Die dissipline van diens

SKRIFLESING:  Johannes 13: 1 – 13 en Handelinge 9: 36 – 43

Die handdoek is die simbool van diens. Met die voetewas van die dissipels het die Here ’n handdoek om Hom vasgemaak om te dien.

Die teenoorgestelde van diens is egoïsme en onbetrokkenheid. Diens maak ’n einde aan die wêreld se behoefte en begeerte dat daar ’n “rangorde” moet wees. Ons is baie soos hoenders. In die hoenderhok is daar geen vrede voordat dit nie duidelik is wie die belangrikste is nie.  En wie die onbelangrikste is nie en wie ander status tussenin het nie. Die gefladder hou eers op as die rangorde uitgesorteer is. ’n Groep mense kan nou eenmaal nie lank genoeg bymekaar wees nie of ’n “rangorde” moet duidelik bepaal word. 

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir sy dissipels ’n les in Johannes 13. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ’n maaltyd.

Hierdie maaltyd was dan ook die geleentheid waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer het oor die naderende kruisdood van Jesus, was hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere-posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is. Wie bedien sal word en wie sal dien. So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ’n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die self-gesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ’n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe hy sy bokleed uittrek, op sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ’n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ’n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ’n slaaf kom doen. Hierdie voetewassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het sy alles, tot sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle bedien het, moet julle mekaar dien.

Wie so ’n dissipel van die Here is, is geloofwaardig. Met ander woorde, die egtheid van ons geloof word getoets aan die mate waarop ons diens heenwys na Christus. Christus het jou BEDIEN aan die kruis, daarom moet ons mekaar DIEN.

Nog ’n mooi voorbeeld in die Bybel van diens is die verhaal van Tabita of ook Dorkas wat gesterf het. Haar afsterwe is wyd betreur en almal, Jood en Griek, het van haar goed gepraat. Hulle het die volgende oor haar gesê: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

Hulle het selfs die klere wat sy vir die armes gemaak het as getuienis voorgehou van haar voorbeeldige lewe.

Sy was as Tabita en as Dorkas bekend. Tabita was haar Joodse naam en Dorkas was haar Griekse naam. Sy was letterlik in die Joodse en Griekse gemeenskap bekend as ’n goeie en barmhartige vrou. Sy het goed gedoen aan die Joodse en Griekse weduwees. Sy het nie onderskeid getref nie.

In die Bybel was ’n weduwee werklik uitgelewer aan die aalmoese van ander. In daardie tyd was daar nog nie staatstoelaes en pensioenfondse nie. Wanneer ’n vrou se man sterf, was sy werklik arm en hulpbehoewend. ’n Weduwee is gereken as die armste onder die armes. Oor hierdie vroue het Tabita haar bekommer.

Toe Tabita tot sterwe kom, was daar hartseer onder die Joodse en Griekse gemeenskap. Almal het haar gemis. Deur haar barmhartigheidswerk het sy as’t ware Jood en Griek bymekaar gebring. Almal het met lof van haar gepraat.

Tabita het ’n spoor nagelaat van Christelike barmhartigheid en deernis. Sy het haar eie grafskrif geskryf met die woorde: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

God roep ons juis op deur die voorbeeld van Tabita om ’n goeie spoor na te laat. Ja, om ’n aangename geur van lewe te versprei, sodat ons iets vir ander mense kan beteken.

Wat belangrik is, is dat ons net soos Tabita ’n goeie spoor moet agterlaat vir alle mense. Tabita het goed gedoen aan Jood en Griek. Net so moet ons ook goed doen aan alle mense sonder onderskeid. Om waarlik goed te doen, beteken om geen onderskeid te maak nie, maar onvoorwaardelik te dien.

Ware heiliges is mense soos Tabita, wat dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Die vraag is óf ons lewe van so ’n aard is dat ons dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Want sien, as ons ’n verkeerde voorbeeld stel, maak ons dit vir ander mense moeiliker om te glo.

Dit gaan nie daaroor dat ons alle vorms van leierskap of gesag moet afskaf nie. Die punt is eerder dat Jesus ’n heel ander betekenis aan leierskap gegee het. Om te kan lei, moet jy bereid wees om te kan dien. Daarom staan daar in Mat 20: 25 – 28  die volgende: “Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.”

Daarom word die geestelike gesag van Jesus nie deur ’n posisie of ’n titel bepaal nie, maar deur ’n handdoek.

Ons moet versigtig wees vir selfvoldane diens wat begaan is oor “’n groot storie” en begaan is oor indrukwekkende winste op die geestelike telborde, sê Richard Foster. Diens moet in nederigheid en sonder selfvertoon geskied.

Van al die geestelike dissiplines bevorder diens die groei van nederigheid die meeste. Die skrywer Law verstaan dat dit die dissipline van diens is wat ’n mens nederig maak.

Die voortreflikste diens is die diens wat in die verborgenheid plaasvind. Selfs openbare leiers kan diens verrig wat nie in die algemeen bekend is nie. As ons net dien daar waar ons raakgesien word, is ons beslis oppervlakkige mense.   

Daar is ook die diens om ander mense se reputasie te beskerm, soos Bernard van Clairvaux dit stel, naamlik die diens van “mensliewendheid”. Daarom is dit  ’n diens om jouself vry te hou van skinderpraatjies en kwaadpratery. Die apostel Paulus leer ons om nie van iemand kwaad te praat nie. Die dissipline om stil te bly, kan wonders in ons lewens verrig.

Daar is ook die diens van gasvryheid. In die Bybelse tyd was gasvryheid baie hoog gereken. Ons voorouers, veral in die Voortrekkertyd, was ook bekend vir hulle gasvryheid. Toe daar nog nie motors was nie en die mense met perdekarre gery het, het hulle by elke huis langs die pad gekuier en gehoor wat hulle vir die mense kan saambring uit die dorp.

Daar is ook die diens van luister. Ons praat te veel en luister te min na mekaar. Net soos ons na die Woord moet luister, moet ons na mekaar luister. Ons hoef nie die regte antwoorde te ken om goed te luister nie. Die regte antwoorde verhinder ons om somtyds goed te luister.

Daar is ook die diens om mekaar se laste te dra. Daarom is die kerk as gemeenskap van gelowiges daar om mekaar te ondersteun in voorspoed en in swaarkry.

Diens kan nie in “absentia” gelewer word nie. Dit vereis ons persoonlike betrokkenheid. Soos Franciskus van Assisi moet ons die melaatse aanraak en na die een in nood uitreik. Die dissipline van diens vra van ons om te dien sonder onderskeid.

Daarom moet ons elke dag begin deur te bid: “Here Jesus, soos dit U behaag, stuur vandag iemand wat ek kan dien, na my toe.”

Mag dit ook u bede wees.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

Die dissipline van eenvoud

SKRIFLESING:  Luk 12: 33 – 34

Eenvoud is mooi. Ons maak die lewe ingewikkeld deur baie onnodige weelde en besige agendas. Foster beskryf die Christelike dissipline van eenvoud as ’n innerlike werklikheid, wat in ’n uiterlike lewenswyse tot uiting kom. Jy moet eers in jou hart en ingesteldheid eenvoudig dink oor die lewe, voordat dit in die uiterlike gesien kan word.

Kierkegaard het die kern van die Christelike eenvoud raak beskryf in sy boek, “Purity of heart is to will one thing.” Ons ervaring van innerlike eenvoud maak ons uiterlik vry. Die hunkering na status, rykdom en posisie in die samelewing verdwyn, omdat ons dit nie meer nodig het nie. Ons morele kompas is nou innerlike eenvoud en om met die eenvoudige dinge in die lewe tevrede te wees. Richard E Byrd het uit die barre Antarktika  geskryf: “Ek is besig om te leer … dat ’n mens diep kan lewe sonder hope dinge.”

Dikwels koop mense dinge waarvan hulle nie eers hou nie, en wat hulle nòg nodig het nòg geniet, maar bloot omdat hulle mense wil beïndruk. Status, geld, besittings en geldgierigheid is die dryfvere van mense se bestaan en dit laat die wêreld-ekonomie tik. Hebsug word ambisie genoem, opgaring noem ons verstandigheid en gierigheid noem ons ondernemingsgees.

Vir ryk mense het die mensdom agting en op hulle wat eenvoudig lewe word neergesien. As ons maar besef dat alles tot niks kom. As ’n mens jonk is, koop jy ’n huis; jy bou aan; maak alles groter, en koop meer meubels, want jy het kinders. As die kinders eers die huis verlaat, is die algemene wet dat mense weer wil kleiner gaan. Die huis is te groot om te onderhou en skoon te hou. Dan gaan mense weer kleiner en gee hulle besittings vir hulle kinders of verkoop dit en gaan bly in ’n kleiner wooneenheid. Later as jy heelwat ouer geword het, beland jy in ’n ouetehuis met net ’n bed, tafel en stoel. As jy heeltemal te oud is en nie meer veilig kan bestuur nie, dan neem die kinders jou motor ook van jou af weg. So baat al ons ywer en versameling van goed deur die jare niks. Alles kom tot niks. Aan die einde van ons lewe beland ons in die nissie in die kerkmuur, met regtig niks nie, behalwe die inskripsie op die steen, dat jy eenmaal geleef het.

Psalm 62: 11 (b) lees: “Rykdom, as dit toeneem –  moet julle hart nie daarop sit nie.” Rykdom en die versameling van goed is nie verkeerd nie, maar jy moet nie jou hart daarop sit nie. Jou besittings moet nie vir jou ’n Mammon word nie, want ’n mens kan nie vir twee base tegelyk werk nie. Jy kan nie die Here en Mammon dien nie. 

In Spreuke 11: 28 (a) staan daar: “Wie op sy rykdom vertrou, val self.” ’n Mens moet rykdom en besittings in die regte lig sien. Die volgende twee stellings is verkeerd, naamlik om “’n oormaat vertroue in besittings te stel”, asook “totale asketisme, wat met armoede gepaardgaan.” Die Here wil nie een van die twee hê nie. ’n Oormaat vertroue in besittings, maak dat ons Mammon dien, maar ewe verkeerd is om uit vrye keuse in totale armoede te lewe.  Gedwonge armoede is ook uit die bose. Die Here wil nie hê ons moet gebrek ly en onsself verneder nie. Asketisme doen afstand van besittings. Eenvoud plaas besittings in die regte perspektief. Asketisme laat geen ruimte vir “’n land wat oorloop van melk en heuning” nie. Eenvoud is tevrede met armoede sowel as met oorvloed. (Fil 4: 12) Die Here wil vir ons genoeg gee en hê dat ons daarmee tevrede moet wees.

Daar is niks verkeerd daarmee om besittings te hê en dit te geniet nie. Die aartsvaders soos Abraham en Jakob was ook baie ryk. Lot in die Bybel was ook baie ryk. Maar die Here het Lot se hart getoets om te bepaal of hy die Here net dien oor die besittings. Maar toe God al die besittings van Lot af weggevat het, het hy nog steeds die Here gedien. Sy liefde vir die Here het nie verkoel toe sy besittings en geliefdes weggeval het nie. Lot het die Here gedien en nie vir Mammon nie. Daarom het die Here later vir Job tienvoudig teruggegee wat van hom af weggevat is.

Wanneer rykdom en goed jou te na aan die hart lê, kan jy moeilik in die koninkryk van God kom. Daarom sê die Here dat dit vir ’n ryke net so moeilik is om in die koninkryk van God te kom as wat dit vir ’n kameel is om deur ’n naald se oog te gaan. Jesus het gesien watter houvas rykdom op ’n mens kan hê. Hy het geweet waar jou skat is, sal ook jou hart wees. Daarom het Hy sy volgelinge beveel om nie vir hulle skatte op aarde bymekaar te maak nie.

In Luk 12: 33 – 34 staan daar: “Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ’n onuitputlike skat in die hemel, waar ’n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Dit beteken dat as die Here vir jou ryklik gee, jy nie suinig moet wees om vir die armes te gee nie. Daardeur sal jy bewys lewer dat Mammon nie jou god is nie. Foster skryf: “Eenvoud stel ons vry om die voorsiening van God te aanvaar as ’n gawe wat nie vir onsself gehou moet word nie, maar vrylik met ander gedeel moet word.”

Belangrike beginsels is: Koop dinge omdat hulle nuttig is, nie oor hulle status nie. Veral motors moet oor hulle nuttigheidswaarde gekoop word en nie oor die status wat dit vir jou gee nie. Moenie elke seisoen die nuutste modes in klere najaag nie. Modes is daar sodat modehuise kan geld maak. Verwerp alles wat jou kan verslaaf. Kweek die gewoonte aan om dinge weg te gee. Gee byvoorbeeld jou tweedehandse klere vir Agapé Winkel. Hulle verkoop dit goedkoop aan die armes. Die opbrengs word gebruik om projekte by Huis Corrie Dreyer te finansier. In die proses help jy die armes en die Ouetehuis.

Geniet dinge, sonder om dit te besit. Jy kan parke, strande en openbare ruimtes geniet sonder om dit te besit.

Vermy finansiële praktyke waar jy moontlik ander mense kan onderdruk. Betaal ’n regverdige loon. Jou weegskaal moet reg ingestel wees as jy dinge verkoop. Moenie mense finansieel uitbuit nie.

Minimalisme behoort die gelowige se wagwoord te word as dit by eenvoud kom. Strewe na die minimum. Oortollige goed vergader net stof en roes. Raak ontslae van goed wat jy opgegaar het deur die jare. Jy sal ’n stuk vryheid in minimalisme ontdek. Koop die goed wat jy werklik nodig het. Geniet ook jou besittings, want dit is gawes uit die hand van God.

Leef in eenvoud en jy sal God sien.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.   

Die dissipline van gebed

SKRIFLESING:  Jakobus 4: 3 en Jakobus 5: 13 – 20

As ’n outydse waterpomp gereeld gebruik word, is min inspanning nodig om water te pomp; die water stort met die eerste probeerslag uit, want die watervlak is hoog. Maar as die pomp vir ’n lang tyd nie gebruik is nie, daal die watervlak  en as jy dan water wil hê, moet jy ’n lang ruk pomp voordat die water uitkom, na groot inspanning. Dit is so met gebed ook; as ons ’n gereelde gebedslewe het, dan maak elke klein omstandigheid die ingesteldheid om te bid wakker, en ons begeertes en ons woorde is altyd gereed. Maar as ons ons gebedslewe verwaarloos, is dit vir ons moeilik om te bid, want die water in die put raak laag. Baie van ons se gebedslewe is ook soos ’n waterput waaruit lanklaas gepomp is. Gebed kom nie so maklik as jy nie gereeld bid nie.

Die Heidelbergse Kategismus beskryf gebed as die vernaamste element van ’n mens se dankbaarheid. Gebed is een van die vernaamste dissiplines in ’n mens se geloofslewe.

Om te bid, is om te verander. God gebruik gebed nie net om sake te verander nie, maar ook om ons te verander. Opregte gebed spreek die sake aan waarvoor ons bid, maar dit verander ons lewe ook. Jakobus 4:3 sê dat ons dikwels verkeerd bid: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Ons moet nie net bid soos van ’n inkopielys af nie, maar ons moet ook bid vir ander mense, vir lewensverandering in ons lewe en dat God se wil al meer sigbaar sal word in ons lewe. Hoe nader ons aan die hartklop van God kom in ons gebedslewe, hoe meer sal ons verander word na die beeld van God. Ek moet ook teen myself en my vleeslike begeertes bid en vir God vra om vir my die geestelike gawes te gee wat ek kortkom. In opregte gebed, begin ons die dinge begeer wat God begeer, om die dinge lief te hê wat Hy liefhet en die dinge te wil wat Hy wil.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord, let your Kingdom COME”, moet ons daarmee saam bid: “Lord, let my Kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike commitment en toewyding.

Sφren Kierkegaard het een maal opgemerk dat hy eers gedink het om te bid is om net te praat. Tot hy die geheim van gebed geleer het en dit was om ook te luister. Om na God te luister en te luister daar waar daar nood is. Dikwels kort ons medelye in ons gebedslewe. Daar moet opregte empatie wees tussen die bidder en die een vir wie gebid word. Daarom moet ons mense opreg liefhê om regtig vir hulle te bid.

Daar is ook iets soos “flitsgebede”; dit is wanneer jy iemand deur die dag raakloop wat ’n gebed benodig. Dit is om tussen jou aktiwiteite deur vir iemand te bid, selfs al is jou oë oop. As ’n taxibestuurder onverskillig bestuur en ’n sperstreep op ’n hoogte verbygaan, kan jy vir hom bid vir insig en dat hy veilig mag wees. In die proses vat dit ook jou padwoede weg. As jy voel jy ervaar  padwoede oor ander mense se onverskillige bestuursvermoë, moet jy net bid. Dit bring kalmte in jou gemoed.   

Almal wat in ’n diep verhouding met God was, het gebed as die hoofsaak in hulle lewens beskou. Die Here Jesus stel self vir ons daarin ’n voorbeeld in Mark 1:35 wat as volg lees: “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.”

Martin Luther het verklaar: “Ek het so baie sake om af te handel dat ek nie kan vordering maak as ek nie elke dag drie ure lank bid nie.”

Soms bid ons net vir dinge. Die verhaal word vertel van ’n predikant wat na Johnnie se huis gekom het, en tydens die gesprek het hy hom gevra: “Bid jy elke aand, my seuntjie?” “Nee,” antwoord Johnnie, “sommige aande wil ek niks hê nie.” Sommige mense deel hierdie selfsugtige siening van gebed. Gebed is nie net vir persoonlike versoeke nie – dit is vir belydenis, lof, danksegging, aanbidding en voorbidding vir ander. Gebed is ’n bediening van smeking vir ander en aanbidding van God, sowel as versoeke vir myself.

In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Gelowiges moet vir mekaar bid. Wanneer iemand siek is, moet die ouderling ontbied word om vir die sieke te bid. Verder sê Jakobus in hoofstuk 5:16 die volgende: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Met hierdie “gesond word” word bedoel die gebrokenheid in die gemeenskap wat gesond moet word. In Jakobus se tyd was daar in die vroeë kerk baie spanning rondom klasseverskille, kultuurverskille, ryk en arm, die veragting van die weerloses en die misbruik van die tong. Dan moedig Jakobus die gelowiges aan om te bid, dat die spanning en verskeurdheid tussen die gelowiges gesond sal word.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ’n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en in die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou gebid dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

Ons moet nie wag om so te “voelvoor ons bid nie. Gebed is soos enige ander werk. In die begin voel ons nie lus nie, maar ons dwing onsself om dit te doen. Na ’n rukkie word dit lekker en jy geniet dit. Daarom is gebed ’n geestelike dissipline. Daarom moet ons gebedspiere opgewarm word, sodat wanneer die bloedvloei van voorbidding eers begin het, ons dit sal geniet.    

Ek hoef nie soos ’n Concorde-vliegtuig, grasieus en voortreflik, te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Te midde van ’n menigte aktiwiteite, moet ons nie toelaat dat enigiets ons gebedstyd indring nie. Die duiwel sal ons so besig hou, dat hy ons net nie biddend  kry nie. Hy weet dat hy geen wapen teen gebed het nie. Hou u gebedstyd met alle ywer, soos Daniël, wat drie keer per dag tot die Here gebid het.       

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat vir God aanneemlik is.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Woestynmense soek dieper

SKRIFLESING:  Luk 3: 1 – 20

Willem Nicol skryf in sy boek “Gebed van die hart”: “Diep in ons weet ons dat ons moet soek wat ons verloor het.” Augustinus was ook bekend vir sy woorde: “By God alleen het ek rus gevind.”

Woestyne vorm ’n belangrike deel van die Bybelse teologie. Telkemale lees ons in die Bybel van woestynervarings wat die volk Israel of sekere indiwidue deurgegaan het. Die 40 jaar wat die volk Israel deur die woestyn getrek het, was ’n suiweringsproses, sodat die volk kon leer om net van God afhanklik te wees. Die verhaal van Johannes die Doper in die woestyn is ook ’n verhaal van suiwering. Johannes die Doper het homself afgesonder in die woestyn, sodat hy God helder kon hoor en sy prediking van bekering onverstoord kon bring na die skare. Sy klere was kameelhare en sy kos was sprinkane en heuning. Die mense het gestroom om na sy prediking te luister, wat eg, anders en deur God geïnspireer was.

Johannes die Doper se unieke lewe en lewensomstandighede, sy wysheid en sy prediking het meegewerk tot die ontstaan van die woestynvaders.    In vandag se preek gaan ek aan u verduidelik hoe die era van die woestynvaders ontstaan het.

In die Middeleeue was Vader Wetenskap en Moeder Kerk met mekaar getroud. Die wetenskap kon niks sê wat die kerk nie eers gesanksioneer het nie. Daar was dus nie ruimte vir objektiewe selfstandige wetenskapbeoefening nie.

As die wetenskap iets nuuts op die tafel plaas en die kerk was nie daarmee gelukkig nie, is sodanige wetenskaplikes maklik gebrandmerk as ketters en ook vervolg. Toe kom daar ná die Donker Middeleeue ’n groot egskeiding tussen Wetenskap en Kerk.

Ons noem dit die Verligting. Die paaie van die wetenskap en die kerk het nou geskei en wetenskaplikes het hulle nie meer gesteur aan die sanksionering deur die kerk nie. Dit was die begin van die ontstaan van Universiteite wat met objektiewe maatstawwe nuwe kennis gegenereer het. Daar het as’t ware ’n skeiding gekom tussen brein en hartsdinge. Dit was ’n positiewe ontwikkeling, maar dit het nie die mens se soeke na God, na die misterie, minder gemaak nie. Inteendeel die soeke na God word net al groter en daarom is daar wêreldwyd ’n ontwaking van spiritualiteit. Een van die sogenaamde Godsbewyse is dat die mens in homself / haarself  ’n behoefte het na ’n hoër misterie, wat ons God noem.

Daarom is dit ’n ernstige fout om brein en hartsdinge van mekaar te skei. Eintlik moet alles, die brein én hartsdinge, deel wees van spiritualiteit. Thomas Merton, die Katolieke teoloog, skryf: “How mistaken I was to make contemplation only a part of […] life. For a contemplative his whole life is contemplation.”

Ronell Bezuidenhout skryf: “Alles wat ek doen, doen ek as ’n spirituele mens. Alles wat spiritueel is, doen ek as ’n denkende mens.” Daarom behoort daar nie ’n kloof te wees tussen die wetenskap en die kerk nie. Ook die wetenskap getuig van die misterie van God. Daarom praat ons van die CORAM DEO – dit is om  alles voor die aangesig van God te beleef.

Maar ons moet nog verder teruggaan om die era van die woestynvaders te verstaan. Aanvanklik was die vroeë kerk erg vervolg, omdat hulle nie die keiser aanbid het nie. Keiser Domitianus het byvoorbeeld ekonomiese sanksies ingestel teenoor enigiemand wat hom nie as “kurios” aanbid het nie. Eers as jy voor die beeld van die keiser buig en ’n offer bring, het jy ’n merkteken gekry op jou hand of voorkop, wat jou toestemming verleen het om in die stad handel te dryf. Die Christene kon dus inderdaad nie voor die keiser buig nie, want hulle kon slegs buig voor die “Kurios” van die kuriosse. Dit het daartoe gelei dat hulle letterlik “ ’n stryd ten brode” gevoer het om aan die lewe te bly.

Hulle het hulleself inderdaad as vreemdelinge en bywoners in die wêreld beskou. Diognetus het geskryf (vrylik vertaal): “Alhoewel hierdie mense (die Christene), net soos ons, in huise bly, is hul gedrag meer soos dié van onbekende mense. Hulle neem deel aan die aktiwiteite van die stad, net soos  ons, maar in alles is hulle vreemdelinge. Enige vreemde land is vir hulle ’n moederland, en enige moederland is vir hulle ’n vreemde land.” 

In die vierde eeu het keiser Konstantyn hom tot die Christelike geloof bekeer. Hy het staatsveiligheid aan al die Christene gewaarborg en dit het ’n einde gebring aan die swaarkry en vervolging van Christene. Dit was enersyds ’n wonderlike ontwikkeling, maar dit het ook slegte nuus vir die Christene beteken. Hulle het verleer om te ly en swaar te kry vir hulle geloof. Die betekenis om “vreemdeling” en “bywoner” te wees, het vervaag. Dit het so goed met die Christendom gegaan dat hulle spoedig in hulle geloofslewe vervlak het.

Vir duisende Christene was die vervlakking van die geloofslewe vir hulle onaanvaarbaar. Hulle het toe hulle toevlug geneem tot woestyne, om weer te ervaar wat dit beteken om ’n “vreemdeling” of  ’n “bywoner” te wees. Hulle wou wegvlug van die oppervlakkigheid en die vervlakking van die alledaagse lewe. Hulle wou God diep en intiem ervaar. Daarom het hulle na woestyne toe gevlug. Woestyne is plekke van stilte. In die stilte kon hulle God se stem weer hoor. Woestyne speel ’n belangrike rol as ’n tussentydperk vir “tussen-in-mense”. Ons leef tussen Oos van Eden en die hemelstad. Ons moet ons nie te gemaklik maak in hierdie lewe nie. Daarom speel woestyne ’n belangrike rol in die Bybelse geskiedenis.

  • Die verhaal van Abraham die aartsvader speel af in die woestyn.
  • Moses leef in die woestyn, om hom gereed te maak om die volk uit Egipte te verlos.
  • Die volk Israel trek 40 jaar deur die woestyn.
  • Elia vlug na die woestyn toe Isebel hom wou doodmaak, omdat hy die Baälprofete uitgeroei het.
  • Johannes die Doper het in die woestyn die pad vir die Here gelyk gemaak.
  • Jesus Christus was vir 40 dae in die woestyn, om Hom gereed te maak vir Sy aardse bediening.

Woestyne is plekke van stroping, van stryd, van afsondering, van nuwe ontmoetings, van lewensverdieping en ’n plek van geboorte. In woestyne word jy gevorm tot ’n beter kwaliteit lewe.

Daarom ervaar mense wat deur woestyn-tye in hulle lewe gaan, dat dit van die beste tye in hulle lewe was. Hulle het weer geleer om afhanklik van God te wees. Woestyn-tye kan wees ernstige siekte, kanker, finansiële nood, alleenheid, egskeiding, dood van ’n geliefde of enige ander stuk swaarkry wat oor ’n mens se lewenspad kom. Woestyn-tye stroop jou van trots en selfversekering, soos wat die herfs die bome stroop van hulle blare. Daarom is daar ook in die herfs- en wintertye van jou lewe ’n unieke skoonheid en verdieping, wat jou nader aan die Here bring.      

Die vroegste woestynbewoners het nie gevlug uit die dorpe om niks vir die samelewing te beteken nie. Nee, hulle het juis woestyne toe getrek om hulself geestelik te verdiep, ten einde geestelike begeleiers te word vir ander.

In die embrio-fase van die Monastiese fase van die kloosterlewe het monnike en nonne buite die dorpe in die begraafplase gewoon, om die demone te beveg en so die dorp te beskerm. Daar was die bygeloof dat demone deur die dag die dorp invaar om die dorpelinge te teister en dan snags na die grafte terugkeer om te “rus”, want demone moet darem ook rus. Die woestynbewoners het dan deur gebed en afsondering in die nag die demone beveg.

Later het hulle kloosters opgerig in woestyne, wat ’n plek was van studie, wysheid, geleerdheid, toewyding, egtheid, en uiterste geloofsdissiplines. Mense van die dorpe en stede het na hulle gestroom om wysheid en geestelike begeleiding. Kloosters in die woestyne het plekke geword van diep nadenke oor God. Daar was geen plek vir oppervlakkigheid en vervlakking nie. Gelowiges is gevorm om unieke Geesvervulde lewens van oorgawe te leef.

Ronell Bezuidenhout skryf: “Die ou kerkvaders en -moeders het geweet dat om die ‘gestalte van Jesus’ aan te neem – om die mens te word soos God menswees oorspronklik bedoel het om te wees – nie vanself gebeur nie. Die gawe van kindskap van God word gratis aan jou gebied. Met ander woorde, jy is dit! Maar dan impliseer dit steeds dat jy, in die woorde van die Hebreërskrywer, jou babakos moet los en vaste kos moet begin eet. Jy kan nie in jou ‘baba-fase’ van kindskap bly nie. Min dinge in hierdie lewe kom sonder inspanning.”

Is jy en ek bereid om in hierdie tyd van Pinkster, onsself weer opnuut toe te wy om die Here met die nodige inspanning te dien, soos wat die woestynvaders vir ons die voorbeeld gestel het?

Gestroop van alles, was Johannes die Doper ’n besondere werktuig in die hande van die Here. Mag ons ook gestroop word van dit wat in die pad staan van die egtheid van ons geloof.                                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Bezuidenhout, Ronel (2015-02-18). Woestynwysheid. Ervaar God opnuut (Afrikaanse uitgawe). Lux Verbi. Kindle Edition.

Die hemelvaart is die begin van ‘n nuwe era

SKRIFLESING:  Handelinge 1: 6 – 14

Tot voor  1994 se demokratiese verkiesing was Hemelvaart ’n openbare vakansiedag.

Daarna het dit ’n gewone werksdag geword. Hemelvaart is die stiefsuster van die reeks van kerklike feesdae. Kerkbywoning van Hemelvaart-dienste in die NG Kerk is landswyd swak. Daar word nie soveel waarde aan die dag geheg nie. Maar dit is ’n fout. Hemelvaart het ’n sleutelbetekenis in die teologie van die kerk. Die Hemelvaart is geen geringe saak nie. Die belangrikheid van Hemelvaart word duidelik in al drie die ekumeniese belydenisskrifte uitgespel. Dit lees as volg:   

Die Apostoliese Geloofsbelydenis bely:

“Ek glo in Jesus Christus… wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, van waar hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.”

Geloofsbelydenis van Nicea:

“Ons glo in een Heer Jesus Christus, die eniggebore Seun van God… wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van die Vader; wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie.”

