Die dood is die saaisak, om saad te saai vir God se somer

SKRIFLESING:  1 Kor 15: 35 – 58

Prof Johan Cilliers vertel dat sy oupa begrawe lê op ’n familieplaas in die omgewing van Kuruman. Sy ouers vertel hom dat op ’n stadium, lank nadat die familieplaas verkoop is, die familie besluit het om ’n besoek te bring aan die familie-kerkhof, wat in ’n rustige uithoek van die plaas geleë was. Groot was hulle skok om te sien hoe verwaarloos dit was. Die ergste was die gesig van ’n jong boom wat in die middel van sy oupa se graf gegroei het. Die boom was so groot dat die voëls al kon nesmaak en die boom het al ’n skaduwee oor die graf gegooi. Dit kon mos nie. Hoe kon ’n boom in die middel van ’n graf opkom? Hulle ontsteltenis het later plek gemaak vir verwondering. Is dit nie juis die simbool dat die liggaam wat dood is, ’n wederopstanding beleef in ’n nuwe gedaante nie? Daar kom lewe uit die dood. Dit is immers die roemtaal van Paulus in 1 Kor 15: 35 – 58.

Die hele skepping is bewys van die lewendmakende herskeppingswonders van die natuur. Al die plante, gras, bome en struike wat jou tuin so mooi maak, was eers ’n ander gedaante. Dit moes van gedaante verander om te kan lewe. Daarom beskryf Paulus dat ons van gedaante moet verander, soos wat ’n koringkorrel in die grond val en sterf en in ’n nuwe gedaante, in die gedaante van ’n plant, opkom. So wonderbaarlik soos dit is, so wonderbaarlik is die opstanding uit die dood.

Luther het dikwels na die begraafplaas as God se saailand verwys. Met die dood word die mens se ou liggaam gesaai in die grond, sodat dit in ’n nuwe geestelike liggaam verrys.

Luther het aangrypend hieroor geskryf in ’n reeks preke oor 1 Korintiërs 15, tydens die Adventstyd van Desember 1532. Luther skryf dat tydens die saaityd dit lyk of die saad verlore gaan, uitgelewer word aan wind en weer en die wurms van die aarde en die voëls van die lug, maar laat die somer net kom en jy sien hoe dit groei.

Martin Luther skryf voorts: “ Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklike dóód nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek van somerbelofte …”  (Johan Cilliers)

“God is groter as enige saaier op aarde. Die saad wat Hy saai, is die mense. Hy dra ’n saadsak, gevul met mense-saad van Adam tot op die laaste dag. Wanneer ons mense sien sterf, is dit God wat Sy hand in die saaisak sit en ’n handvol om Hom op die grond gooi.” (Johan Cilliers)

So het Jesus Christus met sy kruisdood ook in die grond geval en gesterf. Maar Hy het ’n groot oes ingebring. Daarom staan daar in Joh 12: 24 die volgende: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug.” Daarom is Christus die eersteling van die oes. Jesus is die eerste saad wat gesaai is en opgestaan het uit die dood, om vir ons die pad voor te berei na God se ewige somer.

Uitdruklik verklaar Paulus dat ons liggame van vlees en bloed nie deel kan kry aan die Koninkryk van God, mits ons verander in nuwe geestelike liggame nie. Paulus verklaar ook dat die nuwe baie beter is as die oue. Paulus verduidelik dit as volg in 1 Kor 15: 42 – 44: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid;   wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word,  is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word,   is ’n geestelike liggaam.   As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Dit is ons blye versekering, ons is God se somersaad. Ons is bedoel om in God se somer te blom. God se somer wat geen einde het nie. 

Daarom moet ’n kerkhof of ’n begraafplaas ons nie morbied laat nie. Sê eerder saam met Kohlbrugge, ’n predikant uit die vorige eeu: “Daarom, wanneer ek sterwe … en iemand vind my skedel, laat hierdie skedel dan aan hom verkondig: ek het geen oë nie, nogtans sien ek Hom; ek het geen brein of verstand nie, nogtans ken ek Hom; ek het geen lippe nie, nogtans kus ek Hom, ek het geen tong nie, nogtans prys ek Hom … Ek is ’n harde skedel, nogtans is ek gesmelt in sy liefde; ek lê hier op God se akker, nogtans is ek in die paradys.”

Eugene Peterson stel dit so mooi in The Message: “Death is swallowed by triumphant Life! Who got the last word? Oh, death? Oh, death, who’s afraid of you now?”

Op daardie eerste Paasoggend is die dood van sy oorwinning beroof.

Jerry Sittser vertel dat in die herfs van 1991 ’n motor wat deur ’n dronk persoon bestuur is, in sy baan ingeslinger en kop-aan-kop  in sy minibus vasgery het. Sittser en drie van sy kinders het oorleef, maar Sittser se vrou, vierjarige kind en ma is in die ongeluk dood. Oor die jare het Sittser ’n paar diepgaande besinnings oor verlies, hartseer en lyding aangebied. In sy boek “A Grace Revealed” deel Sittser die volgende storie oor hoe sy seun David op die tragiese ongeluk gereageer het. Sy seun het eenkeer terwyl hulle op pad skool toe was, skielik gevra: “Dink Pa dat Ma ons nou sien?” Jerry Sittser het stilgebly om te dink. “Ek weet nie, David. Ek dink miskien sien sy ons. Hoekom vra jy?” David antwoord: “Ek sien nie hoe sy kan nie, Pa. Ek het gedink die hemel is vol geluk. Hoe kan sy dit verduur om ons so hartseer te sien?”

“Ek dink sy sien ons wel,” het Jerry Sittser uiteindelik gesê. “Maar sy sien die hele storie, insluitend hoe dit alles goed gaan uitdraai. En dit is vir haar pragtig. Dit gaan ’n goeie storie wees, David.”

Sittser het in die nadenke daaroor in sy boek bygevoeg: “Ek sal nie waag om die aantal kere wat ek gevra is, te skat nie: “Hoe spreek die Christendom die probleem van lyding aan?” … Die Christelike antwoord op lyding [is] Christus se lyding [en] Christus se opstanding … God ken pyn in Homself; God ken vreugde in Homself. Hy ken die hele storie as een, insluitend hoe dit alles uitdraai, wat inderdaad heerlik is.”

So ken God ons hartseer en ons sterwe, maar Hy weet ook hoe dit alles gaan uitdraai. God weet die dood loop uit op die ewige lewe.

Die dood is ons vyand, maar, soos die wet, is dit ook ’n skoolmeester wat ons na Christus lei. Die dood se harde les ontbloot die ware aard van sonde. Inderdaad, die wet en die dood is vreemde bondgenote in hierdie geheimsinnige werk om ons na Christus te lei. In die hande van God spoor die wet en die dood ons aan om na Christus te draai vir verligting van die dood se angel.

Daarom is die dood soos die Begrafnisformulier dit stel, ’n herinnering dat jou eie dood ook kom en dat jy daarom in gebondenheid met die Here moet leef. Jy hoef egter nie in vrees te lewe nie. Die dood is oorwin. Die dood is die saaisak om saad te saai vir God se somer. Jy is God se saad, geroepe tot die ewige heerlikheid.

Claudette het die groot terugslag in haar lewe baie goed verwerk en sy was nie daaroor verbitterd nie. Ten spyte van haar ongeluk jare gelede, was sy nooit opstandig nie. Sy het ’n kind van die Here geword en selfs evangelisasie-werk gedoen. Met haar groen driewielfiets was sy ’n legende in die dorp. Haar aangename persoonlikheid sal baie gemis word. Haar humorsin was altyd haar sterk punt. Boonop het sy haarself nooit jammer gekry nie. Sy het haar gestremdheid met waardigheid gedra en vir ons almal ’n voorbeeld gestel, om altyd in moeilike omstandighede só op te tree. Sy was werklik vir ons almal ’n inspirasie.

Claudette is nou by haar hemelse Vader. Daarom kan ons getroos wees.                                           AMEN   

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van tentwoning na ewige woning

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Sakkie het nog twee genadejare bygekry.

Maar die afgelope paar jaar het ons gesien hoe Sakkie Rheeder se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Sy liggaam  het verswak en die tent het begin skeur. Op 21 Junie 2024 het sy tentwoning ineengestort en het hy ’n permanente woning gekry by sy hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word op die ou end eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.”

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Sakkie Rheeder het nie die ewige dood gesterf nie. Hy is veilig by die Here.

Die geleidelike aftakeling van sy liggaamlike gesondheid was vir ons almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat hy verdere lyding en agteruitgang gespaar is deur sy dood. Ons is verheug dat hy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Sakkie Rheeder se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier sy lewe. Ons vier sy nagedagtenis.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Peter Joshua, Leadership, Vol. 7, no. 4.

Lee Eclov, in the sermon: It Doesn’t Sting Anymore, PreachingToday.com

Diensbaarheid teenoor verheerliking

SKRIFLESING: Mark 9: 2 – 9 en Johannes 13: 1 – 17 en Johannes13:  34 – 35.

Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op pad was van Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders gewerk op die aartappellande.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “ Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in Londen het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in goeie fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.

“’n Sjieling (10c), meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “ ’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal …”  (En sy wys vir hom die muntstuk.)

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hulle groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … Dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook. Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.

’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie.

Of ’n meer onlangse voorbeeld wat na 1994 in Johannesburg afgespeel het: ’n Vrou in ’n spogwoonbuurt in Johannesburg se motor wou die wintersoggend nie vat nie. (Gewoonlik battery-probleme.) Sy wink ’n swartman nader en vra: “Outa, wil jy nie gou vir my die kar stoot nie – ek is laat vir werk.” Vriendelik willig hy in en help haar om die motor aan die brand te stoot. Sy stop hom R1 in die hand en sê dankie. ’n Week later vind sy uit dit is haar nuwe buurman en hy is ’n advokaat in die Randse Hooggeregshof. Toe sy by die asbesheining kennis maak en om verskoning vra, glimlag hy en antwoord: “Toemaar, Mevrou ons sukkel almal maar nog om aan die nuwe Suid-Afrika gewoond te raak.”

Ware groot mense is nie bang om te dien nie. Die skopus van die preek is: Diensbaarheid teenoor verheerliking.

In die Markus Evangelie is Jesus Christus natuurlik vir ons die allerbeste voorbeeld. In ons gelese gedeelte word daar op die berg die grootheid en die koninklikheid van die Here Jesus openbaar. Wanneer Sy klere skitterwit verander en Sy aangesig verander en hy saam met Elia en Moses verskyn word die Gans Andersheid van Jesus Christus openbaar. Christus Jesus is nie van die skepping nie. Hy is nie van die stof van die aarde nie. Sy afkoms is Goddelik en Hy sal eendag weer verheerlik word as die opgestane Seun van God. Eintlik was hierdie ’n stuk profesie dat Jesus Christus na Sy lyding uit die dood sou opstaan. Dit was ’n stuk heerlikheids-aankondiging van die uiteindelike heerlikheid wat vir die Seun van God wag. Die stem uit die wolk het dan ook duidelik aangekondig: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

Petrus, Jakobus en Johannes was so aangedaan deur hierdie hemelse openbaring – dit was vir hulle iets uit ’n ander wêreld. Petrus, stomgeslaan, sê: “ Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Eintlik wou Petrus hierdie hemelse ervaring vries. Hierdie oomblikke van heerlikheid moes nie verby gaan nie. Kom ons bou hutte, ’n kasteel om hierdie heerlike ervaring vir ewig vas te vang. (Hulle kon nie ’n foto neem nie – maar dalk kon hulle die Here Jesus oortuig om saam met Moses en Elia te bly.)

Dalk wou die dissipels die Here die lyding en die selfverloëning spaar – daarom wou hulle vir Hom op hierdie plek van aanbidding ’n hut bou, saam met die hutte van Moses en Elia.      

Die Here het egter gekom om te dien en nie om gedien te word nie. Hy het gekom om vir ons ’n tuiste (’n kerk op die aarde en ’n woning eendag in die hemel) te skep en nie dat ons vir Hom ’n hut moet bou nie.

Daarom verdwyn die wolk en die stem; en die gedaante en klere van die Here Jesus word weer doodgewoon. Die Here Jesus verbied hulle vir eers om daaroor te praat – want, eers moet die Seun van die mens dien en ly.

Die Here Jesus het die siekes, die blindes, die kreupeles, die armes en die sondaars gedien. Hy het voete gewas en gesê ons moet soos kindertjies wees. Hy het gepraat van diens en selfverloëning en gehoorsaamheid.

Jesus Christus is ’n Koning – maar Hy het gedien soos ’n slaaf.

Ons is koningskinders – maar ons moet slawe vir mekaar wees.

Daarom word ’n geestelike lewe van heerlikheid afgewys en ’n geestelike lewe van gehoorsaamheid, gedienstigheid en dissipelskap bepleit.

Die Here Jesus het in doodgewone klere en in doodgewone omstandighede gedien. Daarom het so min mense Hom erken as die Messias. Maar deur Sy doodgewone diens het Hy die wêreld onherroeplik verander. Soos die meisie met die tas nie die hertog herken het nie, so het die mense in die tyd van die Here Jesus, Hom ook nie herken as die Messias nie.

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie? Dit bring ons by Johannes 13. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir Sy dissipels ’n les in Johannes 13: 1 – 17. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en Sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ’n maaltyd.

Hierdie maaltyd was dan ook die geleentheid waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer oor die naderende kruisdood van Jesus, is hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere-posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is. Wie bedien sal word en wie sal dien. So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ’n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die selfgesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ’n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe Hy Sy bokleed uittrek, op Sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ’n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ’n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ’n slaaf kom doen. Hierdie voetwassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van Sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met Sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het Sy alles, tot Sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle gedien het, moet julle mekaar dien.

Bid en vra die Here Jesus om ook vir u en my ’n geaardheid van diensbaarheid te gee.

Verheerliking wag eendag vir ons. Maar nou moet diensbaarheid ’n deel van ons karakter en lewe wees. Diensbaarheid is om uit te reik na ander mense en hulle te help. Ons moet nie in ons eie “borrel” sit en niks met ander mense te doen te wil hê nie. Gemaksones is gevaarlik, want jy wil alleen maar net oorleef. Jy moet uit jou gemaksone beweeg en ’n verskil maak in ander mense se lewens.

Verheerliking later, nou diensbaarheid!

Nie deur die septer nie, maar deur die kruis het die Here Jesus die wêreld verander. Sy heerlikheid het Hy verberg en vir Sy dissipels gesê om vir eers nie daaroor te praat nie. Nie met heerlikheid nie, maar met nederige diens het Hy die wêreld verander.

Ons verwag ’n koninklike geboorte, maar vind ’n krip.

Ons verwag ’n groot aanhang, maar vind verraad.

Ons verwag ’n Halleluja-koor, maar vind ’n kreet: “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Ons verwag koninklike klere, maar vind naaktheid.

Ons verwag eerbetoon, maar vind sweepslae.

Ons verwag ’n rosekrans, maar vind ’n doringkroon.

Ons verwag ’n troon, maar vind ’n kruis.

Daarom herken so min mense die Hertog van die hemel, die Hertog wat kom dien het. Mag ons Hom weer opnuut herken in sy vreemde gestaltes.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om grense oor te steek

SKRIFLESING: Joh 4: 1 – 42

Alle grense wat daar bestaan is die gevolge van sonde. Reg aan die begin het Adam en Eva gesondig en hulle is uitgesit uit die Paradys, met engele as wagte van die eerste grenslyn. By die toring van Babel was die straf dat daar skeidslyne gekom het tussen tale en kulture. Mense het mekaar nie verstaan nie en elkeen het weggetrek om die hele aarde te bewoon, soos wat God se oorspronklike opdrag was.

Daar is grense in die politiek, die ekonomie, taal en kulturele spanningsvelde. Daar is bykans nie ’n sfeer in die samelewing waar daar nie een of ander grens bestaan tussen mense nie. Hoe banger jy is of hoe meer onseker jy is, hoe meer geneig is jy om ’n grens of muur rondom jou te bou.

In elkeen se lewe is daar natuurlik ook die sogenaamde “skuurpapiermense”, dit is nou die mense met wie ’n mens moeilik oor die weg kom. Hulle skuur gedurig aan jou. Somtyds is dit iemand by die werk, ander tye iemand in die gemeenskap waar jy bly of selfs iemand wat saam met jou in jou huis bly; en somtyds kan ek self ook daardie skuurpapiermens wees. (Braam van der Schyff van Impetus gebruik die term van skuurpapiermense.)

In ons gelese gedeelte van Joh 4: 1 – 42 lees ons hoedat Jesus grense oorsteek na skuurpapiermense en nuwe verhoudinge bou. Jesus en sy dissipels het weggevlug uit Judea oor die jaloesie van die Fariseërs omdat Jesus meer dissipels maak as hulle. Hulle was toe op pad Galilea toe. Hulle het ’n kortpad gevat deur die land van Samaria, waar die Samaritane gebly het. Hulle kom toe op die warmste tyd van die dag by die dorpie Sigar. Net buite die dorp rus Jesus by die put, terwyl sy dissipels dorp toe is om kos te koop.

Toe gebeur die ondenkbare. Jesus maak homself onrein om ’n Samaritaanse vrou en haar dorp rein te maak.

Daar was drie dinge wat teen dié vrou getel het. Eerstens was dit haar afkoms. Sy was ’n Samaritaan en Jesus was ’n Jood. Die Jode het van die Samaritane as “honde” gepraat en daar was voortdurende spanning tussen die twee groepe. Die twee groepe het ook nie met mekaar gemeng nie. Die tweede was haar geslag. In die antieke tyd was dit onbetaamlik vir ’n man om met ’n vrou in ’n openbare plek soos by die put te praat. Vroue was as benede mans beskou en was mans se besittings.

Die derde rede was dat sy reeds vyf keer geskei was en dat die sesde man ook ’n “saambly”-verhouding was. In die Samaritaanse huwelikswet was daar ’n bepaling dat ’n vrou net drie keer mag trou. Daarna moes sy ongetroud bly. Sy was dus ’n uitgeworpene in haar dorpie. Sy was ’n regte skuurpapiermens. Niemand het van haar gehou nie.

Dit verklaar ook waarom sy op die hittigste tyd van die dag, 12h00, vir haar en haar diere gaan water skep. Al die vernaamstes en mense van goeie karakter het vroegoggend as dit nog koel is, gaan water skep. Sy moes haar beurt afwag en heel laaste, wanneer dit op die warmste is, gaan water skep. Sy was ook alleen – ’n verworpene! (Tussen 10h00 en 12h00 was dit boonop etenstyd – almal het toe geëet. Sy moes op hierdie ongerieflike tyd haar kans waag by die put).

Dan ontmoet sy Jesus. Hulle begin oor ’n alledaagse item soos “water” te gesels. Jesus vra vir haar ’n beker water. Onmiddellik reageer die skuurpapiervrou op ’n sarkastiese toon op Jesus se vriendelike versoek. “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (vers 9) Sien u hoe die vrou die grense wat in die destydse samelewing gegeld het as ’n stuk verontwaardiging en verskoning gebruik.

Maar Jesus gaan aan met die gesprek. Hy laat Hom nie van stryk bring nie, want Hy is die een wat grense oorsteek, selfs met die grofste skuurpapier of die hardkoppigste mens.

Jesus bied vir haar water aan; as sy daarvan sou drink sal sy nooit weer dors kry nie. Natuurlik bedoel Jesus dat “Hyself” die lewende water is. Let op die woordspel. Die water wat by die put geskep word, vra menslike inset. Jy moet “skep”. Die water wat Jesus gee is ’n fontein wat opborrel, dit is verniet en jy hoef nie daarvoor te delf nie. Verlossing is nie mensgemaak deur te delf nie, maar word aan ons gegee uit vrye genade, dit borrel op na ons toe.

Maar die Samaritaanse vrou soek ’n nuwe twispunt. Dit is ’n eeue-oue twispunt naamlik waar ’n mens moet aanbid. Sy wil van godsdiensverskille weereens ’n grens maak. Die Jode sê ’n mens moet God in Jerusalem aanbid en die Samaritane sê die berg Gerisim (Deut 12:5) is die plek van aanbidding. Jesus ontlont die twispunt deur te sê dat God in Gees en waarheid aanbid moet word. Jesus sê as’t ware dat God nie aan ’n bepaalde plek gebonde is nie, maar deur Sy Gees op alle plekke teenwoordig is: in Jerusalem, op die berg Gerisim en ook hier by die put van Sigar. (Gaan lees gerus ook Psalm 139) So steek Jesus ook die grens oor wat destyds bestaan het, waar jy God moet aanbid.

So breek Jesus die grense af, sodat die vrou Jesus nie meer as net ’n profeet sien nie, maar opreg wonder of Hy nie dalk die Christus, die Messias, is nie. Dan gebeur die ondenkbare. Sy hardloop terug na Sigar, die dorp wat haar verwerp het en so word sy ’n draer van die goeie boodskap. Die Samaritane gaan soek Jesus by die put. Die dorp steek ’n grens oor om ’n Jood by hulle waterput te ontmoet. Dan nooi die dorpelinge vir Jesus om in hulle dorp te bly. Jesus bly daar vir twee dae. Dit is so ondenkbaar as wat een van ons vir twee aande in Khayelitsha se plakkersgedeelte sal oornag. Baie van die dorp se mense kom tot bekering en so breek Jesus grense af tussen mense.

Nog ’n voorbeeld in die Bybel is die verhaal van Saggéüs, wat ook ’n skuurpapiermens was.

Niemand het van hom gehou nie. Hy is gebore met ’n Joodse naam Sagaria, maar het later sy naam verander na ’n Griekse naam Saggeus. (Die “us” aan die einde is ’n tipiese Griekse naamvorm). Hy was kort. Dalk het die Jode hom gespot oor sy kortheid en toe word hy Griek en samel vir die Romeinse owerheid tolgeld in. Hy was min of meer so gewild soos die destydse SANRAL met hul tolpaaie in Gauteng was. Maar die ergste was ook dat hy ’n tipiese verneuker was en meer geld geëis het as wat hy mag en die res in sy eie sak gesit het. Hy was die grofste denkbare skuurpapiermens. En toe kies Jesus juis om in die mees ongewilde persoon in Jerusalem se huis tuis te gaan. Jesus se liefde en die feit dat hy bereid was om grense oor te steek, verander Saggeus in ’n goeie, eerbare en regverdige man.

Die barmhartige Samaritaan is ook ’n goeie voorbeeld van iemand wat ’n Joodse man gehelp het wat onder rowers vir dood agtergelaat is. Die priester en profeet het verbygestap omdat hulle bang is hulle word onrein, as die man dalk dood sou wees en dan kon hulle nie hulle diens in die tempel nakom nie. Die reinigingswette was grense wat hulle in stand moes hou. Die Samaritaan het die kulturele grens oortree en vir die man ’n redder geword.

Die Ou Testament het baie lyne as grense gehad. Daar was die lyn van Israel as die uitverkore volk  teenoor die ander volke. Daar was die lyn tussen man en vrou. Die man het die vrou besit en die vrou het na die man gehunker. Daar was die lyn van reinigingswette. Die vraag is wanneer is ek rein en wanneer is ek onrein. As ’n vrou haar maandstonde gehad het, was sy vir die tydperk onrein. As jy aan ’n lyk gevat het, was jy vir ’n tydperk onrein. Daar was die lyn tussen watter kossoorte jy mag eet en watter jy nie mag eet nie. So byvoorbeeld was varkvleis een van die vleissoorte waarvan jy nie mag geëet het nie. So ook as jy aan God geoffer het, was daar ’n klomp lyne betreffende wat jy mag offer en wat jy nie mag offer nie. Die hele Ou Testament is vol honderde lyne van wat mag en wat nie mag nie.

Ons sukkel om hierdie lyne wat dien as grense af te skud. Vandag nog wil ons ou grense in stand hou en nuwe grense en lyne trek. Ons sukkel nog om die lyne tussen man en vrou af te breek. Nog enkele dekades gelede het mans en vrouens apart in die kerk gesit. In baie wêrelddele en kulture word vrouens nog as tweedeklas-mense gesien. Dit kan natuurlik lei tot geslagsgeweld. Patriargisme en matriargisme maak verhoudinge ongesond. Ons trek lyne tussen volke en bou grense. Die voormalige president Donald Trump wou ’n muur tussen Amerika en Mexiko bou. Na die Tweede Wêreldoorlog is die muur tussen Oos-Berlyn en Wes-Berlyn gebou. Daar is sosiale en ekonomiese grense. Wie ryk is, word ryker en wie arm is, word armer. As iemand jou nie êrens ‘n skop in die lewe gee nie, gaan jy nêrens uitkom nie. Op politieke toneel word nie net lyne getrek nie, daar word sommer strepe tussen volksgroepe getrek en hulle betoog en skree mekaar dood. Met slagspreuke word die ander kultuurgroep geteister. Rassehaat het ongekende hoogtes bereik. Nog nooit was die politieke spanning en lyne in ons land so duidelik, sedert President Nelson Mandela regeer het nie. Mandela het probeer lyne uitvee en ’n lewe van versoening propageer in Suid-Afrika. Hy wou vir almal plek maak. Maar die lyne tussen mensegroepe word elke dag al hoe duideliker getrek.

Dan moet ons vanoggend weer die Paas-evangelie hoor. Op Paassondag het Jesus Christus opgestaan uit die dood. Hy het toe begin om grense uit te vee. Met Paassondag het Jesus  die lyn tussen lewe en dood uitgevee. Daarom, as ons in Christus sterf, het ons die ewige lewe en hoef ons nie die ewige dood te vrees nie.

Daar word ook die verhaal vertel uit die Middeleeue van ’n priester wat ’n vrou bygestaan het wie se seun selfmoord gepleeg het. In die Middeleeue het mense geglo dat as jy selfmoord pleeg, jy nie hemel toe kan gaan nie. Daarom was dit die gebruik in die Middeleeuse dorpies dat diesulkes wat hulle eie lewe geneem het, buite die dorp se kerkhof begrawe moet word. (Gelukkig sien ons dit vandag anders. God se genade het nie grense nie, ook hulle wat selfmoord pleeg, word vergeef en is veilig in Jesus se arms.)Maar om terug te kom by die verhaal. Die moeder het ontroosbaar gehuil oor die verwerping van haar seun. Die priester het haar jammer gekry en gesê: “Mevrou, kom ons begrawe hom buite die kerkhof soos die wet bepaal. Ek sal later ’n plan maak.” Hy is toe so ’n paar meter buite die kerkhof begrawe. ’n Week later toe die vrou blomme op haar seun se graf wou gaan opsit, kom sy agter haar seun is nou begrawe binne die kerkhof. Want sien, die priester het die heining van die kerkhof verskuif om ook die seun in te sluit in die kerkhof. Tog het hy daardeur geen van die dorp se wette gebreek nie. So het Jesus ook buite die stad Jerusalem tussen die uitgeworpenes gesterf, sodat Hy die grense van genade kan verlê om ons ook in te sluit in Sy genade.

In die plek van die Joodse godsdienstige begrip van “volk” het Jesus Christus met sy opstanding die “kerk” gestig, wat nie verband hou met volk, etnisiteit, taal of kultuur nie. Die “kerk” het lyne kom uitvee. Daarom bely ons “een, heilige, algemene, Christelike kerk.” 

Christene trek nie lyne nie. Christene stel nie grense op nie. Christene vee lyne uit en bou brûe oor grense.

Daarom verstaan ons nou wat Petrus in Handelinge 10: 34 – 36 bedoel het: Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense.

Wanneer ons grense in stand wil hou, wat mense uitsluit, kan ons nie deel wees van God se Missio Dei nie. God breek mure af en steek grense oor, omdat Sy hart van liefde brand.

Dan kan ek saam met Johannes Kerkorrel sing: “Gee jou hart vir Hillbrow, Khayelitsha, die bergie onder die brug, die straatkind by die verkeerslig, die mede-gelowiges wat anders as ek lyk, want Jesus is die Messias.”

Dan is ons mense besig om God se wil te doen. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lig kan jou verblind of laat sien

SKRIFLESING: 2 Kor 4: 3 – 6

Wat enige motoris kwaad maak, is wanneer hy/sy in die nag bestuur en daar kom aankomende verkeer en hulle domp nie hulle ligte nie.

Hoe nader jy aan die aankomende voertuig kom, hoe minder kan jy sien en later kan jy glad nie meer sien nie. Jy hoop maar net daar is nie iets voor jou in die pad nie. ’n Mens is so bang dat daar ’n bees of bok in die pad is en jy sien dit nie. Nog erger, as daar ’n persoon oor die pad stap en jy sien nie vir hom of haar nie. Dit is senutergend. Dit is wanneer lig jou verblind.

Nog ’n voorbeeld is wanneer kunstenaars op ’n verhoog optree en die lig skyn direk op die kunstenaars. Die kunstenaars is as’t ware verblind, want hulle kan nie die toeskouers mooi sien nie omdat die ligte hulle verblind. Dit is wat Paulus bedoel in 2 Kor 4: 4 wat lees: “vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is”. Daar is baie gode wat mense verblind sodat hulle nie kan sien wat regtig belangrik in die lewe is nie. Die sug na rykdom, mag, posisies en sondige seksuele begeertes verlei mense, sodat hulle verblind is en nie kan sien wat regtig belangrik is in die lewe nie. Hulle is so verblind dat hulle Christus nie kan raaksien nie. Richard Foster het byvoorbeeld ’n paar jaar gelede ’n boekie geskryf met die titel: “Sex, money and power”. Dit is die drie hoofgode onder die baie gode van ons tyd. Dit is gode wat jou aandag wegtrek van Christus. Hulle verblind jou.

Wanneer lig direk op jou val, verblind dit jou. Saulus was op pad van Jerusalem na Damaskus toe God se lig ook op hom geval het en hom heeltemal verblind het. Maar God het met Saulus ’n plan gehad. Drie dae later in Reguitstraat in Jerusalem kon Saulus weer sien, nadat hy deur Ananias aangeraak is, en sy naam is verander na Paulus. Hy het nou self die lig van God geword wat uitstraal, sodat ander God kan sien. Hy het driekwart van die Nuwe Testament geskryf en baie mense tot die lig gebring. Sy briewe het deur die eeue mense tot die lig gebring.

Met die aanvang van die Skepping was die wêreld woes en leeg en donker. En dan staan daar in Genesis 3:l: “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” Dan lees ons hoe daar lig gekom het en skeiding tussen dag en nag. So het daar met die Skepping orde uit die chaos gekom.

Met die herskepping het God sy Seun Jesus Christus gestuur en ons lees in Johannes 1 dat Hy die lig van die wêreld was. Deur Christus het daar lig vir die hele wêreld gekom. Weereens het God orde gebring, deur sy Seun Jesus Christus, sodat elkeen wat in die regte verhouding met Christus staan, ’n lewe van morele ordentlikheid kan lewe.

 Dit is wat Paulus in vers 6 verduidelik: “Want God wat gesê het, ‘Laat daar uit die duisternis lig skyn,’ dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.” Ons moet as’t ware self die ligbron wees.

Om ’n ligdraer van Jesus Christus te wees, moet ek plugged in wees by Jesus Christus. As Jesus Christus nie in my lewe is nie, is ek nie “ingeprop” nie. Dan kan ek nie lig gee nie.

In die hemelse ESKOM is daar nie kragonderbrekings nie. Nee, daar is net mense wat nie “ingeprop” is by Jesus Christus nie. Sonder Christus in jou lewe, is jou lewe donker en tier die sonde welig in jou hart en lewe.

Hulle het al bewys hoe die misdaad in die stad New York opskiet as daar ’n kragonderbreking is. Net so skiet die sonde in ons lewe die hoogte in as ons nie ingeprop is by Jesus Christus nie.  

Hier kom ons by die “sleutel” van die preek uit.

Ons almal wil graag hê die lig moet op ons val. Die spreiligte van roem, bekendheid, gewildheid, rykdom, voorspoed en sukses moet op ons val. Hierdie ligte is so skerp dat dit ons verblind, sodat ons niemand anders kan raaksien nie. Dit gaan net oor die self en die eie ek. Ek wil in die lig wees en ander mense moet my raaksien. Dit verblind my egter heeltemal om ander mense raak te sien.

Maar wanneer ek die ligbron is wat lig uitstraal, dan kan ek ander mense skielik sien. Ek is nie meer blind nie.

My pad is verlig en ek kan almal wat die Here oor my pad stuur, raaksien. Ek kan ’n medemens raaksien. Die lig van die Here wat oor my skyn, maak dat ek self ’n ligbron is wat lig uitstraal en ’n ligdraer van die Here is. Maar ek staan agter die lig. My lig as Christen val op ander mense om vir hulle lig te bring.

Ek moet nie dat die lig op my val nie. Ek moet dat die lig op ander val. Ek moet nie oor my eie suksesse praat nie, maar oor ander se suksesse. Ek moet nie myself voorstoot nie, maar ander mense voorstoot. Ek moet nie alleen my eie voordeel soek nie, maar ook ander se voordeel. Ek moenie mag soek nie, maar eerder geleenthede om ander te dien. Laat jy die lig op jou val of laat jy die lig op ander val? As jy die lig op jouself laat val, sal jy verblind wees. As jy die lig op ander laat val, sal jy kan sien.

Lig kan jou verblind of laat sien!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Kinders het goeie vaders nodig

SKRIFLESING: Luk 15:20-24

Die wêreld kort goeie vaders. Ons lewe in ’n wêreld waar ons die rolmodel van goeie vaders nodig het. Die samelewing word gekenmerk deur vaderlose kinders en afwesige vaders. In baie huise is daar wel vaders, maar dit gebeur te dikwels dat vaders nie goeie rolmodelle is nie.

’n Vaderlose samelewing veroorsaak allerlei gemeenskapsprobleme soos misdaad, dwelmmisbruik, afhanklikheidsverslawing, geweld teen vroue en kinders, gedragsprobleme, bendegeweld en nog vele ander euwels.

Kom, laat ons sommer reg aan die begin sê dat goeie pa’s net so belangrik soos goeie ma’s is. Vaders het ’n enorme invloed op hulle seuns en dogters se lewens. Dogters moet droom om eendag te trou met mans soos hulle pa’s. Seuns, weer, moet begeer om eendag volwasse mans te word soos hulle vaders se voorbeeld. Pa’s speel ’n enorme rol in hulle kinders se emosionele welsyn.   

In die ouer samelewings is gesinne gedefinieer as ’n huis met ’n pa en ’n ma en kinders wat saamgebly het. Maar baie dinge het verander.

Dekades gelede was die swart bevolking in Suid-Afrika se gesinslewe baie gesond. Toe kom die myne en tienduisende mans moes in kampongs lewe ver van hulle gesinne af. Vir die mynbase was dit ’n goedkoper opsie as om elke gesin van ’n mynhuis te voorsien. Dit het tot gevolg gehad dat die swart gesinne hulle vaders net so twee keer per jaar gesien het. Die kinders het pa-loos grootgeword. Die kinders het hulle identiteit verloor en so het misdaad en geweld deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword.

Die onlangse wetgewing dat elke ma R350 per kind ontvang as ’n kindertoelaag, was ook ’n verkeerde besluit. Jong tienermeisies sorg dat hulle swanger word om die R350-kindertoelaag te ontvang. Die kinders word gebore sonder ’n huis en sonder ’n pa. Jong manne loop rond en maak meisies swanger, maar wil nie die verantwoordelikheid van ouerskap aanvaar nie. Daar word bitter min kinders binne die huwelik in Suid-Afrika gebore. Die meeste is buite-egtelik en waarvan die pa’s wegstap van hulle verantwoordelikheid.   

Die Westerse samelewing wat geskoei is op produktiwiteit, het ook die gevolg  dat vaders lang ure werk en dikwels min tyd het vir hulle kinders. Dit skep ook weer sy eie probleme.

Ons land beleef ’n groot maatskaplike probleem wat misdaad, geweld, dwelmsindikate, afhanklikheidsverslawing, verkragting en geweld teenoor vroue en kinders betref. Die rede daarvoor is hoofsaaklik omdat kinders nie meer die gesonde rolmodel van ’n vader het nie.

Deur navorsing is bevind dat 98% van misdadigers wat in Amerikaanse tronke vir ernstige misdaad soos moord en gewapende roof is, geen goeie verhouding met hulle pa’s gehad het nie.  

Pa’s wat liefdevol betrokke is by die opvoeding van hulle kinders, skep jongmense wat stewig op die grond staan. Pa’s is vir die samelewing lewensbelangrik. Ons moet die waarde van vaders herontdek. Die Here het beslis nie net vaders gemaak om kinders voort te plant nie. ’n Pa het ’n morele verantwoordelikheid vir elke kind wat hy in die wêreld gebring het. Dit is sy heerlike voorreg om hulle vader genoem te word.    

Ek haal die volgende aan uit ’n preek van die NG Kerk Kraggakamma:  “Die volgende statistiek toon aan waarom dit so belangrik is dat ouers die Here dien: As Pa ’n Christen is (saam met Ma), is die kans 93% dat hul kinders Christene sal wees. As net die ma ’n Christen is, is die kans 17% dat haar kinders Christene sal wees. As nie die ma of pa ’n Christen is nie, is die kans 3% dat hul kinders Christene sal wees. Wanneer Ma en Pa positiewe betrokke lidmate is, is die kans 80% dat hul kinders betrokke lidmate sal wees. Wanneer net die pa ’n positiewe betrokke lidmaat is, is die kans 70% dat sy kinders betrokke lidmate sal wees. Wanneer net die ma ’n positiewe betrokke lidmaat is, is die kans 30% dat haar kinders betrokke lidmate sal wees. Wanneer kinders by kategese afgelaai word, is die kans 10% dat hul betrokke lidmate sal wees.”

Die rol van ’n pa in die godsdienstige ontwikkeling van sy kinders is uiters belangrik. Kinders sien hulle pa’s as sterk. As my “sterk” pa die Here nodig het, het ek ook die Here nodig. (Dit verklaar bogenoemde statistieke.)

Ons gaan vanoggend in Lukas 15 kyk na die gelykenis van die verlore seun. Baie word gemaak van die verlore seun en ook selfs van die opstandige seun wat nie bly was oor sy broer se terugkoms nie. Vandag gaan ons na die vader kyk.  Elkeen van die karakters leer belangrike lesse vir Christene. In Luk 15:20-24 leer ons ’n paar dinge oor die vader, wat Christenvaders moet navolg terwyl hulle probeer om hul kinders groot te maak in die opvoeding en vermaning van die Here.

1. Die vader was geduldig – Alhoewel die seun lankal weg was, het die pa nog steeds na hom gesoek en was hy voortdurend op die uitkyk vir hom. Die vader se oë was gedurig op die pad, daarom kon hy toe sy seun nog van ver aankom, na die seun toe hardloop. Sy oë het nooit moeg geword daarvoor om na sy eiesinnige seun te soek nie.

2. Die vader was liefdevol – Toe hy sy seun sien kom, het hy na hom gehardloop. Hy kon nie wag dat sy seun na hom toe kom nie. Hy het dadelik sy seun omhels en gesoen. Die pa het nie eens gevra vir ’n verduideliking van waar hy was of wat hy gedoen het nie. Hy het nie vir hom ’n lesing gegee oor “jy moes van beter geweet het,” of  “ek hoop jy het jou les geleer,” nie.  Die vader was buitengewoon liefdevol teenoor sy seun. Dit was nie ’n voorwaardelike liefde nie, maar totaal onvoorwaardelike liefde wat geen grense ken nie.

3. Die vader was vergewensgesind – Ons weet hy was vergewensgesind omdat sy optrede dit gedemonstreer het. So angstig was hy om sy seun te vergewe dat hy sy seun nie toegelaat het om sy pleidooi te voltooi nie. (In Luk 15:18-19 beplan die seun om sy pa te vra om hom ’n dienskneg te maak. Maar die pa verhoed hom om verder te praat in Luk 15:21-22). Die vader het sy eiesinnige seun op sy oorspronklike plek herstel. Vergifnis is die belangrikste element in verhoudings. As daar nie vergifnis is nie, word wrokke gekoester, wat jou lewenslank kan treiter.

4. Die vader het sy prioriteite op die regte plek gehad – Die belangrikste ding was nie dat sy seun gesondig het nie, nie dat hy sy vader uitgebuit het nie, nie dat hy sy vader ongekende hartseer veroorsaak het nie; die belangrikste was dat sy seun gelewe het en huis toe gekom het. Die terugkeer van die verlore seun was die enigste fokus van die vader. Daarin het sy blydskap gelê.

Johannes Calvyn het gesê kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die kind kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die kind moet die liefde van God ervaar om geborgenheid te ervaar. Die kind moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  Daarom moet die kind al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ’n afspraak het. Die kind moet leer dat daar ’n oggendgebed is en dat daar in die aand boeke gevat word, deur stiltetyd te hou. Die vader as geestelike leier van sy huis moet hierin die voorbeeld vir sy kinders wees.

’n Klein seuntjie het gefrustreerd en naby aan trane gesit. Hy het probeer om ’n vlieër te bou, maar hy kon dit nie in die lug kry nie. Sy pa het gekom en tydsaam die vlieër reggemaak en vir sy seun geleer om die vlieër in die lug te kry. Die seuntjie was dankbaar vir die liefdevolle en hulpvaardige belangstelling wat sy pa getoon het. Vir die res van sy lewe sal hy daardie dag van kwaliteit-aandag van sy vader onthou.

Ons sal in hierdie land moet leer om die Rubicon oor te steek, waar vaders weer hulle regmatige plek inneem, en om weer pa te wees vir hulle kinders in die volste sin van die woord. (“Rubicon” beteken om ’n grens oor te steek wat dapperheid vra en waar daar geen terugdraai is nie – die woord het sy oorsprong in Julius Caesar se geskiedenis.) Alleen dan sal Suid-Afrika gered kan word van sy totale maatskaplike verval.

Afwesige vaders = maatskaplike verval. Betrokke vaders = maatskaplike opbou.

Cecil Taylor het die volgende gesê oor om ’n Rubicon oor te steek:  “Een enkele besluit kan toekomstige geslagte beïnvloed. In 1940 het my ma en pa Christene geword. My pa het gesê: “Wat my en my huis betref, ons sal die Here dien!” Omdat my pa besluit het om Christus te volg, het ek ’n Christen geword. Omdat ek ’n Christen is, het my kinders Christene geword. Omdat my kinders Christene is, word my kleinkinders Christene. Een besluit wat in 1940 geneem is, het vier generasies en 75 jaar, en waarskynlik meer, beïnvloed. ’n Besluit wat vandag geneem word, kan dinge vir toekomstige geslagte bepaal.”

Daar word gesê dat enige man ’n pa kan word, maar dat dit ’n spesiale soort man vra om ’n pa te wees! Die ideale vader is meer as om bloot deel te hê aan die voortplanting van die kind; hy help om die kind regdeur sy groeijare te vorm deur ruim hoeveelhede kwaliteit liefde, leiding, regstelling, vergifnis en lof uit te deel. Gelukkig is diegene wat ’n pa gehad het met wie hulle so ’n persoonlike verhouding gehad het.

1 Kor 13 vir pa’s:

“Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos ’n bankkrediet met ’n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek ’n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek ’n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

’n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,

’n Pa se liefde is vriendelik met ’n kind wat nie wil rugby speel nie,

Hy is nie afgunstig op pa’s met slimmer en mooier kinders nie,

Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,

’n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,

Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,

Is nie liggeraak en nukkerig as ’n kind bietjie ekstra aandag soek nie.

’n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper hulle nie met verwyte nie.

’n Pa verbly hom nie oor ’n kind se foute met:

‘Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie.’

Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat – selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,

In hulle glo,

Die beste vir hulle hoop,

En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

‘n Opregte drukkie en ’n intieme gesprek van ’n ouer bly lank in ’n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.

Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.

In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek ’n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid,

Maar noudat ek ’n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,

Maar eendag as hulle groot is,

Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,

En wat God ons almal leer.

En nou:

Geduld, aanmoediging en liefde bly,

Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!”

(Erkenning aan Willem Botha in http://www.heuning.co.ca)

Pa’s moet so leef dat hulle kinders op hulle trots is. Dit is nie ’n trots gebou op sukses, geleerdheid of finansiële welvaart nie, maar eerder ’n trots op die karakter van hulle pa.

Ons kan nou al die vader-kind-verhouding ervaar wanneer ons God as ons hemelse Vader ervaar. Daarom leer die Onse Vader vir ons: “Ons Vader wat in die hemel is ……”

Wees ’n pa en ’n oupa wat ’n persoonlike verhouding met jou kind of kleinkind het.                                   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Bible Illustrations (AMG International Inc)

Taylor, Cecil. Cross this Rubicon!

www.heuning.co.ca

Die doop as ‘n seël

SKRIFLESING: Hand 16: 14 – 15 en Gal 3: 26 – 29

Seëls was klein gegraveerde voorwerpe, meestal in die vorm van ’n ring, om afdrukke in klei of was te maak.

Seëlafdrukke wys dat die dokument eg is, of dat die dokument nog nie oopgemaak is nie. Op die seël was gewoonlik die eienaar se naam, kop, amp of familiewapen gegraveer.

’n Seël kon aan ’n persoon gegee word om aan hom die mag te gee om die eienaar van die seël te verteenwoordig. So lees ons in Gen 41:42 dat koning Farao aan Josef, wat ’n slaaf was in Egipte, sy seëlring gee as teken dat hy nou die tweede hoogste is in die Egiptiese Ryk en dat hy met die Farao se seëlring namens die Farao kon regeer.

Die Bybel noem twee gevalle waar seëls gebruik is om ingange te verseël. Toe die profeet Daniël in die leeukuil gegooi is, staan daar in Dan 6:18: “Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. ”

Toe Jesus Christus se liggaam in ’n graf gesit is, het die Romeine ook Sy graf verseël, sodat die Jode nie kon sê dat Jesus se liggaam gesteel is nie.

Daarom het ’n seëlring deur die geskiedenis van duisende jare altyd die rol vervul om iets te bevestig as outentiek, eg en oorspronklik. Wanneer ’n dokument ’n koninklike seël opgehad het, was dit altyd die finale opdrag van die koning en kon niks daaraan verander word nie.

Daarom het die opstellers van die Heidelbergse Kategismus ook die doop beskryf as ’n seël, dat die Drie Enige God die dopeling aanneem om Sy kind te wees. Jou verlossing word as’t ware verseël. Jesus Christus het werklik vir jou ook gesterf. Daar word verseël dat jy deel het aan al God se beloftes.

Prof Willie Jonker skryf dat dit in die kinderdoop gaan oor God se voorkomende genade wat die dopeling red. Jesus Christus het gesterf vir my erfsonde en ook alle sonde wat ek nog in my lewe sal doen. Dit is nie die dopeling se geloof en bekering wat die oorsaak of grond van die verlossing is nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief Sy verlossingsplan met die doop aan die dopeling kom beseël het.  Die beloftes wat in die doop uitgebeeld en verseël word, moet in geloof en gehoorsaamheid aanvaar word. 

Die doop is die seël wat waarborg dat die Here instaan vir al ons sondes. Hierdie seël van verlossing word vanoggend in Coenraad se lewe bevestig. Die ouers Coenie en Nandie kan nooit die waarborg wees nie. Julle kan nie instaan vir sy sonde nie. Net die Here kan instaan vir sy sonde. Dit waarborg Hy in die doop.

Gal 3: 26 – 29 sê dat ons as’t ware deur die doop Jesus Christus soos ’n kleed aangetrek het. Ons het as’t ware Sy verlossing aangetrek. Ons kan ons identifiseer met Christus se verlossing en met Sy duur gekoopte kerk.

Coenraad Pieterse du Preez word vandag, 9 Junie 2024 ’n volle lidmaat van die Here se kerk op Fort Beaufort. Sy doop verseël sy lidmaatskap. Sy doop verseël sy verlossing in Jesus Christus. Coenraad is nou alreeds ’n kind van God. Eendag op ongeveer sestienjarige ouderdom sal hy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap aanvaar. Uit genade en slegs deur genade is hy gered. Dit is God wat die inisiatief neem in die genadeverbond. Dit wil die heilige doop kom verseël.

Deur die doop word ons ook verseël as kinders van Abraham. Coenraad kry deel van die gemeente van Fort Beaufort. Ons as gemeente ontvang die dopeling as medebroer in die Here. Ons as gemeente het net soos hulle ouers en grootouers die verantwoordelikheid om vir die jongeling die regte pad te wys.

Die heilige doop kan net eenmaal bedien word, anders twyfel jy aan God se beloftes. Wat God eenmaal belowe het, kan nie betwyfel word nie.

In sommige Anglikaanse kerke is daar die gebruik om wanneer die erediens begin, die volgende ritueel te volg met die doop van ’n kindjie. Die priester ontmoet die ouers en die dopeling in die voorportaal van die kerk, waar daar ’n doopvont staan. Nadat die dopeling gedoop is, dra die priester die kindjie vorentoe na die liturgiese ruimte en stel die dopeling bekend as ’n nuwe lidmaat van die gemeente.

Die dopeling word nie privaat gedoop nie, want dit is ’n inlywing in die verbondsgemeente. Die verbondsgemeente dra medeverantwoordelikheid met die ouers om die jong verbondskinders te laat opgroei in die Christelike leer en leefwyse.

Die doop is ’n wonderlike troos. In tye van onsekerheid of aanvegtinge kan jy onthou: maar jy is mos gedoop! Ek was eenkeer ’n besoeker by ’n Anglikaanse kerk. Buite die hoofingang was daar ’n bakkie water gemonteer teen die muur. Ek vra toe wat die doel daarvan is. Die priester antwoord dat as iemand kerk toe kom en jy beleef aanvegtinge, kan jy jou vinger natmaak met die water en dit teen jou voorkop druk om te onthou dat jy mos gedoop is en daarom nie bang hoef te wees nie.

Martin Luther het erge aanvegtinge van depressie gehad. Eenmaal toe hy weer so iets beleef, het hy op sy houttafel uitgekerf: “Maar ek is mos gedoop.”

Van die ouers vra God, dat Coenie en Nandie die jong kindjie van kleins af vir die Here sal grootmaak. Dit is ’n heilige belofte wat hulle voor die Here aflê.

Coenraad gaan groot word. Hy gaan leer om te dans. Dan gaan hy met sy meisie en later met sy vrou dans. Om te kan dans, moet jy leer.

Verbondsopvoeding is om te leer om in ritme saam met die Drie Enige God te dans. In ritme met die Drie Enige God beteken om volgens die wil van God te dans. In die doop wat plaasvind “in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, dans die Drie Enige God met die doopplegtigheid. Die Griekse woord om die dans van God Drie-Enig uit te druk is “perichoresis”. Die jongelinge moet net leer om soos hulle ouer word ook saam met die Drie Enige God te dans.

Daarom word ’n lewe saam met Christus so goed opgesom in die lied: “The Lord of the dance.” Mag die ook waar wees in die lewe van Coenraad. Die Drie Enige God gee die melodie en die ritme aan. Coenraad moet net inval by God se dans.

 Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding liefde en strengheid moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree.

’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tug, baie belangrik volgens die Bybel, veral in die Spreukeboek. 

Psalm 1 praat van ’n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met kategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe grootword. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome grootgemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus, byvoorbeeld, het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Coenraad word as ’n jong kindjie ingelyf in die geloofsgemeenskap. Daarom moet pa Coenie en ma Nandie en die grootouers almal saam die verantwoordelikheid op hulle neem om die seuntjie in die weë van die Here groot te maak.

Die Drie Enige God gee die melodie en ritme aan. Leer vir Coenraad om die melodie van God te hoor en die ritme van God aan te voel. Dan sal sy lewe ’n vreugde-dans met God wees.

Dan sal hierdie  babaseun wat vandag deur die doop verseël word as deel van al God se beloftes, eendag ’n Godsman van integriteit en waarheid wees.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Gelukkig is die vredemakers

SKRIFLESING: Mat 5: 9

Wanneer laas het ons werklik vrede gehad? Die laaste keer was in die tuin van Eden. In die Paradys, voor die sondeval, was Adam en Eva in volkome harmonie met mekaar. Hulle was naak, maar was nie vir mekaar skaam nie. Hulle was ook in volkome harmonie met God, want God het hulle elke aand in die aandwind opgesoek. Toe gebeur die sondeval. Dit was die begin van konflik en onvrede. Dit was ook direk daarna dat Kain vir Abel doodgemaak het omdat hy op hom jaloers was. Sedertdien leef ons in ’n wêreld van konflik en onvrede. Op Golgota het Jesus Christus die groot Vredemaker geword wat mens en God versoen het en ook mense met mekaar versoen het. Wanneer Hy weer kom met die wederkoms as die “Prins van vrede” sal  die werklike vrederyk aanbreek.

Maar hier tussen die sondeval en die vrede van die vrederyk wat nog kom, leef ons in ’n tyd van konflik, oorlog en stryd tussen mense. Dit is die gevalle engele en die sondige mensdom wat die konflik en oorlog veroorsaak. God is nie in konflik en oorlog met die mens of die gevalle engele nie.   Dikwels word God blameer in oorlogstyd vir die ellende van oorloë. Maar God is nie die Een wat oorloë veroorsaak nie. God het mense nie programmeer as robotte nie. God het vir die mens die keuse gegee om in elke situasie te kies. Maar ons kies gewoonlik die slegte, die konflik, die onvrede en die oorlog.

Die vrede wat die mens skep, is dikwels soos sandkastele wat met die eerste teken van hooggety weggespoel word. Dit is so vir politieke vrede, ekonomiese vrede, sosiale vrede en huishoudelike vrede. Washington DC het ’n klomp vredesmonumente, wat gebou is na elke oorlog. In 1945 is die Verenigde Nasies gestig om toekomstige oorloë te verhoed. Desnieteenstaande was daar nie ’n enkele jaar waartydens daar nie êrens in die wêreld ’n oorlog gewoed het nie. Hier in 2024 staan die wêreld in die midde van talle oorloë wat die wêreldvrede bedreig.  Vir die mens om vrede op aarde te vestig, is dagdromery. Elke verhouding waarin die mens staan, is broos en breekbaar.

Dan kom ons by die sewende saligspreking, waar Jesus sê: “Gelukkig is die vredemakers …” Die Hebreeuse word sjalom is ’n sentrale begrip in die Ou Testament. Dit is ’n woord wat die volheid en omvang van God se bedoelde heil vir mens en wêreld die beste beskryf. Dirkie Smit skryf: “Sjalom gaan oor die heel maak, die herstel van die totale wêreld wat God gemaak het en vandag nog onderhou omdat Hy dit liefhet met ’n groot en verterende vuur.” Daarom gaan die sjalom nie net oor die verlossing van siele nie, maar die herstel van die hele aarde.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie sjalom moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ’n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef.

Wanneer ons oor politieke vrede praat, moet ons versigtig wees. Sommige mense maak politieke vrede die alfa en die omega van die sjalom. Dan kan jy jou maklik vasloop in bevrydingsteologie. Dit is dieselfde verwagting wat die Jode van Jesus gehad het. Jesus moet hulle net verlos van die Romeinse oorheersing. Jesus word dan ’n tipe van ’n politieke Messias. Dit is baie gevaarlik, want dan verskraal jy die Evangelie. Maar ’n mens kan ook die fout maak om te dink dat die sjalom niks te doen het met die politieke lewe nie. Natuurlik het die Evangelie implikasies vir die politiek, menseregte en geregtigheid.

’n Goedkoop vrede sonder geregtigheid is ook nie ware vrede nie. Daarom vra vrede dat die geregtigheid herstel moet word.

Soms kan ons Jesus se vrede ook verskraal, deur net bereid te wees om net met sekere mense in vrede te lewe. Jy kan van jou volksidentiteit so ’n afgod maak dat jy nie bereid is om met alle ander nasies, kulture en volkere in vrede te lewe nie.

Die heel gevaarlikste is as ons vredeliewende mense verwar met vredemakende mense. Vredeliewende mense soek vrede, solank dit net nie iets van hulle vra nie. Vredemakende mense sal hulle moue oprol, in die situasie inloop en vrede bewerk, selfs ten koste van hulself, terwille van die Evangelie. Kodjak sê dat vredemakende mense bereid is om persoonlike opofferings te maak ter wille van Christus. Jy kan eers ’n vredemaker wees as jy die vorige ses saligsprekinge ingeoefen het. Om ’n vredemaker te wees, kom nie vanself nie. Jy moet kan treur oor die wêreld, jy moet sagmoedigheid aanleer en soek na geregtigheid. Jy moet barmhartig en rein van hart wees. In die inoefening van die saligsprekinge, kan jy ’n vredemaker word.

Jacques Philippe skryf: “Hier is ’n paradoks van liefde: Liefde is nooit in rus nie, want dit is altyd aktief, maar terselfdertyd is dit ware rus.”

Thomas Watson skryf: “Genade verander die aasvoël in ’n duif, die distel in ’n mirteboom (Jesaja 55:13), en die leeuagtige wreedheid in ’n lamagtige sagmoedigheid. Die wolf sal ook by die lam woon, en die luiperd sal by die bokkie gaan lê (Jesaja 11:6).”

Dirkie Smit skryf dat ons moet waak teen ’n “negatiewe” Christendom wat teen alles en almal is. Ons soek as’t ware vir ons vyande uit. Dit is nie wat die Evangelie van ons vra nie. Ons moet eerder die wêreld verander met Jesus se liefde. Ons moet op ’n positiewe wyse die Evangelie van Jesus verkondig aan hulle wat ver is en aan hulle wat naby is.   

Daarom is die twee beelde wat die Bybel gebruik om vredemakers te beskryf, dan ook die skaap en die duif. Ons moet opreg wees soos die duiwe van die veld. Ons moet opreg wees om vrede te soek en na te jaag.

Om vrede te maak is ’n voorwaarde van ware dissipelskap. Hoor wat sê Jesus in Mat 5: 23 – 24: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur. As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

Maar somtyds gebeur dit dat jy alles moontlik doen om vrede te herstel, maar die ander party wil in vyandskap bly leef. Solank jy jou deel gedoen het om die vrede te herstel, is dit goed. Hoor wat sê Rom 12: 17 – 18: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” 

’n Pa het eenkeer vir sy seun die volgende raad gegee: “Neem ’n woord van raad aan van ’n ou man wat lief is vir vrede. ’n Belediging is soos modder; dit sal baie beter afvee as dit droog is. Wag ’n bietjie totdat julle albei afgekoel het; dan sal die gebroke verhouding maklik herstel word. As jy nou gaan, sal dit net wees om die rusie aan te blaas. Dit is goeie raad vir jou en vir my – geduld sal vrede veroorsaak.”

Somtyds kan ’n situasie so toksies wees dat enige bydrae wat jy maak net die situasie sal vererger. Dan is dit beter om weg te stap om nie verder skade te veroorsaak nie. Jy kan op die agtergrond die situasie ontlont deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp. Jy kan bid dat die situasie sal verander.

William Jennings Bryan vertel ’n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ’n sneeuvlokkie,” het die mossie aan die wilde duif gevra. Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ’n wonderlike verhaal vertel,” het die mossie gesê. “Ek het op ’n tak gesit terwyl die sneeu. Dit was nie ’n storm nie. Dit het net so saggies neergesif, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – maar toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif, wat ’n kenner op die gebied van vrede is sedert Noag se tyd, het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens (een sneeuvlokkie) se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

’n Sendeling in Wes-Afrika het ’n siek kerklidmaat besoek. Aangesien die siek man se vrou ook teenwoordig was, het hy hulle verskeie vrae gevra, een daarvan, of hulle in vrede saam leef. Die man het geantwoord: “Soms sê ek ’n woord waarvan my vrou nie hou nie, of my vrou sê of doen iets waarvan ek nie hou nie; maar as ons begin stry, skud ons hande, maak die deur toe en gaan bid. So word vrede weer herstel.”

Vrede kom nie van buite nie, maar van binne. Ons kan dit in die winter van die ouderdom of die lente van die jeug hê; in die nederige huisie of in die statige herehuis; in ontstellende pyn of in lewendige gesondheid. Die geheim daarvan is om in kameraadskap met Christus te wees. Jy kan vrede hê te midde van die storm as jy Christus het. Hy is die skuiling teen die storm, die siel se hawe van rus. As ons geleer het om Sy vriendskap na waarde te skat, het ons die geheim van die “vrede wat alle verstand te bowe gaan” bemeester.

Pous Johannes Paulus het gesê: “Vrede word nie in raadsale of deur ooreenkomste gesluit nie. Vrede is ’n blom wat in die harte van mense wat deur die Gees aangeraak is, begin groei.”

Die sewende saligspreking is om ’n vredemaker te wees. As jy die vorige ses saligsprekinge beoefen, sal jy maklik vrede deel van jou lewe kan maak en jy sal genoem word ’n kind van God. Vrede sal die Sabbat van die siel wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Gelukkig is dié wat rein van hart is

SKRIFLESING: Mat 5: 8

Dikwels verstaan mense die sesde saligspreking  baie negatief. So asof  jy ’n klomp goed nie mag doen nie. Beteken dit om rein van hart te wees, om ’n bleeksiel te wees?

Die ou Joodse reinigingswette in Deuteronomium het baie bepalinge en regulasies gehad oor die aanraking van dooies, siekes,  melaatses, onrein diere en so baie meer. Wanneer ’n vrou byvoorbeeld menstrueer, was sy vir ’n paar dae onrein. So was daar honderde wette wat bepalings gehad het oor wanneer jy rein is of wanneer jy onrein is.

Dit verklaar ook waarom in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die priester en die profeet wat op pad tempel toe was, verby die man gestap het wat beroof was. Veronderstel dat die beroofde man dood was en hulle het hom aangeraak, dan kon hulle nie in die tempel ingaan nie.

Daarom was reinheid in die Ou Testament veral ’n uitwendige handeling. Daarteenoor het Jesus in die Nuwe Testament klem gelê om innerlike reinheid.

Daarom sê Jesus in  Mat 23: 26 en 27: “Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. ‘Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van onreinheid.’”

Jou hart, jou innerlike, moet aan God veranker wees met opregte reinheid.

Eintlik gaan dit oor ’n totale oorgawe of commitment aan die Here! Om die Here met ’n onverdeelde hart te dien. Ons harte kan dikwels verdeel wees tussen baie afgode. Calvyn het gesê ons hart is ’n afgodefabriek. Ons produseer gedurig vir ons nuwe afgodjies wat ons aanbid. Ons kan verskillende wêreldse goed hê wat vir ons afgode word. Ons hunker na nog goed, na nog iets in die lewe. Ons harte word onrein van te veel goed in ons harte. Te veel goed wat ons aandag aflei van die Here.

“Die Deense filosoof-teoloog Kierkegaard sê dat Christene mense is wat rein van hart is, omdat hulle lewe op een saak gefokus is (Purity of heart is to will one thing). Rein harte beteken nie om sonder sonde te wees nie. Om rein van hart te wees beteken dat ons gedagtes en lewe gefokus sal wees op die koninkryk en die wil van God – Matt 6:33” (Dr. Annes Nel).

’n Rein hart is nooit ’n afgehandelde saak nie. Dit is deel van daaglikse heiligmaking. Dit is om elke dag al meer onder die beheer van die Heilige Gees te lewe. Dit is voortdurende toewyding aan die Here.

Gereelde selfondersoek is baie belangrik. Soos wat ’n beeldhouer met sy hamer en beitel uit ’n stuk hout of marmer vir hom ’n beeld uitbeitel, is die Gees elke dag besig om aan ons te beitel, sodat ons al meer die beeld van God word.

Daarom sê die eerste gebod van die opsomming van die Wet: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.” Daar moet nie plek wees vir verdeeldheid as gevolg van ander afgode nie. Anders word jou hart onrein van die afgode. 

Daarom as koning Dawid bid: “Here, gee vir my ’n rein hart”, bedoel hy ’n  onverdeelde hart wat net aan die Here behoort. Eers was Dawid se hart verdeel, toe hy owerspel met Batseba gepleeg het. Hy wou sy sonde wegsteek deur Batseba se man doelbewus te laat sterwe op die slagveld. Sy owerspel en moord het sy hart weggedryf van die Here. Sy hart was nie meer rein nie. Sy hart was verdeeld. Hy het die Here nie meer ervaar in sy lewe nie. Hy het skielik verwyderd van God gevoel. Hy het God se Gees nie meer beleef nie. ’n Onrein hart bring altyd verwydering tussen jou en God, sodat jy God nie meer kan sien nie.

Dawid wou God weer sien en beleef. Daarom bid hy dat die Here vir hom ’n rein hart sal gee, wat net op die Here gefokus is.  

Jou hart is onrein as jy jou verlustig in ander mense se skande, sondes en mislukkings. As jou tong kwaad praat of skinder oor ander mense, is jou hart onrein. Jy bedink nie rein gedagtes oor ’n ander persoon nie. Maar as jy meegevoel en empatie het met ander mense se skandes en val, dan is jou hart rein, want jy wil graag die beste vir jou medemens hê.

Daarom volg die sesde Saligspreking die vyfde Saligspreking. Eers as jy barmhartig geword het, sal jy ook outomaties rein van hart word.

As jy onrein van hart geword het, sal jy jou vermoë om waarlik lief te hê verloor. 

Iemand wat rein van hart is, sal ook nie jaloers wees as iemand uitstyg in die lewe of sukses behaal nie. Hy sal saam met die persoon vreugdevol en bly wees.

Ons denke moet ook rein wees. Daarom sê Paulus in Filippense 4 : 8 die volgende: “Verder, broers,  alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”

Ons moet ons liggame ook rein hou. Ons leef in ’n wêreld waar mense hulle oorgee aan sedelose liggaamlike vermaak en genietinge. Dan staan daar in 1 Kor 6: 19 – 20 die volgende: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.”

Ons is so gejaagd, soos ’n muis op een van hierdie ronde wieletjies wat in die rondte hardloop. Hoe meer ons hardloop, hoe minder kom ons êrens. Hoe kom ek los van al hierdie afgode en gejaagdheid na wind?

Dit kan alleen plaasvind deur ’n baie ingrypende vereenvoudiging van ons lewe. So kan my hart weer rein word.

