Deur aanvaarding word mense weer heel !

SKRIFLESING: Luk 19: 1 – 10

Elke mens wil graag deur ander mense aanvaar word. Saggeus was ook so ‘n mens wat graag aanvaarding en liefde gesoek het.

Ongelukkig is hy van kleins af eenkant toe gestoot. Waarskynlik was sy voorkoms een van die redes, waarom hy nooit gewild was nie. Want sien dié Bybel maak pertinent melding van sy kortheid. Hy was abnormaal kort.
Dit gaan dikwels op ‘n Sondagskoolpiekniek soos kinders wat twee spanne moet kies vir sokker of vir ‘n groepspel. Daar word vir elke span ‘n kaptein aangewys. Elke kaptein kry dan elke keer ‘n beurt om iemand vir sy span te kies. Die gewildstes, die atletiese, die beste en die vinnigste word altyd eerste gekies. Die laaste outjies voel dan gewoonlik heel gebelg en die heel laaste outjie moet dan gewoonlik die amptelike tellinghouer wees.
So was Saggeus gewoonlik ook die laaste in alles. Dalk het hy nog ‘n bynaam ook gehad, wat hom seer gemaak het.

Verwerping is iets wat elke mens van tyd tot tyd in sy lewe ervaar. Kinders ervaar dit, grootmense ervaar dit en bejaardes ervaar dit. Ja, soos die ou wat smoorverlief op ‘n meisie is en dan antwoord die meisie vir hom: “Al is daar ook ‘n atoomoorlog en al die mans is dood, dan wil ek nog steeds niks met jou te doen hê nie.” Hoe moet die arme man voel?
Wat doen ons as ons verwerp word of verwerp voel? Sosioloë sê mense tree gewoonlik op een van die volgende twee negatiewe wyses op.
• Hulle verval in selfbejammering, voel na suur druiwe, is verbitter, het wraakgedagtes en probeer om ander mense te “spite” of terug te kry.
• Ander weer verander hulle klere, sedes en selfs beginsels net om deur ander aanvaar te word.
Saggeus het ook verander. Hy het as Jood aanvaarding by die Romeine gesoek en dit ook gekry. Hy het sy Joodse naam Sagaria verander na Saggeus, omdat die meeste Romeinse name geëidig het op “-us”.
Hy het ‘n beroep in die tolbedryf gekies. Met ander woorde hy was ‘n “ontvanger van inkomste”, wat geld vir die Romeinse owerheid ingesamel het. Die Jode het nie van die Romeine gehou nie en daarom was om belasting vir die vyand te betaal ‘n bitter pil om te sluk.
Saggeus het dit egter met soveel oorgawe gedoen, dat hy spoedig bevorder is tot die hooftollenaar. So kon hy sy volksgenote terugkry wat hom so verwerp en met minagting gespot het. Ja, hy het ook gans en al te veel geld ingesamel as wat hy moes en die res het hy in sy sakgesteek. Tot watter laagte sal ‘n mens nie daal, net om êrens “iets te wees nie.
Alhoewel Saggeus ‘n ryk en magtige man geword het, was daar altyd ‘n gemis in sy lewe. Saggeus wou êrens behoort. Tog was hy nie welkom gewees in die sinagoge nie en daarom het hy ook gevoel dat die God van sy voorvaders hom ook verwerp het.
Ja, Saggeus het ver van God gevoel en ver van sy eie mense. Saggeus was alleen, bitter alleen.

Op ‘n dag hoor Saggeus van ‘n bekende en omstrede rabbi wat Jerusalem sou besoek. Hy het besluit dat hy graag vir hierdie rabbi sal wil sien. Daarom het hy in ‘n wildevyeboom geklim, net om vir Jesus te sien aangesien die skare groot was en hy kort van figuur.
Dan verskyn Jesus in die skare. Die mense drom saam, almal wil immers hierdie omstrede rabbi van nader leer ken. Immers almal praat van hom, wie sal hom nie wil ontmoet nie.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is 2a97da55e8d32ecca6ebeff1c77d27f4-zacchaeus-childrens-bible-2.jpg

Saggeus sit in die boom. Tevrede dat hy darem ten minste vir Jesus op ‘n afstand kan sien. Meer het hy in elk geval nie verwag nie. Hoekom sal ‘n bekende rabbi soos Jesus met hom wil praat? Want hy het ‘n ongewilde beroep, pers mense af en steel selfs geld. Vir Saggeus was die ontmoeting op ‘n afstand genoeg gewees. Meer het hy immers nie verdien nie.
Dan stop Jesus reg onderkant die boom en sê hy wil vanaand in Saggeus se huis tuisgaan. Jesus ken Saggeus by die naam, Jesus sien hom raak en Jesus wil by hom tuisgaan. Ek dink Saggeus het skoon van verbasing en blydskap uit die boom geval. Dit is so goed soos hy het die “lotto gestrike”. Die totaal ondenkbare, die hoogs onwaarskynlike het gebeur. Jesus het die verwerpte, die uitgestotene, die randfiguur, die vyand, die dief en afperser raakgesien.
Die wonderlike is dat Jesus nie eenkeer vir Saggeus aangespreek het oor sy sonde en afpersing nie. Nee, Jesus het Saggeus net aanvaar met die “liefde van Jesus.”
Die aanvaarding wat van Jesus uitgegaan het na Saggeus het vir Saggeus heeltemal verander. Nie die oordeel nie, maar die liefde van Jesus het van Saggeus ‘n nuwe mens gemaak. Met blydskap verklaar Saggeus dat hy die helfte van sy goed vir die armes gaan gee en waar hy van iemand iets afgepers het, sal hy dit vir hom vierdubbel teruggee. Saggeus se geldgierige hart, word nou ‘n hart vol van Jesus se liefde. Om bevry te word van aardse goed en skatte is dikwels die moeilikste en laaste gedeelte van jou bekering. Saggeus se bekering begin by die gedeelte, naamlik “Mammon” wat die heel moeilikste is. Daaruit blyk dit hoe opreg en grondig Saggeus hom bekeer het van sy verkeerde weë.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is maxresdefault-1.jpg

Daar word vertel van die gesin wat op pad was terug van ‘n piekniek. Op pad terug kry hulle ‘n klein katjie, eintlik ‘n “vlooitaxi” wat verskrik en verwaarloos is. Die katjie is uiters aggressief en vertrou niemand nie, omdat hy verwerp is deur sy eienaar. Ja, sy nekhare rys en hy kap met sy naels. Die pa wou eers die kat net so laat staan, maar sy kinders hou so aan dat die pa toe maar ingee en die katjie huistoe vat. Met ‘n groot gesukkel het hulle by die huis die katjie gebad, ontsmet en warm melk gegee. ‘n Paar weke later na baie liefde en aandag het die eens aggressiewe katjie ‘n liefdevolle en teer katjie geword wat spin en homself teen jou bene kom skuur vir liefde. Die liefde en aanvaarding van die gesin teenoor die katjie het die katjie se persoonlikheid van aggressief na liefdevol verander.
In ons wêreld is daar ook baie seerkry mense, met bitter wonde van verwerping, maar deur aanvaarding en liefde word hulle heel en nuut. Ja, Jesus is ook verwerp aan die kruis, sodat ons nooit verwerp hoef te voel of iemand anders hoef te verwerp nie.
Saggeus het aanvaarding by Jesus gekry en toe het hy begin om mense lief te hê deur hulle te aanvaar en te help. So het hy genees geword van sy eensaamheid en verwerping.
Augustinus het gesê: “Die enigste vorm van suiwer liefde is dié wat niks terugverwag nie.” Saggeus is deur Jesus se liefde genees van sy verwerping, sodat hy sy liefde kan uitdeel aan ander. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Deur ons gebede kan God van plan verander …..

SKRIFLESING: 2 Konings 20: 1 – 11

‘n Mens hoor gedurig dat mense sê: “As jou strepie getrek is, is hy getrek en jy kom nie by hom verby nie!” of ‘n mens hoor: “Wat gebeur, sal gebeur. As jou tyd daar is, is jou tyd daar.”