Geloofsbelydenis van Athanasius:

“Ons glo in die  Here Jesus Christus wat opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en van daar sal kom om hulle wat nog lewe en hulle wat reeds gesterf het, te oordeel.”

’n Predikant (onbekend) van die NG Kerk Kraggakamma het geskryf   “die Hemelvaart lei ’n nuwe era binne.”

Dan verduidelik die predikant dat die “nuwe era” as volg verdeel kan word.

  1. Die nuwe era van Jesus se heerskappy
  2. Die era van die Gees
  3. Die era van die kerk
  4. Die era van verwagting

Ek gaan oor elkeen van die vierdeling van die nuwe era ’n paar van my eie gedagtes uitlig:

  1. Die Hemelvaart lei die nuwe era van Jesus se heerskappy in

Met Jesus se menswording is Hy verneder en die mense het nie van Hom gehou nie. Hy is vervolg en het later gesterf aan die kruis. Die kruisdood was die laagtepunt van Sy vernedering.

Met Sy Hemelvaart is Hy verhoog tot die hemel en het Hy gaan sit aan die regterkant van Sy Vader.  Die regterkant beteken Jesus het ’n ereposisie ingeneem langs Sy Vader. Jesus heers oor die hemel en die aarde. Hy heers dus ook oor die kerk. Aan die regterkant van Sy Vader het Hy ook ons advokaat en Parakleet (voorspraak) geword. Ons het nou ’n direkte lyn na God deur gebed. Die hemel is ook ’n onsigbare dimensie, waar daar geen lyding,  seer en hartseer is nie. Daarom het Hy deur Sy Hemelvaart vir ons die hemel oopgesluit, sodat as ons sterwe ons by Hom sal wees in ’n nuwe geestelike liggaam. Dan sal ons ook verheerlik word voor die troon van die Vader.

  • Die Hemelvaart lei die era van die Gees in

Na die Hemelvaart was die dissipels ’n groep verskrikte mense. Hulle het gevoel dat hulle as weeskinders agtergelaat is. Hulle het die Evangelie geglo, maar hulle het nie die krag gehad om daaroor te getuig nie.

Hulle was te bang vir die Jode en die Romeine. Tien dae later het God Sy Gees op hulle uitgestort. Hulle is met die Gees vervul en kon skielik kragdadig getuig aangaande die Evangelie van Jesus Christus. Op Pinkstersondag het 3000 mense kragdadig tot bekering gekom deur die prediking van Petrus. Met die uitstorting van die Gees is al die geestelike gawes op God se kinders en die kerk uitgestort. Die gawes van uitverkiesing, roeping, wedergeboorte, bekering, regverdigmaking, heiligmaking, volharding en verheerliking is aan die kerk gegee. Daar is ook spesifieke gawes aan die kerk gegee soos die gawe van prediking, lering, gesondmaking en ook ander gawes.

So het die era van die Gees aangebreek. Met die uitstorting van die Gees was daar ’n  skouspel met die spreek in tale, vuurtonge en die wind. Dit was soos ’n reuse-waterval wat skouspelagtig afkom. Daarna het die Gees se werk geword soos ’n magtige rivier wat rustig afkom. Deur die eeue het God se Gees in die kerk gewerk en miljoene het tot bekering en geloof gekom. Deur die Gees se werking is daar vandag kerke in die meeste plekke in die wêreld. In Suid-Afrika het selfs die kleinste dorpies Christelike kerke. Die Gees werk magtig en kragtig in die geskiedenis en in die lewe van die kerk en die gelowiges.

  • Die Hemelvaart lei die nuwe era van die kerk in

In die Ou Testament het die kerk nie bestaan nie. Dit was ’n teologie van Israel as die uitverkore volk van God. Dit was amper iets van ’n volksteologie.

Maar Jesus Christus het vir die wêreld gesterf. In Hom is al die nasies van die aarde geseënd. (Joh 3:16) Daarom was die laaste opdrag van die Here Jesus toe Hy opgevaar het na die hemel, dat die dissipels na die hele wêreld moet gaan en die Evangelie moet verkondig. Jesus het as’t ware met Sy Hemelvaart die aarde fisies verlaat en Sy werk oorgegee aan die kerk. Daarom het die Evangelie  so sterk gegroei in die vroeë kerk, maar ook deur die eeue. Die apostels het die Bybelboeke geskryf, maar Jesus het die kerk gestig en met sy Hemelvaart die aflosstokkie van die verkondiging en diakonaat aan die kerk oorgegee.  

  • Die Hemelvaart lei die era van verwagting in

Met Sy Hemelvaart het die Here Jesus beloof  dat Hy net so sal terugkom as wat Hy hulle verlaat. Dan gaan Hy sy bruid (die kerk) ontmoet.

Daarom, soos daar by ’n bruidegom en ’n bruid in die maande voor hulle trou, ’n verwagting en ’n afwagting is, net so leef die kerk ook in die toekomsverwagting van die wederkoms van die Here Jesus Christus. Daar is ook met die Hemelvaart die verwagting geskep dat ons deel sal hê aan die heerlikheid wat op ons wag, as ons tot sterwe kom. Soos wat ’n bruid haar gereed maak, so moet die kerk haar ook gereedmaak vir die wederkoms van Jesus Christus. Dit sal ’n blye en heerlike dag wees.

Verskeie tekens word voorgehou as voorspellers van die wederkoms. Onder andere word voorspel dat met die eindtyd  daar ’n “groot afvalligheid” sal wees. Hoe sien ons dit nie raak in die wêreld nie! Selfs bekende teoloë het die kerk vaarwel geroep en verval in ateïsme.

Daarom het die Hemelvaart vir ons groot betekenis. Die Hemelvaart is deel van ons belydenis as kerk. Daarom is die Hemelvaart geen geringe saak nie. Die Hemelvaart het die begin van ’n nuwe era ingelui. Daarom moet Hemelvaart  deur alle Christene gevier word as kerklike feesdag.

AMEN    

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die mens wil wegkruip en God wil in die oopte bring

SKRIFLESING:  Gen 3 – 4 en Ps 51

Om weg te kruip is ’n eeue-oue gebruik by mens en dier.

Diere en insekte kruip gewoonlik weg vir oorlewing. Party spinnekoppe grawe vir hulle gaatjies in die grond, met ’n dekseltjie wat hul oor die gaatjie plaas, waarin hulle kan wegkruip. Eekhorinkies kruip in bome weg. Baie diere, insekte en visse kamoefleer hulself deur die kleur of die vorm van die omliggende natuur aan te neem. Ons ken almal die verkleurmannetjie wat verkleur deur die kleur van die blare of die stam aan te neem en sodoende weg te kruip.

Die mensdom het baie by die diere geleer. Die eerste mensepaar het die diere goed nagevors en geleer om hulself te kan wegsteek. Toe Adam en Eva sonde doen en God hulle kom soek, voel hulle skielik skuldig. Skuldige gewetes sien vyande. Skielik is God hulle grootste vyand. Nou moet hulle vir God wegkruip.

Wat doen hulle om weg te kruip? Hulle kruip weg tussen die bosse en die bome van die tuin van Eden. Hulle kamoefleer hulle skaamte met vyeblare. Hulle ontken dat hulle die skuldiges is, deur die skuld te verplaas.

Van toe af sou wegkruip, kamoefleer en ontkenning die oorlewingstegnieke van die mens word om te vlug voor God. Voortaan sou die mens die vlugtende mens word.

Vandag kruip mense vir God weg agter hulle besige programme en agter hulle goeie werke. ’n Mens kan selfs vir God wegkruip binne jou godsdiens. ’n Mens kan so besig raak met die diens in godsdiens, dat jy nie meer tyd het vir die God van die godsdiens nie.

Vandag kamoefleer die mens homself agter maskers. Maskers van valse bravade, geleerdheid, ordentlikheid, beskaafdheid, geld, besittings, skoonheid, ambisie en so meer. Ons sien nie eers meer ons eie skande, ons eie sonde en sondigheid raak nie. Ons vergeet daar is iets soos beskaafde barbare of geleerde monsters of skone ondiere of ryk rowers of ambisieuse selfgode.

Om jou skuld te kan bely is nie so maklik nie. Niemand wil graag sê ek is die skuldige nie. Ons verplaas liewer die skuld op ’n ander een. So speel ons vroteier. Ons plaas die sakdoek agter iemand anders se rug. Adam en Eva het net so vroteier gespeel. (Ds. Neels du Plooy se gedagte) Die Here kom eerste na Adam en vra wat hy gedoen het. Adam gee toe sommer vir Eva en vir God die skuld, deur te sê dit is Eva, die vrou wat God vir hom gegee het, se skuld  en Eva sê dis die slang, en so gaan die bose kringloop aan.

Vandag ontken die mens sy skuld deur alle skuld na God te verplaas. Waar was God? Hoekom het God dit toegelaat? Is God dood? Waarom is God afwesig? Ons verplaas ons skuld so gerieflik na God toe. God word die vroteier. Daarom het ons God ook gekruisig. Maar elke dag kruisig ons die Here nog steeds deur die skuld op Hom te plaas.

Gelukkig het God hierdie bose kringloop kom deurbreek toe Hy aan die kruis kom sterwe het. Hy het die vroteier geword wat in die middel kom staan het. Die skande en die stank van die hele wêreld se sondes het op Hom neergekom. Hy het die vroteier van die wêreld geword, waarvoor almal hulle koppe weggedraai het. Die Bybel sê hy was die sondebok op wie die skuld neergekom het.

Dit was gebruik in die Joodse tradisie om ’n bok simbolies te belaai (te besprinkel) met die skuld van die Israeliete in die kamp en dan die bok alleen die woestyn in te stuur om as’t ware die sonde van die volk weg te dra. Later is die bok selfs van ’n hoë krans in die woestyn afgestoot om ’n einde te maak aan die sondes van die volk.

Die Here Jesus was dus die vroteier, die sondebok, die Lam sonder gebrek wat geslag is om die bose kringloop van skuld te verbreek om versoening en vergifnis moontlik te maak.

Aan die kruis het die Here Jesus ’n nuwe kringloop laat begin, naamlik die kringloop van vergifnis. Aan die kruis het hy geprewel: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Helmut Thielicke, die bekende Duitse teoloog en skrywer, sê dat die Here Jesus as’t ware vir ons daar aan die kruis ’n aflosstokkie van vergifnis aangee, met die opdrag om daarmee te hardloop en dit aan te gee na ons skuldenaars. Daarom leer Hy ons om te bid: “Vergewe ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Ons moet met die aflosstokkie van vergifnis hardloop en dit aangee vir ons huweliksmaats, ons kollegas, ons politieke opponente en vyande. As ek nie bereid is om dit te doen nie, word ek gediskwalifiseer, net soos ’n atleet wat die stokkie laat val of weier om die stokkie aan te gee aan die volgende atleet.

Vrees vir God en vrees vir my medemens sou die mens se lewe oorheers. Daarom kruip ons weg, kamoefleer ons onsself en ontken ons alle skuld om onsself te beskerm teen God en teen ons medemens.

Maar geen mens kan oorleef teen God nie. Ek kan nêrens wegkruip nie, want God is alomteenwoordig. Ek kan my nêrens kamoefleer teen God nie, want hy is alsiende. Ek is soos ’n goudvis in ’n ronde bolglashouer. Die goudvis kan nêrens wegkruip nie. Van alle kante kan die goudvis beskou word, selfs van onder ook.  Ek kan niks ontken nie, want God is alwetend.

Op ’n stadium het koning Dawid ook probeer om sy sondes (sy owerspel met Batseba en sy moord op Urija) weg te steek, en te ontken dat dit bestaan. Tot die profeet Natan na hom toe gekom het en vir hom – deur ’n storie te vertel –herinner het aan sy sonde.  Toe Dawid dit bely en in die oopte daarmee kom, toe herstel God hom, toe word hy die man “na aan die hart van God”.

’n Mufreuk of ’n stankreuk kan alleen verdwyn as dit in die oopte kom. As daar vensters oopgemaak word. Juis daarom wil die Here hê ons moet ons sondes bely teenoor Hom en teenoor mekaar.

Adam en Eva het vir God heeltemal verkeerd verstaan.

Adam en Eva vlug van God, hulle kruip weg … terwyl God op soek was daarna om hulle te red. Adam en Eva kamoefleer hulle skande met vyeblare wat kan verdroog en afval, terwyl God hulle wil bedek met klere wat van die velle van ’n dier, ’n bok, gemaak is. Ja, later sou God die volmaakte sondebok op Golgota slag wat die skande van die mensdom vir altyd sou bedek. Hy sou self die bruilofskleed voorsien. Adam en Eva ontken hulle sonde, ja verplaas dit na ’n ander een, terwyl God in Gen 3: 15 die sonde op Homself plaas.

Die mens wil vlug, wegkruip … God soek. Die mens kamoefleer … God bedek. Die mens ontken en verplaas … God plaas die skuld op Homself.   Hoe misverstaan ons nie vir God nie.

Wanneer God na die mens kom in die aandwindjie, kom soek Hy om te red, nie om te veroordeel nie.

’n Mens kan jou lewe slegs oorleef as jy jouself in God se hande oorgee. Dit is beter om in die hande van die lewende God te val, as om uit die hande van die lewende God te val.

In die ooptes sal jy God vind.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die “broken windows” teorie en ons geloofslewe

SKRIFLESING:  Gal 5: 16 – 25

Die broken windows teorie is in 1982 bekendgestel deur James Wilson en George Kelling. Dit is begin toepas in die 1990’s deur die New Yorkse polisiekommissaris William Bratton en majoor Rudy Giuliani.

Kom ek verduidelik vir u wat die broken windows teorie kortliks beteken. As daar ’n verlate gebou in ’n woonbuurt staan en iemand gooi een venster stukkend, klink dit nie so erg nie. Dit kon ’n ongeluk ook gewees het. As die venster nie dadelik reggemaak word nie, lok dit egter ander kriminele om ook vensters stukkend te gooi, omdat hulle agterkom daar is geen toesig nie. Wanneer die meeste ruite uitgeslaan is, sien die kriminele hier is geen polisiëring en toesig nie. Dan kom die dwelmsmouse om die gebou te begin gebruik vir dwelmhandel. Dan word die gebou en omgewing die teelaarde van al groter misdade.

Die broken windows teorie impliseer as jy klein misdade (petty crime) nie aanspreek nie, word die omgewing die teelaarde van al groter misdade. Vandalisme, publieke gebruik van drank, rommelstrooi, doellose rondlopery, graffiti, openbare urinering, die speel van harde musiek en vele ander klein misdade, wat nie aangespreek word deur die polisie nie, ontaard later in groot misdade soos moord, diefstal, gewapende roof, verkragting en so meer.

Maak gebreekte vensters reg, verwyder graffiti, spreek petty crime betyds aan en jy skep nie ’n teelaarde vir misdaad nie. Moenie ’n ongesonde habitat kweek wat misdaad-elemente laat floreer nie. So kan jy misdaad voorkom en ’n gesonde samelewing van wetsorde kweek.  

In ons gelese gedeelte, naamlik Gal 5: 16 – 25, word “Gees” teenoor “vlees” gestel. Die vlees met al sy begeertes skep ’n habitat vir satan en die bose. Die habitat of teelaarde vir die satan en die bose word as volg beskryf in Gal 5: 19 – 21: “Die praktyke van ons vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap en gefuif.” Bogenoemde sondes is die broken windows van die gelowiges. Wie die praktyke van die vlees beoefen, sal al meer verwyderd raak van God en sy/haar medemens. Die een sonde lei tot groter  sondes. As iemand skinder, dan bring hy skeuring en tweespalt. Skeuring lei weer tot twis. Twis lei tot vyandskap. Vyandskap lei weer tot afguns. Afguns lei tot bitterheid en onvergewensgesindheid. So word my geestelike lewe stukkend gegooi met die sondes. Dit word die teelaarde waar die satan heerskappy voer. Later lei die “kleiner sondes” tot groter sondes.

Daarom moet gelowiges die klein jakkalsies van sonde betyds doodmaak. Ek moet nie die jakkalsies (sonde) aan my boesem hou nie. Hulle word groot en sal my verslind. Wanneer ek vir die een versoeking val, val ek makliker vir ’n tweede en erger versoeking. Versoekinge en sonde sneeubal in die sondaar se lewe. Daarom moet sonde nie ’n vashouplek aan my kry nie. My geestelike lewe kan stukkend geslaan word deur die vandalisme van  sonde, soos die vensters van ’n groot gebou. In Christus Jesus kan ek die krag kry om die vlees met sy hartstogte en begeertes te kruisig.

Waar die sondes van die vlees die vensters stukkend gooi, plaas die Gees nuwe vensters in ons geestelike lewe. Wanneer die Gees in my lewe werk, word die werke van die vlees doodgemaak. Luister ’n bietjie watter nuwe vensters deur die Gees in my lewe gesit word. Ons lees daarvan in Gal 5: 22 – 23, wat as volg lui: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Deur hierdie nuwe vensters kan ek makliker vir God en my naaste raaksien.

Vers 25 roep ons op om in pas te bly met die Gees. As ons in pas bly met die Gees, sal ons gerehabiliteer word van ons sondes. “Om in pas te bly” verwys na soldate wat in ritme en pas moet bly as hulle marsjeer. Om in pas te bly, beteken jy moet konsentreer op elke bevel wat gegee word.  Jy moet jou laat lei deur die werking en ritme van die Gees.

Wanneer jy jou deur die Gees laat lei, maak jy die gebreekte vensters heel, en keer groter sondes in jou lewe.

’n Netjiese gebou of  fabriek trek nie sommer misdadigers nie. Misdadigers weet hier is mense wat kyk na die gebou. Maar ’n verwaarloosde gebou trek misdadigers.

Ons kan baie moeite doen om ons huis, ons tuin, ons voertuig en ons werksplek netjies te maak. Ons hou ons liggame skoon en ons kleredrag netjies. Maar die Here wil hê dat ook ons geestelike lewe netjies moet wees. My taal moet netjies wees sonder vloekwoorde en skinder. My gedrag moet netjies wees, sonder sondige dade. My gedagtes moet netjies wees, sonder sonde. My menseverhoudings moet netjies wees, sonder om in twis en tweedrag te lewe.

As my geestelike lewe netjies is, kan die duiwel nie ’n vatplek aan my kry nie. Die duiwel sal nie floreer in my lewe nie. My geestelike lewe sal bestand wees teen groot sonde, omdat ek in die klein dingetjies aan God gehoorsaam is.

Daarom moet ek die gebreekte vensters (die sonde) in my lewe herstel. Ek moet die sonde-graffiti in my lewe doodverf. Dan sal die satan weet dat die Gees in my lewe is en dat dit vir hom baie moeilik is om my in sonde te laat val.

Wanneer die groot duiwel vir die klein duiweltjies leer hoe om mense te versoek, dan leer hy hulle om die mense geleidelik te kondisioneer. Wanneer ’n mens ’n padda onmiddellik in warm water gooi, sal hy dadelik uitspring. Maar as die water waarin die padda is, normale temperatuur is en jy verhoog die temperatuur geleidelik, sal die padda nie agterkom dat die water verhit nie, en sodoende sal die padda doodbrand in die kokende water. Net so konfronteer die duiwel ons nie onmiddellik met groot sondes nie. Hy maak ons stadig maar seker aan sondes gewoond. Eers moet jy aan kleiner sondes gewoond raak en dan val jy later vir groot sondes. Eers ’n ligte flirtasie, wat later egbreuk en owerspel raak.  Die diefstal van ’n paar rand word later bedrog op groot skaal. ’n Toevallige vloekwoord kan later ’n gewoonte van vloek word, sodat jy soos ’n matroos vloek. Daarom ook, as jy die gewone padreëls gehoorsaam, sal jy heel waarskynlik ook in die groot dinge van die lewe getrou wees. ’n Mens leer sondige gewoontes aan wat klein begin en later lelike gewoontes word.

