Swak begin en sterk geëindig

Skriflesing: Rigters 11: 1 – 15 en Rigters 11: 28 – 40

Die verhaal van Jefta is die verhaal van ’n man wat met ’n agterstand gebore is. Sy gene, maar ook sy omgewing, het vir Jefta gedoem tot ’n lewe van mislukking.

Ons lees net die naam van Jefta se pa. Sy pa se naam is Gilead. Een nag het hy plesier gaan soek by ’n prostituut. Uit die plesier is ’n hoerkind, ’n sondekind, gebore met die naam van Jefta. Gilead het ook nog twee seuns by sy eie vrou gehad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, word gou-gou uitgestoot. Jefta se twee halfbroers wil niks met hom te doen hê nie. Hulle wil nie hulle erfporsie met hierdie sondekind deel nie. Hy beland op die straat. Die hoerkind, die sondekind, word nou ook ’n straatkind. 

In die strate word hy bevriend met ’n klomp leeglêers. Sy berugtheid groei. Jefta, die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer … Gou word hy ook die leier van die bende leeglêers, ja, hy word ’n bendeleier. Hulle maak hulself skuldig aan rebelsheid, strooptogte en misdaad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer, die bendeleier. Jefta sou pragtig inpas by die bendeleiers van die Kaapse vlakte. Hy is ’n uitstekende kandidaat om ’n motorkaper en ’n dwelmbaas te word. Hy sou vir Stagiet iets kon leer. Suid-Afrika sou sy misdaad-paradys wees.

Jefta, jou lewe is gedoem. Dit is die einde. Die volgende is om ’n tronkvoël te word. Hy sou dalk nog ’n bendeleier in die tronk ook word. Maar moenie bekommerd wees nie. Suid-Afrika is misdadiger-vriendelik.

“Wanneer ’n mens egter dink dit is ‘die einde’, blaai God om en skryf ‘die begin’”. (Andries Cilliers)

God gee vir Jefta ’n ander roeping, naamlik om die leier van God se volk te word. Nie meer ’n bendeleier nie, maar ’n leier van God se mense. Jefta se roeping is nou nie meer misdaad nie, maar om God se volk te lei tot oorwinning oor die Ammoniete.

Aanvanklik was Jefta ontsteld oor sy roeping. Hy antwoord die oudstes in Rigters 11: 7 as volg: “Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: ‘Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?’”

Maar die Gees van God het van hom besit geneem om sy nuwe roeping uit te voer. So verander hy dan as mens:

Die hoerkind, die sondekind … word ’n kind van God.

Die straatkind … word ’n paleiskind.

Die leeglêer … word ’n geroepene.

Die bendeleier … word ’n volksleier.

Die uitgestotene … word die gewilde leier.

Wanneer God jou lewe aanraak, verander jou hele lewe. Jy kry ’n splinternuwe identiteit. Ja, Jesus se kruis deurkruis ons swak gene en ons swak omgewing. God maak van agtergeblewenes … voorlopers.

Nie die ANC of president Cheril Ramaphosa kan agtergeblewenes ophef nie. Alleen hulle wie se agterstand deurkruis word deur Jesus se kruis, kan voorlopers word.

En wat ’n voorloper was Jefta nie. Hy onderskei hom as ’n uitstekende onderhandelaar, diplomaat, politieke ontleder en militaris. Hy sien dwarsdeur die skelmstreke van die Ammonitiese koning, want hy ken elke skelmstreek van die onderwêreld. Hy onderskei hom as militaris, want hy weet alles van bendegeweld. Hy verslaan die Ammoniete en vir ses jaar tree hy as rigter op van die volk van God.

Al fout wat hy maak, is dat hy God wantrou om hom te help. Maar ook dit is te verstane, want hy kom uit die onderwêreld waar almal mekaar wantrou.

Hy maak ’n onnodige gelofte, naamlik dat as God hom help, hy die eerste persoon wat hom tegemoet sou hardloop ná die oorwinning, sou offer. Sy dogter hardloop hom eerste tegemoet. Hy moes haar offer … sy mog nooit geslagsgemeenskap met ’n man hê nie. Sy wantroue in God het hom duur te staan gekom.

Ja, dit is juis ons wantroue in God wat ons siek maak. Ons word so dikwels wantrouig in God as droogtes ons tref of as die politiek skeefloop. Ons word morpotte en verbitterde mense.

Jefta begin met ’n agterstand, maar God wis die agterstand uit. ’n Agtergeblewene word ’n rigter van God se volk.

Oorerwing en omgewing spreek beslis nie die laaste woord nie. In Jesus Christus se geslagsregister lees ons van ’n prostituut. Jesus het mens geword in ’n agtergeblewe stal tussen skape en donkies. Hy het die swak sondige menslike genetiese geen van Maria ontvang, maar Sy Goddelike geen het die sondige geen kom deurkruis, sodat Hy sondeloos was en is.

In Moses se geval het hý ook swak begin. Hy het ’n Egiptenaar doodgeslaan en daarna woestyn toe gevlug. Baie jare later het God hom kom roep by die brandende doringbos. Die doringbos het nie uitgebrand nie. Moses moes selfs sy skoene uittrek, want die grond waarop hy gestaan het, was heilige grond. Toe gee die Here vir Moses ook ’n nuwe roeping, naamlik om Sy volk uit Egipte te lei, na die beloofde land.  

Ook Jesus se dissipels het swak begin, maar het na Sy Hemelvaart, kragdadige en onverskrokke apostels geword, waarvan die meeste ’n marteldood gesterf het.

Die Here het ook eenmaal vir Augustinus, die onverskillige jongman wat gehoer en gedrink en sy lewe vermors het, aangeraak. Op ’n dag het hy kinders hoor sing: “ … tola lé, tola lé”, wat beteken : “ … neem op en lees”. Omdat hy geen kinders gesien het nie, was hy seker God praat met hom. Hy het onder ’n vyeboom neergeval en die boek Romeine begin lees. Hy het tot bekering gekom en een van die grootste kerkvaders van alle tye geword. Hy en sy buite-egtelike seun is saam gedoop. Sy lewe het swak begin, maar het kragtig geëindig.

Daar is ’n bekende aanhaling van Oscar Wilde: “Every saint has a past, every sinner has a future”.

Daar is soveel verhale van mense wat met swakheid en ’n agterstand gebore word en wat later suksesvol eindig. Daar is duisende verhale van mense wat uit swak omstandighede kom, maar deur die Here se genade uitstyg en suksesvol eindig.

Die Here Jesus het toe Hy op aarde was ook al die siekes, randfigure en sondaars wat swak begin het, opgesoek en saam met hulle geëet en hulle verander sodat hulle sterk geëindig het. Dink maar aan Saggéüs wat swak begin het, as ’n skelm tollenaar en uiteindelik na sy bekering alles teruggegee het aan die mense wat hy onregverdig besteel het.  

Dalk voel u dat die lewe vir u ook ’n streep getrek het. Dalk verwyt u u genetiese samestelling of dalk verwyt u die omgewing en die gebrek aan geleenthede wat u gehad het. Dink dan egter aan Jefta. Jefta se agterstand was sy leerskool, sodat hy later ’n suksesvolle rigter geword het.

Aristoteles, die groot filosoof, het ’n probleem met hakkel gehad. Hy het langs die see geloop en met die see gepraat, totdat hy ophou hakkel het. Hy het een van die grootste redenaars geword.

God se kruis deurkruis my swak gene, my agterstande en my omgewing … sodat ek in Hom ’n oorwinnaar kan wees.

Jefta het swak begin en sterk geëindig. Mag u en ek ook sterk eindig, wanneer ons sterf.                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Cilliers, A. 1998. God skryf ‘n storie. Kaapstad: Lux Verbi

Albasters of lewende lote

Skriflesing: Johannes 15: 1 – 8
Vanoggend is ons bymekaar vir die doop van Luhan Bosch, die tweede seuntjie van Hannes en Charleé Bosch. Wat ’n wonderlike geleentheid is dit nie.

’n Mens word deel van Christus se kerk met jou doop en nie met jou belydenisaflegging nie. Met jou belydenisaflegging aanvaar jy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap van die kerk. Maar met jou doop word jy volle deel van die kerk en die liggaam van Christus.
Die tema van vandag se doop is dat die doop jou nie soos ’n albaster in die kerk maak nie, maar eerder soos ’n lewende loot wat groei uit die wingerdstok.
Toe ek ’n skoolseun was in die 70’s was die speel van albasters voor die skool begin en tydens pouse hoog in die mode. Elke seun het ’n sakkie albasters gehad en as jy baie albasters gehad het, was jy ryk. Met die speletjie kon jy ook van jou maats se albasters wen en dan het jy regtig baie albasters gehad.

In ons individualistiese moderne beeld van geloof, sien ons onsself dikwels as albasters wat uniek uitgesoek, gered en bewaar is. In die albaster-geloof glo ons dat ons gedoop is en heeltemal onafhanklik van mekaar deel vorm van die Koninkryk van God. Alhoewel ons saam bewaar word, is ons heeltemal onafhanklik van mekaar. In ’n albaster-geloof is ons lede van die kerk, maar nie geloofsfamilie van mekaar nie. Ons plaas die mooiste Christelike goed op Facebook en Instagram, maar ons leef nie ons geloof in die gemeente en binne die gemeenskap van gelowiges uit nie. Ons is nie aan mekaar verbind nie, ons staan nie tot mekaar in ’n verhouding nie, ons is net lede van die kerk. In ’n albaster-geloof is ons gered, ter wille van onsself, nooit ter wille van ’n gemeenskap nie.

