Gesag is die beginsel vir ‘n ordelike samelewing.

SKRIFLESING: Rom 13: 1 – 7

God is ‘n God van orde. ‘n Mens sien dit alreeds op die eerste bladsy van die Bybel.

Uit die chaos van die wêreld wat eers woes en leeg was in Gen 1:1, skep God orde vir sy skepping. God skep orde en ritme. God se ritme sien ‘n mens oral. God se orde is oral oor die skepping. Ons sien dit in: Die skeiding van see en land. Die skeiding tussen dag en nag. Die hemelliggame op hul vaste bane. Die eb en vloed van die oseane. Die siklus en ritme van wolke, reën, riviere, oseane en weer wolke. Ons sien dit in die seisoene wat mekaar gereeld afwissel. Ons sien dit in die natuurwette, die fisika wette en in die wette van die chemie.

Ook in die samelewing het God ‘n orde geplaas. Daar is ‘n verskeidenheid roepings, rolle en take. In familieverband, is daar die rolle van vaders, moeders, broers, susters, ooms, tannies en natuurlik ook van oupas en oumas.

In die samelewing vind jy wetstoepassers, staatsinstansies en nog vele ander instansies wat help om orde in die samelewing te verseker.   

Die 5de gebod is ‘n gebod vir orde en teen chaos. Dit lui: “Eer jou vader en jou moeder.”  EER beteken om jou vader en moeder se leiding te ag as belangrik. Om hulle met gesag te bejeën en hulle ouerskap as gewigtig te beskou.

Wanneer die 5de gebod begin respek vir jou ouers, beteken dit ook om alle mense in gesagsposisies met eer en respek te behandel. Die polisieman, die verkeerskonstabel en die howe moet jy met gesag bejeën.

Gesag begin altyd in die ouerhuis. Die ouerhuis is die voorbereiding vir die lewe. ‘n Simfoniekonsert het ‘n periode waartydens die musici hulle instrumente instem. Eers daarna begin hulle te speel. Orde word ingeoefen in die gesin. As die gesinsdissipline slaag, kry jy kinders wat met respek hulle onderwysers eer en ook suksesvolle grootmense word. Tuimel die gesin en die dissipline in die huis, dan tuimel alles.

Die gesin is in ‘n sekere sin so ‘n voorspel tot die lewe, so ‘n inoefening in ritme en orde, sodat daar uiteindelik sinvol, harmonies meegedoen kan word aan die ordeninge van God in die breër samelewing. Ordelose mense word ingebreek om ordelik en gedissiplineerd te leef.

Die 5de gebod is nie om dowe neute die eerste gebod van die tweede tafel van die wet nie – die tafel wat die onderlinge verhoudinge tussen mense onderling reël.

Die 5de gebod word gevolg deur ‘n belofte van seën – “dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” Figuurlik beteken dit, as jy jou ouers eer, sal jy lewenskwaliteit hê. Jy sal veiligheid en sekuriteit ervaar. Letterlik beteken dit ook dat die respek vir ouers en ouer mense, sal lei tot ‘n lang volksbestaan. Veral die Chinese met hulle absolute respek vir ouers het gemaak dat die Chinese van die volke in die wêreld is met ‘n lang volksbestaan.

Prof. Johan Heyns het gepraat van die gesin as die byekorf-sel van die byekorf (die samelewing). Wanneer die selle siek word, word die hele byekorf siek.

Wanneer die gesinne disintegreer, disintegreer  die hele samelewing.

In die moderne samelewing verkies mense dikwels die chaos bo God se orde. Ons bestorm God se orde, takel dit af of ons vergryp ons daaraan. In die moderne samelewing verafgod ons die indiwidu, terwyl die gesagsfiguur dikwels bespotlik en pateties voorgestel word. Ons lewe in ‘n ere van “I am me ….”

In Rom 8 beveel Paulus die inwoners van Rome en ook ons om aan die swaardmag van die staat gehoorsaam te wees. Maar wat daarvan as die swaardmag, kommunisties is en nie vir God erken as God nie. Moet ek nog steeds aan hulle gehoorsaam wees. Paulus skryf aan die eerste Christene, wat swaar gekry het onder die Romeinse oorheersing. Die Romeinse ryk het Ceasar as god beskou. Die Jode het begeer om van die Romeinse owerheid verlos te word. Daarom het hulle aanvanklik gedink dat Jesus, gekom het om die Jode van die Romeinse juk te verlos.

Tog moedig Jesus die Jode aan om belasting te betaal aan die goddelose Romeinse owerheid. Daarom vra hy hulle wie se kop verskyn op die Romeinse geldeenheid. As hulle dan sê, die Keiser s’n dan antwoord Jesus: Betaal aan die Keiser, wat die keiser toekom.

Daarom ten spyte van die goddeloosheid van die Romeinse owerheid, beklemtoon Hy dat hulle die swaardmag (die regering en Romeinse weermag moet gehoorsaam.

U sien Jesus is teen anargie. Anargie skep chaos. Anargie is om olie op die vuur te gooi. Daarom moet ons as Afrikaanse gemeenskap, al is ons ook hoe verontreg, nooit anargie veroorsaak nie. Die omgooi van ‘n SAPD voertuig en die uitbranding van dié voertuig op Senekal is nie Jesus se manier van dinge doen nie. Om die landroskantoor van Senekal aan te val, is nie ordelike vreedsame protes nie. Dit is anargie. Dit bevorder chaos. Dit strek nie God en ook nie vir ons tot eer nie. Dit het ons verleentheid geword.      

Op vreedsame manier kan ons, ons griewe onder die aandag van die openbare publiek en die internasionele wêreld bring. Vreedsame protes, wat nie gepaardgaan met anargie en die omverwerping van die swaardmag van die staat is die Christen se manier van protes van sy frustrasies.

Ghandi het Indië bevry van die Britse kolonialisme sonder om ‘n enkele skoot af te vuur. Hy het sy volgelinge aangesê om lydelike verset toe te pas.

Die Jode het eenmaal die groot Ordegewer uit ons ordelose wêreld weggewerk. Die Sanhedrin , die hoogste Joodse orde het Jesus van ordeloosheid, naamlik van godslastering beskuldig. Hulle het die Romeinse keiserryk, die hoogste politieke orde aangemoedig om Hom te veroordeel vir “opstand teen die orde.” Tog het Pontius Pilatus Hom onskuldig verklaar van wetteloosheid. Jesus het Hom nie verset nie.

Jesus is veroordeel volgens die hofprosedure van sy tyd en is tereggestel volgens die metode wat aan die orde was. Saam met orde-loses is Hy opgehang. In die naam van orde is die spykers ingeslaan.

Die valse ritme van die bose het skynbaar oorgeneem. Selfs die natuur is versteur, want daar was van 12h00 tot 15h00 ‘n drie ure duisternis. Maar dit was net vir 3 dae. God of chaos? Wie het gewen? God! Sy ritme word nie deurbreek nie, hoogstens drie dae in rus geplaas. Op die derde dag het Jesus Christus die dood oorwin en die orde weer herstel.

God belowe vir ons, dat alhoewel ons nou nog ‘n ‘n ordelose samelewing lewe, dat Hy eenmaal gaan kom met die Wederkoms om alles nuut en weer ordelik te maak. Die nuwe hemel en aarde is aan die kom, waar daar nie meer ordeloosheid sal wees nie, maar waar die wil en orde van God sal heers.

Nou is ons egter alreeds burgers van God se nuwe Koninkryk om al meer orde te bring in hierdie gebroke skepping waarbinne ons nou lewe.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Ek moet soos ‘n kindjie, klein word ……

 SKRIFLESING: Mark 9: 33 – 37 en Mark 10: 13 – 16

Die moderne mens het te groot vir sy skoene geraak. Ons dink so maklik groot oor onsself. Ons lei aan dieselfde grootheidwaansin waaraan Eva in die paradys en die dissipels aan die eerste Nagmaalstafel gelei het.

Die slang het mos aan Eva gevra of sy graag so groot soos God wou wees. Indien sy soos God wou wees moes sy net van die verbode vrug eet. En sy het geëet. Die dissipels het weer daar aan die eerste Nagmaalstafel gewonder wie van hulle is die grootste. Wie sal in God se nuwe koninkryk aan sy regterhand en wie aan sy linkerhand sit.

