Jesus skep wonings vir ons en ‘n nuwe familie

SKRIFLESING: Luk 23: 43 en Joh 19: 26 – 27

As jy ’n adres het, is jy ryk. Dit is ’n voorreg om jou eie adres te hê. Die armste onder die armes het nie ’n adres nie. Die armstes het geen adres of hulle moet iemand anders se adres opgee om bereik te word.

In die tweede en derde kruiswoord van die Here Jesus gee Hy vir die berouvolle misdadiger ’n woning in die hemel en vir Sy moeder, terwyl sy nog lewe ’n woning op aarde.

Die berouvolle misdadiger het waarskynlik geen adres op aarde gehad nie. Misdadigers wil mos nie ’n adres hê nie, want dan kan hulle gevang word. Wie nie ’n adres het nie, is arm.

Maar hy vra aan die Here aan die kruis, om aan hom te dink as Hy in sy Koninkryk kom. Dan gee die Here vir hom ’n hemelse woning, ’n hemelse adres in Luk 23: 43 – “Jesus het hom geantwoord: ‘Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’” Hierdie adreslose man, sonder woning, kry skielik ’n hemelse woning met ’n adres.

Ons elkeen wat in die Here glo, sal eendag ’n ewige woning en adres ontvang. Daarom staan daar in 2 Kor 5: 1 – 2 die volgende: “Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het wat van God kom, ’n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word.”

Ons kry eendag ’n hemelse woning. Ons kry eendag ’n hemelse adres. Nie ons grafnommer in die begraafplaas of ons nommer op die gedenkmuur van die kerk is ons ewige adres nie. Nee, ons het ’n hemelse woning en adres.

 Terwyl ons hier op die aarde is in ons teenswoordige lewe, het ons ook verskillende aardse wonings. Ons het ook ’n geestelike woning, wat die kerk is. In Psalm 84: 2 – 5 staan daar: “Hoe lieflik is u woning, Here, Heerser oor alle magte! My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en liggaam roep uit na die lewende God. Selfs ’n mossie vind ’n tuiste, en ’n swaeltjie haar nes waarin sy haar kleintjies neerlê, by u altare, Here, Heerser oor alle magte, my Koning en my God! Gelukkig is hulle wat in u huis woon! Hulle loof U gedurig.”

Maar die Here gee ook vir ons ’n fisiese woning en adres. Jesus was bekommerd oor sy ma Maria en daarom sê Hy in Joh 19: 26 – 27 die volgende vir Johannes: “Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: ‘Vrou, kyk, daar is u seun!’ Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Kyk, daar is jou moeder!’ En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.”

Daarom plaas die Here ons in die derde kruiswoord altyd in verhoudings met mekaar. Hy het Maria en Johannes in ’n moeder en seun verhouding geplaas. So is hy die groot Versorger, wat ons versorg in verhoudings. Daarom is verhoudings so belangrik vir die Here. Daarom bely ons ook in die Credo van die kerk: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges”.

 Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ’n nuwe geestelike familie (woning) skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ’n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ’n geestelike familie in die woning wat ons die kerk noem.

Jare gelede, was dit gebruik gewees dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hul elkeen hulself met ’n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het, as teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers” vandaan.

Aan die kruis was dit nie nodig, dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ’n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Die hartseer van die Christelike kerk, is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges en die familie van God. Dit getuig van ’n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ’n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid, sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ’n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees. (1 Kor 12) Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ’n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk en familie nie, is jy soos ‘n los steen is, wat buite die gebou nutteloos rondlê.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID, myself afsonder op ’n eiland nie. Dan is ek doodeenvoudig nie ’n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle medekerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ’n plek van sondaars is. Die kerk is ’n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter, as ek nie my medekerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

Die kruis van Christus, is soos ‘n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ’n magneet na mekaar toe, om ’n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan.

Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede gelowiges toe trek.   

Daarom het die Here vir ons aan die kruis ’n woning vir die hiernamaals en vir die hiernoumaals geskep. Ons het eendag ‘n hemelse familie, maar nou hier op die aarde het hy vir ons ’n geestelike familie geskenk.

Ons is skatryk.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

www.gkpotchefstroom.co.za/die-derde-kruiswoord/

https://wordpress.com/post/ngkerkadelaide.com/1695

Ons is deel van God se familie

SKRIFLESING: 1 Petrus 2: 4 – 10 en 1 Kor 12

Ons elkeen behoort aan twee families, naamlik eerstens aan ons eie familie en gesin en tweedens aan God se familie. ’n Mens kan nie ’n Christen wees en nie aan ’n kerk behoort nie. Maar nou kry ’n mens vier soorte kerklidmate, naamlik die dooie kooltjies, die klublede, die passasiers en dan die ware familie van God. Ons gaan na elkeen van hierdie vier soorte kerklidmate kyk.

  • Die dooie kooltjies

As ’n mens ’n kooltjie vuur uit die vuurherd sal haal, sal dit gou doodgaan.

Nee, dit het ander kooltjies nodig om warm te bly. Net so het ons ander Christene nodig om te kan volhard in die Christelike wandel. Iemand wat sy godsdiens op ‘n eiland of alleen by die radio beleef is ’n dooie kooltjie. Ek kan nie maar so op my eentjie my godsdiens beleef nie. Anders kan ek kerklos en onbetrokke word in die kerk. 

Petrus sê in Petrus 2: 9 dat die kerk ’n volk is, ’n gemeenskap is. Die kerk bestaan nie uit ’n klomp enkelinge wat elkeen sy godsdiens apart van die ander beleef nie. In hoofstuk 2: 5 sê Petrus nog verder dat die kerk ’n geestelike huis is wat uit baie stene bestaan. Elke steen stel ’n gelowige voor. Die sement tussen die stene, wat die stene aan mekaar bind stel ons gemeenskaplike geloof in Christus Jesus voor. Ja, dit is Christus wat gelowiges aan mekaar bind. Die fondament waarop die kerk natuurlik bou is ook Jesus Christus. God het as’t ware sy gelowiges ingemessel in ’n geestelike huis wat ons die kerk noem. Hulle is veronderstel  om saam te leef as boeties en sussies. As daar ’n steen uit ’n gebou val, sal daar ’n gat sit. Die gebou sal lelik lyk.

Probeer jou indink hoe onaantreklik ons kerkgebou sou wees as stene in die muur ontbreek. Dit sou nie net onaantreklik wees nie, maar dit sou ook vir die res van die struktuur verswak.

Simon Petrus sê vir ons dat die Here se geestelike huis (die kerk) uit “lewendige klippe” bestaan. Maar ons sien dikwels dat talle klippe in die aanbiddingsbyeenkoms ontbreek. Die resultaat is ’n uiters onaantreklike en verswakte struktuur.

Net soos elke baksteen in ons kerkgebou nodig is, so is elke lewende klip in die geestelike huis nodig. Hoe jammer as een of ander lid die idee het, “Ek is net een; ek sal nie gemis word nie!” Die Bybel leer dat elke mens sy eie deel moet doen. Ons daaglikse gebed moet wees: “Here, help my om altyd op my plek te wees en my deel vir die kerk te doen.”

Netso ook as jy probeer om jou godsdiens alleen voor die radio of TV te beleef, sal daar ’n leë plek in die kerk wees en onooglik lyk.

(b) Die klublede

Vir party is die kerk soos ’n vereniging, of ’n rugbyklub waaruit ’n mens kan bedank as jy ontevrede voel.

Die kerk word die klub wat die lede tevrede moet stel. My dankoffer word dan nie meer ’n offer van dankbaarheid nie, maar ’n klubfooi, wat ek kan opskort as ek oor iets nie tevrede is nie. Nee, die kerk is nie ’n vereniging of  ’n rugbyklub waaruit jy kan stap as jy ongelukkig voel oor iets nie. Nee, die kerk is jou familie. Soos ’n mens nie jou familie kan los nie, net so kan ’n mens ook nie die kerk los nie.

’n Bejaarde vrou is deur ’n groot katedraal in Europa gelei. Die gids het gepraat oor die skoonheid van ontwerp en die aandag gevestig op die beelde en skilderye. Die vrou was nie beïndruk nie. Aan die einde van die toer het sy vir die gids gevra: “Hoeveel siele is hierdie jaar hier gered? Hoeveel mense het hier naby God gekom?” “My liewe dame,” sê die verleë gids, “dit is ’n katedraal, nie ’n kapel nie.” Dis die moeilikheid. Ongelukkig het ons te veel katedrale en te min kapelle waar die warmte van die Gees van God gevoel word, wat bevorderlik is vir ‘n geestelike lewe wat ons kennis van God verbeter. (1)

(c) Die passasiers

Sommige kerklidmate is soos passasiers.

Hulle wil dat die kerk hulle vermaak. Hulle wil net ontvang en niks gee nie. Dit is die onbetrokke lidmate. Hulle ry op die rug van ander. Omtrent soos die passasiers op ’n passasierstrein. Die een kyk by die venster uit, die ander slaap en nog ’n ander lees. Die dominee en die kerkraadslede is al persone wat werk. Hulle is die masjinis en die kondukteur. Nee, in die kerk moet elkeen sy deeltjie doen, want die kerk is die liggaam van Christus. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Daar is arms, bene, tone, vingers, ’n neus, ore en oë. Elkeen van hierdie ledemate het ’n taak. ‘n Mens se bene is daar om te loop en sy oë is daar om te sien. Net so moet elke lidmaat in die kerk ook ’n taak hê. Daar is die wat preek, daar is die wat barmhartigheidswerk doen, daar is diegene wat siekes besoek, daar is leiers, daar is mense wat geld insamel en koek bak vir die basaar.  1 Kor 12 sê baie duidelik dat elke lidmaat ’n taak in die gemeente het. Dan word die kerk soos ’n familie waar elkeen, pa, ma, boeties en sussies elkeen sy taak het.

