Kyk na Jesus en nie na die winde nie

SKRIFLESING: Mat 14: 22 – 33

Somtyds het ons storms in ons lewe nodig. Sonder storms in jou lewe kan jy nie God se almag en barmhartigheid ervaar nie. In tye van probleme en wanhoop, ontdek jy die krag van die Here vars.   

Die volgende gebeure speel af direk na die eerste vermeerdering van die brood. Jesus het na ’n eensame plek gegaan om te bid, nadat Hy sy dissipels verplig het om solank na die oorkant van die meer te vaar. “Ja, jy het reg gehoor. Jesus het Sy dissipels verplig om in die skuit te klim en na die oorkant te begin vaar! Hy het geweet dat daar ’n storm op die see vir hulle gewag het en steeds het Hy vir hulle geen opsie gegee om op die strand te bly staan nie. Het jy al die woorde gehoor: Die veiligste plek op aarde is in die wil van die Here? Jesus dwing-stuur Sy dissipels na die oog van ’n storm en tog is hulle in die Here se wil. Hulle redder stuur hulle na ’n plek van risiko!”(George Steenkamp)

Die Here Jesus stuur hulle na ’n storm, sodat daar geloofsvorming by hulle kan plaasvind. Die Here Jesus wil hulle leer om te glo. Hy wil hulle geloof toets. Die storm is vir hulle ’n leerskool. Menige gelowige het al gesê as hulle deur ’n persoonlike lewenstorm is, hulle baie sterker ander kant uitgekom het. Storms kweek ervare matrose. Jesus Christus wil Sy dissipels voorberei om eendag ware apostels van die Evangelie te word. Die storm was tot hulle beswil.

Terwyl die dissipels op die meer vaar, het die winde ook sterk begin waai en die boot is heen en weer geslinger.

In die vierde nagwaak (03h00 – 06h00) het Jesus op die water na hulle aangeloop gekom. Hulle het dadelik gedink dit is ’n spook en was vreesbevange. Jesus het egter vir hulle gerusgestel en gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Die woorde “dit is Ek” beteken letterlik die woorde waarmee God homself teenoor Moses by die brandende braambos bekend gestel het naamlik: “Ek is.” Dit is die mees gerusstellende woorde waarmee die Here Jesus Homself kon bekendstel.

Petrus het dadelik vir Jesus gesê dat as dit Hy is, Jesus vir hom moet beveel om op die water na Hom te kom. Jesus het toe vir Petrus nader geroep.  Petrus het uit die skuit geklim en begin om op die water na Jesus te loop. Maar toe Petrus sien hoe sterk die winde is, het hy bang geword en begin sink en na Jesus geroep vir hulp. Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en gesê: “ “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Petrus se fout was dat hy sy oë afgehaal het van Jesus en na sy omstandighede gekyk het. Petrus moes kies om te kyk na “Jesus” of sy “omstandighede” en toe kies hy sy “omstandighede”. Daarom het hy gesink.  So kyk ons ook dikwels in ons omstandighede vas en mis dit om na Jesus te kyk vir hulp in ’n storm.

Mense wat oor hoogtes op ’n tou loop en hulself balanseer om nie te val nie, het ’n resep. Hulle bind ’n rooi lap aan die einde van die tou. Heeltyd kyk hulle vorentoe en fokus hulle net op die rooi lap. So stap hulle op die tou oor die hoogtes. Sou hulle afkyk en na die dieptes kyk, kan hulle maklik hulle balans verloor, want hulle het nie meer ’n fokuspunt nie.

So moet ons fokus altyd gerig wees op Jesus Christus. Dan kan ons deur enige denkbare storm kom.  

Maak twee glase vol water. Gooi in die een glas water drie eetlepels sout. Die sout verteenwoordig Petrus se geloof. Die ander glas is skoon water. Plaas ’n eier in die soutwater, wat geloof voorstel. Die eier dryf. So het Petrus ook aanvanklik in die geloof op die water geloop. Maar toe verloor Petrus sy geloof toe hy die winde en branders sien. Plaas die eier nou in die skoon glas water. Die eier sink. Sonder geloof in die Here Jesus sal jy sink in jou storms. Daarom het ons volhardende geloof nodig.

Dit is soos wanneer jy op jou rug in die water dryf. As jy ontspan en jouself oorgee aan die water, dryf jy outomaties. Maar die oomblik wanneer jy begin spartel, sink jy. So moet ons onsself net oorgee aan die Here. Dan sal ons dryf. Maar as ons met ons eie poginkies probeer spartel, sal ons sink.

Ons kan vir Petrus egter die erkenning gee dat hy, ten spyte van die storm, uit die boot geklim het en na Jesus probeer loop het. Hy het dit gewaag met Jesus Christus. Somtyds waag ons dit nie met Jesus Christus nie en bly in die boot sit soos die ander dissipels. Ons kan nie vir God iets groots doen as ons dit nie buite die boot waag nie. Daarom moet ons ons eie gemaksones verlaat en die ekstra myl vir die Here Jesus stap. ’n Gemaksone, waar daar nie gewaag word nie, is baie gevaarlik. 

Bootmense in die kerk kan dié lidmate in die kerk wees wat krities oor alles is en geneig is om altyd onbetrokke te wees. Hulle is geneig om oor ander te skinder. In plaas van aktief betrokke te wees en uit die boot te klim, is hulle kritiese passasiers in die boot. 

D Z Cofield skryf bemoedigend: “God sal jou in jou storm ontmoet. Hy is dieselfde God wat jou uit jou storm sal verlos, en hy is dieselfde God wat saam met jou deur jou storm sal stap. God hoef nie die storm te keer nie. Hy kan te midde van ’n storm kom en saam met jou stap deur jou storm.”

Wat is jou storm vandag? Is dit finansiële probleme, gesondheidsprobleme, verhoudingsprobleme  of huweliksprobleme? Wat dit ook al mag wees, die Here is saam met jou in daardie storm.  Hy wil jou red uit daardie storm en jou sterker maak. Jesus Christus is groter as enige storm.

Marietjie Joubert skryf dat Jesus Christus mense meer dikwels soek in die storms van die lewe. In die storms van die lewe sal jy Jesus Christus altyd vind. Hy is daar om te red of om jou deur te dra.

Toe Jesus en Petrus in die boot klim, het die wind gaan lê. Die dissipels het voor Jesus neergeval en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!”

In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring. Hierdie stormnag op die see en die verskyning van die Here Jesus het die dissipels se ervaring van die lewende Christus verdiep. Dit het daarom ook hulle geloof in die Here verdiep.

Ons elkeen kan uit die storms van die lewe die ervaring put dat God ons gehelp en deurgedra het. Daarom leer ons ook die Here ken deur ons persoonlike ervarings met Hom. Dit is altyd geloofsversterkend.

Ervaringe van hoe God ons deur storms gedra het, gee vir jou ’n diep gevoel van dankbaarheid. Dit verklaar ook die dissipels se dankbaarheid. Daarom het hulle neergeval en Hom aanbid.                      

Amen

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3411). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Cofield, D.Z. Making Sense Out of the Storm

George Steenkamp. Verstaan jou storms

Marietjie Joubert. Met ’n lied in die hart. Christelike Uitgewersmaatskappy.

Jaloesie maak van jou ‘n monster

SKRIFLESING: 1 Samuel 18: 6 – 16 en Psalm 16: 5 – 6

Wanneer ’n mens jouself begin vergelyk met ander mense, kan ’n mens maklik jaloers raak. ’n Mens raak jaloers as iemand anders vir jou ’n bedreiging raak. Ander se voorspoed of suksesse is vir jou ’n bedreiging.  Ander boere het meer reën as ek gekry. My kind het nie sulke goeie matriekuitslae soos ’n ander een nie. My skool het nie soveel A-leerlinge gehad in die matriek-eindeksamen soos die ander skool nie. ’n Ander een het bevordering gekry en ek is oor die hoof gesien. Ek sukkel so in die lewe en ’n ander een word so ryklik geseën.

Wanneer ander mense vir jou ’n bedreiging raak, flikker die gevaarligte van jaloesie.  Dit was presies so met Saul. Hy het ook in Dawid ’n bedreiging gesien.

Saul was die eerste koning van Israel en het regeer  van 1047 vC tot 1007 vC. Eers was hy ’n geliefde dienaar van God en die Here het hom ryklik geseën. Hy was aan die Here gehoorsaam. Hy het veral bekendheid verwerf in sy talle aanslae om die Filistyne te verslaan. Later het hy begin ophou om na die Here te luister en het gierig begin raak. Geleidelik het hy van die Here verwyderd geraak. Die profeet Samuel het Saul kom meedeel dat God nie meer met hom is nie.  

Dawid was die nuwe opkomende leier in Israel en het begin gewildheid verwerf toe hy as jong seun die kragtige en reusagtige Goliat verslaan het. Dit het tot gevolg gehad dat Saul jaloers op Dawid begin raak het. Saul wou met alle mening van Dawid ontslae raak om sy koningskap te beveilig.

