God het Sy vegtersboog neergesit

SKRIFLESING: Genesis 9:8-17

Die reënboog is vir die meeste mense besonders mooi en van besondere vertroosting.

Ek onthou hoe ek een Januarie baie jare gelede terug gery het van Bloemfontein na Strydenburg (my eerste gemeente). Die betrokke jaar wat voorgelê het sou ‘n besondere moeilike jaar gewees het. So tien kilometer buite Strydenburg het die mooiste reënboog so oor die hele dorp gespan. Ek het dit as ‘n Goddelike teken van bemoediging en vertroosting ervaar met die bevestiging dat God saam met my en my gesin is.

In die tyd van Noag was die mensdom in ‘n totale toestand van sonde en het die woes gegaan op aarde. Niemand het God meer gedien nie, behalwe Noag. God wou van vooraf begin met die mensdom. Daarom het God ‘n sondvloed gestuur om die wêreld skoon te was van die sonde. Slegs Noag en sy familie en die diereryk is gered.

Die Hebreeuse woord “qeset” vir reënboog het ook ‘n oorlogskonnektasie en verwys na die kryger se boog. Dieselfde Hebreeuse woord “qeset” kom ook voor in Ps 7: 13, Klaag 2: 4 en Hab 3: 9 – 11, waar dit verwys na die boog van die kryger wat gespan word. Daarom is die reënboog  in die antieke Hebreeuse tekste ook ‘n simbool van God se toorn en oordeel. God span as’t ware sy boog om met jou in oorlog te gaan. Met die sondvloed het God sy “qeset” (sy reënboog) gespan en met die mensdom in oorlog gegaan. Verwoestend het dit 40 dae en 40 nagte gereën en alles vernietig behalwe almal wat in die ark was.  God is ook ‘n toornige God, wat kwaad word oor sonde en sy oordeel kan uitspreek oor sondaars. Ons misgis ons, as ons dink God is net liefde. God is liefde en regverdigheid. Waar God se regverdigheid vertrap word stort God sy toorn uit oor die mens. Daarom moet ons nie van God ons speelmaatjie maat en sonde nie ernstig opneem nie. Baie mense dink God is net liefde, geen oordeel nie. Dikwels glo ons dit is God se werk om te vergewe. Maar dan dink ons naïef  oor God. God straf ook sonde. God straf die sonde van die enkeling en ook die sonde van ‘n volk of van die mensdom. Daarom moet ons versigtig voor God lewe. Hoor hoe sterk spreek die Here Jesus homself uit in Mat 23: 23: “23 “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.” God is die God van geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Wee jou, as God sy reënboog teen jou span.

Daarom mag godsdiens, nooit net oor ‘n goedvoel – gevoel handel nie. Dit moet ook spreek oor die vlymskerpte van God se Woord wat sonde haat, veroordeel en straf. Ons maak dikwels God se genade te goedkoop, te maklik verkrygbaar. Ons bid so maklik “Vader vergeef my al my sonde.” Dit is geen sondebelydenis nie. Sonde is om na te dink oor jou lewe en vir jou sonde ‘n naam te gee en jou sonde by die naam te noem. Wee jou, as God Sy reënboog teen jou span! Wie sal God se toorn kan ontvlug.

Maar God kan ook afstand doen van Sy toorn. God kan Sy toorn verruil vir vrede. So het God ook na die sondvloed vrede verklaar. Daar staan in Gen 9: 13 “My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde.” Wanneer God dus as’t ware die reënboog neersit op die aarde, sit hy Sy oorlogsboog neer om vrede te maak met die mense en ‘n vredesverdrag of -verbond met die mens te sluit. Daarom is die reënboog God se vredesteken en vredesverbond, dat Hy nie weer die wêreld sal uitwis deur ‘n sondvloed nie. Die Here het sy boog (reënboog) neergesit tussen die wolke, as teken dat Hy sy wapen neergesit het en met die mense ‘n vredesverbond gesluit het. So word die teken van die reënboog wat neergesit is, teken van God se trou.

Daar is iets soos post traumatiese stres. Noag en sy nageslag kon maklik elke keer as die wolke saampak, die trauma herbeleef dat daar weer ‘n sondvloed oppad is. Daarom is die reënboog wat neergesit is, ‘n teken dat God nie meer met hulle in ‘n oorlog is nie. Dat God nie weer die aarde sal uitdelg met ‘n sondvloed nie. Dit sou vir hulle ‘n berusting gee. Dit is nogal wonderlik, om te weet dat die reënboog wat neergesit is, slegs sigbaar is wanneer daar ‘n storm op hande is. God se trou is die duidelikste in die storms van die lewe.

Die reënboog wat neergesit is, is ‘n eensydige verbond waar die iniasitief en verantwoordelikheid net van God kom, om die aarde nie weer uit te delg met ‘n sondvloed nie.

So is die kruis ook ‘n teken, dat God afstand gedoen het van Sy toorn en dat sy kruis die weerligafleier was van die hemelse donderweer. Daarom is die kruis in die aarde geaard. Daarom hoef ons ook nie aan post traumatiese stres te lei en God se straf in alles wat in my lewe gebeur te soek nie. Ook in die storms van my lewe, kan ek weet dat God se kruis die simbool van vrede en berusting is.

God het Sy wapen, die reënboog neergesit tussen die wolke en storms van my lewe, as teken dat God van sy toorn afstand gedoen het. God het sy wapens neergelê, om in genade in vredesverbond  met ons te leef.  AMEN. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die twee kragte …..

SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34

Bekommernis kan verlammend inwerk op ‘n mens se lewe. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ‘n sekere vrou. Die vrou was doodsiek gewees en het gereeld elke week ‘n afspraak by die dokter en sielkundige gehad. Elke dag moes sy duur medikasie gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword.

Een koue wintersaand is sy toe egter op pad na die kafee om brood te loop. Toe sy by die robot stop en wag dat die lig moet groen word, vind sy die grootste ontdekking van haar lewe. Terwyl sy wag sien sy koerantseuntjies kaalvoet op en af spring om hul warm te hou. Sy kry hul toe ontsettend jammer en dink hoe sy hul lot kan verlig. By die huis aangekom het sy dadelik vir hulle sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand gaan slaap sy rustig, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ‘n gesonde mens, want sy het geleer om haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ‘n saak groter as haarself.

Haar verhaal laat my dink aan die twee soorte kragte wat daar is, naamlik middelpuntsoekende krag (soos ‘n draaikolk in ‘n rivier) en middelpuntvliedende krag (soos die planeet aarde wentel met middelpuntvliedende krag weg van die son af)  Middelpuntsoekende krag loop uit op die dood in die draaikolk. Middelpuntvliedende krag beteken daar kan lewe wees op planeet aarde.

Die vrou in ons verhaal het haarself middelpuntsoekend vasgedraai in haar bekommernis. Toe sy begin weg-leef het van haarself en vir ander begin omgee het en ‘n barmhartigheidstaak aangepak het groter as syself, het sy begin leef.

In verse 25 – 32 lees ons van mense wat besig is met middelpuntsoekende godsdiens. Hulle is bekommerd en begaan oor hulle eie klein koninkrykies. Oor God se Koninkryk is hulle nie in die minste bekommerd nie. In vers 33 lees ons van hoe ware lewendige godsdiens behoort te lyk. Middelpuntvliedende godsdiens is nie bekommerd oor die self nie, maar is bekommerd oor God se Koninkryk.

