Dankbaarheid is die regte manier van leef

SKRIFLESING: Fil 4: 4 – 9

Oom Fred Every se lewe wil ek gelykstel aan dankbaarheid. Sy hele lewe het van dankbaarheid getuig.

Hy was altyd gou om sy dankbaarheid teenoor iemand uit te spreek. Hy was verseker die beste ambassadeur van Huis Corrie Dreyer, die tuiste waar hy die laaste jare van sy lewe deurgebring het. Hy het altyd gesê die mense besef nie hoe bevoorreg hulle is om in Huis Corrie Dreyer te woon nie. Hy was te alle tye ’n positiewe, opgewekte persoon wat die goeie in alles raakgesien het. Sy lewe laat my aan die volgende verhaal dink:

Op ’n dag het ’n dosent vir sy studente ’n swart kol op ’n groot wit bord geteken. Hy vra toe vir sy studente wat hulle sien. Elke student het ’n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grootte en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ’n swart kol op die bord nie. Daar is ’n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die  swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte misgekyk het.

So  kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle kan wees persoonlike probleme, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer só daarop dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ’n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Wat maak of breek ’n huisgesin, ’n maatskappy of ’n gemeente? Mense met ’n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Oom Fred Every het die swart kolletjies in sy lewe binne die regte perspektief geplaas, deur altyd eerder te konsentreer op die positiewe dinge en die groot wit oppervlakte van potensiaal en groei raak te sien.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

Oom Fred het hierdie derde deel van die Kategismus goed verstaan. DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Ons ken die verhaal van die tien melaatses in die Bybel baie goed. Die Here Jesus het al tien gesond gemaak, maar net een het teruggekom om vir Hom dankie te sê. Dit is ook verteenwoordigend van die mensdom. Net ’n klein persentasie mense kom terug om DANKIE te sê, nadat hulle van die Here of van ander mense iets ontvang het. Werklike opregte dankbare mense is skaars in hierdie lewe. Oom Fred Every was een van daardie skaars opregte mense wat dankbaarheid gepraat en geleef het.

Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, liefde en al die ander gawes van die Gees. Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4 – 9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ’n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ’n mens wat eerder wil gee as om te ontvang. So ’n mens was Oom Fred Every.

Oom Fred Every het altyd die voëltjies buite sy kamervenster kos gegee, deur vir hulle brood of voëlsaad te gee. Dit was vir hom ’n plesier om vreugde te vind in die gee van kos vir die voëltjies. Maar dan mors die voëljies so buite sy kamervenster en dan kry Oom Fred raas! Maar om goed te doen aan ander was deel van Sy persoonlikheid.

Oom Fred het sy lewe lank met mense gewerk. Hy het vir meer as 30 jaar versekering verkoop vir Old Mutual. Toe hy afgetree het, was hy ook ’n paar jaar ’n veespekulant. Hy het mense geken en geweet hoe om met mense te werk. Hy was lief vir boere. Hy het immers as ’n boerseun op die plaas Donkerhoek in die Hanover-distrik grootgeword. Voor hy vir Old Mutual begin werk het, het hy ook sy Springbokkop in wol-klas gekry en vir ’n lang tyd wol geklas, onder andere ook in die Adelaide-distrik.

Sy liefde vir rugby was vir hom ’n passie. Hy het meer as vyftien jaar as rugby keurder en ook op die bestuur van die NOK gedien. Hy en Boetie Malan van Adelaide was saam op die NOK-bestuur.

Die geestelike dinge was ook vir Oom Fred belangrik. Hy was vir baie jare ook ouderling in die Metodiste Kerk en het dié werk met oorgawe gedoen.  

Oom Fred het ook verlies ervaar.  Sy een seun, Edward, was ’n vegvlieënier en is in 1988 afgeskiet in Angola. Sy geliefde vrou Dulcie het in 1991 gesterf. In 2017 verloor hy ook sy dogter Meryl aan die dood. ’n Ouer is nie gemaak om ’n kind te begrawe nie. Desnieteenstaande het Oom Fred opgestaan en nie vir God kwalik geneem nie. Hy het sy geloof en dankbaarheid behou.

Oom Fred het 95 jaar oud geword. Dit is ’n hoë ouderdom. Hy het amper tot aan die einde oor goeie gesondheid beskik.  Dit was maar die laaste drie maande wat hy skielik baie swak en sieklik geword het. Hy het ’n voltooide lewe gehad. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is maar 70 jaar. Alles daarna is genade-jare. Oom Fred het ’n kwarteeu van genade-jare beleef. Oom Fred het al sy tydgenote oorleef. Hy was geseënd met ’n lang en vervulde lewe. Hy het gesterf met ’n goeie naam en karakter. Oom Fred was iemand uit een stuk.

In ’n troosdiens of ’n gedenkdiens praat ons baie oor die oorledene. Ons is hartseer en treur. Maar eintlik gaan ’n troosdiens tog daaroor om mekaar te troos. Oom Fred het ’n vol en begenadigde lewe gehad. Hy is nou by die Here. Hy is op ’n beter plek. Ons moenie oor Oom Fred huil nie, maar oor mekaar wat ’n geliefde verloor het. ’n Troosdiens is daarvoor bedoel dat ons mekaar troos en ondersteun. Daarom lê daar ook baie terapie in die agterna-koffie drink en verversings geniet en in die saamgesels.

’n Dankbare mens is ook ’n godsdienstige mens. So ’n mens soek die Here en Sy erediens op. Oom Fred was een van die getrouste kerkgangers in Huis Corrie Dreyer. Hy het Sondae die kerk getrou gevolg in die sitkamer en ook die Woensdagoggende se biduur gereeld bygewoon. Ek het altyd vir hom gevra om met ’n gebed af te sluit. Sy gebede het ook van opregte dankbaarheid getuig.

Hy was bitter lief vir sy kinders, sy skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

Fred en Sandra, julle het ’n wonderlike pa gehad. Die kleinkinders Beverly, Charlene, Fredrick en Donné, mag julle die wonderlike herinneringe van Oupa Fred koester. Mag julle ook vir die agterkleinkinders vertel van hulle oupagrootjie. Dit is nou Ashley, Kaylee, Rachael, William en Chané. Mag hy voortleef in julle kinders en kleinkinders se herinneringe aan hom.

Mag julle ook elke dag dankbare mense wees, na die voorbeeld van Oom Fred Every.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Ongeduldige mense voor ‘n geduldige God

SKRIFLESING: Spreuke 16: 32, 1 Kor 13: 4 – 7 en Eksodus 32: 1 – 14

Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde.”

Tog is ons so ongeduldig met mekaar en met God.  Die moderne mens en die moderne Christen het vandag ’n groot gebrek aan geduld. Ons lewe in die eeu van kitskoffie, kitskos, rekenaars en selfone. Alles word vinniger. Niemand wil wag nie. Ek wil dit hê en ek wil dit vandag hê. Jongmense wil nie onder begin nie. Nee, hulle wil begin daar waar dit hulle ouers twintig jaar gekos het om te kom.

Ons is op die pad ongeduldig met mekaar.

Wanneer die staal en glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons heeltemal ons geduld met die ander mense op die pad. Daarom kom padwoede so dikwels voor. In die huwelik en die gesin  verloor mense geduld met mekaar. Die moderne mens het vandag min geduld met die siekes, oues van dae, gestremdes en hulle wat uitgesak het in die samelewing. Wanneer die samelewing nie geriewe skep vir bejaardes en vir gestremdes nie, is dit maar net ’n teken van ongeduld wat die gemeenskap met die swakkeres het.

Ek onthou ’n persoonlike insident toe my pa gekluister was aan ’n rolstoel en net stadig kon beweeg. Hy was op die parkeerarea van ’n groot winkelsentrum. Een man het sy geduld verloor omdat my pa so stadig is en op my pa geskree: “Ouman, jy hoort in die Ouetehuis, nie hier nie.” Dit was kwetsende woorde vir my pa en vir my. Die man moet onthou dat hy ook eendag oud gaan word.

Ons is veral ook ongeduldig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op óns voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Soos die boer wat gebid het vir reën en toe die reën nie kom nie, sluit hy sy plaashek en gee die sleutel vir die bankbestuurder. Maar eers het hy ’n bordjie opgehang by sy plaashek met die woorde: “God is dood.”

Mense is selfs ongeduldig met hulself. Mense kan hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en hulle besittings. Mense wil altyd beter en hoër. Mense wil beïndruk, omdat hulle ten diepste met hulself ongeduldig is. Ongeduldige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ’n simptoom van ons vervreemding van God se Gees. In die preek gaan ons na die volgende twee sake kyk.

  1. Die geduld wat God betoon

Een van God se eienskappe is juis dat Hy lankmoedig en vol geduld is. Dwarsdeur die Ou Testament lees ons hoedat God ongelooflike medelye en lankmoedigheid teenoor Sy volk Israel openbaar. Herhaaldelik sondig Israel, maar telkens openbaar God Sy liefde en sy lankmoedigheid. Israel is soos ’n neulende vrou wat oor alles mor en kla. Israel is soos ’n ontugtige vrou wat in die bed van al wat ’n afgod is, klim. Israel maak God seer. Menige man sal so ’n vrou los. Maar God bly getrou aan Israel, al word Israel ontrou. Hy sluit selfs ’n onpartydige verbond met Israel juis omdat Hy so lankmoedig is.

Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy Sy enigste Seun Jesus Christus stuur, toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed word deur ons weggegooi. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ’n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ’n nuwe voorwerp te maak. God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is.

2. Die geduld wat ons moet betoon:

  • Geduld teenoor God

God spring nie rond om elke dag onmiddellik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. (Wanneer die grondmagte van ’n land se weermag ’n sekere teiken wil aanval, maar die lugmag die grondmagte waarsku om eers te wag, sal die grondmagte dom wees as hulle die teiken aanval. Die lugmag kan immers die omgewing verder met hulle radar raaksien,)

Net so kan God verder sien wat vir ons heil nodig is, want Hy is immers alwetend en alsiende. Daarom moet ons geduldig op God wag en ook geduldig wees as God se antwoorde anders is as wat ons verwag.

Ons moet geduldig op God se wederkoms wag. Die volk Israel se ongeduld toe Moses te lank met God op die berg Sinaï vertoef en hulle begeerte na ’n nuwe god wat hulle kan lei in Eksodus 20, is ’n goeie voorbeeld van die gelowige se ongeduld met ’n talmende God. In plaas van op Moses te wag, bou hulle toe eerder vir hulle ’n goue kalf.

As God talmend sy wederkoms uitstel, is dit alleen maar omdat Hy nog besig is om sy volle getal uitverkorenes in te samel. As God 100 jaar gelede gekom het, was nog nie een van ons gebore nie. Nee, God het eers nog vir ons gewag en so wag Hy totdat die Heilige Gees se werk op die aarde voltooi is. Dan sal Hy kom. Intussen moet ons geduldig wag en nie vir ons soos die volk Israel ander gode bou nie. Vir God is ’n duisend jaar soos een dag en een dag soos ’n duisend jaar.

  •  Geduld teenoor ons medemens

As God soveel geduld met ons het, moet ons nie ook ’n bietjie meer geduld vir mekaar oorhê nie? Ja, ons moet geduldig wees met mekaar se foute en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my elke dag verander om al meer aan Sy beeld gelyk te word, moet ek God toelaat om ook ander mense te verander, om al meer gelyk te word aan God se beeld. Ons almal is onder konstruksie by God. Juis daarom moet ons geduldig met mekaar wees.

Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en so gaan die lysie aan. Wanneer ons ongeduldig met mekaar raak, kwets ons ander mense met ons woorde of ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ’n ander mens kan aandoen.

As samelewing sal ons ook moet leer om meer geduld te hê met bejaardes en kinders, gestremdes en armes. Geduld is om uit te reik na bejaardes en om geriewe vir gestremdes te bou wat hul wêreld geriefliker maak.  

  •  Geduld te midde van ontberinge

Deel van hierdie gebroke werklikheid is die gebrokenheid van mense se lewens. Ons lewe in ’n wêreld van kanker, padsterftes, droogtes, oorstromings, aardbewinge, egskeiding, mishandeling van vroue en kinders, oorlog, terreur, geweld, stakings, gewapende rooftogte, onderdrukking en ongeregtigheid.

Ons sug elke dag daaroor. God sug ook elke dag daaroor. Ons kry swaar. God kry saam met ons swaar. Geduld is om volhardend uit te hou en te weet daar kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, waarop daar geen trane meer sal wees nie. (Soos ’n atleet wat ’n moordende Comrades hardloop. Aan die einde wag die vreugde en die rus.) Geduld is om in die swaar van elke dag, nog die goeie en mooi dinge raak te sien. (Soos die atleet hardloop, kom hy agter daar is mense langs die pad wat hom aanmoedig.) Geduld is om God te loof vir sy goedheid wat elke dag aan ons betoon word.

  •   Geduld met jouself

Dit is miskien die swaarste, naamlik om geduldig met jouself te wees.

Daar is baie mense wat na ’n traumatiese ervaring, irrasionele skuldgevoelens beleef.  Hulle dra skuld wat nie hulle skuld is nie. Daarom moet ’n mens sagter met jouself omgaan en ook meer geduldig met jouself wees.

Jy moet geduldig wees met jou voorkoms, jou liggaam, talente, gebreke, tekortkominge en menswees. Jy is uniek en besonders vir God. Juis daarom moet jy geduldig wees met jouself. Wees ook geduldig met jouself as jy foute maak. Leer uit jou foute en beweeg aan in die lewe.

Wees geduldig en dankbaar vir jou besittings en moenie ’n ander persoon se goed begeer nie. Moenie probeer om soos die volgende mens te wees nie. Jou erfdeel is vir jou afgemeet. Wees dankbaar daarvoor.

  •   Geduld met die doen van die goeie

Ons moet met geduldige volharding die kwaad vermy en die goeie doen. Ons moet elke dag daarna streef om suiwer en opreg voor God en ons medemens te leef. Soos wat ek probeer om ’n nuwe pak klere of ’n nuwe rok skoon te hou, so moet ek my nuwe lewe in Christus skoon probeer hou van die smet van die wêreld. Ons pas ons motors op om skrapies te keer en ons klere om vuil kolle te vermy, maar ons gaan woel so maklik in die moddersondes van hierdie wêreld rond met die nuwe lewe wat Jesus Christus vir ons gegee het.

Ten slotte: Die deug van geduld word onder leiding van die Gees ingeoefen. Daarom, wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug van geduld as ’n gawe ontvang uit die hand van God. Hy of sy sal ook uitvind dat geduld “die wortel en bewaarder van al die ander deugde is”.         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

God se gemeente moet gasvry wees

SKRIFLESING: Genesis 18: 1 – 15

Iemand het tereg opgemerk: “Everyone is homesick!” Alle mense wil behoort aan ’n gemeenskap.

Die hartseer van die wêreld is die baie eensame mense – wat voel hul behoort nêrens nie. Mense verlang daarna om te kan behoort. Die mens is nou eenmaal ’n sosiale wese, wat graag geliefd wil voel en voel dat hy of sy behoort aan ’n groep of ’n gemeenskap. Dit is waarom die platteland so gewild is by baie mense, want almal ken almal en jy voel jy behoort aan die dorp. In die stad ken mense dikwels nie eers hul buurman nie. Mense verlang na vriendskap, geselskap en mense wat omgee en belangstel. Daar is nie net broodhonger mense in die wêreld nie, maar ook baie velhonger mense wat soek na fisiese aanraking en omhelsing. Jy kry eensame mense wat ’n kluisenaarsbestaan voer, en selfs bejaardes wat vergeet word in ’n ouetehuis. Baie tieners voel hulle behoort nie aan ’n kliek nie, en kan dikwels onbesonne dinge aanvang, net om aan ’n groep te kan behoort.

Veral vreemdelinge word deur ons op ’n afstand gehou. Hulle word dikwels as indringers beskou. Gereeld ervaar nuwe intrekkers in ’n dorp dat hulle nie opgeneem word in die gemeenskap nie, omdat hulle laat “inkommers” is. Dit kan tot baie trane lei.

In die ou Joodse Bybelse tradisie was die versorging van die vreemdeling ’n wet. Volgens die Joodse tradisie moet vreemdelinge altyd met gasvryheid ontvang word.

In ons gelese gedeelte in Genesis 18 lees ons ook van die gasvryheid van Abraham. Abraham se tente was opgeslaan in die woestyn by die bome van Mamre. Dit was die warmste gedeelte van die dag toe Abraham opmerk dat drie besoekers op pad was na hom. Dan lees ons dat Abraham na die besoekers gedraf het om hulle op gasvrye wyse te ontvang. Hy het voor hulle gebuig en vir hulle gevra om nie verby te gaan nie. Hulle was nou eenmaal op pad hier verby. Hulle moet kom sit onder die bome en rus. Hy het ook vir hulle water gebring om hulle voete te was. Dan lees ons hoedat Abraham vir Sara vra om sestien kilogram meel te vat, te knie en roosterkoeke te maak vir die besoekers. Hy het spesiaal ook ’n mooi jong kalf laat slag. Verder het hy ook botter en melk, saam met die kalfsvleis en roosterkoeke, voor die besoekers neergesit.

Abraham het dit gedoen, min wetende dat hulle Goddelike besoekers was. Hierdie drie besoekers het aan Abraham en Sara kom sê dat hulle oor ’n jaar ’n seun sou hê. Wat ’n wonderlike uitkoms. Iemand het ook gesê: “The stranger is not simply one who needs us. We need the stranger.” Hoe nodig het Abraham en Sara nie hierdie vreemdelinge gehad om aan hulle die goeie boodskap van ’n seun te bring nie! Die gasvryheid van Abraham was die begin van ’n gesin, ’n familie, ’n geloofsgemeenskap, die volk Israel en later ook die kerk. Alles het begin by die vriendelikheid en gasvryheid teenoor vreemdelinge.

So is ook die verhaal van Rut ’n verhaal van gasvryheid. Toe Rut are optel, het Boas opdrag gegee aan die snyers om ekstra are op die land te los, spesiaal vir Rut en haar skoonmoeder Naomi. Later het Boas deur sy gasvryheid, as losser opgetree en met Rut getrou. Obed is gebore, waaruit die nageslag van Dawid en Jesus Christus gespruit het.

Jesus Christus het ook in die gedaante van ’n vreemdeling die wêreld ingekom. Maria het op ’n bonatuurlike wyse swanger geword deur die werking van die Heilige Gees. Toe Jesus gebore is, was daar geen herberg of huis waarin Hy gebore kon word nie. Daar was geen gasvryheid nie. Hy moes in ’n stal gebore word. Na Sy geboorte moes Josef en Maria met Hom na Egipte vlug, so onwelkom was Hy. Later is Jesus verjaag uit Nasaret, Sy tuisdorp. Jesus Christus het geen eie kussing, of huis of beurs besit nie. Hy is selfs uitgevreet deur die skrifgeleerdes as ’n vraat en ’n wynsuiper. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het ook veroorsaak dat Hy uitgelewer is aan die Romeinse owerheid om gekruisig te word. Die skares van Jerusalem het ook geskree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Boonop het Sy vriende, Sy dissipels Hom ook in die steek gelaat. Sy koms na die aarde was in die gesindheid van totale ongasvryheid teenoor die Seun van God.