Dawid en sy manskappe het meer Filistyne doodgemaak as Saul se offisiere en manskappe. Dit het Saul nog meer jaloers gemaak, want die volk Israel het Saul en Dawid met mekaar vergelyk.    In 1 Samuel 18: 6 – 10 staan daar: “Die dansende vroue het gesing en gesê:   ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.’  Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: ‘Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry.” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het ’n bose gees van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis.

In 1 Samuel 18:17–27 sien ons dat Saul van Dawid probeer ontslae raak het deur hom opdrag te gee om 100 Filistyne dood te maak in ruil vir sy dogter. Hy het gehoop Dawid sterf, maar hy was onoorwonne en het die 100 Filistyne alleen verslaan en hulle voorhuide voor Saul gegooi. Dawid kon toe met Saul se dogter Migal trou. So het Dawid en Jonatan (seun van Saul) ook boesemvriende geword. 

Maar daar staan in dié gedeelte ’n bose gees van jaloesie het oor Saul toegesak en hy het geleenthede probeer vind om Dawid dood te maak. In vers 10 en 11 van ons gelese gedeelte, het Saul terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies en Dawid musiek gemaak het op die lier, die vegspies na Dawid gegooi om hom teen die muur vas te pen. Saul het twee keer die spies gegooi, maar Dawid het egter elke keer weggeruk en die spies is in die muur vasgegooi.  In 1 Samuel 19: 9 – 10 het Saul weer probeer om die vegspies na Dawid te gooi, maar  Dawid het toe padgegee en gevlug. Sy vrou Migal het hom deur ’n venster laat afsak en hy het gaan skuiling soek.

Later was die hele weermag van Saul en Saul self op soek om Dawid dood te maak. As daar daardie tyd pamflette en foto’s was, sou daar beslis op elke boom gestaan het: “David wanted, dead or alive.”  In al die dorpe en valleie en berge was daar ’n soektog om Dawid dood te maak. Met die genade van die Here, wat oor Dawid gewaak het, is hy nooit gevang of doodgemaak nie. Dawid het selfs in die grot waar Saul geslaap het, die mantel van sy kleed afgesny, om aan te toon dat hy Saul kon doodmaak, maar omdat hy vir die koningskap respek gehad het, het hy Saul laat lewe.

Saul se jaloesie en agterdog het van hom ’n monster gemaak. Die Here se Gees het hom verlaat en hy was alleen. Saul het toe sy toevlug geneem by die waarsêer in En-Dot. In plaas van die Here te raadpleeg, gaan Saul na ’n waarsêer. Só ver het Saul se jaloesie hom van die Here af laat wegdwaal.

Die verhaal eindig waar die Filistyne vir Saul en sy seuns vasgepen het en ’n groot oorwinning oor die Israeliete behaal het. Drie van Saul se seuns is doodgemaak naamlik Jonatan, Abinadab en Malkisua. Saul het ook in sy eie swaard geval en selfmoord gepleeg, voordat die Filistyne op hom afkom en hom martel.  

So eindig die lewe van koning Saul. Afguns en jaloesie het gemaak dat hy van die Here weggedwaal het en later ’n monster geword het.

Jaloesie en naywer bring verwydering tussen jou en ander mense.  D. L. Moody het vertel van twee winkeliers tussen wie daar groot naywer, jaloesie en bitterheid was. Een van hulle het tot bekering gekom.

Hy het na sy predikant gegaan en gesê: “Ek is nog steeds jaloers op daardie man, en ek weet nie hoe om dit te oorkom nie.” “Wel,” sê die predikant, “as ’n man in jou winkel kom om goedere te koop, en jy kan hom nie voorsien nie, stuur hom net na die ander winkelier.” Hy het gesê hy sal nie daarvan hou om dit te doen nie. “Wel,” sê die predikant, “jy doen dit en jy sal jaloesie doodmaak.” Hy het toe begin om kliënte oor te stuur na sy mededinger vir goedere wat hy self nie kon verskaf nie en mettertyd het die mededinger begin om kliënte oor te stuur na hierdie man se winkel, en die breuk, jaloesie en bitterheid is genees.

“Byekenners sê vir ons wanneer ’n heuningby sy doringsteek in vlees dryf, raak dit so stewig ingebed dat die enigste manier waarop die by kan ontsnap, is om die angel agter te laat. Dit sou sekerlik die dood van die by veroorsaak. Dit laat so ’n ernstige wond dat dit onmoontlik kan herstel. So is dit ook met ons. Soms laat ons nie net die angel in diegene wat toevallig beter as ons is nie, maar die daad bring geestelike skade aan onsself teweeg.” [Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)]

Ek het drie honde. Die grote se naam is Optel, die tweede is Chico en die derde Amiga.  Hulle sal al drie heerlik in vrede saamspeel. Maar as ek op die stoep sit en aan een aandag gee, is hulle skielik vyande van mekaar. Al drie wil my aandag hê. Hulle sal letterlik baklei vir aandag. Hulle is dan jaloers en naywerig op mekaar. Dieselfde gedrag vind ’n mens ook tussen mense wat onvolwasse en ongeestelik is. Mense baklei letterlik as hulle jaloers of naywerig is.

Die werklikheid is dat almal nie ewe slim of geleerd is nie. Almal het nie ewe veel geld of geleenthede nie. Almal het nie dieselfde talente en belangstellings nie. Almal kan nie ewe goed beskuit bak of kos maak nie. Maar so het God vir ons verskillende gawes en talente gegee. Ek het weer talente wat ’n ander persoon nie het nie. Ek moet net leer om tevrede te wees met die deel wat God vir my gegee het en die beste daarvan maak. Ek moet daarom nie naywerig of jaloers wees nie.

Hoor hoe pragtig stel Dawid dit in Psalm 16: 5 – 6 as volg: “ Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Mag ons ook tevrede wees met ons erfdeel en ons meetsnoere wat ons ontvang het. Die teenoorgestelde van jaloesie is TEVREDENHEID. Wie tevrede is met sy deel, sal nie naywerig of jaloers op ’n ander een se goed, prestasies of rykdom wees nie.

Dan kan ek opreg bly wees oor ander se prestasies, rykdom en geleenthede, want ek het tevredenheid gevind in my eie erfdeel wat vir my afgemeet is.

Die sleutel is TEVREDENHEID.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa; Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.    

 Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)  

Bewaak jou hart

SKRIFLESING: Spreuke 4:23

Spreuke 4:23 lees: “Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe.”

Ons is goeie bewakers van ons materiële eiendom en besittings. Ons is ook goeie bewakers van ons eie lewe. Ons bring diefwering in ons wonings en werkplekke aan. Ons sit staalhekke op en installeer alarms. Ons vra vir Smhart om ons te beskerm. Die Smhart WhatsApp-groep is baie bedrywig met versoeke van mense om beskerm te word. Sommige mense skaf vir hulle vuurwapens of honde aan.

Ons bewaak ons gesondheid, deur dokter toe te gaan en medisyne te gebruik om ons lewe te verleng. Ons word opereer om ons lewe te red of om ’n beter kwaliteit lewe te hê.

Ons spandeer baie geld om ons besittings en gesondheid te bewaak en op te pas.

Maar dan sê Salomo in Spreuke 4:23 ons hart moet bewaak word meer as enigiets wat ons bewaar. Met ander woorde ons moet ons hart meer oppas as ons besittings en gesondheid of enigiets anders.

Die hart is die setel van ons emosies. Uit die hart kom bitterheid, afguns, jaloesie, onvergewensgesindheid, haat, naywer, selfsug, vyandskap, twis, woede, tweespalt, skeuring, onvriendelikheid en alles wat lelik is. Ons moet ons hart bewaak van dié slegte emosies.   

Maar wanneer jy jou hart bewaak, kom die goeie eienskappe soos liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, nederigheid en selfbeheersing na vore.

Ons is swak bewakers van ons harte!  “Ons laat eenvoudig te maklik toe dat die goeie dinge wat die Gees in ons harte kom bêre het, van ons gesteel word.  Ons bewaak nie ons harte soos ons die ander goed in ons lewe bewaar nie.  Ons laat eenvoudig te maklik toe dat ons vreugde gesteel word, dat ons liefde, ons geduld, ons vriendelikheid uit die kluise van ons harte gesteel word!” (Dr. André Oosthuizen)

Die ingang tot ons hart moet ons ook beskerm en bewaak. Dikwels laat ons toe dat rommelstrooiing in ons harte plaasvind. Ons ervaar soveel negatiewe dinge daar buite in die wêreld en dit beïnvloed ons hart en kom maak nes in ons harte. Al die negatiewe nuus in die wêreld, al die negatiewe plasings op sosiale media, kom ons hart binne. Dit maak ons harte, en gevolglik ons gedagtes, ook negatief. Later lyk ons harte soos ’n woonbuurt vol rommel.

Ook die uitgang van ons hart moet ons bewaak. Daar moenie negatiewe en afbrekende goed uit ons hart uitgaan nie. Ons moet ’n wag voor ons hart en voor ons mond plaas.