Maar mag ‘n mens so sê? Is ‘n mens se lewenspad en sterfdag al regtig voor ons geboorte bepaal? Is ons lewe gegiet in ‘n vaste glybaan sonder enige uitkomkans?

Sou dit so wees, dan is die mens niks meer as ‘n opgewende robot wat vooraf geprogrammeer is. Dan sou die mens soos ‘n voorafopgewende wekker wees, wat besig is om af te tik na sy dood. Dan sou gebed, waardeloos wees, want ons lewe en ons sterfdag is vasgepen. Wat baat dit my, dat ek bid dat God my moet beskerm of my moet gesond maak? Wat baat dit my om vir my kinders te bid, as hulle lewenspad reeds vasgegiet is? Nee geliefdes. God se wil staan nie vas nie. As God se wil onveranderlik vas gestaan het, sou God nie meer die aktiewe en kreatiewe God gewees het nie. Wat wel waar is, is dat daar niks buite God se wil om kan geskied nie. Met ander woorde alles gaan deur die tregter van God se wil. God kan egter van plan verander. Hy kan Sy wil buig. Hy kan van gedagte verander. Juis daarom nooi God vir ons uit om met hom in die gebed te worstel. Om met Hom te kommunikeer. Ja, God kan Sy wil verander, sodat alles vir ons ten goede kan meewerk.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Hiskia, wat die Here gedien het. Hiskia het die krag van gebed geken. Hy het geweet God luister en God kan van plan verander.

Toe koning Sanherib van Assirië vir Israel bedreig het, het hy tot God gebid vir uitkoms en God het vir hom en Israel gehelp. In ons gelese gedeelte was hy ernstig siek, siek tot die dood toe. Die profeet van die Here het aan hom bekend gemaak dat dit die wil van God is dat hy moet sterf en dat hy daarom moet afskeid neem van sy familie. Hiskia aanvaar dit nie sommer net so nie. Hy bid tot God en vra dat God hom moet genees.

Jesaja kom sê vir hom dat “sy strepie getrek is.” Hiskia bid tot God en vra vir God om aan hom genade te betoon. “deur sy strepie verder aan te skuif.” God besluit toe om van gedagte te verander en Hiskia se lewe met 15 jaar te verleng. Jesaja was nog skaars by die binneplein van die stad toe God vir hom terugstuur na Hiskia met die opdrag om aan Hiskia te sê dat God sy “strepie” met 15 jaar gaan aanskuif. As teken hiervan het God die skaduwee wat vorentoe beweeg, met 10 trappe terug geskuif.

Hierdie stukkie geskiedenis toon dat God nog steeds met ons besig is. Alles tik nie maar volgens ‘n meganiese plan af nie. God neem ons gebede in ag wanneer Hy die gang van sake bepaal.

In die verhaal van Jona en Ninevé wou God aanvanklik vir Ninevé verdwelg oor hulle sonde. Toe die stad tot bekering kom, het God van plan verander en die hele stad Ninevé gespaar. Natuurlik was Jona ongelukkig, omdat hy geweet het dat God barmhartig is en maklik van plan verander.

Ook in die verhaal van Israel se trek deur die woestyn, lees ons telkens hoe God sy volk wou straf oor hulle sonde, maar dan telkens van plan verander het, omdat Hy ‘n genadige God is.

Dit is daarom ‘n wonderlike troos om te weet dat ons gebede is nie nutteloos nie. God luister daarna en God is selfs bereid om van plan te verander, as dit maar net in ons beswil is.

Ons is dus nie slegs robotte of opgewende wekkers wat afloop nie. Nee, ek kan self my lewe verkort as ek verkeerd eet, of rook of onverskillig met ‘n motorvoertuig ry. Daarom kan ek nie onverskillig bestuur en sê: ”Toemaar my strepie is klaar getrek” nie.

Die wêreldgeskiedenis en my persoonlike geskiedenis is ‘n wonderlike interaksie tussen die wil van die mens en die wil van God. Die mens se wil is geneig om die verkeerde en die bose te soek. Die mens se wil kan dus teen God se wil indruis – natuurlik met vernietigende gevolge. God se wil is ingestel om alles tot die beswil van die mens te laat plaasvind. God se wil het daarom die mens se wil kom deurkruis, met die kruis op Golgota, sodat die mens verlos kan wees van sonde en van die oordeel. Daarom is ons deur God se goeie wil, verloste gelowiges. So seëvier God se wil oor ons eie sondige wil.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder en jongman-jare ‘n onverskillige rebel gewees wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou vir hom gebid, dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede, Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

Daarom gee die lewensgeskiedenis van Hiskia vir ons nuwe troos en hoop vir ons eie lewe. My lewe is nie onderworpe aan ‘n vooraf vasgepende orde waaroor daar geen beheer is nie. Ek is nie maar op pad na my “strepie” nie. God hoor my gebede. God neem my in ag. My lewe is ‘n wonderlike stuk avontuur, waarin God se betrokkenheid in my lewe al die verskil maak.

Ja, God kan van plan verander en ‘n getrekte strepie met ‘n tree of tien verskuif.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

‘n Generasie van SELFIES

Tien jaar gelede het niemand geweet wat is ‘n “SELFIE” nie. Die jaar 2013 staan bekend as die jaar van die “selfie”. ‘n “Selfie” is ‘n tipe self-portret foto, wat gewoonlik met ‘n kamerafoon geneem word. Moderne selfone het deesdae almal twee kamera – lense, een om objekte af te neem en ander kamera om jouself af te neem. Laasgenoemde se kameralens is gewoonlik aan die voorkant van jou foon. Natuurlik kan dit ook vir video –gesprekke gebruik word

