KINDERNAGMAAL OF DAN GESINSNAGMAAL

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk het met sy Algemene Sinode-sitting in 1994 Kindernagmaal in beginsel goedgekeur. ‘n Beter woord sou kon wees: Gesinsnagmaal. Die is ‘n beter woord, aangesien dit ten diepste gaan oor verbondsgesinne wat saam hul geloof vier en dit aan hulle kinders oordra. [Dieselfde beginsel, as met die Pasga in die Ou-Testament.]
- Wat beteken die begrip Kindernagmaal?
Kindernagmaal beteken dat die Nagmaal ook aan die kinders (die dopelinge) van verbondsouers bedien mag word.
- Is hierdie Kindernagmaal nuut?
Daar maak u ‘n groot fout! Kindernagmaal is ‘n baie ou gebruik in die Kerk. Vanaf Christus se tyd tot ongeveer met die 13de eeu nC was dit algemene gebruik in die kerk. Kindernagmaal het selfs sy wortels in die Ou Testament met die gebruik van Pasga.
Interressant is egter hoe die vroeë kerk die Kindernagmaal verstaan en beoefen het. Geskrifte uit die vroeë kerk voorsien ons wel van inligting insake Kindernagmaal deur die eeue, wat vir ons oorweging belangrik is.
Dat alle gedooptes dan ook inderdaad die nagmaal mag gebruik, was tot ten minste die 13de eeu vanselfsprekend. Die kinderdoop het vanselfsprekend die Kindernagmaal tot gevolg gehad. Duidelike aanwysings van beide gebruike stam alreeds vanuit die 3de eeu. Ook het die Raad van Macon in 585 nC en die Raad van Toledo in 675 nC die Kindernagmaal onderskryf en selfs praktiese raad gegee in verband met die inrigting daarvan.
Die huidige gebruik om kinders [dopelinge] van gelowige ouers van die Nagmaalstafel weg te hou is eintlik ‘n laat ontwikkeling in die Christelike kerk se geskiedenis. As ons dus Kindernagmaal weer instel, begin ons nie met iets nuuts nie. Nee, ons gryp terug na ‘n baie ou gebruik in die kerk. Ons beweeg as’t ware terug na Handelinge en die gebruike in die tyd van Handelinge. Daarom kan ons nie die Sinode van 1994 beskuldig dat hul met iets nuuts begin het nie.
- Wat het veroorsaak dat die kerk in die 13 de eeu begin het om die Nagmaal te weerhou van kinders?
In die begin was daar net een kerk op die aarde, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk. In die 13 de eeu het die Pous die sogenaamde Transsubstansiasieleer geproklameer. Dit het beteken dat die brood werklik die liggaam van Christus word en dat die wyn werklik die bloed van Christus word. [Ons glo dat die brood en wyn slegs tekens is van die Here se liggaam en bloed.] Omdat die Roomse Kerk geglo het dat die brood en wyn werklik die liggaam en bloed van Christus word, was hul bang dat die kinders sal mors met die vlees en bloed van Christus. On weet mos hoe kan kindertjies mors as hul moet eet. Dit was vir Rome onaanvaarbaar. ‘n Mens mors nie met die vlees en bloed van die Here Jesus nie. Daarom het hul begin om die Nagmaal [die “mis”] van kinders te weerhou. In die Westerse kerk het die Kindernagmaal heeltemal uitgesterf. In die Oosterse kerk het die kindernagmaal egter behoue gebly tot vandag toe. Interressant is weer die ontwikkeling in die latere Rooms-Katolieke teologie. So byvoorbeeld is daar in 1910 deur middle van ‘n pouslike dekreet vasgestel dat kinders van die “sewende jaar” die Nagmaal mag gebruik. Rome het dus weer begin om geleidelik terug te keer na die gebruik in die vroeë kerk deur die ouderdom te vervroeg. Tog verhinder hul transsubstansiasieleer dat hul tot op hede suigelinge en heel klein kinders insluit.
- Wat sê die Ou Testament oor die bediening van die Pasga aan kinders?
Die Pasga was ‘n teken vir die hele gesin, van klein tot oud. In die Pasga is die uittog uit Egipte, die plek van slawerny gevier. Dit was ‘n maaltyd van verlossing. Gedurende die Pasga-ete het die Joodse pappas vir hulle kinders, terwyl hulle saam geëet het, verduidelik waaroor die pasga gaan. Die Pasga was by uitstek ‘n stuk onderrigting vir die Joodse kind. Die Pasga vertel die verhaal van die uittog. Soos die doop in die plek van die besnydenis gekom het, net so het die Nagmaal in die plek van die Pasga gekom. Soos die Pasga ‘n fees van verlossing is, is die Nagmaal ‘n fees van ons verlossing uit die sonde. Juis daarom moet die hele verbondsgemeente, oud en jonk hieraan deel hê, soos dit die geval met die Pasga was. Die Nagmaal vertel immers die verhaal van Jesus Christus.
- Wat sê die Nuwe Testament oor Kindernagmaal?
