SKRIFLESING: Mark 9: 2 – 9 en Johannes 13: 1 – 17 en Johannes13: 34 – 35.
Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op pad was van Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders gewerk op die aartappellande.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “ Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in Londen het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in goeie fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.
“’n Sjieling (10c), meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “ ’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”
Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.
Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal …” (En sy wys vir hom die muntstuk.)
Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hulle groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.
Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … Dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook. Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.
’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie.
Of ’n meer onlangse voorbeeld wat na 1994 in Johannesburg afgespeel het: ’n Vrou in ’n spogwoonbuurt in Johannesburg se motor wou die wintersoggend nie vat nie. (Gewoonlik battery-probleme.) Sy wink ’n swartman nader en vra: “Outa, wil jy nie gou vir my die kar stoot nie – ek is laat vir werk.” Vriendelik willig hy in en help haar om die motor aan die brand te stoot. Sy stop hom R1 in die hand en sê dankie. ’n Week later vind sy uit dit is haar nuwe buurman en hy is ’n advokaat in die Randse Hooggeregshof. Toe sy by die asbesheining kennis maak en om verskoning vra, glimlag hy en antwoord: “Toemaar, Mevrou ons sukkel almal maar nog om aan die nuwe Suid-Afrika gewoond te raak.”
Ware groot mense is nie bang om te dien nie. Die skopus van die preek is: Diensbaarheid teenoor verheerliking.

In die Markus Evangelie is Jesus Christus natuurlik vir ons die allerbeste voorbeeld. In ons gelese gedeelte word daar op die berg die grootheid en die koninklikheid van die Here Jesus openbaar. Wanneer Sy klere skitterwit verander en Sy aangesig verander en hy saam met Elia en Moses verskyn word die Gans Andersheid van Jesus Christus openbaar. Christus Jesus is nie van die skepping nie. Hy is nie van die stof van die aarde nie. Sy afkoms is Goddelik en Hy sal eendag weer verheerlik word as die opgestane Seun van God. Eintlik was hierdie ’n stuk profesie dat Jesus Christus na Sy lyding uit die dood sou opstaan. Dit was ’n stuk heerlikheids-aankondiging van die uiteindelike heerlikheid wat vir die Seun van God wag. Die stem uit die wolk het dan ook duidelik aangekondig: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
Petrus, Jakobus en Johannes was so aangedaan deur hierdie hemelse openbaring – dit was vir hulle iets uit ’n ander wêreld. Petrus, stomgeslaan, sê: “ Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Eintlik wou Petrus hierdie hemelse ervaring vries. Hierdie oomblikke van heerlikheid moes nie verby gaan nie. Kom ons bou hutte, ’n kasteel om hierdie heerlike ervaring vir ewig vas te vang. (Hulle kon nie ’n foto neem nie – maar dalk kon hulle die Here Jesus oortuig om saam met Moses en Elia te bly.)
Dalk wou die dissipels die Here die lyding en die selfverloëning spaar – daarom wou hulle vir Hom op hierdie plek van aanbidding ’n hut bou, saam met die hutte van Moses en Elia.
Die Here het egter gekom om te dien en nie om gedien te word nie. Hy het gekom om vir ons ’n tuiste (’n kerk op die aarde en ’n woning eendag in die hemel) te skep en nie dat ons vir Hom ’n hut moet bou nie.
Daarom verdwyn die wolk en die stem; en die gedaante en klere van die Here Jesus word weer doodgewoon. Die Here Jesus verbied hulle vir eers om daaroor te praat – want, eers moet die Seun van die mens dien en ly.

Die Here Jesus het die siekes, die blindes, die kreupeles, die armes en die sondaars gedien. Hy het voete gewas en gesê ons moet soos kindertjies wees. Hy het gepraat van diens en selfverloëning en gehoorsaamheid.
Jesus Christus is ’n Koning – maar Hy het gedien soos ’n slaaf.
Ons is koningskinders – maar ons moet slawe vir mekaar wees.
Daarom word ’n geestelike lewe van heerlikheid afgewys en ’n geestelike lewe van gehoorsaamheid, gedienstigheid en dissipelskap bepleit.
Die Here Jesus het in doodgewone klere en in doodgewone omstandighede gedien. Daarom het so min mense Hom erken as die Messias. Maar deur Sy doodgewone diens het Hy die wêreld onherroeplik verander. Soos die meisie met die tas nie die hertog herken het nie, so het die mense in die tyd van die Here Jesus, Hom ook nie herken as die Messias nie.
Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie? Dit bring ons by Johannes 13. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir Sy dissipels ’n les in Johannes 13: 1 – 17. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en Sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ’n maaltyd.
Hierdie maaltyd was dan ook die geleentheid waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer oor die naderende kruisdood van Jesus, is hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere-posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is. Wie bedien sal word en wie sal dien. So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ’n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die selfgesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ’n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe Hy Sy bokleed uittrek, op Sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ’n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ’n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ’n slaaf kom doen. Hierdie voetwassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van Sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met Sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid om te dien.
Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het Sy alles, tot Sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:
* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
* Soos Ek julle gedien het, moet julle mekaar dien.
Bid en vra die Here Jesus om ook vir u en my ’n geaardheid van diensbaarheid te gee.

Verheerliking wag eendag vir ons. Maar nou moet diensbaarheid ’n deel van ons karakter en lewe wees. Diensbaarheid is om uit te reik na ander mense en hulle te help. Ons moet nie in ons eie “borrel” sit en niks met ander mense te doen te wil hê nie. Gemaksones is gevaarlik, want jy wil alleen maar net oorleef. Jy moet uit jou gemaksone beweeg en ’n verskil maak in ander mense se lewens.
Verheerliking later, nou diensbaarheid!
Nie deur die septer nie, maar deur die kruis het die Here Jesus die wêreld verander. Sy heerlikheid het Hy verberg en vir Sy dissipels gesê om vir eers nie daaroor te praat nie. Nie met heerlikheid nie, maar met nederige diens het Hy die wêreld verander.
Ons verwag ’n koninklike geboorte, maar vind ’n krip.
Ons verwag ’n groot aanhang, maar vind verraad.
Ons verwag ’n Halleluja-koor, maar vind ’n kreet: “Kruisig Hom, kruisig Hom!”
Ons verwag koninklike klere, maar vind naaktheid.
Ons verwag eerbetoon, maar vind sweepslae.
Ons verwag ’n rosekrans, maar vind ’n doringkroon.
Ons verwag ’n troon, maar vind ’n kruis.
Daarom herken so min mense die Hertog van die hemel, die Hertog wat kom dien het. Mag ons Hom weer opnuut herken in sy vreemde gestaltes.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