Ons mense is geneig om ons eie koninkryke se soek en te bou. Vers 25 tot 32 handel oor die mense se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink, en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter as ek begin leef net vir my behoeftes. Wanneer my polisse, my duur motor, my groot huis, my familieplaas, my kinders, my goeie naam, my gemaksug, my geluk my enigste prioriteit word in my lewe dan gaan die rooi ligte aan. Wanneer ek my dankoffer begin swaar gee. Wanneer my status belangriker word as God se eer. Wanneer ek meer tuis is in my eie huis, as in God se huis is daar iets groots verkeerd.

Wie so besig is om aan sy / haar eie “empire”, sy / haar “koninkrykie” te werk is met sy eie middelpuntsoekende godsdiens besig. So ‘n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernis.

Vandag beleef ons ook ‘n stuk doodsheid in ons kerke omdat gemeentes net ingestel is op hul eie behoeftes. Solank dit net goed gaan met die plaaslike gemeente en met die sieleheil van sy lidmate is alles reg. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente en daar eindig dit. Elke gemeente vir homself. Dit is middelpuntsoekende godsdiens in sy uiterste vorm.

Eenmaal is daar aan ‘n skilder gevra om ‘n skildery te maak van ‘n kerk wat dood is. Hy het lank gedink en eers na ‘n jaar terug gekom met die skildery wat hy geskilder het. Hy het ‘n ongelooflike mooi en duursame kerk geskilder, maar skokkend was die spinnerakke oor die sendingskatkis. Wanneer die kerk so bekommerd is oor sy eie behoeftes, oor sy eie klein koninkrykie dan is die kerk dood. Middelpuntsoekende godsdiens is selfsugtig. Dit hou God se genade net vir myself en wil dit nie deurgee na ander nie.

Two hands offering to give, donate or charity

Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kindom go”. Laat U Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat U koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God.”

Ons bedoel daarmee dat die Here grondgebied sal wen in my lewe. Dit beteken om hoe langer hoe meer onder die heerskappy van God te lewe. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergaan, om die neerlaag van ons eie koninkryke.

Daar is geen moeiliker gebed as dit nie. Met hierdie gebed verlaat ons die klein kring van ons eie koninkryke, maar ook ons binnekamers en ons kerkmure en  gaan ons oog wêreldwyd oor die lande wat wit is van die oes, na Singapoer en Saigon, na Rusland en Roemenië, oor die ongelowige miljoene tot by die uithoeke van die aarde. ‘n Gebed wat verder uitreik as hierdie een, kan ons beswaarlik bid.

‘n Gemeente wat die Koninkryk van God soek is meer begaan oor die sieleheil en liggaamlike nood van heidene op sy drempel as oor sy eie behoeftes. Daarom moet sendingwerk en liggaamlike nood van mense ‘n baie groter prioriteit by ons wees, as die behoeftes van die plaaslike gemeente. Wie sy eie Koninkrykie verloën en God se Koninkryk soek, maak daarmee ook ‘n einde aan sy / haar wederstrewige wil en stel God aan as die Pottebakker van sy lewe.

Verlang u na ‘n lewende geloofslewe? Verlang u daarna om ‘n lewende gemeente te wees?  Dan sal ons Mat 6: 25 – 34 moet gehoorsaam. Dan sal ons die fisikawet van die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende krag moet gehoorsaam.

Wie middelpuntsoekend bekommerd is oor sy of haar behoeftes sal geestelik doodgaan. Hy/ sy sal doodgaan in die draaikolk van sy eie selfsugtige wil en behoeftes. Wie egter middelpuntvliedend besig is om hom / haar te bekommer oor God se Koninkryk en oor hoe God se Koninkryk ‘n groter staanplek in sy / haar lewe en in die wêreld sal kry, sal geestelik lewe.

Versprei die Woord, gee sop, brei truie, gee voedsel, gee ‘n Bybel, versprei ‘n traktaatjie, help iemand en die Koninkryk van God kom.

Klein kuddetjie, bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe God se Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself  bekommerd wees nie. Dit is immers God se hele instelling om oor julle bekommerd te wees.

Here laat u Koninkryk kom. Maranata! Kom Here Jesus! Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan U behoort. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die wapenrusting van die Christen.

SKRIFLESING: Efesiërs 6: 10  – 20

Vandag tref mense baie voorsorg om hulle lewens en besittings te beskerm teen misdaad. Diefwering, alarmstelsels, honde, slotte, vuurwapens ensovoorts word aangeskaf om die verkeerde mense buite te hou.

Paulus sê egter dat daar ‘n ander bedreiging is, wat ons sielelewe bedreig. Dit is naamlik die diaboliese magte van die duiwel wat daarop uit is om ons geestelike lewe aan te val en swak te maak.

Natuurlik is die ou duiwel baie slim en slinks. Hy is ‘n regte jakkals. Hy is ‘n Trojaanse perd. Die stad Troje is vir baie maande onsuksesvol beleër. Toe kry die vyand ‘n slim plan. ‘n Paar krygers het gaan wegkruip in ‘n houtperd en hulle het die houtperd in die nag voor die poort van die stad gelos. Toe het die res van die krygers onttrek. Daardie nag toe alles stil is, het die inwoners van die stad die poort oopgemaak, die houtperd ingestoot, die poort toegemaak en gaan slaap. In die vroeë oggendure het die krygers uitgeklim uit die houtperd, die poorte oopgegooi en hulle maters met ‘n sein nader geroep. Daardie nag het honderde krygers die poorte binnegesluip en daardie selfde nag die hele stad Troje vernietig en afgebrand.

So is die duiwel ook, hy is onsigbaar en vol slim planne om die gelowiges te oorrompel. Hy is altyd soos ‘n jakkals wat in skaapwol homself voordoen. Daarom waarsku Paulus ons teen die diaboliese kragte en magte wat in hierdie wêreld aan die gang is.

Ons het vandag ‘n stryd teen mense wat misdaad pleeg. Maar ons het nog ‘n groter stryd teen ‘n mag wat nie uit vlees en bloed bestaan nie – ‘n stryd teen die magte van hierdie sondige wêreld en die bose geeste in die lug.

Natuurlik is hierdie magte van die sondige wêreld, dinge soos materialisme, sekularisasie, die verafgoding van die tegniek, permisitiwiteit en die strewe om die mens mondig te maak. Dit is juis hierdie dinge wat die ou duiwel gebruik as Trojaanse perd om ons siele binne te dring en van binne uit te hol, sodat hy nes kan maak.

Daarom sê Paulus dat ons nie net ons lewe en besittings moet beskerm nie, maar veral ook ons siele en geestelike lewe. Daarom gee Paulus vir ons raad, watter wapenrusting vir ons beskerming sal gee teen die bose magte. Hy noem verskillende goed soos: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard. Al hierdie goed was deel gewees van die Romeinse soldaat se wapenrusting.

Belangrik is dat ‘n Romeinse soldaat voorsien word van sy wapenrusting. Dit is nie iets wat hy vir homself aanskaf nie. Netso voorsien die Here self vir die gelowige alles wat hy nodig het, om te kan weerstand bied teen die magte in die wêreld en die bose geeste wat aan die werk is.