Die modern mens wil ook groot wees, sonder om God of sy medemens in die oë te kyk. Ons is so groot in ons eie oë dat ons ons gebedslewe verwaarloos, ons het God nie meer regtig so nodig nie. Ons probeer ook, ons elke dag te handhaaf teenoor ons medemens. Bidloosheid en selfhandhawing is simptome van mense wat aan ‘n grootheidswaansin lei, wat groot oor hulleself dink.

Ons moet weer klein word, soos ‘n kindjie, klein. Wat bedoel die Here Jesus as Hy sê dat ons soos ‘n kindjie die Koninkryk van God moet ontvang?

In die antieke wêreld was ‘n kind se waarde bitter gering. ‘n Kind se kans om 16 jaar oud te word was maar 4 uit 10 gewees. ‘n Pa het ook eers met geboorte besluit of hy die kind gaan aanvaar of nie aanvaar nie. Het hy die kind aanvaar, het hy die kind in sy arms geneem as teken van aanvaarding. Het hy die kind nie aanvaar nie, het hy doodgewoon sy rug op die moeder gedraai. Veral dogtertjies is dikwels nie aanvaar nie.

Sulke onwelkome babas is dan ook dikwels op ashope neergesit. Kinderlose egpare het gereeld op die ashope rond gesoek vir babas wat weggegooi is, in die hoop dat hulle by die babas kom, voordat die jakkalse hulle draai gemaak het. Kinders is ook dikwels verkoop as slawe om armoede of skuld af te skryf.

Selfs in die Joodse wêreld is kinders nie veel gereken nie. Daar was geen handves van kinderregte gewees nie. Veral dogters het min getel in die Joodse wêreld. Daarom het hulle dan ook dikwels die seënbede: “Die Here sal jou seën en jou beskerm ….” uitgelê dat die Here jou moet seën met seuns en jou moet beskerm teen dogters. Hier was seuns se waarde hoofsaaklik soos ons versekeringspolisse deesdae: hulle moes vir jou sorg op jou oudag.

Die kinders na wie Jesus in ons teksgedeelte verwys, was nie pienkgeskropte, stroopsoet onskuldige kinders wat na Elizabeth Ann’s se babapoeier geruik het nie. Nee, die kinders in die antieke tyd was dikwels vuil en verwaarloos. (Dink maar hoe die kinders vandag nog in die Arabiese wêreld daarna uitsien.) Verder was die kinders totaal magteloos, totaal afhanklik van die liefde en versorging van die grootmense. Hulle was totaal en al sonder enige regte. Dit is hoekom die dissipels met die ma’s raas wat wil hê dat die Here Jesus hulle kinders moes seën. Dit was in die oë van die dissipels ‘n vermorsing van die goeie rabbi se tyd en energie.

In hulle eie oë het die dissipels gedink hulle is konings, hulle het hulle self reggemaak vir ereposisies. Daarom bring die Here Jesus vir hulle grond toe en sê hulle moet soos hierdie kinders word. Die Koninkryk is vir mense wat klein is.

Kinders moet op stoele staan om by te kom. Kinders moet gedurig opkyk na grootmense. Kinders kan nie na hulle self kyk of vir hulleself sorg nie. Kinders is heeltemal aangewese op grootmense. Kinders leef uit die hande van hulle ouers.

Vir sulke mense is die Koninkryk van God bedoel, vir sulke mense wat weet hulle is klein. Eers as ek klein is, weet ek hoe geweldig afhanklik ek is. Eers as ek klein is, weet ek hoe ontsaglik nodig ek vir God het. Eers dan besef ek, dat ek nie ‘n dag sonder God kan leef nie. Vir sulke mense is die Nagmaal daar. Dit is vir mense wat honger en dors na God, nie vir hulle wat net so ‘n bietjie lus is vir godsdiens nie. Nagmaal is vir mense wat honger na die brood van die lewe en wat dors na die lewende water.

Ja, om in God se Koninkryk in te gaan moet ek klein word soos ‘n kind, soos ‘n skoothondjie wat leef van die krummels wat van die baas se tafel afval.

As ek weer geleer het om klein te word, kan ek skielik weer bid en skielik word dit nie meer vir my so nodig om myself te wil handhaaf nie. Ek leer weer die krag van gebed en ek leer dat God vir my sorg en daarom is selfhandhawing onnodig.

Paulus sê mos as ek sterk is, is ek eintlik swak, maar as ek swak is, is ek eintlik sterk. Ja, as ek groot is, is ek eintlik klein, maar as ek klein is, is ek eers regtig groot.

Christus het in sy lyding klein geword, daarom kon Hy so kragdadig in Getsemané bid en het Hy hom nie gehandhaaf voor Judas, voor die soldate, voor Pilatus en voor Herodus nie. Hy het Homself nie gehandhaaf nie, sodat ons uit sy verlossing kan leef.

Jesus Christus het ook klein geword in Sy lyding, sodat Hy die wêreld kon red van sonde. Daarom getuig die brood en die wyn van Sy lyding, sodat ons verlos kan wees.   

Gaan word klein in hierdie wêreld en dan kan God vir u en my kragtig gebruik.

Here, ek wil ‘n kindjie, klein wees ……

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Drosters van God

SKRIFLESING: Jona 1 – 4

Jona is ‘n dief!

Hy het God se liefde en genade net vir homself gehou. Hy was nie daarmee mededeelsaam nie.

God het vir Jona, seun van Amittai geroep en vir hom die opdrag gegee om sy liefde te gaan deel met die mense van Ninevé. Dit was vir hom een te veel. “Waarom aan die mense van Ninevé?” Hulle was nie eers volksgenote nie.  Waarom die Evangelie deel met diegene wat hulself aan die ellendes en sondes oorgegee het. Waarom die Evangelie aan ander nasies?

Die bekende Hollandse predikant Ds. Overduin sê oor Jona: “Hier kom die goddelose aap uit die vrome mou!” Jona kon hom baie vroom hou, maar diep in sy hart het die duiwel rondgedraai. As God al wat heiden is, brandhout vir die hel sou maak, sou Jona entoesiasties saamgewerk het. Maar nou wil God die heidene staan en vergewe – sy liefde op hulle uitstort.

Maar Jona het baie kleinkinders:

  • Die Farisieërs en Sadusieërs wat Jesus verwyt het omdat Hy ook met sondaars gemeng het.
  • Die kerkmense wat so ‘n behae skep in die val van ander mense.

Wat lees vir u die lekkerste?

  • ‘n Mooi getuienis van iemand.
  • Of die jongste skinderstorie.

Ons is net soos Jona, ons het geen erg aan sending en evangelisasie nie, want dit ontbreek ons aan die barmhartigheid.

Dan verwag God nog boonop dat Jona agter hierdie heidene moet aanloop. Hulle as’t ware moet smeek om tot bekering te kom. Dit was eens te veel vir Jona. God se sending is altyd ‘n uitwaartse beweging. As ‘n versekeringsagent op kantoor sit, kan hy nie verwag op sukses nie. Hy moet uit sy kantoor na die mense toe gaan om sukses te behaal. So moet ons ook ons veilige ruimtes verlaat en gaan na die verloor gaande mensdom.

Dan beraam Jona ‘n plan – hy sal vlug! Hy word ‘n droster. Hy het vir God lief – maar nie vir God se vriende (mense van Ninevé) nie. Hy het vergeet as jy met God “trou”, “trou” jy ook met God se familie.

Dan vlug Jona na Tarsis – die verste punt in die destydse wêreld, op  die kus van Spanje – ten spyte daarvan dat die Jode die see gevrees het. Hy vrees die opdrag meer as die see. Hy koop ‘n enkelkaartjie. Hy emigreer. Die reisgeld van die Here af is duur.

Maar ‘n mens kan nooit van God vlug nie. God is oral. Hy haal jou in. God dryf jou in ‘n hoekie. God speel met Jona skaak. Die skuiwe lyk as volg: Jona vlug. God stuur ‘n storm. Jona verkies om te sterf. God stuur ‘n groot vis.