Verwysings na die wyse waarop Nagmaal in die Nuwe Testament gevier is, is uiters karig. Daar is byvoorbeeld geen verwysing na Vrouenagmaal of Kindernagmaal nie. Behalwe die gedeeltes wat die instelling van die Nagmaal beskryf, word daar slegs in 1 Kor 10: 14 – 22 en 1 Kor 11: 17 – 34 gewaarsku teen sekere wanpraktyke in die beoefening van die Nagmaal.

Ook soos in die geval van die kinderdoop sal teologiese en pastorale oorwegings die deurslag moet gee in die beoordeling van die Kindernagmaal. Veral die breë verband met die res van die Bybel moet ons aandag geniet, bv die gebruike rondom die Pasga.
Die eenmalige deurtog deur die Rooi See dien vir Paulus as ‘n tipe van die doop [1 Kor 10: 4], terwyl die herhaalde manna uit die hemel en water uit die rots wat [volgens rabbynse tradisie ] ”met hulle saamgegaan het” [1Kor 10:4], dien as tipe van Nagmaal.
- Wat is die wese van die Nagmaalsdiens?
Wie is die verbondsgemeente? Almal wat gedoop is, oud en jonk. Daarom moet ook almal deel hê aan die verbondsmaaltyd, want almal is verbondkinders. Daar is nie eerste en tweede klas verbondskinders nie.
- Op watter ouderdom mag die Nagmaal aan kinders begin bedien word? Moet daar sekere vereistes aan kinders gestel word?
Daar moet geen vereistes gestel word nie, as behalwe dat hul gedoop moet wees. Ouderdom en bevatlikheid speel nie ‘n rol nie. Verstaan klein kinders en klein babatjies hul doop of glo hulle al? Nee, waarom moet ons dan ‘n uitsondering by die Nagmaal maak? Die doel van Nagmaal is juis dat hul ouers vir hul die verhaal van Jesus Christus in die tekens van brood en wyn moet vertel, sodat hul kan glo en hul geloof versterk kan word. Kindernagmaal is ten diepste ‘n stuk verbondsopvoeding, wat met tyd moet groei.
- Wat van die praktiese implikasies? ‘n Mens kan tog nie vir ‘n baba of klein kindjie wyn gee nie?
Daaroor moet elke ouer, saam met die kerkraad self oordeel. Niemand hoef egter te vrees dat dit te vroeg sal gebeur nie. In die algemeen kan gesê word dat wanneer die kind oud genoeg is om te begryp dat Christus gesterf het sodat ons kan lewe, die ouderdom bereik is om sinvol Nagmaal te kan vier. In ons Belydenisskrifte word nêrens ‘n ouderdomsvereiste vir die toelating tot die Nagmaal gestel nie. Ouers moet nie die kosbare geleentheid laat verbygaan om deur die tekens van brood en wyn hul klein kindertjies te vertel van hoe lief die Here vir hul het nie.
- Wat word nou van kategese? Moet kategese en belydenisaflegging nie ‘n voorwaarde wees nie?
Na mate die gebruik van suigeling- en Kindernagmaal in die Roomse kerk verdwyn het, het die sakrament van die bieg [om jou sondes voor die priester te bely] en die belydenisaflegging ingeskuif tussen die doop en nagmaal.
Die Reformasie erken nie die bieg en die Belydenisaflegging as sakramente nie, maar plaas tog die kategese en geloofsbelydenis tussen doop en nagmaal. Voortaan sal binne die kerke van die Reformasie die geloofsbelydenis ‘n voorvereiste wees vir die ontvangs van die nagmaal. Op hierdie punt het die Roformasie dus nie radikaal weggebreek van Rome nie. Beide het “geloof” en “bevatlikheid” as voorvereistes vir toegang tot die Namaalstafel.
So het die klem op die geloofsbelydenis, die deelname van heel jong kinders aan die nagmaal uitgesluit. Tog is Kindernagmaal vir groter kinders in al die groot stede van die Reformasie beoefen hoewel die toelatingsleeftyd verskil het en meestal nie formeel voorgeskryf is nie. “Geloof” en “bevatlikheid” het telkens die toelating bepaal. In Genevé was dit byvoorbeeld in die omgewing van 11 of 12 jaar. Waarom die reformasie telkens klem gelê het op die geloofsbelydenis as toelating tot die Nagmaalstafel is miskien te wyte aan die beskuldigings van die Anabaptiste dat die Kinderdoop naam-Christene kweek. Daarom is die belydenisaflegging vir Nagmaal vir Bucer ‘n belangrike saak.
Calvyn het ‘n pragtige regstelling op die Nagmaalbeskouing van Bucer. Vir Calvyn gaan dit nie oor die jong lidmaat se persoonlike geloof nie, maar die kind bely die geloof van die kerk, as geloofsgemeenskap. Nie die subjektiewe geloofsakte nie, maar die objektiewe geloofsinhoud word beklemtoon. Calvyn het dus teologies reg gedink oor die Nagmaal, tog is sy denke nie prinsipieël deurgetrek na die praktyk van die Kindernagmaal nie. Juis daarom verkeer die Gereformeerde kerke in ‘n teologiese vakuum wat betref die Kindernagmaal. Gedurende die laaste paar dekades het daar egter ‘n kentering gekom in die Gereformeerde Kerke. In Europa is Kindernagmaal vandag weer praktyk in talle Europese Gereformeerde Kerke. Onthou kategese maak nie van jou ‘n lidmaat nie! Hoogstens maak kategese van jou ‘n beter geskoolde lidmaat. Eintlik behoort ook volwassennes kategese te deurloop op ‘n informele basis.