Die Bybelse beeld wat die doop die beste verduidelik is die wingerdstok en lote. Die Vader is die landbouer, Christus is die wingerdstok en ons as gelowiges is die lote wat uit die wingerdstok groei. In die doop staan die dopeling met Christus in ’n lewende verhouding, soos die loot bioties met die wingerdstok verbind is. Die loot is intrinsiek deel van die wingerdstok. So maak die doop jou intrinsiek deel van ’n lewende verhouding met Christus Jesus, die Wingerdstok. Die ongelowiges wat tot bekering kom, word weer as lote ingeënt op die wingerdstok, wat Christus is.
Ons as geloofsouers is lewende lote wat groei uit die wingerdstok Jesus Christus. Ons kinders wat gedoop is, groei uit ons lote en daarom loop die sap wat uit die wingerdstok deur ons as ouers loop, ook deur ons kinders. Daarom moet ons kinders die seël en teken van die doop ontvang as bewys dat hulle ingelyf is in Christus, wat die wingerdstok is.
Voorbeelde van gesinne waar ouers en kinders saam gedoop is, kan ons vind in Handelinge 16: 15 waar Lidia en haar huisgesin gedoop is. In Handelinge 16: 33 lees ons van die tronkbewaarder in Filippi en sy huisgesin wat gedoop is. In 1 Kor 1: 16 lees ons hoedat Stefanus en sy huisgesin gedoop is. Daarom was kinderdoop en familiedoop algemeen in die Nuwe Testament.
Die doop maak ons deel van die kerk en daarom lewe ons in die gemeenskap van gelowiges. Dit bely ons in die Credo van die kerk, naamlik: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.” Verbondsdoop skep die gemeenskap van gelowiges, wat uit lewendige goeie verhoudings bestaan.
Daarom kan ons nie ons geloof individualisties of privaat uitleef nie. Geloof is ’n openbare belydenis wat in die publieke sfeer uitgeleef moet word. Daarom sê Jesus is ons “sout van die aarde” en “lig vir die wêreld”. Geloof en godsdiens is nie iets wat jy in die privaatheid van jou huis uitleef nie, maar dit is eerder ’n publieke uitlewing van jou geloof in praktiese alledaagse situasies.
Daarom kan ons ook nie die doop bedien in die privaatheid van slegs die familie en vriendekring nie. Dit is nie ’n privaat aangeleentheid nie, maar hoort in die erediens van die gemeente, want die dopeling word ingelyf in die gemeente en geloofsgemeenskap. Dit word in die openbaar gedoen, soos ons geloof ook in die openbaar uitgeleef word. Daarom moet die dopeling in die kerk en in die erediens grootword.
In die Anglikaanse kerk is die gebruik dat aan die begin van die erediens die baba in die ingangsportaal van die kerk deur die priester gedoop word. Dan dra die priester die dopeling die erediens binne en word die dopeling voorgestel aan die gemeente as die nuutste lidmaat van die kerk. Deur die doop word die dopeling deel van die gemeente.
Daarom geld die doopbelofte nie alleen vir die ouers nie, maar ook vir die gemeente. Beide die ouers en die gemeente moet so leef dat dit vir die dopeling maklik is om Christus te volg. In Mat 18: 6 – 7 staan daar: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Daarom mag ouers en die gemeente nie hulle kinders laat struikel of ’n struikelblok in hulle pad sit nie. ’n Gemeente laat die dopeling en die kinders struikel as die gemeente oneg is of nie die warmte van die gemeenskap van gelowiges uitstraal nie. Ouers laat die dopeling en hulle kinders struikel as hulle wêreldgesind leef en die voorbeeld van Christus nie uitleef in die ouerhuis nie.
Ons praat dikwels so van die gevaar van verkeerde vriende vir ons kinders. Maar daar is ook die gevaar van verkeerde ouers wat wêrelds leef en nie hulle doopbelofte uitleef nie. ’n Kind copy en paste ook die verkeerde goed wat hulle in hulle ouers se lewe sien. Daarom moet ons erns maak daarvan om voorbeeldig voor ons kinders te leef.
Die sap wat deur Christus, die wingerdstok, stroom, vloei na die lote en ook na ons kinders. Dit moet lei tot vrugte (druiweoes). Daarom moet ons kinders ook die vrugte van die Gees uitleef en moet hulle leer wat die vrugte van die Gees is. Daarom moet ons as sap, geestelike voeding vir ons kinders gee.
Daarom het die ouers en ook die gemeente ’n geweldige verantwoordelikheid om kinders op die regte pad te hou en hulle vrugbaar te maak vir die Koninkryk van God.
’n Wingerd of boom moet gedurig gesnoei word om meer vrug te dra. Wanneer ’n wingerd gesnoei word, dra dit meer vrug. Wanneer ’n boom, soos ’n Kareeboom, nie gesnoei word nie, word dit ’n lelike bos. Maar as jy ’n Kareeboom gereeld snoei, het die boom ’n pragtige vorm en sê ons dit is ’n mooi boom. Daarom moet ons elke dag ons kinders snoei met die Woord en tugtiging, sodat hulle eendag pragtige jongmense kan word.

Die doop maak nie van ons albasters, waar elkeen maar indiwidueel kinders van God is nie. Nee, die doop plaas ons as loot in verhouding met Christus, die Wingerdstok, en in verhouding met die ander lote, die gelowiges. In die doop en die Evangelie gaan dit oor verhoudings. Luhan word vandag in ’n verhouding geplaas met Christus, die Wingerdstok, en met sy mede-gelowiges, die ander lote. Dit dien vir ons tot geloofsversterking en tot troos.
Hannes en Charleé, mag julle twee seuns eendag twee Godsmanne wees wat die Christelike geloof uitleef in die wêreld. Dan sal julle nooit bekommerd oor hulle wees nie.
Kinders is ’n sieraad vir hulle ouers en grootouers. Koester hierdie sieraad.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

God is ons bergvesting, ons skaduwee en ons skuil onder Sy vlerke

Skriflesing: Psalm 91: 1 – 16

Psalm 91 is gebore vanuit ’n plek waar hoop nodig was.  Baie mense het al na Psalm 91 as hulle Rescue 911 verwys. Veral vers 1 en 2 van Psalm 91 is vandag ons fokus. Dit lees as volg:  “Hy wat in die beskutting  van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee   van die Almagtige. Ek sê vir die Here: ‘My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!’

Waarom bou ’n mens ’n huis? ’n Mens bou ’n huis om verskillende redes. Natuurlik om koelte te verskaf in somerhitte en warmte in die winter. ’n Huis hou reën en hael uit. ’n Mens kan ’n huis sluit en sodoende jou lewe en besittings beskerm.

In die Bybelse tyd het ’n stad die funksie vervul wat ’n huis vandag vervul.

In Bybelse tye was ’n stad dikwels op ’n berg of heuwel gebou vir beskerming. Die stad was verskans met hoë mure. Daar was wagte op die mure. Daar was ook dikwels ’n grag of diep sloot buite die stadsmure, sodat stormramme nie die muur kon beskadig nie. Daar was ook ’n stadspoort wat in die nag gesluit is, om almal in die stad veilig te hou. Elke stad het ook gesorg dat dit genoeg water en kos het indien die stad ’n lang tyd onder beleg sou wees. Dink maar aan die stad Masada, wat baie lank weerstand kon bied teen die vyand.

In die nag het die stad beskerming gebied teen ongediertes en rowers en die koue van die nag. In die dag het die stad koelte verskaf, ’n plek van water en kos, asook beskerming teen die vyand.

In vers 2 lees ons dat die Psalmdigter sê dat God vir hom soos ’n bergvesting, soos ’n stad is. Hy kan dag en nag na God toe vlug. God is ’n bergvesting en ’n skuilplek teen: ouderdom, siekte, droefheid, swakheid, probleme en emosionele storms. God is ’n bergvesting waar daar water en voedsel is en waar ’n mens kan rus teen somerhitte.

God is ons bergvesting, ons skuilplek. Ons kan na Hom toe vlug – Hy sal die poort optrek as ons binne is.

In plaas van God ons bergvesting te maak, maak ons baie keer ons eie skuilplek. Dit is gevaarlik as my plaas, my finansies, my beroep, my besittings, my gesin of enigiets anders my bergvesting en skuiling word. Dit is so goed jy maak van ’n paar geroeste sinkplate vir jou ’n plakkershuis om in te skuil as die gevaar dreig. Dikwels verkies ons om in “plakkerskampe” te woon, in plaas van die ewige bergvesting van die Here.

Vlug na die bergvesting. Vlug na God. Maak God jou skuilplek.

God kan op vreemde maniere jou Beskermer en Bergvesting wees, soos die volgende verhaal aantoon: “’n Rabbi is deur vervolging gedwing om sy vaderland te verlaat, volgens ’n antieke Hebreeuse verhaal, en om in verre lande rond te dwaal. Sy enigste aardse besittings, buiten die klere wat hy gedra het en ’n afskrif van die Skrif, was ’n lamp waarmee hy die Skrif kon bestudeer en ’n donkie waarop hy gery het.

Een aand laat, na ’n lang dag se reis, het hy op ’n klein dorpie afgekom waar hy skuiling vir die nag gesoek het. Die dorpenaars het hom egter weggewys. Die enigste skuiling wat hierdie moeë rabbi kon vind, was langs ’n muur wat ’n put aan die buitewyke van die dorp omring het.

Hy het probeer om die beste van die situasie te maak; hy het sy lamp aangesteek en uit die Skrif begin lees. Gou het ’n hewige wind opgekom en die lamp se vlam herhaaldelik doodgewaai. Omdat hy nie in die donker kon lees nie, het hy teen die muur gaan lê en probeer slaap. Sy rus is egter gou versteur deur die nabygeleë gebrul van ’n leeu. Hy het net betyds oor die muur gekyk om te sien hoe die leeu sy verskeurde donkie die bosse insleep.

Die rabbi was oorweldig deur benoudheid, hartseer en ’n gevoel van selfbejammering. Hy het probeer om tot God te bid, maar sy gebede is verhinder deur die baie probleme en verbittering  wat deur sy gedagtes bly gaan het. Uiteindelik, uitgeput, het hy in ’n diep slaap verval.

Die volgende oggend toe hy wakker word en van agter die beskutting van die muur uitkom, het hy ’n skokkende gesig gesien. Op die strate van die dorp lê die verminkte liggame van die dorpenaars; gedood deur ’n bose bende plunderaars wat gedurende die nag van die heuwels afgesak het.