C.S. Lewis: God praat gedurig met ons. Maar ons is so hardhorend. Dikwels hoor ons nie. Dan praat God met ‘n manier wat ons nie kan ignoreer nie – deur lyding en swaarkry. Dan roep Hy, dan skreeu God tot ons.

Die matrose op die skip hou ‘n kommissie van ondersoek. Wie is die skuldige? Die lot val op Jona. Jona was in die hoek gedryf. Hulle gooi hom oorboord. Die storm bedaar. Dan lees ons van ‘n kerkdiens daar op die oop see – die matrose vrees die Here nou meer as die see. Wat sou hulle later sê: ‘n Goeie ding of ‘n slegte ding het hulle getref?

‘n Vis sluk vir Jona in. God het gesorg vir ‘n retoer kaartjie. Jona kom tot bekering. Wat ‘n vreemde plek is dit nie om tot bekering te kom nie. Die vis simboliseer die “moot” (die plek van die doderyk). Dit is ‘n bewys van die Here se genade en geduld.

Die vis spoeg vir Jona uit. Jona is in ‘n hoek, hy moet nou preek. Hy gaan na Ninevé, ‘n baie groot Assiriese stad. Die stad se bouwerke was groot en die stad was ryk en voorspoedig.

Maar in plaas daarvan dat hy die skoene van bereidheid om die Evangelie te verkondig, het hy lood in sy sandale. Baie onwillig preek hy.

Calvyn het gesê, dat hy dankbaar is dat God vir Jesus Christus en nie vir Jona gestuur het om die wêreld te red nie.

Dan preek Jona ‘n harde preek, ‘n oordeelspreek. God se liefde sluit nie sy oordeel uit nie. Tog is God genadig. God stel die oordeel uit, deur hulle te waarsku.

Dan volg ‘n massa bekering. Jy kan vir Jona met ‘n veertjie ompik. Slegs ‘n preek van 5 Hebreeuse woorde. Geen teken, geen wonderwerk het hulle harte verander nie – slegs die Heilige Gees. Bekering is God se werk.

Jona is kwaad toe hy bly moes wees. Vir Jona is God te wyd, sy genade te groot. Jona preek die Evangelie, maar sy hart sê: ”Julle vreksels, ek hoop julle beland in die hel.” Jona se hart is te nou. Daar is nie plek vir mense wat nie-Jode is nie. God se hart is wyd, terwyl ons harte so dikwels so nou is.

Jona rig vir hom ‘n skermpie op – ‘n pawiljoen. Hy wil sien as die stad vernietig word. Hy wil ‘n toeskouer wees van die verwoesting. Dikwels het die kerk ook ‘n toeskouers mentaliteit wat onbetrokke is, sonder erbarming vir die geestelike nood en die liggaamlike nood van mense.

Dan leer God vir Jona ‘n les, in die vorm van ‘n kinderpreek. God gee vir Jona ‘n komkommer plant, om vir hom skaduwee te gee. God stort as’t ware sy genade oor hom uit. Dan stuur God ‘n wurm en die warm Sirocco – wind, sodat die komkommer plant vrek. God onttrek as’t ware sy genade oor Jona.

Die toepassing wat God vir Jona wil leer is dat Jona net al die genade vir homself wil hê – Jona is selfsugtig. Hy is meer ingestel op sy gerief as op die redding van siele. God moet hom genadig wees, maar God mag nie vir Ninevé genadig wees nie.

Jona se verhaal klink na ons verhaal. Ons is soos Jona drosters wat weghardloop as dit kom om die Here se genade en barmhartigheid met ander te deel. Ons is veel meer bekommerd oor hoe gemaklik ons huise en ons kerke is, as wat ons bekommerd is oor die redding van siele.

God se genade is wyd. Hierdie genade moet gedeel word vir ‘n honger wêreld. God het met ons deernis gehad, ons moet nou ook deernis hê met ander.

Is ‘n vlugtende vir God se opdrag? Is u ‘n droster? Die Here kan drosters verander in dapper getuies.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om eensgesind te wees.

SKRIFLESING: Ps. 133: 1 – 3

Twee broers het saam op ‘n familieplaas gewerk. Die een was ongetroud en die ander een getroud met kinders. Hulle het dit wat hulle geproduseer het en die profyt wat hulle gemaak het, presies om die helfte gedeel. Een dag het die alleenloper vir homself gesê: “ Dis nie reg dat ons alles om die helfte deel nie. Ek is ‘n alleenloper en my behoeftes is min. Daar is my arme broer egter, met ‘n vrou en al die kinders”. In die middel van die nag het hy dus gereeld ‘n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur gaan neersit.

Sonder dat hy dit geweet het, het sy broer dieselfde gedink: “Dis nie reg om alles om die helfte te deel nie. Ek is getroud en my vrou sorg vir my. My kinders sal na my omsien op my oudag. My broer het niemand nie, en wie gaan in die toekoms na hom kyk?” Hy het toe ook gereeld ‘n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur geplaas. Al twee het jarelank met die gebruik voortgegaan om ‘n ekstra sak koring in mekaar se skuur te gaan pak. Wat hulle nie kon verstaan nie, was waarom hulle sakke koring nie minder word nie. Wel, een nag het dit so gebeur dat hulle dieselfde tyd van die nag na mekaar se huise toe afgesit het met ‘n sak koring op hul skouer.  In die donker het hulle in mekaar vasgeloop, met die sakke koring nog so op hul skouers. Elkeen was verbaas maar geleidelik het die waarheid tot hulle deurgedring. Hulle het hulle sakke op die grond gegooi en mekaar omhels. Skielik is die naghemel verlig en het ‘n stem uit die hemel gesê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want, waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.” Die kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet.

Die Here het vandag ook vir Sy gemeente in Ps. 133 ‘n wens, naamlik dat ons eensgesind met mekaar moet saamleef. In ons huwelike, in ons gesinne, in ons kerk en in ons gemeenskap moet ons mekaar liefhê en eensgesind saamleef. Daarom sê die Spreuke digter in 17:1 : “Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.”

In ons teksgedeelte word gepraat van broers. Dit kan beteken bloedbroers of vriende of ons broers in die geloof. Want is dit nie waar dat elke mens op jou pad eintlik maar jou broer en suster moet wees nie.

Die Psalmdigter sê dit is vir hom goed, dit is vir hom mooi as mense eensgesind kan saamleef. In Hebreeus staan daar eintlik hoe “goed” en “aangenaam” dit is as mense in liefde kan saamwoon.

Die Psalmdigter gebruik twee illustrasies om die aangenaamheid van eensgesindheid tussen broers te beskryf. Die eerste illustrasie kom uit ‘n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van ‘n hoëpriester en die tweede beeld uit die natuur.

Die eerste illustrasie in vers 2 beskryf die eensgesindheid tussen broers in die beeld van ‘n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van die hoëpriester. ‘n Hoëpriester word gesalf met olie. Olie het in die algemeen die betekenis van vreugde, dit verskaf geur en dit verlig pyn. So word broederskap tussen mense beleef.

Dit bring vreugde – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verskaf geur – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verlig pyn – met ‘n ware broer kan ek my pyn deel. Hy sal verstaan en onderskraag.

Die tweede illustrasie kom uit die natuur, waar die harmonie tussen broers met die dou van die Hermonberg vergelyk word. Dou is as teken van goddelike seën beskou, dit is ‘n goddelike gawe van lewe en vrugbaarheid. Na die hitte van die dag is die dou in die nag verfrissend en as ‘n besondere seën beskou.

Beide die olie en die dou drup. Die olie drup af oor Aäron se baard, dit drup af oor sy klere en selfs die dou van die Hermon drup af oor die berge van Sion. Dit simboliseer die oorvloedige seën wat broederskap en eensgesindheid tussen mense bring. Baie van ons menslike spanning en stres is te wyte aan swak menseverhoudings tussen mense. Ons stres omdat ons nie met mekaar oor die weg kom nie. Ons wil nie as broers saamwoon en eensgesind saamleef nie. Ons is krities teen alles en almal. Ons is klein geestelik met mekaar. Skinder en vetes maak ons af as klein-dorpie-politiek.

Wie skinder en krities is teen alles en almal, is so goed soos die rower in die “gelykenis van die barmhartige samaritaan”. So iemand beroof ‘n ander een van sy menswaardigheid en lewe. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense.

Esopus was in diens van die filosoof  Xantus. Een dag wou Xantus sy vriende onthaal, en beveel vir Esopus om die beste produkte op die mark vir aandete te laat gaarmaak. Esopus laat maak die kok toe net ‘n klomp tonge gaar, en laat dit voorsit met verskillende souse. Die aand bestaan die voorgereg, hoofgereg, bykosse en poeding uit tong. Xantus was woedend :”Het ek jou nie gesê om die beste produkte op die mark te koop nie?”

“En het ek nie gedoen wat u beveel het nie?” het Esopus gevra. “Daar is tog niks beter as die tong nie: Dis die gom van ‘n beskaafde samelewing, die sleutel van die wetenskap, en die medium van die waarheid en die rede. Deur die tong word stede opgerig en regerings gevestig en geadministreer: met die tong onderrig mense, redeneer en word vergaderings gelei. Dis die instrument waarmee ons sing en God aanbid en prys.” “Nou ja”, het Xantus geantwoord, “ek sien ek kan jou nie antwoord nie, maar gaan nou môre mark toe en koop die slegste goed wat jy kan kry. Ek gaan dieselfde vriende oornooi, en wil hulle ‘n bietjie op ‘n ander manier vermaak en vir hulle ‘n poets bak.” Maar toe aandete voortgesit word, het Esopus presies dieselfde disse as die vorige aand laat maak.

“Het ek jou nie gesê om vir vanaand se onthaal die slegste produkte op die mark te soek nie?” het Xantus uitgeroep. “Hoe is dit dan dat jy dieselfde geregte laat maak het? Jy het dan net gisteraand gesê dat die tonge die beste produk op die mark is?”

Heel kalm het Esopus verduidelik: “ Die tong is die beste ding in die wêreld, maar ook die slegste. Want dis ook die instrument van twis en tweedrag, die aanstoker van regsgedinge, die bron van verdeeldheid en oorlog, die medium van vrees, skinder en leuens – selfs van godslastering.” Sy baas – en die se vriende – moes saamstem met Esopus se redenasie, en met sy illustrasie van die groot waarheid oor die voordeel en die gevaar van die tong.

As ons so ons tonge verkeerd gebruik het ons nie meer deel aan die seën van die Here nie. Die Here wil ons seën, maar dan veral daar waar ons in broederskap met mekaar saamleef.

Geliefdes, u mag nooit toelaat dat haat in julle harte posvat nie. Wanneer iets tragies en afskuwelik gebeur, soos wanneer iemand vermoor word of iemand besteel word is ‘n mens geneig om die “ander mense” en “ander volke” te wantrou. Goeie mense kry ons onder elke volk in die wêreld. Ja, die meerderheid van die Duitse volk in die Tweede wêreldoorlog het niks geweet van die gaskamers nie. Inteendeel sommige Duitsers het hul lewe gewaag om ander Jode te red.

Daarom mag ons nie onsself toelaat, om ander mense van ander volke te haat nie – want dan sou ons in die hande van die duiwel speel. Die duiwel wil die harmonie tussen mense versteur. Hy wil die eensgesindheid tussen mense versteur. Hy wil hê ons moet mekaar wantrou. Wie homself toelaat om te haat, is die ellendigste van alle mense. Sy eie haat gaan hom verslind.

Die Here wil hê dat ons in eensgesindheid moet saamleef met my lewensmaat, my kinders, my vriende, my volksgenote en ook met die een wat nie my volksgenoot is nie. Dan sal die salfolie en die dou van die Here oor ons lewens en oor ons dorp drup. Dan sal die genade van die Here weer ons gekneusde gemoedere genees en ons dorp weer heel. Waar ons eensgesind saamleef, kom die Evangelie in werking. Waarlik, die Kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet. As die Here afkyk uit die hemel oor ons huwelike, ons gesinne, ons gemeente, ons dorp mag Hy ook sê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.”

Wie deel is van die kerk het geen keuse nie, u moet liefhê! U moet die vrede met u naaste najaag. U moet werk daaraan om eensgesind met ander te leef. Dan sal die seën van die Here oor u drup.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Terapie vir ons bekommernis ……..

SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34 en Luk 12: 22 – 34

Waaruit bestaan miswolke? Ons kry mos by ons gereeld mis. ‘n Miswolk bestaan uit water.

Hoeveel water sou julle sê is in ‘n miswolk van so dertig meter diep, genoeg om sewe straatblokke of Adelaide toe te maak? So ‘n honderd liter? “Vyftig” Nee, dit bevat minder as ‘n glas vol water. Klink ongelooflik nê? ‘n Enkele glas water kan die hele Johannesburg Internasionale Lughawe tot stilstand bring. Een glas water kan ons hele uitsig heeltemal versper. So is dit ook met bekommernis. ‘n Klein bietjie kommer, as jy dit toelaat om te vermeerder, kan soos ‘n digte miswolk oor jou hele lewe hang.

‘n Klein bietjie moeilikheid kan tot onhanteerbare sorge vergroot word. Jy kan so maklik verval in die groef om gedurig te tob en te kommer oor more en oor gister. ‘n Aartsbekommeraar het een maal gesê: “ ek het so baie moeilikhede, as daar vandag nog iets moet gebeur, sal ek eers oor twee weke daaroor kan begin kommer!”

Hier in 2020 in die midde van die COVID-19 pandemie, is daar baie dinge waaroor ons bekommerd is.

  • Ons is bekommerd ons kry COVID-19
  • Ek is bang ek of een van my geliefdes sterf van COVID-19.
  • Ek vrees werkloosheid of dat ek my werk verloor.
  • Ek is bekommerd oor my kinders se geleerdheid en hulle toekoms in hierdie land.
  • Ek vrees misdaad teen my en my gesin.
  • Ek vrees ‘n plaasaanval in ons distrik.
  • Ek vrees onverantwoordelike wetgewing, wat my kan beroof van my plaas of van my pensioen.

Bekommernis kan ook ‘n goeie ding wees. Dit spoor hou aan. Dit gee jou adrenalien.

  • Jy is bekommerd oor die oudag, daarom spaar jy.
  • Jy is bekommerd oor plaasmoorde en daarom beveilig jy jouself en aktiveer boereverenigings om paraat te wees.
  • Jy is bekommerd oor waarheen hierdie land heen gaan en daarom maak jy jou monde op.
  • Jy bekommer jou of jy ‘n sekere taak sal kan doen, daarom berei jy jouself deeglik voor.

Bekommernis kan dus positief en kreatief wees. Daarom leer die Here vir ons mos om oor die regte dinge te bekommer, soos oor Sy Koninkryk en die wel wese van ander mense.

Dit kan egter gebeur dat jou bekommernis jou nie tot aksie aanspoor nie, maar eerder verlam. Dan word bekommernis destruktief. Jy word ‘n geestelike en emosionele kreupele. Jy tas in die duister rond. Jy is ‘n swerwer sonder rigting.

Dan kom gee die Here Jesus vir ons raad: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.” Jesus interpreteer hierdie soort kommer as ‘n selfbeheptheid, as ‘n ongesonde introspeksie waar jy niemand en niks as jouself raaksien nie. Jesus se terapie is om jou in die eerste plek van jouself te laat wegkyk. “KYK” sê Jesus. Kyk na die kraaie, kyk na die lelies! God voed die kraaie, God klee die lelies. Hoeveel meer kyk God nie na Sy kinders nie.

Jesus draai jou oë ook na ander mense wat regtig rede het om te kommer oor wat hulle gaan eet of aantrek: die armes. En Jesus vra dat jy sal gee. Die beste aksie stap wat jy kan neem teen honger- en klere- bekommernis is om van jou kos en jou klere uit te deel.

As jy dit doen, van jouself wegkyk na die voëltjies en die blommetjies en die armes en die hongeriges en die naaktes, dan is jy besig met Koninkryksdinge. Dan sal jou bekommernis soos mis voor die son verdwyn.

Ons is behep met geld, met ons goeie naam, ons posisie, ons motors, ons huise, ons plase, ons toekoms en. Dit neem ons hele gedagtewêreld op. Ons is heeltyd met onsself besig. Dit wat regtig saak maak in die lewe kyk ons heeltemal mis.

