ook elke dag klein besluite. Ons kan maklik vanuit ons hart, die sentrum van ons emosies, reageer en foute maak.

Om emosioneel vanuit jou hart te reageer is altyd baie gevaarlik. Die kanse dat jy oordeelsfoute sal maak, is baie groot. Jy kan emosioneel uit jou hart jou humeur verloor, sonder om die skietlood van die Woord en gebed te gebruik om jou te korrigeer. Dan kan jy baie skade in verhoudinge aanrig. Jy kan dalk emosioneel vanuit jou hart ’n impulsiewe besluit oor finansies neem, sonder om die skietlood van ’n finansiële kenner te raadpleeg.

Emosies en hartsdinge kan baie mooi wees, maar ook baie gevaarlik.

Die “gevoelens, begeertes en emosies” van die hart sal altyd by ons wees. Maar ’n mens moet dit gedurig toets met ’n waterpas of skietlood. Is my hart in lyn met God se wil?

Ek kan nie blindelings my hart vertrou nie. Daarom het ek die waterpas van die Woord, die Heilige Gees, die gemeenskap van heiliges, gebed en gesonde menslike denke nodig.

Wie op alles emosioneel vanuit sy of haar hart reageer, veroorsaak net dat die gebrokenheid groter word.

Moenie die hart volg nie, volg Jesus.                                    Amen

(Ds. Paul Odendal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Pruitt, Shane. 9 Common Lies Christians Believe. The Crown Publishing Group. Kindle Edition.   

https://news.stanford.edu/​2005/​06/​14/​jobs-061505/.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition

Die Here se guns is nie oor ons regering nie

SKRIFLESING: 1 Konings 21 en Mat 23: 23b

Was u al ’n slagoffer van misdaad? Ek kan waarskynlik met 100% sekerheid sê u was al. Misdaad vreet soos kanker in ons gemeenskap en ons land.

Dit vreet alles op. Die Zondo-kommissie se ondersoeke toon ’n droewige beeld: dat feitlik elke persoon wat in ’n regeringsposisie sit, hom of haar direk of indirek aan korrupsie skuldig gemaak het.  Dit het veral momentum gekry sedert Jacob Zuma president van Suid-Afrika geword het. Die hele kartondoos appels in die regering is vrot.

Buiten die nasionale regering is plaaslike munisipaliteite en ander staatsidentiteite ook bankrot gesteel, sodat dienslewering nie kan plaasvind nie.

Op voetsoolvlak in dorpe en gemeenskappe, floreer misdaad op elke hoek en om elke draai. Smhart-sekuriteitsdienste is lankal nie meer ’n weelde nie, maar ’n noodsaaklikheid vir elke huis, besigheid en plaas.

Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld vind ons voorbeelde van goeie regerings en dan seën God die land. Maar meestal is dit swak, korrupte regerings wat hulle lande afdruk in chaos en wanorde, soos dit nou met Suid-Afrika ook die geval is.

Daar is ’n spreekwoord wat sê die vis vrot altyd van sy kop af. Ook dit is die geval met Suid-Afrika.

In ons gelese gedeelte lees ons van Nabot, ’n man van Jisreël, wat ’n wingerd gehad het in Jisreël langs die paleis van Agab, die koning van Samaria. Agab was ’n korrupte koning en sy vrou Isébel was nog meer korrup.

Agab het vir Nabot ’n beter wingerd aangebied of die stuk grond waarop sy wingerd staan, vir silwer. Nabot het egter geweier, want dit was erfgrond wat al lank in sy familie se besit was. Daarom, omdat Nabot die wingerd van sy vaders geërf het, en geen Israeliet sy erfgoed wettiglik mag verkoop nie (Levitikus 25:23; Numeri 36:7; Esegiël 46:18), het Nabot net op die wet van God gestaan.

Agab gaan toe tekere oor hy nie sy sin kon kry nie en gaan lê op sy bed, baie droefgeestig.