Dit word in ‘n bepaalde volgorde genoem: naamlik die volgorde waarin ‘n Romeinse soldaat homself aangetrek het. Eers die gordel, dan die borsharnas, dan die skoene, dan die skild aan die linkerhand en sy regterhand sit die helm op. Daarna neem die regterhand die swaard op. So wil die Here as’t ware vir ons aantrek met die volle wapenrusting. Eers die defensiewe wapenrusting en dan volg die offensiewe wapenrusting.

Kom ons kyk na elkeen van hierdie stukke van die wapenrusting.

GORDEL – In die tyd van die Bybel het al die mans rokke gehad. Maar ‘n rok belemmer jou vermoë om te kan hardloop of te kan werk. Daarom het elke soldaat ook ‘n gordel gedra, waarmee hy sy rok kon opbind om meer vlugvoetig te kan wees as hy moet veg. Die gordel se simboliese waarde is dat dit die getrouheid van die waarheid verteenwoordig. Die wêreld hou hom skynheilig en word maklik ontrou. Die duiwel wil juis hê dat ons ontrou moet word. Julle moet egter getrou bly aan die waarheid, aan die Evangelie, aan die Here Jesus. Iemand wat ontrou word, word ‘n droster.

BORSHARNAS – Die borsharnas was gemaak van leer en metaal. Die metaal gedeelte moes die soldaat se longe en hart beskerm teen swaardlemme en die leergedeelte moes die brandpyle blus, sodat die soldaat nie in vlamme opgaan nie.

Die simboliese waarde van die borsharnas is geregtigheid, naamlik om die regte dinge te doen. Daarom wil die borsharnas die opregte hart beskerm, sodat ek die regte dinge kan doen. Ek moet die regte etiese besluite in my lewe neem. Elke dag word ek met talle etiese besluite gekonfronteer. Ek moet opreg van hart wees om die regte besluite te neem.

SKOENE – Die Romeinse skoene was een van die suksesstories van Julius Ceasar se vinnige opgang en militêre suksesse. Daarom roep Christus sy kerk op om die skoene, die bereidheid om die Evangelie te verkondig aan te trek. Het u al hierdie skoene aangetrek?

SKILD – Die Romeinse skild is gemaak van ‘n vlegwerk van leer en metaal., sodat as ‘n brandpyl die skild sou tref, die brandpyl geblus kon word. Die skild verteenwoordig geloof. Met die skild van geloof moet ons die brandpyle van versoekinge uitwis. Die bose vuur allerhande brandpyle op ons af soos: gierigheid, jaloesie, verkeerde begeertes, haat, onsedelikheid ensovoorts. Deur gelowige volharding kan hierdie pyle geblus word.

HELM – Aan die Romeinse soldaat is ook die helm vir sy kop gegee, wat sy kop beskerm. Hierdie helm is simbool van my verlossing. Hierdie versekering dat ek reeds verlos is, moet my diepste motivering wees om weerstand te bied teen die magte van die bose. Die helm word ontvang deur die soldaat, uit die hand van die offisier. Net so ontvang ons ons verlossing direk uit die hand van onse Here Jesus Christus. 

SWAARD – Die swaard verwys na die Woord van God. Dit is een van die vernaamste wapens van die Christen. Daarom moet ons deur Bybelstudie en selfstudie leer om die Bybel reg te hanteer. Die Here Jesus het toe hy versoek is, telkens uit die Woord aangehaal en sodoende die duiwel oorwin.

In vers 18 tot 20 vind ons ‘n paragraaf wat oor GEBED handel. Natuurlik is gebed ‘n magtige wapen teen die Bose. Gebed verander die wêreld en verander myself ook. Daarom moet ons as ons elke deeltjie van die wapenrusting aantrek dit biddend doen. Ons moet vir alles bid. Ons moet altyd deur bid. Ons moet waaksaam bly en vir elke gelowige bid, dat ons almal staande op ons pos sal bly.

Ten slotte hoe lyk nou weer die wapenrusting van die gelowige:

GORDEL – Om getrou aan die waarheid, aan die Here te bly.

BORSHARNAS – Om elke dag eties reg op te tree.

SKOENE – Om die Woord van God uit te dra.

SKILD – Om versoekinge die hoof te kan bied in die geloof.

HELM – Ons verlossing is ons dryfveer.

SWAARD – Die Woord van God is ons wapen.

Ons moet in alles en in alle omstandighede, waaksaam in die GEBED bly.

Daarom wil die Here vir ons versterk met sy Woord en vir ons sê dat hy in hierdie stryd tussen die magte van die Lig en die magte van die duisternis ons Aanvoerder is, wat vir ons alles sal voorsien wat in die stryd nodig is.

Pasop die ou jakkals loop rond, die duiwel stel ook vir ons gedurig ‘n Trojaanse perd op. Wees waaksaam. Wees gereed. Wees paraat. Wees aangetrek met die volle wapenrusting wat die Here vir ons voorsien het.                 AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

U staf en u stok ….

SKRIFLESING: Ps 23: 1 – 6

’n Teoloog het Psalm 23 al as die piekniek van die Evangelie beskryf. Al die elemente van ‘n piekniek word hier beskryf, naamlik ’n groen stukkie gras by waters waar daar ’n rusplek is. In die Psalm word ‘n plek van vrede geskilder, saam met ‘n piekniekmandjie, in die vorm van ‘n feestafel. Inderdaad is ‘n lewe saam met die Here ’n piekniek.  In die Engelse vertaling word geskryf: “I shall not want.” As die Here jou Herder is, sal die begeertes om alles te wil hê ophou. In die Here sal jy vind alles wat jy nodig het.

Gewoonlik word die Psalm geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies ‘n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van Psalm 23. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen wyding nie. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens groen weiding gaan soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie.

Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Psalm 23 wil ons leer om daagliks van God afhanklik te wees, vir ons daaglikse benodigdhede.

Die ou vissermanne van Paternoster het ook so van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie herder wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar vis is. Daar was storms, partykeer het ‘n skuit nie teruggekom nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig gewees en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Hulle was so afhanklik van die Here, dat hulle hul dorpie se naam “Paternoster” gegee het, wat beteken in Latyn “Onse Vader”. So was die skape van Psalm 23 ook daagliks afhanklik van die goeie herder, die hemelse Vader.

Vers 1 tot 3 gaan oor die daaglikse versorging van die Here. Vers 4 gaan oor die versorging van die Here in moeilike tye van my lewe. Daar staan: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,  is ek nie bang vir gevaar nie,want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.” Dawid het waarskynlik in die laatmiddag, wanneer dit skemer word,  deur ‘n donker kloof met sy skape getrek na die klipkraal. Gewoonlik het die struikrowers of wilde diere daar in die donker klowe, waar dit eerste donker word geskuil. Dit was ‘n plek van gevaar. Dan sê die psalmdigter, dat hy nie bang is nie, want die herder se “stok” en “staf” stel hom gerus. Die stok het die doel gedien om roofdiere en rowers te verwilder. Die staf met sy een punt wat ‘n boogvorm het, kon die skaapherder sy skape aan hulle agterpote nadertrek, weg van die gevaar. So wil die Here ons ook elke dag van gevaar beskerm.