Ek moet nie vir geld of status of posisie leef nie. Dit gee geen sin aan my lewe nie. Ware lewensgeluk, die ware sin van die lewe is om ‘n lewe te leef vir ander. Die sin van die lewe is om my lewe as ‘n offer vir ander uit te giet.

  • Ek moet leef om ‘n goeie lewensmaat vir my eggenoot te wees.
  • Ek moet leef om ‘n goeie ouer vir my kinders te wees.
  • Ek moet leef om ‘n goeie werkgewer vir my werknemers te wees.
  • Ek moet leef om ‘n naaste vir ander mense te wees.
  • Ek moet leef om ‘n verskil in ander mense se lewe te maak.
  • Ek moet lewe om van hierdie skepping ‘n beter plek te maak.
  • Ek moet leef om ‘n weerkaatsing van God se liefde te word.  

Daar word vertel van die vrou wat jare lank aan erge depressie gelei het en vir jare op medikasie was. Een aand toe sy ‘n koerant koop by ‘n koerantverkopertjie, ontdek sy dat die kind in die koue wintersnag honger is en nie ‘n trui het nie. Sy het vir hom toe elke aand sop gebring en na ‘n week vir hom ‘n trui gebrei. Sy het toe begin heerlik slaap want sy het sinvol ‘n verskil in ‘n ander een se lewe gebring. Sy het begin met ‘n sopkombuis in haar buurt en binne weke het sy sommer weer haarself gevoel.

Middelpuntsoekende krag, wat die eie ek soek werk altyd vernietigend. Middelpuntvliedende krag beweeg weg van die eie ek, na ander en skep lewe en vreugde. Gebruik die dae wat God vir jou gee, tot voordeel van ander – as ‘n offer vir ander mense, maar bowenal as ‘n offer vir God. Dit bring geluk, dit bring ‘n kommervrye en sinvolle lewe.

Dit is waar ons verlammende bekommernisse vandaan kom, naamlik van verkeerde prioriteite. Wanneer my prioriteite rondom myself en my goed en my posisie en my goeie naam draai, dan word ek siek van bekommernis. My bekommernis maak my lam en kreupel.

“Eerste dinge eerste.” sê Jesus. Eers God se Koninkryk, God se eer, jou medemens se behoeftes, en dan kan jy lekker slap. Jesus se terapie werk. Die son begin skyn. Die digte mis klaar op. Jou moeilikheid is toe kleiner as ‘n glas water. Die ergste wat jy verwag, gebeur toe nooit nie, want jy sien die voëls en die veldblomme, jy erken die hand van God in jou lewe, en jy raak besorg om hulle wat kommer het, te versorg.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Deur aanvaarding word mense weer heel !

SKRIFLESING: Luk 19: 1 – 10

Elke mens wil graag deur ander mense aanvaar word. Saggeus was ook so ‘n mens wat graag aanvaarding en liefde gesoek het.

Ongelukkig is hy van kleins af eenkant toe gestoot. Waarskynlik was sy voorkoms een van die redes, waarom hy nooit gewild was nie. Want sien dié Bybel maak pertinent melding van sy kortheid. Hy was abnormaal kort.
Dit gaan dikwels op ‘n Sondagskoolpiekniek soos kinders wat twee spanne moet kies vir sokker of vir ‘n groepspel. Daar word vir elke span ‘n kaptein aangewys. Elke kaptein kry dan elke keer ‘n beurt om iemand vir sy span te kies. Die gewildstes, die atletiese, die beste en die vinnigste word altyd eerste gekies. Die laaste outjies voel dan gewoonlik heel gebelg en die heel laaste outjie moet dan gewoonlik die amptelike tellinghouer wees.
So was Saggeus gewoonlik ook die laaste in alles. Dalk het hy nog ‘n bynaam ook gehad, wat hom seer gemaak het.

Verwerping is iets wat elke mens van tyd tot tyd in sy lewe ervaar. Kinders ervaar dit, grootmense ervaar dit en bejaardes ervaar dit. Ja, soos die ou wat smoorverlief op ‘n meisie is en dan antwoord die meisie vir hom: “Al is daar ook ‘n atoomoorlog en al die mans is dood, dan wil ek nog steeds niks met jou te doen hê nie.” Hoe moet die arme man voel?
Wat doen ons as ons verwerp word of verwerp voel? Sosioloë sê mense tree gewoonlik op een van die volgende twee negatiewe wyses op.
• Hulle verval in selfbejammering, voel na suur druiwe, is verbitter, het wraakgedagtes en probeer om ander mense te “spite” of terug te kry.
• Ander weer verander hulle klere, sedes en selfs beginsels net om deur ander aanvaar te word.
Saggeus het ook verander. Hy het as Jood aanvaarding by die Romeine gesoek en dit ook gekry. Hy het sy Joodse naam Sagaria verander na Saggeus, omdat die meeste Romeinse name geëidig het op “-us”.
Hy het ‘n beroep in die tolbedryf gekies. Met ander woorde hy was ‘n “ontvanger van inkomste”, wat geld vir die Romeinse owerheid ingesamel het. Die Jode het nie van die Romeine gehou nie en daarom was om belasting vir die vyand te betaal ‘n bitter pil om te sluk.
Saggeus het dit egter met soveel oorgawe gedoen, dat hy spoedig bevorder is tot die hooftollenaar. So kon hy sy volksgenote terugkry wat hom so verwerp en met minagting gespot het. Ja, hy het ook gans en al te veel geld ingesamel as wat hy moes en die res het hy in sy sakgesteek. Tot watter laagte sal ‘n mens nie daal, net om êrens “iets te wees nie.
Alhoewel Saggeus ‘n ryk en magtige man geword het, was daar altyd ‘n gemis in sy lewe. Saggeus wou êrens behoort. Tog was hy nie welkom gewees in die sinagoge nie en daarom het hy ook gevoel dat die God van sy voorvaders hom ook verwerp het.
Ja, Saggeus het ver van God gevoel en ver van sy eie mense. Saggeus was alleen, bitter alleen.

Op ‘n dag hoor Saggeus van ‘n bekende en omstrede rabbi wat Jerusalem sou besoek. Hy het besluit dat hy graag vir hierdie rabbi sal wil sien. Daarom het hy in ‘n wildevyeboom geklim, net om vir Jesus te sien aangesien die skare groot was en hy kort van figuur.
Dan verskyn Jesus in die skare. Die mense drom saam, almal wil immers hierdie omstrede rabbi van nader leer ken. Immers almal praat van hom, wie sal hom nie wil ontmoet nie.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is 2a97da55e8d32ecca6ebeff1c77d27f4-zacchaeus-childrens-bible-2.jpg

Saggeus sit in die boom. Tevrede dat hy darem ten minste vir Jesus op ‘n afstand kan sien. Meer het hy in elk geval nie verwag nie. Hoekom sal ‘n bekende rabbi soos Jesus met hom wil praat? Want hy het ‘n ongewilde beroep, pers mense af en steel selfs geld. Vir Saggeus was die ontmoeting op ‘n afstand genoeg gewees. Meer het hy immers nie verdien nie.
Dan stop Jesus reg onderkant die boom en sê hy wil vanaand in Saggeus se huis tuisgaan. Jesus ken Saggeus by die naam, Jesus sien hom raak en Jesus wil by hom tuisgaan. Ek dink Saggeus het skoon van verbasing en blydskap uit die boom geval. Dit is so goed soos hy het die “lotto gestrike”. Die totaal ondenkbare, die hoogs onwaarskynlike het gebeur. Jesus het die verwerpte, die uitgestotene, die randfiguur, die vyand, die dief en afperser raakgesien.
Die wonderlike is dat Jesus nie eenkeer vir Saggeus aangespreek het oor sy sonde en afpersing nie. Nee, Jesus het Saggeus net aanvaar met die “liefde van Jesus.”
Die aanvaarding wat van Jesus uitgegaan het na Saggeus het vir Saggeus heeltemal verander. Nie die oordeel nie, maar die liefde van Jesus het van Saggeus ‘n nuwe mens gemaak. Met blydskap verklaar Saggeus dat hy die helfte van sy goed vir die armes gaan gee en waar hy van iemand iets afgepers het, sal hy dit vir hom vierdubbel teruggee. Saggeus se geldgierige hart, word nou ‘n hart vol van Jesus se liefde. Om bevry te word van aardse goed en skatte is dikwels die moeilikste en laaste gedeelte van jou bekering. Saggeus se bekering begin by die gedeelte, naamlik “Mammon” wat die heel moeilikste is. Daaruit blyk dit hoe opreg en grondig Saggeus hom bekeer het van sy verkeerde weë.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is maxresdefault-1.jpg

