Skaakmat!

SKRIFLESING:  Rom 4: 25, 1 Kor 15: 54 – 58

’n Groot teoloog het eenmaal opgemerk: “Al was Jesus ’n duisendmaal gebore in Betlehem en al het Hy ’n honderdmaal gesterf op Golgota, maar Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs”. Toe Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gehang en later gesterf het, het dit gelyk of die Satan gewen het. Dit het gelyk of Jesus verloor het.

Maar wag, daar was nog ’n laaste skuif. Niemand het die skuif verwag nie. Die dissipels en die vroue het geglo dat Jesus weg is, dood is en nooit weer terugkom nie. Daarom het die vroue die Sondagoggend vroeg gegaan om sy liggaam te salf met olies. Hulle vind die groot steen weggerol en die graf leeg. Hulle het gedink  die tuinier het die liggaam verskuif. Hulle dink die dood het oorwin. Die bose het oorwin.

Dit lyk so asof die duiwel die uitklophou gegee het. Dit lyk asof Jesus verloor het teen die dood. Maar dan plaas die Here Jesus die duiwel in die SKAAKMAT-posisie. Die Here Jesus oorwin die dood, die bose en die duiwel. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en Hy lewe. Hy verskyn aan die vroue, later aan die dissipels en nog later aan vele ander mense.

Dit was die gebruik om in die vroeë kerk die Paasdiens met ’n Paasgrap te begin – deur te spot met die dood en met die duiwel wat verslaan is.

Jesus se opstanding was moontlik, omdat Hy die perfekte Lam van God was. Op Goeie Vrydag – toe Jesus gekruisig is – was duisende paaslammers geslag vir die pasga. Elkeen is deur die priesters ondersoek om seker te maak hulle is perfek. Terwyl die proses aan die gang was, is Jesus (as die Lam van God) ook ondersoek deur Pilatus. Drie keer het Pilatus verklaar dat hy geen skuld in die Man vind nie. Daarom word Hy die perfekte Lam van God genoem. Die priesters het nooit die sondaarmense ondervra oor hulle sonde nie. Op grond van die paaslammers se perfeksie is hulle sonde weggeneem. Netso kyk God ook nie na ons sondaars se sonde nie, maar na die perfekte Lam van God wat geslag is. Toe Jesus in Sy sesde kruiswoord sê: “Tetelestai” – Dit is volbring, is ons regverdig verklaar. Omdat Jesus onskuldig gesterf het, kon Hy op die derde dag opstaan uit die dode en kon Jesus se onskuld ook ons onskuld word. Daarom staan daar in  Rom 4:25 die volgende: “Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.” Na aanleiding van bogenoemde verduideliking van Pieter Scholtz, skryf hy verder: “Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend.”

Geliefdes, u moet onthou, as Jesus net aan ’n kruis gesterf het en nie opgestaan het uit die dood nie, was ons sondes nie vergewe nie. Sy opstanding is die kwitansie dat die sonde en die dood oorwin is.

Jesus het die sonde en die dood oorwin. Maar ’n mens kan vra, as die Here dan die sonde oorwin het en ’n nuwe begin aangekondig het, hoekom is daar so baie geweld, ellende en swaar in die wêreld oor. Hoekom is daar oorlog in die Oekraïne?

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf : “Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie. Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmat-posisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai. Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef: Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons vyande – die sonde, die vloek en die dood  is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.”

My ouma op Strydenburg het altyd hoenders aangehou vir eiers en slag. As klein seuntjie het ek altyd gesien hoe sy die slaghoenders se koppe afkap met ’n byl op ’n stomp hout. As die kop afgekap is, hol die hoender nog so sonder sy kop vir ’n kort rukkie rond. Ek het altyd aardig gevoel. Maar net so is dit met die duiwel. Hy is ’n afkophoender wat rondhardloop, maar eintlik is hy alreeds dood. Die duiwel is soos ’n afkopslang wat nog vir minute lank met sy lyf ’n doodsroggeling uitvoer.

In een van die dorpies van Noord-Indië het ’n sendeling in ’n saal gepreek. Toe hy klaar maak, het ’n Moslem na vore gekom en gesê: “Jy moet erken ons het een ding wat jy nie het nie, en dit is beter as enigiets wat jy het.” Die sendeling het geglimlag en gesê: “Ek wil graag weet wat dit is?” Die Moslem het gesê: “Julle weet, wanneer ons na Mekka gaan, kry ons ten minste ’n kis. Maar wanneer julle Christene na Jerusalem gaan, wat julle Mekka is, vind julle niks anders as ’n leë graf nie.” Maar die sendeling het net geglimlag en gesê: “Dit is net die verskil. Mohammed is dood; Mohammed is in die kis. En valse sisteme van godsdiens en filosofie is in hulle kiste, maar Jesus Christus, wie se Koninkryk alle nasies en stamme insluit, is nie hier nie; Hy het opgestaan. En aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dit is ons hoop.” ’n Lewende Christus! Dit is ons hoop. Hy is nie dood nie, maar lewe vir ewig.

Die Nederlander, Jan Willem Stam, skryf dat beide die sondeval en die verlossing uit die sondeval, in ’n tuin plaasvind. Adam en Eva het gesondig in die tuin van Eden en is uit die tuin verjaag. Jesus het met sy opstanding in die tuin van Josef van Arimathea, ’n einde kom maak aan die sonde van die mens. Daarom is daar vergifnis in Jesus se bloed.

Die Here Jesus het die duiwel in SKAAKMAT gesit. Die Here Jesus het oorwin. Daarom is ons saam met Hom oorwinnaars oor sonde en dood. Jesus se opstanding is God se “amen” en die mens se “halleluja.”                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tetelestai – Dit is volbring!

SKRIFLESING:  Johannes 19:30

Meestal spog mense oor hoeveel jare diens hulle gehad het by ’n firma of ’n onderneming. Party het 20, of 30, of 45 jaar diens gehad. Elkeen wat aftree, kry gewoonlik ’n groot feestelike afskeid. Jesus se bedieningstyd was ’n skrale drie jaar. Daar was hoogtepunte en laagtepunte. Uiteindelik is Hy uit Sy diens ontslaan deur aan ’n kruis van skande te hang, om die skande van die mensdom weg te neem. 

In die oorspronklike Grieks word die drie Afrikaanse woorde “Dit is volbring” in een woord saamgevat naamlik “Tetelestai”. Die woord is in Jesus se tyd algemeen gebruik.

“Tetelestai” is die sesde kruiswoord, wat oorwinning beklemtoon. Dit is die hoogtepunt van die kruisiging, want hiermee sê Jesus dat Sy werk afgehandel is. Hy het betaal vir die sonde van die mensdom.

Ds Jean Strydom en Weila-Marie Strydom het in hulle boek Sewe kruiswoorde van die Here, wat in 2010 verskyn het, ’n interessante verdeling gemaak van die gebruik van die woord “Tetelestai”.  Hulle pragtige verduideliking word hieronder opgesom.

“Tetelestai” was gebruik deur:

  • Kunstenaars
  • Diensknegte
  • Priesters
  • Handelaars

Kom ons kyk na die vier gebruike.

  1. Kunstenaars

Wanneer ’n kunstenaar sy kunswerk voltooi het, het hy teruggestaan en gesê: “Tetelestai” – dit is voltooi! In die Ou Testament leer ons dat God net praat deur beelde, simbole, die verskyning van engele, die Tien Gebooie, wette, profetiese voorspellings en wysheidsliteratuur. Maar ons ken God net gedeeltelik deur die Ou Testamentiese Openbaring.

In die Nuwe Testament ontdek ons God in Johannes 1 as die vleesgeworde Woord, wat die menslike natuur aangeneem het. Hierdie vleesgeworde Woord is Jesus Christus. In Jesus word die kunswerk van God se openbaring voltooi. God se hart vir die mensdom word geskilder in Jesus se sewe kruiswoorde aan die kruis. God het so lief gehad, dat Hy sy Seun aan die kruis laat sterf het. Dit was die finale kwasstrepe, wat openbaar hoe groot en wyd God se liefde strek. Die kunswerk van die Godsopenbaring is voltooi –  “Tetelestai”.

