Jesus skep vir Hom ‘n familie aan die kruis

SKRIFLESING: Joh 19: 26 – 27

In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien hoe familielede wat jare laas met mekaar gepraat het, by die sterfbed weer die ou familiebande optel en met mekaar versoen raak. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.

Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet … so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.

Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke- of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.

So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer.  Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap of gemeente. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente.  Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was.   Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b:   … maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.

Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag leer ons ook hoedat Jesus ’n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ’n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling-dissipel, het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord tussen 09h00 en 12h00.

Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Maria en Johannes in ’n nuwe moeder-en-seun verhouding.

Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ’n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ’n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ’n geestelike familie.

Jare gelede was dit gebruik dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hulself elkeen met ’n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het. Dit  was die teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers”. Aan die kruis was dit nie nodig dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ’n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Daar staan verder in Johannes 19:27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ’n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in hulle midde as broers en susters van mekaar.

Die hartseer van die Christelike kerk is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ’n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ’n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie. Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ’n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem, en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ’n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees (1 Kor 12). Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ’n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ’n los steen, wat nutteloos buite die gebou rondlê.

Daarom het ons die verantwoordelikheid om by kerkbyeenkomste na die persoon toe te gaan wat ons die swakste ken en wat dalk ’n vreemdeling is en hom of haar te verwelkom en beter te leer ken. Dit is Christelike gasvryheid, wat mense verwelkom in die gemeenskap van gelowiges.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID myself afsonder op ’n eiland nie. Dan is ek doodeenvoudig nie ’n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos of ’n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.

Netso kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle mede-kerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ’n plek van sondaars is. Die kerk is ’n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter as ek nie my mede-kerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al nie.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

Vanoggend vier ons die heilige Nagmaal. Die brood bestaan uit baie graankorrels wat gemaal is om een brood van te maak. Die wyn bestaan uit baie druiwekorrels wat saam gepers is om een glasie wyn te maak. So is God se kinders ook gemaal en gepers in Jesus se sterwe en opstanding om EEN HEILIGE ALGEMENE KERK te wees. Ons hoort bymekaar, want Jesus het ons gemaal en gepers om een geloofsgemeenskap te wees.

As u mooi kyk na die viering van die Nagmaal, gaan daar brood en wyn oorbly. Dit is bedoel vir die vreemdeling wat nog moet inskakel in die geloofsgemeenskap. Daarom moet die Here se kerk gasvry wees, om vreemdelinge te ontvang en welkom te laat voel.

Die kruis van Christus is soos ’n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ’n magneet na mekaar toe, om ’n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan. Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede-gelowige toe trek.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Engele is soms sonder vlerke

SKRIFLESING: Hebreërs 13:2

Die Ou Testamentikus Claus Westermann het ’n boekie oor engele geskryf met die titel Gottes Engel brauchen keine Flügel God se engele het nie vlerke nodig nie. Dié boek het baie herdrukke beleef. Hy toon aan dat in verskillende tydvlakke van die Bybel, die Godsvolk verskillend oor engele praat. 

Daarom kan ’n mens ook nie iets soos ’n leerstuk oor engele formuleer nie. Die Bybel stel nie in engele belang nie, maar in God.  Engele is slegs boodskappers van God. Engele is God se helpers en somtyds God se draers van boodskappe in mensetaal. Westermann sê daarvoor het hulle nie altyd vlerke nodig nie.

In die pragtige Psalm 91 lees ons dat God Sy engele opdrag sal gee om ons te beskerm. Dit lees in vers 11 as volg: Want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. In Daniël 3: 28 lees ons van die engel wat saam met Daniël se vriende in die vuuroond was. Daar staan: Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê:  “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het … In Dan 6: 23 lees ons hoedat die engel die bek van die leeus gesluit het en vir Daniël beskerm het. Daar staan: My God het sy engel gestuur en Hy het die bekke van die leeus gesluit, sodat hulle my geen leed kon aandoen nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is.

Die Bybel is vol getuienis van die werking van engele in mense se lewens. Ons moet egter onthou dat engele slegs die instrumente van God is. Daarom mag ons hulle nie aanroep of aanbid nie. Ons roep die Here aan en Hy sal sy engele stuur om ons te bewaar en te beskerm.

Dit is merkwaardig hoe dikwels mense engele nie herken het nie, maar dat engele in gewone gestaltes (vlees-en-bloed engele) aan mense verskyn het.

In Gen 18 het Abraham by Mamre gesit en drie manne sien naderkom. Hy het hulle slegs as besoekers herken en hulle met tipiese Ou Testamentiese gasvryheid bederf. Toe die drie manne vir hom en Sarah die boodskap bring dat hulle in hulle gevorderde ouderdom oor ’n jaar ’n seun in die wêreld sou bring, het Sarah selfs daaroor gelag. Hulle het die drie manne nie herken as engele nie. Want die drie manne het nie vlerke gehad nie. Hulle was tipies geklee soos Midde-Oosterse  mans.

Dirkie Smit skryf dat mense dikwels eers later besef dat dit engele was wat hulle bygestaan, vertroos of bemoedig het.

In die Nuwe Testament word daar meestal van engele gepraat by die hoogtepunte van Jesus Christus se lewe. Maar die engele wys altyd heen na Christus, in wie God nader as ooit aan ons gekom het in ’n vleeslike gestalte, aldus Dirkie Smit.

In Hebreërs 13:2 staan daar: Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.

Abraham en Sarah het ook nie geweet hulle ontvang engele nie. Hierdie engele het vir hulle ’n goeie boodskap van ’n seun gebring. Net so moet ons alle mense ontvang met gasvryheid. Ons kan dalk net ’n engel ontvang en ons weet dit nie.

In Mat 25: 35 – 46 staan daar: 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.” 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: “Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?  39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?” 40En die Koning sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”41Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.” 44Dan sal hulle ook antwoord: “Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?” 45En Hy sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” 46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.

Wat belangrik is, is dat ons dikwels deur engele besoek word in gewone menslike gestaltes. Dit kan iemand wees wat ons bemoedig of in nood help. Dit is al die vreemde gestaltes waarin God aan ons verskyn. Dikwels sal die engel wat ons help, menslik wees. Ons almal het ervarings van hoe mense ons onverwags gehelp het. Of hoedat mense in ons donkerste uur vir ons lig gebring het. Was dit nie miskien ’n engel nie?

Ek onthou baie jare gelede was ons jongste seun Johannes baie siek. Hy het buitengewone hoë koors gehad. Hy is opgeneem in een van Kimberley se privaathospitale. Hy is ontslaan, maar die koors het nog nie gebreek nie. Hy is toe later in een van Bloemfontein se privaathospitale opgeneem. Verskeie spesialiste het hom besoek, maar sy koors wou nie breek nie. Ons was moedeloos en verward. Die spesialiste wou hom toe later na die Pasteur Hospitaal stuur wat in virusinfeksies spesialiseer. Ons was gedaan, moedeloos en hartseer. Dit het gevoel of dit die einde van die wêreld is.

Een middag, rondom middagete, was ek alleen by Johannes se bed. Anneke het gaan eet. Skielik stap daar ’n Christen-advokaat die kamer binne, wat ek van geen kant ken nie. Hy vra toe of hy vir Johannes ’n gebed kan doen. Ek vra vir hom asseblief. Hy het ’n mooi gebed gedoen. Toe hy net uit is, kom Anneke die hospitaalkamer binne. Ek vertel toe vir haar van die advokaat wat vir ons kind gebid het. Feitlik onmiddellik daarna vra sy of die oorsaak van Johannes se siekte nie miskien sy mangels is nie. Toe die spesialis weer ’n besoek doen, vra ek hom om spesifiek na die mangels te kyk. Hy doen so en sê dadelik dat die mangels vrot is van infeksie. Hy bel toe dadelik ’n ander spesialis wat in mangels  spesialiseer. Binne tien minute daag hy op. Hy verander die antibiotika wat per drup toegedien word. Die volgende oggend speel Johannes vir die eerste keer in tien dae. Hy was vir tien dae dodelik siek en verskeie spesialiste het hom ondersoek. Niemand kon die oorsaak kry nie. Vir my was die advokaat wat ingestap het en ’n gebed gedoen het, die engel wat God gebruik het om Johannes te genees. Want onmiddellik na sy gebed kry Anneke die wysheid om te vra of die oorsaak nie by die mangels lê nie. Voorwaar was die advokaat ’n engel vir ons.  

Daar was ook die keer toe ons as die Ring van Hopetown ’n predikante-retreat gehad het. Ons het onder andere na die Van der Kloof-dam gaan kyk en ons was ook binne die damwal. Johannes was klein. Op ’n stadium raak ons almal in vervoering oor die skoonheid van die dam. Dit is net toe dat Johannes wegbeweeg van ons af. Daar was ’n reuse-gat in die damwal. Sou Johannes daar afval, is dit meer as ’n honderd meter afgrond na sement. Anneke kyk net betyds om en gryp hom aan sy klere voor hy daar afval. Dit was vir my die mees skrikwekkende oomblik in my lewe. Ek glo dit was God wat sy beskermengel beskik het, dat Johannes betyds gevang is deur Anneke. Daarom glo ek vas aan wonderwerke.

Ons mag nie engele aanbid nie. Engele kan nie uit hul eie uit optree nie. Hulle kry hulle boodskappe en opdragte van God. Hulle is maaksels van God. Daarom aanbid ons alleen die Drie Enige God. Hy stuur en beskik oor die engele. Somtyds stuur God ook mense as engele.

Wat belangrik is, is dat God ons ook kan gebruik as engele. As ons vir iemand wat honger is, kos gee of vir iemand wat dors is, water gee of iemand besoek wat siek is of in die gevangenis is, tree ons op as engele van God.

Dikwels kan ons derduiwels wees met mekaar. Ons beduiwel mekaar. Ons doen duiwelse dinge en bedink duiwelse goed. Ons het dikwels ’n duiwelse agenda. Dan roep die Evangelie ons op om op te tree soos engele vir mekaar. Ja, om goed te doen aan ander.

Jy kan miskien die engel sonder vlerke wees. Onthou ons word deur God gestuur.  Daar is hemelse engele en aardse engele. Wees jy die aardse engel in ander mense se lewens, mense wat jou nodig het.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Sonde beroof die goeie

SKRIFLESING: Psalm 51

“Sonde” is ’n woord wat uit die mode geraak het. In die oorspronklike Joods-Christelike tradisie is dikwels oor sonde gepraat. In baie mense se woordeskat bestaan sonde ongelukkig nie meer nie. Sielkundiges en sosioloë gee sonde ’n ander naam. Selfs in die kerk praat ons nie dikwels oor sonde nie, vanweë die invloed van humanisme op die kerk. Humanisme glo in die inherente goedheid van die mens.

As ons wel oor sonde praat, praat ons eerder oor ’n ander een se sonde. Of ons vermy sonde of ons verplaas dit na ’n ander mens.  Mense maak soos Adam en Eva. Ons kruip weg vir ons eie sonde. Andersins verplaas ons dit na ander mense. Toe die Here vir Adam genader het oor sy sonde, het hy sy sonde verplaas na Eva en sommer ook vir God blameer wat hom die vrou gegee het. Eva het weer die slang blameer.

Begryplik is dat die woord “sonde” in die wêreld min gebruik word. Maar in die kerk moet dit juis gebruik word. God het vir Adam en Eva in die paradys gaan soek. Hy het ’n ontmoeting gereël, omdat God die sonde wil uitpraat. Die kerk is die een plek waar sonde-taal beoefen moet word, al praat die mense daarbuite nie meer so nie.

Ek moet ook nie besig wees om ander se sonde heeldag uit te wys nie. Ek moet besig wees om my eie sonde te ondersoek en daarmee erns te maak. Wie is glashuise woon moet nie met klippe gooi nie.

Daarom soek God ons elke Sondagmôre in die erediens om oor sonde te praat. Ongelukkig verval die sonde-belydenis dikwels as liturgiese element in die erediens. In die verlede was die sondebelydenis in die erediens en kerklike tug en opsig ’n wesenlike deel van ons Calvinistiese tradisie.

Wanneer daar nie oor sonde gepraat word nie, verval die samelewing in oppervlakkigheid. Ons eie lewe verval in oppervlakkigheid as ons nie oor sonde praat en onsself ondersoek nie.

Daarom sê die Nagmaalsformulier ook uitdruklik dat ons onsself moet ondersoek voor ons by die tafel gaan aansit. Ongeveer twintig jaar gelede was dit nog die  gebruik om die Saterdag voor Nagmaal of die vorige Sondag ’n voorbereidingsdiens te hou met die oog op die Nagmaal. Ongelukkig het ook dit verval.

Daarom is veral ook die Lydenstyd van die kerk tussen As-Woensdag en Paasfees ’n tyd van vas en boetedoening. Sondebelydenis moet ’n tyd wees wanneer ons nie meer wegkruip of ons sonde verplaas of dit ander name gee nie. Dit moet ’n tyd wees wanneer ek my sonde name gee. Dit moet ’n tyd wees wanneer ek beskryf wie en wat ek regtig is.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Dawid se opregte skuldbelydenis na sy owerspel met Batseba, die vrou van Uria. Boonop het hy vir Uria doodgemaak, deur opdrag te gee dat hy in die voorste linies moes veg. Toe die profeet Natan na hom toe gekom het, het Dawid onmiddellik sy sonde bely en in sak en as gesit, sonder om te eet. Vanuit sy diepe berou het hy die opregte Psalm 51 geskryf.

Sonde is nie iets nie, het nie ’n eie ontstaan nie, is nie aanwysbaar en identifiseerbaar nie.     

Augustinus het gesê sonde is “privatio boni” – ’n berowing van die goeie. Sonde teer op die goeie. Sonde leef na aan die goeie. Sonde volg die goeie soos ’n skaduwee. Sonde misbruik die goeie en beroof die goeie. Sonde lewe van die goeie. Dit is dus is soos ’n parasiet. Daarom is dit moeilik om sonde te herken. Die bose doen hom voor as ’n engel van die lig.

As ek een vinger na ’n ander wys, wys al my ander vingers na myself. Wie in glashuise lewe, moenie klippe gooi nie. Sonde is inderdaad parasities. Sonde kom onder die dekmantel van die goeie.

Paulus skryf: Ek wil die goeie doen, maar as ek myself weer kom kry, het ek die kwaad gedoen. Sonde mislei ons. Richard Niebuhr skryf as ons sondig, weet ons meestal nie wat ons doen nie.

Ons kan dikwels bedwelm word deur die tydsgees. Ons het Apartheid gepleeg en toe nie eers besef ons sondig nie. Die Nazi-regering in Duitsland het miljoene Jode uitgemoor, en toe nie gedink dit is sonde nie. So kan ’n tydsgees ’n hele volk bedwelm, sonder om die sonde raak te sien. Die ANC-regering pleeg korrupsie in die ergste graad, maar hulle besef nie eers dit is sonde nie. Vir hulle is dit aanvaarbaar dat die leiers van die ANC sake met die staat doen.

Ons weet somtyds nie wat ons aan ons lewensmaats doen nie. Ons weet dikwels nie eers wat ons aan ons kinders doen nie. Ons weet dikwels nie wat ons aan ander doen nie. Ons weet nie, omdat die sonde te na aan die lig lewe, omdat dit in die gedaante van die goeie verskyn.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met versoekinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Soos wat om honger te raak en te eet, alledaags is – net so is versoekinge deel van die daaglikse lewe.

Daarom het Jesus aan die kruis geroep: “ Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan bedoel Jesus dit is ons wat nie weet wat ons doen nie.

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Sy 95 stellinge het begin met boetedoening. Sy eerste stelling “Toe ons Heer en Meester, Jesus Christus, gesê het ‘Doen boete’ (toon berou, bekeer julle) was dit sy wil dat die hele lewe van die gelowige een van berou moet wees.” 

Daarom pas dit by ons Calvinistiese tradisie om ons armoede voor God en ons gebroke lewe voor God te besef.  In die Rooms-Katolieke tradisie is bieg een van die sakramente. Vir ons beteken berou egter die doding van vleeslike gedrag.

Daarom kom die 95 stellinge neer op (1) die grootheid van my sonde en (2) Christus Jesus se algenoegsame redding.

Die Middeleeuse kerk het in die hervorming ’n verskuiwing gehad in vroomheid. Ek moet nie net vroom in die kerk wees nie, maar ek moet ook in die wêreld vroom wees.

Daarom moet ek elke dag vroom ondersoekend my lewe ondersoek voor God se Woord. Ek moet biddend nadink oor my lewe en my sonde een vir een voor God bely.

Dan sal ek elke dag verwonderd, dankbaar voor God staan vir sy algenoegsame verlossing in Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Onverdienstelike gevalle aan ‘n weelderige feestafel

SKRIFLESING: Mat 22: 1 – 14

’n Verloofde paartjie het in ’n eksklusiewe hotel in Boston reëlings getref vir hulle bruilofsonthaal.

Altwee het baie duur smaak gehad en net die beste uitgekies: die voortreflikste spyskaart, die indrukwekkendste silwerware, die mooiste blommerangskikkings. Die rekening het op dertigduisend dollar te staan gekom. Hulle het die volle bedrag betaal.

Op die dag van die bruilof was die bruidegom nog in San Francisco. Juis oor daardie naweek was Amerika in een van die ergste sneeustorms van dekades vasgevang. Die San Francisco Internasionale lughawe was vir alle lugverkeer gesluit. Daar was nie ’n manier hoe die bruidegom binne ’n halwe dag oor die Amerikaanse kontinent kon kom om betyds te wees nie.

Aangesien die gastelys uit vooraanstaande mense saamgestel is, vir wie tyd kosbaar is, is hulle betyds per telefoon laat weet dat die huwelik vir eers onbepaald uitgestel is. Maar hoe gemaak met die bespreekte hotel, die voortreflike vyfgang-ete, die silwerware, die blomme – alles is immers al klaar betaal.

Dis toe dat die bruid die roekelose idee gekry het om voort te gaan met die onthaal, nie as ’n huweliksbanket nie, maar sommer net as ’n reuse feespartytjie. Sy het die dakloses van Boston uitgenooi vir ’n aand wat hulle nooit sou vergeet nie. Daar is inderhaas uitnodigings na al die skuilings vir dakloses in Boston gestuur.

So het daar op ’n koue wintersaand ’n onthaal plaasgevind soos die personeel nog nooit beleef het nie. Mense het van heinde en verre opgedaag: vertoiingde bejaardes met krukke en kieries, mense wie se aardse besittings in ’n supermarktrollie kon inpas, boemelaars wat gewoond was om onder kartonne te slaap, verslaafdes wie se harde lewensverhaal op hulle gesigte uitgekerf was. Hulle het aangesit by die tafels met die kraakwit linne en die gepoleerde silwerware, is bedien deur kelners in aandpakke, en het gesmul aan die vyfgangmaaltyd wat deur die beste kokke voorberei is. Soos wat die aand gevorder het, het hulle sjampanje gedrink, troukoek geëet en geluister na die strelend musiek wat deur die orkes verskaf is.

Laat daardie aand daag die bruidegom toe op. Die bruidegom, aangedaan deur die vreugde en dankbaarheid van die dakloses, besluit toe sommer om net daar te trou. Hy laat die predikant dadelik kom en hulle twee word in die huwelik bevestig.

So ’n skreiende kontras tussen onverdienstelike gevalle aan die een kant en weelderige feesvierings aan die ander kant het jy in jou lewe nog nooit gesien nie. Behalwe … in die Evangelie. Kyk mooi: tussen die tafels deur stap die Gasheer. Sy glimlag sê alles.

In die gelykenis lees ons van die Koning wat vir sy seun ’n bruilof gereël het. Hy het sy slawe uitgestuur om die bruilofsuitnodiging aan al die genooides te rig.

Dan lees ons hoedat die genooides hulle nie gesteur het aan die uitnodiging nie. Ja, hulle het verskonings gehad. Ja, hulle het selfs sommige van die slawe (die boodskappers) doodgemaak. Jesus self het hierdie gelykenis aan die Jode vertel om iets by hulle tuis te bring. Die koning is eintlik God self, die seun is Jesus Christus, die slawe is die apostels van die Here en die genooides is die Jode. Die bruilof self is die naderende Wederkoms.

Ja, God is op hierdie oomblik besig om ’n groot bruilof te reël vir die wederkoms van sy seun, Jesus Christus. Die uitnodiging na hierdie bruilof het Hy allereers aan die Jode gerig. Die Jode het heel eerste die uitnodiging ontvang. Maar die Jode was vol verskonings. Hulle het uitgestel om dadelik te antwoord. Hulle moes eers gaan omsien na hulle grond en osse en huwelike.

Maar party Jode het nog verder gegaan. Hulle het die uitnodiging verwerp. Hulle het eerder die apostels en die vroeë Christene vervolg. Ons lees dan ook heel dikwels in die kerkgeskiedenis daarvan (vergelyk byvoorbeeld Stefanus se steniging.) In vers 7 lees ons hoedat die koning, God, kwaad geword het en gedreig het om die Jode se stad aan die brand te steek. Die Jode se stad Jerusalem is dan ook in die jaar 70 n.C. verwoes.

Dan lees ons in vers 8 hoedat hy sy slawe uitgestuur het na al die straathoeke om mense bymekaar te maak vir die bruilof. Ja, sy slawe moes na al die nasies, kulture en tale gaan om die mense te nooi na die bruilof van die Here. Vir die bruilof van die Here maak dit nie saak of jy rein of onrein is nie. Dit maak nie saak of jy siek, arm of uitgestoot is nie. God se genade is ongelooflik groot. Daar is selfs plek vir die laatkommers, die agterosse en die swartskape.

Ja, die uitnodiging het van die sinagoge na die straathoeke verskuif. Ja, die bruilofsuitnodiging is baie wyd.

Ja, die uitnodiging gaan na goeies en slegtes. Goeie en slegte mense het die Here nodig om hulle te red. My goeie en ordentlike lewe kan my nie red nie – net Jesus Christus kan my red. Alle mense, alle geslagte, alle tale, alle kulture, alle soorte, goeies en slegtes, ontvang hierdie uitnodiging.

Die gelykenisse word in vers 11 – 14 afgesluit met ’n waarskuwing dat elkeen met ’n bruilofskleed na die bruilof moet kom. Die gebruik in die ou tyd was dat wanneer iemand ’n bruilof bywoon, almal ’n bruilofskleed moes aantrek. Die bruilofskleed se doel was dat almal eenders lyk en daar geen klasseverskil is nie. In die hemelse bruilof het iemand ingesluip sonder ’n bruilofskleed aan. Hy het waarskynlik gedink dat sy klere darem fatsoenlik genoeg is vir die geleentheid. So probeer baie mense die hemel insluip, met hul eie menslike pogings. Hulle dink hulle goeie lewe, hulle kerklidmaatskap of hulle goeie hart vir hulle medemens sal  hulle red. Nee, ons het nodig om beklee te word met ’n bruilofskleed, met Jesus Christus. Net Jesus Christus kan ons red. Hy is die enigste sleutel wat die hemel kan oopsluit. Hy is die enigste kleed wat ons toegang kan gee tot die hemel.

Slegs mense wat beklee is met Jesus Christus kan deel hê aan hierdie bruilof. “Beklee julle met die verlossing, beklee julle met Jesus Christus.”

U sien dus in die hemelse bruilofsaal lyk almal dieselfde.  Almal lyk eenders. Almal is gelyk. Niemand lyk beter of slegter as die ander nie. Nee, net genade maak gelyk en eenders. Hoekom? Omdat almal beklee is met Jesus Christus.

Daarom het die Jode die gebruik om in ’n kring te dans. Niemand in die kring is eerste of laaste nie. Maar almal is ook eerste en laaste. Daarvandaan kom die skrifgedeelte wat sê: Wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees.

God se genade maak ons inderdaad gelyk. Wat ’n vreugde, nou is daar vir my ook plek!   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

My enigste hoop en troos in die lewe, is dat ek aan Jesus Christus behoort

SKRIFLESING: Psalm 46: 1 – 12

Sonder HOOP kan geen mens leef nie. ’n Mens kan 40 dae sonder kos lewe. ’n Mens kan drie dae sonder water oorleef. ’n Mens kan egter nie ’n sekonde sonder HOOP lewe nie!

Ons leef in ’n skewe reënboogland. Die nuwe Suid-Afrika het toe nie uitgedraai as ’n beter land nie. Kapings, moord, verkragtings, korrupsie en die ineenstorting van standaarde en moraliteit het alledaagse nuus geword. Daar vind weekliks plaasaanvalle plaas en boere word vermoor. Dan sê die Suid-Afrikaanse president wêreldwyd op televisie dat daar geen plaasaanvalle is nie. Die Regering wil boere se plase afvat sonder vergoeding. Ons werkloosheidsyfer staan amper op 33%. Verder word alles afgebrand en monumente wat vir ons betekenis het, tuimel. Niks word beter nie, ons sak elke dag net verder in die moeras van ellende.

Daarom het mense in hierdie skewe reënboogland ’n ontsaglike behoefte aan HOOP. Mense soek iets wat weer vir hulle hoop en troos kan bring.

In plaas van hulle enigste hoop te soek by Jesus Christus, skep mense hulle eie hoop en troos. Ons probeer krisissituasies af te weer deur ons eie hoop te skep. Ek neem ekstra versekering uit, ek installeer diefwering, ek skaf ’n groot hond aan, ek begin myself finansieel in ’n beter posisie te plaas. Natuurlik is dit goed om voorsorg te tref; dit is immers verantwoordelik.

Die gevaar is egter as my voorsorgmaatreëls my troos en my hoop word. Ek troos my: ek het voorsiening gemaak vir my oudag, ek het my genoegsaam teen inflasie en teen inbrekers verskans. Ons skep vir ons ons eie troos en hoop. Ons verskans en beveilig onsself.

Elke dag is ons besig om vir ons troos en hoop te skep. Binne hierdie troos en hoop is daar weinig plek vir God. Ons materialisme word ons hoop en troos. My versekering word my hoop en troos. My sekuriteite by die huis of op die plaas word my hoop en troos.

Daar moet egter maar selfs nie ’n blaartjie roer nie, dan begin ons te bewe. Iets moet net êrens in die wêreld of in ons persoonlike lewe verkeerd gaan, dan stort die kaartehuis van ons lewe in duie.

Ons moderne Christene het verleer wat dit beteken om net op Jesus te vertrou.

Ek wil hierdie boodskap begin deur ’n stukkie van vroeë Europa se geskiedenis vir u te vertel. Dit was swaar tye in Europa se kerkgeskiedenis. Dit was ’n tyd toe Protestantse Christene al hul sekerhede, hulle besittings en lewens verloor het. Al wat vir hulle oorgebly het om aan vas te hou was die ewige Rots: Jesus Christus. Hulle HOOP en TROOS was net Christus Jesus ALLEEN.

Ek verwys na die jare 1522 tor 1573. Die jare staan bekend as die Kontra-Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende dié tyd het die Inkwisisie die Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk. Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kerkers gedurende die middernagtelike ure. Manne, vroue, en jong seuns en meisies is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte. Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek. Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op die brandstapels te laat sterf. SINGENDE het hulle gesterf op die brandstapels.

Volgens Crespin het daar in daardie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf: in Parys 10 468 en in die hele Frankryk nagenoeg 30 000. Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante hulle per nag, per man uitgemoor het. Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans en vele ander het in vlamme opgegaan.

Op die heilige Bartholomeüs-nag is tienduisende Protestante doodgemaak. Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke met die Seinerivier afgespoel het en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed. Die Heilige Bartholomeüs-nag word beskou as een van die grootste misdade in die moderne geskiedenis.

Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl gelowiges besig was met eredienste, afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak. Ja, terwyl die eredienste aan die gang was, het hulle die kerke toegespyker en aan die brand gesteek. Al singende het die gemeentes voortgegaan, totdat die geknetter van die vlamme die laaste stem stilgemaak het.

Terwyl die Seinerivier met bloed bevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het, is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf. Dit was die tyd van die groot belydenisskrifte van die Protestantse kerke. As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlamme-lig van die brandstapels. Sommige dele van die belydenisskrifte is by die tronkvensters uitgegooi, waarna dit oor die hele Europa versprei het en die mense dit gelees het.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy eerste vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

En dan antwoord die Kategismus: “My enigste troos (my enigste hoop) in lewe en dood, is dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed. In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue van die Protestantse kerk. Daarom het Luther dan ook die psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste burg ist unser Gott.” In hierdie psalm word verklaar dat God die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is, die enigste HOOP is. As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God mag nooit my bykomende troos of my bykomende burg of my bykomende toevlug of my bykomende beskermer of my bykomende hoop wees nie.

Hy moet jou ENIGSTE TROOS, jou ENIGSTE BURG, jou ENIGSTE TOEVLUG, jou ENIGSTE BESKERMER en jou ENIGSTE HOOP wees.

Aan God moet jy hang, al wankel ook alles rondom jou. Aan God moet jy vasklou, deur twyfel heen.

Kom ons kyk wat Psalm 46 vir ons vers vir vers sê:

In vers 5 staan daar al kom die natuurrampe en die ekologiese krisisse (aarde gee pad, die see druis en skuim, die berge skud) tem God dit tot ’n rustige nuttige riviertjie in die Godstad.

Vers 6 sê God is in die Godstad, die stad sal nie wankel nie. God sal kom help, nog voor die môre kom. (Net voor dagbreek het die vyand gewoonlik aangeval. Daarom was die nood gewoonlik net voor dagbreek op sy hoogste. Daarom help God nog voor die môre kom.)   

In vers 9 en 10 staan daar, die geskiedenis kan maar voortgaan. Diktators kan heers en magshebbers hul magte misbruik. Koninkryke kan kom en wankel. God bly in beheer. Hy laat oorloë ophou en spiese verbreek Hy.

Nie die natuur of die geskiedenis, niks kan my vreugde en geloofsmoed breek nie.

Bedaar en erken dat Ek die Here is, sê die Here. Wees getroos, sê die Here, Ek is daar! Daarom kan jy maar getroos lewe en getroos sterwe.

Nie jou beleggings, jou diefwering of jou alarmstelsel of jou hond of jou roer, kan jou troos wees nie. Jou enigste troos is die Here Jesus Christus. 

Hoor wat sê Habakuk 3: 17 – 19: Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Wanneer Habakuk en die volk Israel niks meer het om aan vas te hou nie en net God oorbly, ontdek hulle dat God die enigste en ware HOOP en TROOS vir hulle het.

As jou troos jou beleggings is, is jy nog nie getroos nie.

As jou burg jou diefwering is, is jy nog nie geborge nie.

As jou toevlug jou sekuriteite is, het jy nog geen toevlug nie.

As jou beskerming jou roer is, het jy nog geen beskerming nie.

Wanneer die wêreldekonomie in duie stort en dit met my swaar gaan, is ek nie op moedverloor se vlakte nie. Ek het Jesus Christus! In Hom kan ek getroos wees, ook as ek deur moeilikhede moet gaan.

WANT MY ENIGSTE TROOS IN LEWE EN IN STERWE IS DAT EK MET LIGGAAM EN SIEL NIE AAN MYSELF BEHOORT NIE, MAAR AAN MY GETROUE SALIGMAKER JESUS CHRISTUS!

Behoort u al so volledig aan Jesus Christus, dat u dit kan sê?

Moeder Theresa, die katolieke non van Kalkutta het eenmaal gesê: “You won’t learn that Jesus is all you need, until Jesus is all you have.”  Jy leer eers dat Jesus al is wat jy nodig het, die dag wanneer Jesus al is wat jy oorhet.

In die Anglo-Boere oorlog op die plaas Doornbult, buite Hopetown, het die vroue en die kinders in die aande Hollandse gesange gesing vanuit die wit Engelse konsentrasiekamptente. Niks kon hulle breek nie, want hulle enigste troos was en is Jesus Christus. Alles kan maar wankel, maar hulle het Hom oor as hul enigste ROTS en BURG en HOOP.     

Eers dan is ek werklik vry! Vry om te lewe en om te sterwe. Dan maak niks meer saak nie, solank ek vir die Here kan lewe. Dan het ek geloofsmoed! Geloofsmoed om enige bedreiging vierkantig in die oë te kan kyk. Dan kan ek getroos lewe en getroos sterwe. Dan kan ek hoopvol lewe en hoopvol sterwe. Daarom kan ons hoopvol lewe in hierdie skewe reënboogland van ons, want ons het die Here Jesus in ons harte en niemand, niemand kan Hom van ons wegneem nie.

Daarom moet gemeentes eilande van HOOP wees. Mag ook die gemeentes Adelaide en Fort Beaufort eilande van HOOP wees in hierdie verwarde wêreld.

Ja, selfs as my situasie hopeloos geword het, kan ek nog ’n draer van hoop wees, deur vir ander hoop te bring. Ek kan voorwaar hoopvol lewe en hoopvol sterwe! Ek kan getroos lewe en getroos sterwe, want ek behoort aan Jesus Christus!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Oop deure en vensters voor God en wêreld

SKRIFLESING: Handelinge 2: 42 – 47, Handelinge 4: 32 – 37 en 2 Thessalonisense 3: 6 –13

Met Pinkstersondag en die oop graf, het die kerk en gelowiges met oop deure en vensters voor God en wêreld geleef. Dit was iets wat die vroeë kerk in Handelinge baie goed verstaan het.

Hulle het met ’n openheid, ’n mildheid en ’n offervaardigheid geleef in die gemeenskap waar hulle as gelowige huiskerke gefunksioneer het. Hulle was soos huise met oop deure en oop vensters, sonder enige gordyne. Almal in die gemeenskap het ingekyk en die kragdadigheid van hulle geloof in Jesus Christus opgemerk. Hulle het met integriteit gelewe. Omdat hulle met integriteit gelewe het, het die getalle van die huiskerke toegeneem en was hulle in guns by die hele volk. Hulle het so voorbeeldig gelewe dat hulle kragdadig gegroei het.

Hulle egtheid was sigbaar in die wyse waarop hulle vir die armes en hulpbehoewendes omgegee het en hulle ingetrek het in die huiskerke. Ons bou gewoonlik ’n muur tussen ons en die armes. Hulle het die armes saam met hulle aan die gemeenskaplike tafel laat sit. Dit is maklik om kos vir ’n arme te gee, maar om saam met hom of haar te eet, is die uitdaging.

Jürgen Moltmann verwoord die beginsel van die liefdesgemeenskap in die kerk as volg: “The solution to poverty is not property. The solution to both poverty and property is community.” Daar is eenheid in die geloofsgemeenskap wanneer daar gedeel word.

In ons teksgedeelte lees ons van Josef, ’n Leviet  wat op Siprus gebore is. Hy het oral waar hy rondgegaan het vir mense moed ingepraat. Daarom het die dissipels hom Barnabas genoem, wat beteken “iemand wat mense moed inpraat”. Hy was ’n vertrooster. Hy het nie net mense moed ingepraat nie, hy het ook finansiële opofferings gemaak om sy medemens te help.

Ons dink dan veral ook aan Tabita, wat ’n Hebreeuse vrou was wat vir die Joodse en Griekse weduwees klere gemaak het. Daarom was haar naam in die Griekse gemeenskap bekend as Dorkas. Sy het mense oor kultuurgrense heen gehelp.

In elke geloofsgemeenskap is daar Barnabasse en Tabitas, wat dit hulle werk maak om armes en mense wat in nood is te help en hulle moed in te praat. Dit is mense wat kos en klere uitdeel, en sopkombuise aan die gang hou. Dit is mense wat ander bemoedig deur vir hulle werk te soek.

’n Mens kry natuurlik ook die swak voorbeeld van Ananias en Saffira. Hulle het ’n stuk grond verkoop en voorgegee dat hulle die volle som vir welsyn skenk. Tog het hulle ’n deel van die koopprys teruggehou. Petrus het vir Ananias gesê dat dit nie verkeerd was om die grond te verkoop en die geld vir eie gebruik aan te wend nie. Maar hy het voorgegee hy skenk dit vir die armes, om vir hom ’n goeie naam in die gemeenskap te kry. Hy het dus gegee om gesien te word. Sy hart was nie by die armes nie, maar by sy en Saffira se goeie naam. Wanneer jy gee, moenie met bybedoelings gee nie. Gee in opregtheid met ’n hart vir jou medemens.  

Die bedoeling van die gelese gedeelte is nie dat jy al jou goed moet weggee nie, want dan sou daar nie ’n ekonomie gewees het nie. Die bedoeling van die gedeelte is dat jy moet leer om offervaardig te wees. Die Here het nie bedoel dat Ananias en Saffira al hulle goed moet weggee nie. Hulle kon die geld van die grond gehou het vir eie gebruik. Daar is niks mee verkeerd om jou eie besittings te hê nie. Offervaardigheid is egter die geestelike deug wat in die gelese gedeelte beklemtoon word.

Paulus waarsku ook dat gelowiges nie vir mense wat lui is, moet help nie. Christelike barmhartigheid bevorder nie luiheid nie. Paulus spreek die luiaards sterk aan en sê hulle moet vir hulle eie brood werk. 

Kerk en gemeenskap mag nooit teenoor mekaar staan nie. Die kerk is daar ter wille van die gemeenskap. Die kerk se roeping is om die gemeenskap te dien. Die kerk wat haarself preserveer om net haarself aan die gang te hou, sal beslis sterf. Die kerk moet oop deure en vensters hê na die wêreld. Die kerk moet aanloklik lyk vir die wêreld. Die kerk moet opgebruik word deur die wêreld.

Interessant is die woord “pontiff” wat vir die Pous, die hoogste hiërargie in die Rooms Katolieke kerk, gebruik word. Die woord “pontiff” kom van die Latynse woord “pontifex” wat beteken “brugbouer.” Dit is teen die agtergrond van die Romeine wat uitstekende paaie en brûe gebou het. Hulle het daardeur die landskap en geskiedenis van die wêreld verander.

So moet elke predikant, ouderling, diaken en gelowige ’n “brugbouer” wees. Ons moet brûe bou tussen die kerk en  die wêreld. Ons moet brûe bou na armoede. Ons moet brûe bou na hulle wat moedeloos is en uitgesak het in die lewe. Ons moet brûe bou na hartseer. Ons moet brûe bou na bejaardes en uitgestotenes. 

Die St. Bernard-honde in die Alpe wat reisigers in sneeustorms soek, is geleer om altyd hulle soektog ernstig op te neem. Daar word vertel van die een hond wat laat een middag teruggekom het van ’n missie, in ’n hewige sneeuval. Hy  het na sy hondehok gegaan en in die hoek gelê en homself onttrek, ten spyte van sy eienaar wat hom wou opbeur met kos. Hy het niks geëet nie. Was hy siek? Wel nee, nie na liggaam nie, maar in sy hart. Hy het gefaal om iemand in nood te help en het skaam teruggekom. Dit is hierdie hartseer van die hart wat ons moet openbaar as ons iemand nie kan help nie. Dit moet die Christen kenmerk. Ons moet ’n heilige weemoed hê as ons iemand nie kan help nie. Daarom staan daar mos in die saligsprekinge: “Geseënd is dié wat treur.”

Daar word vertel van ’n babaseun wat in ’n afgeleë distrik van Wallis ernstig siek was. Die ma was ’n weduwee en baie arm. Sy het vyf myl geloop deur die nag, terwyl dit gereën het, om ’n dokter te kry. Die dokter het eers gehuiwer. Dit sou ’n onplesierige rit gewees het in die reën en die weduwee sal heelwaarskynlik nie kon betaal nie. Wat sou in elk geval van die seun geword het? Hy was maar net nog een van die armes. Maar sy liefde vir mense en sy professionele gewete het  hom oorreed om na die seun te gaan en die seun se lewe is gered. Baie jare later het die seun, David Lloyd-George, die eerste minister van Engeland geword. Die dokter het toe gesê:  “I never dreamed that in saving the life of that child on the farm, I was saving the life of the leader of England.”

Die Bybel het talle voorbeelde waar mense onwetend vir engele kos gegee het. Die Here Jesus kan ook in die vreemde gestalte van ’n noodlydende na jou en my kom.

Anton Rupert het in een van sy boeke geskryf dat elke maatskappy wat wins maak uit ’n gemeenskap, die verantwoordelikheid het om iets terug te gee aan die gemeenskap.

Net so het ons wat baie ontvang as gawes van die Here die verantwoordelikheid om van ons gawes terug te gee aan hulle wat minder as ons het. Ons is ’n geloofsgemeenskap, “a community” en daarom moet ons onderlinge sorg vir mekaar dra.

Waar daar “community” is, is daar deernis, liefde en eensgesindheid.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van geraamtes na ’n “Army” !

SKRIFLESING: Esegiël 37:1-14

Die Franse skrywer en filosoof, Voltaire, wat in 1778 dood is, het voorspel dat die kerk en die Bybel oor 50 jaar nie meer sal bestaan nie. So het verskeie doemprofete deur die eeue die doodsheid van die kerk beklemtoon. En tog is die Woord en ons steeds hier! Die kerk lewe nog steeds. Martin Luther het gesê: “Al blaak die hel van woede. Die Here  hou self sy kerk instand.”

Sonder Pinksterdag, sou die kerk geen toekoms gehad het nie. Na die opstanding van onse Here Jesus Christus het die dissipels hulleself toegesluit in die bovertrek, uit vrees dat hulle ook doodgemaak sou word. Hulle was nie instaat  om te getuig nie. Hulle was soos ‘n klomp doodsbeendere sonder enige lewe en asem.  Toe gebeur Pinksterdag. Dit is die geboortedag van die kerk. Die Heilige Gees het met wind en vuurtonge op hulle neergekom en hulle het begin lewe en getuig. Nou was hulle nie meer bang nie. Die kerk het begin lewe.  Tweeduisend jaar later en die kerk lewe nog steeds. Die kerk is soos ‘n “Army” wat verrys het uit geraamtes. Dit is God’s werk deur die Heilige Gees.

Die Here begin met jou werk, as jy jou werklike armsalige toestand voor God besef het. Wanneer jy ‘n geraamte in die kas het of as jy so hopeloos voel soos ‘n klomp dooie bene, dan begin God werk. So het die Here in Esegiël 37 gewerk.

Die volk Israel was in ‘n hopelose toestand. Die Here het Esegiël geroep as profeet toe hy 30 jaar oud was. Hy het as profeet opgetree vir 22 jaar. Esegiël 37 is waarskynlik geskryf met die tweede wegvoering deur Babilon ongeveer 587 vC.

In Esegiël het die Here in ‘n visioen aan Esegiël verskyn en in die visioen was daar dialoog tussen God en Esegiël. God vra en Esegiël moet antwoord.  In die gelese teks word gereeld na die Gees van God as “ruah jahweh” verwys. Dit is dieselfde Gees wat lewe in Adam, die mens geplaas het. Dit is ook dieselfde Gees, wat op Pinkstersondag uitgestort is op die kerk.

Die Heilige Gees bring altyd lewe daar waar daar doodsbeendere is. Waar jy in ‘n vasgeloopte situasie is, kan God altyd weer nuwe lewe en uitkomste bied.

In Esegiël 37: 4 word beklemtoon dat die Gees nie sonder die Woord werk nie. Daar staan geskrywe:  “Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here.” Daarom het die Here Jesus vir ons Sy Gees en Sy Woord nagelaat.  Die Heilige werk deur die Woord. Daarom is ons ’n Woord kerk. Die Here skep geloof deur die Woord en Gees en Hy versterk ons geloof deur die sakramente.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat die Gees die beendere bymekaar laat kom en dit oordek met senings, vleis en ‘n vel. Maar die liggaam was nog sonder asem daarom staan daar in vers 9: “Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”  So het die Here nuwe “asem” ingeblaas en ons laat lewe. Daarom is God se kinders ‘n magtige leër “Army”.

So het die Heilige Gees ook op Pinkstersondag van ons besit geneem, sodat ons begeesterde kinders van die Here kan wees. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan hom wat Sy Pinkstergees in ons geblaas het.

Ek het die volgende verhaal gelees in Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is (9 Maart 2008). Ek haal dit woordeliks aan: “’n Amerikaanse Lutheraanse predikant vertel van die volgende ervaring by ’n erediens in sy gemeente, waar net ’n paar lidmate in die banke gesit het. Die leraar het daardie oggend oor sy gemeente uitgekyk en gedink: “Wat kan ek doen om bietjie lewe in ons aanbidding te blaas, om bietjie entoesiasme en emosie in ons ervaring van die erediens te kry? Miskien moet ek iets skokkends en kontroversieels sê. Dit sal hulle laat wakkerskrik! Of anders moet ek weer ’n slag oor die hel praat, oor die poel van vuur en die ewige verdoemenis waar ’n geween en gekners van tande sal wees. Dit sal hulle aandag kry! “Maar terwyl ek daardie Sondag so angstig soek na ’n geestelike pols by my gemeente, ontdek ek skielik tot my skok dat ek self amper nie meer een het nie. Ek het die laaste tyd mense getrou en begrawe, maar dit was net nog ’n troue, net nog ’n begrafnis. Ek kon my hart daar uithou. Dit was net nog take om af te handel. En iewers het die ware vreugde en die ware troos ook begrawe geraak onder die as in my eie hart. Ek besef skielik God het my nie na hierdie plek toe gestuur om mense soos dooie karre aan die brand te stoot of om lewe in ons aanbidding te blaas of om bietjie entoesiasme in ons deelname op te wek of op te werk nie. Hy het my na hierdie plek toe gebring om my en ander te leer dat sy Woord alleen mag het (Only the Word of God has power!).” Ja, ons ken ook ervarings van geestelike en emosionele doodsheid soos Israel in die tyd van Esegiël.”

‘n Sekere evangelis het geskryf, dat ons so dikwels wil hê dat die herlewing by ander mense moet begin. Ons sien die leë kerkbanke en bid dat hulle vol moet wees. Dan sê hy, dat hy ‘n fout gemaak het. Jy moet ‘n kring trek in die grond en in die middel van die kring gaan staan en sê Here begin by my. Ware herlewing begin by my, nie by ander nie.

Die laagte van doodsbeendere simboliseer die totale hopeloosheid van die volk in ballingskap. Die bene lê verstrooid, droog en gebleik in die son. Daar was nie eers ‘n behoorlike begrafnis nie. Die bene het geen identiteit meer oor nie. Jy kan nie eers die bene aan iemand koppel nie. Selfs honde word begrawe. Hierdie mense was meer hopeloos as ‘n weggooi hond. Die laagte van doodsbeendere is simbolies van die volk Israel wat in ballingskap sit. Hulle het hulle land, hulle geliefdes, hulle koning, hulle tempel en hulle stad Jerusalem verloor. Dit was asof die einde van die wêreld is.

So is daar baie mense wat in hopelose situasies is. Mense wat alle kontak met God en met ander mense verloor het. Daar is mense wat in finansiële skuld vasgevang is, mense wat terminaal siek is, mense wat aan dwelms verslaaf is, mense in verhoudingsprobleme of mense wat net geen sin in die lewe meer raaksien nie. Hulle het kontak met die realiteit verloor.

Esegiël sê duidelik dat God se Woord nuwe lewe skep. “Net die Woord van die lewende God kan aan dooie bene ore gee! Wat moes die Lutheraanse predikant en sy gemeente leer? “Only the Word of God has power!” Die mag wat my en die siening van my situasie verander, word deur die werking van die Gees van buite my deur God se Woord aan my toegesê.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

“Esegiël moet God se boodskap gaan oordra al moes hy gril oor hierdie droom van die vallei van droë bene. Want Esegiël was ’n priester. Die Joodse wet het in Numeri 19:16 aan hom gesê: “Enigiemand wat in die veld aan ’n persoon raak wat doodgemaak is of aan ’n mensbeen of ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees.” Maar wat doen Esegiël ondanks dit alles: “Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is.” Gehoorsaamheid aan die Gees beteken om ook soos God mense te ontmoet waar hulle is – in hul diepste hartseer, verslaenheid en grootste krisis. Ons is mos bang daarvoor of vermy dit, asof ander se krisis of hartseer my ook sal aantas of “besoedel” – ook my gees en gemoed sal aftrek.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

So wil die Here uit ‘n laagte vol doodsbeendere en geraamtes vir hom ‘n weermag, ‘n “Army” skep, wat hom dien en gehoorsaam is. Hierdie begeesterde “Army” wil hy bewapen met die Woord, om diensbaar te wees. Hierdie begeesterde “Army” leef onder die leiding van die Gees, op pad na die wederkoms om met God -Drie-Enig verenig te word.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Leë blikke maak die meeste lawaai

 In Rigters 9: 8 – 15 kom ’n interessante fabel van Jotam voor, wat vertel van die bome wat ’n koning wou kies. Die bome wou vir hulle ’n koning salf.

Heel eerste word die olyfboom gevra om oor die bome koning te wees. Die olyfboom sê egter: “Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Tweedens word daar aan die vyeboom gevra om oor die bome koning te wees.  Die vyeboom sê: “Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Dan ten laaste, sonder enige sukses, staan daar in vers 14: “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!” Dit was die laaste uitweg. Onthou wat ek aan die begin van die preek gesê het, naamlik die  wat  niks het om te bied nie, graag wil baasspeel.

Toe sê die steekdoringbos dat hy koning sal wees. Dan staan daar in vers 15: “As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.”

Die steekdoringbosse het geen waarde nie, anders as om vuur te stig en vernietiging aan te blaas.

Die steekdoringbosse in ons gelese gedeelte verwys na Abimeleg, wat baie bloed vergiet het. In vers 49 lees ons inderdaad hoe Abimeleg en sy gevolg takke afgekap het en dit op die kelder oor die mense geplaas het en dit aan die brand gesteek het. So is die burgers van Migdal-Sigem, ongeveer ’n duisend mans en vroue, gedood.

Die probleem in Suid-Afrika die afgelope 30 jaar is dat swak leiers die politiek oorheers het. Hulle is soos steekdoringbosse wat Suid-Afrika aan die brand gesteek het en die land brand nog steeds letterlik en figuurlik. Suid-Afrika is heeltemal bankrot bestuur. Al die staatsentiteite soos die Lugdiens, Eskom, Transnet, Prasa, SABC en nog vele ander is leeg besteel en tot ondergang bestuur. Staatsdepartemente soos die Weermag bestaan amper nie eers meer nie. Dertig jaar gelede was die SANW onder die tien sterkste weermagte in die wêreld en die sterkste op die Afrika-kontinent. Nou bly net ’n skaduwee daarvan oor. Mediese dienste in die staatsdiens, polisiëring, onderwys en munisipale dienslewering het in die stof gebyt. Dorpe het verval tot algehele chaos.

Grondpaaie en teerpaaie het op die meeste plekke onbegaanbaar geword. Swak leiers wat niks kan bied, soos steekdoringbosse, kan niks in stand hou nie. Hulle is in posisies geplaas om oor ander bome heen en weer te swaai, maar hulle besit nie die gawes om dit te doen nie.

Van steekdoringbosse sal daar ’n vuur uitgaan, wat alles sal verswelg. Gereelde taxi-geweld  in Suid-Afrika was die oorsaak van honderde voertuie, staatsvoertuie, busse en swaarvoertuie wat al uitgebrand en beskadig is. Studente-onluste, vakbondstakings en openbare oproerigheid kom weekliks in Suid-Afrika voor. Misdaad het buite beheer geraak en korrupsie vreet soos kanker aan alles waaraan die staat of munisipaliteite raak.   

Die vorige regime, tydens die apartheidsera, het ook met magsmisbruike gepaard gegaan. Dit was net so korrup. Slegs witmense is bevoordeel en die ander rassegroepe is minderwaardig geag en is soos slawe behandel en is ingeprop in lokasies sodat ons nie hulle ellende en swaarkry hoef te aanskou nie.

Elke land het ’n geskiedenis van magsmisbruike wat soos steekdoringbosse ’n vuur laat uitgaan en ander mense vernietig.

Eli, die profeet, het ook twee steekdoringbosse as seuns gehad. Hulle was korrup en het tempelprostitusie bedryf. Eli word gelukkig opgevolg deur Samuel wat ’n Godsman was. Onder sy leiding was daar goeie tye. Ongelukkig was Samuel se twee seuns, Joël en Abia, ook steekdoringbosse.  Hulle was korrup, het omkoopgeld aangeneem en het die regspraak verdraai.

Daarom kan ’n mens verstaan dat die volk eerder deur ’n koning regeer wil word, as deur Samuel se twee korrupte seuns. In plaas daarvan dat die volk egter wag dat God eerder self die nuwe rigter vir hulle aanwys, wil hulle vir God voorskryf om vir hulle ’n koning te gee soos die omliggende volke. God gee toe aan Israel se versoek vir ’n koning. Die koningskap van Israel is in die daaropvolgende eeue gekenmerk deur goeie konings én slegte konings. Saul se koningskap het goed begin en het al slegter geword, totdat hy in sy eie swaard val. Dawid en Salomo was weer twee goeie konings. Die Here het Dawid beskryf as ’n “man na aan my hart” omdat hy so opreg was, ten spyte van sy persoonlike foute en sondes. In Dawid het die volk Israel die hoogtepunt in hulle geskiedenis gehad. Koning Salomo het weer gevra vir “wysheid” voor sy koningskap begin het. Dawid en Salomo het gawes gehad wat hulle bekwaam gemaak het. Hulle was nie steekdorings nie. Hulle gawes het van hulle goeie staatsmanne gemaak.

 Ons vergeet maklik dat elke stelsel sommige mense bevoordeel en ander benadeel. Alle politieke stelsels dra die kiem van die sonde. Dit kan wees ’n  monargie, feodale stelsel, sosialisme, kommunisme en kapitalisme – almal dra die kiem van onderdrukking en selfverryking. Iemand skryf: “Elke hervorming is ook vervorming. Dit is maklik om eiebelang as ‘die algemene belang’ voor te hou.” Dit is die mensdom se probleem.       

Gedeeltes soos Psalm 72 skets hoe die ideale koningskap moet lyk.

Daar staan onder andere die land floreer, die reg word gehandhaaf, die armes word beskerm en vrede heers. ’n Goeie koning of leier  moet as “herder”, “skild” of “hervormer” kan optree, wat kan instaan ook vir die swakkes en weerloses in die samelewing. Konings en mense in leierskapposisies is altyd beskermers van die swakkes. In Esegiël 34 vaar die profeet Esegiël uit teen die staatsleiers en godsdienstige leiers van Israel wat soos sterk vet skape met hulle horings die swakkes wegdryf by die waterbakke en die voer. Dan voorspel Esegiël dat daar ’n Herder sal kom wat die swak, sieklike en weerlose skape sal optel en lei na veiligheid.

Talle leiers het ’n belowende begin, maar later tree verval in. Almal misbruik later hulle gesag. Soos een filosoof gesê het: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut.” Al koning wat onveranderd eg bly, is die Koning met die doringkroon aan ’n kruis.

Die probleem is dat ons makeer aan God se barmhartigheid, genade en liefde. Hoor die duidelike opsomming van die wet van die Here in Mat 23: 23:  “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Die Bybel veroordeel by uitstek maghebbers. Konings moet servant-leaders kan wees. Servant-leaders is in die eerste plek diensknegte en dan leiers. Hulle regeer nie met mag, soos vuur wat uitgaan by die steekdoring nie. Nee, hulle regeer as dienaars van ander mense. Ook by my huis is ek nie die “baas” wat met mag regeer oor my vrou en kinders nie, maar ’n “servant-leader.”

En tog is ons vir koningskap gemaak. Die Here het in Genesis 1: 26 gesê:    “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding,  sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

Daarom wil die Here dat ons as “servant-leaders” die volgende onthou: “We rise by lifting others.” Dit is wat die Suid-Afrikaanse leiers in post-apartheid nog nie besef nie. Hulle hef nie die land op deur goeie leierskap nie. Nee, hulle verryk hulself met korrupsie. Hulle bevorder net hulle eie belange en nie dié van hulle mede-Suid-Afrikaners nie. Hulle baklei onder mekaar deur faksie-geweld, om net meer mag te bekom.

Ek moet ander mense optel en beter laat lyk as ekself. Ek moet ander mense optel en in ’n beter posisie as ek plaas. Eers dan is ek ’n leier. Eers dan verstaan ek wat koningskap beteken. Ek moet ander met my gawes dien.

Mag die Here ons land seën met swartmense, bruinmense, witmense en Indiërs wat ons land op politieke, maatskaplike, ekonomiese en alle ander vlakke van leierskap optel. Dit beteken dat leiers sal moet kniel voor hulle kan optel.

Dit deug nie as steekdoringbosse (sonder gawes) met mag alles wil afbrand en vernietig nie.

Die Here Jesus het gekniel en die kindertjies opgelig. Hy het gekniel onder die kruis en ons opgelig vanuit ons sonde en ellende.                     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Van tentwoning na ewige woning

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Rita van Vuuren het nog 22 genadejare bygekry. Ons kan dankbaar daarvoor wees. Ons is tevrede.

Maar die afgelope paar jare het ons gesien hoe Rita van Vuuren se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Haar liggaam  het verswak en die tent het begin skeur. Op 25 Junie 2024 het haar tentwoning ineengestort en het sy ’n permanente woning gekry by haar hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word op die ou end eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.” Die angel, die dood het nie meer op my ’n houvas nie. Die angel het die Here Jesus aan die kruis gesteek en gedood. Daarom is die dood, soos ’n by sonder ’n angel.

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Rita van Vuuren het nie die ewige dood gesterf nie. Sy is veilig by die Here.

Die geleidelike aftakeling van haar liggaamlike gesondheid was vir ons almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat haar verdere lyding en agteruitgang gespaar is deur haar dood. Ons is verheug dat sy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Rita van Vuuren se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier haar lewe. Ons vier haar nagedagtenis.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.))

BRONNELYS:

Peter Joshua, Leadership, Vol. 7, no. 4.

Lee Eclov, in the sermon: It Doesn’t Sting Anymore, PreachingToday.com

Ek gaan na hom toe, maar hy sal nie na my terugkeer nie

SKRIFLESING: 2 Samuel 12: 19 – 23

Iemand het ’n baie gepaste opmerking gemaak. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.”  Waarom is u almal vandag hier? Omdat Dawid Brown  se lewe êrens aan u geraak het. Met sy betekenisvolle lewe het hy baie mense aangeraak. Dit is tog die sin van die lewe.

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe. Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moes aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van Dawid was verstom oor die optrede van Dawid.

Soos Prediker ook predik: dat daar ’n tyd vir alles is. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Dawid aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die afsak van die kis, saam in die graf geklouter het, omdat hulle die dood nie met dapperheid kan hanteer nie. Vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Ps 23:4 in die 1953-vertaling is nie ’n maklik plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water ook van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. In die laatmiddag se skemer word dit ook heel eerste onder in die kloof en vallei donker. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. Wanneer Dawid as jong seun die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang wat in die dal vir hom voorlê. Dit is soos ’n doodskaduwee.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Ons mis vir Dawid Brown. Maar Psalm 23: 5 sê dat sy beker oorloop. Hy kort niks meer nie. Hy kom niks kort nie, aangesien hy ’n geestelike verheerlikte liggaam het. Hy het die wedloop van die lewe voltooi.

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Jy moet nie ’n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek springlewendig wees. Ek sal  uit hierdie ou kleihut na my ewige huis gaan. Ek sal ’n nuwe geestelike liggaam hê wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie. My vleeslike liggaam sal sterwe. My liggaam wat uit die vlees gebore is, kan sterwe, maar wat uit die gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

Die uitdrukking wat gebruik word na iemand sterwe, is dikwels: “Rus in vrede” of die Engelse uitdrukking “Rest in peace (RIP)”. Ek oordeel dat die uitdrukking nie Bybels is nie. Ons gaan nie om te rus nie. Ons gaan springlewendig wees met ’n nuwe geestelike liggaam. Ons gaan nie hemel toe om te rus nie, maar om elke dag die Here te loof en te prys voor Sy troon. Ons gaan besig wees met God se heerlike werke.

My oom het eenmaal opgemerk: “Ons wil almal hemel toe gaan, maar niemand wil sterwe nie.”

Ons moet soos Paulus verlang om heen te gaan om by die Here te wees, maar vir eers moet ons in ons stoflike liggame bly om ons aardse taak te voltooi.

Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter, wat ons wil troos in die aangesig van die dood.

“Winston Churchill was ’n gelowige. Churchill het sy eie begrafnis gereël. Daar was die statige gesange in die St. Paul Katedraal met ’n indrukwekkende liturgie. Maar aan die einde van die diens het Churchill iets ongewoons beplan. Toe hulle die seënwens uitspreek, het ’n trompet hoog in die koepel van die St. Paul Katedraal aan die een kant ‘Taps’ gespeel, die universele militêre teken dat die dag verby is en dat die manskappe bed toe moet gaan. Daarna was daar ’n lang pouse. Toe speel ’n trompet aan die ander kant ‘Reveille’, die militêre  wekroep om op te staan, die nuwe dag het aangebreek. Dit was Churchill se manier om te kommunikeer dat, terwyl ons hier “Goeienag” sê, dit “Goeiemôre”  daarbo in die hemel is. Nou hoekom kon hy dit doen? Omdat hy in Jesus Christus geglo het, wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al was hy dood.’”   (Robert Russell)

Dietrich Bonhoeffer, die groot Duitse Christenmartelaar, wat weens sy verset teen die Nazi’s gevange geneem is, is daarna ’n paar dae voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog tereggestel. Terwyl hy weggeneem is om in ’n konsentrasiekamp tereggestel te word, het hy hierdie woorde gesê: “Dit is die einde van die lewe. Vir my, die begin.”

John Rogers, die Protestantse martelaar, is in 1555 vir sy geloof verbrand op die brandstapel. Die destydse Franse ambassadeur het hom op pad na sy teregstelling waargeneem. Hy het huis toe geskryf en gesê Rogers lyk“soos ’n man op pad na sy troue.”  Soos ons die dood nader, weet ons dat dit nie die einde is nie. Dit is eintlik ’n reis deur die dood na die ewige lewe saam met God. Daar is hoop . Daar is betekenis. Daar is blydskap. Hierdie lewe is nie net ’n kort reis van niks na niks nie.

Die dood is toe nie so verskriklik nie. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

Dawid se beker loop oor. Hy kort niks meer nie. Hy het aan niks meer behoefte nie.

Laat ons ook soos koning Dawid opstaan en sê:  Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)