- Is die Nagmaalsdiens nie, maar juis ‘n besondere Kinderdiens nie?
Kinders hou van sigbare beelde en tekens. Die Nagmaal met die brood en wyn is juis vol tekens en beelde. Die Nagmaalsdiens is by uitstek ‘n Kinderdiens.
Wanneer glo ‘n kind? ‘n Heel klein kindjie, van reeds twee of drie jaar kan alreeds kinderlik opreg in die Here Jesus Christus glo. Het ‘n kind nie ook nodig om in sy/haar geloof versterk te word nie?
Ten slotte: Met die herinstelling van die Kindernagmaal, keer ons terug na die oorspronklike gebruik in die kerk. Ons begin nie met iets nie. Daarom moet u seker maak dat u verstaan waarom dit gaan in die Kindernagmaal.
Nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd vir die hele verbondsgemeente. As ons by ons huis eet, eet almal saam van groot tot klein. Waarom sal dit verskil rondom die Here se tafel? Die Here wil ook die kind verseker van sy liefde en ook die kind se geloof versterk. Die Nagmaal mag egter nie bedien word aan kinders, sonder dat die tekens verduidelik word nie. Die kritiese faktor in die bediening van die Nagmaal aan kinders is dat, dit ‘n opvoedkundige leerproses moet wees.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)



Gen 1 begin met God se eerste opdrag, eerste woorde: “Laat daar lig wees.” En daar was lig en God het die lig en die donkerte van mekaar geskei en dit dag en nag genoem. En dit was goed. Maar sommer gou na die eerste mensepaar se skepping het ‘n ander tipe donkerte, duisternis hul oorval. Dit was die snikdonkerte van hul sondenood. Die donkerte was so oorweldigend dat hulle mekaar nie meer as mense en as naastes kon raaksien nie. In so ‘n mate was hul harte verduister dat die een broer Kain vir sy ander broer Abel doodgemaak het. Die mensdom het so verduister, dat selfs God vir hul verduister het – want Adam en Eva het mos vir God begin wegkruip omdat hul nie meer geloofsgemeenskap met Hom wou gehad het nie. Die donkerte was verskriklik. Selfs nie eers die Wet van God kon hul gehelp het om God en hul naaste weer in ‘n ander lig te sien nie.
Hoe nodig het ons nie so ‘n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme, is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ‘n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ‘n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ‘n land ryp word vir ‘n rewolusie of erge ekonomiese opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” gesê dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ‘n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, dié indiwidu en die besigheid het ‘n verantwoordelikheid om sy/ haar gemeenskap te dien.
As ‘n mens iets aanhou doen word dit ‘n onwillekeurige handeling. Daarom is ‘n mens se gedrag geskoei op jou gewoontes. Daarom kan ‘n mens feitlik enigiets afleer en ook bykans enigiets aanleer. Daar is bevind as iemand vir ses weke aanhou om ‘n sekere gedrag te openbaar, dan word dit ‘n gewoonte. Eers is dit ‘n inspanning, later kom dit sonder moeite en sonder enige inspanning. Wanneer jy jou wekker stel om 5h00 en dadelik opstaan en dan gaan draf – sal dit maar in die begin moeilik gaan. Na ses weke word dit al hoe makliker en later is jy verslaaf aan die gebruik – dit het ‘n gewoonte geword.
Dit laat my dink aan die raad hoe om ‘n aap te vang. Plaas net vrugte of iets lekkers in ‘n nou nek bottel. Wanneer die aap sy hand in die pot steek en die lekkerny wil uittrek sit sy hand was. In plaas daarvan om sy hand oop te maak, bly hy vasklou aan die lekkerny – en siedaar jy het aap se kind gevang. So vang die bose die mensdom – omdat ons die duiwel na aap in ons gierigheid na seks, geld en mag.
Die vrouehumoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ‘n vriendelike kind gesit, wat vir almal rondom hom geglimlag het . Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie – al wat hy gedoen het was om vir almal te glimlag, Na ‘n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, so dat almal rondom hul dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ‘n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ‘n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar ander sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld.” (1) Johan Cilliers: Het God ‘n handvatsel ? (2003)
Die mens is gemaak na die beeld van God. God is die Skeppergod, uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Daarom is die mens ten diepste ook ‘n kreatiewe wese wat sy sin en betekenis vind om te skep. Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie. Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees. Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar vind hul gewoonlik diepe genesing daarin om “iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ‘n tydsgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ‘n gevoel van “sukses” gee. In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die instandhouding van die lewe dat mense doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ‘n baie goeie begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het niks tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ‘n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. In God se ryke verskeidenheid verskil ons egter in kreatiewe talente. Sommige vind hul kreatiwiteit in naadwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak, skilder, verf, binneshuisversiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts.