Om in halleluja – tye en in Klaagliedere – tye te volhard in die geloof !

Om in halleluja – tye en in Klaagliedere – tye te volhard in die geloof !

Daar is baie soorte armoede in die wêreld soos hongerte, naaktheid, moedeloosheid, liggaamlike swakheid, siekte, psigiese armoede, ouderdom, eensaamheid, huisvestingsnood, sekuriteitsgebrek of doodeenvoudig net die armoede aan liefde. Armoede aan liefde, kan ‘n mens beskryf as velhonger. Velhonger mense is mense wat net die begeerte het om iewers deur iemand aangeraak te word in liefde en deernis. Soos jy ouer word, slaan armoede oor ons almal toe. Ouderdomsplooie is die armoedekrake van jou liggaam. Soos jy ouer word, word jy bewus van hoe jy armer word aan kragte, gesondheid, lewenslus, geleenthede, materiële sekuriteite en vriende. Die fisiese dood is die finale kishou wat armoede vir almal slaan. Vir fisiese en emosionele armoede is daar baie raad. Vir fisiese armoede gee ons brood, sop, kleding, huisvesting, bou outehuise en weeshuise, stig studiebeurse en ontwikkel ontwikkelingsprogramme. Vir emosionele armoede skep ons ondersteuningsgroepe, en sosiale geleenthede om mense te ondersteun. Daarom moet ons baie simpatiek met alle soorte armoede omgaan, omdat dit ons almal op een of ander manier tref.

Die boek Hebreërs handel oor ‘n ander soort nood. Dit handel oor geloofsarmoede, geloofsnood, geloofsverlies, geloofsdroogte en geloofsuitputting. Hebreërs handel oor geloof ! Die Hebreërskrywer probeer nie om die geloof te skep in gelowiges nie. Nee, dit is geskryf om gelowiges wat reeds glo, te help om in die geloof te bly.

winterIn elke mens se geloofslewe is daar hoogtepunte, laagtepunte, geloofsoasisse en woestyntye. Christus het ook hoogtepunte gehad, toe die Heilige Gees soos ‘n duif oor Hom neergedaal het, om net daarna homself in die woestyn van verlatenheid te vind. Op die berg van verheerliking het Hy saam met Moses en Elia verskyn. Om net later van mens en van God verlate te wees aan die kruis.

Geloof is ‘n stryd ! Hebreërs sê dit is ‘n marathon ! Geloof is nie maklik nie. Van mense wat in die geloof volhard word gepraat van geloofshelde. Daar word as’t ware gepraat van ‘n heldegalery van gelowiges genoem wat dit gemaak het.

Somtyds is dit maklik om te glo. Somtyds is dit baie moeilik om te glo. Ons gelese gedeelte verse 32 – 38 oorspan ‘n tyd van ongeveer 1000 jaar, vanaf die Rigtertydperk tot by die Makkabeërtydperk.

Vers 32 – 35  was ‘n tyd toe dit maklik was om te glo.

Vers 36 – 38 was ‘n tyd toe dit moeilik was om te glo

Vers 32 – 35 handel oor ‘n tyd toe dit maklik was om te glo. Dit was ‘n tydperk vol Hallelujah – ervarings.

 Heb 11:32  En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal,

Heb 11:33  wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop,

Heb 11:34  die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.

Heb 11:35  Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.

So is daar in die gelowige se lewe besondere tye van gebedsverhoring en tye toe God Homself op baie spesiale maniere openbaar het. Dan is dit makliker om te glo. Dink bv aan die Slag van Bloedrivier en die 1994 eerste Suid – Afrikaanse Demokratiese Verkiesing toe alles vreedsaam verloop het.

Verse 36 – 38 handel oor ‘n tyd toe dit moeilik was om te glo. Die lewe het soos vals note begin klink. Die lewe het sy melodie verloor. Dit is die Klaagliedere – ervarings van die lewe. Dit is die tye wat dinge skeef loop in jou lewe.

Heb 11:36  Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.

Heb 11:37  Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—

Heb 11:38  die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.

