WANNEER ONS IN ‘N HOEK VASGEVERF IS ……..
Sonder hoop kan geen mens leef nie ! Elke mens het ‘n dringende behoefte om elke dag hoop te hê. Johan Cilliers verwys na “Die Wêreldburger” van 6 September 2002 na ‘n foto wat maklik sou kon kwalifiseer as foto van die eeu. Op die agtergrond sien jy die verwoesting van die Russiese tenks aan die Tjetjeense dorpie Goragorski aangerig het. Alles is platgeskiet in die skermutseling tussen die Russiese Weermag en die Tjetjeense separatiste. Maar dan op die voorgrond stap ‘n sewejarige dogtertjie en seuntjie hand aan hand vir hul eerste skooldag. Die gesiggies stralend van opwinding. Die dogterjie hou ‘n bos pink blomme van in haar hand. ‘n Skreiende kontras tussen hoop en wanhoop kan jy jou kwalik voorstel.
Ons het in Suid – Afrika nou dringend behoefte aan hoop. Daagliks hoor ‘n mens van moorde, verkragtings, plaasmoorde, nywerheidsonrus, grondeise, swak onderwystoestande, swak dienslewering en ‘n al grotenwordende afstand tussen ryk en arm. Korrupsie vier hoogty. Ons is in die hoek vas geverf. Dit voel of ons land vinniger sink as die Titanic. Ons is tussen die Duiwel en die diep blou see vasgevang. So was die Israeliete ook in die Ou Testamentise verhale – dikwels sonder hoop. In Eks 14: 1 – 31 lees ons van die hooplose situasie waarin die Israeliete hul bevind het. Hulle was in ‘n hoek vasgeverf tussen die Rooi See en die aankomende militêre mag van Farao. Hulle het net drie keuses gehad. Of hul verdrink, óf hul val in die swaard van die Egiptenare of hul gaan terug as slawe na Egipte. Die Israeliete kon nie bote bou nie, want hul het in die Egiptiese woestyn geen kennis opgedoen van die bou van die bote nie. Hulle kon hul ook nie verset teen die Egiptiese weermag nie, want hulle was slawe en is nie toegelaat om wapens te maak nie. Die Egiptiese strydwaens was in daardie tyd ook ‘n kragtige nuwe oorlogstuig, wat net soveel verskrikking veroorsaak het as vandag se moderne oorlogstanks. Dié situasie het baie sleg gelyk In vers 13 gee die Here egter vir die Israeliete ‘n versekering: ”Moenie beangs wees nie, staan vas, kyk hoe die Here jul vandag gaan red … “ Dan lees ons hoe die Here die wolkkolom gebied het om donkerte te gooi oor die Egiptenare en die vuurkokom gebruik het om lig te gooi vir die Israeliete. So het Hy voorkom dat die Egiptenare in die nag die Israeliete aangeval het. Want sien die Here het tyd nodig gehad om die Oostewind te gebied om heelnag te waai, sodat daar ‘n pad vir die Israeliete gemaak kan word deur die Rooi See. Dit is ‘n algemene natuurverskynsel, dat wanneer wind oor ‘n vlak meer of oseaan waai, dit mettertyd ‘n droë pad oopwaai. So het die volk deur die Rooi See getrek droogvoets.
Die Egiptenare het hul gevolg met rampspoedige gevolge. Bolangs was die grond droog gewees. maar vlak onder die droë grond was dit nat. Te nat vir ‘n strydwa. Die 600 strydwaens van die Egiptenare het die een na die andrer vasgeval in die modder. Soos hulle vasgeval het, het hulle wiele afgeruk en hulle het omgeslaan. Die een strydwa het teen die ander gebots. Totale verwarring. Die seë het begin terugstroom. In hulle paniek het die Egiptenare vir die eerste keer die Here van die Israeliete begin aanroep. Van aanbidders van Farao – het hulle skielik die krag van die Here erken. Die Egiptenare se lyke het orals uitgespeol gelê langs die see. Die Egiptenare sink terug in die oerchaos – die dood.
Die Egiptenare het hul eie ondergang veroorsaak. Farao het teen sy eie woord in, opdrag gegee dat die Israeliete gestuit moet word en terug gebring moet word na Egipte. Hulle het agtergekom hulle kan nie sonder die Israelietiese slawe regkom nie. Die onbetroubaarheid van Farao het sy ondergang bewerkstellig.
Wanneer ons land en sy mense dikwels voel, ons is ook in ‘n hoek vasgeverf hier aan die suidpunt van Afrika en dit voel ons is vasgekeer tussen die diep blou see en die duiwel, wil God ons kom verseker sy Currriculum Vitae vertel van sy magtige dade in die geskienis. Hy het Homself oor en oor bewys, dat hy paaie kan maak – waar geen paaie menslik moontlik is nie. Daarom kan ons nooit sonder hoop wees nie. Elke gelowige kan maar net terugdink aan sy / haar lewe en sal telkens herinner word aan die tye toe God die Rooi See van jou lewe vir jou oopgemaak het. Onthou wat God in die verlede gedoen het, Hy sal dit weer doen en kry hoop vir die toekoms !
(Ds. Paul Odendaal is leraar van NG kerk Adelaide)