In vers 5 – 6, verander die beeld of metafoor waarmee die mens beskryf word. In verse 1 – 4 is die mens soos ‘n hulpelose en afhanklike skaap, wat wag op die leiding van die goeie herder, die Here Jesus Christus. In verse 5 – 6 word die mens in die metafoor van ‘n eregas beskryf, wat sit aan die tafel van die Here, ten spyte van konflik. ‘n Mens kan die Here se vrede beleef selfs ten spyte van konflik en “teenstaanders” in jou lewe.

Die Midde Oosterse mense het gewoonlik net twee etes per dag gehad. Daar was so teen 10h00 ‘n “brunch”, wat hulle geëet het om krag te kry vir die dag se werk. Die hoofete was in die aand, wanneer die dagtaak voltooi is. Dan is daar tydsaam geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en gekuier. So wag daar aan die einde van ons lewensdag, wanneer dit aand word en ons sterf vir ons ook ‘n ewige feesmaal voor aan die tafel van die Here.  Ons kop sal verfris word met olie en ons beker sal oorloop. Die goedheid en troue liefde van die Here, sal ons volg.

In vers 6 (b) staan daar en ek sal terugkeer na die huis van die Here. In hierdie lewe is ons net reisigers. Ons is bywoners. Ons is tydelik hier. Totius het so mooi geskryf dat “hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.” Hier kry mense swaar, word siek, gaan dood, maar na hierdie lewe is ons die huis van die Here tot in lengte van dae. Daar staan ons sal terugkeer na die huis van die Here. Ons sal met ander woorde tuiskom by die Here.

Die Here sal ons met sy “stok” en “staf” beskerm, terwyl ons op pad terug gaan na die huis van die Here. Sy sekuriteit is by ons. Ons is veilig.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om te sit op God se skoot …… is om rus te vind !

SKRIFLESING: Psalm 131: 1 – 3

Op 20 Julie 1969 het die Amerikaanse ruimtevaarder, Neil Armstrong die eerste mens geword wat op die maan loop.

Die landing van die Apollo 11 ruimtetuig was wêreldnuus. In Armstrong se woorde: “ That’s ons small step for man, one great giant leap for mankind.” Net twee jaar voor dit op 3 Desember 1967 het Dr. Chris Barnard die eerste hartoorplanting gedoen in die Grote Schuur hospitaal in Kaapstad. Louis Washkansky (53) het die eerste hart ontvang van die eerste hartskenker Denise Darvall. Dit was wêreldnuus. Intussen was daar al ‘n onbemande ruimtetuig op Mars. Ons lewe in die midde van die Vierde Industriële rewolusie, waar ons oorval word met data en inligting. Rekenaartegnologie het die wêreld oorgeneem. Hulle bou al rekenaars so groot soos ‘n kredietkaart.

‘n Mens wil amper uitroep: “O die wonder van die tegnologie van die mens! O, die wonder van die mens! Ons het al so ver gekom en so baie vermag. Wie weet wat nog alles op ons wag?”

Die gevaar is egter dat ons die grenslyn tussen hoogmoed en ootmoed kan oorsteek. Ons begin ons gou verbeel dat ons – ‘n wonderlike mens-God is. Kort nadat die eerste mens op die maan geland het, het iemand geskryf: “God moet oppas. Hy is volgende aan die beurt. Ons volgende stop is sy voordeur. Binnekort gaan ons by sy poorte aanklop, en Hom van sy posisie beroof ….”

Of, miskien moet ons dit meer sagter stel, meer beskaafd stel: Ons mense is onafhanklik. Ons breek met elke vorm van gesag. Ons duld geen heerskappy oor ons nie. Ons wil op ons eie wees, op ons eie bene staan, ons eie ding doen. Ons wil die naelstring tussen ons en God knip, onder die wanindruk dat dit vir ons “onafhanklikheid” en “vryheid” sal bring.

Die Duitse digter Schiller het selfs gemeen dat die sondeval die enkele grootste prestasie van die menslike gees was – die dag toe ons onafhanklikheid uit die Vaderhuis weg gestap het. Hy noem dit: “Die gelukkigste gebeurtenis van die mensdom se geskiedenis” en “die eerste waagstuk van die menslike rede.” Hierdie neiging om ons van God los te maak, gaan inderdaad so ver terug soos die tuin van Eden. Augustus het nie verniet die sonde gedefinieer as hoogmoed nie. Ons verhef ons bo God, erger nog, plaas ons in die plek van God – dis ons sonde.

Luther het gesê ons probeer alewig om in die hemel in op te klouter, soos die mense in die tyd van die toring van Babel. Deur die eeue heen bestorm ons die hemel, lanseer ons ons na God – om Hom te onttroon.

Hoe tragies ons plaas mense op die maan en ruimtetuie op Mars, maar blykbaar begryp ons nie ons eie posisie, ons plasing voor God nie.

Die digter, koning Dawid van Ps 131 begryp dit wel. In hierdie kort psalm is daar drie verse, drie momente:

Vers 1: Ootmoed (wat die teenoorgestelde is van hoogmoed.)

Vers 2: Tevredenheid (Die psalm beskryf dit as “kalmte” en “bedaring”)

Vers 3: Hoop

Die een moment volg op die ander. Dit is soos die skakels van ‘n ketting. Die een lei tot die ander.

Die eerste moment of skakel is OOTMOED. Dawid skryf: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie.” Die digter ken sy plek voor en onder God. Hy is soos die digter wat nog oopmond en blinkoog hom kan verwonder aan God se sterrehemel. Hy sien die maan en Mars raak en weet dit is die werk van God se vingers. Dawid verwerp enige vorm van hoogmoed, daarom juis word hy genoem die man na aan die hart van God. Die Midrash verduidelik dat vers 1 verwys na sekere insidente in Dawid se lewe, waarop hy inderdaad hoogmoedig kon word. Hy kon arrogant word, oor hy Goliat met ‘n klippie en slingervel doodgegooi het. Hy kon arrogant wees oor hoe hy telkens vir Saul ontvlug het. Hy kan arrogant word oor sy militêre en staatkundige suksesse. Hy kon arrogant wees oor sy harpmusiek en sy uitstekende dig vermoëns. Maar hy verwerp hoogmoed. Dalk het sy owerspel met Batseba en sy moord op Uriah, hom telkens herinner dat hy sondig is en uit genade deur die Here vergeef is.  

Ons grootmense is net soos kinders wat ons verbeel ons is Superman, Spiderman, Rambo of een of ander magiese figuur met bonatuurlike krag.  

Maar Dawid is anders. Hy het sy plekkie in die heelal gevind en kom daarom tot rus. Ootmoedigheid, nederigheid verlos jou van die spanning om altyd beter te wees en te veel van jouself te verwag. Mag ons in 2021 ootmoedig en nederig voor God lewe, sodat ons oë weer kan blink in verwondering oor Hom.

Dit lei tot die tweede moment, die tweede skakel te wete: TEVREDENHEID. Die psalmdigter gebruik die woorde “kalmte” en “bedaring”. Hierdie beeld van God as moeder tref ons ook in Jes 49: 15 was as volg lees: “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.”