Dit was eers toe dat die rabbi begin verstaan en sy verliese in perspektief stel. As die dorpenaars hom ontvang het, sou hy ook doodgemaak gewees het. As die leeu nie sy donkie doodgemaak en weggesleep het nie, het sy teenwoordigheid hóm dalk weggegee. As die wind nie herhaaldelik die lamp doodgewaai het nie, sou die plunderaars gekom het om hom ook dood te maak. Hy het ’n waardevolle les geleer: Soms kom groot wins uit groot verlies.” (Al Maxey) So is God dikwels op onverstaanbare maniere besig om ons te red en te bewaar.

Die Psalmdigter skryf verder dat om in God se bergvesting skuiling te vind, is om in die skaduwee van God te sit (vers 1). Jy moet net God volg, dan bly jy in God se skaduwee. Helena Smith skryf: “Om in iemand anders se skaduwee te leef, het ’n baie negatiewe konnotasie. Daar is egter Iemand in wie se skadu ek graag permanent wil bly. In Psalm 91: 1 lees ons: ‘Hy, wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige.’ Hoe bly ’n mens in God se skaduwee? Deur die hele dag naby aan die Here te bly en konstant met Hom te praat. Dit beteken dat jy jou dag met God begin. Dat jy oor Hom en met Hom praat en jou dag ook eindig deur met God te praat.”

“In Handelinge 5:15 lees ons dat selfs wanneer net Petrus se skaduwee op siekes geval het, hulle genees is. As die skaduwee van ’n apostel van die Here Jesus Christus dan soveel krag het om die goeie te laat geskied, hoeveel te meer dan die werklike skadu van God Almagtig.” (Gereformeerde Kerk Phalaborwa)

God sal vir jou ’n toevlug, ’n bergvesting,’n skuilplek en ’n skaduwee wees as jy God liefhet (vers 14). Jy moet as’t ware met lewensoorgawe lewe. Voorts moet jy God ken en met God ’n pad stap (vers 14). Die teks sê ook in vers 15 dat jy God moet aanroep.   

Daar is ’n stad op die berg waarheen jy kan vlug. Daar is ’n God waarheen jy kan vlug. God se skaduwee is daar om in te sit.

Psalm 91: 4 lees as volg: “Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ’n Skild en ’n skans is sy trou.”

“Voëls se vere is ’n verstommende voorbeeld van God se kreatiwiteit. Die vere het ’n gladde asook ’n donsige deel. Die gladde deel van die veer het stywe baarde, wat waterdig is. Die donsige deel hou die voël warm, en saam beskerm albei dele van die veer die voël teen wind en reën. Kuikens is met dons bedek en hul vere het nog nie ten volle ontwikkel nie. Die moedervoël moet haar kuikens dus met haar eie vere in die nes oordek om hulle teen die wind en die reën te beskerm.” (Linda Washington)

So sal die Here ons ook beskerm onder Sy vlerke van genade.    

Dit is ons troos, dat ons in die bergvesting van God leef en in God se skaduwee sit en dat God se vlerke ons bedek. Daarom is ons ten volle getroos.                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lyding is nie God se wil nie, maar Hy gebruik dit tot my beswil

Skriflesing: Klaagliedere 3: 18 – 33

Daar is niemand van ons in hierdie kerkgebou vanoggend, wat nog nie gehuil het nie. Seerkry en swaarkry is deel van ons bestaan.

Fotokrediet: Paul Quenon

Hoor wat skryf Totius na die dood van sy kinders: “ O die pyngedagte: My kind is dood! … dit brand soos ’n pyl in my. Die mense sien daar niks nie van, en die Here alleen weet wat ek ly… Ek wou my ganse digkuns waag om ál my hartpyn uit te klaag; om in my klanke uit te sê, om soos in marmer vas te lê die beelt’nis van my pyn … wanneer ek dieper kyk en dink as wat ’n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas.” Kan u iets van die pyn in Totius se hart aanvoel? Tereg skryf hy dan ook dat hierdie wêreld nie ons woning is nie. Ja, ek wil amper sê dit is ’n wrede wêreld. Ja, ’n wêreld wat met sy kloue alles wat vir my liefdevol en kosbaar is, wil wegskeur. Dan bly net die pyn oor. Die waarom-vrae … Die hoekom-vrae …

Die pyn en gebrokenheid word werklik wanneer ’n klein kindjie sterf, wanneer jou geliefde jou ontval, wanneer natuurrampe alles wegvee, wanneer 130 miljoen Jode na die konsentrasiekampe toe is om te sterf, tydens die wreedheid van oorlog, werkloosheid, armoede, hongersnood, Vigs, stukkende huwelike en gesinne, motorongelukke, terreurdade en so kan ons die lysie langer maak.

Elke dag verloor mense hulle werk. Mense beleef erge finansiële probleme. Daar is soveel stukkende verhoudinge, verbrokkelde huwelike, siektes en daaglikse angs wat mense beleef.

Tereg sê Jeremia in vers 20: “As ek daaraan dink, dan draai my gedagtes vas.” Maar wat sê God se Woord daaroor? Klaagliedere 3 sê: LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL.

Die twee dele van die preek is:

a.) Lyding is nie God se wil nie.

b.) Maar God gebruik wel lyding.

Pars 1: Lyding is nie God se wil nie.

Geliefdes, ons is soos stout kinders wat aan God die skuld gee as ons verbrou het. Want gemeente, dit is tipies mens om skuld te verplaas op iemand anders.

Ons bedoel so goed as ons vir iemand in nood sê: “Toemaar, dit was God se wil.” God het dit toegelaat. Maar dit is onwaar. PYN kan nooit God se wil wees nie. Die Bybel sê baie duidelik dat die liefdevolle God wat alles met soveel liefde geskape het, nooit ’n welbehae in menslike pyn en hartseer kan hê nie.

Gemeente, u sien dus die God van liefde is die groot outeur, die groot komponis van die liefde en hoe kan die groot komponis van die liefde, vals note van pyn ook skep?

Wanneer ’n klein kindjie wreed van sy ouers af weggeneem word, of wanneer ’n bus vol jong, talentvolle kinders met ’n blink toekoms in die Westdene-dam verdrink of wanneer gekaapte Boeings vasvlieg in die Twin Tower Wêreldhandelsentrum, of as duisende mense sterf in die oorlog in Oekraine, of as ’n jong mens wreed sterf aan kanker, IS DIT NIE GOD SE WIL NIE.

Die God van liefde voel saam met ons die pyn. So het Jesus byvoorbeeld gehuil oor Lasarus se dood. Die outeur van pyn en hartseer, is u en ekself. Ek en u is die komponiste van al daardie vals note van pyn en hartseer. Met die sondeval het God se skepping stukkend gebreek, ja soos ’n kind wat ’n kosbare pottebakkerspot afstamp. Deur ons eie sondige wil, het pyn in hierdie wêreld gekom. Voor die sondeval was daar net trane van vreugde. Met die sondeval, het die eerste trane van pyn en hartseer gevloei. Daarvandaan het seerkry en dood net gedomino en vermeerder in ons lewe. Die sondeval het die wêreld en die mensdom in ellende gedompel.

En wanneer iemand onverskillig is, byvoorbeeld te vinnig ry en hy maak ’n ongeluk en iemand sterf, dan sê ons so maklik – dit was God se wil. So maak ons God die gewillige pakdier van ons mislukkings.

Nee, God is die onskuldige party. Ons is die skuldiges. Kan u dus verstaan dat ons nie sommer maar so ligweg al die skuld op God kan plaas nie? Daarom kan ons geen vinger wys na God in die hemel nie. Nee, ons kan maar net ons hande uitstrek na die hemel en van God genade afbedel – ook krag om die pyn in ons harte te kan verduur.

Pars 2: Maar God gebruik wel lyding.

Pyn is nou wel nie God se wil nie, maar dit vind nooit buite Sy Raad plaas nie. Daarmee bedoel ek dat God pyn gebruik binne die lewens van mense. God is betrokke by my pyn. Met ander woorde, ons dompel onsself in die pyn in, maar God gebruik hierdie pyn tot die beswil van myself.

So gebruik God byvoorbeeld pyn om die mens tot verootmoediging te bring, tot ’n bekering of tot ’n verdieping van sy of haar geloofslewe. Klaagliedere 3: 29 tot 30 is baie duidelik hieroor, dat God partykeer pyn en ellende gebruik om die mens te laat besef hoe verganklik hy is. Vanuit die ellende, vanuit die pyn van my sonde, word die kreet gebore: “Ek, ellendige sondaar!”, wat eintlik maar die geboortepyne van ’n mens is tot die ware lewe.

Maar God kan ook pyn gebruik om mense nog nader aan hom te trek. Deur pyn en seerkry word die mens se karakter inderdaad gevorm.

Baie van God se kinders het in hulle diepe pyn die Here die diepste leer ken. Tereg skryf IL de Villiers dat heel dikwels die donkerste menslike ondervinding tot ’n sinvolle pad van die mens geweef word. Heel dikwels wil God pyn gebruik om ons opreg te leer bid uit afhanklikheid. Om ootmoed vir my medemens te kweek. Om my lewe reserweloos in God se hand te waag.

Dit werk amper soos ’n mooi weefstuk. Die voorkant is pragtig en foutloos. Maar die agterkant is vol knope. Die knope is nodig om die voorkant af te rond tot ’n kunswerk. Net so is lyding soos knope wat my lewe afrond om ’n pragtige geheelprent te skep. Lyding vorm jou lewe.

U sien, eers wanneer ek die pyn in my eie lewe ervaar het, kan ek iets verstaan van die traan wat brand in my medemens se ooglede. Sommige mense se lewens drup van hemelse dou, omdat hulle die bitter van die lewe so goed ken. Maar nou sal u vir my sê dit is goed en wel, maar daar kom ook ’n einde aan al my kragte. Somtyds kom ’n mens aan die einde van jou emosionele kragte. Soms huil ’n mens jouself leeg, maar die pyn sit nog soos ‘n stuk kanker in jou siel. Dan moet u Klaagliedere 3: 22 – 25 lees. Dit wil sê, God se trou ken geen einde nie. God se trou is die verbond waarvan ons doop die teken is. As alles vir u te veel raak, kan u vashou aan die doop. Met my doop wil God vir my sê: “Ek wil jou God wees. Ek wil hê jy moet my kind wees.” Die doop is die reënboog van God se verbondstrou. Ek kan maar in my diepste pyn en vertwyfeling vashou aan my doop. Ja, ons kan maar hang aan ons doop en God se liefde. Martin Luther het op sy houtlessenaar uitgekerf dat hy gedoop is. Dit was vir hom ’n herinnering in tye van aanvegtinge dat hy as gedoopte aan God behoort en dat niks hom van die liefde van God kan skei nie.

