Die Here worstel met ‘n hakskeen-byter

SKRIFLESING: Gen 32: 24 – 30

Sommige klein honderasse soos die Jack Russell-hondjies het die gewoonte om  hakskeenbyters te wees. Net sodra jy omdraai, byt hulle jou aan jou hakskeen. So het Jakob se naam ook beteken “hakskeenbyter”. Dit was hy dan ook inderdaad.

Die verhaal van Jakob is die verhaal van ’n man wat uit ’n disfunksionele gesin gekom het. Daar is twee seuns in die familie: Jakob is die jonger broer van Esau. Hulle is die seuns van Isak en Rebekka. Esau was ’n bedrewe jagter, ’n buitelugmens en hy was harig. Die Bybel sê dat Jakob ’n stil man was, wat homself eerder rondom die tente besig gehou het. Hy was ’n rustige ou. Jakob se pa, Isak, was baie lief vir Esau, maar het nie dieselfde oor Jakob gevoel nie. Jakob was meer van ’n mamma-se-seuntjie en daarom het Rebekka hom voorgetrek. Pa Isak was liewer vir Esau en ma Rebekka was liewer vir Jakob. Daarom was dit ’n disfunksionele gesin.

Jakob het die seën van sy pa so nodig gehad. Hy wou graag weet sy pa erken hom as sy seun. Daarom het hy dan ook sy broer bedrieg deur Esau se eersgeboortereg te koop vir ’n pot lensiesop.  Daarom het hy ook later sy blinde pa Isak bedrieg, deur harige velle oor sy arms te trek en hom voor te doen as Esau, sodat hy die eersgeboortereg by sy pa kon kry.

Jakob was inderdaad soos wat sy naam beteken, naamlik “hakskeenbyter”. Hy het kwaad en gefrustreerd in die wêreld gekom, omdat hy geglo het dat sy lewe nie gaan verloop soos dit moes nie. Hy was soos ’n Jack Russell-hondjie, wat as jy omdraai, jou aan die hakskeen byt. Hy het sy broer en sy pa aan hulle hakskene gebyt.

Toe hy sy pa en broer bedrieg het, moes hy vlug vir sy lewe. Jakob vlug dus ver na ’n ander land om ’n nuwe lewe te begin. Hy het baie probleme in die ver land. Hy is onder andere deur sy oom, Laban, mislei. Hy het twee vrouens. Jakob floreer egter in die ver land. Hy het gevlug met niks, maar versamel nou baie rykdom. En hy het baie kinders – elf kinders. In die antieke wêreld is dit alles wat ’n man nodig gehad het: hy het rykdom, hy het vrouens, hy het kinders. Maar Jakob is steeds onrustig; hy soek nog na iets. Hy wil geseën word. Dit is twintig jaar sedert Jakob die huis verlaat het, en nou besluit hy om terug te keer.

Maar om terug te keer, beteken dat hy sy broer Esau sal moet tegemoet gaan. Sy broer het 400 mans onder hom. Jakob is baie bang vir die weersiens met sy broer, want hy het mos sy broer bedrieg. Jakob verdeel sy troppe vee in groepe en stuur hulle trop vir trop met slawe na Esau, om Esau se guns te wen. Hy dink met dié geskenke sal sy broer bedaar en hom gunstig ontvang. Teen die aand stuur hy sy vroue en kinders en alles wat hy besit het, ook oor die Jabbokrivier. Net hy alleen het agtergebly duskant die Jabbok. 

Dwarsdeur daardie nag was hy in ’n worsteling met ’n Man.  Of die Man ’n engel was of dalk God self, weet ons nie. Sy stryd is nie teen vlees en bloed, in die gestalte van sy broer Esau nie, maar met homself en met God, soos dit uit vers 29 blyk. Maar die Man kon nie vir Jakob oorweldig nie.

Chris van Wyk skryf: “Dat die Man teen dagbreek gelos wil word, het waarskynlik daarmee te make dat geen mens God kan sien en bly lewe nie.  Jakob word gevra om sy naam te gee vóór hy geseën kan word.  Daarmee word Jakob gedwing om te erken dat hy ’n bedrieër is, want dit is die betekenis van sy naam.”

Jakob het ’n fisiese herinnering ontvang deur hierdie worsteling, wat hy nie gewen of verloor het nie. Deur sy heup te ontwrig en hom ook ’n nuwe naam te gee, het God nie net sy krag gedemonstreer nie, maar ook vir Jakob die seën en erkenning gegee wat hy so verlang het om by sy pa te kry. Jakob se heup het mank geword. In stoeikuns word stoeiers altyd geleer dat jou heupe jou sterkste deel van jou liggaam is waarmee jy stoei. Deur Jakob se sterkste deel mank te maak, is ’n metafoor dat God ons sterkste deel van ons lewe dikwels mank maak, om Sy doel met ons lewe te bereik.

Lee Eclov skryf: “The real story of his life – the story worked out in the dark, behind the scenes – was not Jacob’s futile striving to win, but God’s relentless, grace-filled striving to pin Jacob down by his love”.

Die vraag is nou natuurlik waarom God nie vir Jakob kon oorweldig nie. God is mos almagtig. Die rede is eenvoudig dat God sy krag terug gehou het. Toe my seuns jonk was, het ek gereeld speels met hulle gestoei. Hulle het dit baie geniet. Maar ek het my krag terug gehou, sodat hulle kon wen en goed voel. So het God ook Sy krag terug gehou toe Hy met Jakob gestoei het. Daarom het God nie vir Jakob oorweldig met sy almag nie.

God het hom bevestig en geseën op ’n manier wat niemand anders kon nie. Jakob het nou ’n erenaam gekry, Israel, wat beteken: “God stry”. Jakob se naam het nou verander van “bedrieër” na “begenadigde”.

Chris van Wyk skryf verder insiggewend: “Waar Jakob voorheen téén mense en selfs God gestry het, word God nou die een wat vír hom teen mense stry.  Hiermee word dit ook duidelik dat dit hierdie God sal wees wat vir die volk wat uit Jakob gebore is, sal stry.  Jakob se stryd met God het in ’n stryd van God vir Jakob en sy nageslag verander.”

Dat die Man nie sy naam vir Jakob gee nie, getuig daarvan dat verhoed wil word dat God se naam misbruik word.

 Jakob noem die plek Pnuel (aangesig van God) om sy ontsag en dankbaarheid vir God te verwoord: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.” Nie dat hy God in die daglig gesien het nie, maar in sy donker stryd deur die nag het hy God se aangesig beleef.

Chris van Wyk skryf verder: “Hoog poëties en betekenisvol vervolg die skrywer nie met die afloop van dié ontmoeting met God nie: ‘Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan.’ ’n Nuwe era het vir Jakob aangebreek.  Die Here het Hom verbind, nie net aan Jakob nie, maar ook aan Israel.  God was nou die strydros vir die volk.” Nou kon Jakob vir sy broer Esau trompop loop in die wete  dat God hom sou beskerm, want God gaan saam met hom.

Jakob het mank gebly aan sy heup, en die Israeliete eer tot vandag toe sy nagedagtenis met die gebruik om nie die heupsenuweebondel wat aan die heup vaskom, te eet nie. Dit het hulle herinner aan God se verbond met Israel (dit is nou Jakob).

Calvyn skryf: “ … dat God teen ons veg met sy linkerhand en vir ons met sy regterhand. Want terwyl Hy ons ligweg teëstaan, verskaf Hy onoorwinlike krag waardeur ons oorwin.” God veg teen ons met die linkerhand (wat swakker is) en vir ons met die regterhand (wat sterker is). Hy veg teen ons om ons afhanklik en nederig te hou en hy veg vir ons om vir ons oorwinning te gee.”

Calvyn verbind ons versoekinge en beproewinge ook met ’n stryd in die teenwoordigheid van God se aangesig. Ons elkeen het ons swaarkry en probleme waarmee ons worstel en dan dikwels vir God bevraagteken.

Waarmee worstel jy vandag? Waarmee worstel jy elke aand met God in jou gebede?

Daarom skryf  Paulus in 2 Kor 12: 10 – “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk”. Dit is juis in ons aanvegtinge dat ons sterk word deur ons swakhede.

Lee Eclov skryf: “To bless us, God must disable us”.

“The hardness of God is kinder than the softness of men, and His compassion is our liberation.” – C. S. Lewis

Dit was St. Augustinus in die vierde eeu wat gesê het: “God, U het ons vir U gemaak en ons harte is rusteloos totdat hulle hul rus in U vind.”

Jakob was nie langer ’n hakskeenbyter nie. Nee, sy erenaam was nou Israel. Hy hoef nie langer te stry nie. God sal vir hom en die latere Israel die stryder wees. 

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Kindle Edition. 

John Calvin’s Commentaries.

Mark Labberton. Wrestling With God. Preaching Today.

Justin Buzzard. Believe the Blessing. Preaching Today.

Lee Eclov. The Blessed Limp. Preaching Today.

Lee Eclov. Your Arm’s Too Short to Box with God. Preaching Today.

Chris van Wyk. Bybelskool.

Die Here moet geleef word in die ouerhuis

SKRIFLESING: Deut 6: 4 – 9

Toe ek ’n kind was, was die Sondagskool altyd na die erediens. Die katkisant het elke Sondag drie punte gekry: een vir sy teenwoordigheid, een vir in die kerk wees en een vir meelewing in die klas. Baie ouers het hulle kinders voor kerk by die kerkgebou afgelaai en dan eers na Sondagskool weer kom oplaai. Die pa’s het gewoonlik die Sondagkoerant in die motor sit en lees terwyl hulle vir hul kinders gewag het. Die  kinders moes dan alleen in die kerk sit, sonder hulle ouers. 