Die enigste plek waar daar kalmte en bedaring en tevredenheid te vinde is, is op die skoot van ons God. In die Hebreeuse teks word gepraat van ‘n “gespeende kind”, met ander woorde ‘n kind wat al by homself kan drink en eet van ander melk en kos. Maar die gespeende kind gaan terug na sy  sekuriteit, wat hy opgebou het toe hy ‘n suigeling aan sy moeder se bors was. Die gespeende kind, gaan terug na sy eerste sekuriteit. Daarom moet ons altyd kinderlik bly. Soos die kindergebed: “Maak my ‘n kindjie klein”.

Ja, alleen as ons maar in ‘n fetus-posisie, knielend, en aanbiddend voor God lewe. Ja, dan sal God se kalmte en bedaring deel van ons lewe word. Dan sal tevredenheid oor ons neersak, soos Arthur Weiser wat geskryf het: “Die delikate toon van nederige vertroue in die psalm klink soos die vredevolle klanke van klokke wat aan die bokke hang wat met sonsondergang lui in ‘n stil vallei wat deur die laaste strale van die ondergaande son met sagte lig gevul word.”

Ja, wie ootmoedig lewe voor God, word gevul met kalmte en bedaring. Mag ons in 2021 ook so met tevredenheid lewe, sodat vrede deel van ons lewe kan word.

Dit bring ons by die derde vers of derde moment: HOOP.

Ootmoed lei tot tevredenheid en tevredenheid tot hoop. Die Psamdigter, Dawid verwoord dit met die volgende woorde: “Israel, vestig jou hoop op die Here,  nou en vir altyd.”

Ironies genoeg soek ons altyd hoop in die menslike tegnologie en vooruitgang. Net om maar weer ontnugter te word. Alleen hulle wat ootmoedig lewe, en daarom kalmte en bedaring ervaar kan werklik hoop.

Alleen op die skoot van onse God kan ons werklike hoop vind. Alle ander vorme van hoop is byvoorbeeld doodgebore. Mag ons in 2021 lewe met die ware HOOP!

Die voorafgaande Psalm handel oor die digter se soeke na God en Psalm 131 handel oor die vondse wat hy gevind het. Albei Psalms is verbondspsalms, wat handel oor God se verlossende genadige inisiatief en handeling. Dit is God wat na ons toe neerbuig, ons optel en op sy skoot neersit.

Tereg sê Johan Cilliers (wat baie insiggewend oor Ps 131 geskryf het) die volgende: “ ‘n Mens vind nie vrede omdat ‘n mens so sekuur na die hemel kan mik nie of omdat jy jouself tot op God se skoot kan lanseer nie. Nee, dit is eerder God wat sy Seun van Sy skoot weggestoot het, sodat Hy ons daarop kan tel.

Wonderliker, veel wonderliker as ons maanlanding, is God se aardlanding, skryf Johan Cilliers. Om die mensdom, om vir my te kom red. Ek weet nie hoe dit werk nie. Maar ek weet die wete vul my met ootmoed, tevredenheid en hoop. 

Pragtig is Psalm 131 in die Liedboek van ons kerk as volg verwoord:

1. Geen strewe jaag ek na bo my vermoë,

geen trots of hoogmoed is daar in my oë.

Sal ek die groter dinge wil oortref

en sal ek my, o Heer, teen U verhef?

2. ‘n Kind rus in sy moeder se beskerming.

So vind ek vrede, Heer, in u ontferming.

Wag, Israel, vertrou Hom deurentyd.

Wag op die Here tot in ewigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God lei ons na ‘n veilige hawe ……

SKRIFLESING: Psalm 107: 23 – 30

Om eerlik te wees, is ek nie juis opgewonde oor die nuwe jaar nie. Elke jaar het sy eie probleme. Baie van verlede jaar se probleme gaan saam met ons, die nuwe jaar in. Op Oujaarsaand het ek soos Beki Cele beveel het, gaan vroeg slaap. Ek was al saam met die hoenders op my stellasie.  Ek het nie eers die klappers en die vuurwerke gehoor nie. Ek het ook vir niemand “Geseënde Nuwejaar” toegewens nie, want ek verstaan die realiteit van so baie mense. Nadat ek eers laat opgestaan het op Nuwejaarsoggend, het ek vir my honde en hoenders kos gegee. En sowaar, wat sien ek hier op dié Nuwejaarsoggend? Daar het 3 hoenderkuikens uitgebroei. Te fraai, opreg en onskuldig! Skielik kry ek weer hoop vir die nuwe jaar. Die nuwejaar het begin met drie pragtige kuikens, piepklein maar ‘n herinnering dat God nuwe dinge kan laat begin.

Die jaar 2020, sal nooit deur die geskiedenis vergeet word nie. Dit was soos oorlogsjare. Baie mense se hoop en toekoms het gesink. Dit was die beginjaar van Covid-19. Geweldige inperkings is beleef. Tienduisende mense het hulle werk verloor. Die ekonomie is vuisvoos. Bekende mense sterf links en regs van jou, as gevolg van Covid. Ons land is in die uiterste ellende en dienslewering bestaan amper nie. Alles in die land beleef ’n inploffing. Mense kry swaar. Die werkloosheid staan op ‘n ongekende 47 %. Op Oujaarsdag is ‘n rekordgetal van 18 000 nuwe infeksies van Covid aangeteken. Ons is binne ’n storm.

Sal alles skielik verander met die aanbreek van 1 Januarie 2021. Nee! Ons is nog steeds binne die storm.

Dan beteken Psalm 107: 23 – 30 vir my so baie hier aan die begin van 2021. Die Psalmdigter erken die werklikheid van storms in jou lewe of in die geskiedenis van die wêreld. Jou storm kan wees die effek van Covid-19, of dit kan die droogte wees. Dit kan finansies wees of persoonlike verhoudingsprobleme. Dit kan wees werkloosheid of  ’n terminale siekte.

Die Psalmdigter vergelyk die probleme met ‘n storm op die see.  

In vers 23 staan daar: “Dié wat by die see in bote klim, hulle wat handel dryf   op die groot waters.” Die see, is vir die Jode ’n angswekkende plek. Die Jode het gewoon in ‘n semi-woestyn  tot woestyn gebied. Daarom was die Jode nie soos die Grieke en ander volke ‘n seevarende volk gewees nie. Vir hulle was die See van Galilea die naaste wat hulle aan die see gekom het, want jy kan ten minste die oewer heeltyd sien. Maar ook die See van Galilea het sy storms beleef. Die see het herinner aan chaos, gevaar, bedreiging en monsters. Daarom dat die boek Openbaring die metafoor gebruik van die hiernamaals as die plek waar  “daar sal nie meer ’n see sal wees nie.”

Op hierdie see beleef die Psalmdigter hom en dan vertel hy hoe hy die groot dade en wonders van God beleef het. Eers beskryf hy die ergheid van die storm. Hy gebruik woorde soos: stormwind (vers 25), die golwe het uitgetroon (vers 25), hulle het opgerys na die hemel en afgesak na die dieptes (vers 26) en die ramp het hulle moed begewe (vers 26). Verder beskryf hy hoe hulle rondgeslinger word, en steier soos dronk mense in vers 27.