Daar word vertel van die gesin wat op pad was terug van ‘n piekniek. Op pad terug kry hulle ‘n klein katjie, eintlik ‘n “vlooitaxi” wat verskrik en verwaarloos is. Die katjie is uiters aggressief en vertrou niemand nie, omdat hy verwerp is deur sy eienaar. Ja, sy nekhare rys en hy kap met sy naels. Die pa wou eers die kat net so laat staan, maar sy kinders hou so aan dat die pa toe maar ingee en die katjie huistoe vat. Met ‘n groot gesukkel het hulle by die huis die katjie gebad, ontsmet en warm melk gegee. ‘n Paar weke later na baie liefde en aandag het die eens aggressiewe katjie ‘n liefdevolle en teer katjie geword wat spin en homself teen jou bene kom skuur vir liefde. Die liefde en aanvaarding van die gesin teenoor die katjie het die katjie se persoonlikheid van aggressief na liefdevol verander.
In ons wêreld is daar ook baie seerkry mense, met bitter wonde van verwerping, maar deur aanvaarding en liefde word hulle heel en nuut. Ja, Jesus is ook verwerp aan die kruis, sodat ons nooit verwerp hoef te voel of iemand anders hoef te verwerp nie.
Saggeus het aanvaarding by Jesus gekry en toe het hy begin om mense lief te hê deur hulle te aanvaar en te help. So het hy genees geword van sy eensaamheid en verwerping.
Augustinus het gesê: “Die enigste vorm van suiwer liefde is dié wat niks terugverwag nie.” Saggeus is deur Jesus se liefde genees van sy verwerping, sodat hy sy liefde kan uitdeel aan ander. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Deur ons gebede kan God van plan verander …..

SKRIFLESING: 2 Konings 20: 1 – 11

‘n Mens hoor gedurig dat mense sê: “As jou strepie getrek is, is hy getrek en jy kom nie by hom verby nie!” of ‘n mens hoor: “Wat gebeur, sal gebeur. As jou tyd daar is, is jou tyd daar.”

Maar mag ‘n mens so sê? Is ‘n mens se lewenspad en sterfdag al regtig voor ons geboorte bepaal? Is ons lewe gegiet in ‘n vaste glybaan sonder enige uitkomkans?

Sou dit so wees, dan is die mens niks meer as ‘n opgewende robot wat vooraf geprogrammeer is. Dan sou die mens soos ‘n voorafopgewende wekker wees, wat besig is om af te tik na sy dood. Dan sou gebed, waardeloos wees, want ons lewe en ons sterfdag is vasgepen. Wat baat dit my, dat ek bid dat God my moet beskerm of my moet gesond maak? Wat baat dit my om vir my kinders te bid, as hulle lewenspad reeds vasgegiet is? Nee geliefdes. God se wil staan nie vas nie. As God se wil onveranderlik vas gestaan het, sou God nie meer die aktiewe en kreatiewe God gewees het nie. Wat wel waar is, is dat daar niks buite God se wil om kan geskied nie. Met ander woorde alles gaan deur die tregter van God se wil. God kan egter van plan verander. Hy kan Sy wil buig. Hy kan van gedagte verander. Juis daarom nooi God vir ons uit om met hom in die gebed te worstel. Om met Hom te kommunikeer. Ja, God kan Sy wil verander, sodat alles vir ons ten goede kan meewerk.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Hiskia, wat die Here gedien het. Hiskia het die krag van gebed geken. Hy het geweet God luister en God kan van plan verander.

Toe koning Sanherib van Assirië vir Israel bedreig het, het hy tot God gebid vir uitkoms en God het vir hom en Israel gehelp. In ons gelese gedeelte was hy ernstig siek, siek tot die dood toe. Die profeet van die Here het aan hom bekend gemaak dat dit die wil van God is dat hy moet sterf en dat hy daarom moet afskeid neem van sy familie. Hiskia aanvaar dit nie sommer net so nie. Hy bid tot God en vra dat God hom moet genees.

Jesaja kom sê vir hom dat “sy strepie getrek is.” Hiskia bid tot God en vra vir God om aan hom genade te betoon. “deur sy strepie verder aan te skuif.” God besluit toe om van gedagte te verander en Hiskia se lewe met 15 jaar te verleng. Jesaja was nog skaars by die binneplein van die stad toe God vir hom terugstuur na Hiskia met die opdrag om aan Hiskia te sê dat God sy “strepie” met 15 jaar gaan aanskuif. As teken hiervan het God die skaduwee wat vorentoe beweeg, met 10 trappe terug geskuif.

Hierdie stukkie geskiedenis toon dat God nog steeds met ons besig is. Alles tik nie maar volgens ‘n meganiese plan af nie. God neem ons gebede in ag wanneer Hy die gang van sake bepaal.

In die verhaal van Jona en Ninevé wou God aanvanklik vir Ninevé verdwelg oor hulle sonde. Toe die stad tot bekering kom, het God van plan verander en die hele stad Ninevé gespaar. Natuurlik was Jona ongelukkig, omdat hy geweet het dat God barmhartig is en maklik van plan verander.

Ook in die verhaal van Israel se trek deur die woestyn, lees ons telkens hoe God sy volk wou straf oor hulle sonde, maar dan telkens van plan verander het, omdat Hy ‘n genadige God is.

Dit is daarom ‘n wonderlike troos om te weet dat ons gebede is nie nutteloos nie. God luister daarna en God is selfs bereid om van plan te verander, as dit maar net in ons beswil is.

Ons is dus nie slegs robotte of opgewende wekkers wat afloop nie. Nee, ek kan self my lewe verkort as ek verkeerd eet, of rook of onverskillig met ‘n motorvoertuig ry. Daarom kan ek nie onverskillig bestuur en sê: ”Toemaar my strepie is klaar getrek” nie.

Die wêreldgeskiedenis en my persoonlike geskiedenis is ‘n wonderlike interaksie tussen die wil van die mens en die wil van God. Die mens se wil is geneig om die verkeerde en die bose te soek. Die mens se wil kan dus teen God se wil indruis – natuurlik met vernietigende gevolge. God se wil is ingestel om alles tot die beswil van die mens te laat plaasvind. God se wil het daarom die mens se wil kom deurkruis, met die kruis op Golgota, sodat die mens verlos kan wees van sonde en van die oordeel. Daarom is ons deur God se goeie wil, verloste gelowiges. So seëvier God se wil oor ons eie sondige wil.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder en jongman-jare ‘n onverskillige rebel gewees wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou vir hom gebid, dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede, Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

Daarom gee die lewensgeskiedenis van Hiskia vir ons nuwe troos en hoop vir ons eie lewe. My lewe is nie onderworpe aan ‘n vooraf vasgepende orde waaroor daar geen beheer is nie. Ek is nie maar op pad na my “strepie” nie. God hoor my gebede. God neem my in ag. My lewe is ‘n wonderlike stuk avontuur, waarin God se betrokkenheid in my lewe al die verskil maak.

