DIE BROOD WAT IN DOEKE TOEGEDRAAI IS …
Ons het almal die idee dat Christus Jesus in ‘n krip in ‘n stal gebore is, omdat daar nie plek vir hom was nie. Die Griekse woord “phatne” kan beteken ‘n voerbak vir diere, maar die Jode het waarskynlik eerder gedink aan ‘n houtbak, waarin kos, veral brood geberg is. Jode het hul brood gewoonlik toegedraai in doeke en dan in ‘n houtbak neergelê. Wanneer die Evangelie van Johannes in hoofstuk 6: 48 sê: “Ek is die brood wat lewe gee.” dan is die ander vertalingsmoontlikheid van “pathne” as broodbak die waarskynlikste. Joh 6: 51: “Ek is die lewende Brood, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En dié brood wat ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” Jesus Christus het immers nie vir diere gesterf nie, maar vir die mensdom. Dit was ook ongehoord om ‘n baba in ‘n vuil onhigiëniese krip neer te lê, teen die agtergrond van al die higiëniese wette van Deuternomium. In Bybelse tyd was die stal nie los van die wooneenheid nie. Nee, gewoonlik het die diere onder geslaap en die mense in die boonste verdieping en die dak was gewoonlik ‘n plek vir sosiale verkeer. Die Afrikaanse woord “woonstel”, kom van die woord “woonstal”. Onder woonstal verstaan ons waar mense en diere saam gebly het.
Interressant is dat Betlehem, die dorp waar Jesus gebore is beteken: “Huis van Brood”. Teen die lig van al bogenoemde is die volgende die bes moontlike verduideliking:
Jesus is soos brood in doeke toegedraai en neergelê in ‘n broodbak in Betlehem, die Huis van Brood – om Brood vir die wêreld te word. Daarom kan elkeen wat honger is van die Brood eet wat van die hemel neergesit is op die aarde, soos die manna van die Ou Testament. Al verskil dié manna het bederf geraak, maar Jesus is die brood wat ewig hou. Sy ongesuurde liggaam, vertel van sy lyding en seer – om die baie seer van die wêreld weg te neem.
Met die instelling van die eerste Nagmaal word Jesus se liggaam ook die Nagmaalsbrood, wat gebreek word. “Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van Christus. Neem, eet en dink daaraan hoe Jesus Christus se liggaam gebreek is tot volle versoening van al ons sondes.”
Die Kersfees kan ons weer gaan buk by die broodbak van Betlehem en vir ons ‘n stukkie van Jesus gaan afbreek en eet en glo !
Brood is lewe en Jesus is Lewe !
“Simply Life, Bread and Wine !”
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)