Vir die arme kinders was die boodskap baie duidelik. Kerk toe gaan is nie belangrik nie. Ek moet net aangeneem word en dan kan ek ook Sondae by die huis rondlê. Omdat die ouers godsdiens nie ernstig opgeneem het nie, het hulle ’n geslag grootgemaak wat dink die erediens en die godsdiens is nie belangrik nie.

Die grootste persentasie geloofsoordrag vind deur ouers en grootouers plaas. Hulle is verantwoordelik vir ongeveer 82% geloofsoordrag. Dan speel vriende en onderwysers ook ’n geringe rol in geloofsoordrag en die kerk is maar verantwoordelik vir ’n skamele 1%.

In Deut 6: 4 – 9 word die belangrikheid van geloofsoordrag onderstreep. Daar staan geskryf vanaf vers 6: “En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as ’n teken om jou hand en laat dit ’n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.”

’n Mens leer deur herhaling. Daarom moet godsdiens nie net gereserveer word  vir Sondag nie. Jy moet gedurig met jou kinders daaroor praat, as jy by die huis is en as jy op die pad is. As jy gaan lê en as jy opstaan. Die Jesus-taal moet gedurig in jou huis en as jy op pad is, gepraat word.

Die Joodse mans het die gebruik gehad om ’n gebedsriem van leer om die hoof (tefillen shel rosh) en ’n gebedsriem rondom die arm (tefillien shel jad) te dra. In die gebedsriem was boksies waarin skrifgedeeltes geplaas is. Die gebedsriem van ’n regshandige persoon is aan die linkerarm gedra en dié van ’n linkshandige persoon om die regterarm.. Die betekenis daarvan was om die Joodse gelowige daaraan te herinner dat hy vers 5 deurentyd in sy lewe moet onthou en leef, naamlik: “Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.” Jy moet deurentyd voor die aangesig van God lewe. So moet jy jou kinders en kleinkinders ook deurentyd voor die aangesig van God grootmaak.

Verder staan daar in vers 9 dat jy die wet moet opskryf op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. Godsdiens is nie ’n privaatsaak nie. My kinders moet kan sien dat ek my geloof ook buite die huis en in die publieke sfeer van die dorp en stad uitleef.

Die groot vraag is wat leer die kinders by jou as hulle na jou lewe kyk? Sien hulle dat hulle ouers die verkeersreëls gehoorsaam? Wat sien en leer hulle by jou as jy met ander mense praat wat jou mindere is? Sien hulle in jou lewe respek vir ander mense? Leer hulle by jou om ander mense te vergewe? Leer hulle by jou om ordentlik te wees of ongeskik te wees? Ons kan die mooiste Bybelverhale vir hulle vertel en huisgodsdiens hou en hulle Sondagskool laat loop, maar as hulle dit nie ook in ons leefwyse raaksien nie, beteken alles net mooi niks!

Daarom, om ’n funksionele gesin te wees, waar geloofsoordrag plaasvind, is die vraag wat Mark Holmen in sy boek Faith begins at Home vra “What are you passing on?”hier van toepassing.  Jou huis is daarom in ’n sekere sin dié kerk.

Die noodkreet van hierdie preek is: Kom ons sorg dat ons kinders die Here ken! Kom ons maak ’n geslag groot wat die Here ken!

Let op dat dit in die skrifgedeelte nie soseer oor hulle (die kinders se) geloof gaan nie, maar jou geloof! Jou geloof beïnvloed jou kinders se geloof. Jou geloof kleur jou kinders se geloof.

Hierdie geloofsdeling is oral sigbaar:

  • Wanneer jy met God besig is op persoonlike vlak – moet jou kinders kan sien dat jy die Here liefhet.
  • Wanneer jy in jou huis met jou kinders praat – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy op reis gaan met jou kinders – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan – moet jou kinders kan sien dat jy die Here liefhet.
  • Wanneer jy in die openbaar is waar jou kinders jou kan sien in interaksie met ander mense – moet hulle kan sien dat jy die Here liefhet.   

Chris van Wyk skryf tereg: “Jou geloof gee af op jou kinders. En dit is die beste manier waarop hulle geloof sien, en geloof leer. Gesinsvernuwing begin dus met ’n besluit wat jy neem: ek wil die Here lief hê in alle omstandighede, in my persoonlike lewe, en in my huis en in die wêreld daarbuite.” 

Die doop is ’n lewenslange waarborg dat God vir die dopeling sal instaan en die inisiatief sal neem in Hannes se verlossing. Hannes moet net antwoord op die toesegginge van die verbond. Soos wat ’n voertuig onder versekering ingebring word vir sy dienste  by die handelaar wat die waarborg uitgereik het, moet julle as ouers vir Hannes bring na die kerk waar die evangelieboodskap aan hom bedien sal word.

Hannes is ’n nuwe loot wat groei uit die verbond wat God met Abraham gesluit het. Sy ouers Hannes en Charleé is reeds in die Here se wingerdstok. Kinders van gelowige ouers groei reeds in die wingerdstok. Wanneer onbekeerdes gedoop word, word hulle egter ingeënt op die wingerdstok.

Die sap van die verbond vloei deur die wingerdstok en deur die lote Hannes en Charleé om ook die nuwe loot – klein Hannes – te bereik. Christus se voedingsap voed ook klein Hannes. As julle julle  verbondstaak nakom, Hannes en Charleé, sal klein Hannes ook saam met julle die nuwe geestelike wyn produseer wat van Christus se wingerdstok afkomstig is. God sal deur hom werk en God sal deur klein Hannes Homself verheerlik.

Vir die volgende agtien jaar het julle die heerlikste verantwoordelikheid om vir klein Hannes ’n wonderlike Christelike voorbeeld te stel, sodat hy ook eendag kan ontwikkel in ’n Godsman, wat tot in sy ouderdom ’n pad met die Here stap.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Jesus se blydskap oor eensgesindheid

SKRIFLESING: Fil 2: 2 – 7, Fil 4: 2 en Johannes 17: 20 – 21

Leonardo da Vinci se skildery “Die laaste Avondmaal” word beskryf as een van die belangrikste godsdienstige kunswerke van alle tye. Da Vinci het dit 500 jaar gelede (1495 – 1498) teen die eetsaalmuur van die Santa Maria delle Grazie kerk in Milaan geskilder.

’n Mens kan sien dat hy die Evangelies goed bestudeer het alvorens hy dit geskilder het. Die skildery bevat ’n lang tafel met Jesus en sy dissipels. Jesus is vreedsaam geskilder. Die dissipels is egter vol spanning, verwarring en onderlinge verdeeldheid. Die dissipels vorm vier kleiner groepies. Die dissipels naaste aan Jesus se emosies is intenser. Daar was geen vreedsaamheid of eensgesindheid rondom die tafel nie. Hulle gesigte is vol vrees, agterdog en onsekerheid. Daar was ook jaloesie onder die dissipels. Kort voor die ete het hulle nog gedink wie is die belangrikste. Wie gaan aan Jesus se regterkant en Jesus se linkerkant sit. Dit is mos die ereposisies. Hulle het ook gewonder wie gaan die voete was. Dit is mos ’n slaaf se werk, en daarvoor sien hulle nie kans nie.

Vyfhonderd jaar na hierdie kunswerk, lyk die lewe nie anders nie. Van eensgesindheid is daar geen sprake nie. Daar is oral onmin, tweespalt, groepvorming en agterdog tussen broer en broer. Dit gaan so in die ekonomiese omgewing, in die godsdiens, en selfs in die kerk van alle plekke. Daar is gedurig hofstryde tussen die politici, sakemanne en selfs ook in die kerk. Net in die Afrikanerdom is daar vier tradisionele kerke, wat getuig van die versplintering van die kerklike landskap. Daar is onenigheid binne elke kerklike denominasie. Ons het almal Adamsbloed, elkeen volg sy eie kop.

“Het jy al ooit daaraan gedink dat een van die groot wonders van die wêreld ’n struktuur van skeiding is? Die Groot Muur van China strek oor 4 000 myl, wat “hierdie kant” van “daardie kant” skei.

“Dit behoort ons nie te verbaas nie. Ons was nog altyd goeie muurbouers. Die meeste van ons mure is egter van ’n meer subtiele soort. Rasse mure. Klasse-verskil mure. Sosio-politieke mure. Ekonomiese mure. En hier is die tragedie: miskien meer as enige ander instansie het die kerk dikwels die botoon gevoer.” (Mark Buchanan)

Andersins is daar ook inspirerende stories: Karl Barth en Dietrich Bonhoeffer in Nazi-Duitsland, wat geweier het om Hitler se rasse-agenda te aanvaar; Desmond Tutu en Beyers Naudé in Suid-Afrika, wat ’n verdeelde nasie teruglei het na eenheid; Billy Graham in Atlanta, wat persoonlik die kordon verwyder het wat die swartes en die blankes geskei het tydens een van sy saamtrekke. Daar is beslis ook goeie stories in die kerk se geskiedenis. Daar is net nie genoeg van hulle nie.

