Geseënd is dié wat rein van hart is …….    (Mat 5: 8)

Geseënd is dié wat rein van hart is …….    (Mat 5: 8)

Dikwels verstaan mense die 6 de saligspreking  baie negatief. So asof  jy ‘n klomp goed nie mag doen nie. Beteken dit om rein van hart te wees, om ‘n “nerd” te wees?

Die ou Joodse reinigingswette in Deuternomium het baie bepalinge en regulasies gehad oor die aanraking van dooies, siekes,  melaatses, onrein diere en so baie meer. Wanneer ‘n vrou byvoorbeeld menstrueer was sy vir ‘n paar dae onrein. So was daar honderde wette wat bepalings gehad het, wanneer jy rein is of wanneer jy onrein is.

Dit verklaar ook waarom in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die priester en die profeet wat op pad tempel toe was, verby die man gestap het wat beroof was. Veronderstel dat die beroofde man dood was en hulle het hom aangeraak, dan kon hulle nie in die tempel ingaan nie.

Daarom was reinheid in die Ou Testament veral ‘n uitwendige handeling. Daar teenoor het Jesus in die Nuwe Testament klem gelê om innerlike reinheid. Daarom sê Jesus in  Mat 23:26 en 27: “Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.  Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.” Jou hart, jou innerlike moet aan God veranker wees.

Eintlik gaan dit oor ‘n totale “commitment” aan die Here! Om die Here met ‘n onverdeelde hart te dien. Daarom as koning Dawid bid: “Here, gee vir my ‘n rein hart”, bedoel hy ‘n  onverdeelde hart wat net aan die Here behoort. Ons harte kan dikwels verdeel wees tussen baie afgode. Calvyn het gesê ons hart is ‘n afgodefabriek. Ons produseer gedurig vir ons nuwe afgodjies wat ons aanbid. Ons kan verskillende wêreldse goed hê, wat vir ons afgode word. Ons hunker na nog goed, na nog iets in die lewe. Ons harte word onrein van te veel goed in ons harte. Te veel goed wat ons aandag aflei van die Here.

Daarom sê die eerste gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.” Daar moet nie plek wees vir verdeeldheid met ander afgode nie. Anders word jou hart onrein van die afgode. 

Ons is so gejaagd, soos ‘n muis op een van hierdie ronde wieletjies wat in die rondte hardloop. Hoe meer ons hardloop, hoe minder kom ons êrens. Hoe kom ek los van al hierdie afgode en gejaagdheid na wind?

Dit kan alleen plaasvind deur ‘n baie ingrypende vereenvoudiging van ons lewe. So kan my hart weer rein word.

less-is-more-graphic

Daar is ‘n uitdrukking “Less is more!” Ek moet weer leer om op die regte goed te konsentreer. Ek moet my lewe herprioriseer, sodat ek met die belangrikste goed besig is.

Daar is die bekende Paretto beginsel. Dit gaan daaroor dat ‘n mens jou dikwels kan besig hou met 80% onbelangrike goed en slegs ‘n uitset van 20% kry. Maar as jy slegs 20% tyd spandeer aan die belangrikste goed het jy ‘n uitset van 80%.

Die eerste Christine het ‘n baie eenvoudige lewe gelewe. Hulle het ‘n sobere lewe gehad. Hulle het die basiese belangrikste 20 % gedoen en die wêreld verander. Daarom het Richard Foster ‘n boek geskryf met die bekende titel “Freedom of simplicity”. Die kern van sy boek gaan oor minimalisme. Ons moet ons lewens vereenvoudig. Ons kan met minder goed, ‘n baie eenvoudiger lewe voer. Hoe eenvoudiger, minder stres, minder foute, minder ingewikkeld, minder gejaagd en ‘n minder komplekse lewe.

Daarom gaan  ‘n werklike diep en rein verhouding met die Here, altyd gepaard gaan met eenvoud. Reiniging van die hart ‘n pynlike operasie is, omdat ‘n hele klomp van ons ydel begeertes, wense en drome moet sterf in die proses. Wat is die wins: Dat ons God helder kan sien.

Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe. En as ‘n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud – regtig gelukkig en tevrede is. 

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is dié wat barmhartig is ……. (Mat 5: 7)

Geseënd is dié wat barmhartig is ……. (Mat 5: 7)

Die beste nuus wat ‘n mens van God kan hoor, skryf Dirkie Smit is dat God nie ‘n masjien of ‘n beginsel is nie, maar ‘n Persoon met ‘n hart.

387349_302544479777278_1189170209_n_0

Daarom is God, ‘n God van barmhartigheid. Dit is waaroor die vyfde saligspreking gaan, naamlik om barmhartig te wees. Die teoloog Antonie van Ruler beskryf barmhartigheid as drie uitkringende sirkels. Barmhartigheid sê hy is mildheid, ontferming en vergewing.