Ja, God kan van plan verander en ‘n getrekte strepie met ‘n tree of tien verskuif.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

‘n Generasie van SELFIES

Tien jaar gelede het niemand geweet wat is ‘n “SELFIE” nie. Die jaar 2013 staan bekend as die jaar van die “selfie”. ‘n “Selfie” is ‘n tipe self-portret foto, wat gewoonlik met ‘n kamerafoon geneem word. Moderne selfone het deesdae almal twee kamera – lense, een om objekte af te neem en ander kamera om jouself af te neem. Laasgenoemde se kameralens is gewoonlik aan die voorkant van jou foon. Natuurlik kan dit ook vir video –gesprekke gebruik word

Ek het onlangs op ‘n E – kerk publikasie van Dries Cronje, Pierre Engelbrecht,  Stephan Joubert en ander skrywers die volgende insiggewende feite raak gelees.Die word “selfie”  is die eerste keer op 13 September 2002 gebruik in die ABC Online forum in Australië. Die hashtag# selfie het populêr geraak op al die sosiale media platforms. Sederdien het die “selfie” die internet oorgeneem. ‘n Onlangse verskynsels is waar dames mekaar uitgedaag het of Facebook om “selfies” te neem sonder enige grimering, ten bate van borskanker. So ontstaan aanlyn speletjies met “selfies”. In “datingklubs” en pornokringe vind ‘n mens natuurlik die ergste vorme van die gebruik “selfies”. Daar was in die onlangse verlede ook die Selfie Olimpiese Spele op Twitter.  Feitlik daagliks is die sosiale media oorstroom met fotos wat mense van hulself geneem het. Op die Instagram is die gebruik van “selfies” ook hoog op die lys. Dit is ‘n verskuiwing wat plaasgevind het, waarmee ons in feitlik al die vakrigtings  van kennis moet neem. Dit kan nie maar net ontken word nie. Ons moet daarvan kennis neem om te kan kommunikeer met mense. Die tydperk van “selfies” laat baie rooi ligte flikker. Mense kry ‘n gevoel van selfbewustheid, selfbelangrikheid, eie ego en die skepping van ‘n “image” wat dikwels nie ‘n getroue weergawe van jouself is nie. In “selfies” deel mense hulle persoonlike ervaringe met ander. Die deel van die “ervaring” word selfs belangriker as die ervaring self. Mense is so besig om die ervaring te deel, dat die genot van die ervaring daarmee heen is. Mense kan nie meer “in the moment” wees nie, hulle moet altyd deel en kommunikeer. “Selfies” kan ook ‘n element van spog en hoogmoed ontwikkel by gereelde gebruik daarvan. Fisiese voorkoms en nie innerlike lewenskwaliteite word ten toon gestel.“Selfies” maak die mens meer en meer selfgesentreerd, dat die mens dikwels die middelpunt van alles word. Dit veroorsaak dat God, medemens en omgewing dikwels uitgerangeer word. Die beheptheid met die self het ‘n algehele hoogtepunt bereik. My behoeftes, my ideale, my gemak, my beeld, my gerief en my belangrikheid word sentraal. Nuwere ontwikkeling wat ek raakgelees het is dat “Mirror – selfies” nou ook in die mode kom, waar mense fotos van hulself in ‘n spieël neem. Dit word selfs in die kunste gebruik en selfs in die kommersiële wêreld .Ons het van ‘n tegniese rewolusie oorgegaan na die inligtingsrewolusie. Groot korporatiewe maatskappye het nie meer alleen beheer oor inligting nie. Enige indiwidu kan vandag gehoor en gesien word op die internet. “Selfies” wat goed gedoen is of uitdagend of seksueel van aard is kan binne minute die hele wêreld vol wees. Die “selfie” generasie het dit minder erg aan privaatheid en is nie skaam om persoonlike goed vir die wêreld te vertel nie. Daarom kry ‘n mens dat mense vandag tot in detail sal vertel oor hulle lewe op Facebook en selfs vuilwasgoed sal was op Facebook. Natuurlik ken ons die aaklike bekgevegte wat tussen mense ook plaasvind op die soaiale media. Die “spot” element om die ander te verneder kom ook daagliks voor.Natuurlik is “selfies” opsigself nie negatief of boos nie. Mense kan deel waaroor hulle passievol is. Mense kan konnekteer en bande behou. Mense kan met groot groepe mense op een slag kommunikeer. Mense kan bewustheid vir goeie sake bevorder. Daarom moet ons nie die baba, saam met die badwater uitgooi nie.Positief kan ons leer uit die “selfie” fenomeen, dat mense eerstens ‘n behoefte het om te deel. Mense wil hulle ervaringe met ander mense deel. Daarom sal ons juis in die kerk ‘n ruimte moet skep waar mense hulle ervaringe, ook geloofservaringe kan deel met ander. Die tweede behoefte wat geidentifiseer kan word is dat mense dikwels ‘n gevoel van eensaamheid het. Die neem van ‘n “selfie”, plaas jou in die gesprekslyn op die sosiale media en verlig jou eensaamheid. Die vraag is of die kerk genoeg ingestel is om die eensaamheid van mense aan te spreek. Dit is mos juis een van die kernidentiteite en geloofswaarhede van die kerk, naamlik: “Ons glo in die gemeenskap van gelowiges”Ons as kerk moet ook leer om ‘n digitale teenwoordigheid te hê in ‘n digitale wêreld. Ons kan nie meer kerk wees soos 20 jaar terug nie. Natuurlik moet ons via die digitale media gebruikers aanmoedig om te fokus op ander en op die ekologie. Die positiewe gebruik van digitale media kan niemand ontken nie. Dit is hier om te bly. Ons moet dit net reg bestuur tot eer van God. Daarvoor moet elkeen van ons self verantwoordelikheid neem, wanneer hy of sy die “ENTER” knoppie druk. Dit vertel meer van jou as enigiets anders. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Die eerste sal laaste wees en die laaste eerste!

SKRIFLESING: Mat 19: 30 – 20:16

Die Here Jesus het dikwels vir die mense stories vertel as Hy hulle iets wou leer. Jesus was ‘n bobaas-storieverteller. Maar snaaks, baie mense het glad nie van Sy stories gehou nie, want of hulle het dit nie verstaan nie of hulle het wel verstaan, maar kwaad geword.

So ‘n storie. So ‘n gelykenis was die gelykenis van die arbeiders in die wingerd. Kom ons vertel weer die gelykenis, maar dan in ‘n taal wat by ons streek pas.

‘n Boer moes ‘n klomp skape skeer. Hy het skeerders nodig gehad. Vroegoggend, dou voor dag staan hy op en neem ‘n paar skeerders op die dorp in diens teen ‘n vasgestelde loon van R200 ‘n dag. Teen 11h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 12h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 15h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 17h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 18h00 stop die boer die skeerdery en roep almal byeen om hul daaglikse loon te betaal. Almal kry R200. Ook die wat laaste kom werk het, kry ook R200. Die skeerders, veral die wat eerste ingeval het, was vir die boer woedend kwaad gewees. Soos ek ook kwaad word as ek in ‘n ry staan in ‘n groot winkel en iemand kom druk voor my in. Ons glo mos in geregtigheid. Elkeen moet kry wat hy verdien. Elkeen moet sy beurt afwag.

In die lewe staan ons mos altyd in rye voor en agter mekaar. In die skool staan die slimste eerste. Ons onderskei tussen geleerd en ongeleerd. Ons klassifiseer mekaar op grond van jou aansien in die gemeenskap. Jou velkleur, jou gewig, jou skoonheid, jou bekendheid en nog vele ander eienskappe, maak dat ons mense in rye plaas van voor na agter.

In die kerk staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus Christus nie. Want luister wat sê Mat 20:16:  … die eerstes sal laaste wees en die laastes eerste.”

Kom ek verduidelik vir u: As ek ‘n paar kinders vorentoe roep en vir hulle sou sê om ‘n kring te vorm en mekaar se hande te vat. Watter een is eerste, en watter een is laaste? Dan sal u sê: Eintlik is niemand eerste of laaste nie! Almal is ook eerste en laaste! ‘n Mens sou by enige plek in die kring kon begin en sê daardie een is eerste, of sou net sowel kon sê hy is laaste.

Almal in die kring is eerste en almal is laaste. Almal is gelyk.

Netso, as ek in die middel van die kring staan, sal almal ewe ver en ewe naby my staan. Niemand sal nader of verder staan nie. Netso, staan Jesus Christus in die middel van die kring. Hy is die koning van die kerk en almal staan ewe ver en ewe naby aan hom. Hy is die Verlosser wat almal gelyk behandel. Die Vader is die Vader van al sy kinders.

