WANNEER ONS IN ‘N HOEK VASGEVERF IS ……..
Sonder hoop kan geen mens leef nie ! Elke mens het ‘n dringende behoefte om elke dag hoop te hê. Johan Cilliers verwys na “Die Wêreldburger” van 6 September 2002 na ‘n foto wat maklik sou kon kwalifiseer as foto van die eeu. Op die agtergrond sien jy die verwoesting van die Russiese tenks aan die Tjetjeense dorpie Goragorski aangerig het. Alles is platgeskiet in die skermutseling tussen die Russiese Weermag en die Tjetjeense separatiste. Maar dan op die voorgrond stap ‘n sewejarige dogtertjie en seuntjie hand aan hand vir hul eerste skooldag. Die gesiggies stralend van opwinding. Die dogterjie hou ‘n bos pink blomme van in haar hand. ‘n Skreiende kontras tussen hoop en wanhoop kan jy jou kwalik voorstel.

Ons het in Suid – Afrika nou dringend behoefte aan hoop. Daagliks hoor ‘n mens van moorde, verkragtings, plaasmoorde, nywerheidsonrus, grondeise, swak onderwystoestande, swak dienslewering en ‘n al grotenwordende afstand tussen ryk en arm. Korrupsie vier hoogty. Ons is in die hoek vas geverf. Dit voel of ons land vinniger sink as die Titanic. Ons is tussen die Duiwel en die diep blou see vasgevang. So was die Israeliete ook in die Ou Testamentise verhale – dikwels sonder hoop. In Eks 14: 1 – 31 lees ons van die hooplose situasie waarin die Israeliete hul bevind het. Hulle was in ‘n hoek vasgeverf tussen die Rooi See en die aankomende militêre mag van Farao. Hulle het net drie keuses gehad. Of hul verdrink, óf hul val in die swaard van die Egiptenare of hul gaan terug as slawe na Egipte. Die Israeliete kon nie bote bou nie, want hul het in die Egiptiese woestyn geen kennis opgedoen van die bou van die bote nie. Hulle kon hul ook nie verset teen die Egiptiese weermag nie, want hulle was slawe en is nie toegelaat om wapens te maak nie. Die Egiptiese strydwaens was in daardie tyd ook ‘n kragtige nuwe oorlogstuig, wat net soveel verskrikking veroorsaak het as vandag se moderne oorlogstanks. Dié situasie het baie sleg gelyk In vers 13 gee die Here egter vir die Israeliete ‘n versekering: ”Moenie beangs wees nie, staan vas, kyk hoe die Here jul vandag gaan red … “ Dan lees ons hoe die Here die wolkkolom gebied het om donkerte te gooi oor die Egiptenare en die vuurkokom gebruik het om lig te gooi vir die Israeliete. So het Hy voorkom dat die Egiptenare in die nag die Israeliete aangeval het. Want sien die Here het tyd nodig gehad om die Oostewind te gebied om heelnag te waai, sodat daar ‘n pad vir die Israeliete gemaak kan word deur die Rooi See. Dit is ‘n algemene natuurverskynsel, dat wanneer wind oor ‘n vlak meer of oseaan waai, dit mettertyd ‘n droë pad oopwaai. So het die volk deur die Rooi See getrek droogvoets.
Die Egiptenare het hul gevolg met rampspoedige gevolge. Bolangs was die grond droog gewees. maar vlak onder die droë grond was dit nat. Te nat vir ‘n strydwa. Die 600 strydwaens van die Egiptenare het die een na die andrer vasgeval in die modder. Soos hulle vasgeval het, het hulle wiele afgeruk en hulle het omgeslaan. Die een strydwa het teen die ander gebots. Totale verwarring. Die seë het begin terugstroom. In hulle paniek het die Egiptenare vir die eerste keer die Here van die Israeliete begin aanroep. Van aanbidders van Farao – het hulle skielik die krag van die Here erken. Die Egiptenare se lyke het orals uitgespeol gelê langs die see. Die Egiptenare sink terug in die oerchaos – die dood.