Ek het onlangs op ‘n E – kerk publikasie van Dries Cronje, Pierre Engelbrecht,  Stephan Joubert en ander skrywers die volgende insiggewende feite raak gelees.Die word “selfie”  is die eerste keer op 13 September 2002 gebruik in die ABC Online forum in Australië. Die hashtag# selfie het populêr geraak op al die sosiale media platforms. Sederdien het die “selfie” die internet oorgeneem. ‘n Onlangse verskynsels is waar dames mekaar uitgedaag het of Facebook om “selfies” te neem sonder enige grimering, ten bate van borskanker. So ontstaan aanlyn speletjies met “selfies”. In “datingklubs” en pornokringe vind ‘n mens natuurlik die ergste vorme van die gebruik “selfies”. Daar was in die onlangse verlede ook die Selfie Olimpiese Spele op Twitter.  Feitlik daagliks is die sosiale media oorstroom met fotos wat mense van hulself geneem het. Op die Instagram is die gebruik van “selfies” ook hoog op die lys. Dit is ‘n verskuiwing wat plaasgevind het, waarmee ons in feitlik al die vakrigtings  van kennis moet neem. Dit kan nie maar net ontken word nie. Ons moet daarvan kennis neem om te kan kommunikeer met mense. Die tydperk van “selfies” laat baie rooi ligte flikker. Mense kry ‘n gevoel van selfbewustheid, selfbelangrikheid, eie ego en die skepping van ‘n “image” wat dikwels nie ‘n getroue weergawe van jouself is nie. In “selfies” deel mense hulle persoonlike ervaringe met ander. Die deel van die “ervaring” word selfs belangriker as die ervaring self. Mense is so besig om die ervaring te deel, dat die genot van die ervaring daarmee heen is. Mense kan nie meer “in the moment” wees nie, hulle moet altyd deel en kommunikeer. “Selfies” kan ook ‘n element van spog en hoogmoed ontwikkel by gereelde gebruik daarvan. Fisiese voorkoms en nie innerlike lewenskwaliteite word ten toon gestel.“Selfies” maak die mens meer en meer selfgesentreerd, dat die mens dikwels die middelpunt van alles word. Dit veroorsaak dat God, medemens en omgewing dikwels uitgerangeer word. Die beheptheid met die self het ‘n algehele hoogtepunt bereik. My behoeftes, my ideale, my gemak, my beeld, my gerief en my belangrikheid word sentraal. Nuwere ontwikkeling wat ek raakgelees het is dat “Mirror – selfies” nou ook in die mode kom, waar mense fotos van hulself in ‘n spieël neem. Dit word selfs in die kunste gebruik en selfs in die kommersiële wêreld .Ons het van ‘n tegniese rewolusie oorgegaan na die inligtingsrewolusie. Groot korporatiewe maatskappye het nie meer alleen beheer oor inligting nie. Enige indiwidu kan vandag gehoor en gesien word op die internet. “Selfies” wat goed gedoen is of uitdagend of seksueel van aard is kan binne minute die hele wêreld vol wees. Die “selfie” generasie het dit minder erg aan privaatheid en is nie skaam om persoonlike goed vir die wêreld te vertel nie. Daarom kry ‘n mens dat mense vandag tot in detail sal vertel oor hulle lewe op Facebook en selfs vuilwasgoed sal was op Facebook. Natuurlik ken ons die aaklike bekgevegte wat tussen mense ook plaasvind op die soaiale media. Die “spot” element om die ander te verneder kom ook daagliks voor.Natuurlik is “selfies” opsigself nie negatief of boos nie. Mense kan deel waaroor hulle passievol is. Mense kan konnekteer en bande behou. Mense kan met groot groepe mense op een slag kommunikeer. Mense kan bewustheid vir goeie sake bevorder. Daarom moet ons nie die baba, saam met die badwater uitgooi nie.Positief kan ons leer uit die “selfie” fenomeen, dat mense eerstens ‘n behoefte het om te deel. Mense wil hulle ervaringe met ander mense deel. Daarom sal ons juis in die kerk ‘n ruimte moet skep waar mense hulle ervaringe, ook geloofservaringe kan deel met ander. Die tweede behoefte wat geidentifiseer kan word is dat mense dikwels ‘n gevoel van eensaamheid het. Die neem van ‘n “selfie”, plaas jou in die gesprekslyn op die sosiale media en verlig jou eensaamheid. Die vraag is of die kerk genoeg ingestel is om die eensaamheid van mense aan te spreek. Dit is mos juis een van die kernidentiteite en geloofswaarhede van die kerk, naamlik: “Ons glo in die gemeenskap van gelowiges”Ons as kerk moet ook leer om ‘n digitale teenwoordigheid te hê in ‘n digitale wêreld. Ons kan nie meer kerk wees soos 20 jaar terug nie. Natuurlik moet ons via die digitale media gebruikers aanmoedig om te fokus op ander en op die ekologie. Die positiewe gebruik van digitale media kan niemand ontken nie. Dit is hier om te bly. Ons moet dit net reg bestuur tot eer van God. Daarvoor moet elkeen van ons self verantwoordelikheid neem, wanneer hy of sy die “ENTER” knoppie druk. Dit vertel meer van jou as enigiets anders. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Die eerste sal laaste wees en die laaste eerste!

SKRIFLESING: Mat 19: 30 – 20:16

Die Here Jesus het dikwels vir die mense stories vertel as Hy hulle iets wou leer. Jesus was ‘n bobaas-storieverteller. Maar snaaks, baie mense het glad nie van Sy stories gehou nie, want of hulle het dit nie verstaan nie of hulle het wel verstaan, maar kwaad geword.

So ‘n storie. So ‘n gelykenis was die gelykenis van die arbeiders in die wingerd. Kom ons vertel weer die gelykenis, maar dan in ‘n taal wat by ons streek pas.

‘n Boer moes ‘n klomp skape skeer. Hy het skeerders nodig gehad. Vroegoggend, dou voor dag staan hy op en neem ‘n paar skeerders op die dorp in diens teen ‘n vasgestelde loon van R200 ‘n dag. Teen 11h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 12h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 15h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 17h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 18h00 stop die boer die skeerdery en roep almal byeen om hul daaglikse loon te betaal. Almal kry R200. Ook die wat laaste kom werk het, kry ook R200. Die skeerders, veral die wat eerste ingeval het, was vir die boer woedend kwaad gewees. Soos ek ook kwaad word as ek in ‘n ry staan in ‘n groot winkel en iemand kom druk voor my in. Ons glo mos in geregtigheid. Elkeen moet kry wat hy verdien. Elkeen moet sy beurt afwag.

In die lewe staan ons mos altyd in rye voor en agter mekaar. In die skool staan die slimste eerste. Ons onderskei tussen geleerd en ongeleerd. Ons klassifiseer mekaar op grond van jou aansien in die gemeenskap. Jou velkleur, jou gewig, jou skoonheid, jou bekendheid en nog vele ander eienskappe, maak dat ons mense in rye plaas van voor na agter.

In die kerk staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus Christus nie. Want luister wat sê Mat 20:16:  … die eerstes sal laaste wees en die laastes eerste.”

Kom ek verduidelik vir u: As ek ‘n paar kinders vorentoe roep en vir hulle sou sê om ‘n kring te vorm en mekaar se hande te vat. Watter een is eerste, en watter een is laaste? Dan sal u sê: Eintlik is niemand eerste of laaste nie! Almal is ook eerste en laaste! ‘n Mens sou by enige plek in die kring kon begin en sê daardie een is eerste, of sou net sowel kon sê hy is laaste.

Almal in die kring is eerste en almal is laaste. Almal is gelyk.

Netso, as ek in die middel van die kring staan, sal almal ewe ver en ewe naby my staan. Niemand sal nader of verder staan nie. Netso, staan Jesus Christus in die middel van die kring. Hy is die koning van die kerk en almal staan ewe ver en ewe naby aan hom. Hy is die Verlosser wat almal gelyk behandel. Die Vader is die Vader van al sy kinders.

Daar is ‘n Joodse geskrif wat sê dat mense in ‘n kring dans, dan is die laaste een nie agter nie en die eerste een nie voor nie. Die Jode het in van hulle Joodse vieringe ‘n dans waar die mans in kringe dans, met hulle hande op die volgende persoon se skouer.

So werk dit ook in die Koninkryk van God: “Die eerste sal laaste wees en die laastes eerste. Geliefdes in die kerk van Jesus staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus nie – sommiges is nie voor en sommiges nie agter nie.

In die kerk van Jesus vat ons almal hande en maak ‘n kringetjie rondom die kruis. Onder God se kinders is daar nie witbroodjies nie, maar ook nie swartskape nie.

Want Hy handel met ons, nie volgens wat ons verdien nie, maar uit genade. Hy gee ons nie ons verdiende loon nie, Hy gee ons genadebrood omdat Hy goed is. Niemand is geregtig op voorkeurbehandeling nie.

Vir iemand wat reken op voorkeurbehandeling is hierdie natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Interessant Petrus het hierdie voorkeur-behandeling verwag. Luister wat sê hy in Mat 19: 27: Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” 

Jesus ontken nie dat daar loon sal wees nie, maar let wel: Nie verdiende loon nie, maar genadeloon. Vir ons wat miskien onbewustelik tog reeds ‘n bietjie gedink het dat ons senior amptenare in die Koninkryk van God is, is dit natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Ja, die vreemde geregtigheid van God gee sommer aan daardie laatkommer aan die kruis, ‘n man wat nooit in ‘n kerk of ‘n biduur was nie, sommer die paradys verniet weg.

U sien genade maak ons gelyk met die grond. En as almal in die kerk eers gelyk is met die grond, dan is ons uiteraard ook gelyk met mekaar.

Juis daarom is ons mekaar se broers en susters en mag ons nie oor mekaar baasspeel nie. Die kerk is nie ‘n plek van magspeletjies nie. Die kerk is ‘n plek van verlostes wat mekaar dien.

Pinksterfees beteken ons is almal deur dieselfde Gees gedrenk. Deur dieselfde Gees moet ons nie die een op die ander neersien nie. Daarom maak die Pinkstergees onder nederig aan mekaar.

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Waar sal my hulp vandaan kom?

SKRIFLESING: Ps 121: 1 – 8

Ons sê dikwels: “Die lewe lê soos ‘n berg voor my …… ek sien nie daarvoor kans nie.” Hierdie berge kan enigiets wees. Dit kan “oud word” wees. Dit kan siekte wees, eensaamheid, huweliksprobleme, ouer-kind probleme of finansiële probleme of vele ander gestaltes van menslike pyn.

Ja, my probleme lê soos ‘n berg voor my!

Dan begin koning Dawid hierdie Psalm met die woorde: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Ons as gelowiges leef dikwels sonder moed en lewenskrag, asof die berge groter as God is. Inderdaad het Johannes Calvyn geskryf: “Daar hoef maar net ‘n blaartjie iewers te ritsel, dan begin ons te bewe asof God van ons vergeet het.

Koning Dawid het ook met die skryf van Psalm 121 rondgerol van bekommernisse en vrees. Ons lees dit is ‘n pelgrimslied. Met ander woorde Dawid het dit geskryf toe hy oppad was. Waarskynlik was dit in die nag toe hy rondgerol het van bekommernisse en vrees.

Sien in u verbeelding die situasie waarin Dawid was. Hy was waarskynlik op ‘n lang en gevaarlike reis na Jerusalem. Daar was die gevaar van roofdiere en veral van rowers. Hy het rondom die vuur gelê en die bekommernisse het hom wakker gehou. Hy het nog die vrees gehad dat koning Saul hom nog wil doodmaak. Dan sien hy die wag, wat by die vuur waghou. Dan spoel daar ‘n vertroue en gerustheid oor hom en hy komponeer die Psalm op sy harp.

Die lied, die Psalm begin met: “Ek kyk op na die berge: Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?”

Die geloof het destyds bestaan dat die gode op ‘n berge in die noorde woon. Die Israeliete het immers gereeld op die sogenaamde “hoogtes” geoffer, omdat hulle waarskynlik ook deur hierdie ou geloof beïnvloed is. The Living Bible vertaal dit so mooi: “ Shall I look to the mountain gods for help?”   

Hoor hoe antwoord Dawid: “ My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Vir die Skeppergod is alles moontlik.

In vers 1 – 2 is “hulp” die sleutelwoord en in vers 3 – 8 is “bewaar” die sleutelwoord. Daarom het die Psalm as’t ware twee dele:

Verse 1 – 2: Die Here is my helper.

Vers 3 – 8: Die Here is my bewaarder.  

En hoe ‘n bewaarder is die Here nie!

In vers 3.a staan daar dat Hy nie sal toelaat dat jy struikel nie. In die Hebreeus beteken dit “om nie te waggel nie”. Jy sal nie eers amper val nie.

In vers 3.b en vers 4 staan dat die een wat jou beskerm, slaap nooit nie. Daar staan die Beskermer van Israel slaap nooit nie. Is dit nie wonderlik nie. Toe ek Nasionale diensplig gedoen het, moes ek dikwels in die oggendure tussen 04h00 en 06h00 wagstaan. Dit is net jy en jou geweer en jou radio om met die bevelskamer te praat. Dit is die tyd net voor die son opkom. Dan is jy op jou heel vaakste. Dan moes ek hard met myself gepraat het om wakker te bly. Sou hulle jou vang slaap, sal hulle jou van die offisierskursus afgooi. Dit was erg. Ja, wagte kan aan die slap raak. Die stad Sardis in die Bybel is ook twee keer binnegeval, omdat  die wagte geslaap het. Maar onse Here slaap nooit. Ons Beskermer is altyd wakker om ons te beskerm, teen watter gevaar ons ookal bedreig.

Vers 6.a handel oor die wyse van beskerming. Die son sal jou nie steek nie. Dit herinner aan die uittog van Israel uit Egipte toe die Here ‘n wolk as beskutting gegee het teen die gevaar van sonsteek in die woestyn.

Vers 5 staan daar Hy bewaar jou van alle gevare. Die Here vul die ruimtes waar jy die kwesbaarste is. So byvoorbeeld is die soldaat se regterkant die kwesbaarste. Sy skild is aan sy linkerkant om sy hart te beskerm. Sy regterkant is onbeskut, want hy hou sy swaard vas. Daarom is die kwesbaarste ruimte die regterkant. Maar ook in daardie kwesbaarste ruimte is God.

Vers 6.b staan daar dat die Here jou snags sal beskerm en dat die maan jou nie kwaad sal aandoen nie.  In die antieke tyd het hulle geglo dat daar maansiektes was soos epilepsies en koorssoorte wat kom van die Sjin die maangod. Ook van dié gevaar sal die Here jou beskerm.

Dan word die Psalm afgesluit met verse 7 en 8, wat weereens bevestig dat die Here jou sal beskerm. Daar word beklemtoon , dat Hy jou lewe (jou siel) sal beskerm. Jou lewe (siel) is jou kosbaarste. Hierdie Psalm sê nie dat die lewe nie probleme sal hê nie. Die lewe is egter vir almal ‘n reis vol gevare en elkeen se lewenspad is moeilik. Maar in alles sê Dawid is die Here vir ons ‘n Helper en ‘n Bewaarder.

Die lewe is een groot pelgrimsreis, vol gevare. Maar op hierdie pelgrimsreis is die Here met ons, om ons te lei en te beskerm. Ons pelgrimsreis vat ons nou deur die donker dieptes en ongekarteerde pad van COVID-19. Die gevaar is nou groot. Daar is ekonomiese insinking, werksverliese en menslike ellende. Maar alle donker tye eindig. JAHWEH, die Here se naam in Hebreeus beteken: “Die Here red.” Die Here red op verskillende maniere. Somtyds maak die lewe nie sin nie, maar daar is ‘n groter prent daaragter.

Wanneer jy ‘n enkele legkaartstuk vashou, sien jy geen prent nie. Eers later wanneer dit in die groter legkaart geplaas word, kry die prent fokus. Nou verstaan ons nie, maar later sal ons verstaan.

Word kalm, kry lewensmoed, word rustig en weet: Jy het ‘n Helper en ‘n Bewaarder.

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Swakke gebede is soos wierook vir die Here aanneemlik.

SKRIFLESING: 1 Samuel 1: 1 – 19

In ons gelese gedeelte lees ons dat Elkana twee vroue gehad het. Die een was Peninna en sy het vir Elkana baie kinders in die lewe gebring. Die ander vrou was Hanna en sy het geen kinders gebaar nie. Hulle het in Rama gebly en elke jaar ‘n pelgrimstog na Silo se tenttempel onderneem. Wanneer hulle die offermaaltyd gedeel het, het Peninna baie dele gekry en Hanna net ‘n enkele deel. Dan het Peninna vir Hanna elke jaar heftig gespot, sodat Hanna baie emosioneel daaroor was en baie daaroor gehuil het. Tog het Elkana vir Hanna baie liefgehad en haar telkens van sy liefde vir haar verseker. Elke jaar net nog ‘n erger spot.

Dan lees ons hoedat Hanna een jaar die tempel ingevlug het en baie hartseer was en bitterlik gehuil het. Eli het net haar lippe sien roer. Sy het nie hardop gebid nie. Die priester, Eli het gedink dat Hanna dronk was in die tempel en hy het haar aangespreek oor sy dronk was. Sy vertel toe dat sy gebid het om ‘n kindjie en dat sy ‘n gelofte aan die Here gemaak het. Eli het toe verstaan en haar in vrede weg gestuur.

Interressant op Pinkstersondag toe die Gees uitgestort is, het die mense ook gedink dat die dissipels en vroue dronk is. Hanna het werklik in die Gees gebid.