Dan kom die Psalmdigter met ‘n belydenis in vers 27: “ al hul vernuf was waardeloos”. Hierdie is as’t ware die keerpunt van die hele perikoop. Die mens bely sy onvermoë om homself te red. Al ons vernuftigheid kan ons nie red nie. Deur al die eeue het mense staat gemaak op hulle vernuf om probleemsituasies die hoof te bied. Ons maak dikwels staat op die vernuftigheid van politici, medici, ekonome, teoloë en akademici om ons storms vir ons op te los.   Om net uit te vind dat nie alle storms deur die vernuftigheid van die mens opgelos kan word nie. Ons vernuftigheid kan ons nie navigeer deur die storms van 2021 nie.  Ons het iemand nodig, wat groter is as ons en ons menslike planne.

In vers 28 lees ons hoedat die drenkelinge na die Here toe genavigeer het. Om te bid  of om die Here aan te roep is om na die Here toe te navigeer. Daarom staan daar: “Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep”. Soos wat die ou matrose van weleer op die sterre genavigeer het, moet ons ook leer om in 2021 te navigeer op die ster van Bethelehem, op die Here Jesus self. Wanneer ons onsself nie navigeer volgens die Here Jesus nie, kan ons onsself op die rotse laat beland. Al ons nuwejaarsdrome kan op die rotse beland.

In die tweede gedeelte van vers 28 lees ons dat die Here hulle uit hulle benoudheid uitgelei het. Interessant is dat daar nie eerste melding gemaak word van die storm nie, maar van hulle emosie, naamlik “benoudheid”. Die Here het hulle bevry van die emosie van benoudheid. Dikwels is ons emosies selfs groter as ons storms. Eers in vers 29, staan daar het die Here hulle uit die fisiese storm gelei, deur die storm stil te maak en die golwe te laat bedaar. Met ander woorde die skrywer beleef heel eerste dat die Here, hulle uit hulle benoude emosies verlos het en toe beskryf hy die fisiese wonder van die storm wat bedaar.  

Dan volg die pragtige vers 30: “ Hulle was bly toe die golwe kalm word. Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het.” Weer word van twee emosies melding gemaak naamlik hulle “blyheid” en hulle “verlange”. Die hele perikoop is vol emosies. En hoe dan anders, want alle storms, maak jou emosies los.

Die Here het hulle gelei na die hawe, waar hulle veilig en geborge kon voel. Net soos die goeie Herder in Psalm 23 sy skape lei na groen weivelde, na waters waar daar vrede is.

Deur die storms wat dalk vir ons wag in 2021, wil die Here Jesus vir ons lei na die hawe van die Vaderhart waar dit veilig en geborge is. Hy sal ons nie in die storms van die lewe in die steek laat nie. Nee, Hy sal ons veilig lei na die hawe van veiligheid. Ons kan egter nie altyd in die hawe wees nie. Dit is nie waarvoor ‘n skip gebou is nie. ‘n Skip is gebou vir die see en so is ons gemaak vir die lewe. Ons moet op 1 Januarie 2021 uitvaar die see in, die lewe in. Ons moet soos vers 23 sê gaan handel dryf op die groot waters. Maar as ons op die groot waters van die lewe is, kan ons weet as daar storms kom, sal die Here ons help en die hawe wag vir ons. Die Vaderhart van God wag vir ons. Ons is ook bedoel om weer na die hawe veilig terug te keer.

Mag u en ek in 2021 veilige seemyle aflê op die groot waters van die lewe.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Aan wie se kant is God?

SKRIFLESING: Luk 19: 28 – 44

Aan wie se kant is God? Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld het die mense probeer om God aan hulle kant te kry.

Mense dink as God aan ons kant is, sal alles goed gaan. Dink maar aan voorbeelde in die moderne geskiedenis, wat getuig hoe mense, God aan hulle kant wil hê en as’t ware aan hulle kant wil plaas, byvoorbeeld soos in die Engelse volkslied: “God save the Queen”. Of die Duitse slagspreuk in die Tweede Wêreldoorlog: “For Gott, Volk und Vaterland”. In my ouma se eetkamer het daar ook ‘n prent gehang van al die Boere-generaals met die woorde: “Vir God, volk en vaderland.”  In die bevrydingsteologie is God geplaas aan die kant van die armes. Dan kry ons natuurlik ook die swart volksteologie, wat Christus aan die kruis uitbeeld met ‘n AK47 geweer. Of die wit volksteologie wat erg rassisties teenoor swart mense dink.

In die Anglo Boereoorlog het beide die Engelse en die Boere in God geglo. Voor elke slag het elke kant gevra dat God vir hulle die oorwinning moet gee. In rugbywedstryde, kan spelers maklik vra dat God asseblief hulle span sal laat wen. In die boerdery, kan een boer bid vir reën en dan wil ‘n ander boer wat met iets anders boer weer geen reën hê nie, want dit is sy oestyd.

Politieke partye probeer God aan hulle kant kry. So het die ANC ’n paar jaar terug verklaar dat hulle sal regeer tot die wederkoms. Onlangs het Julius Malema gesê in ‘n openbare toespraak op die ANC se uitspraak, dat die wederkoms reeds gekom het, want die EFF is die wederkoms. Dit is absoluut Godslasterlik as jy God wil gebruik vir jou politieke doeleindes en persoonlike voordeel. 

Maar ook die Jode het gedink in Luk 19: 28 – 44 dat God aan hulle kant is. Hulle het gedink dat Jesus die Messias is wat sou kom as die groot Rewolusionêr om die Romeinse juk af te werp. Dan sou hulle vry wees van die Romeinse wreedheid en die ondraaglike belastings van die Romeinse owerheid.

Daarom gee hulle vir Jesus so ‘n triomfantelike intog in Jerusalem. Die Jode het hulle klere en palmtakke voor Jesus uitgesprei. U sien dus die Jode wou Jesus ook aan hulle kant kry.

Dikwels maak ons, in ons persoonlike lewe net so. Ons dink God is aan ons kant. Ons maak ons eie lewenskeuses, solank God net daarby inval. Ons neem ons eie besluite. God moet eenvoudig maar net inval by ons besluite.

So maak ons van God ‘n pion op ‘n skaakbord wat ons kan rondstoot soos ons wil. Ons maak van die lewende God, ‘n afgod wat ons kan optel en aan ons kant kan plaas. Dan word God niks meer as ‘n gelukbringer vir ons.

Maar God laat Hom nie rondstoot of rondplaas nie. Wie aanmatigend verklaar: “God is aan ons kant”, dink menslik en klein oor die lewende en almagtige God. Nee, God kies nie kant nie. God het nie swart skape en witbroodjies nie.

God kies vir niemand kant nie. Die tempel in Jerusalem, wat Herodus die Grote gebou het en waarop die Jode so trots was is in 70 nC vernietig. Die Verenigde Koninkryke se eens magtige kolonialisme het tot ‘n einde gekom. Naziïsme het tot ‘n einde gekom. Apartheid het tot ‘n einde gekom. Wit en swart mense is voor God gelyk. God is nie ‘n politikus nie. Geen politieke party kan vir God opeis nie. God is niemand se eiendom nie.

In plaas van God aan ons kant te plaas, moet ons eerder biddend vra: “Is ek aan God se kant?”