Die eerste is mildheid. Dit beteken om ruimte vir ander mense te maak. Om vir ander mense ook vreugde en blydskap te gun. Daarom moet ons in barmhartigheid ruimte  maak vir almal in die land. Daar moet ruimte wees en ruimte gemaak word vir swart, wit, bruin en Indiërmense.  Daar is nie plek vir haatspraak teenoor ander nasies nie.

Ontferming, weer beteken om betrokke te raak by mense wat my nodig het en te help waar ek kan. Selfs minderhede is geroepe om ‘n verskil te maak in Suid Afrika. Dit is ons Godgegewe roeping.

Vergewing, is waar mense vir hulle eie ellende verantwoordelik is en ek nogtans help, omdat ek hulle vergewe het.   Ons vind talle insidente van vergewing in die Bybel. Dink aan Josef wat sy broers vergewe het, wat hom as ‘n slaaf verkoop het aan slawehandelaars. Later toe hy die tweede magtigste man in Egipte is red hy sy broers en sy pa van ‘n gewisse hongersnood.   Moses het vir  Miriam vergewe wat teen hom in opstand gekom het. Toe sy melaats word, bid Moses vir haar gesondmaking. Dawid het twee keer Saul se lewe gespaar, al het Saul gesoek om Dawid dood te maak. Barmhartigheid is om mekaar in die land te vergewe.

Ten tye van Jesus se prediking van die Saligsprekinge, was die Romeinse owerheid die heersende wêreldmag. Dit was ‘n wêreldmag waar dapperheid, dissipline, mag en wreedheid die botoon gevoer het. Een Romeinse filosoof het barmhartigheid as ‘n siekte van die siel beskryf of as ‘n teken van swakheid. Wanneer ‘n kind gebore is het die Romeinse vader die reg van  “patria potestas” gehad. Hy kon sy duim optel en die kind leef of sy duim afhou en die kind word dadelik verdrink. ‘n Romein kon as dit sy wil is, sy slawe laat doodmaak, sonder dat daar enige regsimplikasies was. ‘n Romeinse man kon selfs sy vrou laat doodmaak. Dit was ‘n wrede, harde en ongenaakbare stelsel.

Selfs die Jode is die tyd van Jesus het die wet slaafs nagekom sonder om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom soos in Mat 23:23 beskryf word. Daarom het Jesus gesê dat die Joodse Farisieërs is soos witgepleisterde grafte. Buitekant wit, maar binne vol doodsbeendere. Of soos ‘n beker, aan die buitekant skoon, maar aan die binnekant vuil. Dit was te midde van die twee hartelose sisteme, waar die Jode en die Romeine vir Jesus gekruisig het.

In die 5 de saligspreking gaan dit oor mense. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die Vryheid van die Christenmens dit so helder gesê: “ ‘n Gelowige is vry van reëls en wette, nooit vry van die naaste nie.” Daarom is die Christendom anders as ander godsdienste. Dit gaan nie oor reëls nie, maar om mense.  

Maar wie is my naaste? Alle mense! In ‘n sekere sin kan jou eie vriende nie regtig die egtheid en diepte van jou naasteliefde en barmhartigheid toets nie. Want selfs die goddeloses het hulle eie vriende lief. Eers as jy dié liefhet wat verder van jou staan, slaag jy die toets van ware barmhartigheid. Jou naastes – in – nood is diegene wat op die moment, die naaste aan jou is, wat honger en dors is, wat siek is, wat sonder klere is of in die gevangenis is. Jou naaste is dié mense wat jou nodig het, sonder dat jy hulle nodig het.

Barmhartigheid moet natuurlik ook aan die vyand betoon word. Dit is die heel moeilikste. Daar staan in  Mat 5:43 – 45: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.  Daarom kan ons praat van grenslose barmhartigheid, wat nie aan bande gelê word deur politieke of sosiale  afkeure of voorkeure nie.

Vader Kestell het in die Anglo Boere Oorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ‘n veldslag ‘n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, malaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeriges, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.

Ons moet ook barmhartigheid teenoor die natuur beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook teenoor die natuur en die ekologie met baie barmhartig optree en probeer om die natuur te herstel, om weer gesond te kan word.

Ek sluit met die ware verhaal uit die kinderdae van Ds. Walther Lüthi wat appels wou afpluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”         AMEN

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is ….. (Mat 5: 6)

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is …..  (Mat 5: 6)

Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek afdwing as absolute billikheid en regverdigheid.

judge-gavel2Mense wat die meeste respek afdwing, ondanks verskille is mense wat onkreukbaar regverdig, billik en eerlik is – dikwels tot hulle eie nadeel. Sulke mense los gewoonlik  ‘n blywende indruk op ander se lewe.   

In die droom van Salomo in 1 Konings 3: 1 – 15 vra die Here vir Salomo hy kan vra wat sy hart begeer. Dan vra Salomo “ ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk.” Salomo begeer geregtigheid bo alles. Die Here was so tevrede met Salomo se wens, dat hy hom op die koop toe ook rykdom en aansien gegee het.