A woman wearing a mask prays during Ash Wednesday Mass at St. Joseph Cathedral in Hanoi, Vietnam, Feb. 26, 2020, amid the coronavirus outbreak. (CNS photo/Kham, Reuters)

Somtyds dink mense dat hoe meer mense bid, hoe meer geneig sal die Here wees om te luister. Daarom maak die mense so baie van Angus Buchan se massabyeenkomste, asof die Here net ‘n skaar van mense se gebede sal verhoor. Dikwels word daar ook dan gespog oor hoeveel mense die gebedsbyeenkoms bygewoon het. In die Bybel lees ons egter dat die Here in albei gevalle gebede verhoor. Of daar 400 000 mense gelyktydig bid en of daar ‘n enkele gebed gebid word, dit het dieselfde impak.

Hanna se gebed was maar stamelend. Sy het alleen gebed (nie in die openbaar nie). Sy het gebid teen alle Joodse gebruike in. Tog het die Here haar gebed verhoor.

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat deur God aanneemlik is.

Ek hoef nie soos ‘n Concorde vliegtuig  grasieus en voortreflik te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Gebed verander sake, maar dit verander veral ook die bidder.

Ons lees toe Elkana se familie weer terug was in Rama, het hy met sy vrou Hanna gemeenskap gehad en sy het swanger geword. Met die jaarwenteling het sy haar seun Samuel in die lewe gebring. Hierdie Godvresende vrou Hanna het dan die seuntjie Samuel vir die Here groot gemaak.

Haar eenvoudige / alleen gebed het die geskiedenis van Israel verander. Eli se twee seuns Hofni en Pinehas was nie geskik om hulle pa Eli op te volg as priester nie. Die verbondsark is ook deur die Filistyne buit gemaak.

Die geestelike toekoms van Israel het maar donker gelyk. Samuel sou die nuwe toekoms word as priester en geestelike leier van Israel. Hy sou ook die eerste koning van Israel, naamlik Saul in sy amp salf.

As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ‘n enkeling rimpels veroorsaak vir ‘n heel nuwe toekoms.

Natuurlik is daar plek vir massa gebedsbyeenkomste, maar daar is ook beslis plek vir die gebed van ‘n enkeling. Gebed is altyd verootmoediging. Dit suiwer jou hart, gedagtes en lewenswandel. Dit skep orde in jou gedagtegang oor die goed wat jy met die Here wil praat.

Een evangelis het gesê: “Moenie begin om die wêreld te verander nie. Klim self in die sirkel en begin by jou.” Ons moet ‘n lewe van gebed beoefen. Ons moet nie maar net ‘n geleentheidsbidder wees nie. Gebed moet die stuurwiel van jou lewe wees en nie die noodwiel nie.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord let your Kingdom COME”, moet ons daarmee saambid: “Lord let my Kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen, waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike “commitment” en toewyding.

Ons moet nie vaskyk in die massa histerie van ‘n massa gebedsbyeenkoms en in die proses die persoonlike intieme gebede van ‘n enkeling miskyk, wat die toekoms van die land kan verander.

Moeder Monica het elke dag vir haar onverskilige seun Augustinus gebid. Augustinus het tot bekering gekom en van die eerste groot kerkvaders van die Christelike kerk geword.

Bid vir jou kinders ….

Bid vir jou eggenoot ….

Bid vir jou familie ….

Bid vir jou vriend …..

Bid vir iemand wat jy ken …..

Bid vir Suid-Afrika in die tyd van COVID-19.

In hierdie tyd van COVID-19 het ons baie gebed en baie gebedsaksie nodig.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om vir die hemel te leef, beteken om baie ernstig vir die hier en nou te lewe.

SKRIFLESING: Luk 16: 19 – 31

Ons dink dat die hemel eers eendag kom. Ons vergeet dat ons nou alreeds “iets” van die hemel, ‘n “stukkie” van die hemel  moet laat kom in mekaar se lewens.

In plaas van vir mekaar ‘n stukkie “hemel” te gee, gee ons vir mekaar dikwels “hel op aarde”. Ja, elke dag stuur ons mense in hulle hel in. So word hierdie lewe vir baie mense “hel op aarde”. In plaas van “hemel op aarde” ervaar mense dikwels “hel op aarde”.

Ons leef vir die hiernamaals, terwyl ons vergeet van die hiernoumaals. Ons leef vertikaal in plaas van horisontaal. Ons kyk op na die Here, sonder om rond te kyk en af te kyk na ander mense.

In die Middeleeue met die hoogbloei van die slawehandel , was daar ‘n slawekaptein wat slawe aan die kus van Wes –  Afrika gevang het en per skip na Amerika geneem het. Hy was ‘n godvresesende man, wat graag op die dek van die skip gesange gesing het tot eer van God. Tog was daar ‘n ernstige godsdiens-probleem by hom. Hy het die slawe onder in die dek van die skip baie swak behandel. Hy het vir hulle niks gevoel nie. Hy het slegs ‘n godsdiens na “bo” gehad, maar nie ‘n godsdiens wat “rond kyk” na mense nie. Hy het vergeet van die baie Lasarusse onder in die skip. Hy het met mense handel gedrywe en hulle nog boonop sleg behandel. Hy is die ryk man in ons gelese gedeelte, wat ryk geword het uit ander mense.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus, het die ryk man ‘n stukkie hemel weerhou van Lasarus. Hy was ryk, hy kon iets vir Lasarus beteken. Tog het hy niks gedoen nie. Hy het Lasarus in sy aardse hel gelos. Sekerlik kon hy nie die swere op Lasarus se liggaam gesond maak nie, tog kon hy verligting gee. Net so kan ons ook nie al die probleme van hierdie wêreld oplos nie. Tog kan ons verligting gee, mense se hel verlig, vir  mense ‘n stukkie hoop gee, vir mense ‘n stukkie van die hemel laat sien.

Op aarde kan mense nog iets vir mekaar beteken, want Lasarus het by die deur van die ryk man gelê. In die hemel is daar ‘n kloof, is dit te laat om vir iemand iets te beteken. As’t ware struikel die ryk man by sy deur oor Lasarus en beland in die hel.

Daar is vandag baie Lasarusse in ons lewe. Lasarus is enige mens vir wie ek iets kan beteken. Lasarus kan wees, my lewensmaat, my kinders, my ouers, my bediendes, die bejaardes, die armes, die siekes, die vreemdeling by my voordeur, die straatkinders, die ongelowige mens en in vele meer gestaltes.

Lasarus kan self die natuur rondom my wees. Ons mense word ryk uit die natuur, terwyl die natuur soos Lasarus vol swere is. Die natuur is so verniel en bedreig. Wat kan ons doen om die natuur te help?

Die ryk man het sy geleenthede verspeel. Soveel geleenthede by my voordeur, na aan my ….. tog word dit dikwels verspeelde geleenthede. Dikwels leef ons net vir onsself, soos wat die ryk man net vir homself geleef het. Telkens wil die Bybel die vraag vra: “Vir wie leef jy jou lewe?” Vir jouself, jou eie gerief, jou eie sekuriteit of vir ander?

Die profeet Miga gee die korrekte antwoord vir ons in Miga 6: 8 : “ Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor God.”

Die afgelope weke het ek so bewus geword van die goedheid van ons gemeenskap op Adelaide en veral van die boere gemeenskap. Ons is in die midde van die COVID-19 pandemie. Baie mense kry nou swaar. Broodsgebrek in huise is algemeen. Omdat die skole toe is, kry die kinders nie meer voedsel by die skool se voedingskemas nie. Kinders lei honger. So baie boere het tonne wildsvleis geskenk vir die verskillende sopkombuise in ons gemeenskap. Daar is enkele boere wat op hul eie ook vleis voorsien aan minderbevoorregtes. Die Post Retief Boerevereniging het hulle harte oopgemaak vir ‘n ruim donasie, wat miskien volgende maand herhaal kan word. Die Round Table Adelaide 194 gee groot kosdonasies vir die gemeenskap. Families ondersteun mekaar, daar waar iemand in die familie  sy of haar werk verloor het. Dit is ‘n wonderlike verhaal.

Paar maande terug was ons boere in ‘n erge droogte. Van oraloor die land het daar skenkings gekom vir veevoer en veelekke. Die swaarkry wat die boere toe beleef het, het nou hulle harte oopgemaak vir ander mense in die dorp wat nou hongerte ervaar.

Ons gemeente het in die verlede jaarliks, tienduisende rande gegee vir plaaslike barmhartigheid. Ons kan nie meer gee nie, want die kerkeredienste se bankkollektes en dankoffers het nou opgedroog. Gelukkig het die Here op ‘n ander manier voorsien, deur die boere, boereorganisasies en die Round Table.

In die droogte is ons geseënd met 40 x 5000 liter JoJo watertenks van KERK SONDER MURE, wat ‘n gemeente in Centurion is. Wat ‘n ongelooflike verhaal van barmhartigheid.

Gelukkig tree ons gemeenskap nie op soos die ryk man, wat geen gevoel het vir Lasarus nie.

Die ergste is ‘n lewe wat nooit gelewe is. Eintlik het die ryk man in ons gelykenis nooit gelewe nie. Met die lewe kan dit maklik gebeur, soos met ‘n kosbare kledingstuk, wat suinig in die kas weggebêre word, sonder om gebruik te word. Op die einde het die motte dit opgevreet. Die kledingstuk het vergaan, sonder dat dit enige waarde vir die eienaar of vir iemand anders gehad het nie.

Moeder Theressa, die Katolieke non van Kalkutta het haar lewe opgeleef. Sommige mense beskuldig haar dat sy ‘n hoogs immorele dame was. Sy kon haar lewe eerder gewy  het om by die skatrykes van Amerika geld in te samel vir die armes van hierdie wêreld. Sy kon dan tien keer meer vermag het. Tog het sy verkies en was sy op haar gelukkigste as sy in die drek van Indië, ‘n sterwende kind se hand vashou. By haar kan ons leer van empatie en deernis. Medemenslikheid is om iemand se hand vas te hou letterlik of deur my woorde.

‘n Goeie illustrasie is dié van middelpuntvliedende en middelpuntsoekende krag. Middelpuntsoekende krag is inwaartse krag, soos die draaikolk in ‘n rivier. Dit sluk jou in, dit vernietig jou.  So is dit ook met iemand wat net op homself en sy eie selfsugtige behoeftes ingestel is. Dit vernietig jouself.

Middelpuntvliedende krag is lewendgewende krag. Dit is soos die planete wat middelpuntvliedend rondom die son beweeg. Dit skep lewe en orde. Net so ook iemand wat middelpuntvliedend weg van homself of haarself lewe, ervaar die lewe in oorvloed. So iemand word ook ryklik deur die Here geseën. 

Ek glo Moeder Theressa sou bereid wees om die hemel mis te loop, solank sy net ‘n stukkie hemel in die oë van ellendige mense kan bring.

Die hemel begin nou ….. ons moet nou in die hiernoumaals, hemel skep in ander mense se lewens.

Die troos van die Here is dat hulle wat “afkyk” en “rondkyk” na hulle medemens, mag ook “opkyk” na hulle hemelse Vader. Jesus het ook “afgekyk” en “rondgekyk” na die mense toe Hy aan die kruis gehang het, daarom kon Hy “opkyk” en na Sy Vader gaan.

Pinksterfees beteken om met erbarming die liefde van die Here in word en daad met jou medemens te deel. Eers dan het jy gehoorsaam aan die Heilige Gees geword. Dan is jy eers ‘n Pinkstermens.

Die Nagmaalswyn en Nagmaalsbrood bereik eers sy volle betekenis as dit gedeel word met almal. Die brood en wyn word gedeel – net so moet ek my lewe deel met ander op my lewenspad. Ek moet ‘n “engel” vir ander mense word!

Ek is so dankbaar ons gemeentelede op Adelaide en ons boeregemeenskap begin almeer soos “engele” te lyk en op te tree. COVID-19 het ons ten goede verander.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

COVID-19 EN DEO VOLENTE

COVID-19 EN DEO VOLENTE

SKRIFLESING: Jakobus 4: 13 – 17

Aan die begin van 2020 het ons almal vir mekaar met die mooiste WhatssApp boodskappies ‘n geseënde 2020 toegewens. Ons was positief oor 2020. Ons het ook alreeds aan die begin van die jaar aannames en beplanning gedoen oor wat ons alles gaan doen in 2020. Sommiges het ‘n troudatum beplan, ander het ‘n vakansie by die see beplan en ander het ‘n familiebyeenkoms beplan. Ons het beplanning gedoen vir ons werk, ons familie, ons ontspanning, vir die kerk en om dinge saam met ons vriende te doen.

5988555_coronavirus-thumb-img-COVID-01Binne drie maande het alles regoor die aardbol verander. Skielik is al ons planne gekanselleer. Niks wat ons beplan het, gaan gebeur nie. Baie kan nie meer werk toe gaan nie, skole is gesluit, daar is geen kerk of sportbyeenkomste meer nie. Die winkels is toe.  COVID-19 het alles verander.

Die apostel Jakobus waarsku ons in hoofstuk 4: 13 – 17 teen ‘n valse stuk selfvertroue, asof die verloop van die lewe in ons hande is. Jakobus praat van mense wat selfversekerd sê, vandag sal ons in dié stad wees en môre in ‘n ander stad en ons sal sake doen en geld maak.  Ons maak as’t ware die aanname dat ons self sal bepaal wat op die agenda van elke dag is. Jakobus praat van dit, is “grootpratery”. Met ander woorde hy praat van persoonlike trots en hoogmoed. Ons wil die kaptein van ons eie skip en lewe wees. Ons sal alleen bepaal waar ons vandag en môre is. In Esegiël 28:6 staan daar: “Daarom, sê die Here my God, omdat jy jou verbeel het jy is ‘n god…..” Ons verbeel ons, ons is ‘n god wat ons eie tye kan bestuur. Ons wil as’t ware die hart van ‘n god hê, as ons, ons kalendertyd wil beplan.

Hoor ‘n bietjie hoe beskryf Jakaobus sy lesers. Hulle het in die eerste plek ‘n plan gehad. Hulle wou suksesvol wees. Hulle het tweedens ‘n plek gehad. Hulle sal van stad tot stad reis. Hulle het derdens ‘n tydsperiode beplan. Hulle het beplan om vir ‘n jaar op ‘n plek te bly. Hulle het vierdens ‘n program gehad. Hulle sal handel dryf. Vyfdens het hulle ook ‘n doel gehad, naamlik om geld te maak. Die Griekse word vir “geld maak”, beteken in die Grieks om in die ekstreme, tot die uiterste toe geld te maak. So kan gesien word hoe Jakobus se lesers tot in die fynste detail hulle lewe en toekoms met ‘n bravade en sekerheid wat aan arrogansie grens beplan het.

Dan steek Jakobus ‘n stokkie voor die valse selfversekerdheid. Hy skryf in vers 14:  “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.” Jakobus klink hier amper soos Prediker, wat sê dat die menslike lewe en menslike planne maar nietig is. Dit is soos mis wat voor die son verdwyn. Jy kan van niks seker wees nie. Die dood kan jou in ‘n oomblik besoek. 

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ‘n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ‘n sandkasteel wegspoel met hooggety.

uvm3dws7_400x400Dan gee Jakobus vir ons raad in vers 15: “ Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Daar is die Latynse woorde: “DEO VOLENTE”, wat beteken as dit die wil van die Here is. In my kinderjare het ek dikwels gehoor dat hulle D.V. voor ‘n beplande datum sit. Daardeur is as’t ware verklaar dat ‘n geleentheid beplan word D.V., “as dit die wil van die Here is”. Daardeur is as’t ware erkenning gegee aan die mense se afhanklikheid aan die Here en dat die Here self die tye en geleenthede in Sy hande hou. Veral die Puriteine het begin met die gebruik om D.V. voor ‘n datum te plaas.

