God se reis begin met klein treetjies

SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33

Die bose begin altyd groot en die goeie begin altyd klein. Die Satan wil altyd met die groot goed begin. So het hy vir Eva in die begin verlei deur vir haar te vra of sy “soos God wil wees”. Hy het haar die sug gegee om groot te wees. So het die duiwel ook die Here Jesus versoek met versoekinge wat verband hou met groot en aanskoulike dinge, soos brood uit klippe, om deur engele gedra te word en ’n belofte om oor al die koninkryke van die aarde te regeer.

Mense raak gaande oor aanskoulike goed: supersterre, beroemde mense, geld, besittings, materialisme, ensovoorts. Hoe groter, hoe beter. Mense wil ook nie vandag meer onder begin nie. Hulle wil sommer daar begin waar hulle ouers geëindig het in die lewe. “We want it all and we want it now.” Die filmbedryf skep ook karakters wat alles die beste kan doen, sodat die kykers kan dagdroom om ook so te wees soos wat die karakters is.

So het die koninkryke van hierdie wêreld gekom en gegaan. Elke era se koninkryk spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke van ouds tot die modern koninkryke van vandag, maak hulle almal skuldig aan ’n grootheidswaan. So spog mense met hulle eie klein koninkrykies.

Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk.

’n Mosterdsaadjie is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ’n baie groot boom word waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien, het die brood gerys. So werk God deur die eeue. God werk in die klein, onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ’n Pampoen groei ’n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ’n Eikeboom of olyfboom groei baie stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewensduur van die boom.

Daarom moet ons geduldig met God wees as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ’n pampoenkoninkryk nie, maar ’n mosterdsaadboom-koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet.

Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ’n groot boom. Elke jaarring vertel van die reis saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

So het die Here se kerk ook jaarringe wat vertel van die geskiedenis van die kerk. Die Here hou self Sy kerk in stand, al blaak die hel van woede.

Henri Nouwen het met sy lewe aangetoon dat om ’n Koninkrykslewe te beoefen ek ’n ware dissipel moet word, daar waar daar swakheid, gebrokenheid, siekte, pyn, eensaamheid, angstigheid en verlorenheid is. Deur diens, liefde en omgee sal mense die hart van God sien.

Spirituele formasie plaas Jesus midde-in die nood van die wêreld. Spirituele formasie of inoefening beteken om Jesus Christus te “embody” ( te beliggaam) in die wêreld. Dan werk ek soos suurdeeg, wat smaak en tekstuur gee aan die lewe met al sy pyn en seer.

Geestelike formasie vra waagmoed en ’n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ’n profetiese gemeenskap word, wat nie narsisties die kerk preserveer om maar net in stand gehou te word nie. Dit vra om  betrokke te raak by die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak.

Die kerk moet die wêreld in-“domino”. Die kerk moenie torings bou soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ’n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ’n beter plek maak. Die duiwel is altyd besig om aanskoulik opwaarts te bou (soos met die Toring van Babel). Die Here wil uitwaarts na die wêreld toe bou.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself in stand te hou nie. ’n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommerd as wat sy oor haarself bekommerd is. Die kerk moet ook leer om soos ’n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ’n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ensovoorts aangespreek word.

Daarom moet die kerk mense dissipels maak, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie en inoefening word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ’n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C.S. Lewis calls “little Christs.” (Leclerc)

John Wesley het spirituele formasie of inoefening verstaan as liefde wat in elke oomblik uitgestort word. Daarom vind spirituele formasie in die “kairos”-oomblikke plaas wanneer God uniek deur ons werk in ’n spesifieke konteks.

In spirituele formasie staan dissipelskap as ’n kernbegrip. Nominale Christene kan navolgers of leerlinge wees van Jesus Christus, maar dit maak nog nie van jou ’n dissipel nie. “Being a disciple or discipleship is another word for Christian spirituality and focuses on the transformation of the human person into the likeness of Jesus Christ.” (Leclerc)

Spirituele formasie of inoefening is ’n stuk bevryding van ’n stuk ongesonde ingebuigdheid van die self en eie ego. Dit is ’n stuk genesing soos wat Henri Nouwen in sy eie lewe ervaar het. Nouwen getuig as volg: “Spiritual formation prepares us for a life in which we move away from our fears, compulsions, resentments, and sorrows, to serve with joy and courage in the world, even when this leads us to places we would rather not go.”

Almal van ons het ’n begeerte om ’n verskil te maak en van dié wêreld ’n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.”

Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treetjies te gee, kan ek ’n verskil maak in die lewe. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant in die grond en moet ek die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om daadwerklik iets te doen in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in jou lewe.

Daar is die verhaal van Nicolaus Zinzendorf (26 Mei 1700 – 9 Mei 1760), wat ’n paar eeue gelede begin het met sy “mosterdsaadklub” terwyl hy op skool was. Zinzendorf het later een van die prominente sendelinge van die Morawiese Sendinggenootskap van sy tyd geword. Met sy sterk piëtistiese inslag het hy mense aangemoedig om minder rasioneel oor godsdiens te wees en eerder “godsdiens van die hart” te beoefen. Hy het klein begin en ’n groot verskil in sy tyd gemaak.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ’n verskil te bring in ons omgewing en konteks! Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na  een persoon uitgereik het, het ek in ’n jaar ’n verskil aan 365 lewens gemaak. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen word nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.

Iemand het eenmaal op die seestrand gestap waarlangs honderde stervisse uitgespoel het. Hy was besig om soos hy loop die visse een na die ander terug te gooi in die see. Iemand vra vir hom of hy mal is, want hy kan mos onmoontlik almal teruggooi. Die man sê toe, terwyl hy nog ’n stervis teruggooi: “Vir dié een het dit ’n verskil gebring.”

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus toets jou geloofskarakter

SKRIFLESING: Mat 15: 21 – 28

Integriteit is ’n belangrike konsep in Ingenieurswese. Enige konstruksie, of dit nou ’n pad, ’n brug, ’n gebou, ’n staalkonstruksie of ’n houtkonstruksie is, dit  moet oor sy eie inherente integriteit beskik.

’n Brug moet sterk genoeg wees sodat dit nie inmekaar val nie. Boumateriaal moet oor ’n sekere integriteit beskik, sodat dit duursaam is en voldoen aan die vereistes wat daaraan gestel word. Die gelykenis van die twee huise wat onderskeidelik op sand en rots gebou is, is ’n goeie voorbeeld van die integriteit van die fondament waarop die huise gebou is. Die huis op sand het geen integriteit gehad nie en het weggespoel. Die huis op die rots het ’n rotsvaste integriteit gehad en het staande gebly in die storms.

In ons skrifgedeelte (Mat 15: 21 – 28) lees ons hoedat Jesus die geloofsintegriteit van die Kanaänitiese vrou toets. Die vrou het ’n dogter gehad wat in die mag van die bose was.

Hierdie vrou het agter Jesus aangeloop en gesmeek dat Jesus haar dogter moet genees van die bose. Sy het aanhoudend geroep al agter Jesus aan. Die Here het haar geïgnoreer. Dit lyk heeltemal teenstrydig met die karakter van die Here Jesus. Ons leer Jesus ken as Iemand met deernis en liefde en omgee. Nou lees ons hoedat Jesus haar ignoreer. Die dissipels wil hê Jesus moet haar wegstuur, want sy loop agter hulle aan en skreeu. Dan antwoord Jesus weer teen die grein van Sy karakter in, as Hy sê dat Hy net gekom het vir die Jode. Die vrou het egter nou die aandag van die Here en sy val voor hom neer en smeek: “Here, help my!”

Dan antwoord die Here haar weer ’n keer afwysend: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Die woord “hondjies” verwys na die skeldnaam waarmee die Jode na die Kanaäniete verwys het, naamlik “honde”, omdat die Jode die Kanaäniete as onrein beskou het.

Dan antwoord die vrou op ’n verrassende wyse dat sy met die krummels van God se genade tevrede sal wees. Die hondjies eet immers die kos wat van die base se tafels afval.

Sy verneder haarself om die minste te wees en is tevrede om met “min” oor die weg te kom, as die Here net haar dogter kan gesond maak.

Waarom hanteer Jesus hierdie vrou so hardvogtig, sonder enige simpatie? Dit is mos nie die aard en karakter van die Here Jesus Christus nie. Ons wil as’t ware uitroep waarom die Here haar so hard behandel.

Die antwoord is eenvoudig. Hy wil haar geloof toets. Jesus wil die karakter van haar geloof toets. Soos wat produkte aan sekere gehalte-toetse onderwerp word om die SABS (Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde) merk te kry, word sy ook getoets. Die Here maak dit vir haar moeilik omdat Hy die egtheid van haar geloof wil toets.

Hierdie Kanaänitiese vrou slaag die toets loshande. Dan antwoord die Here haar en sê: “Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Die Here het haar beproef en sy het die geloofskaraktertoets geslaag.

Haar geloofsintegriteit het bo alles uitgestaan.

Ons moet verstaan dat die Here ’n mens beproef, maar dat die Satan jou versoek. In Jakobus 1 word die onderskeid gemaak tussen beproewinge en versoekings.

Somtyds kan beproewinge baie erg wees. Soms kan ’n mens voel om handdoek in te gooi, as gevolg van baie teleurstellings.

Dan moet ons volharding aanleer om die regte dinge te doen, selfs al word jy moedeloos. Jim Rohn skryf: “Rest, reset, restart, refocus.” Dit is waardevolle raad as ons somtyds in aanvegtinge ons fokus en rigting verloor. Jakobus sê as jou “geloof die toets deurstaan het”, help die beproewing jou om te volhard en tot volle geestelike rypheid te kom. Beproewing kom van die Here en dien tot jou heil. Dit is soos ystererts wat gelouter word, sodat vlekvrye staal gemaak kan word. Beproewing het te doen met swaarkry, wat uiteindelik tot jou loutering dien om geestelik volwasse te wees. Beproewing bou jou op.

Versoekinge, daarteenoor, kom van die duiwel en is daar om jou af te breek. Gewoonlik gaan versoekinge gepaard met aangename verlokkinge. Daarom sê Jakobus: “ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie, want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” (Jak 1: 13 – 14)

Jakobus noem beproewinge en versoekinge albei ’n “toets” Die een toets kom van die Here en die ander toets van die duiwel.

Dikwels wanneer ons erge droogte ervaar, beproef die Here ons geloof. Hy kyk van watter geloofsintegriteit ons gemaak is. Die Here toets of ons geloof sal staande bly ten spyte van aanvegtinge. Daarom moet ons in tye van aanvegtinge ons oë hoopvol op die Here fokus. Ons moet gelowig en aanhoudend soos die Kanaänitiese vrou by die Here aandring op die verhoring van ons gebed. Somtyds talm die Here omdat Hy ons geloofsintegriteit toets.

Dikwels word ons geloofsintegriteit ook uitgedaag deur die versoekinge van die duiwel. Die duiwel verlei ons om die wêreld lief te kry en slegs op die sienlike dinge staat te maak. Sodoende verloor ons gou moed en hoop.

Godsmanne en Godsvroue is mense met ’n deurleefde geloof. Hulle lewe word gekenmerk met geloofsintegriteit. Geloofsintegriteit het alles te doen met deursettingsvermoë. Hierdie Kanaänitiese vrou het met volharde deursettingsvermoë die Here heelpad gevolg. In die spesiale magte van die Weermag en Polisie, word rekrute ook onderwerp aan strawwe vasbyt-oefeninge, waar hulle staal en deursettingsvermoë getoets word. Slaag hulle die toets, word hulle opgeneem in die elite-eenhede van die Weermag en Polisie.

Die “Navy Seals” in Amerika het ’n goue klok. Wanneer jy opgee op die kursus moet jy net die goue klok lui. Dan is die strawwe beproewing verby en is jy af van die kursus. Die uitdaging is om nie die goue klok te lui nie. DON’T RING THE BELL.

So moet ons as gelowiges ook nie opgee wanneer ons deur beproewinge gaan nie. Ons moet volhardend volhou met geloofsintegriteit, sodat ons die geloofswedloop kan voltooi. Die lewe is nie maklik nie. Die lewe is vol toetse en uitdagings. Daarom moet ons die toetse en uitdagings sien as geleenthede om te groei in die Here. Die Here sal ons ook nie bokant ons vermoë beproef nie, want Hy weet ons is van stof en vol menslike gebrokenheid. Hy sal ons optel, voordat ons kragte ingee. Wat is die karakter en die integriteit van jou geloofslewe?

DON’T RING THE BELL.                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Om jou vyand tot skaamte te bring

SKRIFLESING: 1 Samuel 24: 1 – 23 en  Mat 5: 38 – 41

President Donald Trump se aanmoediging op Twitter op 6 Januarie 2021 dat sy

aanhangers die “Capital Hill” bestorm, getuig van ’n narsistiese diktator wat nie sy mag as president oor Amerika op daardie stadium wou verloor nie. Dit was ’n donker oomblik in die Amerikaanse geskiedenis. So was daar baie diktators in die geskiedenis van die wêreld wat nie wou afsien van hulle politieke mag nie.

Huidiglik is daar ’n magspel in die wêreld. Rusland wil Oekraine beset, vir meer grondgebied en hawens. Daar woed nou al ’n jarelange oorlog en Putin wil nie afsien van sy ideologie om Oekraine deel van Rusland te maak nie.

In die Midde-Ooste is daar ’n hewige oorlog tussen Israel en terroristiese organisasies soos Hamas en Hezbollah. Dit het begin toe Hamas op 7 Oktober 2023  meer as 1200 burgerlikes van Israel onskuldig gedood het in missielaanvalle. As vergelding het duisende onskuldige burgerlikes die afgelope maande in Palestina onnodig gesterf en Gaza is reeds tot die grond vernietig.

Die oorlog is nou besig om van Gaza na Iran en Libanon te verskuif. Die Midde-Ooste is tans ’n kookpot van emosies, wat kan ontaard in ’n hewige streekoorlog of selfs nog erger.   Hierdie oorloë beïnvloed die wêreldekonomie en bring onsekerheid in die stabiliteit van wêreldvrede. Ons voel die ekonomiese ineenstorting wat die oorloë veroorsaak aan ons eie sak.

So is daar ook gereeld konflik in huwelike, families, werksplekke, tussen vriende, in die kerk en in die samelewing. Ons noem dit sommer kortweg kantoorpolitiek, kerkpolitiek, werkspolitiek, politiek in boerdery of partypolitiek. “Hond eet hond” – so lui die spreekwoord mos.

In die Bybel lees ons van Saul, die eerste koning van Israel. Hy het al meer die Here bedroef met sy lewe, sodat die Here se guns oor hom begin wyk het. Dawid  het op die voorgrond getree – hy wat die gunsteling by God was om die koningskap van Israel by Saul oor te neem. Saul het dit besef en was daarom baie jaloers op Dawid. Van vroeg af het hy probeer om Dawid om die lewe te bring. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Saul vir Dawid met ’n spies wou doodgooi, terwyl hy onskuldig die harp bespeel het.

In 1 Samuel 24: 1 het Saul en sy manskappe teruggekom van ’n veldslag teen die Filistyne. Saul hoor toe dat Dawid in die En-Gediwoestyn is en hy stuur drie afdelings soldate, wat 3000 manskappe is, om vir Dawid as enkeling te soek om hom dood te maak. Bykans die hele Israelitiese weermag is op Dawid se spoor om sy lewe te beëindig. ’n Mens kan jou die angs, vrees en teleurstelling van Dawid indink.

Saul het sy soldate na die Klipbokrotse gestuur om vir Dawid te soek. Saul het intussen by ’n skaapkraal gekom met ’n grot daarby. Hy het ingegaan vir sy toiletbehoeftes. (Die Hebreeuse idioom in Hebreeus lees: hy het sy voete bedek.)

Maar Saul was onbewus daarvan dat Dawid en sy manskappe agter in die grot skuil. Dawid het toe nader gesluip en ’n stuk van Saul se bokleed afgesny. Toe Saul klaar was en buitentoe gaan, het Dawid in die grot se opening gaan staan en geroep: “My heer die koning!” Dawid het op sy knieë voor die koning neergeval. Dawid het toe gesê: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader,  kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem.”

Dan spreek Dawid met wysheid in vers 14: “ ‘Uit goddeloses   kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie.” Dawid weier om kwaad met kwaad te vergeld. Al word hy gesoek om doodgemaak te word, sal hy nie doodmaak nie. Hy is nie ’n goddelose nie, daarom kan goddeloosheid nie uit sy hart voortkom nie. Daarom word Dawid ook die man na aan die hart van God genoem, omdat hy so opreg is.

Dawid vergelyk homself met ’n dooie hond. Hy het geen kans teen die 3000 man van Saul nie. Dawid is nederig oor homself en beskou homself as ’n vlooi op ’n dooie hond. Saul agtervolg ’n vlooi op ’n dooie hond.

In ons wêreld word kwaad altyd met kwaad terug baklei. So word kwaad ’n bose kringloop. Jy vergeld diegene wat aan jou kwaad gedoen het. So hou die spiraal van geweld net aan en aan en word dit net al erger. Dit vra iemand om met ’n liefdesdaad ’n einde te maak aan die sinlose spiraal van geweld op geweld. Ons moet ook ons vyande se venyn teen ons begroet met liefde. Jy sal jou vyande vuurrooi van skaamte maak oor jou liefdevolle optrede.

Saul was aangedaan deur die liefdesdaad van Saul. Hy antwoord in vers 18 – 21: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom?  Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het.  En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.”

Die weldaad van Dawid verander Saul se harde hart. Hy erken dat Dawid ’n beter man is as hyself. Hy erken ook dat Dawid die statuur het om die volgende koning te wees van Israel. Dawid openbaar koninklike wysheid.

Wysheid soek nooit weerwraak nie. Wysheid soek vrede, nie oorlog nie. ’n Ware staatsman soek altyd die groter gemeenskaplike voordeel as sy eie selfsugtige ego.

Dawid het vir Saul skaam gemaak. So is ons as gelowiges ook geroep om nie geweld en haat aan te blaas nie, maar eerder om ons vyand skaam te maak vir hulle verkeerde gedrag teenoor jou. Dit is soos twee mense wat teen ’n deur aan weerskante beur. Skielik staan die een persoon terug en die ander een bars deur die deuropening en beland op die vloer, tot sy eie skaamte.

In Spreuke 15: 1 staan daar in die 1983 vertaling: “ ’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”

Wanneer die Here Jesus van sy volgelinge verwag om nooit terug te slaan nie, verwag Hy ’n baie swaar ding van ons. Om nie terug te slaan nie, kos leeuemoed. Daarom is die gelowige so anders as die ongelowige – want van die gelowige word moed gevra.

’n Voorbeeld van Joodse moed het hom in 26 n.C. afgespeel. Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, het opdrag gegee dat ’n beeld van die Romeinse keiser Claudius in die tempel in Jerusalem opgerig word. Die Jode het dit dadelik beskou as ’n afgodsbeeld wat in hulle tempel opgerig gaan word. Hulle het toe in groot massas opgeruk na Pilatus se paleis in Caesarea. Hulle het die paleis vir vyf dae en nagte omsingel deur doodeenvoudig te kniel. Uiteindelik het Pilatus ingestem om met hulle in die arena te gaan onderhandel. In die arena aangekom, vind hulle toe uit hulle is omsingel deur drie rye swaar gewapende Romeinse soldate, wat eis dat hulle die Romeinse gode moet aanbid. Die Jode het hul doodeenvoudig neergegooi voor die Romeinse soldate, hulle nekke ontbloot vir die swaarde van die Romeine en gesê dat hulle liewer doodgemaak sou word as om vreemde gode te aanbid. Verstom deur die moed en geloof van die Jode, het Pilatus opdrag gegee dat die beeld verwyder word.

Daarom, as die Here Jesus sê dat ’n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:

a) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.

Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ’n persoonlike geskil met iemand betrokke is.

Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ’n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ’n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ’n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ’n vernederende klap was. Dit is ’n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:

* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard,

* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.

Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.

Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word te gebruik, deur met die binnekant van jou hand te klap.  Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ’n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.

b) Gee ook jou boklere

Hierdie uitspraak het die Here gegee om daarop te wys hoe ’n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ’n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere.

Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.

Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ’n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ’n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ’n geweldige verleentheid wees om te aanskou hy het die mens kaal uitgetrek. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal!  Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die ou end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel uiteindelik skaam oor sy uitbuitery.

c) Dra dit ook ’n tweede kilometer

Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.

Dit was algemene gebruik dat soldate iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ’n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ’n tweede kilometer ook te dra. ’n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ’n kleinboer vir ’n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.

U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ’n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.          

In Spreuke 25: 22 staan daar in die 1983 vertaling: “Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.” In Rom 12: 20 staan daar in die 1983 vertaling: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”

Glimlag vir jou vyand.

Stuur blomme vir jou vyand.

Praat goed van jou vyande voor ander mense.

Doen goed aan jou vyand.

Soek die goeie in jou vyand en sê dit vir hom of haar.

Bevorder die belange van jou vyand.

Hoor die pragtige wysheid van Leo Tolstoj: “Betaal slegte mense met u goedheid; beveg hul haat met u vriendelikheid. Selfs as u nie ‘n oorwinning oor ander mense behaal nie, sal u uself oorwin.” – Leo Tolstoj

“I have but one candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light” – John Falconer

Geliefdes, moenie alles en almal probeer beveg nie. Dit dien geen doel nie. Spreek seën uit oor jou vyand, en jy sal deel in die seën wat jy oor hom of haar uitspreek.

Ons is geroep om vredemakers te wees. Dan sal ons kinders na aan die hart van God wees, soos Dawid ’n man na aan die hart van God was.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geseënd om te seën (Belydenisaflegging van Erich Johann Herbst)

’n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou roset gewen op die streeksbyeenkoms vir die beste mielieboer in die streek.

Elke jaar was sy mielies se gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld platgereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry, te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ’n dag vra ’n joernalis van ’n plaaslike koerant vir hom hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie  met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het? Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ’n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ’n goeie oes verkry. Dit is in my belang dat ek ook my bure moet seën, sodat ek geseën kan word.

Hoe nodig het ons nie so ’n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ’n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ’n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ’n land ryp word vir ’n rewolusie of erge opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” geskryf dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ’n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, die indiwidu en die besigheid, het ’n verantwoordelikheid om sy/haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander voorspoed moet gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood van my ego, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.

Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Erich, jy lê vandag ook belydenis van die geloof van die kerk af. Dit is nie jou geloof nie, dit is die geloof van die kerk. Maar God het aan jou hierdie geloof geskenk wat jy vanoggend ook gaan bely. ’n Belydenis in woorde moet ook oorgaan in ’n belydenis van lewe. Jy moet deur jou hele leeftyd onthou dat God jou seën, sodat jy tot seën kan wees vir ander. Jy moet tot seën wees vir jou ouers, jou familie, jou huwelik eendag en ook vir jou kinders eendag, en die kollegas met wie jy gaan saamwerk. Jy moet ook tot seën wees vir die gemeentes waarvan jy eendag lidmaat gaan wees. Nou moet jy vir Fort Beaufort-gemeente tot seën wees. Jy belowe dit immers vanoggend voor die hele gemeente. Jy moet tot seën wees vir alle mense wat oor jou pad kom. Daarom sê die Here moet ons ons naaste liefhê. Jou naaste is altyd die persoon wat op die tydstip fisies of geestelik die naaste aan jou is en jou nodig het. 

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel opgelig tot ’n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek.  Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.

Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die transformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.

Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ’n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.

Wanneer jy tot seën vir ander mense is, lewe jy uitwaarts en is gelukkig. Maar as jy slegs “inwaarts” lewe word jy ongelukkig en jou lewensvreugde verdwyn. Dan begin jy jou te bekommer oor jouself en nie oor die regte dinge in die lewe nie. 

Bekommernis kan lewensgevaarlik wees. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ’n sekere vrou. Die vrou was dodelik siek en het elke week na die dokter toe gegaan.

Elke dag moes sy duur medisyne gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword. Een koue wintersaand toe sy op pad is na die kafee om brood te koop, sien sy koerantverkopertjies besig om koerante te verkoop. Sonder truie en sonder skoene het hulle op en af gespring om warm te kry. Sy het hulle baie jammer gekry en dadelik sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand het sy rustig gaan slaap, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ’n geestesgesonde mens, want sy het geleer om van haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ’n saak wat groter as syself is. Toe sy vir haarself en vir haar eie klein wêreldjie geleef het, het alles vir haar te veel geword. Toe sy begin leef het vir ander en vir God se Koninkryk, het sy begin moed kry.

Daarom sê Mattheus 6: 25 – 34: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.

Verse 25 – 32 handel oor die mens se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek ’n slaaf word wat net leef en werk vir myself en bekommerd is oor mý behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste,  my geluk, my kinders of my huis vir my belangriker as God word,  is daar iets groots verkeerd. Wanneer ek my dankoffer swaar begin gee; wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer; wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam; wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis, is daar iets groots verkeerd. Wie so besig is om aan sy eie “empire”, sy eie koninkryk, te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.

Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come,” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” “Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort.” Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe. Dit beteken hoe langer, hoe meer onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, en my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke.

Vers 33 sê dat ons ook die wil van God moet najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie.

Ek sluit af: Verlang u na vrede in u hart? Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees. Al waaroor ’n mens bekommerd moet wees, is of ek ’n seën is vir God en my naaste.

Leef ’n lewe van betekenis. Dit is die hoogste sin van die lewe.

Erich, wees tot seën van alle mense wat oor jou pad kom. Wees goed vir mense. Wees betrokke by mense. Wees betrokke in die kerk van die Here Jesus Christus.

Here, laat u Koninkryk kom! Kom, Here Jesus. Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan u behoort.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort) 

Grafted on the rootstock and the shoots (children) grow, especially around the family table

SCRIPTURE READING: Rom 11: 16 – 24 and Proverbs 9:1 – 2

This morning Owen Barend van der Mescht is grafted onto Christ the rootstock.

He becomes part of Christ and all His benefits. It is not the child being baptized who makes the choice, so that one should become haughty about it. It is God who, out of free initiative, chooses Owen to become part of His salvation plan. It is not the branch or the shoot that bears the rootstock. It is the rootstock that bears the shoot.

But this inoculated child receiving baptism must live by the goodness of God. As great effort is made with the vaccination process, the parents must take their baptismal vow very seriously. It is a promise before God. I must lead my child to respond in faith to all the promises and commitments of the baptismal covenant.

John Calvin said that the two main elements of religious education should be love and strictness. Love breeds safety and strictness breeds security. With safety and security, a child has everything to enter a successful adult life one day. A young tree must also be constantly pruned to take shape.

If a Karree tree is left untended, it becomes a bush. When a Karree tree is constantly pruned, it becomes a beautiful tree under which you can sit and under which children can play. That is why the Lord also prunes us every day of our lives to become men of God and women of God. That is why a parent must also be prepared to ply the pruning shears, so that one day their children become well-developed young people. That is why disciplining your child is very important, especially in the Book of Proverbs in the Bible.

Psalm 1 speaks of a fruit tree planted by streams of water. The water currents make the fruit tree grow luxuriantly and the tree produces fruit in its time. In the same manner we must raise our children by the streams of water. They must be raised in the church. They must be brought up with Bible stories from the Children’s Bible. They must be brought up with catechesis. The parents must make an effort with their confirmation as members of the Church. They must grow up at Christian camps. You must raise your children in the gates of the Lord’s house. If they see that church attendance is important to their parents, they too will one day be diligent churchgoers and exemplary Christians. If they are raised like saplings by the streams, they too will bear fruit. The pastor Timotheus, for example, received his faith from his grandmother Loïs and his mother Eunice. Therefore, the purpose of baptism is that there should be a transfer of faith. So that the young children are incorporated into the community of faith.

It only takes one generation to raise a pagan. Raise your child without the Lord and you raise a heathen.

 Sometimes the storms of life will blow over your tree of life. But if your rootstock is Christ, there will always be a new shoot. You will receive new strength from the Lord every morning. As a rootstock is anchored in the ground, so you must be anchored in Christ Jesus, then you will be able to face the storms of life.

The grafting of your family into Christ the rootstock determines your family’s future.

What is the most important room in a house? What is the most important piece of furniture in the house? Surely the kitchen or dining room is the most important room in the house. The most important piece of furniture in the house is the kitchen table or the dining room table. Of course, I prefer the kitchen table. My first most precious childhood memories were when we had our meals together around a yellow kitchen table every night. I also remember how we used to spend time together at my grandfather and grandmother’s home in Strydenburg, around Grandmother’s kitchen table with the deliciously warm Aga stove nearby. It is burned into my memory.

Gathering around a kitchen table bring married couples, families and larger families together. It creates togetherness and warmth. Relationships grow around the kitchen table.

In early biblical times, people usually had only two meals. There was a brunch roughly between 10h00 and 11h00. People ate to gain strength for the day’s work. At the end of the day, the workers went home and had a feast every night. Then they chatted, ate, told stories, danced and drank wine. It was the highlight of every day. It is written in Psalms 23: 5(a), “You set a table for me”.

In Psalms 128:3 it says, “Your wife is like a fruitful vine in the inner rooms of your house. Your children are like olive trees around your table.”

Proverbs 9:1 – 2 reads, “Wisdom built her house, she carved out her seven pillars. She slaughtered her animals, mixed her wine, and also prepared her table.”

In the Passover tradition families ate the Passover meal together every Friday evening. The father of the house told his family each week why they celebrated the Passover. It was to celebrate their exodus from Egypt, the place of slavery.

In the New Testament the Passover was replaced with the Lord’s Supper, which is also a meal taken at a table. The Lord’s Supper binds the congregation in unity, to remember that Jesus Christ redeemed us from the slavery of sin.

The early church also regularly ate together every Sunday, the so-called common meal, to celebrate their inner connectedness to one another. This custom made the Christian church well-disposed in the community and their numbers increased.

You see, if the table tradition dies, then the quality of relationships dies.

The Bushmen’s “kitchen table” was to sit around the fire every night and tell stories, eat, mingle, tell legends and imitate animal sounds and movements. That is why the Bushman tradition has existed in Southern Africa for thousands of years. But unfortunately, the Bushmen people have westernized. They got televisions, they got cell phones and they got ovens. They no longer get together at Smits drift like their ancestors. The Bushman culture is dying out, because their fires (their kitchen table) no longer exist.

Before 1976, marriages and families were much healthier because there was no television or mobile phones or internet and technology. People were still spending time together talking around the kitchen table.

With the advent of television, people ate on trays in front of the television. With the advent of mobile phones, people are busier around the dinner table sending text messages than talking to each other. So, the kitchen table is neglected.

 Time around the kitchen table is sacred time. Those 45 minutes for dinner are sacred. The television program can either wait or be recorded. The mobile phone can easily be switched to silent mode. In those 45 minutes we give each other 100% of our attention. It makes marriages survive; it gives security to children. It creates quality time in relationships. These times become precious memories. Food is not made to be eaten alone. Food should be consumed in company and togetherness.

Prof Anna Fishel of the Harvard Medical School writes in “The Washington Post” as follows, “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviours.” She also explains that a lot of children’s misbehaviour is due to the fact that there was no kitchen table culture.

Children in particular are brought up around the dinner table. It’s not just about the food, but about the togetherness and relationships that are deepened and strengthened. Grafted on the rootstock and the shoots (children) grow, especially around the family table.

(Rev. Paul Odendaal is pastor of the NG Churches Adelaide and Fort Beaufort.)

Ingeënt op die wortelstok en die lote (kinders) groei, veral rondom die gesinstafel

SKRIFLESING: Rom 11: 16 – 24 en Spreuke 9:1 – 2

Vanoggend word Owen Barend van der Mescht ingeënt in Christus die wortelstok.

Hy kry deel aan Christus en al Sy weldade. Dit is nie die dopeling wat die keuse maak, sodat die mens daarom hoogmoedig moet raak nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief vir Owen kies om deel van Sy verlossing te word. Dit is nie die dopeling of die loot wat die wortelstok dra nie. Dit is die wortelstok wat die loot dra.

Maar hierdie ingeënte dopeling moet leef uit die goedheid van God. Soos wat daar groot moeite gedoen word met die inentingsproses, moet die doopouers groot erns maak met hulle doopbelofte. Dit is ’n belofte voor God. Ek moet my kind lei om in geloof te antwoord op al die verbintenisse en beloftes van die doopverbond.  

Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding liefde en strengheid  moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree. ’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem.

As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tug baie belangrik, veral volgens die Spreukeboek in die Bybel. 

Psalm 1 praat van ’n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met kategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe groot word. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome grootgemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus byvoorbeeld,  het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Dat die jong kindertjies ingelyf word in die geloofsgemeenskap.

Dit kos net een geslag om ’n heiden groot te maak. Maak jou kind sonder die Here groot en jy kweek ’n heiden.

Somtyds sal die storms van jou lewe jou lewensboompie omwaai. Maar as jou wortelstok Christus is, sal daar altyd weer ’n nuwe loot uitloop. Jy sal elke oggend weer nuwe krag van die Here ontvang. Soos ’n wortelstok geanker is in die grond, so moet jy geanker wees in Christus Jesus, dan sal jy die storms van die lewe kan trotseer.  

Die inenting van jou gesin in Christus die wortelstok, bepaal jou gesin se toekoms.                               

Wat is die belangrikste vertrek van ’n huis? Wat is die belangrikste meubelstuk in die huis? Verseker is die kombuis of eetkamer die belangrikste vertrek in die huis. Die belangrikste meubelstuk in die huis is die kombuistafel of die eetkamertafel. Ek verkies natuurlik die kombuistafel. My eerste kosbaarste kinderherinneringe was toe ons elke aand saamgeëet het rondom ’n geel kombuistafel. By my oupa en ouma se huis op Strydenburg het ons altyd om Ouma se kombuistafel gekuier met die heerlike warm Aga-stoof naby. Dit is ingebrand in my geheue.

Saamkuier rondom ’n kombuistafel bring huwelikspare, gesinne en families bymekaar. Dit skep samesyn en warmte. Verhoudings groei rondom die kombuistafel.

In die vroeë Bybelse tyd het mense gewoonlik net twee etes gehad. Daar was ’n noenontbyt omtrent so tussen 10h00 en 11h00. Mense het geëet om krag te kry vir die dag se werk. Aan die einde van die dag het die werkers huis toe gegaan en elke aand feesmaal gehou. Dan het hulle gekuier, geëet, stories vertel, gedans en wyn gedrink. Dit was die hoogtepunt van elke dag. Ps 23: 5(a) sê: “U dek vir my ’n tafel”. 

In Ps 128: 3 staan daar geskryf:  “Jou vrou is soos ’n vrugbare  wingerdstok in die binnekamers   van jou huis.   Jou kinders is soos olyfboompies   om jou tafel.”

In Spreuke 9:1 – 2 lees ons: “Wysheid het haar huis gebou,   sy het haar sewe pilare uitgekap.  Sy het haar slaggoed geslag,   haar wyn gemeng,   en ook haar tafel voorberei.”

In die Pasga-tradisie het gesinne elke Vrydagaand die Pasga-maaltyd saamgeëet. Dan het die pa van die huis elke keer vertel hoekom hulle die Pasga vier. Hulle vier die uittog uit Egipte, die plek van slawerny. In die Nuwe Testament is die Pasga vervang met die Nagmaal, wat ook ’n ete aan ’n tafel is. Die Nagmaalstafel bind die gemeente tot ’n eenheid, om te gedenk dat Jesus Christus ons uit die slawerny van sonde verlos het.

Die vroeë kerk het ook gereeld elke Sondag die gemeenskaplike maaltyd saamgeëet om hulle innerlike verbondenheid aan mekaar te vier. Hierdie gebruik het die gemeenskap goedgesind gemaak teenoor die Christelike kerk en gevolglik het hulle getalle gestyg.

U sien, as die tafeltradisie sterf, dan sterf die kwaliteit van verhoudinge.

Die Boesmans se “kombuistafel” was om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories vertel,  eet, kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider-Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwester. Hulle het oonde,  televisies en selfone gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.

Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone of internet en tegnologie  nie. Mense het nog gekuier rondom die kombuistafel. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie geëet. Met die begin van selfoontegnologie is mense meer besig om teksboodskappe te stuur om die etenstafel as om te gesels. So word die kombuistafel verwaarloos. 

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar in stil modus geplaas word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef, en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof Anna Fishel  van die Harvard Medical School skryf in The Washington Post as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders daaraan te wyte is dat daar nie ’n kombuistafel-kultuur was nie.

Kinders word in die besonder rondom die etenstafel grootgemaak. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Ingeënt op die wortelstok en die lote (kinders)  groei, veral rondom die gesinstafel.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Tente maak plek vir ewige wonings – Cecil Rieck se troosdiens

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Cecil het nog sewe genadejare bygekry.

Maar die afgelope paar maande het ons gesien hoe Cecil se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Sy liggaam en verstand het verswak en die tent het begin skeur. Cecil se tentwoning ineengestort en het hy ’n permanente woning gekry by sy hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word aan die einde van die dag eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

In Psalm 23: 5 staan daar ook:  “My beker loop oor.” In hierdie wêreld is ons beker altyd drie-kwart vol as dit goed gaan, of halfpad-vol as dit gemiddeld gaan en ’n kwart-vol of minder as dit sleg gaan. Elke dag vul die Here ons lewensbeker, met nuwe lewenskrag en versorging. Maar in die hiernamaals loop ons beker oor. Ons het van niks meer tekort nie. Cecil het nou van niks meer te kort nie. Alles wat hy nodig het, is nou in oormaat. Hy kort nie meer  gesondheid, finansies, versorging of sekuriteit nie. Alles wat hy verlang en aan behoefte het, het hy nou in oorvloed.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.”

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Cecil Rieck het nie die ewige dood gesterf nie. Hy is veilig by die Here.

Die skielike en vinnige aftakeling van sy liggaamlike en verstandelike gesondheid was vir  almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat hy verdere lyding en agteruitgang gespaar is, deur sy dood. Ons is verheug dat hy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Cecil Rieck se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier sy lewe. Ons vier sy nagedagtenis. Mag hy altyd in ons gedagtes voortleef.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Christus Jesus sluit alle mense in, wat ons afskyf

SKRIFLESING: Joh 4: 1 – 42

Niemand hou van ’n snob nie. Want ’n snob dink mos altyd hy is beter as ’n ander een. ’n Snob plaas homself altyd op ’n hoër trappie. Joodse snobisme het in die Bybelse tyd baie voorgekom. Hulle het hulself op ’n hoër trappie as ander volke geplaas. Ja, hulle was hoogmoedig teenoor die Samaritane en ander volkere. Hulle het na die uiterlike geoordeel.

Johannes 4: 1 – 42 bied verskillende perspektiewe. Ons gaan nou na een van hierdie perspektiewe kyk. Johannes 4: 1 – 42 wil vir ons sê: CHRISTUS JESUS SLUIT MENSE IN WAT ONS AFSKRYF.

In Joh 4 lees ons van Jesus wat op reis was. En dan vertel Joh 4 ons van ’n sekere gesprek wat Jesus met ’n sekere Samaritaanse vrou aangeknoop het daar in die land Samaria in die dorpie Sigar. Sien die volgende in u geestesoog. Dit was 12h00 in die middag. Jesus is moeg en wag by die put vir sy dissipels wat op pad dorp toe is om kos te koop. Die vrou moes in die middag na die put toe gaan, want sy was een van die onwelvoeglike vroue van Sigar. Die gerespekteerde vroue het in die oggend vroeg put toe gegaan, terwyl dit nog koel is, maar sy moes haar beurt laaste afwag. Dan lees ons van ’n soekende Jesus daar by die put, wat dateer uit Jakob se tyd, wat ’n gesprek met die vrou aanknoop. Voorwaar ’n vreemde gesprek. Jesus het hom nou nie juis hier in ordentlike geselskap bevind nie.

Jesus, die ordentlike Jood, is in gesprek met die mees onordentlike heiden. Ons wil eintlik uitroep: “Here, skaam u u nie om met hierdie vrou te praat nie?” Want daar was vier dinge wat teen haar getel het daar by die put.

(Put van Jakob)

  1. Haar geslag
  2. Haar afkoms
  3. Haar sondige verlede
  4. Haar godsdienstige oortuiging

Eerstens was sy ’n vrou. In daardie tyd was dit onbetaamlik vir ’n man om in die openbaar met ’n vrou te gesels. ’n Vrou was haar man se besitting en sy moes gesien en nie gehoor word nie. Dit het ’n man se eer aangetas as hy in die openbaar met ’n vrou sou gesels. Maar Jesus praat met haar in die openbaar. Jesus sien ’n onbenullige vrou raak wat geen regte in die destydse samelewing gehad het nie. Jesus soek haar op.

Tweedens lees ons dat die vrou ’n Samaritaan was. Haar afkoms was dus ook teen haar. Die Jode het van die Samaritane as “honde” gepraat. En hier praat Jesus die Jood met hierdie hond van ’n Samaritaanse vrou. In plaas van hierdie hond weg te jaag, praat hy met haar oor die dinge van die ewige lewe.

Derdens lees ons dat Jesus ook verby haar agtergrond en sondige verlede kyk. Want hierdie vrou was nou nie juis ’n goeie vrou nie. Die huwelikswet van daardie tyd het bepaal dat ’n vrou slegs drie keer mag trou. Daarna is dit vir haar onbetaamlik. Hierdie vrou het egter al vyf mans gehad en ons lees in vers 18 dat sy sommer saamwoon met die sesde man, sonder om getroud te wees. Voorwaar ’n lekker skinderstorie, want sondig was hierdie vrou beslis! Maar Jesus praat met hierdie vrou met haar swak sedelike lewe.

Vierdens was hierdie vrou van ’n ander godsdienstige oortuiging as die Jode. Die Samaritane het op die berg aanbid en die Jode het in die tempel in Jerusalem aanbid. Daar was dus ’n duidelike godsdienstige verskil in aanbidding tussen die Jode en die Samaritane. Desnieteenstaande die verskil van godsdienstige oortuigings, praat die Here met haar oor die ewige geestelike water.

U sien dus dat Jesus verby haar geslag, haar afkoms, haar sondige verlede en haar geestelike oortuigings gekyk het en háár raakgesien het. Ja, die stukkende vrou, die klein mensie by die put, het Hy raakgesien.

Met alle respek: Jesus Christus is geen snob nie! Sy optrede het juis die godsdienstige snobisme van die Jode kontrasteer. Iemand is vir ons aanvaarbaar as die persoon aan al die vereistes voldoen wat ons soek. Geslag, afkoms, ’n goeie verlede of geestelike oortuigings speel ’n rol vir ons. Die Evangelie trek egter ’n streep deur alle snobisme. God sien hierdie Samaritaanse vrou raak, met al haar tekortkominge en betoon liefde aan haar. Net so kyk God verby my geslag, my afkoms, my sondes, my tekortkominge en geestelike oortuigings. God sien my raak soos ek is.

Johannes 4 vertel ons van ’n liefdevolle God wat bemoeienis met mense soos ek en jy maak. Weet dan vandag, al tel alles teen u – u tekortkominge, u agtergrond, u sonde, u verlede of u skandes – God is nooit teen u nie. Hy soek u by die wanhoopsput van u lewe. Jesus het Sy hande uitgesteek na die Samaritaanse vrou, die egbreeksters, tollenaars, siekes en melaatses en na sondaars.

Daarom moet die kerk van Jesus Christus ook bereid wees om haar hande uit te steek na prostitute, na die mense wat stink, na armes, na straatkinders en na sondaars. Ons mag nie bang wees om ons hande vuil te maak nie.

Ons moet leer om verby ’n persoon se geslag, afkoms, taal, kultuur, sondige verlede en geestelike oortuiging te kyk. Ons moet onsself nie blindstaar teen die vraag of iemand vir ons sosiaal aanvaarbaar is nie. ’n Christen mag geen ruimte laat in sy lewe vir godsdienstige snobisme nie.

Jesus Christus het die Lewende Water aangebied ongeag wie of wat die persoon is. Christus Jesus het Sy hande vuil gemaak met ons sonde en lewensnood. Snobisme is geen Christelike deug nie – dit kom van die duiwel. Daarom moet ons dit beveg in ons lewe.

Dan lees ons van die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou. Hoe tipies mens.

Wanneer Jesus aan die vrou die lewende water van die ewige lewe aanbied, dan dink sy vanuit ’n gerieflikheidsoogpunt: A, dis die einde van die stappery put toe. Nooit sal sy weer hoef water te skep nie. Die Here belowe aan haar die hemel en sy is bekommerd oor die aarde. Die Here belowe aan haar die hemelse water en sy is bekommerd oor water vir haar huis en diere.

Toe sy uiteindelik besef dat Jesus met haar wil praat oor haar godsdiens, toe blyk dit dat sy haar godsdiens net beleef as ’n plek waar sy aanbid. In vers 20 lees ons dat haar godsdiens bestaan uit ’n berg waar aanbid word.

Sy sê dat die Samaritane ’n berg soek om te aanbid en die Jode soek Jerusalem om te aanbid. Vir baie van ons bestaan ons godsdiens ook uit ’n plek of geleentheid waar ons aanbid. Vir baie bestaan hulle godsdiens uit ’n kerkgebou, ’n erediens op ’n Sondag of ’n biduur.

Dit is egter blote vormgodsdiens. Jesus Christus wil hierdie vrou bevry van vormgodsdiens. Hy wys haar toe daarop dat ware, egte godsdiens nie in ’n plek gevind word nie, maar in ’n Persoon, naamlik Christus die Messias. Ware godsdiens is ’n persoonlike verhouding met die lewende Here! U sien dus: ware godsdiens bestaan nie uit ’n plek waar aanbid word nie, ook nie uit ’n klomp moets en moenies nie. Dit gaan om ’n Persoon, naamlik Christus, die Messias. Alleen Hy is die Lewende Water en alleen Hy kan my verlos en my ewige dors les.

Die wonderlike uitkoms van die verhaal is dat die vrou wat deur haar gemeenskap uitgestoot is, die dorp Sigar red toe sy ’n getuie word van haar ontmoeting met die lewende Christus. Sy wat uitgestoot is deur haar dorp, tree nou inklusief op en vertel haar dorp van die wonderlike ontmoeting met Jesus.

Ons mensdom tree uiters eksklusief op, terwyl Jesus ons leer om inklusief te dink en op te tree teenoor vreemdelinge en mense wat anders as ons is. Wie inklusief leef, is dan ook goeie missionale werkers in God se akkers. Wie inklusief optree, verstaan iets van die hart van God en van die liefde van Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Olie en water meng nie

Skriflesing:  Daniël 1: 1 – 21

Wanneer ’n mens ’n paar druppels wit verf in ’n drom met rooi verf gooi, sal die enkele druppels geen verskil maak aan die rooi kleur van die verf nie. Die meerderheid sal die minderheid verswelg. So word dit ook in ons skrifgedeelte verwag. So was dit in die derde jaar van koning Jojakim van Juda dat Nebukadneser Jerusalem beleër het. Nie net het Nebukadneser tempelgereedskap van Jerusalem na Sinar geneem nie. Hy het dit geplaas in sy eie god se tempel se voorraadkamer.

Maar ons lees hy het ook Israelitiese jongmanne as slawe saam met hom na Babel toe geneem. Die koning het toe vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte, beveel om vir hom die beste, gesondste en mees vooraanstaande Israelitiese jongmanne na die paleis te bring, sodat hulle opgelei kan word om in diens van die koning te staan.

  • Hulle moes drie jaar onderrig word in die Babilonieërs se gewoontes en gebruike.
  • Hulle moes die Galdeërs se skrif en taal ook aanleer.
  • Hulle moes elke dag die kos en die wyn van die koning eet.

Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Maar die hoofpaleisbeampte het hulle ander name gegee: Daniël het geword Beltsasar, Gananja het geword Sadrag, Misael het geword Mesag en Asarja het geword Abednego.

Daniël (Beltsasar) is vernoem na  Bel, die hoofgod van die Babilonieërs. Die ander drie jongmanne is vernoem na die Babiloniese gode van son, aarde en vuur. Al vier het dus heidense name gekry, dié van heidense gode. Die doel van Nebukadnesar was dat die vier jongmanne uiteindelik volbloed Babilonieërs sal word wat ook die Babiloniese gode sal aanbid. Dit is net te wagte dat die vier jongmanne, omdat hulle die minderheid is, later sal word soos die meerderheid. Hulle is bestem om volbloed Babiloneërs te word.

In Suid-Afrika is Godvresende Christene ook in die verre minderheid. Dit sien jy in die kerkbesoek van Christene van alle kerke in  ons land. Ek praat nie van naam-Christene, wie se name net in die boeke van die kerk opgeteken staan nie. Ek bedoel Godvresende Christene vir wie kerkbywoning en die nakom van God se wet nog belangrik is. Dikwels gebeur dit dat eens warm Christene later lou word en later koud en later yskoud.

Verwêreldliking geskied nie oornag nie. Die minderheid word nie oornag soos die meerderheid nie. Dit is ’n geleidelike proses.

As ’n padda onmiddellik in warm water gegooi word, sal die padda dadelik uitspring.

Maar as die water geleidelik opgewarm  word, sal die padda dit nie eens agterkom nie en homself doodbrand. Die wêreld spoel die kerk binne, in plaas daarvan dat die kerk die wêreld inspoel. Morele waardes van die wêreld  het heeltemal verkrummel. Christelike standaarde het getuimel. Humanisme het die kerk geïnfiltreer en gesaboteer.

Maar met Daniël en sy drie vriende was dit anders. Olie en water meng nie. So het Daniël en sy drie vriende nie geswig onder die druk om aan die meerderheid toe te gee nie. Daniël en sy drie vriende het hulle nie verontreinig deur die wyn en kos te eet wat aan afgode gewy was nie. Hulle sou net groente eet en water  drink. Na ’n proefneming van tien dae het hulle voorkoms beter gelyk as die res van die jongmanne. Na die tyd wat die koning bepaal het, is die jongmanne na die koning gebring. Die koning het niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle was beter as die towenaars en waarsêers. Hulle het toe in diens van die koning getree.

Maar onthou, hulle was in die wêreld van Nebukadnesar, maar nie van die wêreld van Nebukadnesar nie.  Hulle het nog die ware God van Israel aanbid. Sedrag, Mesag en Abednego het byvoorbeeld in Dan 3: 1 – 30 nie gebuig voor die 30-meter hoë afgodsbeeld in Duradal, wat ’n provinsie van Babel was nie.

Hulle is in ’n brandende vuuroond gegooi. Hulle het ongedeerd uit  die vuuroond gestap, met die reddende hand van die Here. Die Here het ’n engel gestuur om saam met hulle in die vuuroond te wees.

Onthou daarom, ons is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Daarom leef ons anders. Daarom staan ons uit. Dit beteken daarom dat ons ook dikwels bespotting en lyding sal moet verduur, ter wille van die Evangelie. Daarom lees ons het Daniël en al drie sy vriende ook erge lyding verduur, ter wille van hulle gehoorsaamheid en toewyding aan die Here.

Ons lees ook dat Daniël in koning Darius se tyd drie keer per dag tot God gebid het met sy aangesig na Jerusalem (Dan 6: 1 – 29). Die goewerneur-generaals en ministers het jaloers geword op Daniël en het iets gesoek om hom voor die koning aan te kla. Hulle kon dit net vind in sy godsdiens.

Verder was sy lewe en werk onberispelik. Toe hulle hom uitvang in sy godsdiens het hulle hom by die koning gaan aankla en dié het hom baie teensinnig in die leeukuil gegooi. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit en Daniël het die volgende môre nie eers ’n skrapie aan hom gehad nie.

Olie en water meng nie. Kerk en wêreld meng nie. Christendom en afgodery/ vreemde godsdienste meng nie.’n Afgewaterde Christen is geen Christen nie. ’n Afgewaterde geloof is geen geloof nie.

Wat dikwels gebeur in die swart kultuur is dat die meerderheid swart gelowiges vashou beide aan Christus en aan hulle voorouerverering. Dit noem ons in die teologie “sinkretisme”.   Dit is heeltemal verkeerd. Die Evangelie en voorouerverering kan nie saamloop nie. Jy moet ’n besliste keuse maak. Daarom moet ons vir ons swart medegelowiges bid, dat hulle net aan die Evangelie sal vashou. Olie en water meng nie.  

Daarom mag ons nie meng met hierdie wêreld nie. Ons as Christene is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Net so was Daniël en sy drie vriende in die heidense wêreld van koning Nebukadnesar, maar hulle het nie gemeng met die gewoontes en godsdienste van die Babiloniese ryk nie.

Olie en water meng nie!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Lewensvervulling beteken om tyd sinvol te gebruik

SKRIFLESING: Job 9: 25 – 26 en Pred 3: 1 – 22

Veronderstel iemand sou u die keuse gee om tien of twintig jaar jonger te word, wat sou u keuse wees? Ek sal beslis nie kies om jonger te word nie. Want sien, tyd bring insig, lewensrypheid en wysheid. Om jonger te word, sou vir my beteken om agteruit te boer. Juis daarom moet ons ons nie daaroor verknies dat die tyd aanstap en ons ouer word nie.

Om ouer te word is nie vir my ’n probleem nie. Wat wel vir my ’n probleem is, is die spoed en tempo waarteen tyd verloop. Job beskryf die spoed waarteen sy lewensdae korter word in hoofstuk 9: verse 25 – 26 as volg: “My dae skiet vinniger as ’n naelloper verby sonder dat ek iets goeds beleef, hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote, soos ’n arend wat afskiet op sy prooi.” Toe my jongste seun Johannes nog baie klein was, sê hy eendag vir my: “Pappa, ek is nog klein, ek gaan nog lank leef. Wanneer ek groot is, is pappa al ’n oupa.” Toe ek jonk was, het ek ook so gedink, gedink die lewe lê lank en oneindig voor jou. Helaas moet ek ook soos Job en Prediker sê dat die tyd vinnig verby skiet. Juis daarom is Job en Prediker se raad dat ons spaarsamig met die tyd moet omgaan. Ons moenie tyd verkwis op nietighede nie. Eintlik kan ons ook nie op tyd spaar nie, ’n mens moet net jou tyd verantwoordelik bestuur en met die regte prioriteite lewe.

Chris Jones vertel van die oom wat een Saterdagoggend op ’n radio-onderhoud die volgende vertel. Toe hy 55 jaar oud was, het hy baie oor sy lewe nagedink. Hy het vir homself gesê dat die gemiddelde manspersoon ongeveer 75 jaar oud word. Sommige word ouer en ander sterf vroeër, maar kom ons werk op die gemiddelde. In so ’n geval het iemand 3900 Saterdae in sy lewe tot sy beskikking. Hy was reeds 55 jaar oud en dus het hy alreeds 2860 Saterdae opgeleef. Hy het nog ongeveer 1040 Saterdae oor, sou hy 75 jaar oud word.

Hy het daar en dan winkel toe gery en 1040 albasters gekoop en dit in die glasfles gesit. Elke Saterdag het hy een albaster uitgehaal en weggegooi. Die oom het in die afsluiting van die radio-onderhoud gesê dat, terwyl die albasters elke Saterdag verminder het, hy hom al meer ingestel het om met wysheid te lewe, maar ook met die regte prioriteite.

Terwyl ons lewe verganklik en onseker is, roep die Here vir ons op om sinvol te lewe. Ja, om sin te gee aan die lewe. Die Here wil hê ons moet ons lewe opleef en elke dag voluit lewe. Juis daarom sê Prediker in hoofstuk 3: 22 die volgende: “Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk, dit is wat jou toekom.” Nog verder sê Prediker in hoofstuk 9: 7 – 9 die volgende: “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n blye gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet …” Vers 10 het ’n verdere opdrag: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen …” Met ander woorde, ons word opgeroep om met oorgawe te lewe. In Latyn is daar die spreuk: “Carpe Diem”, wat beteken “om die dag te gryp”. Dit beteken om in alles ’n geleentheid te sien of ’n geleentheid te skep.

Mense wat ’n vol, vervulde lewe gelewe het, sterf baie makliker en mooier as mense wat hulself nog op hulle sterfbed kwalik neem omdat hulle hul lewensdae gemors het op nietighede. Daarom leer die Here Jesus vir ons om na die lewe te kyk vanuit die perspektief van die dood. Eers as jy jou verganklikheid besef en erken, kan jy leer om vreugdevol en sinvol te lewe.

Tydsbestuur bly die meeste van ons se probleem. Daar word vertel van die dosent wat op ’n dag vir sy klas studente ’n demonstrasie wou gee oor tydsbestuur. Hy het ’n groot glasfles geneem en dit vol groot klippe gepak. Hy vra toe vir die klas of die fles versadig is. Tot hulle verbasing, gooi hy daarna ’n klomp gruis in en skud die fles. Daarna gooi hy nog fyn sand by en skud die fles en laastens gooi hy ook nog water in. Alles pas mooi in die fles.

Toe hy dieselfde inhoud van klippe, gruis, sand en water gebruik en die eksperiment omkeer en eers die water, toe die sand, daarna die gruis en laastens die klippe inpak, kom amper nie die helfte van dieselfde inhoud in die fles nie. Net so, verklaar die dosent, moet ’n mens altyd in jou lewe begin met die groot klippe, die belangrikste prioriteite in jou lewe, en dan sal daar nog plek wees vir die alledaagse nietighede. Maar wie sy lewe verspil op nietighede, mis die groot en belangrike prioriteite in sy lewe.

As ’n mens die Bybel goed bestudeer kom jy agter dat verhoudinge vir die Here baie belangrik is. Jou verhoudinge met God, jou lewensmaat, kinders en met die mense op jou pad is vir God van kardinale belang. Vir die Here is ook jou daaglikse werk baie belangrik. Juis daarom is ’n mens se werk nie maar net iets wat ’n inkomste inbring nie, maar ’n roeping. Juis daarom roep die Here ons op om elke dag kwaliteit by te voeg tot ons huwelike, ons kinders se opvoeding, ons medemens en ons lewensroeping om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak. Dit gaan daarom nie soseer oor wat ek uitkry uit die lewe nie, maar dit wat ek insit in die lewe. Die lewe gaan nie slegs daaroor om te ontvang nie, maar om te gee. Dít bepaal lewenskwaliteit en sin in die lewe.

Ons lewensmaat is net aan ons geleen. Omdat ons nie weet hoe lank hierdie tyd is nie, moet ’n mens die mooiste daarvan probeer maak. “Geniet jou vrou …” sê Prediker. Ja, ek moet my man of my vrou weer mooi en gelukkig aan die Here teruggee.

’n Mens se kind verlaat die huis op ongeveer agtienjarige ouderdom. Laat ons uitwerk hoeveel Saterdae, hoeveel albasters is in my fles om my kind te koester en met wysheid te beïnvloed. Ek werk uit: ’n skamele 936 Saterdae. Juis daarom moet ons tyd maak vir ons kinders. ’n Gemiddelde loopbaan duur ongeveer 40 jaar, met ander woorde 2080 Saterdae. Ek het net 2080 weke om deur my loopbaan van hierdie wêreld ’n beter plek te maak.

Eers wanneer ek deur die kortstondigheid van hierdie lewe getref word, besef ek daar is ’n tyd vir alles. Juis daarom moet ek met oorgawe lewe, myself ontwikkel en my talente gebruik. Ek moet geluk vind in my lewensmaat, my kinders en met die mense op my pad. My werk moet my roeping word.

Ja, ek moet mooi lewe, ’n regverdige lewe nastreef en God se wil bo alles soek. Dit sal my gelukkig maak en vir my sin in my lewe gee. Luister hoe sluit Prediker sy boek af in hoofstuk 11 vers 13: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie.”

Eers as ek so ’n vol, mooi en regverdige lewe gelei het en kwaliteit toegevoeg het tot my lewensmaat, kinders en die mense op my lewenspad, kan ek met vreugde sterf. As ek my loopbaan beskou as ’n roeping en daardeur kwaliteit toevoeg tot die lewe, kan ek eendag, oor ’n aantal Saterdae vorentoe, in vrede bid op my sterfbed, die gebed van die kerkvaders: “ In U hande gee ek my gees oor!”

Soos jy gelewe het, so sal jy ook eendag sterf.    AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)