Isébel sê toe vir haar man dat hy tog die koning is en kan maak soos hy wil. Hy moet dit aan haar oorlaat. “Sy skryf toe briewe in die naam van Agab, verseël dit met sy rolseël en stuur die briewe aan die oudstes en hoëlui wat in sy dorp was, wat saam met Nabot gewoon het. In die briewe het sy geskryf:   Roep ’n vasdag uit, en laat Nabot voor tussen die mense sit. Laat twee manne, booswigte, teenoor hom sit en teen hom getuig: “Jy het God en die koning gevloek!” (1 Konings 21: 8 – 10) So het hulle Nabot onregverdig verhoor en hom en sy seuns buite die dorp gestenig, tot hulle dood is (2 Konings 9: 26). Nou het die wingerd van Nabot die groentetuin van koning Agab geword.

So het magshebbers die bietjie van die onderdane gesteel. Dit is presies wat in vandag se politieke arena plaasvind. Regeerders verryk hulself onder andere met kontrakte om skatryk mense te word, wat niks omgee vir die mense wat arm is nie. Dit noem ons staatskaping. Dit is wat die Zondo-kommissie na vore gebring het.

So herhaal die geskiedenis hom telkens.

Dr Chris van Wyk maak ’n interessante opmerking. Hy sê dat “wingerd” gereeld in die Bybel gebruik word as simbool vir Israel. Maar Agab wil wingerd vervang met ’n groentetuin. Die woord “groentetuin” word  net een ander keer in die Ou Testament gebruik en wel in Deut. 11:10, waar dit na Egipte verwys. So word die beloofde land met  Egipte gekontrasteer. Agab wil die wingerd – die simbool van die vryheid wat God gee, vervang met groentetuin – wat ’n simbool is van  slawerny in  Egipte.

Vir die Here was dit ’n gruwel wat gebeur het. Elia is toe gestuur om die oordeel oor koning Agab en Isébel uit te spreek. Daar staan in 1 Konings 21: 19 die volgende oordeelsaankondiging: “ Sê dan vir hom, ‘So sê die Here: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?”’ Sê verder vir hom, ‘So sê die Here: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” Die oordeelsaankondiging was so heftig dat Agab rouklere aangetrek het en tot bekering gekom het. God het toe Sy oordeel versag en deur die profeet Elia gesê die oordeel sal eers in die tyd van sy seun plaasvind.

Wat moet die eienskappe van ’n goeie leier wees? In Mat 23:23b gee die Here raad vir die Fariseërs en skrifgeleerdes. Jesus sê: “…. maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid …..” (1983 Afrikaanse Bybel)

Dit is die drie dinge waarteen ’n mens ’n goeie politieke, ekonomiese of geestelike leier meet. Dit is die drie dinge wat elke sakeman en persoon in ’n professionele beroep moet doen.  Die drie eienskappe is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.

’n Politieke leier is regverdig en sorg nie vir homself of haarself nie, is barmhartig teenoor die armes en steel nie hulle geld nie en is betroubaar in die beloftes wat hy of sy voor die verkiesing gemaak het.

Wat ons land nodig het, is morele leiers wat ’n hoë etiese en morele kode het. Sulke leiers kweek jy al in die ouerhuis en op skool. Morele leiers het ’n gewete, ’n vlymskerp gewete, en is altyd op soek na die verskil tussen reg en verkeerd.

Agab en Isébel het geen gewete gehad nie. Hulle het die onskuldige Nabot en sy seuns buite die dorp met klippe doodgegooi, net om ’n stukke grond in te palm vir eie gewin.

Ons is nog ’n Afrika-staat wat gefaal het. Die regering het die kiesers vervreem. Dit alles omdat daar nie moraliteit in die regering is nie. Almal maak soos almal maak, naamlik leef net vir eie gewin.