Prof Mark Buchanan skryf tereg: “Van die mure wat die kerk bou en onderhou is goed, selfs nodig. Ons het duidelikheid nodig – definisie, afbakening, mure, om so te sê – oor kernleerstellings. Ons het duidelikheid nodig oor kern-etiese kwessies: die definisie van die huwelik, Bybelse standaarde oor seksuele gedrag, hoe ons met mekaar praat, ensovoorts. Die probleem is dit: God se mense spring dikwels oor die mure wat God self vestig, en rig mure op wat God self platgestoot het.”

Paulus vermaan vir Euodia en Sintige oor eensgesindheid. Paulus gee geen aanduiding waaroor hulle van mekaar verskil het nie. Die feit dat hulle name genoem word impliseer dat hulle waarskynlik leiersfigure in die kerk was. Hulle verdeeldheid het negatief ingewerk op die gemeente van Fillipi. Daarom dat Paulus dan ook die volgende gesê het in Fil 2: 2 – 7. Ek haal aan: Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:  Hoewel Hy in die gestalte van God was,   het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,  deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem  en aan mense gelyk te word.”

Jesus se gebed in Johannes 17: 20 – 21 lees as volg: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

Opmerklik is dat Jesus die eensgesindheid van God Drie-Enig voorhou as voorbeeld van intieme eensgesindheid. Die Here Jesus verlang dat die kerk ook eensgesind sal wees, so intiem soos die eenheid in God Drie-Enig. Dan verder bid die Here Jesus dat die kerk ook eensgesind sal wees in God Drie-Enig. Die kerk moet as’t ware aansluit by die eenheid wat daar bestaan in die Drie-Enige God.

Aangesien God alle dinge deur Christus met Homself sal versoen, word die kerk ’n massiewe instrument om die eenheid te laat kom in hierdie wêreld  – ten minste is dit veronderstel om dit te doen!

God se missie in hierdie wêreld is om alles te verenig onder Jesus se naam. Sy passie en hartklop is versoening. Christus se verlossingswerk vernietig mure van skeiding. Die brandende hart van God is vrede tussen alle mense.

Met ander woorde, ’n eenheid wat nie realiseer onder God se mense nie, is ’n weiering om deel te wees van die sending (Missio Dei) waarmee God in die wêreld besig is. God wil versoen, sodat Hy alles onder die son in Sy naam kan verenig. Hy het immers vir die hele skepping gesterf.

Jesus se gebed vir die kerk in Johannes 17 is ’n gebed dat die kerk eensgesind sal staan teenoor selfsug, eersug en eiebelang.

Paulus moedig hulle aan om eensgesind te wees op grond van die goeie dinge wat reeds onder hulle plaasgevind het. Hulle moet op die goeie in mekaar konsentreer. Deur die goeie in mekaar raak te sien en nie die slegte nie, groei ons tot eensgesindheid. Paulus skryf ons moet een van liefde, een van hart en een in strewe wees. Paulus roep hulle as’t ware op om sy blydskap volkome te maak, deur eensgesind te wees.

Die fees en vreugde van hierdie laaste Avondmaal het verby die dissipels gegaan. Hulle was elkeen besig met hulle eie agendas.

Die eensgesindheid moet begin by die Nagmaalstafel. Daarvandaan moet dit oorspoel na die huwelik, die gesin, die familie, die wyk, die gemeente en werksplek. Die eenheid moet sigbaar wees in die Nagmaalstafel, die eetkamer, die kombuistafel, die huweliksbed, die werkbank, die vergadertafel en waar ookal mense bymekaar kom.

Prof Mark Buchanan skryf verder: “Die kerk is ook nie veronderstel om ’n gemeenskap van konformiteit te wees, waar ons noodwendig oor alles hoef saam te stem nie – waar ons almal dieselfde lyk, dieselfde klink en dieselfde dink. Efesiërs 4 is eintlik ’n portret van ryke diversiteit. God gee verskillende gawes aan die kerk en roep elke persoon in die kerk tot ’n ander rol. Maar hierdie diversiteit is gewortel in eenheid. Ons almal is lief vir en dien Jesus. Ons gemeenskaplike grond – een God, een geloof, een doop, een hoop – is baie wyer as ons verskille.”

Deur eensgesind te wees, kan ons nou al die blydskap onder ons en in die hemel werklikheid maak.

Suid-Afrika se ou leuse was: EENDRAG MAAK MAG.

 Prediker 4: 9 – 12 lees as volg oor saamspan en eensgesindheid: “Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ’n ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te help! Ook as twee by mekaar lê,  kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word?  As iemand die een wil oorweldig –  twee kan teen hom standhou.   ’n Driedubbele koord  word nie maklik gebreek nie.”

Kom ons wees eensgesind in ons huwelike.

Kom ons wees eensgesind in ons gesinne en families.

Kom ons wees eensgesind in die gemeente.

Kom ons wees eensgesind in ons werksplek en samelewing.

En daar sal vreugde, uitbundige vreugde wees.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Mark Buchanan, United. He is an Associate Professor of Pastoral Theology at the Ambrose Seminary in Calgary, Alberta.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die vreemde en onvoorwaardelike liefde van God

SKRIFLESING: Rom 5: 6 – 11  en 1 Johannes 4: 7 – 21

Ons sien gewoonlik net die slegte in mekaar raak, nooit die goeie nie. Ek lees die verhaal van drie mans wat in die Noord-Afrikaanse stad Alexandrië stap. Twee van hulle was ongelowig en die een was ’n Christen-monnik. Hulle het verby ’n waterafvoersloot geloop en afgekom op ’n hond wat alreeds ’n week dood was. Die een ongelowige merk toe op: “Mensig, maar die hond stink.” En die ander ongelowige merk toe op: “Kyk net hoe val die hond se pels gate in.” Die gelowige het egter die mooie in die dooie hond raakgesien en gesê: “Ja, maar kyk net daardie pragtige stel tande wat die hond het. Dit is nog spierwit.”

Daarom is dit vandag wonderlik as die een mens nog in die ander mens iets positiefs kan opmerk. Dit is wonderlik as ons kan leer om minder krities en meer waarderend na mekaar te kyk.

Tog het ook die gelowige monnik, heel menslik, die hond voorwaardelik gewaardeer. Die monnik het die dooie hond waardeer op grond van sy stel mooi wit tande, wat ten diepste voorwaardelike liefde is. Voorwaardelike liefde beteken dat ek ander mense liefhet omdat hulle sekere positiewe eienskappe of kenmerke vertoon. Ek het ander mense lief op grond van die mooie in hulle.

God se liefde is egter nog meer oneindig dieper as dié van die gelowige monnik. God se liefde is totaal vreemd, totaal onlogies. God se liefde het lief daar waar daar geen rede is om lief te hê nie. God se liefde is totaal en al onvoorwaardelik.

Daarom sê Rom 5: 8 – 9 dat God ons liefgekry het toe ons nog sondaars was, toe ons nog magteloos was, toe ons nog goddeloos was, toe ons nog ver van God was. Toe ons nog lyke van die sonde was, toe ons geruik het van die sonde, toe het God ons liefgekry. Ons was so verrot van die sonde, so gedisintegreer dat God ons nie eens kon liefgekry het op grond van ons tande of ons wit skedel nie.

God het nie stroopsoet, gewaste en “bekeerde” kindertjies in hulle pajamas leer liefkry nie. Nee, God het stoute, vuil en “onbekeerde” kindertjies wat nog in die strate kattemaai, leer liefkry. Daarom het God die mense lief vir wie ons sommerso ons rug draai. God het ’n  besondere liefde vir die arme, die verontregte, die misdadiger, die moordenaar, die prostituut, die molesteerder, die verkragter, die korrupte amptenaar, die alkoholis, die dwelmslaaf, vir elke mens wat die spoor byster geraak het.

Volgens Martin Luther het Jesus selfs van sy geboorte af saam met sondaars gestaan. Luther het geskryf: “Christus is die soort mens wat nie skaam is vir sondaars nie – trouens, Hy sit hulle selfs in sy stamboom! Nou, as die Here dit hier doen, so behoort ons niemand te verag nie.”

Die grootste gevaar in jou geestelike lewe kan wees dat jy nie jou eie goddeloosheid besef nie en nie weet hoe nodig jy vir Christus het nie.

Die moderne wêreld hou nie meer van die woord “sonde” nie. Dit laat hulle aan God herinner. Hulle praat eerder van “foute”. Mense maak foute, wat menslik is, en kan daarvoor slegs om verskoning vra. Maar foute hoef jy nie voor God reg te stel nie. Die Bybel praat egter “sondetaal”. Sondetaal moet voor God bely word. Sondetaal vra bekering en ’n terugkeer na God.

Die feit dat God vir stoute, vuil en “onbekeerde” kindertjies wat nog in die strate kattemaai, leer liefkry het, gee vir ons ook ’n ontsaglike troos. God het my lief ten spyte van my stoutste optrede en vuilste gedagte en mees “onbekeerde” gedrag. God het my onvoorwaardelik lief. Daarom stel Hy nie eers aan my ’n rits voorwaardes voordat ek Sy kind word nie.  Dr. Manie Malan het geskryf dat hy ’n broertjie dood het aan vroom mense wat hulle werke wil vertoon, en dat hy  eerder gebroke mense soek wat opreg treur oor hulle sondes.

Newton, die bekeerde slawehandelaar en die skrywer van “Amazing Grace”, skryf: “Alhoewel my geheue vervaag, onthou ek twee dinge baie duidelik: Ek is ’n groot sondaar, en Christus is ’n groot Verlosser.”