Daar is ‘n Joodse geskrif wat sê dat mense in ‘n kring dans, dan is die laaste een nie agter nie en die eerste een nie voor nie. Die Jode het in van hulle Joodse vieringe ‘n dans waar die mans in kringe dans, met hulle hande op die volgende persoon se skouer.

So werk dit ook in die Koninkryk van God: “Die eerste sal laaste wees en die laastes eerste. Geliefdes in die kerk van Jesus staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus nie – sommiges is nie voor en sommiges nie agter nie.

In die kerk van Jesus vat ons almal hande en maak ‘n kringetjie rondom die kruis. Onder God se kinders is daar nie witbroodjies nie, maar ook nie swartskape nie.

Want Hy handel met ons, nie volgens wat ons verdien nie, maar uit genade. Hy gee ons nie ons verdiende loon nie, Hy gee ons genadebrood omdat Hy goed is. Niemand is geregtig op voorkeurbehandeling nie.

Vir iemand wat reken op voorkeurbehandeling is hierdie natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Interessant Petrus het hierdie voorkeur-behandeling verwag. Luister wat sê hy in Mat 19: 27: Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” 

Jesus ontken nie dat daar loon sal wees nie, maar let wel: Nie verdiende loon nie, maar genadeloon. Vir ons wat miskien onbewustelik tog reeds ‘n bietjie gedink het dat ons senior amptenare in die Koninkryk van God is, is dit natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Ja, die vreemde geregtigheid van God gee sommer aan daardie laatkommer aan die kruis, ‘n man wat nooit in ‘n kerk of ‘n biduur was nie, sommer die paradys verniet weg.

U sien genade maak ons gelyk met die grond. En as almal in die kerk eers gelyk is met die grond, dan is ons uiteraard ook gelyk met mekaar.

Juis daarom is ons mekaar se broers en susters en mag ons nie oor mekaar baasspeel nie. Die kerk is nie ‘n plek van magspeletjies nie. Die kerk is ‘n plek van verlostes wat mekaar dien.

Pinksterfees beteken ons is almal deur dieselfde Gees gedrenk. Deur dieselfde Gees moet ons nie die een op die ander neersien nie. Daarom maak die Pinkstergees onder nederig aan mekaar.

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Waar sal my hulp vandaan kom?

SKRIFLESING: Ps 121: 1 – 8

Ons sê dikwels: “Die lewe lê soos ‘n berg voor my …… ek sien nie daarvoor kans nie.” Hierdie berge kan enigiets wees. Dit kan “oud word” wees. Dit kan siekte wees, eensaamheid, huweliksprobleme, ouer-kind probleme of finansiële probleme of vele ander gestaltes van menslike pyn.

Ja, my probleme lê soos ‘n berg voor my!

Dan begin koning Dawid hierdie Psalm met die woorde: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Ons as gelowiges leef dikwels sonder moed en lewenskrag, asof die berge groter as God is. Inderdaad het Johannes Calvyn geskryf: “Daar hoef maar net ‘n blaartjie iewers te ritsel, dan begin ons te bewe asof God van ons vergeet het.

Koning Dawid het ook met die skryf van Psalm 121 rondgerol van bekommernisse en vrees. Ons lees dit is ‘n pelgrimslied. Met ander woorde Dawid het dit geskryf toe hy oppad was. Waarskynlik was dit in die nag toe hy rondgerol het van bekommernisse en vrees.

Sien in u verbeelding die situasie waarin Dawid was. Hy was waarskynlik op ‘n lang en gevaarlike reis na Jerusalem. Daar was die gevaar van roofdiere en veral van rowers. Hy het rondom die vuur gelê en die bekommernisse het hom wakker gehou. Hy het nog die vrees gehad dat koning Saul hom nog wil doodmaak. Dan sien hy die wag, wat by die vuur waghou. Dan spoel daar ‘n vertroue en gerustheid oor hom en hy komponeer die Psalm op sy harp.

Die lied, die Psalm begin met: “Ek kyk op na die berge: Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?”

Die geloof het destyds bestaan dat die gode op ‘n berge in die noorde woon. Die Israeliete het immers gereeld op die sogenaamde “hoogtes” geoffer, omdat hulle waarskynlik ook deur hierdie ou geloof beïnvloed is. The Living Bible vertaal dit so mooi: “ Shall I look to the mountain gods for help?”   

Hoor hoe antwoord Dawid: “ My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Vir die Skeppergod is alles moontlik.

In vers 1 – 2 is “hulp” die sleutelwoord en in vers 3 – 8 is “bewaar” die sleutelwoord. Daarom het die Psalm as’t ware twee dele:

Verse 1 – 2: Die Here is my helper.

Vers 3 – 8: Die Here is my bewaarder.  

En hoe ‘n bewaarder is die Here nie!

In vers 3.a staan daar dat Hy nie sal toelaat dat jy struikel nie. In die Hebreeus beteken dit “om nie te waggel nie”. Jy sal nie eers amper val nie.

In vers 3.b en vers 4 staan dat die een wat jou beskerm, slaap nooit nie. Daar staan die Beskermer van Israel slaap nooit nie. Is dit nie wonderlik nie. Toe ek Nasionale diensplig gedoen het, moes ek dikwels in die oggendure tussen 04h00 en 06h00 wagstaan. Dit is net jy en jou geweer en jou radio om met die bevelskamer te praat. Dit is die tyd net voor die son opkom. Dan is jy op jou heel vaakste. Dan moes ek hard met myself gepraat het om wakker te bly. Sou hulle jou vang slaap, sal hulle jou van die offisierskursus afgooi. Dit was erg. Ja, wagte kan aan die slap raak. Die stad Sardis in die Bybel is ook twee keer binnegeval, omdat  die wagte geslaap het. Maar onse Here slaap nooit. Ons Beskermer is altyd wakker om ons te beskerm, teen watter gevaar ons ookal bedreig.

Vers 6.a handel oor die wyse van beskerming. Die son sal jou nie steek nie. Dit herinner aan die uittog van Israel uit Egipte toe die Here ‘n wolk as beskutting gegee het teen die gevaar van sonsteek in die woestyn.

Vers 5 staan daar Hy bewaar jou van alle gevare. Die Here vul die ruimtes waar jy die kwesbaarste is. So byvoorbeeld is die soldaat se regterkant die kwesbaarste. Sy skild is aan sy linkerkant om sy hart te beskerm. Sy regterkant is onbeskut, want hy hou sy swaard vas. Daarom is die kwesbaarste ruimte die regterkant. Maar ook in daardie kwesbaarste ruimte is God.

Vers 6.b staan daar dat die Here jou snags sal beskerm en dat die maan jou nie kwaad sal aandoen nie.  In die antieke tyd het hulle geglo dat daar maansiektes was soos epilepsies en koorssoorte wat kom van die Sjin die maangod. Ook van dié gevaar sal die Here jou beskerm.

Dan word die Psalm afgesluit met verse 7 en 8, wat weereens bevestig dat die Here jou sal beskerm. Daar word beklemtoon , dat Hy jou lewe (jou siel) sal beskerm. Jou lewe (siel) is jou kosbaarste. Hierdie Psalm sê nie dat die lewe nie probleme sal hê nie. Die lewe is egter vir almal ‘n reis vol gevare en elkeen se lewenspad is moeilik. Maar in alles sê Dawid is die Here vir ons ‘n Helper en ‘n Bewaarder.

Die lewe is een groot pelgrimsreis, vol gevare. Maar op hierdie pelgrimsreis is die Here met ons, om ons te lei en te beskerm. Ons pelgrimsreis vat ons nou deur die donker dieptes en ongekarteerde pad van COVID-19. Die gevaar is nou groot. Daar is ekonomiese insinking, werksverliese en menslike ellende. Maar alle donker tye eindig. JAHWEH, die Here se naam in Hebreeus beteken: “Die Here red.” Die Here red op verskillende maniere. Somtyds maak die lewe nie sin nie, maar daar is ‘n groter prent daaragter.

Wanneer jy ‘n enkele legkaartstuk vashou, sien jy geen prent nie. Eers later wanneer dit in die groter legkaart geplaas word, kry die prent fokus. Nou verstaan ons nie, maar later sal ons verstaan.

Word kalm, kry lewensmoed, word rustig en weet: Jy het ‘n Helper en ‘n Bewaarder.

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)