Die Egiptenare het hul eie ondergang veroorsaak. Farao het teen sy eie woord in, opdrag gegee dat die Israeliete gestuit moet word en terug gebring moet word na Egipte. Hulle het agtergekom hulle kan nie sonder die Israelietiese slawe regkom nie. Die onbetroubaarheid van Farao het sy ondergang bewerkstellig.
Wanneer ons land en sy mense dikwels voel, ons is ook in ‘n hoek vasgeverf hier aan die suidpunt van Afrika en dit voel ons is vasgekeer tussen die diep blou see en die duiwel, wil God ons kom verseker sy Currriculum Vitae vertel van sy magtige dade in die geskienis. Hy het Homself oor en oor bewys, dat hy paaie kan maak – waar geen paaie menslik moontlik is nie. Daarom kan ons nooit sonder hoop wees nie. Elke gelowige kan maar net terugdink aan sy / haar lewe en sal telkens herinner word aan die tye toe God die Rooi See van jou lewe vir jou oopgemaak het. Onthou wat God in die verlede gedoen het, Hy sal dit weer doen en kry hoop vir die toekoms !
(Ds. Paul Odendaal is leraar van NG kerk Adelaide)

Hoe nodig het ons nie so ‘n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme, is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ‘n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ‘n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ‘n land ryp word vir ‘n rewolusie of erge ekonomiese opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” gesê dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ‘n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, dié indiwidu en die besigheid het ‘n verantwoordelikheid om sy/ haar gemeenskap te dien.
As ‘n mens iets aanhou doen word dit ‘n onwillekeurige handeling. Daarom is ‘n mens se gedrag geskoei op jou gewoontes. Daarom kan ‘n mens feitlik enigiets afleer en ook bykans enigiets aanleer. Daar is bevind as iemand vir ses weke aanhou om ‘n sekere gedrag te openbaar, dan word dit ‘n gewoonte. Eers is dit ‘n inspanning, later kom dit sonder moeite en sonder enige inspanning. Wanneer jy jou wekker stel om 5h00 en dadelik opstaan en dan gaan draf – sal dit maar in die begin moeilik gaan. Na ses weke word dit al hoe makliker en later is jy verslaaf aan die gebruik – dit het ‘n gewoonte geword.
Dit laat my dink aan die raad hoe om ‘n aap te vang. Plaas net vrugte of iets lekkers in ‘n nou nek bottel. Wanneer die aap sy hand in die pot steek en die lekkerny wil uittrek sit sy hand was. In plaas daarvan om sy hand oop te maak, bly hy vasklou aan die lekkerny – en siedaar jy het aap se kind gevang. So vang die bose die mensdom – omdat ons die duiwel na aap in ons gierigheid na seks, geld en mag.
Die vrouehumoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ‘n vriendelike kind gesit, wat vir almal rondom hom geglimlag het . Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie – al wat hy gedoen het was om vir almal te glimlag, Na ‘n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, so dat almal rondom hul dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ‘n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ‘n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar ander sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld.” (1) Johan Cilliers: Het God ‘n handvatsel ? (2003)
Die mens is gemaak na die beeld van God. God is die Skeppergod, uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Daarom is die mens ten diepste ook ‘n kreatiewe wese wat sy sin en betekenis vind om te skep. Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie. Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees. Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar vind hul gewoonlik diepe genesing daarin om “iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ‘n tydsgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ‘n gevoel van “sukses” gee. In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die instandhouding van die lewe dat mense doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ‘n baie goeie begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het niks tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ‘n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. In God se ryke verskeidenheid verskil ons egter in kreatiewe talente. Sommige vind hul kreatiwiteit in naadwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak, skilder, verf, binneshuisversiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts.
“Everyone is homesick ! het Kent Ira Groff opgemerk. Almal wil graag behoort aan ‘n groep of aan ‘n vriendekring. Natuurlik is die kerk die volmaakste model, wat ons Here Jesus Christus vir ons gegee het, waar vreemdelinge kan tuiskom in ‘n geloofsgemeenskap. Jesus Christus het immers gekom vir sondaars, vir vreemdelinge wat ver staan van God en van hul medemens. In Christus Jesus het ons naby aan God gekom en nader aan ons naaste gekom. Tog ontbreek gasvryheid in die meeste Christelike kerke. In plaas van insklusief te wees is ons dikwels ‘n eksklusiewe groep wat tuis voel met ons eie mense, met wie ons bande het oor baie jare. Ons wil nie graag die gemaksone verlaat van bekendes en vriende maak met die vreemdelinge nie. Dan ontbreek dit ons aan die Christelike gasvryheid. In Gen 18: 1 – 15 is die verhaal van Abraham wat sit by die bome van Mamre, in ‘n vreemde land, want God het hom mos gestuur vanuit Ur van die Galdieërs die woestyn in. Terwyl hy sit by sy tent sien hy drie mans van ver aankom. Hy draf na die vreemdelinge en nooi hul uit om te kom rus onder die bome en vir hul water te gee. Meer nog, hy draf na Sarah en beveel haar om 16 kg meel te vat en roosterkoeke te maak. Hy draf na sy slaaf en beveel hom om ‘n kalf te slag en gaar te maak. So sit hy dan die roosterkoeke, kalfsvleis, botter en melk neer voor die totale drie vreemdelinge. Min wetende dat die drie vreemdelinge vir hom meer gaan beteken as wat hy vir hulle beteken. Want dit blyk toe later dat hul boodskappers van God is, wat vir hom die goeie boodskap bring dat Sarah oor ‘n jaar later ‘n seun in die dié wêreld sal bring. So sou die belofte van God dat Abraham ‘n groot nageslag sal hê in vervulling kom. Dink ook aan Boas se gasvryheid aan Rut, ‘n Moabitiese vrou wat koring in sy lande opgetel het. Uit sy gasvryheid het ‘n huwelik ontstaan, waaruit Dawid gebore sou word, uit wie se nageslag die Messias gebore sou word.
Ons kan maklik verstrik raak in ‘n voorspoedsteologie, waar ons dink dat alles in die Christelike geloof gaan om “JOY”. Ons het almal al as jeugdiges tienerkampe bygewoon, waar ons op ‘n geestelike hoogtepunt was en gedink het Christenskap gaan oor ewigdurende blydskap en vreugde en vrede en voorspoed. Dan gebeur daar somtyds traumatiese goed in jou lewe en jy voel gestroop van die “JOY”. Dikwels vra ‘n mens dan die vraag, maar waar is God nou?
Mense in ons land, van alle rasse is kwaad en woedend. Sommige van die woede is geregverdig en ander is nie geregverdig nie. Mense is kwaad oor die misdaad, plaasmoorde, die ekonomie, swak politieke leierskap, werkloosheid en swak dienslewering. Die probleem is dat mense hulle redelike oordeelsvermoë verloor en amper enigiets op die sosiale media kwytraak en veralgemenings maak. Die rassisme wat die afgelope weke op die sosiale media gegons het, van alle kante help ons glad nie. Om die reg in eie hande te neem, soos die Parys boere, veroorsaak net diepe verdeeldheid en vernietig mense se lewens en goeie reputasie. In woede kan ‘n mens iets onverskilligs doen of sê of skryf, wat jou hele lewe kan vernietig. Spyt kom altyd te laat. Dit vernietig ook die toekoms van ‘n vreedsame naasbestaan onder hierdie skewe en brose reënboogland van ons. Die vernietiging van universiteitseiendom en die ontneming van ander student se reg om te studeer is uiters kortsigtig en krimineel. Om President Zuma te verkleineer met spotprente, veroorsaak net rasse spanning. Oordeel President Zuma met grondige feite, sonder om ‘n karikatuur van hom te maak. Christus het ons mos geleer om met waardigheid ons geskille en woede te beheers met die krag van die Heilige Gees, wat ons selfbeheersing gee.