By privaatskole word net skoongewaste, stroopsoet skoliere wat kwalifiseer, toegelaat. In God se Koninkryk word die stoute, ongewaste en “onbekeerde” skorrie-morrie vir wie God leer liefkry het en vir wie Christus gesterf en gered het, toegelaat.

Selfs al sondig ek as gelowige, God se liefde bly net so sterk. Want God is soos ’n pa, wat sy kinders baie liefhet.

Daarom, as ’n mens aan die Nagmaalstafel sit, omdat jy dink dat jou lewe “oraait” is en jy daarom kwalifiseer, dan eet en drink jy ’n oordeel oor jouself. Aan God se tafel sit net armoedige bedelaars wat weet hoe armoedig hulle voor God en hulle medemens lewe. Daarom is kerkbanke altyd bedelaarsbanke. Nagmaalgangers is mense wat weet dat hulle eers “skorrie-morries” was, maar dat God hulle liefgekry het toe hulle nog ver van God was. Dit is mense wat weet dat God hulle lewe onherroeplik verander het. Dit is mense wat weet hulle is nuwe mense op grond van die feit dat God hulle onvoorwaardelik liefhet.

Daarom is ons tegelyk goddeloos en geregverdig. Die sonde maak ons nog steeds goddeloos, maar deur die bloed van Christus is ons tegelyk geregverdig.

Daarom is die week voor Nagmaal altyd ’n “huil”-week, ’n voorbereidingsweek waartydens ons moet gaan nadink oor wat ons eers was en hoe ons nog steeds party dae soos skorrie-morries leef wat mekaar byt en verskeur.

Wanneer ons Nagmaal vier, is dit egter ’n “lag-en-bly-wees”-dag, want ons vier die fees van bedelaars, van mense wat weet hoe armoedig en wees hulle voor God is. Dit is die fees van genade, want ons weet God het ons onvoorwaardelik lief. Sy vriendelike oë het sag op ons gerus en sy milde hande het ons sag omvou. Sy sterwe het die kombers geword wat al ons ongeregtighede, al ons vuilheid, toevou en bedek.

Christus se geregtigheid het die bruilofskleed geword wat ons sonde bedek. Daarom leef ons uit die vreemde en onvoorwaardelike liefde van God. Dit is liefde en genade wat ons nie verdien nie. Christus het uit vrye genade dit ryklik aan ons kom skenk. Dit is ons roemtaal!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Koos Prinsloo het gewoeker met sy talente (geleenthede)

SKRIFLESING: Mat 25: 14 – 30

In ons gelykenis lees ons van ’n man wat weggegaan het en sy sakebelange toevertrou het aan sy slawe. Hy het vir hulle talente toevertrou. ’n Talent is die grootste geldeenheid in die Bybelse tyd. ’n Talent is sowat 6 000 denarius. Daarom is vyf talent ’n onvoorstelbare groot bedrag. Vir een slaaf het hy vyf talente gegee, vir een slaaf twee talente en vir nog een slaaf, een talent. Die eerste twee slawe het hulle geleenthede gebruik en die geld verdubbel. Vir die slawe het die man gesê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”

Vir die doel van vanoggend se troosdiens gaan ons die talente vertaal met geleenthede. Die Here het vir Oom Koos ook geleenthede in sy lewe gegee en hy het dit gebruik en daarvan ’n sukses gemaak.

God het vir Oom Koos die geleentheid van ’n huwelik gegee. Oom Koos het die geleentheid gehad om kinders groot te maak en die Here het vir hom kleinkinders gegee. Die Here het vir hom die geleentheid gegee om ’n familieman te wees. Die Here het vir hom werksgeleenthede en besigheidsgeleenthede gegee. Die Here het vir hom die geleentheid gegee om die gemeenskap te dien. Die Here het vir hom die geleentheid van baie menseverhoudings gegee. Die Here het vir hom die geleentheid gegee om as Christen sout van die aarde en lig vir die wêreld te wees.

Van al hierdie talente (geleenthede) het Oom Koos ’n sukses gemaak. Van sy huwelik het hy ’n sukses gemaak. Hy en Tannie Naomi was vir 52 jaar getroud. Hy het sy drie kinders Johan, Ronel en Fanie liefgehad en hy het met hulle in ’n goeie verhouding gestaan. Hy het ook in ’n goeie verhouding gestaan met sy skoonkinders Esna, Jacques en Samantha. Hy was in ’n goeie verhouding met sy ses kleinkinders. Met sy sterwe was Tannie Naomi en sy drie kinders by. Ek het ook lank by die sterfbed gesit, waartydens ek die harmonie en vrede van gesonde verhoudinge kon beleef.  Dit was vir my werklik mooi en aangrypend.

Oom Koos het sy geleentheid as familieman gebruik om sy familie bymekaar te hou. Hy het almal geken en in almal belang gestel. Hy het hulle gereeld gekontak en as hulle verby ’n familielid se huis gery het, het hy altyd ’n besoek gebring. Hy was soos ’n Vaderfiguur vir sy familie.

Oom Koos het sy geleenthede gebruik by Katco en later as besigheidsman met sy eie besighede. Hy kon genoegsaam vir hom en sy gesin sorg, sodat hulle altyd  genoeg gehad het.

Oom Koos het sy geleenthede gebruik as gemeenskapsleier deur die Belastingbetalersvereniging te verteenwoordig in die munisipale strukture. Hy het die gemeenskap gedien en was vir hulle ’n spreekbuis.

Ook sy geleentheid om Christen te wees, het hy gebruik. Hy was een van die gemeente se gereeldste kerkgangers. Ook Pinksterbidure het hy nie gemis nie.

Oom Koos het min vyande gehad. Hy was ’n ware heer, wat altyd met almal ’n geselsie aangeknoop het. Hy het sy geleenthede gebruik om goeie verhoudinge met ander te bou en in stand te hou. Hy was voorwaar ’n mens-mens.

Van Oom Koos sal die Here sê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”

So het ons elkeen talente (geleenthede) van die Here ontvang. Die geleentheid van ’n huwelik, van kinders, van kleinkinders, van werksgeleenthede en van verhoudings. Ons moet met dié geleenthede woeker en daarvan ’n sukses maak.

Dan sal daar ook aan die einde van ons lewe gesê word: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”

So sal daar aan die einde van elke lewe wat in Christus geleef is, vreugde wees. Vreugde wees in die Vaderhuis.

In die hemel is daar nie hartseer nie. Hartseer kan nie in die hemel bestaan nie. Die hemel is net ’n plek van vreugde. Oom Koos ervaar nou intense vreugde. Psalm 23: 5 – 6 sê dat ek aan die einde van my dag (lewe), sal aansit aan die feesmaal van die Here en dat ek in die huis van die Here sal wees. Gewoonlik aan die einde van die lang, harde werksdag in die Bybelse tyd, het die familie by die huis bymekaar gekom en feesmaal gehou. Daar is geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en ontspan. So het Oom Koos ook aan die einde van sy werksdag gekom in sy lewe. Hy kan nou in die huis van die Here feesmaal hou en deel in die vreugde van ’n lewe goed gelewe.

Daarom moet ons nie langer oor Oom Koos huil nie. Ons moet huil oor mekaar, wat elkeen verlies ervaar het. Ons moet mekaar ondersteun en bystaan.

Oom Koos se wens op sy sterfbed vir sy familie en gesin was: “Wees lief vir mekaar”. Daar is niks soos familie nie. Koester dit as kosbaar en besonders.

Ons eer die nagedagtenis van Oom Koos Prinsloo.

Amen

Preekgedagte gekry by Rev Alison Gerber, Pastor of Second Congregational Church in Peabody MA

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die drie filters

SKRIFLESING: Jakobus 3: 1 – 12

Die pen is magtiger as die swaard. Die tong is ook magtiger as die swaard.

Jakobus, waarskynlik die broer van Jesus, skryf sy boek oor die onderlinge onvrede en twis wat daar waarskynlik in die gemeente in Jerusalem was. Daar was verskillende vorme van verdeeldheid in die gemeente en die groepe het hulle tonge verkeerd gebruik en daarom waarsku Jakobus oor die gebruik van die tong.

Skinder is een van die vernaamste verkeerde gebruike van die tong.

In Antieke Griekeland het Socrates ’n groot reputasie van wysheid gehad. Eendag het iemand die groot filosoof kom besoek en wou ’n skinderstorie aan hom vertel. Socrates het hom gekeer en vir hom gesê voor hy dit vertel, moet hy dit wat hy wil vertel, eers laat toets deur die “drie filter”-toets.

Heel eerste, is dit wat hy wil sê die WAARHEID? Die besoeker was nie seker of dit die waarheid is nie.

Tweedens, is dit wat hy wil sê OPBOUENDE woorde? Die besoeker het gesê dit is alles behalwe opbouend.

Derdens, is dit wat hy wil sê enigsins vir hom NUTTIG? Nee, sê die besoeker, dit is nie nuttig nie.

Socrates het toe die besoeker geantwoord, jy wil iets van my vriend sê en jy weet nie of dit die waarheid is nie, tweedens is dit is nie opbouend nie en derdens hou die inligting vir my geen nut in nie. Jy kon nie een van die drie filters slaag nie.  Hoekom wil jy dit dan vertel? 

“Skinder is ’n slegte ding. In die begin lyk dit dalk lekker en pret, maar op die ou end vul dit ons harte met bitterheid en vergiftig dit ons ook!” (Pous Francis)

Daar is geen twyfel dat skinder seermaak nie. Sir Francis Bacon het ’n diepgaande waarheid uitgespreek toe hy gesê het: “Die waardigste persone word gereeld deur laster aangeval, aangesien ons oor die algemeen vind dat dit die beste vrugte is waarna die voëls sal pik.”

Dirkie Smit vertel in sy boek Wat sien ons in die spieël? die volgende storie:

’n Vrou het by ’n wyse man om raad gaan aanklop. Sy wou graag iets wat sy gesê het, ongedaan maak. Eers, het hy geantwoord, sal sy moet teruggaan, ’n sak vol hoendervere neem, dit in die wind uitstrooi, en dan na hom terugkom. So gesê, so gedaan. Met haar terugkeer sê hy sy moet wéér teruggaan, elke veer gaan soek en dit in die sak terugsit, en dan weer na hom kom. Toe sy sê dit is tog onmoontlik omdat die wind dit teen daardie tyd al die wêreld vol gewaai het, was sy antwoord: “Net so onmoontlik is dit vir jou – vir enigeen – om die gevolge van wat jy gesê het, ongedaan te maak.”

Waarom skinder mense? Meestal is dit omdat hulle ’n swak selfbeeld het en ander mense wil laat slegter lyk, deur hulleself beter te vertoon.

As jy nie iets moois van iemand kan sê nie, bly liewer stil. “I have noticed that nothing I never said ever did me any harm.” (V.S.A. President Calvin Coolidge 1872–1933)

Met kragtige metafore skets Jakobus die mag van die tong: ’n Klein stang in ’n perd se bek stuur die hele dier. Dit beteken die perd is mak en bruikbaar vir sy eienaar. ’n Wilde perd sal nie ’n stang in sy bek duld nie. Met die stang kan jy die perd stuur op veilige paaie of op gevaarlike paaie. Jou tong stuur jou lewe.

Groot skepe word aangedryf deur sterk winde, tog word hulle deur ’n klein roer gestuur. Net so is die tong maar ’n klein orgaan, maar dit het ’n kragtige invloed op jou hele lewe.

’n Klein vlammetjie steek ’n groot vuur aan. So kan die tong baie skade aanrig. Dit kan ander mense se lewens verwoes en vernietig.

Vanaf vers 9 spel Jakobus die dubbelslagtigheid of gespletenheid van die tong uit: Daarmee loof ons die Here en vervloek mense wat na die beeld van God geskape is. Dikwels kom seën en vervloeking uit dieselfde mond. Jakobus  vergelyk dit met ’n fontein wat nie vars en bitter water kan lewer, of ’n vyeboom wat nie olywe kan dra nie. In ons woordeskat leef ons met hierdie gespletenheid dat uit die mond goeie en slegte goed kan kom.

Met ons woorde kan ons mekaar bou of breek. Menige mens is al afgebreek deur wat ’n ouer of ’n onderwyser vir jou gesê het. As jy gedurig negatiewe goed hoor, gaan jy dit later glo.

In ons Afrikanerkultuur van destyds het ouers moeilik vir hulle kinders gesê dat hulle lief is vir hulle. Waarderende woorde was min. So het een geslag dit oorgedra na ’n volgende geslag. Gelukkig het hedendaagse ouers verander en bevestig hulle graag hul liefde vir hul kinders en kleinkinders met waarderende woorde.

Mense floreer of kwyn oor woordgebruik. Mense floreer as jy hulle bemagtig met  eerlik opbouende woorde.   Daarom is dit belangrik om mense nie as dinge te behandel nie, maar as persone. Ons moet ons toelê op persoonsbehartiging, waar ek elke mens met wie ek in kontak kom, laat goed voel. Om iemand soos ’n mens te laat voel, moet ek mense met respek, eer en gelykwaardigheid behandel, en hulle goed laat voel. Ek moet mense bekragtig met my woorde. Moenie suinig wees met jou erkenning nie.

Die goeie nuus is egter dat die tong wat vir die mens onmoontlik is om te tem, deur Christus se Gees herskep kan word. Wanneer my tong Geesvervuld is, sal my woorde soos salf en olie wees. Dit sal genees en opbou en die Here verheerlik.

Dan sal my tong net spreek wat WAARHEID is, wat OPBOUEND is en wat NUTTIG is. Dan sal ek my tong kan beheer, want ek is Geesvervuld.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moenie op jou eie kragte vertrou nie

SKRIFLESING: Rigters 16: 3 – 32

Grootmense en kinders is versot op die verhaal van Simson. Simson se krag, spoed, dapperheid, intelligensie met raaisels en vindingrykheid as hy jakkalse se sterte aan mekaar vasmaak, is ’n trefferverhaal. Daarom word daar vir die rolprentteaters van die wêreld mense soos Tarzan, Rambo en Superman geskep. Dan wens ons ons was ook so sterk soos Tarzan, so paraat soos Rambo en so beweeglik soos Superman. Ja, elkeen van ons wens ons het krag gehad. Tog bly Tarzan, Rambo en Superman maar slegs maaksels van die silwerdoek.

Tog met Simson is dit anders. Hy is werklik, want hy was een van die Here se rigters oor sy volk Israel. Hy was ’n besondere rigter. Sy naam beteken “sonskyn”.  Ja, sy naam beteken “sonskyn” omdat hy ’n sonnige geaardheid gehad het. Hy was vrolik, vol grappe met ’n aansteeklike lag. ’n Sin vir humor het hy beslis gehad. Simson staan egter bekend vir sy krag. Vir ’n leeu stuit hy nie. (Hy was soos Paul Kruger). Hy was voorts ’n man met baie moed. Hy sou sommer man-alleen ’n duisend man trompop loop.

Hy was slim en vindingryk, want waar kry jy nou ’n beter plan as om jakkalse se sterte aan mekaar vas te maak met ’n brandende fakkel tussenin. Die jakkalse sal eenvoudig amok saai in die vyande se gesaaides. Sy raaisels getuig van intelligensie. Hy was ook baie avontuurlustig. Graag het hy die grens oorgesteek om amok onder die Filistyne te saai. Voorts was hy ’n begenadigde, want hy was ’n Nasireër. ’n Nasireër was afgesonder vir die Here. Jy mog nie wyn drink en ook mog sy hare nie gesny word nie. Jy mog ook nie aan ’n lyk of dooie karkas vat nie.  Daarom het die Here vir hom besondere krag en gawes gegee. In die Bybel lees ons van drie lewenslange Nasireërs naamlik Simson, Samuel en Johannes die Doper.

Simson was ’n jongman wat ’n rolmodel in sy tyd was. Daar was seker baie jongmanne wat gewens het hulle kon soos Simson wees. Ja, enige land sal graag so ’n soldaat in sy verkenningskommando wil opneem. Ja, menige moeder sal wens haar dogter moet ’n man soos Simson kry. Daarom was hy dan ook ’n haan onder die henne. Simson was suksesvol. Toe val Simson in die slagyster van die eeue, hy kry ’n grootkop.

Hy begin op sy eie kragte te steun en kry ’n oormaat selfvertroue. In plaas van weg van versoekinge te vlug, gaan soek hy versoekinge. Hy gaan hou vakansie onder die Filistyne. Hy gaan baljaar onder die meisies van die vyand. Hy dink: “Ek is sterk genoeg om die versoekinge te kan weerstaan.” So breek hy ook een na die ander sy Nasireërbeloftes.

Simson se groot fout was dat hy sy gawes vertroetel het en daarop vertrou het, maar die Gewer van die gawes vergeet het. Hy was bewus van sy krag en het hom daarop verlaat. In hoofstuk 15: 16 spog Simson: “Met die kakebeen van ’n donkie lê daar ’n hoop, twee hope. Met die kakebeen van ’n donkie het ek duisend man verslaan.” En toe Delila hom die laaste keer wakker maak, sê hy: “Ek sal uitkom soos elke vorige keer. Ek sal myself losruk.” Elke keer is dit net: Ek …, ek ….

Simson vertrou op sy krag en hy vergeet van die Here. Hy het so op sy krag vertrou, dat hy nie eers agtergekom het dat die Here van hom gewyk het nie.

In Simson sien ons ook die moderne mens wat vertrou op sy finansiële krag, sy militêre krag, die krag van sy verstand en rede en so gaan die lysie aan. Die mens van die 21ste eeu ly aan ’n ongelooflike grootheidswaan. Die moderne mens kan alles doen, hy het God amper nie meer nodig nie.

Ons verafgod ons eie vermoëns. Ons word ons eie Simson. Ons kan miskien nie ’n duisend man alleen doodslaan nie, maar ons kan ons wêreld beheer. In ons wêreld mag jy nooit jou swakheid openbaar nie. Nee, jy moet altyd sterk en in beheer wees. Ek moet self my probleme oplos, self my eie toekoms skep.

Maar Paulus sê as jy swak is, is jy sterk, as jy sterk is, is jy swak. Ook Simson het dit ervaar. Delila is sy ondergang. Verniet dink hy dat hy weer sal uitstap soos die vorige kere en homself losruk. Toe sy hare af is, toe is hy swak. Hy dog nog hy is sterk, toe is hy swak.

The Blinding of Samson,” painted
by Rembrandt, 1636

Sy oë word uitgesteek. Sy naam beteken “sonskyn”, maar hy het die laaste dae van sy lewe in duisternis gelewe. Hy kon ’n leeu doodslaan en met ’n donkie se kakebeen ’n duisend mense doodslaan. Nou moet hy soos ’n donkie maal. Sy lewensverhaal eindig tragies. Die eens sterk Simson het swak geword. Sy vertroue op sy eie krag was sy ondergang.

Wanneer Simson uiters bewus is van sy swakheid, roep hy God aan. Hoor hoe bid hy nou: “Here, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.” Nou is Simson bewus daarvan dat hy sonder God net mooi niks is nie. Hy sien vir die eerste keer in sy lewe nie sy gawes, sy krag raak nie, maar hy sien die Gewer van sy gawes raak.

Toe hy swak is, toe maak die Here hom sterk. Met hierdie laaste daad van hom het hy meer bereik as in sy ganse lewe as Rigter. Toe hy God vertrou het, het hy meer bereik as al die twintig jaar wat hy op sy eie krag vertrou het.

Ons moet leer om minder op ons finansiële krag, ons sekuriteitstelsels, ons wetenskap, ons tegnologie, en ons vermoëns te steun. Ons moet minder steun op die krag van skoonheid, sukses, en geleerdheid. Ons moet ophou om onsself as sterk mense te sien wat altyd in beheer is. Want juis ons vertroue op ons eie kragte en vermoëns is ons ondergang.

Die groot komponis Beethoven was doof. Bewus van sy swakheid het hy elke oggend gebid: “Here, help asseblief vandag.” In die aand het hy gebid: “Dank die Here vir hierdie dag.” Op sy musiekstukke het hy aan die einde geskryf: “Soli Deo Gloria” – “Aan God al die eer.”

Paulus die groot apostel was ook gedurig bewus van sy swakheid.

As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk. Met swak mense, met krom stokke, kan God ’n reguit hou slaan.                      AMEN

(Hierdie is ‘n verwerking van ‘n preek wat ek eenmaal gelees het. Outeur onbekend.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Alles gebeur rondom ‘n tafel

SKRIFLESING: Psalm 128

Vir baie jare het mense geglo dat jy lidmaat word van die kerk met jou belydenisaflegging. Hulle het geglo dat ’n dooplidmaat ondergeskik is aan die lidmaat wat openbare belydenis van geloof afgelê het. Dit is egter ’n reuse-misverstand en ’n onderskatting van die ryke betekenis van die doop.

Deur die doop word jy deel van die verbond en ook deel van die Christelike kerk. Deur jou doop is jy ’n volwaardige lidmaat van die kerk. By jou belydenisaflegging neem jy net die verantwoordelikheid van jou lidmaatskap op. Vanoggend word Chané deel van die Christelike kerk en word al die honderde beloftes van die Bybel ook oor haar lewe bevestig.

In die Ou Testament was die besnydenis die teken van die verbond en in die Nuwe Testament is die doop teken van die verbond. ’n Ander woord vir verbond is ’n ooreenkoms. Dit beteken dat die Here belowe om die eerste inisiatief te neem op ons verlossingsweg.  

In die Ou Testament het die besnydenis jou deel van God se volk gemaak en die Pasga-tafel was die tafel waar Joodse gelowiges elke Vrydagaand saam met hulle kinders die pasga geëet het en waartydens die boodskap van die verlossing uit Egipte oorvertel is en ook gevier is. Die kindertjies was deel van hierdie geloofstafel.

In die Nuwe Testament gee die doop die dopeling deel aan die Nagmaalstafel. By die Nagmaalstafel word met die dopeling gedeel dat Jesus Christus ons uit die slawerny van sonde verlos het deur aan die kruis vir ons sondes te sterf.

So het die besnydenis die kind toegang gegee tot die Pasga-tafel en gee die doop die dopeling toegang tot die Nagmaalstafel.

Die tafel speel in die Bybel ’n sentrale rol. Dit is daar waar daar werklik gemeenskap van gelowiges plaasvind. Dit is ook die plek van geloofsoordrag.

My wonderlikste herinneringe as kind was rondom my ouma se kombuistafel, met die houtstoof en die heerlike koffie wat daarop geprut het. Daar is vir ure rondom die tafel gekuier. In my ouerhuis het ons ook in die aande saam aandete geëet en heerlik gekuier as my pa van die werk af kom. Die oumense het ook die gesinstafel in die aand gebruik om gesinsgodsdiens te hou. Dit was ’n getroue tradisie. As jy in die aand in Strydenburg rondgeloop het, kon jy hoor hoe daar by elke huis gesange en psalms gesing word.

Maar met die koms van televisie in 1976 het alles verander. Mense sit nou eerder met hulle kos op ’n skinkbord voor die televisie, om tog nie die gunsteling-sepie te mis nie. Kommunikasie tussen die gesinslede het nou beperk geword. Dit was ook die einde van aandgodsdiens in die Afrikaanse gemeenskap. Na 1996 het selfone op die mark gekom. Dit het die finale doodsklok vir die gesinstafel ingelui. Skielik het selfone aan tafels die plek ingeneem van sinvolle kommunikasie aan die tafel.

Tafelgemeenskap as gesin, of as familie of ook rondom die Nagmaalstafel, is van kardinale belang vir die bou van sinvolle kommunikasie. Vir kinders is die geborgenheid van die gesinstafel ’n kosbare sekuriteit. Dit is die plek waar daar waardevolle gesprekke gevoer word, wat belangrik is vir kinders se opvoeding.

As ons as gesinne ten minste eenmaal per dag ’n ete saam geniet, sonder gejaagdheid en sonder selfone, sal dit ’n waardevolle bousteen wees vir ons gesinne en vir geloofsvorming. Gesinne moet ’n afspraak met mekaar maak om kwaliteittyd met mekaar deur te bring rondom die etenstafel, sonder die stoornis van televisie en selfone. Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op stil gestel word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof. Anna Fishel  van die Harvard Medical School skryf in The Washington Post as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is aan die feit dat daar nie ’n kombuistafel-kultuur tuis was nie.

Baie geloofsverhale in die Bybel speel af rondom ’n ete. ’n Ete bring samesyn en versterk die gemeenskap van gelowiges.

Ons kan ons kinders nie in privaatheid grootmaak nie. Nie net die ouers nie, maar ook die gemeenskap en gemeente moet verantwoordelikheid neem vir die Christelike voorbeeld en opvoeding van ons kinders.  

Eugene Peterson het geskryf oor die Christelike gemeenskap: “Daar kan geen volwassenheid in die geestelike lewe wees nie, geen gehoorsaamheid om Jesus te volg nie, geen heelheid in die Christelike lewe nie, behalwe die omhelsing van die gemeenskap van gelowiges. Ek is nie myself alleen nie.”

Daarom moet ons ons kinders in die gemeenskap van gelowiges grootmaak. Die bywoning van eredienste en ander kerklike byeenkomste vorm ’n blywende indruk op kinders se lewens. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig. Dit is die plek waar ons ondersteuning kry en geesteskos vir ons siele.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont in die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die erediens begin, doop die priester in die ingangsportaal die dopeling. Daarna dra die priester die dopeling die gang af tot heel voor die gemeente en stel die nuwe lidmaat voor aan die gemeente. Dan neem die gemeente ook verantwoordelikheid vir die geestelike voorbeeld en opvoeding van die dopeling.

Jesus waarsku ons om nie ’n struikelblok te wees vir ’n kindjie nie. In Lukas 17: 2 staan daar: “Dit is beter vir hom dat ’n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel.”

Daarom moet ons as ouers, as grootouers en as gemeente nie kindertjies laat struikel in die geloof nie. Ons moet dit vir ons kinders maklik maak om te glo. Daarom moet ons voorbeeldig lewe, sodat ons kinders ons goeie gedrag, in rekenaartaal, kan “copy” en “paste” in hulle lewe.

Ouers is verantwoordelik vir 82% van die geloofsoordrag by kinders. Verder beïnvloed hulle vriende, onderwysers en familie hulle. Die kerk het maar ’n verantwoordelikheid van ’n skrale 1 % van geloofsoordrag. Daarom is en bly die ouers die primêre agente van geloofsoordrag en geloofsvorming. Die kerk se taak is primêr om ouers toe te rus om hulle taak as verbondsouers te kan uitvoer. Daarom bemagtig ons die ouers in ons gemeente om deur middel van die Odos-reeks kinders te leer van die verskillende Bybelkarakters en Bybelverhale.

Charel en Donné, die vernaamste en belangrikste plek in julle huis is julle etenstafel. Daar word daar gesels en gesinsbinding versterk. Mag Chané se mooiste herinneringe wees van julle viering as gesin rondom die etenstafel.

Die Here het sy Kerk gestig rondom die eerste Nagmaalstafel. Mag julle etenstafel ook tot stigting wees van julle verhoudinge. Maak tyd vir mekaar rondom die etenstafel.                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gebruik geld om vriende te maak, nie vyande nie

SKRIFLESING: Lukas 16: 1 – 13

Geld maak gewoonlik vyande. Geld bring twis, tweestryd, jaloesie, naywer, wedywering, familietwiste ensovoorts. In hoeveel huwelike word daar nie oor geld gestry nie. In hoeveel families word daar nie oor erfporsies getwis nie.

Mammon bring spanning tussen werkgewer en werknemer en dit bring spanning tussen familielede onder mekaar. Koper en verkoper kibbel oor die prys en sakevennote probeer mekaar kul. Mammon is seer sekerlik dit waaroor die meeste twis van hierdie wêreld gaan. Mammon was die naam van die Siriese god van “rykdom en geld”. Mammon probeer God met dinge vervang.

Mammon plaas jou ook in ’n verkeerde verhouding met God. Sodra ’n mens Mammon nie meer net “gebruik” nie, maar “dien”, word die Mammon jou “god”. En verdring dit vir God, vir Wie ons eintlik moet dien.

Met geld en besittings kan jy vir jou baie vyande koop, ja, selfs ook vyandskap met God.

Daarom vertel die Here Jesus hierdie gelykenis van die oneerlike bestuurder: Hy begin die gelykenis deur te vertel dat ’n baie ryk man ’n sekere bestuurder in diens gehad het wat na sy goed moes omsien en moes bestuur. Maar hierdie bestuurder het lang vingers gehad. Hy het hom aan “witboordjie-misdaad” skuldig gemaak. Die bestuurder word dan ook aangekla by die ryk man. Daar waar ’n rokie is, moet ook ’n vuurtjie wees. Daarom gelas die ryk eienaar ’n kommissie van ondersoek na sy bestuurder se bestuur van sake.

Nou is die bestuurder in ’n penarie. Hy sit op hete kole. Wat nou gemaak? Hy weet die eienaar gaan hom ontslaan as die verslag uitkom. As bestuurder sal hy nie weer aangestel word nie en om handewerk te doen, daarvoor sien hy nie kans nie. Om te bedel, daarvoor skaam hy hom morsdood. Wat nou gemaak?

Heel moontlik het hy ’n paar nagte rondgerol en het sy gewete hom gepla. Hy het waarskynlik gedink aan die baie vyande wat hy langs die pad gemaak het. Hy was inhalig en gierig en met so ’n gesindheid maak jy net vyande. As hy ontslaan word, sal hy werklik net vyande oor hê. Sy geldgierigheid het vir hom baie vyande gekoop.

Sy geldgierigheid het vir hom baie vyande gekoop. Miskien het hierdie wete hom tot bekering gebring. Want dan lees ons van ’n totale hartsverandering by hom.

Hy besluit om nie meer toe te laat dat geld vyandskap vir hom veroorsaak nie. Nee, hy wil liewer met geld vriendskap veroorsaak.

“Gebruik geld om vriende te maak, nie vyande nie…” het nou sy lewensmotto geword. Daarom lees ons hoedat hy sy werkgewer se skuldenaars een vir een inroep en skulde verminder.

Die een skuldenaar skuld 100 bat olyfolie. Die bestuurder verminder dit na 50 bat. Die ander skuldenaar skuld 100 kor koring. Die bestuurder verminder dit na 80 kor koring. So verminder hy elke skuldenaar se skuld. Dit klink vir ons amper asof hy net verder met sy skelmstreke aangaan en sy werkgewer nog verder inloop deur skuld aan sy werkgewer verskuldig, af te skryf.

Dit is egter nie so nie. Talle kommentators meen dat hy slegs sy deel van die kommissie of profyt afgeskryf het. Met ander woorde, die gedeelte van die wins wat na hom moes gaan, het hy afgeskryf en in die proses het hy vir hom vriende gemaak. Daarom het sy werkgewer hom ook geprys oor die slim ding wat hy gedoen het om sy situasie te beredder.

In plaas van inhalig en gierig te wees, word hy nou vrygewig … en in die proses maak hy vir hom ’n klomp vriende. Vir die eerste keer het hy nou in sy lewe ook vriende gehad. Sy eertydse vyande word nou sy vriende. Hulle word ’n medemens vir hom. Daarom prys die Here hom en sê dat hy sy geld en sy besittings gebruik het om vir hom vriende te maak. Die Here noem hom slim, want dit is beter om met geld vriende te maak as om vyande te maak. [Natuurlik moet ons nou nie selfsugtig met ons geld probeer vriende maak, sodat hulle ons later weer moet uithelp – soos dit die bestuurder se plan was nie. As ek iemand help, moet dit nie vir toekomstige voordeel wees nie, maar omdat dit uit liefde gedrewe is.]

In plaas van met my geld en besittings vriende te maak, gaar ek dit op vir inflasie om dit namens my te bestee. Daarom sê die Here dan ook dat die mense van die wêreld slimmer optree as die mense van die lig, want hul gebruik eerder hulle geld om vir hulle vriende te maak.

Die bestuurder het ’n totale hartsverandering ondergaan. Eers was hy saakgerig, geldgierig, besittingsgerig … nou word hy mensgerig. Ewe skielik het hy sy eertydse kliënte nie meer onpersoonlik hanteer nie, maar menslik. In plaas van sy ou styl om sy sakebelange te versaaklik, het hy dit nou vermenslik. Hy het sy geld doelbewus gebruik om vriende te maak.

God se kinders hoef nie weg te vlug van geld nie. Geld is nie per se boos nie. God het niks teen rykdom nie. Inteendeel, ons lees dat Salomo, Dawid, Hiskia, Job en nog talle ander Bybelfigure baie ryk was. Daar moet ook ryk mense wees om die ekonomie aan die gang te hou en werkskepping te bevorder.

Lukas se Evangelie is ’n Evangelie aan die armes en die rykes. Vir Lukas hang die geloofwaardigheid van die kerk se lewe en getuienis onlosmaaklik saam met die manier waarop ons omgaan met die gawes wat aan ons toevertrou is.

Die Here het dit egter daarteen dat ons geld en besittings so selfsugtig besit dat ons hoe ver ons gaan, vyande maak. “Nee, wees vrygewig sodat julle nie vir julle vyande nie, maar vriende maak,” sê die Here.

Geld, wat is jou waarde? Want geld kan vir jou ’n luukse woonplek koop, maar nie ’n tuiste nie. Die grootste en luuksste bed, maar nie slaap nie. Die mooiste horlosie, maar nie tyd nie. Jy kan met geld vir jou al die boeke in al die biblioteke aanskaf, maar nie wysheid nie. Jy kan met geld vir jou ’n plek koop in die samelewing, maar nie respek nie. Dit kan medisyne koop, maar nie gesondheid nie. Jy sou met jou geld vir jou ’n eie privaatkliniek kon koop, maar nie gesondheid nie. Met geld kan jy vir jou seks koop, maar nie liefde nie. Met geld kan jy ’n kerk koop, maar nie ’n ontmoeting met die ewige God nie.

Winkelsentrums word ons kerke en bekendes ons gode. Soos Paris Hilton, kan jy beroemd wees bloot deur ryk te wees. President Jimmy Carter het gesê: “Menslike identiteit word nie meer gedefinieer deur wat ’n mens doen nie, maar deur wat ’n mens besit.”

Geld moet menseverhoudings voed en opbou, nie afbreek nie.

Geld moet mense verpersoonlik en nie versaaklik nie. Geld moet ander mense ruimte gee en nie inkort nie.

Ek maak vriende met geld …

  • As ek ander menswaardige lone betaal
  • As ek lewensgeleenthede skep
  • As ek lewenskwaliteit verbeter
  • As ek aalmoese uitdeel
  • As ek ander mense se laste minder maak.

Wie so met sy geld vriende vir hom maak, skep vir homself / haarself ’n toekoms. Dit is wat hierdie bestuurder gedoen het: hy het vir homself ’n toekoms geskep.

Arthur Brooks vind dat godsdienstigheid een van die beste voorspellers van liefdadigheid by mense is. Die studie is onder Amerikaners gedoen. “Godsdienstige Amerikaners is nie net baie meer geneig om geld te gee en hul tyd vrywillig aan godsdienstige en sekulêre instellings te gee nie, hulle is ook meer geneig om hulp aan familielede te verleen, verkeerde kleingeld terug te gee, ’n hawelose persoon te help en om bloed te skenk.”

Eenmaal het die Here Jesus vir Homself ook ’n toekoms, ’n Koninkryk, geskep deur ons wat Sy vyande was, Sy vriende te maak. Ons lees daarvan in 2 Kor 8:9 – “ Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”

Net so kan ons as toehoorders ook vir ons ’n toekoms skep deur ons geld en besittings te gebruik om vriende in plaas van vyande te maak. So ’n lewenshouding bring ons in die regte verhouding met God en met ons medemens. Eers dan het ons waarlik ’n toekoms.

Daarom roep die Here Jesus ons op om elke dag ’n fundamentele keuse te maak tussen God en Mammon. God wil hê ek moet my besittings gebruik om vriende te maak. Mammon wil hê ek moet my besittings gebruik om vyande te maak.

God wil vry maak. Mammon wil verkneg.

In Augustus 2003 is ’n studie vrygestel wat aan die lig gebring het dat geld nie geluk kan koop nie. In 1975 het Richard Easterlin, navorser van die Universiteit van Suid-Kalifornië, begin om jaarliks 1500 persone te ondervra en uiteindelik bevind: “Baie mense verkeer onder die illusie dat hoe meer geld ons maak, hoe gelukkiger ons sal wees. Ons sit al ons hulpbronne in om geld te maak ten koste van ons gesin en ons gesondheid … Die probleem is dat ons nie besef dat ons materiële behoeftes toeneem met die hoeveelheid geld wat ons maak nie.  Die studie het ontdek dat geluk verband hou met kwaliteittyd saam met geliefdes, goeie gesondheid, vriendelik wees, ’n optimistiese uitkyk te hê, selfbeheersing uit te oefen en ’n diep sin vir etiese waardes te hê.”

Wie Mammon aanbid en op Mammon vertrou vir die toekoms en lewensgeluk, sal nooit in die Koninkryk van God kan ingaan nie. Moenie op Mammon vertrou nie, maar vertrou op Jesus Christus vir u toekoms, dan sal u die Koninkryk van God beërwe. Wie geleer het om op Jesus Christus te vertrou, kry dit maklik reg om sy geld en besittings te gebruik om vriende te maak.                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Gebaseer op ‘n preek wat ek eenmaal gelees het. Baie verwerk en bygewerk.

Jon A. Shields, “A Scandal of the Secular Conscience?” Books & Culture (January/February 2008).

http://www.BusinessDay.com, (28-08-2003)

Tim Smith.16 June 2013. Materialism

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Suur druiwe is om reg en geregtigheid na te laat

SKRIFLESING: Jesaja 5: 1 – 7

Jesaja begin deur te sê dat hy ’n lied wil sing. Hy wil ’n liefdeslied sing oor ’n pragtige verhouding. Dan gebruik hy die verhouding van ’n landbouer en sy wingerd om die verhouding tussen God en sy volk te beskryf.

Het u al gesien hoe trots ’n wynboer op sy wingerde kan wees? Dit is sy liefde, sy lewe.

Dan vertel Jesaja dat hy ’n boer ken wat ’n wingerd op ’n baie vrugbare stuk grond aangelê het. Die boer het alles gedoen om ’n kampioenwyn te vervaardig. Die wingerd is op ’n vrugbare heuwel aangelê. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder. Hy het ’n muur gebou rondom die wingerd om dit te beskerm. Hy het selfs ’n wagtoring gebou om die wingerd te beskerm teen skelms. Hy het ’n parskuip uit klip gemaak. Hy het die grond beplant met veredelde wingerdstokke.

Die lied verwys na God wat sorgsaam ’n verhouding met Israel bou, sodat daar reg en geregtigheid in die samelewing sou wees. Vir God is “reg” en “geregtigheid” die vernaamste elemente wat Hy in ’n samelewing soek.

Die grootste gedeelte van Jesaja se gemeente was wingerdboere en daarom het hulle die storie so geniet. Maar dan die anti-klimaks! Die wingerd lewer suur druiwe op. Dit maak geen sin nie. Al die moeite is dan verniet.

Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg in die samelewing; dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes. Die mense het mekaar uitgebuit. Hulle het die armes uitgebuit en onregverdige hoë rentes gehef op lenings. Hulle skale het skeef gemeet, tot eie voordeel.

In die Hebreeus word dit baie treffend gestel:

onreg – reg

mišpah מִשְׂפָּח – mišpat מִשְׁפָּט

geregtigheid – hulpgeroep

sědaqâ צְדָקָה – sě’aqâ צְעָקָה

Die woorde klink so naby aan mekaar, maar is tog se ver van mekaar verwyder.

Jesaja 5: 8 – 10 verwys direk na uitbuiters wat grond en besittings inpalm totdat daar niks vir ander oorbly nie.

Indien Jesaja hulle sou vra wat ’n mens met so ’n wingerd moet doen wat suur druiwe produseer, sal hulle heel waarskynlik almal saam skree:  Kap dit uit! Gebruik die stokkies as brandhout. Dit maak lekker kole.

Dan kom die skok! Daardie boer is die Here en die wingerd is julle, die volk van Juda. Van julle het die Here verwag dat julle vrugte sou dra van reg en geregtigheid. Maar die Here sien net onreg en onregverdigheid.

Dink nou ’n oomblik na. In ons verhouding met die Here voel ons dikwels die Here is die Een wat seermaak en ons is diegene wat seerkry. Hier is dit net andersom. God kry seer. God huil. God is die “boer” wat teleurgesteld, mismoedig en hartseer kan word, omdat Hy nie reg en geregtigheid in die samelewing waarneem nie.

Dit is belangrik hier om te sien dat die volk se ontrou nie daarin gelê het dat hulle vir God afgesweer het nie. Die wingerd is nie nutteloos omdat dit geen oes opgelewer het nie. Dit is nutteloos omdat dit onbruikbare en suur druiwe opgelewer het. Die volk Israel het wel ’n verhouding met God, deurdat hulle die uitwendige godsdienstige rituele nakom, maar daar is geen reg en geregtigheid teenoor die naaste nie.

Suur druiwe is om op my eie belange en voordeel te fokus. Die onreg van die hulpeloses en die hulpgeroep van die verontregtes gaan by God se volk verby. In plaas van omgee en versorg is daar armoede, uitbuiting en verwaarlosing.

As gelowiges en kerk, lê ons verlorenheid nie daarin dat ons vir God die rug toegekeer het nie. Dit lê veel eerder daarin dat ons probeer om as’t ware agter God se rug te leef. Ons ontrouheid lê nie daarin dat ons God minag nie, maar eerder dat ons nie erns maak met ons verhouding met ons naaste nie. Daarom hoor ons nie dikwels as God met ons praat nie. Ons is nie sensitief vir sy soeke na geregtigheid nie.

Daar word vertel dat, toe die troepe van Mahomet II in 1493 die stad Kontantinopel omsingel het, almal geweet het dat die slag bepalend sou wees vir die vraag of die Balkanlande die volgende paar eeue onder Christen- of Moslem- oorheersing sou lewe. Die aand voor die verwagte inval, het die kerkraad van een van die stad se grootste Christelike kerke bymekaar gekom. Op hulle agenda vir die aand was die volgende punte van bespreking: (1) Watter kleur was die oë van die maagd Maria? (2) Is engele manlike of vroulike wesens? (3) Wat gebeur as ’n vlieg in die doopwater val – word die vlieg heilig of word die water besoedel? Hulle het hulle met onsinnighede besig gehou, in plaas daarvan om vir die behoud van die stad te bid. So kan ons onsself ook besig hou met geskille oor uitwendige godsdienste rituele, sonder om die reg en geregtigheid van God in die samelewing na te jaag.

’n Ander ware verhaal is dié van Mohandas Gandhi: Toe Mohandas Gandhi met sy politieke bedrywighede begin het, het hy ook ’n sterk geestelike soeke beleef. Hy was destyds in Suid-Afrika en wou êrens in Natal ’n NG Kerk besoek. Dit sou bepalend wees vir die geestelike oriëntasie van ’n man wat een van die grootste leiers van die 20ste eeu sou word. Maar hy is toegang daar geweier omdat die kerk nie gekleurdes wou binnelaat nie. Gandhi het toe by ’n Hindoe-tempel geholpe geraak. Vandag is Indië ’n Hindoe-land met ’n reuse-bevolking. ’n Mens kan nie help om te wonder nie, oor wat sou gebeur het as die kerk meer sensitief was vir die stem van God en minder sensitief was vir die politieke ideologie van die dag. 

Verstaan ons waarom God huil?

Eintlik is Jesaja 5: 1 – 7 nie ’n liefdeslied nie, maar eerder ’n begrafnislied. Die Here huil oor Sy volk nie meer die geregtigheid in die samelewing najaag nie. Daar word getreur oor die begrafnis van die reg en waardes, waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie.

Chris van Wyk skryf: “Dit is ’n noodsaaklike boodskap vir ons – daar kan baie goeie dinge in ’n gemeenskap of ’n land wees, lofwaardige dinge, maar as die reg nie in stand gehou word nie – en baie spesifiek die reg van verontregtes (5:7) – is die dood in die pot.”

Ons gesprekke verraai dikwels wat diep binnekant ons harte aangaan. Hoeveel gesprekke is daar nie al oor eeue in die kerk gevoer oor kleredrag in die kerk nie. Hoeveel keer hoor ’n mens nie van hoe mense praat van die uiterlike gebruike van die kerk wat behoue moet bly, of tot elke prys moet verander nie.

Sê die Bybel nie dat onsself moet verander nie, dat ons harte moet verander nie? Wat was volgens Jesaja en natuurlik die Here Jesus self die belangrikste: die uiterlike vorm of die hartsgesindheid? Vergelyk byvoorbeeld die onderhouding van die openbare vasgebruike, teenoor die gesindheid van jou hart. Hoor wat sê die Here Jesus in Mat 23: 23 wat vir Hom die belangrikste is: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Mense kla dikwels oor wat die kerk nie vir hulle doen nie. Maar die Bybel praat eerder van die reg en geregtigheid wat ek moet laat kom in die samelewing. Ek moet nie bedien word nie, maar ek moet self die reg laat kom. Die kerk is die liggaam van Christus. En in die kerk kyk die een lid nie wat die ander vir hom kan doen nie, maar hoe hy/sy die verontregte en minderbevoorregte kan help.

Dra ons soet of  suur druiwe? Waaroor praat ons? Oor uiterlike dinge van min belang, of oor dit wat werklik die geregtigheid laat kom? Daar is soveel onreg en ongeregtigheid in die samelewing. Is ons daaroor bekommerd of oor uitwendige godsdienstige rituele?

Die kerk van die Here moet die Suid-Afrikaanse samelewing transformeer, deursuur en sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees.

Waar die reg en geregtigheid kom, daar is God. Daarom moet ons die reg en geregtigheid najaag. Ons moet ons toelê daarop om ander se belange te bevorder. Ons moet ’n hart hê vir die minderbevoorregtes.

Eers dan is ons soet druiwe, waaroor die Here sal glimlag.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Chris van Wyk. 2011. Jesaja 5. Bybelskool.

Rethie van Niekerk. 2016. Preek oor Jesaja 5. Somerstrand-gemeente.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.