Na die donderstorm volg die reënboog van God se trou. Maar die doop is die reënboog van God se trou wat verskyn nog voor die donderstorms van beproewinge losbrand oor my lewe. Wanneer alles wankel, is Hy die Rots der eeue, wat ewig vas bly staan. God sal red. God sal krag gee, want God voel soos ’n Vader sáám met ons.

Hoe moet ons maak met ons daaglikse sorge en bekommernisse? Ek het die volgende mooi illustrasie raakgelees: Iemand het ’n skrynwerker gehuur om vir hom te help om ’n ou plaashuis te herstel. Die skrynwerker het ’n rowwe eerste dag by die werk gehad. ’n Pap band het hom ’n uur se werk laat verloor, sy elektriese saag het gebreek, en toe wou sy ou bakkie nie aan die gang kom nie. Die  werkgewer het toe vir die skrynwerker ’n geleentheid terug huis toe gegee. Met sy aankoms het die skrynwerker die man genooi om sy gesin te ontmoet. Terwyl hulle na die voordeur gestap het, het hy by ’n boompie stilgestaan en met albei hande aan die punte van die takke geraak. Toe hy die deur oopmaak, het hy ’n wonderlike transformasie ondergaan. Sy bruingebrande gesig het geglimlag, en hy het sy twee klein kinders omhels en sy vrou ’n soen gegee. Daarna het die skrynwerker saam met die man na sy motor gestap. Hulle het verby die boom geloop en uit nuuskierigheid vra die werkgewer hoekom hy sy hande oor die boom gehou het. “O, dit is my ‘moeilikheidsboom’,” het hy geantwoord. “Ek weet dit kan nie help om werksprobleme huis toe te vat nie, maar een ding is seker – probleme hoort nie in die huis met my vrou en die kinders nie. So, ek hang hulle maar elke aand aan die boom as ek by die huis kom; dan, in die oggend, tel ek hulle weer op.”

“Snaakse ding is,” het hy glimlaggend gesê, “as ek in die oggend uitkom om hulle op te tel, is daar nie soveel as wat ek onthou dat ek die vorige aand opgehang het nie.”

Ons kan ons swaarkry, angste en pyn ook elke dag ophang aan die kruis, die “moeilikheidsboom”, sodat ons getransformeer kan word om met vreugde en blydskap te lewe.

Wanneer ’n kind ontsteld is, dan kan hy op sy vader se skoot klim en die vader sal hom vertroos. Hoeveel te meer ons Hemelse Vader nie. U sien dus dat ons die klei is en dat God die pottebakker is wat ons in ons lyding vorm tot voorwerpe van Sy ontferming. Ons moet toelaat dat God ons, wat die klei is, vorm op die pottebakkerswiel van die lewe. Hoe kan ons vir die Pottebakker sê: “Waarom het u ons so gemaak? Waarom die pyn? Hoekom?” God wil van die mislukte lewens van mense nuwe moontlikhede vorm.

Miskien kan Bonhoëffer iets vir ons sê. Hy was ’n groot teoloog wat ook die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het. Hy het gesê: “Ek vertroos my daaraan dat die koeël wat my tref eers verby God moet gaan. Die koeël is nou wel nie God se wil nie, maar God weet van daardie koeël.” Bonhoëffer het ook gesterf, maar met die troos: “Ek kan nooit uit God se hande val nie.”

U sien dus, pyn is nie God se wil nie, maar God kan dit wel gebruik. God laat soms pyn toe, om my op die pottebakkerswiel van die lewe te omvorm tot Sy eer. Pyn is ’n besielende emosie! Dit is wanneer ek met leë hande, met betraande oë, inhardloop in God se Vaderhande. Heel dikwels word uit pyn menslike karakter gebou. Soos daardie veldblommetjies wat op die sementpaadjies in die groot stede, tussen al die harde sementblokke opkom – lieflik!

“Berusting in pyn is soet. God is goed.”                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

God se saad vir Sy nuwe somer

SKRIFLESING: 1 Korintiërs 15: 36

Johan Cillie vertel op sy oupa se familieplaas in die familiekerkhof het ’n boom gegroei in die middel van sy oupa se graf. Dit het hulle ontdek, baie jare later toe hulle weer by die kerkhof ’n besoek gebring het. Ontstellend, maar hulle het met ander oë gekyk, verwonderend oor die troosryke getuienis, dat groter dinge kom uit die dood. Lewe uit die dood, groei uit die graf.

In Korinte was daar skynbaar mense wat probleme gehad het met die opstandingsliggaam. Daar is nie in die opstanding geglo nie. Om dit nie te glo nie, is dom sê Paulus (vers 36).

As jy twyfel, gaan vir ’n wandeling deur jou tuin. Buk af en pluk ’n blom, ’n grasspriet of iets in jou tuin. Om elke hoekie en draaitjie in jou tuin, sal jy plantsoorte kry wat van ’n saadvorm gedaante verander het in ’n nuwe plant.

Vers 36 – 38: “Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ’n eie vorm gee.”

Wanneer jy ’n koringkorrel of ’n mieliepit in die grond begrawe, kom daar ’n nuwe plant te voorskyn. Dit verander van gedaante – van saad na ’n nuwe plant.

Alles in die natuur spreek van lewe: bome, plante, struike, blomme, gras ensovoorts. God skep lewe. God skep lewe na die dood.

Dit is soos die metamorfose van ’n wurm. Die wurm verander later in ’n papie. Die papie lyk dood, maar mettertyd word dit ’n wonderskone vlinder.

Ons sal sterwe, maar ons sal ook weer lewe.

As jy in die kerkhof of by die gedenkmuur van die kerk kom, moet jy jou nie blindstaar teen die grafte en die grafstene of die nissies in die gedenkmuur nie.

God is besig met ’n saaiproses. Luther het aangrypend oor 1 Kor 15 gepreek tydens die Advent van Desember 1532, toe hy self fisiek al swak begin word het. Hy skryf dan tereg dat tydens die saaiproses dit lyk of die saad verlore gaan, weggegooi word. Uitgelewer aan die wind en weer, aan die wurms wat wag hou.

Natuurlik verdien ons die ewige dood. Die loon van die sonde is die dood. Maar God is genadig:

  • Hy het ons verlos van sonde
  • Hy het ons verlos van die ewige dood

Met die dood dra God die saaisak. Ons is saad, maar ons is God se saad. ’n Handjievol hier en ’n handjievol daar word gestrooi. Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklik dat ons dóód is nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek vol somer-beloftes … (Martin Luther)

Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond geplaas het en dit met die vars grond bedek het? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd in welige plantegroei sal opspring.

God het Sy seun as saad na die wêreld toe gestuur. Die Seun het ’n saadkorrel geword, gesaai aan die kruis en weer op die derde dag gegroei uit die graf.

Soos wat Jesus se opstanding ’n lewende werklikheid is, so is ons eie opstanding uit die dood ook ’n lewende werklikheid.

Ons sien net die een kant van die saaiproses. Daar is ook ’n ander kant. Ek moet kan sê: “Hier is ek, Here, saai my! Laat ek sterf aan myself en as dit dan moet, laat ek self sterf – solank dit net U is wat my oes. Hier is ek Here, oes my!”

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Jy moet nie ’n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek springlewendig wees. Ek sal  uit hierdie ou kleihut na my ewige huis gaan. Ek sal ’n nuwe geestelike liggaam hê wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie. My vleeslike liggaam sal sterwe. My liggaam wat uit die vlees gebore is kan sterwe, maar wat uit die gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

Die uitdrukking wat gebruik word na iemand sterwe, is dikwels: “Rus in vrede” of die Engelse uitdrukking “Rest in peace (RIP)”. Ek oordeel dat die uitdrukking nie Bybels is nie. Ons gaan nie om te rus nie. Ons gaan springlewendig wees met ’n nuwe geestelike liggaam. Ons gaan nie hemel toe om te rus nie, maar om elke dag die Here te loof en te prys voor Sy troon.

My oom het eenmaal opgemerk: “Ons wil almal hemel toe gaan, maar niemand wil sterwe nie.”

Ons moet soos Paulus verlang om heen te gaan om by die Here te wees, maar vir eers moet ons in ons stoflike liggame bly om ons taak hier op die aarde klaar te maak.

Oom Leslie Brown was ’n diep gelowige kind van God. Hy het sy Skepper en Verlosser innig liefgehad. Hy het ook sy Christelike getuienis in woord en daad uitgeleef. Ek het hom nooit hoor skinder of kwaadpraat van ’n ander een nie. Hy was ’n getroue kerkganger, diaken, ouderling en ook later leierouderling. Hy was nederig en opreg. Hy was ook ’n dankbare mens wat nooit gekla het nie. Selfs toe hy in Huis Corrie Dreyer was, het hy nooit gekla nie.

Ek het Oom Leslie negentien jaar gelede leer ken as ’n frisgeboude man. Mettertyd het die ouderdom hom afgetakel en verswak. Hy was ’n skaduwee van die man wat hy eers was. Daarom moet ons elkeen ook onthou, ons is vandag dalk gesond, mooi en fris. Mettertyd sal die ouderdom ons ook aftakel en broos laat. Ons liggame kan oud word, maar ons gees sal altyd jonk bly. Ons liggame is van stof gemaak, maar God het self Sy Gees in ons geblaas en vir ons asem gegee. Die liggaam kan oud word en sterf, maar ons gees sal vir altyd jonk bly, want ons gees is onsterflik.

Die boom op Johan Cilliers se oupa se graf is nog steeds daar. Dit het intussen seker hoër en groter geword. So groei ons wete en geloof ook elke dag, dat ons die ewige lewe sal beërwe.

Uit die dood kom nuwe lewe! Kyk na die lente wat besig is om aan te breek. Die bloeisels en blomme en grasspriete getuig van nuwe lewe wat ontwaak.

Vir Oom Leslie het dit nou ook lente geraak. Die ewige somer wag op hom.

Ons rus nie in die dood nie, ons is lewendig na ons dood om vir alle ewigheid die Here se roem te besing. Amen    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God kyk na die innerlike en nie na die uiterlike nie

SKRIFLESING: 1 Samuel 16: 1 – 13

Wanneer ons na leiers soek, is ons geneig om na uiterlike kwaliteite te kyk. Voorkoms, intelligensie, agtergrond, rykdom, kwalifikasies, gewildheid, prestasies en vele ander uiterlike dinge speel ’n rol as ons leiers kies. Dit is dalk die rede hoekom ons land oor die algemeen sulke swak leiers het. Van ons leiers vertoon uiterlik goed, maar innerlik is hulle nie eg en betroubaar nie. Daarom is ons land vasgeval in staatskaping, korrupsie en morele verval.

As die Here na leiers soek, kyk Hy na innerlike opregtheid van die hart. Die Here soek nie noodwendig volmaakte, sondelose mense nie, maar vir Hom is opregtheid van groot belang.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat ’n nuwe koning gesoek word om  Saul op te volg as koning. Saul as eerste koning van Israel het goed begin, maar algaande ’n swak koning geword. Saul het die swaardmag gehad en Samuel het die Woordmag gehad. Saul was veronderstel om by Samuel navraag te doen oor God se wil, maar hy het eerder die heks van Endor geraadpleeg. Mettertyd het die Gees van God van Saul gewyk. Ons lees in 1 Samuel 15:35 dat Samuel getreur het oor Saul en dat God bedroef was dat Hy vir Saul koning oor Sy volk gemaak het.

Dan lees ons hoedat God ’n nuwe begin maak. Die teks in 1 Samuel 16:1 lees as volg: “Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ’n koning gesien.”

Samuel was hoogs ontsteld. Hy het gevrees as Saul daarvan hoor, dat hy hom sou doodmaak. Die Here beveel egter vir Samuel om ’n vers saam te neem en vir die mense te sê dat hy in vrede kom om ’n offer te bring. Hy moet dan vir Isai ook nooi na die offerplegtigheid toe.

Samuel het Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer genooi. Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink die gesalfde van die Here staan voor hom. Eliab was mooi en sterk gebou met ’n buitengewone lengte. Hy sou ’n goeie teenvoeter vir Saul wees. Maar dan sê die Here in vers 7 vir Samuel:    “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Samuel was as profeet ook ’n “siener”, maar nou het hy as “siener” verkeerd gesien. Hy het gesien wat die mens se oog opval, en nie wat vir God tel nie. Uitdruklik word daar in die teks genoem: “ Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Die vader Isai het toe vir Abinadab voor Samuel verby laat gaan en Samuel het gedink die Here het ook nie hierdie een gekies nie. Toe het Samma verby gekom en ook vir hom het die Here nie gekies nie. Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verby gaan, sê Samuel vir Isai dat die Here nie een van dié seuns uitverkies het nie. Toe Samuel vir Isai vra of hy nog seuns het, het hy geantwoord dat hy nog een seun het, die jongste, maar hy pas skape op. Toe het Samuel opdrag gegee dat  hy gehaal moet word. Isai het hom laat haal.

Die jongste seun het rooi gelaatstrekke gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms. Toe gee die Here opdrag vir Samuel om op te staan en hom te salf, want hy is die gesalfde. Die seun se naam was Dawid. Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Dan lees ons van daardie dag af het die Gees van God kragtig in Dawid gewerk.

Die Here het Dawid nie gekies omdat hy volmaak was nie. Inteendeel, later in sy lewe sou hy owerspel pleeg met Batseba en haar man Uriah laat vermoor. Maar ten spyte van sy baie tekortkominge het hy ’n rein en opregte hart gehad. Ons lees van sy opregte hart in die Psalms wat hy gedig het. Lees die aangrypende Psalm 51 waar hy sy skuld teenoor die Here bely en vrees dat die Here se Gees van hom sal wyk. In Ps 51: 12 – 13 staan daar: Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie.”

Die Here het Dawid se opregte hart raakgesien en hom laat salf as toekomstige koning oor Israel. Opregtheid is vir die Here belangrik. Dawid skryf in Psalm 25: 21 die volgende: “Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U.”

In 1 Kronieke 29: 17 skryf Dawid die volgende: “Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee.”

As ons staatsleiers maar net opreg was, het dit met ons land baie beter gegaan. ’n Leier kan baie foute hê, maar as hy of sy opreg is, is die leierskap met integriteit en eerlikheid.

Dit was ook die probleem met die Fariseërs in die tyd van Jesus. Jesus het vir hulle kwaad geword. In Luk 11:39 – 41 staan daar: “Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid. Dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer die inhoud vir liefdadigheid, dan sal alles vir julle skoon wees.”

Die Fariseërs word in ’n vorige vertaling beskryf as witgepleisterde grafte, vol doodsbeendere. Die Here is meer begaan oor jou innerlike opregtheid, as oor die beeld wat jy uiterlik vertoon in die publiek.   

Baie Bybelfigure het hulle foute en tekortkominge gehad. Moses het gehakkel, Petrus het die Here verloën, die dissipels het weggehardloop op die aand voor Goeie Vrydag, Paulus het ’n doring in die vlees gehad en so kan ’n mens aangaan. Maar die Here kan met ’n krom stok ’n reguit hou slaan. Maar jou hart moet reg wees. Dit moet opreg wees.

Ons almal is leiers op een of ander manier. Ek kan die leier van my huis, of van my onderneming of van my boerdery wees. Ek is dalk ’n leier op die kerkraad of ’n boerevereniging. Maar leiers met slegs uitwendige, sigbare gawes alleen sal nie deug nie. My hart moet suiwer en onberispelik opreg wees. Dan eers is ek in die Here se oë ’n regte leier.

Alle leiers speel ’n rol. Ek speel die rol as vader, moeder, onderwyser, boer, sakeman of wat dit ook al mag wees. Maar ek speel dit nie vir altyd nie. Daarom moet ek vir die tyd wat ek die rol moet speel, my toelê op opregtheid en reinheid van hart. Dan sal ek ’n goeie leier wees, ten spyte van my foute en tekortkominge.

Ons kyk na die uiterlike vir leierskap. Die Here kyk na die hart van ’n leier.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Brag jy of confess jy?

SKRIFLESING: Lukas 18: 9 – 14 en 2 Kor 12: 1 – 10

Ek het die staaltjie gehoor wat in die goeie ou Kaap tydens ’n evangelisasieveldtog afgespeel het. ’n Persoon het geleentheid gehad om sy persoonlike getuienis te lewer. Hy het begin deur breedvoerig te vertel hoe ’n groot sondaar hy was. Voorts het hy vertel hoe hy tot bekering gekom het en watter groot hoogtes hy as bekeerde Christen bereik het. Na sy getuienis het iemand agter in die gehoor opgestaan en baie verontwaardig gevra: “Mister, confess jy nou of brag jy nou?”

Sommige godsdiensprogramme wat op TV-kanale uitgesaai word, laat ’n mens ook dink dat daar eerder ge-brag as ge-confess word.  Daar word luid handegeklap en toejuigings gedoen op getuienisse. Met geloofstoertjies kan die prediker die hoorders “emosioneel manipuleer” en uit sy hand laat eet. Godsdiens wat manipulerend is, is geen egte godsdiens nie.

Die Here Jesus vertel die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, vanweë “sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het”. (Luk 18:9) Daar is in die kerk nie plek vir geestelike hoogmoed nie.

Die Fariseërs was die geestelike elite van die Jode. Hulle was gesteld daarop om geen wet van Moses te oortree nie. Hulle het perfeksionisme nagestreef om nie die Wet en die bepalinge te oortree nie. Hulle was byvoorbeeld so erg dat ’n man op die Sabbat nie ’n vlooi in sy baard mag dooddruk nie, want dan jag hy. ’n Man mag ook nie op die Sabbat sy baard skeer nie, want dan oes hy. Hulle het tientalle reinigheidsgebruike ook gehad, net om rein te bly. Hulle het as’t ware in die gemeenskap met hulle godsdienstigheid gespog deur in die openbaar lang gebede op te sê. Hulle was hoogmoedig oor hulle geestelike vermoëns.

Die tollenaars, aan die ander kant, het die belasting vir die Romeinse owerheid ingesamel. Hulle het as’t ware by die poorte van elke stad gesit en die tolgeld ingesamel. Die meeste van hulle was skelm en het meer as die normale belasting ingevorder en die geld in hulle eie sak gesit.

Dan vergelyk die Here die gebede van die Fariseër en die tollenaar met mekaar. Die Fariseër het hoogmoedig gebid: “God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien.”(Luk 18: 11 – 12)

Die tollenaar se gebed was egter ’n nederige gebed. Daar staan in Luk 18:13: “Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ ”

Dan sê die Here Jesus dat die laaste man huis toe gegaan het en dat sy saak met God reg is. In Luk 18:14 staan daar: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”

Die Here soek nederigheid in ons geloofslewe.

As jy  jouself op die skouer klop en sê “Ek doen goed in my geestelike lewe …”, dan spog jy. Dan is jy hoogmoedig.

Maar as jy alleen maar vandag kan sê: “Omdat God se genade vir my genoeg was, omdat God iets met my stukkende lewe reggekry het … ” , dan is jy besig met ’n eerlike confession of eerlike belydenis.

Die gelykenis van die Fariseër en tollenaar word opgevolg in Luk 18:16 – 17 met die Here se woorde dat ons klein en nederig soos kindertjies moet word. Daarom staan daar: “Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle.  Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ ”

Dit is een van die geweldigste versoekings waaraan die kind van God blootgestel kan word, naamlik dat hy / sy geestelik hoogmoedig kan word. Die lis van die Bose is dat hy elkeen van ons op ons swakste plek aanval. Die oortuigde Christen sal dikwels nie so maklik ten prooi val van allerlei versoekings van ’n growwe aard nie. Miskien sal die Bose hom nie eens in hierdie opsig probeer versoek nie. Hy onderwerp die kind van God egter aan ’n veel gevaarliker soort versoeking, naamlik om te begin roem in sy / haar geestelike voortreflikhede.

Dit is soveel gevaarliker, omdat ’n mens dan in jouself roem en nie meer in Christus nie. Daarom gebeur dit ook so dikwels dat Christene roem in hulle geestelike ervaringe, maar eintlik vol van hulleself is.

Hoogmoediges maak gewoonlik op die volgende vermoëns staat, soos my goeie lewe. Ek het Jesus aangeneem. Ek het my bekeer. Ek glo … ek twyfel nie. Hoor jy die gevaarlike “ek”? Dan maak ek op myself staat en op my keuses en nie meer op God se genade nie. Dan gee ek alle eer aan myself en maak nie eers melding van die werk van die Heilige Gees nie. Dan word ek ’n meewerker van my verlossing.

Paulus weet dat God se genade genoeg is om gered te word. Juis dit is die inhoud van die hele Evangelie. Dit is God wat ’n mens uitverkies in Sy groot genade. Dit is God wat onweerstaanbaar red. Dit is God wat ons aanneem om Sy kinders te wees. Dit is God wat die geloof en die bekering in ons harte bewerk.

Daarom kan ons oor niks roem, of spog of brag nie – dit is alles God se genadige werk. Daarom kan ons alleen maar confess of bely dat God se genade vir my genoeg is.

Paulus weet egter hoe maklik dit kan gebeur dat ’n Christen hoogmoedig kan raak. Hy is daarvan bewus hoe maklik dit gebeur dat ’n mens jouself kan verhef, selfs oor die wonderlike genadegeskenke van God in jou lewe.

Daarom dank Paulus vir God oor die doring in sy vlees. Ons weet nie presies wat hierdie doring was nie. Ons weet egter dat dit vir Paulus op sy knieë gehou het.

Paulus het verstaan dat swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikhede ter wille van Christus hom ten goede kom, sodat Christus se krag sterk kan wees in hom. Dit is ’n geweldige les om te leer. Ons natuurlike neiging is om lyding, leed, beledigings en vervolgings van ons af weg te bid. Ons wil dit nie graag ervaar nie. Ons kla daaroor as dergelike dinge oor ons kom. Ons pleit in die gebed by die Here om dit tog van ons weg te neem. En tog kan juis beledigings, miskenning, teenspoed, laster en al die dinge wat Paulus ervaar het, ook vir ons van die allergrootste betekenis wees, omdat juis sulke dinge ons uitdryf na Christus en na die genade alleen.

Die fokus van jou verlossing moet jy nie in jouself soek nie, maar buite jouself in Jesus Christus se soenverdienste. Die boot word nie geanker deur die anker op die dek te los nie. Die anker moet buite die boot in die diepblou see gegooi word om geanker te kan word. Jou ankerpunt is nie jouself en jou goeie eienskappe nie, maar lê buite jouself in Christus Jesus. Vanuit Christus se soenverdienste skenk die Gees vir my die geloof en die bekering om as verloste mens te lewe. Dan verstaan jy die Evangelie. Kom dan, kom bely dan vandag dat jy uit genade gered is deur Jesus Christus se soenverdienste.

“God gebruik stukkende goed. Dit verg gebreekte grond om ’n oes te produseer, gebreekte wolke om reën te produseer, gebreekte graan om brood te gee en gebreekte brood om krag te gee. Dit is die gebreekte albaste-fles wat parfuum voortbring. Dit is die gebroke Petrus, wat bitterlik huil, wat terugkeer na groter mag as ooit.” (Anonieme aanhaling)

Toe iemand vir St. Franciskus van Assisi gevra het hoekom hy soveel kon bereik, het hy geantwoord: “Dit is dalk hoekom: Die Here het uit die hemel op die aarde neergekyk en gesê: ‘Waar kan ek die swakste, die kleinste, die geringste mens op die aarde kry?’ Toe sien Hy my en sê: ‘Nou het ek hom gekry, en ek sal deur hom werk. Hy sal nie trots wees daarop nie. Hy sal sien dat ek hom net gebruik weens sy kleinheid en onbeduidendheid.’ ”

F.B. Meyer het eenkeer gesê: “Ek het vroeër gedink dat God se gawes bo mekaar op die rakke was, en dat hoe groter ons in Christelike karakter gegroei het, hoe makliker kon ons dit bereik. Ek vind nou dat God se gawes op die rakke onder mekaar is. Dit is nie ’n kwessie van langer word nie, maar van laer buig; dat ons moet afgaan, altyd af, om Sy beste gawes te kry.”

“By een geleentheid het ’n orkes Handel se ‘Messias’ so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger boontoe beduie, stilweg, dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: ‘Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.’” (Anoniem aangehaal)

In die Christelike lewe is daar nie plek vir brag nie. Alles, maar alles, is slegs genade. Ons kan maar slegs confess dat wat ons is, is uit genade.

Wie klein oor homself / haarself down en optree, sal groot wees in God se Koninkryk.                                                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe

SKRIFLESING: Luk 10: 25 – 37

Die vraag na die sin van die lewe is vandag ’n baie aktuele vraag. Wat gee werklik aan ’n mens se lewe sin en betekenis? Wat maak dit die moeite werd om vandag te leef? Het ek aan hierdie dag sin en betekenis gegee?

Verkeerdelik dink ’n mens dat as jy goed kan koop, kwalifikasies en bevorderings kan verwerf en vooruit in die lewe gaan,  jy dan ’n gelukkige mens sal wees, wat die sin van die lewe ontdek. Maar dit werk nie so nie. Die sin van die lewe lê nie in besittings, kwalifikasies of werksbevordering nie.

Die feit dat so baie mense worstel met die sin van die lewe, is omdat hulle nog nie geleer het om hulle lewe te leef vir ander mense nie. As ’n mens net jou lewe selfsugtig vir jouself leef en jou eie lewensgenot en selfverwerkliking nastreef, word ’n mens later siek van jouself en dan wonder jy wat die sin van alles is.

Dit is juis die verskil tussen middelpuntsoekende krag en middelpuntvliedende krag. Middelpuntsoekende krag is soos ’n draaikolk in ’n rivier. Dit suig na binne toe. Enige iemand wat in so ’n draaikolk beland, sal verdrink. Middelpuntvliedende krag is soos die planete wat rondom die son draai. Hierdie krag gee lewe en laat ons sonnestelsel voortbestaan.

My lewe het eers sin as ek dit lewe vir God en vir my medemens.

Juis daarom vertel die Here Jesus vir ons die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die verhaal begin deur te vertel van ’n man wat op reis is tussen Jerigo en Jerusalem, ’n lewensgevaarlike reis! Ja, tot so onlangs as die negentiende eeu was dit nog ’n gevaarlike pad. Daarom was die gebruik eerder om in groepe te reis tussen die twee stede. Dan gebeur dit dat die man aangeval word deur rowers, beroof en nakend en sterwend agtergelaat word. Hulle beroof hom nie alleen van klere, geld en sy lewe nie. Hulle beroof hom ook van sy menswaardigheid.

’n Mens se menswaardigheid is seker die kosbaarste besitting wat ’n mens kan verloor. Soveel miljoene mense worstel vandag om ’n stukkie menswaardigheid. Daar is soveel dakloses, hongeres, verkluimdes, siekes, verlamdes, treurendes, sondaars met skuldgevoelens en so gaan die lysie aan – mense wat hulle menswaardigheid verloor het.

Somtyds is ons self ook die rowers van die verhaal, wat self ook ander mense van hul menswaardigheid beroof. Wie skinder of ’n krenkende woord spreek of iemand inloop, word self ook ’n rower. Jy beroof ’n ander een van sy menswaardigheid. Met ’n skinderstorie beroof jy iemand van sy karakter of met ’n krenkende woord beroof jy iemand van sy selfbeeld. Wie karig betaal, beroof ’n ander een van dit waarvan hy of sy moet leef.

Is u en ek nie maar ook dikwels die rowers van die gelykenis nie? Ja, rowers wat ander beroof van hul menswaardigheid.

Maar ons is nie net rowers nie, ons is dikwels ook soos die Priester en die Leviet wat verby ons medemens in nood stap. Die Priester en Leviet het die Skrif en die wet baie goed geken.

Die Priester is voor ’n moeilike keuse gestel, aangesien hy op pad was na die tempel. Hy moes rein bly. Sou hy aan ’n nie-Jood of aan ’n lyk vat, sou hy onrein word volgens die Joodse wet en tradisies. Die priester was onseker of die man wel ’n Jood was en of hy wel nog gelewe het. Daarom speel hy veilig, deur verlangs, vier el volgens die Joodse vereistes, verby die beroofde man te stap. Die wet en die tradisie het swaarder geweeg as die liefde.

Vandag is ons nog steeds bang om teen die tradisie in aan mense wat nie ’n Afrikaner is nie,  hulp te verleen. Ons sal aan ’n volksgenoot makliker gee as aan iemand van ’n ander ras of kultuur. Ons is bang om hulp te verleen, bang ons word onrein; ons hande, ons motor en ons huis moet skoon bly.

Daarom leer Paulus ons, na die voorbeeld van Jesus Christus, dat die liefde die belangrikste in ’n gelowige se lewe moet wees. (1 Kor 13)

Die Leviet het ook verby gestap. Op daardie stadium was hy nie gebonde aan die reinigingswette van die Joodse tradisie nie. Hy kon makliker help. Hy is nie voor ’n moeilike keuse gestel nie; hy hoef nie te gekies het tussen die wet en die liefde nie. Tog stap hy ook verby, want dit ontbreek hom aan deernis en liefde.

Mag die Here tog vir ons elkeen ’n stukkie deernis gee vir ons medemens. Tussen my en die boemelaar is daar net een verskil, naamlik die genade van Jesus Christus. Prof DF Tolmie definieer barmhartigheid as volg: “Barmhartigheid is ’n intense gevoel van ontferming of meegevoel wat sigbaar word in die manier waarop teenoor iemand anders opgetree word.”

So kom staan die Priester en die Leviet aan die kant van die rowers, hulle beroof hom nog verder van sy menswaardigheid. Hulle kom herstel nie sy menswaardigheid nie.

Dan skok die Here Jesus sy toehoorders as hy die verhaal verder vertel. Hy vertel hoe ’n Basterjood, ’n Samaritaan – verag deur die Jode – op die toneel verskyn en die beroofde man help. (Die Joodse toehoorders se Joodse bloed het beslis gestol by die aanhoor hiervan.) Die Samaritaan gee aan hierdie beroofde mens sy menswaardigheid terug. Hy behandel sy wonde met olie en wyn, wat kultiese elemente by die offers in die tempel is. In plaas van die olie en wyn op die altaar uit te giet, giet hy dit uit op die wonde van die beroofde man. Sy godsdiens word praktyk. Die erediens gaan straat toe.

Die Samaritaan verander sy agenda en die inskrywings in sy dagboek. Hy staan tyd af aan die man. Hy vervoer hom op sy donkie, hy neem hom herberg toe en betaal vir hom.

Die Samaritaan word die Priester van die verhaal. Hy word “die lewende offer wat vir God aanneemlik is.” Die Samaritaan bring homself as die lewende offer, wat wyn en olie uitgiet op die altaar van bloedige wonde.

Naasteliefde beteken om ’n lotgenoot van die kleine, die veragte, die beroofde en eensame te word.

Gelukkig verskyn daar ’n Samaritaan op die toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ’n Jood en die man ’n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ’n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ’n 50c in ’n hoed nie. Baie keer gee ons so ’n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak en ons goed te laat voel.

Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ’n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk hoe dit gaan as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ’n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die Priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel dié in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ’n kerkhof in Europa staan ’n besondere Christusbeeld. ’n Christusbeeld sonder arms. Die arms is beskadig as gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus, God vra nie: “Hoe lief het jy my?” nie. God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.

Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ’n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ’n Christen word nie.” ’n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ’n wonderlike Christus. Dié Samaritaan met hoofletters het, toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.

Martin Luther King het eenmaal by ’n protesvergadering teen die oorlog in Viëtnam gesê: “Ons moet begin besef dat die hele pad na Jerigo so verander moet word dat mans en vroue en kinders nie voortdurend daarop geslaan en beroof word op hulle pad na die lewe nie. Naastediens beteken nie om maar net ’n muntstuk vir die bedelaar te gooi nie … maar om die huis te verander wat die bedelaar voortgebring het.”

Daarom sê die Formulier vir die bevestiging van diakens, dat die nood verlig moet word, maar dat ook die oorsaak van die nood uit die weg geruim moet word. Daarom is daar die gesegde: “Moenie vir iemand net vis gee nie, leer hom eerder om vis te vang.”

Natuurlik kan armoede ook ontstaan as gevolg van luiheid. Die Bybel spreek dit duidelik uit dat ’n lui mens nie gehelp moet word nie, want hy of sy is verantwoordelik vir hulle eie toestand.

Om vir ’n straatboemelaar geld te gee, is onverantwoordelik, want meestal gaan dit vir drank of dwelmmiddels. Gee eerder vir hulle kos. Vir hulle wat arrogant bedel, moet jy versigtig wees. Jy kan ook nie almal help nie. Kies watter mense jy kan en wil ondersteun met dade van barmhartigheid.

Barmhartigheid gaan ook oor veel meer as om vir iemand kos of geld te gee. Naasteliefde beteken om tyd te maak vir bejaardes, om ’n veragte mens se selfbeeld te help herstel, om siekes op te beur, om vir die moedelose nuwe hoop te gee, om vir die sondaar die Evangelie te bring … en so meer.

Ds. René Potgieter verduidelik mooi: “Sommige dorpe se watervloei werk deur middel van kanaalstelsels. Die kanaal is die weg waarlangs die water vanaf die dam na die inwoners van die dorp vloei, sodat hulle dan met die water hulle tuine kan natlei.  Die kanaalstelsel is ’n interessante sisteem.  Elke erf ontvang ’n leibeurt en wanneer ’n mens klaar is met jou leibeurt, sluit jy die toevloei na jou erf af, sodat die water kan verbyvloei na jou bure toe.  As gelowiges weet ons mos alte goed dat God die kerk gekies het as dié kanaal waardeur Hy sy goedheid, genade, liefde en barmhartigheid by die mense van die wêreld wil uitbring. Nou is die vraag – het God se goedheid, genade en guns by jou gestop, of vloei dit deur na ander?” Gee jy leibeurte ook vir ander mense?

Daarom roep die Here Jesus ons elkeen op met die woorde: “Gaan maak jy net so.” Gaan herstel ander mense se menswaardigheid, want eenmaal het ek op Golgota ook vir jou jou menswaardigheid terug gegee.   

Wie in die liefde aktief betrokke is, ervaar op die pad na Jerigo dat sy/haar lewe nie nutteloos is nie, maar dat dit sin het. Die lewe maak sin as ek weet daar is mense wat my nodig het … en ek kan vir hulle daar wees.

In Handelinge 20:35 staan:“In alles het ek vir julle gewys dat ’n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ” 

Die lewe maak sin as ek die Here Jesus nie net in die erediens aanbid nie, maar ook op straat, op die pad na Jerigo.

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe. Wie met ’n barmhartige hart lewe, sal elke dag sin in die lewe ontdek. As jy net vir jouself lewe, sal die lewe nie sin hê nie. Maar as jy uitwaarts na ander lewe en barmhartigheid betoon, sal jou lewe sinvol en betekenisvol wees. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die geklap van die duif se vlerke

SKRIFLESING: Gen 8:11 en Luk 3:22 en Joh 14:15 – 20

Baie verhale word vertel van die groot Noorweegse ontdekkingsreisiger Roald Amundsen. Hy is die persoon wat die Suidpool ontdek het en ook die magnetiese lengtesirkel van die Noordpool.

Op een van die gevaarlike reise het hy ’n duif saamgeneem. Die eerste ding wat hy gedoen het toe hy sy bestemming bereik, was om die duif los te laat. Sy vrou het weke lank niks van hom gehoor nie. Ongekend was haar vreugde toe sy een oggend by haar venster uitkyk en die duif sien sirkel oor die huis. Sy het uitgehardloop en geroep: “Hy leef! My man leef!”

So werk die Gees – die duif – ook. Jesus het weggegaan hemel toe. Die dissipels sou kon wonder: Is alles nou verby? Is ons alleen? Kom Jesus nooit weer terug nie?

Inteendeel, die Heilige Gees is nou oor ons uitgestort. Hy kom uit die hemel, van die Vader af, en herinner ons telkens daaraan dat Jesus leef.

Elke keer wanneer ons in wanhoop verkeer oor onsself, oor die kerk en oor die wêreld, hoor ons die geklap van die duif se vlerke en word ons getroos – die Here Jesus leef! Die Gees herinner ons dat Jesus nie weg is nie. Inteendeel! Hy is hier. Hy is binne ons. Hy maak alles nuut! Die boodskap van Pinkster is dat die Heilige Gees alles nuut maak.

Ons kan nie nuut maak nie – net God kan. Ons dink ons is besig met grondige vernuwings in ons lewe, maar dit is die blote kosmetiese herrangskikking van die stoele op die Titanic.

Ons sondige natuur kom nie weg van die verlede nie. Ons rangskik maar net bloot ons sondige verlede. Hulle vertel van die jong dogter wat aangekeer is deur die verkeerspolisie. Die bure het gekla sy ry in trurat al om die blok. Die verkeerspolisieman vra haar toe waarom sy so in trurat ry. Sy sê toe skaam dat sy gister, sonder haar ouers se toestemming, die motor geleen het en baie kilometers opgesit het. Sy probeer nou net om die verlore kilometers terug te wen. Sy probeer die verlede te herskep, terug te draai.

Die Bybel praat anders oor God. God maak nuut. God is die Oorspronklike, die Inisieerder, die Nuutmaker.  Hy handel vernuwend, verruimend, verrassend, skeppend, herskeppend, versoenend en verheerlikend.

Toe Noag en sy familie in die ark was met die sondvloed, het Noag ook ’n duif uitgestuur. Die duif het laatmiddag teruggekom. Met die geklap van vlerke het die duif ’n olyfblaar in sy bek gehad, wat die teken was van redding en ’n nuwe begin. So is die geklap van ’n duif se vlerke telkens in die Bybel ’n teken van redding en God se teenwoordigheid.

Met die doop van die Here Jesus het die Heilige Gees in die gedaante van ’n duif op Hom neergedaal. So het die Here Jesus se bediening begin. Dit het begin met die geklap van ’n duif se vlerke. Christus het ’n nuwe begin aangekondig. Die Gees was op Hom om Sy werk op aarde te doen.

God wil altyd nuut maak. Hy het die hemel en aarde geskep uit die oerchaos. Hy het Sy volk Israel verlos uit Egipte, uit die huis van slawerny. Hy het Sy volk tekens uit ballingskap gered. Die Here doen altyd nuwe dinge.

Die uitstorting van die Gees was dramaties: dit het met wind, vuurtonge en die spreek van al die destydse nasies se tale gepaard gegaan. Is die Gees nou op die agtergrond? Nee, die Gees is nog steeds elke dag met ons. Die dramatiese uitstorting van die Gees was eers soos ’n asemrowende waterval. Dieselfde water vloei nou soos ’n magtige rivier in die wêreld. Elke dag hoor ons nog steeds van wonderwerke, gebedsverhoring, genesing, bekerings en geestelike verdieping in die Here. Die Gees werk nog steeds en sal bly by ons. In en deur die Gees is die Here Jesus ook nog steeds by ons.

Kierkegaard het gesê dat ’n mens moet agtertoe kyk en verstaan en vorentoe moet kyk en leef. Ons is egter geneig om agteruit te wil leef. Ons wil in trurat die toekoms binne gaan, terwyl God ons vooruit wil laat gaan.

In Joh 14:8 sê die Here dat Hy ons nie as weeskinders wil agterlaat wanneer Hy die wêreld verlaat nie. Hy gee vir ons die Gees as ons Parakleet, wat vir ons voorspraak by God kan maak. Ons is nie alleen nie, ons het die Gees by ons.

Die volgende mooi verhaal illustreer dit. Daar was ’n swart seuntjie wat in ’n stat in die afgeleë Transkei grootgeword het. Hy het niks geweet van groot plekke nie. Hy het net sy onmiddellike omgewing geken. Op ’n dag word hy ernstig siek en die kliniek verwys hom na ’n groot staatshospitaal in ’n baie groot stad. Sy oupa gaan saam met hom hospitaal toe, aangesien albei sy ouers werk. In die groot hospitaal is alles vir hom skrikwekkend groot en onbekend. Hy is baie bang. Die hospitaal se personeel gee toestemming dat die oupa nog ’n paar ure by hom kan sit. Maar die ure gaan gou verby en die suster sê vir die oupa dat hy nou moet huis toe gaan. Hulle sal hom bel as hy sy kleinseun kan kom haal. Die seuntjie huil toe baie erg en wil nie sy oupa se hand los nie. Die oupa haal toe sy hoed af en gee dit vir sy kleinseun en sê vir hom dat hy elke keer as hy bang is aan die hoed moet vat en onthou sy oupa kom terug. Hy sê toe vir sy kleinseun: “Thula baba, Thula baba.” Die seuntjie raak rustiger en die oupa gaan terug huis toe. In die daaropvolgende dae, het hy elke keer as hy bang word, sy oupa se hoed styf vasgehou. Hy kon sy oupa se  sweetreuk en die tabakreuk elke keer ruik en onthou dat sy oupa belowe het dat hy hom sal kom haal. So het hy vrede en rustigheid gekry deur sy oupa se hoed. Toe hy gesond was, het sy oupa hom kom haal.

Vandag wil die Here ook vir ons kom sê: “Thula baba, Thula baba.” Hy het ons sy Gees gegee om by ons te wees, sodat ons nooit hoef te voel na weeskinders nie. Ons hoef daarom nie bang te wees vir die toekoms nie. Ons kan God ervaar en beleef deur Sy Gees.

Die boodskap van al die kerklike feesdae – soos kersfees, lydenstyd, paasfees, pinkster – is dat God alles wil nuut maak.

Ons troos is dat geen situasie, geen krisis vir God te groot is nie. Jou put is nooit te diep vir God nie. God haal jou daaruit. Daar is geen doodloopstraat dig genoeg nie, God breek daardeur. Geen woestyn kan droog genoeg wees nie. God omskep dit in ’n lushof, ’n paradys, waar riviere ontspring.

God is nie soos ’n groef nie. Hy doen ver bo wat ons kan bid of dink. As ons dink dis die einde van ons werk, ons huisgesin, ons huwelik, ons land, die wêreld, dan bewys die Here Hom groter as ons klein denke oor Hom en min verwagtinge van Hom. Uit die ruïnes van ons mislukkings skep God ’n nuwe kunswerk.

’n Beeldhouer het eenmaal ’n massiewe en kosbare stuk Carrara-marmer probeer omskep in ’n beeld. Dit was ’n mislukking. Daar het die stuk marmer vir 100 jaar gestaan in die agterplaas van ’n katedraal in Florence, Italië. ’n Ander beeldhouer het dit in 1505 ontdek, opgemeet en drie jaar daaraan gebeitel. Dit het geword ’n wonderskone beeld van Dawid, ’n kolos van meer as nege ton. Toe die eerste besoeker dit sien, het hy gesê dat die beeld nog net moet kan praat. As ons stilbly, sal die klippe uitroep oor die wonderdade van God wat alles nuut maak.

Ek gaan iets nuuts doen, sê die Here. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Telkens wanneer ons wanhoop oor onsself, oor die kerk en oor die wêreld, hoor ons die geklap van die duif se vlerke en word ons getroos dat die Here en die Gees by ons is.

Die duif, die Gees, kom uit die hemel, van die Vader, en herinner ons dat Hy leef en alles wil nuutmaak.

Deur die werking van die Gees kan ons ook uitroep: “Hy leef! Onse Heer leef!”

Dan kan ons die vrede en troos van die Here ervaar deur die werking van die Gees.

“Thula baba, Thula baba.”

Ons het die Gees by ons en Hy lewe in ons lewens.

Hoor jy die geklap van die Duif se vlerke?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Barmhartigheid is die hart van God

SKRIFLESING: Mat 5: 7 en Mat 23:23 en Mat 25: 31 – 46

Die beste nuus wat ’n mens ooit oor God kan hoor, is dat God nie ’n masjien of ’n beginsel is nie, maar ’n Persoon. Iemand met ’n hart – ’n hart wat kan voel, wat omgee, wat liefhet en wat kan vergewe.

Maar wat sou u dink is die beste nuus wat God ooit oor ’n mens sou kon hoor? Dit, naamlik dat die mens ’n hart vir sy medemens gekry het, ’n hart wat soos God s’n regtig kan omgee en voel en liefhê. Ons is tog immers gemaak na die beeld van God.

Maar wat is barmhartigheid presies? Dit kan in drie woorde saamgevat word, naamlik: mildheid, ontferming en vergewing.

Barmhartigheid begin by mildheid. Dit beteken dat ons oop en ruimhartig is teenoor ander. Dat ons sal onthou dat ons nie die enigste mense op die aarde is nie. Daar is ook ander mense vir wie ek moet ruimte maak. Barmhartigheid beteken ook ontferming, met ander woorde dat ek bereid sal wees om betrokke te raak as God my nodig het. Dit is om te buig na my medemens en in die nood van die wêreld te help. Barmhartigheid beteken ook vergewing. Hier gaan dit oor die vraag wat my te doen staan as my naaste lelik, sleg, vyandig en onaangenaam is? As iemand in nood ’n slagoffer van omstandighede was, dan is dit in ’n sekere sin nie moeilik om so iemand te help nie. Maar as mense teenoor my lelik was, dan droog barmhartigheid en vergewing gou op. God is egter anders. Vir Hom is vergewing nog altyd deel van barmhartigheid.

Die vyfde saligspreking herinner ons daaraan dat dit in die Evangelie gaan oor mense. Jesus Christus het Sy lewe gegee omdat Hy vir die wêreld omgee. Hy verwag van Sy volgelinge dat hulle ook bereid sal wees om dit te doen. Ons kan so dikwels in ons godsdiens vasval in reëls en “moets en moenies”. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die vryheid van die Christenmens dit so raak en duidelik gestel, dat ’n gelowige vry is van reëls en wette, maar nooit vry van die naaste nie. (Die Christendom is anders as al die ander godsdienste, in die sin dat dit hier nie gaan om reëls nie, maar om mense.)

Maar oor watter mense gaan dit? Wie is my naaste? Mat 25: 31 – 46 gee vir ons ’n beskrywing van ons naaste in die nood. Dit gaan iemand wees wat honger is, wat siek is, what sonder klere is of iemand in die gevangenis. Hulle is as’t ware “Christus” wat self aan ons deur kom klop.

Jou “naaste” beteken nie slegs jou familie en vriende nie. Dit beteken die persoon wat op ’n spesifieke oomblik en plek in jou teenwoordigheid is. Daarom is jou “naaste”, telkens op ’n spesifieke dag, enige ander mens of mense. Jou naaste verander gedurig. Jou naaste is diegene wat in jou direkte teenwoordigheid kom.

Jou naaste is ook jou vyande. Lees ’n bietjie wat sê Jesus in Mat 5: 43 en verder in verband met ons hantering van ons vyande. Om barmhartigheid teenoor jou vyande te betoon, is seker die heel moeilikste wat die Here van ’n mens kan vra.

Iemand het eenkeer gesê: “As jy in God glo en jou vriende liefhet, dan is jy ’n godsdienstige mens, as jy in God glo en ook jou vyande liefhet, dan eers is jy ’n Christen!”

Toe die Here aan ons barmhartigheid bewys het, het Hy nie “vriende” gehelp nie. Paulus sê dat Christus sy lewe vir ons gegee het, terwyl ons nog vyande van God was (Rom 5: 6 – 10). God moes ons ook eers vergewe voordat Hy van nuuts af met ons kon saamleef.

Barmhartigheid is nie ’n luukse of “ekstra” wat die geloof betref nie. Wie nie barmhartigheid wil wees nie, verstaan nie die hart van God nie. Dit is wat die Here Jesus Christus teen die Fariseërs gehad het. Terwyl hulle stip en noukeurig op die minder belangrike sake gelet het, het hulle dit wat volgens God die swaarste weeg, naamlik die geregtigheid, die barmhartigheid en die trou (Mat 23:23) agterweë gelaat. Om barmhartigheid na te laat, is om die hart van die Christendom uit te skeur. Wat dan oorbly is nuttelose religie.

Moeder Teresa van Calcutta het in ’n televisie-onderhoud  gesê dat mense honger is vir verskillende goed in die lewe. Sy het ook verwys na ’n arm dogtertjie wat te bang was om haar stukkie brood te eet, wetende dat sy daarna weer niks gaan hê om te eet nie. Daarom het sy dit krummel vir krummel  geëet, bang dit raak weer op.   

Vader Kestell het in die Anglo-Boereoorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ’n veldslag ’n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, melaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeres, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.

Ons moet ook barmhartigheid teenoor die natuur beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook teenoor die natuur en die ekologie baie barmhartig optree en probeer om die natuur te herstel, sodat dit weer gesond kan word.

Ek sluit af met die ware verhaal uit die kinderdae van ds. Walther Lüthi wat appels wou afpluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther appels afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer, sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”

So werk barmhartigheid ook. God gee vir ons in oormaat genade sodat ons ook vir ons broers en susters kan gee.                                             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort )  

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.