Die 4 de Saligsprekinge is gebou op die 3 de Saligspreking. Eers as jy treur oor die ellende en die onregverdigheid in die samelewing, kan jy honger en dors na die ware geregtigheid. Dan kan jy honger en dors na die Messiaanse Ryk wat moet kom en vergestalting vind, sodat die ellende van hierdie wêreld minder kan word. In die Bybel is daar geen sprake van heil of genade of verlossing, sonder reg en geregtigheid nie.

Die Lewende Bybel vertaal die 4 de Saligspreking met ”’n brandende begeerte om te doen wat God wil hê.”

Ons is geneig om eiegeregtig te wees. Ons begeer geregtigheid wat ons pas en wat ons behoeftes bevredig. Daarom is ons so geneig om selfsugtig te wees. Daarom is die kerk en die Christen se getuienis dikwels nie sterk nie. Ons tree nie regverdig op teenoor mekaar en die samelewing nie.

Luister wat sê Mat 23:23: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.” 

Die Farisieërs en Skrifgeleerdes het gedink hulle lewe is reg omdat hulle die wetsgedeeltes nagekom het. Maar hulle het vergeet om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom.

Luther se bekende uitspraak: “Hoe heiliger, hoe sondiger” word ook in die lig verstaanbaar. Hoe nader ‘n mens aan die Here kom (dit is wat heiligheid in sy wese is), hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Mense wat ver van God leef, vind gewoonlik min fout met hulle eie lewe. Dit verklaar ook waarom Paulus homself die allergrootste van sondaars kon noem. Inderdaad ‘n sprekende voorbeeld van “hoe heiliger, hoe sondiger.”  

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou werknemers billik behandel.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou beste gee vir jou werkgewer.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy alle mense gelyk en regverdig behandel, ongeag hulle afkoms, ras, klas of stand in die samelewing.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy mense nie ekonomies uitbuit nie.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou vorms en belastingopgawe met eerlikheid invul.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy die naam van jou medemens beskerm teen skinder en laster.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy opkom vir hulle wat verdruk word of deur die samelewing misken word.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou ontferm oor die arme en die randfigure in die samelewing.

Die ryk man in die gelykenis van Lasarus het sy dors te laat ontdek. Toe hy in die hel was het hy vir Abraham gevra dat Lasarus net sy tong moet kom natmaak. Maar helaas te laat. Vir ‘n leeftyd het hy nie die regte van Lasarus raakgesien nie, terwyl Lasarus buite sy poort gelê het.

As ‘n mens net honger is na jou eie voorspoed, rykdom en aansien is jy soos ‘n hond wat na sy eie braaksel toe terugkom om dit te eet. Dit bevredig nie. Dit stil nie die honger nie.  Eers as jy honger en dors na die regte van ander mense, word jy versadig, want dan vind jy sin in jou lewe. Dan is daar betekenis in jou lewe.

Maar die saligspreking het ook betrekking om te honger en te dors na die geregtigheid wat God deur Sy Seun Jesus Christus skenk. In Joh 14:4 sê Jesus dat elkeen wat die water drink wat Jesus gee, nooit weer dors sal kry nie.” In Joh 6:35 sê Jesus dat hy die brood van die ewige lewe is en dat  elkeen wat na Hom toe gaan nooit weer honger sal kry nie.”

Toe die verlore seun honger was het hy na die varke gegaan. Toe hy egter wou sterf van honger het hy na sy vader gegaan. Dit is die tipe desperaatheid waarvan die 4 de saligspreking praat.

Ons fisiese lewe hang af van kos en water. Ons geestelike lewe hang af van geregtigheid. Daarna moet ons honger en dors.

Augustinus het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly totdat dit rus vind in Hom.” Ons sal rus vind en versadig word as ons sy geregtigheid met ons hele hart najaag.

AMEN

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is die sagmoediges ….. (Mat 5: 5)

Geseënd is die sagmoediges …..  (Mat 5: 5)

Sagmoedigheid is nie juis ‘n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ‘n persoon as ‘n “sagmoedige Neelsie” gepraat.

Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, pap en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want “nice guys come second.” Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie, wat as volg bekend is, naamlik: “hond eet hond.” Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.”

Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ‘n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ‘n leeu is, as ‘n 100 jaar ‘n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.

Die Skrifgeleerdes, die Farisieërs, die Esseners en die Selote het elkeen hulle eie verwagtings van Jesus gehad. Maar hulle het Hom gesien as ‘n persoon van krag, invloed en wat die Romeinse juk omver kon gooi. Toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie en so mak soos ‘n lam voor Pilatus en Herodus was het hulle standpunt verander na: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” 

maxresdefaultDaarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5, wat lees: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê. Eers as ‘n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ‘n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ‘n Ander woord kan miskien wees, sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ‘n diep egte onselfsugtigheid.

Sagmoedigheid in Grieks beteken, dit is ‘n jong hings wat ingebreek is. Voor dit was die hings gevaarlik en onbruikbaar. Maar nadat die hings ingebreek is, het dit sag en bruikbaar geword vir sy eienaar. Sagmoedigheid breek jou wilde humeur en nukke af en maak jou sag en bruikbaar vir die Here. Jy verloor jou aggressie en word selfbeheersd. John MacArthur skryf: “Meekness is a gentleness and a mildness and a subdued character, but it is not weakness. It is power under control.”

‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land, sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, Maar Abraham was tevrede met sy gedeelte. Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ‘n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.

Nog Bybelse voorbeelde van sagmoedigheid is Josef, wat deur sy broers verkoop is as ‘n slaaf aan slawehandelaars en toe in die huis van Potifar beland het. Na sy tronkepisode en sy vrylating nadat hy die Farao se drome uitgelê het, het hy gevorder tot die tweede magtigste man in Egipte. Toe daar ‘n 7 jaar hongersnood uitbreek en sy broers kom kos kom bedel in Egipte, kon hy hom hardekoejawel gehou het. Maar nee, hy het in alle sagmoedigheid sy broers vergeef en vir hulle kos en woonplek in Egipte aangebied en so sy familie gered deur sy sagmoedigheid.

Nog ‘n voorbeeld is Dawid wat vir Saul gevlug het. Saul was op hom jaloers en wou hom doodmaak. Terwyl Saul een nag in ‘n grot gaan slap het, het Dawid tot by die slapende Saul gekom. Hy kon vir Saul net daar doodmaak, maar hy het Saul se lewe gespraar en slegs sy spies en waterkruik geneem, om vir Saul te wys hy kon hom doodgemaak het. Dit was ook ‘n daad van sagmoedigheid.  

Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Ps 51: 19 getuig dat sagmoedigheid opkom uit ‘n gebroke en verslae hart.”

Sagmoedigheid beskerm nooit myself nie. Daar is egter ook tye van woede soos wat Jesus die tempel in Jerusalem skoongemaak het. Maar dan het Hy dit gedoen vir sy Vader, nie vir Homself nie. Wanneer dit oor “ons” sake gaan moet ons sagmoedig wees, maar as ons opstaan vir ander mense dan kan ons maar op hulle regte staan met ons hele lewe.

Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ‘n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte; net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ‘n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.

Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower.  Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.

images1Sagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ‘n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen op jou lewenspad.

Christus Jesus is natuurlik die voorbeeld by uitstrek van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra. Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is dié wat treur …..

Geseënd is dié wat treur …..

Mat 5: 4

‘n Groot deel van Karl Marx, die vader van kommunisme se weerstand teen die Evangelie en godsdiens is op ‘n wanvoorstelling gebou. Marx was gekant teen godsdiens omdat hy gemeen het dat dit  die massa soos opium verdoof, teen die onaangename realiteite van elke dag. Niks is egter verder van die waarheid nie. Die Bybel leer ons inderdaad om te treur oor die stukkendheid van die lewe.

maxresdefault

Daarom is daar die Klaagliedere van Jeremia en bykans die helfte van die Psalms het ook ‘n klaagelement in hulle. Dink ook aan die boek Job, wat ook handel oor lyding. Dan is daar ook die treurmares van die boek Prediker. Soos Prediker beklemtoon daar is ‘n tyd vir alles, moet ons verstaan daar is ‘n tyd om te treur en ‘n tyd om met blydskap te leef. Inderdaad sê Jesus in Mat 5:4, geseënd is dit wat treur.

Maar belangrik is, dat ons oor die regte goed moet treur. Dit sou verkeerd wees om te treur oor jou eie selfsugtige behoeftes wat nie bevredig word nie.  Dit is doodeenvoudig selfsug. Dan is jy soos ‘n kind wat ‘n tantrum gooi, as hy of sy nie hul sin kry nie.

Wat Jesus hier bedoel met treur, het veral betrekking oor die sondetoestand van die wêreld en die stukkendheid van die wêreld. Eerstens moet ons treur oor ons eie en die wêreld se sondenood. Voor ek tot bekering kan kom, moet ek eers treur en berou toon oor my sonde. Dawid het in Psalm 51 intense berou oor sy sonde met Batseba en dat hy haar man doodgemaak het. Ons lees hoedat hy sy klere geskeur het en as op sy kop gegooi het. Dit het gelei tot sy bekering. Jy moet eers in ‘n toestand van treur kom, voor jou hart verander kan word. Om te treur bring lewensverandering.

Maar jy moet ook kan treur oor die sondenood van die wêreld. Dikwels is ons soos Jona wat buite Ninevé sit en ons verlustig aan ander se sonde en ondergaan. Wat verkoop nou beter as ‘n heerlike skinderstorie. In plaas van te treur oor ander se sonde, kan ons ons dikwels verlustig in hulle verleentheid. Eers as ek treur oor ander se sondenood, kan ek werklik ‘n getuie van die Here Jesus se liefde wees. Treurendes word die beste dissipels en sendelinge vir die Here Jesus Christus. Omdat jy treur, kry jy ‘n hart vir mense wat verlore gaan in hulle sondenood. Jy word gretig om die goeie boodskap van die Evangelie by hulle uit te bring. Tweedens moet jy ook kan treur oor die stukkendheid van die mensdom en die wêreld. Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Daar is politieke nood, ekonomiese ellende, maatskaplike nood, ekologiese bedreigings, huwelik en gesinsprobleme, werkloosheid en so kan die lysie langer word.   Gewone mense se reaksie is om daarvan weg te vlug en die blaam op iets of iemand te plaas. Mense gaan op in die sinlike genot wat die wêreld kan bied. Die reaksie kom nog meer voor in ‘n gemeenskap wat daar matige voorspoed is. Mense word sag. Hulle verleer die vermoë om te ly. So word ontvlugting en vermyding ‘n byna permanente lewenshouding.