Augustinus het gesê sonde is “privatio boni” – ’n berowing van die goeie. Sonde teer op die goeie. Sonde leef na aan die goeie. Sonde volg die goeie soos ’n skaduwee. Sonde misbruik die goeie. Sonde beroof die goeie. Sonde lewe van die goeie. Sonde is soos ’n parasiet. Daarom is dit moeilik om sonde te herken. Die bose doen hom voor as ’n engel van die lig.

Daarom moet ons  “coram Deo” mense wees. Dan lewe jy voor die aangesig van God.

Dan lewe jy so deursigtig dat jy nie ’n kamera vrees nie. Waarom vrees ons spoedkameras? Omdat ons bang is ons word gevang. Omdat ons die spoedgrens oortree, lewe ons in vrees vir spoedkameras. As ons binne die spoedgrens bestuur, vrees ons nie ’n spoedkamera nie.  Wees in die klein dingetjies getrou, dan sal jy ook in die groot dinge getrou wees.

Kom ons onthou die les van die broken windows teorie. Klein dingetjies, soos gebreekte ruite wat nie dadelik vervang word nie, kan aanleiding gee tot groter misdaadprobleme. As ek in die klein dingetjies van die Here ontrou is, sal ek ook in die groot dinge ontrou wees. Geestelike dissipline beteken om sonde in my lewe sommer aan die beginstadium uit te roei. Ek moet nie vir die sonde ’n vatkans in my lewe gee nie. 

Dan sal ek ’n oorwinningslewe leef voor die Here. Dan sal my lewe netjies en vrugbaar wees voor God. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.   

Die kerk moet verander ten goede

SKRIFLESING:  Luk 12: 35 – 48

Die Kerk moet verander, maar dan altyd ten goede. Die kerk moet voortdurend bekeer na die wil van God. Net soos daar by elke mens, voortdurende bekering moet wees. Die kerk het die afgelope 50 jaar baie verander.

Die Afrikaanse susterskerke en veral die NG Kerk het vir baie jare ’n heerskap funksie in die Suid-Afrikaanse samelewing vervul. Die NG Kerk was ’n gerekende en gerespekteerde kerk. Die Broederbond het in ’n groot mate aan die Suid Afrikaanse geskiedenis rigting gegee. ’n Baie groot persentasie NG Kerk predikante was lede van die organisasie. ’n Paar dekades gelede kon ’n getuigskrif van ‘n NG Kerk – dominee, vir jou deure oopmaak. Die NG Kerk was as’t ware die NP-party in gebed. Die NG Kerk het feitlik kritiekloos teenoor die regering van die dag gestaan.

Die baie ouer mense sal onthou, die kerklike stryd om tydens die Nagmaal uit die beker of die kelkie te drink.

Daar was die stryd om weg te doen met die vrouens se hoede. Met stryd is daar afstand gedoen van die manelpak en wit dasse. Mense het gestry oor hulle sitplek in die kerk en daar was jaarliks ook ’n heffing om jou sitplek in die kerk te bespreek. Met groot moeite is daarvan afstand gedoen. Daar was die stryd of vrouens met ’n langbroek mag kerk toe gaan.

Daar was die stryd om vir vrouens toe te laat in die ampte en selfs op die kansel. Daar was die stryd of die kerkraad in die kerkraadsbanke moet sit of dat hulle by hul families mag sit. Later was daar die stryd oor kleredrag in die kerk. Jy moes altyd op jou beste kerk toe gaan. Ander het weer geoordeel, dat jy met enige klere kan kerk toe kom.

Baie dinge het verander. Wat die kerk eers gesê is reg, is nou nie meer reg nie. Die uitsprake van die kerk het verander. Die NG Kerk het eers gesê dat apartheid Bybels is, in “Ras, volk en nasie”. Later het die kerk uitgesproke teen apartheid gedraai en daarteen gepraat en dit so verwoord in “Kerk en samelewing.”  Die NG Kerk het selfs ook skuldbelydenis gedoen oor besluite en uitsprake van vroeër. Die kerk het hier ten goede verander.

Natuurlik gebeur daar ook nuwe sieninge in die kerk, wat die kerk ten kwade kan verander. Gedurig is daar ’n aanval op Skrifgesag en Skrifbeskouing wat nie vir God en die kerk tot verheerliking lei nie. Menseregte word opgehemel ten koste van die Bybel en die wil van God. Teen hierdie goed moet ons waak. 

Die kerk het die peiltjiebord of die “daart-board” geword van gelowiges, maar ook van die wêreld. Die jagseisoen is oop vir mense om jag te maak op die NG Kerk.  Veral vir talle jongmense is dit op die oomblik ’n ernstige vraag hoe om die kerk te beskou en of die kerk nog geglo en vertrou en gevolg kan word. 

Kleredrag, ampsdrag, my sitplek in die kerk en die formele swaar liturgie het immers vir dekades, die kerk laat voel dit is mos kerk. Tog het Christus Jesus geen klere gehad wat hom onderskei het van ander mense nie. Hy het geen belangrike sitplek gehad nie en in sy dienste kon die kinders maar lag en huil. Hy was informeel ’n vriend vir die sondaars. Inderdaad het hulle die Here Jesus nie herken aan sy kleredrag, of sy sitplek in die sinagoge of aan sy stemtoon nie, maar hulle het hom herken in die dade wat hy gedoen het en die radikale goed wat hy gesê het. Sy lewe en nie sy klere, sy woorde en nie sy sitplek in die sinagoge het die mense laat besef dat Hy die Messias is. Hoe dikwels kan ons in ons kerk aan mensgemaakte formele uiterlike dinge vashou, maar die wesenlike die getrouheid aan die Evangelie gaan by ons verby nie.

Die NG Kerk het inderdaad baie van sy uiterlike formaliteite, aansien en status in die samelewing verloor. Ons kan selfs sê die kerk het swak geword. Die kerk het ten goede verander.

Kan ’n mens sê die afgelope 30 jaar was ’n terugslag vir die kerk gewees. Ja, dit was ’n terugslag. Maar dank God, die NG Kerk het swak geword. Dank God dat die NG Kerk weer ’n dienskneg-gestalte gekry het en nie meer ’n heersers-gestalte nie.

Die NG Kerk het swakker, broser en minder selfversekerd geword. Die kerk wil nie meer heers nie, maar eerder dien.

In ons gelese gedeelte word die kerk opgeroep om gereed te wees vir die koms van die bruidegom, die Seun van die Mens.

Die kerk vervul in Luk 12:42 die rol van die bestuurder van God. Die kerk moet God se sake bestuur en administreer totdat God kom. ’n Bestuurder in die Bybelse sin van die Woord is geen heerser nie, maar ’n dienskneg met ’n bepaalde opdrag. Die Griekse woord vir bestuurder dui nie op iemand wat bo-oor die ander werknemers gestel is nie, maar eerder op een wat self ook ’n werknemer is. ’n Slaaf onder slawe. ’n Dienskneg onder diensknegte. Een wat dieselfde dienskneg-gestalte as die ander het, maar bloot vir die ander verantwoordelik gemaak is. Wat vir die ander diensknegte moet sorg.

Daarom mag die kerk nooit heers nie, noot magsbehep word nie.

Die kerk word ontrou soos die ontroue bestuurder as die kerk begin om sy dienskneggestalte te verloor en homself begin soek en behaag. Dan volg selfdiens, selfsoeke, selfbehae, selfgesentreerdheid en selfsug. Die Here waarsku teen ’n gees van self “heer” te wil speel, in die Here se skynbare afwesigheid.

Die kerk moet soos ’n dienskneg wees wat bewustelik die Here se teenwoordigheid ervaar en juis daarom gereed is. Die kerk moet altyd “coram Deo”, voor die aangesig van God wandel. Die kerk moet altyd bewus wees van die Here se teenwoordigheid. Hy moet soos die bekende muurplakkaat se bewoording. “Christus is die Onsigbare Gas in hierdie Huis” deel van ons ervaring wees. ’n Mens wonder maar net hoeveel gesprekke en dinge sou nooit in ons huise plaas gevind het as Christus wel sigbaar sou wees.

Elke dag, elke oomblik, moet ek weet dat ek voor die aangesig van God wandel en dat God enige oomblik kan kom. Daar moet die voortdurende inskerping by ons wees dat Christus by ons is, naby aanwesig en aan die kom is. Die geestelike dissipline “practising the presence of Christ” moet ons in ons kerk ontwikkel.

Dan sal ons getrou wees, dan sal ons nie “baas-speel of wil heers nie. Wie immers weet hy leef voor die aangesig van die lewende God, kan immers nie anders wees as om nederig te wees nie.

In die twee opsommende verse 47 en 48 word iets ontsettend gesê. Dit beteken doodgewoon dat Christus sy dissipels, gelowiges en die kerk geroep het om verantwoordelikheid te neem vir die mense van die wêreld. Ons sal eendag geoordeel word of ons verantwoordelikheid geneem het vir die verspreiding van die Woord en die betoning van naastediens. Hoe meer ek die Woord ook hoor ….. des te groter word die verantwoordelikheid om daarvolgens te leef.

Daarom moet ’n kerk nie aan die formaliteite van kerkwees voldoen nie, maar aan die kwaliteite van kerkwees, naamlik gehoorsaamheid en getrouheid.

Inderdaad het die kerk verander. Ons moet juis in die kerk, waak teen selftevredenheid, teen roem, teen valse gerustheid, terwyl ons eenvoudig voortgaan met die vanselfsprekende van gister en eergister.  

Die vraag is immers nie of die Seun van die mens by sy koms nog ’n kerk, of gemeente of Christenmense gaan vind nie, maar of Hy geloof gaan vind, getroue bestuurders wat diensbaar verlang om getrou Sy wil te doen.       

Die NG Kerk het ten goede verander. Ons het ’n sagter kerk geword. Ons het nie meer die harde formaliteite in die kerk. Ons het weg gedoen met onbybelse wette en reëls in die kerk. So het die Heilige Gees ons gelei om ten goede te verander, maar nooit mag ons ophou om na die Lig te groei nie. Soos ’n plant na die lig groei, moet ons ook na die ewige Lig groei en al meer ten goede verander.                                                                                 AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

(Gedagtes kom uit ’n preek wat ek gelees het. Dit is verwerk en baie bygewerk)         

Die kerk as ons geestelike moeder

SKRIFLESING:  1 Tes 2: 1 – 9  en die Twaalf Artikels

Dit is vandag alledaagse mode om Christus Jesus los te maak van Sy kerk. Ek kan maar in my privaat lewe ’n gelowige wees, maar ek het eintlik nie die kerk nodig nie. Die kerk het vir baie mense oudmodies geraak. Hulle het Jesus nodig, maar nie Sy kerk nie. Hulle glo nog in Jesus, maar verlaat die kerk. Hulle publiseer die mooiste Christelike aanhalings op Facebook, maar jy sien hulle nooit in die kerk nie.

Augustinus het gesê daar is geen verlossing buite om die kerk nie. Augustinus skryf verder skerpsinning, dat die persoon wat nie die kerk as geestelike moeder het nie, het God nie as sy Vader nie.

Dit bely ons mos in die Twaalf Artikels, naamlik ek glo in die een heilige algemene Christelike kerk. Nog verder bely ons in dieselfde belydenis dat, ek glo in die gemeenskap van die gelowiges.   Daarom kan ons as’t ware die “geestelike moeder” as metafoor gebruik om die kerk te beskryf.

Natuurlik kan die kerk jou nie red nie! Maar die kerk is daar om jou geloof te versterk en jou tot seën van ander mense te maak. Ek gaan nie kerk toe om te ontvang nie, ek gaan kerk toe om van myself te gee vir die Here en vir my medegelowiges. Ek is tot seën van ander, as ek inskakel by die kerk.

’n Moeder het besondere kenmerke. Daar is ook altyd ’n besondere band tussen moeder en haar kind. ’n Moeder is die een wat vir haar kind van kleins as moedersmelk gee. Sy is die een wat die kind versorg, kos gee, doeke omruil en moet worstel deur die tande-kry stadium. Wanneer die kleuter val en seerkry is die ma by met die pleisters. Sy gee vir die kind liefde. Sy dissiplineer die kind. Basies doen sy alles vir die kind. Elke moeder vertroetel haar kind sag en teer.

Toe die Here Jesus Christus opgevaar het na die hemel, het Hy vir ons Sy Heilige Gees, maar ook aan ons die kerk gegee  om ons geestelike moeder te wees.  Daarom lees ons in 1 Tes 2: 7b dat die apostels liefdevol en sag teenoor die gelowiges opgetree het, soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel.

Die kerk is dus nie die uitvindsel van mense nie, nee, die kerk is deur God gevestig om as geestelike moeder vir die gelowiges te wees. ’n Teoloog skryf tereg dat die apostels die Nuwe Testament geskryf het en dat Jesus nie een boek in die Bybel geskryf het nie. Maar sy werk na sy opstanding was om ’n kerk, die gemeenskap van gelowiges te vestig.

Daarom is ’n mens se verbintenis met die kerk ’n lewenslange verbintenis. Dit begin al die dag as die babatjie gebore en gedoop word. Daarom doop ons kleine babatjies, sodat hulle reg van die begin af aan die kerk van Jesus Christus kan behoort.  Nie die belydenisaflegging maak jou ’n lidmaat van die kerk nie, maar jou doop maak van jou ’n lidmaat. Met belydenisaflegging, neem jy net die verantwoordelikheid van jou lidmaatskap aan die kerk op.

Soos die kindjie groter word, skakel die kind mettertyd in by die Kinderkrans, die Sondagskool, die Kinderbond, die CJV en ander jeugverenigings van die kerk. Die jongmens doen op ongeveer 16 jaar belydenis van dié geloof wat God aan hom/haar geskenk het. Later trou die jongmens in die kerk. Die jong lidmaat word deel van ’n wyk en dien selfs van tyd tot tyd op die kerkraad. Elke Sondag hoor die lidmaat die Woord van die kansel af. Die leraar, ouderling en diaken besoek die lidmaat dwarsdeur sy lewe. Daar is die gewone huisbesoek, die siekebesoek en die pastorale besoek van die leraar. Die ouderlinge maak ook gereeld sy draai met Nagmaal of as daar siekte is. Die diaken sien ook om na die welsyn van die lidmaat en neem sy dankoffers op. Op die sterfbed begelei die kerk die lidmaat om maklik, sinvol en vreugdevol te sterf. Die kerk spreek ook die laaste woord by ons begrafnis eendag.

Daarom is jou verbintenis met die kerk, letterlik van doop tot graf.

Soos wat ’n moeder vir haar kindjie melk en kos gee, so gee die kerk elke Sondag vir die gelowiges melk en vaste kos van die kansel af. Die preekstoel is die bors waaraan die gemeentes elke Sondag kan kom drink. Die kerkklok is die eetklokkie wat uitbeier oor die dorp elke Sondagoggend: “ Kom eet en kom drink verniet van die geestelike brood en die geestelike water wat die kerk as ons geestelike moeder vir ons kom voorsit.”

Soos wat ’n kind verlang na die liefde en aandag van die moeder, so is die huisbesoek van die ampsdraers soos liefde en vertroeteling.

As ’n kind val en seerkry is die ma daar met die pleister. Die kerk moet daar wees as iemand langs die pad geestelik of emosioneel of andersins seergekry het. Die kerk se vertroostende woorde is soos pleisters op die wond van die lidmaat.

Somtyds is ’n kind stout en moet die ma hard praat of selfs straf uitdeel. Netso moet die kerk as ons geestelike moeder somtyds haar lidmate tugtig en vermaan in liefde omdat sy vir hulle omgee.

Daarom moet ’n ampsdraer altyd weet, dat die Here van hom of haar verwag om soos ’n liefdevolle moeder teenoor die lidmate in die gemeente of wyk op te tree. Eers dan verstaan ek wat dit beteken om ’n dienskneg van die Here te wees. ’n Dienskneg van die Here moet moederlike eienskappe hê.

Lidmate aan die anderkant moet weer leer om met respek van die kerk te praat, want die kerk het die Here aangestel om as voog, as geestelike moeder oor ons geestelike welsyn te waak. Daarom mag ek nooit platvloers van die kerk praat nie. ’n Mens maak nie ’n grap van die kerk nie, want die kerk is heilig, omdat die kerk aan die Here behoort. ’n Mens maak tog nie grappe of praat platvloers van jou ma nie, net so moet ons ook die kerk eer as ons geestelike moeder.

Ek mag ook nie dislojaal teenoor die kerk wees nie, want ’n mens is ook nie dislojaal teenoor jou aardse ma nie. Soos wat ’n mens jou aardse ma op die hart dra, moet ek die kerk as my geestelike ma op die hart dra.

’n Mens los ook nie sommer net jou kerk nie, want jy soek nie elke ander dag vir jou ’n ander ma nie. Jou verbintenis met die kerk is lewenslank, net soos wat jy net een ma het. Aardse ma’s het foute, die kerk het ook foute. Ek moet my kerk lief hê, ten spyte van haar foute en gebreke. Die Kerk is tog nie God nie, nee dit bestaan uit mensesondaars soos ek en jy.

Baie gelowiges dink vandag hulle kan die Here dien, sonder die kerk. Dit is net so goed soos ’n kind sonder ’n ma. Ons het die kerk nodig om geestelik te groei en ons geestelik te versorg.

Een kooltjie kan nie los van die ander kooltjies lê nie, hulle het mekaar nodig om mekaar warm te hou. So kan ek nie in my privaatheid vir die Here dien nie. Ek moet deel  van die kerk wees, sodat ek ook tot seën vir die ander mense in die kerk en wêreld kan wees.

Die kerk is egter meer as net ons geestelike ma, die kerk is ook ons geestelike huisgesin, waar ons almal broers en susters van mekaar is. Sonder die kerk is ek soos iemand sonder familie. Daarom vier ons gereeld die Nagmaal as een geestelike huisgesin rondom die een tafel van brood en wyn.

Die kerk is egter nie net ons geestelike moeder of ons geestelike familie nie, die kerk is ook die bruid van Christus, wat haar voorberei en versier met die oog op die wederkoms. Ons is reeds deur die doop met die bruidegom, Jesus Christus verloof. Eendag met die wederkoms sal ons die bruid wees wat deel kry aan die ewige bruilof. Daarom moet een en elk van ons elke dag geestelik groei en ons versier met geestelike deugde as blyk van dankbaarheid dat die Here ons gekies het om Sy bruid te wees.

Vir my kerk moet ek lief hê, want sien die kerk is my geestelike moeder, die kerk is my geestelike huisgesin. Ja, die kerk is die bruid van Christus! Wie hom of haar losmaak van die kerk sê eintlik ek wil nie meer deel wees van die ewige bruilof nie.

Ek het ’n Vader in die hemel wat vir my sorg en liefhet, maar Hy het aan ons die kerk gegee om ons geestelike “mamma” te wees. Hierdie einste kerk is vir Hom so belangrik dat Hy vir haar gekies het om ook die bruid van Sy enigste Seun Jesus Christus te wees.                           

Die kerk is ook soos ’n woud. Ek het ’n artikel gelees in die Readers’s Digest, wat verduidelik dat die wortels van verskillende bome van mekaar afhanklik is. Die bome gee ’n stof af wat die kompetisie tussen die bome verminder. Die wortels van die verskillende bome en verskillende spesies is selfs aan mekaar gekoppel om mekaar te help. Hulle deel die water, sonlig, die skaduwee en voedingstowwe. Dit is ’n ekologie waar die plante interafhanklik van mekaar is. In die kerklidmate moet ons ook leer om interafhanklik van mekaar te wees. Die kerklidmate moet soos in ’n ekologie van mekaar afhanklik wees.  

In die Alpe in Switserland is daar ’n klein dorpie, met ’n kasteel en ’n kerk van ruwe, gekapte klip wat slegs bereik kan word deur verslete trappe teen die berghang. Die eienaardige ding van hierdie kerk is dat dit nie ’n beligtingstelsel het nie.

’n Reisiger daar het ’n kerkklok hoor lui en mense sien uitkom uit die nou straatjies, elkeen met ’n oulike bronslampie gevul met olie en ’n pit. Sy het ‘n aanbidder genader en gesê: “Asseblief, ek is ’n vreemdeling hier, sal jy my vertel hoekom jy ’n lamp kerk toe dra?”

Die vrou het geantwoord:  “Jare gelede het ’n hertog in daardie kasteel gewoon. Hy het die kerk gebou, dit geskenk en gevra dat elke aanbidder sy eie lamp bring.” Die reisiger het geantwoord: “Ek sou dink dit sal mense daarvan weerhou om die aanddienste by te woon.”

“O, nee, dit werk net andersom. Dit word genoem Die Kerk van die Verligte Lampe. Almal wat gaan maak dit ’n bietjie helderder en wanneer iemand in die versoeking kom om by die huis te bly of iewers anders heen te gaan, onthou hy net dat die liewe ou kerk het almal se lamp nodig, en as jou lamp nie daar is nie, is daar soveel minder lig.” 1

Jou lampie sal help om die kerk te verlig. Daarom is jy nodig.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Dit is ’n verwerking van ’n preek wat ek lank gelede gelees het. Ek het bygevoeg en verander om dit vir vandag se tydsgees aktueel te maak.

  1. Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc.)

Die opstanding bevestig die waarheid van die Evangelie

SKRIFLESING: Lukas 24: 1 – 12

Die Christendom en die wêreld maak baie van Kersfees. Alreeds weke voor Kersfees word die kersbome versier en die kersliggies opgesit. Gemeentes hou kerssangdienste en vier weke voor die tyd, gedurende die Advent handel die prediking oor die geboorte van Christus. Kersliedere word gesing en kinders sien uit na kersvader. Kersfees sit die kerke wêreldwyd stampvol en daarna eet die kersgangers hulle trommeldik aan die heerlike kersetes, wat met groot sorg en kreatiwiteit voorberei is.

Goeie Vrydag, word meer besadig gevier. Daar is die sewe Lydenssondae, waar daar oor die lyding van Christus gepreek word. Kerke word versier met kruise en palmtakke. Op Goeie Vrydag kom ook baie mense kerk toe en daar word Nagmaal gevier. “Hot Crossbuns” word verkoop, al weke voor Goeie Vrydag. Dan is daar natuurlik kerrievis, wat ‘n tradisionele ete is met Goeie Vrydag.  

Maar Paassondag, waartydens die opstanding van die Here gevier word is die “aspoesterjie” van die kerklike feesdae. Op die dag is gewoonlik die minste mense van al die Sondae in die kerk. Almal is weg vir die langnaweek. Paasfees word gewoonlik paaseiers geëet en die kinders moet dit soek. Dit is die dag wat die meeste verwaarloos word op die kerkkalender.

Dietrich Bonhoëffer het geskryf, al was Jesus ’n duisend keer gebore in Bethlehem en al was Hy ’n honderd keer gekruisig op Golgota en Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs. Die opstanding van die Here Jesus, maak die geloof waar. Elke dag word miljoene mense gebore en elke dag sterf miljoene mense, daarom is die opstanding van die Here Jesus uniek.

Die opstanding van die Here Jesus maak die Evangelie waar. Die opstanding is die seël en waarmerk dat die Evangelie betroubaar en eg en die waarheid is.

Daar staan dat die reuse ronde klip voor die graf weggerol was en dat die graf leeg was. Die linnedoeke was netjies opgevou. As hulle Jesus sou gesteel het, sou hulle Jesus met die doeke en al steel het. Nee die doeke was netjies opgevou. Hy het regtig opgestaan.

In geen een van die ander geloofsgroepe wat ’n werklike persoon aanbid, het die persoon opgestaan nie. Die Budistiese geloof, die Mohammedane en die Konfusios en die Brahaamse geloof het al vier persone aanbid. Hulle almal is nog in hulle graf.

Net die Christelike graf is leeg. Jesus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.    

Daar was ’n oorvloed van getuienisse dat Jesus opgestaan het.

  • Aan Maria Magdalena (Johannes 20:11-18 en Markus 16:9-11)
  • Aan ’n groepie vroue (Matteus 28:9-10)
  • Aan Petrus (Lukas 24:34 en 1 Korintiërs 15:5)
  • Aan die twee Emmausgangers (Markus 16:12-13 en Lukas 24:13-33a)
  • Aan die dissipels sonder Tomas (Lukas 24:36-43 en Johannes 20:19-25)
  • Aan die dissipels saam met Tomas (Johannes 20:24-29)
  • Aan sewe Apostels by die See van Tiberias (Johannes 21:1-19)
  • Aan meer as vyf honderd broeders (1 Korintiërs 15:6)
  • Aan Jakobus ( 1 Korintiërs 15:7)
  • Aan die apostels met sy Hemelvaart (Lukas 24:44-53, Markus 16:19-20 en Handelinge 1:1-16)

Die getuienis is so oorvloediglik dat Jesus opgestaan het, dat enige wêreldse hof dit as onbetwisbaar sal aanvaar.

Al die apostels behalwe Johannes het ’n marteldood gesterf, omdat hulle in die opgestane Christus geglo het. Niemand sal tog vir ’n leuen sterf nie.

“Die dissipels se gewilligheid om te ly en te sterf vir hul oortuigings, dui daarop dat hulle daardie oortuigings waarlik as waar beskou het. Leuenaars maak swak martelare.” – Gary Habermas & Michael Licona

Petrus (Simon), was ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Na bewering het Petrus gevra om onderstebo gekruisig te word omdat hy nie gelyk aan Jesus gestel wou word nie. Jesus het twee keer voorspel dat Petrus ’n martelaarsdood sou sterf (Johannes 13:36 en 21:18-19). Dan was daar Andreas, wat na bewering gekruisig is. Jakobus is volgens Handelinge 12:1-19 op bevel van Herodus, met ’n swaard doodgemaak. (Kyk ook Matteus 20:20-23 en Markus 10:35-39.) Johannes was die enigste oorspronklike dissipel wat nie ’n geweldadige dood gesterf het nie. Hy het in Patmos gesterf ongeveer 100 nC. Filippus is in die Egiptiese stad Heliopolis geslaan, in die gevangenis gegooi en in 54 nC gekruisig. Bartlomeus  is in Indië doodgemaak. Daar is twee weergawes: Ongeduldige afgodsdienaars het hom geslaan en toe gekruisig of hy is lewendig geslag en onthoof. Tomas is met ’n spies doodgemaak in Indië. Matteus (die tollenaar) het in Etiopië gesterf waar hy vermoedelik in die rug gesteek is deur ’n swaardvegter wat deur koning Hertacus gestuur is, nadat hy die koning se sedes gekritiseer het. Jakobus, seun van Alfeus is op 94-jarige ouderdom deur vervolgers geslaan en gestenig, en daarna is hy vermoor deur hom met ’n knuppel oor die kop te slaan. Judas, seun van Jakobus is volgens baie stories gekruisig by Edessa in 72 nC. Simon die fanatikus is in Engeland gekruisig 74 nC. Mattias (vervang vir Judas Iskariot) is in Sirië verbrand. Paulus het soos Petrus ongeveer in 66 nC as ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero gesterf. Hy is onthoof. Lukas was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.” (Glo die Bybel)

“Vandag word hierdie feite as een van die belangrikste bewyse voorgehou dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het. Die vraag is: het God nie juis toegelaat dat hierdie mense op wreedaardige manier te sterwe moes kom om vandag vir ons as getuienis te dien nie?” (Glo die Bybel)

“I know the resurrection is a fact, and Watergate proved it to me. How? Because 12 men testified they had seen Jesus raised from the dead, then they proclaimed that truth for 40 years, never once denying it. Everyone was beaten, tortured, stoned and put in prison. They would not have endured that if it weren’t true. Watergate embroiled 12 of the most powerful men in the world – and they couldn’t keep a lie for three weeks. You’re telling me 12 apostles could keep a lie for 40 years? Absolutely impossible.” – Charles W Colson

Met soveel ooggetuies staan dit vas: Jesus Christus het waarlik opgestaan! Hy leef! En daarom kan ons bely: Ons glo in Jesus Christus, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het.

Jesus se opstanding sê vir ons dat Jesus die sonde en die dood oorwin het. Sy oop graf het ook ons graf oopgesluit om vir altyd die ewige lewe te hê. Daarom vrees ons nie die dood.

Prof Johan Cilliers vertel die volgende verhaal. Daar was ’n Sondagskoolklas van ’n hele paar kinders saam met hulle Sondagskooljuffrou, wat gereed gemaak het vir Paasfees. Twee Sonde voor die tyd het die juffrou vir hulle plastiese hol paaseiers gegee en hulle opdrag gegee om vir Paassondag iets in die eier te sit wat herinner aan nuwe lewe. Daar was ook in die klas ’n seun met die naam van Johny, wat ‘n Downsindroom-kind was. Op Paassondag het die kinders hulle paaseiers met groot opgewondenheid Sondagskool toe gebring. Een na die ander het hulle hul paaseiers oopgemaak. Die een kind het ’n lewende skoenlapper in sy eier gehad. ’n Ander kind het die pragtigste blommetjie is haar paaseier gehad. Nog ’n ander het ‘n groen grasspriet in sy eier gehad. Elke keer het die kinders met opgewondenheid “oe” en “aa” gesê. Laaste was Johny. Toe hy sy eier oopmaak was daar niks. Die kinders het vir Johny aangespreek en gesê: “Johny, hoekom moet jy altyd anders wees. Juffrou het mos gesê jy moet iets in jou eier sit.” Johny het op sy kenmerkende Downsindroom manier gesê: “My eier is leeg, want Jesus se graf is leeg.” Daar het ’n stilte oor die klas toegesak, want almal het geweet dit is die waarheid. ’n Paar weke later het Johny ’n infeksie opgedoen en gesterf. Met sy begrafnis was al sy maatjies van die Sondagskool daar. Hulle het almal leë paaseiers op sy kis gesit.

Daarom is Paasfees, die opstanding van die Here Jesus belangriker as die geboorte en kruisiging van die Here. Dit kom waarmerk en gee betekenis aan die geboorte en kruis van die Here Jesus Christus.

Die Here het opgestaan. Waarlik die Here het opgestaan.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

https://www.preke.net/sarel-pretorius/956-die-opstanding-van-jesus-christus

https://www.kruispad.net/die-verskynings-van-christus/