Waar tog sal ons ’n morele leier vind in hierdie wye en droewige land? Die Here het telkens na ’n ballingskap vir Israel ook goeie leiers gegee. Mag die Here in Sy genade ook vir ons seën met nuwe goeie leiers, wat weet van regverdigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.

Kom ons bid vir nuwe leiers op alle vlakke van ons land se regering. Kom ons self wees ook in ons eie kring goeie leiers, wat hoë morele standaarde uitleef.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die Here gee ’n ongewone uitkoms

SKRIFLESING: Rigters 4: 6 – 7 en Rigters 5: 7

Ons skriflesing speel af in die Rigterstydperk, voor daar konings was. Ehud was ’n goeie rigter en het die volk op die regte pad gelei. Die volk het as’t ware “rus” beleef in sy tyd as rigter. Maar toe sterf Ehud en die volk het soos die omliggende volke in afgodery verval, wat ’n gruwel in die oog van die Here was.

Daar volg toe ’n tydperk van 20 jaar, waartydens die Israeliete geteister word deur die Kanaäniete, wat  900 strydwaens gehad het onder Sisera. Sisera en sy weermag het die Israeliete erg onderdruk. Jabin was die koning van Kanaän wat hulle onderdruk het en Sisera was sy militêre generaal. Die Israeliete is onderdruk as gevolg van hulle sonde en die aanbidding van afgode. Dit was ’n tyd toe die volk geen leiers gehad het nie.

Intussen was daar ’n uitsonderlike vrou met die naam Debora, wat ’n profetes was. Sy het onder die palmboom gesit en haar profetiese vermoëns met haar volkgenote gedeel. Die volk Israel het van heinde en verre gekom vir haar regspraak, wysheid en profetiese vermoëns. Sy was hoog geëerd onder die Israeliete. Dit was ongewoon dat ’n vrou in Israel se geskiedenis as profeet opgetree het. Maar daar is ook ander vroue wat as profete opgetree het in die Bybel.

Dit is interessant dat sy haarself die “moeder in Israel” noem in Rigters 5: 7. Daar staan: “Krygers het ontbreek; in Israel het hulle ontbreek, totdat jy, Debora, opgestaan het, totdat jy, ’n moeder in Israel, opgestaan het.” Sy was die moeder in Israel toe die volk leierloos was. Daarom is sy wyd gerespekteer.

Dit was ’n groot dag vir Israel toe Debora die skaduwee van die palmboom verlaat het en noordwaarts gegaan het om Barak te ontmoet om die Israeliete te verdedig. Debora was inderdaad in ’n bevelvoerende posisie, aangesien Barak dadelik op haar woord gereageer het. Hy het dadelik ingestem, op voorwaarde dat Debora saamgaan. Barak kon 10 000 soldate mobiliseer. Maar die Israeliete was swak bewapen en het nie ’n kans gestaan teen die 900 strydwaens van Sisera nie.

Enige regdenkende mens sou onmiddellik onttrek en nie deelneem aan die slag nie. Die kans op oorwinning was gering. Maar die volk het Debora se profetiese vermoëns so gerespekteer, dat hulle geglo het daar sal ’n uitkoms en oorwinning wees. Daarom kon Barak 10 000 mans bymekaar kry. Dit was as’t ware ’n roekelose geloof dat God sou help deur ’n wonderwerk. Hoe die wonderwerk sou uitspeel, dit het hulle nie geweet nie.

Die slag het plaasgevind by die waters van Megiddo, wat ’n gelyk terrein is en die Kanaäniete het in alle opsigte alle voordeel aan hulle kant gehad. Dan vertel Josefus, die geskiedskrywer, en die Lied van Debora in Rigters 5, dat God ’n ysreën en hael gestuur het, sodat die strydwaens gegly en vasgesit het. Die Kison-spruit het ook gerys en ’n sterk stroom water laat afkom. Die Kanaäniete is totaal verras deur die God van Israel. Hierdie seldsame verskynsel het op die presiese dag en tyd plaasgevind toe Israel in sy grootste nood was. Inderdaad het ’n wonderwerk plaasgevind. Die strydwaens het nou niks meer beteken nie en die Israeliete het die Kanaäniete oorrompel en totaal en al verslaan.

