SKEPPINGSLIG EN HERSKEPPINGSLIG


SKEPPINGSLIG EN HERSKEPPINGSLIG

582539_435563656516671_1255665211_nGen 1 begin met God se eerste opdrag, eerste woorde: “Laat daar lig wees.” En daar was lig en God het die lig en die donkerte van mekaar geskei en dit dag en nag genoem. En dit was goed. Maar sommer gou na die eerste mensepaar se skepping het ‘n ander tipe donkerte, duisternis hul oorval. Dit was die snikdonkerte van hul sondenood. Die donkerte was so oorweldigend dat hulle mekaar nie meer as mense en as naastes kon raaksien nie. In so ‘n mate was hul harte verduister dat die een broer Kain vir sy ander broer Abel doodgemaak het. Die mensdom het so verduister, dat selfs God vir hul verduister het – want Adam en Eva het mos vir God begin wegkruip omdat hul nie meer geloofsgemeenskap met Hom wou gehad het nie. Die donkerte was verskriklik. Selfs nie eers die Wet van God kon hul gehelp het om God en hul naaste weer in ‘n ander lig te sien nie.

Die donkerte en duisternis het net al groter geword. In die 400 jaar tussen Maleagi (die laaste profeet van die Ou Testament) en die geboorte van Christus Jesus was daar geen openbaring of profetewoord wat gespreek het nie. Daar was ‘n stilstuipe tussen die mens en God.

Maar God is sag en Hy het besluit om die stilte te deurbreek om ‘n nuwe Testament, ‘n nuwe era en ‘n nuwe ekonomie te laat aanbreek. So begin die Johannes – Evangelie in die Nuwe Testament met die aankondiging dat die ware Lig aan die kom was. Joh 1: 5 kondig aan: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Natuurlik is Jesus Christus die Lig van die wêreld. Selfs die donkerte van Goeie Vrydag kon nie dié lig uitdoof nie. Dit het so gelyk met Jesus se dood, maar met die eerste oggendlig en eerste hanekraai van Paassondag kom die Lewe uit die Dood te voorskyn. Die Lig breek deur die donkerte  van die bose en sonde.

Net soos wat daar nie genoeg donkerte is om een kersflam te verdoof nie, net so is daar nie genoeg sondeduisternis in iemand se lewe, wat die verlossende krag en lig van Christus se verlossing kan uitdoof nie. Jou sonde en jou lewensnood, kan nooit groter wees as God se verlossing nie. Jou lewensdonkerte kan nie die Lig uitdoof nie.

Daarom moet ons in hierdie tyd leer om soos motte die Lig van die wêreld op te soek. Ons moet nie die “paapse lig” van die wêreld se kersliggies najaag nie, maar die Betlehemster, die Môrester opsoek.

Hoor wat sê Jesaja 60: 19 – 20: Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.  Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.

In die dag kan ons soos vlinders onder die son baljaar en in die nagdonkerte van ons siel kan ons soos motte die Lig van dié wêreld najaag.

Oor jou sal dit nooit weer stikdonker word nie !

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s