Dit is die tye wat jy jy skaars meer ‘n noot oor het.

Die lewe het sy sin en betekenis vir jou verloor. Jy sit op moedverloor se vlak. Jy bid, maar jy voel jy bid teen ‘n muur vas. God voel vir jou baie ver ! Jy begin aan God se bestaan twyfel. God maak nie meer vir jou sin nie. Jy voel skuldig, omdat jy voel jy het jou geloof verloor. Jy voel verlore.

Die goeie nuus is dat God verstaan as ons somtyds twyfel. Hy wil ons help in ons twyfel soos Hy vir Johannes die Doper en vir die twyfelende Thomas gehelp het. Johannes die Doper het gewonder in die tronk, of hy die regte Messias en Gesalfte gedoop het. Daarom vra hy die vraag of Jesus die regte Gesalfte is of moet ons iemand anders verwag. Dan versterk die Here hom met die versekering dat hy moet kyk na al die wondertekens wat plaasvind. Die twyfelende Thomas het gewonder of Jesus regtig opgestaan het. Dan help Jesus hom, deur hom te laat vat aan sy wonde, om hom te oortuig. Woestynervarings in die geloof tref die meeste van die gelowiges en heiliges.

Dit is koud en donker.

Dit is leeg en dood.

Kaste dood, leeg  soos skedelgate

Dit is winternag daarbuite.

Winter in my siel.

Eensaamheid lê vlak

Geen vuur, geen lig, geen bron van hoop

My geloof is koud

My siel eensaam – soos die graf

(Anoniem)

Om met God te worstel, is van die mees diepste en intense ervarings waaraan ‘n mens blootgestel kan word. Jakop het by die Jabok met God ook geworstel. In die proses het hy mank geword, maar hy het God gevind, of moet ons liewer sê God het hom gevind.

Maar hoe kan ons geloofsarmoede weer omsit in geloofsrykdom en geloofsgroei? Ons teksgedeelte gee vir ons die antwoord baie duidelik:

1. Vestig julle oog op Jesus Christus en nie op julle eie geloof nie.

2. Laat julle versterk, deur die getuienis van medegelowiges en die onderlinge koinonia (gemeenskap van gelowiges)

Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het (2 hierbo), laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

Heb 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (1 hierbo), wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Die Here wil ons veral ook deur die gemeenskap van gelowiges, soos in die tyd van Hebreërs versterk. Daarom is die onderlinge getuienis van hoe God in medegelowiges se lewe werk van groot belang. Let op wat sê Heb 10: 23 – 25 oor die gemeenskap van gelowiges. (Let op na die beklemtoning in die teks).

Heb 10:23  Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; Heb 10:24  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Let ook op na die onderstreping, van hoe belangrik God die samekoms van die gemeente ag. Godsdiens is nie maar net ‘n privaat geleentheid voor die radio of TV nie. Nee, dit is ‘n publieke samekoms van God se gemeente. So wil God dit hê. Wanneer kole los van die vuur lê word dit gou koud. Maar tussen die ander kole bly dit warm.

Newbegin skryf dat Jesus nie ‘n boek geskryf het nie. Nee, Hy het dit oorgelaat aan die apostels om Evangelies en briewe te skryf. Jesus het eerder “a Community” gevestig – so belangrik ag Jesus die kerk en die samekoms van gelowiges. Geloof is om te belê in die onsienlike.

Dit is soos ‘n brug in mistige weer. Jy kan nie sien of die brug anderkant weer grond raak nie. Maar jou vorige ervarings en die beweging van die verkeer (medegelowiges) laat jou genoeg vertrou om oor die brug te ry, na die onsienlike anderkant.

Daarom moedig die Hebreërskrywer ons aan, om al word ons armer in fisiese dinge, ons ryker moet word in geestelike dinge. Liggaam en gees, daaruit bestaan die mens. Die liggaam kwyn met ouderdom, maar die geestelike groei soos ons ouer word. Wie geestelik groei, groei in sy/haar geloof. Juis daarom moet ons klem lê op die geestelike onsienlike, aldus die Hebreër skrywer.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s