Wie het die vlieër gevlieg? “Ek het,” sê die stokke. “Ek het,” sê die koerant. “Ek het,” sê die seun. “Nee, ek het,” sê die wind. Maar hulle het almal saam die vlieër gevlieg. As die stokke gebreek het, die stert in ’n boom vasgehaak het, die papier geskeur het of die wind gewaai het, sou die vlieër afgekom het. Elkeen het ’n rol gehad om te speel. Die toepassing is onafwendbaar. Ons het elkeen ’n werk om te doen. As die werk van die Here ’n sukses wil wees, dan moet elkeen sy of haar deel doen. Ons het die werk om te besoek, te gee, te preek en talle ander werke om te doen om die kerk en sy werk suksesvol te maak. Ons moet almal saamwerk en elkeen doen wat hy kan om te help. Dit is ’n kwessie van spanwerk (1Kor 3:6-9). (1)

(d) Die familie van God

Wanneer ons Christene word, gee God aan ons ’n familie.

Daardie familie noem ons die kerk. In Luk 8: 19 – 21 maak Jesus van ons sy broers en susters. Dit beteken ek kan nie, alleen my godsdiens beoefen soos die dooie kooltjies nie, ek kan nie my los maak van die kerk as ek ongelukkig is nie, Die kerk is nie ’n klub nie. Ek kan nie onbetrokke wees soos passasiers nie.

In die kerk hou die familie van God hulle besig met die gemeenskap van gelowiges, getuienis, dienswerk en geestelike opbouwerk.

Het jy al ooit gewonder hoekom die Kanadese ganse net in die V-formasie vlieg?

Jare lank het spesialiste in aërodinamika dieselfde gewonder. Twee ingenieurs het in ’n windtonnel gekalibreer wat in so ‘n V-formasie gebeur. Elke gans, deur sy vlerke te klap, skep ‘n opwaartse drukking vir die gans wat volg. Wanneer al die ganse hul deel in die V-formasie doen, het die hele trop ‘n 71 persent groter vliegafstand as wanneer elke voël alleen vlieg. Elkeen hang van die ander af om by sy bestemming uit te kom. Iets anders – wanneer ‘n gans begin agterbly, moedig die ander dit terug op sy plek. Nou, laat ons leer uit God se diereskepping. Die kerk moet in ’n geestelike V-formasie vlieg en mekaar aanmoedig tot standvastigheid. En dit moet ten minste 71 persent makliker wees om die getroue Christelike lewe te lei wat saam met die kudde vlieg in plaas daarvan om dit alleen te doen. “Laat ons op mekaar ag gee, om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Heb 10:24). (1)

George Washington se predikant het eenkeer van hom gesê: “Geen geselskap het hom ooit van die kerk weggehou nie. Ek was dikwels op die Sondagoggend by Mount Vernon wanneer sy ontbyttafel vol gaste was. In plaas daarvan om tuis te bly uit verbeelde hoflikheid teenoor hulle, het hy hulle gedurig genooi om hom te vergesel.” (1)

“Het jy die storie van Jim Smith en Ron Jones gehoor? Jim het een Sondagoggend kerk toe gegaan. Hy hoor hoe die orrelis ‘n noot mis, en hy ruk. Hy het ‘n tiener sien praat toe almal anders gebid het. Hy was seker die diaken kyk om te sien wat hy in die offerbord sit, en dit het hom laat kook. Vyf keer, volgens werklike telling, het hy die prediker in glip-van-die-tong-foute betrap. Tydens die uitnodiging het hy by die sydeur uitgeglip, terwyl hy heeltyd vir homself prewel: “Wat ‘n mors van tyd!” Ron het ook kerk toe gegaan. Hy het die pianis ’n verwerking van “A Mighty Fortress Is Our God” hoor speel, en hy is deur die majesteit daarvan aangespoor om te aanbid. ’n Spesiale sendingoffer is ontvang, en hy was bly sy kerk doen wat hulle kan vir mense regoor die wêreld. Hy het veral die preek daardie Sondag waardeer; dit het regtig gepraat van ’n behoefte in sy lewe. Hy dink, terwyl hy die prediker se hand skud en vertrek, ‘Hoe kan iemand hier kom en nie die teenwoordigheid van die Here voel nie?’ Albei mans was dieselfde dag in dieselfde kerk. Elkeen het gevind waarna hy gesoek het. Daar is al gesê dat kerke en banke in een opsig baie dieselfde is: ‘Wat ’n mens uitkry, is, vir die grootste deel, afhanklik van wat jy insit.’” (1)

Die gebou is nie regtig die Kerk nie. God se mense is. Tog bestee die kerk vandag meer geld aan geboue as vir enigiets anders.

Toe ’n kunstenaar gevra is om ’n prentjie van ’n vervalle en dooie kerk te skilder, tot almal se verbasing, in plaas daarvan om ’n ou, wankelende ruïne op doek te plaas, het die kunstenaar ’n statige gebou van moderne grootsheid geskilder. Deur die oop portale kon die ryk gesnede preekstoel, die manjifieke orrel en die pragtige loodglasvensters gesien word. Aan die een kant was ’n keurig ontwerpte offerkis vir sending  – bedek deur ’n spinnerak! (1)

H. W. Beecher sê dat “sommige kerke soos vuurtorings is, van klip gebou, so sterk dat die donder van die see hulle nie kan beweeg nie . . .” Die lig wat uit hierdie kerke skyn, is die lig van Christus wat deur sy gelowiges skyn. Sondaars word nie net bereik deur die kerk se liturgie, praal, pragtige musiek of grootheid nie – hulle word bereik deur die Christusgelykheid van sy individuele lede. (1)

In ’n huisgesin vind daar tugtiging plaas. Die kerk kan jou ook tugtig as jy verkeerd leef. Soos ouers hulle kinders uit liefde tugtig, so kan die kerk my ook uit liefde tugtig (Hen12:7) Die kerk word wreed en liefdeloos as hy sou nalaat om sy lidmate te tug.

 Geliefdes, julle is die familie van God. Daarom moet ons as boeties en sussies saamleef as huisgesin. Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gedagtes kom uit ‘n preek waarvan die outeur onbekend is. Baie verwerkings is gedoen.

BRONNELYS

  1. Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc.)

Soutwater word vars

SKRIFLESING: Esegiël 47: 1 – 12 en Sag 14: 8 en Openbaring 22: 1 – 2 en Joh 7: 36 – 39

Port Elizabeth is in ’n erge droogte vasgevang. Die magtige Indiese Oseaan vloei langs Port Elizabeth verby, maar dit kan niks doen om die droogte te verlig nie. Om deur moderne tegnologie die seewater te ontsout, sal eenvoudig te duur wees. Dit is ’n saak van onmoontlikheid.

Soutwater kan nie lewe bring nie.

In Esegiël 47: 1 – 12 vind ook die ondenkbare plaas. Esegiël het ’n visioen gekry van hoe die Dooie See se water weer vars word. Dieselfde visioen kom ook in Sagaria 14, sowel as in Openbaring 22, voor.

Die mense in Esegiël het die Dooie See goed geken. Dit is ’n binnelandse meer met onbruikbare water as gevolg van die soutkristalle. Bykans 25% van hierdie see bestaan uit vaste stowwe. Die water is tot tien maal meer sout as gewone seewater. Die see het geen uitvloei nie en die Jordaanrivier se water verdwyn in hierdie dampkom wat 390 meter onder die seevlak lê. Amper iets van die Ou Testamentiese onderwêreld, die Dood.

Niks leef in die meer nie en niks bestaan rondom die meer nie, geen vis, geen dier, geen voël, niks nie. ’n Mens kan dit amper vergelyk met die begin van die wêreld toe alles leeg en donker en in chaos was. ’n Doodsheid, ’n leegte wat nie in woorde beskryf kan word nie.

Daarom was die Dooie See vir die mense in Esegiël se tyd ’n simbool van dood en finaliteit. Dit  was vir hulle selfs die simbool van die vernietigende oordeel van God oor Sodom en Gomorra. Die Dooie See het geen uitloop nie. Dit is ’n doodloopstraat.

Met hierdie beeld voor oë praat Esegiël nou oor Lewe en oor God se lewegewende water wat alles verander. Esegiël sien ’n visioen. Wanneer God op die toneel verskyn en Hy die tempel vul met sy magtige teenwoordigheid soos dit in verse 1 tot 5 uitgedruk word, gebeur daar dinge wat die mense gedink het onmoontlik blyk te wees.

Uit  die tempel begin ’n stroom water vloei wat alles verander waar dit kom. Die water vloei onder die drumpel van die tempel uit na die ooste in die rigting van die Dooie See. Die betekenis van die water, wat onder die drumpel van die tempel vloei, is dat alle geestelike lewe net vanuit God se teenwoordigheid kan kom. Dit vloei deur die droë streke van die Judese woestyn af na die Soutsee. In plaas daarvan dat die water in die droë grond wegsyfer, begin dit egter al breër en breër vloei. In ’n gesig sien Esegiël hoe hyself deur die water stap – eers enkeldiep, dan kniediep, dan heupdiep en uiteindelik so diep dat ’n mens moet swem om daardeur te kom.

Ook op die oewer gebeur daar eienaardige dinge. Die omgewing verander. Groot hoë bome staan in dorre wêreld. Die ondenkbare gebeur ook, die soutwater van die Dooie See word vars en daar begin weer dierelewe en vislewe rondom en in die see bestaan – so baie dat daar ’n vissersbedryf tot stand kom. Vrugtebome wat elke maand vrug dra, staan op die oewer.

Uit die dooie niks bring God se stroom lewe en oorvloed. Waar God in sy tempel inkom en die lewegewende water uit die tempel stroom, verander alles. Dood en dorheid maak plek vir lewe. Sout maak plek vir soet. Dood maak plek vir genesing.

Hierdie boodskap gee Esegiël vir sy mense, wat in ballingskap sit, vir wie dit lyk asof alles tot ’n einde gekom het, wat dink dat daar vir hulle niks anders oorgebly het as die dood nie. Maar God kan en sal alles ten goede verander. Die ballinge se doodsbestaan sal deur God verander word in ’n lewegewende toekoms.

Ook Joël verkondig in dieselfde idioom dat daar volop wyn sal wees op die berge en oorvloed melk op die heuwels die dag as die Here na Sy tempel kom. Joël 3: 17 – 19 lees: “In al die strate van Juda sal daar water loop, ’n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei.”

Ook Sagaria praat van ’n vars stroom water wat uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die Ooste en een helfte na die see in die Weste, somer en winter konstant.

Ook in Openbaring sien Johannes ’n rivier met die water van die lewe wat uit die troon van God en van die Lam vloei. Op die oewer van hierdie rivier staan die boom van die Lewe (van die Paradys) en dra twaalf keer per jaar elke maand sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Oral in die Bybel kom die gedagte voor dat as God in Sy MAGTIGE TEENWOORDIGHEID verskyn, daar ’n wending na lewe en oorvloed kom.  Toe Hy die chaos by die skepping aangespreek het, het daar orde en lewe gekom. Toe Hy Abraham geroep het, het daar ’n volk en ’n land gekom wat uniek was in die wêreld. Toe hierdie volk in selfopgelegde ballingskap verkeer, was dit telkens God se magtige teenwoordigheid wat hulle gered het.

Hierdie teksgedeelte is vanoggend ’n volledige troos vir gelowiges in Suid-Afrika. Ons land is brak en dood van al die korrupsie, staatskaping, moorde, verkragtings, ekonomiese insinking, die kragkrisis, swak menseverhoudinge,  en so kan die lysie aangaan. Maar die kerkegemeenskap in ons land kan fonteine van lewende water word, wat vloei vanaf God na elke deel van ons gebroke land. Die water van die Evangelie kan die sout en brakheid uitvars, sodat daar vir ons almal hoop in hierdie land is.   

Jesus het self gesê dat diegene wat in Hom glo, is soos die Skrif sê: “Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Daarmee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof  in Hom kom, ontvang die Gees van God. (Joh 7: 36 – 39)

Mense wat gevul word met God se magtige teenwoordigheid, wat gevul word met God se Gees, word be-Geester om hulself as nuwe mense te sien wat in diens van God is. Hulle word God se tempel waar Hy gedien en geëer word. God kom met Sy magtige teenwoordigheid in hulle lewe in. Uit hulle vloei nou ’n stroom van lewende water van God se Gees.  Hulle word nou vrugtebome van genesing wat dwarsdeur die jaar vrugte dra.  

Ons moet ’n lewende stroom word in ’n brak wêreld. Uit onsself moet ’n stroom vloei, wat die brakwater verander in lewende water.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word die dooie werke van die mens, woorde en dade wat van liefde en oorvloed getuig.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID, word ook diegene wat op die ashoop van die lewe beland het, se lewe verander tot ware lewensin.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word huwelike en gesinne nuut gemaak.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word moedeloses en siekes opgebeur.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID verander lewens wat vasgeloop het in doodloopstrate,  in uitlope en riviere wat niks en niemand kan keer nie.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID wil hy ons denke verander om nuut te dink, om blymoedig te lewe en vergenoegd te wees in alle omstandighede.

Uit onsself moet ons ’n fontein van lewe word wat opborrel. So kom daar ’n verskil in ons lewe en maak ons ’n verskil in ander se lewe.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID wil Hy ons be-Geester om ’n oorvloedige lewe te lewe, om self ’n borrelende fontein te wees, ’n Tempel te wees, wat gevoed word deur die magtige rivier van God se teenwoordigheid.

Die Here wil ons lewe ontsout met sy magtige teenwoordigheid, sodat ons soet strome van seën word vir die wêreld.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

(Daar is gebruik gemaak van ‘n preek van ‘n onbekende skrywer, wat ek verwerk het.)

God neem die inisiatief in ons doop

SKRIFLESING: Genesis 15

Wanneer ons vandag ’n kontrak wil opstel gaan ons na ’n prokureur, wat met pen en papier en getuies ’n geldige kontrak of ooreenkoms opstel. In die Antieke Ooste was daar nie prokureurs, aktekantore of pen en papier nie. Kontrakte of ooreenkomste is anders gesluit.

Die twee partye het verskillende diere gevat en dit middeldeur gesny en die stukke vleis teenoor mekaar laat lê, sodat daar ’n bloedbevlekte paadjie is tussen die hompe vleis. Die twee partye moes elk met ’n fakkel in die hand tussen die vleis deurloop op die bloedbevlekte paadjie. Daardeur is gesimboliseer, dat die een wat sy kant van die ooreenkoms verbreek, ook middeldeur gesny sal word, soos die diere.

Die Here het vir Abram opdrag gegee om ’n drie jaar oud verskalf, ’n drie jaar oud bok, ’n drie jaar oud skaapram, ’n tortelduif en ’n jong duif te bring. Abram het alles gebring en die vleis middeldeur gesny en teenoor mekaar laat lê. Die voëls het hy egter nie middeldeur gesny nie.

So het Abram die hele dag gewag en telkens die roofvoëls verjaag. Toe word dit aand, en hy het aan die slaap geraak. Dan staan daar die volgende wonderbare woorde in vers 17 en 18b: “Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van ’n oond en die vuur van ’n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. Op daardie dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit …”

Die Here het alleen in die gedaante van die rook van ’n oond en die vuur van ’n fakkel tussen die stukke vleis deurbeweeg. Abram was egter aan die slaap.

Die Here het ’n kontrak met Abram gesluit, wat net die Here onderteken het met die rook van ’n oond en die vuur van ’n fakkel. Abram het wakker geskrik en as toeskouer gesien, wat die Here doen. Dit was ’n eensydige kontrak. Die Here het beloof om aan Abraham ’n groot nageslag te gee, asook land. Die Here het beloof om ’n God vir Abraham te wees en dat Abram en sy nageslag die Here sal dien.

Die Here het alleen die kontrak of verbond gesluit met Abram. Die Here het die inisiatief geneem. So neem die Here ook die inisiatief in ons verlossing en doop.

Die Here het Abram se naam na Abraham verander. Die Here het vir Abraham en sy nageslag ’n teken gegee van die verbond. Dit was die besnydenis. Abraham en al sy manlike familielede is besny. Daarna is alle Joodse seuntjies van agt dae oud ook besny. Die seuntjies van agt dae oud het niks hiervan verstaan nie, maar desnieteenstaande is hulle besny. Hulle sou later verstaan, dat die Here die inisiatief geneem het om ’n God vir hulle te wees.

Die besnydenis was die Ou Testamentiese teken van die verbond. In die Nuwe Testament het die doop die teken van die verbond geword. Dan lees ons wanneer mense tot geloof gekom het, is die ouers saam met hulle gesinne gedoop. Die gesinne impliseer dat hulle kindertjies ook gedoop het. Ook hierdie kinders het niks van die doop verstaan nie, maar sou later leer en uitvind van die wonder van hulle doop, toe God die inisiatief geneem het in hulle verlossing.

Die vraag is wat kom eerste: geloof of doop? Die doop red jou nie. Die geloof in Jesus Christus red jou wel. Daarom kom geloof eerste. Wanneer ’n ongelowige tot geloof in Jesus Christus kom word hy/sy groot gedoop. Kindertjies word weer op grond van die geloof van hulle ouers gedoop.

Maar dit is ook nie my geloof, wat ek verwerf wat my red nie. Ek kan nie uit my eie uit, tot geloof kom nie. Geloof kom van God, wat in Sy uitverkiesende genade vir my die geloof in Christus skenk om te kan glo.

Die Here inisieer my volledige verlossing. Daarom het die Here die doop as teken en waarborg gegee dat Hy inisiatief sal neem in ons verlossing. Daarom doop ons kindertjies klein, want die Here neem die inisiatief ook in hulle verlossing.

Die doop maak ons deel van die kerk en nie die belydenisaflegging van geloof nie. Vandag, 5 Maart 2023 word Zanri Marais deel van die kerk van die Here Jesus. Eendag wanneer sy belydenis van geloof aflê, sal sy net die verantwoordelikhede van ’n belydende lidmaat op haar neem. Vandag is die wonderlikste dag van haar lewe. Sy word aan die Here Jesus gebind deur die teken van die doop.

Soos die naelstring met geboorte geknip word, word daar met die doop ’n nuwe naelstring gevorm tussen die dopeling en die Here. In die doop belowe die Here dat al die beloftes van die Woord waar geword het vir die dopeling.

Maar die kinderdoop moet uitloop op ’n opregte geloof in Jesus Christus. Daarom moet die ouers en die medegelowiges so leef, dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. In Mat 18:6 waarsku die Here: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see.” Daarom mag ons voorbeeld, dade, woorde en optrede nooit ’n kind laat struikel nie.

Ons laat struikel die dopeling as ons nie vir hulle uit die Kinderbybel lees en vir hulle leer om te bid nie. Ons laat struikel ’n dopeling as ons hulle nie grootmaak in die woning van die Here nie. Ons laat struikel hulle, deur nie vir hulle kategetiese opvoeding deur die kerk te gee nie. Ons laat struikel die dopeling, as ons deur ons woorde, optrede en voorbeeld, nie Christelik optree nie. Kom ons maak dit vir ons kinders maklik om in die Here Jesus Christus te glo.

Kinders is geskenke van die Here. Die kerkhervormer, Johannes Calvyn het in sy Institusie beklemtoon dat ’n kind twee dinge nodig het, naamlik geborgenheid en sekuriteit. Jy gee vir ’n kind geborgenheid deur baie LIEFDE te gee. Jy kan nooit te veel liefde gee nie. Jy gee vir ’n kind sekuriteit deur STRENGHEID. ’n Kind moet reëls hê, sodat hy binne die lyne daarvan sekuriteit kan beleef.

Die Here neem die inisiatief in ons verlossing en die waarborg hiervan is die doop. Vanoggend beantwoord Charl en Liezl die doopvrae. Daardeur neem hulle verantwoordelikheid om Zanri se geloof te help vorm. Wat ’n heerlike en grootse verantwoordelikheid is dit nie? Natuurlik speel die grootouers ook ‘n groot rol in die vorming van hulle kleinkinders se geloof. Paulus maak nie verniet melding dat Timotheus deur sy ma en ouma gevorm is nie.

Navorsing het bewys dat ouers 82 % verantwoordelik is vir geloofsvorming. Geloofsoordrag van grootouers is omtrent 10 % en die orige 8% is deur vriende, die kerk en ander mense.

In Psalm 23: 3 staan daar: “ So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie.  Alles wat hy aanpak, gedy.”

Mag Zanri ook opgroei as ’n gelowige meisie en jongmens wat die Here ken. Mag sy soos die vrugteboom wees wat vrugte gee op haar tyd en waarvan die blare nie verwelk nie. Mag sy eendag ’n Godsvrou wees, wat skaduwee verskaf vir almal wat haar ken.

Mag sy ’n geseënde vrou word, wat die guns van die Here geniet haar lewe lank. In die doop het die Here haar gevind.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Kain het kwaad geword en gesondig

SKRIFLESING: Genesis 4: 1 – 16  enHebreërs 11: 4

“In 1991 het twee stappers in die Italiaanse Alpe op ’n 5 300 jaar oue lyk afgekom wat later “Ötzi die Ysman” gedoop sou word.

Ötzi, wat vir meer as vyf millennia in die ys en droë berglug bewaar is, is die oudste ongeskonde lyk wat ooit gevind is. Forensiese ondersoek het aan die lig gebring dat Ötzi heel waarskynlik ’n herder was. Ötzi was ook ’n moordslagoffer. Hy is met ’n pyl in die rug geskiet. As ’n herder uit die Bronstydperk wat ’n moordslagoffer geword het, kan ons aan Ötzi dink as die Abel van die Alpe. Met ander woorde, die oudste menslike lyk is nie in ’n vreedsame graf gevind met gepaardgaande tekens van eerbied nie, maar op ’n somber berghelling met ’n pyl in sy rug. Dit is ontstellende leesstof oor die oorsprong van die menslike beskawing.” (Brian Zahnd) Dit is so goed soos die Kain en die Abel van die Bybel.

Wanneer jy kwaad word, pleeg jy gewoonlik sonde. So was dit ook met Kain die geval. Kain was die eerste persoon in die Bybel van wie ons lees, wat kwaad geword het.

Adam en Eva se twee eerste seuns was Kain en Abel. Kain was ’n landbouer en Abel ’n veeboer. Wanneer hulle ’n offer aan die Here gebring het, het Abel gewoonlik die beste vir die Here geoffer. Dit was van die eersgeborenes van sy vee, wat die vetste was. Hy het sy heel beste vir die Here voorgesit. Kain het weer van sy uitskot, sy tweede beste, vir die Here geoffer.

In Heb 11: 4 staan daar: “Deur geloof het Abel ’n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf.”

 Die Here het hulle harte gesien en altyd vir Abel geseën met sy guns, want sy hart was reg. Abel het oorvloedig gegee en Kain het suinig gegee. Wat interessant was, was dat die suinigste ook die opstandigste een was as God nie vir hom die beste gee nie. Hy wou suinig gee, maar wou die beste hê.

So het Kain opstandig geword teen die Here en jaloers geword op sy broer, omdat die Here vir Abel geseën het.   

Een van die dinge wat woede veroorsaak het tussen Kain en Abel is dat Kain homself met Abel vergelyk het. Die duiwel hou daarvan as jy jouself met ander vergelyk. En dit is ’n slegte speletjie om te speel. Want wat gebeur, is: jaloesie sluip in, afguns sluip in, hebsug sluip in en materialisme sluip in. Ons begin onsself met ander vergelyk. En voor jy dit weet, word ons kwaad omdat ons nie het wat iemand anders het nie. Ons het nie dieselfde talente as die ander persoon nie. Ons het nie ’n huis soos daardie persoon nie. Ons het nie die geleenthede soos daardie persoon nie. Wat ook al dit is. Na ’n rukkie begin ons kwaad en ontsteld en jaloers word oor alles. Dit is waar al die konflik van die wêreld vandaan kom.

Maar die Here praat mooi met Kain oor sy woede en gee hom ’n tweede kans.  Die Here berispe hom in verse 6 en 7: “Die Here vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Die Here gee Kain die kans om sy dankoffer reg te maak en sy woede teenoor sy broer te laat bedaar.

As jy die Engelse woord vir kwaad neem en ’n “d” voor “anger” sit, kry jy “danger.”

In Efesiërs 4: 26 (b) staan daar: “Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie.” Dit is juis die fout wat Kain gemaak het.

In Spreuke 16: 32 staan daar: “ ’n Geduldige mens is beter as ’n held, en wie sy gees beheers, is beter as iemand wat ’n stad inneem.”

“Daar is ’n legende oor ’n ou heilige wat op twee mans afgekom het wat stry oor wie van hulle die grootste is. Hy sê vir hulle: Wens, en ek sal julle alles gee wat julle vra, mits julle teëstander twee keer soveel gegee word. Die eerste man is ’n keuse gegee. Waarvoor sou hy vra? As hy vir rykdom vra, sou die ander man twee keer soveel hê. As hy vir roem sou vra, sou die ander man twee keer so beroemd wees. Skielik het dit tot hom deurgedring, en hy het presies geweet waarvoor om te vra. Hy het gevra om blind gemaak te word in een oog. Dis wat afguns aan jou doen. Dit maak jou net ellendig – want maak nie saak hoeveel jy het, bereik of geniet nie, jy kan nie gelukkig wees nie, want daar is altyd iemand anders wat meer het, meer bereik of meer geniet. As jy daaraan dink, is afguns die enigste een van die sewe doodsondes wat jou glad nie plesier verskaf nie.” (Bryan Wilkerson)

Kain was nou by die kruispad. Hy kon tot God roep en om hulp vra in die stryd teen sonde, of hy kon vasgevang bly in sy bitterheid, jaloesie en woede. Kain besluit om vas te hou aan sy jaloesie en woede. Hy het sy broer veld toe gevat en vermoor. Sy woede en jaloesie het oorgegaan in aggressie. In plaas van sy woede te onderdruk, het dié toorn oorgegaan in aggressie en moord.

Toe die Here vir Kain vra waar Abel is, het Kain geantwoord dat hy nie sy broer se oppasser is nie. Die straf van die Here op Kain was verskriklik. Die Here sê dat die bloed van Abel roep vanuit die grond. Die Here het vir Kain gesê dat hy vervloek en verban is van die grond. Die grond wat hy bewerk, sal nie langer ’n oes vir hom oplewer nie.

Hy sal ’n doellose swerwer op aarde wees. Dit is seker die ergste straf wat ’n mens kan kry, naamlik om doelloos te swerf op die aarde sonder enige sin en betekenis. Dit is so goed soos om ’n swerwende boemelaar te word.    

Omdat almal vir Kain sou wou doodmaak, het die Here vir Kain ’n merkteken (waarskynlik soos ’n tatoeëermerk wat slawe gedra het)  gegee, sodat niemand hom mag doodmaak nie.  Daar staan in vers 16: “Kain het toe uit die Here se teenwoordigheid weggegaan en in die land Nod gaan woon, oos van Eden.”

Sonder God se teenwoordigheid in jou lewe, word jy ’n swerwer. Kain het UIT God se teenwoordigheid weggegaan en ’n doellose lewe geleef. Dit is die gevolge van sonde.

Die straf van die sonde is “om alleen sonder God te wees”.  Daar kan jou nie iets ergers oorkom nie. Dan is jou lewe inderdaad sinloos.

Ek sluit af met Efesiërs 4:26 en 27 wat as volg lui: “ Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie”.

Kain se fout was: hy het vir die Duiwel ’n vatplek gegee. Moenie die Duiwel ’n vatplek gee nie.

Dank eerder die Here en wees inskiklik teenoor jou medemens. Dan sal die Here welbehae in jou vind.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

David A. Anderson. Why Are You So Angry? Preaching Today.

Bryan Wilkerson. Greed and Envy: The Twin Terrors. Preaching Today.

Brian Zahnd, A Farewell to Mars (David C. Cook, 2014), pp. 60-61

Kyk na Jesus en nie na die winde nie

SKRIFLESING: Mat 14: 22 – 33

Somtyds het ons storms in ons lewe nodig. Sonder storms in jou lewe kan jy nie God se almag en barmhartigheid ervaar nie. In tye van probleme en wanhoop, ontdek jy die krag van die Here vars.   

Die volgende gebeure speel af direk na die eerste vermeerdering van die brood. Jesus het na ’n eensame plek gegaan om te bid, nadat Hy sy dissipels verplig het om solank na die oorkant van die meer te vaar. “Ja, jy het reg gehoor. Jesus het Sy dissipels verplig om in die skuit te klim en na die oorkant te begin vaar! Hy het geweet dat daar ’n storm op die see vir hulle gewag het en steeds het Hy vir hulle geen opsie gegee om op die strand te bly staan nie. Het jy al die woorde gehoor: Die veiligste plek op aarde is in die wil van die Here? Jesus dwing-stuur Sy dissipels na die oog van ’n storm en tog is hulle in die Here se wil. Hulle redder stuur hulle na ’n plek van risiko!”(George Steenkamp)

Die Here Jesus stuur hulle na ’n storm, sodat daar geloofsvorming by hulle kan plaasvind. Die Here Jesus wil hulle leer om te glo. Hy wil hulle geloof toets. Die storm is vir hulle ’n leerskool. Menige gelowige het al gesê as hulle deur ’n persoonlike lewenstorm is, hulle baie sterker ander kant uitgekom het. Storms kweek ervare matrose. Jesus Christus wil Sy dissipels voorberei om eendag ware apostels van die Evangelie te word. Die storm was tot hulle beswil.

Terwyl die dissipels op die meer vaar, het die winde ook sterk begin waai en die boot is heen en weer geslinger.

In die vierde nagwaak (03h00 – 06h00) het Jesus op die water na hulle aangeloop gekom. Hulle het dadelik gedink dit is ’n spook en was vreesbevange. Jesus het egter vir hulle gerusgestel en gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Die woorde “dit is Ek” beteken letterlik die woorde waarmee God homself teenoor Moses by die brandende braambos bekend gestel het naamlik: “Ek is.” Dit is die mees gerusstellende woorde waarmee die Here Jesus Homself kon bekendstel.

Petrus het dadelik vir Jesus gesê dat as dit Hy is, Jesus vir hom moet beveel om op die water na Hom te kom. Jesus het toe vir Petrus nader geroep.  Petrus het uit die skuit geklim en begin om op die water na Jesus te loop. Maar toe Petrus sien hoe sterk die winde is, het hy bang geword en begin sink en na Jesus geroep vir hulp. Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en gesê: “ “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Petrus se fout was dat hy sy oë afgehaal het van Jesus en na sy omstandighede gekyk het. Petrus moes kies om te kyk na “Jesus” of sy “omstandighede” en toe kies hy sy “omstandighede”. Daarom het hy gesink.  So kyk ons ook dikwels in ons omstandighede vas en mis dit om na Jesus te kyk vir hulp in ’n storm.

Mense wat oor hoogtes op ’n tou loop en hulself balanseer om nie te val nie, het ’n resep. Hulle bind ’n rooi lap aan die einde van die tou. Heeltyd kyk hulle vorentoe en fokus hulle net op die rooi lap. So stap hulle op die tou oor die hoogtes. Sou hulle afkyk en na die dieptes kyk, kan hulle maklik hulle balans verloor, want hulle het nie meer ’n fokuspunt nie.

So moet ons fokus altyd gerig wees op Jesus Christus. Dan kan ons deur enige denkbare storm kom.  

Maak twee glase vol water. Gooi in die een glas water drie eetlepels sout. Die sout verteenwoordig Petrus se geloof. Die ander glas is skoon water. Plaas ’n eier in die soutwater, wat geloof voorstel. Die eier dryf. So het Petrus ook aanvanklik in die geloof op die water geloop. Maar toe verloor Petrus sy geloof toe hy die winde en branders sien. Plaas die eier nou in die skoon glas water. Die eier sink. Sonder geloof in die Here Jesus sal jy sink in jou storms. Daarom het ons volhardende geloof nodig.

Dit is soos wanneer jy op jou rug in die water dryf. As jy ontspan en jouself oorgee aan die water, dryf jy outomaties. Maar die oomblik wanneer jy begin spartel, sink jy. So moet ons onsself net oorgee aan die Here. Dan sal ons dryf. Maar as ons met ons eie poginkies probeer spartel, sal ons sink.

Ons kan vir Petrus egter die erkenning gee dat hy, ten spyte van die storm, uit die boot geklim het en na Jesus probeer loop het. Hy het dit gewaag met Jesus Christus. Somtyds waag ons dit nie met Jesus Christus nie en bly in die boot sit soos die ander dissipels. Ons kan nie vir God iets groots doen as ons dit nie buite die boot waag nie. Daarom moet ons ons eie gemaksones verlaat en die ekstra myl vir die Here Jesus stap. ’n Gemaksone, waar daar nie gewaag word nie, is baie gevaarlik. 

Bootmense in die kerk kan dié lidmate in die kerk wees wat krities oor alles is en geneig is om altyd onbetrokke te wees. Hulle is geneig om oor ander te skinder. In plaas van aktief betrokke te wees en uit die boot te klim, is hulle kritiese passasiers in die boot. 

D Z Cofield skryf bemoedigend: “God sal jou in jou storm ontmoet. Hy is dieselfde God wat jou uit jou storm sal verlos, en hy is dieselfde God wat saam met jou deur jou storm sal stap. God hoef nie die storm te keer nie. Hy kan te midde van ’n storm kom en saam met jou stap deur jou storm.”

Wat is jou storm vandag? Is dit finansiële probleme, gesondheidsprobleme, verhoudingsprobleme  of huweliksprobleme? Wat dit ook al mag wees, die Here is saam met jou in daardie storm.  Hy wil jou red uit daardie storm en jou sterker maak. Jesus Christus is groter as enige storm.

Marietjie Joubert skryf dat Jesus Christus mense meer dikwels soek in die storms van die lewe. In die storms van die lewe sal jy Jesus Christus altyd vind. Hy is daar om te red of om jou deur te dra.

Toe Jesus en Petrus in die boot klim, het die wind gaan lê. Die dissipels het voor Jesus neergeval en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!”

In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring. Hierdie stormnag op die see en die verskyning van die Here Jesus het die dissipels se ervaring van die lewende Christus verdiep. Dit het daarom ook hulle geloof in die Here verdiep.

Ons elkeen kan uit die storms van die lewe die ervaring put dat God ons gehelp en deurgedra het. Daarom leer ons ook die Here ken deur ons persoonlike ervarings met Hom. Dit is altyd geloofsversterkend.

Ervaringe van hoe God ons deur storms gedra het, gee vir jou ’n diep gevoel van dankbaarheid. Dit verklaar ook die dissipels se dankbaarheid. Daarom het hulle neergeval en Hom aanbid.                      

Amen

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3411). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Cofield, D.Z. Making Sense Out of the Storm

George Steenkamp. Verstaan jou storms

Marietjie Joubert. Met ’n lied in die hart. Christelike Uitgewersmaatskappy.

Jaloesie maak van jou ‘n monster

SKRIFLESING: 1 Samuel 18: 6 – 16 en Psalm 16: 5 – 6

Wanneer ’n mens jouself begin vergelyk met ander mense, kan ’n mens maklik jaloers raak. ’n Mens raak jaloers as iemand anders vir jou ’n bedreiging raak. Ander se voorspoed of suksesse is vir jou ’n bedreiging.  Ander boere het meer reën as ek gekry. My kind het nie sulke goeie matriekuitslae soos ’n ander een nie. My skool het nie soveel A-leerlinge gehad in die matriek-eindeksamen soos die ander skool nie. ’n Ander een het bevordering gekry en ek is oor die hoof gesien. Ek sukkel so in die lewe en ’n ander een word so ryklik geseën.

Wanneer ander mense vir jou ’n bedreiging raak, flikker die gevaarligte van jaloesie.  Dit was presies so met Saul. Hy het ook in Dawid ’n bedreiging gesien.

Saul was die eerste koning van Israel en het regeer  van 1047 vC tot 1007 vC. Eers was hy ’n geliefde dienaar van God en die Here het hom ryklik geseën. Hy was aan die Here gehoorsaam. Hy het veral bekendheid verwerf in sy talle aanslae om die Filistyne te verslaan. Later het hy begin ophou om na die Here te luister en het gierig begin raak. Geleidelik het hy van die Here verwyderd geraak. Die profeet Samuel het Saul kom meedeel dat God nie meer met hom is nie.  

Dawid was die nuwe opkomende leier in Israel en het begin gewildheid verwerf toe hy as jong seun die kragtige en reusagtige Goliat verslaan het. Dit het tot gevolg gehad dat Saul jaloers op Dawid begin raak het. Saul wou met alle mening van Dawid ontslae raak om sy koningskap te beveilig.

Dawid en sy manskappe het meer Filistyne doodgemaak as Saul se offisiere en manskappe. Dit het Saul nog meer jaloers gemaak, want die volk Israel het Saul en Dawid met mekaar vergelyk.    In 1 Samuel 18: 6 – 10 staan daar: “Die dansende vroue het gesing en gesê:   ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.’  Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: ‘Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry.” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het ’n bose gees van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis.

In 1 Samuel 18:17–27 sien ons dat Saul van Dawid probeer ontslae raak het deur hom opdrag te gee om 100 Filistyne dood te maak in ruil vir sy dogter. Hy het gehoop Dawid sterf, maar hy was onoorwonne en het die 100 Filistyne alleen verslaan en hulle voorhuide voor Saul gegooi. Dawid kon toe met Saul se dogter Migal trou. So het Dawid en Jonatan (seun van Saul) ook boesemvriende geword. 

Maar daar staan in dié gedeelte ’n bose gees van jaloesie het oor Saul toegesak en hy het geleenthede probeer vind om Dawid dood te maak. In vers 10 en 11 van ons gelese gedeelte, het Saul terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies en Dawid musiek gemaak het op die lier, die vegspies na Dawid gegooi om hom teen die muur vas te pen. Saul het twee keer die spies gegooi, maar Dawid het egter elke keer weggeruk en die spies is in die muur vasgegooi.  In 1 Samuel 19: 9 – 10 het Saul weer probeer om die vegspies na Dawid te gooi, maar  Dawid het toe padgegee en gevlug. Sy vrou Migal het hom deur ’n venster laat afsak en hy het gaan skuiling soek.