Die hart word ook maklik mislei om agter vreemde afgode aan te loop. Calvyn noem nie verniet die hart ’n afgode-fabriek nie. Die hart produseer gedurig nuwe afgode wat die mens weglei van egte en ware aanbidding van God. Ons harte raak lief vir geld, status, aansien, mag en vleeslike begeertes. Daarom moet ons ons hart daarteen bewaar om ’n afgode-fabriek te word.

Ds. Jannie Pelser noem dat “roem, rande en rokke” al die meeste mans in die geskiedenis tot ’n val gebring het. Richard Foster praat weer van “sex, money and power” wat die meeste mans tot ’n val bring. Juis daarom moet jy jou hart bewaak.

’n Deel van my verhouding met Jesus is om my hart teen leuens te bewaak. Jy kan byvoorbeeld dink jy is nie goed genoeg nie. Jy kan dink jy is ’n mislukking. Jy kan dink jy het as mens gefaal. Maar dit is alles leuens. Moenie dit glo nie. Bewaar jou hart teen dié leuens. Daardie leuens kom van die duiwel. Bewaar jou hart daarvan.  Vul eerder jou hart met ’n positiewe en opbouende ingesteldheid teenoor jouself en ander mense.

Om jou hart te bewaak, beteken ook dat jy jou hele hart vir die Here moet gee. Jy kan nie maar slegs ’n gedeelte van jou hart vir die Here gee nie. Jy moet die Here met ’n onverdeelde hart liefhê. Die volgende verhaal van ’n onbekende skrywer haal ek aan: “Daar was ’n man wat in ’n groot dubbelverdiepinghuis gebly het. Iemand het aan sy deur kom klop en toe hy oopmaak, staan Jesus daar. Hy nooi Hom toe in en sê: ‘Kom bly in die boonste verdieping, asseblief.’ Die nag was daar ’n klop aan die deur en toe hy oopmaak, staan die duiwel daar en stamp die deur oop en slaan hom en maak hom seer. Die volgende dag kla hy by Jesus en sê: ‘Hoekom gebeur dit nou met my?’ Jesus sê: ‘Jy het my die boonste verdieping gegee en gesê ek moet daar bly. Ek het nie toegang tot die onderste verdieping nie. Hy sê toe vir die Here dat Hy in sy hele huis kon bly, maar dat hy graag nog een kamer vir homself wou uithou. Dieselfde nag was daar weer ’n klop aan die deur. Moedeloos het hy maar weer die deur oopgemaak en die duiwel daar gekry. Hy wou die deur toestamp, maar die duiwel was sterker as hy en het die deur oopgestamp en hom weereens geslaan en seer gemaak. Die volgende dag was hy baie teleurgesteld en het moedeloos vir Jesus gesê: ‘Ek het U die hele huis gegee om in te bly en hoekom laat U toe dat ek geslaan en seergemaak word?’ Jesus het gesê: ‘Jy het die een kamer vir jouself uitgehou. Ek kan slegs beheer neem van kamers waar jy My toelaat.’ Jesus is nie ’n indringer nie. Hy vat slegs beheer van ons lewens waar ons Hom inlaat. Die man het mooi gedink en gesê: ‘Here, U kan nou maar die hele huis kry en dan sal ek by U woon. Ek gee alles prys en U het beheer oor al die vertrekke in my huis.’ Die nag was daar weer ’n klop aan die deur en hy wou net weer moedeloos word, maar het nogtans gegaan om te kyk wie daar was. Toe hy wou oopmaak, het Jesus se hand by hom verby gekom om die deur oop te maak. Die duiwel het verskrik in Jesus se oë gekyk en gesê: ‘Jammer, verkeerde adres!’ Kom ons gee ons hele lewe vir Jesus en plaas Hom in beheer.” Dit sal ons hart bewaar. (Aanhaling uit “Lig en Lewe Christen Familie Sentrum” se webtuiste.)

Gee jou hele hart vir Jesus. Dien die Here met ’n onverdeelde hart. Jy kan nie die Here aanbid en nog ander moderne afgode ook aanbid nie. Dit is sinkretisme. Dan maak ons soos die volk Israel wat die Here aanbid het in die tempel, maar tog ook die Baäl-afgode op die hoogtes aanbid het.  Dan vervreem ons onsself van God. Die volk Israel het hulleself dikwels vervreem van God en dan in ballingskap gegaan.

Toe ek ’n klein seuntjie was, het my ma vir my geleer om te bid: “Here ek is ’n kleintjie klein, maak my hartjie rein.” Dit moet ook in die hart van ons gebedslewe wees, naamlik om ’n rein hart te hê. Die sewende saligspreking gaan juis daaroor om ’n rein hart te hê.

Koning Dawid het ná sy owerspel met Batseba en die moord op Batseba se man Uriah tot inkeer gekom nadat die profeet Natan na hom gekom het. Hy het hartgrondelik in Psalm 51 gebid dat die Here weer vir hom ’n rein en opregte hart gee. Dawid wou die Here dien met ’n onverdeelde hart.

Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe en haar hart bewaak. Uit haar antwoorde op politieke kwessies het dit geblyk dat sy werklik eenvoudig gedink het oor die lewe, tot op die punt van naïwiteit. Tog het daar uit haar gestraal ’n krag en ’n vryheid wat onbeskryflik is.

Omdat sy God so helder gesien het en haar hart bewaak het, was sy nie meer bang vir mense en hulle vooroordele en hulle reëls nie, sy was vry en onbevrees om God te dien soos Hy gedien wil wees. En as ’n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud werklik gelukkig en tevrede was. 

’n Rein hart is die bron van ’n Godvrugtige lewe. Spreuke 4:23 sê die beloning van ’n hart wat bewaak word, is dat “die lewe daaruit spruit”.

As jy jou hart bewaak van alles wat negatief is, sal jy oorvloedige lewe ervaar. Die ware lewe spruit uit ’n hart wat bewaak word. Die “ware lewe” beteken  jy sal werklike vreugde en vrede ervaar.

Bewaak jou hart, meer as wat jy jou beursie, selfoon, besittings en lewe bewaak. Dan sal jy die ware lewe beleef van vryheid, geluk en vrede.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moenie van God vergeet in 2023 nie

SKRIFLESING: Jeremia 2: 1 – 13

’n Mens vergeet tog so gou. ’n Mens vergeet name of jy vergeet iets wat jy moes doen of wat jy moes koop. Ons vergeet ook dikwels iemand se verjaarsdag. Daarom het ons dagboeke, om ons te herinner aan afsprake of take wat voltooi moet word.

Ds Danie Mouton vertel die volgende storie in Preekriglyne: “Wie onthou nog die verhaal van die drie susters? Een was 92, die tweede 94 en die derde 96 jaar oud. Hulle het saam in dieselfde huis gewoon.

Een aand tap die 96-jarige vir haarself ’n lekker bad stomende water. Sy sit een voet in die bad, en haak toe vas. ‘Was ek besig om in die bad te klim, of om uit te klim?’ roep sy uit.

Die 94-jarige suster antwoord: ‘Ek weet nie, ek sal kom kyk.’ Sy begin die trappe boontoe klim, maar steek vas: ‘Was ek besig om op te klim of af te klim?’

Die 92-jarige sit aan die kombuistafel, besig om tee te drink. Sy skud haar kop. ‘Ek hoop nie ek raak ooit so vergeetagtig nie!’ roep sy uit. Sy klop op die houttafel om haar punt te maak. Toe sê sy: ‘Ek kom nou om julle altwee te help, ek gaan net eers kyk wie klop so laat aan die deur.’

Vergeetagtigheid is ’n nare ding. Dit disoriënteer jou. Dit bring jou van koers en  van stryk. Jy weet later nie meer of jy kom of gaan nie.”

Wanneer dit met ’n mens goed gaan, kan jy ook so maklik van God vergeet. As jy van God vergeet, begin jy afgode en wêreldse goed najaag.

Die volk Israel het ook in Jeremia se tyd van God begin vergeet. In die eerste hoofstuk van Jeremia lees ons hoe ’n jong priesterseun, Jeremia, geroep word tot profeet van Israel.   Hy word geroep om die swaar oordeel van God aan Israel te verkondig, omdat die volk die Here vergeet het. Daarom het Jeremia eers die verskoning gehad dat hy te jonk is. Maar die Here het hom gerusgestel en beloof om by hom te wees.

Die volk Israel en Juda het die Here vergeet. Daarom verwyt die Here hulle in Jeremia 2:6a met die volgende woorde: “Hulle het nie gevra nie, ‘Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons in die woestyn gelei het …”

Die volk het as’t ware die verlede vergeet en daarmee saam ook al die goedheid wat die Here in die woestyn oor hulle uitgestort het. Hulle ly aan geheueverlies. Hulle het hul storie, hul waardes en hul God vergeet. Nog verder sê die Here in Jeremia 2:32 – “Sal ’n jong meisie haar juwele vergeet, of ’n bruid haar lyfserpe?  Tog het my volk My vergeet, ontelbare dae lank al.”

