Geen donkerte kan die Lig verdryf nie

Skriflesing: Joh 1: 1 – 14

Waar het die gebruik ontstaan om tydens Kersfees kerse te brand in die venster?

Die gebruik is baie algemeen in Amerika en ook ander lande van die wêreld. Die gebruik het in Ierland ontstaan. Die Protestantse Engelse het die Katolieke Kerk se gelowiges vervolg en hulle mag nie in hulle kerke aanbid nie. Die Ierse Katolieke gelowiges het dan oor die Kersgety brandende kerse in die vensters geplaas en die deure van hulle huise oopgelos. Hulle grootste verwagting was dat daar darem net een keer in hulle lewe, ’n priester in die nag uit die woude en bosse sou kom en aan hulle die Nagmaal (mis) bedien.

Aan die Engelse Protestante het hulle vertel hulle wag vir Josef en Maria om te kom. Daarom brand hulle kerse in die venster en hou die deur oop. Die Protestante het hulle dan gelos, want dit is volgens hulle onskuldig en slegs bygeloof.  

So het die gebruik van die Iere om kerse in die venters te sit en die deure oop te los, ’n gebruik geword wat oorgespoel het ook na Amerika.  (Roger Thompson)   

Daarom speel lig so ’n sentrale rol in die Kersgety. Johannes 1 begin sommer met die woorde dat die Lig gekom het.

Kom ons kyk na die Ligmetafoor:  

In die begin het God gesê: “Laat daar lig wees”. En daar was lig. Adam en Eva het fisiese en geestelike lig gehad. God het elke aand in die aandwind aan hulle verskyn. Toe kom die sondeval en ’n groot donkerte het oor die skepping neergedaal. Nie ’n fisiese donkerte nie, maar ’n geestelike en emosionele donkerte.

In die Nuwe Testament met Kersfees het die Here as’t ware weer gesê: “Laat daar Lig wees”. Christus is gebore as die Lig vir die wêreld. Hy het gekom om die duisternis, die geestelike duisternis, te verdryf.

JH Denison skryf dat naby die Noordpool die nag vir maande aanhou. Wanneer die mense verwag het dat die son moet opkom, het hulle boodskappers na die hoogste punte gestuur om die dagbreek aan te kondig. Wanneer die son sy verskyning maak, het hulle hard uitgeroep: “Aanskou die son!” Die wekroep is dan oor die hele land voortgedra: “Aanskou die son”. Dan het almal nuwe klere aangetrek om aan te toon dat dit uiteindelik dag geword het. Met die Christusfees het die Son van geregtigheid die duistere wêreld kom verlig. (In die woorde van JH Denison.)

Daarom is Joh 1: 1 – 14 die klassieke gedeelte wat Jesus in die Bybel voorhou as die Lig wat aan die kom was na die donker wêreld. Christus as Lig skyn in hierdie donker wêreld. Sedert Christus se koms het Sy lig die lig van miljoene gelowiges geword wat in Hom glo. Christus verlig die lewens van elkeen wat met sy sonde, hartseer en gebrokenheid na Hom toe vlug. Met een kers kan jy ’n oneindige hoeveelheid ander kerse aansteek. So het Christus die Ligbron van die wêreld geword.

Daarom gaan Kersfees oor kerse en lig. Dit beteken dat elkeen van ons ook ligdraers moet wees in hierdie donker wêreld. Ons kerslig moet aansteeklik wees vir ander wat nog in die duisternis lewe. Daarom het Jesus ook gesê dat ’n lig wat op ’n berg is, nie weggesteek kan word nie. Maar ’n lig onder ’n maatemmer is nutteloos.

Die vraag kan gevra word: Waarom is Jesus die Lig van die wêreld, maar daar is soveel donkerte in mense se lewens? Waarom is die wêreld nog in duisternis? Daar is soveel misdaad en armoede in hierdie wêreld. Dink aan die onnodige oorlog wat Rusland, onder leiding van Poetin, teen die Oekraine voer. Dan is daar die bloedige en hoë, intense oorlog in Gasa. Hamas het ’n bloedbad veroorsaak teen Israel. Nou is dit ’n oorlog tussen die Jode en die Palestyne. Waarom soveel lyding in die wêreld? Johan Cilliers beantwoord dit mooi met ’n verduideliking: Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ’n toneel uit die Eerste Wêreldoorlog. Groot dele van Europa is deur vyandelike magte beset. Soldate was die strate vol en vrouens en kinders het vir die soldate gevlug. Toe kom die berig dat die hoofleërs van die vyand beslissend verslaan is by die Mamreveldslag. Dit was net ’n kwessie van tyd, dan sou die vyandelike magte moes terugtrek. Vier jaar later was die soldate steeds in die dorpies. Maar alles was nou anders. Dit was ’n tyd van opruiming, ’n kwessie van tyd. Mense kon weer met hoop lewe.

Met Christus se koms was dit net so. Jesus se koms het alles verander, maar tog het almal nie verander nie, skryf Johan Cilliers. Die Herodusse is nog daar en die kindermoorde het nie opgehou nie. Soldate marsjeer steeds voort op die oorlogsfronte en mense steek mekaar nog steeds in die rug. Geweldsmisdade en menslike ellende duur voort.

Maar die Kindjie wat gebore is, is reeds deur die heidene wat van ver gekom het, as Koning vereer. Dit is nou die tyd van opruiming van Satan se invloed en ’n kwessie van tyd. Fil 2: 10 – 11 sê daar kom ’n tyd wat elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is Here.

Hoor wat sê Openbaring 21: 23 – 25: “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie”.

Daarom ontwikkel die lig-metafoor dwarsdeur die Bybel in vier fases:

  1. In Gen 1: God het lig geskep (bedoelende die son)
  2. In Gen 3: Die mensdom val in ’n geestelike duisternis en donkerte as gevolg van die sonde.
  3. In Joh 1: Christus Jesus is die Lig vir ’n donker wêreld.
  4. In Openb 21: 23 – 25: Daar sal geen son en geen donkerte meer wees nie, want Christus is die Lam, wat die lamp is.

As jy verskoning maak oor jy nie ’n verskil in die lewe kan maak nie, dink anders daaroor. As jy jou kers laat brand, is daar nie genoeg donkerte om dit uit te doof nie. Elke gelowige wat ’n brandende kers is, behaal ’n geweldige oorwinning oor die duisternis.

Ons kan nie ’n pad hemel toe (boontoe) maak nie. Met Kersfees het God ’n pad (ondertoe) na ons gemaak. Dit het gebeur op Kersfees. Die Ligdraer het na ons gekom, om ons ook aan te steek om lig vir die wêreld te wees.

Laat jou liggie skyn in hierdie donker wêreld.                          

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Jesus het in die kairos (volmaakte) tyd gekom

Skriflesing: Gal 4: 4 – 7

Die geboorte van Jesus was presies op die volmaakte tyd, soos voorspel is. Jesus Christus het op ’n kairos-moment die geskiedenis betree as die Seun van God. Hierdie datum is presies deur die profete voorspel. 

Kom ons kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde: chronos en kairos. Chronos is “horlosietyd”, 24 ure in ’n dag, 60 minute in ’n uur en 60 sekondes in ’n minuut. Ons gebruik chronos-tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. Kairos-tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ’n foto op presies die regte oomblik geneem word.

Die meegaande foto was ’n tyd gelede sensasionele nuus aangesien ’n interessante verskynsel uiteindelik op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon die spesifieke oomblik verewig word.

Dit is ’n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123 km/h by standaard-atmosferiese toestande. So ’n aksie veroorsaak ’n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël nog onsigbaar bly. In hierdie kairos-geval was die weerstoestande op daardie oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte tydstip op die regte plek.

Kairos-tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Dit is wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar kom. Dit kan natuurlik ’n goeie of ’n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.

Aristoteles, ’n antieke Griekse filosoof sê dat kairos die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê kairos-oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God Homself helder en duidelik openbaar.

So was die tye en omstandighede vir die geboorte van Jesus Christus ook perfek. Daarom, toe die wyse manne by koning Herodus kom en navraag doen oor die Messias (die Koning) wat gebore is, het Herodus by die Joodse geleerdes navraag gedoen en is dit inderdaad bevestig dat die Messias gebore is.

Die tyd was perfek. In Gal 4: 4a staan daar: “Maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou …”

Eerstens het die Romeine feitlik oor die hele bekende wêreld regeer. Al was die Romeine ’n wrede nasie, was daar met die geboorte en tydens die eerste eeu na Christus ’n redelike mate van wêreldvrede. Daar is gepraat van die sogenaamde PAX ROMANA, wat beteken het daar was vrede in die Romeinse Ryk. Dit het tot gevolg gehad dat die Evangelie van Jesus Christus maklik versprei kon word in die destydse bekende wêreld.

Ook kultureel was dit die regte tyd. Grieks was toe een van die wêreldtale en oral bekend in die Romeinse Ryk. Daarom is die Bybel ook in Grieks geskryf, sodat dit alle mense kon bereik in die Romeinse Ryk.

Ook het die Romeine dwarsdeur die Romeinse wêreld effektiewe paaie gebou, wat reis baie maklik gemaak het. Die apostels kon maklik van een plek na ’n ander plek beweeg, as gevolg van die nuutste padnetwerk in die Romeinse Ryk. Ook dit het die bevordering van die Evangelie vergemaklik.

As gevolg van verskeie Joodse ballingskappe was daar duisende Jode oor die destydse wêreld versprei. Hulle het almal die boodskap gedra van die verwagte Messias wat sou kom. Daarom het duisende nie-Jode ook daarvan kennis geneem en was die wêreld gereed om die Messias te ontmoet.

Daar was ook onder die ander gelowe ’n teleurstelling in hulle gode. So het die Grieke die berg Olympus bestyg en teleurgesteld ontdek daar was geen gode nie. Daarom was baie ontvanklik vir die Christelike geloof.

Die Christengelowiges van die eerste eeu het sterk op hulle geloof gestaan en baie het ’n marteldood gesterf vir Christus. So het die bloed van die martelare die saad van die Evangelie geword, deurdat Christene gevlug het en oral waar hulle gekom het, die Evangelie verkondig het.

God beplan eers voor Hy oorgaan tot aksie. Daarom het God die koms van Sy Seun op Kersdag op die volmaakte tyd en plek beplan.

So maak God ook in die perfekte tyd mense se harte oop om volgelinge van Hom te word. Dit noem ons die bekering of die wedergeboorte. God bewerk dit in mense se harte op Sy tyd en manier. Dit kan kom deur ’n preek, deur ’n getuienis van iemand, deur ’n gebeurtenis in ons lewe of deur die perfekte sameloop van omstandighede. So raak God ook die gelowiges aan om hulle in hulle geloof te versterk.

Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon dat ons Jesus dikwels sal vind werk op ’n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord kairos (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.

Soos daar in die eerste eeu die verwagting was van die komende Messias, leef daar in ons ’n nuwe verwagting, naamlik die wederkoms van Jesus Christus.

’n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die kairos-moment, die volmaakte tydstip, kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die chronos. God werk in die kairos. Daarom verstaan ons God nie aldag so reg nie.

Ons lewe tussen die Bethlehemster en die Wederkomswolk. Albei vind plaas in die kairos-tyd, wanneer alles perfek saamloop volgens God se wil.

In die eerste eeu het die mense uitgesien na die koms van die Messias. Dit vier ons Maandag met Kersfees, maar ons het ’n ander “uitsien” naamlik na die wederkoms van die Here. Daarom het ons ’n lewende verwagting vir die toekoms, wanneer Christus weer kom op die wolke van die hemel. God werk in kairos-tyd.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson . Michael L Thompson. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

God word ‘n werklikheid, wanneer Hy ‘n noodsaaklikheid word

Skriflesing: Psalm 23: 1 – 6

Psalm 23 is ’n roep tot God in ’n tyd van nood. Wanneer ’n geliefde sterf en ons hart groot verdriet ervaar, is dit reg om na God te gaan om hulp. Hierdie Psalm 23 word deur baie genoem die pêrel van die Psalms. Mag die pêrel in die Psalmboek julle vandag vertroos met Karin se dood.

Die fokus van die Psalm gaan nie oor die Psalmis wat in nood verkeer nie, maar val eerder op die karakter van God. Die karakter van God word besing in tye van nood. Die Here is my Herder. Wat doen herders in die tyd van die Bybel? Hulle het die skape opgepas teen rowers en ongediertes en die skape gelei na waar kos en drinkwater is.

Tussen die Herder en die skape is daar ’n intieme verhouding. Is Psalm 23 kom die woorde “ek” en “my” altesaam sewentien keer voor. Die woorde “Hy”, “Sy” en “U” kom altesaam tien keer voor. Dit alles net in ses kort verse. Daarom is Psalm 23 ’n baie persoonlike Psalm, wat persoonlik beleef moet word. Dit is vir ons elkeen ’n persoonlike troos.

Die goeie Herder laat ons die volheid van die lewe beleef. In Hom is ons ten volle versorg. Hy laat my eerstens ten volle die rus beleef, deur my na groen weivelde van rus te bring. Hy gee my ten volle die verkwikking, deur my te lei na water waar daar vrede is. Hy verkwik my ten volle met nuwe lewenskrag. Die goeie Herder lei my ook ten volle op die regte pad. Skape het geen ingeboude sin vir rigting nie. Hulle is ten volle afhanklik van die herder wat hulle lei. So lei die goeie Herder ons op die regte pad.

Vers vier handel oor die Here wat ons lei deur die vrese en angste van die lewe. Het ons nie genoeg vrese en angste deur ons lewe nie? Hierdie vers het ook die laaste angs van die lewe in die oog, naamlik die Dood. Maar dan beskryf Dawid dat die Here Sy stok en staf gebruik om ons te help. Met die staf lei Hy ons en kan Hy ’n afgedwaalde skaap met die haak van die staf nader trek. Met die stok jaag die Herder al die vyande weg. Dit was soos ’n knuppel met een swaar kant en versterk met spykers. So kom loop die Here saam met ons as ons in gevaar verkeer.
Let op hoe die grammatika verander in die gedeelte. Die Psalmdigter praat aanvanklik van God in die derde persoon, maar van vers 4 – 6 praat hy in die tweede persoon. Nou, in die donker kloof, draai die psalmdigter om en praat met God in die tweede persoon. God word ’n werklikheid wanneer hy ’n noodsaaklikheid word. Die donker kloof maak God vir ons meer werklik as ooit tevore.

Ron Mehl het baie jare kanker gehad. Met hierdie ervaring het hy baie geleer oor die lewe en oor God en hy skryf: “Shadows can cause us no harm; the shadow of a bear can’t bite you, the shadow of a lion can’t defeat you, the shadow of a giant can’t intimidate you, the shadow of death can’t conquer you.”

So het die skaduwee van kanker nie vir Karin oorweldig nie. Sy beleef nie die ewige dood nie. Jesus se dood het haar dood kom doodmaak.

Klein seuntjies doen soms die vreemdste goed vir opwinding. Om die eentonigheid van hul jong lewens te breek, het twee klein seuntjies langs die treinspoor gaan lê om die spoorvibrasies van die aankomende trein te voel, asook om sy donderende geluid te hoor. Nadat dit verby is en slegs die skaduwee van die trein oor hulle gegaan het, was hulle veilig en geen skade is hulle aangedoen nie, selfs in hierdie oënskynlik benarde posisie.

Net so, wanneer ons deur die “vallei van die skaduwee” gaan, ervaar ons net die “skaduwee”.

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewend wees as nou. Ek sal hemel toe gaan, dit is al – uit hierdie ou kleihut na ’n huis wat onsterflik is; ’n liggaam wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie, ’n liggaam wat gevorm is soos Sy glorieryke liggaam. Wat uit die vlees gebore is, kan sterwe. Wat uit die Gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

In die middel van die skaduwee van die dood, het die Here ’n feesmaal kom voorberei. Die Here verlang dat ons by Hom moet wees. Vir ons is die dood afskeid, maar vir die Here beteken dit ontvangs. In die Oosterse kultuur beteken gasvryheid ook beskerming.

Daarom is die Here bly om Karin te ontvang, omdat sy nou ontslae is van siekte en kanker. Sy is nou uiteindelik vry van kanker.

In vers 5 is daar geskryf: “U verfris my kop met olie.” Hierdie olie beteken genesende krag. So sal die Here Jesus ook vir elkeen van julle wat agtergebly het, seën met Sy olie van genesing, om die stukkende en treurende harte en emosies te genees.

Daarom is dit ’n wonderlike troos om te weet ons het ’n ewige Herder wat ons lei en bewaar en ons met ons dood ontvang om tuis te wees in die huis van die Here.
’n Boer het sy seuntjie op ’n besoek aan ’n verafgeleë dorpie geneem. Langs die pad kom hulle by ’n sterk stroompie wat deur ’n wankelrige ou brug oorspan is, wat die seuntjie bang gemaak het, al was dit daglig. Toe hy teen skemer terugkeer, het die seun die stroompie en die ou brug onthou en paniekerig geraak. Hoe sou hulle met daardie wankelende brug daardie onstuimige stroom in die donker oorsteek? Die pa het sy angs opgemerk, die seun opgetel en hom in sy arms gedra. Voordat hulle by die brug kom, was hy vas aan die slaap teen sy pa se skouer. Terwyl die volgende oggend se son by sy slaapkamervenster ingestroom het, het die seun wakker geword en ontdek hy is veilig by die huis. By die dood raak die gelowige aan die slaap in die Verlosser se arms om wakker te word in Sy helder land van geen nag en geen vrees nie.

Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om weer na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte skulpe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke gekry en weggevlieg.” So is dit ook met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke ontvang het en weggevlieg het na die hemel.
In ons diepste hartseer word God ’n absolute werklikheid. Ons diepste troos in die wrede werklikheid van die dood is dat Jesus opgestaan het uit die dood en dat ons in Sy opstanding Hom sal volg. Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:
Henry, Jim. A Minister’s Treasury of Funeral and Memorial Messages. B&H Publishing Group. Kindle Edition.

Bible Illustrations. AMG Internasional, Inc

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Wat beteken: Die Woord het vlees geword?

Skriflesing: Johannes 1: 1 – 14

Die woord יהוה (Jahweh) beteken “Here” en het vier konsonante.

In die Joodse Ou Testamentiese geloof het die mense nooit die woord Jahweh gebruik nie. Dit was omdat hulle te bang is om die Here by die naam te noem. Daarom het hulle liewer van die “vierletter-woord” of van die “Woord” gepraat, om nie die Here se naam direk te gebruik nie.

Wanneer gepraat word in vers 14 van “Die Woord het vlees geword”, beteken dit eintlik: “Die Here het vlees geword.” In die teologie praat ons van die inkarnasie. Dit beteken dat die Here Jesus wat 100% God is, gekom het om ook 100% mens te wees. Inkarnasie beteken, met ander woorde, die menswording van Jesus Christus. Dit is natuurlik ’n moeilike begrip om te verstaan.

Daar is ’n oorgelewerde storie wat vertel word, wat so lui: ’n Egpaar het op ’n klein plattelandse dorpie gebly. Die vrou was ’n toegewyde Christen en kerkmens. Haar man was egter ’n ateïs, wat niks glo dat God kom mens word het nie. Elke Kersfees het dit in die dorpie gesneeu. Die gebruik was ook dat al die gelowiges van die dorpie op Oukersaand ’n erediens gehad het. Die betrokke Oukersaand het die vrou soos sy gewoond was, kerk toe gegaan. Dit het swaar gesneeu. Haar man het egter agtergebly en televisie gekyk. Toe hy by die venster uitkyk, sien hy ’n swerm voëls wat yskoud op die grond en in die takke van ’n boom sit. Hy het hulle jammer gekry. Hy gaan toe uit en maak die skuur se deure oop. Dit is heerlik beskut. Hy roep die voëltjies en hy beduie vir hulle. Maar hulle wil nie invlieg na die warmte van die skuur nie. Toe wens hy dat hy net ’n kort rukkie soos een van hulle kon word, met vlerkies en vere en so klein soos hulle. Dan kon hy met hulle kommunikeer en vooruit vlieg na die skuur en al die voëltjies sou hom volg. Toe skielik verstaan hy die geboorte van Christus. Die Here Jesus het mens geword, sodat elkeen van ons gered kan word om in die hemelse skuur in te gaan. Hy het net daar op sy knieë geval en ’n gelowige kind van die Here Jesus geword.

Die Here Jesus Christus (die Woord) moes vlees (mens) word om ons te red. Die inkarnasie van Jesus word onder andere deeglik geformuleer in die Belydenis van Athanasius, dat die Here Jesus bestaan het as God en mens. Besef u die wonder van dit alles?

Hoe wonderlik dat God van Sy hemelse troon geklim het en een van ons mense geword het. Van al die godsdienste van die wêreld is die Christelike geloof die enigste wat die geloof het dat die Godheid afgekom het en die vorm van die mens aangeneem het. Die Christelike geloof is ook die enigste geloof wat bely dat die Godheid in Jesus Christus gesterf het vir die sonde van die wêreld.

Daarom staan daar in vers 18 dat Jesus die unieke Seun van God is, wat ’n unieke taak gehad het om die wêreld te red.

Daar is ’n beroemde skildery wat hang in een van die paleise in Rome, Italië. Die skildery word genoem “The Aurora”. Die skildery is teen die dak van die paleis. Dit is amper onmoontlik om die skildery te bewonder, want jy kan nie so lank opkyk nie en jou nek word styf.

Die eienaar het toe ’n groot spieël reg onder die skildery geplaas. Nou kan jy rustig gaan sit en die skildery bewonder deur die spieël. So is Christus ook die Spieël waardeur ons die Vader kan sien.

Daar is ook die storie van die pa wat elke aand vir sy dogtertjie ’n storie gelees het voor slapenstyd. Dan het sy op haar pa se skoot gesit. Elke aand wou die dogtertjie dieselfde storie, herhaaldelik oor en oor, hoor. Later het die pa moeg geword om die storie oor en oor te vertel. Hy het die storie op ’n bandmasjien geplaas. Na drie aande kom die dogtertjie huilend by haar pa aan. Sy wil weer dat haar pa vir haar die storie lees. Hy sê toe vir haar maar sy het mos die storie op die bandmasjien. Sy antwoord toe dat sy nie op die bandmasjien se skoot kan sit nie. Netso het die Here nie net vir ons die Skrif gegee nie, Hy het afgekom na die mensdom, sodat die mensdom op Sy skoot kan sit. Daarom is Jesus Christus se menswording met Kersfees so ’n wonderlike gebeurtenis.

Joh 1: 14 begin: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon ….” Die woorde “en onder ons kom woon” beteken letterlik dat die Here Jesus “getabernakel” het in hierdie wêreld vir 33 jaar, net soos wat God by Sy volk in die woestyn vertoef het en Sy tabernakel laat opslaan het, as simbool van Sy teenwoordigheid. Die tabernakel was tydelik – so was Jesus se geboorte en lewe ook tydelik op hierdie aarde. Na Sy sterwe en hemelvaart het Hy die permanente tempel geword wat onder ons woon.

In ons teksgedeelte lees ons dat Jesus wat vlees geword het, lig gebring het vir die wêreld. Die donkerte van die wêreld kan nie hierdie Lig uitdoof nie. Hoe donkerder, hoe meer helder skyn die Lig. Jesus se vleeswording het al oor meer as 2000 jaar vir die mensdom lig gebring. Daarom word Kersfees met liggies gevier. Lig vir gebroke en sondige mense, lig vir huwelike, lig vir gesinne en families, lig in moeilike omstandighede, lig vir die siekes en bedroefdes en so kan ons voortgaan. Jesus wil ook jou Lig wees vir 2024.

Daarom moet ons ook in 2024 vir ander mense lig wees. Ons moet Christus beliggaam (embody) en Christ-like dissipels wees. “Thus the daring goal of the Christian life could be summarized as our being formed, conformed, and transformed into the image of Jesus Christ.” ( Richard J. Foster) Soos die vleeslike Jesus Christus opgetree het, moet ons ook optree in hierdie wêreld. Ons moet met liefde, ontferming, meegevoel, empatie en deernis ’n verskil kom maak in hierdie wêreld.

Jesus het kom mens word in die wêreld, sodat ons ook menslik kan optree teenoor mekaar en die vreemdeling op ons pad. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:
Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson. Michael L Thompson. Kindle Edition.

Leininger, David . The 2,000 Year-Old Preacher: Cycle B Sermons for Advent, Christmas, and Epiphany Based on the Gospel Texts. CSS Publishing. Kindle Edition.

https://renovare.org/articles/becoming-like-christ

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Kersfees is nie ‘n feëverhaal nie, maar vind in harde realiteite plaas

Skriflesing: Luk 2: 1 – 7

Ons maak van die Kersboodskap ’n feëverhaal. Aan die einde van die jaar wil ons weggevoer word na ’n romantiese aand, lank gelede in Palestina.

Ons romantiseer die stal, dra die kruis as ornament, sing Maria-wiegeliedere en voer die geboorte op met vrolike, stralende kinders. Ons droom van Sinterklaas en sy sleë, van takbokke, van geskenke en kersbome, van Kersetes en die heerlikste kerspoeding daarna.

Ja gemeente, ons raak bedwelm deur die Kersfeesgees, ten einde ’n bietjie te kan vergeet van die harde werklikhede van elke dag. Aan die einde van elke jaar wil ons ’n bietjie wegvlug van alles. Ons wil wegvlug van die stryd van elke dag en daarom soek ons troos in die romantiese Kersfeesstemming.

So vlug ons as’t ware van hierdie harde feite van die lewe, om iets van die feëwêreld van Kersfees te ervaar.  Maar geliefdes, ’n feëverhaal bied slegs tydelike ontvlugting omdat dit nie rekening hou met die werklikheid nie. ’n Feëverhaal verander niks aan die harde feite van die lewe nie.

Daarom is die troos van die kersboodskap dat dit geen feëverhaal is nie, maar plaasvind in ’n harde realiteit. Ons gaan eerstens kyk hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van die wêreld en tweedens, hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van my persoonlike lewe.  

Eerstens realiseer Kersfees in die harde realiteit van die wêreld. Die Kersverhaal begin nie soos die meeste feëverhale met “Eendag, lank gelede was daar ’n …” nie.

Nee, dit begin met harde werklikheid. Dit begin met: “In daardie tyd het Keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig …”

Die eerste Kersfees het plaasgevind in die naakte werklikheid van politieke oorheersing, magstryde, bloed, broedertwis en ellende.

Wanneer Lukas in sy Evangelie die name Augustus en Sirenius gebruik, wil hy eintlik vir ons sê dat Jesus Christus gekom het in die harde politieke werklikhede van Sy dag.

Kom ons kyk hoe het Palestina met die geboorte van Jesus daar uitgesien. Palestina, en daarmee saam die hele Joodse volk, was onderwerp aan die Romeinse oorheersing. Vir die Jood was dit ’n groot belediging om onder ’n Romein te staan. Daarom was politieke opstande ook nie in hierdie tyd iets vreemds nie.

Ook onder die Joodse volk self het mense sekere groeperinge gevind. Ja, in hierdie tyd het broer ook teen broer die stryd aangesê.

Keiser Augustus het wel ’n sogenaamde wêreldvrede daargestel, die sogenaamde PAX ROMANA, maar dit was ook maar ’n gespanne vrede. Dit was ’n kunsmatige vrede.