Tog was Jesus Christus uiters gasvry teenoor die wêreld. Jesus het vreemdelinge laat tuiskom. Hy het tollenaars ontvang en by Saggeus aan huis oornag. Hy het die owerspelige vrou en die prostitute laat welkom voel. Hy het toegelaat dat ’n prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare Sy voete afdroog. Jesus was gasvry teenoor melaatses, blindes, kreupeles, weduwees, kindertjies en die gemarginaliseerdes in die samelewing.

Die vroeë kerk het vinnig gegroei, want hulle het iets daarvan verstaan om vreemdelinge en gemarginaliseerde mense gasvry te ontvang. Die vroeë kerk het drie dinge gedoen in Handelinge, naamlik: hulle het baie gemaak van eet, musiek maak en stories vertel. Om saam met ’n vreemdeling te eet, is om hom of haar welkom te laat voel. Daarom het alle ontluikende kerke dit in gemeen – hulle laat vreemdelinge tuis kom. Die kerk moet oop wees. Die kerk moet nie veroordeel nie. Die kerk moet ondersteunend wees. Die kerk moet ’n tuiste vir mense skep. Die kerk moet die “andersheid” van mense omhels. Die kerk moet kan nooi. Tereg word gesê: “A truly missional church integrate worship with welcome.”

Die Trinitariese God het ’n innige gemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hierdie Trinitariese God wil ook in ’n innige gasvrye intieme verhouding met die kerk wees. Daarom beteken die gemeenskap van die gelowiges om gasvry teenoor mekaar en die wêreld te wees. Daarom vertel Joh 3: 16 vir ons iets van die gasvryheid van Jesus Christus as dit lees: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.”

Daarom moet ’n gemeente in sy kleingroepe en in sy eredienste ’n veilige ruimte van gasvryheid skep. My ervaring is wanneer ’n kerklike kleingroep, soos tydens ’n wyksbyeenkoms, saam eet, musiek maak en die Bybelverhaal met mekaar deel, dan groei die wyk. Daarom het die Jode ook die gebruik om elke Vrydagaand met mekaar saam die Pasga te eet.

Christene moet die gemeenskap van gelowiges skep, deur saam met mekaar te kuier. Wanneer daar ’n gemeente-tee is, of dit is ’n gemeente-ete, gaan na die persoon wat jy die minste ken en gesels met die persoon. So word die gemeenskap van gelowiges geskep en in stand gehou. Dit is wat Jesus Christus van ons verwag.

Die kerk is anders. Die kerk is anders as jou vriendekring. Die kerk is gasvry teenoor die onbekende persoon. Daarom is daar geen gelyke vir die kerk nie. Daar word ook gesê: “There is nothing like the local church!”

Geestelike vorming begin met gasvryheid. Daarom sê die Here ook dat Hy ’n vreemdeling was en ons het Hom ontvang. God bou Sy kerk deur vreemdelinge. Die kerk is die enigste organisasie wat bestaan ter wille van sy nie-lede.

Die kerk is nie ’n geslote kliek nie, maar familie van mekaar. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Voltooide lewe is ‘n seën

SKRIFLESING:  2 Samuel 12: 15 – 23

Ons kan getroos wees dat Ernest 85 jaar oud geword het en Annette 87 jaar oud. Die Here sê 70 is jou lewensjare en alles daarna is genade-jare.

Hulle het ’n voltooide lewe gehad, want die sirkel is voltooi. Daarin kan ’n mens berusting vind, dat hulle ’n vol en gelukkige lewe gehad het. As  jongmense sterf, het ’n mens altyd vrae oor hoekom hulle so vroeg gesterf het. Hulle lewe voel so onvoltooid. Maar in Ernest en Annette se geval het ons die vrede dat hulle lewens voltooid was. Annette is ook nou verlos van ’n hele paar jaar se Alzheimers-siekte en al die lyding daaraan verbonde. Met haar sterwe het sy weer haar waardigheid teruggekry.

Ons mis vir Ernest en Annette, maar hulle mis niks nie. Hulle kom niks kort nie, aangesien hulle geestelike verheerlikte liggame het. Hulle het die wedloop van die lewe voltooi.

Ds. Hennie le Grange van die Hervormde Kerk het ’n baie raak opmerking gemaak in een van sy preke. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.”  Waarom is u almal vandag hier? Omdat Ernest en Annette se lewe êrens aan u geraak het. Met hulle betekenisvolle lewe het hulle baie mense aangeraak. Dit is tog die sin van die lewe.

Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het.

Aan die begin van die 20ste eeu het ’n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy skok sy eie doodsberig in die koerant gesien. Daar was blykbaar ’n vergissing van name, want hier was ’n dooie man besig om ’n nadoodse huldeblyk oor homself te lees. Nietemin, hy het verder gelees om te sien wat die mense oor hom te sê gehad het. Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf.”

Dit was al erg genoeg, maar toe hy verder lees, moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as “die handelaar van die dood”. Hy was erg ontsteld. Die beriggewing oor sy lewe was egter korrek, want hy was immers die uitvinder van dinamiet. En het baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.

Die berig het hom diep geraak. Hy wil immers nie onthou word as “die handelaar van die dood” nie. Eensklaps het hy besef dat hy ’n tweede kans gekry het. Hy kan nog sy grafskrif verander. Na ’n geestelike diepgang in sy lewe het hy al sy tyd en geld gespandeer om oral in die wêreld waar daar oorlog was, opheffingswerk tot stand te bring en vrede tussen strydende groepe te bevorder.

Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as die “plofstofkoning” of “die handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat ook van vrede in plaas van plofstof en dood.

Hoe sal die mense eendag vir ons onthou?  Wat sal die mense van ons sê?

Elkeen van ons het mooi herinneringe aan Ernest en Annette. Dit is waarom ek so van foto’s hou. Dit is gevriesde momente van die verlede wat herinneringe oproep van jare gelede. Elkeen van ons kan sulke mooi momente onthou saam met Ernest en Annette. Dit is waarom u hier is.

Maar ’n troosdiens of ’n dankdiens is ook ’n afsluiting van ’n era. Jy kan nie altyd treur nie. Jy moet tot berusting kom en met jou lewe aangaan. Die mooiste voorbeeld in ons gelese gedeelte is waar koning Dawid treur oor sy eerste seun by Batseba. Die kind het ernstig siek geword en Dawid het gepleit by God om die genesing van die kind. Hy het ’n nag deurgebring deur op die vloer te lê en hy het niks geëet nie. Vir sewe dae het Dawid gevas en gesmeek dat die kind  gesond moet raak. Op die sewende dag het die kind gesterwe. Die paleispersoneel was bevrees om vir Dawid te vertel. Dawid was alreeds so gebroke en die nuus van die kind se dood sou hom breek.

Dawid kom toe agter die personeel praat onder mekaar. Toe besef hy sy seun is dood. In 2 Samuel 12: 19 – 23 staan daar die volgende: “Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’ ”

Ons troos is dat ons eendag teruggaan na ons geliefdes, soos Dawid ook bely het met ’n vaste geloof. Ons gaan na ons geliefdes, hulle kan egter nie na ons kom nie. Ons woonplek hier op aarde is net tydelik. Ons is op pad na ons ewige tuiste in die hemel. Die Here Jesus het die gif uit die steek van die dood kom haal, sodat ons vir ewig met hom kan leef.

Wayne Rice vertel van die gesin wat op pad was met hul motor vir hulle somervakansie. Dit was baie warm en hulle het die vensters afgedraai vir koel lug. Hulle het heerlike koeldrank gedrink.

Die soet koeldrank het toe ’n by laat invlieg by die motor se oop venster. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir bysteke. Sou die by haar steek, sou sy binne minute dood gewees het. Sy skree toe hard vir haar pa: “Pappa, daar is ’n by in die kar. Hy gaan my steek. Help!” Die pa het toe dadelik die motor tot stilstand gebring en toe die by gelok na die voorkant van die kar. Teen die voorruit van die kar het die pa die by met sy kaal hand gevang. Die by het onmiddellik die pa gesteek, maar het ongelukkig los gekom. Dadelik het die pa se hand begin swel van die bysteek. Die by het toe weer na die agterkant van die motor gevlieg, al rondom die dogtertjie. Weer roep die dogtertjie: “Pappa, die by is weer by my. Hy gaan my steek. Help!” Die pa sê toe vir die dogtertjie: “Wees kalm, my kind. Die by het Pa klaar gesteek. Sy angel sit in my hand. Hy kan jou nie meer byt nie. Al wat hy kan doen is zoem. Netnou gaan die by in elk geval vrek, want toe hy sy angel verloor het, het hy ’n deel van sy binnegoed ook verloor. Hy gaan netnou vrek.”

Ons weet natuurlik uit die biologie dat ’n by jou net een keer kan steek. Hy verloor sy angel wanneer hy jou steek en saam met die verlore angel, verloor hy ook ’n deel van sy binnegoed, wat natuurlik vir die by ’n gewisse dood beteken. ’n By wat een keer sy angel verloor het, kan net zoem, verder is hy skadeloos.

Blykbaar was dié inligting alreeds in die Bybelse tyd bekend, want hoor wat sê Paulus in 1 Kor 15: 55 – 58: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Ernest en Annette is veilig by die Here. Die dood het hulle nie dood gesteek nie. Hulle het nuwe geestelike liggame. Hulle het ’n voltooide lewe geleef.

Ons kom sê net vanoggend vir God “Dankie” vir die twee besondere mense wat hy vir sy kinders, kleinkinders en vir die gemeenskap van Fort Beaufort en Adelaide gegee het. Hulle het ’n lewe van betekenis geleef. Hulle het mense aangeraak met hulle lewe.

Daarom is die oproep vanoggend vir ons wat in die kerk sit om ook lewens van betekenis te leef. Daarin het Ernest en Annette de Villiers vir ons die voorbeeld gestel.

Lewe jou lewe voluit, sodat jy ook eendag met ’n voltooide lewe kan sterf.

Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

God ervaar mensverlatenheid

SKRIFLESING:  Hosea 1: 2 – 12

Die boek Hosea gaan oor die mense van Israel wat God verlaat het. Beide die profete Hosea en Amos het opgetree in ’n tyd toe Israel buitengewone voorspoed en welvaart beleef het. Die armes is ook tot die uiterste toe verdruk. Daar was geen sprake van geregtigheid, barmhartigheid en trou te vinde nie. (Mat 23:23) In die laaste 25 jaar van Israel as volk se geskiedenis het ses konings geregeer en hulle was verrot tot op die been. In dié tyd het Israel nie die Joodse geloof vaarwel geroep nie, maar het hulle ’n sinkretisme beleef met die Baäl-godsdiens. Gewoonlik is Baäl op die hoogtes aanbid en dit was hoofsaaklik ’n voorspoedsgodsdiens. Met ander woorde mense het Baäl aanbid om vir hulle vrugbaarheid van hulle vee en landerye te verseker. Vandag het ons ook die sogenaamde “welvaartsteologie”. Mense aanbid God vir wat hulle van God kan ontvang. Welvaartsteologie is baie sterk in die Amerikaanse kerke, asook in sommige swart kerke in Afrika.  

Ongekende voorspoed en welvaart lei dikwels daartoe dat mense van God vergeet. So was dit ook in die tyd van Hosea, toe hy opgetree het as profeet. Die mense het van God vergeet. God het intense mensverlatenheid beleef. Hy was nie meer hulle enigste God nie. Ander gode wat welvaart sou bring, is nou eerder aangehang. Die volk Israel het ontrou geraak deur te hoer agter ander afgode aan.

Dan gee die Here opdrag aan Hosea om met ’n hoë-klas prostituut te trou.  In hierdie lewensgetroue metafoor, verteenwoordig die profeet Hosea die Here en die prostituut, Gomer, verteenwoordig Israel met al sy afvalligheid.

Met hierdie metafoor wil die Here die oë van Israel oopmaak om te sien waarmee hulle besig is. So skandalig soos dit vir ’n profeet is om met ’n prostituut te trou, so skandalig is Israel se optrede. Daarom speel Gomer die rol van die afvallige eggenote, wat Israel is.

Uit hierdie skandalige huwelik word drie kinders gebore. Elkeen van die kinders se name dien ook as boodskappe aan die volk Israel.

Die eerste seun Jisreël roep die bitter verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here deur die profeet Elisa oorskry het en meer bloed vergiet het as wat die Here beveel het. (God se opdrag aan Jehu was om koning Agab en sy vrou Isebel, wat in Jisreël gebly het, se bloed te vergiet. Hy het egter die hele nageslag van Agab sowel as Ahasia, wat koning was van Juda, op een na, almal gedood.)   Nou sal God die koninghuis van Jehu in die Jisreël-vlakte wreek, deur hulle bloed te laat vloei.  

Die tweede kind, ’n dogter, se naam was Lo-Rugama, wat beteken “Sonder ontferming”. Die Here het sy ontferming oor die volk Israel teruggetrek. Die derde kind was ook ’n seun met die naam Lo-Ammi, wat beteken “Nie my volk nie”. God wil sy liefdesverhouding met Israel beëindig.

Maar dan hou Hosea en Gomer se huwelik nie. Gomer vat haar goed en los vir Hosea met die drie kinders agter. Sy gaan terug na haar ou professie, naamlik prostitusie, deur haar liggaam te verkoop aan mans. Dit is juis die metafoor wat Hosea gebruik. Net so, verlaat die volk Israel vir God en verkoop hulle aan Baäl en die vrugbaarheidsgodsdiens. Die volk Israel was herhaaldelik ontrou aan God en vlug van hulle verantwoordelikheid. Van geregtigheid, barmhartigheid en trou verstaan hulle niks nie. Daarom is die Here se toorn so hard oor Israel.

Dan na ’n tyd, ons weet nie hoe lank nie, kry Hosea die opdrag om die vrou wat hy liefhet en wat telkens in owerspel terugval, te gaan terugkoop by die mark. Sy het waarskynlik in armoede en slawerny verval. Sy was so opgebruik deur prostitusie, dat Hosea haar met ’n afslagprys van vyftien sikkels silwer en ’n anderhalf homer gars, omtrent die helfte van ’n slaaf se prys, kon terugkoop. Dit laat my dink aan die verhaal van die verlore seun.

Teenoor die Here se verskriklike toorn oor Sy volk Israel, staan Sy troue genade. Hosea koop vir Gomer terug, net soos ons in die Nuwe Testament lees dat Christus Jesus ons vanuit die slawerny van sonde losgekoop het, deur aan ’n kruis te sterf.

Selfs die kinders van Hosea en Gomer se name word verander. Lu-Rugama wat beteken “Sonder ontferming” word nou Rugama wat beteken “Ontferming”. Lo-Ammi wat beteken “Nie my volk nie” word nou Ammi wat beteken “My volk”. So word Gomer (dus Israel) weer ’n getroue vrou vir God. Sy sê nie meer “My Baäl” nie, maar “My man”.

Wat leer ons uit die boek Hosea? Soos die volk gedurig gehoereer het agter afgode aan en die welvaartsteologie van die Baäl-godsdiens aangehang het, maak ons ook dikwels vir ons afgode. Johannes Calvyn het nie verniet gesê dat die mens se hart ’n afgode-fabriek is nie. Ons skep vir ons afgode wat ons troos in die lewe word.

Welvaartsteologie is baie gevaarlik. ’n Mens aanbid dan vir God om vir jou voorspoed en gawes te gee, maar jy aanbid Hom nie vir wie Hy regtig is nie. Jy moet hom aanbid ook in tye van beproewinge en aanvegtinge. Jy moet die Here nie vergeet in die voorspoed of in die teëspoed van jou lewe nie. Selfs al kwyn alles weg, moet jy nog steeds die Here dien.

Luister wat sê Habakuk 3: 17 – 19. Dit lees so: “Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs  aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn  en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop.” Dít is om die Here te dien en getrou aan die Here wees, ten spyte van teenspoed.

Ons hoereer agter afgode aan soos geld, besittings, geleerdheid en nog vele ander dinge. Dinge soos geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid tel al minder. Die Here Jesus is dan nie meer ons enigste troos nie. Ons verplaas dan die Here met ander afgode. Onbewustelik loop ons weg van die Here, soos wat Gomer weggeloop het van Hosea en haar drie kinders af.  

Ons neem baie dikwels party swart mense kwalik omdat hulle die voorvaders aanbid, maar tog ook die Here aanbid. Maar ons is nie veel beter nie. Ons aanbid die Here, maar ook die moderne afgode van ons tyd.

Soos die Here sy rug draai op Sy ontroue volk Israel en hulle in ballingskap wegstuur, kan die Here ook op ons Sy rug draai en Hom nie ontferm oor ons nie.      

Waar ons egter terugdraai na die Here, sal die Here se hart teenoor ons versag. Hy sal weer genade aan ons betoon en die stukkende verhouding tussen ons en Hom herstel.

Daarom moet ons in die Nuwe Testament, waar ons die bruid van Christus is, ons maagdelik weghou van ander afgode en ons eerder gereedmaak op die koms van die Bruidegom Jesus Christus. 

Ons moet ’n skone bruid wees, wat ons nie verkoop  aan allerhande afgode nie. Ons moet nie soos Gomer hoereer agter die afleidings van hierdie wêreld aan nie.

Ons moet net aan die Here behoort. Hy is ’n jaloerse God.

AMEN    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die Bybel ken net twee soorte mense

SKRIFLESING:  Psalm 1: 1 – 6

Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is langes en kortes, maeres en vettes, slimmes en dommes, geleerdes en ongeleerdes, rykes en armes, swart en wit, introverte en ekstroverte en so kan die lysie tot in ewigheid aangaan. Maar vir die Here is daar net twee soorte mense en hulle word in Psalm 1 verdeel in “regverdiges” wat die Here ken en die “goddeloses” wat die Here nie ken nie. (Tienie Strydom) Feitlik die hele Psalmboek kom neer op die twee soorte mense wat die Here noem, naamlik die “regverdiges” en die “goddeloses”.  Die metafoor wat gebruik word in Psalm 1 is dat die regverdiges soos ’n boom by waterstrome is en dat die goddeloses soos kaf is wat deur die wind weggewaai word. Jy kan jou nêrens tussen die twee soorte mense bevind nie, want vir die Here is jy òf die een òf die ander.

Dwarsdeur die Bybel loop ook die lyn tussen die “regverdiges” en die “goddeloses.”  Die regverdiges leef uit die Woord van die Here. Die Woord is die alleroorvloedigste waterbron.

Dr Chris van Wyk spel uit watter impak die regverdiges en die goddeloses het op hulle lewenstyl (1:1 – 2), op hulle ervaringe (1: 3 – 4) en hulle bestemming (1: 5 – 6). Ons gaan na die drie sake kyk.

  1. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se lewenstyl (verse 1 – 2)

    Die goddeloses hou hulle daarmee besig om God en ander mense te spot. Die goddeloses, sê Psalm 1, is soos ’n klomp spotters wat in ’n groep sit. Die goddeloses spot met God en met die regverdiges. Mense soek maats om mee saam te sondig. Daarom kry jy altyd groepies wat skinder, ’n bende kwaaddoeners of ’n misdaadsindikaat. Ek onthou in my skooljare was die boelies gewoonlik deel van ’n groep. Spotters vorm altyd ’n groep om God en die regverdiges te spot.  Sonde ontstaan dikwels daar waar spotters bymekaar kom.

    Godsdienstige mense kan ook in die kring van die spotters sit. Hulle spog so oor hulle eie prestasies en wat hulle in die lewe bereik het, dat hulle ’n bespotting maak van die Gewer van alle dinge. Hulle maak staat op hulle eie plannetjies en vermoëns. Hulle wortels groei in hulle eie prestasies en planne, in plaas van die Woord van God.