Die volk het in die beloofde land wat God aan hulle geskenk het, begin afdwaal van die pad. In plaas daarvan om God te aanbid, het hulle begin om die Baälgode aan te hang. Baäl het gestaan vir vrugbaarheid. Vrugbaarheid van veekuddes, vrugbaarheid van landerye en baie kinders. Eintlik het hulle ’n soort van welvaartsteologie aangehang. Baäl sou hulle ryk maak.

Vergete was die 40 jaar wat die Here die volk uit Egipte, en deur die woestyn, die beloofde land binne gelei het. Totale geheueverlies.

Maar om te sê dat die volk van God vergeet het, klink aanvanklik nie so erg nie, want alle mense vergeet dikwels. Maar wanneer ’n mens van God vergeet, skuif jy God in werklikheid op die agtergrond en vervang Hom met afgode.  Elizabeth Achtemeier skryf dat geen mens in ’n “aanbiddingsvakuum” kan leef nie. Vergeet jy van God, is dit nie lank voor jy Hom inruil vir ’n moderne afgod nie.

Daarom is vergeetagtigheid met betrekking tot God so ’n ernstige saak.  Robert Vosloo skryf dat die ergste is dat die volk nie eers ’n goeie ruil gemaak het nie. Die volk verruil die almagtige God vir nikswerd en dooie afgode. In Jeremia 10:5 spot die profeet met die afgode: “Die beelde is soos ’n palmboom van pletwerk. Hulle kan nie praat nie, hulle moet gedurig gedra word; want hulle kan nie ’n voet versit nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan nie skade aanrig nie; en om goed te doen bestaan ook nie by hulle nie.”

“Nie eens die heidense volke verruil hulle gode nie, maar Israel sien kans om dit te doen.” (Robert Vosloo)

Die beste beeld om die volk se vergeetagtigheid en hulle verruiling van God vir afgode te beskryf, vind ons in Jer 2:13 – “Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap –  gebarste opgaarputte wat nie water hou nie.”

In dorre landstreke is waterbakke met krake ’n katastrofe, want kosbare water word vermors. Om die God van Abraham, Isak en Jakob, die God wat deur die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf word as “die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” te verruil vir vreemde gode wat nie jou diepste dors kan les nie, is so erg soos water opgaar in klipbakke met krake.

Daarom kan ’n mens God se toorn verstaan teen sy volk. Maar ’n mens moet dit reg verstaan. God se oordeel staan nie lynreg teenoor Sy liefde nie, maar vorm juis deel daarvan. Die Duitse teoloog Jürgen Moltman beskryf God se toorn as gekweste liefde – ’n teleurgestelde liefde wat enigiets sal doen om die verhouding te herstel.

God se toorn is ten diepste ’n oproep om Hom nie te vergeet nie.

So kan ons in 2023 ook maklik van God vergeet. Walter Brueggemann stel dit so: “Welvaart lei tot geheueverlies!”

Hoe vergeet ’n mens van God? Robert Vosloo het vyf maniere gelys: Ons vertel vir mekaar ander stories – stories van geldmaakskemas en winskopies word belangriker as verhale van God se sorg en goedheid. Ons handhaaf ander waardes soos selfgerigtheid, teenoor diens aan die gemeenskap. Ons skaf ander helde aan, soos die rykes wat ander uitbuit om ryk te word. Ons kyk anders na mekaar – ons sien in mekaar ’n bedreiging. Verder begin ons ’n ander taal praat: nie verhale wat van God se deernis en sorg praat nie, maar verhale van vrees, slinksheid en wanhoop.

Daarom moet ons in 2023 leer om God te onthou. Laurika Rauch sing die liedjie: “Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou.” Mag dit ook van toepassing wees op ons geestelike lewe.

Chris van Wyk skryf: “Daarom moet ons die Here elke oomblik van elke dag voor oë hou.  Skep vir jouself ritmes en rituele om jouself aan die Here te herinner, en oor sy goedheid en nabyheid na te dink.  Daniël het drie keer ’n dag gebid as deel van ’n vaste patroon.  Jesus het telkens weer Homself onttrek om te gaan bid.  Die Here het ook die Sabbat ingestel om ons aan Hom te herinner. Ons het ons tye van “herinnering” nodig.  ’n Mens se stiltetyd is een só ’n tyd van herinnering, maar ons het ook gereelde tye van afskakeling en gefokusde aandag nodig, ’n rusdag, soms ’n “rusweek” (retraite) en soms selfs langer (sabbatsjaar), as dit moontlik is.”

Jou ervarings van God in die verlede moet vir jou moed gee vir die hede en toekoms. Ons almal het ervarings van hoe God ons in die verlede gehelp het. Ons moet dit gedurig in herinnering roep, dan sal dit met ons goed gaan. Dwaasheid is om van God te vergeet.

Maar dit is ook noodsaaklik om die verhale van God in herinnering te roep, want dit laat ons nooit onveranderd nie. Dit daag ons uit om in 2023 anders te dink en te leef. Herinneringe verander ons om die uitdagings van 2023 by die horings te pak.

Onthou om te onthou. Vergeet om te vergeet.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Van Wyk. Chris. Bybelskool

Mouton. Danie. Preekriglyne

Vosloo. Robert. 1999. Prente van ’n passie. Bloemfontein: CLF Drukkers

Die Here sorg van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag

SKRIFLESING: Deut 11: 1 – 15

In Deut 11: 12 belowe die Here sy sorg aan sy kinders dwarsdeur die jaar. Daar staan in die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans: “Dit is ’n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.”

Die “land” waarvan gepraat word, is Kanaän, die beloofde land. In die skrifgedeelte staan dit teenoor Egipte, die land van slawerny.

Egipte is ’n woestynagtige land, wat plat is. As slawe moes die Israeliete met hulle voete leivore maak om die water uit die Nyl te kanaliseer na die groentetuine. Ook het hulle met hulle voete die trapmeul getrap om die water in die kanale op hoërliggende gebiede te kry. Dit het gepaard gegaan met moeite en sweet.  

In die beloofde land Kanaän is dit egter anders. Die landskap is nie plat nie. Die landskap is vol heuwels en valleie. Die water vloei van die hoogliggende gebiede af na die vrugbare valleie. Hulle hoef nie water te trap nie. Ook dou dit swaar en die dou loop af van die klipperige landskap en maak die grond onder die klippe vogtig, sodat die gras groei rondom die klippe, wat uitstekende weiding vir die skape verseker. In Kanaän hoef hulle nie meer leivore te maak nie. Die Here sorg vir hulle.

Dit is die belofte van die Here aan die Israeliete. In die beloofde land sal die Here vir hulle sorg van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag.  Die Here gee die reën en die dou op Sy tyd.

Om die Israeliete moed in te praat, herinner die Here hulle aan die wonderdade wat Hy in Egipte gedoen het om hulle te verlos. Hy verwys na die Here wat die Rietsee laat oopgaan het en die Israeliete droogvoets laat deurtrek het. Die Egiptenare met hulle strydwaens is egter verswelg deur die water toe die Here die Rietsee weer toegemaak het.

Die Here herinner hulle wat Hy in die woestyn vir hulle gedoen het. Dan dink ons onwillekeurig aan die kwartels en die manna, die wolkkolom en die vuurkolom en die water uit die rots. Die Here het heelpad vir die Israeliete gesorg.

Omdat die Here in die verlede gehelp het, sal die Here ook in die Nuwejaar vir hulle help, van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag.

Dit is dieselfde troos waaraan ons kan vashou hier aan die einde van 2022 en die begin van 2023. Die Here sorg van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag.

Die jaar 2022 het sy hoogtepunte en laagtepunte gehad vir elkeen. Die afgelope jaar het ons soveel sterfgevalle in ons gemeente en gemeenskap gehad. Dit was ook finansieel ’n moeilike jaar vir baie van ons, soos die brandstofpryse en inflasie gestyg het. Ons moet egter dankbaar wees vir die laagtepunte waardeur die Here ons gedra het, maar ook die vermoë ontwikkel om die “onopsigtelike” hoogtepunte raak te sien.

Ons sien dikwels net die negatiewe raak en mis die baie positiewe dinge wat die afgelope jaar gebeur het. Dit is soos die dosent wat ’n swart kol op ’n groot wit bord gemaak het. Hy vra toe die studente wat hulle sien. Hulle antwoord dat hulle net ’n swart kol op die bord sien. Die dosent antwoord terug en sê hulle is verkeerd. Dit is waar dat daar ’n swart kol op die bord is, maar wat van die res van die bord wat spierwit is? Ons sien dikwels net die swart kolletjies (die negatiewe) in ons lewe raak en mis die geheelprent van al God se goedheid en guns oor ons lewe.