Maar slegs deur te treur kom daar lewensverandering. Wanneer jy werklik getreur het, kan jy sagmoedig word en honger en dors word na wat reg is. Eers as jy werklik getreur het, kan jy barmhartig, rein van hart en ‘n vredemaker wees. Deur te treur kry jy ‘n hart vir die wêreld.

Maar om te treur, het ook ‘n vreemde troos. Daarom is die Bybel by uitstek ook ‘n troosboek. In verskillende variasies kom die boodskap na ons toe: “Moenie vrees nie” of “Moenie bang wees nie.” Die troos van die Here het twee kante. Die eerste kant is dat Jesus Christus vir die sonde eens en altyd gesterf het. Die tweede kant is dat met Jesus se wederkoms sal  alles nuut word. Daar sal nie meer gebrokenheid wees nie. Nou kan die lewe ons nog seermaak, maar dit kan ons nie vernietig nie.

Ons moet nie net vra, waaroor kan ek vandag dankbaar en bly wees nie. Ek moet ook vra: Waaroor kan ek vandag treur? Want dit is deur te treur, dat lewensverandering plaasvind. Daarom is daar dankpsalms, lofpsalms en vertrouenspsalms, maar ook klaagpsalms. Ons moet hierdie Psalms nie net lees nie, maar ook bid. Dan sal die vreemde troos en vreemde geluk, deel van ons lewe word.

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Bedelaars voor God

BEDELAARS VOOR GOD.

Teks: Luk 18: 9 – 14

Die resep tot sukses is om te presteer. Op alle gebiede van die lewe word van die mens prestasie gevra. Reeds op skool word van kinders verwag om met goeie rapporte by die huis te kom. Iemand kan alleen ‘n sokkerheld word as hy goed presteer op die sokkerveld. Net so word slegs die werkers bevorder wat hard werk. Geliefdes, daarmee is daar natuurlik niks mee verkeerd nie. God wil hê dat ons, ons talente ten beste moet gebruik.

Bedelaar

Die gevaar is egter as ons dink ons moet ook presteer om in die hemel te kom. Sommige mense dink hulle moet godsdienstig presteer, deur mooi te lewe sodat hulle ook eendag hemel toe kan gaan. Dit bring ons by die boodskap: BEDELAARSHARTE WORD GERED, MAAR GODSDIENSTIGE PRESTEERDERS GAAN VERLORE.

Gemeente, in ons gelese gedeelte kry ‘n mens ‘n tipiese beeld van die Fariseër van destyds. Hulle was godsdienstige presteerders by uitstek. ‘n Mens kan sê, op godsdienstige gebied het hulle vol punte behaal. Hulle was goeie mense, ordentlik, fatsoenlik, eerlik, getrou in die huwelik en godsdienstig meelewend.

Met ander woorde gemeente, hulle was kerkmense, wat godsdienstig meelewend was en na buite ‘n beeld van ordentlikheid voorgehou het. Hulle het ‘n mooi lewe probeer lei, sodat hulle eendag darem hemel toe kan gaan.

Gemeente, heel dikwels is dit van ons lewe ook waar. Ons dink ons sal in die hemel kom deur gereeld kerk toe te gaan, ons tiendes vir die Here te gee, deur nie te drink of my vrou te slaan nie, deur op die Kerkraad of die Sustersbond te dien.

Ons dink ons is darem nie te sleg nie. Miskien nie die grootste Christen nie, maar beslis darem ook nie die slegste nie. Ek het darem ‘n kans om in die hemel te kom.

Weet u wat sê Jesus van sulke mense in vers 14. Hy sê hulle is hoogmoedig. Hulle sal nooit die hemel op so ‘n manier beërwe nie. Maar dan lees ons van die tollenaar wat na die tempel toe gaan. Die tollenaar het nie soos die Fariseër voor God kom spog met sy goeie werke nie. Nee, hy het voor God neergeval en genade van God kom afbedel. Die tollenaar het geweet dat sy goeie hoedanighede en sy goeie werke hom nie kan red nie. Net die genade van God kan hom red. Ja, soos ‘n bedelaar het hy na die Here gekom. Niks kan vir my die hemel oopsluit nie, nie my goeie werke, my mooi lewe of die geld wat ek vir die kerk gee nie. Net Jesus Christus kan vir my die hemel oopsluit. Ek word dus uit loutere genade gered. Ja, ek kan alleen maar met leë hande, met bedelaarshande alles van hom ontvang.

Orals in die lewe word daar van die mens prestasies gevra, behalwe in die kerk. Na die kerk toe kan ek maar kom soos ek is, ‘n sondaar voor God.

U sien dus mense wat soos die Fariseër spog oor sy goeie werke en mooi lewe sal die hemel nooit beërwe nie. Alleen mense wat soos die tollenaar genade kom afsmeek by die Here, sal die hemel beërwe. U sal vra: Maar waarom moet ‘n Christen dan ‘n mooi lewe lei? ‘n Christen gaan kerk toe, gee sy geld vir die kerk en lewe mooi om vir die Here dankie te sê, dat Hy ons verlos het van ons sonde. My mooi lewe kan my dus nie red nie. Net Christus Jesus kan. Ek lewe mooi om vir die Here dankie te sê dat Hy my verlos het.

Gaan op jou knieë en bid ook soos die tollenaar: “O God, wees my, sondaar genadig.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

HOE LYK JOU STILTETYD?

HOE LYK JOU STILTETYD?

Mark 1: 32 – 38 en Dan 6: 4 – 11

Wat sal gebeur as twee vriende nie meer met mekaar praat nie. Ja, die vriendskap sal tot niet gaan. Net so sal my verhouding met die Here skade lei as ek nie meer met Hom praat nie.

Die Here wil hê ons moet elke dag met Hom praat deur gebed en Hy wil weer met ons praat deur Sy Woord. Hierdie tyd wat ons elke dag moet maak Om met die Here te gesels, noem ons, ons stiltetyd met die Here. Ons moet die stilte opsoek om met die Here te praat. Baiekeer beleef ons so min van die lewende Jesus in ons lewe, omdat ons so min met Hom praat. Ons is eenvoudig net te lui om tyd te maak om met Hom te praat. Ja, ons lees ons Bybel, maar net so nou en dan. Verder stel ons altyd uit om te bid. Nee, so moet dit nie wees nie.

acl20160302-163625-685Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper in beitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte gewees om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ‘n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig wat maar gewone mense is nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is. Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 -34 hoe Hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het Hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

‘n Gelowige moet dus baie gereeld wees in sy stiltetyd. Soos ‘n atleet en ‘n sokkerspeler gereeld moet oefen om fiks te bly, so moet ‘n gelowige ook gereeld sy stiltetyd hou sodat hy geestelik fiks kan bly. Ek het eenmaal die Bybel gesien van ‘n sekere Christenvrou wat in verskeie oorsese lande sendingwerk gedoen het. Sy was maar drie jaar lank ‘n Christen maar sy het in daardie drie jaar haar Bybel stukkend gelees. Baie kere lyk ons Bybels nog soos nuwe Bybels.

Ek sluit af met die volgende: “Gebed verander sake, maar dit verander my ook.” Ja, as ons bid en ons gebed val binne die wil van God dan sal God sake verander. Maar gebed verander my ook. As ek van my knieë opstaan nadat ek gebid het, dan moet ek mos anders opstaan. My bekommernis moet plek maak vir vertroue. My twyfel verander in geloof. My jaloesie en haat verander in liefde. Wil jy baie naby aan die Here leef? Dan moet jy gereeld elke dag met Hom praat. God wil graag weet hoe dit met jou gaan. Hy wil ook graag vir jou die regte pad aanwys uit sy Woord.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Wie is my naaste?

WIE IS MY NAASTE?

Teks: Lukas 10: 25 – 37 en Mattheus 25: 35 – 46

Die kerk is dood! Die kerk se hart het gaan staan. Die kerk het nie meer ‘n hart vir sy medemens nie. Kerklidmate gee nie meer om vir hulle medemens nie. Daarom die boodskap vandag uit Lukas 10: ‘n WARE CHRISTEN GEE OM VIR SY MEDEMENS.

In Lukas 10 lees ek vanoggend van ‘n man wat in ‘n groot nood is. Hy is beroof daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo. Maar elke dag is daar ook mense wat in die nood is op jou en my lewenspad. Miskien die eensame bejaarde, of die weduwee in haar diep smart, of weeskinders of die mens in ‘n groot krisis.

Maar gelukkig, gemeente!  Kyk wie kom aangestap? Sowaar ‘n priester en Leviet, sowaar twee kerkmense. Wat ‘n verligting! Want kerkmense is mos veronderstel om hulp te verleen aan diegene wat in nood verkeer. Ja, van kerkmense verwag ‘n mens hulp… Hulle sê mos….. Hulle bely mos so pragtig…… “Ek het die Here lief met my hele hart en my medemense soos myself.” Die kerkmense sing sulke pragtige Gesange! U moet met my saamstem, die arme man daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo was gelukkig. Juis in sy grootste krisis, juis toe stap daar twee kerkmense verby. Daar word baie van die kerk verwag. Maar toe gebeur daar ‘n groot teleurstelling: Die priester en Leviet stap verby. Die kerk stap verby. Die kerk is afwesig in die nood van die wêreld. Die Christen is afwesig in die nood van sy medemens. Sien u vandag, waarom die kerk sterf. Die kerk se hart het gaan staan vir sy medemens. Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.

barmhartige-samaritaan-schilderij-2Gelukkig verskyn daar ‘n Samaritaan op dit toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ‘n Jood en die man ‘n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ‘n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ‘n 20 c in ‘n hoed nie. Baie keer gee ons so ‘n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak.

Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ‘n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar Gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ‘n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel die en in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ‘n kerkhof in Europa staan ‘n besondere Christusbeeld. ‘n Christusbeeld sonder arms. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus; God vra nie: “Hoe lief het jy my nie?” God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.

Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ‘n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ‘n Christen word nie.” ‘n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ‘n wonderlike Christus. Die Samaritaan met hoofletters het toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gee en ontvang

GEE EN ONTVANG

Teks: Handelinge: 4 :32 – 37; 11: 27 – 30 en 20:33 – 35

In Israel is daar twee groot mere, naamlik die See van Galilea en die Dooie See. Die See van Galilea is ‘n pragtige meer met helder blou water en ‘n ryk vislewe. Die landskap rondom die see is pragtig groen en die voëltjies maak nes in die bome daar rondom. Die See van Galilea lewe omdat dit water ontvang van die Palestynse hoogland en die water dan ook dadelik weer weggee. Die water wat die meer instroom, vloei ook weer uit. Die water wat die meer ontvang, gee hy ook weer weg.

kaart BybelDie Dooie See is soos sy naam ook sê, ‘n dooie meer. Die water is sout en dood. Daar leef niks in die water en ook nie rondom die meer nie. Daar is geen bome, plante, voëls of visse nie. Alles is dood. Die rede hiervoor is dat die Dooie See net water ontvang, maar niks weggee nie. Die Dooie See ontvang water van die See van Galle, maar daar is geen uitloop nie. Die Dooie See hou alles net selfsugtig vir homself.

In vandag se preek gaan dit om GEE en ONTVANG.

Iemand wat bereid is om dit wat hy ontvang het, ook te Gee aan ander, sal wees soos die See van Galilea. Iemand wat egter alles net selfsugtig vir homself hou, sal ook doodgaan soos die Dooie See. Hierdie waarheid sien ons ook vandag in ons gelese gedeeltes raak. Kom ons kyk eers na die agtergrond van die vroeë Christene in Handelinge: Hulle het baie swaar gekry. Daar was baie armes onder hulle. Verder is hulle vervolg deur keiser Nero en Domitianus. Nero en Domitianus het hulle vir die leeus gegooi of hulle met pik besmeer en dan aan die brand gesteek. Verder was daar ook ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld wat deur Agabus voorspel is. Die vroeë Christene het dus baie swaar gekry. ‘n Mens sal wonder hoe die eerste Christene in sulke omstandighede opgetree het teenoor hulle mede-gelowiges wat in nood was.

In Handelinge 4: 32 – 37 lees ons hoedat hulle alles met mekaar gedeel het. Hulle het voorsien in die boer of suster van hulle se nood. Hulle het gegee aan die wat in nood was. In Handelinge 11: 27 – 30 lees ons hoedat die eerste Christene geld gegee het vir ‘n noodfonds om diegene wat getref was deur die hongersnood en droogte in Judea by te staan. Hulle het as’t ware hulle harte en beursies oopgemaak vir hulle medegelowiges. In Handelinge 20: 33 – 35 lees ons hoedat Paulus sê dat hy sy medegelowiges gedien het, deur met sy twee hande te werk. Dan haal Paulus so pragtig vir Jesus aan in vers 35: “Om te gee vir ander maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Ons sien dus dat die eerste Christene soos die See van Galilea was. Alles wat hulle ontvang het, het hulle ook weer gegee aan ander. Daarom was hulle ‘n lewendige kerk gewees. Die Here wil hê dat ons ons hande, tyd, geld, dienste, hulp, ons alles tot beskikking van ons medemens moet stel. Ons moet eerder geld gee, as om te wil ontvang. Ons moet eerder troos, as om vertroos te wil word. Ons moet eerder dien, as om bedien te wil word. Ons moet eerder hulp gee, as dat hulp aan ons gegee word. Ons moet eerder gee, as om te wil ontvang. Onthou die woorde van die Here Jesus : “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Stilstaande water word vrot en ondrinkbaar. Dit ontvang net water, maar gee nie water weg nie. Dit is soos die Dooie See. So is mense wat net wil ontvang maar niks wil gee vir ander nie. Vloeiende water is helder, dit lewe en is drinkbaar. Dit ontvang water, maar gee ook water weg. Dit is soos die See van Galilea. So is mense wat eerder gee as om te ontvang. Daarom mag ons ook nooit die genade en die Evangelie wat ons ontvang het, net vir onsself hou nie. Ons moet dit ook GEE na ander. Is jy soos die See van Galilea wat eerder gee as om te ontvang, of soos die Dooie See wat net wil ontvang en niks wil gee nie. Mag jy soos die See van Galilea wees.

Onthou die woorde van die Here Jesus: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Vernuwe na die beeld van ons Skepper

Vernuwe na die beeld van ons Skepper

Kol 3: 9b-10

Mense praat dikwels van “vernuwing”. Mense soek vernuwing. Ons kerk hou Pinksterbidure vir vernuwing. Ander woorde in die kerklike tradisie is transformasie, metamorfose, bekering, lewensveranderende boetedoening, hervorming of reformasie.

Baie mense soek dat vernuwing moet plaasvind deur charismatiese predikers, opwekkende musiek en sang en dat die buitengewone gawes van die Gees uitgestort moet word in dramiese gebeurtenisse tydens eredienste. Manipulering van emosies speel ‘n groot rol in hierdie vernuwingsdienste. Omdat dit slegs op emosies reageer, vind geen lewensveranderende gedrag plaas nie.

Paulus praat in Kolossense 3: 9b – 10 dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper en tot volle kennis van God. Ons is gemaak na die beeld van die Skepper, maar deur die sondeval het die beeld verwronge geword. Vir Paulus beteken vernuwing om vernuwe te word na die beeld van ons Skepper. Om as’t ware weer ons skeppingsdoel te ontdek en daarvoor te leef. Ons moet weer terugkeer na die beeld van ons Skepper, deur lewensveranderend te lewe. Die wonder van die skepping is dat dit nie vanself gebeur het nie. Die Skepper wou die skepping maak tot sy genot en hy wou die mense maak om hulle lief te hê. Daarom het die Skepper hulle gemaak na Sy beeld. God het met ander woorde die mens geskep uit liefde. Soos wat ‘n man en vrou ‘n kind uit liefde verwek, so skep God sy skepping uit liefde.

God se skeppingskrag word verwoord in Sy “agape”-liefde. Dit is ‘n liefde wat gee, sonder voorwaardes. Dit is ‘n daarom -liefde, nie ‘n sodat-liefde nie. Die ander twee Griekse woorde vir liefde is “eros” en “fileia”.

Eros -liefde is seksuele aangetrokkenheid tussen man en vrou. Fileia -liefde is die liefde tussen vriende en broers, wat gebasser is op vriendelikheid, aantreklikheid, geselligheid, aangenaam of pragtig. Met ander word daar is ‘n voorwaarde aan gekoppel.

Agape-designstyle-love-heart-mMaar die Skepper het ‘n agape-liefde. ‘n Liefde sonder voorwaardes. Daarom het die Skepper ook in die Nuwe Testament deur Sy Seun die mense sonder enige voorwaarde uitverkies om in hom te glo. Daarom het Jesus, die beeld van die Skepper aan die kruis gesterf, om vir die grootste sondaar, sonder enige voorwaardes of vereistes lief te hê.  Om vernuwe te word na die Skepper, moet ons hierdie agape-liefde aanleer. Om lief te sonder voorwaardes, is vernuwing.

Wanneer jy ver van jou Skepper leef, draai die lewe om geld, geld, geld en geld. Wanneer jy vernuwe is na die beeld van die Skepper draai die lewe rondom liefde, liefde, liefde en liefde.  God se skeppingsdoel was liefde, daarom moet ons lewensdoel ook liefde wees.

Paulus beskryf in die boek Kolossense op verskeie plekke hoe die agape-liefde moet lyk. Hy praat van gasvryheid, onderlinge vriendelikheid en troos en groete en bymekaarkom en mekaar onthou. Ons moet oor mekaar bekommerd wees en omgee en sorg dra vir mekaar. Ons moet bid vir mekaar en onderdanig aan mekaar wees. Ons moet dit nie vir ander mense bitter maak of moedeloos maak nie.

Die Skepper  is kreatief in Sy liefde. Ons moet on sook as beeld van die Skepper  kreatief met die liefde omgaan. Ons moet soek om liefde uit te deel.

Die Skepper het gemeenskap gesoek. Daarom is die Drie Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees in mekaar een en in volle harmonie. Daarom het die Skepper ook die mens gemaak na Sy beeld, om met die mens gemeenskap te hê en sodat die mense ondermekaar in ‘n liefdesgemeenskap met Hom moet leef.  Daarom bely ons die een heilige algemene Christelike kerk.

Die moderne mens het verleer om om in gemeenskap met ander te lewe. Ons lewe word gekenmerk, deur indiwidualisme.  Waar ons saam moet eet as gemeenskap, neem elkeen deesdae sy eie “Take aways” om alleen sonder die ander te eet. Die liefdesgemeenskap van die Skepper is ‘n tafelgemeenskap, nie ‘n “Take aways” nie. In ‘n “Take aways” godsdiens kom haal jy net in godsdiens wat jyself nodig het, maar wil nie, jouself gee vir God se liefdesgemeenskap nie. Daarom is jy onbetrokke in ander se lewe.

Vernuwing is nie die goedvoel, van emosionele godsdienstige opwekking nie. Ware vernuwing is om vernuwe te word na die beeld van die Skepper. Die vra lewensveranderde gedrag.

Bronnelys: Smit, Dirkie. 2018. Ons glo in. Wellington:Bybelmedia

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)