Later was die hele weermag van Saul en Saul self op soek om Dawid dood te maak. As daar daardie tyd pamflette en foto’s was, sou daar beslis op elke boom gestaan het: “David wanted, dead or alive.”  In al die dorpe en valleie en berge was daar ’n soektog om Dawid dood te maak. Met die genade van die Here, wat oor Dawid gewaak het, is hy nooit gevang of doodgemaak nie. Dawid het selfs in die grot waar Saul geslaap het, die mantel van sy kleed afgesny, om aan te toon dat hy Saul kon doodmaak, maar omdat hy vir die koningskap respek gehad het, het hy Saul laat lewe.

Saul se jaloesie en agterdog het van hom ’n monster gemaak. Die Here se Gees het hom verlaat en hy was alleen. Saul het toe sy toevlug geneem by die waarsêer in En-Dot. In plaas van die Here te raadpleeg, gaan Saul na ’n waarsêer. Só ver het Saul se jaloesie hom van die Here af laat wegdwaal.

Die verhaal eindig waar die Filistyne vir Saul en sy seuns vasgepen het en ’n groot oorwinning oor die Israeliete behaal het. Drie van Saul se seuns is doodgemaak naamlik Jonatan, Abinadab en Malkisua. Saul het ook in sy eie swaard geval en selfmoord gepleeg, voordat die Filistyne op hom afkom en hom martel.  

So eindig die lewe van koning Saul. Afguns en jaloesie het gemaak dat hy van die Here weggedwaal het en later ’n monster geword het.

Jaloesie en naywer bring verwydering tussen jou en ander mense.  D. L. Moody het vertel van twee winkeliers tussen wie daar groot naywer, jaloesie en bitterheid was. Een van hulle het tot bekering gekom.

Hy het na sy predikant gegaan en gesê: “Ek is nog steeds jaloers op daardie man, en ek weet nie hoe om dit te oorkom nie.” “Wel,” sê die predikant, “as ’n man in jou winkel kom om goedere te koop, en jy kan hom nie voorsien nie, stuur hom net na die ander winkelier.” Hy het gesê hy sal nie daarvan hou om dit te doen nie. “Wel,” sê die predikant, “jy doen dit en jy sal jaloesie doodmaak.” Hy het toe begin om kliënte oor te stuur na sy mededinger vir goedere wat hy self nie kon verskaf nie en mettertyd het die mededinger begin om kliënte oor te stuur na hierdie man se winkel, en die breuk, jaloesie en bitterheid is genees.

“Byekenners sê vir ons wanneer ’n heuningby sy doringsteek in vlees dryf, raak dit so stewig ingebed dat die enigste manier waarop die by kan ontsnap, is om die angel agter te laat. Dit sou sekerlik die dood van die by veroorsaak. Dit laat so ’n ernstige wond dat dit onmoontlik kan herstel. So is dit ook met ons. Soms laat ons nie net die angel in diegene wat toevallig beter as ons is nie, maar die daad bring geestelike skade aan onsself teweeg.” [Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)]

Ek het drie honde. Die grote se naam is Optel, die tweede is Chico en die derde Amiga.  Hulle sal al drie heerlik in vrede saamspeel. Maar as ek op die stoep sit en aan een aandag gee, is hulle skielik vyande van mekaar. Al drie wil my aandag hê. Hulle sal letterlik baklei vir aandag. Hulle is dan jaloers en naywerig op mekaar. Dieselfde gedrag vind ’n mens ook tussen mense wat onvolwasse en ongeestelik is. Mense baklei letterlik as hulle jaloers of naywerig is.

Die werklikheid is dat almal nie ewe slim of geleerd is nie. Almal het nie ewe veel geld of geleenthede nie. Almal het nie dieselfde talente en belangstellings nie. Almal kan nie ewe goed beskuit bak of kos maak nie. Maar so het God vir ons verskillende gawes en talente gegee. Ek het weer talente wat ’n ander persoon nie het nie. Ek moet net leer om tevrede te wees met die deel wat God vir my gegee het en die beste daarvan maak. Ek moet daarom nie naywerig of jaloers wees nie.

Hoor hoe pragtig stel Dawid dit in Psalm 16: 5 – 6 as volg: “ Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Mag ons ook tevrede wees met ons erfdeel en ons meetsnoere wat ons ontvang het. Die teenoorgestelde van jaloesie is TEVREDENHEID. Wie tevrede is met sy deel, sal nie naywerig of jaloers op ’n ander een se goed, prestasies of rykdom wees nie.

Dan kan ek opreg bly wees oor ander se prestasies, rykdom en geleenthede, want ek het tevredenheid gevind in my eie erfdeel wat vir my afgemeet is.

Die sleutel is TEVREDENHEID.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa; Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.    

 Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)  

Bewaak jou hart

SKRIFLESING: Spreuke 4:23

Spreuke 4:23 lees: “Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe.”

Ons is goeie bewakers van ons materiële eiendom en besittings. Ons is ook goeie bewakers van ons eie lewe. Ons bring diefwering in ons wonings en werkplekke aan. Ons sit staalhekke op en installeer alarms. Ons vra vir Smhart om ons te beskerm. Die Smhart WhatsApp-groep is baie bedrywig met versoeke van mense om beskerm te word. Sommige mense skaf vir hulle vuurwapens of honde aan.

Ons bewaak ons gesondheid, deur dokter toe te gaan en medisyne te gebruik om ons lewe te verleng. Ons word opereer om ons lewe te red of om ’n beter kwaliteit lewe te hê.

Ons spandeer baie geld om ons besittings en gesondheid te bewaak en op te pas.

Maar dan sê Salomo in Spreuke 4:23 ons hart moet bewaak word meer as enigiets wat ons bewaar. Met ander woorde ons moet ons hart meer oppas as ons besittings en gesondheid of enigiets anders.

Die hart is die setel van ons emosies. Uit die hart kom bitterheid, afguns, jaloesie, onvergewensgesindheid, haat, naywer, selfsug, vyandskap, twis, woede, tweespalt, skeuring, onvriendelikheid en alles wat lelik is. Ons moet ons hart bewaak van dié slegte emosies.   

Maar wanneer jy jou hart bewaak, kom die goeie eienskappe soos liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, nederigheid en selfbeheersing na vore.

Ons is swak bewakers van ons harte!  “Ons laat eenvoudig te maklik toe dat die goeie dinge wat die Gees in ons harte kom bêre het, van ons gesteel word.  Ons bewaak nie ons harte soos ons die ander goed in ons lewe bewaar nie.  Ons laat eenvoudig te maklik toe dat ons vreugde gesteel word, dat ons liefde, ons geduld, ons vriendelikheid uit die kluise van ons harte gesteel word!” (Dr. André Oosthuizen)

Die ingang tot ons hart moet ons ook beskerm en bewaak. Dikwels laat ons toe dat rommelstrooiing in ons harte plaasvind. Ons ervaar soveel negatiewe dinge daar buite in die wêreld en dit beïnvloed ons hart en kom maak nes in ons harte. Al die negatiewe nuus in die wêreld, al die negatiewe plasings op sosiale media, kom ons hart binne. Dit maak ons harte, en gevolglik ons gedagtes, ook negatief. Later lyk ons harte soos ’n woonbuurt vol rommel.

Ook die uitgang van ons hart moet ons bewaak. Daar moenie negatiewe en afbrekende goed uit ons hart uitgaan nie. Ons moet ’n wag voor ons hart en voor ons mond plaas.

Die hart word ook maklik mislei om agter vreemde afgode aan te loop. Calvyn noem nie verniet die hart ’n afgode-fabriek nie. Die hart produseer gedurig nuwe afgode wat die mens weglei van egte en ware aanbidding van God. Ons harte raak lief vir geld, status, aansien, mag en vleeslike begeertes. Daarom moet ons ons hart daarteen bewaar om ’n afgode-fabriek te word.

Ds. Jannie Pelser noem dat “roem, rande en rokke” al die meeste mans in die geskiedenis tot ’n val gebring het. Richard Foster praat weer van “sex, money and power” wat die meeste mans tot ’n val bring. Juis daarom moet jy jou hart bewaak.

’n Deel van my verhouding met Jesus is om my hart teen leuens te bewaak. Jy kan byvoorbeeld dink jy is nie goed genoeg nie. Jy kan dink jy is ’n mislukking. Jy kan dink jy het as mens gefaal. Maar dit is alles leuens. Moenie dit glo nie. Bewaar jou hart teen dié leuens. Daardie leuens kom van die duiwel. Bewaar jou hart daarvan.  Vul eerder jou hart met ’n positiewe en opbouende ingesteldheid teenoor jouself en ander mense.