Soms is verlies vir ons wins. Ons moet alles binne perspektief sien. God laat alles ten goede vir ons meewerk. Somtyds kom uit die slegte wat ons beleef, goeie dinge na vore. Dit laat ons dink aan die volgende legende: “ ’n Rabbi is deur vervolging gedwing om sy vaderland te verlaat, volgens ’n antieke Hebreeuse verhaal, en om in verre lande rond te dwaal. Sy enigste aardse besittings, buiten die klere wat hy gedra het en ’n afskrif van die Skrif, was ’n lamp waarmee hy gestudeer het en ’n donkie waarop hy gery het. Een aand laat, na ’n lang dag se reis, het hy op ’n klein dorpie afgekom waar hy skuiling vir die nag gesoek het. Die dorpenaars het hom egter weggewys. Die enigste skuiling wat hierdie moeë rabbi kon vind, was langs ’n muur wat ’n put aan die buitewyke van die dorp omring het. Hy het probeer om die beste van die situasie te maak; hy het sy lamp aangesteek en uit die Skrif begin lees. Gou het ’n hewige wind opgekom en die lamp herhaaldelik doodgeblaas. Omdat hy nie in die donker kon lees nie, het hy teen die muur gaan lê en probeer slaap. Sy rus is egter gou versteur deur die nabygeleë gebrul van ’n leeu. Hy het net betyds oor die muur gekyk om te sien hoe die leeu sy verskeurde donkie in die struikgewas insleep. Die rabbi was oorweldig met benoudheid, hartseer en ’n gevoel van selfbejammering. Hy het probeer om tot God te bid, maar sy gebede is verhinder deur die baie klagtes en verbittering wat deur sy gedagtes bly gaan het. Uiteindelik, uitgeput, het hy in ’n diep slaap verval. Die volgende oggend, toe hy wakker word en van agter die beskutting van die muur kom, het hy ’n skokkende gesig aanskou. Op die strate van die dorp lê die verminkte liggame van die dorpenaars; gedood deur ’n bose bende plunderaars wat gedurende die nag van die heuwels afgesak het. Dit was eers toe dat die rabbi begin verstaan het, en sy verliese in perspektief geplaas het. As die dorpenaars hom ontvang het, sou hy ook doodgemaak gewees het. As die leeu nie sy donkie doodgemaak en weggesleep het nie, het sy teenwoordigheid hom dalk weggegee. Hy het ’n waardevolle les geleer: Soms kom groot wins uit groot verlies!” (Al Maxey)

Daarom moet ons hier aan die einde van 2022 terugkyk en al God se goedheid raaksien en daarvoor dankbaar wees. Ook uit die negatiewe dinge moet ons sin maak, soos die rabbi in bogenoemde verhaal.

Ons hoef ook nie bang te wees vir 2023 nie. Die Here sorg. Dit is wat Deut 11: 12 sê. Die Here sorg vir ons heeljaar, vanaf Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag. 

Omdat die Here in die verlede vir ons gesorg het, sal Hy ook in 2023 vir ons sorg. Uit ervaring weet ons dat God nog altyd gehelp het.  er  

Deut 11 is egter ook ’n wekroep om in die Nuwejaar God se wil te soek en God se gebooie te gehoorsaam. In Deut 11: 1 staan daar: “Julle moet die Here julle God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam: al sy voorskrifte en bepalings en gebooie.”

Om die sorg van die Here te beleef, moet ons op God se pad bly. Sy Woord is ’n lig op ons pad, sodat ons weet waar om te loop en ons nie sal struikel nie.

Bly heeljaar op die Here se pad en jy sal die sorg van die Here beleef.

Mag u elkeen ook die Here se sorg heeljaar, van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag, beleef.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Van tentwoning na ewige woning

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Tannie Joyce het nog tien genadejare bygekry.

Maar die afgelope paar maande het ons gesien hoe Tannie Joyce se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Haar liggaam en verstand het verswak en die tent het begin skeur. Op 23 Desember 2022 het haar tentwoning ineengestort en het sy ’n permanente woning gekry by haar hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word aan die einde van die dag eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.”

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Tannie Joyce het nie die ewige dood gesterf nie. Sy is veilig by die Here.

Joyce Starbuck (met nooiensvan Kemp) is gebore op 12 Mei 1942 in Graaff Reinet. Daar het sy grootgeword en skoolgegaan. As jong volwassene is sy na Port Elizabeth, waar sy begin werk het. Daar het sy haar lewensmaat Albie Starbuck ontmoet en is hulle ook later getroud. Hulle het na Adelaide getrek en hier het sy 50 jaar van haar lewe deurgebring. Haar man het die plaaslike drukkery van 1971 tot 1997 besit. Hier het sy haar drie kinders René, wyle Etienne en Heinrich grootgemaak. Sy het drie skoonkinders naamlik Gert, Wendy en Sharon. Daar is ook drie kleinkinders naamlik Megan, Nicole en Charné. Sy was lief vir tennis speel en het tot kort voor haar knieoperasie en die uitbreek van Covid nog sosiaal tennis gespeel. Sy was baie lief vir bak. Sy was veral lief vir diere en daarom ook ’n sagte mens. Sy het aan ’n vriendekring, die “Koffiegroep”, behoort, en was sosiaal deel van ons gemeenskap.

Die skielike en vinnige aftakeling van haar liggaamlike en verstandelike gesondheid was vir ons almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat sy verdere lyding en agteruitgang gespaar is, deur haar dood. Ons is verheug dat sy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Joyce Starbuck se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier haar lewe. Ons vier haar nagedagtenis.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

BRONNELYS:

Peter Joshua, Leadership, Vol. 7, no. 4.

Lee Eclov, in the sermon: It Doesn’t Sting Anymore, PreachingToday.com

Van Adventskrans na doringkrans

SKRIFLESING: Luk 2: 1 – 7

“Stille nag, heilige nag” is seker die mees geliefde Kersgesang, die een waarvan die meeste mense die meeste hou. Dit maak Kersfees sprokiesmooi en idillies. Jy kan weggevoer word na wonderskone Kersfeestonele.

Maar Betlehem was op Kersnag alles behalwe “stil”. Betlehem was oorvol  mense, wat gekom het vir die sensus, wat deur keiser Augustus uitgevaardig is. Almal het na Bethlehem gestroom om getel en opgeskryf te word. Een van die doelwitte van die sensus was onder andere om te bereken wie almal deur die Romeinse owerheid belas moes word. Natuurlik was daar ook Romeinse soldate om die orde te handhaaf. Die dorp Betlehem was so vol dat daar nie plek was waar Josef en Maria kon oornag nie. Hulle was aangewese op ’n stal wat iemand aangebied het as skuiling.

Betlehem was daardie nag waarskynlik rumoerig vanweë al die mense en diere wat daar oornag het. Die mense het vir seker tot laatnag gekuier, want baie mense het hulle families weer ontmoet, want families het gegaan om opgeskryf te word. Op die dak van elke huis het die mense gekuier en, soos ons weet, klank trek baie ver.

Waarskynlik het die mans politiek gepraat en mekaar opgesweep oor die sensus en die belasting wat hulle aan die Romeinse owerheid moes betaal. Die vrouens het lekker saamgekuier en die kinders het die strate op horings geneem. Betlehem was besig en oorvol mense.

Dit was beslis geen “stille nag” nie. Die kontras is dat Kersfees afspeel in die harde werklikhede van die lewe. Dit speel af in die tyd van keiser Augustus van die Romeinse Ryk, wat die Jode erg verdruk het.  Christus se geboorte speel direk af midde-in die politiek van die dag.

Jesus se geboorte is geen sprokie of stuk romantiek nie. Dit is eerder goeie nuus vir ’n stukkende wêreld.   

Deesdae is Kersfees ook nie juis ’n stil tyd van die jaar nie. Winkelsentrums loop oor van mense. Mense verdring mekaar by die strande en vakansieoorde. Almal jaag om nog iets te reël of te koop vir Kersdag. Die paaie is baie besig, soos mense jaag na hulle Kersfeesbestemmings. Maar dit is juis vir ’n rumoerige tyd soos hierdie, waarvoor Christus gebore is.

Al is die lewe lawaaierig en gejaagd, bring Kersfees vreugde en vrede vir ons gemoed. “Stille nag, heilige nag” verwys nie na letterlike stilte nie, dit is eerder ’n geestelike, emosionele stilte en vrede wat alle verstand ten bowe gaan. Ons kan inderdaad “Stille nag, heilige nag” sing, want Christus se geboorte gee vir ons stilte van gemoed en vrede.

Die adventskrans wat ons so vrolik ophang in die weke voor Kersfees, sou spoedig ’n doringkrans word. Die geboorte loop uit op die kruis. As ons Kersfees vier, moet ons ook die kruis wat kom, onthou.  Die adventskrans moes spoedig verwelk om plek te maak vir die doringkrans.

Die Betlehemster moes later plek maak vir die drie ure duisternis. Ons kan nie Kersfees vier sonder om ook die kruis in die oog te hê nie.  Kersfees word vervul in die kruisiging en die opstanding van ons Heiland en Heer. Met ons een hand vat ons aan Kersdag en met ons ander hand vat ons aan Paasnaweek. Die een kan die ander een nie los nie.

Die Here Jesus is die groot Smous van Jerusalem, wat al ons sonde, trane, swaarkry en probleme vir ons verruil het vir sondevergifnis, genade, genesing en gebedsverhoring wanneer ons probleme ervaar.