2. Diensknegte

Wanneer ’n meester aan ’n dienskneg ’n opdrag gee en die taak is voltooi, sal die dienskneg vir sy meester sê: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

So het die Vader ook Sy Seun met ’n opdrag na die wêreld gestuur. Die opdrag was om die wêreld te red van sonde en die nuwe Koninkryk te vestig. Vir die Here Jesus Christus het dit gevra om ’n lydenspad te stap. Jesus Christus was die groot dienskneg wat Sy dissipels se voete gewas het. Die lydenspad het geëindig met ’n wrede dood aan ’n kruis vir die wêreld se sonde. Aan die kruis kon Jesus uitroep: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

3. Priesters

Die Jode moes eers hulle offerandes na die priesters bring om seker te maak daar is geen foute of gebreke aan hulle offers nie.  Nadat die priesters die offer deeglik ondersoek het en geen fout kon vind nie, het hy die Hebreeuse ekwivalent vir die Griekse woord “Tetelestai” gebruik, wat beteken “die offer is perfek.” Jesus aan die kruis was die perfekte en volmaakte sondelose offer. Selfs sy vyande het erken Hy het geen foute nie. Pilatus het bevestig dat hy geen skuld in hierdie man sien nie (Luk 23:4). Judas het ook in Mat 27:4 erken dat hy ’n onskuldige man verraai het. Toe Jesus aan die kruis uitroep:  “Tetelestai”,  was dit die bevestiging dat die perfekte offer gebring is.

4. Handelaars

Vir die handelaars het die woord “Tetelestai” verwys na die betaling van iets wat geskuld word.

As jy iets koop, sou die handelaar jou geld neem en aan jou ’n bewys van betaling, ’n kwitansie, uitreik. Op die kwitansie sou staan: “Tetelestai – ten volle betaal.” Tetelestai is dus ’n rekenkundige term wat op ’n rekening aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit beteken dat die rekening van ons opgestapelde sonde nou ten volle deur Jesus betaal is. Ons het geen skuld meer nie. The slate is clean! Toe Jesus aan die kruis uitroep:  “Tetelestai”, het Hy bedoel al ons sondes is ten volle betaal.

Vir die dissipels en volgelinge was die Vrydag van Jesus se kruisiging ’n swart Vrydag. Christus het gesterf. Eers later, na Paassondag, sou die vroeë kerk in perspektief die dag waarop Jesus gesterf het as ’n Goeie Vrydag beskou.

In die sestiende eeu het Oliver Cromwell beveel dat ’n Engelse soldaat vir ‘n lafhartige misdaad geskiet word. Die teregstelling sou met die aandklok plaasvind. Maar op die vasgestelde tyd het geen geluid uit die kloktoring gekom nie. Ondersoek het aan die lig gebring dat die meisie wat verloof was aan die veroordeelde man, in die kloktoring geklim het en aan die bel van die reusagtige klok vasgeklou het om te keer dat dit slaan. Hulle het haar daar gekry met haar hande bloeiend en aan flarde geskeur. Die Engelse soldaat is toe uit genade vrygelaat, vanweë die dapper optrede van sy verloofde.

Almal van ons is sondaars onder die doodsvonnis. Maar Christus het namens ons ingegryp. Kyk na Sy gekneusde en bloeiende spyker-deurboorde hande aan daardie kruis.

Die doodsklok lui nie vir ons nie. Ons is vrygespreek.

Tetelestai – Dit is volbring!

AMEN

BRONNELYS

Strydom, Jean & Strydom, Weila-Marie, 2010. Sewe kruiswoorde van die Here.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die doop is ’n waarborg.

SKRIFLESING:  Gal 3: 27

Die ongebore embrio is met ’n naelstring aan die moeder verbind. Met geboorte word daardie naelstring geknip. Met die doop word ’n nuwe naelstring gevorm tussen die dopeling en God. Daarom is die doop ’n belangrike geleentheid in ’n dopeling se lewe. ’n Mens word nie met jou belydenisaflegging deel van die kerk nie, maar met jou doop. Jou doopdatum is die datum waarop jy ingeskryf word in die geskiedenis van die Here se kerk op aarde. So word jy deel van God se verbond, wat met Abraham begin het. Vandag word Francois Loots ingeskryf in God se genadeverbond. Vandag is die belangrikste datum in sy lewe. 

Die doop is God se waarborg oor jou lewe. Met jou doop waarborg die Here dat Hy vir jou gesterf het en al jou sonde afgewas het. Daarom staan daar in Gal 3: 27 die volgende: “…. want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ’n kleed aangetrek.” Wanneer jy in Christus gedoop is, het jy Christus aangetrek soos ’n kleed wat jou naaktheid, jou sonde bedek. Dit is ’n waarborg dat jy deur Christus se verlossingswerk gered is en nie deur jou eie toedoen nie. Tereg het Charles Spurgeon gepredik: “It is not your hold of Christ that saves you, but his hold of you.”

Wanneer jy ’n nuwe voertuig koop, kry jy ’n fabriekswaarborg vir omtrent 100 000 km of drie jaar. Dit beteken dat die fabriek sal instaan vir enige foute wat die voertuig opdoen in daardie tyd. Die Here Jesus staan ook in vir ons foute en sondes, maar met ’n belangrike verskil, naamlik dat dit ’n lewenslange waarborg is – dat Hy ons sonde weggeneem het of dan ons sondes met Sy “kleed” bedek het.

Die doop beklemtoon dat God alleen die inisiatief neem in ons verlossing en alleen die verlossingswerk doen. Ons kan God nie help nie. Dit het baie skeef geloop toe Abraham en Sara vir God probeer help het.

Die teken  van die verbond voor die doop was die besnydenis. Abraham was die eerste man wat besny is en God het vir hom en Sara ’n groot nageslag belowe soos die sand van die see of die sterre aan die hemelgewelf. Maar alreeds in hulle negentigerjare en nog geen kind op pad nie, het hulle begin twyfel aan God se waarborg van ’n groot nageslag. Hulle maak toe hulle eie plan. Sara moedig vir Abraham aan om by haar slavin Hagar te gaan slaap. Hagar verwek toe die seun Ismael. Maar God staan by Sy waarborg. Hy maak sy belofte waar deur vir Abraham en Sara die seun Isak te gee. Maar toe ontstaan daar twis en jaloesie tussen Sara en Hagar. Abraham is gevolglik gedwing om Hagar en die seun Ismael die woestyn in te stuur. Dit het skeiding gebring en was ook die beginpunt van die eeue-lange Midde-Oosterse konflik. Die Bybel voorspel ook daar sal nooit vrede tussen die kinders van Isak en die kinders van Ismael kom nie. Dit gebeur as ’n mens God se werk uit God se hande neem. Jy verbrou altyd.

Verwarring oor die doop bestaan as jy God nie meer in die sentrum plaas nie, maar die mens in die sentrum plaas. Dan word die mens mede-verlosser van homself. Die mens se keuses word dan die roem en nie meer Christus se algenoegsame verlossingskrag nie.

In die ou kerklike taal is die doop altyd tereg ’n “seël” genoem. ’n Seël het ook die betekenis van ’n waarborg. ’n Koninklike brief het ’n koninklike seël  opgehad om die oorspronklikheid en outentiekheid van die brief te bevestig. Dokumente is met ’n seëlring in was gedruk, verseël. Graaddokumente het ook die seël van die Universiteit op om te bevestig dit is eg en nie ’n vervalsing nie.

Jy kry ook die seël op posstukke. Die seël beteken die posgeld is ten volle betaal. Die posstuk kan afgelewer word. Netso het die Here vir al my sonde betaal. Die doop is daarvan ’n seël.

So is die doop ’n waarborg en seël dat Christus volledig vir al my sondes gesterf het en dat ek nie die Here hoef te help om my te verlos nie.

Wedergeboorte, bekering en heiligmaking is nie my aandeel aan my verlossing nie. God bewerk al die geestelike gawes wat nodig is om Hom te dien en tot eer van Sy naam te leef.

Die doop is nie ’n kinderwyding nie. Die doop is nie die toewyding van kindertjies aan die Here nie. Dit is nie die mens wat handel nie, maar God self wat handel. Nee, die doop is ’n SEëL en WAARBORG wat Jesus vir ons kom voorsien het aan die kruis. Kindertjies word volledig ingelyf in die gemeente as  gelowiges, as deel van die verbond.

Die doop is die seël wat waarborg dat die Here instaan vir al ons sondes. Hierdie seël van verlossing word vanoggend in Francois Loots se lewe bevestig. Die ouers Dawie en Leani kan nooit die waarborg wees nie. Julle kan nie instaan vir sy sonde nie. Net die Here kan instaan vir sy sonde. Dit waarborg Hy in die doop.

Dawie en Leani, julle moet vir Francois getrou deel maak van die kerk, sodat hy deur die kerk geleer kan word om lewenslank nié aan sy geloof vas te hou nie, maar aan die inhoud van die geloof, naamlik die sekerheid dat Jesus vir Francois ook gesterf het.

Die heilige doop kan net eenmaal bedien word, anders twyfel jy aan God se beloftes. Wat God eenmaal belowe het, kan nie betwyfel word nie.

In sommige Anglikaanse kerke is daar die gebruik om wanneer die erediens begin, die volgende ritueel te volg. Die priester ontmoet die ouers en die dopeling in die voorportaal van die kerk, waar daar ’n doopvont staan. Nadat die dopeling gedoop is, dra die priester die kindjie vorentoe na die liturgiese ruimte en stel die dopeling bekend as ’n nuwe lidmaat van die gemeente.

Die dopeling word nie privaat gedoop nie, want dit is ’n inlywing in die verbondsgemeente. Die verbondsgemeente dra medeverantwoordelikheid saam met die ouers om die jong verbondskinders te laat opgroei in die Christelike leer en leefwyse.

Die doop is ’n wonderlike troos. In tye van onsekerheid of aanvegtinge kan jy onthou: maar jy is mos gedoop! Ek was eenkeer ’n besoeker by ’n Anglikaanse kerk. Buite die hoofingang was daar ’n bakkie water gemonteer teen die muur. Ek vra toe wat die doel daarvan is. Die priester antwoord dat as iemand kerk toe kom en jy beleef aanvegtinge, kan jy jou vinger natmaak met die water en dit teen jou voorkop druk om te onthou dat jy mos gedoop is en daarom nie bang hoef te wees nie.

Martin Luther het erge aanvegtinge van depressie gehad. Eenmaal toe hy so ’n aanvegting beleef, het hy op sy houttafel uitgekerf: “Maar ek is mos gedoop.”

Daarom is die doop ’n heerlike troos.  Baba Francois Loots is opgeneem in God se ewige genadeverbond. Herinner hom telkens dat hy gedoop is.

Dit is ’n ewige troos.                                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Van kop tot tone ’n halleluja.

SKRIFLESING:  Psalm 150

Daar is nie een mens op hierdie aarde wat nie een of ander tyd van sy lewe nagedink het oor die sin van die lewe nie. ’n Mens dink daaroor in die krisistye van die lewe, en tydens wonderlike ervarings, met die geboorte van ’n kind, wanneer huweliksklokkies lui of by die kluitklap op die kis.

Is ek maar net ’n klein stukkie plasma in die groot heelal? ’n Klein asemteugie wat kom en gaan? Dan is dit ’n kwessie van fluit-fluit, ou kêrel, maar jou storie is uit. Die digter van Psalm 150 het gelukkig die antwoord op die vraag: “Hoekom leef ek?” Hoekom het die Here my gemaak, verlos en die ewige lewe aan my geskenk? Psalm 150 wil vir my sê: “Wie geleer het om te loof, het geleer om te leef.” Dit beteken dat jy van kop tot tone ’n halleluja moet wees. Die Psalmis eindig met die Halleluja-koor! In elkeen van die dertien sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (“loof Hom” in 2020-vertaling), wat “Prys die Here” beteken, voor.

Alles wat was – die verlede, alles wat is – die hede, alles wat nog kom – die toekoms, is daar net om een goeie rede, naamlik om God te prys en God te loof.

God is die middelpunt van al ons lofprysing.

God is nie daar ter wille van jou nie. Nee, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om God te prys en te loof.

Dit is die sin van die lewe!

Dit is waarom jy leef!

Luther praat van die TEATRUM GLORIA! Alles in die skepping wys na Hom.

Die massas materie in die donkerste uithoeke van die heelal. Die sonnestelsels, die melkwegstelsels, die planete, die komete, ruimte, tyd en energie. Die kleinste wurmpie en die kleinste miertjie op een van die kontinente, wys na God. Die herfsblare en die lentebloeisels vertel van God. Die koraalriwwe in die see en die blou pieke van die berge wat hulle vingers in die lug steek, getuig van God. Die glorie van die sonsondergang, die gekwetter van voëls en die gebruis en gebreek van die branders is God se werk. Die eerste skree van ’n pasgebore baba en die rustigheid van ’n bejaarde  is alles daar ter wille van God. Alles is daar om God te loof en te prys.

Die doel van die uitverkiesing is nie om mense se baste te red nie. Dit is om akteurs vir God se vrolike blyspel van die nuwe hemel en nuwe aarde te kies.

Die Duitse skrywer Wilhelm Fischer vergelyk die skepping met ’n magtige pyporrel. Die groot pype met die basklanke het hulle unieke dreungeluid. Die klein pypies, sommiges so groot soos ’n stopnaald, het piepfyn klankies.

As hulle op hul eie sou speel, sou dit bra eentonig wees; as hulle egter saamspeel, is dit ’n magtige simfonie. So is die skepping.

God is die groot Meester wat voor die magtige pyporrel sy plek inneem. Mensekind, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om deur God bespeel te word. Die bladmusiek is die Woord van God. Die dirigent is die Heilige Gees, wat ons opnuut vars, nootvars en nootvas, laat sing.

Prys ons nog die Here? Nie ’n vlietende oomblik of ’n los gedagte nie – maar is ons ganse lewenstyl gekenmerk deur hierdie lofuiting aan God?

Hierdie vraag “Of ons nog die Here prys?” word spesifiek aan die kerk gevra. Trouens Psalm 150 begin by die volk van God as die digter sê: “Prys God in sy heiligdom.” Die heiligdom is die tempel van ouds, waar die volk van God bymekaar gekom het.

Ons – die kerk van die Here Jesus Christus – kan God nog sinvoller as die digter van Psalm 150 prys. Vir ons is vers 2 ’n profetiese vers: Ons prys God oor sy kragtige daad in Jesus Christus, want Hy het Sy Seun vir ons gegee.

Psalm 146 tot Psalm 150 is die vyf lofprysingspsalms in die Psalmboek. Ons gelese gedeelte is die hoogtepunt en die afsluiting van die vyf lofprysingspsalms.

In die kerk moet ons so speel, so sing, so bly wees dat ons die wêreld aantrek. Die wêreld moet aangetrokke voel tot die kerk. Dit moet wees soos metaal wat na ’n magneet aangetrek word. Ja, die kerk is ’n prysende gemeenskap en nooi so ander om mee te doen.

Lofprysing veroorsaak dat die persoon vergeet van hulself, hul persoonlike belange, en om jou aandag te vestig op God, om Hom met jou hele hart te prys, om jou dankbaarheid, jou bewondering vir sy goedheid en barmhartigheid te betuig.

Miskien sê u dat u eers ’n bietjie moet wag totdat u omstandighede beter is. Miskien dink u: Op die oomblik ly ek nog te veel en lyding en lof pas nie bymekaar nie. Lyding en lof kan mos nie onder een dak woon nie. Dan moet u van die volgende kennis neem. Die Psalmdigter sing Psalm 150 nadat hy die Godverlatenheid van Psalm 22 beleef het, nadat hy deur die donker dieptes van Psalm 23 gegaan het en nadat hy geskreeu het na God soos die dorstiges waarvan Psalm 42 praat. Hy sing hierdie psalm “ten spyte van …”

Psalm 150 kan vergelyk word met die negende simfonie van Beethoven – musikaal verskil dit hemelsbreed. Maar albei sing lof vanuit die dieptes … ten spyte van lyding en smart. In die eerste bewegings van die negende simfonie hoor ’n mens Beethoven se droefheid oor sy doofheid – maar uit dieselfde musiek kom lof aan God.

Daar is ’n mooi aanhaling: “ Two persons look through the bars of a jail. The one sees the stars, the other the mud.”

Iemand het as volg opgemerk: “Ek wonder of ons nie eerder soos molle is nie? Ons doen alles, behalwe om God te prys. Ons maal in die modder rond. Ons soek sin en betekenis in die lewe. Ons oë het blind geword vir die wêreld van lig en lof. Ek sou eerder ’n voëltjie wil wees wat kan vlieg en die blou lug, en die skitterende son, tegemoet wou loop. Wat kan kwetter en kan sing. ’n Voëltjie vry om God te prys, om God te loof, om God te bewonder, om God te geniet.”

Ja, ons moet ’n halleluja van kop tot tone wees.                                                      AMEN

(Ek gee erkenning dat ek meer as 30 jaar gelede aantekeninge geneem het van ‘n preek van ‘n prediker wie se naam ek vergeet het, wat ek ryklik in dié preek gebruik het. )

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die waarde van oumense neem in God se oë toe.

SKRIFLESING:  Luk 2: 25 – 40

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer voel en ervaar jy dat jy op die rand gestoot word. Dit is asof jy nie meer so nodig is nie. In die SANW en sommige ander beroepe word jy gedwing om al op 60 jaar af te tree.

Deesdae kry ’n man of vrou baie moeilik op die ouderdom van 50 jaar plus ’n vaste betrekking in die arbeidsektor. Maatskappye soek jong mense, nie middeljariges of ouer mense nie.

Oumense sê ook dat hulle voel dat hoe ouer hulle word, hulle menings al minder tel. Mense luister al minder na hulle en behandel hulle selfs soos kinders.

In die oë van die sondige wêreld is dit waar dat ’n mens se waarde afneem hoe ouer jy word. Miskien is dit so omdat ons so materialisties ingestel is. Hoe ouer mense word, hoe meer verloor hulle waarde. Maar hoe ouer meubels, antieke ware, antieke motors, ensovoorts word, hoe hoër styg hulle gesogtheid en hulle verkoopprys.

In die antieke tyd is grysheid gesien as ’n seën en is oumense hoog aangeslaan. Om grys te word in die ou tyd, was om ’n sekere statigheid te bekom. Grysaards het by die stadspoorte bymekaar gekom om regspraak te beoefen. Vandag is dit net mooi andersom. Die jeug en jeugdigheid is alles. Om grys te word, beteken “diskwalifikasie” en daarom is mense vandag so lief om hulle hare te kleur en plooie te verdoesel.

Maar God ag groot waarde aan oumense. God doen ook groot dinge deur oumense. Dwarsdeur die Bybel lees ons hoedat God bejaarde mense gebruik het om groot dinge te doen.

Dink aan Abraham en Sara wat in hulle bejaardheid die kind Isak verwag het. Dit was eintlik lagwekkend en daarom het Sara gelag. Uit hierdie lagwekkende bejaarde situasie is die volk Israel gebore, ja, sodat ons almal vandag kinders van Abraham is.

Al die aartsvaders, Abraham, Isak, Jakob en ander, was in hulle bejaardheid besondere instrumente in die hand van die Here.

Selfs Moses het as ’n bejaarde man sy volk uit Egipte-land uitgelei, deur die woestyn, die beloofde land in. Tog stort hyself inmekaar en sterf voor hy sy voet in die beloofde land sit.

Simeon was ’n bejaarde man, maar God het aan hom beloof dat hy die Messias sal sien voor hy sterwe. Hy was getrou in die tempeldiens en daarom was hy dan ook daar om die Kindjie Jesus te aanskou. Oor dié Kind het hy ’n loflied gesing, maar ook profetiese woorde gespreek in vers 35. Anna was ’n bejaarde vrou, ’n profetes van 84 jaar oud, maar het nog elke dag die Here gedien. Sy het nooit van die tempel weggebly nie en God dag en nag gedien.

Daarom dien bejaardes veral as geestelike getuies van die wonderdade wat God al in hulle lewe gedoen het. Vergelyk Hebreërs se heldegalery van geloofshelde wat die ander aanmoedig in die geloof.

Oupas en oumas speel ’n groot rol in hulle kleinkinders se lewe. Timoteus is nie net deur sy moeder gevorm nie, maar ook deur sy ouma Loïs. Inteendeel, sy ouma Loïs word genoem voor sy ma Eunice.

Gedurende die verouderingsproses neem die intellek en skerpheid van die brein af, maar die kreatiwiteit en ervaring maak dat mense hulle grootste werke op ’n gevorderde ouderdom skep. Van die grootste teologiese werke deur die loop van eeue is deur bejaarde kerkvaders geskryf.

Die grootste mentors in my lewe was almal bejaarde mense. Ek dink aan twee van my oud-professore, naamlik prof. EPJ Kleynhans wat vir my Kerkreg gegee het en prof. Mias de Klerk wat vir my Praktiese Teologie gegee het. Hulle lesings was soos preke. Jy het vasgenael na hulle geluister. Dit was ’n belewenis.

Op Strydenburg was daar ’n Oom Jan van Wyk van 94 wat ’n baie groot mentor in my lewe was.   

Nelson Mandela het op die ouderdom van 79 opgetree as die president van Suid-Afrika. Op ’n stadium was hy naas Coca Cola die tweede bekendste ikoon in die wêreld.

Mense behaal doktorsgrade op 90 jaar plus.

’n Mens word oud soos wat jy geleef het. As jy ’n vriendelike, opgewekte en dankbare mens was in jou jeugjare, sal jy ook só oud word. As jy ’n verbitterde mens is, sal jy ook eendag ’n verbitterde onvergenoegde oumens wees.

Ek het eendag ’n Engelse oom in Huis Corrie Dreyer besoek, wat op sy laaste was. Hy sê aan my dat sy ou liggaam nie meer kan nie. Maar in dieselfde asem sê hy dat hy soos ’n “springchicken” voel. Sy liggaam is oud, maar sy gees is jonk.   

’n Mens word oud sodat jy kan dien, bid, ander ondersteun, en om daar vir ander te wees. Sommiges het die wanopvatting dat oud word beteken ek moet agteroor sit sodat ander my moet bedien. Nee, selfs in my bejaarde ouderdom moet ek ander kan dien, soos Abraham, Moses, Simeon en Anna. Die Here kan en wil my nog steeds gebruik.

Talmage vertel die verhaal van ’n jong man wat na ’n 90-jarige man gekom het en vir hom gevra het: “Hoe het jy dit reggekry om so lank te lewe en so ’n goeie karakter te wees?”  Die ou man het die jongeling na ’n boord geneem en na ’n paar groot bome vol appels gewys en gesê: “Ek het hierdie bome geplant toe ek ’n seuntjie was, en nou wonder jy waarom ek dit in my ouderdom oes?” Ons maak op ons oudag bymekaar wat ons in ons jeug plant. Saai vir die wind, en jy maai die warrelwind. Plant in die vroeë lewe die regte soort Christelike karakter, en jy sal in jou ouderdom ’n mens van karakter en integriteit wees.

As ek in Huis Corrie Dreyer is, kan ek dien, ander mense moed inpraat, mense opbeur en ander help. Ek is daar om te dien en nie om bedien te word nie.

In Amerika is daar tuistes waar bejaardes hulle eie inrigtings bestuur en onderhou. Sommige maak kos, ander herstel klere, ander werk in die tuin en so het elkeen sy funksie in die tehuis. Daar is amper geen werkers nie. Daar is ook ouetehuise in Amerika waar hulle ouetehuise en kleuterskole langs mekaar bou. As dit pouse-tyd is gaan die kindertjies na die ouetehuis toe. Dan gee die bejaardes ekstra aandag aan die kindertjies deur vir hulle te lees en met hulle te speel. Die bejaardes voel ook minder eensaam en voel hulle beteken iets vir die samelewing.

Daarom moet ’n mens jou waardigheid behou, te midde van ouderdom en aftakeling. ’n Mens se waardigheid lê in jou gees en nie in jou liggaam nie.

Ek wil nie jonger wees nie. Hoeveel armer sal ek nie aan lewenservaring wees nie! Bejaarde Christene is geneig om bedagsaam, vriendelik, geduldig en liefdevol te wees. Deur jare van navolging van Christus het hulle meer en meer na Sy beeld gegroei. Fisiese gesondheid kan misluk, of die sig word swak, die gehoor verswak, maar daar is geen rede om moed te verloor nie. Hoekom? Die innerlike natuur word elke dag vernuwe.

Vir diegene wat die verbygaande jare vrees, is ’n interessante moontlikheid deur Charles L. Allen voorgestel. Hy skryf: “Sê nou net die proses was omgekeer. Jy sou op ’n hoë ouderdom begin lewe en elke dag ’n bietjie jonger wees. Nou, dit sou verskriklik wees. Elke dag sou jy ’n bietjie minder weet as wat jy die vorige dag geweet het.”

In die oë van die wêreld verloor oumense dikwels waarde. Maar in God se oë styg oumense in waarde. Jy word in ’n besondere sin al meer bruikbaar in die Here se diens.

Kom ons dank God vir die bejaardes, ook dié in ons gemeenskap. Mag hulle soos Abraham, Simeon en Anna nog steeds bruikbare instrumente wees. Ja, geloofshelde om ander te inspireer.                                    AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die Here soek vrugte van bekering.

SKRIFLESING:  Luk 13: 6 – 9

’n Arm Duitse meisie het aangekondig dat sy ’n klavierkonsert gaan gee. Om mense te lok om te kom, het sy in die advertensies genoem dat sy die student van die beroemde Hongaarse professor, Franz Liszt, was. Maar dit was ’n leuen. Tot haar ontsteltenis het sy verneem die professor gaan haar dorp die dag voor die konsert besoek. Wat moes sy nou doen? Sy het hom gaan ontmoet, haar skuld beken en hom gevra om haar te vergewe. Die professor het geantwoord: “Jy het ’n fout gemaak. Almal van ons maak foute. Die enigste ding wat jy nou kan doen, is om te bekeer; en ek glo dat jy reeds berou het. Sit en speel.” Aan die begin het sy met baie vrees gespeel. Die professor het ’n paar van haar foute reggestel en gesê: “Nou kan jy regtig sê dat ek jou geleer het. Gaan speel môreaand by jou konsert, en die laaste stuk sal nie deur jou gespeel word nie, maar deur jou onderwyser.” Jy is soos hierdie meisie. Jy het gesondig. Daar is niks anders wat jy kan doen as om jou te bekeer nie. Dan sal jy die rol van jou lewe speel onder toesig van Christus self. Die laaste en die beste stuk sal deur Hom gespeel word.

Die gelykenis van die vyeboom gaan oor die Here wat vrugte van bekering soek by die mens. Wat voorop staan, is die geduld van God met die wederstrewige sondaar, wat hom / haar nie wil bekeer nie.

Willie Jonker het in 1957 in ’n preek geskryf van die onverdiende ontferming van God.   Dit is nie ’n vyeboom wat êrens in die wildernis opgeskiet het nie. Hy staan geplant, deur die sorg van sy eienaar daar waar die grond sag en vrugbaar is, in die wingerd. Die wingerd is die trots van die eienaar. Die vyeboom is in ’n begunstigde posisie. Met reg kan die eienaar van hom vrug verwag. Wie is hierdie vyeboom? Dit is die mens wat deur God bevoorreg is om aan die verbond te behoort. Christus dink by die vertelling van die gelykenis aan Israel, die volk van God, wat in die bevoorregte posisie is, wat die wet en profete het en wat die menswording van Christus aanskou. Van sulke mense kan daar met reg vrug verwag word, die vrug van geloof. Die vrug wat God soek, is nie ons goeie werke of ons geld nie, maar harte wat in geloof aan Hom oorgegee is.  

Dié vrug verwag God van elke kerkmens, van elke gedoopte mens wat deur Gods genade gebore is op die akker van die Kerk en in God se verbond, sê Jonker. Maar helaas, die vyeboom wat hier geskets word, is die beeld van die kerkmens wat ten spyte van die voorregte, nog steeds onvrugbaar bly. God het oor ’n lang tydperk (drie jaar) tevergeefs vrugte van bekering verwag by die kerkmens. Die kerkmens wat maklik toegang het tot die Woord, deur middel van die Bybel, die eredienste en digitale preekuitsendings en die toegang tot geestelike literatuur en geestelike boeke – se hart bly verhard. Die Here roep dikwels deur een of ander beproewing of gebeurtenis hard tot ons uit, maar steeds dra ons geen vrugte van bekering nie. Inteendeel, in plaas van vrug te dra, maak die vyeboom die grond waarin dit staan onvrugbaar (vers 7). Elke kerkmens wat nie bekeer nie, maak dit vir ander moeiliker om Christus te vind.  Jonker skryf: “Hy (die onbekeerde sondaar) verlaag die geestelike temperatuur in die Kerk, hy smoor die getuienis van die Kerk na buite en hy trek ander eerder weg van Jesus af as wat hy vir hulle iets beteken.”

So is die toestand van die vyeboom. So is die toestand van die onbekeerde kerkmens.  Die eienaar wil die vyeboom uitkap na drie jaar, maar die tuinier vra vir nog ’n jaar van genade. Die tuinier wil die grond omspit en mis gee. Die tuinier wil nog ekstra moeite doen.   Die tuinier laat nie die vyeboom aan sy eie lot oor nie. Hy bewerk die boom opnuut en wel met noukeurigheid en sorg. So is God se geduld met die ongehoorsame kerkmens;  altyd vol werksame liefde, skryf Jonker.  Hy gee die ongehoorsame verbondskind nog ’n kans, sonder om hom aan homself oor te laat.      

Maar hierdie geduld het ’n grens. Die tuinier kan die vyeboom nie vir altyd in sy tuin duld as hy onvrugbaar bly nie. Die pleitstem tot bekering hou op ’n dag op. As dit nie so was nie, sou dit swakheid aan Gods kant wees, en sou sy Woord wat dreig met ondergang vir elke onbekeerde, onwaar wees. (Aldus Jonker) Genadetyd hou op. Miskien bring ’n skielike dood ’n einde aan die geleentheid tot bekering.

Bekering is ’n 180° grade omdraai op die verkeerde pad. Die Griekse woord is “metanoia”, wat beteken omdraai. Die Heidelbergse Kategismus beskryf dit is die “inkeer, omkeer en terugkeer” na God. Soos wat die verlore seun by die varkhok tot inkeer gekom het en verlang het na sy vaderhuis, so begin bekering met ’n opregte begeerte om terug na God te gaan. Dit is om ’n daadwerklike omkeer te maak en terug te keer na God.

God het, toe Hy die wêreld geskep het, beveel dat alles vrugbaar moet wees en vrug moet voortbring. ’n Vyeboom kan daarom net vye en nie perskes voortbring nie. Ons moet daarom ons eie lewe ondersoek na die tipe vrug wat ons voortbring.

Tommy Lessing vertel van die verhaaltjie wat hy gelees het van die tipe vrug wat ons moet dra. Die persoon vertel dat wanneer hulle broers stout was en na hulle kamers gestuur was, het hulle ’n geheim gehad. Net buite die venster het ’n ou vrugteboom gestaan. Die seuns sou saggies die venster oopmaak, in die boom klim en in die veld agter die huis gaan speel. Na ’n rukkie sou hulle weer terug in die boom klim, na binne glip en die venster toemaak.

Eendag het hulle gehoor dat hulle pa vir hulle ma sê dat hy beplan om die boom af te kap, want dit het in jare geen vrugte gedra nie. Die seuns het paniekbevange hulle spaargeld geneem, winkel toe gehardloop waar hulle appels en ’n tolletjie swart gare gekoop het. Daardie aand het hulle by die venster uitgeklim en die appels orals aan die boom vasgemaak. Die volgende oggend het hulle gretig gewag vir hulle pa se reaksie. Gou was hulle bly om hom te hoor roep: “Maria, kom kyk! Dis ’n wonderwerk! Die boom is vol appels!” Die seuns het hulself gelukgewens, maar toe hoor hulle hoedat hulle pa sê: “Dit is regtig ’n wonderwerk … want dit is ’n peerboom.”  (Die ouers het darem die wysheid en goeie humor gehad om die boom te laat oorleef.)  

Net soos ’n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie, kan ’n vyeboom ook nie appels dra nie. Ons lees in Gal 5: 22 watter vrugte die Here aan die vyeboom soek,  naamlik: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Die dooie werke waarvan ons onsself moet bekeer staan in Gal 5: 19 – 21, naamlik: “Die praktyke van ons vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.”

Soos wat God met Sy skepping beveel het dat alles vrugbaar moet wees en moet vrugte dra, so gebied God ook in Sy herskepping dat ons vrugte moet dra van bekering. Daarom is die gelykenis van die vyeboom vir ons ’n oproep om voortdurend tot bekering te kom.

Die baie vals profete van vandag verkondig net God se liefde, sonder die oproep tot bekering. So word baie sondes goedgepraat deur die oorbeklemtoning van God se liefde ten koste van die feit dat God ook ’n regverdige regter is wat oordeel oor sondes. Sondes kan nie maar net goedgepraat word, omdat God liefde is nie. Ons moet ook rekenskap gee van ons dade.

Bekering is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Verbondsbekering is om elke dag opnuut tot bekering te kom. Dit is om my elke dag opnuut te laat snoei deur die Woord en die Gees. Dit is al hoe ’n mens die vorm van die boom en die drakrag van vrugte kan verseker.

Mag ons elkeen elke dag in gehoorsaamheid tot bekering kom. Mag die vyeboom van God vrugte dra op sy tyd.    

Luister ons na God se dringende stem?                                                 AMEN     

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die tong is ’n sleutel.

SKRIFLESING:  Jak 3: 1 – 18

Wat is die verskil tussen ’n wilde perd en ’n mak perd?

’n Wilde perd laat homself nie inperk deur ’n stang of stiebeuel en leisels nie. Hy wil maak soos hy goeddink. ’n Mak perd laat hom weer inperk deur ’n stang. Juis omdat die wilde perd hom nie wil laat inperk nie, is hy onbruikbaar. ’n Mak perd wat ingeperk is, is bruikbaar.

Is ons bruikbaar vir Christus? Om bruikbaar te wees vir Christus moet ek ook bereid wees om ingeperk te word. Ek moet ook ’n stang in die mond kry.

Die boodskap vanoggend is: Die tong is ’n sleutel.

Jakobus beskryf die tong as ’n vuurhoutjie wat die hele wêreld aan die brand kan steek. Om af te breek met die tong is makliker as om op te bou. Jakobus wil nie hê dat ons tonge skinder, en vuiltaal of liefdelose woorde uiter nie. Ek moet nie ’n karikatuur maak van my politieke opponent of persoonlike vyand nie.

’n Wetenskaplike het uitgevind dat gif uit die vel van ’n klein Suid-Amerikaanse boompadda baie giftiger is as enige ander bekende gif. Reënwoud-Indiane gebruik die gif van die vel van die kokoi-padda om hul blaasgeweerpyle te vergiftig. Daar is ’n gif wat selfs dodeliker is – die gif van ’n bose tong.  Is jy as ’n Christen in staat om jou tong te beheer? Indien wel, is jy ’n volwasse Christen. “Want in baie dinge laat ons almal struikel. As iemand nie in woord struikel nie, is hy ’n volmaakte man en in staat om ook die hele liggaam in toom te hou” (Jak 3:2).

George Morrison het hierdie pragtige gedeelte geskryf wat handel oor die gevare van ’n onnadenkende tong: “Een van die eerste dinge wat vir sosiale vrede sorg, is ’n waaksame en liefdadige stilte. Geen man of vrou wat nie geleer het om ’n toom op sy lippe te sit, kan ooit ’n vredemaker wees nie. Dink aan die oneindige skade wat deur ’n kwaadwillige of  ’n onnadenkende tong aangerig kan word; dink aan die ontelbare harte wat dit verskeur; dink aan die gelukkige vriendskappe wat dit verkoel. En soms is daar nie eers kwaadwilligheid in dit nie – net die dwase begeerte om te praat, want boosheid word bewerk deur gebrek aan gedagte sowel as gebrek aan hart. Al wat ek weet, is dat een van die magtigste dinge wat vir sosiale vrede sorg, ’n wyse en liefdadige stilte is. Om nie alles te glo wat ons hoor nie, om nie alles wat ons hoor te herhaal nie, tensy ons deur die gewete geroep word om dit te verkondig.

Iemand beskryf dat ons elkeen ons eie persoonlike begraafplaas het, waar ons mense met ’n geskinder of woorde doodgemaak het.

Daar is geen twyfel dat laster seermaak nie. Sir Francis Bacon het ’n diepgaande waarheid uitgespreek toe hy gesê het: “Die waardigste persone word gereeld deur laster aangeval, aangesien ons oor die algemeen vind dat dit die beste vrugte is waarna die voëls sal pik.”

Eenkeer het ’n jong man na daardie groot filosoof Sokrates gekom om in redenering onderrig te word. Die oomblik toe die jong man voorgestel word, het hy begin praat, en daar was vir ’n geruime tyd ’n onophoudelike stroom woorde. Toe Sokrates ’n woord kon inkry, het hy gesê: “Jong, ek sal jou ’n dubbele fooi moet hef.”

“ ’n Dubbele fooi, hoekom is dit?”

Die ou wyse het geantwoord: “Ek sal jou twee lesse moet leer. Eerstens hoe om jou tong in toom te hou, en dan, hoe om dit te gebruik.” Wat ’n kuns vir ons almal om te leer, veral vir Christene.

Het jy al ooit opgelet dat daar gewoonlik ’n gebrek aan goeie, vriendelike woorde vir die afwesige persoon is wanneer sy naam in ’n gesprek genoem word? Daar mag woorde van kritiek en foutvindery wees, maar hoe min is die woorde van lof! Die goue reël stel voor dat ons van die afwesige praat soos ons wil hê ander van ons moet praat.

’n Vrou wat sleg gevoel het oor haar geskinder het eendag by die priester raad gevra oor hoe om dit onklaar te maak. Hy het vir die vrou gesê om op ’n winderige dag op die straathoek te staan en ’n verekussing stukkend te sny. Sy het dit gedoen. Hy sê toe vir haar om nou al die vere bymekaar te maak. Sy kon nie. Hy antwoord toe dat netso ’n mens nie ’n skinderstorie kan stop nie. Dit saai onomkeerbare verwoesting oral waar dit gaan.

Waarom skinder mense? Meestal is dit omdat hulle ’n swak selfbeeld het en ander mense wil laat slegter lyk, om hulleself beter te vertoon.

As jy by iemand is wat van ander skinder, weet verseker hy of sy gaan van jou ook skinder.

Die tong is ontembaar, dit is soos ’n wilde dier wat jy nooit heeltemal mak kry nie. Dit behou daardie wilde streep. Die tong saai gif tussen mense en maak dat daar verwydering tussen mense kom.

Daarom is dit belangrik om mense nie as dinge te behandel nie, maar as persone. Ons moet ons toelê op persoonsbehartiging, waar ek elke mens met wie ek in kontak kom, laat goed voel. Om iemand soos ’n mens te laat voel, moet ek mense met respek, eer en gelykwaardigheid behandel, en hulle goed laat voel. Ek moet mense bevestig met my woorde.

Jakobus skryf dat ’n mens dikwels soos ’n tweegatjakkals is, wat God in die kerk loof, maar buite die kerkgebou ander mense beskinder.

Die gelowige se tong is in diens van Christus. Soos die mak perd ’n stang in die bek het, so word ons ingebreek deur die Woord en die Gees om ’n lewe van selfbeheersing te leef. Ons woorde moet van selfbeheersing getuig.

Ons tong moet ons stuur, soos die roer van ’n skip, om goed van ander te praat en nie sleg nie. Ons tonge moet ons soos ’n skip se roer na rustige waters stuur. Jakobus sê dit is die bewys van ons geloof. By ’n heilige God pas heilige onderdane wie se tonge geheilig is.

Wanneer ons die tong reg gebruik, sal ons wysheid bekom.

Daarom moet jy jou doelbewus instel om in alles wat jy doen ’n keuse vir Christus uit te oefen. Ek moet ’n wag voor my mond sit en ’n keuse uitoefen om altyd die regte woorde te uiter.

Is jou tong bruikbaar vir God?

Is jou lewe beheers?

’n Christen se lewe is ’n beheerste lewe, deur die krag van die Heilige Gees.

Jou tong is ’n sleutel. Dit kan goedheid of boosheid oopsluit.

Hoe gebruik ek en jy ons tonge?                      AMEN       

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Hoe lyk God se hande?

SKRIFLESING:  Psalm 31

Karl Barth het by geleentheid vir ’n aantal melaatses gepreek. Melaatses se hande word dikwels vervorm om eerder soos kloue te lyk.

Karl Barth begin toe sy preek met die vraag of God hande het. Dan antwoord Barth dat God wel hande het en wel ook gans anders, veel beter en behendiger, sterker hande as hierdie kloue van ons.

Ons is nou wel nie melaats nie, tog verander die sonde ons hande dikwels in kloue. Met ons kloue baklei ons, en met ons kloue gryp ons. Met ons kloue klou ons aan ons aardse goed vas. Ons kloue is nie oop om te deel nie.

Hoe vang ’n mens ’n aap? Jy plaas ’n ysterpot met ’n smal opening buite. Jy prop ’n klomp vrugte en lekkernye binne die pot. Dan wag jy. Die ape sal naderkom. Totdat een sy hand insteek in die pot. Hy gryp dan na die kos, maar omdat sy hand nou in ’n klou gevorm is, kan hy nie sy hand uitkry nie. Hy is so gierig, hy los nie die kos nie. Al klouende aan sy kos met sy klou, kan jy nou die aap vang. So vang die sonde ons ook. Sonde maak van ons hande kloue.

God se hande is die hande van ons Heiland Jesus Christus wat gesê het: “ Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”. Die Here het kindertjies geseën met Sy hande. Die Here het siekes aangeraak met Sy hande en hulle genees. Hy het die brood en vis geneem met Sy hande en dit vermeerder. Sy hande is vermink aan die kruis vir ons sondes.

Die Here se hande is soos vaderhande, wat sterk is. Die Here se hande is soos moederhande, was sag, teer en moederlik is. Die Here se hande is soos vriendehande, altyd getrou en behulpsaam.

Die Here het gesê dat niemand ons sal uitruk uit Sy hand nie. Luister wat skryf Rom 8: 38 – 39 in die volgende woorde: “Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” So veilig is ons in die hande van die Here.

In hierdie Godshande is ek geborge, opgetel en is ek gered.

Die vraag is egter: Leef ek in God se hande of probeer ek met my kloue vir my ’n paadjie oopbaklei in die lewe? Miskien is ons grootste probleem dat ons nie in oorgawe in God se hande leef nie.

Die Psalmdigter Dawid het in Psalm 31 baie bedreigd gevoel. Waarskynlik druk hy sy emosies hier uit op die tydstip toe koning Saul hom agtervolg het met sy hele weermag om hom dood te maak. Dit het hom emosioneel en fisiek afgetakel. Hy beskryf in die Psalm dat hy in die nood is, dat sy oë swak geword het, hy is vol verdriet en kommer. Hy kry swaar en sy kragte is geknak. Sy liggaam teer uit en hy het die spot van sy teenstaanders en bure geword. Dawid beskryf dat hy so goed as dood is en mense span saam om sy lewe te neem.

Dawid skryf in vers 6 dat hy die uitkoms van sy lewe in God se hande plaas: In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God.”

Dawid beleef moeilike tye, swaar tye, maar hy gee hierdie tye oor in God se hande. In vers 15 – 16 (a) staan daar: “Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God, my tye is in u hand’.”

Die tye van 2022 met die nadraai van Covid, asook die Russiese inval van Ukraïne het die hele wêreld op hol. Die aanval op ’n kernaanleg in Ukraïne, laat ons almal vrees vir ’n kernoorlog. Blykbaar stop niks vir Vladimir Putin nie. As China en Noord-Korea toetree tot die oorlog, het ons ’n volskaalse wêreldoorlog. Suid-Afrika se neutrale posisie is ook kommerwekkend, sou ons Rusland ondersteun. Ons kan hierdie uiters kommerwekkende wêreldsituasie net in God se hande plaas.

Die bitter en die soet van 2022 kan ons maar net in God se hande plaas. Is 2022 in jou kloue of is dit in God se hande?

Ortodokse Joodse gesinne bid elke dag: “In U hande gee ek my lewe oor.” Daar is opgeteken dat van die bekendste gelowiges deur die loop van eeue se laaste woorde was: “In U hande gee ek my lewe oor.” Policarpus, Johannes Huss, Melanchton en Martin Luther onder andere het so gebid, terwyl hulle besig was om te sterf.

Wil u nie ook elke dag u tye, u lewe in die hand van die Here plaas nie? Wat is saliger as om eendag op jou sterfbed te bid: “Here in u hande gee ek my lewe oor.”

Wanneer jy in 2022 bang is, dink daaraan: Dieselfde hand wat oneindige miljoene melkwegstelsels gemaak het en vashou, hou jou vas. Die hand wat ons planeet in ons melkwegstelsel geplaas het as ’n spikkeltjie tussen miljoene sterre, hou jou vas. Dieselfde hande wat die ragfyn vlerkies van ’n vlieg en die helderkleurige voëls gemaak het, hou jou vas.

Luther het ’n soortgelyke getuienis gelewer toe hy gesê het: “Ek het baie dinge in my hande gehou, en ek het dit alles verloor; maar alles wat ek in God se hande gegee het, dit besit ek nog.”1

Ons paar uurtjies hier op die aarde is in God se hande!

Ek kan maar aan God vashou, want God hou aan my vas.

Kinders soek die versorgende hande, die vertroostende hande van hulle ouers. Hande wat optel, vertroos, speel, koester en omgee. Netso word ons vasgehou deur Vaderhande wat ons optel, vertroos, koester en vir ons omgee. In bitter en soet tye.

Vader, my tye is in U hande! In U hande gee ek my lewe oor. In U hande gee ek ook 2022 oor.                                   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VERWYSING

  1. Anoniem. Die beste preekillustrasies: Meer as 2000 stories in een (bl. 998). AAA SMARTWORLD. Kindle uitgawe.

Woestynervarings is verrykende ervarings.

SKRIFLESING:  Eks 16: 1 – 18

Die woord “woestyn” wek by die meeste mense ’n negatiewe konnotasie op. Dit word geassosieer met sand, min water, min kos, sonsteek, verdwaling, lugspieëlings en uiteindelik die dood.

Ons lees hoe die volk Israel hier in Eksodus 16 letterlik deur ’n woestyn gaan, met al die gepaardgaande ontberings.

Figuurlik gesproke gaan ons elkeen van tyd tot tyd deur ’n “woestyn” – die woestyn van persoonlike krisisse. ’n Woestyn kan wees: ’n siekbed, dood van ’n geliefde, bekommernis oor ’n kind, droogte, finansiële probleme, werkloosheid of emosionele probleme. Hierdie dinge kan vir ’n mens soos ’n “woestyn” voel.

Die gevaar is nou natuurlik dat ’n mens net negatiewe konnotasies aan ’n woestyn toedig. In Eksodus word die woestyntyd van Israel as ’n baie besondere tyd, trouens ’n ideale tyd in die geskiedenis van Israel beskou. By terugskoue sou dit altyd blyk dat daar min tye in die geskiedenis van Israel was dat dit, geestelik beskou, so goed gegaan het met die volk as juis tydens die jare in die woestyn. Waarskynlik was dit, meer as enige ander tyd, die stadium waarin die Here en sy volk werklik na aan mekaar was.

Gelowiges wat deur diep krisisse gegaan het, stem gewoonlik saam dat hulle “woestyne” besondere tye was in hulle verhouding met God.

Baie gelowiges in die Bybel het hulle letterlik in ’n woestyn bevind. Dink aan Elia en Johannes die Doper. En dan natuurlik ook die Here Jesus Christus met Sy versoekinge in die woestyn vir 40 dae. So het “woestyne” met verloop van tyd simbool geword vir die moeilike tye in die lewens van gelowiges.

Eksodus 16 wil vir ons leer: Woestyntye is verrykende ervarings.

Die Sinai-woestyn het Israel letterlik van alles gestroop. Hulle is gestroop van hul huise, hul wingerde, hul tuine, hul veetroppe en hul geliefdes (’n hele geslag het in die woestyn omgekom.) Hulle het nomadies geword – hulle het net-net oorleef.

Elke krisis stroop ’n mens ook van selfvertroue, of besittings, van sekuriteit en soms ook van geliefdes. In ’n krisis het jy minder van iets oor as voor die krisis.

Maar ’n woestyn maak jou ook broos, afhanklik en naak. In die woestyn is jou sekerhede en waarborge tot die absolute minimum beperk. Alles word onseker. In ’n woestynsituasie sien ’n mens jou weerloosheid, menslike swakheid en verganklikheid helder voor die oë.

Jou maskers en jou bravade val heeltemal weg. Jou uiterlike beeld waaroor ’n mens tog so bekommerd is, val weg, sodat net die egte mens na vore kom. ’n Mens kan dus sê ’n woestyn stroop ’n mens van jou “image” en maskers. In ’n woestynsituasie word ’n mens rondgeslinger tussen hoop en wanhoop – ’n regte wipplank van emosies.  Dit maak jou huilerig, bekommerd, angstig en depressief. ’n Mens kan dus sê dat ’n woestynsituasie jou stroop van lewensgeluk.

’n Woestynsituasie stroop jou van alles wat jy besit, van jou maskers en van jou lewensgeluk. Dit laat my dink aan die herfs in die natuur. In die herfs word die bome gestroop van hulle groen blaredos – sodat uiteindelik net die kaal takke oorbly.

Moet ons nie ook bid:

Soos ’n boom in die winterkoue gestroop word van sy blare, wil u my nie ook stroop van my valse ydelheid, my hoogmoed, my “image” en my maskers, nie, sodat ek net nakend, broos en afhanklik kan oorbly, soos die takke van ’n boom in die winterkoue.

’n Mens leer die heel beste deur ervarings. Israel het ook deur ervaring daar in die woestyn geleer om met ’n nuwe toewyding aan God te leef.

Hulle het God se versorging ervaar in die bitter water wat soet geword het, in die daaglikse kwartels en manna en in die wolk- en vuurkolom.  Hulle het God se stem ook ervaar.

Ons kan so rondjaag in die gewoel van hierdie wêreld, dat ons niks meer kan hoor nie. Ons het bang geraak vir stiltes. Ons skakel liewer die radio of televisie aan. Maar die woestyn is net ’n plek van stilte – sodat ’n mens gedwing word om ’n slag weer na die stem van God te luister.

Die woestyn kan ’n harde plek wees, maar ook ’n wonderlike plek van ongelooflike eenvoud en skoonheid en stilte. Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer.

Maar die heel beste van die woestyn – so het Israel ontdek – was God. Dit was die heel grootste verrassing. In die woestyn het Israel nie net hulleself beter leer ken nie, dit was die plek waar hulle ook die Here op ’n nuwe manier leer ken het. Daar het hulle ervaar dat God veral ook in die woestyn by hulle is. Daar het hulle ontdek dat God nie net ’n God is wat beweer dat Hy die onmoontlike kan doen nie.  In die woestyn het die volk Hom dit síén doen. In die woestyn het Israel die Here op ’n nuwe, dieper manier leer ken.

Wonderlik bevrydend is dit as ’n mens God in jou lyding leer ken.

Deur die eeue het Christene gevra of woestyne regtig nodig is? Hoekom moet daar woestyne wees? Is dit nodig dat ons deur al hierdie swaarkry iets moet leer? Sou ons nie ook daarsonder iets kon leer nie?

Ons het reeds gesê dat ’n mens eers in die woestyn jou dieper, werklike self leer ken – in jou swakheid, jou broosheid en afhanklikheid. Dit is sekerlik nie maklik om jouself so te leer ken nie, maar dit is nog altyd twintig keer beter as die verskriklike moontlikheid om oud te word en dood te gaan, sonder om jouself te leer ken soos jy werklik is.

Maar veel belangriker is die feit dat ’n mens ook vir God in die woestyn op ’n nuwe manier leer ken. Die waarheid is dat daar kante van God is wat ’n mens net in die woestyn kan leer ken. Dat Hy regtig kan troos, regtig kan sorg, regtig liefhet en kan voed en verkwik – dit leer ’n mens net as jy nood ken en dit regtig gesien het.

Ons sou kon sê dat die Here vir Israel in die woestyn eintlik ’n tweede keer vrygemaak het. Na die vlug uit Egipte en die wonderbaarlike verlossing by die Rietsee, was Israel vry van die gevare wat van buite gedreig het. Maar dit was in die woestyn waar die Here begin het om hulle ook van binne vry te maak: vry van hulleself, vry om regtig in God te glo en Hom te vertrou met hulle lewens.

Mag ons in ons “woestyne” van ons krisisse gestroop word, sodat ons God kan ontdek en vir Hom kan begin leef.

God gebruik “woestyne” in die lewens van Sy kinders. In Hosea 2 lees ons hoedat God sy volk in die woestyn die hof maak, en mooi dinge vir hulle sê, omdat God hulle liefhet.

Leer iets daaruit! Haal iets positiefs daaruit.

Ons het dus gesien dat die woestyn twee pluspunte het: Dit is ’n plek van stroping en ’n oefenskool vir nuwe toewyding aan God.

Mag dit ook u ervaring wees.                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Maak vrede met die bure.

SKRIFLESING:  1 Kor 13

Dr Johan Pienaar skryf die volgende.

Hy vertel dat net buite die ingang van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park daar in die veld ’n klein en baie ou begraafplaas is. Hy het die begraafplaas besoek en op twee interessante grafstene langs mekaar afgekom. Een is van ’n Johan (gebore 1911) en langs hom lê Valerie (gebore 1910). Lees ’n mens verder, staan op albei grafstene: “Deur ’n weerligstraal gedood op Mount Aux Sources op 18 Desember 1932”. Beide was in hulle twintigs en is deur dieselfde weerligstraal doodgeslaan.

Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet …. so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.

Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke – of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.

So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer.  Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.

Daar word vertel van die man wat geantwoord het op ’n vraag of hy en sy vrou soms baklei: “Soms sê ek ’n woord waarvan my vrou nie hou nie, of my vrou sê  of doen iets waarvan ek nie hou nie; maar as ons begin stry, skud ons hande, maak die deur toe en gaan bid. So word vrede weer herstel.” Dit is kosbare raad om te volg.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente.  Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was.   Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b  “ …. maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.

Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Ons elkeen het ’n boekie van die kwaad waarin ons alles in ons geheue neerskryf wat ander mense teen ons doen. Die Here begin elke dag met ’n skoon bladsy vir ons. Maar ons boekie van die kwaad vir ander mense word elke dag dikker.

1 Kor 13:7 lees: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” Die liefde bedek alles. Jy gooi die sondes van ander mense toe, soos wat jy ’n doekie gooi oor vuil skottelgoed wat jy eers later wil was. Die liefde het geloof in ander mense se potensiaal om te verbeter. Jy skryf nie mense af nie. Die liefde het hoop dat mense kan verbeter. Die liefde verduur alles, met ander woorde is verdraagsaam met ander se foute, wetende dat jyself ook baie foute het.

Slegte verhoudinge met bure, familie of ander mense tap jou energie. Jy kan nie jou potensiaal bereik as daar ’n klomp negatiewe energie in jou sit nie. Jy tob dan oor die negatiewe, in plaas van die positiewe te bedink. Slegte verhoudinge bring spanning in jou lewe en is swak vir jou gesondheid. Slegte verhoudinge versuur jou lewe en geluk.

Daarom is verGIFnis so belangrik in die liefde. As jy nie ’n lewe van verGIFnis kan lewe nie, gaan die gif jou doodmaak. Dit is so goed jy bind ’n lyk aan jou vas (die mens wat jy nie kan vergewe nie), en sterf later van lyksiektes.

In verse 8 – 9 word beskryf dat alles sal verbygaan, maar die liefde sal ewig staan. Profesieë, tale en kennis sal verbygaan. Dit is verganklik. Die liefde staan vir ewig.

In vers 11 beskryf Paulus dat toe hy ’n kind was, hy nog op ’n kinderagtige manier met mense omgegaan het. Ons almal weet hoe wreed kinders kan wees op die speelgrond. Maar nou is Paulus volwasse. Hy is klaar met dié dinge, die kinderagtigheid van liefdeloosheid.  Hy is nou volwasse in die liefde. Die vraag vanmôre is: is ons nog kinderagtig in die liefde of openbaar ons volwassenheid in die liefde?

Vers 12 sê ons staar nog in ’n “geheimenisvolle beeld, soos in ’n spieël”. Antieke spieëls was van gepoleerde metaal, maar die spieëlbeeld wat hulle gereflekteer het, was nooit heeltemal helder nie.1 Ons verstaan nie die lewe met al die goed wat konflik gee nie. Somtyds weet ons ook nie of ons of die ander party reg is nie. Maar eendag sal ons weet. Daarom moet ons nou vrede najaag, want ons ken nie ten volle nie. Ons ken nie die volle storie nie. Ons verstaan nie die ander party ten volle nie. Daarom is liefde die enigste oplossing om konflik op te los.

1 Kor 13: 13 sluit af met: “En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie –  maar die grootste hiervan is die liefde.” Al is jy ’n geloofsreus, wat elke Sondag in die kerk sit … of al is jy die mees positiewe, hoopvolle mens wat ander inspireer … , maar jy het nie liefde nie, is jy NIKS. Die liefde is die belangrikste.

Die vraag vanmôre met die Nagmaal is, met watter buurman, of familielid of mens in die gemeenskap moet jy dinge gaan regmaak?

Onthou die twee grafte by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park. Moenie dat dit te laat word nie.                                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VERWYSINGS

  1.  Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3843). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.