Om jou hart te bewaak, beteken ook dat jy jou hele hart vir die Here moet gee. Jy kan nie maar slegs ’n gedeelte van jou hart vir die Here gee nie. Jy moet die Here met ’n onverdeelde hart liefhê. Die volgende verhaal van ’n onbekende skrywer haal ek aan: “Daar was ’n man wat in ’n groot dubbelverdiepinghuis gebly het. Iemand het aan sy deur kom klop en toe hy oopmaak, staan Jesus daar. Hy nooi Hom toe in en sê: ‘Kom bly in die boonste verdieping, asseblief.’ Die nag was daar ’n klop aan die deur en toe hy oopmaak, staan die duiwel daar en stamp die deur oop en slaan hom en maak hom seer. Die volgende dag kla hy by Jesus en sê: ‘Hoekom gebeur dit nou met my?’ Jesus sê: ‘Jy het my die boonste verdieping gegee en gesê ek moet daar bly. Ek het nie toegang tot die onderste verdieping nie. Hy sê toe vir die Here dat Hy in sy hele huis kon bly, maar dat hy graag nog een kamer vir homself wou uithou. Dieselfde nag was daar weer ’n klop aan die deur. Moedeloos het hy maar weer die deur oopgemaak en die duiwel daar gekry. Hy wou die deur toestamp, maar die duiwel was sterker as hy en het die deur oopgestamp en hom weereens geslaan en seer gemaak. Die volgende dag was hy baie teleurgesteld en het moedeloos vir Jesus gesê: ‘Ek het U die hele huis gegee om in te bly en hoekom laat U toe dat ek geslaan en seergemaak word?’ Jesus het gesê: ‘Jy het die een kamer vir jouself uitgehou. Ek kan slegs beheer neem van kamers waar jy My toelaat.’ Jesus is nie ’n indringer nie. Hy vat slegs beheer van ons lewens waar ons Hom inlaat. Die man het mooi gedink en gesê: ‘Here, U kan nou maar die hele huis kry en dan sal ek by U woon. Ek gee alles prys en U het beheer oor al die vertrekke in my huis.’ Die nag was daar weer ’n klop aan die deur en hy wou net weer moedeloos word, maar het nogtans gegaan om te kyk wie daar was. Toe hy wou oopmaak, het Jesus se hand by hom verby gekom om die deur oop te maak. Die duiwel het verskrik in Jesus se oë gekyk en gesê: ‘Jammer, verkeerde adres!’ Kom ons gee ons hele lewe vir Jesus en plaas Hom in beheer.” Dit sal ons hart bewaar. (Aanhaling uit “Lig en Lewe Christen Familie Sentrum” se webtuiste.)

Gee jou hele hart vir Jesus. Dien die Here met ’n onverdeelde hart. Jy kan nie die Here aanbid en nog ander moderne afgode ook aanbid nie. Dit is sinkretisme. Dan maak ons soos die volk Israel wat die Here aanbid het in die tempel, maar tog ook die Baäl-afgode op die hoogtes aanbid het.  Dan vervreem ons onsself van God. Die volk Israel het hulleself dikwels vervreem van God en dan in ballingskap gegaan.

Toe ek ’n klein seuntjie was, het my ma vir my geleer om te bid: “Here ek is ’n kleintjie klein, maak my hartjie rein.” Dit moet ook in die hart van ons gebedslewe wees, naamlik om ’n rein hart te hê. Die sewende saligspreking gaan juis daaroor om ’n rein hart te hê.

Koning Dawid het ná sy owerspel met Batseba en die moord op Batseba se man Uriah tot inkeer gekom nadat die profeet Natan na hom gekom het. Hy het hartgrondelik in Psalm 51 gebid dat die Here weer vir hom ’n rein en opregte hart gee. Dawid wou die Here dien met ’n onverdeelde hart.

Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe en haar hart bewaak. Uit haar antwoorde op politieke kwessies het dit geblyk dat sy werklik eenvoudig gedink het oor die lewe, tot op die punt van naïwiteit. Tog het daar uit haar gestraal ’n krag en ’n vryheid wat onbeskryflik is.

Omdat sy God so helder gesien het en haar hart bewaak het, was sy nie meer bang vir mense en hulle vooroordele en hulle reëls nie, sy was vry en onbevrees om God te dien soos Hy gedien wil wees. En as ’n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud werklik gelukkig en tevrede was. 

’n Rein hart is die bron van ’n Godvrugtige lewe. Spreuke 4:23 sê die beloning van ’n hart wat bewaak word, is dat “die lewe daaruit spruit”.

As jy jou hart bewaak van alles wat negatief is, sal jy oorvloedige lewe ervaar. Die ware lewe spruit uit ’n hart wat bewaak word. Die “ware lewe” beteken  jy sal werklike vreugde en vrede ervaar.

Bewaak jou hart, meer as wat jy jou beursie, selfoon, besittings en lewe bewaak. Dan sal jy die ware lewe beleef van vryheid, geluk en vrede.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moenie van God vergeet in 2023 nie

SKRIFLESING: Jeremia 2: 1 – 13

’n Mens vergeet tog so gou. ’n Mens vergeet name of jy vergeet iets wat jy moes doen of wat jy moes koop. Ons vergeet ook dikwels iemand se verjaarsdag. Daarom het ons dagboeke, om ons te herinner aan afsprake of take wat voltooi moet word.

Ds Danie Mouton vertel die volgende storie in Preekriglyne: “Wie onthou nog die verhaal van die drie susters? Een was 92, die tweede 94 en die derde 96 jaar oud. Hulle het saam in dieselfde huis gewoon.

Een aand tap die 96-jarige vir haarself ’n lekker bad stomende water. Sy sit een voet in die bad, en haak toe vas. ‘Was ek besig om in die bad te klim, of om uit te klim?’ roep sy uit.

Die 94-jarige suster antwoord: ‘Ek weet nie, ek sal kom kyk.’ Sy begin die trappe boontoe klim, maar steek vas: ‘Was ek besig om op te klim of af te klim?’

Die 92-jarige sit aan die kombuistafel, besig om tee te drink. Sy skud haar kop. ‘Ek hoop nie ek raak ooit so vergeetagtig nie!’ roep sy uit. Sy klop op die houttafel om haar punt te maak. Toe sê sy: ‘Ek kom nou om julle altwee te help, ek gaan net eers kyk wie klop so laat aan die deur.’

Vergeetagtigheid is ’n nare ding. Dit disoriënteer jou. Dit bring jou van koers en  van stryk. Jy weet later nie meer of jy kom of gaan nie.”

Wanneer dit met ’n mens goed gaan, kan jy ook so maklik van God vergeet. As jy van God vergeet, begin jy afgode en wêreldse goed najaag.

Die volk Israel het ook in Jeremia se tyd van God begin vergeet. In die eerste hoofstuk van Jeremia lees ons hoe ’n jong priesterseun, Jeremia, geroep word tot profeet van Israel.   Hy word geroep om die swaar oordeel van God aan Israel te verkondig, omdat die volk die Here vergeet het. Daarom het Jeremia eers die verskoning gehad dat hy te jonk is. Maar die Here het hom gerusgestel en beloof om by hom te wees.

Die volk Israel en Juda het die Here vergeet. Daarom verwyt die Here hulle in Jeremia 2:6a met die volgende woorde: “Hulle het nie gevra nie, ‘Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons in die woestyn gelei het …”

Die volk het as’t ware die verlede vergeet en daarmee saam ook al die goedheid wat die Here in die woestyn oor hulle uitgestort het. Hulle ly aan geheueverlies. Hulle het hul storie, hul waardes en hul God vergeet. Nog verder sê die Here in Jeremia 2:32 – “Sal ’n jong meisie haar juwele vergeet, of ’n bruid haar lyfserpe?  Tog het my volk My vergeet, ontelbare dae lank al.”

Die volk het in die beloofde land wat God aan hulle geskenk het, begin afdwaal van die pad. In plaas daarvan om God te aanbid, het hulle begin om die Baälgode aan te hang. Baäl het gestaan vir vrugbaarheid. Vrugbaarheid van veekuddes, vrugbaarheid van landerye en baie kinders. Eintlik het hulle ’n soort van welvaartsteologie aangehang. Baäl sou hulle ryk maak.

Vergete was die 40 jaar wat die Here die volk uit Egipte, en deur die woestyn, die beloofde land binne gelei het. Totale geheueverlies.

Maar om te sê dat die volk van God vergeet het, klink aanvanklik nie so erg nie, want alle mense vergeet dikwels. Maar wanneer ’n mens van God vergeet, skuif jy God in werklikheid op die agtergrond en vervang Hom met afgode.  Elizabeth Achtemeier skryf dat geen mens in ’n “aanbiddingsvakuum” kan leef nie. Vergeet jy van God, is dit nie lank voor jy Hom inruil vir ’n moderne afgod nie.

Daarom is vergeetagtigheid met betrekking tot God so ’n ernstige saak.  Robert Vosloo skryf dat die ergste is dat die volk nie eers ’n goeie ruil gemaak het nie. Die volk verruil die almagtige God vir nikswerd en dooie afgode. In Jeremia 10:5 spot die profeet met die afgode: “Die beelde is soos ’n palmboom van pletwerk. Hulle kan nie praat nie, hulle moet gedurig gedra word; want hulle kan nie ’n voet versit nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan nie skade aanrig nie; en om goed te doen bestaan ook nie by hulle nie.”

“Nie eens die heidense volke verruil hulle gode nie, maar Israel sien kans om dit te doen.” (Robert Vosloo)

Die beste beeld om die volk se vergeetagtigheid en hulle verruiling van God vir afgode te beskryf, vind ons in Jer 2:13 – “Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap –  gebarste opgaarputte wat nie water hou nie.”

In dorre landstreke is waterbakke met krake ’n katastrofe, want kosbare water word vermors. Om die God van Abraham, Isak en Jakob, die God wat deur die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf word as “die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is” te verruil vir vreemde gode wat nie jou diepste dors kan les nie, is so erg soos water opgaar in klipbakke met krake.

Daarom kan ’n mens God se toorn verstaan teen sy volk. Maar ’n mens moet dit reg verstaan. God se oordeel staan nie lynreg teenoor Sy liefde nie, maar vorm juis deel daarvan. Die Duitse teoloog Jürgen Moltman beskryf God se toorn as gekweste liefde – ’n teleurgestelde liefde wat enigiets sal doen om die verhouding te herstel.

God se toorn is ten diepste ’n oproep om Hom nie te vergeet nie.

So kan ons in 2023 ook maklik van God vergeet. Walter Brueggemann stel dit so: “Welvaart lei tot geheueverlies!”

Hoe vergeet ’n mens van God? Robert Vosloo het vyf maniere gelys: Ons vertel vir mekaar ander stories – stories van geldmaakskemas en winskopies word belangriker as verhale van God se sorg en goedheid. Ons handhaaf ander waardes soos selfgerigtheid, teenoor diens aan die gemeenskap. Ons skaf ander helde aan, soos die rykes wat ander uitbuit om ryk te word. Ons kyk anders na mekaar – ons sien in mekaar ’n bedreiging. Verder begin ons ’n ander taal praat: nie verhale wat van God se deernis en sorg praat nie, maar verhale van vrees, slinksheid en wanhoop.

Daarom moet ons in 2023 leer om God te onthou. Laurika Rauch sing die liedjie: “Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou.” Mag dit ook van toepassing wees op ons geestelike lewe.

Chris van Wyk skryf: “Daarom moet ons die Here elke oomblik van elke dag voor oë hou.  Skep vir jouself ritmes en rituele om jouself aan die Here te herinner, en oor sy goedheid en nabyheid na te dink.  Daniël het drie keer ’n dag gebid as deel van ’n vaste patroon.  Jesus het telkens weer Homself onttrek om te gaan bid.  Die Here het ook die Sabbat ingestel om ons aan Hom te herinner. Ons het ons tye van “herinnering” nodig.  ’n Mens se stiltetyd is een só ’n tyd van herinnering, maar ons het ook gereelde tye van afskakeling en gefokusde aandag nodig, ’n rusdag, soms ’n “rusweek” (retraite) en soms selfs langer (sabbatsjaar), as dit moontlik is.”

Jou ervarings van God in die verlede moet vir jou moed gee vir die hede en toekoms. Ons almal het ervarings van hoe God ons in die verlede gehelp het. Ons moet dit gedurig in herinnering roep, dan sal dit met ons goed gaan. Dwaasheid is om van God te vergeet.

Maar dit is ook noodsaaklik om die verhale van God in herinnering te roep, want dit laat ons nooit onveranderd nie. Dit daag ons uit om in 2023 anders te dink en te leef. Herinneringe verander ons om die uitdagings van 2023 by die horings te pak.

Onthou om te onthou. Vergeet om te vergeet.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Van Wyk. Chris. Bybelskool

Mouton. Danie. Preekriglyne

Vosloo. Robert. 1999. Prente van ’n passie. Bloemfontein: CLF Drukkers

Die Here sorg van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag

SKRIFLESING: Deut 11: 1 – 15

In Deut 11: 12 belowe die Here sy sorg aan sy kinders dwarsdeur die jaar. Daar staan in die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans: “Dit is ’n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.”

Die “land” waarvan gepraat word, is Kanaän, die beloofde land. In die skrifgedeelte staan dit teenoor Egipte, die land van slawerny.

Egipte is ’n woestynagtige land, wat plat is. As slawe moes die Israeliete met hulle voete leivore maak om die water uit die Nyl te kanaliseer na die groentetuine. Ook het hulle met hulle voete die trapmeul getrap om die water in die kanale op hoërliggende gebiede te kry. Dit het gepaard gegaan met moeite en sweet.  

In die beloofde land Kanaän is dit egter anders. Die landskap is nie plat nie. Die landskap is vol heuwels en valleie. Die water vloei van die hoogliggende gebiede af na die vrugbare valleie. Hulle hoef nie water te trap nie. Ook dou dit swaar en die dou loop af van die klipperige landskap en maak die grond onder die klippe vogtig, sodat die gras groei rondom die klippe, wat uitstekende weiding vir die skape verseker. In Kanaän hoef hulle nie meer leivore te maak nie. Die Here sorg vir hulle.

Dit is die belofte van die Here aan die Israeliete. In die beloofde land sal die Here vir hulle sorg van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag.  Die Here gee die reën en die dou op Sy tyd.

Om die Israeliete moed in te praat, herinner die Here hulle aan die wonderdade wat Hy in Egipte gedoen het om hulle te verlos. Hy verwys na die Here wat die Rietsee laat oopgaan het en die Israeliete droogvoets laat deurtrek het. Die Egiptenare met hulle strydwaens is egter verswelg deur die water toe die Here die Rietsee weer toegemaak het.

Die Here herinner hulle wat Hy in die woestyn vir hulle gedoen het. Dan dink ons onwillekeurig aan die kwartels en die manna, die wolkkolom en die vuurkolom en die water uit die rots. Die Here het heelpad vir die Israeliete gesorg.

Omdat die Here in die verlede gehelp het, sal die Here ook in die Nuwejaar vir hulle help, van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag.

Dit is dieselfde troos waaraan ons kan vashou hier aan die einde van 2022 en die begin van 2023. Die Here sorg van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag.

Die jaar 2022 het sy hoogtepunte en laagtepunte gehad vir elkeen. Die afgelope jaar het ons soveel sterfgevalle in ons gemeente en gemeenskap gehad. Dit was ook finansieel ’n moeilike jaar vir baie van ons, soos die brandstofpryse en inflasie gestyg het. Ons moet egter dankbaar wees vir die laagtepunte waardeur die Here ons gedra het, maar ook die vermoë ontwikkel om die “onopsigtelike” hoogtepunte raak te sien.

Ons sien dikwels net die negatiewe raak en mis die baie positiewe dinge wat die afgelope jaar gebeur het. Dit is soos die dosent wat ’n swart kol op ’n groot wit bord gemaak het. Hy vra toe die studente wat hulle sien. Hulle antwoord dat hulle net ’n swart kol op die bord sien. Die dosent antwoord terug en sê hulle is verkeerd. Dit is waar dat daar ’n swart kol op die bord is, maar wat van die res van die bord wat spierwit is? Ons sien dikwels net die swart kolletjies (die negatiewe) in ons lewe raak en mis die geheelprent van al God se goedheid en guns oor ons lewe.

Soms is verlies vir ons wins. Ons moet alles binne perspektief sien. God laat alles ten goede vir ons meewerk. Somtyds kom uit die slegte wat ons beleef, goeie dinge na vore. Dit laat ons dink aan die volgende legende: “ ’n Rabbi is deur vervolging gedwing om sy vaderland te verlaat, volgens ’n antieke Hebreeuse verhaal, en om in verre lande rond te dwaal. Sy enigste aardse besittings, buiten die klere wat hy gedra het en ’n afskrif van die Skrif, was ’n lamp waarmee hy gestudeer het en ’n donkie waarop hy gery het. Een aand laat, na ’n lang dag se reis, het hy op ’n klein dorpie afgekom waar hy skuiling vir die nag gesoek het. Die dorpenaars het hom egter weggewys. Die enigste skuiling wat hierdie moeë rabbi kon vind, was langs ’n muur wat ’n put aan die buitewyke van die dorp omring het. Hy het probeer om die beste van die situasie te maak; hy het sy lamp aangesteek en uit die Skrif begin lees. Gou het ’n hewige wind opgekom en die lamp herhaaldelik doodgeblaas. Omdat hy nie in die donker kon lees nie, het hy teen die muur gaan lê en probeer slaap. Sy rus is egter gou versteur deur die nabygeleë gebrul van ’n leeu. Hy het net betyds oor die muur gekyk om te sien hoe die leeu sy verskeurde donkie in die struikgewas insleep. Die rabbi was oorweldig met benoudheid, hartseer en ’n gevoel van selfbejammering. Hy het probeer om tot God te bid, maar sy gebede is verhinder deur die baie klagtes en verbittering wat deur sy gedagtes bly gaan het. Uiteindelik, uitgeput, het hy in ’n diep slaap verval. Die volgende oggend, toe hy wakker word en van agter die beskutting van die muur kom, het hy ’n skokkende gesig aanskou. Op die strate van die dorp lê die verminkte liggame van die dorpenaars; gedood deur ’n bose bende plunderaars wat gedurende die nag van die heuwels afgesak het. Dit was eers toe dat die rabbi begin verstaan het, en sy verliese in perspektief geplaas het. As die dorpenaars hom ontvang het, sou hy ook doodgemaak gewees het. As die leeu nie sy donkie doodgemaak en weggesleep het nie, het sy teenwoordigheid hom dalk weggegee. Hy het ’n waardevolle les geleer: Soms kom groot wins uit groot verlies!” (Al Maxey)

Daarom moet ons hier aan die einde van 2022 terugkyk en al God se goedheid raaksien en daarvoor dankbaar wees. Ook uit die negatiewe dinge moet ons sin maak, soos die rabbi in bogenoemde verhaal.

Ons hoef ook nie bang te wees vir 2023 nie. Die Here sorg. Dit is wat Deut 11: 12 sê. Die Here sorg vir ons heeljaar, vanaf Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag. 

Omdat die Here in die verlede vir ons gesorg het, sal Hy ook in 2023 vir ons sorg. Uit ervaring weet ons dat God nog altyd gehelp het.  er  

Deut 11 is egter ook ’n wekroep om in die Nuwejaar God se wil te soek en God se gebooie te gehoorsaam. In Deut 11: 1 staan daar: “Julle moet die Here julle God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam: al sy voorskrifte en bepalings en gebooie.”

Om die sorg van die Here te beleef, moet ons op God se pad bly. Sy Woord is ’n lig op ons pad, sodat ons weet waar om te loop en ons nie sal struikel nie.

Bly heeljaar op die Here se pad en jy sal die sorg van die Here beleef.

Mag u elkeen ook die Here se sorg heeljaar, van Nuwejaarsdag tot Oujaarsdag, beleef.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)