Walter Wangerin (Jnr) vertel hierdie baie besondere storie. Hy noem die storie Ragman. Ds. Attie Nel van die NG Kerk Waverley het dit mooi vertaal en ek haal hom bykans letterlik aan. (In Engels beteken Ragman “a person who gathers or deals in rags”. Dit gaan oor die Lapsmous). Ek gaan die storie wat hy vertel, vertel soos hy dit vertel. Asof dit met my gebeur het.

“Een Vrydagoggend, voor dagbreek, het ek ʼn jong man gewaar wat in die strate in ons stad rondgeloop het. Die jong man was aantreklik en sterk. Hy het ʼn ou trollie met nuwe klere agter hom aangetrek. In ʼn duidelike en helder stem het hy geroep: “Lappe, lappe! Gee my jou verslete, vuil en ou lap en ek sal vir jou ʼn nuwe een gee. Lappe! Lappe!”

Hierdie was vir my ʼn wonderlike ding. Hierdie jong man was ʼn rapsie oor die twee meter lank met fris, gespierde arms en intelligente oë. Kan hy geen ander werk kry as om Lapsmous in die middestad te wees nie?

Ek kon nie anders nie, ek moes hom volg. Ek was net te nuuskierig. Op ʼn veilige afstand het ek al agter hom aangestap.

Nie lank nie, toe sien die Lapsmous ʼn vrou op haar stoep sit. Met ʼn sakdoek voor haar gesig het sy gesit en bitterlik gehuil. Die hartseer van duisend trane. Die oomblik toe hy haar sien, het die Lapsmous sy trollie gestop. In stilte het hy nader gestap na die vrou toe.

“Gee vir my jou lap,” sê hy met besondere teerheid vir haar, “ek sal vir jou ʼn ander een gee.”

Saggies het hy die sakdoek weggetrek van haar oë af. Sy het opgekyk, en hy het in haar hand ʼn ander stukkie lap neergesit. Helder skoon en nuut. Haar oë het beweeg tussen geskenk en gewer.

En toe, toe die Lapsmous weer begin om sy trollie te trek, het die vreemdste ding gebeur. Hy het die trane-gevlekte-sakdoek na sy eie gesig toe gebring; en toe begin hy huil. Hy huil met dieselfde hartseer as wat die vrou gehuil het by wie hy die sakdoek gevat het. Sy skouers het geruk. Ek het na haar gekyk. Haar gesig was skoon. Geen teken van hartseer nie. Geen traan meer in haar oë nie.

“Hierdie is ʼn wonderlike ding,” het ek vir myself gesê. Ek het die snikkende Lapsmous gevolg soos ʼn kind wat nie kan wegdraai of wegkyk van die grootste misterie wat hy nog ooit gesien het nie.

“Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!”

Nie lank hierna nie, toe die dag begin breek, het die Lapsmous by ʼn jong meisie gekom wie se kop met ʼn verband verbind was. Haar oë was leeg. Bloed het deur die verband om haar kop gesyfer. ʼn Enkele straaltjie bloed het teen haar wang afgeloop.

Die Lapsmous het met besondere deernis na die jong meisie gekyk. Hy het die mooiste geel hoedjie uit sy trollie uitgehaal.

“Gee vir my jou lap,” het hy vir haar gesê, “en ek sal vir jou myne gee.”

Die jong meisie kon net na hom kyk terwyl hy die verband losmaak, dit afhaal, en dit om sy eie kop vasmaak. Die vrolike geel hoedjie het hy op haar kop gesit. Ek kon nie glo wat gebeur nie. Saam met die verband het ook die wond gegaan! Die wond was nou op sy kop. Die vlek op die verband was helderder. Dit was sy eie bloed wat deur die verband gesyfer het.

“Lappe! Lappe! Ek vat jou ou lappe!” het die man geroep.

Die son het al hoog gesit en het warm op my gebak. Die Lapsmous het al hoe haastiger geraak.

“Gaan jy werk toe?” het hy vir ʼn man gevra wat teen ʼn lamppaal gelê het. Die man het sy kop geskud.

“Is jy gek?” het die man gevra. Hy het weggestaan van die paal af. Die regtermou van sy baadjie was leeg. Hy het nie ʼn arm nie.

“So,” sê die Lapsmous, “gee vir my jou baadjie, dan gee ek vir jou myne.” Sagte, dog duidelike, gesag in sy stem.

Die man met die een arm het sy baadjie uitgetrek. So ook die Lapsmous – ek het gebewe toe ek sien wat gebeur. Die Lapsmous se arm het in sy mou gebly. Toe die ander man sy baadjie aantrek, het hy twee gesonde arms. Maar die Lapsmous het net een.

“Gaan werk toe,” het hy vir die man gesê.

Hierna kom hy by die plaaslike dronkie wat langs die bottelstoor sy roes lê en afslaap. Hy het vir hom skoon, nuwe klere gelos. Daarna ʼn ou man wat krom getrek is deur die siekte, wat onder ʼn kombers sit. Hy het die ou man ʼn nuwe kombers gegee en die ou man se kombers om homself gevou. Skielik het hy soos ʼn siek man gelyk.

Hierna moes ek byna hardloop om by die Lapsmous te bly. Alhoewel hy onbeheersd gehuil het, en sy kop vryelik gebloei het terwyl hy sy trollie met net een arm trek en aanstrompel in sy dronkenskap, terwyl hy weer en weer neerval, het hy uitgeput, oud en siek dog steeds teen ʼn besondere spoed beweeg. Op maer bene het hy voortgestrompel tot hy by die buitewyke van die stad gekom het.

Ek het gehuil oor die verandering wat ek in die man gesien het. Ek het seergekry om sy hartseer te beleef. Tog moes ek te alle koste sien waarheen hy teen so ʼn spoed op pad was. Dalk wou ek weet wat dit was wat hom so voortgedryf het.

Die klein ou Lapsmousmannetjie het by die plaaslike vullishoop gekom. Ek wou hom help met wat hy doen, maar ek het myself ingehou. Ek het weggekruip. Hy het teen ʼn opdraande uitgeklim. Met erge moeite het hy ʼn plekkie skoon gemaak. Toe het hy gesug. Hy het gaan lê. Met die sakdoek en die baadjie het hy vir homself ʼn kussing gemaak. Hy het sy bene met ʼn ou kombers toegemaak. En so het hy gesterf.

Hoe het ek nie gehuil toe ek hom sien sterf nie. Alles binne-in my het in daardie oomblik so leeg gevoel. Stilte, doodse stilte. Ek het in ʼn ou verslete kar daar op die vullishoop skuiling gevind en gehuil soos iemand sonder enige hoop. Want ek het die Lapsmous liefgekry. Elke ander gesig het verdof wanneer ek aan die Lapsmous gedink het. Ek het myself aan die slaap gehuil.

Sonder dat ek dit besef het, het ek dwarsdeur daardie Vrydag en die Vrydagnag en die Saterdag en die Saterdagnag geslaap. Maar Sondagoggend was daar skielik ʼn geweldige gebeurtenis wat my wakker gemaak het.

Lig, spierwit, helder lig het op my gesig geskyn. Ek het my oë geknip en gekyk en ek het die eerste en laaste en grootste wonder van alles gesien. Daar was die Lapsmous. Hy het die kombers baie versigtig opgevou. Op sy voorkop was daar ʼn litteken. Maar hy het gelewe. Hy het nie net gelewe nie, hy was ook gesond. Daar was geen teken van hartseer, ouderdom en pyn nie. Al die lappe wat hy so bymekaar gemaak het, was helder skoon.

Toe het ek my kop laat sak. Al bewend na alles wat ek gesien en beleef het, het ek nader gestap na die Lapsmous toe. Met skaamte het ek my naam vir hom gesê. In vergelyking met hom was ek ʼn bejammerenswaardige figuurtjie.  Toe het ek net daar al my klere uitgetrek en met groot verlange in my stem vir hom gesê: “Trek my aan!”

En Lapsmous het my aangetrek. Hy het vir my spierwit nuwe klere aangetrek. En nou is ek ʼn wonder langs Hom. Die Lapsmous! Die Lapsmous! Die Christus, die Seun van God. My Here en my God.

En in die stilte diep binne-in my het ek die stem gehoor wat ek so graag wou hoor: “Jy is gereinig. Jy is nou myne.”

Die Lapsmous is op Kersfees in Betlehem gebore om die sonde van die wêreld weg te neem. Hy sou nuwe lappe smous vir die ou lappe van  sonde, gebrokenheid en die hartseer van die wêreld. 

Daarin lê ons diepste stilte van gemoed en vrede.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Walter Wangerin (Jnr). Ragman.

Attie Nel. Die Lapman.