Sisera, die Kanaänitiese bevelvoerder, het ook gevlug. Hy het na ’n tent toe gevlug om weg te kruip. Daar het Jael, die vrou van Geber, vir Sisera toe hy geslaap het, met ’n tentpen en hamer doodgemaak, deur die tentpen in sy kop te slaan tot in die grond.

Absoluut ’n ongewone uitkoms. Dit laat ’n mens dink aan die keer toe Israel uit Egipte getrek het en Farao en sy strydwaens vir hulle agterna gesit het. Die Israeliete was as’t ware vasgevang tussen die duiwel en die diep blou see. Daar was geen uitkoms nie. Die Here het op ’n ongewone wyse die Rooi See laat oopgaan, sodat die Israeliete kon deurstap. Die Egiptenare het almal verdrink.

In die winter van 2018 was ek op ’n baie slegte plek in my lewe, met intense persoonlike probleme. Ek het geen uitkoms gesien nie. Ek het nie eers vir uitkoms gebid nie, want ek het geweet daar is geen uitkoms nie. En toe gebeur die ongewone. My situasie het binne twee maande drasties verander, sodat ek weer hoop en lig gesien het. Die Here het my gehelp, ten spyte daarvan dat ek nie eers daarvoor gebid het nie. Wonderlik is dit  hoe God op ongewone maniere vir ons uitkoms gee uit ons probleemsituasies.    

Debora het ná die stryd – in Rigters 5 – ’n wonderlike loflied geskryf oor God se goedheid en guns omdat Hy ’n wonderwerk gedoen het, sodat die oorwinning Israel s’n kon wees.

Daarna was daar 40 jaar lank vrede en rus vir Israel in Kanaän.

Wat kan ons leer uit die skrifgedeelte en uit Debora se lewe?

Moet nooit dink jy is in ’n vasgeloopte situasie nie. Die Here kan op ongewone maniere vir jou uitkoms gee uit jou situasie of probleme. Toe die Here die ysreën en hael beskik het oor die gevegsterrein tussen die Israeliete en die Kanaäniete, was dit iets totaal ongewoons, wat veroorsaak het dat die strydwaens waarop die Kanaäniete staatgemaak het, niks beteken het nie. Daarom glo ons dat God veral ook in die “ongewone” werk.

Debora was ’n besondere vrou, want sy was een van die min profete in die Bybel wat vrouens was. Sy was so spesiaal in Israel, dat sy genoem word die “moeder in Israel.”  Elkeen van ons kan ook in ons beskeie lewensruimte ’n  “moeder” of ’n  “vader”  wees.  Daar staan Debora het “opgestaan” – bedoelende opgestaan vir haar volk wat so verdruk word. Soos Debora, staan op, verander jou leefwêreld ten goede. Soos Debora, neem verantwoordelikheid vir dit waarvoor God jou geroep het om te doen.

In die Ou Testament is net sekere mense tot profeet geroep en hulle was min. Maar in die Nuwe Testament is ons almal geroep om as profete op te tree. Ons almal moet as Debora’s die probleme en onreg van die wêreld aanspreek.

As jy dalk vandag voel jy is in ’n vasgeloopte situasie in jou lewe of jou probleme oorweldig jou – dink aan die verhaal van Debora. God gee op ongewone maniere uitkoms uit moeilike situasies. Vasgelooptheid is vir God ’n geleentheid om Sy almag en liefde te toon.

God gee ongewone uitkomste, as ons Hom vra.                         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance.) Destiny Image. Kindle Edition.

Spangler, Ann. Women of the Bible. Zondervan. Kindle Edition.

Miller, Kathy Collard. Women of the Bible (The Smart Guide to the Bible Series). Thomas Nelson. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.