Dalk wil die Here ons hier in 2020 tot ‘n halt roep en ons weer daaraan herinner dat ons lewe, geleenthede, beplanning en agenda nie van onsself afhang nie. Ons moet meer afhanklik omgaan met ons daaglikse en jaarlikse beplanning. Ons moet weer die afkorting “D.V.” gebruik wanneer ons ‘n datum beplan.

Daar is ‘n verskil hoe mense van Afrika en die Westerling oor tyd verskil. Vir die mense van Afrika is tyd ‘n reeks van sinvolle gebeurtenisse. Vir die Westerling is tyd om so produktief as moontlik te wees in ‘n sekere tydsgleuf. Daarom is ons so ontstelt dat tyd so vinnig verby vlieg. Vir die Westerling met sy behoefte aan produktiwiteit is 2020 natuurlik ‘n verskriklike slegte jaar. Dit is sekere die onproduktiefste jaar wat die wêreldgeskiedenis die afgelope 100 jaar beleef het. Inderdaad is dit ‘n “annus horribilis”, ‘n horibale jaar, met min goed in hom. Ons kan inderdaad nie meer soos vers 13 sê, van een stad na ‘n andere stad reis om sake te doen of geld  te maak nie.

Dalk wil dié horibale jaar ons leer om nuut te kyk na die betekenis van tyd. Dat tyd nie gemeet moet word slegs in terme van produktiwiteit nie, maar eerder as ‘n reeks sinvolle gebeurtenisse. Ons moet leer dat tyd nie aan ons behoort nie, maar dat dit aan God behoort. Daarom sal God ons ingang en ons uitgang bepaal. Daarom is ons van tyd, van God afhanklik. Ons moet leer om D.V. te sê voor elke beplande datum en tyd.

Koning Dawid sê so mooi in Ps 31:16 se begin:  “My tye is in u hand.” Dit het ons vergeet. Daarom het ons ‘n Korona-virus nodig om ons dit weer te leer.

Die jaar 2020 lê nou skielik onbekend voor ons. Skielik kan ons nie meer handel dryf nie. Ons het nie meer ‘n plan, ‘n plek, ‘n tydsperiode, ‘n program of ‘n doel nie. Ons sandkastele van 2020 wat ons vir ons gebou het, het skielik weggespoel. Ons was te seker van onsself en ons planne vir 2020 gewees.

Nou word ons weer geleer om DEO VOLENTE te sê, as dit God se wil is. Ons word weer geleer om die voorvoegsel D.V. te gebruik as ons ‘n datum wil vasmaak vir die toekoms.

COVID-19 het ons geleer om weer ons plek te ken in die skepping, maar ook om weer ons tyd te plaas in God se ewige en perfekte tyd.

DEO VOLENTE

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

DROOGTE 2019

DROOGTE 2019

Die jaar 2019 sal ingekerf wees op ons geheue soos die droogtes en depressiejare van die vorige eeu.

imagesAlmal is dit eens dat die droogte van 2019, wat al oor ‘n paar jare kom, die ergste droogte die afgelope 100 jaar is. Meer as ‘n derde van die land is in die wurggreep van hierdie droogte. Dit is uitmergelend op die siel en emosie van elke boer. Dorpe soos Adelaide, Bedford en Graaff Reinet en ander dorpe het ook feitlik geen water nie en die inwoners van die dorpe kry baie swaar.

In die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) het die Joodse psigiater Victor Frankl sy medegevangenisse in Auschwitz deeglik dopgehou. Daar was van die gevangenisse wat in die aand in die slaaplokale vir mekaar stories van hoop vertel het. Hulle het vir mekaar vertel  watter besighede hulle gaan oopmaak na die oorlog. Hulle het hulle drome gedeel met mekaar van hoe hulle besighede gaan lyk en wat hulle gaan verkoop en hoe die planne van hulle winkels gaan lyk. Feitlik al die gevangenisse wat so stories van hoop met mekaar gedeel het, het die oorlog oorleef. Hulle het iets gehad om oor te droom.

Ander gevangenisse het geen drome van hoop gehad nie. Al wat hulle gesien het was die oorlog, die gaskamers en die dood. Vir hulle was dit emosioneel die einde. In die oggende het hulle nie eers opgestaan om toilet toe te gaan nie. Hulle het sommer in hulle urine bevlekte komberse doodgegaan. Dit was dan ook hulle einde. Omdat hulle sonder hoop was, het hulle geen stories van hoop met mekaar gedeel nie. Hulle het niks gehad om voor te lewe nie. Hulle het siek en swak geword. Die reël van die konsentrasiekampe was, dat as jy siek en swak word, moet jy na die gaskamers toe gaan om te sterf.  Auschwitzwas hulle einde.

Die verskil tussen die twee groepe gevangenisse was dat een groep stories van hoop vertel het en bly lewe het. Dié wat geen stories van hoop gehad het nie, het almal gesterf. Daarom moet ons die droogte nie sien as die einde nie. Daar is lewe na die droogte. Ons moet nou al droom, watter nuwe planne en verbeterings ek gaan aanbring op my plaas na die droogte. Hierdie waarnemings het Victor Frankl geboekstaaf in sy beroemde boek: “Search for meaning.” Hy het dan ook gesê dat elke mens die keuse het, hoe hy/sy wil reageer in elke bepaalde situasie en niemand kan jou keuse van jou wegneem nie.  Daarom het ons elkeen ook ‘n keuse van hoe ons op die droogte gaan reageer.

Swaarkry kweek karakter. Ek het al dikwels in my lewe gevind dat mense met die mooiste karakter en integriteit, almal lewensverhale van swaarkry in hulle lewe geken het. Ek onthou vir Oom Jan van Wyk van Strydenburg. Hy was ‘n man van vlekkelose karakter. Rondom 1913 was hy en sy broer baie arm gewees, as gevolg van die “verskroeide aarde” beleid van die Engelse in die Anglo Boereoorlog. Daar was baie arm blankes. So was Oom Jan van Wyk en sy broer ook arm. Hulle het ‘n paar skape gehad wat hulle laat wei het op huurgrond. Toe kom die groot droogte van 1913 en die weiding raak op en hulle moes met hulle skape trek na Kenhardt se wêreld. Hulle het die skape laat wei al langs die pad en die heinings. Hulle het nie eers geld gehad om iewers te oornag nie. Hulle het in die nag saam met hulle skape in die veld geslaap. Maar hulle karakter is gevorm deur die swaarkry. Later het dit beter gegaan, hulle het grond gekoop en uitgebrei en later selfs ook welgesteld geword. Die twee broers het alles saam gekoop, die eerste motorkar, die eerste trekker, hulle grond en landbouimplemente. Hulle het nooit vasgesit nie. Hulle het letterlik alles gedeel, behalwe hulle vrouens. Op 65 jarige ouderdom het die prokureur hulle raad gegee om hulle goed te verdeel, terwille van die boedel eendag. Hulle het ook toe nooit gestry oor aardse goed nie. Oom Jan was later burgemeester van Hopetown. Almal het hom gerespekteer. Hy het soveel respek en karakter uitgestraal, dat hy ‘n hele gemeenskap se standpunt oor moeilike kwessies kon draai. Swaarkry het hom ‘n man van karakter gemaak. So word ons elkeen ook gevorm deur swaarkry.

Om ‘n soldaat te word moet jy eers deur die moeilike basiese opleiding gaan. Die Amerikaanse “Navy Seals” se opleiding is hel op aarde. Dié wat dit slaag, kan die gerespekteerde kenteken van die “Navy Seals” dra.

Die Here straf ons nie deur droogtes nie. Hy het eenmaal, 2000 jaar gelede al ons skuld gedra en weggeneem op Golgota. Daarom kan ons nie sê dat God ons straf nie.