    Die Ou Testamentiese regverdiges het geleef uit die Wet, die Torah en die Pentateug. Vir die Nuwe Testamentiese regverdige is die Woord (die Bybel) die oorvloedige bron van lewe. Jy moet ’n liefde vir die Woord van die Here hê.  Chris van Wyk skryf: “Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink. Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.” Die Vulgaat vertaling van Psalm 1, vertaal dit dat die regverdiges in verwondering is oor die Woord.

    Psalm 42: 2 – 4 lees as volg oor die verlange na die Woord: “Soos ‘n wildsbok  wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan  en voor God verskyn? Trane is dag en nag my brood, omdat daar die hele dag lank vir my gevra word: “Waar is jou God?”

    Daarom is jou daaglikse Bybel lees baie belangrik. Jou Bybel moenie stof vergader of êrens in jou huis verlore raak nie. Hulle vertel van die dominee wat by ’n sekere huis huisbesoek doen. Die dominee vra toe of hulle vir hom ’n Bybel het om uit te lees. Die Bybel wat hulle vir hom gee was vol stof. Die dominee blaas die stof af en vra hoekom die gesin nie uit die Bybel lees nie. Die pa antwoord toe skerpsinnig: “Dominee, dit is die spesiale Bybel in die huis as dominee kom huisbesoek doen.” Die dominee kon niks sê nie! 

    In plaas daarvan om spottend en ligsinnig deur die wêreld te gaan, moet jy eerder die Woord bestudeer en die Woord die lamp en lig op jou pad maak.

    2. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se ervaringe (verse 3 – 4)

    Twee metafore word gebruik om die ervaringe van die regverdiges en die goddeloses te vergelyk.

    Die regverdiges word vergelyk met ’n boom wat by watervore geplant is, wat vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verdor nie. Die goddelose word vergelyk met kaf wat deur die wind verstrooi raak. Kom ons kyk na die twee metafore:

    Van watervore gepraat, Prof Johan Cilliers skryf as volg: “ ’n Aantal jare gelede was daar ’n verskynsel in die middestad van Londen wat talle voetgangers in verwondering in hul voetspore laat vassteek het. Dit was ’n wingerd wat nie alleen op ’n vreemde plek, sommer tussen die geboue, begin groei het nie, maar ook in grond wat op die oog af uiters ongeskik vir ’n gewas van so ’n aard gelyk het. Dit was bekend dat daar ’n ondeurdringbare klipbank net onder die grondoppervlak was. Maar nóg vreemder was die feit dat dié wingerd besonder welig aan die groei was, met gesonde stam en lote, lowergroen blare en druiwetrosse só reusagtig groot dat dié vreemde, vrugdraende verskynsel wyd en syd bekend begin word het. Die stadsvaders het besluit om ’n metaalplaatjie op een van die mure naby die wingerd aan te bring, om die geheim daarvan aan toeriste te verduidelik. Die wortels van die wingerd het blykbaar tog êrens ’n deurkomplekkie in die klipbank gevind, en gekruip en gekruip … tot in die Teemsrivier wat ’n hele ent daarvandaan en buite sig, verbygestroom het. Omdat die wingerd ’n lewensaar gevind het, het dit die vaal en vervelige omgewing waarin dit gegroei het, in ’n stukkie herwonne Paradys omskep.” (Johan Cilliers)

    Die Woord van die Here is ons lewensaar wat vir ons lewe gee. ’n Boom gee koelte, dra vrugte, mense kuier onder ’n boom, kinders speel in die boomtakke, die voëls maak neste – ’n boom is ’n nuttige plant. ’n Regverdige mens is ook ’n nuttige mens. So ’n persoon is ’n seën vir sy/haar lewensmaat, gesin, familie, werksplek en samelewing. Maar ’n boom moet ’n waterbron hê. Hierdie waterbron is die Woord.

    Teenoor die Woord van God, as bron van lewe vir die regverdiges, luister die  goddeloses na die raad van ander goddeloses.  As jy nie ’n waterbron het waaruit jy lewe nie, as jy nie die Woord van die Here in jou lewe het nie, is jy soos die goddelose.

    Jy is soos kaf wat deur die wind weggewaai word. In die antieke tyd het mense op winderige dae die koring van die kaf geskei. Hulle het met ’n voorwerp die koring die lug ingegooi. Die koring het dan omdat dit swaarder weeg, op ’n hopie geval en die wind het die kaf weggewaai. Kaf is waardeloser as waardeloos. Dit deug vir niks nie. So is die koring wat bruikbaar is, geskei van die kaf wat onbruikbaar is. Soos die kaf vir niks deug nie, deug die goddelose vir niks nie. Hulle is eerder spotters van die gelowiges. Hulle beraadslaag slegte dinge.

    3. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se bestemming (verse 5 – 6)

    Vers 5 beskryf dat die goddeloses nie sal kan opstaan tydens die regspraak nie. Hulle sal geen verweer hê nie. Dit is soos ’n beskuldigde in die hof, wat so vas is, dat niks wat hy/sy sê hom/haar onskuldig kan bewys nie. Nie eers die beste advokaat kan die goddeloses vry laat gaan nie.

    Daar word ook in vers 6 geskryf dat die Here sorg en kyk na die pad van die regverdiges en hulle op hulle pad help. Die Here loop saam met die regverdiges op hulle pad. Maar dan word geskryf dat die goddeloses se pad dood loop. ’n Doodloopstraat is altyd ’n teleurstelling en soms ook ’n traumatiese ervaring. So is daar vir die goddeloses geen toekoms en hoop na hierdie lewe nie.

    Dit laat my dink aan die outydse skildery van die twee weë, die smal pad en die breë pad. Op die breë pad loop al die goddeloses. Hulle hoer en rumoer en verval in dronkenskap en spot met God en mense. Hulle pad eindig in die doodloopstraat van die hel, waar God nie is nie. Die hel is inderdaad ’n plek waar God nie is nie. Maar daar is ook die smal pad, die kronkelende en moeilike pad van Christus-navolging, wat uitloop op die hiernamaals en die hemel. Ja, daar waar God in al Sy heerlikheid is.

    Is jy op die breë of die smal pad?

    Spot jy ander of bestudeer jy die Woord?

    Is jy ’n boom geplant by die waterstroom of is jy soos kaf?

    Is jy ’n goddelose of ’n regverdige?   

    AMEN 

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    BRONNELYS:

    Cilliers, Johan. Die tint van ons toekoms (Afrikaans Edition). LAPA Publishers. Kindle Edition.

    Van Wyk, Chris. Bybelskool

    Strydom, Tienie. Preek oor Psalm 1

    Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

    Die vrou wat ‘n dubbele seën ontvang het

    SKRIFLESING:  Mark 5: 24 – 35

    In ons gelese gedeelte leer ons van ’n vrou wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Dit is ’n lang tyd. Somtyds ly ons ’n lang tyd aan ’n probleem, omdat die Here vir ons wil laat besef dat Hy ons laaste en enigste hulp in die lewe is. Wanneer al ons opsies uitgeput is, besef ons eers dat Jesus ons enigste uitweg en Trooster is.

    Jesus was op pad om Jaïrus se dogtertjie gesond te maak, toe Hy deur die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, lastig geval is. Vir ons is dit erg steurend as ons ontydig lastig geval word, maar Jesus hou daarvan om lastig geval te word. Hy is te alle tye ’n hulp en ’n toevlug vir mense in nood. Jy kan Hom enige tyd nader met jou diepste nood en kommer.

    Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het se naam is onbekend. Sy was ’n nobody. Al wat van haar bekend was, was dat sy aan bloedvloeiing gely het vir twaalf jaar. Die gedurige verloor van bloed maak jou swak en sieklik. 

    Ons kan die volgende aflei uit haar toestand:

    Eerstens het sy ’n abnormale fisiese toestand gehad. In vers 25 staan daar sy het ’n fisiese “toestand”: Sy het twaalf jaar aan bloedvloeiing gely. Die oorsaak van die bloedverlies word nie beskryf nie. Haar liggaam kon skaars byhou om nuwe bloed te produseer om die bloed te vervang wat sy verloor het. Sy was swak, moeg en het die hele tyd aan bloedarmoede gely. Sy kon ook fisiese ongemak en pyn gehad het as gevolg van haar kondisie.

    Tweedens het sy ’n swak finansiële toestand gehad. In vers 26 staan daar dat sy oor die jare al haar geld gespandeer het op dokters wat haar probeer gesond maak het. Markus sê sy het alles op dokters gespandeer om haar te probeer gesond maak. In vandag se tyd sal ’n mens sê dat sy haar kredietkaarte tot op hulle kredietperk opgebruik het, sy het haar spaargeld opgebruik, geld geleen en dalk ook van haar meubels verkoop. Sy het niks gehad nie. Sy was finansieel geruïneer. 

    Verder het sy – derdens – verhoudingsprobleme gehad. As gevolg van haar konstante bloedvloeiing was sy spiritueel onrein volgens Lev 15: 25 – 27. Vroue moes sewe dae na bloeding verby is, wag voordat hulle hul offers in die tempel kon bring. Vir twaalf jaar kon sy nie deel neem aan die offerdiens en die aanbidding by die sinagoge nie. Sy was ook baie beperk om te meng met mense, vriende en familie, omdat sy volgens Levitiese wetgewing as onrein beskou is. Dink net aan die konstante verwerping van haar as mens in die samelewing. Sy is altyd as onrein beskou en moes mense permanent vermy. Die Joodse wet het bepaal dat alles waarop sy gesit het of waaraan sy geraak het, ook as onrein beskou is. Dit moes ’n ongelooflike skaamte en gevoel van verwerping meegebring het. Sy moes ontsettend alleen gevoel het. Sosiaal gesproke was sy net ’n bietjie beter af as ’n melaatse persoon. ’n Melaatse persoon is uit die gemeenskap geban; ’n onrein persoon mag nog in die gemeenskap bly, maar mag nie met ander mense meng nie. Altwee was ewe eensaam.

    Daar was vierdens ook ’n spirituele toestand. Mense van haar dag het haar beskou as iemand wat vervloek is deur God. Daar was maklik aangeneem dat sy siek was omdat daar sonde in haar lewe was. Hulle het die siening gehad dat iemand wat met langdurige siekte gepla was, gesondig het. Soos in Johannes 9, waar  Jesus se dissipels gevra het of die blinde man blind is omdat hy of sy ouers gesondig het. Dié beskouing het die vrou in ons gelese gedeelte se verwerping net nog meer intens gemaak.

    Vyfdens was haar situasie ’n hooplose situasie. Markus beklemtoon aan die einde van vers 26 dat sy nie beter, maar eerder slegter, geword het. Verseker het sy gebid en het sy dokters toe gegaan, maar daar was geen genesing  nie. Sy het net erger geword. Haar tyd van genesing het nog nie gekom nie.

    Maar toe verskyn Jesus op die toneel, op pad om Jaïrus se dogtertjie gesond te maak. Die mense drom saam en van alle kante word Jesus vasgedruk deur mense wat opgewonde is om Hom te sien. Dan verskyn die vrou wat aan bloedvloeiing gely het op die toneel en sy nader Jesus van agter en sê in vers 28: “As ek maar net aan Sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Eintlik mag sy nie tussen die mense gewees het nie, want sy was as “onrein” beskou. Sy was klaarblyklik bang om Jesus in die oë te kyk, omdat sy haar eie onwaardigheid ken. Sy was ’n onrein vrou, en die skande van haar siekte het haar verhinder om enige mondelinge versoek of openlike versoek te rig.

    Dan raak die vrou van agter aan Jesus se bokleed en word dadelik genees van die oorsaak van haar bloedvloeiing. Lance Wubbels skryf: “Die aanraking van Jesus het haar nie net fisies genees nie, dit het ook die sosiale vloek opgehef waaronder sy al die jare gely het. Sy het daardie dag ’n dubbele seën van Jesus ontvang.”

    Waar het die vrou op die gedagte gekom om net aan Jesus se kleed te raak, dan sal sy gesond raak? Die woord het die rondte gedoen dat mense net deur aan Jesus te raak, gesond geword het. Daarom staan daar in Mark 3: 10 die volgende: “Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak.”

    Waar het die mense die idee gekry, dat om aan Jesus se klere te vat, hulle gesond sal word? Daar was in daardie tyd die bygeloof dat deur aan regeerders en gerekende mense se kleding te vat, hulle geseën sal word. Mense het byvoorbeeld dikwels in Alexander die Grote se tyd probeer om aan sy klere te vat, om geseën te word deur sy mag.

    Hierdie vrou het haar volle vertroue en geloof geplaas in Jesus Christus om haar te genees. Jou vertroue moenie wees in jouself of jou geloof of in jou bekering of in jou goeie werke nie, maar buite jouself in Jesus Christus. In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en die vloer was van grond. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …….” Toe ek omkyk, was dit ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis. Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself, na die Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here.

    Daar staan in vers 30 dat Jesus, nadat die vrou gesond geword het, opgemerk het dat daar krag van Hom af uitgegaan het. Hy het rondgekyk en met die vrou oogkontak gemaak. Die vrou het toe met die volle waarheid vorendag gekom. Jesus het dadelik haar groot geloof geprys en haar in vrede weggestuur. Dit was nie die grootheid van haar geloof wat haar genees het nie, maar die objek in wie sy haar geloof gestel het, naamlik Jesus Christus.

    Jesus het van Sy krag verloor. Daarom het Jesus dikwels na ’n plek alleen gegaan om tot Sy Vader te bid om Sy kragte te herstel.  Wanneer ons geestelik betrokke is by ander mense, word ons geestelike en emosionele energie ook getap. Daarom is selfsorg en die geestelike dissiplines so belangrik.

    Die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het is fisies genees en haar sosiale vloek van verwerping is weggeneem. In haar diepste nood was haar fokus op die Here Jesus.

    Mag ons fokus ook elke dag op onse Here Jesus Christus wees.  AMEN    

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    BRONNELYS:

    Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom. Destiny Image. Kindle Edition.

    https://truthappliedjs.com

    Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

    Om soos sout te wees

    SKRIFLESING:  Mat 5: 13 – 16

    Eendag was daar ’n koning wat baie lief was vir sy kos. Hy het ’n kok gehad wat vir hom die smaaklikste kos voorberei het.

    Uit waardering vir die lekker kos, het die koning baie besondere voordele aan die kok toegestaan. Die kok het dan altyd die koning bedank vir die voordele, deur te sê dat die koning vir hom soos “sout” is. Die koning was altyd gebelg as die kok hom vergelyk met sout. Hoekom sê die kok nie eerder vir hom hy is soos goud of fluweel nie?

    Op ’n dag maak die kok weer vir die koning kos, maar hy gooi geen sout op die kos nie. Toe die koning die kos eet, proe hy daar is iets ernstigs met die kos verkeerd. Hy stuur die kos terug en verneem by die kok wat verkeerd is. Die kok sê toe die kos smaak laf, omdat daar geen sout in is nie.  Toe verstaan die koning dat die kok eintlik vir hom ’n kompliment gee as hy sê die koning is soos sout, want sout is onontbeerlik.

    Ons eet almal sout, want sout is noodsaaklik in die voorbereiding van kos.

    Wanneer die Here sê dat Sy kinders soos sout moet wees, bedoel Hy daarmee dat Sy kinders ’n onontbeerlike deel het aan die voortgaan van Sy koninkryk. Net soos wat sout ’n alledaagse, onontbeerlike huishoudelike item is, net so ag God Sy kinders as belangrik in Sy Koninkryk.

    In die tyd van Jesus was sout sommer baie belangrik. Romeinse soldate het dikwels nie geld ontvang vir hulle diens in die leër nie, maar is met sout betaal. Hulle het dan die sout verruil vir hulle lewensbehoeftes op die markplein. Om die waarheid te sê, ons woordjie “salaris” is afgelei van die Latynse woord salarium wat op sy beurt verband hou met die Latynse woord sal of “sout”. Jy moet respek vir sout hê, want dit is noodsaaklik.

    Sout was veral belangrik vir hulle bewarende, genesende en smaakvolle eienskappe.

    Sout was in die eerste plek belangrik vir hulle bewarende eienskappe. In die tyd van die Bybel was daar nie vrieskaste nie. Kos is met sout ingelê om dit te bewaar. Vandag nog word biltong en snoek ingelê met sout om dit te bewaar. Sonder sout sal die kos gou bederf. Selfs diere se velle word met sout ingevryf en opgerol om later verwerk te word.

    Net so moet die kinders van God keer dat die aarde en ons samelewingstrukture begin stink en sleg word, bederf en vernietig word. Daar is baie dinge wat mense se lewens bederf, soos byvoorbeeld haat, bitterheid, pessimisme, onvergewensgesindheid, skinder, slegte musiek en films, genotsug ensovoorts. Ons moet egter as kinders van die Here soos sout keer dat die negatiewe dinge ons lewe sleg maak. Nee, ons moet eerder ons lewe vul met positiewe dinge. Dan is ons soos sout vir die Here.

    Sout was ook ’n belangrike geneesmiddel in die tyd van die Bybel. Daar was toe nog nie middels soos Dettol op die mark nie. Nee, sout is op die wonde gegooi. Dit het gebrand, maar dit het al die kieme doodgemaak en die wonde genees. Vandag nog spoel mense hulle monde met soutwater uit om hulle monde te ontsmet en te genees. Ons moet as gelowige kinders van die Here ook soos sout genesend op mense inwerk. Daar is soveel stukkende mense, hartseer mense, arm mense, bedroefde mense, bekommerde mense en so baie mense wat net vra vir ’n bietjie begrip en liefde. Soos sout moet ons hulle wonde genees. Ons moet vredemakers wees, ons kan ’n besoek aflê, simpatie betoon of doodeenvoudig net vir hulle bid.

    Sout is ook ’n smaakvolle item. Dit gee smaak aan kos. Dit maak kos aangeneem om te eet. Net so moet ons aan die lewe smaak gee, sodat die wêreld begeer om ook deel te hê aan hierdie heerlike smaak om ’n Christen te wees. Daar is niks so mooi soos ’n Christen-mens wat smaakvol lewe vir die Here nie.

    Die Here Jesus praat ook van sout wat hulle smaak verloor. Die sout het laf geword. In die Ou Testament is sout baie gebruik by graanoffers om die wet te onderhou. In die Nuwe Testament het die Here die offerdiens kom vervul deur self die volmaakte offer te word. Daarom is die sout wat by graanoffers gebruik word nou smaakloos. Dit het geen waarde en smaak nie, want die Here Jesus het die volmaakte offer geword. Die Ou Testamentiese wette rondom sout het nou laf geword.

    ’n Mens gooi nie sout by alle kossoorte nie, want dit kan die kos bederf. Daarom, byvoorbeeld,  gebruik ons die Woord ook nie in alle omstandighede nie. Jy moet die Woord oordeelkundig gebruik, soos die geleentheid dit voordoen.

    Wanneer ek ’n soutpot vol sout maak, beteken dit nie dat dit lewenslank sal vol bly nie. Hoe meer sout ek uitstrooi, hoe meer dikwels moet ek dit volmaak. Selfs Jesus het agtergekom dat daar krag van Hom af uitgegaan het toe die vrou met die bloedvloeiing Hom aangeraak en genees is (Mar 5:30). Daarom het Jesus gereeld na ’n stil plek gegaan en met Sy Vader in gebed verkeer.

    Sout het dus bewarende, genesende en smaakvolle eienskappe. So moet ons ook bewarend, genesend en smaakvol as Christene lewe.

    “Sout offer sigself op. Sout werk net as dit uit die soutpot gegooi word. Sout bestaan nie ter wille van sout self nie, maar ter wille van die wêreld. Sout gee sy eie geborgde bestaan in die soutpot prys om die wêreld te dien.” (Chris van Wyk) So moet ons ook die wêreld dien.

    Belangrik is egter ook dat sout stil en onsigbaar werk. Vergelyk ’n teelepel sout en Eno onderskeidelik in twee verskillende glase water. Die Eno borrel en raas, maar spoedig is alles oor en dit het niks van die eienskappe van sout nie. Die sout werk stil en feitlik onsigbaar.

    Op die oog af lyk alle mense dieselfde, net soos die Eno en die sout. Tog lê die verskil tussen mense in die dinge wat hulle doen. Baie mense borrel en raas, maar hulle doen niks nie. Die spreekwoord lui mos: “Die leë blikke maak die meeste lawaai.” Nee, ons moet eerder soos sout stil, maar seker, werk.

    Wanneer werk sout die beste? Binne die soutpot of daarbuite? Natuurlik daarbuite, wanneer dit oor die kos gestrooi word! Die Here wil ons ook daarbuite in die wêreld gebruik.

    Wanneer sout gemyn word, word dit in die fabriek skoongemaak en gesuiwer. Net so word ons in die erediens gesuiwer en voorberei om buite die erediens sout vir die aarde te wees. Ek kan nie maar net hier in die kerk ’n Christen wees nie. Nee, ek moet uitgaan en oral sout vir die aarde wees.

    ’n Soutkorrel los van die ander soutkorrels beteken nie veel nie. Net so verkry die gelowige alleen krag as hy/sy saam met ander gelowiges die gemeenskap van gelowiges vorm.

    Jesus sê ons is die sout van die aarde! Dit beteken ons moet bewarend, genesend en smaakvol lewe. Stilweg kan ons die wêreld verander vir die Here, deur soos sout te wees. Mag God ons en ons kinders soos sout gebruik.    AMEN

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)


    Om in spieëls te kyk

    SKRIFLESING:  Mat 17: 1 – 9

    In Durban se speelpark aan die seefront was daar in die 1970’s ’n “Chamber of horrors.”

    Die plek het bestaan uit verskillende spieëls wat verskillende wanpersepsies en wanbeelde van jou geweerkaats het. Sommige spieëls het jou baie vet laat lyk, ander brandmaer, ander het jou kort of lank gemaak of jou gesig verwronge laat lyk. Die spieëls het jou angstig gemaak oor hoe jy kon gelyk het. Natuurlik was dit ook baie lagwekkend.

    Die volgende moderne gelykenis het ek iewers raakgelees. Dit gaan oor die duiwel wat ook so ’n spieël gehad het. Hy het mense in die spieël laat kyk. Alles wat goed was, is verklein tot mikroskopiese atome en die goed wat sleg was, is opgeblaas tot reusagtige grootte.

    Met groot vermaak het die duiwel die mense deur die spieël laat kyk. In sy opgewondenheid om die spieël te gebruik, val die spieël toe op die grond en breek in ontelbare spieëlsplinters. ’n Groot storm het opgekom en die splinters en stof het in al die mense op die aarde se oë gewaai.

    Van dié dag af sien mense altyd die slegte goed in hulle medemens in oortreffende vorm en hulle sien die goeie skaars in mekaar raak. Selfs hulle omstandighede sien hulle verwronge. Die goeie word verklein en die slegte word opgeblaas tot uitermatige proporsies.

    God was baie ongelukkig met die verloop van dinge. Hy het toe ’n ander spieël gegee in die vorm van ’n Persoon, naamlik die Here Jesus Christus, wat die ewebeeld van die Vader is. Jesus het gekom en mense geleer om weer die goeie in ander mense raak te sien en die slegte in ander se lewens mis te kyk.

    Die owerspelige vrou se sondes het hy so verklein dat almal weggestap het en dat niemand haar met ’n enkele klip gegooi het nie. Hy het in die huise van die grootste sondaars soos Saggéüs ingegaan en prostitute toegelaat om Sy voete te balsem met kosbare reukolie.

    Natuurlik het die duiwel en die Fariseërs nie van hierdie nuwe spieël gehou nie. So het hulle hierdie spieël, Jesus Christus, stukkend gegooi teen die kruis op Golgota. Op Pinkster Sondag het ’n groot wind opgekom en die spieëlsplinters en stof in baie mense se oë gewaai. Tot vandag toe nog waai die Pinkster Gees stofdeeltjies van Jesus se spieël in mense se oë. Die wonder is dat elkeen in wie se oë die spieëlstof vassit, anders en nuut na die wêreld kyk, na hulle omstandighede en ander mense. Hulle sien skielik in hulle omstandighede  meer goed om voor dankbaar te wees as goed om oor te kla. Hulle sien die foute in ander mense se lewens skaars raak en sien baie gou die goeie in ander mense raak. Watter spieëlsplinters sit in jou oë? Hoe kyk jy na ander mense en na jou omstandighede?

    Op die Berg van Verheerliking het die dissipels vir Jesus ook anders begin sien.

    Hulle oë was verblind deur Sy heerlikheid en glans. Die dissipels Petrus, Johannes en Jakobus was so oorweldig deur die heerlikheid van Jesus, saam met Moses en Elia, dat hulle drie tente wou bou, een vir elkeen. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete.  Die verskyning van Jesus op die Berg van Verheerliking is ’n voorafskaduwee van die verheerliking wat op Jesus wag, na Sy lyding wat nou sou begin. As’t ware gee die Vader vir Sy Seun Jesus Christus hier moed vir die moeilike pad wat nou voorlê.

    Jesus kyk as’t ware met ’n spieël die toekoms in. Daarom word die skrifgedeelte graag gelees op die Sondag van die Verheerliking of Transfigurasie Sondag, wat die laaste Sondag in Epifanie-tyd is. Jesus het as’t ware die spieël van God se goedheid geword.

    Natuurlik moet ons onderskei tussen Moses se spieël en Jesus se spieël. Moses word beskou as ’n prototipe van Jesus wat gekom het. Moses het op die Berg Sinai die Tien Gebooie as wet ontvang, die Ou Testamentiese spieël van hoe God se kinders behoort te leef. So het Jesus vir ons ’n ander spieël gegee, die opsomming van die wet, die bergpredikasie en natuurlik die bekende Mat 23:23. Natuurlik straal Jesus se spieël genade uit. Moses het die volk uit Egipte, uit die plek van slawerny, gelei. Jesus het ons gelei uit die slawerny van sonde. Die Rooisee het oopgegaan  voor Moses, net so het Jesus die doop tot verlossing van sonde verkondig. Moses het die volk 40 jaar deur die woestyn gelei en Jesus is 40 dae lank in die woestyn versoek en verlei. Soos Moses se lewe deur die Farao bedreig is, is Jesus se lewe deur Herodus bedreig. Die helderverligte wolk in ons gelese gedeelte herinner ons ook aan die wolkkolom en vuurkolom wat Moses en die volk in die woestyn oorskadu het. Moses is die bevryder van die Ou Testament en Jesus is die Bevryder van die Nuwe Testament en van alle tye.

    Net na die Berg van Verheerliking-episode sou Jesus se pad van lyding begin. Tussen verwondering en verwondheid lê slegs ’n paar treë. Dikwels seën die Here ons met bergtopervaringe saam met Hom, om ons krag te gee as ons deur woestyne moet gaan. Elkeen van ons lewe dikwels met die herinnering van besondere bergtopervaringe met die Here. Dit gee ons krag wanneer ons langs die pad wil swak word. Epifanie duur 40 dae en die Lydenstyd duur ook 40 dae. Tye wat ons herinner dat God altyd by ons is.

    Jou spirituele lewe kan ook so ’n spieël wees. Somtyds kan dit vol rimpels wees en ander tye kan dit spieëlglad wees, sodat jy as’t ware beelde in die water kan sien reflekteer. Die genade is dat ons God kan sien in die rimpeltye, asook in die spieëlgladde tye van ons lewe. Jesus het tye van lyding en verheerliking geken. Hy was in die woestyn en op die bergtop van die Berg van Verheerliking. Hy het palmtakke én spykers ontvang. Te alle tye was Hy in harmonie met Sy Vader wat in die hemel is.

    As ons harte en gedagtes vol rimpels is, is dit soos ’n gekraakte spieël wat alles in die lewe verwronge sien. Ons kan selfs nie eers meer God se werke sien nie, wat nog te sê om vir God te sien. Juis daarom moet ons hart tot rus kom, deur bergtopherinneringe uit die verlede te onthou. Dit gee vir ons die rustigheid om te weet God is nog steeds by my as dit swaar gaan. God is so naby aan my, dat ek as’t ware Sy hand op my skouer kan voel.

    Juis daarom is die Nagmaal ook elke keer ’n bergtopervaring, wanneer ons die brood en die wyn vashou in ons hande. Ons kan as’t ware nie meer van God vashou nie, want ons hande is dan alreeds vol. Patrick Wilson skryf so mooi: “… God is so great, so majestic, so glorious, that God  come to us in a crumb of bread and a sip of wine, just as much of God as a hand can hold.” 

    In die bergtopervaring is daar ook sprake van gemeenskap van gelowiges wat mekaar voorberei op die lyding.

    So staan ons nooit alleen in lyding nie. Die Here het vir die kerk die gemeenskap van gelowiges gegee om mekaar by te staan in tye wat dit swaar gaan. Daarom is dit juis ook een van die unieke eienskappe van die Christelike kerke, dat Christene hulle lyding en alleenwees met mekaar kan deel. Ek lees die volgende aangrypende aanhaling: “The mountain was the way for God to prepare a human band of companions for the sacred journey, to offer something to hold onto when they descend into the crushing reality of the world below.” (Anschutz in Feasting on the Word)

    Daarom moet ons leer om saam in die spieël te kyk na God se heerlikheid, maar ook om met nuwe verhelderende oë na mekaar te kyk in nuwe verwondering.

    AMEN

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    Skuld moet bely word

    SKRIFLESING:  Mat 5: 22 – 26

    Ons mense is dikwels soos ’n verkleurmannetjie, want in die teenwoordigheid van God wys ons ons beste kleure. In die teenwoordigheid van ons medemens wys ons egter ons swakste kleure. Ons wil heilig met God lewe, maar lewe somtyds so onheilig met ons medemens saam.

    In die agtiende eeu, met die bloei van slawehandel na Amerika, was daar ’n slawehandelaar en seekaptein wat bekend was vir sy godsdienstigheid, maar ook vir sy ongelooflike wreedheid teenoor slawe. Daar word vertel hoe hy elke oggend en elke aand op die dek van die skip gestaan het en gesange gesing het uit die Hollandse Gesangeboek. Hy het met oorgawe gesing, selfs bo die gedruis van die branders heen. Tog, onder die dek van die einste skip het dit beroerd gegaan. Dáár was die slawe aan die uiterste ellende onderwerp. Hulle was aan kettings geboei en het min kos en water gekry. Sou hulle siek word, is hulle lewend oorboord gegooi sodat hulle nie die ander moes aansteek nie. Hierdie seekaptein het vroom probeer lewe voor God, maar teenoor sy medemens het hy soos ’n monster gelewe.

    Om so te lewe is om van godsdiens ’n klug te maak. Die tweeledige liefdesgebod staan juis op twee bene, naamlik liefde tot God en liefde tot jou naaste. Die Here Jesus sê hulle is gelyk. Die een is nie belangriker as die ander een nie.

    Luther sê ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Het u gehoor: ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Daarom sê die Here Jesus dat ’n mens eers jou godsdienspleging moet onderbreek om te gaan regmaak met ’n ander een, voordat jy verder aanbid. Die Nagmaalsformulier sê selfs dat ’n mens jou van die Nagmaal moet weerhou as jy nog iets teen ’n ander een het. Wie sondig teen sy medemens, sondig ten diepste ook teenoor God.

    Hoor wat sê Mat 5: 22 – 24:  “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.”

    Die uiterste straf vir onenigheid en skeltaal, sê Jesus is om in die Gehenna te beland. So ernstig is die Here oor sondeskuld wat veroorsaak word deur onenigheid.

    Waar en wat is die Gehenna?  “Teen Jesus se tyd is die Ben-Hinnom-vallei tot “Gehenna” verkort. Gehenna het as die plaaslike stortingsterrein van Jerusalem gedien. Al die stad se afval en puin is daar verbrand. Tereggestelde misdadigers en onbegrawe liggame is dikwels in Gehenna gegooi, wat die kloof sy reputasie gegee het as die plek van die verdoemdes en die verlatenes. Die brande van die vallei het ’n stank geskep wat die hele gebied laat sleg ruik het. Diegene in die stad kon sy rook sien, en die besoedeling was ’n herinnering aan al die skande van die verlede. In Jesus se gedagtes was Gehenna ’n plek van ontrouheid, waar diegene wat geroep is om iets groots te wees, hulle rug op God gedraai het. By Gehenna het opstandige Hebreërs hulle kinders aan die vuur van Baäl geoffer. By Gehenna het buitelandse leërs duisende lyke opgestapel terwyl die oorlewende Israeliete in ballingskap gelei was.” (JF Cook)

    Om egter skuld te bely is ’n moeilike saak. Kinders sê gou dit is nie ek nie, dis hy. Toe Adam en Eva gesondig het en God by hulle navraag doen, sê Adam dis Eva en Eva gee weer vir die slang die skuld. So speel hulle vroteier. Niemand het die moed om hul skuld te bely nie.

    Daarom om jou skuld te kan bely, is ’n deug wat sorteer onder die deugde wat van ’n mens moed vra. Om skuld te kan bely is nie ’n teken van swakheid nie, maar ’n teken van sterkte en moed. Deur ’n mens se skuldbelydenis heen, werk God sodat dinge weer kan regkom in jou lewe. Om jou skuld te kan bely, is soos om ’n sweer oop te krap dat die kwaad kan uitkom. As die kwaad eers uitkom, word die wond gou genees.

    Koning Dawid het sy skuld bely en so het sy lewe weer reggekom, sodat hy die “man na aan die hart van God” geword het. Uit sy nageslag is die Messias gebore.

    Wanneer daar huweliksonmin is, of wantroue tussen mense, of konflik en haat, is dit soos ’n sweer. Daardie sweer sal daar bly totdat die skuld bely is. Die baie ongelukkigheid in huwelike, in families en in die gemeenskap wat oor jare gekom het, is te wyte aan skuld wat nog nie uitgepraat en bely is nie.

    Soos die seun wat op ’n Sondagmiddag sy pa se motor gestamp het. Hy kruip weg vir sy pa. Hy is skaam vir sy pa. Hy het nie die vrymoedigheid om sy pa in die oë te kyk nie. Toe hy egter sy skuld gaan bely, val die swaar las soos ’n klip van hom af. Hy voel so vry soos ’n voëltjie. Sy verhouding met sy pa kom weer reg.

    Daar is iets soos indiwiduele skuld, maar ook iets soos kollektiewe of groepskuld. Indiwiduele skuld is my persoonlike skuld teenoor ’n ander indiwidu. Kollektiewe skuld of groepskuld is skuld wat ’n groep, volk of gemeenskap teenoor ander mense het.

    Hulle vertel van ’n sekere hofsaak jare gelede in Duitsland toe ’n sekere man gevang is oor hy ’n brood gesteel het by ’n kafee. In die hof het hy toe aangevoer dat hy getroud is en drie kinders het. Hy soek al weke werk, maar niemand wil vir hom werk gee nie. Hy noem dan ook ’n hele rits plekke waar hy al werk gesoek het. Hy vertel hoe hy al gebedel het, maar almal jaag hom weg met ’n afjak. Hy vra vir die regter wat hy anders kon doen; hy het ’n vrou en drie kinders. Wat sê hy vir sy kinders en hoe kan hy hulle in die oë kyk? Hy het dit gedoen om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. Dit was nie gierigheid nie. Die regter het die man toe gevonnis vir drie dae gevangenskap of 10 Duitse Mark vir sy diefstal. In dieselfde uitspraak het die regter toe ook die gemeenskap van Bonn gevonnis tot 10 000 Duitse Mark. Sy uitspraak was dat die Duitsers in Bonn so indiwidualisties en kapitalisties was dat daar vir ’n werklose wat wou werk geen heenkome was nie. Elkeen was net met homself gemoeid.

    So moet die regering en die privaatsektor ook kyk daarna om meer werksgeleenthede te genereer. Die regering het die verantwoordelikheid om deur belastingverligting die privaatsektor aan te moedig om meer werksgeleenthede te skep. Werkskepping is die enigste werkbare model om armoede en misdaad te bestry. Die “Arm Blanke-vraagstuk” van na die Anglo-Boereoorlog en die groot Depressie is opgelos deur verbeeldingryke werkskeppingsprojekte van die regering en die NG Kerk. Die opbou van die Spoorweë het tienduisende mense van verarming gered. Mense wat wil werk, moet gehelp word. As die regering en die privaatsektor nie werk skep nie, is hulle skuldig aan die verval van die land. Die luies moet aan hulle eie ellende oorgelaat word.

    In die Ou Testament lees ons meer van die volk Israel se sondes as van indiwidue se sondes. Ons lees maar alte dikwels in die profete se geskrifte dat dit oor hierdie en daardie sonde is dat God vir Israel straf. Telkens moet die Here Israel se gewete oopskroei, sodat hulle kan besef met watter sonde hulle besig is. Telkens as die volk Israel hul sondes bely het en daarmee breek, dan lees ons hoe die Here die volk Israel red.

    Na die Tweede Wêreldoorlog het die Lutherse kerkleiers in Duitsland namens hul kerk en die Duitse volk skuld bely oor die wandade van die Duitsers teenoor die Jode. Dit is vervat in die Barmen-verklaring. Onlangs het een van die Engelse koninklikes tydens ’n kranslegging namens Engeland skuld bely vir Brittanje se aandeel aan die Anglo-Boereoorlog. In 1990 het Prof Willie Jonker namens die NG Kerk verskoning gemaak vir apartheid. Die beleidstuk “Kerk en samelewing” het in die plek van die gewraakte beleidstuk “Ras, volk en nasie” verskyn.

    U sien, om jou skuld te bely, is nie bedoel vir trotse mense of vir lafhartige mense nie. Nee, dit is bedoel vir nederige mense wat leeuemoed het. As beloning het dit die wonderlike ervaring dat jou skuld soos ’n swaar klip van jou wegrol. Jy word vry soos ’n voëltjie.

    As die Here Jesus sê dat ’n mens eers moet gaan regmaak met jou medemens voordat jy verder bid of kerk toe gaan of jou dankoffer gee, bedoel hy daarmee dat die skuld wat nog nie uitgepraat is nie, ’n hindernis is wat ’n mens se aanbidding belemmer. Soos wat die wolke die maan versluier, so kan skuld teenoor ’n medemens God vir my versluier. ’n Mens kan as’t ware sê dat sonde en ongehoorsaamheid “Godsverduistering” veroorsaak.

    Waar skuld bely word teenoor God, vind daar “Godsverheldering” plaas. Jy kan God beter en helderder sien. Skuldbelydenis is bevrydend. Jy sien die sonstrale van God se geregtigheid.

    AMEN

    (Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    BRONNELYS:

    Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

    Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.