Ons gaan rus, om weer opgewek te word

SKRIFLESING: Johannes 11:25

“Winston Churchill was ’n gelowige. Churchill het sy eie begrafnis gereël. Daar was die statige gesange in die St. Paul-katedraal met ’n indrukwekkende liturgie. Maar aan die einde van die diens het Churchill iets ongewoons beplan. Toe hulle die seënwens uitspreek, het ’n trompet hoog in die koepel van die St. Paul-Katedraal aan die een kant ‘Taps’ gespeel, die universele militêre teken dat die dag verby is en dat die manskappe bed toe moet gaan. Daarna was daar ’n lang pouse. Toe speel ’n trompet aan die ander kant ‘Reveille’, die militêre  wekroep om op te staan, die nuwe dag het aangebreek. Dit was Churchill se manier om te kommunikeer dat, terwyl ons hier “Goeie nag” sê, dit “Goeie môre”  daarbo in die hemel is. Nou, hoekom kon hy dit doen? Omdat hy in Jesus Christus geglo het, wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al was hy dood.’ ”   (Robert Russell)

Die dood is toe nie so verskriklik nie. Dit is ’n tydelike slaap om in die ewigheid by die Here op te staan. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.

 ’n Amerikaanse prediker vertel dat hy en sy gesin gereis het deur Florida. Omdat hulle koeldrank gedrink het, het daar skielik ’n by ingevlieg by die motor. Die dogter was hoogs allergies vir bye. Sy skree kliphard: “Pappa, hier is ’n by in die motor. Hy gaan my steek!” Toe die pa die by vasdruk teen die voorvenster, het die by die pa gesteek. Maar die by het losgekom. Hy vlieg nog rond in die motor. Die pa sê toe vir sy dogter sy hoef nie bekommerd te wees nie. Die by se angel sit reeds in Pa se vinger. Die by kan nie weer ’n tweede keer steek nie. Die by is nou skadeloos. So het die Here ook die “angel” van die dood gevat en op Hom geneem. Nou vlieg die dood nog rond en kom sit op ons, maar kan ons nie vir ewig dood maak nie.

Die dood is soos die metamorfose van ’n sywurm tot mot. Die wurm is die teenwoordige lewe. Dit gaan in ’n diep slaap in en word ’n papie. Uit die kokon met die papie kom die mot of vlinder wat vry rondvlieg. In Bybelse sin is jy ’n vlinder wat ewig lewe. Die dood verander ons verganklike liggame in geestelike liggame wat nie uit vlees en bloed bestaan nie. Daarom kan ons ewig lewe. Daar staan in 1 Kor 15: 44 – “Wat gesaai word, is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ’n geestelike liggaam. As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

 Dietrich Bonhoeffer, die groot Duitse Christenmartelaar, wat weens sy verset teen die Nazi’s gevange geneem is, is daarna ’n paar dae voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog tereggestel. Terwyl hy weggeneem is om in ’n konsentrasiekamp tereggestel te word, het hy hierdie woorde gesê: “Dit is die einde van die lewe. Vir my, die begin.”

John Rogers, die Protestantse martelaar, is in 1555 vir sy geloof verbrand op die brandstapel. Die destydse Franse ambassadeur het hom op pad na sy teregstelling waargeneem. Hy het huis toe geskryf en gesê Rogers lyk “soos ’n man op pad na sy troue.”  Soos ons die dood nader, weet ons dat dit nie die einde is nie. Dit is eintlik ’n reis deur die dood na die ewige lewe saam met God. Daar is hoop . Daar is betekenis. Daar is blydskap. Hierdie lewe is nie net ’n kort reis van niks na niks nie.

Oom Basie en Tannie Johanna was 58 jaar gelukkig getroud.  Hulle het op 3 Oktober 1964 getrou. Uit die huwelik is gebore Abé (wat oorlede is), Amanda en Gerhard. Oom Basie het ook drie wonderlike skoonkinders, naamlik Hein, Suzette en Karin. Hulle is ook geseënd met vier kleinkinders Abrie, Caitlyn, Jean en Ruben. Daar is ook ’n agterkleinkind, Azel. Oom Basie was lief vir sy gesin en familie. Oom Basie het lewenslank op Adelaide gebly, tot 2015 toe hulle Fort Beaufort toe getrek het, om daar af te tree. Vir baie jare het hulle kinders en skoonkinders baie mooi na hulle gekyk. Oom Basie was uitsonderlik lief vir motors. Hy was ook ’n uitstekende motorwerktuigkundige en was vir baie dekades die werktuigkundige van die dorp. Hy het begin werk by mnr Hendriks se diensstasie as werktuigkundige. Hy het ook vanaf 1968 tot 1988 by die Sonop Garage gewerk. Vanaf 1988 tot 1998 het hy by Belgrove se garage gewerk. Toe het hy semi-afgetree en van sy huis af aan voertuie gewerk. Toe hy begin oud word, het hy “onverskillig en gevaarlik” begin bestuur en teen goed begin vasry. Dit was ’n droewige dag vir hom toe sy seun Gerhard gesê het dat hy nou klaar bestuur het en die motorsleutels van hom weggevat het. Ek sal oom Basie onthou vir sy vriendelikheid en absolute nederigheid. As almal so nederig was soos Oom Basie sou die wêreld ’n beter plek gewees het. Hy was lewenslank gelukkig as hy mense kon help. Dit vertel iets van sy karakter. Tipies van die Lee-familie is dat hulle almal hard kan werk.

Toe oom Basie en tannie Johanna nog gesond was, was hulle gereelde kerkgangers van ons gemeente. Dit was altyd lekker om by oom Basie en tannie Johanna te gaan besoek bring. Ek gaan Oom Basie mis. Vir julle as familie is en gaan dit ook ’n moeilike pad wees. Maar onthou, as die laaste trompet “Taps” speel, word dit opgevolg met die “Reveille”, wat die militêre wekroep is om op te staan. Oom Basie het reeds opgestaan om by die Here te wees.
Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)


BRONNELYS:

Robert Russell. “Resurrection Promises” Preaching Today, Tape 151.

Met die doop kry ons God se nommerplate

SKRIFLESING:  Kol 2: 12

’n Predikant het êrens geskryf dat ons met die doop God se nommerplate kry. Dit het my gedagtes aan die gang gesit en met hierdie idee het ek ’n dooppreek begin  skryf vir Chanté Truman en haar seuntjie, Jano.

Mense is trots op hulle motors se nommerplate. Voor 1994 het elke nommerplaat aangedui van watter dorp af jy kom. In Strydenburg en Hopetown het die nommerplaat begin met CBE.  Adelaide se nommerplate het begin met CFJ. Mense was trots op hul nommerplate. Jy het identiteit gehad. Jou nommerplaat het gesê waar jy vandaan kom. Toe verander alles na 1994 en ons kry nommerplate wat met EC eindig en met ’n olifant en ’n aalwyn op.  Elke provinsie het nou sy eie provinsiale nommerplate, behalwe die Wes-Kaap wat gehou het by die registrasienommer van die dorp of stad.

Mense lewer gewoonlik ook kommentaar oor ander provinsies se nommerplate. As daar ’n motor met ’n GP-registrasie te vinnig ry, dan sê hulle dit is tipies “Gauteng Province”: hulle jaag altyd. George se nommerplaat wat begin met CAW, beteken dit is altyd “cold and wet” daar.

Met ons doop kry ons metafories gestel God se Koninkryk se nommerplate. Die doop sê wat is ons diepste identiteit. Soos ’n nommerplaat aandui waarvandaan jy kom, sê die doop dat ons God se kinders is. Ons diepste identiteit is Jesus Christus.

Wat is ons identiteit? Kol 2: 12 gee vir ons die antwoord: “Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.”

Dit beteken dat ons as sondige mense in ons doop saam met Christus gesterf en begrawe is en ook saam met Christus opgewek is. Ons het deur die doop deel aan die kruisiging, begrafnis en opstanding van Christus. Dit is ons identiteit en diepste waarborg.

Die doop roep ons op ons nuwe identiteit in Christus uit te leef.  Op ons lewensnommerplaat moet daar staan “Gedoop in Christus”. Saam met Christus gesterf, begrawe en opgewek.

Chanté, jou lewensnommerplaat van nou af moet lees “Christus”. Almal moet kan sien en beleef dat jy aan Christus behoort. Jy moet ook vir jou seuntjie Jano leer dat hy sy lewe so moet leer leef dat Christus sy nommerplaat is.

In die eerste eeu was dit vir Christene moeilik om die nommerplaat van Christus te dra. As jy uit ’n ortodokse Joodse familie kom en jy word gedoop as Christen, dan is jy verwerp uit die Joodse gemeenskap en waarskynlik ook uit jou familie. Niemand wou met jou iets te doen gehad het nie. Jy het ook nie sommer by die gildes werk gekry nie. Dieselfde was die geval met dopelinge uit die Griekse gemeenskap. As jy gedoop word, het jy vriende en kennisse verloor.

En wat gevolglik in die eerste eeu gebeur het, is dat baie mense gedoop is, maar hulle het dit vir hulself gehou. Die gemeenskap moes nie daarvan weet nie, anders verloor jy jou staanplek in die gemeenskap. Hulle was soos voertuie wat sonder nommerplate ry. Hulle het skaam gekry vir hulle doop. En Jesus sê: Ek wil nie hê jy moet jou vir My skaam nie. As Christus dit alles vir ons gedoen het, is dit nie te veel gevra dat jy in die openbaar opstaan vir die Here en jou nie oor Hom skaam nie. Dan dra jy met trots jou nommerplaat dat jy in Christus gedoop is.

Ek moet my nie vir my doop skaam nie. Ek moet my nie skaam om as gedoopte te lewe, met die nommerplaat van “Gedoop in Christus” nie.

As gedoopte Christen moet ek my nooit skaam vir Christus nie. Ek moet skaamteloos lewe as Christen in my gesin, my werksplek, my sosiale lewe en in alles wat ek doen.

Daar word vertel van ’n meisie wat in Oos-Maleisië gedoop is as volwassene, na haar bekering. ’n Persoon het opgemerk dat daar teen die kerk se muur iemand se bagasie staan. Iemand het gevra wie se bagasie dit is. Die pastoor het na die meisie gewys wat pas gedoop is en gesê: “Haar pa het gesê dat as sy as ’n Christen gedoop word, sy nooit weer huis toe kan gaan nie. Sy het dus haar bagasie gebring.”

Soos ’n EC-nommerplaat vertel jy kom van die Oos-Kaap en ’n GP-nommerplaat vertel jy kom van Gauteng, moet jy, Chanté, die nommerplaat van Christus dra, sodat almal kan sien jy is van Christus.  Aan jou lewe moet gesien word dat jy ’n Christen is.

As Christen moet jy jou seun Jano, begelei en opvoed om ook eendag ’n Christen te wees met ’n Christus-nommerplaat.

Jy het nie ’n klomp kinderopvoedingsboeke nodig nie. Volg net Johannes Calvyn se raad in sy Institusie. Gee vir kinders geborgenheid en sekuriteit. Geborgenheid kry ’n kind deur ’n oormaat van liefde. Sekuriteit kry ’n kind deur strengheid. Dit is die beste raad vir kinderopvoeding. Leer vir Jano van vroeg af van die Here en leer hom om op die pad van die Here te wandel.

Chanté, mag die Here vir jou en jou seun seën met oorvloedige guns en seëninge.

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Randy Frazee. Baptism: A Public Declaration of Dependence. Preaching Today.

Jim Denison. Teen Brought Luggage to Her Baptism. Preaching Today.

God troos ons nie met antwoorde nie, maar met Sy karakter

SKRIFLESING:  Job 40: 10 – 28

Ons mensdom het baie vrae aan God. Waarom die swaar? Waarom al die probleme? Hoekom het sommige mense dit swaarder in die lewe as ander? Waarom al die pyn en seer in mense se lewens?

So het Job ook gevoel toe hy al sy veekuddes, sy slawe, sy huis en sy kinders verloor het. Job het beland op die asgate, waar hy sy swere gekrap het met gebreekte potskerwe. Job was dan so regverdig voor God en kyk net watter sware las moes hy dra. Waarom, Here? Hoekom, Here? Dit is die vrae waarmee mense oor al die eeue worstel. Hoe kan God dit toelaat?

Ds. JD (Totius) du Toit het ook met dié vrae geworstel nadat sy dogtertjie en seuntjie kort na mekaar dood is. Sy dogter van ’n weerligstraal en sy seun van meningitis. Hy het die volgende gedig geskryf:

 o Die pyn-gedagte

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;

die skadu’s word lank en weer kort;

die drywerstem van my werk weerklink,

en ek gaan op my kruisweg vort.

                     

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,

só, dat my lewe se glans verdwyn:

Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!

en – ek gryp my bors van die pyn.

o Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,

één straal het jou skone liggaam verskroei,

maar bliksemstrale sonder tal

laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ’n vlindertjie,

sy’t lugtig omheen geswerf;

’n asempie wind kon haar vlerkies breek

en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,

dis één uit die tienduisend-tal,

en ag! dat dit sy was en ek moes sien

dat sy dood in my arms val!

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my;

die mense die sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

(Passieblomme, 1934)

Waarom sterf miljoene in oorloë en van siektes? Cindy, Morné, Melissa en familie, julle het ook al hierdie vrae gevra oor waarom so baie in julle familie so kort na mekaar oorlede is. Waarom? Hoekom?

Toe Job die vrae aan God gevra het, het God nie antwoorde gegee nie. God het sy karakter aan Job gewys. “God stel sewentig vrae terug aan Job. Met daardie sewentig vrae sê hy vir Job: ‘Job, hoe diep is jou begrip van dinge? Hoeveel weet jy regtig?’ ”( John Hannah). Sodoende het Job besef dat God ten spyte van die chaos nog steeds in beheer is en dat Hy alles ten goede laat meewerk.

In ons teksgedeelte word twee waterdiere genoem wat simbole is van mag en sterkte. Die een was die Behemoot (seekoei) en die ander was die Leviatan (die krokodil). Die seekoei en die krokodil was simbole van die chaos, want hulle kom uit die water en boesem vrees in. As God hulle kan beheer, dan is die wêreld nie chaoties nie.

Wanneer die Farao’s van Egipte gekroon is, het hulle ook simbolies twee diere doodgemaak: ’n seekoei en ’n krokodil. Daardie Egiptiese Farao’s het in simboliese vorm gewys dat wanneer hulle in Egipte kom regeer, hulle oor chaos sou heers.

So wys God ook dat Hy in beheer is. Hy heers oor die twee waterdiere van chaos, naamlik die seekoei en die krokodil. Dit is groot diere. Hulle woon in die water en is onbeheerbare diere. Die mens kan hulle nie tem nie. Maar God heers oor hulle.

So gee die Here nie vir ons ’n verduideliking of antwoord op elkeen van ons vrae nie. God laat Hom nie onder kruisverhoor neem nie. God wys ons egter Sy karakter. In die Nuwe Testament wys Hy spesifiek Sy karakter as Vader, wat Sy Seun gestuur het om aan die kruis vir ons sondes te sterf. Aan die kruis oorwin God die chaotiese magte van hierdie wêreld.

God wys Sy karakter deur barmhartigheid, sagmoedigheid, nederigheid en  opoffering. God gee nie antwoorde nie, maar Hy is saam met ons in ons lyding. Hy stap die pad saam met ons. Hy gee ons elke oggend nuwe krag. God gee vir ons deursettingsvermoë. Hy vee ons trane af, om voort te beur.

Die chaos sal met ons wees tot die wederkoms. Die Here het klaar die duiwel verslaan op Golgota. Die duiwel is soos ’n afkophoender wat nog rondhardloop, tot hy later dood neerslaan. Die duiwel rig nog skade aan, maar is reeds oorwin. Daarin is ons vreugde en hoop.

Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter.

Julle as familie is al deur swaar tye die afgelope paar jaar. Tog het die Here se karakter julle gedra tot hiertoe. Ook verder sal God vir julle dra.

Hennie het begin as polisieman. Vir baie jare was hy deel van die Polisie. Hy het gereeld grensdiens gedoen en was ook deel van die veediefstaleenheid. Maar die Polisie het hom weggehou van sy familie en gesin, want hy was min tuis. Hy het bedank by die Polisie en Adelaide Paint & Hardware oopgemaak. Hy het dié besigheid later verkoop en in die konstruksiebedryf gewerk, asook by H&I Sekuriteit. Daarna het hy vir baie jare vir Francois van Coppenhagen gewerk by die Bedford-tak van Paint & Hardware. Hennie het vele stokperdjies beoefen. Hy was lief daarvoor om messe te maak. Sy natuurlike liefde vir musiek het daartoe gelei dat hy ook instrumente bespeel het.

Sy familie en gesin was vir hom eerste. Dit was ook die rede waarom hy uit die Polisie bedank het, naamlik om by sy gesin te wees. Hy en Cindy is op 10 Januarie 1976 in die huwelik bevestig en was 46 jaar getroud. Uit die huwelik is gebore Morné, Melissa en André. Die dood van André was en is nog steeds vir die familie ’n swaar slag. Antwoorde het hulle nie gekry nie, maar die karakter van God het hulle deurgedra deur al die jare.

Ek onthou Hennie, met sy stoppelbaard en pyp in die mond, met die heerlike tabakreuk wat in die lug hang. As ek in die winter huisbesoek gedoen het, het hy altyd voor so ’n rooi paraffienverwarmer gesit. Hy kon staaltjies en nogmaals staaltjies uit sy lewe vertel. Hy kon die humor in baie dinge raaksien.

Sy afsterwe laat ’n groot verlies in die familie. Ons harte gaan uit na Cindy, Morné, Melissa, Eli, Yolandi en al die kleinkinders. Natuurlik is sy suster René ook diep geraak deur haar broer se dood.

Ek wil afsluit. Antwoorde gaan ons nie kry nie. Wat ons wel weet, is dat God se karakter ons elkeen sal deurdra in die moeilike tyd en die jare wat kom.

Die dood is nie finaal nie. Dit is net die begin van die volgende hoofstuk in Hennie se lewe. Nie totsiens nie, maar tot ons mekaar weer sien. Daaraan hou ons as gelowiges vas.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

John Hannah. Is There Any Comfort? Preaching Today.