GEWOONTES MAAK DIE MAN …
Daar is niks so kragtig soos gewoontes nie. Gewoontes is niks ander as persoonlike dissipline nie.
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal het verskillende verduidelikings: * Gevestigde neiging tot ‘n handeling, aangekweek deur herhaling van die handeling. * Gedragslyn wat deur herhaling ‘n vaste gebruik geword het. Daar is die Afrikaanse uitdrukking : “ Die gewente maak die gewoonte (gewente word gewoonte, gewoonte word gewente.)
As ‘n mens iets aanhou doen word dit ‘n onwillekeurige handeling. Daarom is ‘n mens se gedrag geskoei op jou gewoontes. Daarom kan ‘n mens feitlik enigiets afleer en ook bykans enigiets aanleer. Daar is bevind as iemand vir ses weke aanhou om ‘n sekere gedrag te openbaar, dan word dit ‘n gewoonte. Eers is dit ‘n inspanning, later kom dit sonder moeite en sonder enige inspanning. Wanneer jy jou wekker stel om 5h00 en dadelik opstaan en dan gaan draf – sal dit maar in die begin moeilik gaan. Na ses weke word dit al hoe makliker en later is jy verslaaf aan die gebruik – dit het ‘n gewoonte geword.
Daarom gaan die vestiging van goeie gewoontes altyd gepaard met ‘n KEUSE. Natuurlik saam met die KEUSE, moet daar ook VOLHARDING en DEURSETTINGSVERMOë openbaar word.
Die volgende wysgere het hul as volg oor GEWOONTES uitgelaat:
“ Kies vandag die gewoonte wat later oor jou gaan regeer.” (Elbert Hubbard 1856 – 1915)
“’n Gevestigde gewoonte is ‘n hemp gemaak van yster.” (Samuel Johnson 1709 – 1786)
“Die jammerte is dat goeie gewoontes soveel makliker is om te breek as die slegtes.” (W Somerset Maugham (1874 – 1965)
Om lui te wees, om slordig te wees, om papiere rond te strooi, om kwaad te praat, om slegte dinge te doen is alles gewoontes. Maar deur die krag van die Heilige Gees en deur ‘n hartgrondige bekering kan ek omdraai en deur KEUSES verander word en deur die volharding wat die Heilige Gees skenk, kan ek nuwe gewoontes aanleer. In die proses word ek ‘n nuwe mens met nuwe gewoontes van selfbeheersing.
Daar is niks soos die krag van selfbeheersing nie. Dit is soos ‘n damwal. Die water word beheer. Dit word ‘n beheerste aksie. Dit hou ‘n dam vol water. Water gee lewe en krag. Kragstasies kan gebou word by damwalle. Daarom is selfbeheersing in wat ek sê, dink en doen seker die kragtigste gewoonte wat ek kan aanleer.
“Wees versigtig wat jy dink, dit word jou woorde. Wees versigtig wat jy sê, dit word jou aksies. Wees versigtig wat jy doen, dit word jou gewoonte. Wees versigtig met jou gewoontes, dit bou jou karakter.” (Frank Outlaw)
Mag die Here ons leer van “selfbeheersing”. Mag dit ‘n gewoonte word in ons lewe. Dan is ons manne en vroue van karakter. Dan is ons geseënd met die krag van selfbeheersing. Dan is ons ‘n krag in onsself.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)