Daar is ’n uitdrukking “Less is more!” Ek moet weer leer om op die regte goed te konsentreer. Ek moet my lewe her-prioritiseer, sodat ek met die belangrikste goed besig is.

Daar is die bekende Paretto beginsel. Dit gaan daaroor dat ’n mens jou dikwels kan besig hou met 80% onbelangrike goed en slegs ’n positiewe uitset van 20% kry. Maar as jy slegs 20% tyd spandeer aan die belangrikste goed het jy ’n positiewe uitset van 80%.

Die eerste Christene het ’n baie eenvoudige lewe gelewe. Hulle het ’n sobere lewe gehad. Hulle het die basiese belangrikste 20% gedoen en die wêreld verander. Daarom het Richard Foster ’n boek geskryf met die bekende titel Freedom of simplicity. Die kern van sy boek gaan oor minimalisme. Ons moet ons lewens vereenvoudig. Ons kan met minder goed ’n baie eenvoudiger lewe voer. Hoe eenvoudiger, hoe minder stres, hoe minder foute, hoe minder gejaagd en hoe minder kompleks jy lewe – hoe beter vir ons geestelike lewe.

Daarom gaan  ’n werklike diep en rein verhouding met die Here altyd gepaard  met eenvoud. Reiniging van die hart is ’n pynlike operasie, omdat ’n hele klomp van ons ydel begeertes, wense en drome moet sterf in die proses. Wat is die wins?: Dat ons God helder kan sien.

Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe. En as ’n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud regtig gelukkig en tevrede is. 

Die sesde saligspreking het ook ’n beloning. Jacques Philippe skryf: “ ‘Gelukkig is die reines van hart, want hulle sal God sien, kan andersom omgedraai word: ‘Gelukkig is dié wat God sien, want hulle sal hul harte rein hou.’ ”

Mag ons met rein harte na ander mense kyk, sodat ons ook God in hulle kan raaksien en werklik gelukkig wees.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Gelukkig is dié wat barmhartig is

SKRIFLESING:  Mat 5: 7 en Mat 25: 35 – 40

Die beste nuus wat ’n mens van God kan hoor, skryf Dirkie Smit, is dat God nie ’n masjien of ’n beginsel is nie, maar ’n Persoon met ’n hart.

Daarom is God ’n God van barmhartigheid. Dit is waaroor die vyfde saligspreking gaan, naamlik om barmhartig te wees. Die teoloog Antonie van Ruler beskryf barmhartigheid as drie uitkringende sirkels. Barmhartigheid sê hy is mildheid, ontferming en vergewing.

Die eerste is mildheid. Dit beteken om ruimte vir ander mense te maak. Om vir ander mense ook vreugde en blydskap te gun. Daarom moet ons in barmhartigheid ruimte  maak vir almal in die land. Daar moet ruimte wees en ruimte gemaak word vir swart, wit, bruin en Indiërmense.  Daar is nie plek vir haatspraak teenoor ander nasies nie.

Ontferming, weer, beteken om betrokke te raak by mense wat my nodig het en te help waar ek kan. Selfs minderheidsgroepe is geroepe om ’n verskil te maak in Suid-Afrika. Dit is ons Godgegewe roeping. Ons lewe in ’n tyd waar egte barmhartig baie skaars is.

Vergewing is waar mense vir hulle eie ellende verantwoordelik is en ek nogtans help, omdat ek hulle vergewe het.   Ons vind talle insidente van vergifnis in die Bybel. Dink aan Josef wat sy broers vergewe het, wat hom as ’n slaaf verkoop het aan slawehandelaars. Later toe hy die tweede magtigste man in Egipte is, red hy sy broers en sy pa van ’n gewisse hongersnood.   Moses het vir  Miriam vergewe wat teen hom in opstand gekom het. Toe sy melaats word, bid Moses vir haar gesondmaking. Dawid het twee keer Saul se lewe gespaar, al het Saul ’n  geleentheid gesoek om Dawid dood te maak. Barmhartigheid is om mekaar in die land te vergewe.

Ten tye van Jesus se prediking van die Saligsprekinge, was die Romeinse owerheid die heersende wêreldmag. Dit was ’n wêreldmag waar dapperheid, dissipline, mag en wreedheid die botoon gevoer het. Een Romeinse filosoof het barmhartigheid as ’n siekte van die siel beskryf of as ’n teken van swakheid. Wanneer ’n kind gebore is, het die Romeinse vader die reg van  “patria potestas” gehad. Hy kon sy duim optel en die kind leef of sy duim afhou en die kind word dadelik verdrink. ’n Romein kon, as dit sy wil is, sy slawe laat doodmaak, sonder dat daar enige regsimplikasies was. ’n Romeinse man kon selfs sy vrou laat doodmaak. Dit was ’n wrede, harde en ongenaakbare stelsel.

Selfs die Jode in die tyd van Jesus het die wet slaafs nagekom sonder om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom soos in Mat 23:23 beskryf word. Daarom het Jesus gesê dat die Joodse Fariseërs soos witgepleisterde grafte is. Buitekant wit, maar binne vol doodsbeendere. Of soos ’n beker, aan die buitekant skoon, maar aan die binnekant vuil. Dit was te midde van die twee hartelose sisteme, waar die Jode en die Romeine vir Jesus gekruisig het.

In die vyfde saligspreking gaan dit oor mense. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die Vryheid van die Christenmens dit so helder gesê: “’n Gelowige is vry van reëls en wette, nooit vry van die naaste nie.” Daarom is die Christendom anders as ander godsdienste. Dit gaan nie oor reëls nie, maar om mense en verhoudinge.  

Maar wie is my naaste? Alle mense! In ’n sekere sin kan jou eie vriende nie regtig die egtheid en diepte van jou naasteliefde en barmhartigheid toets nie. Want selfs die goddeloses het hulle eie vriende lief. Eers as jy dié liefhet wat verder van jou staan, slaag jy die toets van ware barmhartigheid. Jou naastes – in  nood – is diegene wat in die moment die naaste aan jou is, wat honger en dors is, wat siek is, wat sonder klere is of in die gevangenis is. Jou naaste is dié mense wat jou nodig het, sonder dat jy hulle nodig het.

In Mat 25: 35 – 40 staan daar geskrywe: Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My as ’n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as ’n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee?  En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’”

Martin Luther het vertel van ’n klooster in Oostenryk wat baie ryk was terwyl dit jaarliks aan die armes uitgedeel het, maar toe dit ophou gee aan die armes, het die klooster begin verval. Daar gaan niks verlore as ons barmhartig optree nie.

As ons barmhartig is, doen ons dit vir die Here Jesus. Ons doen dit nie om gesien te word deur ander mense nie. Jy spog nooit met jou dade van barmhartigheid nie.

Jy is barmhartig as jy tyd maak vir bejaardes. As jy siekes opbeur, is jy barmhartig. As jy luister na ’n gekwelde mens, wat neerslagtig en bekommerd is, dan is jy barmhartig. As jy moed inpraat, is jy barmhartig. As jy die persoon wat alleen is besoek, dan is jy barmhartig. Die wêreld is vol eensame mense. Daarom gaan barmhartigheid oor veel meer  as om materieel te gee. Barmhartigheid skep werk vir die werklose. Die doel van die lewe is om diens te lewer.

In die Ou Testament was dit gebruik dat as boere hulle koring oes, hulle net een maal die koring mag optel om in hulle graanskure te sit. Die weduwees en wese kon dan ’n tweede of derde keer oor die land gaan om die oorblywende koring op te tel vir hulle huise.

Barmhartigheid is ook om mekaar se name te beskerm en nie skinderpraatjies van ander te maak nie. Mense kan bra onbarmhartig met ander mense se name omgaan. Ook met jou tong moet jy barmhartigheid betoon.

Barmhartigheid moet natuurlik ook aan die vyand betoon word. Dit is die heel moeilikste. Daar staan in  Mat 5: 43 – 45: “ Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees.” Daarom kan ons praat van grenslose barmhartigheid, wat nie aan bande gelê word deur politieke of sosiale  afkeure of voorkeure nie.

Jy sê dalk dat jy nie groot dade van barmhartigheid kan betoon nie. Maar ook die geringste daad van goedheid is barmhartigheid. Die arm weduwee het slegs twee klein geldstukkies gegee en die Here het gesê sy het haar alles gegee. Moenie wegskram van die geringste dade van barmhartigheid nie.

Vader Kestell het in die Anglo-Boereoorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ’n veldslag ’n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, melaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeres, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.

Keiser Trajanus het ’n stuk van sy eie kleed afgeskeur om sy soldaat se wonde toe te draai. Christus het baie meer gedoen. Hy het Sy vlees geskeur vir ons.

Ons moet ook teenoor die natuur barmhartigheid beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook baie barmhartig optree op ekologiese gebied en probeer om die natuur te herstel, sodat dit weer gesond kan word.

Op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort, sodat ons al die gawes van die Gees ontvang, waarvan ons in Gal 5 lees. Die Heilige Gees dring ons om barmhartig te wees. Ons word nie gedwing nie, maar gedring tot ware barmhartigheid. Dit moet uit ons Geesvervulde hart kom.

Ons lees in die vyfde saligspreking dat dié wat barmhartigheid betoon, as beloning barmhartigheid sal ontvang. Dit is ’n gevaarlike en moeilike saligspreking, want hoe geneig is ons nie om nie barmhartig op te tree nie. As ons barmhartigheid moet ontvang, soos wat ons barmhartigheid betoon aan ander, is ons erg in die moeilikheid.

Ek sluit af met die ware verhaal uit die kinderdae van Ds. Walther Lüthi wat appels wou pluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther appels afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer, sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3822). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition