DIE CHRISTEN EN PROTES

DIE CHRISTEN EN PROTES

Suid Afrika is ‘n land met ‘n lang geskiedenis van protes en stakings en burgerlike ongehoorsaamheid. Die wit deel van die bevolking, wat voorheen die bevoordeeldes was van die onderdrukkende stelsel van apartheid, het nog selde aan protes deelgeneem. Dinge het verander.

620x349 (2)Op Maandag, 30 Oktober 2017 het die wit gedeelte van Suid – Afrika, hoofsaaklik boere deelgeneem aan ‘n grootskaalse protesoptrede teen die hoë moodsyfer op boere in Suid – Afrika.

Dit het groot media belangstelling getoon in Suid Afrika, asook wêreldwyd.

Die vraag aan die kerk is, hoe protesteer Christene, wanneer hulle voel hulle word verontreg?

Onmiddelik moet ‘n mens sê, dat Christene moet en mag protesteer teen enige vorm van onreg. Die Bybel is vol voorbeelde van protes. Veral die profete van die Ou Testament het gereeld geprotesteer teen onreg. Die profeet Amos het byvoorbeeld geprotesteer teen die sosiale ongeregtigheid wat in sy tyd bestaan het. Die profeet Hosea (Hosea 1) het met ‘n prostituut getrou om te protesteer teen die afvalligheid van die volk Israel op sosiaal-politieke en kultiese terrein. Hosea het uit protes getrou met Gomer. Die eerste kind, ‘n seun is genoeg Jisreël wat voorspel het dat God die koningskap in Israel tot niet gemaak gaan word . Die twee kind, ‘n dogter is gebore met die naam “Sonder ontferming”, want die Here gaan Hom nie meer oor Israel ontferm nie. Die derde kind, ook ‘n dogter is genoem ” Nie-my-volk-nie”, ook ‘n aanduiding van God se oordeel oor sy volk.

Jesaja het drie jaar sonder klere en skoene rondgeloop as ‘n getuie teen Egipte (Jes 20: 2 – 3).

_D7H0781-760561Esegiël het weer voor ‘n baksteen gelê wat die beleëring van Jerusalem voorgestel het.

Esegiël mos ook kos gaarmaak op droë menslike uitwerpsel of beesmis, om aan te toon dat die volk ook onrein kos gaan eet tussen die nasies waaronder hulle verstrooi gaan word oor hul ongehoorsaamheid (Esegiël 4: 9 – 15).

img-Jeremiah-the-Prophet

In Jeremia 28 word weer verwys na die houtjuk wat Jeremia rondgedra het as voorspelling dat die volk in ballingskap gaan oor hulle sonde (Jeremia 28).

Daniël het hom weer in Koning Darius se tyd skuldig gemaak aan burgerlike ongehoorsaamheid, deur nie die koning te aanbid nie, maar drie keer ‘n dag soos sy gewoonte was in die dakkamer die lewende Here te aanbid. As straf oor sy burgerlike ongehoorsaamheid is hy in die leeukuil gegooi. Maar God het hom gered van die kake van die leeus (Daniël 6).

In die Nuwe Testament lees ons hoedat die Jesus Christus geprotesteer het teen die skynheilige geloof van die Farisiërs en Skrifgeleerdes. Hy het by die tempel in Jerusalem geprotesteer oor die handelaars wat van die tempel ‘n rowerspelonk gemaak het. In Jesus se gelykenisse het Hy ook geprotesteer teen sosiale ongeregtigheid in die samelewing.

Die hele Christelike lewe gaan oor protes. Elke dag moet ons protesteer teen sonde in jou eie lewe sowel as strukturele sonde wat in die samelewing is.

martin-luther-9389283-1-402Vyfhonderd jaar gelede het gelowiges onder leiding van Martin Luther, Johannes Calvyn en nog ander geprotesteer teen die dwalinge in die Rooms Katoliee kerk. Spoedig het hulle die naam gekry van Protestante.

Daarom moet ons ook protesteer teen enige vorm van onreg in die samelewing. Die kerk en die gelowiges moet protesteer teen plaasmoorde, teen die bendegeweld op die Kaapse vlakte, teen die hoëvlakke van geweldsmisdade, teen korrupsie of doodeenvoudig waar ons sien daar word teenoor ‘n indiwidu onreg gepleeg.

Daar word vertel van ‘n fabriekskantien in London in die depressiejare. Dit was in die hartjie van die winter gewees. Dit het so swaar gegaan dat die kantien net aan die werkers sop en brood verkoop het. Die verteller vertel hoe hy vir sy sop en brood betaal het en gaan sit het tussen die honderde ander fabriekswerkers. Dit atmosfeer was somber, want dit was moeilike tye. Na ‘n rukkie kom daar ‘n vrou, met ‘n kindjie op haar arm binne. Sy het nie geld gehad nie en smeek toe net vir ‘n bietjie sop vir haar en haar kind. Die kok wou haar al vloekende uit die kantien verjaag. Skielik het ‘n doodse stilte oor die kantien toegesak. Almal het ophou eet. Ritmies het hulle hul lepels teen die blikbekers geslaan. Die kantieneienaar het so skaam gekry dat hy vir die vrou en haar kind sop en brood gegee het en hulle genooi het om ook aan die tafel te sit. Die verteller vertel dat die sop en brood, skielik geproe het soos die wyn en brood by die Nagmaalstafel.

crowd_protest-100704321-largeChristene mag protesteer, maar Christene protesteer altyd waardig. Die etiese vraag is dus nie mag Christene protesteer nie, maar eerder hoe moet hulle protesteer. Natuurlik moet Christene nie uit selfsugtige redes protesteer nie, maar om die regte redes. Dit moet gaan oor die uitwys van sosiale onreg en onregverdigheid in die samelewing. Die goue reël is die Bybelse reël, dat jy so moet protesteer dat jy nie ander se regte aantas nie. Die Woord sê moes “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Heidene protesteer op ‘n barbaristiese wyse. Hulle brand buitebande, steek busse en voertuie aan die brand, hulle gooi klippe en intimideer. Hulle gooi brandbomme na geboue en vernietig eiendom.

   TshwaneUnrest-townships-ablaze-over-DidizaHulle jaag rassehaat aan en polariseer rassegroepe van mekaar. Hulle steek skole en universiteitsgeboue aan die brand. Hulle steek Uber taxis aan die brand met die bestuurder nog binne die voertuig. Hulle tart die die polisie en veiligheidspersoneel. Hulle steek mense lewend aan die brand. Wie anargie stig, speel in die hand van die duiwel.

620x349 (1)Met die protesoptrede van die boeregemeenskap op 30 Oktober 2017, was daar geen intimidasie of geweld of enige eiendom beskadig nie. Daar was geen brandende buitebande of konfrontasies met die polisie nie. Dit is ‘n pluimpie in die hoed van die boeregemeenskap van Suid Afrika.

Tog is dit kommerwekkend dat die sommige boerdery gemeenskappe paaie geblokkeer het en alle verkeer tot stilstand gebring het. Dit is heeltemal verkeerd en nie die manier waarop ‘n Christen protes aanteken nie. Deur paaie te blokkeer ontneem jy ander mense se regte.

imagesVeronderstel ‘n matrikulant kon nie by die eksamenlokaal uitkom nie en jy verwoes sy kanse om betyds toelating by ‘n Universiteit te kry. Of iemand is laat vir ‘n werksaansoek, omdat die paaie geblokkeer is.

Of ‘n ambulans kan nie betyds by ‘n hospitaal uitkom nie. Tien dae later het die taxis ook paaie geblokkeer. As dit die reël word van protes, benadeel ons die land se ekonomiese groei. In protesaksie, mag jy nooit ‘n ander persoon se regte van hom of haar wegneem nie.

Op sommige plekke is ook die ou Suid – Afrikaanse landsvlag vertoon en ook die Vierkleurvlag. Dit maak die protesoptrede ‘n politieke vertoon wat nie goed is vir goeie rasseverhoudinge in Suid Afrika nie. Dit is heeltemal onnodig en uittartend. Ons moet bou aan die toekoms en nie terug verlang na die verlede, wat vir baie mense verdrukking beteken het nie. Baie mense het ook fobnuus versprei deur die sosiale media, wat ook rassepolarisasie veroorsaak het.

Veronderstel dat die boeregemeenskap (en hulle plaaswerkers) saam met die bruin mense van die Kaapse vlakte geprotesteer het teen die hoë moordsyfer op plase en op die Kaapse vlakte. Dink net watse kragtige boodskap het dit nie uitgedra in Suid Afrika nie en in die buiteland nie.

Suid Afrika is ook bekend vir sy stakings wat deur verskillende vakbonde georganiseer word. Wanneer stakers hulle werkgewers benadeel deur stakings, versteur dit goeie werkgewer en werknemers verhoudinge. ‘n Beter opsie sal eerder wees om in etenstye vreedsaam te protesteer en sodoende die respek van die werkgewer te behou en nie skade aan die ekonomie en maatskappy te doen nie.

f41c647a0a4647c9b9973f6eecac1bce

Een van die beste maniere om te protesteer is om deur die regstelsel, herstellende aksie af te dwing. Agri Suid Afrika is bekend daarvoor dat hulle al tientalle hofsake gewen het in die hof om geregtigheid te herstel.

Dit is ‘n vreedsame manier om aandag op jou probleem te vestig.

Om onreg deur protesaksie onder die aandag van die buiteland te bring, het nog altyd in die geskiedenis goeie gevolge gehad.

jacques-pauw-3Daarmee saam is ondersoekende joernalistiek altyd die vriend van die verontregte. Jacques Pauw het in sy boek “The President’s Keeper” protes aangeteken teen die korrupsie wat in Suid Afrika hoogty vier. Daarom is die pen, altyd ‘n magtige swaard.

Belasting weerhouding is nie altyd ‘n goeie manier van protes nie. Veronderstel die Munisipaliteit betaal nie hulle Eskom rekening nie en Eskom onderbreek kragtoevoer op sekere tye van die dag. Om belasting of kragrekeninge nie te betaal nie vererger die probleem. Daar kan eerder deur protesaksie gedwing word om die Munisipaliteit onder administrasie te sit, sodat verantwoordelike mense kan seker maak die Munisipaliteit betaal hulle Eskom rekeninge.

Lydelike verset, sonder geweld is altyd die beste opsie. Gandhi het deur geweldlose lydelike verset Indië se onafhanklikheid van Britse kolonialisasie verseker.

Somtyds moet ‘n Christen homself skuldig maak aan burgerlike ongehoorsaamheid, as die staatswette indruis teen die Woord van God. Wanneer ‘n dokter weier om ‘n aborsie in ‘n staatshospitaal te doen, is hy burgerlik ongehoorsaam. Maar sy gewete is skoon voor God.

fr_201622122625

As die staat lyfstraf deur ouers ‘n kriminele oortreding maak, mag ‘n ouer sy kind tugtig met lyfstraf omdat die Woord van die Here swaarder weeg as die humanistiese wette van die staat.

Daarom soos in Daniël se geval is burgerlike ongehoorsaamheid aanvaarbaar.

gebedeTen slotte, kan gebed as die heel beste vorm van protes beskou word. Koning Dawid het in die Psalmboek telkens sy protes uitgespreek teenoor die mense wat soek om sy dood te veroorsaak.

Natuurlik verwys hy na Koning Saul wat sy dood soek. Deur gebed kan God onregverdige stelsel laat kantel en mense vrymaak van verdrukking. Daarom is gebed die magtigste vorm van protes in die lewe van ‘n Christen.’n Christen kan en moet protesteer teen enige vorm van onreg. Maar Christene doen dit met waardigheid en in ooreenstemming met die liefdesgebod.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide) 

Christus het die angel van die duiwel getrek. (1 Kor 15: 55 – 58)

CHRISTUS HET DIE ANGEL VAN DIE DUIWEL GETREK.

Wayne Rice vertel van die gesin wat op pad was met hul motor na hulle somervakansie. Dit was baie warm en hulle het die vensters afgedraai vir koel lug. Hulle het heerlike koeldrank gedrink.

SONY DSC

Die soet koeldrank het toe ‘n by laat invlieg by die motor se oop venster. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir bysteke. Sou die by haar steek, sou sy binne minute dood gewees het. Sy skree toe hard vir haar pa: “Pappa, daar is ‘n by in die kar. Hy gaan my steek. Help!” Die pa het toe dadelik die motor tot stilstand gebring en toe die by gelok na die voorkant van die kar. Teen die voorruit van die kar het die pa die by met sy kaal hand gevang. Die by het onmiddelik die pa gesteek, maar het ongelukkig los gekom. Dadelik het die pa se hand begin swel van die bysteek. Die by het toe weer na die agterkant van die motor gevlieg, al rondom die dogtertjie. Weer roep die dogtertjie: ” Pappa, die by is weer by my. Hy gaan my steek. Help!” Die pa sê toe vir die dogtertjie: “Wees kalm my kind. Die by het pa klaar gesteek. Sy angel sit in my hand. Hy kan jou nie meer byt nie. Al wat hy kan doen is buzz. Netnou gaan die by in elk geval vrek, want toe hy sy angel verloor het, het hy ‘n deel van sy binnegoed ook verloor. Hy gaan netnou vrek.”

Ons weet natuurlik uit die biologie, dat ‘n by jou net een keer kan steek. Hy verloor sy angel, wanneer hy jou steek en saam met die verlore angel, verloor hy ook ‘n deel van sy binnegoed, wat natuurlik vir die by ‘n gewisse dood beteken. ‘n By wat eenkeer sy angel verloor het, kan net “buzz”, verder is hy skadeloos.

Blykbaar was die kennis alreeds in Bybelse tyd bekend, want hoor wat sê Paulus in 1 Kor 15: 55 – 58 “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Ons is die dogtertjie wat so allergies is vir die sonde steek van die duiwel, dat ons die ewige dood kan sterf. Die loon van die sonde is mos die dood. Maar Christus is die pa, wat sy hande om die duiwel gevou het en die steekbyt van die duiwel op Hom geneem het, deur te sterf aan die kruis. Die angel van die duiwel is pynlik ingesteek aan Jesus op die kruis. Hy het gesterf van die angelbyt op Golgota.

Daar was die angel van Judas Iskariot wat Hom verraai het.

Daar was die angel van Petrus wat Hom verloën het.

Daar was die angel van die dissipels wat Hom verlaat het in sy lyding.

Daar was die angel van die Joodse Farisieërs wat Hom aangekla het.

Daar was die angel van die Jode, wat geskree het dat Jesus gekruisig moet word.

Daar was die angel van Herodus en Pilatus, wat nie reg laat geskied het nie.

Daar was die angel van die Romeinse soldate.

Daar was die angel van my en jou sonde wat Jesus se dood gekos het.

Hy het in ons plek die angelbyt ontvang, sodat ons nie die tweede en ewige dood hoef te vrees nie. Jesus het die angel uit die dood gehaal, sodat ons die ewige lewe kan ontvang. Jesus het ook die angel van die sonde kom wegvat, sodat ons verlossing van ons sonde kan ontvang. Nou kan die duiwel nog net “buzz” rondom ons, maar maar die duiwel kan ons nie meer doodmaak nie. Natuurlik “buzz” die duiwel elke dag rondom ons met allerlei versoekings en verleidinge. Die Here sê dit sal so wees tot met die wederkoms. Daarom ervaar ons nog elke dag die gevolge van sonde, soos moord, misdaad, droogtes, natuurrampe, ekologiese bedreiginge, pes, siekte en baie ander vorme van lyding. Maar dit is net die “buzz” van die duiwel. Die Here het die duiwel klaar verslaan.

Die duiwel is soos ‘n afkophoender. My ouma het hoenders in haar erf gehad. Wanneer dit slagtyd word, word die kop afgekap met ‘n byl. Terwyl die hoenderkop op die grond lê, spartel en hardloop die afkophoender nog ‘n paar sekondes voordat dit dood neerval. So is die duiwel ‘n afkophoender. Sy kop is vermorsel met die opstanding van Jesus uit die dood. Maar tot met die wederkoms van Jesus sal die duiwel rondspartel en probeer om soveel moontlik mense saam met hom te neem na die ewige verderf. Maar as ons in Christus bly, kan die duiwel ons nie skade aandoen nie.

Die duiwel is verslaan. Hy is angelloos. Maar dit beteken nie dat ons met die duiwel moet speel nie. Christene vier nie Halloween nie, hulle roep nie geeste op nie en hulle besoek nie “gypseys” nie. Christene glo nie in die sterretekens en voorspellings oor die toekoms op grond van sterretekens nie. Christene is ook nie bygelowig nie. Christene besoek nie sangomas en toordokters nie. Christene glo ook nie in die voorvadergeeste nie. Christene hou hulle ook nie op met sataniese speletjies en tydverdryf nie.

Luther het gesê: “Laat die duiwel met die potte en panne speel, ons hou onsself besig met die Woord van die Here.”

Die Here Jesus het die angel uit die dood en die angel uit die sonde kom uithaal. Christus het die angel uit die lewe kom haal. Dit beteken nie dat die duiwel nie “buzz” soos ‘n by rondom ons nie, maar ons vrees nie meer die duiwel nie. Die duiwel is angelloos. Ons behoort aan Christus en nie die duiwel of enige bose mag kan ons uit die Here se hand ruk nie.

Dood, waar is jou angel?

Lewe, waar is jou angel?

Die Here Jesus het die angel uit dood en lewe kom trek, deur self die slagoffer van die angel te word. Maar Jesus Christus lewe! Hy het die angeldood aan die kruis ongedaan gemaak, deur uit die dood op te staan. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

‘n Nuwe voetpad …., nuwe denke ……. (Fil 4: 1 – 9)

‘N NUWE VOETPAD …., NUWE DENKE …….

Voetpaaie is vir my baie baie interessant.

Photo credit - Marymichaelpilgrimsway.orgGewoonlik neem mense die kortpad oor ‘n stuk veld of grasperk en mettertyd ontstaan daar ‘n voetpad. Daar kan ‘n bestaande geplavleide pad wees, maar mense sal altyd kortpad vat en mettertyd hulle eie voetpad uittrap.

(Foto krediet – Marymichaelpilgrimsway.org)

Ek het êrens gelees dat by die beplanning van ‘n groot boukompleks het die kontrakteur die gebou voltooi, maar nie die staproete tussen die gebou en parkeerkompleks dadelik geplavei nie. Hy het eers ‘n paar maande gewag, om te kyk watter kortpad die mense neem en toe het hy agterna die uitgetrapte voetpad geplavei. Hy het eers gekyk watter pad die mense self kies en toe het hy dit geplavei.

Mense vorm in hulle brein ook kortpaaie. Die manier waaroor jy oor dinge dink, vorm jou persoonlikheid. Ons noem dit sommer in die algemeen, hoe ‘n mens bedraad is. Sommige mense se geaardheid is altyd negatief. Ander is weer gedurig bitter oor die lewe. Nog ander se geaardheid is altyd onvriendelik. Gelukkig is daar ook mense wie se geaardheid altyd positief en blymoedig is. As ‘n mens eers ‘n gewoonte gemaak het om oor alles pessimisties te wees, gaan jy ‘n negatiewe voetpad in jou brein uittrap en jou persoonlikheid gaan negatief wees.

Gelukkig hoef ‘n mens nie ‘n slagoffer van jou geaardheid te wees nie. Mense se geaardheid kan verander. Dit is presies wat Paulus bedoel in Filippense 4: 4. Dit lees: “ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal:Wees bly!” Stefan Joubert skryf dat mense altyd dink dat jy net in jou hart moet bekeer. Maar eintlik daag Paulus ons uit om ook in ons denke te bekeer. Ons skrifgedeelte Fil 4: 1 – 9 handel ten diepste oor die bekering (metanoia) van ons denke en verstand. Ons moet ook in ons denke vernuwe word om nuwe mense in Christus te word. In Fil 4: 8 staan daar: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

‘n Mens se geaardheid en lewensuitkyk word grootliks gevorm deur jou gedagtes en denke. Wanneer jy ‘n voetpad van negatiwiteit uitgetrap het in jou kop, sal jou geaardheid ook so wees. Hoe verander ‘n mens jou geaardheid en persoonlikheid? Jy verander jou denke. Hoe kry jy dit reg? Kom ons gaan terug na die beeld van die voetpad. As jy ‘n draad of heining span in die pad van die voetpad, sal jy mense dwing om ‘n ander voetpad uit te trap. Net so as jy in jou denke bekeer word, sal jy ‘n hindernis sit in die voetpad van negatiewe denke, wat jou sal leer om die positiewe te soek. As jy lank genoeg die positiewe bedink, sal ‘n nuwe voetpad van positiewe denke en geaardheid gevorm word.

Daarom moet mense nooit dink hulle kan nie verander word nie. Jy kan verander! Jy begin om te verander, deur jou denke te verander en te vernuwe. Jy begin deur jou denke te bekeer!

René Descartes het geskryf: “ Cognito ergo sum.”, wat beteken “Ek dink, daarom is ek.” Juis daarom moet jou denke ook vernuwe en bekeer word. Wie sy denke bekeer, bekeer ook sy lewe en sy dade. Onthou dat sonde, se beginpunt is in jou denke. Daarom sê Paulus moet ons eerder bedink alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, en alles wat prysenswaardig is. Wie se denke in lyn is met God se wil, se lewe sal ook in lyn met God se wil wees.

Dr. David Stoop het ook ‘n boek geskryf met die naam: “ You are what you think.” Dit beteken dat jy word of is, wat jy dink. Jou denke bepaal jou lewensuitkyk.

Paulus skryf hierdie brief vanuit die tronk. Hy sit in die tronk onskuldig onder die haglikste omstandighede, maar hy KIES om sy denke in te stel op blydskap in die Here. Hy kies om inskiklik (vriendelik) te wees met die Romeinse owerheid wat hom onskuldig gevange hou. Daarom kan Paulus met reg die gemeente van Filippi oproep om altyd in alle omstandighede met blydskap vervul te wees en om inskiklik teenoor alle mense, self jou vyande te wees.

RxEQ4282906

Victor Frankl het gesê in sy boek “Search for meaning”, dat ‘n mens dikwels jou eie gevangene is. Jou eie denke hou jou gevange. Daarom sê hy dat elke mens die vryheid het om te kies, hoe om te reageer in elke omstandigheid. Jou denke kan jou vry maak of jou denke kan jou gevange hou.

‘n Mens is nooit die slagoffer van jou omstandighede nie, maar eerder die slagoffer van jou eie denke. Juis daarom moet ‘n mens ook jou kop (jou denke) bekeer om te alle tye positief te bly.

Wanneer ons bekommerd is (wat menslik is), skryf Paulus moet ons deur gebed ons begeertes aan God bekend maak, deur met smeking en danksegging te bid.

gebedGebed het die kragtige uitwerking om die voetpad van jou negatiewe gedagtes, te herlei om ‘n nuwe voetpad van positiewe gedagtes te vorm, waar ons ook die vrede van die Here sal ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Nooit mag ons die krag van gebed onderskat nie. God kan deur ons gebede kragtige dinge doen. Daarom moet ons in ons aanvegtinge, ons wend tot gebed.

www.leveringtonparishcouncil.orgHoe lyk die voetpad deur jou gedagtes? Is dit gevul met negatiwiteit en pessimistiese gedagtes?

(Foto krediet: http://www.leveringtonparishcouncil.org)

Jy kan ‘n draad span en begin om positiewe dinge te bedink. Dan sal jy ervaar dat ‘n nuwe voetpad in jou gedagtes uitgetrap word – ‘n voetpad van blymoedigheid en vrede. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

Wat is jou grootste bate? ( Fil 3: 4b – 14 )

WAT IS JOU GROOTSTE BATE?

Bates en laste is bekende woorde in die finansiële wêreld.

thDie ideaal is altyd om jou bates te laat groei en jou laste te verminder. Dit kan die verskil tussen rykdom en bankrotskap beteken. Mense vergader vir hulle bates. Somtyds is dit mense se enigste sin in die lewe om soveel moontlik bates te vergader. Bates gee maklik vir ons ‘n valse sin van sekuriteit. Bates is altyd sigbare goed.

In ons gelese gedeelte verwys Paulus ook na die geloofsbates in sy lewe. Paulus skryf dat hy op die agste dag besny is, dat hy van geboorte ‘n Israeliet is, dat hy uit die stam van Benjamin kom, ‘n rasegte Hebreër, in wetsopvatting ‘n Farisieër, in sy ywer ‘n vervolger van die Christelike kerk, in sy onderhouding van die wet om vryspraak te verkry onberispelik. Inderdaad het Paulus se lys van persoonlike geloofsbates indrukwekkend gelyk. Sy CV was uitstaande.