U verstaan dus ons moet die vraag omkeer? Kan u nou verstaan waarom Jesus in vers 41 huil. Die antwoord vind ons in vers 42: “As jy tog wou insien wat vir jou vrede nodig is? ….”

Israel het nie politieke vrede nodig nie, ook nie politieke bevryding nie. Nee, Israel het versoening met God nodig. Daarvoor het Jesus gekom, vir die bevryding van sonde. Jesus het nie ‘n rewolusie op aarde of in politieke stelsels kom bewerk nie, maar ‘n rewolusie in ons harte. As daar ‘n rewolusie in ons harte plaasvind, sal daar ook verandering ten goede kom in politieke sisteme en ekonomiese stelsels.

Christus Jesus is nie ‘n politikus of ‘n militêre generaal nie. Christus Jesus is die Verlosser van siele en van mense. Wanneer Christus mense verlos, is mense in staat om te beding vir politieke vrede en geregtigheid.

Ek is aan God se kant as ek:

  • In vrede met God leef.
  • In vrede met my medemens leef.

Wanneer ek by God se norme, sy standaarde en sy wil inval, dan is ek aan God se kant. Wanneer God by my norme, my standaarde en my wil inval, dan probeer ek God aan my kant kry.

Gaan ek en jy in 2021 aan God se kant leef? Ons leef aan God se kant, as ons, ons ten volle onderwerp aan Sy wil. Dink net watter pragtige toekoms het hierdie land nie, as ons almal geleer het om aan God se kant te wees. As almal aan God se kant is, verval al verskille en ongeregtighede en onvrede. Dit maak plek vir eensgesindheid, geregtigheid en vrede.

Om aan God se kant te leef, beteken somtyds dat ek iets moet prysgee soos:

  • My eiesinnige wil.
  • My selfsugtige siening.
  • My subjektiewe idee oor ‘n saak.
  • My verkeerde norme of beginsels.

Geliefdes, kom ons leef in 2021 aan God se kant. Kom ons onderwerp ons aan Sy wil, dan sal God altyd teenwoordig wees in ons voorspoed en teenspoed. Aan God se kant, in Sy arms is ek alleen veilig.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die etenstafel bind saam …….

SKRIFLESING: Spreuke 9:1 – 2

Wat is die belangrikste vertrek van ‘n huis? Wat is die belangrikste meubelstuk in die huis?

Verseker is die kombuis of eetkamer die belangrikste vertrek in die huis. Die belangrikste meubelstuk in die huis is die kombuistafel of die eetkamertafel. Ek verkies natuurlik die kombuistafel. My eerste kosbaarste kinderherinneringe was gewees toe ons elke aand saam geëet het rondom ‘n geel kombuistafel. By my oupa en ouma se huis onthou ek, hoe ons altyd in my ouma se kombuistafel gekuier het met die heerlike warm Aga stoof. Dit is ingebrand in my geheue.

Saamkuier rondom ‘n kombuistafel, bring huwelikspare, gesinne en families bymekaar. Dit skep samesyn en warmte. Verhoudings groei rondom die kombuistafel.

In die vroeë Bybelse tyd het mense gewoonlik net twee etes gehad. Daar was ‘n “brunch” omtrent so tussen 10h00 en 11h00. Mense het geëet om krag te kry vir die dag se werk. Aan die einde van die dag het die werkers huis toe gegaan en dan het hulle elke aand feesmaal gehou. Dan het hulle gekuier, geëet, stories vertel, gedans en wyn gedrink. Dit was die hoogtepunt van elke dag. Ps 23: 5(a) sê “U dek vir my ‘n tafel”. 

In Ps 128: 3 staan daar :  “Jou vrou is soos ‘n vrugbare   wingerdstok in die binnekamers   van jou huis.   Jou kinders is soos olyfboompies   om jou tafel.”

In Spreuke 9:1 – 2 staan daar: : “Wysheid het haar huis gebou,   sy het haar sewe pilare uitgekap.  Sy het haar slaggoed geslag,   haar wyn gemeng,   en ook haar tafel voorberei.”

In die Pasga tradisie het gesinne elke Vrydagaand die Pasga maaltyd saam geëet. Dan het die pa van die huis elke keer vertel hoekom hulle die Pasga vier. Hulle vier die uittog uit Egipte, die plek van slawerny. In die Nuwe Testament is die Pasga vervang met die Nagmaal, wat ook ‘n ete aan ‘n tafel is. Die Nagmaalstafel bind die gemeente in ‘n eenheid, om te gedenk dat Jesus Christus ons uit die slawerny van sonde verlos het.

Die vroeë kerk het ook gereeld elke Sondag, die gemeenskaplike maaltyd saam geëet, om hulle innerlike verbondenheid aan mekaar te vier. Hierdie gebruik het die Christelike kerk goedgesind gemaak in die gemeenskap en hulle getalle het gestyg.

U sien as die tafeltradisie sterf, dan sterf die kwaliteit van verhoudinge.

Die Boesmans se kombuistafel, was om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories te vertel, te eet, te kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwesters. Hulle het televisies gekry, selfone gekry, oonde gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf, omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.

Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone en tegnologie  nie. Mense het nog gekuier rondom die kombuistafel. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie gekuier. Met die begin van selfoontegnologie is mense meer besig voor die etenstafel om teksboodskappe te stuur. So is die kombuistafel verwaarloos. 

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op “silent” geplaas word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef, dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteit tyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof Anna Fishel  of the Harvard Medical School skryf in “The Washington Post” as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is dat daar daar nie ‘n kombuistafel – kultuur was nie.

Kersfees gaan ons ook rondom ‘n heerlike kostafel sit. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Geseënde Kersfees vir u en u gesin rondom die tafel.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

In die doop word ons beseël as kinders van God.

SKRIFLESING: Gen 41: 42

Seëls was klein gegraveerde voorwerpe, meestal in die vorm van ‘n ring om afdrukke in klei of was te maak. Seëlafdrukke wys dat die dokument eg is, of dat die dokument nog nie oopgemaak is nie. Op die seël was gewoonlik die eienaar se naam of kop, amp of familiewapen gegraveer.

‘n Seël kon aan ‘n persoon gegee word, om aan hom die mag te gee om die eienaar van die seël te verteenwoordig. So lees ons in Gen 41:42 dat koning Farao aan Josef, wat ‘n slaaf was in Egipte sy seëlring gee as teken dat hy nou die tweede hoogste is in die Egiptiese Ryk en dat hy met die Farao se seëlring namens die Farao kon regeer.

Die Bybel noem twee gevalle waar seëls gebruik is om ingange te verseël. Toe die profeet Daniël in die leeukuil gegooi is, staan daar in Dan 6:18: “Daar is ‘n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. ”

Toe Jesus Christus se liggaam in ‘n graf gesit is, het die Romeine ook Sy graf verseël, sodat die Jode nie kon sê dat Jesus se liggaam gesteel is nie.

Daarom het ‘n seëlring deur die geskiedenis van duisende jare altyd die rol vervul om iets te bevestig as outentiek, eg en oorspronklik. Wanneer ‘n dokument ‘n koninklike seël opgehad het, was dit altyd die finale opdrag van die koning en kan niks daaraan verander word nie.

Daarom het die opstellers van die Heidelbergse Kategismus ook die doop beskryf as ’n seël, dat die Drie Enige God die dopeling aanneem om Sy kind te wees. Jou verlossing word as’t ware verseël. Jesus Christus het werklik vir jou ook gesterf. Daar word verseël dat jy deel het aan al God se beloftes.

Prof Willie Jonker skryf dat dit in die kinderdoop gaan oor God se voorkomende genade wat die dopeling red. Jesus Christus het gesterf vir my erfsonde en ook alle sonde wat ek nog in my lewe sal doen. Dit is nie die dopeling se geloof en bekering wat die oorsaak of grond van die verlossing is nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief sy verlossingsplan met die doop aan die dopeling kom beseël het.   

JF en Malan van Heerden word vandag, 8 November 2020 volledige lidmate van die Here se kerk op Adelaide. Hulle doop verseël hulle lidmaatskap. Hulle doop verseël hulle verlossing. JF en Malan, is nou alreeds kinders van God. Eendag op 16 jarige ouderdom sal hulle net die verantwoordelikheid van lidmaatskap aanvaar. Uit genade en slegs deur genade is hulle gered. Dit wil die heilige doop kom verseël.

Deur die doop word ons ook verseël as kinders van Abraham. Ons kry deel van die gemeente van Adelaide. Ons as gemeente ontvang die twee dopelinge as medebroers in die Here. Ons as gemeente het net soos hulle ouers en grootouers die verantwoordelikheid om vir die twee jongelinge die regte pad te wys.

Van die ouers vra God, dat Derick en Liezl die twee jong kleuters van kleins af vir die Here sal groot maak. Dit is ‘n heilige belofte wat hulle voor die Here aflê.

Malan en JF gaan groot word. Hulle gaan leer om te dans. Dan gaan hulle met hulle meisies en later vroue dans. Om te dans moet jy leer.

Verbondsopvoeding is om te leer om in ritme saam met die Drie Enige God te dans. In ritme met die Drie Enige God, beteken om volgens die wil van God te dans. In die doop wat plaasvind ”in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, dans die Drie Enige God met die doopplegtigheid. Die Griekse woord om saam met God te dans is “perichoresis”. Die jongeling moet net leer om soos hulle ouer word ook saam met die Drie Enige God te dans.

Daarom word ‘n lewe saam met Christus, so goed opgesom in die lied van: “The Lord of the dance.” Mag die ook waar wees in die lewe van Malan en JF. Die Drie Enige God gee die melodie en die ritme aan. Malan en JF moet net inval by God se dans.

 Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding moet liefde en strengheid wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ‘n kind alles om ‘n suksesvolle grootmenslewe eendag te betree.

‘n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ‘n Kareeboom gelos word, word dit ‘n bos. Wanneer ‘n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ‘n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons, ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ‘n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik veral in die Spreukeboek van die Bybel. 

Psalm 1 praat van ‘n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met tuiskategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe groot word. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome groot gemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Dat die jong kindertjies ingelyf word in die geloofsgemeenskap. Daarom moet pa Derick en ma Liezl en die grootouers, Stefaans, Nicolene, Eric en Annelie almal saam die verantwoordelikheid op hulle neem om die twee seuntjies in die weë van die Here groot te maak.

Die Drie Enige God gee die melodie en ritme aan. Leer vir JF en Malan om die melodie van God te hoor en dit ritme van God aan te voel. Dan sal hulle lewe, ‘n dans met God wees.

Dan sal hierdie twee babaseuns, eendag Godsmanne van integriteit en waarheid wees.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om ingeënt te word op die wortelstok.

SKRIFLESING: Rom 11: 16 – 24

By die doop vind ‘n ineëntingsproses plaas.

Paulus skryf aan die Christene in Rome en verduidelik dat die Christene (die wilde olyflote) ingeënt word op Christus die wortelstok van die mak olyf. Die swaartepunt val op die wortelstok wat die belangrikste is. Die wortelstok moet gesond, sterk en bestand teen siektes wees. Sonder ‘n sterk wortelstok, kan daar nie ‘n suksesvolle ineëntingsproses wees nie.

Christus Jesus is die sterk, gesonde wortelstok, waarin ons as gelowiges ingeënt word by ons doop. In ons doop word ons deel van die geslag van Abraham die vader van die geloof. Daarom word ons in ons doop almal kinders van Abraham. Ons word deel van die Christelike geloof. Daarom is die doop die teken van die inlywing van die Christelike kerk en deel kry van al die beloftes wat God vir sy kinders in die Bybel opgeteken het.

Ons wat in Christus gedoop is, het almal deel van die gemeenskaplike wortelstok van Jesus Christus. In vers 17 staan daar dat party van die olyfboom se takke is uitgekap. Dit beteken dit is die Jode wat nie tot geloof in Christus gekom het nie. Hulle was dooie takke. Hulle moet plek maak vir heidene wêreldwyd om ook ingeënt te word in Christus.

Ons is die ingeënte lote wat moet vrug dra vir Christus. Die wortelsap vloei van die wortelstok  deur al die ingeënte lote. Sonder die wortelstok, kan die  ingeënte lote nie groei en vrug dra nie.    

Vanoggend word Nico-Noah ingeënt in Christus die wortelstok. Hy kry deel aan Christus en al Sy weldade. Dit is nie die dopeling wat die keuse maak, sodat die mens daarop hoogmoedig moet raak nie. Dit is God wat uit vrye iniasitief vir Nico-Noah kies om deel van Sy verlossing te word. Dit is nie die dopeling of die loot wat die wortelstok dra nie. Dit is die wortelstok wat die loot dra.

Maar hierdie ingeënte dopeling moet leef uit die goedheid van God. Soos wat daar groot moeite gedoen word met die inentingsproses, moet die doopouers groot erns neem met hulle doopbelofte. Dit is ‘n belofte voor God. Ek moet my kind lei om in geloof te antwoord op al die toeseggings en beloftes van die doopverbond.  

Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding moet liefde en strengheid wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ‘n kind alles om ‘n suksesvolle grootmenslewe eendag te betree.

‘n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ‘n Kareeboom gelos word, word dit ‘n bos. Wanneer ‘n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ‘n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons, ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ‘n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik veral in die Spreukeboek van die Bybel. 

Psalm 1 praat van ‘n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met tuiskategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe groot word. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome groot gemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Dat die jong kindjies ingelyf word in die geloofsgemeenskap.

Dit kos net een geslag om ‘n heiden groot te maak. Maak jou kind sonder die Here groot en jy kweek ‘n heiden.

Somtyds sal die lewenstorme van jou lewe, jou lewensboompie omwaai. Maar as jou wortelstok Christus is, sal daar altyd weer ‘n nuwe loot uitloop. Jy sal elke oggend weer nuwe krag van die Here ontvang. Soos ‘n wortelstok geanker is in die grond, so moet jy geanker wees aan Christus Jesus, dan sal jy die storms van die lewe kan trotseer.  

Kom ons wees soos lote wat ingeënt is in die wortelstok. Christus is ons wortelstok. In hom kan ons vrugte dra en ‘n Godvresende lewe leef.

Die inenting van jou gesin in Christus die wortelstok, bepaal jou gesin se toekoms.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)