Luister wat sê Jak 1:2 – 4: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Beproewinge kom van God om ons sterk te maak. Versoekinge kom van die duiwel om ons af te breek. Daarom is beproewinge om ons geloof sterk te maak, ons te leer om te volhard en ons te bring tot volle geestelike rypheid en karakter. Wanneer Jakobus die brief skryf, was dit in ‘n tydperk toe die Christene moeilik werk gekry het. Elke dorp het sy gildes gehad vir elke ambag. Om ‘n skoenmaker te wees in Jerusalem, moes jy ‘n lisensie kry van die gilde. Die Romeine en die Jode het lisensies gekry, maar nie die Christene nie. Daarom was die meeste Christene werkloos. Verder was daar ook ‘n droogte en hongersnood in die tyd toe Jakobus die brief geskryf het. Christene is ook oor hulle geloof vervolg. Desnieteenstaande al die beproewinge, skryf Jakobus dat die swaarkry ten doel het om by ons volharding, geestelike rypheid en karakter te kweek.

Alle droogtes gaan verby. Al die baie droogtes in die Bybel het verbygegaan. Al die baie droogtes van die afgelope 100 jaar het verby gegaan. Die droogte van 2019 sal ook verbygaan. Ons moet moed hou. Ons moet die droogte gebruik om ons taai te maak, om ons karakter te leer en om ons geestelik ryp te maak.

Vorentoe sal ons terugkyk op die droogte van 2019 en wonder hoe het ons deur die droogte gekom. Dan sal ons besef die Here se genade was vir ons genoeg.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is die vredemakers …  (Mat 5: 9)

Geseënd is die vredemakers …  (Mat 5: 9)

Wanneer laas het ons werklik vrede gehad? Die laaste keer was in die tuin van Eden gewees. In die Paradys, voor die sondeval was Adam en Eva in volkome harmonie met mekaar gewees. Hulle was naak, maar was nie vir mekaar skaam gewees nie. Hulle was ook in volkome harmonie gewees met God, want God het hulle elke aand in die aandwind opgesoek. Toe gebeur die sondeval. Dit was die begin van konflik en onvrede. Dit was ook direk daarna dat Kain vir Abel doodgemaak het omdat hy op hom jaloers was. Sedertdien leef ons ‘n wêreld van konflik en onvrede. Op Golgota het Jesus Christus die groot Vredemaker geword, wat mens en God versoen het en ook mense met mekaar versoen het. Wanneer hy weer kom met die wederkoms as die “Prins van vrede” sal  die werklike vrederyk aanbreek.

Maar hier tussen die vrede van die Paradys en die vrede van die vrederyk wat nog kom, leef ons in ‘n tyd van konflik, oorlog en stryd tussen mense. Dit is die gevalle engele en die sondige mensdom wat die konflik en oorlog veroorsaak. God is nie in konflik en oorlog met die mens of die gevalle engele nie.   Dikwels word God blameer in oorlogstye vir die ellende van oorloë. Maar God is nie die Een wat oorloë veroorsaak nie. God het mense nie programmeer as robotte nie. God het vir die mens die keuse gegee om in elke stuasie te kies. Maar ons kies gewoonlik die slegte, die konflik, die onvrede en die oorlog.

Die vrede wat die mens skep is dikwels soos sandkastele, wat met die eerste teken van hooggety weggespoel word. Dit is so vir politieke vrede, ekonomiese vrede, sosiale vrede en huishoudelike vrede. Washington DC het ‘n klomp vredesmonumente, wat gebou is na elke oorlog. In 1945 is die die Verenigde Nasies gestig om toekomstige oorloë te verhoed. Desnieteenstaande was daar nie ‘n enkele jaar, waar daar nie êrens in die wêreld ‘n oorlog gewoede het nie. Vir die mens om vrede op aarde te vestig is dagdromery. Elke verhouding waarin die mens staan is broos en breekbaar.

shalom peace

Dan kom ons by die sewende saligspreking, waar Jesus sê: “Geseënd is die vredemakers ….” Die Hebreeuse word “sjalom” is ‘n sentrale begrip in die Ou Testament. Dit is ‘n word wat die volheid en omvang van God se bedoelde heil vir mens en wêreld die beste beskryf. Dirkie Smit skryf: “Sjalom gaan oor die heel maak, die herstel van die totale wêreld wat God gemaak het en vandag nog onderhou omdat Hy dit liefhet met ‘n groot en verterende vuur.” Daarom gaan die sjalom nie net oor die verlossing van siele nie, maar die herstel van die hele aarde.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie sjalom moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ‘n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef.

Wanneer ons oor politieke vrede praat moet ons versigtig wees. Sommige mense maak politieke vrede die alfa en die omega van die sjalom. Dan kan jy jou maklik vasloop in bevrydingsteologie. Dit is dieselfe verwagting wat die Jode van Jesus gehad het. Jesus moet hulle net verlos van die Romeinse oorheersing. Jesus word dan ‘n tipe van ‘n politieke Messias. Dit is baie gevaarlik, want dan verskraal jy die Evangelie. Maar ‘n mens kan ook die fout maak, om te dink dat die sjalom niks te doen het met politieke lewe. Natuurlik het die Evangelie inplikasies vir die politiek, menseregte en geregtigheid.

‘n Goedkoop vrede sonder geregtigheid is ook nie ware vrede nie. Daarom vra vrede dat die geregtigheid herstel moet word.

Soms kan ons Jesus se vrede ook verskraal, deur net bereid te wees om net met sekere mense in vrede te lewe. Jy kan van jou volksidentiteit so ‘n afgod maak, dat jy nie bereid is om met alle ander nasies, kulture en volkere in vrede te lewe nie.

Die heel gevaarlikste is as ons vredeliewende mense verwar met vredemakende mense. Vredeliewende mense soek vrede, solank dit net nie iets van hulle vra nie. Vredemakende mense sal hulle moue oprol, in die situasie inloop en vrede bewerk, selfs ten koste van hulself, terwille van die Evangelie. Kodjak sê dat vredemakende mense bereid is om persoonlke opofferings te maak ter wille van Christus. Jy kan eers ‘n vredemaker wees as jy die die vorige 6 saligsprekinge ingeoefen het. Om ‘n vredemaker te wees kom nie vanself nie. Jy moet kan treur oor die wêreld, jy moet sagmoedigheid aanleer en soek na geregtigheid. Jy moet barmharig en rein van hart wees. In die inoefening van die saligsprekinge, kan jy ‘n vredemaker word.

Dirkie Smit skryf dat ons moet waak teen ‘n “negatiewe” Christendom wat teen alles en almal is. Ons soek as’t ware vir ons vyande uit. Dit is nie wat die Evangelie van ons vra nie. Ons moet eerder die wêreld verander met Jesus se liefde. Ons moet op ‘n positiewe wyse die Evangelie van Jesus verkondig aan hulle wat ver is en aan hulle wat naby is.   

Om vrede te maak is ‘n voorwaarde van ware dissipelskap. Hoor wat sê Jesus in Mat 5: 23 – 24: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

Maar somtyds gebeur dit dat jy alles moontlik doen om vrede te herstel, maar die ander party wil in vyandskap bly leef. Solank jy jou deel gedoen het om die vrede te herstel is dit goed. Hoor wat sê Rom 12: 17 – 18: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” 

Somtyds kan ‘n situasie so toksies wees, dat enige bydrae wat jy maak net die situasie sal vererger. Dan is dit beter om weg te stap om nie verder skade te veroorsaak nie. Jy kan op die agtergrond die situasie ontlont deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp. Jy kan bid dat die situasie sal verander.

Mourning-Dove

William Jennings Bryan vertel ‘n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ‘n sneeuvlokkie” het die mossie aan die wilde duif gevra.Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ‘n wonderlike verhaal vertel.” Het die mossie gesê: “Ek het op ‘n tak gesit terwyl die sneeu. Dit was nie ‘n storm nie. Dit het net so saggies gedriesel, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif wat ‘n outoriteit op vrede is sedert Noag se tyd het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

Pous Johannes Paulus het gesê: “ Vrede word nie in raadsale of deur ooreenkomste gesluit nie. Vrede is ‘n blom wat in die harte van mense wat deur die Gees aangeraak is, begin groei.”

AMEN

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 Ds. Paul Odendaal

PASTOR LOCI