So maklik kan ons ook op uiterlike dinge roem. Ek is ‘n Afrikaner, ‘n regte Boer, lidmaat van die NG Kerk, ‘n kerkmens, voorbeeldig en met ‘n goeie naam in die gemeenskap. Dalk behoort ek nog aan ‘n spesifieke kultuurorganisasie en gee my bydrae vir die FAK. Ek kan verder dalk nog roem oor my kwalifikasies en wat ek alles bereik het in die lewe. My persoonlike rykdom en materiële bates ondersteun my stand en klas in die samelewing. So kan ‘n mens maklik begin roem op uiterlike dinge. Hierdie uiterlike dinge kan staan tussen jou en die Here. Jou bates kan ‘n struikelblok word in jou verhouding met die lewende Christus.

‘n Gemeente kan ook maklik spog oor haar bates, soos ‘n mooi kerkgebou, kerksaal, finansiële bates en baie lidmate en ‘n paar leraars en baie mooi gemeenteaksies. Dan word ‘n gemeente se bates ‘n struikelblok in die gemeente se verhouding met die Here. Alles wat groot en “WOW” is, word mos deedae aanbid. Eduan Naude skryf: “ Miskien leer ons van vooraf dat daar ‘n onderskeid is tussen “theologia triumphalis” en “theologia crucis”, ‘n teologie wat magsdiskoerse gebruik (geld, getalle, geboue), en ‘n teologie wat die navolging van die Gekruisigde verkondig.” Uiterlike bates van mag soos geld, getalle en geboue mag nooit ‘n struikelblok word om die gekruisigde Christus te verkondig nie.

Eers wanneer ek my persoonlike bankrotskap voor God besef, kan ek die gekruisigde Christus volg. Eers wanneer jou geestelike bankrotskap vir jou meer bekommer as jou uiterlike bates, kan jy in verhouding met die lewende Christus wees. Retief skryf so helder: “ Paulus besef dat wat wins was, eintlik ‘n verlies geword het. Wat bates was, was eintlik laste. Wat goed was, was eintlik sleg. Omgekeerd word sy verlies vir hom tot wins. Sy laste word sy bate. Wat sleg was, word vir hom goed.”

Daarom sê Paulus moet ons nie op uiterlike dinge vertrou nie. Al wat Paulus wens en begeer is om Christus te ken. Daarom laat hy nie toe dat uiterlike dinge sy oog van Christus afhaal nie. Daarom lê ons sekerheid van geloof nie in onsself en in ons geloofsbates nie. Ons sekerheid van geloof lê buite onsself in wat Christus vir ons gedoen het.

anchorDit is soos ‘n boot wat in ‘n woeste see dreig om te vergaan. Die kaptein gooi die anker nie op die boot om dit te anker nie. Nee, hy gooi dit oorboord, buite die skip in die diep water om dit te anker. So moet ons, ons sekerheid nie in onsself soek nie, maar buite onsself in Christus wat vir ons gesterf het. As ons, ons sekerheid soek in onsself en in ons eie geloofsbates, sal ons altyd onseker wees van ons geloof en of ons genoeg gedoen het. Maar as ons dit soek buite onsself in die objektiewe verlossingsdaad van Christus sal ons ‘n vaste grond hê vir geloofsekerheid.

Five_SolasDaarom bely ons in Reformasie 500, soos Martin Luther dit verwoord het: SOLA SCRIPTURA (die Skrif alleen), SOLA FIDE (geloof alleen), SOLA GRATIA (genade alleen), SOLO CHRISTO (Christus alleen), SOLI DEO GLORIA (aan God alleen die eer).

Nie ons bates of ons geloofbates mag ons wens of begeerte wees nie, maar om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding. Christus moet ons enigste bate wees.

393px-231000_-_Athletics_track_100m_T20_final_Lisa_Llorens_silver_action_-_3b_-_2000_Sydney_race_photoDaarom skryf Paulus in Fil 3: 13 – 14 dat hy hom losmaak van sy voormalige bates (wat agter is) om by Christus (wat voor is) te kom. Hy span homself in om by die wenstreep te kom, wat Christus is. Om die wenstreep te behaal is dit nodig om die bagasie (van geloofsbates) af te gooi en Christus as enigste bate te verkry.

Waarop roem jy in jou lewe? Oor jou bates of jou geloofsbates? Nee, jou enigste roemtaal moet Christus wees.

Die Protestante onder andere die Franse Hugenote het 500 jaar gelede uit Europa gevlug na Suid Afrika, ter wille van hulle geloof dat Christus alleen jou regverdig maak. Hulle het hulle bates (huise, plase en aardse besittings) agtergelaat, die vreemde in, omdat hulle enigste bate en roemtaal Christus was. Vandag verlaat Suid Afrikaners die land oor ekonomiese en politieke redes.

Vyfhonderd jaar gelede het hulle Europa verlaat oor geloofsredes.

Daarom begin die Heidelbergse Kategismus met die vraag:

Sondag 1, Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe .

Mag Christus ook u enigste bate en roemtaal wees! AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Nederigheid bring eensgesindheid. (Fil 2: 1 – 13)

NEDERIGHEID BRING EENSGESINDHEID.

Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.

main-qimg-d50982369fa7c69fea789e1856d53143-cOns lewe in ‘n wêreld van konflik, waar elkeen belangrik wil wees en self die kitaar wil slaan. Ons kry konflik in huwelike, gesinne, werksplekke, die samelewing en in die politiek. Faksie geweld binne politieke partye is algemeen.

Dié wêreld is ook vol van binne politiek in die werksplek en organisasies. Van die begin van die wêreld wou die mens belangrik wees, daarom het Eva toegegee aan die duiwel se versoeking om “ook soos God te wees” en het sy die verbode vrug geëet. Om belangrik te wil probeer wees, maak van jou ‘n dwarstrekker wat konflik aantrek, omdat jy alles volgens jou sin wil hê.

Daarom skryf Paulus aan die Fillipense in hoofstuk 2 om vir hulle Jesus Christus voor te hou as die een wat homself verneder het en die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. Jesus Christus het homself verneder deur aan ‘n kruishout te sterf. In Johannes 13 lees ons van die voetewas episode. Die dissipels was in die bovertrek bymekaar en het onder mekaar baklei wie die belangrikste een is en wie aan Jesus se regterhand en wie aan Jesus se linkerhand gaan sit. In plaas van om meegevoer te word oor die naderende lyding van Jesus Christus, is hulle bekommerd oor posisies. Die 12 “ekke” was met hul “12” selwe besig daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Daar was geen slaaf nie en niemand was bereid om die plig op hom te neem om die ander se voete te was nie. Dit was ‘n skaakmat – situasie, want eersug het die oorhand gekry.

voetewas

Dan kom stel Jesus die voorbeeld. Hy kruip van stinkende voet tot stinkende voet en was al sy dissipels se voete. Dan gee die Here die opdrag, dat ons sy voorbeeld moet navolg.

Konflik ontlonting vind plaas, waar mense nederig word en mekaar se voete was, in plaas van mekaar se koppe te was.

Paulus vra in Fil 2: 2 dat die gemeente in Fillipense sy blydskap volmaak moet maak, deur eensgesind te wees in : een in liefde, een van hart en een in strewe. Die onderlinge eensgesinde “koinonia” is een van die vernaamste kenmerke van die kerk. Ons bely mos in die Credo van die kerk, dat ons glo in “een, heilige algemene Christelike kerk”. Verder bely ons ook in die “gemeenskap van gelowiges”. Vers 1 beskryf hierdie “koinonia” waaraan ons deel het met woorde soos liefde, meegevoel en meelewing. Vers 1 sê verder ons kan dit beleef omdat ons die troos in Christus beleef.

72c7a11b62a0abbc218f1cb690bbb5af--one-and-one-innocent

Daar is ‘n Latynse spreekwoord: “Unus pro omnibus, omnes pro uno”, wat beteken One for all, all for one“. Dit was die motto gewees van die Franse boek: “The Three Musketeers” waar ‘n groep van Franse Musketiere, naamlik Athos, Porthos, Aramis en d’Artagnan saam gestaan het deur dik en dun. Die boek is die eerste keer gepubliseer in 1844 deur Alexandre Dumas.

One for all, all for one“, is die gees van die Christelike eensgesindheid waarvan Paulus praat in Fil 2: 2. Christus het vir almal gesterf en die troos gebring. Daarom word almal in ‘n hegte eenheid saamgesnoer, deur Christus wat die eenheid gebring het.

Opregte Christene gaan afstand doen van hul belangrike troontjies ter wille van die eenheid in Christus.

Family

Daar was ‘n ou Joodse gebruik waar mense in ‘n sirkel gedans het by Joodse feeste. In ‘n sirkel is daar nie eerste en laaste soos in ‘n ry nie. Almal in die ry is gelyk, almal is tegelyk eerste en tegelyk laaste.

Daarom moet dit vir Christene gaan oor dienswerk en nie posisies nie.

Wanneer ‘n gelowige in ‘n posisie van gesag geplaas word, moet die motief van diensbaarheid, jou ‘n dienskneg en slaaf maak van ander. Dit is waartoe Paulus die gemeente in Fillipense oproep.

Gelowiges wat bereid is om selfloos, sonder eie belang bereid is om te dien, sal self deur God vereer word. Paulus maak Christus Jesus ‘n voorbeeld van die een wat ‘n dienskneg en ‘n slaaf geword het. Op die regte tyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee, wat bo elke naam is.

Owen Feltham skryf: “ Ek merk dat God van al die plante die eenvoudige wynstok gekies het wat gestut moet word; en van al die diere, die onskuldige lam; en van die voëls, die onskuldige duif. Christus is die roos van die veld en die lelie van die dale. Toe God aan Moses verskyn het, was dit nie in die trotse seder of in die kragtige eiekeboom nie, maar in ‘n nederige en eenvoudige braambossie, asof Hy deur hierdie keuses die hoogmoed en die verwaandheid van die mens in toom wil hou.”

7fa93dce9556752f46e08fd04eb1a5db

Ons verwag ‘n koninklike bababedjie, maar vind ‘n krip.

Ons verwag dat Jesus op ‘n perd sal ry, maar vind Hom op ‘n donkie.

Ons verwag lojaliteit, maar vind verraad.

Ons verwag ‘n Halleluja – koor, maar vind ‘n kreet: “Kruisig Hom!”

Ons verwag ‘n koninklike kleed, maar vind naaktheid.

Ons verwag ‘n kroon, maar vind ‘n doringkroon.

Ons verwag ‘n septer in die hand, maar vind spykers in Jesus se hand.

Ons verwag ‘n troon, maar vind ‘n kruis.

Deur nederigheid het Jesus die wêreld kom verlos.

Andrew Murray beskryf nederigheid as die grootste deug, die wortel waaruit alle ander deugde groei.

Waar vloei die riviere wat ons landerye vrugbaar maak? Op die bergtoppe? Nee, in die valleie. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van nederigheid vertoef. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Gewild by God of gewild by mense? (1 Tim 4: 6 – 16)

GEWILD BY GOD OF GEWILD BY MENSE

U weet mos wat is swaartekrag.

imgSwaartekrag beteken dat ‘n voorwerp altyd grond toe sal val. Dit was Isak Newton wat eenkeer toe hy onder ‘n appelboom gelê het, wakker geword het toe ‘n appel op sy kop geval het. Daar onder die appelboom het hy die ontdekking gemaak dat voorwerpe op grond van onder andere hul gewig altyd grond toe val.

Daar is in die mens ook die swaartekrag van die sonde teenwoordig. Ons wil graag die weg van die sonde en die minste weerstand volg. Daarom sal ons maklik ingee vir elke stukkie druk en versoeking wat oor ons pad kom. Ons noem dit groepsdruk.

Klein kindertjies, tieners en grootmense swig gedurig onder groepsdruk. Ek wil nie uit voel nie. Ek wil een van die groep wees. Daarom kry ons iets soos giere en modes onder mense. Ek wil nie afsteek en uitvoel by ander mense nie. Ek wil een van die groep wees. Daarom sal mense enigiets doen om net aanvaar te word.

cool-word-letters-lens-facebook-coverJongmense het die uitdrukking om te sê iets is “cool” as hulle bedoel dit is die inding. Daarom stort baie grootmense so trane oor hulle kinders. Want kinders wil graag in wees. Hulle wil voel dat hulle word aanvaar deur hulle maats.

Daarom sal kinders feitlik enigiets doen om deur hul maats aanvaar te word. Hulle sal saam vloek, saam skinder, saam na pornografiese materiaal kyk en selfs eksperimenteer met dwelms en drank en seks. As my maat op die skoolbank rook, moet ek ook rook, want dan is ek nie ‘n “sissie” nie. Groepsdruk is seker een van die mees algemeenste versoeking wat op die mens se lewe kom. Daarom volg mense die swaartekrag van die minste weerstand. Doen wat my vriende doen en ek is “in” en gewild.

Jongmense en grootmense is bang vir ander mense se opinies en opmerkings en kritiek. Daarom sal hulle eerder hul mantel draai net om aanvaar te word. Mense het die geneigdheid om soos ‘n verkleurmannetjie van kleur te verander, na gelang die situasie verander. Hulle is goeie kinders by die huis, maar by die skool en die koshuis doen hulle dinge wat hulle nooit voor hulle ouers sal doen nie. Dit is altyd ‘n teken van swakheid. Wie so toegee aan die swaartekrag van groepsdruk, vernietig gewoonlik hul jong lewe.

Paulus skryf in 1 Timotheus aan die jong Ds Timotheus. Blykbaar was Ds Timotheus ‘n jong dominee wat bang was wat mense sê en daarom so ietwat teruggetrokke. Daar was ook maar baie probleme in sy gemeente en baie praatjiemakers wat vir Ds Timotheus erg ontstel het. Ds. Timotheus het die Evangelie baie goed geken en geweet wat God wou hê, maar ai, dit sal soveel makliker wees om toe te gee aan sekere van die eise van die gemeente. Kon hy maar so ‘n bietjie kompromieë aangaan, terwille van gewildheid. Die duiwel het hom ook versoek met die swaartekrag van groepsdruk. Gee so ‘n bietjie toe Ds Timotheus en ons sal jou aanhang.

Dan gee Paulus vir die jong Timotheus kosbare raad. Paulus sê aan Timotheus dat God vir sy kinders die Heilige Gees gee, wat ‘n mens nie bang en lafhartig maak nie, maar jou vul met krag, en liefde en selfbeheersing (1Tim 1: 7) ‘n Mens is nie bang vir mense se opinie oor jou, as jy ‘n kind van God is en deur die Heilige Gees gelei word nie. Nee, jy het die innerlike krag in jou lewe om leiding te neem en standpunte in te neem. Jy het liefde om mense te aanvaar en mooi met mense om te gaan. Jy het selfbeheersing en verstandigheid om reg op te tree. Dan is dit nie meer so belangrik om by mense en vriende gewild te wees nie. Jy wil eerder doen en wees wat God van jou vra.

img-9U sien daar is ‘n ander natuurwet, naamlik die magnetiese krag wat die swaartekrag – wet oortref. Met ander woorde as Christus Jesus in jou lewe is, is die krag sterker as die krag van groepsdruk.

Die swaartekrag van groepsdruk veroorsaak dat jou lewe inmekaar tuimel en jy die slaaf van ander mense se grille en giere word. Die magnetiese krag van die Here Jesus Christus tel jou op en hou jou veilig en geborge binne die waardes van die Bybel. Watter wet wil jy in jou lewe laat geld? Die selfvernietigende swaartekrag van jou portuurgroep of die magnetiese krag van die Here se liefde? (Het beeld van twee kragte gekry by ‘n preek wat ek eenmaal gelees het.)

Paulus leer vir mens om nie bang te wees vir ander mense nie. Hy noem vyf dinge (1 Tim 4: 12) waarop ‘n mens moet konsentreer, naamlik: WOORDE, GEDRAG, LIEFDE, GELOOF EN REINHEID. ‘n Mens takseer mos ‘n voël aan sy vere. Die vere sê, watse voël dit is.

Kom ons kyk kortliks na die vyf dinge.

WOORDE: Let op jou woorde, moenie vloek, skinder of sleg praat van ander mense nie. Moenie vuil grappe vertel nie. Moenie leuens vertel nie. Moenie toelaat dat ander mense gespot of geboelie word nie. Kom op vir die randfigure. Jou tong moet beheers word deur die Heilige Gees,

GEDRAG: Die Here sê dat nie elkeen wat die Here se naam aanroep gered sal word nie. Jou dade moet wys dat jy ‘n kind van God is. Dade spreek harder as woorde. Sien die mense, die Here Jesus in jou raak?

LIEFDE: As jy nog narcisties jouself lief het, is daar nie plek vir God en ander mense om lief te hê nie. Daarom moet ons “selfloos” ander mense se voordeel soek.

GELOOF: Jou geloof moet nie ‘n bysaak wees nie. Die Here moet alles of niks in jou lewe wees. Daar is nie plek vir middelgrond nie. Die gemeente Laudisea is juis aangespreek omdat hulle nie koud of warm was nie, maar lou in die geloof. Die Here sê vir Laudisea dat Hy hulle uit sy mond gaan spuug, want lou water is sleg.

REINHEID: Bewaar jou gedagtes rein. Bly weg van swak grappies, vuil praatjies, swak vriende, en pornografie. Hou jou denke rein.

Cool-Cute-3D-HD-PhotosWerklike leiers onderskei hulself daarin om nie toe te gee aan groepsdruk nie, maar om vanuit hulle beginsels en waardes te leef. Hulle staan dapper uit.

God vra van ons elkeen ‘n skoon lewe, ‘n lewe wat skoon gewas is met die bloed van Jesus Christus. Onthou tog al hierdie dinge. Onthou dat jou lewe ‘n preek is. Jy preek elke dag. Jy preek meer effektief as wat enige dominee kan preek. Jy preek deur jou woorde, jou gedrag, jou liefde, jou geloof en jou rein lewe. Vader Kestell was in die Anglo Boereoorlog ‘n predikant gewees. Hy het die Britse slagoffers ook bedien met die Woord en het ook hulle wonde versorg. Een van die Britse soldate het met dankbaarheid opgemerk, dat Vader Kestell sy beste preek, nog preek deur die vyand te help.

Watter krag kies jy? Die swaartekrag van groepsdruk of die magnetiese krag van God se liefde? AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Hemel op aarde! (Luk 16: 19 – 31)

HEMEL OP AARDE !

Hemel-Op-Aarde-na-uurse-Sentrum_101812_imageOns dink dat die hemel eers eendag kom. Ons vergeet dat ons nou alreeds “iets” van die hemel, ‘n “stukkie” van die hemel moet laat kom in mekaar se lewens.

In plaas van vir mekaar ‘n stukkie “hemel” te gee, gee ons vir mekaar “hel op aarde”. Ja, elke dag stuur ons mense in hulle hel in. So word hierdie lewe vir baie mense “hel op aarde”. In plaas van “hemel op aarde”, ervaar ons net “hel op aarde”. Ons leef vir die hiernamaals, terwyl ons vergeet van die hiernoumaals. Ons leef vertikaal in plaas van horisontaal. Ons kyk op, sonder om rond te lyk en af te kyk.

slaweskipslave_ship

In die Middeleeue, met die hoogbloei van die slawehandel, was daar ‘n slawekaptein wat slawe aan die kus van Wes – Afrika gevang het en per skip na Amerika geneem het. Hy was ‘n godvresende man, wat graag op die dek van die skip gesange gesing het tot eer van God. Tog was daar ‘n ernstige godsdiens-probleem by hom. Hy het die slawe onder in die dek van die skip baie swak behandel. Hy het vir hulle niks gevoel nie. Hy het slegs ‘n godsdiens van “bo” gehad, maar nie ‘n godsdiens wat “rond kyk” na mense nie. Hy het vergeet van die baie Lasarusse onder in die skip. Hy het met mense handel gedrywe en hulle boonop sleg behandel. Hy is die ryk man in ons geleeste gedeelte, wat ryk geword het uit ander mense.

31455a62a608fd4333592a09e87381d2--the-rich-man-and-lazarus-craft-jesus-drawingsIn die gelykenis van die ryk man en Lasarus, het die ryk man ‘n stukkie hemel weerhou van Lasarus. Hy was ryk, hy kon iets vir Lasarus beteken. Tog het hy niks gedoen nie. Hy het Lasarus in die aardse hel gelos. Sekerlik kon hy nie die swere op Lasarus se liggaam gesond maak nie, tog kon hy verligting gee. Net so kan ons ook nie al die probleme van hierdie wêreld oplos nie. Tog kan ons verligting gee, mense se hel verlig, vir mense ‘n stukkie hoop gee en vir mense ‘n stukkie van die hemel laat sien. Op aarde kan mense nog iets vir mekaar beteken, want Lasarus het by die deur van die ryk man gelê. In die hemel is daar ‘n kloof, dan is dit te laat om vir iemand iets te beteken. As’t ware struikel die ryk man by sy deur oor Lasarus en beland in die hel. Daar is vandag baie Lasarusse in my lewe. Lasarus is enige mens vir wie ek iets kan beteken. Lasarus kan wees, my lewensmaat, my kinders, my ouers, my bediendes, die bejaardes en die armes en die siekes in my gemeenskap, die vreemdeling by my voordeur, die straatkinders, die ongelowige mens en in vele meer gestaltes.

Elektrownia Patnów Coal Fired Power StationLasarus kan self die natuur rondom my wees. Ons mense word ryk uit die natuur, terwyl die natuur soos Lasarus vol swere is. Die natuur is so verniel en bedreig. Wat kan ek doen om die natuur te help?

Die ryk man het sy geleenthede verspeel. Soveel geleenthede by my voordeur, na aan my ……… tog word dit dikwels verspeelde geleenthede. Dikwels leef ons net vir onsself, soos wat die ryk man net vir homself geleef het. Telkens wil die Bybel die vraag vra: “Vir wie leef jy jou lewe? Vir jouself, jou eie gerief, jou eie sekuriteit of vir ander?

Die profeet Miga gee die korrekte antwoord vir ons in Miga 6: 8 “ Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor God.”

Die ergste is ‘n lewe wat nooit gelewe is. Eintlik het die ryk man in ons gelykenis nooit gelewe nie. Met die lewe kan dit maklik gebeur, soos met ‘n kosbare kledingstuk, wat suinig in die kas weggebêre word, sonder om gebruik te word. Op die einde het die motte dit opgevreet. Die kledingstuk het vergaan, sonder dat dit enige waarde vir iemand gehad het.

‘n Mens kry twee soorte mense, middelpuntvliedende mense en middelpuntsoekende mense.

Misteri-Laut-Sargasso-di-Segitiga-BermudaMiddelpuntsoekende mense is soos ‘n maalkolk in ‘n rivier of by ‘n badprop. Die water beweeg na die senter toe. Ons almal weet dat as jy in ‘n maalkolk beland, dan kan jy maklik verdrink.

Dit is ‘n vernietigende krag. So is mense wat net op hulself fokus en sentreer, besig om hulself met selfsug te vernietig.

600px-Solar_sysMiddelpuntvliedende krag is soos die planete wat rondom die son wentel. Hulle beweeg weg van die kern en skep lewe. Mense wat middelpuntvliedend altyd ander se belange hoër ag as hulself, kry dit reg om te lewe.

Hulle kan die lewe in oorvloed geniet.

MoederTeresa-500x333Moeder Theressa, die Katolieke non van Kalkutta het haar lewe opgeleef. Sommige mense beskuldig haar dat sy ‘n hoogs immorele dame was. Sy kon haar lewe eerder gewy het om by die skatrykes van Amerika geld in te samel vir die armes van hierdie wêreld.

Sy kon dan tien keer meer vermag het. Tog het sy verkies en was sy op haar gelukkigste as sy in die drek van Indië, ‘n sterwende kind se hand vashou. By haar kan ons leer van empatie en deernis. Medemenslikheid is om iemand se hand vas te hou, letterlik of deur my woorde. Ek glo Moeder Theressa sou bereid wees om die hemel mis te loop, solank sy net ‘n stukkie hemel in die oë van ellendige mense kan bring.

Die hemel begin nou ……. ons moet nou al in die hiernoumaals, hemel skep in ander mense se lewens.

Die troos van die Here is dat hulle wat “afkyk” en “rondkyk” na hulle medemens, mag ook “opkyk” na hulle hemelse Vader. Jesus het ook “afgekyk” en “rondgekyk” na die mense, daarom kon Hy “opkyk” en na sy Vader gaan.

Christenwees beteken om met erbarming die liefde van die Here in woord en daad met jou medemens te deel. Eers dan het jy gehoorsaam aan die Heilige Gees geword. Dan is jy eers ‘n Pinkstermens.

Wanneer ons die Nagmaal gebruik, deel ons ook die brood en wyn. Net so moet ek ook my lewe deel met ander op my lewenspad. Ek moet ‘n “engel” vir ander mense word!

Maak iets van die hemel op aarde waar ! AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God roep ons om getrou en ontvanklik te wees. (Mat 13: 1 – 9, 18 – 23)

GOD ROEP ONS OM GETROU EN ONTVANKLIK TE WEES

In moderne boerderypraktyke, is die effektiwiteit van die saaiproses baie belangrik.

farmer-on-farmland-with-tractor-and-sower-sow-cereal-crops-closeup-4k_hpokn1ax__S0000Hedendaagse saaimasjiene bepaal met rekenaarpresisie die diepte van die grond en die hoeveelheid saad per hektaar. Masjiene trek voortjies, die saadkorrel word op die regte diepte geplant en weer toegetrek in een beweging, sodat daar geen kans is dat die saad verkore kan gaan nie.

Maar God is ‘n anderste saaiboer. Hy saai roekeloos op alle plekke. Hy vermors as’t ware die saad omdat Hy so roeleloos vrygewig saai. Vir God gaan dit nie oor die produktiwiteit nie, maar om getrou te wees in die saaiproses. Die inset is vir God belangriker as die uitset. Vir die mens gaan dit oor die maksimum uitset, maar vir God gaan dit oor die maksimum inset. God is roekeloos vrygewig met die saaiproses.

In die gelykenis is ons tegelyk die saaiers en die grond.

Die gelykenis het dus twee fokus areas, naamlik:

a.) God roep ons om getrou te wees. (saaiers)

b.) God roep ons om ontvanklik te wees. (grond)

Ons gaan na elkeen van die twee fokus areas kyk.

Kom ons begin by die eerste:

a.) God roep ons om getrou te wees.

Die eerste perspektief is dat God die saaier is en van ons mede saaiers maak, wat die Woord moet saai. Hierdie gelykenis wil vir ons bemoedig om nie moedeloos te raak as ons min vrug sien op ons getuienistaak nie. God berei ons as’t ware voor dat daar verskillende menseharte is, wat verskillend op die Woord reageer. Ons moet net aanhou die Woord saai. God roep ons as’t ware op om getrou te wees in die saai van die Woord. Moeder Theresa van Kalkutta het dit raak beskryf: “God roep ons om getrou te wees, nie suksesvol nie.”

parable-of-the-sower-and-seedsOns sien elke dag hoe mense onder die verkondiging van die Woord, hulle rug op God draai. Hulle sak uit in die geloof. Hulle gaan minder kerk toe en later glad nie meer. Die Here Jesus sê ons moet nie daaroor moedeloos wees nie, maar weet dat dit so sal wees. Baie dikwels word die dinamika van alle gemeentes as volg beskryf. Een derde is aktief en is warm vir die Here. Die tweede derde is lou. Jy kan hulle met baie moeite betrokke probeer kry in die gemeente. Die laaste derde is heeltemal koud vir die Here. Hulle inset in die gemeente is zero. Hulle het al heeltemal van God vergeet of hulle rug op God gedraai. Hierdie tendens kom regdeur die statistieke van alle gemeentes na vore. Jy kry die tendens in elke gemeente. Juis daarom het die Here ons in die gelykenis aangemoedig om roekeloos die Woord te saai, ook by hulle wat heeltemal onverskillig lewe.

bd1bf35809400801bc977e7945bdcabaOns hoef nie altyd suksesvol te wees in die saai van die Woord nie, maar ons moet getrou wees en oral saai. Dit is ons taak om te saai, maar dit is God se taak om die saad te laat opkom en dit te oes. Martin Luther het by geleentheid gesê, dat sy taak is net om te saai. Terwyl hy sy Wittenbergse bier drink, werk God in die verborgenheid en kom die Koninkryk ook op plekke waar jy dit die minste verwag. Teleurstelling in mense is ‘n gegewe. Ons moet dit so aanvaar. Die Here sê so sal dit wees. Nie almal sal ewe ontvanklik vir die Woord wees nie.

‘n Stukkie agtergrond sal die moderne leser help. Daar was twee aanvare maniere om te saai. Die eerste manier was om eers te ploeg en dan te saai (soos vandag). Maar daar was ook ‘n manier van eers saai en daarna die saad inploeg. In hierdie gelykenis is die tweede manier van saai, waarskynlik die gebruik gewees. Dit is waarom die saaier nie geweet het waar die klippe en onkruid verborge lê nie en waarom die voetpaadjie later sou ontstaan nie. Die gelykenis wil die saaier aanmoedig om te saai, al weet hy nie wat die uitkoms van die oes gaan wees nie – aangesien die ploeg eers later in die grond sal kom. Die saaier kan nie vooraf bepaal waar die saad vermors gaan word nie.

Die tweede fokusarea van die gelykenis is:

b) God roep ons om ontvanklik te wees.

Soos daar in die gelykenis 4 verskillende grondsoorte is, so is daar 4 verskillende soorte harte wat op die Here se Woord (die saad) reageer.

the_parable_of_the_sower-1024x535

Daarom roep die gelykenis ons op om tegelyk saaier te wees en ook andersyds ontvanklike grond te wees vir die Woord van die Here.

Die Here verduidelik dat daar vier soorte grond is. Die eerste grond word ‘n voetpad en die voëls pik die saad op. Voëls word dikwels in verband gebring met die duiwel. Dit is mense wat die woord hoor en hulle dadelik verset teen die Woord en die saad word weggepik deur die duiwel. Daar kom eenvoudig niks van die Here se Woord tot reg in hulle lewe nie.

Die tweede grondsoort het net ‘n dun lagie goeie vogtige grond, maar direk daaronder lê die klipbank. Dit is verstaanbaar dat die saad in die vogtiger dun bolaag grond vinnig ontkiem het. Maar as die wortels die klipbank tref, het dit gou verwelk. Aanvanklik word die Woord van die Here met groot blydskap aangeneem, maar sodra die eise en bekommernisse van die lewe teenwoordig word, verwelk die bekering en toewyding aan die Here. ‘n Mens tref dit baie op geestelike kampe aan, dat jongmense vuur en vlam hulle harte vir die Here gee. Maar as hulle eers weer terug is by die huis en skool en hulle word gekonfronteer met probleme, dan sterf die bekering ‘n spoedige dood.

Die derde grondsoort is die saad wat tussen die onkruid gesaai word. Dit is mense wat die Woord van die Here aanneem en ‘n tyd lank goed groei. Maar dan kom die versoeking van wêreldse glans, glorie en rykdom en verstik die Woord van die Here. Die plante word geel en vrek later heeltemal.

Die vierde grondsoort is die vrugbare goeie grond, waarop die saad val en ‘n oes oplewer van dertig, sestig en honderdvoudig. Dit is iemand wat die Woord ontvang, aanneem en alles los en die Here volg. Dit is hulle wat volhard in die dinge van die Here. Binne die konteks van die teks sou ‘n dertigvoudige opbrengs al ‘n wonderwerk wees en ‘n klein gemeenskap sou daarmee gevoed kon word. ‘n Sestig en hondervoudige oes sou beteken vooruitgang en rykdom. Wie die Here aanneem deel in die geestelike vooruitgang en rykdom wat die Here vir ons wil gee.

Daarom daag die gelykenis ons tweeledig uit, naamlik om getroue saaiers te wees, maar om ook aan die ander kant ontvanklike grond te wees vir die Here se saad. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die kerk moet aansluit by die Missio Dei.

DIE KERK MOET AANSLUIT BY DIE MISSIO DEI.

Die meeste kerke en gelowiges sit met ‘n ongesonde soteriologie, van persoonlike saligheid wat voorop staan en van ons geestelike vampiere maak wat Jesus se bloed van geregtigheid, slegs gebruik vir persoonlike gewin. Wie so dink, maak van die geloofsgemeenskap ‘n narcistiese gemeenskap. Hierdie verskraalde Evangelie neer op veral drie punte (a) Jesus het aan die kruis gesterf, (b) Ons moet tot bekering en geloof kom, en (c) wanneer ons sterf gaan ons hemel toe. Willard gebruik die woorde “salvation cut off from life”. Daarmee bedoel hy dat die hemel  geskei word van die teenswoordige lewe. Die kerk word bloot sielesoekers wat weer die sukses en die ambisie van die sekulêre versoeking bevredig. Dan word God en al sy heerlikheid verduister deur die mens en sy behoeftes. Spirituele leiers kan so slagoffers word van ‘n verbruikers-teologie, wat ligjare verwyder is van ‘n Missio Dei – teologie. 

 Tereg verwys kan verwys word na die filosofiese skuif van Ptolomeus na Copernicus. Ptolomeus, ‘n 2 de eeuse Egiptiese sterrekundige het geglo die aarde is die vaste punt en die son en sterre draai rondom die aarde. In die 16 de eeu het Copernicus die orde omgegooi deur te bevestig dat die son die vaste punt is, waarom die aarde draai. In ‘n verbruikersteologie is die mens die vaste punt en God sien om na die mens se behoeftes.

Portrait of Nicolaus Copernicus

As ons egter Copernicaans dink, is God die sentrum en vaste punt, waarvan die mens sy bestaan te danke het. Dan dink ons Teo-sentries en nie meer homo – sentries nie. Hierdie is ‘n noodsaaklike omwenteling wat ons in spiritualeit nodig het. Die Triniteit  ‘n beweging, “a movement” van God na sy skepping en alles wat Hy onder sy heerskappy gestel het. God Drie – Enig beweeg van Homself uit en niks kan Hom keer nie. Dit is ‘n beweging wat regdeur die Heilige Skrif loop en vandag nog net so ‘n realiteit is en as sulks deur die kerk ervaar word. Die geloofsgemeenskap moet haarself verstaan as ‘n gestuurde gemeenskap wat leef uit die Missio Dei van die Triniteit. Van Genesis tot Openbaring is God die handelende, lewende kreatiewe skeppende God wat uitbeweeg in die wêreld.

In ons gelese gedeelte in Rom 8: 18 – 27 word verklaar en bevestig dat lyding deel is van die teenswoordige lewe, maar dat ons geroep word om saam met God die heerlikheid te verwag en te laat kom.

Ons lees van 3 sugte:

1 ste Sug is die sug van die skepping. Dit beteken elke stukkie materie lewend en dood is aan verganglikheid onderwerp. Dit sluit in menslike ellende, ekologiese ellende, materiële ellende ens. Die ganse kosmos verlang om heel gemaak te word.

Die 2 de sug, is die sug van God se kinders. As gelowiges het ons dit nie maklik om Geesvervuld in ‘n ontaarde en korrupte samelewing te lewe nie. God se kinders moet ook die sug hê dat ander mense deel word van God se Koninkryk.

Die 3 de sug, is die sug van die Heilige Gees. Saam met ons en die skepping pleit die Gees met versugtinge dat alles nuut gemaak sal word.

Jesus se bloed het volgens Joh 3:16 gevloei vir dié wêreld. Christus het die ganse kosmos kom verlos in die aanbreek van die nuwe hemel en aarde. Daarom is die nuwe hemel en nuwe aarde nie iets wat eers eendag gebeur nie. In Christus het die nuwe hemel en aarde reeds kom inbreek in ons werklikheid en in ons kontekste. Iets van die hemel moet nou alreeds sigbaar word op hierdie aarde. Daarom het die Here ons leer bid: Laat u wil geskied op die aarde, soos in die hemel.” Daarom moet ons sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees. Daarom bid ons in die Onse Vader gebed: “Laat U Koninkryk kom”.

Daarom moet ons onthou: Jesus u gaan voor. Ons volg in u spoor. Dit beteken dat Jesus Christus alreeds die verlossingswerk met ‘n “bulldozer” oopgestoot het. Ons kan net met die pikke en grawe die afrondingswerk doen.

missional-church_imageMaar sug ons nog oor die gebroke skepping en gebroke mensheid of het ons apaties dit maar net aanvaar. Dan moet ons weer ‘n slag die SUG van die Gees hoor en as dissipels met pikke en grawe voortgaan, met wat Christus reeds begin het. Daarom begin dissipelskap met mense wat opgewonde is oor die nuwe wêreld wat nou alreeds aangebreek het en wat ‘n droom en visie het van hoe die Koninkryk van God nou al kan deurbreek in hierdie wêreld. Dit is mense wat nie wag vir beter dae nie, maar nou alreeds die hemel begin vergestalt in hulle elke dagse lewe.

Spirituele formasie het alles te doen met die missionale konteks. Alle kontekste moet onder die heerskappy van Christus geplaas word. Christus Jesus moet geïnkarneer (embody) word in elke lewensfeer van die mens se bestaan. Dit het kosmiese implikasies.

Die Koninkryk van God is eerste en dan die kerk. Die Koninkryk van God is ewig, maar die kerk is tydelik. Daarom sê Johannes mos in Openbaring dat nie nuwe stad, nie ‘n tempel sal hê (bedoelende kerk as instituut). Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om te “engaged” met die wêreld. Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. ‘n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommer as oor haarself. Die kerk moet ook leer om soos ‘n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ‘n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ens aangespreek word.

missional-churchDaarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. Leclerc skryf: “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C. S. Lewis calls “little Christs.” Dit vra dat die gemeente as Koninkryksgemeenskap haarself solidêr sal skaar by die wêreld. God was en is by die wêreld en daarom moet die geloofsgemeenskap vierkantig in die wêreld staan. Ons sal God eerder in die wêreld besig vind, as in die kerk. Daarom moet ons wees en aansluit waar God reeds besig is om te werk in Sy Missio Dei. Gelowiges moet gelei word om as Koninkryksburgers, “frontline” dissipels te wees in werkskepping, billike arbeidspraktyke, produktiwiteit en sosiale verantwoordelikheid.

Daarom is ‘n missionale ingesteldheid, ‘n broodnodige korreksie op die kerk-gesentreerde spiritualiteit. Die missionale ontwaking is die enkele grootste gebeurtenis na die Reformatoriese tydvak in die geskiedenis van die Christelike kerk. Dit gaan hand aan hand met die nuwe verstaan van die Trinitariese God wat in beweging is deur sy Missio Dei. Juis daarom moet die kerk tot bekering kom van sy narcistiese selfbeheptheid en ingekeerdheid in haarself. ‘n Moeder leef immers vir haar kinders en nie vir haarself nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

SAVED BY THE BELL

SAVED BY THE BELL

Daar is ‘n Engelse uitdrukking: “Saved by the bell.” Dit beteken om op die laaste nippertjie gered te word. Dit kan letterlik en figuurlik verstaan word. In die middel van 18 de eeu was daar talle siektes in Brittanje wat baie lewens geeis het. Begrafplase het vinnig vol geword. Daar is toe besluit om die grafte weer te gebruik. Kiste is toe uitgehaal en tot ‘n skok is ontdek dat daar in 2 – 5 % van die kiste krapmerke was. Dus is 1 uit elke 25 mense lewend begrawe. Nuus het soos ‘n veldbrand in Brittanje versprei en almal was bang om lewend begrawe te word.

CoffinToe het iemand ‘n briljante plan uitgedink. ‘n Tou is om die een pols van die liggaam vasgemaak. As iemand onder die grond in ‘n kis sou wakker word, kon hy of sy net die tou trek om die klok bo die grond te laat lui. Hy / sy sou dan dadelik opgegrawe word. Vandaar die uitdrukking “saved by the bell”,

Franz Hartmann het in 1895 die boek “Buried alive” gepubliseer waarin die stories van 700 mense vertel is wat lewend begrawe en deur die klok gered is.

In Lukas 23: 39 – 43 lees ons hoedat een van die misdadigers aan die kruis gered word deur sy uitroep: “Dink aan my, as U vandag in U koninkryk kom.” Dan antwoord die Here Jesus hom met die antwoord: “Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” As’t ware is die misdadiger op die nippertjie “saved by the bell”.

Daarom moet ons onthou dat elkeen van ons is deur Jesus Christus se genade gered. As’t ware is “saved by the bell” oor ons elkeen se lewe geskrywe. Nie deur verdienste of deur aansien is ons gered nie, maar deur genade alleen. Vanjaar vier ons die 500 jaar van die Reformasie. Hierdie jaar 500 jaar gelede het Martin Luther sy 95 stellinge vasgespyker aan die kerkdeur van Wittenberg. Daar het ‘n herontdekking van die Evangeliese waarheid plaasgevind.

Daarom is ons ten diepste bedelaars van die genade. Ons kan alleen maar met oop bedelaarshande bedel vir God se genade. Kerkbanke is nie “betaalde banke” nie, maar bedelaarsbanke, waarop sondaars stinkend van die sonde sit.

Die Farisieër in die Bybel wou met ‘n balanstaat van goeie werke in die hemel kom. Die tollenaar egter het met ‘n bankrot balanstaat gevra vir genade. Dan lees ons hoedat die Here die tollenaar aanneem, maar die Farisieër nie aanneem nie. Die GOEIE nuus is dat God vir selferkende sondaars gesterf het en aan hulle ewige geregtigheid gee.

“Saved by the bell.” Gered uit GENADE alleen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)