Daarby was die Jood se ekonomiese situasie nie veel beter as ’n gemiddelde Derde Wêreld-land vandag nie. Armoede, droogtes en ekonomiese resessies was iets algemeens. Ek kan my indink dat die Joodse ouers ook maar diep bekommerd was oor wat van hulle kinders sou word.

As daar in daardie tyd televisie was, sou die agtuur-nuus seker maar ook gelaai gewees het met politieke, ekonomiese en maatskaplike probleme.

Binne hierdie harde werklikheid het Christus gekom, met die eerste Kersnag. Ons sing graag: “Stille nag, heilige nag …” Eintlik moet ons sing: “Ontstuimige nag, onheilige nag …”

Want sien, geliefdes, die Kersverhaal is geen feëverhaal nie, maar die kersgebeure speel af in die harde werklikheid van elke dag.

Christus het as’t ware die lig kom word wat moet skyn, ook binne die donker gemoed van die Jood en uiteindelik alle volke van die wêreld. God het kom bemoeienis maak met die Jode en uiteindelik alle volke van die wêreld wat vasgevang was in die harde probleme van hulle tyd.

Maar juis dit, liewe gemeente, is ons groot troos. Met Kersfees 2023 wil God binne-in die harde feite van ons wêreld kom staan. Hy wil kom staan binne-in die harde werklikhede van ons wêreld:

  • Die bloedige oorlog tussen Israel en Hamas (Palestyne)
  • Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne
  • Die magstryd tussen nasies en volkere
  • Die rassestryd oral in die wêreld
  • Die terreur en geweld in ons gemeenskappe
  • Die armoede van die wêreld

Kersfees is dus geen feëverhaal nie, dit is God se nuus, Sy agtuur-nuus vir hierdie wêreld. Met Christus se koms het Christus binne-in hierdie harde feite kom staan.

Daarom is Christus Jesus met Kersfees 2023 nog net so aktueel soos tydens die eerste Kersnag.

Daarom wil God van stukkende mense in ’n ou wêreld, vol menslike mislukkings, nuwe mense maak in ’n nuwe wêreld, vol nuwe moontlikhede.

Daar bestaan vir hierdie wêreld slegs maar een laaste uitweg, een laaste loopgraaf en dit is Jesus Christus. Jesus Christus is die laaste loopgraaf, die laaste moontlikheid vir ’n mal wêreld.

Die wêreld produseer baie maniere om te kan ontvlug uit die harde werklikhede van elke dag en die mensdom toets elke moontlikheid uit. Maar Christene is mense wat kan instap in die harde werklikhede van elke dag, omdat hul Heer afgedaal het in die harde werklikheid van die wêreld.

Daarom is Christene nie vlugtelinge van die harde werklikheid nie. Nee, hulle is frontvegters wat vir Christus Jesus ’n slag wil slaan op die front van hierdie wêreld, omdat hulle Here alreeds die grootste slag vir hulle geslaan het.

Daarom wil Kersfees 2023 vir jou sê – gaan trotseer die harde werklikhede van 2024, want met die eerste Kersnag het Christus Jesus die harde werklikheid van hierdie wêreld getrotseer.

Tweedens kyk ons hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van ons elkeen se persoonlike lewe. Verse 4 – 7 beskryf die persoonlike lewe van Josef en Maria. Hulle was twee jongmense wat binne die ontstuimige wêreld van daardie tyd, as pasgetroudes, die werklikheid van die lewe moes trotseer.

Die familie en gemeenskap het seer sekerlik vrae gevra – verwyte geslinger oor die kind wat buite die huwelik verwek is.

Dan, toe Maria op die punt was om haar eersteling in die wêreld te bring, moes hulle op reis gaan, want die harde wêreld buite die gesin dwing hulle deur ’n volkstelling daartoe. Hulle moes Bethlehem toe stap, met Maria op ’n donkie. Dit moes swaar gewees het vir haar.

Die kraamsaal is ’n stal – harde werklikheid! Want die dorp is vol mense, daarom sukkel Josef en Maria en moes hulle uiteindelik tevrede wees om in ’n stal ’n ruimte te skep vir liefde. (’n Klein stukkie tuiste in ’n harde wêreld.)

Maria het dan ook skaars herstel toe hulle vir Herodus moes vlug, en moes hulle politieke vlugtelinge word in Egipte om die Kindjie se lewe te spaar.

Honderde seuntjies word vermoor in Betlehem en Rama, op bevel van koning Herodus. ’n Ongekende hartseer tref die ouers van Rama.

Geliefdes, elke dag ervaar ons as gesinne hoe ons persoonlike lewe bedreig word. Daardie klein wêreldjie van geliefdes rondom my – aan wie ek emosioneel gebonde is – word elke dag bedreig.

Somtyds ervaar ons die haat en oorlog en eensaamheid van die groot wêreld ook hier binne-in my klein persoonlike wêreldjie.

Die harde werklikheid is my huwelikslewe, kinders grootmaak, siekte en gebreke en die roetine van elke dag. Daar is ook die eensaamheid in die bejaarde en weduwee / wewenaar of enkellopendes se lewe.  Die probleme wat gereeld oor ons kom, voel party dae of dit ’n mens wil oorweldig.

Maar geliefdes, nou is die troos van verse 4 – 7 dat Jesus Christus juis gekom het binne-in die harde werklikheid van ons persoonlike lewe. So baie mense vlug vandag van hulle persoonlike lewe, in plaas dat hulle vlug na Christus Jesus en met Christus Jesus die harde werklikheid van hulle persoonlike lewe instap.

Want Christus het juis mens geword binne die harde werklikheid van ’n gewone Joodse gesin. As alles vir jou te veel word, weet dan Jesus het in sulke omstandighede soos joune, kom mens word.

Hy het grootgeword in dieselfde ou wêreld, met dieselfde probleme. Hy het gesterf aan ’n kruis, en is begrawe. Maar Hy het opgestaan uit die dood.

Met Sy opstanding het Christus die harde werklikheid van hierdie wêreld en van my persoonlike lewe kom oorwin.

Nou is dit moontlik dat die hemel in die harde realiteite van elke dag kan waar word:

  • Hemel in die wêreld
  • Hemel in my persoonlike lewe

Maar dan mag ons nie hierdie wêreld ontvlug nie. Nee, ons moet dit instap en ’n stukkie hemel skep. U sien dus die Evangelie speel nie in ’n droomwêreld af nie, maar in hierdie wêreld met sy harde werklikhede.

Daarom mag God nooit vir ons ’n storieboekgod word, van wie ons graag hoor, maar wat nie werklik in ons lewens betrokke is nie.

Daarom kan ons 2024 binnestap, met al sy harde werklikhede, want ons God is betrokke in ons lewens.

Hy wil van stukkende mense in ’n ou wêreld, vol mislukkings,  nuwe mense maak in ’n nuwe wêreld, vol nuwe moontlikhede. Gelukkig is hierdie Evangelie geen feëverhaal nie, maar ’n Evangelie wat tred hou met die harde werklikheid van hierdie wêreld en van my persoonlike lewe. Dit is my allergrootste troos.                         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om met dapperheid die dood te trotseer

Skriflesing: 2 Samuel 12: 16 – 23

Oom Jakkie le Roux het met dapperheid die dood trotseer. Hy het lewerkanker gehad, waarvoor daar nie werklik genesing is nie. Toe hy by die dokter hoor dat sy liggaam binnekort gaan beswyk en sterwe, het hy dit met sy familie gedeel en spesiaal oorgestap na my om dit vir my ook te vertel. Ek en hy was diep bewus  van sy lewe wat binnekort beëindig gaan word deur die siekte. Daar was geen hoop van behandeling of chemoterapie of medisyne wat hom kon genees nie. Daar was geen hoop dat hy miskien gesond sou word nie.  Al wat seker was, was dat die dood binnekort gaan intree.      

Ek het onmiddellik by myself gewonder hoe ek sal reageer. Ek het min woorde vir Oom Jakkie gehad, behalwe om vir hom te bid. Oom Jakkie was letterlik soos ’n soldaat wat die gevegsone betree en geweet het, hier gaan ek sterf. Hy het geen uitkomkans gehad nie. Hy het die dood in die oë gekyk.

Maar hy was ’n dapper soldaat. Hy het nie teruggedeins vir die dood nie. Hy het nie in selfbejammering of in opstandigheid verval nie. Hy het aangegaan met sy roetine. Elke dag het hy nog voldag gewerk in sy werkkamer en houtwerk vir mense gedoen. Hy het selfs nog vir die kerkkantoor ook gratis skrynwerk kom doen. Na werk het hy en Rienie die aande saam deurgebring en het hy nog die Wêreldbeker Rugby se wedstryde ook gekyk. Ek was verstom hoe grasieus hy sy dood aanvaar het. Hy het in sy roetine gebly. Hy het nie op ’n hopie gaan sit nie. Hy was dapper tot die einde.

In sy laaste dae was hy baie swak. Maar hy het sy volle samewerking gegee vir Rienie en Jacques wat hom versorg het. Hy was ’n maklike pasiënt. Op die einde het hy net gesmeek dat die Here hom moet kom haal. Dr Haggis Black het hom bygestaan in die laaste dae. Hy het waardig, rustig en eervol gesterf. Hy was ’n dapper soldaat wat eerbaar gesterf het. Ons salueer hom daarvoor.

’n Mens kan so dapper sterf as jou saak met die Here reg is. Oom Jakkie was ’n opregte kind van die Here en een van ons gemeente se getrouste kerkgangers. Hy het in geloof gesterf. Hy het gesterf in die teenwoordigheid van die Here en van sy geliefde vrou Rienie.

In ons gelese gedeelte lees ons van Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

Maar dan staan daar in 2 Samuel 12: 19 – 23 die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moet aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van Dawid was verstom oor die optrede van Dawid.

Soos Prediker ook predik: dat daar ’n tyd vir alles is. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Jakkie aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die sak van die kis, saam in die graf geklouter het, want hulle kan nie met dapperheid die dood hanteer nie, want vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Ps 23:4 in die 1953 vertaling is nie ’n maklik plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water ook van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. As Dawid as jong seun die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang wat in die dal vir hom voorlê. Dit is soos doodskaduwees.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Wat het ek geleer  in Jakkie le Roux se sterwensproses? As jy swaar kry, bly in jou roetine. Moenie gaan lê nie. Lewe nog elke dag voluit – tot die einde. Wees elke dag dapper. Fritz Grobbelaar het my vertel toe hy twee jaar in Antarktika was, was dit ses maande bykans net dag en ses maande bykans net nag. As jy nie in jou roetine bly nie en volgens die horlosie opstaan en gaan slaap nie, gaan jy dit nie maak in Antarktika nie. Jy móét in ’n roetine bly.

So moet jy ook in jou swaarkry in ’n roetine bly. Ook in jou geestelike dissiplines moet jy in ’n roetine bly. Bid gereeld en bly standvastig in jou geloof. Wanneer ek by Oom Jakkie besoek gebring het en hy al baie swak was en ek vir hom ’n gebed gedoen het, het hy my hand ekstra styf vasgehou. Op die einde het hy na die Here geroep en die Here het hom gehoor en saggies weggeneem om by Hom te wees.

Ek respekteer die dapper en waardige manier waarop Jakkie sy laaste weke deurgebring het. Hy was dapper tot die einde.

Almal is bang vir die dood. Dood is ons grootste vyand. Maar in Christus word die dood ons vriend. Dit verlos ons van aardse sorge, bekommernisse, siekte, lyding en swaarkry. Daarom het ons ’n wederkomsverwagting, dat die dood die deur is na die ewige lewe, waar ons in ’n totale toestand van vrede sal wees.

Die Here sal ons die krag gee om hierdie grootste vyand, die dood, te verslaan.

Ons eer die lewe van broer Jakkie le Roux. Hy was dapper in sy dood. Ons wat agterbly, en veral sy familie, moet nou dapper wees om sy dood te aanvaar en verder sinvol met ons lewens aan te gaan. Jakkie le Roux kan nie terugkom na ons nie, maar ons gaan eendag na hom. 

Jakkie le Roux sal altyd deel wees van ons kosbare herinneringe.  Ons eer sy nagedagtenis.             Amen  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie die hasepad kies nie

Skriflesing: Eksodus 3: 1 –  4: 18

Het u al agter ’n troetelhaas aangehardloop? Hoe harder jy agter hom aanhardloop, hoe harder hardloop hy vir jou weg, want hy dink dat die mens hom wil seermaak. Eers as ’n mens hom gevang het en teen jou vasdruk, ontdek die haas dat hy oorweldig word deur liefde.

Toe ek ’n kind was, het my ouers vir ons kinders hase gekoop by die jaarlikse Bloemfontein Skou. Die hase se pels was van verskillende kleure en ons kinders was so opgewonde oor die hase. As hulle uit die hok kom, dan moes jy al agter die hase aan hardloop om hulle te vang. Ek ken van agter hase aan hardloop!

Moses herinner my ook aan ’n haas wat vir God  weggehardloop en daar in die bosse van Midian gaan wegkruip het. Ja, Moses was so rats soos ’n haas. Hy het Farao se toorn ontsnap en gedink dat hy van God ook ontsnap het.

Ons ken almal die verhaal van Moses in Egipte. Moses het in Egipte gesien dat ’n Egiptenaar een van die Jode aangerand het. Hy het so kwaad geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan het. Uit vrees vir die toorn van Farao het hy ontvlug na Midian en daar ’n nuwe begin gemaak. Inderdaad het Moses die hasepad gevat.

Maar is ons nie miskien vanoggend ook soos ’n haas wat vir God wegkruip nie? Miskien hardloop ons vanoggend vir die Here weg. Ons kan weg hardloop van ’n oorgegewe lewe van gehoorsaamheid aan die Here. Ons kan weg hardloop van ons stiltetyd. Ons kan weg hardloop van die eise van God se Woord. Ons kan weg hardloop van God se vergiffenis in ons lewe. (Partymaal kan iemand nie glo dat God hom of haar vergewe het nie.) Ons kan weg hardloop van God se plan met my lewe.

Maar God het Moses agtervolg. Ja, God het Moses se spoor daar tussen die bosse van Midian gevat. God het warm op die spoor van Moses gebly.

Maar onthou, as ons weg hardloop van God in ons lewe, is God ook warm op ons spoor. God is altyd soekend na die mens, daarom agtervolg Hy ons altyd.

Met respek gesê: God is soos ’n Boesman – as Hy op jou spoor is, verloor Hy jou nie. Wat die Here begin, maak Hy klaar. Die Here Jesus het nie net die saligheid vir my verdien nie, Hy bewerk ook die saligheid in ons lewe.

Ons kan maar vlug – die Here is op ons spoor. Die Here gaan vir jou in ’n hoek dryf, soos Hy ook met Jona gedoen het. Die Here het vir Moses ingehaal, Hy gaan vir ons ook inhaal. In Eksodus 3 en 4  lees ons dat Moses God se plan met die volk Israel laat verongeluk het. Toe het Moses soos ’n haas vir God weggehardloop en daar in Midian gaan wegkruip. Maar God het Moses agtervolg en hom daar tussen die bosse van Midian gekry.

Maar die vangslag is die probleem. Vir ’n haas hou ’n mens ’n wortel uit as lokaas. Dit werk keer op keer. Wel, Moses het dalk nie van wortels gehou nie, maar God het geweet Moses is ’n nuuskierige man. Daarom prikkel God Moses se nuuskierigheid deur ’n brandende doringbos. Die brandende doringbos word die wortel, die lokaas. God roep Moses deur ’n brandende doringbos wat nie uitbrand nie.

Dan lees ons hoe Moses nadergekom het. En raai wie ontdek Moses daar? Niemand anders as die lewende God nie. Moses het nie vir God daar in Midian verwag nie. So dikwels sien ons God se hand op plekke waar ons dit nie verwag nie.

So gee God vir Sy kinders almal seine langs hulle lewenspad, as ons oë dit maar net kan raaksien. Moses het dit raakgesien. Aan die anderkant is daar waarskynlik duisende mense met wie die Here al jare lank op tientalle maniere probeer praat, maar hulle hoor en sien Hom nie.

Oor hoe blind ’n mens kan wees, word daar ’n mooi storie vertel: ’n Man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie, het in die woestyn verdwaal. Na ’n paar dae was hy so hoog in die nood dat hy ten einde raad besluit het om maar tog te bid en te kyk of dit nie dalk help nie. Toe hy op ’n dag, na die episode, sy verhaal vir ’n vriend vertel, vra die vriend nuuskierig: “En toe, het die Here jou gebed gehoor en jou gehelp?” “Nee,” het die man sinies geantwoord. “Hy het niks gedoen nie. As dit nie was dat ’n man op ’n kameel kort daarna daar verbygekom het nie, het ek seker vandag nog daar gesit.” Nooit het die man besef dat die man op die kameel wat hom gered het, die Here se antwoord op sy gebed was nie.

Dit is net ongelooflik hoe blind ons somtyds vir die Here se seine kan wees. Sien ons die seine raak wat God vir ons gee? God gee vir ons elkeen seine, brandende doringbosse op ons pad.

Somtyds kan God deur ’n droogte vir ons so ’n sein gee. Miskien wil God in ’n droogte vir ons sê: “Is jy nie meer begaan oor die droogte op jou plaas as oor die droogte in jou geestelike lewe nie?” Miskien is ’n ekonomiese resessie so ’n sein? Miskien wil die Here deur ’n ekonomiese resessie vir jou sê: “Is jy nie meer begaan oor jou lewenstandaard as oor jou lewenswaardes nie?”

Soos die Here vir Moses geroep het deur ’n brandende doringbos, kan die Here ons miskien roep deur ’n droogte of ’n ekonomiese resessie of deur ’n genadige ingryping in ons lewe of doodeenvoudig deur wonderbare gebedsverhoring in ons lewe.  

Maar God het nie net vir Moses geroep nie. Nee, Hy het hom ook oortuig. Vang ’n bietjie ’n haas en kyk hoe bons sy hart. Sy hart is vol twyfel oor wat met hom gaan gebeur. Waarskynlik het Moses ook so gevoel. Dan lees ons hoedat die Here sy opdrag aan Moses gee, naamlik dat hy die volk Israel moet uitlei uit die slawerny in Egipte.       

Dan kom Moses met sy twyfelvrae:

  1. Wie is ek?
  2. Wie is God?
  3. Is ek geskik?

Die eerste twyfelvraag wat Moses stel, is: “Wie is ek?” Daardeur openbaar hy sy eie swak selfbeeld. Hy beleef dat hy alleen nie opgewasse vir hierdie taak is nie. Maar weet u, die Here wil nie hê ons moet ’n oordrewe selfbeeld hê wat grens aan narcisme nie. Die Here Jesus sê mos in sy bergpredikasie: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.” Met daardie woorde het die Here Jesus ’n streep deur die humanistiese lewensfilosofie getrek. Die humanisme beweer mos jy moet positief oor jouself en jou eie vermoëns dink, tot op ’n ekstreme vlak van selfliefde. Hulle sê mos: “It’s all in the mind.” “Nee,” sê die Here: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.”

Dan lees ons die Here se antwoord. Die Here beloof dat Hy met Moses sal saamgaan. Hy sal Moses se krag en wysheid wees.

Die tweede twyfelvraag wat Moses stel is: “Wie is God?” Wat vra Moses eintlik hier? Hy vra die diepste van alle vrae: die vraag na die hart en wese van God. Wie is God? Hoe is God? Nie net ’n diepgaande vraag nie, maar ook ’n nodige vraag. Hoe kan ’n mens groot dade gaan probeer doen as jy nie weet wie of hoe groot die God is wat jou stuur nie?

In Eksodus 3:14 kry ons dan die Here se bekende antwoord aan Moses: “Ek is wat Ek is.” Jy moet vir die Israeliete sê: “ ‘Ek is’, het my na julle toe gestuur.” Die Here gee egter nie ’n definitiewe antwoord op die vraag nie.

Hy sê net: “Ek is wat Ek is.” Daardeur sê die Here dat Hy hom nie laat verklaar of inperk deur ’n mens nie. Hy laat Homself nie definieer deur ’n mens nie, want dan sou Hy nie meer God gewees het nie.   

Ons kan ’n watermolekule ontleed as ’n verbinding van twee waterstof-atome met een suurstof-atoom. So kan ons alles onder die son analiseer, behalwe vir God. Hoe kan ’n skepsel immers sy Skepper ontleed. Die maaksels kan mos nie die Maker begryp nie. Dit is onmoontlik.

Die teologie is die een wetenskap wat met sy hande in die hare sit. Ons kan God nie analiseer nie, ons kan Hom net aanbid.

Nee, ons weet nie wie God is nie, maar God openbaar wel aan ons wat Hy kan doen. Dan doen God twee wonderdade. Moses se kierie word ’n slang en omgekeer. Verder word Moses se hand melaats en omgekeerd.

Nee, geliefdes, ons kan God nie in ’n proefbuis of in ’n definisie of formule vasvang nie. Die Here sê: “Ek is wat Ek is.”

Die laaste twyfelvraag van Moses was die vraag of hy geskik is om in die Here se diens te staan, aangesien hy ’n hakkelaar is. Moses het eerder kans gesien om vir ’n ongeskiktheidsfonds aansoek te doen as om in die Here se diens te staan.

Ook vir hierdie probleem van Moses toon die Here begrip en Hy besluit om hom weer eens tegemoet te kom. Maar in Sy wysheid doen die Here dit op Sy eie manier. Hy raak nie Moses se mond of tong aan om hom van sy spraakgebrek te genees nie. Nee, die Here “toor” meestal nie ons swakheid of beperkinge weg nie, Hy maak ’n ander plan. Hy los vir Moses so met sy swakheid, maar gee vir hom sy broer Aäron om langs hom te staan en saam met hom te gaan. Die Here gee vir ons broers en susters om ons in ons swakheid by te staan. Dit is ’n groot troos van die Evangelie, naamlik as jy die Here dien, is jy nooit alleen nie. Ons sal dit wat die Here van ons verwag, nooit alleen kan doen nie en gelukkig hoef ons ook nie. Ons het broers en susters.

Dit bring ons by die laaste deel van die preek. Ons het gesien dat die Here die mens roep en oortuig. Nou gaan ons sien dat die Here ook saamgaan met die mense wat hy geroep het.

Wanneer ’n haas eers eenmaal gevang is en mak geword het, sal hy al agter ’n mens aanspring. So het God vir Moses daar tussen die bosse van Midian mak gemaak.

Nou was God en sy haas Moses op pad terug na Egipte om die volk Israel te bevry. In vers 18 lees ons hoedat Moses sy skoonfamilie gegroet het en op weg gegaan het terug na Egipte. Saam met hom het die lewende God gereis.

As God u geroep en oortuig het dat u ’n lewe van oorgawe volgens God se plan moet leef, weet dan dat God met u sal saamgaan. God sal u nooit verlaat nie. God het eenmaal Sy Seun op Golgota verlaat, sodat Hy ons nooit sal verlaat nie. As God ’n plan met jou het, sal God jou bystaan in Sy krag en wysheid.

Ten slotte: Moenie eers probeer om vir God weg te hardloop nie. Hy is warm op u spoor. Hy gaan u in ’n hoek dryf. Luister daarom na die roepstem van die Here. Waartoe wil die Here jou vandag roep? Die Here sal u oortuig wat u moet doen en Hy belowe Hy sal met u saamgaan in dit waartoe Hy u roep.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

[Verskeie bronne is gebruik om die preek te skryf.]

Moenie koppe was nie, maar was voete

Skriflesing: Markus 6: 17 – 29

Geskenke beteken om iets van jouself vir ’n ander te gee. ’n Mens kry gekoopte geskenke, selfgemaakte geskenke of geskenke waar jy jouself moet gee. Ons waardeer gekoopte geskenke, maar ons het groter waardering vir ’n geskenk wat iemand met sy eie hand gemaak het en vir ons gegee het. Dit kan wees ’n koek, beskuit, kerriebeet, naaldwerk of ’n handgewerkte artikel en so kan ons aangaan.

Baie jare gelede het ’n arm bruin man van die VG Kerk op Strydenburg vir my een Sondagmiddag by die pastorie ’n paar mooi klippe wat hy in die veld opgetel het,  kom gee omdat hy aan my gedink het. Ek het dit so waardeer en tot vandag toe nog bewaar ek die klippe. Daar is Lizzie Brouwers van die VG Kerk Strydenburg wat ook vir my kosbare geraamde naaldwerkstukke gegee het. Dit is spesiaal vir my.

Maar ’n mens kry ook iets soos ’n geskenk waar jy jouself gee. Somtyds is ons aandag, liefde en opoffering vir ’n ander een so goed soos ’n geskenk. So kan enigiets wat ek vir ’n ander een doen, ’n geskenk wees. Die grootste geskenk was met Christus se geboorte toe God Homself persoonlik vir hierdie wêreld gegee het.

In ons skrifgedeelte lees ons ook van ’n geskenk wat iemand vir iemand anders  gegee het.  Ons lees van Herodus wat vir sy dogter, die afgekapte kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord gegee het. Voorwaar ’n afskuwelike geskenk. ’n Mens sal miskien sê die geweldsvlakke is te hoog vir die Bybel. Dit moet ’n 18+ ouderdomsperk kry. Ongelukkig is dit die realiteit. Baie dae gee ons ook sulke afskuwelike “geskenke” vir mekaar. Mense bedrieg mekaar, steek mekaar in die rug, beswadder en beskinder mekaar en leef afgunstig op mekaar.

Herodias het gedink sy is baie slim toe sy vir haar dogter vra om vir haar pa die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord as geskenk te vra.

Herodus het Herodias by sy halfbroer afgevry en Herodias het maklik ingestem, want om die vrou van Herodus te wees, sou beteken dat sy meer mag en invloed het as voorheen. Toe Johannes die Doper preek teen die owerspel was sy die joos in, want haar nuwe huwelik het haar meer mag besorg, en sy wou nie van hierdie mag afstand doen nie. Sy het ’n manier gesoek om vir Johannes die Doper om die lewe te bring. Die tyd en plek was die verjaarsdagparty van Herodus. As Herodus dronk is, is hy baie vrygewig. Herodus se dogter dans toe so mooi vir hom voor die gaste dat hy vir haar sê dat sy enigiets van hom kan vra. Dit was Herodias se kans. Sy oorreed haar dogter om die kop van Johannes die Doper te vra. ’n Afskuwelike geskenk! ’n Koning se woord is wet en so word Johannes die Doper  onthoof en sy kop as geskenk gegee vir Herodus se dogter, en Herodias is in die wolke.

 Tog sit die gees en slinksheid van Herodias ook maar in ons elkeen. Ons kan so maklik ’n ander een te na kom. Ons kan mekaar so maklik kopwas of op mekaar se koppe sit. Ons kan so maklik koppe eis en oor koppe heenpraat. Wanneer iemand se kop rol, is ons baiekeer so verheug oor sy of haar val. Ons laat koppe rol, maar ons was nie voete nie. Ons was mekaar se koppe, maar ons was nie mekaar se voete nie. Nee ons trap eerder op mekaar se tone.

Maar die Here Jesus wil vir ons vandag leer dat ons onsself moet gee as ’n geskenk vir ander. Want die Here Jesus het ons so lief gehad dat Hy sy eie Seun op die eerste Kersnag gestuur het om die hele wêreld te red. Christus het homself as geskenk gegee.

Nou leer Hy ons om onsself ook elke dag te gee as ’n geskenk vir ander. My liefde, deernis en barmhartigheid moet ek aan ander betoon en sodoende myself as geskenk gee. Deur my tyd af te staan en deur opofferings te maak vir ander, gee ek myself. Wie liefde, deernis, vreugde, blydskap, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel, deel homself of haarself met ander. So iemand word self ’n geskenk vir ander.

Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op was vanuit Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders op die aartappellande gewerk.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was goed ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in London het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in vet fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.

“’n Sjieling (10c), Meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal … (en sy wys vir hom die muntstuk)”

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hul groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook! Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.

’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie. Die hertog het nie oor die kop van die diensmeisie gekyk nie. Hy het in haar oë gekyk en was bereid om as geskenk vir haar te help met die tas. Hy het ’n mooi gebaar getoon deur so ’n geskenk vir haar te gee.

Materiële geskenke is alles goed en wel, maar jou man, jou vrou, jou kind, jou medemens en die vreemdeling wil graag ervaar dat ons onsself gee. Dit is die diepste bewys dat ons hulle waarlik liefhet.

Mag ons ook in die naderende Adventstyd ervaar en leer om onsself vir ander te gee as geskenk. Mag ons dit ook toepas elke dag van die jaar.

Moenie koppe was nie, maar was voete. Eers dan word jou lewe ’n geskenk aan ander. Gee met jou lewe goeie geskenke aan ander.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Hoogmoed en nederigheid is teenpole

Skriflesing: Jesaja 2: 11 – 17, Jesaja 10: 33 – 34  en Jesaja 11: 1 – 10

Daar is ’n spreekwoord wat sê dat alle hoogmoed tot ’n val kom. Miskien het hierdie spreekwoord sy ontstaan uit die boek Jesaja. Die boek Jesaja handel oor die ongelooflike hoogmoed van die volk Israel in die tyd van die profeet Jesaja.

Jesaja praat in die oorspronklike Hebreeus van die “hoë oë van mense” wat afkyk op ander. Daarmee bedoel hy dat mense nie meer opgekyk het nie, nog minder rondgekyk het na ander, maar eerder neergesien het op ander mense.

Hulle het die wese en weduwees nie meer raakgesien nie. Hulle oë het nie meer nat geword as hulle lyding sien nie. Hulle sien net splinters raak in die oë van ander. Reg en geregtigheid het vir hulle niks meer getel nie.

Al wat vir hulle getel het, was hul persoonlike rykdom, eie aansien en gemak. Hulle het vergeet van hulle mede-Israeliet.

Jesaja gebruik verskillende woorde vir die begrip hoogmoed. Dit wissel van “hoog wees” en “trots” en “arrogant” en “meerderwaardig” en selfs “verhewe”. Hoogmoedige mense is geneig om die “hoogtes” te bestyg om ander gode te aanbid. Daarom lees ons van verskillende heiligdomme op hoogtes wat mense gebou het om hulle afgodsbeelde te bou. ’n God wat jy self bou, besit jy ook, kan jy manipuleer … en dit pas in die kraal van ’n hoogmoedige mens.

Die uitvinders van hoogmoed was natuurlik Adam en Eva. Hulle wou soos God wees, daarom het hulle geval vir die duiwel se set dat as hulle die verbode vrug sou eet, hulle soos God sou wees.

Kain het sy broer Abel ook doodgeslaan omdat hy hoogmoedig jaloers was dat die Here sy broer Abel se offerande aangeneem het en nie syne nie.

Hoogmoed is egter ’n tydlose sonde. Hoogmoed veroorsaak rusie en oorlog. Telkens in die geskiedenis lees ons van die hoogmoed van een mens of ’n volk oor ’n ander, byvoorbeeld:

  • Slawerny – ontworteling van mense en die neersien op ander mense, sou hulle objekte wees
  • Brittanje wat groot leed vir die Afrikanervolk besorg het in die Anglo-Boere Oorlog
  • Hitler en sy Nazi-idees wat gelei het tot die dood van miljoene Jode en ’n vernietigende wêreldoorlog
  • Kommunisme wat die wêreld wou beheer
  • Afrikaner-nasionalisme wat neergesien het op ander mense, as sou hulle tweede-klas mense wees
  • Swart-nasionalisme wat glo “Black is beautiful” en wittes wil verdryf
  • Rusland wat die Oekraïne binnegeval het
  • Haat tussen die Israeliete en Palestyne in die Gaza strook

Hoogmoed verdryf selfs geslagte uitmekaar:

  • Manlike chauvinisme wat die vrou tweede klas wil stel en as ’n gebruikersartikel wil sien
  • Feminisme, wat natuurlike geslagtelikheid wil negeer

Hoogmoed verdryf nie net mense nie, dit verdryf God ook. Daarom het Israel afgode op die hoogtes gebou, daarom streef die mens vandag na geld, roem en status.

As jy nie geld het nie, is jy niks. As jy nie mooi en slank is nie, is jy nie in nie. As jy nie die regte vriende op die regte plekke het nie, het jy geen invloed nie. As my kind nie presteer in akademie of sport nie, is hy/sy een van die valetjies in die skool.

Geld, skoonheid, prestasie, invloed – dit tel … dit word ons god.

Ons kan kloneer, harte oorplant, ons kan in vitro bevrug en mense se lewens verleng, ons kan wolkekrabbers tot aan die hemel bou en met internet word die wêreld skielik ’n klein dorpie. Kunsmatige intelligensie is nou die nuwe gons-woord. Ons kan selfs ons eie Armageddon skep met kernwapens.

Daarom kyk ons nie meer op na God nie, ook nie meer rondom ons na ander mense nie. Nee, ons kyk afwaarts na hoe ons die wêreld en ander mense kan gebruik en manipuleer.

Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Om die eerste Nagmaalstafel wonder die dissipels wie gaan hulle voete was en wie gaan aan die Here se regterkant sit. Daarom het die kerkgeskiedenis ook maar op elke bladsy sy paragrawe van menslike hoogmoed wat die Evangelie in skaak wil sit.

Dan sê God baie duidelik dat Hy alle hoogmoed tot ’n val sal laat kom. Jesaja beskryf hoe die volk Israel afgekap sal word soos ’n boom deur Assirië. Hulle maaksels, hulle torings en skansmure en handelskepe sal vergaan. Politieke en ekonomiese stelsels sal afgebreek word.

Hulle wat selfversekerd lewe sal van niks meer verseker wees nie.

Vers 19 sê die hoogmoedige mens sal soos ’n velddier in gate kruip om van sy oordeel weg te kom. Ons silwer en goud waarvoor ons so werk en so leef, sal so nutteloos wees soos die outydse goed op die solder, waaroor die rotte en vlermuise waak. So sal ook die aandelebeurs wisselvallig wees.

Op daardie dag sal almal weet dat daar net een God is, naamlik die Almagtige.

Die volk Israel het dit onder die Assiriërs ervaar, hoe hulle soos ’n boom afgekap word en van niks meer seker is nie. Daar staan in Jesaja 10: 33 – 34 die volgende: “ Kyk, die Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met ’n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val.”

Ek dink baie van ons Afrikaners voel ook so. Ons voel ons is afgekap en van niks meer seker nie. Die toekoms het vir ons duister geword. Ons selfversekerdheid  eens het plek gemaak vir onsekerheid.

Maar Jesaja het ook ’n genade-kant. God bly nie vir altyd kwaad nie. Jesaja sê dat die volk Israel soos ’n afgekapte boom lê, maar uit sy stam se wortels sal ’n nuwe loot spruit wat vrugte dra. Daar staan in Jesaja 11: 1 die volgende: “Maar ’n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.”

Uit hierdie loot is Jesus Christus gebore. Hy sal regspreek en vir die armes ’n billike verhoor gee. Hy sal barmhartigheid betoon. Daar sal weer vrede wees en die wolf sal nie oor die skaap heers nie en die beer nie oor die koei nie. Daar sal nie meer hoogmoed wees nie, want Fil 2: 7 sê dat Jesus Christus soos ’n dienskneg, soos ’n slaaf, gekom het.

Jesus Christus  het vir ons kom leer om op te kyk na ons Vader en neer te buig sodat ons ons medemens reg in die oë kan kyk. Sodat ons oë soos syne nat kan word as ons lyding sien. Dat ons ore oop sal wees om die gekerm van die mens in nood te hoor. Dat ons oë oop sal wees om die seer in ’n ander een se lewe raak te sien. Dat ons hande oop sal wees om te help, te genees en te heel.

Daarom het die Here Jesus op sy knieë gegaan met die eerste Nagmaal en geskuifel van stinkende voet tot stinkende voet en hulle almal gewas. Die volgende dag, op Goeie Vrydag het hy ons stinkende harte gewas … sodat ons nederig kan wees soos Hy.

Hy het ons geleer om op te kyk en te bid: “Onse Vader” en Hy het ons geleer om op ons knieë te gaan en vir mekaar te sê: “ My broer, my suster”. Daarom mag ons nooit weer meerderwaardig afkyk op ander nie.

By een geleentheid het ’n orkes Handel se Messias so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger stilweg boontoe beduie dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: “Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.”

Die tak wat die meeste vrugte dra, buig die laagste na die grond terwyl die tak met min of geen vrugte regop staan. So is dit met nederigheid en verwaandheid. Nederigheid dra die gewig van wysheid saam terwyl hoogmoed min vrugte voortbring.

’n Groep Amerikaners het Kaïro in Egipte verlaat om op ’n reis deur die woestyn te gaan. Hulle het vir hulle waterhouers gekoop om water in te vervoer. Elkeen het die soort houer gekies waarvan hulle die meeste gehou het. Een het koperpotte gevind. ’n Ander het porseleinhouers van seldsame mooiheid gekoop. ’n Derde het egter ’n paar gewone erdebottels geneem. Die pad deur die woestyn was lank en vermoeiend. Die hitte was intens. Elke druppel water was van waarde. Die koperhouers het egter verhit en die water het ’n vreemde kopersmaak gekry. Die duur porseleinflesse het in die hitte gekraak en die water is verlore. Maar die gewone erdebottels het die water suiwer en vars gehou tot die reis se einde.

Die grootheid van ’n man word bewys deur sy nederigheid. In die woorde van ’n ou Filippynse gesegde: “Hoe hoër die bamboes groei, hoe laer buig dit.”

’n Dogtertjie geklee in ’n langbroek het by ’n troeteldierwinkel ingestap en gevra of hulle ’n hondjie met ’n lam been het. Sy het ’n dollar gehad waarmee sy dit wou koop. Die verkoopspersoon was verbaas dat die dogtertjie ’n lam hondjie wou koop. Sy het gevra: “Hoekom, wil jy nie ’n hondjie koop wat kan rondhardloop en speel nie?” “Nee, ek wil ’n kreupel een hê.” Uiteindelik het sy een been van haar langbroek opgetrek en haar stut en prostese gewys en gesê: “Ek loop ook nie so goed nie.” Die dogtertjie met ’n lam been het haar met ’n lam hondjie geïdentifiseer. Die Here Jesus het ’n mens geword en ’n menslike liggaam met sy swakhede op Hom geneem om Homself met ons in ons liggaamlike, emosionele en geestelike swakhede te identifiseer (Heb 4:15). Daarom glo ons in die menswording van Christus en Sy menslike natuur, naas Sy Goddelike natuur. Jesus Christus het Homself verneder deur die menslike natuur aan te neem.

Hoogmoed kom tot ’n val. Nederigheid laat jou laag buig van al die vrugte van die Gees wat jy dra.

Hoogmoed maak jou steriel. Nederigheid maak jou vrugbaar.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van begeer na verlang

Skriflesing: Psalm 42 en Psalm 43

Verlang mense deesdae nog? Hoe dikwels pak die verlange na iemand spesiaal ons nog beet? Vroeër was verlange ’n baie meer algemene ervaring. In toeka se tyd was daar nog nie telefone en elektroniese kommunikasie soos WhatsApps nie. Selfs briewe het maande per skip geneem om hul bestemmings te bereik. Daarom het ouer mense meer dikwels die ervaring gehad wat verlang beteken.

Maar verlang ons nog na God? Wanneer laas het ons heimwee gehad, gesmag, gehunker en verlang na God se nabyheid? Wanneer het ons gehunker na ’n diepe ervaring van God se teenwoordigheid in ons lewe?

Vroeër was verlang vir baie gelowiges ’n ervaring waarmee hulle vertroud was. Daar was selfs ’n Verlang-Sondag, die sewende Sondag na Pase, die een tussen Hemelvaart en Pinkster, die sogenaamde Exaudi-Sondag, ’n soort heimwee-Sondag. Die Here Jesus het opgevaar na die hemel. Hy was weg, skynbaar het Hy hulle verlaat.

Op hierdie Verlang-Sondag, heimwee-Sondag is daar veral gepreek oor Psalm 42 en Psalm 43 wat eintlik ’n eenheid vorm. In hierdie twee Psalms verlang die Psalm-skrywer met ’n dubbele verlange: na gemeenskap met God en na gemeenskap met die mense van God …

Die Psalmdigter voel soos ’n dorstige dier, ’n hert, ’n wildsbok wat smag na waterstrome. Ja, so smag die Psalmdigter na gemeenskap met God en met sy medemens.

Daar staan in Psalm 42: 2 – 3 die volgende: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn?” Die Psalmdigter verlang na waterstrome, terwyl hy letterlik by die fonteine sit, waar die water opborrel. Daar staan in Psalm 42: verse 7 – 8 die volgende:  “My God!   My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek   en by die Hermonberge, hier van berg Misar af. Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel.” Die Psalmskrywer sit as’t ware by die waterstrome. Hy begeer dus nie letterlike water nie, maar hy verlang na die geestelike water. Sy verlange is na God en die tempel.

Ons leef egter nie in ’n verlang-wêreld nie. Ons leef eerder in ’n begeer-wêreld. In die plek van verlange na God en na mekaar het die begeerte na dinge en na onsself gekom. In plaas van om te verlang na God en na ons naaste, begeer ons goed, eer en sukses en veral ons eie belange.

Ons begeerte is na dinge en na afgode. Daarom sê Martin Luther dan ook dat die mens se hart ’n afgodefabriek is wat gedurig besig is om afgode te maak. Hierdie afgode word dan deur ons begeer.

Ons lê nie meer wakker van verlange nie, maar ons lê wakker van begeertes, begeertes na dinge en na onsself. Dit was nooit so erg in die geskiedenis van die wêreld as juis nou nie. In die vroeë kerk, in die armer kerke, was die verlange na God en na die medemens baie sterker as wat dit vandag is.

’n Ou kerkvader uit Noord-Afrika, Augustinus, het een maal gesê: “ God het ons vir Homself gemaak, en ons harte bly onrustig tot dit rus vind in Hom”.

In Psalm 51 bely koning Dawid sy skuld voor die Here. Hy weet hy het erg gesondig deur met Batseba owerspel te pleeg en haar man Uriah te laat vermoor. In die mooi Psalm begeer Dawid nie meer sy koningskap of sy rykdom nie. Hy verlang egter om een met God te wees en om weer die nabyheid van die Here te ervaar. Hy verlang daarna dat God nie van hom sal wyk nie, maar met hom sal wees elke dag.  Sy begeertes na Batseba het nou plek gemaak vir ’n verlange na God.

Dink maar aan die beroemde boek van John Bunyan Die pelgrim se reis na die ewigheid. Vir ’n lang tyd was dit die mees gelese boek ter wêreld. Waarom? Dit is ’n boek van soeke, van strewe na gemeenskap met die lewende God.

Dink maar aan die geestelike dissipline van “Practising the presence of God”, waardeur mense voortdurend daarvan bewus gemaak word om te konsentreer op die nabyheid van God in hulle lewe. Vandag verskyn daar ook uitstekende boeke op die boekemark wat handel oor meditasie; dit is om na te dink oor God en God te beleef.

Europa is ’n voorbeeld waar die verlange na God gesterf het en die begeerte na lewenstandaard, rykdom en tegnologie toegeneem het. Verlange het plek gemaak vir begeertes.

’n Mens kan die wortels van ’n plant vergelyk met die verlange na God, wat ander mense nie kan raaksien nie. Die stam, takke en die blare wat ander mense kan raaksien, is die begeertes van die mens. Die belangrikste deel van ’n plant is sy wortelstelsel. Jou verlange na God en jou medemens moet belangriker wees as jou begeertes na goed, besittings en jou drome. 

Verlang-mense is soekende mense, soekende na God, maar ook soekend na ander mense. Begeer-mense leef in ’n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Hulle wil nie betrokke raak nie. Hulle is afsydig.

Miskien is juis die tipiese van vandag se mense dat hulle met ’n stuk ongeërgheid, met ’n traak-my-nie-agtigheid leef. Ons houding is “Who cares”? Wat die Middeleeuse kerk die doodsonde van askedia genoem het, is vandag die “aanvaarbare” praktyk van afsydigheid en belangeloosheid teenoor God en ander mense.

Ons leef in ’n tyd van groeiende indiwidualisme. Ons begin toenemend los van mekaar te leef. Ons is nie meer beskikbaar vir mekaar nie. Daar is te veel goed waarmee ons ons besig hou dat daar nie tyd is vir ander mense nie.

In die proses ervaar ons God en ons naaste as ’n bedreiging, eerder as ’n verryking. My naaste word my mededingers. Hulle word lastig, hulle mors my kragte, energie, besittings en tyd. Daar is nie meer tyd oor vir my medemens nie.

Ons is nie meer verlang-mense nie, ons het begeer-mense geword. Ons verlang nie meer na God en na ons medemens nie. Nee, ons begeer dinge en ons eie belange. Daarom is ons so arm in ons geestelike lewe, in ons gemeenskap van gelowiges en in ons onderlinge sorg aan mekaar.

Daarom is dit goed om myself weer te ondersoek en uit te vind of ek werklik nog verlang na God se teenwoordigheid in my lewe en na gemeenskap met my medemens. Of het ons begeer-mense geword wat dinge en onsself eerder begeer? Waaroor tob ons die meeste, oor God of oor dinge? Wat soek ons die meeste, vir God en my medemens of my eie belange?

Daarom moet ons begeertes verander in verlangens. Ek moet minder aardse goed begeer en meer en meer na God en die geestelike seëninge verlang.

Mag die Heilige Gees ons begeer-harte verander in verlang-harte. Verlang-harte wat weer verlang daarna om God te beleef en te ervaar; verlang-harte wat weer begeer om ’n medemens vir ’n ander te wees. Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)